Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 154]
| |
Hoofstuk VI
| |
[pagina 155]
| |
besoeke aan die dorp vier myl verder, is vir hom die ideale lewe en hy voel hom ‘'n gelukkige mens...’ Aan Bokkie skryf hy:Ga naar eind2. Die veld is onvergeetlik mooi nou, ek wens jy kan hier wees - amandel, perske, al die vrugtebome in bloei - die ‘gorse’ wat soos 'n goue vlam oor elke heuwelrug trek, 'n gloed soos van gesmolte goud tussen die groen - en orals die welriekende wilde bosse soos die ‘thyme’, die roosmaryn, lourier, ‘fennel’, ‘sage’ - as jy oor die veld deur die bossies stap, is dit of die heerlike geur onder jou voetsole opslaan, of jy dit alles in beweging bring. En orals zoem en gons die bye. En die wyd uitgestrekte meer met al sy wisseltinte. En oor dit alles die son, die lente soos 'n jong god. As hulle in die hartjie van die somer op 'n uitstappie na Arles gaan, laat die plat, dor, klipperige landskap en bossies hom aan die Karoo dink, met ver weg teen die gesigseinder die blou berge. Orals om hulle sien hulle skielik mirages, mere waarin blou eilande ronddrywe, bome en huise, drie of vier maal vergroot. Berge wat vroeër 'n onafgebroke ketting gevorm het, is in vyf of ses dele gesplits, met ongelooflike teerblou dynserige woude in die verte waaruit hoog in die lug 'n kasteel opsteek. Die hele dor, kaal wêreld is deurstraal deur die hitte en die ligbewing omskep alles tot iets fantasties, wondervreemd en toweragtig. Ná die vlaktewêreld ry hulle deur wingerde en akkerbome en ‘glimlaggende vrugte-akkers’. En in Arles is die ‘sonlig soos 'n drank wat vloei uit 'n blou omgekantelde drinkbeker wat nooit leegloop nie!’Ga naar eind3.
In Juliemaand, skryf hy aan Bokkie,Ga naar eind4. is die weer heerlik: Die milde Provensaalse son laat die bloed lui en loom, en soos rooi druiwesap deur die are vloei. Selfs die skril-skrynende lied van die sonbesies klink soos 'n Te Deum laudamus vir son en somerweelde - soos 'n gestadig slepende verheerliking van rus en gemak en salige niksdoen. En die blou meer, wie kan sy bekoring weerstaan? En wanneer die herfsweer uiteindelik weer terugkeer en die blare begin val, voel Uys iets van 'n weemoed wat deur alles huiwer: | |
[pagina 156]
| |
The leaves are reddening and changing to brown. And the wind brings them down in sad whirling and fluttering crowds. Even the animals are feeling the change. Last night a beautiful green and grey-black viper came into my room for a little warmth and comfort. It was 4 o'clock in the morning, and I had woken up and was going outside, had almost stepped on it with my bare feet when I noticed something twisting and turning. I bent down. The little eyes glittered green and wickedly, the tongue flickered like a flame. With two blows from a shoe I crushed the beautiful head. This sudden intrusion of beauty into my room - and its bright irruption into the vague and dim circle of my half-awakened thoughts - left me sleepless for an hour. Wat Uys in die jare in Frankryk, en in Provence in die besonder, waardeer, is die sin vir ewewig, maat en harmonie wat sowel in die kuns as in die leefwyse van die mense tot uiting kom. Hy kon dit merk aan 'n gewone boerehuis, 'n brug oor 'n sloot, 'n druiweprieel en die skrywers en skilders se pragtige vermoë om die poëtiese in hierdie prosaïese dinge te sien. Hy is meegevoer deur Proust se beskrywing van straatklanke of meisies wat langs die pad loop, en deur De Maupassant, Renoir, Monet en Cézanne, wat die eenvoudigste daaglikse dinge - 'n piekniek op die gras, 'n straatkafee, 'n blom - in hulle kuns kon weergee.Ga naar eind5. Elke dag kon hy ontdekkend leef met die seker wete, soos hy uit Charles Baudelaire se ‘L'albatros’ sou vertaal, dat die digter iemand is ‘wat met sterre swewe en op die winde wiek!’Ga naar eind6. Veral die manier waarop die Franse skrywers die Franse taal gebruik, het hom beïndruk. Hy lees Voltaire se Candide, hy vind by Racine 'n liriese verhewenheid van taal en gedagte en waardeer ‘die humor, die vernuf [en] die moeitelose elegansie’Ga naar eind7. van Molière. Intuïtief was hy reeds besig om sy eie Afrikaans aan die helder ‘klaarte’ van die Franse taal te slyp. Baie skrywers van baie tale, van Amerikaners tot Russe, het gevind dat die Franse taal 'n nuwe helderheid en lig vir hulle bring en 'n soeklig op hulle eie taal is. Deurdat hy in Frankryk daagliks Frans moes praat en die taal goed moes leer ken, het dit as 't ware sy eie taal aan hom geopenbaar en skoonhede aan hom getoon waarvan hy vroeër nie bewus was nie. In hierdie jare gaan Uys voort om die Franse poësie, waarmee hy reeds op Stellenbosch deur die besielende lesings van J.L.M. Franken kennis gemaak en wat 'n hele nuwe wêreld vir hom oopgesluit het, | |
[pagina 157]
| |
intensief te lees en te bestudeer. By Leconte Delisle - die leier van die Parnassiens, 'n groep Franse digters in die middel van die negentiende eeu - vind hy 'n sterk vormbewustheid en ewewig, 'n presisie van woordgebruik en 'n helderheid van gedagte en beeld.Ga naar eind8. Reeds op Stellenbosch het hy van hom ‘Le coeur de Hialmar’ vertaal. Nou leer hy ook die Middeleeuse digter François Villon beter ken, in baie opsigte vir hom die voorloper van groot negentiende-eeuse digters soos Baudelaire, Rimbaud en Verlaine. In sy verse skryf Villon oor sigeuners, harlekyne, voddeverkopers, straatvroue, skurke - al die uitskot van die grootstad en die tipe mens wat Uys in stede soos Marseille en Nice en met besoeke aan Parys meemaak. En in ooreenstemming met wat hy ook by die moderne Franse digters vind, laat Villon vir hom ‘die banaalste dinge straal van poësie’.Ga naar eind9. Aan Bokkie laat hy weet dat hy Villon se ballades lees. Hulle is ‘wonderskoon’, hulle bly in sy kop dwaal en hy gaan probeer om 'n paar van hulle in Afrikaans te vertaal.Ga naar eind10. In Vir die luit en die kitaar, wat hy eers in 1950 publiseer maar waarin alle vertalings vóór sy terugkeer na Suid-Afrika in Desember 1935 voltooi is, neem hy drie van Villon se ballades op. Die geslaagdste hiervan is ‘Ballade des dames du temps jadis’, wat hy as ‘Ballade van die dames van weleer’ vertaal. Die refreinreël (‘Mais ou sont les neiges d'antan?’) vertaal hy met ‘Maar waar's die sneeu van voorverlede jaar?’, geslaagder as die Engels van Anthony Bonner (‘But where are the snows of bygone years?’)Ga naar eind11. of die Nederlands van Ernst van Altena (‘En waar is de sneeuw van weleer?’)Ga naar eind12. Krige se weergawe het in Afrikaans 'n volwaardige gedig in eie reg geword: O sê my waar, in watter ver kontrei
Is Flora, die mooi Romein; in watter land
Is Thaïs en Argipiade, sý
Wat eens haar niggie was aan moederskant;
Eggo wat roep as ver oor meer of strand
Gewiek ons stemme deur die stilte vaar,
O skoon, te skoon vir menslike verstand!
Maar waar's die sneeu van voorverlede jaar?
| |
[pagina 158]
| |
En waar die vroom, die slanke Helloïs
Om wie se skoonheid eers moes sug, toe ly
Die monnik Abelard by St. Denis?
