Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 290]
| |
Hoofstuk IX
| |
[pagina 291]
| |
het met aandag en simpatie na hulle uiteensetting geluister en uiteindelik gesê dat Smuts en Botha hom oortuig het. Daardie samesprekings en die wyse en vérsiende staatsmanskap van Campbell-Bannerman het die toekoms vir 'n vrye en onafhanklike Suid-Afrika gelê en was, met die uitwissing van 'n hele ‘eeuw van onrecht’, een van die verstandigste ooreenkomste in die geskiedenis van die land. Daarom, het Smuts afgesluit, kon Suid-Afrika nie nou Brittanje in die uur van sy hoogste nood in die steek laat nie.Ga naar eind1. Hy moes saam met die ander Statebondslande Brittanje bystaan. In die hoofdelike stemming wat op die redes van die twee leiers gevolg het, was sewe ministers ten gunste van Smuts se voorstel, terwyl ses Hertzog ondersteun het. 'n Haas onoorbrugbare kloof tussen die twee leiers van die Verenigde Party was dus nou aan die ontwikkel. Sondag, 3 September 1939, was 'n lieflike lentemôre in Kaapstad en ná ontbyt is Smuts na die botaniese tuin by Kirstenbosch, waar hy die hele oggend deurgebring het. Dieselfde middag is die kabinetsvergadering voortgesit, maar die steun vir die twee leiers en hul uiteenlopende standpunte ten opsigte van die oorlog het nie verander nie. Intussen het die nuus van Chamberlain se oorlogsverklaring die kabinet bereik en het Hertzog aangekondig dat hy sy voorstel die volgende dag voor die Parlement sou lê. Smuts was onbewus daarvan dat Hertzog in daardie stadium reeds 'n skriftelike waarborg vir steun, indien daar 'n voorstel vir Suid-Afrika se neutraliteit ingedien sou word, van die opposisieleier, dr. D.F. Malan, in sy sak gehad het. Ná die opening van die Volksraad op Maandag, 4 September, stel Hertzog voor dat die land neutraal moet bly, maar dat die regering sy kontraktuele verpligtinge teenoor Brittanje nakom wat uit Suid-Afrika se lidmaatskap van die Volkebond voortspruit en wat die gebruik van die Simonstadse vlootbasis deur Brittanje betref. Volgens hom was dit nie alleen die land se reg om neutraal te bly nie, maar, soos Ierland, wat ook 'n standpunt van neutraliteit ingeneem het, in sy eie belang. Hitler se pogings om Duitssprekendes wat in Europa oor verskillende lande versprei is, staatkundig te verenig, het hy vergelyk met sy eie strewe na Afrikanereenheid en -vryheid. Hierop stel Smuts 'n amendement voor dat die Unie sy betrekkinge met Duitsland verbreek en tot die oorlog toetree. Hy kan nie sien hoe dit moontlik is om Suid-Afrika se neutraliteit te laat strook met die land se verpligtinge teenoor Brittanje en die Gemenebes nie. | |
[pagina 292]
| |
In die nag van 4 September, terwyl Duitse troepe reeds oor die Poolse vlaktes na die hoofstad, Warschau, in aantog was, besluit die Volksraad met 80 stemme teen 67 ten gunste van Smuts se amendement. Aangesien 'n alternatiewe regering onder Smuts onmiddellik beskikbaar sou wees, weier die goewerneur-generaal, sir Patrick Duncan, Hertzog se aanbeveling om die Parlement te ontbind en 'n verkiesing uit te skryf. Duncan vra Smuts om 'n nuwe kabinet saam te stel. Op 6 September 1939 verklaar die nuwe regering oorlog en verbreek hy sy diplomatieke betrekkinge met Duitsland. Saam met Brittanje, Frankryk en al die Statebondslande was Suid-Afrika nou in 'n oorlog gedompel wat weldra enorme afmetings sou aanneem.Ga naar eind2. By die aanvang van die oorlog het Smuts self die portefeuljes verdediging en buitelandse sake vir sy rekening geneem en stappe gedoen om Suid-Afrika spoedig op die oorlogspad te plaas. In die lig van allerlei gerugte oor Duitse duikbote is die verdediging aanvanklik veral op die kusgebiede toegespits en was daar weens gebrek aan beskikbare mannekrag nie veel verdere maneuvers aan die gang nie. Onder leiding van luitenant-generaal Pierre van Ryneveld is die opleiding en toerusting van die uniale verdedigingsmag egter onmiddellik verbeter, terwyl die plaaslike lewering van oorlogstoerusting deur staal- en wapenfabrieke drasties verhoog is. Met hulle isolasionistiese denke het baie Nasionaalgesinde Afrikaners Smuts beskou as iemand wat die belange van Brittanje bo dié van Suid-Afrika stel. Anti-Britse gevoelens, wat na die Anglo-Boereoorlog teruggevoer kon word, het sommige groepe onder hulle tot openlike verset teen die regering, toenadering tot Duitsland se nasionaal-sosialistiese ideologie en die vorming van paramilitêre liggame met stormtroepe soos die Ossewa-Brandwag gelei, iets wat die regering beantwoord het met aanhoudings en interneringskampe. In die lig van hierdie verdeeldheid onder die bevolkingsgroepe het Smuts wyslik besluit dat deelname aan die oorlog op 'n vrywillige basis sou geskied en nie verpligtend sou word nie. Voornemende soldate moes egter onder eed verklaar dat hulle op enige plek in Afrika diens sou doen. Ten spyte van die verset teen die regering se toetrede het meer as twee miljoen Suid-Afrikaners uit alle bevolkingsgroepe hulle vrywillig vir oorlogsdiens aangemeld. Hoewel Uys Krige nooit militêr opgelei is nie, was hy met sy sterk oortuigings oor die gevaar wat die Nazi-ideologie vir die beskaafde wêreld inhou, onmiddellik begerig om deel van Suid-Afrika se oor- | |
[pagina 293]
| |
logspoging te wees, 'n standpunt wat deur al drie sy broers gedeel is. Terwyl 'n hewige debat oor die kwessie van neutraliteit of toetrede tot die oorlog in die Volksraad gevoer is en Smuts besig was met die belangrikste politieke stryd in sy lang openbare loopbaan, het die Nazi-omroep Zeesen uit Berlyn die ‘volk’ van Suid-Afrika in Afrikaans oor die ‘edele’ bedoelings van Hitler toegespreek en Duitse propaganda op die oningeligte mense laat neerreën. Die persoon in beheer van die Afrikaanse diens van Zeesen was Eric Holm, 'n Suid-Afrikaanse uitgewekene wat toevallig ook lid van die Broederbond was.Ga naar eind3. Ná Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog het Zeesen, wel wetende dat daar sterk verdeeldheid in Suid-Afrika oor die oorlogsverklaring onder Afrikaanstaliges was, aand na aand met vleitaal 'n boodskap van vrede en liefde oorgedra wat voortkom uit ‘siele wat aan mekaar verwant is’ en belowe om die ‘Boerevolk’ se heil te bevorder. Telkens is daar in die uitsendings verwys na ‘harte wat saamklop’ en van Nazi-Duitsland se groot liefde vir die ‘Boerevolk’. Die sender het die goedgelowigheid van Afrikaners uitgebuit deur Hertzog se moed in sy teenkanting teen ‘hierdie destruktiewe Engelse oorlog’ te loof en te suggereer dat Afrikaners miskien met hulle bloed en vryheid sal moet betaal as hulle die Britse eise in naam van hulle eer aanvaar. In sy uitsendings het Holm op die gevoelens van Afrikaners gespeel deur telkens na die Britse wreedhede en die berugte kindersterftes tydens die Anglo-Boereoorlog te verwys en die Afrikanervolk te vra om nie die verlede te vergeet nie. In weeklikse aflewerings is Afrikaners geleer hoe om sabotasie te pleeg en hoe om die ‘misdaad’ van die oorlog, waarin die Smuts-regering Suid-Afrika laat beland het, teen te gaan.Ga naar eind4. Die meeste Nasionaliste het groter vertroue gehad in die Zeesen-uitsendings as in dié van die Suid-Afrikaanse radio of die BBC, in die besonder omdat Zeesen aan geloofwaardigheid gewen het deur kwansuis 'n neutrale standpunt in te neem.Ga naar eind5. In sommige skole was onderwysers openlik Nazigesind. By die Brakpanse Kommandoskool is die lesse soggens met die Nazi-saluut geopen, terwyl die visehoof van 'n skool naby Nylstroom gereël het dat die skoolradio ononderbroke op Zeesen ingeskakel bly en sy leerlinge vertel het dat slegs Zeesen die waarheid omtrent die oorlog vertel.Ga naar eind6. In Smuts se oprigting van 'n inligtingsburo om die Nazi-propaganda hok te slaan en Suid-Afrikaners oor die ware motiewe van Hitler in te lig, het Uys Krige, wat in dié stadium vryskutjoernalis | |
[pagina 294]
| |
aan die Rand was, vir hom 'n moontlikheid gesien waardeur hy met sy skryfaanleg 'n bydrae tot Suid-Afrika se verdediging kon lewer. Hy meld hom dus in November 1939 aan by Smuts se kantoor en word saam met Arthur N. Wilson, as sy Engelse eweknie, aangestel as Afrikaanse uitsaaier om die valse inligting van Zeesen teen te gaan. Terwyl sy broer Bokkie later as lugmagkolonel diens sou doen, Arnold as inligtingsbeampte sou optree en François as kunstenaar skilderye tydens die latere veldtogte sou lewer, het Uys nou daaglikse aanvalle oor die lug op Nazi-Duitsland geloods. In praatjie na praatjie het hy luisteraars daarop gewys dat die Duitse volk deur boewe en rampokkers regeer word, dat Duitsland onder die dwingelandy staan van 'n groepie manne wat bevrees is vir hulle eie lewens en hulle derhalwe moet verlaag tot elke vorm van bedrog, brutaliteit en terrorisme ten einde hulle velle te red. By Krige se aanvalle sluit sy skrywerskollega C. Louis Leipoldt aan. In 'n artikel in Die Volkstem van 8 September 1939 wys Leipoldt daarop dat daar sedert 1933, toe die Nazi's aan die bewind gekom het, nie meer op die beloftes en versekerings van die Duitse regering gereken kan word nie. Sedert 1933 is die geskiedenis van Hitler se politiek ‘een van troubreuk, kierangspeel en aanmatiging, gepaar met verregaande ontkenning van die regte van kleiner volkere en 'n growwe verontagsaming van die gebruiklike beleefdheid wat volk aan volk verskuldigGa naar eind7. is. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom het 'n regering sy eie volk so om die bos gelei nie.’ Vir ons in Suid-Afrika, gaan hy voort, is daar die keuse tussen neutraliteit of daadwerklike deelname aan die stryd. Ons kan egter alleen neutraal bly indien ‘ons gewillig is om te verklaar dat ons geen belang stel in die regte van die mensdom, dat ons geen meegevoel besit vir diegene wat voel, en daarvan oortuig is, dat die teenswoordige Nazi-beleid 'n bedreiging van ons bestaande beskawing is wat ons op die ou end in 'n toestand van onbeskryflike slawerny sal dompel nie....Ook ons is deel van die mensdom; ook ons stel belang in die ondergang en oorheersing van 'n klein nasie. Ons kan, en mag, nie toelaat dat menslike regte geskend en vermink word [nie].’ Dat Krige en Leipoldt in hulle kritiek op Nazi-Duitsland nie verkeerd was nie, blyk uit die verdere verloop van die stryd. In minder as 'n maand verower Hitler Pole. Aand na aand dis Zeesen vir Afrikaners die ‘afgryslike Poolse wreedhede’ teen die Duitsers op, met nuwe grafte wat daagliks ontdek word, en vertel Holm hoe hy reeds | |
[pagina 295]
| |
duisende briewe van simpatie van Afrikaanse luisteraars ontvang het.Ga naar eind8. In 'n brief aan Truida Louw, wat hy op 18 September 1939 skryf, sê Krige dat hy nie die bekrompenheid van 'n koerant soos Die Transvaler en van die ‘Nasionaliste’ met wie hy af en toe stry en vir wie hy hom gewoonlik bloedig vererg, kan verstaan as hulle smalend praat van Pole en die Poolse volk wat dan nie enige reg het om te bestaan nie. Dit gaan hom so te bowe dat hy soms voel asof iemand hom by die keel beet het en hy besig is om te verstik. ‘Veral as ek dink aan die pragtige nasionale strewe van die Pole - net so mooi as ons eie, en nog langer, hardnekkiger en baie tragieser. En hier gaan hulle nou tydelik, hoop ek, weer te gronde...die volk wat 'n Chopin en die grootste vrou van ons tyd, madame Curie, voortgebring het.’ Hitler sou egter verdere verwoesting in Europa saai in 'n stadium toe Brittanje en Frankryk ná die oorlogsverklarings weens gebrek aan die nodige voorbereiding en slaggereedheid nog nie daadwerklik kon optree en weerstand bied nie. In April 1940 neem die Duitsers Noorweë en Denemarke in en in die vroeë oggendure van 10 Mei 1940 val Duitse troepe die neutrale Nederland en België binne en word Rotterdam tot die grond toe gebombardeer. Die Zeesenomroep versprei die blatante leuen dat Nederland en België deur die skending van hulle neutraliteit teen Duitsland oorlog verklaar het en dat Duitse soldate nou as die Nederlanders en Belge se ‘vriende en beskermers’ die regering in hulle onderskeie lande oorneem. Dieselfde aand spreek J.C. Smuts Suid-Afrika oor die radio toe. Hy sê die Nederlanders en Belge is besig om hulle te verdedig en is derhalwe nou ons bondgenote in die oorlog. Brittanje en die Gemenebes het nie na oorlog gesoek nie, nog minder die Lae Lande. Dit is op ons almal afgedwing ‘deur die brutale, gewetenlose strewe na wêreldoorheersing wat vandag die ambisie van Duitsland onder die diktatorskap van Hitler is’. Die klein buurstate van Duitsland, wat neutraal in die oorlog was, is sonder enige waarskuwing op wreedaardige wyse aangeval. Hulle veg nou vir die reg om vry te wees, vir ‘ons almal se gemeenskaplike beskawing teen die magte van barbaarsheid, teen die bose magte van die duisternis’. Suid-Afrika veg saam met hierdie volkere: ‘Ons veg vir ons vryheid, ons veg vir die reg om as 'n beskaafde volk in 'n vrye wêreld te bestaan. Ons sal veg en met Gods hulp sal ons oorwin.’Ga naar eind9. In 'n radiorede wat hy op 14 Mei 1940 lewer, sê Krige: | |
