Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 241]
| |
IV
| |
[pagina 243]
| |
Hoofstuk VIII
| |
[pagina 244]
| |
sake - soos die reg van Suid-Afrika om sy neutraliteit teenoor Brittanje in geval van 'n oorlog te handhaaf - op die agtergrond geskuif is. Teen hierdie samesmelting verset D.F. Malan se ‘Gesuiwerde’ Nasionale Party hom en word met 'n klein aantal setels die belangrikste opposisie. Wanneer hy in Spanje van die nuwe politieke bedeling hoor, is Uys, wat in dié jare hartstogtelik maar enigsins naïef nasionaal voel, baie bly dat nie een van sy mense tuis - ten spyte van die familieband met Smuts - ‘gesmelt’ het nie. Smuts, skryf hy aan sy ouers op 23 Oktober 1934 in 'n brief waarin sy heftige anti-Britse gesindheid vreemd klink vir 'n Uys Krige wat enkele jare later totaal anders oor dié sake sal dink, ‘has done it again, just swallowed Hertzog & Co up, as he himself was so completely swallowed up by the preying monster that is the British Empire’. Só sterk voel hy wanneer hy Smuts se foto in die koerant sien, dat hy sy afkeer spottend-honend verwoord: Our Jannie, ‘die dapper, opregte Boer, krygsman en held, ridder en filosoof’ as the little golden-haired herald to the British Empire, blowing up its [his? - JCK] bugle upon the crumbling walls. The charming angelic picture makes me sick, and I feel like giving up ‘the guts’. Maar met sy terugkeer en die weersiens van Tafelberg en Kaapstad het Uys aan hierdie ontwikkelinge nie eens gedink nie. Daar was by hom net een en al vreugde om sy land weer te kon sien en in die blouwit suiderstrande te swem. In Kaapstad gaan hy tien dae lank tuis by David Gamble, 'n baie gawe en interessante Ier en joernalis by The Cape Argus. Verder lê hy besoek af by Markus Viljoen van Die Huisgenoot en ontmoet in 'n kort tydjie, soos hy aan Bokkie skryf,Ga naar eind2. ‘die hele intelligentsia van die Kaap’. Ten huise van die roman- en kortverhaalskrywer Abraham H. Jonker leer ken hy N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw, twee van die medewerkers aan sy Afrikaanse versameling. W.E.G. Louw was op die punt om na Nederland te vertrek, waar hy met sy doktorale studie in Amsterdam sou begin, terwyl Van Wyk Louw as lektor in die filosofie van die opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was. In hom het Uys dadelik 'n aangename gespreksgenoot gevind, iemand wat diep oor die rigting van die Afrikaanse letterkunde nagedink het en daar oortuig van was dat die kuns wat 'n volk voortbring, ‘nie alleen met die | |
[pagina 245]
| |
kwaliteit van die lewe binne daardie volk te doen het nie, maar nog dieper, met die bestaansreg van die volk self’.Ga naar eind3. Een skemeraand daag Uys op by Fransie Malherbe se huis in Rowanstraat, Mostertsdrif, Stellenbosch, nie ver van die huis in Van der Stelstraat waar hy 'n heerlike jeug gehad het nie. Fransie is intussen benoem tot professor in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Daar lê hulle in Fransie se studeerkamer weg aan 'n bottel brandewyn. By Die Burger doen Uys navraag of daar nie 'n betrekking vir hom is nie. Uit Phil Weber se reaksie lei 'n mens egter af dat daar onder die joernaliste twyfel was of Uys op die lange duur met die daaglikse sleur en verpligtinge van 'n koerant genoeë sou neem. Weber dink eerder aan die moontlikheid van vryskutwerk vir sy jeugvriend en hy raai Uys aan om liewers by sy ouers in die Vrystaat te gaan woon, daar te sit en skryf ‘en so speel-speel [sy] £25 per maand los [te] slaan’! Van Kaapstad reis Uys per trein na die Vrystaat. Hy gaan tuis by sy ouers op Ladybrand, waar sy vader intussen as magistraat aangestel is en waar Sannie op groot en bedrywige skaal die gevangenes in die uitgestrekte en pragtige tuin van die residensie laat werskaf. Dit is die eerste keer dat hy Ladybrand met sy mielielande naby die Caledonrivier sien en die Vrystaatse landskap so van naderby ervaar. Vir hom, sou hy enkele jare later in sy artikelreeks Na die Maluti's skryf, is die Vrystaat 'n pragtige sintese...van alles wat ek die mooiste bevind in die Suid-Afrikaanse landskap. Dit het al daardie teerheid, sagtheid en intimiteit wat so eie is aan die Kaap. Om jou hiervan te oortuig, moet mens net so teen sonsondergang op Platberg bokant Ladybrand staan en sien hoe die sonlig die wye wêreld onder jou traag, byna asof hy onwillig is, verlaat, terwyl in die verte die kontoere van die Maluti-berge al sagter en perser word, die skaduwees uit die bergklowe kruip en hulle gelyktydig langsamerhand uitskuiwe oor die vlaktes, by die voorpunt van elke bult of rant verby. En waar daar heuwelreeks op heuwelreeks lê, myle en myle aaneen, vervloei die lyne van een goue tafelbergkop in dié van die ander en is die landskap om jou heen so 'n gedurige stille spel van lig en skaduwee, kleur en lyn wat al hoe teerder van toon word en nie afneem nie voordat die son al lank verdwyn het en die eerste sterre begin skyn ...Ga naar eind4. | |
[pagina 246]
| |
In die tyd op Ladybrand lees hy Van Wyk Louw se Alleenspraak, wat hom só beïndruk dat hy nog 'n vyf- of sestal verse as byvoeging tot Afrikaanse versameling aan Stols stuur.Ga naar eind5. Hy hou ook van C.M. van den Heever se Simson en ander verhale. Was die einde nie swak en antiklimaksagtig nie, skryf hy aan Bokkie, kon die titelverhaal iets pragtigs gewees het. ‘Wending’ is vir hom die beste verhaal in die bundel. Rou rieme van Mikro vind hy teleurstellend, buiten die eerste vertelling. E.B. Grosskopf se Afrikaans in sy Swart slang-bundel was 'n verrassing - lenig, lewendig, pittig, spontaan en eenvoudig. Eugène Marais se gedigte beïndruk hom nie, maar hy vind mooi dinge by Visser - net ‘daardie ewige hinderlike stampritme’ bederf vir 'n mens met fyn ore feitlik alles. Hy is beïndruk met die Afrikaans wat Bokkie in briewe aan hom skryf en hy por sy broer, wat teen hierdie tyd reeds as vlieënier by die Suid-Afrikaanse Lugmag werksaam was, om Antoine de Saint Exupéry se Vol de nuit - die klassieke Franse verhaal oor 'n vliegtuig en 'n vlieënier - in Afrikaans te vertaal. Self skryf Uys sy kortverhaal ‘Die doodkis’ in 'n dag of twee kant en klaar, terwyl hy vóór sy vertrek na die Vrystaat 'n paar dae lank op Onrust in die huis van ouma Dominee bly. Hy stuur dit aan De Stem, Dirk Coster se tydskrif, waar dit in die goeie geselskap van Timmermans en Streuvels gepubliseer word. In De Stem verskyn ook ‘Die wekroep’, wat hy in Afrikaanse versameling opneem, en ‘Romanza’, wat hy reeds in Frankryk voltooi het, terwyl ‘Afspraak’ in De Gids verskyn. Daarmee bou Uys, ná sy medewerking aan Stols se Helikon, kontak op met nog twee prominente Nederlandse literêre tydskrifte. Markus Viljoen publiseer sy verhaal ‘Die uitkoms’ in Die Huisgenoot, maar weier uit vrees vir aanstoot sy ‘boereballade’ waarin hy met Hertzog en Smuts die spot dryf en wat hy later onder die titel ‘Keuse’ publiseer. Verder laat weet hy Bokkie in Maart 1936 dat hy van sy ou verse hersien en besig is om 'n hele klompie van hulle aansienlik te verbeter. En hy voeg by: ‘As ek eers aan die skrywe is deesdae loop dit soos 'n perd, 5 000 woorde per dag.’ Blykbaar het Uys weer Die Burger om 'n betrekking genader, maar die koerant was net bereid om hom - soos vir enige jong Stellenbosse B.A.'tjie - £17.10.0 te betaal!Ga naar eind6. Intussen het Die Vaderland in Pretoria, die koerant waarvan Harm Oost en Gustav S. Preller as redakteurs gedien het en wat nou onder leiding van Willem van Heerden die Verenigde Party-orgaan in die noorde was, Uys genader om 'n betrekking en hom 'n aanbod van 'n aanvangsalaris van £20 gemaak. ‘Toe | |
[pagina 247]
| |
skrywe ek Van Heerden 'n tamaai brief’, vertel hy Bokkie, ‘waarin ek op die groot tamboer hammer en op ruim 'n twintigtal van my eie trompette blaas. En ek vra, nederig, vir £28 per maand. Hul antwoord, baie vriendelik en byna selfverskonend, van ja!’ Nou is hy jammer hy was nie visioenêr genoeg om £75 te vra nie!Ga naar eind7. In elk geval is dit vir hom 'n aangename vooruitsig om op 1 Mei 1936 in Pretoria te begin te werk, 'n stad wat oorwegend Afrikaans is en waar Bokkie ook woon. Met sy aankoms by Die Vaderland se kantore in Pretoria word Uys as tydskrifredakteur van die koerant aangewys met die opdrag om ook te help met die algemene beplanning van Die Brandwag, wat in 1937 as 'n literêre bylaag van Die Vaderland geloods sou word. Binne 'n kort tydjie verkry hy nie alleen die medewerking van reeds gevestigde noordelike skrywers soos C.M. van den Heever en J.R.L. van Bruggen nie, maar publiseer hy werk van suidelike skrywers soos N.P. van Wyk Louw en I.D. du Plessis en digters wat nog nie bekendheid verwerf het nie. Dit is sy strewe, so laat Uys Van Wyk Louw in sy brief van 12 Junie 1936 weet, om skrywers van orals te betrek, die ‘verfoeilike provinsialisme’ te weer en niks met die ‘sieklike verskynsel’ en ‘benepenheid’ van literêre ‘dampkringe’ te make te hê nie. Uys se oproep aan skrywers in alle oorde lewer aanvanklik die gewenste resultaat, al het W.E.G. Louw bedenkinge oor die samewerking met 'n Sap-koerant. So verskyn in Die Vaderland van 26 Junie 1936 die later klassiek geworde ‘Maria’ van Elisabeth Eybers, wat dieselfde jaar met Belydenis in die skemering sou debuteer. Later sou Van Wyk Louw se belangrike ‘Ballade van die nagtelike ure’ in Die Brandwag gepubliseer word. In briewe aan W.E.G. Louw sê Van Wyk Louw dit lyk vir hom of Die Vaderland meer as Die Burger in hulle literêre strewe belangstel. Vir Die Brandwag lewer Van Wyk Louw 'n hele paar artikels wat hy later in Lojale verset sal opneem, onder meer ‘Die ewige trek’, wat in die Voortrekkeruitgawe verskyn. Terwyl hy in Pretoria woon, maak Uys kennis met 'n hele paar skrywers en literêre figure. Onder andere besoek hy Gustav Preller en sy vrou op hulle plaas, Pelindaba, net buite Pretoria. Met sy intense belangstelling in sy eie familiegeskiedenis is Uys verras om te hoor dat mev. Preller die kleindogter is van Debora Retief en die agterkleindogter van die groot Voortrekkerheld Piet Retief en dat hulle dus in werklikheid familie van mekaar is. Wanneer hy haar verder oor die familiegeskiedenis uitvra, kom hy agter dat hulle albei aan die vroulike kant 'n Franse Gardiol-voorsaat uit Provence het en hy wonder | |
[pagina 248]
| |
of die mev. Gardiol by wie hy in 1931 in Sanary-sur-Mer geloseer het, nie dalk ook familie van hom is nie!Ga naar eind8. Lank bly Uys nie in Pretoria nie, want die hele redaksie van Die Vaderland was op die punt om na Johannesburg te verhuis. Op 1 Junie 1936 laat weet hy dr. Franken op Stellenbosch dat hulle in hul nuwe kantore ingetrek het en dat dit ‘so koud soos 'n kerker’ is. Hy vra sy kollegas of hy naas die gebruiklike tafel en stoel ook 'n sofa of rusbank in sy kantoor kan kry. Toe die redakteur vra waarom hy met so 'n vreemde versoek kom, sê Uys: ‘Ek skryf mos op my maag’, 'n antwoord wat lank 'n grappie onder sy koerantkollegas was.Ga naar eind9. Dikwels het hy, al lêende, van sy kort verse kant en klaar in sy kop gehad voordat hulle neergeskryf is. Artikels en verhale het hy met 'n pen geskryf, omdat 'n potlood vir hom ‘geen houvas of slaankrag’Ga naar eind10. op papier het nie. Vir die finalisering van die kopie en die uitskryf daarvan het hy darem die tafel nodig gehad! Soos in 1930, toe hy die eerste keer in Johannesburg gewoon het, hou die ‘prosaïese ou mynhope’ weer vir hom 'n besondere bekoring in: 'n Paar los wolke drywe stadig deur die hemel en in die yle môrelug het al die verskillende mynhope die teerste, fynste nuanses en gradasies van die stiller, sagtergestemde kleure soos grys, wit, blou en liggeel - soms afsonderlik, dikwels met 'n samesmelting van almal saam - wat mens jou kan voorstel. Dit is nie dikwels nie (en dan ook maar op sekere tye van die dag) dat al die verskillende atmosferiese toestande nodig vir hierdie wonderwerk van kleur en lig, saamwerk om dit te bewerkstellig.Ga naar eind11. In Johannesburg skaaf Krige verder aan heelparty van sy verse en skryf hy 'n paar nuwes. Baie van sy Abu'l-Ala-kwatryne en ander vertalings verskyn nou in Die Vaderland. Wanneer dr. Franken gunstig reageer op ‘Afspraak’, wat hy aan sy ou leermeester opdra, is Krige diep dankbaar. 'n Digter se verse is sy eie lewensbloed, sê hy in sy brief van 1 Julie 1936 aan Franken, en om dan te verneem daardie bloed is rooi en gesond en suiwer, doen vir hom bepaald weldadig aan. As reaksie op D.F. Malherbe, wat in sy bespreking van Kentering die jonger digters beskuldig het van 'n gebrek aan vaderlandsliefde en trots op die eie, ‘vernoem’Ga naar eind12. Krige die Bloemfonteinse hoogleraar en sy eie voorsaat Piet Lafras Uys in sy ‘Die rit van Jan Lafras Malherbe’, al is 'n tikkie ironie in die gedig nie heeltemal afwesig nie! | |
[pagina 249]
| |
Krige wend hier die vraag-en-antwoord-tegniek en herhalings van die tradisionele ballade aan. Deurdat die sprekende stem telkens intree en feitlik soos 'n klein Griekse koortjie dramaties-profeties die moontlike afloop van die rit in die vooruitsig stel, toon dit 'n ooreenkoms met Marais se ‘Mabalêl’ en van die ballades van I.D. du Plessis. Dit is die nasionalistiese Uys Krige wat hier aan die woord is en wat in die loop van sy vers die hele leed van die Anglo-Boereoorlog in enkele reëls saamvat: die konsentrasiekampe, die dood van die kinders, die verskroeide aarde - alles verbind met plaas- en natuurbeelde uit die lewe van die Boer. Krige bereik hier iets moois met die woord- en klankherhalings en die dramatiserende vraagstellings, maar die geheel word plek-plek ontsier deur stoplappe, hinderlike sinskonstruksies en rymdwang. In Junie 1936, wanneer hy op 'n dag, sat van die stadslewe en geestelik uitgeput, uit sy kantoor kom, blaai hy deur 'n versameling ou anonieme Spaanse volksballades uit die Middeleeue en word hy getref deur die onmiddellikheid en eenvoud van een van die verse. Terwyl hy op die bed lê, probeer hy dit in Afrikaans verwerk, maar dit wou nie vlot nie. Eers die volgende aand kom die gedig feitlik moeiteloos tot gestalte. So ontstaan ‘Die blinde se geloof’, een van sy allerbeste gedigte, wat hy aan sy suster Suzanne opdra - in vergelyking met die oorspronklike meer 'n vertolking as 'n vertaling en meer as twee maal so lank.Ga naar eind13. Wat 'n mens by die lees dadelik opval, is hoe fyn Krige hier die klankmusiek van die vers inspan om die beskrywing aan te vul. Die gedig begin met 'n sober mededeling van Maria se reis en word volkome binne die realistiese sfeer gehou, al word iets bonatuurliks in die slotreël van die eerste strofe gesuggereer met die lente wat in die kindjie se oë leef. Dit word verder gevoer as die kind in strofe 2 klaarblyklik kan praat en Maria oor die kindermoorde uitwei. Die gedig wek met die talle enjamberings en semanties ‘minderwaardige’ funksiewoorde in die eindposisie (waar, of, soos, wat, vir) die indruk van 'n prosavertelling, hoewel die rym, oorwegend die drieslagrym wat in die voorlaaste strofe tot die vierslag uitgroei, 'n sterk vormende en - deur die ruspunte - markerende funksie het. Die dialoog met die blinde boer (‘'n kêrel met groot oë dood’) lei tot die pragtige beeld van moeder en kind, 'n literêre ekwivalent vir die vertroulike omgang met die heiliges en die klein plastiek wat 'n mens so dikwels in Middeleeuse voorstellings van Maria en die Christus-kind aantref: | |
[pagina 250]
| |
Maria staan slank op haar tone,
haar houding skoon soos 'n gebed.