Hul liefde het tot diepe smart gedy.
Waar ook die vorsvrou sonder medely
Wat wreed beveel't dat Buridan moes vaar
Vas in 'n sak waar die Seine-waters gly?
Maar waar's die sneeu van voorverlede jaar?
Die prinses Blanche deur ieder vors begeer;
Soet was haar stem soos dié van 'n sereen;
En Haremburg wat oor die Maine regeer,
Grootvoet-Berta en Beatrys, Heleen,
Johanna lief vir wie ons eens moes ween,
Verbrand deur Engelse by Rouen daar;
Waar's hul, Moeder van God, waar iedereen?
Maar waar's die sneeu van voorverlede jaar?
Vra nòg vanjaar nòg hierdie dag wat kwyn,
O Prins, waar hul mag wees, die skone skaar.
Nog altyd skryn slegs hierdie soet refrein:
Maar waar's die sneeu van voorverlede jaar?Ga naar eind13.
Dié weergawe is indrukwekkender in sy geheel as Dante Gabriel Rossetti se Engelse vertaling, ‘The ballad of dead ladies’: Tell me now in what hidden way is
Lady Flora the lovely Roman?
Where's Hipparchia, and where Thais,
Neither of them the fairer woman?
Where is Echo, beheld of no man,
Only heard on river and mere, -
She whose beauty was more than human?...
But where are the snows of yester-year?
| |
[pagina 159]
| |
Where's Héloise, the learned nun,
For whose sake Abeillard, I ween,
Lost manhood and put priesthood on?
(From Love he won such dule and teen!)
And where, I pray you, is the Queen
Who willed that Buridan should steer
Sewed in a sack's mouth down the Seine?...
But where are the snows of yester-year?
White Queen Blanche, like a queen of lilies,
With a voice like any mermaiden, -
Bertha Broadfoot, Beatrice, Alice,
And Ermengarde the lady of Maine, -
And that good Joan whom Englishmen
At Rouen doomed and burned her there, -
Mother of God, where are they then?...
But where are the snows of yester-year?
Nay, never ask this week, fair lord,
Where they are gone, nor yet this year,
Except with this for an overword, -
But where are the snows of yester-year?Ga naar eind14.
Jare later,Ga naar eind15. wanneer Liesje Antonissen - vrou van Rob Antonissen - hom bedank vir die toesending van sy Éluard en die Surrealisme, sê sy dat sy Uys as digter veral leer ken het deur sy vertalings. Sy sal nooit die vertaling van Villon se refreinreël vergeet nie: ‘Waar's die sneeu van voorverlede jaar?’ Sy skryf: Die Franse vers is natuurlik van 'n betowerende eenvoud, daarby ondeurgrondelik-diep van verlange, van heimwee, van innigvurige belydenis. Maar die Afrikaanse vers het ek nog altyd 'n ‘vonds’ gevind. ‘Waar's die sneeu van voorverlede jaar?’, ag nee Uys. Nou nog, na soveel maal herlees gee die vers my koue rillings. Uys self het Villon se gedig hooggeag; daarby het dit aanklank gevind by die onderliggende element van neerslagtigheid in sy samestelling. 'n Mens sien dit in die kommentaar wat hy in Vir die luit en die kitaar by hierdie ballade skryf: | |
[pagina 160]
| |
Maar in sý [Villon se] mond word hierdie eenvoudige liedjie 'n skrynende treurlied vir alles wat hier op aarde jonk en fris en mooi is, of dapper en sterk en lewenskragtig en wat die Dood, onvermydelik, moet wegvaag.Ga naar eind16. Reeds toe hy in Johannesburg met sy vertalings uit Abu'l-Ala besig was, het Krige besef dat die vertaling van 'n gedig geen bloudruk van die oorspronklike kan wees nie. Dit ondervind hy nou ook met sy vertalings uit Frans. 'n Vertaling wat sy sout werd is, word in die nuwe taal 'n nuwe gedig wat in sy totaliteit beoordeel moet word, nie deur 'n woordelikse vergelyking met die oorspronklike nie. As 'n digter met die vertolking van 'n vers uit 'n ander taal in sy eie taal wil slaag, is dit alleen moontlik, soos Krige in die ‘Naskrif’ tot Vir die luit en die kitaar sê, wanneer ‘jy...met 'n paar vonke uit die groot vuur vir jou 'n eie gloeiende vuurtjie aansteek...’Ga naar eind17. en die vertaling tot 'n gedig met 'n eie selfstandige poëtiese lewe groei. Daarby het Krige die neiging gehad om in die gees van die vertaalde vers voort te gaan. Al kry 'n mens by hom voorbeelde waar hy hom streng aan die oorspronklike hou, is daar ook van vroeg af voorbeelde van uitbreidings en voortbordurings op die moedervers. Maar dit is veral die poësie van Charles Baudelaire, volgens hom die vader van die moderne poësie en die grootste digter van die negentiende eeu, wat Krige in hierdie jare lees en herlees en wie se werk 'n obsessie by hom word. Hoewel hy die werk van verslibriste soos Mallarmé, Verlaine, Rimbaud, Valéry en Apollinaire waardeer en by hulle aansluit, is dit die stromende innerlike musiek van Baudelaire se poësie wat hom meevoer, die klassieke vormskoonheid van sy verse en die wyse waarop hy van die akademiese ‘poëtiese’ taal van sy voorgangers afwyk en nader beweeg aan die gesproke taal van sy tyd.Ga naar eind18. Hoewel hy 'n sewetal verse van Baudelaire in Vir die luit en die kitaar aandurf, moet hy in 1950 verklaar dat hulle in wese feitlik onvertaalbaar is. Wanneer Peter Blum later in Steenbok tot poolsee (1955) sewentien gedigte uit Les fleurs du mal vertaal, het Krige - miskien met 'n bietjie beroepsjaloesie - sterk beswaar teen die oorsettings. Tog bereik Krige iets besonders met sy vertaling van ‘L'albatros’. Sowel hy as Blum het egter nooit kans gesien vir 'n vertolking van ‘Correspondances’ nie, daardie beroemde sonnet wat later feitlik die manifes van die Simboliste geword het. Dit is 'n gedig waarin Baudelaire oor die verwantskappe of verbintenisse van die sintuiglike ervaring | |
[pagina 161]
| |
skryf - die sintuie ‘qui chantent les transports de l'esprit et des sens’ (‘wat sing oor die verrukkinge van die gees en die sinne’). By Baudelaire, so skryf Krige in sy opstel oor dié digter in Vir die luit en kitaar, openbaar die gesplete mens, vol twyfel en tweespalt, bedeeld met 'n nuwe, ‘moderne’ gevoeligheid, homself die eerste keer in die vorm van die poësie. Wanneer hy Baudelaire se werk verder karakteriseer, kry 'n mens die indruk dat Krige ook iets van sy eie digterskap en menswees formuleer. Baudelaire is vir hom 'n mens, rampsalig oor sy droom van 'n voller, beter lewe wat hy maar al te goed weet nooit vervul sal word nie; by wie sy pragtige herinnerings aan sy kinderdae - daardie ‘groen paradys...waar alles slegs liefde en vreugde was’ - altyd weer kom spook; gekwel deur 'n besonder kwesbare gevoeligheid; gemartel deur sy gees, sy bewussyn, sy kennis van goed en van kwaad, sy besef van die doelloosheid en futiliteit van sy bestaan; en wat so deur 'n knaende onrus ewig voortgedryf word.Ga naar eind19. Baudelaire is by uitstek stadsdigter wat Parys in al sy stemminge ken: In die môre vroeg, wanneer die vuilgoedwaens die buitewyke laat