[pagina 296]
| |
Twee klein volkies wat niemand enige kwaad gedoen het, wat nie 'n Duitse mossie seergemaak het nie, word gemartel deur die wreedste, mees genadelose oorlogsmasjien wat mensehande nog geskape het - en terwyl die twee klein volkies gemartel word, word hulle deur hul folteraars vertel dat hulle, die folteraars, Nederland en België se vriende en beskermers is. 'n Groter, meer siniese bespotting van die woord ‘vriendskap’ is nog nooit van menselippe gehoor nie. 'n Afskuweliker karikatuur van die begrip ‘beskerming’ is nog nooit in mensetaal geteken nie. En op 17 Mei 1940 berig hy dat 100 000 Nederlanders op die slagveld gesterf het: Die Opperbevelhebber van die Nederlandse leërmagte, generaal Winkelman, het in sy laaste tragiese boodskap aan sy volk verklaar dat een van die vernaamste redes wat hom laat besluit het om oor te gee, die feit is dat daar reeds soveel onskuldige bloed verspil is en dat hy bevrees is vir 'n slagting onder die burgerlike bevolking indien hulle nie die wapens neerlê nie.Ga naar eind10. Op growwe wyse, gaan Krige voort, word Nederland deur Zeesen uitgekryt as 'n vasalstaatjie van Brittanje, 'n speelbal in die hande van Brits-Joodse kapitaliste, al verklaar ‘die fariseërstem van Zeesen tot twee maal toe: “Ons het veel simpatie met koningin Wilhelmina...”’ Maar nog was dit nie die einde van die verskrikkinge nie. Ná die besetting van Nederland en België beweeg die Duitsers deur die Ardenne tot by die Kanaal. Daarmee verlam hulle Frankryk en isoleer hulle die Britse Ekspedisiemag. Winston Churchill, wat Chamberlain in Mei 1940 as Britse eerste minister opgevolg het, vlieg na Parys om met die Franse leiers te beraadslaag, maar dit word gou duidelik dat die Franse verset nie lank sou voortduur nie en dat die posisie van die Britse troepe op die vasteland in gevaar was. In die Britse Laerhuis sê Churchill op 13 Mei 1940: We have before us an ordeal of the most grievous kind. We have before us many, many long months of struggle and of suffering. You ask, what is our policy? I will say: It is to wage war, by sea, land and air, with all our might and with all the strength that God can give us, to wage war against a monstrous tyranny, never sur- | |
[pagina 297]
| |
passed in the dark lamentable catalogue of human crime. That is our policy. You ask, What is our aim? I can answer in one word: Victory - victory at all costs, victory in spite of all terror, victory, however long and hard the road may be; for without victory there is no survival.Ga naar eind11. En in 'n radiorede van 19 Mei 1940 berig hy: The Germans, by a remarkable combination of air bombing and heavily armoured tanks, have broken through the French defences north of the Maginot Line, and strong columns of their armoured vehicles are ravaging the open country, which for the first day or two was without defenders....This is one of the most awe-striking periods in the long history of France and Britain. It is also beyond doubt the most sublime. Side by side, unaided except by their kith and kin in the great Dominions and by the wide Empires which rest beneath their shield - side by side, the British and French peoples have advanced to rescue not only Europe but mankind from the foulest and most soul-destroying tyranny which has ever darkened and stained the pages of history. Behind them - behind us - behind the armies and fleets of Britain and France - gather a group of shattered States and bludgeoned races: the Czechs, the Poles, the Norwegians, the Danes, the Dutch, the Belgians - upon all of whom the long night of barbarism will descend, unbroken even by a star of hope, unless we conquer, as conquer we must; as conquer we shall.Ga naar eind12. Terwyl skrywers soos Krige en Leipoldt gewys het op die komende barbarisme, die negering van alle demokratiese beginsels en die vernietiging van 'n vrye lewensvorm met die aanslae van Hitler, was die meeste van Krige se Afrikaanse literêre tydgenote óf apaties in hulle reaksie op die wederregtelike oorname van klein state óf selfs ten gunste van die Nazi's se veldtogte. Onder Afrikaanse skrywersvriende van Krige was dit net die Nederlands gebore Jan van Melle en Petronella van Heerden, eers later met die bundels Kerssnuitsels en Die sestiende koppie as skryfster bekend, wat fel teen die Duitse opmars gereageer het. Dit het Krige ontstel dat iemand soos Van Wyk Louw, vir wie hy as digter en denker 'n hoë eerbied gehad het, nie openlik sy afsku van die Nazi-misdade wou uitspreek nie en selfs, | |
[pagina 298]
| |
tot voor die inval in Tsjeggië, iets van 'n bewondering vir Hitler getoon het. Hy was tot in sy siel geskok toe A.L. Geyer ná die Duitse inval in Nederland in 'n hoofartikel in Die Burger verklaar dat dié besetting nog geen rede is waarom Suid-Afrika hom in die Europese stryd moet inmeng nie en dat Hitler se inval slegs bewys dat hy die oorlog wil wen. Dit is die tragedie van die klein state van Noordwes-Europa, het Geyer voortgegaan, dat hulle tussen die grootmoondhede vasgedruk lê en dat hulle die ongelukkige slagoffers van hulle geografiese posisie is. Suid-Afrika moet hiervan opsy staan en hom nie met hulle oorloë bemoei nie!Ga naar eind13. Krige was verder geskok om te sien hoe ongevoelig W.J. du P. Erlank, die digter Eitemal, 'n man met Nazineigings, kon optree deur in sy Pretoriase huis in die aanwesigheid van die Nederlandse dramakenner Balthazar Verhagen, wat weens geldnood by die Erlanks moes inwoon, blatant 'n gesprek onderbreek om na die jongste leuens en misleidings van Zeesen te luister! Op die verbysterde Krige se vraag hoe Erlank dit in sy hoof kon kry om ten aanskoue van 'n Nederlander, wie se land deur die Duitsers beset word, so onhoflik te wees as om op die Nazi-propaganda-sender in te skakel, was Verhagen se antwoord: ‘Hij doet het iedere avond!’Ga naar eind14. Tog het Krige se diepe menslikheid hom verhinder om sy vriende openlik aan te val of tereg te wys. In 'n brief wat hy baie jare later, op 3 Augustus 1965, skryf, gaan hy akkoord met sy Italiaanse vriend, die romanskrywer Ignazio Silone, dat hy 'n Fascis moet sien as 'n menslike wese wat medelye en deernis verdien. Hy het dieselfde baie keer tydens die oorlog en sedert die apartheidsbewind gesê oor ‘our own extreme Nationalists and others whose political views horrify me but whose essential humanity I could never have the audacity or selfrighteousness to consider for a moment inferior to my own’. In een van sy swakste latere werke, die drama Muur van die dood (1968), sal Krige, ironies genoeg, van sy skerpste insigte in vryheid en liefde formuleer en van sy mees essensiële menslikheid verwoord. Die karakter Josef sê in dié drama: ‘'n Mens kan nie eintlik mense haat nie. Jy kan net party van hul gedagtes haat en maar bid en hoop dat hulle mettertyd van dié gedagtes ontslae raak. 'n Mens moet eintlik van mense hou. Dan verstaan jy hulle makliker.’Ga naar eind15. Met sy toetrede tot Smuts se buro van inligting het Die Transvaler met dr. H.F. Verwoerd as redakteur by herhaling hoofartikels aan Krige gewy en in ander artikels na sy ‘bedenklike’ rol as Afrikaanse skrywer in die kantoor van die eerste minister verwys. In brief op brief, | |
[pagina 299]
| |
klaarblyklik georkestreer deur Die Transvaler, is Krige aangeval oor sy deelname aan wat as 'n politieke kampanje bestempel is. Op dieselfde wyse is ook Leipoldt, wat sy afsku van Hitler se wandade nie verbloem het nie, gekritiseeer. In die hoofartikel van 13 November 1939 word selfs gesê: ‘Ons eer die digter wat reeds dood is, nie die man wat nog leef nie...’, 'n verwysing na Leipoldt se dramaties bewoë verse oor die Anglo-Boereoorlog. Met soveel kritiek het Krige hom verplig gevoel om te antwoord en ook om Leipoldt te verdedig. Dit doen hy in 'n lang brief wat in Die Transvaler van 23 November 1939 verskyn.Ga naar eind16. Sy eerste beswaar teen die nuusberig en die hoofartikel is dat Die Transvaler hom by die plaaslike partypolitieke terrein betrek het, 'n gebied waarop hy nie deur enige drang of oortuiging tuishoort nie. Ook sy betrekking by die inligtingsburo vloei nie voort uit enige partypolitieke verbondenheid of oortuiging nie. Sommige mense, gaan hy voort, sal hom so 'n afsydigheid en neutraliteit kwalik neem, maar volgens sy oordeel is daar geen politieke party in die land wat ‘volkome genoeg die werklike strewe van die Afrikaanse volk vertolk nie’. Hy meen daar is ewe goeie mense onder die lede van die Nasionale, die Verenigde en die Arbeidersparty. Indien enigeen van hierdie drie politieke partye daarop sou aanspraak maak dat slegs hý alle ware Afrikanerskap in pag het en ‘die ganse Afrikaanse volk in al sy rykdom en verskeidenheid beliggaam en verteenwoordig’, sou dit vir hom 'n oneindige verskraling en verarming van die begrip ‘volk’ beteken. Sowel wat sy beginsels as sy werksaamhede by die inligtingsburo betref, het hy dus niks met die partypolitiek uit te waai nie. Sy stryd en geding is met die Zeesen-sender. Toe die aanbod aan hom gemaak is om te kom help en die giftige propaganda van Zeesen teen te werk, het hy geen gewetensbesware gehad nie en nie een oomblik geaarsel nie. Lank voordat generaal Smuts ooit 'n woord daaroor gerep het, skryf Krige, was hy reeds 'n oortuigde anti-Nazi en 'n volslae anti-Fascis. Die rede daarvoor is ‘omdat ek 'n sekere eerbied en liefde het vir die kultuur en die beskawing - en veral vir die mens’. Hy het nog altyd hierdie anti-Nazi- en ‘promenslike’ gesindheid openlik gehuldig; in artikels, lesings, verhale en selfs, eenmaal, in 'n gedigGa naar eind17. het sy oortuigings tot uiting gekom. Indertyd het Die Transvaler dit hom nie kwalik geneem nie; waarom dan nou? Daar kan dus geen sprake wees van 'n verloëning of verkragting van sy beginsels nie - slegs van 'n bekragtiging en konsekwente handhawing van daardie beginsels. Hy skryf: | |
[pagina 300]
| |
Die vraagstuk van neutraliteit is sinds 7 September, dus byna 3 maande reeds, slegs 'n akademiese vraagstuk. Vandag staan daar soos 'n paal bo water die een waarheid en werklikheid: dat ons nie langer neutraal is nie, dat ons voor 'n voldonge feit te staan gekom het, naamlik die feit dat ons land tans met Nazi-Duitsland in oorlog gewikkel is. Ons Parlement, deur die volk gekies, het sy besluit uitgebring - en as getroue burgers van hierdie land betaam dit ons...om ons by daardie besluit te berus... Dit is sy plig as burger, gaan hy voort, om 'n realistiese kyk op die lewe te bewaar - om sodoende na die beste van my vermoë die land van my geboorte getrou te probeer dien. En ek kan nou eenmaal nie insien hoedat ek my geboorteland ontrou kan wees of hom 'n ondiens bewys deur die verderflike propaganda van 'n vyandige land te probeer skadeloos stel nie. Wat die bitter persoonlike aanval op Leipoldt betref, sê hy dat ‘'n werklike digter nooit dood is nie, maar ewig lewe’ en dat die skrywer van die hoofartikel ‘baie baie dood sal wees as Leipoldt nog altyd lewe; en dat wat hy omtrent Leipoldt en die huidige wêreldgebeure...geskrywe het, nie eens as 'n klein aantekeninkie in een van Leipoldt se biografieë sal verskyn nie’. Ten slotte skryf hy: ‘Die Transvaler het al herhaalde male verklaar dat hy demokratiese ideale nastrewe. My agting vir Die Transvaler se demokratiese gesindhede sal aansienlik styg as hy hierdie brief, nieteenstaande sy lengte, volledig sonder om 'n sin te skrap, in sy kolomme plaas.’ Die Transvaler plaas Krige se brief, hoewel met teensin, onveranderd, maar die hoofredakteur, dr. Verwoerd, reageer buitengewoon smalend op hierdie ‘Afrikaner-steunpilaar’ en die regering se ‘ontkennings- en propaganda-beampte’. Die verskoning, sê die koerant, ‘dat hy net Zeesen beveg en nie kan besef of nie kan help dat sy huidige lewenswerk die bevordering van een politieke party, die Kakie-party, beoog nie, is baie baie flou.’ Met 'n merkwaardige vorm van logika en met volkome verswyging van die inval in Pole meen die koerant dat, indien die Unie neutraal gebly en Zeesen hom dan met die binnelandse sake van die land bemoei het, hy die eerste sou gewees het om so 'n skending van neutraliteit te veroordeel. ‘Nou’, gaan hy in 'n ewe merkwaardige vorm van logika voort, | |