Sy reik 'n sneeuwit hand omhoog.
Haar seun rus op 'n gousblombed.
Sy buig...hy kry 'n groot lemoen,
die knapie lag en skop van pret.Ga naar eind14.
Dan voltrek die wonder hom en word realisme en magie verbind in die boord wat bloei met 'n oes ‘soos nooit aanskou sindsdien’ en in die blinde boer wat begin te sien: Hy duisel...of meteens die helder dag
deur al die duister in hom dring,
asof dié blanke lig, dié gloed
met silwer stemme in hom sing.Ga naar eind15.
En ná die oorwegend realistiese uitbeelding kom die verheiliging, die bo-aardse van die twee reisigers (gesuggereer deur die hoofletters), feitlik as 'n verklaring - maar dan 'n verklaring in die gees van die Middeleeuse naïwiteit - van die wonder wat hom voor ons oë afgespeel het: Dit was die Heilige Maagd, die Kind
op hul ver tog na Betlehem.Ga naar eind16.
Die slotkoeplet rym nie, maar ‘Betlehem’ reik klankmatig terug na ‘stem’, die enigste eindwoord wat in die voorlaaste strofe geen rymmaat kry nie en daarom as rymsluiter vir die hele gedig optree. Dit is net jammer dat Krige hier die feitelike onjuistheid van ‘Betlehem’ in plaas van Egipte begaan! In Johannesburg maak Uys kennis met C.M. van den Heever, S. Ignatius Mocke en 'n paar ander van die noordelike skrywers. Hy het besondere waardering vir Van den Heever: sy gees staan wawyd oop, hy is gul wat betref sy waardering van ander mense se werk en hy is heeltemal belangeloos.Ga naar eind17. Iemand wat hy nou leer ken en wat deur sy beskeidenheid, sy edel inbors en sensitiwiteit sy bewondering afdwing, is Jan van Melle, wat eers as volwassene uit Nederland geëmigreer het maar wat as skrywer vir Uys dieper in die siel van 'n sekere soort Afrikaner gekyk het as enige Suid-Afrikaans gebore skrywer | |
[pagina 251]
| |
voor hom. Hy was verstom om te sien dat die meeste kritici afsydig en ongevoelig teenoor Van Melle se werk gestaan het en weinig waardering gehad het vir die sierlose, byna naakte prosa wat 'n welkome korrektief was op die liriese styl van skrywers soos Malherbe. P.C. Schoonees het byvoorbeeld gepraat van ‘die enerse rikketik van... [die] klanklose sinne’, die ‘toonlose verteltrant’, die ‘kort, simpele sinnetjies soos die van 'n kinderopstel’Ga naar eind18. en die ‘aaneenskakeling van gewoonte-sinnetjies wat met 'n eentonige “sê hy - sê sy” moeisaam voortsukkel’.Ga naar eind19. Om hierdie negatiewe kritiek teen te gaan, begin Uys en S. Ignatius Mocke in Die Vaderland 'n kampanje om die werklike gehalte van Van Melle se werk uit te wys, met 'n paar klappe na die literatore wat sy werk verontagsaam. Hulle probeer aantoon dat wat die kritiek 'n gebrek aan styl by Van Melle noem, in werklikheid juis sy styl is: die objektiewe waarnemer wat in sy uitbeelding van sy karakters nooit homself aan hulle opdring nie, nooit sy persoonlike stem bokant dié van sy figure verhef nie, maar hulle volkome vry laat om hul eie bestaan buite hom te lei, sodat die leser slegs van hom as 'n alomteenwoordigheid bewus is. Die kampanje het egter weinig sukses, al het Uys en Mocke verneem dat hul optrede vir 'n hele paar mense uiters irriterend was.Ga naar eind20. Eers veel later, ná die Tweede Wêreldoorlog, sou Uys sy kampanje verder voer en met sy bloemlesing 'n Keur uit die verhale van J. van Melle (1949) 'n groot diens aan dié skrywer bewys. Deur die sukses van dié boek is Van Melle se Bart Nel herdruk en het dit groot lof van talle kritici as die beste Afrikaanse roman voor Sestig ontvang. Krige se kampanje in belang van Van Melle was die eerste van talle waardeverleggings waarmee hy onverskrokke teen die akademiese kritiek van sy tyd ingegaan het. Met dieselfde geesdrif sou hy 'n paar jaar later in Die Huisgenoot van 13 Mei 1938 die sober vertelstyl van Boerneef se Boplaas aanprys.Ga naar eind21. Daarin sê Krige dat wat hom so simpatiek teenoor Boplaas stem, ‘die pretensieloosheid, die eenvoud en natuurlikheid’ van die sketse is. Hy bely sy renons in die pedanterie van groot woorde, die opeenstapeling van byvoeglike naamwoorde, ‘die gedrogtelike heeltemal onafrikaanse woordkoppelary en die sogenaamde deinende volsin wat in die dae toe die werk van sekere skrywers vir ons as norm deur ons leermeesters aangewys is, in ons prosa begin dein en dein en hom sindsdien al lankal in ons letterkunde heeltemal doodgedein het ...’ En hy vat die waarde van Boplaas kernagtig saam: ‘Dis 'n loflied op Boplaas, hierdie bundel sketse - 'n loflied wat nooit liries | |
[pagina 252]
| |
word, dus ook nooit op 'n hoë noot uitgegalm word nie, maar wat gesing word met 'n natuurlike stem, soms feitlik doodnugter, maar altyd spontaan en helder, nooit banaal nie.’ | |
IIMaar ook in Johannesburg bly Uys nie lank nie. Al het daar 'n betowering van die mynhope teen die laatmiddaglig vir hom uitgegaan, was hy tog betreklik gou moeg van Johannesburg se drukte en het hy uitgesien na Kaapstad met sy afwisseling van see en berg. Juis in hierdie tyd het die Unie-Volkspers, wat met die Verenigde Party verbonde was, besluit om 'n nuwe koerant in die suide op te rig. Die eerste uitgawe van Die Suiderstem, wat so ontstaan, verskyn in Oktober 1936 onder die redakteurskap van C.J.S. Strydom, wat kort daarna tot hoofbestuurder van die Unie-Volkspers benoem is en opgevolg word deur Abraham H. Jonker. Wanneer Uys belangstelling in 'n pos by Die Suiderstem toon, is Die Vaderland, hoewel met spyt, bereid om hom vir hul suidelike vennoot af te staan. Dit was vir Uys 'n vreugde om weer in Kaapstad te woon en by Die Suiderstem se kantore in Burgstraat in die sentrum van die stad te werk, waar hy daagliks die bruin mense met hulle pittige sêgoed, kwinkslae en inherente lewensblyheid kon ervaar. Aanvanklik loseer hy teen die hang van Leeukop by René Gretz, 'n begaafde jong Switserse beeldhouer wat 'n borsbeeld van hom maak wat die gelaatstrekke en golwende hare van die goue seun pragtig vaslê. Vir sy koerant verkry Uys die medewerking van prof. J.J. Smith om 'n reeks oor taalsake te behartig wat, in die lig van die groot aansien van dié taalkenner, jare lank 'n belangrike weeklikse rubriek sou bly. Ná Smith se dood verskyn dié artikels onder die titel Op ons taalakker in boekvorm. Uys publiseer van Van Melle se kortverhale en sketse, E.B. Grosskopf en Bosman de Villiers se stukke prosa, Franken se historiese artikels en van sy eie skeppende werk. Sy broer Bokkie se vertaling van Saint Exupéry, wat groot byval vind, publiseer hy as vervolgverhaal onder die titel Nagvlug. Die Afrikaanse leserspubliek, so het hy gemeen, was nie meer net in spookstories of speurverhale geïnteresseerd nie en het vir eers genoeg gehad aan die avontuurlike en patriotiese rondom die Anglo-Boereoorlog wat dikwels die bladsye van Die Huisgenoot gevul het. Hy was oortuig daarvan dat | |
[pagina 253]
| |
die publiek enigiets sal lees, mits dit aan een groot vereiste voldoen, naamlik dat dit goed geskrywe moet wees. Met mening bou Uys nou die letterkundige en verwante rubrieke van Die Suiderstem uit tot 'n afdeling van die koerant wat in die dertigerjare dié van Die Burger ver oortref. Van Wyk Louw kom onder die indruk van Uys se entoesiasme en resenseer 'n boek en 'n toneelopvoering vir hom. Hy vind Uys, so skryf hy op 6 Mei 1937 aan W.E.G. Louw, 'n liewe kêrel, sonder enigiets van die aanstellery wat sommige mense aan hom toeskryf. Daarom voel hy hy moet hom ondersteun, ook omdat hy in Uys in hierdie stadium iemand vind wat warm voel vir die Afrikanersaak, al kan hy die politieke rigting wat Die Suiderstem inslaan en die twyfelagtige figuur van Jonker as redakteur nie veel nie. Juis in hierdie tyd word Uys uitgenooi om lid te word van die Afrikaner-Broederbond. Wanneer hy egter ingelig word oor die eed van geheimhouding wat hy moes aflê en - soos sy latere vriend Jack Cope dit sou stel - ‘the somewhat medieval rites’ van die bond, besluit hy dit is nie iets waaraan hy wil meedoen nie.Ga naar eind22. Met sy vestiging in die suide kom Uys nou veel meer as vroeër in aanraking met die woelinge en struwelinge in die literêre wêreld, hoewel hy hom nie aan die soms felle afkere en wrokke van sommige ander Dertigers skuldig maak nie. Hy maak ook baie vriende onder Engelssprekende skrywers en intellektuele in Kaapstad en leer kunstenaars soos Wolf Kibel en Lippy Lipshitz ken. Tog kan hy sy ongeduld met blatante onnoselheid nie altyd wegsteek nie. Wanneer die manuskrip van Bokkie se Nagvlug-vertaling deur E.C. Pienaar vir die Nasionale Pers afgekeur word, sê Uys in 'n brief aan Bokkie van 5 September 1937 die verslag wemel van banaliteite en weersprekings. Hy vind E.C. ‘Gods grootste esel’! Gelukkig word Nagvlug deur die Unie-Volkspers vir publikasie aanvaar. In 'n resensie oor die vertaling waardeer Elisabeth Eybers in Die Brandwag van 15 Desember 1939 ‘die seldsame liriese waarde van die werk’. Elke ‘sinsnede is fyn afgewerk, sodat die geheel die indruk wek van die nougesette volmaaktheid van 'n geslypte juweel’. In die brief aan Bokkie kla hy oor Kritzinger se ‘gekonstipeerde’ bespreking van Afrikaanse versameling in Die Volkstem van 28 Augustus 1937. Die ‘kritikaster Kritzinger’, sê hy, rep geen woord oor die 150 bladsye verse in die bloemlesing nie, maar wy sy hele negatiewe beskouing aan Uys se werk met 'n sameflansing van menings en sienswyses wat hy uit 'n sestal resensies geplunder het. ‘Dis 'n ou laai van hom hierdie’, gaan Uys | |
[pagina 254]
| |
voort, ‘om mooi geduldig te wag tot andere hul mening uitgespreek het, om dan ter veiliger tyd manhaftig en rondborstig met sy eie sienswyse voor die dag te kom.’ 'n Boek wat in hierdie jare baie opspraak wek, is Sy kom met die sekelmaan, Hettie Smit se belydenisroman en die eerste publikasie van die Vereniging vir die Vrye Boek (VVB). Nog vóór publikasie sorg die roman vir 'n storm wanneer F.E.J. Malherbe en Jonker deur die ander lede, veral onder aanvoering van Van Wyk Louw en J. du P. Scholtz, as gevolg van literêre meningsverskille en persoonlike botsings feitlik gedwing word om uit die bestuur van die VVB te bedank. In 'n brief van 24 Mei 1938 aan Bokkie rep Uys geen woord hieroor nie, maar spreek hy 'n besadigde oordeel oor die boek uit. Hy sê hy het Sy kom met die sekelmaan geniet, maar het 'n groot beswaar: dat die vrou se liefde haar geen groter mens gemaak het nie, dat dit haar geen enkel groot insiggewende of openbarende gedagte ingeboesem het nie, dat dit haar nooit van haarself bevry het nie - dat haar ellende haar maar slegs op 'n oppervlakkige en dikwels baie literêre manier nader aan die baie groter en veelsydiger ellende van die mensdom gebring het. Dat sy dikwels borduur op haar liefde ens. ens. Dit het ek van die staanspoor gesê. Maar tog het haar taal my bekoor. Dit is amper altyd besonder suiwer en sterk - met slegs hier en daar 'n tikkie van preciositeit. En ook sê sy interessante en openbarende dinge binne die enge perke wat sy haarself gestel het. Binne daardie perke beskou, is hierdie boek ongetwyfeld merkwaardig. Maar dit sou betreurenswaardig wees as dit as meesterstuk opgehemel en as voorbeeld vir ons jong letterkunde gestel word. Die gewone werksmense - ‘en hulle is dikwels goeie kritici’ - maak so 'n boek lakonies af as ‘sob-stuff’, en in so 'n reaksie steek daar vir hom heelwat waarheid. ‘Net na jou brief hier aangekom het,’ gaan hy voort in sy brief aan Bokkie, ‘het daar iets hier onder in die settery gebeur wat my soos 'n dolk getref het ... en wat my vir die soveelste maal hewig in opstand gebring het teen al hierdie ewige enge gepeuter van die sg. kunstenaar met sy eie ou sielsverdrietjies en private gewaarwordinkies wat niks anders as net 'n gruwelike armoede van siel en hart openbaar nie’. 'n Mens kan die vraag stel of die maatstaf dat die hooffiguur deur | |
[pagina 255]
| |
