Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 191]
| |
Hoofstuk VII
| |
[pagina 192]
| |
[pagina 193]
| |
die bo-ent van die Ramblas, een van die mooiste stadspleine wat hy nog gesien het. In die boomtakke merk hy die duisende mossies wat soos ‘vreemdsoortige bloeisels’ die kaal, bleek takke versier, ‘elkeen koeëlrond, met sy borsie uitgestoot, oënskynlik vas aan die slaap met sy bek en drie kwart van sy kop weggevou tussen sy warm vere’.Ga naar eind4. Later kon hy Campbell se liefdesbetuiging teenoor Barcelona en die Ramblas ten volle deel: The Rambla de las Flores is a mile of the most gorgeous flowerstalls in the shade of mighty plane-trees, descending from a most noble square to the sea, with cafés on either side of the road, and a sort of communal night life in which rich and poor, old and young, all participate equally and gaily, as nowhere else in the world.Ga naar eind5. Aan 'n vriend in Provence skryf Roy hoe hy dadelik onder die bekoring van die stad met sy baie kafees, blaasorkeste, kerkklokke en straatventers gekom het: Uys and Mary and I went last night to hear the gypsies sing. We fell under the spell of Cante Hondo - I remember you telling me how much you like the Flamenco.Ga naar eind6. En Uys ervaar ook iets van die Spanjaard se wesensaard. As hy nie die regte kleingeld vir 'n koerant het nie, sê die koerantverkoopster dat hy haar maar die volgende aand kan betaal. ‘Daar's 'n ou Spaanse spreekwoord wat jy nog baie in die toekoms sal hoor’, voeg sy by. ‘Dis: Mañana es otro dia (môre is nog 'n dag)...Onthou hom - veral as jy met 'n Spanjaard te doen het ...’Ga naar eind7. Daarmee kry hy sy eerste ervaring van die Spanjaard se basiese menslikheid en gasvryheid. In 1947 sou hy skryf: Van alle Europese lande is Spanje seker die sonnigste en tegelyk die somberste. Alles skyn daar skerp en strak in swart en wit afgeteken te staan - of dit nou die landskap self is of die land se geskiedenis, die mense se lewensomstandighede, hul verhoudinge onder mekaar of wat ook al. In daardie helderwit byna verblindende sonlig is 'n mens - van die eerste dag af - bewus van die tragiese in die lewe.Ga naar eind8. | |
[pagina 194]
| |
Hy word gou gefassineer deur die teenstrydighede in die Spanjaard se samestelling: sy hoogs indiwiduele innerlike lewe, sy Stoïsynse afgetrokkenheidGa naar eind9. en naas sy strakheid en stugheid ook sy drif en emosie en die wyse waarop hy hom aan skerts en jolyt kan oorgee. Later sou hy hierdie twee pole in die samestelling van die Spaanse mens in die woorde sol y sombra, son en skaduwee, saamvat. In die eerste weke van sy verblyf kon Uys die verskil tussen die kosmopolitiese Barcelona en die rustige klein Martigues duidelik merk. Hy kom aan in Spanje op die vooraand van een van die mees kritieke episodes in sy dramatiese en dikwels bloedige geskiedenis. Die land was 'n smeulpot van strydende partylojaliteite met anargiste, kommuniste en sosialiste aan die een kant en die kerk, kapitaliste, landeienaars en Fascisties georiënteerde leërjuntas aan die ander kant. In Barcelona was daar verder die veldtog van die Katalaanse separatiste, wat 'n groter mate van outonomiteit wou hê en Madrid en die res van Spanje as êrens in die buiteland beskou het! Van tyd tot tyd was daar, met die algemene verkiesing van 19 November op hande, politieke demonstrasies, skote in die strate en bomontploffings.Ga naar eind10. Reeds op die aand van sy aankoms merk Uys dat die Calle San Pablo, waar Roy-hulle woon, na 'n broeines van armoedige straatjies en stegies lei wat, hoe verder 'n mens gaan, al hoe donkerder word. Hierdie straatjies vorm die Barrio Chino, die Chinese buurt, die berugte onderwêreld van Barcelona, waar hy saans die skel sang van voëls in koue en die luide gelag van prostitute by die wynwinkels kon hoor.Ga naar eind11. In die eerste weke van sy verblyf kom hy in hierdie agterbuurte die sonderlingste klomp mense teë wat die wêreld kan oplewer: swerwers, drosters, leeglopers, smouse en bedelaars naas boewe, ontsnapte bandiete, diewe, sakkerollers en politieke vlugtelinge.Ga naar eind12. Dit is 'n plek, so kom hy agter, wat hierdie mense altyd weer teruglok met 'n onweerstaanbare aantrekkingskrag, want naas die goedkoop wyn en kos is die mense van dié buurt, wat slegs 'n kilometer in deursnee beslaan, mededeelsaam en aangename geselskap. Daarby het hulle geweet die Spaanse polisie is nie streng nie, dat hulle jou hoogstens 'n paar dae vir leeglopery sal opsluit en by die afskeid die hand sal gee en selfs, met die wens op 'n voorspoedige reis, 'n paar pesetas in die hand sal stop!Ga naar eind13. In die maande wat hy hier sou bly, sou Uys in kafees en kroeë talle gesprekke met dié mense hê. By die droster-filosoof Marnix van Lier | |
[pagina 195]
| |
vind sy romantiese aard gou 'n sielsgenoot. In Barcelona, sê Marnix terwyl hy amper soos Uys klink, het hy sy ‘hawe’, sy ‘herberg’ gevind waar hy ná sy jare lange swerfbestaan alles na sy ‘hartsverlange’Ga naar eind14. kon inrig. 'n Feitlik woordelikse weerklank van sy ‘Tramode’ vind Uys in Marnix se opnoem van stede en eilande (‘Sevilla, Madrid, Valencia...Tristan da Cunha ...’) en wanneer hy vertel hoe hy as kind na al die vreemde plekke gesmag het: 'n Seun versamel posseëls, is gek na die goed. Want hulle tower vir hom op al die lande en plekke wat hy nog nooit gesien het nie. Die wêreld word te klein vir al sy swerftogte daar waar hy saans onder die lamp oor sy album sit en buk. Ja, as 'n jongman nog nooit buite sy eie land was nie, vat sy verbeelding vuur en vlam net met die aanhoor van plekname soos Boedapest, Pernambuco, Singapoer, Konstantinopel ...Ga naar eind15. Van hierdie verskoppelinge leer Uys die lewe en die broederskap van alle mense ken. Met die mengelmoes uit byna elke land ter wêreld waarmee hy in aanraking kom, sou hy gou besef dat daar geen verskil van volk en ras bestaan nie en dat jy nie dinge en mense van mekaar kan afhok nie,Ga naar eind16. 'n insig wat later steeds 'n rigsnoer in sy verwerping van apartheid in sy eie land sou bly. Die Abessiniër Lew Wine meen die geskiedenis van die opbloei van die moderne Europese beskawing is ‘die sombere verhaal van die blanke se onderdrukking en uitbuiting van sy gekleurde broer -...waar ook al hy sy swart, geel of bruin broer raakgeloop het’.Ga naar eind17. In die Fascisme, wat in 1933 met die bewind van Mussolini in Italië en Hitler in Duitsland ten volle aan die werk was, sien Wine 'n mag wat mense daartoe sal bring om andersdenkendes in naam van die ‘beskawing’ of selfs die Christendom met vliegtuie en tenks te onderwerp,Ga naar eind18. 'n uitspraak wat by Uys nie verbygegaan het nie en wat binne minder as drie jaar in Spanje met die bloedige burgeroorlog 'n werklikheid sou word. Hoewel die Campbells daar steeds finansieel beroerd aan toe was, leen Mary tog vir Uys 'n sommetjie geld waarmee hy die eerste paar maande oor die weg kan kom en wat hy dan later kan terugbetaal. Middel Desember is sy vriend André Nissolle uit Marseille met 'n week vakansie in Spanje en saam besoek hulle die strandplekkie Sitges agt en veertig kilometer suid van Barcelona. Uys verkyk hom aan die landskap en verluister hom aan die Spanjaarde, wat hy met hulle erns | |
[pagina 196]
| |
en strakheid 'n baie simpatieke volk vind. Spanje is vir hom die interessantste land in Europa, skilderagtig en vol sonderlinge kontraste. Tydens die reis na Sitges sien hulle groen velde, heuwels, boerehuisies en die blou wit-skitterende see breed uitskuiwend tot die ver horison! Die see, die see, blougroen stil-deinend, en immer en altyd weer herhaal. Sitges, 'n Spaanse dorp met wit huise met eienaardig kwaai-gekleurde spitsdakke, 'n katedraal op die spitspunt van 'n kaap, kronkelende nou agterstraatjies, 'n breë boulevard op die seefront, 'n goue strand en orals hoë wuiwende palme...Rustig en stil, die stilte alleen verstoor deur die ewige gedruis van die branding.Ga naar eind19. Waarskynlik het Nissolle vir die reis na Sitges betaal, want Mary se lening was gou gedaan en Uys steeds sonder enige fondse. Uit rugbyspeel soos in Frankryk kon hy in Spanje geen enkele peseta verwag nie, aangesien ses maande moes verloop voordat hy aan kampioenskapwedstryde kon deelneem. Sy tydelike onderwysersloopbaantjie kom ook nou ten einde, want die Campbells kan hom nie meer betaal nie. Roy en Mary was buitendien nie baie gelukkig in die bordeelwêreld van die Barrio Chino nie en het verkies om na 'n kleiner plek op die platteland te gaan. Dit was hulle voorneme om hulle in Maart 1934 in Valencia te vestig. Vóór hulle vertrek kon Uys darem sy verjaardag op 4 Februarie by hulle oor 'n ete vier. Intussen moes hy egter weë bedink om op sy eie te oorleef. Nissolle beloof om hom uit die verknorsing te help totdat hy weer geld vir sy artikels uit Suid-Afrika kry, maar dié geld sou eers beskikbaar kom nadat sy vriend by sy terugkeer in Marseille reëlings met sy bank kon tref. Die Huisgenoot se geld en die £1 wat hy van sy moeder sou ontvang, daag met die vertraging van die pos in die Kerstyd nie betyds op nie. By sy hospes leen hy vyf pesetas van sy reeds betaalde huur en op 'n manier slaag hy daarin om nog 'n paar pesetas saam te skraap. Om die honger van die deur af weg te hou, was dit egter nie genoeg nie. Toe kry Uys 'n inval. Hy pak sy blou pak klere, sy blou pajamas, 'n hemp en die sy-sakdoek wat Mizzi hom gegee het, in die bruin handsakkie wat hy en Bokkie in Tottenham Court Road in Londen gekoop het, en neem dit na die pandjieswinkel. ‘Die kêrel agter die tralies, die pandjieshouerbaas,’ skryf hy op 23 Desember 1933 aan sy ouers, | |
[pagina 197]
| |
had 'n vrindelike gesig, het ek dadelik besluit - ‘Met 'n glimlag, breed van erbarme’. Hy het die goed deurgesnuffel, my 20 pesetas (10/-) vir die hele boel aangebied, handsakkie inkluis. En nou sit ek hier met 'n koppie koffie voor my, twee broodjies reeds vinnig weggebêre in my verontregte buik, ryk soos 'n prins, net reg in my skik. Uys moes nou egter op 'n permanenter basis 'n inkomste kry. Nog voor sy koms na Spanje was dit sy voorneme om gereelde weeklikse artikels vir sy ou universiteitsmaat Phil Weber by Die Burger oor sy Spaanse ervarings te skryf en so geld vir sy lewensonderhoud te verdien. Ook vir Die Huisgenoot en The Rand Daily Mail lewer hy stukke. Reeds in November 1933, kort ná sy aankoms in Barcelona, begin hy met dié artikels, wat hy vinnig skryf om die weeklikse skeepspos te haal. Meermale sit hy en werk in Barcelona se groot poskantoor, waar dit warmer is as in sy yskoue dakkamertjie in die Barrio Chino, of in 'n kafee vlakby die poskantoor waar daar 'n stofie is om hom te verwarm en radiomusiek om aan sy gedagtes 'n lekker los ritme te gee. Met die geroesemoes van dokwerkerstemme rondom hom, die geblêr van die radio in sy ore en die tipiese lawaai van 'n drinklokaal sit hy dan en skryf - 'n omgewing en agtergrond waaraan hy gou gewoond raak en wat, deur die spanning wat dit in sy gees skep, bevorderlik was vir die soort artikel wat hy van plan was om vir Die Burger te lewer.Ga naar eind20. Maar 'n groot ramp tref Uys. Einde Desember 1933 steel 'n geslepe rakker in die poskantoor sy laaste 25 pesetas uit sy sakboekie terwyl hy besig was om met die amptenaar by die Poste Restantetoonbank te praat. Daar staan hy toe in die middel van die koue winter sonder 'n bloue duit op sy naam. Die artikels wat hy reeds na Kaapstad versend het, sou eers twee of drie maande later vir hom geld oplewer. Uys moes dus nou dringend planne beraam om aan die lewe te bly. Vir die allereerste keer leer hy wat dit beteken om honger te ly, só honger dat sy ore 'n dag of wat later op 'n straathoek begin suis.Ga naar eind21. Gelukkig het Uys in hierdie stadium reeds die Italiaanse skrywer Alberto Collini, 'n vlugteling van die Mussolini-regering, in die Barrio Chino leer ken. Collini het 'n fyn vermoë ontwikkel om op grond van sy vermeende status as skrywer en met sy innemende persoonlikheid geld, 'n peseta hier en 'n peseta daar, van die bedelaars en | |
[pagina 198]
| |