[pagina 301]
| |
is die toestand egter heeltemal anders. Die Unie is 'n aggressor. Hy het oorlog verklaar en homself opsetlik tot vyand van Duitsland gemaak. Hy kan nie vandag aan dié land sê dat hy nie sy soldate mag skiet of sy land mag aanval nie! Hy het die geveg immers self uitgelok....Net so met die radio-uitsendings. Dit is 'n vegwapen wat [waarmee? - JCK] Duitsland besig is en wat aan die Smuts-regering se oorlogsverklaring te wyte is. Dat mnr. Krige hom geroepe voel om dit te help beveg soos ander vrywilligers ander soorte wapens wil hanteer, is sy vrye keuse. Dit help egter nie om dan te huil oor die vreeslike aanvalle van die vyand wat die persone vir wie jy veg, uitgelok en opsetlik gemaak en uitgetart het nie. 'n Mens moet billikerwyse die vyand se reg erken om terug te slaan, al is dit ook hoe onaangenaam. Wat Leipoldt betref, sê die hoofredakteur ten slotte dat dié digter se letterkundige prestasies gewaardeer word en ook altyd bewaar sal bly, maar dat hy ‘as sanger nie meer leef in die sin dat hy nie meer die gedigte lewer wat die hart van die volk gesteel het nie, en dat sy imperialistiese politieke beskouings sedert lange jare al hom die vertroue van Afrikaners laat verbeur het en dat niemand sal slaag om die waardering vir hierdie man se letterkundige werke - veral vir dié van bykans veertig jaar gelede - te omskep in geloof aan sy politieke beskouings van vandag nie.’ Op Krige se brief en die reaksie van Die Transvaler volg 'n stroom briewe wat tot Maart 1940 voortduur. Uit die briewe, meestal vanuit 'n konserwatiewe Afrikanerhoek, soms 'n pro-Duitse gesindheid en veral 'n sterk anti-Engelse gevoel geskryf, blyk 'n teleurstelling in Krige se optrede en word sy verdediging met venyn beantwoord. Hy word verwyt dat sy ‘volksgevoel’ vlak sit, dat hy 'n ‘draadsitter’ is en dat hy ‘uitgesak’ het op die ‘Pad van Suid-Afrika’. Een van die briefskrywers sê: ‘[Krige] is glad nie in die wieg gelê om die Afrikaners se gevoelens te vertolk nie, want as hy en sy jingo-vriende reken dat hulle ons sal oorhaal om hulle te steun in hul selfsugtige oorheersingsbeleid, dan slaan hulle die bal ver mis. Hoe meer hulle ons oorlaai met hul verdraaide berigte, hoe groter word ons afsku.’ Mense wat sy literêre werk bewonder het, vind dit nou onmoontlik om hulle ‘hoë dunk’ van hom nog langer te handhaaf en hy word herinner aan die inspirerende nasionale inhoud van sy ballade ‘Die rit van Jan Lafras Malherbe’, waarin hy van die listigheid van die Britse | |
[pagina 302]
| |
geweldenaar en sy imperialistiese dade tydens die Anglo-Boereoorlog praat. Een van die veelvuldige korrespondente is B.J. Vorster, die latere eerste minister en staatspresident, wie se brief in Die Transvaler van 14 Desember 1939 verskyn. Daarin verwys hy na Krige as ‘die Smuts-regering se propaganda-vertalertjie’ en ‘'n stuk gereedskap...in die hand van die imperialis en die kapitalis’. Sy doel, so reken Vorster, is om die Afrikaner vir die Smuts-regering te wen en om die Afrikaner vertroue in sy leiers te laat verloor. Merkwaardig, omdat dit nêrens uit Krige se verdediging of enige van sy uitsendings blyk nie, sê Vorster dat Krige die Afrikaners wil paai deur Engeland se gruweldade tydens die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika as heldedade voor te stel! Hy gaan voort: Mnr. Uys Krige sal hier egter die bal misslaan, want die jong geslag van vandag het reeds gehoor uit die mond van hul moeders hoe vrouens en kinders in die konsentrasiekampe vermoor is. Nog minder sal mnr. Uys Krige daarin slaag om die Nasionale Party uitmekaar te jaag met sy rooinek-gekef, want diegene wat daardie party verteenwoordig, het net een doel voor oë en hul beleid is duidelik en helder omskrewe. Hy sluit af deur te vra hoe Krige, indien hy werklik so sonder 'n politieke beleid of beginsel is, kan verwag dat sy lesers en luisteraars werklik van hom moet notisie neem. Met Krige se toetrede tot die inligtingsburo en sy bestryding van die Zeesen-propaganda kom daar 'n ommekeer by 'n bepaalde groepering onder Afrikaanse lesers wat vroeër sy geskrifte bewonder het en by wie hy met sy reise deur die Mediterreense lande en die basies romantiese instelling in baie van sy verse 'n beminde skrywer was. Waarskynlik het hierdie lesers 'n gedig soos ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’ en baie van sy Spaanse sketse maar net half gelees of nie werklik verstaan nie, want onder sy geslag was Krige by uitstek die skrywer wat sy afkeer van diktators en die Fascisme van Franco, Mussolini en Hitler die duidelikste verwoord het. Of moontlik was van sy lesers in so 'n mate verblind deur hulle anti-Britse ingesteldheid en hulle oortuiging, aangevuur deur 'n smeerveldtog deur die Nasionale Party, dat ‘ou Jannie’ Suid-Afrika aan die Engelse verkoop het, dat hulle Hitler se skending van alle beskaafde waardes nie kon raaksien nie. Hoe ook al, met die briewe in Die | |
[pagina 303]
| |
Transvaler keer die konserwatiewe Afrikaners hulle rug op die ‘goue seun’ van die Afrikaanse letterkunde, 'n gesindheid wat in die eersvolgende jare en nog baie lank later daarvoor verantwoordelik sou wees dat Krige by die Afrikaner-‘establishment’ in diskrediet sou wees en dat belangrike literêre toekennings aan hom sou verbygaan. En die brief van Vorster sou jare later 'n nare nawerking hê. | |
IIVir Suid-Afrika het daar met Smuts se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog 'n harde pad voorgelê, want die verdedigingsmag was onvoorbereid op 'n langdurige stryd en die lang kuslyn was sonder enige beskerming. Die land het slegs twee tenks besit, albei so oud soos die berge, wat as vertoonstukke op militêre parades gebruik is, terwyl die leër oor geen pantserwaens nie en die lugmag oor slegs 'n klein aantal vegvliegtuie beskik het.Ga naar eind18. Tog was Smuts se oorlogsverklaring 'n groot inspuiting vir die industrieë om binne die bestek van 'n paar maande en vir die hele duur van die oorlog genoeg ammunisie, gewere en militêre voertuie te produseer om ook die ander Geallieerde lande te voorsien, terwyl die staande mag binne die bestek van 'n jaar van 'n skamele 28 000 manskappe tot ongeveer 300 000 van alle bevolkingsgroepe uitgebrei het.Ga naar eind19. In die eerste krampagtige maande van die oorlog is vrywilligers 'n deeltydse eerste kennismaking met oorlogvoering en daarna vier weke lank 'n aaneenlopende strawwe opleiding in kampe orals oor die land gegee, voordat hulle vir verdere opleiding na die slagveld gestuur is.Ga naar eind20. Terwyl die land besig was om hom slaggereed te maak, het die Duitse Wehrmacht en Luftwaffe met moderne wapens in Europa 'n Blitzkrieg gevoer. Ná die kapitulasie van Pole het die Duitsers die verdediging van Denemarke, Noorweë, Nederland, België en Luxemburg laat verkrummel. Op 14 Junie 1940 beset hulle Parys en op 21 Junie kapituleer Frankryk, terwyl die Britse magte van die vasteland terugtree. Brittanje en die Statebondslande was nou alleen in hul verset teen Duitsland. Intussen het die Duitse Luftwaffe begin om Britse stede te bombardeer.Ga naar eind21. Op 21 Julie 1940 spreek generaal Smuts Suid-Afrika oor die radio toe. Die Duitsers, sê hy, het tot dusver 'n reeks ononderbroke spektakulêre suksesse op die slagveld gehad, insluitende ‘the sudden and unexpected collapse of France. Everywhere the Germans have won | |
[pagina 304]
| |
not only by superior numbers but also by superior equipment, technique and strategy. Everywhere their opponents were forestalled, outwitted and surprised and they appeared to have no chance.’Ga naar eind22. Hoewel alles tans donker vir die Geallieerde magte mag lyk en die suksesse ‘an air of invincibility’Ga naar eind23. geskep het wat verder effektief deur die Duitse propaganda geëksploiteer is, het Duitsland te make met 'n Britse volk wat vandag verenig is soos nooit tevore nie, ‘under a leadership of unrivalled brilliance and courage and the competence of their military command is not questioned among those who know’.Ga naar eind24. Die soort visie wat Smuts saam met sy bondgenote in gedagte het en hoop om aan die einde van hierdie titaniese stryd te bereik, is, soos hy vroeër in sy radiorede ná die inval in Nederland en België ook gesê het, ‘freedom, the liberation of Europe from the deadly Nazi thrall and its organization in a new creative freedom’.Ga naar eind25. Op 10 Junie 1940 tree Mussolini aan die Duitse kant tot die stryd toe, verklaar hy oorlog teen die Geallieerdes en begin hy met sy kampanje in Oos-Afrika. Daar was nou die gevaar dat die Italianers die Suezkanaal kon beheer, die lewering van Britse voorrade deur die Middellandse See en die Rooi See kon stopsit en Egipte kon beset. Die Britse krygsmagte was, met die kapitulasie van Frankryk, in daardie stadium swak verteenwoordig in Afrika en die magte van Australië en Nieu-Seeland en dié van Oos- en Wes-Afrika was nog nie voldoende gemobiliseer nie. Daarteenoor was die Italianers in Abessinië en Eritrea 300 000 man sterk, gesteun deur tweehonderd vegvliegtuie. Teen dié tyd was Suid-Afrika egter reeds, hoewel nie met so 'n talryke staande mag nie, in groot mate slaggereed. Verskillende brigades is opgelei, nuwe eenhede soos die tenkkorps is geskep en ander afdelings is vergroot en versterk. Op 16 Julie 1940 vertrek die 1ste Suid-Afrikaanse Infanterie-Brigade onder leiding van brigadier Dan Pienaar per skip vanaf Durban na Mombasa in Kenia, gevolg deur drie eskaders van die Suid-Afrikaanse Lugmag, die 2de en die 5de Infanterie-Brigade, die Suid-Afrikaanse tenkkorps met pantserwaens en mediese dienste. Hulle is vergesel van ingenieurs en ander kundiges om paaie aan te lê en vir die watertoevoer te sorg. By hulle vertrek spreek generaal Smuts sy soldate, wat later as die Springbokke en die ‘happy warriors’ bekend sou staan, toe: Deur ons rol te speel in hierdie oorlog, verdedig ons nie slegs onsself, ons land, ons toekoms nie. Ons staan ook langs ons | |
[pagina 305]
| |
vriende in die Gemenebes van Nasies, soos hulle ons sal bystaan. Die verwysing na die vrywilligerleër as kruisvaarders is 'n uitspraak wat by Uys Krige, wat as joernalis van die inligtingsburo oor Smuts se afskeidstoespraak verslag moes doen, bly vassteek het. In sy eenbedryf Alle paaie gaan na Rome, wat hy in 1946 sou skryf, gebruik hy dié woorde, al lê hy dit in die mond van 'n soldaat wat ná al die ellende sinies is oor die ‘vervloekte oorlog’: Wat het die generaal nou weer gesê? Hy't gesê dis 'n Kruistog. 'n Kruistog, broer, dink bietjie daaraan, 'n groot skitterende deur God geseënde Kruistog met stralekrans, beskermengele en die joos weet wat nog. (Hy lag bitter.) En dis nie altemit nie, ons is Kruisvaarders - op die swart mark en in die bordele.Ga naar eind27. Ná aankoms in Kenia is die 1ste SA Infanterie-Brigade verby Kilimandjaro en deur die Groot Skeurvallei wes van Nairobi na die hoogvlaktes van Naivasha en Gilgil. Dáár sluit magte van die Goudkus en Nigerië by hulle aan, terwyl 'n Indiese divisie die Britse magte in die Soedan versterk. Indien Mussolini in hierdie stadium bereid was om aan te val, kon hy die magte in die Soedan weggevee en Egipte vir reddingspogings ontoeganklik gemaak het. Gelukkig vir die Geallieerdes het Italië kosbare tyd verlore laat gaan. Met die Italiaanse oorwinning oor Brits-Somaliland in Julie 1940 en die aanval op Egipte in September was die posisie van die Geallieerdes egter inderdaad haglik. Ook vir Krige het die situasie beroerd gelyk waar hy daagliks | |
[pagina 306]
| |