haar ervaring ‘geen groter mens’ word nie, 'n geldige kriterium by die vasstelling van die intrinsieke gehalte van 'n kunswerk kan wees, al kan die omvang van die problematiek en die gebrek aan verskeidenheid vir die leser 'n aanduiding wees of hy met 'n groot of beperkte kunswerk te make het al dan nie. 'n Mens het verder ook die gevoel dat Krige met sy formulering van die ‘baie groter en veelsydiger ellende van die mensdom’ 'n sosiale funksie en maatskaplike relevansie op die literatuur wil afdwing wat uiteindelik beperkend en voorskriftelik kan werk. Wat 'n mens egter waardeer, is dat hy Hettie Smit se taal aanprys, al wys hy op die tikkie ‘preciositeit’ en die neiging tot verliteratuurdheid, 'n beswaar wat indertyd deur die kritiek nie raakgesien is nie en vandag nog sy geldigheid behou. Hoe ook al, Krige se oordeel oor Sy kom met die sekelmaan getuig van 'n genuanseerde oordeel wat 'n mens haas tevergeefs by die akademiese kritiek uit dié jare soek. In die tyd dat Krige as letterkundige redakteur van Die Suiderstem werksaam is, verskyn E.C. Pienaar se bespreking van Van Wyk Louw se bundel Die halwe kring in Die Burger van 11 Desember 1937. Dat Pienaar hoegenaamd gevra is om oor die bundel te skryf, is toe te skryf aan die onbedagte optrede van 'n jong Piet Cillié, wat as opgeleide in die natuurwetenskap met die behartiging van boekresensies belas is maar onbekend was met die literêre strominge en spanninge. Die hele bespreking van Pienaar getuig van totale onbegrip en onkunde. In Die Burger van 18 Desember 1937 antwoord Krige hierop. Hy sê hy kan hom nie ‘'n onbenulliger kritiek oor die werk van 'n digter voorstel as dié van dr. E.C. Pienaar oor Van Wyk Louw se jongste digbundel nie’. Hy self beskou Die halwe kring as ‘die suiwerste bundel poësie in die Afrikaanse taal’. Nog voordat Pienaar se resensie kon verskyn, vra Uys sy broer Bokkie in sy brief van 5 September 1937 om in Pretoria 'n jong Hollander met die naam H.A. Mulder te gaan opsoek. Mulder het hom in 1934 ter wille van sy gesondheid - hy was 'n tuberkulose-lyer - in Suid-Afrika gevestig en was tydelike assistent in die kantoor van die staatsvertaler in Pretoria. Uys het 'n lang brief van hom gehad en twee van sy digbundels, wat hy onder die pseudoniem W. Hessels gepubliseer het, ontvang. Uys vind hom 'n ‘eersteklas digter’ en Mulder se jongste bundel bevat vir hom roerende verse. Mulder, gaan Uys voort, voel hom eensaam en verlate en het in Pretoria niemand met wie hy oor die literatuur en die dinge wat hom na aan die hart lê, kan praat | |
[pagina 256]
| |
nie. Die Huisgenoot het al sy voorgelegde artikels teruggestuur, maar Uys is van plan om van sy verse in Die Suiderstem te publiseer. Teen die tyd dat Pienaar se resensie in Die Burger verskyn, het Uys reeds 'n bespreking van Die halwe kring van H.A. Mulder aangevra, wat hy in Die Suiderstem van 14 Desember 1937 publiseer en wat Mulder later in sy bundel Opstelle oor poësie (1939) opneem. In sy bespreking gee Mulder nie alleen blyke van fyn insig in die poësie van Van Wyk Louw nie, maar sê hy ook dat Die halwe kring sy eie plek inneem ‘aan die top van die Afrikaanse poësie’ én ‘in die ry van die groot bundels Nederlandse liriek as hul gelyke’. Hy spreek sy waardering uit vir die ‘veelsydiger en bewoëner menslikheid’ en vir die ‘strenger artistieke beheersing’ in vergelyking met vroeëre bundels. Met hierdie resensie debuteer Mulder as Afrikaanse kritikus en word hy deur Krige uit die isolasie van 'n Pretoriase staatskantoor gehaal en in die sentrum van die polsende literêre lewe van Dertig ingetrek. Binne die bestek van enkele jare sou Mulder ontwikkel tot die fynste kommentator op die kuns van Dertig en as 't ware die ‘begeleidende’ kritikus van digters soos Van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers en Krige self word. In vergelyking met die meeste akademiese kritici wat in die jare dertig werksaam was, toon Mulder 'n groter begrip en juister insig in die poësie van Dertig. Deur sy groot belesenheid in die moderne Nederlandse literatuur kon hy die Afrikaanse poësie in 'n Europese perspektief stel en 'n nuwe blik op die letterkunde van sy tydgenote gee. Soos hy Van Melle se werk later in die inleiding tot sy belangrike bloemlesing teen die gangbare negatiewe kritiek sou verdedig, stel Krige met die uitnodiging aan Mulder die Afrikaanse literêre wêreld bekend aan 'n kritikus wat met insig oor die nuwe tendense in die literatuur kon skryf. Die negatiewe reaksie op Pienaar se resensie in Die Burger het nog 'n komiese nadraai gehad. In sy bespreking het Pienaar onder meer gepraat van die ‘metafisiese abstraksies wat die leser hoofpyn veroorsaak’. Dié uitlating ontlok van Krige in Die Brandwag van 7 Oktober 1938 die reaksie dat as Pienaar ‘weer 'n digbundel wil bestorm, hy dit moet doen gewapen met 'n flessie asperien’! Miskien was dié uitlating die rede waarom Pienaar vir die res van sy lewe die poësie van Dertig en later sou ignoreer en soos die graf daaroor sou swyg. Niemand onder die jongeres het dié kritiese swye hartgrondig beween nie. Tog sê Krige in 'n brief van Oktober 1936 aan Van Wyk Louw dat sy beswaar teen die akademiese kritici hulle gebrek aan | |
[pagina 257]
| |
kennis en aanvoeling is. Dat hy in hierdie verband verby die reaksie op spesifieke persone 'n nasionale ideaal koester, word duidelik as hy sê: ‘Ek voel soms as ons nie nou op hierdie tydstip al hierdie ou rommel verwyder nie, kan ons maar net so goed tou opgooi wat betref die opheffing van ons volk se smaak en die bereiking vir onsself en almal, van 'n eerlike juiste gesonde waardebepaling.’ Tog, sê hy, het hy niks teen E.C. Pienaar persoonlik nie. Wanneer hy verneem Pienaar is baie siek, kwel dit hom en hy vra hom af of sy heftige reaksie op Pienaar se resensie oor Die halwe kring nie tot dié toestand kon bygedra het nie - 'n bevestiging van Van Wyk Louw se waarneming in verband met Krige se ‘groot sagtheid’Ga naar eind23. en sy onmiddellike spyt as hy meen iemand is seergemaak. Reeds in 1936 spreek Krige sy waardering uit vir Van Wyk Louw se artikels wat van tyd tot tyd gepubliseer en waarvan die meeste later in Berigte te velde en Lojale verset opgeneem word. Wanneer Lojale verset verskyn, skryf Krige in 'n kort brief dat Van Wyk Louw vesting na vesting verower. ‘Hoewel daar op die oomblik miskien maar net 'n paar van ons langs jou staan op al die koppies wat jy verower het’, skryf hy, ‘is ek oortuig daarvan dat hulle vir goed verower is en dat daar nog duisende en, later, almal sal volg deur die hinderlae en loopgrawe ... waarlangs jy gekom het.’ Hy het groot waardering vir Van Wyk Louw se opstelle en hy bring dit in verband met die nasionale ideaal wat in hierdie jare 'n raakpunt tussen hulle is. ‘Byna elke paragraaf, elke sinsnede, elke reël van Lojale verset’, sê hy, ‘gee my nuwe hoop, nuwe moed.... Dat ons volk, ons letterkunde nou in jou 'n gees voortgebring het wat al dié dinge so duidelik en so helder kon stel, is vir my 'n groot vooruitgang. ... Daar waai nuwe fris winde deur jou bundel. Uit elke bladsy daarvan spreek daar 'n gees wat, vir my altans, heeltemal nuut is in ons letterkunde - en ek sou dit miskien 'n universele gees wil noem.’ Ook die sober prosastyl val hom op: ‘Telkens weer bevat jou bundel hele brokstukke prosa - en nie prosa in die sin van “mooi” taal, heeltemal losstaande, dit wil sê versierkuns nie, maar in die sin van taal èn gedagte wat iets finaals, onvermydeliks en onherroepliks het - soos daar nog nie in Afrikaans geskrywe is nie.’ Hy sê dat hy met byna elke uitspraak in die opstelle dit ‘roerend eens’ met Van Wyk Louw is; waar 'n sosiale vraagstuk aangeraak word, ‘is ek dit met jou ontroerend eens’. As iemand kritiek lewer soos dié wat Van Wyk Louw in Lojale verset doen, is hy volgens Krige nie 'n verraaier of vyand nie, ‘maar in die hoogste mate | |
[pagina 258]
| |
lojaal aan homself & die volk waaraan hy nie anders kan as om te behoort nie.’ Tog is Krige ook bereid om op fatsoenlike wyse van Van Wyk Louw te verskil, soos in sy reaksie in Die Brandwag van 17 Februarie 1939 na aanleiding van die opstel ‘Die ewige trek’. In ‘Die ewige trek’ sê Van Wyk Louw dat daar in die groei van alle jong volkere van tyd tot tyd groot keerpunte kom wanneer belangrike keuses gemaak moet word.Ga naar eind24. Sulke keerpunte in die geskiedenis van die Afrikaner was byvoorbeeld in 1836 toe die Afrikaners moes besluit of hulle gaan trek of nie, in 1899 toe hulle voor die keuse gestaan het van oorlog maak teen Brittanje of vrede bewaar, en die derde 'n paar jaar later toe hulle moes kies tussen Afrikaans en Nederlands. Dikwels, sê Van Wyk Louw, bestaan daar in sulke gevalle 'n volkome ewewig vir die argumente wat vir albei rigtings aangevoer kan word, 'n ewewig wat deur geen redelike oortuiging verander kan word nie. 'n Keuse na watter kant toe is dan in sulke gevalle 'n waagspel.Ga naar eind25. Maar dikwels gebeur dit juis in sulke situasies dat die persoon met ‘'n bietjie minder redelikheid en 'n bietjie meer geloof en fanatisme’Ga naar eind26. sy saak só oortuigend stel dat sy siening uiteindelik die oorhand kry. Van Wyk Louw grondves dus sy hele betoog op die stelling dat dit die irrasionele, die onredelike magte, was wat een deel van die volk voortgedryf het om die gevaarlike pad in te slaan, terwyl 'n ander deel die veiliger pad gekies het. Krige meen dat Van Wyk Louw aan die irrasionele wat in 'n volk leef, by implikasie 'n groter skeppende krag as die redelike toeken. Volgens Van Wyk Louw was dit dan die irrasionele wat iemand soos Piet Retief tot die trek gedryf het, terwyl iemand soos ds. W.A. Krige, een van die grens-predikante, waarskynlik alles in sy vermoë gedoen het om die Trekkers van hulle voorneme te laat afsien. Volgens Krige was dit egter juis die toekomstige Trekkers wat die een redelike ding gedoen het wat hulle kon doen, naamlik om in die lig van die voortdurende aanvalle op hulle lewens en besittings te trek. Hoewel Retief bewus was van die gevare wat op hulle oorkant die Grootrivier gewag het, kon ds. Krige nie een redelike argument voorlê waarom hulle moes bly voortleef onder 'n koloniale regering wat klaarblyklik geen daadwerklike poging aangewend het om hulle posisie teen die aanvalle te versterk nie. Daarom ook munt Retief se beroemde manifes uit om die redelikheid daarvan en is dit 'n model van die logika. Ook wat die keuse van oorlog of vrede | |
[pagina 259]
| |
in 1899 betref, meen Krige dat die nugter, saaklike en helder denkende staatsman Paul Kruger waarskynlik lank moes nagedink het om uiteindelik tot sy besluit te kom. Hy het besef dat 'n volk wat nie veg as hy moet veg nie, in sy hart en siel vernietig sal word selfs al vermy hy die oorlog. En hy het besef (met sy verstand nog meer as met sy hart) dat 'n volk wat veg as hy moet veg, selfs al is dit teen die grootste oormag waarteen 'n klein volkie nog ooit in die moderne geskiedenis te staan gekom het - of miskien juis daarom - genoeg siel en adel en diep verborge kragte in hom het om op die ou end te oorwin, al word hy dan ook tydelik verpletter. Die laaste voorbeeld wat Van Wyk Louw noem, is vir Krige die aanvegbaarste van die drie. As teenvoeter vir 'n ‘onredelike’ Langenhoven sou 'n mens miskien die ‘redelike’ prof. A.A. Moorrees kon neem wat Nederlands bly verdedig het. Maar juis die teenoorgestelde is die geval. Langenhoven het sy betoog in belang van Afrikaans uiters redelik en logies verantwoord. Wat, vra Krige, is onlogieser, onredeliker as juis om heeltemal 'n vreemde taal wat slegs 'n paar dosyn uit meer as 'n miljoen mense reg kan praat, tot die amptelike taal en veral die kultuurtaal vir jou volk te verklaar? En wat is logieser, redeliker as net om jou moedertaal, die taal wat almal ken, wat almal elke dag van hul lewe praat en waarin al hul diepste, egste gevoelens en gewaarwordings vertolk word, tot daardie rang te verhef? Krige kom ten slotte tot die uitspraak dat Van Wyk Louw die indruk wek dat hy meer waarde en belang heg aan die onredelike magte as die redelike in die mens. Daarmee skat hy die rede gering en doen hy die mens in sy bestaansreg te kort. Hoewel 'n mens miskien kan sê dat die ‘redelike’ oorwegings wat Krige aan Kruger se toetrede tot die oorlog toeskryf, nie heeltemal oortuig nie en dat die Transvaalse president op grond van Krige se motivering eweseer as 'n irrasionalis gesien kan word wat teen alle ‘logiese’ beterwete in 'n ondergang tegemoetgaan, is sy siening tog 'n boeiende alternatief vir dié wat Van Wyk Louw gee. In die geval van die keuse ten gunste van die Groot Trek en van Afrikaans in plaas | |
[pagina 260]
| |