skud en die somber stad soos 'n grys ou arbeider sy oë vryf en weer sy gereedskap opneem. Op die helder dag, wanneer die skim of spectre by die verbyganger inhaak. In die middag laat, wanneer die aanhoudende reënvlae die digter herinner aan die tralies van 'n tronk. In die triestige skemeruur van 'n herfsdag, wanneer die wanhoop Baudelaire beetpak en die bome wat in die binneplase afgekap word, hom laat dink aan 'n doodkis wat iemand iewers haastig vasspyker. In die nag, wanneer die oneindigheid deur alle vensters inloer en hy bang is vir die slaap soos vir 'n spelonk vol vae skrik; wanneer ‘die swart oseaan van die stad’ begin bruis en dit 'n geheimsinnige kolkende lewe ken soos nooit bedags nie; wanneer die misdaad en die sonde ontwaak; en wanneer die skouspel van al die armes en ontredderdes - daardie ‘verwarde uitbraaksel van die enorme Parys’ - Baudelaire vul met 'n namelose medelye.Ga naar eind20. Die bekoring van die stad én die deernis met sy mense kon Baudelaire in sy verse vasvang: | |
[pagina 162]
| |
sy polsende lewe, sy voortdurende spel van kleur en tint en lyn binne sy eie karakteristieke gebied en die verskeidenheid gevoelens, aandoeninge of stemminge wat dié spel dan in die digter wek....Die armsalige ou vrouens wat vroeër soveel vreugde en geluk geken maar langs die lewenspad uitgesak het en nou koud, honger en verflenterd deur die donker strate dwaal; die dronkaards, vodderapers, bedelaars; die oues van dae wat geen heenkome het nie; die siekes wat die hospitale vul met hul gesug - al hierdie ongelukkiges, alle ‘gevangenes en oorwonnenes’, wek sy deernis. En dan skryf hy sy groot deernis-gedigte.Ga naar eind21. Een van hierdie ‘deernis-verse’, ‘La mort des pauvres’, vertaal Krige as ‘Die dood van die armes’.Ga naar eind22. Groter reg aan Baudelaire laat hy geskied met enkele van sy oorspronklike verse uit hierdie jare: ‘Dagbreek’, die indrukvers oor Parys in die vroeë oggend; ‘Barcarolle’, waarin die sonsondergang by Monte Carlo iets van Christopher Marlowe se hartstogtelike verse by hom wek, al oorheers die romantiese onvergenoegdheid, gesuggereer deur die ontnugterende vergelyking van die ‘ou vrou met pantoffels aan’ en die besef dat die vroeëre poskaart-mooie prentjie van Monaco valse verwagtings gewek het; en ‘Hôtel Aurore’ met sy paarrymende koeplette wat soms tot tersines uitbloei en met 'n barokke beelding die triestigheid en verveling van die spreker oordra. Maar die grootste hulde aan sowel Baudelaire as Villon is ‘Romanza’, een van Krige se mees geslaagde verse, waarin hy die Franse balladevorm van die Middeleeuse digter met die Baudelairiaanse uitbeelding van 'n verloopte, kranksinnige vrou, een van die stad se verskoppelinge, verbind. ‘Romanza’ het trouens iets van Villon se ‘Ballade van die stoere Heaulmiere’, wat Krige later sou vertaal. Baudelaire se tegniek neem Krige nie oor nie, soos Charles Eglington dit later sou stel, maar hy leer by hom die vermoë ‘om 'n toneel te aanskou;...om 'n toneel of een voorwerp as 'n kern te gebruik, waaromheen sy fantasie dan 'n gedig laat kristalliseer;...hoe om taal evokatief te gebruik’.Ga naar eind23. Só ná kom Krige in ‘Romanza’ aan die spreektaal dat 'n mens, ten spyte van die vaste rymskema en die vormgebondenheid, soos dikwels by Baudelaire die indruk van sterk ritmiese prosa of vrye vers kry. Soos by Baudelaire het hy die vermoë om die poëtiese in die prosaïese, selfs in die lelike, te sien, die taal te brandskat, aan sommige woorde (soos byvoorbeeld ‘mantel’ as werkwoord) | |
[pagina 163]
| |
'n nuwe funksie te gee, sy hele siening van Nice as die pretpark van dekadente en verveelde rykes met ironie te laai en selfs ironiese ryme (‘tries - nies - vies’) en detonerende beelde (‘kopkole’, ‘neuse soos 'n pypsteel krom’) daarvoor aan te wend. Die eerste twee strofes van ‘Romanza’ lui as volg: Vaal skemerhemel mantel toe oor Nice.
En hier waar 'n laat boot die bloute klief,
sug soos een in sy slaap die somerbries...
O luister, dis die uur van die aperitief!
Die hart met oorvloed van verveling's tries;
en kelners wat hier draf waar klante wink
(soos Danaïdes wat pal skep en skink)
moet swoeg, kry selfs geen tyd om nog te nies
want nooit nie, blykbaar, word hul taak voltrek.
Hul's met die karigheid van fooie vies
- en kyk, madame de Montboron is gek.
Hier op die terras van die Promenade
waar sonneskerms soos kopkole blom
bo blonde- en bleskoppe, voel die hart hom stom,
stoksielalleen, selfs van homself verlaat.
O feestelike uur! die toeverlaat
van rykaards, babbelaars wat met stemgebrom
(dikwels met neuse soos 'n pypsteel krom)
soek na verstrooiing en 'n nuwe gaad';
waar geld beskik, altyd bewondering wek
en wagtendes bekroon word, vroeg of laat
- en kyk, madame de Montboron is gek.Ga naar eind24.
Wat 'n mens hier by die lees opval, is die fyn musiek van Krige se vers, iets waarmee hy indertyd iets heeltemal nuuts in die Afrikaanse poësie bring en waarvoor hy tot vandag toe nog nie die nodige erkenning gekry het nie. In die plek van die eksesse waarin sy skoolverse onder die invloed van die deur hom so bewonderde Celliers en later ook Swinburne verval, ontwikkel hy hier tot 'n volwasse musikaliteit, bevry van die dreun en uiterlike gesketter. Soos by Baudelaire is dit ook by hom geen ‘uiterlike musiek, geen bolangse soetvloeiendheid of lekker los gedreun of gestamp nie, maar 'n ryk innerlike | |
[pagina 164]
| |
musiek wat uit die gemoed en verbeelding opsing’.Ga naar eind25. Ten spyte van die aansluiting by Villon en Baudelaire, is Krige se vers hier sterk en oorspronklik. Met sy vestiging in Provence en die ‘name wat daar skielik sing’, het Krige die wêreld leer ken waaroor hy as kind saans onder die lamplig gelees het. Maar met die Franse literatuur wat hy nou ontdek en sy eie maak, verryk hy sy eie menswees. Ook geestelik was hy op reis. | |
IITeen 1932 het Uys as gevolg van sy rugbyverpligtinge en sy gebrek aan geld nog steeds nie die geleentheid kon vind om Enslin du Plessis se wenk op te volg en Roy Campbell te besoek nie. Reeds as vyftienjarige skoolseun op Stellenbosch het hy met Campbell se poësie kennis gemaak en entoesiasties daaroor begin word. By die lees van The flaming terrapin, die lang gedig waarmee Campbell in 1924 debuteer, is Uys meegevoer deur die preokkupasie met die see in al sy onstuimige skoonheid, die fors en vrymoedige beelde, die dikwels onverwagte en verrassende kontraste, en die ‘woeste’ Afrika-inslag in die formulering van die digterstaak: My task demands a virgin muse to string
A lyre of savage thunder as I sing.Ga naar eind26.