in Smuts se kantoor van die jongste nuus op die hoogte gestel is. Tog laat hy in Julie 1940 sy broer Bokkie weet dat hy nog altyd optimisties oor die afloop van die oorlog voel. Hy kan, skryf hy, nie ‘glo dat dit menslik moontlik is dat hierdie swart golf van reaksie Europa en die wêreld kan oorweldig nie. Daar is iets soos die geskiedenis van die menslike vooruitgang. En onmense - soos die Nazi's - kan daardie geskiedenis nie vier of vyf eeue terugstoot asof dit nooit bestaan het nie. Hulle kan net by alle werklik beskaafde mense - en daar is miljoene sulkes - 'n geweldige gevoel van, en vermoë vir, verset inboesem. Die individu wie se regte nou deur hulle so verkrag en vertrap word, kan nie anders as terugslaan nie.’ En profeties meen hy die dag wanneer die Verenigde State van Amerika en Rusland gaan inspring, sal Duitsland en Italië totaal in duie stort. Intussen moes die Suid-Afrikaanse soldate die waterlose stuk land van sand en lawa tussen Kenia en die suidelike Abessiniese grens deurtrek. Daar was geen paaie wat hulle kon gebruik nie, die son het moordend uit 'n wolklose lug neergeskyn en die daaglikse temperatuur het gewissel van 100 grade Fahrenheit tot oor die 120 grade in die lawagordel.Ga naar eind28. Toe generaal Alan Cunningham in November 1940 die beheer van die Suid-Afrikaanse magte in Oos-Afrika oorneem, was Uys Krige nog steeds by die inligtingsburo besig om Zeesen se leuens en propaganda oor die radio teen te gaan. Maar toe hy daagliks hoor van die soldate se maneuvers, was hy gou moeg van al die pratery en het sy voete begin jeuk. Hy is na Smuts se kantoor. ‘Oom Jannie’, het hy gesê, ‘jy het darem nie, toe die Anglo-Boereoorlog aan die gang was, die hele tyd hier in Pretoria gesit nie.’ ‘Wat is dit dan nou met jou?’ was Smuts se vraag. Nee, het Uys gesê, hy wil nie langer hier sit nie. Hy is nie voorberei en opgelei as soldaat nie, maar hy kan darem skryf. En hy vra: ‘Laat my noorde toe gaan, na Abessinië en Kenia, dan kan ek vir julle verslae oor die verloop van die oorlog skryf.’ Smuts het 'n oomblik nagedink, gemeen dit is 'n goeie idee en toe ingewillig. Uys en Conrad Norton is aangestel as oorlogskorrespondente van die inligtingsburo, Uys met die rang van kaptein. Hy sou hoofsaaklik in Afrikaans skryf, terwyl Norton die Engelse bydraes behartig. Later sou hulle saam die bundel Veldtog vir vryheid,Ga naar eind29. afsonderlik in Engels uitgegee as Vanguard of victory, publiseer - 'n kort oorsig van die oorwinnings van die Suid-Afrikaanse soldate in Oos-Afrika. Voordat Uys vertrek, stel hy 'n dokument op wat as ‘testament’ | |
[pagina 307]
| |
[pagina 308]
| |
moet dien, maar dit is sommer op blou papier geskryf en nie behoorlik onderteken nie! Lydia word aangestel as sy ‘algemene erfgename’ en eksekutrise van sy boedel. Sy kry sy posspaarbankboekie, die tantième op twee van sy boeke (Kentering en Rooidag), die opbrengste uit latere bloemlesings en op Afrikaanse versameling, ‘so gou die moffe [Nederlandse skeldnaam vir die Duitsers - JCK] weer terug is in hul eie kraal!’ Verder kry sy ‘my verslete kleertjies wat agterbly’ om aan 'n ‘arme sukkelaar’ te oorhandig - ‘en my beste wense vir 'n gelukkige lewe en die pragtige toekoms waarop sy as toneelspeelster geregtig is’. Aan sy moeder bemaak hy die outeursregte op Magdalena Retief, maar die ander regte (opvoering, vertaling, rolprent) moet sy deel met sy dogter, Eulalia. Omdat sy broer François nie ‘gebore in staat’ is om self 'n tentoonstelling van sy werk te organiseer nie, bemaak hy die outeursregte van Die palmboom met dié doel aan hom. Aan sy broer Bokkie bemaak hy al die boeke wat reeds by Bokkie aan huis is en wat nog elders rondlê. Aan sy skoonmoeder bemaak hy die outeursaandeel van Die wit muur. Sy ongepubliseerde werk mag slegs met verlof van Bokkie en sy twee vriende Van Wyk Louw en W.E.G. Louw verskyn. Ná nog 'n paar stuitighede sê hy hy kan hom net so min losmaak van sy volk as die sap van die boom of die stroom van sy bedding. Daarom laat hy sy werk aan die volk agter met ‘hierdie een wens: dat hy gered bly van al sy redders wat nie in staat is om te gaan broek losmaak nie, sonder om aan die wêreld te verkondig dat hulle op die pad van Suid-Afrika is’. Vir die kerk waarin hy gedoop is, wens hy ‘so 'n bietjie geestelike en sedelike moed’ om dwars teen hul omgewing en eie ‘verhansdheid’ in te gaan waar ‘die heilige beginsels van die waarheid en die geregtigheid dit vereis’ en met ‘so 'n vonkie van daardie hoë helder vuur waarsonder die Kerk geen bestaansrede het nie’. Aan homself wens hy, indien hy ‘afklop’, in die hiernamaals ‘so 'n bietjie stilte’ toe! Uys en Conrad Norton kom in November 1940 aan in Nairobi en gaan onmiddellik op die voetspoor van die Suid-Afrikaanse soldate na noordelike Kenia en suidelike Abessinië. Van dié tyd af dateer Uys se stroom berigte - soms in die vorm van artikels en soms as telegrafiese boodskappe - wat hy na Suid-Afrika oor die verloop van die veldtog in Oos- en later Noord-Afrika stuur. Daarin skryf hy ook begeesterd oor sy indrukke van die soldatelewe, die gesprekke wat die manne saans voer, wanneer dit 'n bietjie koeler word, en die gevoel van kameraderie wat hy saam met hulle belewe. Hy kry die won- | |
[pagina 309]
| |
derlike geleentheid om met die duisende manne saam te wees, hulle vreugdes en beslommernisse te deel en te sien hoe hulle reageer op 'n oorlog wat die ganse mensdom raak. Ná ses maande in Noord-Afrika skryf hy: ‘Ek het soms die indruk gekry dat ek 'n toeskouer is van 'n geweldige universele tragedie; dat ek reg in die midde staan van die geskiedenis op die einste oomblik dat hy geskep word; en dat ek deel uitmaak van 'n stryd wat die lot van miljoene sal beslis, die hele beloop van die wêreld gedurende hierdie eeu sal bepaal.’Ga naar eind30. Veral die natuur, die afwisseling van oerbos en woestyn, maak 'n groot indruk op hom. Afrika openbaar hom aan Uys in al sy voorwêreldlike skoonheid, veral in die uitgestrekte woestyne van die noordelike grensdistrikte van Kenia. ‘Nog nooit’, skryf hy, ‘het ek besef hoe groots, hoe geweldig die natuur wel kan wees nie - hoe jy deel van hom kan word, soms feitlik heeltemal kan opgaan en verlore raak in hom - en watter groot rol die natuur in 'n mens se lewe kan speel.’Ga naar eind31. ‘Ek is 'n vlagie wind oor die woestyn’,Ga naar eind32. kon hy weer saam met die Arabiese digter Abu'l-Ala sê. Die woestyne was feitlik eindeloos, die een na die ander, die een so dor en dood en wreed as die ander. Die woestyn met sy warrelwinde, hoog soos torings, wat soms lyk of hulle resies jaag tussen die fyn rooi of goue pulwersand deur; sy lawastroke waar die gitswart lawablokke en -klippe myle aanmekaar lê; sy opgedroogde alkalimere, een sodaplaat aanmekaar, wit, spierwit, so wit onder die stekende son dat hy jou oë verblind, asof die ganse aarde slegs 'n enkele soutkors het wat kraak onder jou skoene as jy daaroor stap; sy barre berge wie se skerp spitspieke, soos sae uitgetand, lyk of hulle aan die hemel vreet - en daar trek nooit 'n wolkie oor daardie dorre kruine nie. Die woestyn met plek-plek sy pragtige rooibruin of goue okerkleurige reuse-kraters - soos yslike gate vroeër deur die gode in die grond gestamp; sy droogte, sy dors, al sy verskrikkinge, maar nieteenstaande dit alles, sy veelvuldige dierelewe en sy oorvloed kleurryke voëls. Afskuwelik dus, maar tog met 'n bepaalde aantrekkingskrag, 'n sekere bekoring.Ga naar eind33. Wanneer hulle die woestyn verlaat, is hulle in die wonderskone bergwêreld van Abessinië, wat met sy grootsheid, sy wydtes, sy stiltes en sy eensaamheid vir Uys seker enig is ter wêreld. En daarop volg die | |
[pagina 310]
| |
onophoudelike reëns. Terwyl die heuwels en rante rondom Pretoria vir die mens vriendelik gesind is, gaan Uys voort, is die natuur in Oos- en Noord-Afrika byna altyd 'n vyand - eers die woestyngelyktes met hul droogte en dors, later die berge met die reëns - wat soms gedugter is as die menslike vyand wat hulle moes oorwin. Op 'n dag kry hy dit selfs reg om tussen Kenia en Suid-Abessinië te verdwaal! Toe hy hom weer kom kry, was hy en sy maat alleen, sonder die konvooi, en word die woestyn skielik 'n geweldige bedreiging. Gelukkig kon hulle die weg terugvind, net om tydens 'n stofstorm weer weg te raak en by 'n ander geleentheid in 'n meer waterryke deel tussen 'n trop olifante te belandGa naar eind34.. Eenmaal het Uys, wat geen meganiese aanleg hoegenaamd gehad het nie en nooit werklik 'n motor kon bestuur nie, dit reggekry om agter die stuur van een van die militêre trokke te beland en in feitlik die enigste boom in die Abessynse woestyn vas te jaag. Die moeilikhede vir die oorlogskorrespondent om in sulke omstandighede te skryf en sy berigte deur te kry, was werklik ‘so veelvuldig as sandkorrels in die woestyn’.Ga naar eind35. Tussen hulle en die basisse was daar gewoonlik honderde myle van woesteny en soms het dit 'n week gekos om die berigte te versend. Eenkeer het die vliegtuig wat die artikels gedra het, neergestort. Toe weer het die trok met sy paar koeverte binne-in totaal uitgebrand. Met die groot reëns het 'n gedeelte van die woestyn in 'n enorme pan verander en het sy artikels iewers tussen die lawarantjies vasgeval en eers drie weke later in Nairobi opgedaag. In die woestyn met sy skroeiende hitte het Uys soms meer sweet uitgesweet om sy stories klaar te kry as wat daar ooit ink uit sy pen kon vloei. ‘En’, skryf hy, ‘byna die helfte van my berigte het nooit opgedaag nie. Ek wonder soms wat daar nou eintlik van hierdie “pennevruggies” geword het. Miskien waai die woestynwind nog 'n paar van die los half verskeurde blaadjies êrens naby 'n eensame put rond, of teen die blou en groen stam van 'n haak-en-steek.’Ga naar eind36. Kort ná Uys en Conrad se aankoms wou generaal Cunningham met sy groot offensief teen die Italianers begin, maar hy moes sy planne vir die ontwikkeling van die Abessynse kampanje weens die stortreëns uitstel. In die tussentyd sou hy tevrede moes wees om die niemandslandgebied te verklein, watervoorrade na die waterlose gedeeltes te bring, paaie te verbeter en geïsoleerde poste uit te skakel. 'n Onmiddellike gevolg van hierdie beleid was een van die keerpunte | |
[pagina 311]
| |
van die kampanje: die skielike en skouspelagtige aanval op El Wak op 16 Desember 1940 wat die grondslag was vir die briljante oorwinning van die Suid-Afrikaners oor die Italianers. Duisende soldate is oornag van Fort Wajier, 110 myl ver, verwyder en het ongesiens verby die vyand gekom en oor 'n moeilike bosryke deel in die nag hul bestemming bereik. Die tydsberekening, koördinasie en die hulp van die ander eenhede was uitstekend. Dit het die bewys gelewer dat die Suid-Afrikaanse magte vinnig gemobiliseer kon word en dat hulle met groot krag kon toeslaan. Daarby het hulle die swakhede in die kern van die Italiaanse mag uitgewys. In die nag van 15 Desember het die twee brigades hul posisies vir die aanval ingeneem. Met dagbreek op 16 Desember het die soldate onder hewige vuur stil gelê, sonder om te verraai waar hulle is, terwyl die tenks en pantserwaens deur die dik sand geploeg het om die beste verdedigingsposisie in te neem. Vanuit die bosse het die tenks toegeslaan. El Wak was onder vuur. Toe die magte terugtrek, was El Wak en die aangrensende dorpies daarmee heen, die strategiese Italiaanse buiteposte tot die grond vernietig en baie van die Italianers krygsgevange geneem. Van dié datum dateer die hoë moreel van die Suid-Afrikaanse Weermag. In 'n rapport wat hy op 17 Desember ná afloop van die slag skryf, vertel Uys hoe trots die manne op hierdie oorwinning is. Een van die spraaksaamste onder hulle was 'n kort, fris geboude kêreltjie uit Johannesburg, wat vir hom 'n snor gekweek het, só groot ‘dat 'n mens soms die indruk kry, netnou kantel die mannetjie om’. Oor die opmars na Fort Wajier vertel die soldaat: Sjoe, maar dit was warm verby. En ons moes ongeveer vyftien myl in daardie moordende hitte aflê en terselfdertyd die dromme dra om telefoonlyne te lê plus ons roers en ander benodigdhede. Dit was 106 grade [F] in die skaduwee. Ek sê jou dit het broekskeur gegaan. Maar ons het almal daaraan gedink dat...[dit] Dingaansdag was en maar vorentoe gebeur. Ons het die afstand in vier uur afgelê. - En toe begin die lug gons, en dit was nie van hitte nie. Iets van dié ervaring sou Krige later verwoord in ‘Die soldaat’, wat met sy refrein oor ‘Fort Wajier’Ga naar eind37. een van sy bekendste oorlogsverse sou word. Die gedig begin as volg: | |
[pagina 312]
| |
In hierdie dorre verlatenheid
van 'n vaal wêreld
wat langsamerhand veryl, vervloei,
sy vae omlyninge verloor
in 'n nog valer hemel,
alleen
langs die stofpad deur die woestyn
stap
'n enkele soldaat.