van Nederlands is sy betoog in die jaar 1939, toe hy dié reaksie op ‘Die ewige trek’ geskryf het, oortuigender. Of hierdie keuses inder-daad op redelike gronde gefundeer was, is iets wat die toekoms sal moet leer. 'n Mens kan byvoorbeeld die standpunt inneem dat die keuse vir Afrikaans in plaas van Nederlands in 1914 op redelike gronde berus het, maar die vraag is of dit ten aansien van Engels op sy beurt nie 'n irrasionele wilsbeslissing was nie. En indien Engels in die toekoms Afrikaans as amptelike taal in so 'n mate ontkrag dat dit geen funksie meer in die onderwys en die openbare lewe van Suid-Afrika het nie, is die vraag of die koersverlegging van 1914 nie 'n ‘waagspel’ was wat deur die geskiedenis agterhaal is nie. Sowel vir Van Wyk Louw as vir Krige is die posisie van Afrikaans ten opsigte van Engels egter vir hulle betoog nie ter sake nie. Wat 'n mens tref, is hoe besadig, sterk en dikwels selfs oortuigend Krige hier teen 'n formidabele en wysgerig gevormde denker soos Van Wyk Louw standpunt inneem. Dit is 'n artikel wat met sy logiese gang iets van die dormante regsgeleerde, wat sy oorspronklike studierigting versaak het, illustreer en wat 'n aspek van Krige se samestelling openbaar wat 'n mens te gemaklik teen die agtergrond van sy romantiese poësie oor die hoof sien. | |
IIIIn die vier en 'n half jaar in Frankryk en Spanje het Uys talle sporadiese nooiens gehad, maar slegs met die Katalaanse Emilia Eulalia, vir wie hy by Roy en Mary Campbell ontmoet, ontwikkel dit tot 'n ernstige verhouding, só ernstig dat hy haar skoonheid en deugde - haar natuurlikheid, spontaneïteit, eenvoud, gulhartigheid en byna goddelike kinderlikheid - in briewe aan Bokkie besing. Hy gee selfs aan sy ouers te kenne dat hy met haar wil trou en vra by sy vader 'n kopie van sy doopsertifikaat vir die huwelik aan. Maar tog trou hulle nie. Wanneer hy Spanje verlaat en terugkeer na Suid-Afrika, is die verhouding en vurige liefde finaal verby. In al die jare in Europa rep hy in geen enkele bewaar geblewe brief aan sy familie dat hy nog vóór sy vertrek uit Johannesburg in 1931 'n meisie ontmoet het tot wie hy onmiddellik aangetrokke was nie. Hierdie meisie, Rachel Alida du Toit, gebore op 15 Januarie 1916 op Petrusburg in die Oranje-Vrystaat, sou later onder die naam Lydia | |
[pagina 261]
| |
Lindeque groot bekendheid verwerf as een van die voortreflikste dramatiese aktrises wat ooit die Suid-Afrikaanse verhoog betree het.Ga naar eind27. Met die geboorte van haar broer en suster, 'n tweeling, sterf haar genetiese moeder. Sy word onder die sorg geplaas van haar tant Alie, wat haar soos 'n moeder grootmaak en aan wie sy baie geheg was. Tant Alie was getroud met 'n Lindeque wat in die distrik Bethlehem geboer het. Wanneer hy sterf, gaan tant Alie as matrone na die skoolkoshuis op Ficksburg. Van vroeg af was dit duidelik dat Lydia 'n natuurtalent op die verhoog was. Op vroeë ouderdom sluit sy aan by die geselskap van Paul de Groot, die Nederlandse regisseur wat in 1924 in Suid-Afrika aankom en 'n belangrike vernuwing in die Afrikaanse toneel bring. Lydia se eerste ontmoeting met Uys was in Desember 1930 toe sy saam met die toneelspeler Siegfried Mynhardt in Johannesburg gaan vakansie hou het en Uys by The Rand Daily Mail werksaam was. Siegie, soos hy deur sy vriende genoem is, se oom Rico de Beer het in Bramley gewoon en was getroud met Elize Krige, 'n niggie van Uys. Een oggend is hulle saam stad toe. Terwyl oom Rico op kantoor was, is Siegie, Elize en Lydia na Uys, wat 'n woonstel in Rissikstraat met Skaap Theunissen gedeel het. Dit was om en by nege-uur die oggend en Uys was nog in die bed. In die woonstel was nog twee of drie jongmans wat oral rond op sofas en in beddens gelê en slaap het. Die middag is Uys saam met die twee dames bioskoop toe om The jazz singer te sien. Uys het Lydia 'n bietjie geskok met sy kleredrag. Hy het 'n hemp sonder rug aangehad, met goedsmoeds 'n Stellenbosse kleurbaadjie daaroor. Hy was baie geesdriftig en kon geweldig baie praat, veral oor boeke en gedigte. Toe hy hoor sy is 'n aktrise, het hy haar sommer dadelik 'n toneelstuk belowe: 'n treurspel ‘in vyf bedrywe, spesiaal vir jou geskrywe’, het hy uit die vuis gerym. Reeds met die eerste ontmoeting het hy laat blyk hy is moeg van die prosaïese lewe in Johannesburg by die koerant en dat hy van plan was om uit te spring en die wye, wonderlike wêreld te gaan sien. In daardie Desember-weke het Lydia hom nog twee of drie maal gesien, maar verder as dít het hulle kennismaking nie gekom nie.Ga naar eind28. Die tweede ontmoeting tussen hulle was toe Uys op 'n middag by Lydia se pleegmoeder se kombuis instap. Uys was toe 'n paar maande tevore ná baie omswerwinge terug uit Europa en werksaam by Die Vaderland, terwyl Lydia se pleegmoeder intussen van Ficksburg na Pretoria verhuis het en by die Hoër Meisieskool Pretoria in beheer | |
[pagina 262]
| |
van die koshuis was. In daardie stadium het Lydia deel gevorm van André Huguenet se toneelgeselskap en het sy reeds 'n paar jaar vantevore 'n baie suksesvolle reis as Annekie in Jochem van Bruggen se Ampie agter die rug gehad. In voorkoms was Uys nou ouer, maar nog steeds, soos vroeër, 'n bietjie deur die wind. 'n Week later was hy weer op besoek. Ná sy vertrek sit Lydia 'n ruk lank doodstil. Toe sê sy aan haar ma: ‘Mam, ek is verlief op Uys.’ Tant Alie antwoord: ‘Toe maar, my kind, die man is net so verlief op jou.’Ga naar eind29. Uys se baie minnebriewe aan haar was vurig. ‘Selfs die stukkie papier wat in die straat warrel, het betekenis vir my, noudat ek jou lief het!’ skryf hy op 'n keer. Wanneer hy 'n naweek by haar kon deurbring terwyl sy saam met die toneelgeselskap op toer was, het hy, wat nooit in sy lewe 'n motor sou besit en ook nooit leer bestuur het nie, gesorg dat sy broer Bokkie hom neem. Met haar verjaardag op 15 Januarie 1936 gee hy haar 'n eksemplaar van Kentering present, gerig aan ‘Lydia ...of Lida ...of Leda’. Hy skryf: Drie onvergeetlike weke van liefde het my so verwar dat ek nie meer mooi weet watter van die drie haar naam is nie. - In elk geval sy was...en is...'n godin! Soos 'n soutwind uit die see deurtrek
sy my hele lewe, sy die vrygewige.
In my hart, steeds onversadig, wek
heilsaam sy my honger na die ewige
fles varsriekende wat sy geur uitasem
deur 'n koel alkoof waar slaap en drome wag.
Wit vergete wierooklamp wat wasem
heimelik deur die lang somernag...
En hy sluit af: Met al my liefde, bewondering en dankbaarheid. - Uys.Ga naar eind30. Toe Uys eind 1936 Kaapstad toe is om by Die Suiderstem te gaan werk, het Lydia haar toneelwerk voortgesit. Op 'n goeie oggend, op 27 Januarie 1937, 'n datum wat Uys later self nie meer kon onthou nie,Ga naar eind31. is hulle halsoorkop in Kaapstad getroud. Net kort tevore het Lydia gespeel in 'n toneelstuk met die titel Die doodvonnis en ten tyde | |
[pagina 263]
| |
van die troue was sy besig met Die gevaarlike huwelik! Uys het wel gewonder of die titels van dié toneelstukke nie dalk 'n slegte voorteken was nie, maar hulle was te verlief om hulle daaraan te steur! Die enigste persoon wat van hulle troue geweet het, was Googoo Louwrens, 'n ou vriend van Uys, wat as getuie opgetree het. Ná die huwelik is Lydia weer terug op toer. Omdat André Huguenet 'n nuuskierige agie met 'n groot mond was, het sy besluit om haar trouring aan 'n lang ketting om haar nek te dra en niemand onder die spelers van haar huwelik te vertel nie. Op 'n Vrydagaand kon sy haar verlange na Uys egter nie langer beteuel nie. Sy sê aan André dat sy vir die naweek Kaap toe vertrek. Huguenet se reaksie was: ‘Julle mense dink julle is met vakansie. Daar is honderde handbiljette wat moet geadresseer word.’ Lydia antwoord: ‘Ek gaan Kaapstad toe om by Uys te wees. Ons is getroud, weet jy?’ André word wit soos die lakens op sy bed. Hy kyk haar lank aan, klim uit sy bed, trek sy kamerjas aan en met bewende hande skink hy vir hom 'n drankie in. ‘Ek is tot in die diepste van my siel geskok. Ek het nog steeds gehoop dat jy en ek eendag sal trou.’Ga naar eind32. Lydia is weg Kaap toe. André moet die oggend baie besig gewees het om al wat koerant is en die radio met die nuus te bel. Dit is uitgesaai en die volgende dag was hulle foto's in die koerante - alles deur André georkestreer as reklame net voordat hulle in Kaapstad sou optree. Uys was woedend. Hulle ouers het die nuus om eenuur die dag oor die radio verneem. Van al die ouers was André se ma die geskokste! Toe die speelvak van Die gevaarlike huwelik verby was, het Uys André per telegram in kennis gestel dat Lydia nie verder sal speel nie. Lydia was baie ontsteld, maar Uys was onwrikbaar. Sy het by hom in die enorme huis van René Gretz teen die berg bokant Clifton ingetrek. René se groot sitkamer was vol naakbeelde. Toe Lydia by geleentheid met griep in die bed was, kry Uys 'n vrou om die huiswerk te doen. Sy wou eers nie inkom nie. ‘Here, mêdem, hoe kan ek dan hier werk waar daar so 'n klomp kaal mense staan?’ Sy het die hele dag gemompel, gesê party van die beelde is dan sonder koppe, en die volgende dag het sy nie weer opgedaag nie.Ga naar eind33. In hierdie tyd was Uys nog steeds aan Die Suiderstem verbonde. Hy het nou dikwels praatjies op uitnodiging gehou oor die literatuur en sy indrukke van die probleme in Spanje, en met sy aangebore akteursaanslag was hy gou bedrewe as openbare spreker. Hy het 'n aantreklike staccato-manier van praat gehad en met die vertragings | |
[pagina 264]
| |
en versnellings in sy stem kon hy sy eie verse voortreflik vertolk. Daarby was hy 'n aantreklike man, lenig, mooi gebou, seunsagtig met 'n innemende, sagte persoonlikheid en 'n kinderlike eenvoud. By geleentheid in 1937 moes hy en professor Andrew Murray van die Universiteit van Kaapstad op Stellenbosch op 'n debatsaand die mosie verdedig dat Afrikaanstalige universiteite sonder siel is. Saam loods hulle 'n geweldige aanslag en wys op elke denkbare fout in universiteite soos Stellenbosch en Pretoria. Toe daar gestem word, wen Uys en Murray loshande met meer as agthonderd Stellenbosse studente wat met hulle akkoord gaan.Ga naar eind34. By die koerant gaan dit met Uys minder goed. In 'n brief van 5 September 1937 skryf hy aan Bokkie dat hy oorlaai is met werk en dat die daaglikse sleur vir hom te veel word. In 'n teks wat hy in hierdie tyd vir die radio skryf, kla hy steen en been oor die lang vervelige dae op kantoor en die heeldag se gesit op ‘daardie dooie sementklip van 'n kantoorstoel’.Ga naar eind35. Op 'n goeie dag, skryf hy aan Bokkie, het hy genoeg gehad van dit alles, die hel in geraak en bedank. In plaas van vaste kantoorure elke dag kon hy van 1 Oktober af as vryskut by die koerant werk en die drie letterkundige bladsye per week vir 'n bedrag van £15 versorg. Lydia, in daardie stadium reeds ses maande swanger, het hom met sy bedanking heelhartig gesteun, iets wat Uys bewonder en later laat sê het: ‘Watter moed het sy tog nie gehad om so vierkant agter my te staan nie! Vir my was dit maklik genoeg om my betrekking te laat vaar, maar vir Lydia het dit gekom op 'n tydstip wat vir haar as verwagtende moeder bitter swaar moes gewees het.’Ga naar eind36. Uys en Lydia se eerste kind, Maria-Eulalia - vernoem na Uys se ouma Krige en na sy Spaanse nooi -, is op 25 Desember 1937 in die Del Herbe-kraaminrigting in Welgemeendstraat, Kaapstad, gebore. Toe Uys en Lydia op Oukersaand daar aankom, was die personeel se Kerspartytjie in volle gang en die verpleegsters lekker aangeklam. Só jolig het dit daaraan toegegaan dat die matrone die volgende oggend in haar uniform gehelp moes word! Die arts wat die bevalling behartig het, was Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanse vrou wat in Nederland as mediese dokter gekwalifiseer het en later skryfster was van die fraai herinneringsketse Kerssnuitsels en Die sestiende koppie.Ga naar eind37. Uys en Lydia vra Van Wyk Louw om peetvader van Eulalia te word, 'n aanduiding van hoe heg die twee digters se vriendskap in hierdie stadium was. In April 1938, toe Eulalia nog maar vier maande oud was, het Uys | |
[pagina 265]
| |