Hy het ook gehou van The wayzgooze (1928), Campbell se verpletterende satire op Durban, die stad ‘Where pumpkins to professors are promoted/And turnips into Parliament are voted’.Ga naar eind27. Uit vrees dat hy in dié stad met sy winkeliersbeskawing tot ‘A laureate of the drapers’Ga naar eind28. geproklameer sal word en in burgerlikheid sal versink, verlaat Campbell Natal in 1927 om hom uiteindelik in Provence te vestig. Nog meer as sy eerste twee werke het Adamastor (1930) tot Uys gespreek. Met verse soos ‘The Zulu girl’ (‘Her body looms above him like a hill/Within whose shade a village lies at rest’), ‘The zebras’, ‘The serf’ (‘And ploughs down palaces, and thrones, and towers’),Ga naar eind29. ‘Horses on the Camargue’, ‘Rounding the Cape’ (‘And Night, the Negro, murmurs in his sleep’)Ga naar eind30. en ‘Tristan da Cunha’ (‘Sleep your old sleep of rock, snore in the wind,/Snore in the | |
[pagina 165]
| |
spray!’)Ga naar eind31. sou dié bundel later as een van die belangrikste bydraes tot die Suid-Afrikaanse literatuur gereken word. Baie jare later, wanneer Krige in 1960 die bloemlesing Poems of Roy Campbell saamstel, kan hy sy landgenoot as digter nie hoog genoem roem nie: Of Roy Campbell's poetry I should like to say...that whatever its faults - and there are limitations at times - when all the cliques, claques and coteries of our time have settled into their rightful little grooves, Roy Campbell will stand out as one of the finest lyrical voices of his generation in the English language.Ga naar eind32. Maar nou wou Uys 'n besoek aan Campbell nie langer uitstel nie. Op 'n helder oggend in die herfs van 1932 neem hy die bus van Marseille na Martigues, waar die Campbells woon. 'n Paar minute ná sy aankoms in Martigues vererg hy hom vir die posmeester wat met sy oorgedienstige, klerklike siel weier om aan hom mee te deel waar Monsieur Campbell woon: J'ai dit...non. Non-non-non-non-non! I will not tell you. It is interdit...forbidden. Reglements...regulations. This is an inviolable secret under the oath of my office as maitre de poste. I will not say to you where M'sieur Campbell lives. Absolutement! Non! You may go, M'sieur, to the devil.Ga naar eind33. Op die ingewing van die oomblik stap Uys reguit in 'n weswaartse rigting, die koers van Spanje, en om halfelf in die môre is hy onder 'n lang breë laning reusagtige plataanbome. ‘Dis of ek 'n stralende Cézanne-doek binnestap’, skryf Krige in sy ‘Eerste ontmoeting met Roy Campbell’ in Sout van die aarde: Agter my lê l'Estaque wat Cézanne dikwels met soveel liefde geskilder het; regs, feitlik aan my voete, die stil blou meer, l'Étang de Berre, waar hy so graag gekom het; en daar ver, tronende oor die meer en die noordwestelike gesigseinder, toring die trotse Mont Victoire wat hy in skilderstuk op skilderstuk verewig het, massief teen die diepblou lug op.Ga naar eind34. Die eerste boer wat hy raakloop, beduie hom waar die Campbells 'n paar kilometer verder woon. 'n Halfuur later swaai hy regs van die | |
[pagina 166]
| |
grootpad af langs 'n klipperige plaaspaadjie in die rigting van 'n tipiese tweeverdieping-Provensaalse opstal met hoë, ligbruin mure en 'n dak van groot rooi teëls. Wanneer hy by die voordeur aanklop, maak 'n ‘stewige entjie vroumens’Ga naar eind35. met swart olierige hare oop. Op die vraag of sy mev. Campbell is, kom die antwoord: C'est pas vrai...c'est pas vrai! I am not...Madame Campbell....I am...Mireille, the housekeeper....You desire to see Monsieur? Monsieur sleeps. But...I'll waken him...on the spot...tout de suite. It is high time he is up...see how high is the sun. Pardonnez-moi...Ga naar eind36. Sy klim rats met die steil trap boontoe, terwyl Uys luister na die boomsingertjies en die sonbesies in die bome en terugdink aan sy Uys-oupa se plaas in die Swellendamse distrik. Dan kom 'n lang man die donker mankolieke trap afgestrompel: Hy het 'n verweerde matroosbroek aan en 'n donkerblou trui. Dis duidelik dat hy in sy klere geslaap het. Die volgende oomblik staan hy op die drumpel, knip-knip hy sy groot groenerig-blou oë in die skielike skerp sonlig en skud hy, kragtig, my hand.Ga naar eind37. Uys word geraak deur die ferme handgreep en die openhartige ontvangs deur 'n beroemde digter wat hom glad nie ken nie en vir wie sy koms 'n volkome verrassing is. Die treffendste gelaatstrek van Campbell - toe een en dertig jaar oud - is, naas sy indrukwekkende, kaal kop en breë skouers, sy oë: Hulle is terselfdertyd helder en geheimsinnig, lyk onskuldig sowel as wêreldwys, met in hul uitdrukking iets afgetrokke en onnaspeurbaar, maar tegelyk naby en intiem-vriendelik.Ga naar eind38. Wanneer Campbell begin praat, kry Uys 'n skok, want sy aksent is ‘ruig-Suid-Afrikaans’,Ga naar eind39. erger as sy eie in Engels, en dit tower vir hom met heimwee iets van die grysblou klipkranse van Tafelberg en ‘die grootse blougroen glooiinge van die Vallei van 'n Duisend Heuwels’Ga naar eind40. op. Omdat hy die vorige dag langdurig met 'n klompie vissers van Martigues dronknes gehou het, ly Roy aan 'n yslike nadors. Saam | |
[pagina 167]
| |
loop hulle na die put waar Roy die emmer laat sak; wanneer dit opkom, kantel hy dit met een slag oor sy kop. Met Roy se fiets en met Uys, wat 'n leë karba vashou, bo-op die dwarsstang, ry hulle na 'n bistro in Martigues, terwyl Roy lopende kommentaar op 'n rits uiteenlopende onderwerpe in Uys se regteroor inskeree. Later sou Uys sy vriend Roy bestempel as een van die tien beste raconteurs wat hy in sy lewe ontmoet het: His conversation was often like a torrent or, rather, like the Orange River in flood, sweeping along with it in its headlong course mighty trees, much picturesque flora and fauna, at times even a dead horse - but invariably scattering diamonds of the purest on all sides....You always felt a little drunk in his company and it was a mental drunkenness without a hangover.Ga naar eind41. Dit moes bepaald 'n belewenis gewees het om Campbell en Krige, wat ook lewenslank vir sy spraakwater bekend was, bymekaar te sien en te kyk wie vir wie doodpraat. In Sout van die aarde gee Krige 'n aanduiding van hoe Campbell blitsvinnig van die een onderwerp na die ander kon oorwip: Alte seker, die Franse speel 'n los, oop, vurige skouspelagtige soort rugby...‘They give the ball plenty of air, fling it about as gaily as if it were a great golden orange...’ En Rimbaud het gesê Baudelaire is 'n god. Watter digter, Baudelaire, marmer en musiek tegelykertyd! Marmer wat betref sy vorm, musiek wat betref die fyn innerlike ritme van sy singende versreël....En Rimbaud is ook 'n god. Die wonderlikste van alle wonderkinders....Daar's nie aan te twyfel nie, die ganse moderne poësie vind sy ontstaan in Baudelaire en Rimbaud. En hoe hanteer die Franse agterspelers, en selfs hul voorspelers, nie 'n nat bal nie!...Ken ek Valéry se ‘Cimitière Marin’? 'n Meesterlike gedagte-gedig waarin die digter se gedagte vlerke kry en dit al stygende sing en sing en waar daardie heerlike moeitelose vlug volgehou word, man, vanaf die eerste versreël tot die laaste!...Man, dreun die stem weer in my oor, maar Carnecerito (die slagtertjie) de Méjico is 'n onverbeterlike romantikus, hy vergryp hom aan al die klassieke norms van die stiergeveg, nee, hy verkrag deurentyd dié norms. Maar watter moed, que valiente! Domingo Ortega is die | |