En Fort Wajier lê ver, lê ver,
onderkant die eerste ster.Ga naar eind38.
Tydens die geveg het van die soldate nogal baie gepraat oor hoe vrot die Italiaanse vegvlieëniers is. ‘Dink Meneer nie’, sê een van hulle aan Uys, ‘dis ons eie mense wat die goed op ons afgooi sodat ons 'n bietjie gewoond kan raak aan die eierlêery nie? Vir my lyk dit baie so...Want kyk hoe mooi gooi hulle mis ...’ En ná die oorwinning was die Suid-Afrikaners op gemoedelike voet met die Italiaanse krygsgevangenes: Die Talies is almal sulke buksies...nogal fris...En hulle wil doodgaan oor ons ‘bullybeef’. Nou eet ons hulle macaroni en hulle ons ‘bullybeef’. Dis nie 'n slegte ruil nie. Hoewel hulle 'n bietjie met hulle vyande die spot dryf, sê Uys, is daar hoegenaamd geen haat teen die Italianers nie. Tydens die Kersdagdiens bid die dominee ook vir die vyand en vir die weduwees en wesies van die vyandelike manskappe wat gesneuwel het, 'n gebed wat die kêrels tref en waaroor hulle later met Uys kom praat.Ga naar eind39. Kersaand 1940 bring Uys saam met die troepe deur by Fort Wajier, die groot oase wat hulle na honderde myle deur die woestyn skielik bereik. Baie jare later kon hy nog onthou hoe die Somali's met hul lang neuse en fynbesnede gesigte met hulle kamele by die fort aankom en hoe die houtklokke van die kamele 'n byna vreemde musiek maak. En later kon hy ook onthou hoe pikswart die nag buite was en ‘die sterre wat hier sny in jou, jy kan amper aan hulle vat’.Ga naar eind40. Ná die Slag van El Wak marsjeer die Suid-Afrikaanse Brigade onder Dan Pienaar in Januarie 1941 in 'n noordelike rigting deur verskillende | |
[pagina 313]
| |
woestyne. Die Chalbi-woestyn is ‘'n sodameer wat soos 'n yslike wit plaat tussen al die ander woestyne inlê’.Ga naar eind41. Nie 'n enkele sprietjie gras is te sien nie en terwyl daar gewoonlik allerhande mooi voëls in die woestyn lewe, fluit hier nie 'n enkele voël bo die soutlae nie. ‘Op sy wit blad skitter die son so verblindend dat dit mens se oë seermaak. Die hitte is verskriklik. 'n Warmtemeter in een van die pantsermotors teken 140 [F] grade aan’.Ga naar eind42. Verder noordwaarts wag 'n nog erger woestyn op hulle in 'n gebied waar hulle vyandelike aanvalle te wagte kon wees. Krige skryf: Die konvooi het hom versprei. Terwyl hy vir hom 'n pad boontoe ooptrap deur die rooi brandende woestynsand en rondom die kaal doringbome, het pantsermotors langs die konvooi se kante op- en afgejaag, af en toe soos torpedojaers deur die sagte sifsand geploeg....In dik rooi stofwolke dwarrel die sand dan boontoe. Partykeer kan mens nie 'n tree voor jou uit sien nie. Die rooi stof plak in 'n laag teen jou gesig vas en kruip in jou oë, mond, neus en ore in. As die sweet jou aftap, trek hy 'n wit spoortjie deur die rooi masker wat jy aan het. Maar die sweetspoortjie is maar van korte duur. Die rasende, wirrelende wiele karring die stof gedurig op - en deur elke moontlike opening waai dit dan teen jou aan.Ga naar eind43. Teen 16 Januarie 1941 het die troepedraers begin steier oor die grofste en mees verlate landstreek denkbaar. ‘In die onbeskryflike hitte’, sê Krige, ‘het die son soos met 'n duisend hamers neergeslaan op die heuwelkruine, rante en leegtes wat meestal net uit gitswart lawarotse bestaan het.’Ga naar eind44. Hulle mikpunt was Fort El Jiebo, waar die waterputte vir hulle van lewensbelang was. 'n Hele dag lank moes 'n bataljon veg in 'n temperatuur wat selde benede 135 grade [F] gedaal het, en het van die manskappe van die lêery op die lawarotse blare op hulle bors en voete gekry, in so 'n mate dat van die mediese ordonnanse tussen die rotse moes inkruip om die soldate te behandel. Dit is 'n gegewe wat Krige later in sy eenbedryf Die sluipskutter in 'n gewysigde vorm sou aanwend.Ga naar eind45. Die Suid-Afrikaanse troepe behaal verskeie oorwinnings in Abessinië. Tydens hierdie veldtog sien Uys weer hoe die deursnee-soldaat sy ingebore menslikheid in die moeilikste omstandighede openbaar, iets wat hy telkens tydens die oorlog ervaar en wat hom, ten spyte | |
[pagina 314]
| |
van herhaalde teleurstellings later in sy lewe, 'n inherente geloof in die wesentlike goedheid van die mens gee. Tydens die opmars na Mega in Februarie 1941 skryf hy: I had accompanied a small detachment of soldiers of a Natal regiment in a brisk ‘reccy’ over the [Abyssinian] border. During that hectic journey a 500-pound waterdrum had been jolted from its perch, landing on my foot. When about ten days later our offensive swept over the frontier towards our first major objective, Mega, I was part of that offensive - but being carried across the border literally (from truck to camp and from camp back to truck) by my new-found friends. In the constant company of those men for about a month, I got to know them well. Most of them came from the Border districts, that is to say the Eastern Province, Transkei or certain country districts of southern Natal. Almost all of them were tall, broad-shouldered, bonily built and very quiet men. Only when they opened their mouths, could I distinguish who was Afrikaans- and who English-speaking. If I had to choose a single word to characterize them, it would have been ‘gentle’.Ga naar eind46. Op 18 Februarie 1941 neem die Suid-Afrikaners die bergvesting Mega in. Hier beleef Uys sy eerste bomaanval. ‘'n Bom uit 'n kanonbek’, skryf hy, is geen seepbelletjie of 'n tennisbal nie. Die eerste maal wat jy 'n kanon hoor hoes - ek bedoel op 'n slagveld, nie op 'n wapenskou of militêre begrafnis nie - voel jy glad nie so doodbedaard as 'n dokter aan die koppenent van sy pasiënt nie. En sy gefluit bo jou kop, soos hy, heeltemal onsigbaar, die lug deurklief, herinner jou skaars aan 'n rugbywedstryd. En as hy 'n oomblik daarna groot stukke grond uit die aarde begin oopruk, voel jy allermins op jou gemak in so 'n onstandvastige wêreld. Dan trek hulle deur die Somalilandse woestyn om, met 'n brug wat deur die ingenieurs gebou moes word, die Jubarivier oor te steek. Hy ontmoet hier die doofstom weeskindjie wie se moeder deur die weerlig doodgeslaan is en wat van haar onplesierige stiefmoeder moes wegvlug. Oor haar skryf Uys later 'n gevoelige skets in die bun- | |
[pagina 315]
| |
del Rooi (1965); die Engelse weergawe hiervan word opgeneem in Orphan of the desert (1967). Wat 'n mens hier opval, is hoe hy die gebare van die Somali-meisietjie in woorde ‘vertaal’ en hoe gefassineer hy deur haar hele verskyning is. Wanneer sy hom 'n kom melk aanbied en hy begin drink, kyk hy in die oë van Fatima wat vlak voor my met 'n half-uitgelate kreetjie op 'n brandstofkissie gespring het. Feitlik oor die randjie van die kom staar haar groot bruin oë my half-guitig, half-verwonderd stip aan. Ek kan my oë nie van haar gelaat afhou nie ...Ga naar eind47. In 'n ongedateerde brief aan Lydia, kort ná die Slag van Mega, vertel hy van die beeldskone Somaliese vrou wat hy teëkom: ‘Haar gesig, haar skouers, haar hele houding en postuur, het die jong vrou iets “standbeeldagtigs” gegee. Haar gesig had die skoonheid wat sekere klipsoorte of rotsformasies soms het.’ Hy beskryf ook aan haar hoe die rante naby Hobok in Abessinië rondom hulle vol lyke gelê het, een en veertig altesame. Die stamleiers van die Bosane - die plaaslike inwoners van wie sommige saam met die Italianers in die oorlog was - het hulle later die somber treurspel vertel. Die Italiaanse bevelvoerder by Hobok was woedend oor twee van sy offisiere wat in November 1940 in 'n hinderlaag deur gewapende Abessiniërs doodgeskiet is. Hy het die Bosane van hulle dood beskuldig, een en veertig van hulle stamleiers in groepe met toue aan mekaar vasgemaak en sy huurtroepe op hul laat lostrek. ‘Dit was soos 'n skietoefening’, het een van die ou Bosane deur middel van 'n tolk hulle vertel. Hy gaan voort: Die donkerbruin hope vel en been wat eens mense was, aan my voete het snaakse gedagtes in my laat opstoot....Die wurms kry nie eers 'n kans nie....['n Jong soldaat wat dag en nag daar brandwag staan,] steur hom nie die minste aan [die sewe lyke wat in 'n kring rondom hom lê nie.]...Ons stap...die dodeheuwel af. En wat gebeur? Nie twintig tree van die lyke af nie sien ek vir die eerste maal in hierdie woestyn wat honderdduisende vierkante myle beslaan, 'n soort wilde vrugteboom met fyn wit bloeiseltjies....'n Vrugteboom in die woestyn...dit is iets wat my meer verras, meer verbaas as enigiets wat ek gedurende die afgelope twee maande belewe het. | |
[pagina 316]
| |
Byna 2 000 myl lê die Suid-Afrikaanse troepe in 'n rekordtyd van drie en vyftig dae af om Addis Ababa op 5 April 1941 te bereik en die volgende dag in te neem, die eerste hoofstad van die Spil-moondhede om tot 'n val te kom. Uys is een van die eerste sewe Geallieerdes wat Addis Ababa in 'n seëvierende optog binnegaan. Toe hulle verbykom, staan die Italianers langs die pad en gee hulle die Fascistiese saluut terwyl die Union Jack gehys en die Italiaanse vlag gestryk word!Ga naar eind48. Met die hulp van die Suid-Afrikaanse Lugmag word duisende Italianers gevange geneem. Op 19 Mei 1941 gee die hertog van Aosta oor en word Haile Selassie as keiser van Abessinië herstel. In ‘The taking of the koppie’, wat hy later in Hart sonder hawe sal bundel, gebruik Krige 'n voorval uit dié oorwinning om te illustreer hoe 'n jong soldaat, feitlik 'n kind nog, deur die oorlog só aangetas word dat hy byna meedoënloos en emosieloos sy vyande kan doodmaak. Dit is 'n skel, rou, vers met die kontras tussen die gevoelloosheid en wreedheid van die oorlog en die onskuld van die jong seun as basis en waarin die gebeure feitlik prosaïes oorgedra word, met 'n verdieping in die korter versreëls aan die slot: ‘Then I put my bayonet through each of them in turn, just in the
right place, and they did not even grunt or murmur ...’