en Lydia by René Gretz uitgetrek en in Izapa, 'n houthuisie op Clifton se tweede strand, gaan woon. Uys, wat in hierdie stadium reeds afvallig was van die kerklike vormgodsdiens, het Eulalia sommer self in die ysige waters van die Atlantiese Oseaan ‘gedoop’. Daar het Lydia haar toneelherinneringe begin skryf, wat in 1941 as Trek op die skerm verskyn het. Vir Uys was Clifton nie alleen die mooiste deel van Kaapstad nie, maar ook die mees poëtiese, met die see - soos hy op 27 September 1940 aan Van Wyk Louw skryf - ‘'n simfonie, nes of daar gedurig êrens musiek speel’.Ga naar eind38. Met die verveling van die kantoor en die saktyd van die koerant uit sy bestaan weg, het Uys in Clifton die lewe saam met Lydia en Eulalia intens geniet. Wanneer hy van die stad af terugkeer, kon hy die skaduwees oor Leeukop en die Twaalf Apostels sien trek en was die blou waters van die see, waar hy nou iedere dag twee maal kon swem, 'n hanetreetjie van sy voordeur af. Hy was in hierdie tyd druk aan die skryf. Tussen die berg en die see ontstaan sy gedigte ‘Die seemeeu’ en ‘Die antwoord’ waarin die vers sy effekte, soos vroeër in ‘Nagreën’, deur die herhalings en die kort reël kry. Terwyl ‘Nagreën’ egter gedra word deur die klank en die vergelykings, werk Krige hier meer met konstaterings van indrukke, toenemend toegespits op die ‘styg en daal’ van die enkele seemeeu wat die draer van sy verlange word. Met die karigste middele bou hy albei dié verse op uit die vrae en kwellinge van die ewige romantikus. Tog het 'n mens die gevoel dat hy in ‘Die antwoord’ die seemeeu - en daarmee ook die vers! - te lank laat sweef en draal. Dit is na aanleiding van ‘Die antwoord’ dat H.A. Mulder betreklik vroeg op 'n gebrek by Krige wys, naamlik dat hy dikwels nie weet waar en wanneer om op te hou nie. As die digter só herhaal, sê Mulder, ‘dan voelen wij ons geneigd om gemarteld uit te roepen: houd op! Inderdaad kan men in deze trant eindeloos voortdichten, men kan ook stukken schrappen zonder hinder voor het geheel, het is poëzie bij de ellemaat. En daardoor geen poëzie, maar een woordenwoestenij.’Ga naar eind39. Ter verdediging kan 'n mens sê dat Krige met die innerlike logika van ‘Die seemeeu’ beter slaag as met die te uitgerekte ‘Die antwoord’ en dat hy reeds die moontlikhede van die vrye vers besef en uitbuit, hoewel hy dit nog tastend doen. Later was hy terdeë bewus van die gevare van 'n te losse prosodie en het hy W.H. Auden se kommentaar oor die posisie waarin die beoefenaar van die vrye vers hom bevind, ter harte geneem en onderskryf: | |
[pagina 266]
| |
The poet who writes ‘free’ verse is like Robinson Crusoe on his desert island: he must do all his cooking, laundry and darning for himself. In a few exceptional cases, this manly independence produces something original and impressive, but more often the result is squalor-dirty sheets on the unmade bed and empty bottles on the unswept floor.Ga naar eind40. Aangevuur deur 'n vrou met toneel in haar bloed begin Uys nou daarin belangstel om naas poësie en prosa ook vir die toneel te skryf. Aanvanklik skryf hy dialoë oor sy reiservarings wat hy en Lydia vir die radio opneem. Hy vertaal Lorca se drama Mariana Pineda en skryf reeds in November 1937 verder vir die radio 'n spel wat hy Die gees van die water noem. Dit is 'n eenbedryf waarin hy iets besonders probeer bereik deur die gesprek tussen die Berg, die Water en die Wind, maar 'n mens het die gevoel die dialoog raak soms te bewustelik filosofies en dat die tema te veel raakpunte met Multatuli se sprokie oor die Japanse klipkapper het. 'n Groot vooruitgang hierop is die radiospel Die skaapwagters van Betlehem (oorspronklik: Bethlehem), wat hy opdra aan ‘Maria-Eulalia op die dag van haar geboorte’. Dit is 'n eenbedryf wat by die Middeleeuse tradisie van die Kersspel aansluit en waarin die Bybelse gegewe gedeeltelik, onder meer deur Afrikaanse idiome en die verafrikaansing van die herders se name, na Suid-Afrikaanse omstandighede getransponeer word. Die noue aansluiting by die Middeleeuse tradisie lei ook tot 'n mooi verbinding van realisme en magie, en saam met die fyn stemminge, die teenstellings tussen die figure en die geleidelike progressie tot die verskyning van die ster aan die slot dra dit by tot die bekoring van die stuk. Met die oog op die Voortrekkereeufees van 1938 besluit Uys op 'n drama van groter omvang en met 'n historiese tema, waarin hy ook iets oor sy eie voorsate kon verwerk. Omdat hy by die lees van Gustav Preller se Retief-biografie so getref is deur die ontroerende brief wat Magdalena Retief op hoë ouderdom aan haar familie in die Kolonie geskryf het, begin hy werk aan 'n drama rondom haar as hooffiguur. Magdalena Retief, wat só ontstaan, word opgebou uit agt tonele en 'n epiloog en strek oor 'n periode van meer as 'n halfeeu. Dit gee die lewensloop van die hoofpersoon van haar sestiende tot sewentigste jaar. Hoewel die drama dus epies opgebou word, verwerk hy van die belangrikste botsings in die Trek-geskiedenis, telkens met belangrike grepe uit die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. | |
[pagina 267]
| |
Tog is dit, soos Mulder dit stel, eerder Krige se doel ‘om 'n intieme tafereel te ontwerp van die Voortrekkerlewe’Ga naar eind41. as om op die bekende geskiedenis te konsentreer. Sentraal staan die hooffiguur, wat in haar intieme huislikheid en vrouwees voortdurend bedreig word deur gebeure waaroor sy geen beheer het nie. En hoewel die epiese konsepsie van die stuk meebring dat van die karakters dikwels by die aanvang van 'n nuwe tafereel hinderlike inligting moet verstrek, is daar iets aangrypends in die wyse waarop Krige die hoofkarakter se lewe stuksgewyse voor ons laat ontvou. Wat 'n mens van die stuk bybly, is die hele atmosfeer, stemming en intieme lewe van die hoofkarakter. Die drama word in 1938 deur die Unie-Volkspers gepubliseer, met 'n pragtige sober bandontwerp en houtsneë deur Cecil Higgs.Ga naar eind42. Deur die Krugersdorpse Munisipale Vereniging vir Drama en Opera word dit met 'n eerste prys in hulle wedstryd vir toneelstukke oor die Groot Trek bekroon. Teen die middel van 1938, toe Uys pas klaar was met die skryf van Magdalena Retief, vra Anna Richter-Visser hom om 'n eenbedryf vir 'n groepie Kaapstadse amateurspelers te skryf vir opvoering op die aand van die Heldedagviering in Oktober van daardie jaar. In Izapa spring hy aan die werk aan 'n stuk wat hy Die wit muur noem. Dit speel af tydens die Anglo-Boereoorlog en handel oor 'n voorval waarin 'n jong Boereseun deur 'n Britse offisier met die dood gedreig word indien hy nie sê waar sy vader se kommando hom bevind nie. Met Anna as regisseuse was die opvoering 'n groot sukses, al was die spreker van die aand, soos Uys aan Bokkie skryf, ‘daardie ou brulpadda, E.C. Pienaar...o wyse ironie van die lot’!Ga naar eind43. Nou kon hy die eerste keer opgetoë sien hoe sy karakters, wat vroeër net skimme van sy verbeelding was, op die toneel mense van vlees en bloed word en hoe die seun die toneel aan die einde heeltemal oorheers.Ga naar eind44. 'n Besondere ervaring vir Uys kort ná die voltooiing van sy spel was sy ontmoeting met die werklike Japie Greyling, die model vir sy kinderheld. Greyling het toe op 'n plaas in die Vrystaat gewoon, naby Bethlehem, waar Uys se vader magistraat was. Greyling was glad nie geneë om oor die voorval te praat nie, aangesien hy bang was dat dit ou wonde sou laat oopgaan en verdeeldheid tussen Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners in die hand sou werk. Toe Uys hom egter vertel hoe entoesiasties 'n paar van sy Engelssprekende vriende op Die wit muur gereageer het en hom daarop wys dat die stuk reeds in Die Huisgenoot van 14 Oktober 1938 gepubliseer is, was hy gerusgestel.Ga naar eind45. | |
[pagina 268]
| |
In die loop van 1939 sou Uys nog twee eenbedrywe skryf: Die ongeskrewe stuk, waarin hy die gehoor direk by die spel betrek en by Pirandello se Sei personaggi in cerca d'autore (Ses karakters op soek na 'n skrywer) en Questa sera si recita a soggeto (Vanaand improviseer ons) aansluit; en die blyspel Die arrestasie, wat hy vir die Hugenoteviering aan die Universiteit van Kaapstad skryf. Dit is gegrond op 'n vermaaklike voorval in die tyd van W.A. van der Stel se bewind aan die Kaap en gebaseer op 'n artikel deur Uys se leermeester J.L.M. Franken in Die Huisgenoot van 6 Julie 1928. In hierdie eenbedryf - die beste wat hy in die dertigerjare skryf - word die situasiekomiek gaandeweg verdiep tot 'n nasionale bewuswording onder die Vryburgers. Saam met Die wit muur en Die skaapwagters van Betlehem verskyn dit in 1940 by die Unie-Volkspers in boekvorm. Reeds in November 1938 verlaat die Kriges Clifton en vestig hulle in Transvaal. Uys het baie van die see en berg gehou en was jammer om weg te gaan, maar Lydia was bly toe sy die deur van hulle huis agter haar toetrek en met haar baba op die heup vir oulaas die eenhonderd en dertig trappies na die buspad uitsukkel. In Pretoria het Eulalia tydelik ingewoon by Lydia se pleegmoeder. Deur die groot Ossewatrek dwarsdeur die land ter viering van die Voortrekkereeufees en die hoeksteenlegging van die monument in Pretoria in 1938 word Uys so meegevoer dat hy net soos talle konserwatiewe Afrikaners 'n baard kweek en in 'n ferweelpak vir die vieringe rond-loop!Ga naar eind46. Lydia moes die hoofrol speel in die Transvaalse produksie van Magdalena Retief en sy en Uys is daarvoor na Krugersdorp. Dit was vir haar 'n moeilike opdrag, want die gedurige verskuiwing van plek en die groeiende jare van Magdalena het herhaalde grimerings en toneelveranderings vereis. Toe sy die middag voor die première na die dekor kom kyk, moes sy ontdek die perskeboom met lentebloeisels, wat volgens die teks die eerste tere bloei van die lewe moet voorstel, sit vol groot pragtige ryp perskes. Ten einde raad het een van die spelers 'n kwas gegryp en in 'n kits die perskes in die fraaiste bloeisels verander!Ga naar eind47. Ten spyte van al die probleme was die ongeveer dertig opvoerings aan die Rand en op die Transvaalse platteland 'n geweldige sukses en het die stuk by die gehore groot byval gevind. Intussen het Lydia 'n huis in Johannesburg gehuur waar hulle op Nuwejaarsdag 1939 kon intrek. Baie gou was daar naas hulle drie, die huishulp en Eulalia se oppastertjie nog twee mense in die huis: Uys se broer François en sy neef Gideon Uys. Uys moes almal twee maande | |
[pagina 269]
| |
lank met die opbrengs uit sy joernalistiek onderhou. Daarby, so vertel Lydia, het die tweedehandse motortjie wat sy vir hulle aangeskaf het, net so maklik petrol weggesluk as Eulalia pampoen! François het op 'n dag begin om Uys te teken en die skildery byna voltooi. Toe Lydia weer opkyk, sit Eulalia voor die nog nat beskilderde doek en met haar dik stomp vingertjies krap sy op en neer oor haar pa se gesig. Die hele skildery was verinneweer, maar François was taamlik gelate oor die hele affêre. Gerard de Leeuw, later 'n uitstekende beeldhouer, was 'n gereelde gas in hul huis. Dikwels het hy, Uys en François by 'n klein Griekse restaurantjie in Orange Grove iets gaan eet en sit en gesels, sonder om hulle oor die dag van môre te bekommer.Ga naar eind48. Soms was Lydia vies wanneer Gerard ontydig instap, want dan het sy geweet doen Uys en François nie 'n steek werk nie. Toe Lydia haar eerste tjek van £45 ontvang, het Uys gemeen hulle het nou 'n goeie inkomste en kon hy, tot haar wrewel, 'n bietjie blaaskans kry. Saam met François, die kunstenaars Walter Battiss en Terence McCaw en ook sy suster Mizzi, wat in Bethlehem by hulle aansluit, reis hy in Mei 1939 na Basoetoland (vandag Lesotho), waar hulle, saam met 'n Sotho-gids, teen die Maluti's opgaan. Oor hierdie reis doen Uys verslag in 'n reeks artikels wat van 9 Junie tot 31 Oktober 1939 in Die Brandwag verskyn. Dit sou eers in 1990 postuum met 'n voorwoord deur Hennie Aucamp in boekvorm as Na die Maluti's gepubliseer word. Die hele boek is eintlik 'n soort causerie, los praatjies na aanleiding van wat die vriende beleef en alles oor gesels. So vertaal Battiss vir hulle voorbeelde uit die poësie van die Boesmans. Een van hierdie verse, ‘Gebed aan die jong maan’ met die geprewelde inkantasie van die eensame primitiewe mensie wat, verlate op die bergtop, die ganse donker nag deurwaak, biddend tot sy god,Ga naar eind49. gryp Uys só aan dat hy W.H. BleekGa naar eind50. se vertaling daarvan as basis vir 'n Afrikaanse verwerking gebruik: Jong maan,
bleek maan,
wit maan,
swart maan
wat oor die afgrond gaan,
praat met my
van die donker dinge
hoër as die berg,
| |
[pagina 270]
| |
dieper as die afgrond,
warm soos die wind,
koud soos die sneeu.
Jong maan,
stil maan,
praat met my
van die donker dinge!Ga naar eind51.