Italianers in die Barrio Chino in die hande te kry en só 'n hele sindikaat te vorm. As vlugteling uit sy Fascistiese vaderland het hy sy landgenote in Barcelona dit gedurig op die hart gedruk hoe ewig dankbaar hulle moet wees dat hulle deur 'n gulle voorsienigheid die geleentheid, taak en plig het om hom te help onderhou! Ook vir Uys begunstig Collini nou op dié wyse. Collini is soms 'n hele dag besig om sy verspreide pesetas in te samel, sodat hy en Uys dikwels nie voor agtuur die aand op koste van die sindikaat of een van Collini se kennisse by 'n lekker aandete in een van die restaurants aansit nie, maar die soms lange wag is darem meestal nie futiel nie. Op Oujaarsaand 1933 geniet hulle 'n hele fees met brood, groente, sop, wyn en afval.Ga naar eind22. Geen wonder dat Uys met soveel welwillende hulp van bedelaars en uitgewekenes in dié stadium van sy lewe tot die oortuiging kom dat die kommunisme die wêreld se enigste hoop op redding is nie!Ga naar eind23. En deur sy gesprekke met die lede van die onderwêreld vorder hy fluks met sy kennis van Spaans. In 'n brief aan Bokkie aan die begin van 1934 skryf hy: ‘Dis 'n taal vol musiek en klankbekoorlikheid. Die gestadige ontdekking daarvan is 'n taalkundige awentuur honderd!’ Wat Uys tydens die maande in Barcelona veral opgeval het, is die sterk ontwikkelde indiwidualisme van die Spanjaard. Terwyl 'n mens in ander Europese lande rye en rye eenderse huise en mense sien wat almal eenders lyk, is die huise in 'n Spaanse stad dikwels almal verskillend en die mense deur hul hoogmoed en waardigheid almal uiteenlopend. Die gefolterde Christusfigure of martelaarsbeelde in die katedrale en kerke is vir hom 'n aanduiding van die Spanjaard se obsessie met die dood, iets wat verklaar waarom die bewoë en dramatiese skouspel van die stiergeveg steeds in Spanje gewild bly.Ga naar eind24. | |
IIMet die eerste betalings wat hy van die tydskrifte en koerante uit Suid-Afrika ontvang, verbeter Uys se finansiële toestand aanmerklik, hoewel hy nooit in hierdie jare - en ook later! - oor baie geld beskik het nie. Met die koms van die lente, in April 1934,Ga naar eind25. besluit hy om hom te vestig in die rustiger Valencia aan die suidelike kus van Spanje - die Dagbreekkus, soos die Spanjaarde dit noem. Nieteenstaande sy halfmiljoen inwoners was Valencia destyds in baie opsigte net 'n groot | |
[pagina 199]
| |
dorp.Ga naar eind26. Hier woon hy in 'n eersteklas en netjiese losieshuis, met 'n groot ruim kamer vol sonlig, en verdien hy sy ‘skrale lewensbroodjie’Ga naar eind27. as hulpbokser vir 'n bekende Spaanse vuisvegter. Saam met hom woon agt manstudente, aangename kêrels wat in plaas van oor rugby oor die jongste stiergeveg praat! Die Valenciaanse meisies met hul swart sluiers oor die kop en langs hul nek is vir hom besonder mooi.Ga naar eind28. Aan Arnold en Bokkie laat hy op 5 Mei 1934 weet hy vry ‘so ligweggies’ in sy leë oomblikke met die huisbaas se oudste dogter, ‘'n prag van 'n meisie met gitswart oë en hare, 'n bruin vel en rooi lippe wat selfs die mond van die Pous sou laat water’. Haar pa is egter op sy hoede en sluip op ferweelvoete rond; as hy hulle betrap, sal die gort gaar wees en hy klaar met kees! Hy skep egter moed toe hy verneem daar is geen haelgeweer op die perseel nie! Valencia met sy breë strate en ou geboue vol geskiedenis vind Uys gou 'n baie bekoorlike stad, met 'n kunsmuseum waaroor hy in ekstase raak.Ga naar eind29. Byna om elke hoek en draai is daar 'n kerkie vol skilderstukke en brandende altaarlampe, tuine en parke met hoë bloekombome en glinsterende populiere op die wal van die rivier. Wat hy daar veral naas die hitte van die suide waardeer, is die byna subtropiese plantegroei, die blomtuine, die eksotiese Moorse argitektuur van so baie geboue en die lemoenboorde wat bedags vir hom ‘die ene vlam, die ene son’Ga naar eind30. is. In vergelyking met die gevaarlike vinnige verkeer en die diefstal van Barcelona vind hy Valencia deur sy knusheid minder ‘nadruklik’.Ga naar eind31. Deurdat die stad minder kosmopolities is as die veel groter Barcelona, vind hy dat die gewone Spanjaard meer in die buitelander belangstel, makliker met hom gesels en hom allerhande vrae in verband met sy land van herkoms vra. Meer as in Barcelona maak hy hier kennis met die daaglikse lewe van die mense en ervaar hy ook die ware impak van die siësta, die middagrus wat elke Spanjaard jaloers beoefen: 'n Handelsreisiger, op reis tussen een dorp en 'n ander, sal omstreeks twee-uur altyd sy motor in die koelte van een of ander hoë boom instuur, hom daar op die naat van sy rug uitstrek, 'n groot bont sakdoek...oor sy gesig gooi en dan indut om 'n uur of meer met sagte gesnork bye en sonbesies te begelei. Amper al die winkels is tot vieruur en selfs tot halfvyf gesluit. Daar word beweer dat die Spaanse eseltjie - hy is die lankmoedigste van alle diere - met 'n norse uitdrukking in sy oë en 'n ontevrede | |
[pagina 200]
| |
gepiets van sy stert botweg weier om tussen twee- en vieruur enige arbeid te verrig ...Ga naar eind32. Wat verder tot hom spreek, is die Spaanse vrou in haar eenvoud en die Spaanse boer wat in sy waardigheid vir klein diensies nooit geld sal eis nie. By die plaaslike universiteit skryf Uys nou in en maak hy, méér as met sy sporadiese leeswerk tot sover, op 'n sistematiese wyse kennis met die Spaanse letterkunde, wat 'n hele nuwe wêreld vir hom ontsluit. Aan sy ouers laat hy weet hy lees die Spaanse ballades wat vroeër jare met begeleiding van die luit of die tokkelkitaar op feeste en op stadspleine of in herberge voorgedra is en dat hulle met hul eenvoud en musikaliteit tot hom spreek. In die biblioteek kom hy af op 'n taamlik volledige oorsig van die Anglo-Boereoorlog in die offisiële Spaanse ensiklopedie. Hy gaan voort met 'n passasie wat 'n aanduiding is van sy sterk gevoel vir die Afrikaner en sy nasionale verlede in hierdie tyd: Ek het dit van voor tot end deurgelees. En toe ek eindelik een sin lees - nog meer dan sy voorgangers vol eerbied en bewondering vir die Boerenasie - ek vergeet die juiste woorde maar hul was doodeenvoudig en so reg uit die hart - skiet my gemoed skielik vol, en raak ek daar op my eentjie in die hoek stil-weg aan die huil van 'n ontroerende volkstrots, blydskap en treurigheid alles tegelyk. Gelukkig het die lig kort vantevore doodgegaan, was ek besig om in die skemerdonker te lees, en kon geen van die jong klompie wat daar aan die lag en gekskeer was my opmerk nie.Ga naar eind33. Ook die geskiedenis van Valencia voer hom mee. Dit is die ou hoofstad van die Moorse konings wat deur die roemryke ridderheld El Cid verslaan is. Later het Jaime die Veroweraar die More hier finaal die see ingedrywe. Die ou stadspoorte staan nog, ‘[b]ruingoud massiewe muurblokke uit die 14de eeu wat lyk of hul nog oor die heil en veiligheid van die stad waak’.Ga naar eind34. Wanneer die universiteit ná 'n uitbarsting van skietery toegemaak word, vestig Uys hom in 'n klein huisie in die vissersbuurt Malvarossa naby die hawe, 'n buurt wat sy naam kry van die rooikleurige malvas wat daar groei. Hier kon hy sy artikelskrywery in die rustiger | |
[pagina 201]
| |
omgewing van sy huisie voortsit, nie meer in poskantore en kroeë soos in Barcelona nie. Hy versamel sy stof deur land en sand met die mense te praat. En deur die gesprekke heen was hy voortdurend besig om 'n nuwe taal met 'n groot letterkunde ryker te word en om terselfdertyd in 'n nuwe, ryker, voller mens te ontwikkel.Ga naar eind35. Een van die groot ontdekkings wat hy nou maak, is die werk van Federico García Lorca, die groot Spaanse digter en dramaturg wat in 1898 gebore is en in 1936 tydens die Spaanse Burgeroorlog 'n tragiese dood sou sterf. Lorca is 'n skrywer wat Krige van die begin af meevoer en in wie hy 'n sielsgenoot en as 't ware sy eie psigeGa naar eind36. herken. Soos Krige was ook Lorca sterk bewus van die belangrike rol wat musiek in sy poësie speel en kry sy sterk, polsende beelde hulle krag juis deur die klankbodem van die vers. Daarby was Lorca soos Krige 'n romantikus wat naas sy oorgawe aan die lewe fel bewus was van die slagskaduwee van die dood. Soos Hennie Aucamp dit stel: ‘Dis of dié verganklikheidsbesef groter intensiteit aan hul belewing van die oomblik gee, die sensualiteit daarvan verhoog. Die lewe, kan 'n mens sê, is vir hulle 'n stiergeveg, met sy kontraste en dramatiek, en sy ewige moontlikheid op 'n skielike dood.’Ga naar eind37. Wat Krige veral in Lorca waardeer, is, soos hy dit later in sy opstel oor dié digter in Vir die luit en die kitaar sal formuleer, sy natuurlikheid en spontaneïteit, sy gevoelsdiepte, sy fundamentele krag en eenvoud; sy voorliefde - selfs wanneer hy van sy ‘moeilikste’ verse skrywe - vir die tradisionele en populêre in die gewoontes, taal, musiek en dans van sy volk en sy opheffing in sy kuns van daardie volkseie of tipiese Spaanse tot iets ewigmensliks en universeels.Ga naar eind38. Krige vind in Lorca sy eie liefde vir Spanje en sy mense weerspieël, en daarby ook 'n meelewing met die eenvoudige boeremense en verstotelinge waarvan Lorca in sy sigeunerballades, Romancero gitano (1928), getuig. In sy werk vind die Andalusië van sy jeug en die hele Spanje neerslag soos by geen ander Spaanse digter voor hom nie, maar terselfdertyd slaag hy daarin om die lokale met die universele en die indiwiduele met die algemeen menslike te verbind.Ga naar eind39. Daarby vind 'n mens in sy werk elemente van die ou Spaanse volksballades naas die avant-garde en die surrealistiese. Die tradisioneel verhalende volksballades van vroeër smelt saam met 'n liriese komponent | |
[pagina 202]
| |
tot 'n volmaakte sintese. Die gevolg hiervan is dat sy ballades, soos Krige dit stel, ewe veel deur 'n ongeletterde boer of arbeider as deur 'n kenner of fynproewer geniet kan word.Ga naar eind40. Deur die kennismaking met Lorca se werk aangevuur, begin Krige nou van sy verse vertaal. Dikwels word hy só meegevoer dat sy weergawes herskeppinge word, nadigtings van die oorspronklike in die trant van die Spaanse digter. 'n Voorbeeld hiervan is ‘Kitaar’. By Lorca lui ‘La guitarra’ as volg: Empieza el llanto
de la guitarra.
Se rompen las copas
de la madrugada.
Empieza el llanto
de la guitarra.
Es inútil
callarla.
Es imposible
callarla.
Llora monótona
como llora el agua,
como llora el viento
sobre la nevada.
Es imposible
callarla.
Llora por cosas
lejanas.
Arena del Sur caliente
que pide camelias blancas.
Llora flecha sin blanco,
la tarde sin mañana
y el primer pájaro muerto
sobre la rama.
¡Oh guitarra!
Corazón malherido
por cinco espadas.Ga naar eind41.
Letterlik vertaal lui dit as volg: | |
[pagina 203]
| |
Die klag van die kitaar
begin.
Die bokale van die dagbreek
word stukkend gestamp.
Die klag van die kitaar begin.
Vergeefs
om dit stil te maak.
Onmoontlik
om dit stil te maak.
Dit ween eentonig
soos die water ween
soos die wind ween
oor sneeuvelde.
Onmoontlik
om dit stil te maak.
Dit ween vir verre
dinge.
Warm suidelike sand
wat smag na wit katjiepierings.
Ween om die pyl sonder doelwit
aand sonder môre
en die eerste dooie voël
op die tak.
O, kitaar!
Hart dodelik verwond
deur vyf swaarde.
By Krige word dit, deur die byvoegings wat hier in kursief aangedui word, 'n veel langer vers:
Nou begin die vingers
deur die snare vaar:
vyf donker treurendes
singende altegaar.
Nou begin die klag
van die kitaar.
| |
[pagina 204]
| |
Die wynkelke breek
van die awendstond.
Hul purper druppels spat
flonkerend in die rond
en die dag bloei dood
soos uit 'n ope wond.
Die stilte van die skemeruur,
van elke blom en blaar,
die stilte van die eerste ster
en van die slapende snaar,
die stilte diep binne-in die stilte
en hulle roep mekaar.
Nou begin die klag
van die kitaar ...
Dis nutteloos
om hom stil te maak.
Dis onmoontlik
dat hy sy klag sal staak.
Hy ween eentonig
soos die reën
al maar ween
of die meeu,
soos die wind ween
oor die sneeu.
Hy ween om die hartseer
wat die teerste vesels raak.
Hy ween om die dood
wat oor alle dinge waak.
Nutteloos
om hom stil te maak!
Onmoontlik
dat hy sy klag sal staak!
| |
[pagina 205]
| |
Hy ween om dinge
ver, ver weg:
die drome, sugte, fluisteringe
ongeseg
van die mens verlore
langs sy eensame weg.
Hy ween om dinge
ver, ver weg:
sand van die warm Suide
wat na die katjiepiering smag,
moerasse van die troebel Noorde
wat op die sonblom wag.
Hy ween om die pyl sonder kol,
boot sonder hawe, vrou sonder kind,
die middag sonder môre,
swerwer sonder vrind,
al die gebede, snikke, krete
wat wegwaai op die wind.
Kitaar, donker kitaar,
o smart van die aarde!
Hart wat deurboor word
deur vyf swaarde ...Ga naar eind42.