There was no sadism in his voice, no savagery, no brutal pride or
perverse eagerness to impress,
no joy, no exultation.
He spoke as if he were telling of a rugby match
in which he wasn't much interested
and in which he took no sides.
And as I looked at his eyes again
I was struck with wonder
at their bigness, their blueness, their clarity
and how young they were, how innocent.Ga naar eind49.
Ná net 'n paar dae se rus is die troepe verder om in die Kombolchiapas byna 'n week lank te veg. Teen hierdie tyd was die manne doodkalm wanneer die kanonne 'n tweegeveg voer. As Uys vra wat aan die gang is, stel hulle hom gerus met: ‘Nee wat, dis sommer niks nie, ons sê maar net naand vir mekaar!’Ga naar eind50. En wanneer die Italianers hulle | |
[pagina 317]
| |
bomme ook hier bra sleg gooi en daarmee Abessinië finaal gewonne gee, klink een van die seiners binne hoorafstand van Uys baie opgeruimd: ‘Magtig, maar ou Musso mors weer met sy lira vanmiddag. Ek wonder hoe hy vanjaar se begroting gaan laat klop!’Ga naar eind51. Met die Oos-Afrikaanse kampanje het die Suid-Afrikaners verhoed dat die Italianers die grondgebied van die vasteland beheer en dit as 'n springplank vir die besetting van die Geallieerde vaarweë in die Atlantiese en die Indiese Oseaan gebruik. Einde Mei 1941 word Krige ernstig siek aan netelroosGa naar eind52. en word hy saam met die gewondes per skip langs die ooskus na Suid-Afrika teruggestuur. Hierdie siekte verhinder hom nie om nog steeds verslae te skryf nie. Uit die Amerikaanse Sendinghospitaal in Addis Ababa reis hy saam met ongeveer negentig siekes en gewondes na Berbera, die eeue oue Somalilandse hawe aan die Golf van Aden, om in die Suid-Afrikaanse hospitaalskip, die Amra, in volkome veiligheid en met alle denkbare geriewe 'n paar duisend myl suid na Mombasa te vaar. Saam met hulle op die trein na Berbera was 'n groep Italiaanse krygsgevangenes wat in stampvol trokke soos vee saamgehok gesit het. Opnuut, soos tydens die opmars na Mega, word Uys getref deur die fundamentele ordentlikheid en mensliewendheid van sy landgenote. ‘By elke stasie of halte langs die pad’, skryf hy, ‘het daar van ons manne hul water aan die Italiane gegee, of hulle gehelp om hul waterbottels vol te maak uit die groot tenks langs die spoor, met hulle probeer gesels, gedenktekeninkies met hulle verruil en op verskeie maniere met hulle verbroeder.’Ga naar eind53. Met die vertrek uit Berbera het die Amra só kalm en rustig uitgevaar dat Uys nie eens van die masjiene se aanskakel wakker geword het nie. Omdat dit 'n hospitaalskip was en die internasionale Rooi Kruis in geval van so 'n vaart die roete in besonderhede aan die vyand verskaf, was daar geen gevaar dat die Duitsers met torpedo-aanvalle sou kom nie. ‘Saans, trouens die heelnag deur’, skryf Uys, het die hospitaalskip eenvoudig gestraal van die lig. Met sy honderde ligte groen en rooi lampies almal aan, en sy sewe groot rooi kruise helder verlig teen sy sye en skoorstene, het die Amra oor die donker stil see en deur die ewe donker stil nag voortgevaar asof hy fees vier of aan 'n triomftog deelneem.Ga naar eind54. | |
[pagina 318]
| |
En die geriewe op die skip het dié van die beste hotel in Suid-Afrika oortref: voortreflike etes, 'n uitstekende ventilasiestelsel, 'n mikrofoon en luidspreker in elke verpleegvertrek, 'n operasieteater wat deur voorbereidende ontsmettingsvertrekke aangevul is, radiologiese toerusting en 'n elektrolise-toestel waarmee soutwater uit die dieptes opgesuig en in 'n antiseptiese heelmiddel verander word. Saans op die dek was daar 'n kêrel met 'n kitaar en het 'n paar van die soldate die liedjie ‘Pale toe’ met sy dosyne koeplette en toespelings op die oorlog lustig saamgesing. Die refrein, ‘Pale toe, nader na die Pale toe’, is 'n beeld uit die rugbywêreld in die betekenis van ‘jou mikpunt, jou doelwit, tuiste, verlange’,Ga naar eind55. maar volgens sommige het dit in die woestyn ontstaan en het dit só gewild onder die manne geraak dat rou Engelsmanne wat nie 'n woord Afrikaans kon praat nie, Afrikaansprekendes telkens met 'n gulle ‘Pale toe!’ begroet het: Ou Musso kom so skop-skop.
Die ‘Ities’ maak 'n ‘balls-op’
nader na die Pale toe!
Musso, what you're up to, man?
Jy word gedonder deur oom DanGa naar eind56.
nader na die Pale toe!
Wie slaat die AxisGa naar eind57. met 'n kats?
Die heppie warriors van Jan Smuts
nader na die Pale toe!
Ou Hitler dink hy's Tsjaka,
ons stuur hom na Lusaka
nader na die Pale toe!
Benito dink hy's Alexander,
ons slaat hom op sy salamander
nader na die Pale toe!
Ou Hitler dink hy's Atillá,
ons wiks hom op sy...jy wiet wa'Ga naar eind58.
nader na die Pale toe!Ga naar eind59.
| |
[pagina 319]
| |
Iemand het op 'n aand voorgestel dat hulle die Amra na Pale toe moes herdoop, omdat hulle mos nou huis toe gaan. ‘Wat wou!’ het 'n gesoute soldaat uitgeroep. ‘Julle vergeet in 'n Keniase hospitaal gaan ek goed deurloop en kry ek drie operasies aan my kwas. Noem die Amra liewers Slagpale toe!’ Toe Uys in Abessinië was, moes sy vrou en dogtertjie baie rondtrek terwyl Lydia as Viola in Shakespeare se Twelfth night opgetree en deur die land daarmee getoer het. Met Uys se terugkeer was Eulalia oorstelp van vreugde en in haar noppies met die swart olifantjie en ander presentjies wat hy saamgebring het.Ga naar eind60. Maar lank het hy nie gebly nie. Ná sy herstel word Pretoria vir hom te burgerlik en te klein, keer die ou rusteloosheid en swerfdrang weer na die oppervlak en dwing sy verantwoordelikheidsgevoel teenoor sy makkers in die Noorde hom om na die slagveld terug te keer. Teen hierdie tyd was sy huwelik met Lydia, ondanks hulle gemeenskaplike belangstellings en waardering vir mekaar, nie meer sonder ernstige barste nie. Uys was 'n kuddemens wat basies baie geheg was aan sy familie, maar hy kon dit nie verdra om deel te wees van die klein gesin nie. Dit het 'n las op hom gelê, hy het dit gehaat om broodwinner te wees en hy het totaal gefaal as pater familias. Hy het daarvan gehou om saam met die Springbok-vegters rond te trek en dit was vir hom opwindend om deel te wees van 'n klomp mans wat gevaar beleef. Met sy terugkeer was Lydia vir hom te swaartillend. Langs haar, in haar swart rok, armbande en rooi naels, gereed vir 'n opname by die radio, het Uys soos 'n klein seuntjie in sy kortbroekie en T-hempie gestaan. Daarby was hy in hierdie jare uitbundig van vreugde dat sy moeder op gevorderde leeftyd met die skryf van verhale begin het en met sy sterk moederbinding was hy maar te gretig om haar stukke te lees en haar verder aan te moedig. Waarskynlik het Lydia haar hieraan geërger, want in groot mate was sy vir Uys 'n miniatuurmammieGa naar eind61. wat met die kos moes regstaan as hy tuis is en hom verder die vryheid moes gun om met sy swerftogte voort te gaan. Uys keer dus terug na die Noorde. In September 1941 kom hy in Kaïro aan, waar die Suid-Afrikaners intussen, ná afloop van die veldtog in Abessinië, besig was om saam met die Britse leër teen die Duitse en Italiaanse magte 'n aanval te loods. Die Duitse generaal Erwin Rommel, bygenaamd die Woestynjakkals, het die Italianers in Noord-Afrika kom bystaan. Dit was absoluut essensieel vir die Geallieerdes dat die suidelike roete na die Suezkanaal, die Midde- | |
[pagina 320]
| |
Ooste en die olievelde by die Golf nie in die hande van die Spilmoondhede moet val nie.Ga naar eind62. In Kaïro redigeer Uys 'n tyd lank 'n weeklikse tydskrif vir die troepe en skryf hy 'n hele paar stukke wat hy later in sy bundel Ver in die wêreld...opneem. In een van die sketse gee hy 'n beeld van Kasama, 'n lughawetjie in die oerwoud naby die ewenaar wat om sy afgesonderdheid deur een van die loodse na Verlate Hoek herdoop is. Dit vorm 'n kontras met Wadi Halfa, die onaangename warm ‘stookoond van die woestyn’.Ga naar eind63. In ‘Skets van 'n loods’ sit Uys sy opvattinge oor die oorlog uiteen en waarom dit vir Suid-Afrika noodsaaklik was om tot die stryd toe te tree. Wat die generaal in ‘'n Generaal en 'n manskap’ van die oorlog sê, is basies ook Uys se standpunt: Ek is 'n Pasifis, was dit altyd gewees...Ek verafsku oorlog. Daarom het ek aangesluit, neem ek deel aan hierdie oorlog...Ek het moeg geword van die mense wat nie net die vrede van die een land na die ander vernietig het nie, maar wat die vrede van die hele wêreld bedreig. En hulle doen iets wat vir my nog erger is: hulle wil ons wysmaak nié dat oorlog 'n afskuwelike abnormaliteit is nie, maar iets dood normaals, eie aan die mens; nié dat oorlog 'n misdaad is teen God en die mens nie, maar die plig van elke sogenaamde patriot. Hitler het heelwat te sê en te skryf gehad oor sy soldatevolk, sý en húl soldateplig. En Mussolini het gesê oorlog bring alleen die hoogste en mooiste in die mens na vore. Nou die dag lees ek nog in 'n Italiaanse tydskrif wat hy as leuse vir sy arditi aangegee het. Dié wekroep lui min of meer as volg: ‘Was ek dood, sou ek wens my stof word in kruit ingemaal sodat ek as bom nog die vyand kan verpletter.’Ga naar eind64. Onder die stukke in Ver in die wêreld...is ook 'n beskrywing van die eerste lugaanval op Kaïro en van die ‘grafkelders’ wat die Suid-Afrikaners tydens hulle uitgrawings vir verdedigingsposisies ontdek. Vir Uys is hierdie opgrawings so boeiend as die lees van Treasure island toe hy 'n kind was. Hy is geamuseerd wanneer hy verneem dat van die manskappe, ten spyte van die generaal se teenkanting en 'n vermaning tot eerbied vir die dooies, van die kopbene as ‘interior decoration’ in hulle tente gebruik, met pypstele wat uit die oogkasse steek!Ga naar eind65. Die manskappe was verplig om die grafkelders weer te verseël en mooi te sorg vir die waardevolle oorblyfsels. ‘That skull | |
[pagina 321]
| |
had a tongue in it, and could sing once’, het luitenant Prinsloo teenoor Uys uit Hamlet gedeklameer. Saam met die 5de Suid-Afrikaanse Brigade trek Uys op 1 November 1941 weer die woestyn in, hierdie keer om die Spil-opmars van die westekant te stuit. Op 19 November kom hulle aan by Sidi Rezegh, 'n strategiese punt suidoos van die beleërde stad Tobruk, waar 'n moordende konflik 'n paar dae later sou losbreek en waar Uys Krige amper self in een van die verseëlde grafkelders tereg sou kom. | |