[pagina 168]
| |
beste torero wat hy dusver sien optree het. Wat 'n grasie, elegansie, vernaamheid, begaafdheid.Ga naar eind42. In 'n kafee in Martigues sit hulle en drink saam met 'n paar van die plaaslike inwoners, met Roy wat steeds soos 'n marathonatleet bly praat. Eers teen halfnege die aand keer hulle met twee vol karba's wyn terug huis toe. Daar maak Uys kennis met Roy se vrou, Mary - ‘van 'n donker Spaanse skoonheid, maar onverstoorbaar Engels in haar hele houding en nugter reaksie op Roy se onversaagde uitbundigheid’Ga naar eind43. - en hulle twee dogtertjies, Teresa en Anna. Reeds tydens die eerste vier dae dat Uys by die Campbells bly, leer hy in Roy die essensiële opgewektheid en lughartigheid van die ware digter ken. Soos Uys kon Roy ná sy aankoms in Europa dit nie lank in Engeland uithou nie en het hy hom in Provence gaan vestig, 'n landstreek wat met sy klimaat en bodemgesteldheid vir hom iets van Suid-Afrika gehad het en waar hy terselfdertyd langs die Middellandse See, die wieg van die Europese kultuur en beskawing, sy Europese erfenis ten volle deel van homself kon maak. Hy was 'n seun van die son, die lewe was vir hom iets kosbaars, iets om oor te jubel.Ga naar eind44. Wat Uys opgeval het, was die wyse waarop Roy met 'n werklik demokratiese behae en verrukking in die geselskap van gewone mense soos die plaaslike vissers en dorpsbewoners kon opgaan.Ga naar eind45. Meer as enige ander digter wat hy ooit ontmoet het, sou Uys later getuig, het Campbell 'n feitlik kinderlike verwondering oor die skoonheid en oorvloed van die lewe en die natuur behou. Vir Krige, self 'n digter met 'n sterk stuwing en onrus in sy vers, was Campbell by uitstek 'n Dionusiese mens en kunstenaar. Sy poësie was 'n kuns van die dronkenskap en as mens het hy gevaarlik en ‘wild’ gelewe. Daarby is Uys beïndruk deur die wyse waarop hierdie digter hom onvoorwaardelik, sonder om hom oor finansiële sorge te bekommer, aan sy kuns gewy het. Volgens sy biograaf, Peter Alexander, het Campbell vroeg in sy lewe besluit om alle ontberings te aanvaar en sy aandag ten volle aan sy ambag te bestee. Die digter, so het hy geglo, ‘must throw aside any constraints of morality, any convention of society which might prevent him from living fully for his craft....[H]e never deviated from it. Money, fame, the respect of others: he was prepared to sacrifice them all to the strict demands of his art.’Ga naar eind46. Dit is 'n oortuiging en leefwyse wat tot Krige sou gespreek het en wat hy van vroeg af in sy eie lewe sou navolg. | |
[pagina 169]
| |
Dat Roy en Uys met al hierdie ooreenkomste in hulle samestellings vreugde in mekaar se geselskap gevind het, spreek eintlik vanself. In 'n brief aan Uys kort ná hierdie eerste besoek skryf RoyGa naar eind47. dat sowel hy as Mary vooruitsien na verdere besoeke en dat hy graag na Uys se gedigte sal wil kyk. ‘At any time you are in difficulties look on this please as your home.’ Uys laat nie op hom wag nie. Nog voor die einde van Oktober is hy weer 'n paar dae lank by Campbell wat, met Mary en die kinders op besoek aan Engeland, alleen was. Saam hou hulle dronknes en raak Roy só siek dat Uys hom moet oppas. Aan Bokkie laat weet hyGa naar eind48. dat die wanorde van Roy se lewe soms 'n bietjie skrikwekkend is, maar dat hy 'n diep opregte gevoel vir hom as mens en as vriend het en voel asof hy hom al jare ken. Roy is vir hom die gulhartigste mens, met geen besef van geld en materiële waardes nie. Eind Desember en begin Januarie 1933 besoek hy hulle weer. Op 7 Januarie skryf hy aan sy broer Roy en Mary is vir hom ‘van die dierbaarste mense op aarde’; by hulle is hy ‘bowematig gelukkig’. Wat hy bewonder, is hulle ‘onafhanklikheid van die wêreld en sy mense, hul liefde vir mekaar, hul volslae on-materialisme - hul lieftalligheid en beminlikheid’. Roy se bundel Mythraic symbols is pragtig, sy beste werk. Sy nuwe bundel, Flowering reeds, verskyn nog in Januarie en hy is tans hard besig met sy outobiografie, 'n werk wat onder die titel Broken record in 1934 die lig sou sien. Uys is vol lewenslus, ‘soos 'n springhaas in die tabakland douvoordag’.Ga naar eind49. Hy slaap min, begin elfuur saans ‘te peuter aan 'n gedig of iets’, en wanneer hy teen drie-uur in die bed kruip, wil die slaap nie kom nie. Teen nege-uur die oggend is hy weer op, springlewendig. ‘Ek begin’, skryf hy, ‘bang word dié geluk sal nie duur nie, hy hang soos 'n druiwetros. - Maar dit hang nòg van die wind, nòg van die weer, slegs van myself af.’Ga naar eind50. Hy was weer in Februarie 1933, in die hartjie van die winter, by die Campbells en hulle het die heerlikste, mildste lenteweer denkbaar gehad: Die son skyn elke dag! Mens sou jou in die lente verbeel. Op my verjaarsdag [4 Februarie - JCK] het ons gaan piekniek hou langs die meer. Ons het geswem, ek het vier uur lank in die warm koesterende son gelê, kaalgat behalwe vir 'n broekie. Ons het rooi en geel wyn op die aarde uitgestort as dankbetuiging en offer aan Phoebus, die Songod. Met die ondergaan van die son het ons Eggo ontdek. In die dennewoud langs die waterkant het sy | |
[pagina 170]
| |
geskuil. Elke woord, sangnoot of sin wat ons in 'n gewone stem tot haar gerig het, het sy teruggewerp, helder klaar en rein, oor die blou water. Diep en 'n bietjie droef want sy kwyn en treur mos nog altyd vir haar minnaar....Daardie aand het Roy en ek gesels totdat die dag rooi uitgeslaan het sewenuur die môre. | |
IIIIn hierdie tyd speel Uys steeds rugby vir Marseille en geniet hy die waardering van die skares. Terselfdertyd bestee hy 'n uur per dag om Spaans onder die knie te kry en wil hy ook een van die ‘mooi dae’ met Italiaans begin. Hy is verder verwoed aan die lees. Vir Bokkie beveel hy Wyndham Lewis se Apes of God aan; saam met Campbell vind hy Lewis een van die werklik min groot figure in die letterkunde van vandag. Shakespeare, Marlowe, Dryden en Webster lees hy sistematies en hy vind Marlowe se Tamburlaine the Great pragtig. Dante se Inferno in die Engelse vertaling van Thomas Carlisle is vir hom magtig en ontroer hom tot trane wanneer Campbell van die canto's voorlees. Maar Marseille se rugbyklub, waaruit Uys 'n klein inkomstetjie kry, is aan die begin van 1933 op die rand van bankrotskap en kan hom nie meer betaal nie. Reeds in Oktober 1932 het die Campbells na 'n groter woning, Figuerolles, getrek, 'n ou pienk boerehuis met 'n groot sederboom,Ga naar eind51. waaraan hulle die verdere naam Chez Campbell toevoeg. Agter die huis was groot kurkbome en langs die een kant was 'n bos met olyfbome met 'n paadjie wat na 'n meer geloop het. In die ruim tuin was 'n verskeidenheid buitegeboue waar Tess 'n hele klein dieretuin met konyne, hoenders en 'n wit bok met die naam Blanchette aangehou het.Ga naar eind52. Roy en Mary dring nou by hom aan om permanent by hulle te kom bly. Hulle het volop plek, skryf Uys aan die begin van 1933 aan Bokkie, ‘'n huisie ekstra, ook 'n skuur waarin ek vir myself kan huis opsit, as ek eensaam en ongestoord wil wees. Mary sê om vir een ekstra mond kos te maak, wanneer daar reeds vyf is, maak skaars 'n verskil. Roy sê ek hinder hom nooit in sy werk nie, inteendeel, ek is 'n invloed ten goede.’ Uys meen dit sal geen verandering in hulle vriendskap bring nie; dit eerder versterk, ‘heg en standhoudend’ maak. Dit sal hom die geleentheid bied om die ware Provence met sy wonderlike geskiedenis te leer ken en die intimiteit | |