In die jare wat kom, sal Krige veelvuldig uit Lorca se poësie en dramas vertaal en talle kere met bewondering oor hom praat. Ook op sy eie skeppende werk sal Lorca 'n duidelike invloed hê. | |
IIIIn April 1934 gaan Uys 'n week lank na die Campbells, wat hulle ná 'n kort tydjie in Valencia in Altea naby Alicante gevestig het. Hy vertrek, skryf hy op 27 April 1934 aan sy suster Mizzi, met 'n ‘sukkeltreintjie’ oor 'n wyduitgestrekte vlakte wat hom aan dele van die Vrystaat laat dink - | |
[pagina 206]
| |
groen van die lemoenboorde van die een gesigseinder tot die ander, maar ook van ryslande, van allerhande groente en vrugtelanderye...Dit was 'n heerlike môre...Die son wat al hoër styg, al sterker, warmder glans...Orals die plasies, die opstalle waarvan opspits in 'n driehoekvormige rietdak...of somar bruingekleurde afdakkies. Plaaswoonhuise wat wit blaker in die eerste helder lig...'n Haan wat kraai en 'n ander wat êrens verweg antwoord gee. Die geblaf van honde wat lustig, wild-stertswaaiend in die oop veld rondbaljaar...Hier en daar 'n eensaam neerdruipende wilger oor 'n dam of waterpoel wat as die son hom vang en die wind hom effens roer lyk soos 'n groen...blink skitterende waterval wat langsaam en geluidloos na benede suis. Naby elke woonhuis die plaasput waar 'n perd om en om draai, gehalter aan die draai-boom, en die donker emmers sonder ophou van onder opskiet, om dan stelselmatig om te kantel en hul glansend verskuimde bronwater in die vore uit te stort....By elke stasie het ons gaan staan. Daar het hul melkkanne op en af gelaai, groot hope koerante uit die goederewaens op die plafon neergesmyt - balies vol wyn, enorm swaar kiste van lemoene en ander vrugte. Alles wat uit die treintjie of in die treintjie moes kom, was op 'n groot ruim skaal, veral die vet swaar hewigsukkelende boeretannies wat ek gedurig die steil smal kompartement-trappies moes op en af help. By elke haltjie was daar 'n stasiejonker wat ‘die muur help ophou’ het, en geen tree uit sy gemaklike leun-houding verskuif het nie, drie of vier hotelkêrels of ‘werwers’ wat saam op die stasiebank aan die slaap sit, en by elke stasietjie het die drywer uitgeklim, die stasiemeester op die skouers geklap, hewig die hand geskud, en dan saam met hom in die gebou verdwyn, waarskynlik om daar 'n vroeë doppie te steek. Maar die spoed van die trein het nooit haastiger geword nie. Stadig het hy deur die lemoenboorde geskuif, stadig, ongehaas, af en toe het hy lui gefluit, af en toe al stadiger teen 'n opdraentjie opgebeur met 'n wolk van wit rook uit sy swart skoorsteentjie en 'n pof-poffende half-uitdagende geluid asof hy aan die hele lemoen-buurt wou wysmaak dat selfs die agterste agteros kom ook in die kraal ... In Altea huur Roy en Mary 'n boerehuisie waar hulle, soos vroeër in Martigues, hulle volkome by die lewenstyl van die gewone klein- | |
[pagina 207]
| |
boere en plattelanders aansluit en 'n hegte verhouding opbou met dié mense wat hulle by hul aankoms reeds met presente soos blomme, mandjies lemoene, olywe, artisjokke en kanne water uit die helende fontein van die Heilige Anna oorval het. Omdat geen water na die huis aangelê is nie, moes Roy en Mary dit elke dag by die fontein gaan haal. Die pad na die huis was net breed genoeg vir die donkie wat saans deur die voorkamer na die stal aan die agterkant gelei is. Die Campbells was dolgelukkig met hierdie eenvoud en armoede van hulle daaglikse bestaan.Ga naar eind43. By die Campbells ontmoet Uys vir Emilia Eulalia, 'n Katalaanse meisie, effens mank vanweë 'n ongeluk, met wie hy sy eerste ernstige liefdesverhouding begin.Ga naar eind44. Tydens die besoek gaan hulle almal saam piekniek hou in die berge; die kinders, Mary en Emilia elkeen op 'n donkie en Uys en Roy te voet, ‘soos daardie heilige tog deur die woestyn na Egipte’.Ga naar eind45. Van die hoogte sien hulle palmbome, wit dorpies op heuwels en ongelooflike, vrugbare valleie: Boere ses voet hoog en wyd soos wolsakke ry op donkies 'n paar voet hoog - so klein dat die kêrel sy knieë moet oplig - en dan draf die donkie met hom weg so vinnig soos 'n mal vark. Die donkie se stal is vlak langs die eetkamer, en die staldeur open op die eetkamer self. Die donkie stap dus altyd in die eetkamer rond.Ga naar eind46. Een maal per maand, so hoor hy van Mary en skryf hy op 29-30 April 1934 aan Bokkie, word elke huisgesin deur al sy bure besoek. Hul dra dan 'n altaartjie met die Heilige Maria in die middel, sit dit in 'n hoek van die eetkamer neer, en begin dan almal sing en bid vir die geluk en die welvaart van die huisgesin. Toe al die bure laas by die Campbells kom, was die twee meisietjies, Roy en Mary natuurlik verruk. Hul bediende, 'n meisie van 14 jaar, gryp toe die gebedeboek en lei hierdie diensie voor. Dit het omtrent 15 minute geduur. Agter teen die muur het die groot swaar boere in hul gitswart fluweelpakke gestaan. En nie lank nie terwyl daar nog gesing word of Roy begin hewig ontroer en tot groot vreugde van al die waardige vaders vrindelik-besorg, en met 'n groot beskeidenheid die bottel onder hulle aangee ... | |
[pagina 208]
| |
Met 'n hele paar reise wat hy in hierdie tyd onderneem, leer Uys die Iberiese skiereiland in sy volle glorie ken. Wanneer hy per trein of per bus reis, val die sterk kontraste in die Spaanse landskap hom telkens op, met die stede ‘[w]it geblaker deur die son, met tuine, parke, wit pragtige huise, koel patio's vol palmbome, klimop en lowergroen in die middel van elke huis’.Ga naar eind47. Granada, geboortestad van Lorca, het as skoonste sieraad die Alhambra, ‘wat in sy boustyl 'n fynheid vol ligte grasie en fleurigheid openbaar, 'n gevoeligheid wat alleen as lewenslustig beskou kan word, en 'n dartel fantasie wat grens aan die buitensporige’.Ga naar eind48. Terselfdertyd word 'n verfynde sug na weelde en vertoon vir hom hier gepaar met 'n drang na eenvoud en 'n gewyde soberheid wat aan die Moorse boukuns 'n besondere stempel gee.Ga naar eind49. Uys leer Washington Irving se klassieke Spaanse verblyfboek van 1832, Tales of the Alhambra, nou ken. Hoewel daar uitsonderings is in van die maritieme provinsies, kon hy Irving gelyk gee in sy beskrywing van Spanje as ‘a stern, melancholy country, with rugged mountains and long sweeping plains destitute of trees and indescribably silent and lonesome, partaking of the savage and solitary character of Africa’.Ga naar eind50. Madrid, waar sy broer François intussen die skilderkuns begin studeer het, is vir Uys een van die groot stede van Spanje. Dit is in die eerste plek die stad van die Prado, waar die skilderye van Velasquez, El Greco en Goya hang. Wanneer hy die museum met sy ongelooflike skatte verlaat, sien hy in die Spanjaarde rondom hom die waardige aristokratiese gestaltes van Velasquez, die somber, spits en asketiese gelaatstrekke van El Greco se figure en die ‘kort vierkantige nors weerbarstige maar ook humoristiese volkstipes’Ga naar eind51. van Goya. Hy reis deur die verlatenheid van La Mancha met sy baie olyfbome op die voetspoor van die Ridder met die Treurige Gesig. Uys dink hier weer aan Irving, wat hom oor hierdie verlatenheid uitspreek: ‘There is something...in the sternly simple features of the Spanish landscape that impresses on the soul a feeling of sublimity. The immense plains of the Castiles and of La Mancha, extending as far as the eye can reach, derive an interest from their very nakedness and immensity, and have something of the solemn grandeur of the ocean.’Ga naar eind52. Hy verstaan waarom Spanje die dorste land van Europa genoem word en waarom daar gesê word dat Afrika eintlik begin as jy deur die Pireneë is, die hoë bergreeks wat Spanje van Frankryk skei. ‘Dis die ene heuwel, holte en duik op mekaar’, skryf Uys wanneer hy die dorpie Tabernas besoek,Ga naar eind53. ‘en die | |
[pagina 209]
| |
rante, grys en kaal soos skeermeslemme, het fantastiese vorms wat herinner aan sommige van die grusame illustrasies van Gustave Doré vir Dante se Inferno!...Dis of hierdie wêreld in die voordag van die skepping, na 'n geweldige stryd en strewe na die lig, doodgebore is, asof dit te midde van die stuiptrekkings van sy geboorte skielik vasgesteek het en so tot in alle ewigheid in sy eie wanstaltigheid verstar is.’ En wanneer hy met die nagtrein deur La Mancha ry, vang hy in 'n fragmentaries oorgelewerde brief aan Bokkie iets van die essensie van die landskap en van Cervantes se groot werk vas: Daardie nag die Mancha - die Karoo van Spanje - wyd om ons - die somber silhoeëtte van die windmeule teen die grys nageinders - wat draai en draai soos eeue gelede hul om en om gedruis het om al die heldhaftigheid van 'n dwalende ridder te ontvlam, en hom voort te swiep in 'n skitterende stormjaag, juigend, kloekmoedig op die ‘heierhordes van die duiwel’ af! In Desember 1934 trek Uys en François na Almería, 'n klein stadjie aan die suidelike kus by die voorheuwels van die Sierra Nevada, die lang bergreeks wat langs die kus loop en waarvan die spitse altyd met sneeu bedek is. Hulle neef, Lance Krige, wat ook skilder, sluit hier 'n tyd lank by hulle aan en saam beleef hulle 'n tydperk van plesier en kameraderie. Byna 'n maand lank woon hulle in een van Almería se beste hotelle in 'n woonstel wat oor die Middellandse See uitkyk en waar hulle vir hul losies en uitvoerige geregte elke dag net 'n halfkroon betaal. 'n Bietjie later woon hulle vyf maande lank nog goedkoper in 'n groterige huis met ses kamers, 'n hoë plafon, 'n voorstoep en 'n patio, minder as honderd tree van die Middellandse See.Ga naar eind54. Toe hulle teen die einde van die tweede maand nie hulle huurgeld van | |
[pagina 210]
| |
£1.10.0. kon bybring nie, sê die huisbaas: ‘Betaal maar volgende keer...of as een van julle my jongste seun 'n paar lesse in Engels sal gee - hy ken die taal al taamlik - slaan ons die maand oor...’Ga naar eind55. Al drie die Kriges absorbeer die tradisies van Andalusië en bestudeer sy verlede. Terwyl Uys hom verdiep in die werk van Lorca en veral deur sy drama Mariana Pineda en sy bundel Romancero gitano - albei republikeinse geloofsverklarings - meegevoer word, verken die twee skilders die landskap met pen en palet.Ga naar eind56. Uys vertel hoe die Spanjaarde op François se skilderye reageer: As François buite in die veld skilder, verlaat die ou bokwagter wat daar tussen die klipkoppies agter sy bokke aandrentel, gewoonlik na 'n tydjie sy kudde en kom hy die maestro groet. Na hy hom wyn uit sy fles en 'n stuk growwe brood aangebied en hulle so 'n bietjie gesels het, neem hy op 'n ordentlike afstand agter die skilder plek in...So staan hy daar, steunende op sy staf, 'n uur of meer, roerloos, sonder om 'n woord te sê - waak hy met vérsiende blik tegelyk oor sy bokke wat dóér teen die hang wei en die skildery in wording hier vlak voor hom. Vroeg in Maart 1935 geniet die Kriges die feesdae van Almería as al die kinders hul pragtige klere en rokkies aantrek en in optogte stap, terwyl die mans en vroue in die strate en op pleine dans en sing en wyn drink. Op 'n uitstappie na Valencia verdrink Uys en Lance amper as 'n sterk stroom hulle die Middellandse See insleep.Ga naar eind58. 'n Blye weersiens wag vir Uys as hy en François hulle moeder op 18 Maart 1935 by Gibraltar vir 'n reis deur etlike lande gaan ontmoet. Om haar lieflingseun weer ná bykans vier jaar vas te hou, was vir Sannie Krige 'n wonderlike ondervinding, al kon sy onmiddellik merk dat hy 'n paar armoedige jare agter die rug het. ‘Uys, jy was 'n liewe seun, maar jy het darem baie agteruitgegaan’,Ga naar eind59. was haar eerste woorde aan hom. Aan haar vriende die Howe-Brownes skryf sy op 8 April 1935 dat Uys nog so baie lag soos altyd, maar dat hy in sy uitkyk op | |
[pagina 211]
| |
dinge baie verander het. Ten spyte van sy armoede het hy vir homself 'n wonderlike opvoeding gegee. Hy lees en studeer en skryf die hele tyd, verdiep hom in musiek, skilderkuns en argitektuur. Maar, sê sy verder, hy kan nie voortgaan om op dié wyse te lewe nie. Wat hy ná hulle gesamentlike reise ná haar terugkeer moet doen, is om na Nederland te gaan waar hy regstreeks met die Nederlandse taal en letterkunde in aanraking kan kom. Sy voeg by: ‘I have cried a lot when I see how neglected he has been in these few years living without money....He has one suit which a friend gave him....He is like a child. He is so amazed at the very ordinary nice things I have and it tells a tale. I blame myself for not sending him money every month.’ Van Gibraltar reis Sannie en haar twee seuns na Algeciras en Cadiz, 'n juweel aan die see, en van daar na Sevilla met sy groot katedraal en Granada met sy Alhambra. In Madrid wys Uys haar die Prado. Ná 'n paar dae in Almería reis Uys en Sannie deur Provence na Italië, waar hulle Florence besoek. Wanneer hulle in Parys aankom, sluit François by hulle aan. Parys het vir Uys by die herbesoek iets van sy glans verloor, al bring dit nog steeds die tinteling en die ligte opgewektheid van gees en hart van sy eerste besoek terug. Uys was nou voornemens om België en Nederland te besoek en kontak met Nederlandse en Vlaamse skrywers te maak. Van Parys gaan hy, vergesel van Sannie en François, na Brussel om 'n klompie van die Vlaamse skrywers aan wie A.A.M. Stols hom per brief voorgestel het, te leer ken.Ga naar eind60. Hy besoek Antwerpen, maar vind die Vlaminge stug, swaar op die hand en swygsaam. Hy werk niks en dwaal net vir kwaadgeld rond, maar besoek die voordragkunstenaar Modest Lauwerijs twee maal per week. Lauwerijs, vir wie hy reeds tydens die Vlaming se besoek aan Stellenbosch in die twintigerjare ontmoet het, wil weer op 'n voordragreis na Suid-Afrika gaan en is ingenome met die gedigte wat Uys hom vir kommentaar voorlê. Antwerpen, sê Uys in 'n brief van 29 Junie 1935 aan Bokkie, akkordeer nie met hom nie, al ontmoet hy ook die skrywer Gerard Walschap en hou hy baie van Dood in het dorp wat Uys van hom ontvang. Ook Gent is skilderagtig en simpatiek, maar vir Uys bestaan daar nou net twee lande: Spanje en Suid-Afrika! In Nederland kom hy net tot by die suidelike stad Maastricht, waar hy Stols ontmoet. Intussen is Sannie terug na Suid-Afrika,Ga naar eind61. terwyl François in Antwerpen agterbly om verder te studeer. Onderweg terug na Almería bly Uys 'n week lank in Madrid. Daar woon hy die Lope de Vega-fees | |