IIIIn die brief oor die weersinwekkende toneel by Hobok skryf Uys ook aan Lydia dat hy in die woestyn begin verse skryf het. Hulle het almal iets eentonigs soos die landskap met die rante, die sandvlaktes, die wind of die wolkelose hemel waarin hy hom bevind. Volgens hom is dit verse wat nie gelees nie, maar hardop gesê moet word. ‘Die einde van die pad’, een van dié verse, word dan ook die eerste keer oor die etergolwe in die woestyn gehoor wanneer die digter dit self vir die manskappe op parade voorlees.Ga naar eind66. Hierdie verse verskyn in 1942 onder die titel Oorlogsgedigte en word met enkele ingrypende wysigings, die verdeling van ‘Die pad deur die woestyn’ in twee verse en die toevoeging van een verdere gedig in 1947, as Die einde van die pad en ander oorlogsverse heruitgegee. Saam is die nege gedigte in die bundel 'n chronologiese verslag, in die meeste gevalle met 'n aanduiding van die datum en waar dit geskryf is, van Krige se ervaring van die oorlog vanaf 1939 tot Mei 1941 wanneer hy op die Amra terugvaar na Suid-Afrika.Ga naar eind67. Dit begin met ‘Waterkloof’ wat eind Augustus 1939 - dae voor die uitbreek van die oorlog - in Pretoria ontstaan en 'n beeld van die geluk van man, vrou en kind gee, met net die geronk van 'n enkele vliegtuig wat iets van die komende ‘wêreldbrand’ verraai. Die grys herfsnamiddag in Seepunt in Mei 1940, wat die agtergrond van ‘Ouverture’ vorm, is met sy onbestemde gevoel van vrees, verslaenheid en beklemming 'n voorspel tot die basiese stemming van die eindelose woestynlandskap wat in die res van die bundel oorheers. Die aksent val op die verlatenheid, melancholie en grysheid en die soldaat word hier, soos vroeër die seemeeu, draer van die romantiek. In sy Digters van Dertig sê D.J. Opperman dat die neerslagtigheid van die verse uit Krige se diepste | |
[pagina 322]
| |
wese en aardGa naar eind68. - die neiging tot depressiwiteit by die Uyse - voortkom, maar dit kan ook saamhang met die teleurstelling van die romantikus wat die droom van 'n gelukkige mensdom en die werklikheid van 'n genadelose en vernietigende oorlog nie by mekaar kan uitbring nie. Opperman noem verder die deprimerende omgewing van struikwoestyn en kraters, saam met die stof, die hitte en die sweet, waarin Krige tydens die skryf van hierdie verse verkeer het en meen dat ook die taak van die lydelike oorlogskorrespondent en toeskouer in plaas van handelende soldaat tot die triestigheid kon bygedra het.Ga naar eind69. Die gedigte, sê Opperman, ‘word byna almal deur die één stemming gedra, hulle word feitlik één gedig: 'n studie in grys, 'n studie in eentonigheid en verveling’.Ga naar eind70. Op sigself kan grysheid en verveling, paradoksaal gesproke, boeiende boustof vir die literatuur wees en dergelike temas kan, soos Opperman dan ook tereg opmerk, nie 'n letterkundige oordeel vertroebel nie.Ga naar eind71. Daarby gaan Krige hier, ná sy grootse ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’, nog verder met die beoefening van die vrye vers. Behalwe die kwatrynstrofes van ‘Waterkloof’ en die sporadiese ryme in ‘Die einde van die pad’ skryf Krige hier 'n tipe vrye vers wat hy vroeër nog nie aangedurf het nie en wat plek-plek baie naby kom aan prosasketse. Daarmee slaan hy, onder invloed van Apollinaire en Lorca, 'n weg in waarop hy in baie groot mate die tradisionele bindmiddele van die streng gebonde poësie oorboord gooi, al span hy plek-plek alliterasie en assonansie as bindmiddels in. So 'n tipe vers, sê hy self in sy onderhoud met Jan Rabie in Gesprekke met skrywers, is moeiliker as die gebonde vers, omdat die digter telkens 'n eie nuwe individuele vorm moet vind.Ga naar eind72. In 'n radiopraatjie wat hy op 5 Mei 1963 hou, wei hy hieroor uit. Hy sê daar is mense wat dink die vrye vers is 'n kortpaadjie en dat die digters wat dit beoefen, nie by magte is om die gewone vormvaste vers te skrywe nie of te lui en gemaksugtig is om dit te doen. Niks staan egter vir hom verder van die waarheid af nie. Hy skryf: Die werklike goeie vrye vers het 'n ewe streng dissipline nodig as die klassieke vers - soms voel 'n mens geneig om te sê hy het selfs 'n strenger dissipline nodig. Want die gewone vaste poësievorm gee vir jou 'n sekere toerusting, 'n sekere harnas, terwyl in die vrye vers jy ieder keer opnuut daardie harnas moet vind....Sonder twyfel het die vrye vers 'n dissipline honderd nodig: | |
[pagina 323]
| |
'n besonder fyn oor vir die onbestendige, snel-afwisselende, dikwels grillige, soms feitlik versweë of skaars waarneembare ritme van die loslopende vryevers-reël; 'n buitengewone gawe om net die regte finale onfeilbare onvermydelike woord te kies vir gevoelens of gewaarwordinge of intuïsies wat soms skaars met woorde te bepaal of te omskryf is. Bowe alles moet elke vrye vers - omdat hy nie volgens 'n vooropgestelde plan of model, ek het amper gesê ‘resep’, geskryf word nie - sy eie unieke vorm kan vat.Ga naar eind73. Waarskynlik was die besondere rigting wat Krige met hierdie joernaliserende verse-in-prosa ingeslaan het, vir baie mense 'n te vreemde verskynsel in 'n digbundel. Sy vriend Jan van Melle skryf wel gunstig oor Oorlogsgedigte in Suid-Afrika van September 1942, maar 'n mens merk uit die oppervlakkige opmerkings dat Van Melle hier in diep waters is en nie die nodige toerusting het om as resensent op te tree nie. Gerrit Dekker meen in Die Huisgenoot van 18 Junie 1943 dat van die gedigte te lank op een eentonige ‘leitmotiv’ aanhou, nêrens fel of hartstogtelik word nie en altyd in mineur is, 'n uitspraak wat, sonder verwysing na voorbeelde, te vaag aandoen. Miep van der Bom-Luitingh sê in Critisch Bulletin van Februarie 1950 dat Krige slegs selde daarin slaag om aan sy vrye vers die nodige spankrag te gee wat die ritmiese prosa tot poësie kan omsmee, weer 'n uitspraak wat in sy algemeenheid niksseggend word. 'n Verbasende uitspraak oor die oorlogsverse, veral omdat dit van iemand kom wat met groot insig en fyn oordeel oor ander aspekte van Krige se oeuvre geskryf het, is dié van Charles Eglington. In sy bydrae oor Krige in die eerste uitgawe van Perspektief en profiel sê hy dié verse is te amorf; hulle verwerp ‘die aansprake van die prosodie en wil tog darem meer as prosa wees’,Ga naar eind74. met die gevolg dat hulle nie alleen geen poësie is nie, maar ook nie goeie beskrywende prosa nie. En in sy Digters van Dertig maak Opperman die uitspraak dat die digter as ‘'n beherende en ordenende mag’Ga naar eind75. in die bundel te minimaal teenwoordig is. Daar is volgens hom met die enumerasie, klankherhaling en refreine wel 'n sekere ordening, ‘maar die ritme en hele vers nader meestal die prosa en 'n vormloosheid - 'n vormloosheid wat een van die swakhede van die suiwer impressionisme is. Die gevolg is dat ons hier dikwels die voorstadium van 'n gedig het...die oorlogskorrespondent se digterlike reportage of boeiende aantekeninge wat hy haastig op die slagveld maak vir latere verwerking.’Ga naar eind76. | |
[pagina 324]
| |
Dit is juis die bindende funksie van die enumerasie, die fyn spel met klanke, die effektiewe afwisseling van lang en kort reëls, die spanning in die sinsbou - met die uitstel van onderwerp en gesegde deur 'n reeks bepalings en bysinne - en veral die musikale komposisie van die meeste gedigte wat in die verlede nie deur die kritiek raakgesien is nie óf nie genoegsame waardering ontvang het nie. ‘Ouverture’, waarin die klavier die draer van die romantiese verlange word, is basies 'n lang improvisasie op die eenvoudige tema van die eerste strofe, iets waarmee die sintaktiese vervattings (herhalings van woorde, sinswendinge en interpolasies) ten nouste saamhang. Die kort inset van strofe 1 dein - namate die gedig vorder - sintakties al hoe langer uit, en die sinsbou skep telkens 'n afwagting deur die uitreiking na die tema wat herbevestig word. Met die gebruik van twee temas (die uitgestrektheid van die woestyn en die eensaamheid van die soldaat), wat in die eerste strofe gestel en verder uitgewerk word, is ‘Die soldaat’ verwikkelder as ‘Ouverture’ en toon die gedig in sy hele opbou 'n ooreenkoms met 'n musiekstuk soos 'n fuga met twee temas. Die verlatenheid van die woestynwêreld word versterk deur die v-alliterasies (verlatenheid, vaal, veryl, vervloei, vae en valer), terwyl die eensaamheid van die enkele soldaat op pad na Fort Wajier tipografies bevestig word deur die woorde ‘alleen’ en ‘stap’ in enkelreëls te plaas en sodoende prominensie daaraan te verleen. Die twee temas staan verder in 'n jukstaponerende verhouding tot mekaar: teenoor die ontgrensing van die verylende woestyn wat ‘sy vae omlyninge verloor’, staan die enkele stippel van die soldaat. Die uitgestrektheid van die woestyn en die enorme afstand wat die soldaat na Fort Wajier moet aflê, word nog verder versterk deurdat hierdie afstand in die refrein met die reël ‘onderkant die eerste ster’ kosmiese dimensies aanneem en deurdat die ‘toevallige’ rym van ‘ver’ en ‘ster’ dit klankmatig bevestig. In strofe 5 skei Krige die twee segmente van die refrein (‘Fort Wajier’ en ‘onderkant die eerste ster’) met 'n interpolerende reeks bystellings en bywoordelike bysinne van plek, sodat die strofe as geheel na sintaktiese voltooiing uitreik. Die interpolasie beslaan nie minder nie as agt reëls en gee 'n nadere beskrywing van Fort Wajier as oase wat - in kontras met die eenselwigheid van die woestyn - vir die besoeker 'n beweging van lug, koelte, water, voedsel en die geselskap van mense bied. Die teenstelling met die woestyn word beklemtoon deur die herhaling van woorde soos ‘enigste’ en ‘al’ | |
[pagina 325]
| |
aan die begin van die bysinne, 'n kontras wat 'n ooreenkoms toon met dié tussen die woestyn en die soldaat: En Fort Wajier
- enigste oase in dié woesteny
waarheen elk kronkelende kameelpad lei,
waar smiddags 'n suggie wind stil deur die blare stryk,
die stekende hitte, sidderende gloed dan voor dié koelte wyk;
al oord waar saans die palms silwer glinster onder die maan,
diep, diep onder in die steil swart putte die wit waters staan;
enigste plekkie in die wildernis
waar lamplig, mensestemme, water en voedsel te vinde is -
lê ver, lê ver,
onderkant die eerste ster.Ga naar eind77.
In teenstelling tot die nugter, byna abrupte beskrywing van die soldaat en die woestyn in strofe 3 en 4 voed Krige die beskrywing van Fort Wajier as 'n lafenis deur die gebruik van alliterasies en assonansies. Soos die gedig vorder, kry Fort Wajier algaande 'n sekere simboliese waarde as die veilige maar onbereikbare oord van vrede en geluk. Die gedig vloei voort uit die geweldige indruk wat die woestyn - óók die woestyn ín homself - op Krige gemaak het as simbool van die eensaamheid en verlatenheid wat op die mens toesak. Die soldaat sien hy as die groot eensame wat sy plig moet doen en aangaan, met net die dowwe hoop dat eendag die ganse mensdom in vrede en broederliefde verbind sal wees. Teenoor ‘Die soldaat’ is ‘Die pad deur die woestyn’ minder heg gebou en word die simboliek aan die slot te regstreeks verklaar. ‘Die einde van die pad’ is weer sterker deur die opstapelings, vergelykings en die slingerende versreëls, terwyl die grys lig in die twee slotverse oorheers. Die geweld van die oorlog breek telkens met skokbeelde in ‘In die siekevertrek’ deur die verbeeldingsvlug na die kinderjare, totdat dit uitloop in die pragtige slot van die man wat sy hand na 'n kind uitstrek: ‘en die grys lig strengel hul vingers inmekaar sonder trane’. Hoewel hy dit, merkwaardig genoeg, nie later in sy Groot verseboek opneem nie, beskou Opperman ‘Blomme van die Boland’ in sy Digters van Dertig as die beste gedig in die bundel, 'n vers ‘wat met uiters skamele gegewens iets ontroerends bereik’.Ga naar eind78. Hier werk Krige met die teenstelling tussen die eindeloosheid van die woestyn | |
[pagina 326]
| |
en 'n gestorwe soldaat op wie se graf 'n kaartjie uit 'n leë pakkie sigarette deur die wind met die prentjie na bo gewaai word: vier blou madeliefies
wat speel op die wind,
vier blou madeliefies
wat knik bo die wei.