Die gesprekke tussen die vriende word in die reisverslag afgewissel met fyn waarnemings wat plek-plek impressionisties aandoen en aan Van Gogh laat dink, soos die beskrywing van die sonneblom wat in die laaste lig van die dag ‘so stralend intens’ is, amper asof ‘daar uit die donkerbruin pit van die blom 'n vlam oplaai, of die breë bloeisels begin brand’.Ga naar eind52. Soos Aucamp in sy inleiding opmerk, is daar soms uitweidings wat 'n element van ‘afdwalings en veelwoordigheid’Ga naar eind53. bevat. Soms raak Krige se humor ook studentikoos, iets wat sy broer Arnold se kommentaar bevestig dat grapmaak nie Uys se sterkste eienskap is nie en dat hy soms gewoon laf word!Ga naar eind54. Oor die algemeen skryf hy egter hier in teen die geykte Afrikaanse prosatradisie voor hom. Dit word byvoorbeeld duidelik as 'n mens sy aanblik van Mont-aux-Sources ‘in al sy grootse eensaamheid, sy onverbiddelike afsydigheid en sy koue trotse ongenaakbaarheid’Ga naar eind55. vergelyk met Sangiro se beskrywing van Kilimandjaro in Op safari. Met die panoramiese uitsig op die wêreld om hom wel daar by Uys 'n sterk gevoel van verbondenheid op met die mense van sy volk wat, soos hy dit later sou stel, ten spyte van alles ‘steeds aan my gees, my siel, my hart verwant’ is. En hy hoop, met die onweerswolke van die Tweede Wêreldoorlog reeds in die lug, dat sy mense ‘groot en ruim en sterk...[en] vry’Ga naar eind56. sal wees soos die landskap wat hy om hom waarneem. Na die Maluti's is nie die enigste prosa wat Uys in hierdie jare skryf nie. Reeds in 1936 publiseer hy in Die Huisgenoot, De Stem en Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring 'n viertal verhale, waaronder ‘Die doodkis’, wat uitmunt deur die voortreflike karakterisering en die ligte aanslag van die humor en ironie waarmee die hooffiguur met sy eie tekortkominge en eienaardighede saamleef. In 1938 en 1939 skryf hy nog 'n drietal verhale, wat in Die Brandwag verskyn. Onder hulle is die lang ‘La Miseria’, gebaseer op 'n gesprek wat Uys met Gilberto Bonegio, die man van die radiopersoonlikheid Esmé Euvrard, op die trein tussen Pretoria en Johannesburg gehad het en waarin die | |
[pagina 271]
| |
musikus hom die Portugese legende vertel het van Ellende, die armste vrou in die omtrek, wat die mag kry om die kinders wat haar lemoene steel, aan die boom te laat vassit. Wanneer die Dood haar op 'n dag kom haal, gebruik sy weer haar mag. Daarom, so sluit die legende af, is die ellende en die armoede onsterflik. Hierdie gegewe sou Uys later in sy drama Die goue kring weer gebruik en op 'n voortreflike wyse uitbou. Saam met twee vertellings vir ‘kinders wat nog nie grootmense is nie, en vir grootmense wat af en toe nog kinders is’, bundel Uys hierdie verhale in 1940 onder die titel Die palmboom, sy eerste prosawerk in boekvorm en sy eerste boek ná Kentering. By die verskyning van Die palmboom loof W.E.G. Louw in Die Huisgenoot van 25 Oktober 1940 die verhale en sonder hy ‘Die doodkis’ en die titelverhaal uit as die beste in die bundel. Later sou Rob Antonissen die ongekunstelde verteltrant en die impressionistiese trekke in die styl waardeer wat help om die atmosfeer te skep.Ga naar eind57. In Johannesburg bly die Kriges net die eerste vier maande van 1939. In Mei van dié jaar gaan woon hulle op Kloofzicht, 'n klein plasie twaalf kilometer uit Pretoria, in 'n grasdakhuis met twee verdiepings onder die bloekombome. Sowel die onderste as die boonste verdieping het bestaan uit een vertrek, met onder 'n ontsaglike vuurherd, balke teen die dak en die gang en kombuisie om die hoek. Met die skape agter die huis was hulle in 'n pastorale omgewing en Uys word bekoor deur die een heuwel op die ander en die lappe gras waartussen hulle woon. Die plasie was naby Waterkloof se lughawe, waar Bokkie, in dié tyd reeds 'n ervare loods, dikwels met sy vliegtuig geland het. Eulalia het dit geniet om elke dag ‘die blink vlerke’ te sien verbyvlieg, sonder om te besef dat dié lughawe binne 'n paar maande met die Tweede Wêreldoorlog 'n miernes van militêre bedrywighede sou wees. Iets van die geluk van man, vrou en kind, hulle samesyn en die klein kamee van die laggende dogtertjie vang Uys op in sy gedig ‘Waterkloof’, geskryf aan die einde van Augustus enkele dae voor die uitbreek van die oorlog: Pers gloei die eindelose heuwels
in die sterk voorjaarson.
Die Hoëveld vloei oor van lig
uit die hernude bron.
| |
[pagina 272]
| |
Die lig is wit, spierwit...die dag
witter as 'n waskers.
Valleie en gelyktes, heuwels, laagtes
dié hele tafelland is pers.
Stilte ...en één strook sonlig wat
tot die verste einders strek.
Hier teen die hoogste heuwelrand
lê Lydia, Eulalia, ek.
Lydia swyg, staar in die blou
en ek lees Keats se briewe.
Eulalia kruip rond op vet beentjies.
Sy swaai hot om, dan met 'n oulike liewe
glimlag gaan sit sy op my boek.
Ek frons konsuis, sy lag, sy skater;
dis of 'n streep wit klippies plons
skielik in 'n poel helder water.Ga naar eind58.
| |
IVDat 'n groot en waarskynlik wêreldwye oorlog teen die einde van die dertigerjare in Europa aan die kom was en dat dit nie meer gekeer sou kon word nie, was vir almal duidelik wat maar enigsins iets van die internasionale politiek geweet het. In vergelyking met baie ander Suid-Afrikaners het Uys Krige die voordeel gehad dat hy die aanlope tot dié oorlog reeds met sy aankoms in Spanje aan die lyf kon ervaar. Vóór die Republiek van 1931 was daar in Spanje 'n gedurige agitasie en stryd teen die bewind van die Bourbon-monarg Alfonso XIII en die diktatuur van Miguel Primo de Rivera, hoofsaaklik as gevolg van Primo se minagting vir die liberale en professionele middelklas, die depressie van 1929 en die opheffing van die persvryheid. Met sy vertrek het Primo geen basis vir 'n toekomstige regime gelaat nie. Die middel- en laer klasse het niks van die monargie verwag nie, terwyl baie van die generaals weer die koning sy aanvaarding van Primo se bedanking verkwalik het. Die verkiesings van April 1931 het daarop | |
[pagina 273]
| |
gedui dat die kandidate ten gunste van die monargie grootliks verslaan en die Republikeine aan die bewind gestel is, al was die nuwe regering 'n regering sonder indrukwekkende leiers. Om 'n burgeroorlog te voorkom, abdikeer die koning en gaan hy in ballingskap. In November 1933, kort nadat Uys hom in die Barrio Chino in Barcelona vestig, kom daar, ná die val en die abdikasie van die koning, met die nuwe verkiesings 'n swaai na regs as die monargiste en die Katolieke met die nuwe vrouestemreg al hoe meer die oorhand kry. Die linkse groeperinge - onder wie die sosialiste, anargiste, vrydenkers en 'n klein groepie kommuniste - was nie van plan om daarin te berus nie. Die geskiedenis van Spanje ná die verkiesing toon 'n geleidelike verval in chaos en geweld, met brandstigting en roekelose moorde aan die orde van die dag. Daar was verskillende politieke groeperinge, maar weer het nie een van die leiers oor die vermoë en grootheid van gees beskik om 'n ramp te voorkom nie. ‘A great man’, skryf Hugh Thomas in sy uitvoerige studie oor The Spanish Civil War, ‘possessed of the habits of compromise, compassion and understanding might have softened the sharpness of the quarrels which agitated the country. Such a man was not forthcoming.’Ga naar eind59. Die herlewing van die Katalaanse nasionalisme was die eerste probleem waarmee die nuwe regering te kampe gehad het. Op 13 Desember 1933 berig Uys aan sy ouers dat die anargistiese rewolusie met mag en mening losgebars het en dat 'n twintigtal mense met die skietery en bomgooiery gedood is. Bomme het 'n daaglikse verskynsel in Barcelona geword en niemand skyn veel van 'n ontploffinkie notisie te neem nie. 'n Ander vorm van protes was dié van brandstigting. In 'n rapport wat hy vir Die Burger opstel, skryf hy: Ons ry op 'n tram êrens deur 'n stil voorstad. Skielik spring daar drie mans op die stadig bewegende voertuig. Hulle is gemasker. Elkeen het 'n rewolwer in sy hand. Met 'n beleefdheid wat ons ironies voorkom, word ons gelas om uit die tram te klim. Ons doen dit. Dit is helder oordag - maar die atracadores strooi petrol orals oor die tram en steek die boel aan die brand. Al die passasiers staan op die sypad, aanskou die brandstapel. Die drie gemaskerdes spring in 'n motor. Ons sien hoe swaai hulle die hoek om, en een wuif nog met die hand.Ga naar eind60. | |
[pagina 274]
| |
In Barcelona was daar nog verder 'n afskeidingsbeweging aan die gang, iets wat in 1934 uitloop op 'n coup d'état ten einde Barcelona tot hoofstad van 'n onafhanklike Katalonië en 'n federale regering bevry van Madrid uit te roep. Hoewel die regeringstroepe binne enkele ure die Katalaanse parlement gebombardeer het en die vryheidsvegters moes kapituleer, was die vryheidsdrang steeds onwrikbaar in die mense werksaam en het gevegte weer enkele dae later begin uitbreek. Wanneer Uys in 1935 saam met sy broer François en sy neef Lance in Valencia woon, is daar orals polisie te sien en die strate vol geweld en onluste. Hoewel hy sy ouers gerusstel dat alles intussen in Valencia kalm is, vra hy Lance om te sorg dat hy op sy geboorteplaas, Bontebokskloof, begrawe moet word indien enigiets met hom sou gebeur en dat die opbrengs van sy postume werk vir die opleiding van sy kritici aangewend moes word! Terwyl die konserwatiewe regering, wat in November 1933 aan die bewind gestel is, die pogings tot hervorming van die vorige ongedaan gemaak het, woed die stakings, ontsporing van treine, brandstigting en oproer onder studente voort. Van hierdie onluste was die bewuste werk van Franco en ander senior generaals van die weermag wat chaos in die land wou skep en met 'n komplot aan die gang was om die regering oor te neem. Hierdie onluste word deur die leër onderdruk. Die verkiesing van Februarie 1936, wanneer Uys reeds terug is in Suid-Afrika, lewer egter 'n oorwinning op vir die Volksfront, wat hoofsaaklik uit sosialiste, teenstanders van die Rooms-Katolieke Kerk en 'n klein minderheid verteenwoordigers van die Kommunistiese Party bestaan het. Intussen het die verskillende Fascistiese groeperinge hulle tot 'n geheel verenig. Teen Februarie 1936 het hulle nog kwalik 5 000 lede gehad, maar die leiers het reeds belangrike kontakte met die Italiaanse diktator Mussolini en met van die leidende generaals opgebou. Die gevolg is dat die Fascistiese aanhang toeneem. Op 17 Julie 1936 breek die Spaanse Burgeroorlog formeel uit wanneer die generaals Marokkaanse troepe na Spanje bring om 'n magsoorname te verseker. Op 1 Oktober 1936 word Franco uitgeroep tot hoof van die Spaanse staat met 'n voorlopige regering in Burgos, al het die stryd tóé maar pas begin en al sou dit tot April 1939 duur voordat Franco die laaste berig van die oorlog kon opstel en 'n Fascistiese regering tot sy dood in 1975 die bewind sou voer. Die opmars vanuit Marokko word versterk deur Italiaanse en veral Duitse vliegtuie, terwyl Russiese wapentuig aankom om die posisie | |
[pagina 275]
| |
van die Volksfront te verstewig. Deur die bemoeienis van die Sowjetunie, Duitsland en Italië ontwikkel die Spaanse Burgeroorlog tot 'n konflik op internasionale vlak. Hoewel daar deur diplomatieke kanale onder leiding van die Britse premier, Neville Chamberlain, 'n ooreenkoms van nie-inmenging en ‘appeasement’ bereik word, het die deelnemende lande hulle eenvoudig nie aan die uitvoering daarvan gesteur nie. Wanneer die opmars na Bilbao op 31 Maart 1937 begin, vernietig die Duitse en die Italiaanse lugmag die onverdedigde stadjie Guerníca - 'n terreurbombardement waarmee die toekomstige Spil-moondhede, as 'n proeflopie tot die Tweede Wêreldoorlog, hulle mag en slaankrag wou toets. Die bombardement van talle ander weerlose Spaanse dorpe en stede het voortgegaan. Tydens die Neurenbergverhoor van 1946 het Hermann Goering gesê Franco het die hulp van die Duitse lugmag aangevra, aangesien hy sy troepe nie uit Afrika kon kry nie en die vloot in kommunistiese hande was. Goering het daarop Hitler aangespoor om die hulp toe te staan, ten einde 'n kommunistiese regering in Spanje te keer en om die jong Duitse Luftwaffe se krag en tegniese vermoë te toets.Ga naar eind61. Later, in 1941, het Hitler selfs hieraan toegevoeg dat indien hy nie sy vliegtuie na Spanje sou gestuur het nie, die kerk vernietig sou gewees het! Van die verbanne priesters het 'n gebed verskyn, wat in Engels vertaal as volg lui: To You, O Mary, Queen of Peace, we always return, we the faithful sons of Your best-loved Spain, now vilified, outraged, befouled by criminal Bolshevism, deprived by Jewish Marxism, and scorned by savage Communism. We pray You, tears in our eyes, to come to our help, to accord final triumph to the glorious armies of the Liberator and Reconqueror of Spain, the new Pelayo, the Caudillo! Viva Christ the King!Ga naar eind62. Op die bombardement en vernietiging van die stadjie Guerníca sou die Spaanse skilder Pablo Picasso later een van sy beroemdste skilderye baseer. In 1937 begin kunstenaars, skrywers en geleerdes as gevolg van die regsonsekerhede en die wreedhede aan albei kante van die gevegsfront die land te verlaat. Aan die nasionalistiese kant word die verskillende faksies onder Franco saamgesnoer, veral ten opsigte van hul standpunt teenoor die Spaanse Rooms-Katolieke Kerk. In 'n gesamentlike brief van 1 Junie 1937 verklaar die Spaanse biskoppe dat die nasionalistiese opstand 'n ‘regverdige oorlog’ is. | |
[pagina 276]
| |
Dit gee aan Franco en sy generaals 'n teologiese basis vir hulle optrede, want toenemend en konsekwent kon hulle nou van hulle slagting praat as 'n cruzada, 'n kruistog in diens van die vaderland en die kerk teen kommuniste en ateïste. Pous Pius XI en sy opvolger, pous Pius XII, sanksioneer die oorlog en die Vatikaan erken in Augustus 1937 die regering van Franco as die enigste regmatige Spaanse regering. Baie stede was gou in nasionalistiese hande, maar die regering van die Volksfront het dele van die land behou. Baie van die goewerneurs en die amptenare van die burgerlike regering is geskiet en dikwels het die vroue en familie hulle lot gedeel. Soms is die vroue verkrag en hul hare afgesny, klaarblyklik met die bedoeling om vrees by die werkersklas in te boesem. Teenoor politieke vyande is meedoënloos opgetree en die liggame van slagoffers is dikwels in die openbaar uitgestal.Ga naar eind63. Al waar die kerk amptelik op aangedring het, was dat dié wat tereggestel moes word, die geleentheid moes hê om te bely en dat die laaste sakramente aan hulle bedien moes word!Ga naar eind64. Soms het van die teregstellers uit medelye die gedoemde van 'n stewige voorraad wyn voorsien, sodat hy die dood in 'n staat van bedwelming kon binnegaan. Sommige slagoffers is selfs gedwing om hulle eie grafte te grawe voordat hulle binne-in die graf doodgeskiet is. Een man is aangesê om sy arms in die vorm van 'n kruis te vou en, terwyl albei sy ledemate geamputeer word, uit te roep: ‘Viva, Christus die Koning!’Ga naar eind65. Onder die sterftes was ook dié van Federico García Lorca, die grootste Spaanse digter van die dag. Sy dood het gewelddadig in Augustus 1936 in die vroeë dae van die Spaanse Burgeroorlog tydens 'n Fascistiese opstand in Granada gekom. Lorca was bewus daarvan dat sy liberale opvattinge hom by die regse beweging onder verdenking geplaas het en het daarom van Madrid na die betreklike veiligheid van sy ouerhuis in Granada gevlug. Wanneer hy by 'n digtervriend se huis skuil, word hy gearresteer en in opdrag van een van Franco se generaals uit die stad geneem en tereggestel.Ga naar eind66. Die regverdiging van hierdie teregstellings was eenvoudig die staat van oorlog waarin die land verkeer het. Aanvanklik was daar geen vorm van verhoor nie; later is 'n militêre hof wel ingestel. Die meerderheid van die deelgenote was fanaties daarvan oortuig dat die onsuiwer liberalisme, sosialisme, kommunisme en anargie in Spanje uitgeroei moes word. In Suid-Afrika het Uys die gebeure in Spanje met belangstelling, afsku en angstige afwagting gevolg. Veral die feit dat die Fasciste | |
[pagina 277]
| |
die steun van die Vatikaan geniet het en hulle opstand teen die wettige en demokraties verkose gesag in Spanje as 'n ‘heilige oorlog’ voorgestel en toegelaat het dat Duitse en Italiaanse bomwerpers die weerlose burgerlike bevolking genadeloos met die slagkreet ‘Lewe Christus die Koning!’ gebombardeer het,Ga naar eind67. was iets wat hom tot in sy diepste wese geskok het. Dit lei tot sy ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’, sy grootste bydrae tot die Afrikaanse poësie en 'n gedig waarin hy die volle moontlikhede van die vrye versvorm uitbuit. In Maart 1938 skryf hy aan Bokkie: Ek het 'n gedig geskrywe - ek weet nie of ek dit 'n gedig kan noem nie - maar dis een van die weinige werklik goeie dinge wat ek nog geskryf het. Dis my eerste poging in twee jaar. Dis soos 'n kreet - hees en rou en ontsettend - soos iets wat uit my losgeskeur het...So gou as dit heeltemal klaar is, stuur ek dit jou...Dit gaan oor Spanje. Die titel is: Lied van Franco se Bomwerpers... Vir die hele duur van die gedig is die Fascistiese bomwerpers as dramatiese spreker aan die woord, 'n tegniek wat saam met die talle herhalings en opstapelings vir 'n kooreffek sorg en aan die geheel iets oratories gee. Van die begin af oorheers die ironie. In regstreekse aansluiting by die walglike wyse waarop Franco en sy volgelinge hulle stryd as 'n ‘heilige oorlog’ in diens van die kerk wou regverdig, vind die sogenaamde nuwe Spanje in die gedig gestalte deur 'n ‘kruistog’ wat in die naam van ‘Christus, die Koning’ gevoer word.Ga naar eind68. In hierdie naam strooi die vliegtuie dan hulle ‘wit vaandels’ af en werp hulle hul bomme op die weerlose bevolking, hier ironies voorgestel as lewegewende ‘eiers’ wat ‘in die goue nes van Spanje’ gelê word. Teenoor die opstapeling van werkwoorde - gons, dreun, waai, stroom en wapper - wat die krampagtige en vernietigende aktiwiteit van die bomwerpers oordra, volg die vergrotende adjektiewe waarmee hulle hul eie lof en glorie besing (mooier, witter, vinniger), gevolg deur 'n verdere reeks werkwoorde (val, staan, skiet). Van die derde versparagraaf af word die Christelike beelding van die inset voortgesit: die vlerke van die bomwerpers is soos dié van engele, hulle sing 'n lied van liefde en hulle prewel vroom gebede. Hierop volg die beeld van die rosekrans wat die hele versparagraaf oorheers. Die swart krale wat die geestelikes aftel, is in werklikheid die bomme wat | |
[pagina 278]
| |
na die stede, dorpe en plase afval, voorgestel as 'n redding wat vanuit die ‘veilige heilige vesting’ van 'n katedraal of 'n abdy geloods word: Want ons is die rosekrans
van die biskoppe en die hoëpriesters.