[pagina 212]
| |
ter ere van die groot Spaanse dramaturg uit die sewentiende eeu by en kry hy sy eerste aanstuwing om self vir die toneel te skryf. Een van die groot toneelondervindings van sy lewe was die opvoering van Lope de Vega se pragtige sosiale drama Fuente ovejuna, wat deur Lorca by dié geleentheid met 'n studentegeselskap in die Retiropark in Madrid opgevoer word.Ga naar eind62. Omdat Krige te laat vir 'n afspraak met Lorca opdaag, verbeur hy die enigste geleentheid wat hy ooit gehad het om die beroemde digter en dramaturg te ontmoet!Ga naar eind63. Ná die Lope de Vega-fees gaan hy aan by die Campbells, wat hulle intussen in Toledo, die swaardestad net suid van Madrid, gevestig het. Toledo, laat hy sy moeder op 20 Augustus 1935 weet, is 'n pragtige en heeltemal unieke plek. Teen skemeraand gaan staan hy by die ou Romeinse brug oor die Taag: Later toe die maan reeds oor die grou rande aan die opkom is, het ek in die Taag geswem, teen die rooi walle van die heuwels aan...Op die ou brug het ons iets onvergeetlik gesien: 'n tipies El Greco-hemel half vaal en grysblou half donker met maanlig tussenin, helder, ongelooflik helder weerkaats diep diep onder in die rivier. Maar toenemend in hierdie laaste maande van Uys se verblyf in Spanje handel sy briewe huis toe oor sy liefde vir Emilia, met wie hy in die huwelik wil tree en vir wie hy in die maande tydens sy besoek aan die Lae Lande in Spanje moes agterlaat. In briewe verwys hy na haar as ‘daardie liewe kind’, in alle opsigte 'n ‘sagsinnige lieftallige mens’. Op 10 Julie 1935 skryf hy weer aan Bokkie dat hy met Emilia wil trou; as daar geld genoeg is, dadelik, anders in die Kaap. ‘Emilia is een van die gaafste, liefste, ordentlikste mense wat ek ken’, gaan hy voort, ‘en as daar ooit iets mag skeel aan die geluk van ons huwelik, sal dit nie haar skuld wees nie.’ Op 24 Julie vra hy sy pa om sy passaat te betaal sodat die huwelik in Suid-Afrika kan plaasvind. Uit 'n brief van 3 September aan Bokkie blyk dit dat hy ook daarna sy doopsertifikaat by sy pa aangevra het, iets wat hy nodig het indien hy en Emilia in Spanje trou. Aan Bokkie skryf hy: Sy [Emilia] het al die pragtigste eienskappe van haar volk - natuurlikheid, spontaneïteit, eenvoudigheid, gulhartigheid, dikwels 'n byna goddelike kinderlikheid. Sy is lief, heeltemal huislik soos | |
[pagina 213]
| |
elke Spaanse vrou....Die eenvoudigste armste mense en alle kinders is gek na haar - wat vir my die mooiste bewys is van haar karakter....Sy het 'n diepte van teerheid en goeie gevoel - sê instinktief dinge oor die lewe, die liefde, wat my nie selde nie verras, en soms verstom... Wat hom in die besonder bekoor, is die wyse waarop sy dans, iets wat hom lank sou bybly: Sy dans - haar eie spontane Spaanse danse - met 'n algehele onbewustheid van haarself, 'n opganing in die ritme en die kadans wat m.i. alleen moontlik is in 'n goeie, baie natuurlike en hoogs gevoelige mens...Sy het 'n sin vir ritme wat maak dat as ek met haar dans, ek alles, alles om my, myself en al my kleinheid, skoon vergeet - en dat ek op daardie oomblik my lewensvreugde miskien beter uitdruk met my voete as ek ooit kan hoop om dit met my pen te doen. In die toneelaanduiding vir die solitêre dans van die vreemde kind Soledad in sy drama Die goue kring sou Uys iets van Emilia se dans vaslê: In die linkerhoek van die toneel, voor Luis verby, het ook Soledad begin dans; maar haar dans is...langsaam en ingetoë...Haar passies het iets netjies en afgemeet asof sy hulle een vir een self uitdink; en die uitdrukking op haar gesig is ernstig, byna plegtig, met diep daaronder, ten grondslag van al dié erns, 'n skaars waarneembare trekkie weemoed.Ga naar eind64. Uys was sonder twyfel baie lief vir Emilia en sy vir hom. En tog kom dit nooit tot trou tussen hulle nie. Het die aangevraagde doopsertifikaat nie betyds opgedaag nie? Het Uys miskien op die nippertjie geaarsel om so 'n spesifiek Spaanse meisie, ingebed in die kultuur en leefwyse van haar eie land, na Suid-Afrika te neem waar sy haar lewe anders sou moes inrig? Het hy in sy geldlose toestand tog uiteindelik nie in dié stadium van sy lewe kans gesien vir 'n huwelik nie? Of het Emilia self opgesien teen die praktiese probleme wat vir haar voorlê in 'n huwelik met 'n romantikus se instelling teenoor die lewe? Hoe ook al, met Uys se vertrek uit Spanje eind 1935 loop sy en Emi- | |
[pagina 214]
| |
lia se paaie finaal uiteen. Dat dit 'n hartseer dag vir albei was en dat hulle die besluit nie ligtelik geneem het nie, kan 'n mens geredelik aanvaar.Ga naar eind65. | |
IVMet sy onderrig aan die Campbell-dogters op 'n einde en met enige inkomste uit rugby in Spanje nie in sig nie, moes Uys met sy aankoms in Barcelona ander weë bedink om aan die lewe te bly. Die aangewese weg was om artikels oor sy Spaanse ervarings aan alle moontlike tydskrifte en koerante in Suid-Afrika voor te lê en om die moontlikhede vir publikasies in Nederland te verken. Tot in daardie stadium was sy joernalistieke artikels hoofsaaklik in Engels en ‘kopwerk’, in teenstelling tot sy poësie, wat vir hom werk van die hart was.Ga naar eind66. Sluimerend in sy onderbewussyn was egter die voorneme om, ná drie of vier artikels as proeflopies, sy Afrikaans ook op die gebied van die prosa tot 'n kragtige en soepel medium uit te bou. In Provence het sy uitgebreide studie van die Franse letterkunde - Villon, Corneille, Racine, Molière en veral die groot moderne digters, Baudelaire, Verlaine, Rimbaud en Apollinaire - daartoe bygedra om sy eie taal aan hom te openbaar. In Barcelona het die blote aanhoor van die Spaanse taal en die eerste vlugtige insae in die Spaanse letterkunde iets in hom as jongman laat tril. 'n Tweede Romaanse taal, met al die eienskappe van sierlikheid, soepelheid, grasie, elegansie en vernaamheid, het sy invloed by dié van Frans kom voeg. Hy kon merk hoe die Spaans wat hy daagliks ervaar, ook nou vonkies uit hom laat opslaan het.Ga naar eind67. Met sy leeswerk gaan hy daagliks voort. By Bokkie en ander lede van die familie doen hy navraag omtrent die roman Dawid Booysen ‘deur 'n sekere Van Melle’, wat in Die Huisgenoot deur 'n onbekende kritikus hemelhoog aangeprys is.Ga naar eind68. Sy kennismaking met dié roman lei tot 'n groot waardering vir Van Melle, wat aanvanklik deur die kritiek misgekyk is, 'n waardering wat later tot 'n persoonlike vriendskap en 'n bloemlesing uit dié skrywer se kortverhale sou uitgroei. In Die Huisgenoot, wat Bokkie hom gereeld aanstuur, lees hy die verhale van Mikro, Franz en Grosskopf met groot waardering en ‘vis’ hy ‘mandjiesvol woorde’Ga naar eind69. wat hy later in sy eie skeppende werk kan gebruik. En die Afrikaanse Bybelvertaling wat in 1933 verskyn, is vir Uys 'n hele openbaring. Die boek Jesaja is in Afrikaans ‘'n don- | |
[pagina 215]
| |
derende Jehovah-stem wat wraak, vernietiging en rampspoed voorspel’. In 'n lesing wat hy jare later oor ‘The living language: A few thoughts on Afrikaans’ hou, praat hy oor die Bybelvertaling as een van die belangrikste gebeurtenisse in die ontwikkelingsgeskiedenis van die taal. Hy spreek sy waardering in die besonder uit vir daardie gedeeltes van die Ou Testament wat deur Totius vertaal is ‘and the incalculable influence it must have exerted on two generations of our Afrikaans-speaking people since that date’.Ga naar eind70. Hy leer Rabelais in 'n Engelse vertaling ken en vind dit 'n heerlike boek waardeur ‘'n frisgesonde luid-bulderende lag gaan, geweldig soos 'n rukwind’ - die ‘meesterwerk van 'n man, 'n suiper, 'n vreter, 'n digter en geleerde, 'n man, 'n lewensliefhebber en genieter tot in sy diepste derms’.Ga naar eind71. Voltaire se Candide is vir hom 'n meesterstuk, ‘die Franse genie op sy klaarste en suiwerste’.Ga naar eind72. In 'n brief van 23 Desember 1933 is hy bly om te hoor sy moeder geniet Don Quijote. Hy self vind dit 'n ‘bergpiek’ in die wêreldletterkunde, lees dit nou in die oorspronklike Spaans en is voornemens om dit in 'n suiwer ritmiese, kernagtige Afrikaans te vertaal.Ga naar eind73. Maar voordat hy behoorlike artikels oor Spanje kon skryf, moes Uys eers die invloede van sy leeswerk verteer en moes hy vir homself 'n prosastyl verower. Vir die tipe werk wat hy wou skryf, was daar haas geen voorlopers in Afrikaans nie. Prosaskrywers wat deur kritici hoog geroem is, was met die weelderige woordoordaad vir hom nie navolgenswaardig nie. As 'n mens sy briewe aan Bokkie en sy ouers uit dié tyd nagaan, is dit opvallend met hoeveel erns Uys hom in hierdie jare aan sy roeping as skrywer, ook as prosaskrywer, wy. In 'n brief van 5 Desember 1933 uit Barcelona aan ‘die hele familie’ voel hy dat hy nog skaars begin het en nie oor sy bietjie werk behoort te praat nie. Hy weet daar lê 'n ontsaglike stuk arbeid voor hom, 'n lewenslange toewyding en afwagting. Dikwels twyfel hy aan sy talent, sy moontlikhede en sy bevoegdheid om werklik iets goed en suiwer te lewer en vervloek hy sy ‘slaphandigheid’, sy ‘verdomde luiheid en ewige uitstel-kompleks’. Dikwels moet hy homself drie dae lank beveg, skel en slegsê voordat hy met 'n artikel kan begin, en selfs dan vorder hy so stadig soos 'n slak. En dan gebeur dit nog dat Die Burger van 'n tiental artikels wat hy lewer, net drie publiseer, met geen woord van ontvangs of weiering nie en met 'n karige betaling vir dié wat wel gebruik word - ‘die Afrikaanse buffelagtigheid en onbeskoftheid op sy ergste’.Ga naar eind74. Ander dae is hy weer dronk van se- | |
[pagina 216]
| |
kerheid, moed en hoop. Hy voel egter afgesterwe van sy land en sy taal, wat hy nou glad nie meer hoor nie. Drie dae later kla hy weer teenoor Bokkie hoe swaar hy Afrikaans skryf, hoe stram, stroef en onkernagtig alles wat hy op papier neerpen, vir hom lyk. Sy sinne is so hortend en stampend soos die ‘kakbaliewaens’ wat saans, toe hy 'n kind was, met liglanterns beweeg het, met hees geroep en 'n gekreun van die onsigbare manne wat hulle treurige en ongewaardeerde nagtaak moes verrig. Dit is juis na eenvoud en helderheid wat hy in sy prosa streef. Wat hom in hierdie jare onderskraag, is die oortuiging dat hy, ten spyte van al sy bedenkinge, tog as skrywer iets kan lewer. ‘As ek 'n talent het en nie 'n talentjie nie,’ skryf hy in Junie 1934 aan sy moeder in 'n gedeelte wat ‘Die beiteltjie’ van N.P. van Wyk Louw vooruitloop, ‘gaan ek hom suiwer en reinig totdat hy skyn en skitter soos 'n blink geslypte diamant.’ Daarby kom die bewuswording van sy identiteit as Afrikaner. Op 'n wilde stormnag in Valencia sien hy eensklaps die Afrikaanse taal as 'n fluit, 'n viool, 'n tjello of 'n basviool wat slegs deur 'n enkele musikant bespeel word, maar wat die moontlikheid het om soos 'n groot orkes met ten minste honderd instrumentaliste saam te speel en net wag op 'n dirigent ‘om hulle almal in één groot singende klankverband saam te snoer’.Ga naar eind75. Hy ontwikkel 'n hartstogtelike liefde vir sy taal, voel trots op die Afrikaner se heroïese verlede en begin, soos D.J. Opperman dit stel, ‘aan die moontlikheid dink van...'n onafhanklike Afrikaanse kultuur en volk’Ga naar eind76. soos wat hy by die Franse en Spanjaarde leer ken het. In hierdie enigsins naïewe geesdrif skryf hy ook dat 'n groot en ingrypende verandering onlangs in hom gekom het: Die openbaring het met 'n byna verblindende klaarte gekom: dat ek 'n Afrikaner is. Afrikaner tot in my hart en siel, Afrikaner in die pragtigste, reinste sin van die woord. Dit was asof ek jare lank in die donker rondgetas het, en nou skielik speel, suiwergoud en stralend, die daglig om my. En ek het my juigend gevoel, sterk soos nooit vantevore nie, sterk met al die stoere krag van my ras, van my volk...En ek het God gedank vir Spanje en die omwenteling wat hy in my teweeggebring het. My hele lewe het plotseling 'n grondves gekry, 'n rigsnoer, 'n doel: om my nasie, my volk nederig en met 'n diep vasgewortelde onuitputbare liefde te dien - hardnekkig, tot die beste van my vermoë, en met | |
[pagina 217]
| |
die laaste greintjie van watter gawe ek ook mag hê. Trots op my ras, my volk, sy pragtige geskiedenis; juis hierom voel ek my vandag fors en sterk soos 'n leeu. Uit hierdie vaste oortuiging en voorneme ontstaan Krige se spontane Afrikaanse prosastyl. In 1934 en 1935 skryf hy 'n veertigtal artikels waarvan die meeste in Die Huisgenoot en Die Burger verskyn. In sy stukke vir Die Huisgenoot gee hy sketse van die talle karakters wat hy in die Barrio Chino in Barcelona leer ken. Hoewel hy later sou toegee dat die karakters wat hy aan die woord stel, dikwels spreekbuise is van wat hy oor Spanje te sê het en dat hy by 'n hersiening graag hulle monde sal wil snoer, is baie aspekte van dié figure tog uit die lewe gegryp en voer hulle 'n mens mee deur hulle sêgoed en allerlei geestighede. Wat die leser veral opval, is dat Krige, soos Hennie Aucamp opmerk, geen skurke ken nie, hoogstens ‘beloved vagabonds’.Ga naar eind77. Verder wei hy uit oor die stede waar hy korter of langer periodes vertoef, oor die heilige dae op die Rooms-Katolieke kalender, oor sy reise en reisgenote, oor sy indrukke van Granada en die Alhambra en oor die ‘verstand-dronke Europa’. Ook vir Die Burger skryf hy oor sy reise en indrukke van plekke wat hy besoek en mense wat hy ervaar, maar staan ook stil by aktuele sake soos die sporadiese stakings, die bomontploffings en die protesoptogte in Barcelona en Valencia en die aanlope tot die Spaanse Burgeroorlog. Met die skryf van hierdie artikels het Krige bewus geword van die moontlikhede wat Afrikaans as prosamedium vir hom bied. Vir die eerste keer het hy ook, soos hy dit later sou stel, ‘probeer...om in my eie taal 'n gepaste vorm in prosa te vind vir 'n aantal gedagtes, indrukke en gewaarwordinge wat, so het dit my voorgekom, skaars stof sou wees tot poësie’.Ga naar eind78. Terwyl hy nog in Spanje was, het sy vader hom gereeld die uitknipsels van die artikels gestuur en hom gedurig aangemoedig deur met 'n blou magistraatspotlood in die boonste hoek frases by te skryf soos ‘Mooi so...skryf meer in dié trant’, ‘Dis beter. Aanhouer wen...’, ‘Waarom twyfel jy? Daar's niks met jou prosa verkeerd nie...’Ga naar eind79. Jare lank het hierdie artikels in 'n laai bly lê. Ná die Tweede Wêreldoorlog, ná veel ervarings en bewoë belewenisse, kom Krige op aandrang van sy vader, M.S.B. Kritzinger en C.J.S. Strydom van die Unie-Volkspers daartoe om van die stukke in boekvorm uit te gee - nie die laaste keer dat hy só lank sou wag voordat werke van hom hulle | |