Opperman het die sigaretpakkie se ‘blomme’ op die graf van die gevalle soldaat skrynend-ironies gevind en hy het gehou van die enigsins Leipoldtiaanse inslag van die blomme ‘wat knik bo die wei’. Op 'n keer het hy in 'n gesprek gesê Krige se ‘vier blou madeliefies’ was vir hom die ingewing vir sy reël ‘vier vetplantjies in 'n bakkie sand’ in Joernaal van Jorik.Ga naar eind79. Hoewel Krige soms sy simboliek eksplisiet verklaar en hy sy ‘praatpoësie’ by tye, soos Opperman dit stel, in 'n ‘spraaksame vers’ laat ontaard,Ga naar eind80. gee die ‘sfeer van triestheid en misère’Ga naar eind81. in dié verse, waarvan F.I.J. van Rensburg praat, tog iets aantrekliks aan die bundel. Terselfdertyd is Die einde van die pad en ander oorlogsverse 'n eksperiment wat 'n sekere eindpunt in Krige se poëtiese oeuvre bring. Hy voer die vryer tipe vers hier tot die uiterste deur. ‘Dis asof hier 'n poging aangewend word’, skryf Van Rensburg, ‘om te kyk hoe ver gegaan kan word met die afbraak van die spesifieke poësiemiddels voordat die vers beswyk, en die woestyn van die prosa binnegestrompel word.’Ga naar eind82. Al is dit dan nie in alle opsigte geslaag nie, moet 'n mens waardering hê vir wat Krige hier in Afrikaans aangedurf het. Daarby spreek die verse nie net van eensaamheid, verveling en uitsigloosheid nie, maar ook van die liefde, die broederskap van alle mense en die hoop op 'n nuwe wêreld wat aan die kom is. In ‘Die einde van die pad’ kan hy nog sê: Maar aan die klag van die wêreld,
aan die smart van die aarde,
aan die menslike leed om die menslike lot,
aan die honger van 'n ieder hart,
die kreet van elke siel
om eenheid en vrede op aarde, broederskap, geluk;
dat elke skeiding, elke grens
tussen mens en mens,
| |
[pagina 327]
| |
die nasies en die volke
sal val, verdwyn soos voor die son die wolke;
en dat in hulle plaas
eendag tog oplaas
die Liefde vas en sterk sal staan
soos 'n beeld uit klip geslaan
(geen swakheid nie, week en sag,
maar 'n staalharde kern van krag)
- hieraan
hierdie ou-ou pyn, hierdie verlang',
hierdie droom, hierdie drang,
ja, hieraan
(of dit nou bedrog is of waan)
kom daar geen einde aan,
kom daar geen einde aan.Ga naar eind83.
Maar in die laaste gedig in die bundel, ‘Hospitaalskip’, is hierdie ideale 'n sekerheid: O vaste en sterk
onwrikbare vertroue
- wyd soos die hemel,
diep soos die see -
op die mens,
sy toekoms
en op die stille en diepe
skeppende krag
van die broederskap
in die oorlog van nou,
die vrede van môre.
O vaste vertroue,
sterk geloof,
o skielik
hierdie skone sekerheid,
hierdie hoop
vir die mens,
sy vreugde,
sy geluk[.]Ga naar eind84.
| |
[pagina 328]
| |
IVMet die 5de Suid-Afrikaanse Brigade se aankoms by Sidi Rezegh was dit die bedoeling om die situasie van die Geallieerde troepe in die nabygeleë besette Tobruk te help verlig. Hulle is egter vertraag as gevolg van 'n Duitse lugaanval en die probleme wat hulle ondervind het om in die nag verder te beweeg. Toe die oggend van 21 November 1941 aanbreek, was die brigade op die rand van die plato wat hulle van Tobruk skei en was daar allerlei onheilspellende tekens dat groot vyandelike magte vanuit die suide aan die beweeg was om hulle by Sidi Rezegh aan te val. Die Duitsers het daarin geslaag om die vliegveld by Sidi Rezegh te herower en op 22 November is die 5de Suid-Afrikaanse Brigade aan geweldige swaar vuur blootgestel. Hewige gevegte het ontwikkel, maar teen die oggend van 22 November het sake vir die Britte en Suid-Afrikaners beter begin lyk. Die 1ste Suid-Afrikaanse Brigade onder generaal Dan Pienaar is gevra om te kom help, maar hulle het dit moeilik gevind om te vorder en was nog 'n paar kilometer van hulle bestemming teen dagbreek van Sondag, 23 November. Teen die middag het swaar vyandelike infanterie- en tenkaanvalle op die 5de Suid-Afrikaanse Brigade en op die Britte en Nieu-Seelanders begin. Aanvanklik is dié aanvalle weerstaan, totdat 'n massa van eenhonderd twee en sestig Duitse tenks, ondersteun deur infanterie en artillerie van die Duitse Afrika-korps en agt en tagtig Italiaanse pantserwaens, begin verskyn het.Ga naar eind85. ‘Fighting with desperate courage’, so stel die amptelike verslag in Springbok Record dit, ‘the South Africans withstood the first hammer blows. Firing at point-blank range with all the ammunition they had the Springbok gunners knocked out fifty-two enemy tanks. Only when the last shell had been fired and the smoking guns were silent did the enemy pierce the Brigade defences. When the dust and clamour of the battle had settled the gallant 5th S.A. Brigade had virtually ceased to exist.’Ga naar eind86. Dit was die grootste pantseraanval in die militêre geskiedenis. Die Suid-Afrikaners het swaar verliese gely en oor die 3 000 manskappe is gevange geneem. In 'n onderhoud wat hy met Die Volkstem van 14 November 1943 voer, sê Uys Krige: So 'n tenkslag is een van die eienaardigste en onheilspellendste dinge wat mens jou kan bedink. Daar word sommer oral geveg. | |
[pagina 329]
| |
Hier jaag 'n klomp tenks, daar brand 'n aantal voertuie, terwyl ammunisie in 'n tenk, wat buite geveg gestel is, aanhoudend ontplof. Soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk was, het aan hom vertel dat hulle nooit so 'n vernietigende kruisvuur gesien het as dié by Sidi Rezegh nie. Uys Krige was een van die Suid-Afrikaners wat met die Slag van Sidi Rezegh deur die Italianers as krygsgevangene na Italië weggevoer is. Die Duitsers het baie kort ná die slag begin praat van Totensonntag, die ‘Sondag van die dooies’, die dag waarop gestorwe dierbares jaarliks herdenk word. Die Duitse bevelvoerder en militêre skrywer kolonel Kriebel beskryf dit in sy Feldzug in Nordafrika as die mees verwoede veldslag van die hele veldtog wat onvergeetlik ingekerf sal bly in die geheue van alle Afrika-krygsmanne as die ‘Bloedige Sondag van die Dood’. ‘Sidi Rezegh’, sê Krige in ‘Totensonntag’ - een van die briljantste en mees dramatiese sketse wat hy ooit geskryf het en wat ook die belangrikste bron is vir sy eie belewing van die slag - was ‘een van die ingrypendste en mees fundamentele gebeurtenisse van my lewe’.Ga naar eind87. Die aand voor die slag het hy aan sy medekorrespondent Conrad Norton gesê hulle moet liewer laat spat, want by Sidi Rezegh vermoed hy gaan iets vreesliks gebeur. Sy standpunt was dat 'n oorlogskorrespondent nie by die spitspuntjie van die aanval moet wees nie, maar minder ‘vorentoe’, waar hy 'n vollediger beeld van die doen en late van die soldate kon kry. 'n Rukkie later hoor hy ‘Doem’ Ollemans, majoor van die 5de Brigade, aan 'n paar soldate sê: ‘Get your rifles! If we must make a last stand, we'll make it here ...’ Hy het eers gemeen ‘Doem’ maak 'n grap, maar tien minute later, klokslag twee-uur in die middag, begin die bomme van die Duitse swaargeskut te val. Uys draf aan na die bomkrater wat hy en Conrad dié oggend met pik en graaf 'n bietjie uitgekalwe het en waar Conrad reeds aan die skuil was. Halfdrie tuimel twee soldate tussen hulle in wat, dood op hulle gemak en op die naat van hulle rug, hulle verdere oorlogsplanne lê en bespreek. Die Duitsers hou egter aan met bomme gooi en eenkeer rol die koper-onderent van 'n bom, vyf pond swaar en gloeiend-warm, oor die kraterrandjie teen Uys se skoen aan. Gou was daar swart damp op damp oor die bomkrater. Con lê op sy maag en Uys op sy rug terwyl hy af en toe met 'n potloodstompie | |
[pagina 330]
| |
[pagina 331]
| |
aantekeninkies op 'n pakkie vyftig-Springbok oor die verloop van die slag maak. Die twee soldate is sorgvry en praat in vervoering oor Europa en al sy wondere, min wetende dat hulle Europa weldra maar in somber omstandighede sou sien!Ga naar eind88. Teen vieruur is die pantserwaens tussen hulle en 'n jong skraal Duitser, met 'n outomatiese geweer in die hand, neem hulle gevange. Hy beveel hulle met die woorde ‘Heraus! Hände hoch! Schnell! Rennen!’Ga naar eind89. om uit die skuiling te kom, hulle hande op te steek en te hardloop. Toe Uys, wat die potsierlike Norton in sy kort broekie en maer lyf agterna kyk, nie sy hande opsteek nie, skree Con vir hom: ‘For God's sake, man, put up your hands! That chap with the tommy gun'll shoot you if you don't!’ Uys antwoord: ‘But he wants me to run! I can't run and put up my hands at the same time ...’Ga naar eind90. In hierdie haglike omstandighede word hy weer getref deur die inherente goedheid van die mens as die Duitser hom handgee en uit die bomskuiling help. Die volgende oomblik sien hy sy eerste dooie soldaat van daardie Sondag en twintig tree verder 'n dooie swart man in 'n poel donker bloed. Deur sy gees flits 'n jeugherinnering: toe hy as elfjarige seun ontsteld op die vlermuis afgekom het wat een van sy speelmaats met 'n paar spykers teen hulle hoenderhokdeur vasgeklink het. En nou het hy kans om 'n bietjie om hom te kyk: Oral om en oor ons straal en glans daar 'n sonsondergang grootser, ontsagwekkender as wat ek nog ooit aanskou het. Die hele woestyn, lyk dit, staan in 'n goue gloed; die ganse hemel bo is die ene skarlaken, karmosynrooi en purper met stroke perlemoenblou en teergroen tussenin; en teen daardie ver, vlammende einders, weids en ontsaglik in hul bo-aardse skoonheid, staan rookkolomme, uit 'n duisternis brandende trokke, tenks of pantsermotors, soos pikswart pilare in die windstil lug op.Ga naar eind91. Nog steeds reën die bomme neer. Outomaties val hy en Con grond toe as hulle die bomme hoor kom, maar later is hulle die skrik verby en koes hulle ook nie meer so geredelik as hulle 'n bom deur die lug hoor ruis nie. Dan begin die Duitse voetvolk verbykom, selfs 'n veldkombuis met die kok wat 'n tamaai wit mus op sy kop het! Uys kon later onthou hoe 'n Suid-Afrikaner, terwyl die kruisvuur op sy hewigste was, heen en weer gestap het en nooit getref is nie. Twee Suid-Afrikaners is deur Duitse tenks aangekeer en hulle is gevra om oor | |
[pagina 332]
| |
te gee. Die een wou dit doen, maar die ander nie. Albei trek met hulle masjiengewere op die tenk los, maar albei word deur die tenk platgeloop en hulle sneuwel. Uys kon ook onthou hoe twee Suid-Afrikaners agter die wiele van beskadigde motorvoertuie gelê en skuiling soek het. 'n Duitse tenk het op die toneel verskyn. Pleks van om die voertuie te ry, het dit tussen die twee soldate vasgejaag. Die Suid-Afrikaners het opgespring, handgranate in die tenk gaan gooi en die hele bemanning het omgekom. Ten spyte van die teenaanvalle van die Geallieerdes behou die Duitsers egter die terrein terwyl die donker oor hulle val. Aan die einde van die skets sê Uys die herinnering wat hy by uitstek aan Sidi Rezegh bewaar, is sy versoek aan die Duitse offisier om sjokolade vir die gevange manne te bring. Hy skryf: Ons het daar langs mekaar in die bitter koue gestaan by 'n twintigtal van ons gewondes uitgestrek op die grond. Dis pikdonker, net af en toe beskryf 'n Very-lig 'n pragtige wit of blou halwe kring teen 'n hemel swart soos houtskool. Die Duitser vertel my onder andere in Spaans dat hy in die Spaanse Burgeroorlog aan die kant van Franco geveg het. Wanneer hy 'n paar maande later in 'n Italiaanse krygsgevangenekamp is, herbeleef Uys die afwagting op die aanval in die gedig ‘Be- | |
[pagina 333]
| |
fore Sidi Rezegh’, wat met die angstige vraag ‘When/will the offensive start?’ begin en met feitlik Hopkinsiaanse binneryme en klankbindings iets van die verskrikking van die slagveld oordra: the crazy cackle
of machine guns spitting their spraying, splaying bullets
with the reverberate never-ending
roar of the sixty-pounders, shrill whistle of shells, the
whine, the scream, the crump of bombs descending[.]Ga naar eind93.
En in die aanskyn van soveel geweld en vernietiging vra hy hom af of die stemme wat hy hoor, net die dialoog van wind en sand op 'n verlate strand is en of dit mense is wat praat: Are these human voices crying
their curses, oaths, questions, stubborn surmisings into the flying
wind, into the curdled opaqueness of the afternoon that is so slow,
so long, so endless: Time itself, it seems, is dying,
running down as does the sand in the wind's huge hour-glasses? Or
the wind sighing?Ga naar eind94. ...
Of is dit die stemme van reeds gestorwe mense? Are these the reedy voices of dead men muttering
of many murderous wars spawned by the fratricidal centuries
in short staccato phrases, loose scraps of talk, thin strands
of timeless speech seeping through the sands
where here among the crushed shells of snails, the grit, the stones
moulder the old bones
of those who through the ages came this long and cheerless way
now all, all ground into a common clay?Ga naar eind95.
|
|