[pagina 171]
| |
van daardie gesin te geniet. Tydens sy laaste besoek was hulle elke aand voor die vuur om tot twee-uur in die môre hardop mooi prosa en poësie te lees. So 'n lewe sal vir hom ideaal wees. Uys besluit dus om by die Campbells te gaan woon. Hy is jammer om van sy vriende in Marseille weg te gaan, want hulle het hom almal baie gul en gasvry behandel. Een van hulle het hom by die afskeid 'n donkerblou pak present gegee wat hom ‘soos 'n amandeldop sy pit’Ga naar eind53. pas. 'n Ander een het hom 'n jas, amper splinternuut, present gegee en verder ontvang hy 'n sy-onderhemp, 'n horlosie en twee digbundels wat sy hart verwarm. Maar sy hart trek met 'n punt na die Campbells. Martigues, waar hy nou saam met hulle gaan woon, het destyds op vyf kanale gelê wat met die groot Berre-meer en die see verbind was - ‘an amphibious, crustacean-looking town’,Ga naar eind54. sou Campbell dit in sy latere outobiografie, Light on a dark horse (1951), noem. Dit was 'n aanskoulike vissersdorpie wat deur sy inwoners die ‘Venesië van Provence’Ga naar eind55. genoem is. Kort ná sy aankoms het Uys een van die inwoners geterg deur te sê dat Martigues maar weinig van 'n eie karakter moet hê as hy heeldag deur sy mense met 'n ander plek vergelyk word, 'n opmerking wat sy segsman ter harte geneem het. Martigues was toe skielik 'n week lank die ‘Pêrel van die suide’! In 'n ongedateerde brief aan sy broer Arnold noem Uys Martigues ‘die beeldryke Provensaalse vissersdorpie’ met sy blou kanale en ‘sy menigte blou en groen en geel en bruin geskilderde vissersbootjies [wat] stilswyend op die kalm watervlak [aanleun] teen die skilderagtige drieverdieping-hoë huise met hul luike wat al die kleure van die reënboog’ verteenwoordig. Met Uys se aankoms het die mooi weer van die eerste Februarie-dae omgeslaan in die ysigste koue denkbaar, al merk hulle voor die vuur in die huis weinig daarvan. Hy en Mary, laat weet hy sy ouers, moes in die koue uitloop om by een van die kleinboere vars eiers en botter te kry. Hy skryf: We came away with the wind in our teeth and above the first stars hanging clear and crystalline sparkling as if the wind had polished them clean. Roy, wat siek is, lees en skryf in die bed, terwyl Mary by die tafel sit en lees aan een van Uys se boeke, en die Engelse goewernante met 'n boek oor ‘highwaymen and robbers’ besig is. Hy vervolg: | |
[pagina 172]
| |
This is a weird and terrible night, most fitting for murder or some such dread crime - but if there were any highwaymen or bandits or footpads left in this century or in this part of the world, I fear...they would not be bold enough to brave the cold and the wind on such a night. Die lewe saam met die Campbells geval Uys. Hy het 'n ruim kamer met 'n binneveermatras-bed en 'n groot ruimte vir sy boeke. In die oggend lees hy in die bed. Nege-uur bring die huishulp 'n groot beker koffie, brood, botter en marmelade. Dan staan hy op. As dit mooi weer is, kap hy lustig 'n halfuur lank hout. In die namiddae loop hulle na Martigues om inkopies te doen, in 'n kafee te sit en koerant lees en iets te drink. Dan keer hulle met die bus terug huis toe. Saans sit hulle voor die vuur en gesels of lees, of luister hulle na die radio wat hulle met alle dele van Europa verbind en wat met al die musiek, voorlesings en onderhoude vir hom en die Campbells 'n nuwe speelding word. ‘Die dae gaan baie plesierig verby’, laat weet hy sy ouers op 7 Maart 1933, al is die weer nie van die beste nie. Vir hulle werk is dit egter goed en hy het in 'n groot teemaker ontwikkel. Roy en Mary se geselskap, skryf hy verder, is altyd interessant, verkwikkend en selfs inspirerend, ‘veral Roy wanneer hy op sy stukke kom’. Hy en Mary word groot vriende. Wanneer sy weer daarin geïnteresseerd begin raak om self te skilder, poseer Uys soms naak vir haar. ‘Dis goed,’ beskryf Uys dié skildery in 'n ongedateerde brief aan sy ouers, ‘ek wens julle kan dit sien. 'n Effens peinsende, swaar-sombere uitdrukking - 'n bakkies wat probeer dink, maar 'n bietjie dom is.’Ga naar eind56. Saam vorder Uys en Mary fluks met hulle Spaans en elke dag lees hulle twee of drie Spaanse gedigte. Reeds in hierdie tyd leer hy die Spaans-Amerikaanse digters uit 'n bloemlesing ken en is hy verras oor hoe goed baie van hulle is. Later sou Krige heelwat van hulle werk in Afrikaans vertaal. Omdat die Campbells se goewernante teruggaan na Engeland, maak Uys die aanbod om die kinders twee uur lank per dag te onderrig in ruil waarvoor hy geen losies betaal nie en boonop vyftig frank per week vir sigarette en ander onkoste van Roy ontvang. Hierdie reëling pas Uys perfek. Hy is baie in sy skik met die ooreenkoms, laat hy sy ouers weet,Ga naar eind57. want dit beteken ‘ek kan rustig voortwerk sonder om my kop te breek oor die toekoms, sonder om myself dood te moor met artikelskrywery. Sonder om te sug en te vra: Ag, | |
[pagina 173]
| |
Here, wanneer kom daardie volgende poswissel?...Kan ek voortgaan onverstoord met my studies, my skryf van verse en verhale en terselfdertyd die voordeel hê van hierdie aangename familielewe, die gesels en vrindskap van hierdie twee liewe mense - en ook die gebruik van Roy se biblioteek ens. Ja ek is 'n gelukkige mens.’ Teresa en Anna, die twee Campbell-dogters, vind hy ‘twee liewe meisietjies’.Ga naar eind58. Met geskiedenis, aardrykskunde en die letterkunde vorder dit fluks, maar somme haat hulle al drie ‘soos die pes’.Ga naar eind59. Daarby, so kon 'n mens by voorbaat verwag, was Uys nie in staat om hulle te dissiplineer nie. ‘They found him amusing rather than informative’, skryf Peter Alexander. ‘One day he made them laugh, for instance, by asking in genuine puzzlement, “Do cows have horns?”’Ga naar eind60. Elke dag gaan hulle baai in die meer, ‘die meisietjies so poedelnakend soos hul in die wêreld te voorskyn gekom het’.Ga naar eind61. Wanneer skrywers soos Wyndham Lewis en Aldous Huxley kom kuier, raak die twee dogtertjies onder die geanimeerde gesprekke aan die slaap. ‘Long into the night they talked, laughed, sang and drank in Homeric feasts of wit’, kon Tess en Anna later hierdie besoeke onthou, terwyl hulle vader se stem ‘competed with the mistral in relentlessness’.Ga naar eind62. Ten spyte van die somme bly Uys heerlik by die Campbells. Soms gaan hy 'n naweek na Marseille om by sy vriend André Nissolle, 'n haarkapper aan wie hy later ‘Tram-ode’ sou opdra, te kuier. Op 23 April 1933 laat hy Bokkie weet die weer is ‘godsonbeskryflik wonderlik’ en die lentewêreld ‘toweragtig mooi’. Hy het etlike nagte saam met 'n meisie deurgebring, maar geen besondere gevoel of teerheid teenoor haar gekoester nie. Nou vry hy ‘so effentjies’ met drie Franse nooiens. ‘Dis egter maar baie af en toe, geleentheid en gunstige omstandighede ontbreek.’ Die een - sewentien jaar oud, lief en onskuldig - lyk taamlik beenaf op hom. Uit die herhaalde en anonieme vermeldings van die terloopse meisies wat sy pad kruis, kry 'n mens die indruk dat Uys seks as liggaamsoefeninge bedryf! In hierdie kommervrye bestaan het hy weinig belang by wêreldgebeure of ontwikkelinge in sy eie land. Tog verras die samesmelting van die Nasionaliste en Sappe in Suid-Afrika hom. In 'n ongedateerde brief aan sy ouers vra hy of die haat tussen die twee blanke bevolkingsgroepe daarmee tot 'n einde gekom het en of die twee partye slegs uit ekonomiese oorwegings besluit het om hulle ‘kattegekerm’ te staak en saam te werk. In Europa, deel hy sy ouers mee, was die mense 'n paar weke tevore beroerd oor die gevaar van oor- | |
[pagina 174]
| |
log. Ramsay MacDonald, die Britse premier, se plan met die verbond tussen die Vier Groot Moondhede het dinge verbeter. Met hierdie stap in die rigting van wêreldvrede het Brittanje heelwat prestige gewen. Steeds lees Uys verwoed. Vir sy moeder beveel hy Tsjechof se kortverhale aan. ‘His stories are a bit strange, at first’, skryf hy, ‘but they have a haunting beautiful quality, often just like music. He has moved me deeply. He is perhaps the best writer of short stories in literature.’Ga naar eind63. Self is hy besig met die poësie en dramas van Ben Jonson, ‘thrilled with their wit, humor and poetry’.Ga naar eind64. Hy word meegevoer deur die Engelse vertalings van die Griekse digter Anakreon uit die sesde eeu voor Christus: ‘His poems are perfect, flawless, like carved miniatures.’Ga naar eind65. Catullus se verse lees hy aanvanklik met behulp van 'n Franse prosavertaling en 'n kommentaar. Wanneer hy die verse dan ‘in die sterk, springlewendige maar ook teer en strelende Latyn’Ga naar eind66. hardop lees, kom die werklike skoonheid van die verse tot hul reg. Onder die invloed van Campbell lees hy van die groot romans in die wêreldliteratuur. Hy is verbaas dat hy nóú éérs by Cervantes se Don Quijote uitkom, want dit is vir hom 'n ‘geweldige, verbasende meesterstuk’.Ga naar eind67. Vir sy ouers skryf hy: Don Quijote is ‘een van die allerhoogste, allerskoonste bergpieke in die hele wêreldletterkunde, en van al die eeue. Dis diep filosofies, tragies, humoristies - dit bevat oneindig veel. Cervantes het 'n diepte wat miskien slegs deur Shakespeare en Dante geëwenaar word. Dis 'n boek wat my die asem ontneem. Don Quijote is 'n figuur wat jy bemin soos 'n broer, wat jy nooit sal vergeet nie, om wie jy wil lag en huil tegelyk. En die gawe Sancho Panza met sy praktiese sin, al sy astrantheid, met sy mond ewigdurend vol van spreekwoorde wat hy hot en haar aflaai - vir hom lag jy jou siek en voel jy ook groot simpatie.’Ga naar eind68. Hy lees Dostojewski en Melville, en Tolstoi se Oorlog en vrede vind hy ‘a magnificent novel’, laat hy sy ouers weet,Ga naar eind69. ‘perhaps the finest in all literature. It is monumental of course. There are about 1 600 pages. It is easily the most comprehensive and complete book I have ever read. All a society is fully portrayed in it - also that epic struggle between the Russians and Napoleon when the Russians burnt their beloved Moscow, and by sacrifice and self-destruction conquered over their foe. It is so magnificent and crowded a panorama it takes one's breath away. Many of the characters in the book one will never forget. Natasha in particular - perhaps the most delightful and fascinating girl in literature. | |
[pagina 175]
| |
War and Peace is a glorious work.’ Wanneer hy van Bokkie Die bergtragedie van Leipoldt ontvang, is hy verruk oor die tipografiese versorging. ‘Wat 'n pragtige uitgawe! die mooi band, die wit sag-glansende papier’, skryf hy in Mei 1933: Dit het vir my amper gelyk of daar 'n ligte geur uit die blaaie opslaan, 'n geur lig en soet soos dié van sommige dranke voor jy nog aan hul geproe het. En ek was dadelik ook effentjies aangeklam - asof ek reeds my eie eerste bundel voor oë het, dit bewonder, dit streel, liefderik, dit met liefdevolle teer vingers orals en van alle kante betas. Die geur van die boek het ek opgesnuif. Hoop, vertroue in die toekoms, my planne en ideale, 'n juigende sekerheid van my talent en die waarde van my strewe, al die ou vrinde wat soms, maar nie al te dikwels nie, kom kuier en feesvier in my gees, het skielik opgeduik en gestalte geneem soos skone drome in 'n mens se gemoed as jy dronk is ... Tog is Leipoldt se nuutste poësie vir hom ‘diep teleurstellend’. Alles is vir hom ‘temerig, swak, sonder krag of stoot’. Wanneer hy 'n jaar later van sy suster Mizzi Leipoldt se Skoonheidstroos ontvang, vind hy veel daarin waarvan hy hou en is daar vir hom minder van die ‘kreupelverse wat mank-mank end toe sukkel’. 'n Mens voel dat jy hier met Krige se kommentaar akkoord kan gaan. Die bergtragedie is 'n swak werk, 'n skokkende insinking in 'n prominente digter se werk, terwyl Skoonheidstroos, ten spyte van die baie insinkings en vaal kolle, pragtige verse soos ‘'n Kersnaggebed’, ‘Wys my die plek waar ons saam gestaan het’ en ‘Kom gee vir my polfyntjie’ bevat - van die beste wat Leipoldt geskryf het. Saam met Campbell, uit wie die lewenslus, ongereptheid en barbaarsheid bly stroom, maak Uys kennis met ander skrywers wat hulle in Provence vestig of daar op besoek kom. Wanneer hulle saam weer Sanary-sur-Mer in die somer van 1933 besoek, merk Uys tot sy verbasing dat die dorpie wemel van besoekers en vakansiegangers en dat 'n hele groep prominente Duitse skrywers hulle ná die bewindsoorname van Hitler daar gevestig het, in so 'n mate dat Sanary nou bekend staan as die hoofstad van die Duitse literatuur!Ga naar eind70. Onder die Duitse skrywers wat hy ontmoet, is Thomas Mann en sy broer Heinrich, Lion Feuchtwanger en Arnold Zweig. Van hulle verneem hy van die verbranding van boeke in die openbaar en op watter wyse | |
[pagina 176]
| |