[pagina 218]
| |
weg na 'n bundel vind nie. Hy kies 'n vyftiental wat betrekking het op sy verblyf in Barcelona, Valencia en Almería - die drie hawestede. Met die oog op publikasie in boekvorm hersien hy dié artikels, aanvanklik in sy huis in Norwood, Johannesburg, later, in April en Mei 1947, by sy ouers in Kaapstad, waar hy in ongeveer ses weke alles finaliseer - sy eerste prosawerk van betekenis. Met die hersiening slag hy veral onder die talle byvoeglike naamwoorde. Om die gees van Spanje en die Spanjaard, en daarmee die sentrale tema van die boek, aan te dui, noem hy die bundel Sol y sombra. Hy dra dit op aan sy vader, Japie Krige. Die eerste druk verskyn in 1948 by die Unie-Volkspers in 'n praguitgawe met tekeninge deur sy broer François. Ná die verdwyning van die Unie-Volkspers neem J.L. van Schaik die uitgawe oor en hersien Krige dit verder. Uit die staanspoor het die kritici hulle oorwegend baie gunstig uitgespreek oor hierdie versameling sketse en was dit deur die talle herdrukke oor verskeie dekades en as keuse vir die voorgeskrewe lys op skool een van Krige se beste verkopers. In 'n artikel wat hy vir Ons Eie Boek skryf, wys Ernst van Heerden op die wyse waarop die sketse rondom 'n indruk of idee opgebou is, meestal met die soeklig op een karakter en dikwels deur die persone self aan die woord te stel. Wat hy waardeer, is Krige se belesenheid, sy opmerkingsgawe, die invleg van 'n menigte interessante besonderhede, die praatstyl naas prosa wat op baie plekke digterlik aandoen en die ‘onderdrukte weemoed, 'n soort huiwerende melancholie om die diepere betekenis van die Spaanse tragedie’.Ga naar eind80. In Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede noem Rob Antonissen Sol y sombra een van die fraaiste produkte van Krige se taalvirtuositeit en waardeer hy die sprankelende ‘geestigheid, liefde en wysheid van die vry-swerwende wêreldburger, aandoenlikjongensagtige openhartigheid en innigheid’ wat alles ‘lewe in hierdie ontmoetings met die mens en die menslike landskappe en 'n beskawingsvorm’.Ga naar eind81. In 'n oorsig oor die Afrikaanse prosa sê Elize Botha Sol y sombra is ‘'n model vir die manier waarop reisverhale in die sestigerjare weer sou geskryf word, en 'n bloeiperiode in dié genre sou bewerkstellig’.Ga naar eind82. Sy spreek haar waardering uit vir die ‘spontaneïteit en onbevangenheid’ van die sketse, wat die indruk wek ‘asof hy hulle in die opwinding van 'n goeie gesprek neergeskryf het’.Ga naar eind83. Krige stel mense aan die woord en toon terselfdertyd sy toegeneentheid vir die mense wat hy waarneem. ‘Dit is die lewende reisbeskrywing: die aandag nie net vir die landskap, vir stadsbeelde | |
[pagina 219]
| |
en monumente nie, maar vir hierdie dinge as konteks van bepaalde lewensvorme, as deel van 'n menselewe. So verdig die reisbeskrywing tot 'n perspektief op die lewens van mense binne 'n wêrelddeel en word die reis deur Barcelona, Valencia, Almería, saam met 'n reisgenoot wat met die volle inset van sy persoonlikheid, sy verbeelding en sintuie die reis ervaar, tot 'n soort poëtiese belewenis’.Ga naar eind84. Uit die joernaliserende artikels wat hy noodgedwonge, weens ‘broodgebrek en 'n plat pens’,Ga naar eind85. in Spanje moes skryf om aan die lewe te bly, het Krige 'n besonderse prosastyl ontwikkel wat plek-plek tot poësie verdig, sonder om in Malherbiaanse mooiskrywery te ontaard. Met sy reis- en verblyfboek kon hy die voorloper word van talle latere reisigers in die Afrikaanse prosa, veral in die sestigerjare. Wanneer hy in 1966 sy reisboek Olé oor Spanje publiseer, sê André P. Brink dat hy sy eerste blik op hierdie land deur die ‘ligryke oë’ van Uys Krige gekry het.Ga naar eind86. Maar die grootste erkenning en hulde vir die prosastyl wat Krige hier ontwikkel, kom in die inleiding wat Jacques Malan, joernalis en later die knap redakteur van Trek, reeds in 1935 in The Critic as inleiding tot Roy Campbell se artikel oor Uys Krige en Afrikaans skryf: It is not often that one sustains the sense of having long awaited a piece of writing which time, circumstances and a kindred desire in another's being have conspired to produce at last. I had this sense about Uys Krige's writing. The first time when about two years ago I unexpectedly browsed upon a lovely fragment of poetry entitled Nagreën and the second time, when on looking through the leader pages of an Afrikaans daily, I promptly forgot the purpose of my search in my eagerness to gorge myself on the prose ambrosia of a series of travel sketches which dulled the contents of the columns which companioned it into drab death. It was a prose full of winged neologisms and supple rhythms. Here was a writer who could write urbanely, humorously, hedonistically, extravagantly, sagaciously. In short a writer who sounded not one new note in Afrikaans but a whole new symphony.Ga naar eind87. | |
[pagina 220]
| |
VTerwyl Krige besig was om die kultuur en literatuur van Frankryk en Spanje in hom op te neem, was daar in Johannesburg en Kaapstad jonger skrywers aan die werk wat binne 'n paar jaar 'n hele vernuwing in die Afrikaanse poësie sou bring. In Johannesburg kom 'n groep skrywers onder C.M. van den Heever, professor aan die Witwatersrandse Universiteit, as leidende figuur dikwels bymekaar om gedagtes te wissel. Hieruit groei die Afrikaanse Skrywerskring, wat in 1934 gestig word met die doel om skrywers met mekaar in kontak te bring, literêre probleme te bespreek, die verspreiding van die Afrikaanse boek plaaslik en in die buiteland te bevorder, gereelde oorsigte oor die groei van die Afrikaanse letterkunde te publiseer, van tyd tot tyd die beste boeke aan te wys en in 'n adviserende hoedanigheid by die voorskryf van boeke op te tree. Kunstenaars wat met die Skrywerskring gemoeid is, sluit T.J. Haarhoff, S. Ignatius Mocke, Eitemal, J. van Melle en P. de V. Pienaar in, terwyl Van den Heever as voorsitter optree. In Kaapstad was die byeenkomste van jonger skrywers en intellektuele meer spontaan en loop dit nie op die stigting van 'n formele vereniging uit nie. Aanvanklik kom W.E.G. Louw, Hettie Smit en Fred le Roux bymekaar om oor die literatuur te praat, terwyl N.P. van Wyk Louw, Boerneef, J. du P. Scholtz, I.D. du Plessis en Abr. H. Jonker later by hierdie vriendekring aansluit en lewendig oor die kuns, politiek en letterkunde gesels. Dikwels ontmoet hulle mekaar by die ondernemende Nederlander Gerrit Bakker se boekwinkel in Kerkstraat om van die nuwe bundels van Roland Holst, Bloem, Donker, Gossaert en Nijhoff te koop en saam te gaan koffie drink, terwyl hulle baie keer op Vrydagaande byeenkom in die Tamboerskloofse huis van Charlie Weich, onder die skuilnaam Emol musiekkritikus van Die Burger, om na plaatopnames te luister. In 1935 werk 'n hele paar van die suidelike groep mee aan 'n boekeweek wat moet dien as ‘'n wapenskou, monstering van kragte, die nagaan van ons letterkundige besit’ ten einde ‘die volk onmiddellik met sy letterkunde in aanraking...[te] bring’.Ga naar eind88. Hieruit ontstaan die behoefte om self werk uit te gee wat op literêre meriete gepubliseer word, en nie, soos sommige uitgewers wou hê, slegs aan die eis van voorskryfbaarheid op skool voldoen nie. Wanneer Krige reeds terug is in Suid-Afrika, sou die Vereniging vir die Vrye Boek tot stand kom om in hierdie behoefte te voorsien. | |
[pagina 221]
| |
In Mei 1934 verskyn W.E.G. Louw se eerste bundel, Die ryke dwaas, gevolg deur Alleenspraak van N.P. van Wyk Louw vroeg in 1935. In hierdie poësie - waarvan die vroegste voorbeelde eenvoudige liedjies en balladeske verse is, later gevolg deur 'n intens persoonlike poësie oor die binnelewe van die indiwidu en sy geding met God - word die leser getref deur 'n veel groter professionaliteit in vergelyking met baie van die poësie van voor 1930. Die Louw-broers, C.M. van den Heever in sy bundel Deining (1932), I.D. du Plessis in Stryd (1935) en die noordelike Elisabeth Eybers, wie se eerste verse in tydskrifte begin verskyn, sien die poësie as 'n bewuste taak en wil 'n vers skep waarin elke woord en beeld suiwer en artistiek bevredigend is. Dikwels is daar by hulle, veral by die Louws, sprake van die sterk roepingsbewustheid van die digter wat alleen en afgesonderd van die massa sy eensame werk moet voortsit. Iets hiervan vind 'n mens in ‘Digters’ van W.E.G. Louw: Toe ons vlamwit van God
gekom het, kon ons sing;
maar deur ons harte blink
kom die bleek daglig dring,
en is ons lied versmoor
in die gekkegelag van haat
in die markplek en op straat.Ga naar eind89.
'n Sleutelvers vir die vroeë Dertig is A.W.E. O'Shaughnessy se ‘Ode’, waarvan die eerste strofe met die volgende reëls begin: We are the music-makers,
And we are the dreamers of dreams,
Wandering by lone sea-breakers,
And sitting by desolate streams.Ga naar eind90.
By Van Wyk Louw word dit in ‘Ons is die geeste wat dwaal’: | |
[pagina 222]
| |
Ons is die geeste wat dwaal,
wat g'n rus het,
soos blare wat waai op die wind
waar hy lus het;
tussen mense wat nie bemin
of gehaat het,
maar ons, met ons drome alleen,
verlaat het,
want geeneen wat die droom in ons oë
gelees het,
sal rus of ooit wéér wees
soos hy gewees het.Ga naar eind91.
In Krige se poësie is daar in hierdie jare - en ook later - nooit 'n geding met God nie en ook nooit sprake van die digter as 'n soort profeet of 'n begenadigde nie. Hy was wars van die siening van die digter as 'n soort vereensaamde heroïese figuur met 'n ‘hoë taak’ of ‘roeping’ en het gemeen, soos hy dit veel later sou formuleer, dat so 'n voorstelling vir die demokratiese twintigste eeu te ‘ouderwets’Ga naar eind92. is. Teenoor die belydenisvers van die Louws reik die ek in Krige se poësie uit na die wêreld rondom hom, na mense of dinge wat dikwels die draers van sy romantiese verlange word of na plekke wat hy met 'n intense aardse vreugde kan waarneem. Teenoor die oorwegend Germaanse gerigtheid van sy tydgenote vind die Mediterreense wêreld en gees neerslag in sy werk. Dit bring ook by hom 'n tegniese ontginning waaraan die ander Dertigers in hulle beginjare nie in dieselfde mate meedoen nie. Tog is daar, hoe teenstrydig dit met sy latere uitsprake ook mag klink, iets van die profeet in enkele verse van Krige uit hierdie jare aanwesig. Sy bestudering van die Franse en Spaanse digters, veral die wyse waarop hulle hulself uitdruk, lei hom tot 'n ontdekking van al die moontlikhede wat sy eie taal hom bied.Ga naar eind93. In sy verrukking oor die poësie wat hy leer ken en wat hy self wil skryf, kon hy hom onbewustelik vereenselwig met die hoë eise wat die Louws aan hulself stel en kon hy iets aanvoel van die grootse taak van die digter. Wanneer W.E.G. Louw Die ryke dwaas aan hom stuur, is hy dan ook in 'n brief van 4 September 1934 baie entoesiasties daaroor. ‘Hy het dit erns met die poësie - ek het groot vertroue in hom’, skryf hy aan Bokkie. ‘Daar is veel verdiensteliks in sy werk.’ | |
[pagina 223]
| |
Juis in hierdie tyd werk Krige aan 'n lang gedig in verskillende afdelings waarin hy 'n hele vasteland met 'n magtige rivier en stralende sterrebeelde, bevolk deur swerwers en sieners, wou opbou.Ga naar eind94. Van hierdie lang vers, wat duidelik as 'n epos gekonsipieer is, het net enkele fragmente bewaar gebly, want op 24 Desember 1934 laat hy Bokkie weet hy het 'n hele koffer van hom met artikels, vertalings, kortverhale en dele van die onvoltooide lang gedig op die Spaanse trein agtergelaat. In sy bundel Rooidag van 1940 sal hy ‘Die rivier’ (waarmee hy nog vóór November 1933 in Frankryk begin het)Ga naar eind95., ‘Die swerwers’ en ‘Die sterre’ uit hierdie epos opneem.Ga naar eind96. Uit dié ‘epiese’ verse is dit duidelik dat Krige hier in die ban van Vondel verkeer en in die dekoratiewe styl met die volgehoue paarrym van die sewentiende-eeuse Nederlander skryf. Hierdie ‘Vondel’-verse van Krige is, selfs in die herskrewe vorm in Gedigte 1927-1940, van die swakste werk in sy totale oeuvre: die paarrym lei tot geforseerdhede, die woordvolgorde druis dikwels in teen die normale Afrikaanse sintaksis, die Nederlandse aansluitings lei baie keer tot vreemde argaïsmes en die ouderwetse digterlike vryhede by 'n digter uit die dertigerjare val vreemd op die oor. Tog beteken dit nie dat 'n mens dié verse ongelees moet laat nie, want juis in fragmente formuleer Krige hier sy kunsopvattinge en sy ‘nasionale’ taak op 'n wyse wat 'n merkwaardige ooreenkoms toon met dié wat veral Van Wyk Louw 'n bietjie later - maar dan helderder - sal verwoord. Iets van O'Shaughnessy se ‘music-makers’ hoor 'n mens in ‘Die swerwers’ van Krige, waarin die taak van die digter feitlik religieus geformuleer word: Sangers en sieners...hul wat in die skulp se oor
die stem van God, sy derde luid verordening hoor;
in dié vae spoeling van ver seë, dof rumoer
voel hoe die vroegste vesels van die lewe roer [.]Ga naar eind97.
Hierdie sangers en sieners is mense wat steeds gehoor moes gee aan die bevel
van ver verskiete en kimme, glansend-hel;
aan die gebod van daerade wat wyd straal
deur goudportale [.]Ga naar eind98.
| |
[pagina 224]
| |
Die rivier wat hy aanskou, is vir hom beeld van die wye ‘geestestilte’ wat die mens en kunstenaar, gewy aan 'n ‘edele taak’, vir homself moet verower sodat hy oor dít wat kras en klein en tydelik is, breed heen...[kan] skou
tot daardie waarhede en skoonheid wat die toekoms hou;
wat suiwer en eg is in homself, sy volk se siel, inwendig
tot klaar begrip en lewende gestalte te bestendig;
so al wat eerlik is, menswaardig, uit die hede te behou,
wat ook sy eie tyd mag hê, belangeloos en waar en trou
- daarop onwrikbaar soos 'n skoon wit stad sy kuns te bou,
gebore uit hoop, geloof, na stilte en smart en stryd en strewe,
sy volk te dien as tolk, besieling, so te erf die lewe...Ga naar eind99.
'n Mens dink hier aan Van Wyk Louw wat 'n paar jaar later sal praat van die ‘enkele woord’ wat vir die kunstenaar 'n onverbiddelike wet is en trou alleen aan die hoogste wat ons ken,
meer as aan vriend of broer, dat ons die Edele
en Kosbare veilig deur die skare dra.Ga naar eind100.