Ons glip deur hul gebenedyde vingers.
Geduldig ryg hulle ons uit,
tel hulle ons af
en langsaam
die een na die ander
deur die blou kalmte van die dag
val ons swart krale
af na die aarde
op die stede
en die dorpe
en die plase...
Want ons, ons is die redding,
ons is die skans, die setel,
die veilige heilige vesting
wit en hoog bo-op die berg se top.
In aansluiting by die inset van die gedig volg, in 'n dramatiese volgorde soos die geluid toeneem in krag, 'n verdere reeks werkwoorde, nou in verband gebring met die bomwerpers en die masjiengewere: druis (wat met die tweede reël van die voorafgaande versparagraaf skakel), ronk, zoem, stotter en bulder. Dan roep die ‘stem van die nuwe Spanje’ iets van die bloedige verlede van Spanje en die ‘sewe eeue van verdrukking’ onder die More in herinnering, die More wat nou in Franco se opmars uit Marokko na die vasteland terugkeer om hulle vernietigingswerk voort te sit. Toenemend, soos die gedig vorder, word die lied van die bomwerpers soos hemelse musiek wat met ‘siters en skalmeie’ begelei word en wat weer uitstroom in die refrein ‘Lewe Christus, die Koning!’ Ter wille van hierdie nuwe Spanje moet die bomwerpers hulle uitdelging voortsit. Uit alle windrigtings, vanuit die suide oor die see (Palma de Majorca) en vanuit die noorde (Burgos, waar die Franco-regering gesetel is), vind die aanslag plaas, gesteun deur die ‘swerms’ vliegtuie uit Duitsland in die noorde en Italië in die suidooste. Iets van die Spaanse lewe in die stede en | |
[pagina 279]
| |
op die plase oorheers die sesde versparagraaf waarin die verdelging nou, in aansluiting by die flitse uit 'n agrariese lewe, voorgestel word as sekels wat die kaf van die koring skei.Ga naar eind69. Met skrynende ironie moet die bevolking hulle gesigte ophef na bo ‘van waar jul hulp sal kom’, 'n toespeling op Psalm 121: ‘Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar hulp vir my kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.’ Die bevolking wat só vernietig word, moet in die sewende versparagraaf vir die bomwerpers bid (‘Ora pro nobis’)Ga naar eind70. sodat hulle in die ‘heilige oorlog’ nie mag faal nie, nou feitlik ingehamer deur 'n reeks ‘dat’-bysinne waarin die opstapelende werkwoorde en selfstandige naamwoorde deur assonansies, alliterasies en binneryme met mekaar verbind word: Bid vir ons! Bid vir ons:
dat ons afstort op die stede
soos arende op hul prooi,
dat ons moed ons nie begewe nie,
dat ons spoed ons nie faal nie,
dat ons motore nie stok nie,
dat die afweergeskut ons nie tref nie,
dat die fabrieksfluite en -sirene
die kinders nie waarsku nie,
dat ons die vrouens oorval
voor hul die kelders bereik,
en dat ons die oop see haal
- waar die visse ons nie kan torpedeer nie -
voor die vliegmasjiene van die vyand
mag opstyg uit die stede
soos brommers uit 'n lyk;
dat ons dan mag terugkyk
hoe die dag daar breek
bo die goue dorpies
en die wit stede
in vlamme feller, woester
as dié van die rooidag.
En hierdie vernietiging moet almal en alles orals in Spanje tref:Ga naar eind71. hospitale, skole, klinieke, biblioteke en gestigte, die armes en analfabete wat ‘vir leie en griffels’ veg en die demokrate, republikeine, | |
[pagina 280]
| |
anargiste, godloënaars, kommuniste (‘rooi gespuis’), die politieke vyande van Franco. Uiteindelik sal hierdie misdeelde mense 'n stuk grond besit, maar dit is, in 'n verdere uitbouing van die ironie, 'n blote graf ‘as julle gelukkig is’. Die gedig bereik sy hoogtepunt in die gedeelte tussen hakies wat met die eerste oogopslag na 'n parentetiese interpolasie lyk,Ga naar eind72. maar wat in werklikheid die toppunt van die ironie is: 'n verbete, paranoïese uitlewing van 'n godsdiens wat selfs die wreedste gruweldade kan regverdig en Christus, by uitstek simbool van die lyding, kan inspan om hierdie lydendes te ‘troos’: (Daar hang 'n jonkman aan die Kruis,
Hy dra 'n doringkroon.
Sy oë is droewig,
droewer as die reën,
en Sy wonde bloei aanhoudend.
Altyd sonder ophou
drup-drup Sy warm bloed
af op die wêreld.
Wend julle na Hom.
Hy sal verstaan.
Hy sal vergewe...)
Dit is skrynend, 'n ironie op-en-top, dat juis die Fascistiese bomwerpers die weerlose massa nóú, nádat hulle vir die hele duur van die gedig 'n militaristiese Christus voorgehou het, op die lydende Christus met Sy attribute van deemoed en vergiffenis wys. En dan breek die ware wese van die bomwerpers, met die funksionele opheffing van die ironie in die vier slotreëls, deur as moordenaars en verdelgers, vernietigers van 'n humane en demokratiese Spanje: Sterf, toekoms! Sterf, hoop!
Sterf, liefde en medelye!
Sterf, Spanje!
Lewe Christus, die Koning!
Dié slotreëls is juis essensieel vir die bevredigende einde, 'n sluiting wat die werklike identiteit van die ‘ons’ van die gedig aan die kaak stel. In 1940 verskyn van Krige die bundel Rooidag. Daarin neem hy die | |
[pagina 281]
| |
verse uit sy Franse en Spaanse periodes op wat nie in Kentering verskyn nie en bundel hy ook die verse wat sedert sy terugkeer na Suid-Afrika geskryf is. Omdat hy in Van Schaik 'n blote ‘geldwolf’ sien ‘met soveel benul van poësie as 'n miskruier’,Ga naar eind73. het hy aanvanklik die plan om Rooidag aan die Vereniging vir die Vrye Boek voor te lê. Hy is ontevrede, so skryf hy aan Van Wyk Louw, met die ‘heeltemal valse romantiese rookskerm’ wat hy sedert die verskyning van Kentering om hom het en wat hy ‘van harte laak’, al het hy daardeur aan ‘verkoop-krag’ gewen! Die gedigte in sy tweede bundel wil hy nou publiseer sodat hy kan ‘rus’ kry, ‘anders kan ek met niks nuuts begin nie’. Die nuwe bundel het volgens hom ‘'n baie voller en ryper klank’ as Kentering en is ook ‘besonder veelsydig’. Dit ‘wissel af tussen die wrange verse uit my lewe in Marseille wat vir Afrikaans nogal plek-plek “gewaagd” is en verse van heeltemal nasionale en opstandige inslag wat later, in Spanje en ook hier, ontstaan het’. Hy werk gedurig aan die bundel en wil hê ‘elke gedig moet heeltemal selfstandig en afgerond wees...(en) op sy pote kan staan’. Ook uit 'n brief van Oktober 1936 spreek sy onvergenoegdheid met die ‘heeltemal opgeblaasde reputasie’ wat sy debuut hom gegee het. Hy voel ‘dis hoog tyd dat ek met beter, suiwerder, sterker werk te voorskyn kom om so tot 'n sekere mate die nasmaak van Kentering uit te wis....Die gedigte is lankal kant en klaar - net hier en daar bevredig sekere reëls my nie.’ Van die plan om Rooidag by die Vereniging vir die Vrye Boek te laat verskyn, kom egter niks nie en die bundel word uiteindelik tog deur Van Schaik gepubliseer. Onder die verse in Rooidag maak ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’ onmiddellik 'n groot indruk op kritici. In sy bespreking in Die Huisgenoot van 2 Mei 1941 sê W.E.G. Louw die gedig is ‘beurtelings felle aanklag, beurtelings bitter ironie, en deurgaans deurstu van 'n eienaardige beweeglike ritme’. Dit bevat vir hom ‘sommige van die skerpste reëls wat Krige nog geskryf het’. Die beelde is ‘van 'n verrassende en visioenêre oorspronklikheid’. En hy vra: ‘Is die val van bomme op weerlose stede - daardie skrikbeeld van ons twintigste-eeuse beskawing - al ooit aangrypender gesien?’ Later sal Rob Antonissen ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’ beskryf as ‘die magtigste, bitterste maar ook ontroerendste sarkasme wat nog ooit in Afrikaanse verse sy géselgestalte gekry het’.Ga naar eind74. In sy Digters van Dertig vind D.J. Opperman ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’ uniek tussen Campbell, Auden, Day Lewis, | |
[pagina 282]
| |
Herbert Read en Cornford se verse oor die Spaanse Burgeroorlog. Hy skryf: Die spot en toorn word bedwing, maar tussen bedwang en drif bly die hele biblistiese loop van hierdie vrye vers wat telkens begin, homself onderbreek en hervat in parallelismes en herhalings, om kragtiger uit te stroom na die bitter refrein: ‘Lewe Christus, die Koning!’ so sterk dat dit die argaïstiese en oratoriese, die beelde wat dreig om vals te word, en teenstrydighede...alles in sy vaart saam met grootse sienings van vliegmasjiene wat hulle eiers lê in die goue nes van Spanje, 'n rosekrans uitryg op die stede, die sprinkaanplaag van God is - alles opneem en een van die felste spotliedere in ons taal word.Ga naar eind75. Deur sy belangstelling in Spanje word Krige nou opnuut meegevoer deur die poësie van Lorca, die groot geesgenoot vir wie hy nooit ontmoet het nie en wat nou as slagoffer van die burgeroorlog voor 'n vuurpeloton van Franco se manne moes sterf. Tekste van Lorca dien vir hom as vrye verwerkings in ‘Ballade van die waters van die see’ en ‘Ballade van die bron’, terwyl hy met ‘Dood van Antonito’ en ‘Ballade van die rooi vlag’ regstreekse vertalings van die Spaanse digter lewer. Maar sy grootste hulde aan Lorca is sy stiptelik getroue weergawe van die aangrypende ‘Klaaglied vir Ignacio Sanchéz Mejías’. Lorca skryf dié gedig, soos Krige dit in Vir die luit en die kitaar stel, ter ere van sy vriend, die groot stiervegter Sanchéz Mejías, wat ná jare in Suid-Amerika na Spanje terugkeer, weer tot die arena toetree en in 1934 deur 'n stier gedood word. Marcelle Auclair sê by geleentheid dat Lorca sy vriend Mejías bewonder het as die man ‘capable of making his life a duel, loyal but crazy, with love and with death: a gigantic fiesta’.Ga naar eind76. Dit was 'n bitter stukkie ironie dat die bul teen wie Mejías geveg het, die naam Granadino - na Lorca se geboortestad - moes hê. ‘It may have suggested to the superstitious Lorca’, sê Gibson in sy biografie, ‘that in death, even as in life, his and Ignacio's destinies were inseparably linked - as indeed would prove to be the case two summers later.’Ga naar eind77. Oor die verloop van die stiergeveg skryf Gibson: After playing the bull conventionally in the first part of the fight, and letting someone else place the banderillas or barbed darts in | |
[pagina 283]
| |
the second, Ignacio sat down on the ledge. There was a hush in the crowd. All went well with the first charge. On the second, ‘Granadino’ came so close that he slashed the bullfighter's trousers. Ignacio tried to get to his feet but the animal turned suddenly and sank a horn deep into his thigh, tossed him to the ground and gored him furiously. When they managed to get the bull away, Sanchéz Mejías was lying in a pool of blood, and, as he was carried to the infirmary, he left a thick red trail across the sand. It was the blood that in his elegy Lorca would refuse to see, begging the moon to come and cover it with its white, cool light. ‘I think I'm done for,’ Ignacio muttered to Alfredo Corrochano.Ga naar eind78. Mejías het gevra om per ambulans na Madrid geneem te word. Die ambulans wat gestuur is, het egter masjienmoeilikheid ontwikkel en eers ná middernag aangekom. In Madrid is die operasie op hom onmiddellik begin, maar weinig kon gedoen word, aangesien gangreen reeds ingetree het. In sy agonie het Ignacio die bed met soveel krag geskud dat dit in die kamer rondbeweeg het. Vandaar dat Lorca in sy elegie praat van die bed as ‘'n doodkis met wiele’.Ga naar eind79. Ignacio het 'n nag lank teen die dood geveg en in 'n delirium oor bulle en olyfbome getier. As kind, so het Ignacio aan vriende vertel, het hy in die maanlig stiervegtery geoefen; daar was geen toeskouers nie, en wanneer hy 'n goeie pas uitgevoer het, het hy voorgegee dat die olywe, wat in die ligte windjie roer, hom toegejuig het. Dit is 'n gegewe wat in die slotstrofe van die slotgedig uit die siklus meespreek. Om agtuur die oggend van 13 Augustus 1934 het die dokters besef niks meer kan gedoen word nie: die gangreen wat Lorca in sy gedig personifieer, het dramaties versprei. Om kwart voor tien is Ignacio oorlede. Lorca het op 'n keer teenoor 'n vriend opgemerk dat die dood van Sanchéz Mejías 'n ‘leerskool’ was vir homself, en dekades lank sou hierdie groot gedig en trouens baie ander verse van Lorca gelees word in die skaduwee van sy eie dood.Ga naar eind80. Dit is iets wat Krige ook in sy karakterisering van Lorca se gedig aanvoel: Dis geensins 'n loflied op die stiergeveg nie. In sy wese het dit maar min met die stiergeveg te doen. Dis 'n treursang op die dood van 'n vriend, 'n vriend wat kragtig en dapper gelewe en gesterwe het en wie se lewe 'n eenheid was. Maar dis van so 'n geweldige poëtiese siening, van so 'n visioenêre krag, dat dit | |
[pagina 284]
| |
Lorca se eie klaaglied word, die klaaglied vir miljoene mense wat ná Lorca in die Burgeroorlog en die daaropvolgende Wêreldoorlog sou sterwe, 'n klaaglied vir almal wat moedig lewe en sterwe hier op aarde.Ga naar eind81. Krige se vertaling van Lorca se gedig is van 'n indrukwekkende skoonheid. Oor sy werk daaraan sê hy: Ek het nie die minste moeite daarmee gehad nie. Dit was asof iemand anders vir my die eerste, tweede en vierde gedigte geskrywe het. Binne 'n halfuur was aldrie kant en klaar. Dit was ook die enigste skryfwerk wat ek nog ooit gedoen het terwyl ek onder die invloed van drank was. Die derde gedig, ‘Die liggaam voor ons’, het ek 'n paar maande later voltooi.Ga naar eind82. Op die vyfde plaat van sy reeks Klank en poësie sê Van Wyk Louw van die slotgedeelte van die siklus: ‘Persoonlik sal ek nooit vergeet watter indruk hierdie poësie jare gelede op my gemaak het toe Uys dit een warm middag op 'n bank in die ou Kompanjiestuin vir my voorgelees het nie.’Ga naar eind83. Hierdie slotgedeelte heet ‘Afwesige siel’: Die bul sal jou nie ken nie nòg die vyeboom,
nòg die perde nòg die miere van jou eie huis.