Maar afgesien van hierdie enkele versreëls waarin Krige, ten spyte van sy latere afkeer van die digter as profeet, 'n duidelike verwantskap met die hoë Dertiger-ideale toon en vir homself 'n nasionale taak as kunstenaar formuleer, het hy tydens sy jare in Spanje ook 'n aktiewe deelname aan die hele beweging van Dertig. Wanneer sy gedigte in Helikon van Desember 1933 gepubliseer word, laat weet die uitgewer A.A.M. Stols hom dat hy graag meer werk van jong Suid-Afrikaanse digters in 'n spesiale uitgawe van sy tydskrif sal wil publiseer en vra hy Krige om as 'n soort Suid-Afrikaanse redakteur op te tree. Aanvanklik is die reaksie op sy ‘wekroep’ nie baie gunstig nie, al beloof W.E.G. Louw sy samewerking en ontvang hy verse van Mocke en I.D. du Plessis. Willem C.W. Kamp - volgens Krige in 'n brief van September 1934 aan Bokkie ‘geen ware digter nie’ - stuur drie kort gediggies in en vra hoe dit met die besoldiging lyk! Op 'n verdere omsendbrief is die antwoord gunstiger. Naas Mocke, Du Plessis en W.E.G. Louw kan hy nou 'n keuse maak uit al die belangrikste jongeres se reeds gepubliseerde werk en enkele nuwe voor- | |
[pagina 225]
| |
leggings: T.J. Haarhoff, C.M. van den Heever, Eitemal, N.P. van Wyk Louw en Elisabeth Eybers. Krige besluit ook om van sy eie verse uit Kentering op te neem. Omdat hy M.S.B. Kritzinger en die ander negatiewe kommentators op sy debuut 'n streep wou trek en - soos die Hollanders sê - in hulle ‘blote billen’Ga naar eind101. wou laat staan, skep hy weer, soos vroeër met die naam Mattheus Joubert, 'n alter ego vir twee fragmente uit sy ‘Rivier’-epos. Hierdie keer kies hy die naam Arnoldus Retief, wat die vaderlandse, konvensionele segment van sy psige weerspieël: die voornaam van 'n oom en 'n broer en die familienaam van die vrou van Piet Retief, die Voortrekkerleier en -held, met wie hy ook 'n familieverband het. Met so baie digters wat geesdriftig meewerk, besluit Stols om nie 'n nommer van Helikon aan die gekeurde verse te wy nie, maar om dit as 'n afsonderlike bloemlesing en by wyse van 'n bekendstelling van die nuwe Afrikaanse poësie in Nederland te publiseer. Op 29 November 1934 skryf Krige aan Stols dat hy die gedagte van 'n bloemlesing baie waardeer en dat hy by die Afrikaanse digters biografiese besonderhede en verdere bundels aangevra het. Op 8 Februarie 1935 laat weet hy Stols: ‘Die bloemlesinkie is reeds voltallig, saamgestel, voorsien van biografiese besonderhede en voorwoord.’Ga naar eind102. Hy wag alleen nog op sy eie gedigte uit Suid-Afrika, aangesien hy sy eie kopie in Spanje verloor het. ‘Ek het verskeie baie verdienstelike verse ontvang - en ek hoop ek sal u nie teleurstel nie, nòg met hierdie lang onvermydelike oponthoud, nòg met die letterkundige gehalte van die versameling self.’ Op 10 Maart stuur hy die teks van die ‘lang vertraagde bloemlesing’ en op 13 Maart verduidelik hy die algemene strekking van sy inleiding: My inleidende teks is van indirekte aard. Veral omdat die jongste Afrikaanse poësie in so 'n toestand van groei is, die verskeie digters in soveel verskillende rigtings 'n pad soek, het ek dit wyser geag om die nuutste Afrikaanse poësie as verskynsel op indirekte wyse aan u publiek voor te stel. Ek het verder van die standpunt uitgegaan: dat die digters se werk self op duidelikste, mees ondubbelsinnige manier moontlik van die eintlike waarde en draagkrag van daardie poësie getuig... Hy het verder 'n bladsy van Haarhoff se vertalings uit die Grieks in die bloemlesing opgeneem, ‘as sprekende bewys van Afrikaans as | |
[pagina 226]
| |
geskikte volmondige medium vir letterkunde!’ In Mei 1935 laat hy Stols weet dat daar in Suid-Afrika deeglike reklame vir die bloemlesing sal wees en dat vooraanstaande joernaliste hulle hulp en bystand beloof het. Wanneer Krige op 1 Augustus 1935 Stols in Maastricht ontmoet, besluit hulle om nie Krige se inleiding te gebruik nie, maar eerder 'n vooraanstaande Nederlandse literator in dié verband te nader. Marsman en Menno ter Braak word oorweeg, maar Krige gee voorkeur aan Dirk Coster, omdat hy in Suid-Afrika op grond van sy Nieuwe geluiden groter bekendheid geniet. Op 15 Oktober 1935 kan hy Bokkie laat weet dat Coster ingestem het om die inleiding te skryf. Omdat Krige telkens verse byvoeg en Coster maar net nie met sy inleiding kan klaarkry nie, stuur Stols die proewe eers op 22 September 1936 aan Krige. Afrikaanse versameling, soos die bloemlesing uiteindelik heet, verskyn dan in Maart 1937, ná Krige se terugkeer in Suid-Afrika. Teen dié tyd het die grappie met Arnoldus Retief doodgeloop en onthul Krige sy pseudoniem in die naskrif tot die bundel. In sy inleiding lê Coster in sy onkunde wat Afrikaans en die Afrikaanse literêre tradisie betref, die aksente dikwels verkeerd, onderskat hy N.P. van Wyk Louw en oorskat hy I.D. du Plessis, en gee hy voorkeur aan verse waarin die nasionale, die heroïese en die spesifiek Afrikaanse as motiewe figureer. In 'n ‘boodskap’ wat hy vir die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring lewer maar wat te laat vir publikasie ontvang word,Ga naar eind103. besing hy die lof van dié literatuur uit Suid-Afrika waarin iets van die eindelose Afrikaanse landskap en die blou lug verwoord word. Daarom spreek Du Plessis se versreëls so sterk tot hom: Neem alles van my weg; maar o,
Gee my die grootse gees van die Karroo.Ga naar eind104.
En daarom verwag hy, in 'n gedeelte waarin Paul Kruger se laaste boodskap aan die Transvaalse volk in die woordklank meedein, van die Afrikaanse poësie 'n uitbouing en behoud van die lokale en die eiendomlike: Jongeren van Zuid-Afrika: behoudt uw karakter. Neem van dat Europa, wat edelmoedig, wat machtig, wat heerlijk is....Maar pas op de intellectuele waanzin, die pijpt en lokt. Mogelijk is | |
[pagina 227]
| |
het Uw taak, wat edelmoedigheid, eenvoud en heroïsme terug te geven aan ons Europeërs die...deze dingen zijn gaan missen.... Ten spyte van Coster se enigsins misleidende inleiding het Krige met sy Afrikaanse versameling 'n behoorlike bloemlesing saamgestel uit die allerbeste poësie wat daar indertyd van die jongeres aanwesig was. Terugskouend kan 'n mens vandag sê dat hy miskien te veel verse van Haarhoff, Eitemal en Mocke opgeneem het. Aan die ander kant laat die bundel reg geskied aan die destyds beskikbare werk van Van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers en Krige self. Afrikaanse versameling was 'n waardige ekwivalent vir Coster se Nieuwe geluiden en, soos Opperman dit stel, ‘die eerste kragvertoon van die Dertigers’.Ga naar eind105. | |
VINaas die bloemlesing waarmee hy besig was en die artikels wat hy noodgedwonge moes skryf, was Krige in sy Spaanse jare ook hard aan die werk aan sy eie verse. Hy was van mening dat hy nou genoeg vir 'n eerste bundel gereed gehad het. Die gedigte wat hy finaal persklaar maak en in vyf afdelings verdeel, skryf hy oor in 'n groot pragboek met 'n leerband wat hy in 1933 in Florence gekoop het, 'n stad wat vir sy mooi leerwerk beroemd is. Die grootste deel van dié lywige manuskrip, wat Krige Eerste gedigte noem,Ga naar eind106. was reeds aan Bokkie bekend. In die brief wat die toesending van die bundel in Februarie 1934 begelei, sê Uys hy stuur dit as verjaardagpresent aan sy broer. Die inhoud sal Bokkie herinner aan 'n broederskap, 'n kameraadskap, 'n ware volslae wedersydse vrindskap wat in ons kinderdae begin het, ons hele jeug deur geduur het, om in ons jonkmansdae bekragtig, versterk en op 'n onwankelbare fondament gegrond te word - 'n vrindskap wat vir my 'n kosbare besitting is en wat, ek is seker, deur die jare heen hom sal bestendig, en al bestendigend, hom sal verryk, verdiep en verinnig. | |
[pagina 228]
| |
Sommige van die verse, gaan hy voort, sal vir Bokkie herinneringe bring aan gebeurtenisse en voorvalle wat hulle saam beleef het. Die bundel is volgens hom al te swaargeestig en bedruk; hy hoop sy sang kry in die toekoms 'n vreugdevoller klank. Soms twyfel hy aan sy talent: ‘Blaai ek die bundel deur, kan ek 'n besef van onvervulling, 'n diep gevoel van teleurstelling en ontevredenheid nie weerstaan nie.’ En, met 'n insig wat die leser onmiddellik mee sal akkoord gaan as hy na die fragmente uit die ‘Rivier’-epos kyk, wonder Krige of al sy lees van Nederlands nie 'n slegte invloed op hom uitgeoefen het en sy taal onnatuurlik, swaar-op-die-hand, verdraaid en soms selfs gedrogtelik laat word het nie. Hy vra: In my doelbewuste poging om my taal te verryk, dit aan te vul met nuut-gemunte woorde of Nederlandse of koppelwoorde en samestellings, het ek in my doel geslaag, of kom dit stroef, onnatuurlik verwronge voor - kortom, het ek...my taal...verryk [of] dit slegs geweld aangedoen? Sy pittigheid, kernagtigheid - een van sy grootste en kenmerkendste eienskappe - sy eenvoudigheid en helderheid oor die kop gesien, miskien - nee, erger, ontsenu en verkrag? In 'n brief van 8 Desember 1933 formuleer hy, met 'n toewyding aan die taal van sy liefde en in die idioom van sy nuut verworwe nasionalisme, reeds hoe hy sy taak as digter sien: Een ding besef ek: op die skrywer (om iets werklik duursaam tot die Dietse letterkunde by te dra) rus hierdie allereerste verpligting, nl. om die groot sterkte en verdienste van hierdie fris jong taal, naamlik sy eenvoudigheid en idiomatiese kleur en verskeidenheid, volkome tot sy reg te laat kom. Selfs die krag daarvan te verhoog, die uitdrukkingsmiddel te slyp en te skerp. En so deur tot die taal by te voeg - uit sy eie taalverbeelding en die deftig en klankryke Nederlands - mag 'n Afrikaanse en werklike talentvolle skrywer en digter pragtige werk verrig, die Dietse letterkunde met iets afsonderliks en eie, verfrissend en kerngesond verryk...En hy behoort ras-eg te bly, Afrikaans, Afrikaans tot in sy murg en been, Afrikaans in die pragtige ruim sin van die woord - nie 'n ontwortelde vlak kosmopoliet nie, 'n na-aper van uitgediende Europese kunsvorms nie... | |
[pagina 229]
| |
Hoewel Uys die gedigte as geskenk aan Bokkie stuur, is dit duidelik dat hy daaraan dink hulle behoort nou in boekvorm te kom. Deurdat van sy verse reeds in die Nederlandse Helikon verskyn het, lê hy die manuskrip aan A.A.M. Stols voor. Stols was bereid en selfs geesdriftig om by wyse van bekendstelling in Nederland en Vlaandere 'n bloemlesing uit die nuwere Afrikaanse poësie te publiseer, maar hy was lugtig om so 'n lywige bundel van 'n enkele Afrikaanse digter in sy fondslys op te neem, veral omdat hy onseker was oor die verkope in die Lae Lande en omdat hy by gebrek aan kontakte in Suid-Afrika probleme met die bemarking voorsien het. Hy wys dus publikasie af. Met die ontvangs van die leergebonde manuskrip lê Bokkie dit met die oog op publikasie voor aan die uitgewer J.L. van Schaik, wat M.S.B. Kritzinger van die Universiteit van Pretoria vra om 'n keurdersverslag daaroor te skryf.Ga naar eind107. Kritzinger oordeel egter negatief oor die bundel en kan nie publikasie aanbeveel nie. In 'n brief aan Bokkie van 10 Junie 1934 reageer Uys teenoor Bokkie op dié verslag van die vir hom anonieme ‘letterkundige vooraanstaande’.Ga naar eind108. Hy vind dit 'n hopeloos saamgeflanste mengelmoes van prul- en peuterbeskouings. Die benaming ‘poésie parlante’ wat in die verslag gebruik word, kom volgens Krige nie uit Frans nie, maar van die jong ‘na-aper Hollandse en Vlaamse digters met rietskrale talentjies’. Kritzinger beweer Krige staan onder die invloed van die Nuut-Franse Skool en 'n Duitse groep wat nie nader gespesifieer word nie. Indien daar twee digters is wat hom beïnvloed het, skryf hy aan sy broer, is dit Baude- | |
[pagina 230]
| |
laire en Rimbaud, eersgenoemde presies eenhonderd en veertien jaar gelede gebore en dus nie meer so ‘nuut’ nie. Van latere Franse invloede weet hy nie en Duits ken hy te sleg om beïnvloed te word. Kritzinger het beswaar teen Krige se gebruik van die algemene spreektaal, maar dit was juis Krige se bedoeling om sy taal te vernuwe en 'n fris klank daaraan te gee. Hy maak ‘Treursang vir Van der Merwe’ af as ‘hortende prosa’ en betreur ‘die onreëlmatigheid’ van die versreël. In sy verslag, sê Uys in 'n verdere brief van September 1934, verwys Kritzinger na ‘Tram-ode’ as ‘Tramp-ode’, 'n verskrywing wat Uys - juis in daardie stadium weer met die boemelaars van Barcelona deurmekaar - 'n halfuur lank laat lag het. Volgens Kritzinger is al die plekname, wat juis die ‘drosteragtige kleur’ gee, die grootste fout van die gedig. In vergelyking met hierdie ongunstige en ongevoelige reaksie is sy vriend en ouddosent J.L.M. Franken juis getref deur die drie of vier verse wat Kritzinger maar nie kon ‘kleinkry’Ga naar eind109. nie. Sy negatiewe reaksie kom neer op 'n geskil oor welvoeglikheid en betaamlikheid, met ander woorde 'n godsdienstige verskil tussen hom en Kritzinger - ‘en met die poësie het die hele saak so min te doen as soesaaitjies met Egiptiese hiërogliewe...’ Uys het ‘Nagreën’ en ‘Tram-ode’ aan 'n jong Hollander in 'n kafee in Barcelona voorgelees en daar was trane ‘in sy oë toe ek klaar was - en daardie Hollander verkoop kaas en eiers! Die volgende aand het hy my baie eerbiedig versoek om tog weer die gedigte aan hom en sy Hollandse vriendin...voor te lees.’ En 'n ou Hollandse matroos het in Barcelona só van 'n paar van sy verse gehou dat hy Uys gedurig agtervolg en hom lastig geval het om meer. ‘Hy wou hul vir sy nôiens en familiebetrekkinge stuur.’ Nog voordat hy egter sy verse aan Bokkie pos en nog voordat hy die negatiewe reaksie van Van Schaik ontvang, toon Uys die leergebonde bundel aan Roy Campbell, wat die boek deurblaai, van die verse lees en hoe langer hoe meer begeesterd raak. In sy brief van Februarie 1934 skryf Uys oor Roy se reaksie: Ek het nog nooit aan hom van my gedigte voorgelees nie, deels omdat hy maar min Afrikaans ken, deels uit 'n soort skugter skaamte en nederigheidsgevoel. Ek het skielik vasgebyt en begin lees en tegelykertyd vertaal. En toe ek by die perd-gedeelte kom (Snel is ons lewe...soos op die blink skild van 'n vors...), het Roy somar opgewonde geraak. Sy blougroen katoë het be- | |
[pagina 231]
| |
gin fonkel, sy hele gesig opgelewe. Ek wis ek had hom in die holte van my hand, en ek het moedig en voortvarend voortgestoot. Toe ek by die Storm kom, gryp hy my vas in 'n ysterklem. ‘Wag, dis 'n plegtigheid hierdie. Ek gaan 'n half bottel rooi wyn haal.’ En toe het hy die kamer uitgestruikel, tussen die bedde deur - hy stap mos soos 'n halwe matroos - en met die doopbottel teruggekom. Simpele strofes, veral die deel waar ek my beminde besing, het op hom 'n geweldige indruk gemaak. God, het hy gesê, pragtig! Sy oë het begin vogtig word. (Roy is wat die poësie en die meeste dinge betref 'n vreeslike ontvlambare vent.) Die klas [wat Uys vir die dogters kom gee het] was totaal vergeet. Roy het Annatjie en Thérèse tot hom geroep. ‘Kyk hier’, het hy gesê - jul moet nooit weer Uysie se been trek of met hom gekskeer as hy so hard probeer om 'n bietjie kennis in jul kop te ja nie. Want hy is 'n baie goeie digter, hoor jul.’ Die twee het hewig onder die indruk kop geknik, Annatjie baie ondeund met 'n skelm glimlaggie om die mondhoeke. Daardie kwatryne omtrent die Nag ook het by Roy luid weerklank gevind. ‘Kyk jy moet dadelik hierdie bundel publiseer kry. Jy kan nie bly rondneuk onbekend hier in Barcelona nie. Jy hoort 'n publieke figuur te word in ons land. Jy en ek gaan woon bo-op Tafelberg, en dan kom ons elke aand af om 'n doppie te steek.... Ek skrywe na Leipoldt en Preller, desnoods ook aan Gen. Smuts...Dit moet publiseer word. Dis hoog tyd. Ons wag vir 'n nuwe digter...’ [Mary het ook bygekom en Roy het die verse geesdriftig aangeprys.] Hoeveel van al hierdie waardering tot die stemming, die opgewondenheid van die oomblik hoort toegeskrywe te word, weet ek eintlik nie. Die opgetoënheid om die poësie het in ons opgelaai soos 'n brand in kreupelhout. In sy geesdrif bied Campbell aan om by wyse van bekendstelling oor Krige te skryf. Hierdie stuk, wat in 1935 in The Critic verskyn, handel wel meer oor die Afrikaanse taal as oor Krige, maar, komende van 'n digter met die internasionale status van Campbell, was dit van groot belang, sowel vir die digterlike deurbraak van Krige self as vir die hele digkuns en ‘beweging’ van Dertig, wat toe reeds byna ongemerk in Kaapstad en Johannesburg in wording was. In sy inleiding tot Campbell se artikel sê Jacques Malan: ‘What...[Roy Campbell] has to say about...[Afrikaans] as a literary medium is by all odds | |
[pagina 232]
| |
the most penetrating and profound thing that has been said about it by anyone anywhere.’Ga naar eind110. Campbell begin sy artikel met 'n uitweiding oor die herkoms van Krige, maar gaan dan gou oor tot 'n karakterisering van die Afrikaanse taal: Uys Krige is a fortunate man. He inherits the blood of heroes - an Uys on mother's side. On his father's side he inherits the blood of a great athlete. As if this were not enough, he is a poet and a scholar: already a graduate in the University of experience with three-quarters of his life and work before him: and this work in a comparatively unexplored medium, the Afrikaans language, which is today as full of adventure for the bold and daring as ever any language in history, and unique among contemporary tongues for youth and freshness. Coarse and healthy as a young colt, it is just now in such a state as was the English language when Marlowe first snaffled its jaws with thunder.Ga naar eind111. Hy gaan voort met sy karakterisering van hierdie ‘young colt’: It is a language of necessity, a human language, produced swiftly by the immediate and the intense experience of a fighting and working people. It has the sinewy simplicity and beauty of tools, the lean bleakness of arms - an elegance which far surpasses that of intentional or conscious ornament: just as a plain Roman aqueduct or bridge, built for mere utility, surpasses the elaborate structure, say of Durban Town Hall with its hundred paunchy cement cupids carrying (if I remember rigthly) bunches of bananas and pineapples. That quality, I mean, which makes Van Gogh's rustic chair worth a million Venuses by Leighton or Ophelias by Millais.Ga naar eind112. Die taal van die rustige en gemaksugtige burgers van die sewentiende-eeuse Amsterdam was volgens Campbell nie geskik vir die praktiese, emosionele of religieuse behoeftes van die Voortrekkers nie. Hulle taal moes 'n intenser en navranter lewe uitdruk: Greater economy of line was required. Words that were hammers of iron rims to sturdy wheels: words that were the cruiser- | |
[pagina 233]
| |
prows of ploughshares cutting the white baked clay with crimson wakes: words that were commands, curses, and exultations. Words that were guns and triggers, words that asked no sanction of professors but exploded spontaneously into life as they were needed: amputating unnecessary limbs from the mother language.Ga naar eind113. Noudat die tydperk van strydbaarheid verby is, kan die taal homself rig tot die intellek en die verbeelding en homself geestelik vul: It is in this fortunate pre-classical stage that language has always been most delightful to adventurous poets - most fragrant, elastic, sinewy, and exciting.... To a man like Krige, burning with love and enthusiasm for such a language - what an adventurous time awaits him!Ga naar eind114. Moed en vuur en waaghalsigheid is vir hom kenmerke van Krige: Few living people who are writing today have led freer lives than Krige. Without any conscious aiming at the rôle, or any other stimulus than a modest desire to learn, a passion with him, here is the wandering scholar par excellence, the modern troubadour, sure of a welcome anywhere he goes and in whatever country...His university for the present is Europe at large, and here he digests languages and literatures, taking in intellectual fuel and power by his ears and eyes. Free to follow as his own whim the counsel of any stream that takes his fancy, or to make any stone a pillow for his Jacob's dream.Ga naar eind115. Die moderne poësie ly volgens Campbell omdat dit in universiteite vasgekluister is en omdat die digters poësie-oor-poësie skryf. Krige het die Londense en Paryse Bohemers, wat nie meer aan die lewende spreektaal gebonde is nie, vermy en hom in die gewone woord verdiep, woorde wat vir 'n digter waardevoller is as ‘a thousand ornamental ones which have been over-handled by decorators’.Ga naar eind116. En hy keer weer terug na sy persoonlike kennismaking met die Afrikaanse digter: | |
[pagina 234]
| |
Krige turned up on my doorstep one day without my ever having heard of him. There was no mistaking the broad Cape accent and the athlete that was in him. Brown, square, with keen eyes and flaxen hair, there was no mistaking the budding Springbok and the son of the great Japie. Tiring of University, he had ventured a course of Europe itself. Ready for all work, his splendid athletic prowess had served him everywhere to keep going. A prodigious swimmer and one of the best rugby players in Europe, he found little difficulty in keeping alive. A Spartan temperament had equipped him for any work, and he travelled from job to job; at one time we see him even as a ‘plongeur’, another as a swimming instructor, another as a tutor, humorously putting up with any circumstances or blows of misfortune. His fine rug-by-playing has made him so popular in France and Spain that he has found it easy to get jobs, and the very little that suffices him for sustenance on his spiritual pilgrimage....Like all good poets, he is independent of Times and the Zeitgeist....Krige is first and foremost a humanist. He looks at life from the only possible creative angle: his wisdom is that of the only indestructible part of humanity, the tiller of the earth, though it is sophisticated with all that is worthwhile in city life and backed by scholarship and wide reading. In his poems (as in few others of today!) you are in touch with a man - not a stereotyped machine: one who has lived delighting in the physical world of sounds, colours and lights: and through them expresses the experience of his mind, imaginative and realistic[.]Ga naar eind117. Uys stuur die teks van Campbell se artikel aan Bokkie met die versoek om dit saam met sy manuskrip aan T.J. Haarhoff, professor in klassieke tale aan die Universiteit van die Witwatersrand, voor te lê. Toe hy in 1930 as twintigjarige verslaggewer by The Rand Daily Mail in Johannesburg werksaam was, het hy kennis gemaak met Haarhoff, wat dadelik in sy skryfwerk belanggestel en alles in sy vermoë gedoen het om hom aan te moedig. Terwyl hy in die somer van 1934 in Valencia woon, ontvang Krige uit die bloute 'n briefie waarin Haarhoff sy waardering uitspreek vir die vertaling van Villon se ‘Ballade des dames du temps jadis’ (‘Ballade van die dames van weleer’) wat 'n rukkie tevore op die voorlaaste bladsy van Die Huisgenoot net voor die ‘Korsies-en-Pastei’-bladsy verskyn het. Met uitsondering van | |
[pagina 235]
| |
Bokkie se briewe was dit die eerste brief wat hy ooit ontvang het om 'n Afrikaanse gedig van hom aan te prys.Ga naar eind118. Dit is dus geen wonder dat Uys nou, met die probleme wat hy by Van Schaik ondervind, Bokkie vra om by Haarhoff om hulp aan te klop nie. Gewapen met Campbell se gloeiende getuigskrif vir sy broer se verse lê Bokkie die manuskrip aan T.J. Haarhoff voor. In sy eerste reaksie van 25 November 1934 sê Haarhoff dat hy Krige se gedigte geweldig geniet en sommige van hulle aan sy kollega in Afrikaans en Nederlands, C.M. van den Heever, voorgelees het. Haarhoff waardeer die beskrywende verse en meen dat Krige die beste waarnemer onder die jonger digters is. ‘Jou gedagte en ondervinding, jou Wanderlust en oormoed, jou gevoel van die kortstondigheid van die lewe - dit is my alles baie simpatiek.’ Hy meen egter die Afrikaanse publiek is nog nie ryp vir Krige se ‘meer “moderne” stukke’ nie en wil aanbeveel dat hy eers die kort ‘stukke’ uit afdelings III en IV publiseer. Wat hom in die besonder ‘aangetrek’ het, was ‘Dagbreek’, ‘Nag’ en baie van die kwatryne. Hy hou ook van ‘Lesingliedjie’ en die Villon-ballade, maar vind ‘Lied aan Kalomien’ te lank. ‘Ballade van monsieur Lapeyre’ is vir hom goed en ‘skerp geteken’, maar hy is bevrees dit sal soos ‘Tram-ode’ nie gewaardeer word nie, 'n uitspraak wat Haarhoff nie nader substansieer nie. Hy maak ook die verstommende opmerking dat daar vir hom in strofe 3 'n teenstrydigheid is: Lapeyre slaap ‘soos een, verlore, wat nooit weer sal ontwaak’, en tog ‘snork’ hy! In dié stadium verkeer Haarhoff nog onder die indruk dat Stols die bundel sou publiseer. Hy moes egter gou deur Bokkie of Uys self inligting ontvang het dat Stols nie vir 'n publikasie in Nederland kans sien nie en dat ook Van Schaik op grond van sy keurdersverslag die bundel afgekeur het. In 'n brief van 5 Desember 1934Ga naar eind119. skryf Haarhoff dat hy Krige se gedigte aan die Johannesburgse tak van die Skrywerskring (gestig om ‘die stommiteite van die Akademie en die Stellenbosch-kritici ens. enigsins [te] probeer teenwerk’) voorgelees het. Hulle was ingenome daarmee - in so 'n mate dat S. Ignatius Mocke spesiaal die volgende aand oorgekom het om oor die gedigte te gesels. Haarhoff vind daarin ‘'n rykdom van skoonheid en talle afsonderlike juweeltjies’, maar die kring-lede voel enkeles ‘is enigsins lank uitgerek en sommige 'n bietjie swaar van konsonante. Dan is daar van die meer modernes waarmee ons (ter wille van ons goeie liewe publiek) stadig sal moet gaan. Maar almal stem saam dat ons | |
[pagina 236]
| |
'n eersteklas bundeltjie uit die 5 seksies kan opstel....Nou sal jy waarskynlik vies voel oor die vermetelheid van mense wat jou bundel gaan verbrokkel: maar ek voel eerlik dat dit die enigste kans vir onmiddellike publikasie bied. Laat my weet wat jy dink. Hoe sal dit wees as ons Roy Campbell se opstel oor jou vertaal (wat egter jammer sal wees) en voorin afdruk?’ Haarhoff meen Van den Heever sal die Nasionale Pers kan ompraat om 'n uitgawe van die bundel te onderneem; hy ‘lees’ vir hulle. As 'n mens hierdie brief noukeurig bekyk, kan jy die onbeholpenheid in die hele kampanje vir Krige nie mislees nie. Dat sommige (watter?) verse te lank uitgerek en te ‘swaar van konsonante’ sou wees, is uitsprake wat in hulle ongekwalifiseerde vaagheid vir Krige niksseggend moes gewees het. 'n Mens vermoed dat onder die ‘moderne’ gedigte wat op onbegrip by die leserspubliek sal stuit, ook ‘Tram-ode’ tel, 'n gedig waaroor Haarhoff, ten spyte van sy waardering, op grond van 'n vermeende reaksie van die publiek bedenkinge gehad het.Ga naar eind120. Het hy miskien Kritzinger gelyk gegee in sy probleme met die baie plekname? En om selfs maar te dink dat Campbell se drif en hartstog in 'n meesterlike Engels in 'n Afrikaanse vertaling as inleiding gaan werk, is 'n gedagte só vergesog en giganties dat jy eintlik nie raad daarmee het nie. Gelukkig was daar by Haarhoff ook heelwat goeie wil by die voorbereiding van 'n keuse uit Krige se poësie en die bekendstelling van sy werk. In The Star van 15 Augustus 1934 skryf hy 'n kort stukkie oor Krige se poësie, opgevolg deur 'n verdere artikel in Ons Vaderland van 11 Januarie 1935. Hy besorg Campbell se artikel by Jacques Malan, wat dit saam met 'n gloeiende inleiding in The Critic van Januarie 1935 opneem. Haarhoff maak dan met die hulp van Van den Heever 'n keuse uit die manuskrip van Eerste gedigte, maar laat van die kwatryne en verse soos ‘Treursang vir Van der Merwe’ en ‘Ballade van monsieur Lapeyre’ weg. As 'n mens bedink dat daar in Eerste gedigte ook reeds ander goeie verse beskikbaar was en dat die uitmuntende ‘Romanza’ êrens onder paperasse gelê het, is dit duidelik dat die samestellers Krige met 'n kundiger en ruimer keuse met 'n sterker bundel kon laat debuteer het. Hulle bewys Krige egter 'n uiters belangrike diens deur 'n hele lang stuk uit ‘Tram-ode’ weg te laat en daarmee die teks aansienlik te verbeter.Ga naar eind121. Daar bestaan geen dokumentêre bewys dat Van den Heever die manuskrip aan die Nasionale Pers voorgelê het nie en die bundel verskyn uiteindelik dan tog by | |