Die kind sal jou nie ken nie nòg die agtermiddag
want jy is dood vir altyd.
Die plat kant van die leiklip sal jou nie ken nie,
nog die swart symantel waarop jy verdelg is.
Selfs jou eie stomme herinnering sal jou nie ken nie
want jy is dood vir altyd.
Die herfs sal kom met al sy slakkies,
trosse van mis en saamgehurkte heuwels,
maar niemand sal jou in jou oë wil kyk nie
want jy is dood vir altyd.
| |
[pagina 285]
| |
Want jy is dood vir altyd,
dood soos al die dooies van die Aarde,
soos al die dooies wat vergeet word
soos 'n klomp dooie brakke in 'n hoop.
Niemand sal jou ken nie. Nee. Maar ek besing jou.
Ek besing vir later jou gestalte en jou grasie.
Die verhewe volwassenheid van jou begrip.
Jou honger na die dood en die smaak van sy mond.
En die treurigheid ten grondslag van jou manhaftige vreugde.
Ons sal lank moet wag vir die geboorte, as hy ooit gebore word,
van 'n Andalusiër so helder, so ryk aan avonture.
Ek besing jou swier en jou kortdaatheid met woorde wat kreun
en ek herinner my 'n droewe wind deur die olywe.Ga naar eind84.
Jare later vertel Jan RabieGa naar eind85. hoe hy en 'n paar ander Suid-Afrikaners saam met Uys op 14 Julie 1953, die nasionale feesdag van die Franse wanneer vuurwerk aan die naghemel en oor die Seine wemel, met orkeste en duisende mense in elke straat, op 'n kafeeterras op die Boulevard St Michel, waar dit op die Pont St Michel uitmond, gesit het. By hulle was Franse, Spanjaarde en twee jong Angel-Saksers wat hard probeer het om 'n Kubaanse skoonheid te beïndruk. Almal, sonder om Afrikaans enigsins te ken, luister verruk hoe Uys sy Afrikaanse vertaling van die ‘Klaaglied’ saam met Lorca se Spaans vergelykend deklameer. ‘Ek onthou nog die sonore y el amanacer no era se ewe sonore Afrikaanse eweknie en daar was geen daeraad. Dronk van poësie het Uys 'n volslae oorwinning oor wyn en feesrumoer behaal - ook in die oë van die Kubaanse skoonheid. Op die luide markplek van ons eeu was dit voorwaar 'n prestasie. Op die koop toe het hy - onverbeterlik familie-bewuste Afrikaner - die Spaans- en Franssprekende dames toe ook begin uitvra oor hul voorouers om te weet of 'n lang gestorwe Ferreira of De Villiers hom nie dalk nog nouer aan hulle verbind nie.’ Teen die agtergrond van die Spaanse Burgeroorlog skryf Krige in 1939 sy eenbedryf Fuente sagrada (Heilige fontein), kort tablo's van eenvoudige boeretipes in die laatsomer van 1936 iewers noord van Valencia. Soos in ‘Lied van die Fascistiese bomwerpers’ spreek die verskrikking van die oorlog, maar nou sonder ironie, uit die woorde van die Ou Vrou: | |
[pagina 286]
| |
Hulle't afgekom...laag gevlieg oor die plaashuise...met hul masjiengewere oopgetrek op die boere waar hulle vlug deur die lande...Daar lê lyke in die boorde en wingerde. Vanmôre vroeg, in die eerste koeltetjie, het die maaiers uitgegaan. Nou's die gerwe rooi van hul bloed.Ga naar eind86. Oor die gebombardeerde sterwende dorpies wat deur die Fascistiese vliegtuie uitgewis is, skryf die Venezolaanse digter Jacinto Fombona-Pachano verse wat vir Krige so aangrypend is dat hy later van hulle vertaal: Ek het hulle liefgehad hierdie dorpies wat nou tuimel uit die mikrofoon,
voor wie ek so dikwels gaan staan het
toe my voorvinger gaan swerwe het oor die muur.
Maar nou weet my lippe nie meer
waar om hulle name te plaas nie.
En om hul te begrawe
sal ek moet gaan soek tussen toiings en melaatse mure,
tussen beddelakens vol bloed
vir die begraafplaas van die landkaarte.Ga naar eind87.
| |
VIn Uys Krige se lewe was sy ervaring van die aanlope tot die Spaanse Burgeroorlog en die verskrikkinge waarvan hy, terug in Suid-Afrika, deur die pers en per brief van vriende verneem het, 'n besliste keerpunt. Hy het nou gesien wat in Spanje aan die gebeur was en hy het gevrees dat, met Hitler in Duitsland aan die bewind, die Fascisme in al sy boosheid tot 'n vernietiging van alle Westerse waardes sou lei. In lesings ná sy terugkeer het hy by herhaling op die gevare gewys, maar die meeste mense, veral Afrikaanssprekendes met wie hy gepraat het, was apaties in hulle reaksie op al die wreedhede. In die ‘nes Nasionaliste’ waarin hy ná sy terugkeer in Pretoria beland het, so skryf hy op 7 Augustus 1951 in 'n belangrike brief aan die joernalis Stanley Uys, was dit vir hom ‘ontnugtering op ontnugtering’ toe hierdie mense ‘almal na Julie 1936 Franco se kant gekies’ en eenvoudig hulle skouers oor al die afgryslikhede opgehaal het. Só geob- | |
[pagina 287]
| |
sedeer was hy deur die toestand in Spanje dat hy dit oorweeg het om by die Internasionale Brigade aan te sluit en die slagoffers van die oorlog te gaan help. Die Spaanse ambassadeur het hom egter afgeraai en gesê die republikeinse saak het mense nodig om hulle saak in die regte perspektief te stel, veral in Suid-Afrika, waar die Afrikaanse pers Franco voorstel as 'n nasionale held. In 1937 word Krige lid van 'n komitee wat vir die noodleniging aan Spaanse kinders geld werf. Maar 'n veel groter ramp as dié in Spanje was aan die kom. Teen die begin van 1939 was dit duidelik vir baie waarnemers dat 'n tweede wêreldoorlog onvermydelik was en dat baie lande daarby betrek sou word. Mussolini was sedert 1922 die magsfiguur in Italië, terwyl die nasionaal-sosialisme sedert sy opkoms in Duitsland in die twintigeren vroeë dertigerjare, en veral sedert die bewindsaanvaarding van Hitler in 1933, die wêreldvrede en die voortbestaan van die demokrasie in Europa bedreig het. Die twee diktators het, afsonderlik en gesamentlik, die mag van die Westerse demokrasieë by herhaling getoets en gesien dat lande soos Brittanje en Frankryk onwillig en onmagtig was om in te gryp en hulle teen te gaan. Italië se inval in Abessinië in Oktober 1935, die diktators se betrokkenheid by die Spaanse Burgeroorlog van 1936 tot 1939 en Hitler se remilitarisering van die Rynland in 1936 is oogluikend geduld. In 1938 beset hy Oostenryk met die sogenaamde Anschluss, terwyl die Britse en die Franse regering hulpeloos toekyk. 'n Verdere krisis volg in Mei 1938 wanneer 'n Duitse inval in Tsjeggo-Slowakye onafwendbaar lyk. Hierop volg 'n konferensie in München waartydens Hitler die Britse eerste minister, Chamberlain, en die Franse premier, Daladier, feitlik verplig om aan al sy eise in verband met Tsjeggo-Slowakye toe te gee. Chamberlain vlieg terug na Londen op 30 September 1938, waai sy ooreenkoms met Hitler aan die skare wanneer hy die vliegtuig uitstap en verkondig 'n boodskap van ‘peace with honour in our time’ aan die juigende skares, min wetende dat 'n ooreenkoms met Hitler nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Wanneer Duitsland in Maart 1939 die Sudeteland en Tsjeggo-Slowakye inneem, kan Brittanje en Frankryk weinig meer doen as om te waarsku dat hulle 'n Duitse besetting van Pole nie gelate sal aanvaar nie.Ga naar eind88. Uys het hierdie verwikkelinge met ontsteltenis gevolg en met sy Afrikanervriende bespreek. Dit was egter asof die mense met wie hy gepraat het, met blindheid geslaan was. Van die Afrikanerintellektuele het aan hom gesê dat Hitler se Mein Kampf 'n ‘wonderlike be- | |
[pagina 288]
| |
sielende’ boek is. Toe hy meer as een keer aan van hulle sê dat Hitler sy volk in die grootste ellende van sy geskiedenis gaan dompel, was die antwoord: ‘Ag, nee wat, hy's 'n man van vrede...’Ga naar eind89. In 'n brief van Maart 1938 skryf Uys aan Bokkie dat daar die afgelope tyd 'n groot ommekeer in sy politieke gevoelens en oortuigings gekom het. ‘Ek het heeltemal vervreemd geraak van die Nasionale Party,’ sê hy, ‘ek het geen vertroue in hul leiers nie - ek kan my nie 'n papper, kortsigtiger en onbenulliger klomp voorstel nie - hulle beleid gee my 'n pyn op die maag - hulle het geen beleid nie! Die pad wat hulle opgaan, is die pad na selfmoord!’ Vóór sy vertrek in 1931, so sou hy later in sy brief aan Stanley Uys skryf, was die nasionalisme van mense soos Hertzog en Langenhoven vir hom ongeskonde en onbedorwe en het dit gedien om 'n groot onreg teenoor die Afrikaners en die Afrikaanse taal te herstel. Maar kort ná sy terugkeer moes hy tot sy ontsteltenis merk dat van sy mede-Afrikaners Franco se dade kondoneer en meen dat Hitler goeie werk in Duitsland doen. Die Nasionale Party, so moes hy ontdek, was teen die bruin en swart mense, teen die Engelse en die Jode, en sonder 'n goeie woord vir Afrikaners wat nie met hulle saamstem nie. Met die steun vir Franco het hy besef dié nuwe nasionalisme is op 'n pad van vernietiging en kon hy voorspel dat van hierdie Afrikaners in 1939 die kant van die Nazi's sou opgaan of ten minste die Nazi-wandade nie sou afkeur nie. Terwyl hulle hulle vyf en dertig jaar lank beroep het op 'n onreg om die hele Afrikaanse beweging te regverdig en stukrag te gee, was hulle in 1939 geestelik en moreel te bankrot om in te sien dat dieselfde onreg nou aan vertrapte volkere in Europa en Noord-Afrika gedoen word. Dit was dus 'n ontnugterde Krige wat nou met die nuwe gedaante van die Afrikanernasionalisme en die Nasionale Party breek, al was hy steeds onverwoesbaar met sy hele gees, siel en hart aan sy mense verwant en het hy gehoop dat hulle tot 'n grootheid en ruimheid en respek vir die vryheid sou ontwikkel.Ga naar eind90. In gesprekke met Van Wyk Louw, met wie hy steeds bevriend bly, stel hy die standpunt van die sosialisme en die kommunisme, terwyl Louw die nasionaal-sosialisme verdedig en eers ontnugter raak wanneer Hitler Tsjeggo-Slowakye beset en daarmee die grondgebied van nie-Duitssprekende gebiede vir homself inpalm. Die wêreldgebeure was nou meedoënloos aan die afstuur op 'n tweede wêreldoorlog. Brittanje en Frankryk was teësinnig bereid om, | |
[pagina 289]
| |
ter wille van vrede en omdat hulle onseker was oor die gereedheidsgrondslag van hulle eie militêre vermoëns, Hitler en Mussolini se wandade te duld. Wanneer Hitler egter Pole in September 1939 binneval, verklaar Groot-Brittanje by monde van premier Neville Chamberlain dat indien Duitsland nie onderneem om sy troepe vóór elfuur op 3 September terug te trek nie, 'n staat van oorlog tussen die twee lande sou heers. Op 3 September was Chamberlain verplig om in 'n radiorede aan sy volk te sê: ‘I have to tell you now that no such undertaking has been received, and that consequently this country is at war with Germany.’Ga naar eind91. |
|