[pagina 237]
| |
Van Schaik, waarskynlik op grond van Haarhoff en Van den Heever se aanbevelings en Campbell se sterk pleidooi. Kort ná publikasie skryf Van den Heever beskouinge oor die bundel in Ons Tydskrif van Mei 1935 en in The Rand Daily Mail van 1 Junie 1935. Met die oordruk van Haarhoff se betreklik yl en gemeenplasige artikel in Ons Vaderland - téén die uitdruklike wens van KrigeGa naar eind122. - as inleiding tot die bundel en met die publikasie van Campbell se stuk in The Critic het dit die skertsende reaksie van S. Ignatius Mocke ontlok dat hierdie trits paranimfe Krige in die Afrikaanse letterkunde ‘ingeabba’ het!Ga naar eind123. In Spanje, ver verwyderd van al die doenighede om sy werk gepubliseer te kry, verneem Uys van tyd tot tyd van Bokkie hoe sake vorder. Hy is in Antwerpen by die katedraal naby die Grote Markt wanneer die eerste eksemplaar van sy debuut met 'n netjiese ligbruin band met 'n gebroke ontwerp in donkerder bruin hom bereik. Hy haal die boek uit die pakkie en in vervoering blaai hy deur die bundel en ruik hy aan die bladsye. Hy was toe vyf en twintig jaar oud en hy was lus vir die lewe en lus vir skryf. Al die invloede wat hy in hom geabsorbeer en hopelik verteer het, moes nou in sy werk tot uiting kom.Ga naar eind124. En heimlik hoop hy dat C.M. van den Heever Gerrit Dekker, die knap literator van Potchefstroom wat in die keurkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns dien, kan oorreed om Kentering vir die Hertzogprys vir Poësie in aanmerking te laat kom. ‘God, as ek dit maar kon losslaan!’ roep hy uit in 'n brief aan Bokkie.Ga naar eind125. Met die titel Kentering, wat Krige aan sy eerste bundel gee, het hy, volgens Opperman, ‘moontlik aan twee betekenisse gedink, naamlik die oorgang na die nuwe, maar ook nog die kanteling, dobbering...[en] onsekerheid’Ga naar eind126. oor sy eie talent wat 'n mens in sy briewe aan Bokkie en sy ouers aantref. Dit is onwaarskynlik dat die titel, soos F.I.J.van Rensburg beweer, op die kentering van Dertig in die Afrikaanse poësie kan slaan,Ga naar eind127. aangesien daar ten tyde van Krige se afwerking van die bundel naas 'n aanloop in C.M. van den Heever se Deining en Die ryke dwaas van W.E.G. Louw van 'n herkenbare koersverlegging in die Afrikaanse poësie nog nouliks sprake was en 'n digter in elk geval nie só histories bewus kán skryf nie. Dit is eerder 'n aanduiding, soos Van Rensburg dan ook verder sê, van 'n persoonlike kentering deurdat Krige se aanraking met Frankryk ‘'n duidelike verandering in sy ervaring, instelling en tegniek teweeggebring’Ga naar eind128. het. 'n Mens is ook geneig om soos Opperman van 'n ‘oorgang na | |
[pagina 238]
| |
die nuwe’ te praat, want die bundel bevat heelparty verse uit die Stellenbosse jare en die Spaanse impuls vind nog glad nie neerslag in die verse nie. Die deurbraak van die nuwe sal by Krige eers vollediger met sy bundel Rooidag van 1940 kom. Kentering is derhalwe nie 'n goeie titel nie. Met die uiteenlopende verse wat by verskillende tradisies aansluit, was die kommentaar op Kentering nie onverdeeld gunstig nie. In sy bespreking in Die Huisgenoot van 18 Oktober 1935 sê S. Ignatius Mocke byvoorbeeld dat 'n gedig soos ‘Nagreën’ onoortuigend aandoen weens die gebrek aan spankrag en die oorlading van die woord en dat baie verse aan 'n ‘hinderlike “woorde-teveel”’ lei en 'n te bewus-beredeneerde indruk maak. Dit is gebreke wat F.E.J. Malherbe ook in sy bespreking in Die Burger van 24 Junie 1935 vermeld: geforseerde bewoording, retoriese wendinge, wydlopigheid, redenering in plaas van beelding. Tog waardeer hy die kleurryke, klankryke en liriese in die verse en die wyse waarop Krige sy Afrikaans in die skool van Romaanse ritme en woordlenigheid vertroetel en verfyn het. Die negatiefste, onbillikste en ongevoeligste resensie was dié van D.F. Malherbe in Die Volksblad van 11 Januarie 1936. Malherbe verwys na Haarhoff, wat in sy inleiding sê geen ‘Afrikaanse digter het soos Krige die weemoed van die swerwende Afrikaner in die buiteland weergegee nie’. Malherbe meen dit mag waar wees, maar dan wil hy, by alle waardering van die skrywer se jeugdige romantiek en vaardigheid, byvoeg ‘dat as dit die vrug moet wees van jarelange omswerwing in die vreemde, dan sou ons die Afrikaanse aspirantdigters ernstig aanraai om tuis te bly en hul kragte te gee aan die dringende eise van ons kultuurnood.’ Hy meen Krige se werk hou wel belofte in, maar - en hiermee sinspeel hy ook snedig op Die ryke dwaas van W.E.G. Louw en N.P. van Wyk Louw se Alleenspraak, wat intussen verskyn het - Wat sou dit wees dat jonger skrywers van Afrikaanse verse op generlei wyse geroer word deur die skudding wat die nasionale gemoed van die Afrikaner op die oomblik beheers nie? In die teenswoordige tydsgewrig groots van besieling en opoffering sou die jeug wat hom geroepe voel om na die lier te gryp geen kragtiger tone kan vind as sentimentele getimtam van verbeelde liefdeswee of snare aangestem op eie persoonlike sielesmart en -worsteling nie? Besinging van die natuur as sodanig of van per- | |
[pagina 239]
| |
soonlike leed en worsteling is 'n floue taak wanneer die storm in Suid-Afrika, wanneer die stormbranding magtig aanstu in tienduisend gemoedere en noodroepe weerklink, wanneer die angel van vernedering en verarmoeding diep moete brand op die gehawende siel van die Afrikanerdom...In so 'n tyd van bitter kamp om die behoud van kultuurwaardes en kultuurgoedere gaan daar geen geluid op uit die ganse skaar van breed aangekondigde jonger sangers nie, geen geluid van ywerende belangstelling in die sielenood van hul nasie nie... Afgesien daarvan dat hierdie tipe kritiek en vraagstelling, suiwer literêr gesien, totaal ongeldig is en deur latere werk van die twee Louws en Krige self geloënstraf sou word, sou Malherbe se reaksie op sy verse by Krige later nog 'n amusante kommentaar en nawerking uitlok. Die feit is dat Krige met Kentering, ten spyte van vaal kolle, in baie opsigte vir die Afrikaanse poësie iets nuuts bring. Dit geld nie alleen vir die problematiek van dood, verganklikheid en die vae onbestemde onrus van die bloed as motiewe waarop W.E.G. Louw wys nie,Ga naar eind129. maar ook op die verbinding van die vrye vers met 'n meer tradisionele tipe gedig en die wyse waarop hy by Franse digterlike tradisies aansluit en iets van die Mediterreense wêreld in sy poësie reeds neerslag vind. ‘In sy beste verse’, skryf Opperman, ‘het ons die skerp omlynde beeld uit die alledaagse lewe..., ook het ons oor die algemeen 'n idioom en segging nader aan die spreektaal en spreekritmes...By Krige is...[die vrye vers] rukkerig, het ons telkens 'n kort inset vir 'n versnelde golfslag wat volg. In dié jare bereik die kwatryn by hom 'n hoogtepunt in vertalings, nadigtings en oorspronklike verse.’Ga naar eind130. Die hoogtepunt van die bundel en een van Krige se belangrikste bydraes tot die Afrikaanse poësie is ‘Tram-ode’, 'n gedig wat ook deur latere geslagte hoog gewaardeer is. In sy Blokboek oor Treknet sê Ernst Lindenberg ‘die gedig is één volgehoue poging tot ontvlugting na die romantiese, verafgeleë plekke. Met die Aldarin kry die digter se gevoelens koers, eers na die Verre Ooste, dan na plekke van herinnering oor die hele aardbol.’Ga naar eind131. Die gedig word ook 'n verwoording van ‘verlange na die vaderland en 'n verlore, ongerepte jeug’.Ga naar eind132. Gedurig is daar ‘sprake van verlore of onbereikbare dinge; en tog skep die gedig op paradoksale wyse 'n indruk van lewensgenieting’.Ga naar eind133. | |
[pagina 240]
| |
VIITeen die aand van 28 November 1935 vertrek Uys met 'n klein stoombootjie vanaf Cadiz aan die suidpunt van Spanje na die Kanariese Eilande, waar hy die skip na Kaapstad haal.Ga naar eind134. Op 13 Desember kom hy, ná vier en 'n half jaar in Europa, aan in Kaapstad, bykans ses maande voordat die Spaanse Burgeroorlog sou uitbreek. Terwyl Frankryk hom die vreugde van die lewe bygebring het en hy uitgebreid 'n grotendeels onbekende literatuur kon leer ken, het Spanje met sy afwisseling van son en skaduwee, vreugde en somberheid, tot sy hart gespreek en deel van sy hele wese geword. In die Iberiese landskap met sy kuste en plato's het hy iets van die Kaapse strande en die Karoo teruggevind en die dramatiese en bloedige geskiedenis van Spanje, wat so gou in 'n weersinwekkende episode herhaal sou word, het hom gefassineer. In Barcelona ontdek hy homself as prosaskrywer, in Madrid as dramaturg, en uit sy ontmoeting met vissers, boemelaars en die gewone kleinboere groei sy opvatting oor die broederskap van mense en sy afkeer van alle tirannie. Terwyl hy in Frankryk meegevoer is deur die werk van Villon, Baudelaire en die latere Franse digters, is dit in Spanje veral die werk van Lorca wat by hom 'n aanklank vind en waarvoor hy 'n lewenslange bewondering sou hê. Maar nou was Uys op pad terug na Suid-Afrika. Gewapen met die ryk kultuurskatte en literatuur van Europa was hy gereed om in sy eie werk iets van hierdie wêrelde terug te gee.Ga naar eind135. | |
[pagina *13]
| |
25. Om geld in die hande te kry, speel Uys in 1932, wanneer hy in Sanarysur-Mer in die Franse Provence woon, rugby vir Toulon, Frankryk se kampioenspan. Hier is hy met die bal links aan die beweeg.
26. In koerante uit dié tyd word Krige - dikwels verkeerd gespel as Kridge - bestempel as ‘le brillant centre et attaquant’ wanneer hy vir die rugbyklub van Marseille speel. Le Petit Provençal publiseer hierdie aksiefoto van hom (tweede van regs voor).
27. Die jeugdige Krige in Suid-Frankryk in die vroeë dertigerjare van die twintigste eeu. (Foto: Eulalia Krige.)
| |
[pagina *14]
| |
28. Uys as ‘Professeur de Natation et de Culture Physique’ op die strand by Nice, waar hy swemlesse aanbied. (Foto: Eulalia Krige.)
| |
[pagina *15]
| |
29. Uys tussen sy swemstudente in Nice. (Foto: Eulalia Krige.)
30. Saam met sy vriend André Nissolle aan wie Uys ‘Tram-ode’, sy eerste groot gedig, opdra. (Foto: Eulalia Krige.)
| |
[pagina *16]
| |
31. Charles Baudelaire, ‘die vader van die moderne poësie’, van wie se werk Krige in sy jare in Provence 'n grondige studie maak. (Moderne encyclopedie der wereldliteratuur, I, Hilversum, Paul Brand / C. de Boer, 1963.)
32. Roy en Mary Campbell met wie Krige in Oktober 1932 kennis maak en met wie hy gou 'n hegte vriendskap opbou. (Peter Alexander, Roy Campbell, Kaapstad, David Philip, 1982.)
| |
[pagina *17]
| |
33. 'n Geestige voorstelling van Campbell en Krige op die fiets onderweg na 'n kroeg in Martigues om te gaan bras. Krige beskryf dié epiese tog in ‘Eerste ontmoeting met Roy Campbell’ in sy bundel Sout van die aarde. (The Cape Argus, 27.8.1960.)
34. Figuerolles, die huis van die Campbells in Martigues, waar Krige in 1933 inwoon en wat hy in 1983 saam met Pierre Marais herbesoek. (Sol y sombra, video oor die lewe van Uys Krige deur Pierre Marais, 1985.)
| |
[pagina *18]
| |
35. In die Comedor Popular, die goedkoop eetplek wat Uys in 1934 tydens sy verblyf in Barcelona dikwels besoek en waar hy kopstukke met al die swerwers en boemelaars gesels. Dit is een van die tekeninge wat sy broer François vir die uitgawe van Sol y sombra, Uys se bundel Spaanse sketse, maak.
36. Federico Garcia Lorca, die groot Spaanse digter wat Krige meevoer en in wie hy 'n sielsgenoot en as 't ware sy eie psige herken. (Moderne encyclopedie der wereldliteratuur, III, Hilversum, Paul Brand/C. de Boer, 1965.)
| |
[pagina *19]
| |
37. 'n Voorstelling van Cervantes se Don Quijote, die Ridder met die Droewige Gelaat. Wanneer Krige in die nag deur La Mancha - die Karoo van Spanje - reis, verbeel hy hom dat hy Quijote en Sancho op hul ewige swerftog ontmoet.
| |
[pagina *20]
| |
38. Uys saam met Emilia Eulalia, sy Spaanse nooi. (Foto: Eulalia Krige.)
39. Die leergebonde eksemplaar van Eerste gedigte wat Uys aan Bokkie skenk en waaruit T.J. Haarhoff en C.M. van den Heever die debuutbundel Kentering saamstel. (Nasionale Biblioteek, Kaapstad.)
| |
[pagina *21]
| |
40. Krige is in Antwerpen op die Grote Markt naby die Katedraal wanneer hy die pakkie met die eerste eksemplaar van Kentering met sy netjiese ligbruin band en gebroke ontwerp in donkerder bruin oopmaak. (Foto: Wium van Zyl.)
41. Wanneer Krige na Suid-Afrika terugkeer, vorm hy deel van die groep digters en intellektuele wat weldra as die Dertigers bekend sal staan. Hier verskyn (van links na regs agter) Krige, Boerneef, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis en (sittende voor regs) N.P. van Wyk Louw saam met die Nederlandse digter Jan Greshoff (voor links) wat hom in 1939 in Kaapstad vestig. Die foto dateer uit 1963.
| |
[pagina *22]
| |
42. Die stiervegter Ignacio Sanchéz Mejías in die arena. Oor hom skryf Lorca sy grootse ‘Llanto’ wat deur Krige in 1937 as ‘Klaaglied vir Ignacio Sanchéz Mejías’ vertaal word. (Ernest Hemingway, Death in the afternoon, Londen, Arrow Books, 1994.)
43. Enkele van Krige se publikasies uit die dertiger- en veertigerjare.
| |
[pagina *23]
| |
44. Uys Krige as jong joernalis in Johannesburg ná sy terugkeer na Suid-Afrika aan die einde van 1935. (Foto: Suzanne Fox.)
| |
[pagina *24]
| |
45. Lydia Lindeque, die aktrise met wie Krige in 1937 in die huwelik tree. (Foto: Eulalia Krige.)
|
|