skrywers in Duitsland die vrye uiting van menings belet word.Ga naar eind71. Hy ontmoet ook Henri Chabrol, Franse romanskrywer, dramaturg, digter, Olimpiese swemkampioen en internasionale voetbalspeler.Ga naar eind72. 'n Buurman van hom en Roy in Martigues is Jean Toussaint Samat, skrywer van Sangar, 'n klassieke werk oor die Camargue. Nog 'n skrywer wat hulle kom besoek, is Hart Crane, die beroemde Amerikaanse digter. Campbell skryf: He was an extraordinary, tragic creature, who appeared in those classical surroundings like a mad howling dervish, always weeping, or exalted beyond himself. He could neither hold his drink nor control his abnormal ‘queer’ nymphomania: he made himself a public laughing-stock everywhere among the sailors and fishermen, by making advances to them, so that we had to send him away. He was charming when sober, which was seldom: he read his wonderful poems like an angel, and we were very fond of him, but he needed a keeper. He had only one religion, the Almighty power of the U.S.A. - he believed in Whitman's vision of it, altogether. When drunk, this puny, flatfooted fellow would boast for hours about how with seventy American marines he could conquer Europe.Ga naar eind73. Aan sy ouers skryf Uys dat twee kunstenaars, Hillier en Ryan, laasgenoemde 'n jong Ier, hulle besoek. Omdat sy kunswerke nie kon verkoop nie, het Hillier hom tot kommersiële kuns gewend, maar ook dít was 'n mislukking. Hy het nou net 'n klein studio in Londen en woon in 'n enkelkamer. Ryan het 'n suksesvolle uitgewersbedryf, is skatryk en deel sy geld mildelik aan skrywers en skilders uit, maar hy is besig om hom dood te drink en sal waarskynlik volgens Uys nie nog 'n jaar hou nie. By die ontmoeting en tydens die gesprek moes hy dink: hier het hy voor hom die rykste man wat hy al ooit ontmoet het, en hier sit hy met slegs 25 franc in sy sak. Maar, gaan hy voort, as 'n mens Ryan só bekyk, voel jy jammer vir hom: And you become more and more sure of it that you have been more fortunate than he has, that life has given you a better chance for a measure of happiness and joy and fulfilment of some sort. Whether you are just being egotistical, you are not quite sure, but it does seem as if you are the happier. You have | |
[pagina 177]
| |
health, and a great deal more: enthusiasm, hope and expectation of life it seems ...Ga naar eind74. Hulle het twee aangename etes saam met die twee besoekers gehad. ‘Roy, as he always does when anyone arrives from the outside world into our solitude, surpassed himself. He talked most of the time, and we all listened. It was bright, interesting, sometimes sparkling conversation ...’ Campbell was gefassineer deur bulgevegte, want vir hom het dit kuns gekombineer met die fisieke moed en dapperheid wat hy so bewonder het.Ga naar eind75. Hy het selfs die ambisie gehad om 'n matador te word. Roy het voorgestel dat hulle op 'n dag in Mei 1933 na Arles gaan, waar die Spanjaarde op Sondae oor die grens kom om voor 'n skare van vier- of vyfduisend toeskouers op te tree in dieselfde arena wat die Romeine tydens die besetting van Frankryk - tóé nog Gallië - vir swaardgevegte gebruik het. Vir Uys is die hele dag die ene opwinding. By hulle aankoms drink hulle 'n koppie koffie en teen die kafeemure sien hy die opgestopte koppe van 'n viertal beroemde bulle wat vroeër deur wêreldbekende Spaanse matadors gedood is. Hy word vasgevang deur die hele omgewing en die skouspel in die arena. In 'n brief aan sy ouers beskryf hy wat alles gebeur. Ná die klank van 'n beuel kom die matadors, die pikadors en al hulle helpers die arena plegtig binne: En die orkes speel daardie juigende, bruisende, opvrolikende stiergeveg-lied uit Carmen wat 'n mens die miere in die rug gee (soos die Fransman sê). En die mense skree en raas en die opgewondenheid styg tot sy klimaks. Die lied uit Carmen weerklink en galm - en die hele stoet in hul bloedrooi, skarlaken purper, goud en groen uitrusting gaan 'n buiging maak voor die president. Dan ontruim hulle die baan en die corrida begin. Die eerste optreder is die befaamde Portugese rejoneador Simeo de Vigea. (Dis die Portugese soort bulgeveg waar die ruiter optree as matador en hy nooit die saal verlaat nie.) Op 'n pragtige pronkperd gekaparisoen met 'n kosbare glansende soort mantel en allerhande versiersels, ry hy die arena binne. Die perd is 'n lus vir die oog met sy trots gekromde nek, 'n bruin hings met 'n ruie maanhaar. Stadig trippel hy op die maat van die musiek voort, lig hy sy pote op met die behendigheid, ratsheid en grasie van 'n ballet- | |
[pagina 178]
| |
danseres - fonkel sy oë, blaas hy opgewonde deur sy neusvleuels, kopspeel en spog en pronk hy, en bo-op sy rug glimlaggend, trots en fier, in sy pragtige tradisionele mondering, effens vooroor buigend in dank vir die dawerende applous en met sy gitswart breërand-syhoed swaaiend na die skare, sit die bekendste en beste rejoneador van sy tyd, De Vigea, soos 'n ridder of 'n perderuiter uit die Middeleeue. Weer weerklink die beuel, De Vigea maak sy buiging voor die president, en jaag dan die arena uit om onmiddellik daarna weer te voorskyn te kom op 'n tweede perd, 'n pikswart merrie. Die [onduidelik - JCK] hek word oopgegooi en die eerste bul stap stertswaaiend te voorskyn. Die ‘mantelswaaiers’, die manne te voet wat met die ‘capes’ die bul aanlok en afkeer en moegmaak, vermaak hulle 'n tyd lank met die bul en laat hom dan aan De Vigea oor. Hy, hoog op sy perd, roep hom, en die bul storm. Die perd swenk en swaai, en die bul jaag verby. Dan kom hy weer en die perd en ruiter draai om en om die woedende bul soos 'n blitssnelle warrelwind. Hoe De Vigea dit regkry om sy perd so te hanteer dat die bul se horings nie sy buik tref nie, bly my 'n raaisel. Hy is gewis 'n ruiter honderd. So iets het ek nog nooit gesien nie. Ek was asemloos, verstom. Toe neem De Vigea die bandarillo, soos 'n stok met 'n skerp staalpunt, en op 'n godswonderlike behendige manier plant hy dit in die voorgeskrewe plek bo-op sy rug vlak agter sy kop terwyl die perd om die bul dwarrel en ongedeerd verbyjaag. Twee, drie, vier, vyf maal herhaal De Vigea sy kordaatstuk, elke slag op dieselfde plek. Die bul bloei kwaai uit sy wond en is byna rasend van woede. Drie maal spring hy oor die plank-barricade en moet hy weer binnegejaag word. Eindelik is die gegewe tyd verstreke, en daar die ruiter nie daarin geslaag het om die bul eiehandig van sy perd te dood nie, verlaat hy die vegterrein en moet 'n matador die dier afmaak. Hoewel Uys nooit in dieselfde mate as Campbell deur bulgevegte begeester kon word nie, was hierdie eerste ervaring van 'n eeue oue ritueel tog vir hom 'n hele belewenis. In die agt maande by die Campbells kon hy trouens feitlik van dag tot dag merk hoe sy ervaringsveld verruim, hoe hy uit die gesprekke met Roy oneindig veel leer en hoe hy as skrywer ontwikkel. Met sy instelling om sonder kompromieë en toegewings te leef, was Campbell 'n inspirasie vir Uys. | |
[pagina 179]
| |
Roy het hom verder met sy skeppende werk aangemoedig en met sy belesenheid kon Roy hom in sy leeswerk lei. Jare later, wanneer hy terugkyk op sy lewe, kon Uys sê dat hy Campbell op die regte tydstip ontmoet het - juis toe hy so 'n invloed vir sy ontwikkeling broodnodig gehad het.Ga naar eind76. | |
IVWanneer Uys op 7 Januarie 1933 aan Bokkie skryf, kla hy oor sy luiheid. Hy lees te min vir 'n jongman ‘wat hom digter en skrywer verbeel of dit trag te wees’, hy voel hy sal nooit werklik presteer nie en dat alles slegs by drome en planne bly. Wat het hy die laaste drie maande en meer uitgerig? ‘Selfs aan die digwerk - my enigste passie, my gunsteling-arbeid - kan ek nie vir langer dan 'n paar dae sistematies, deeglik, aanhoudend sukkelend, sonder om te wanhoop, arbei nie. My talentjie lyk my is een van die ou skraal koeie en daar is nie eers ses ander van hul nie, slegs een armsalige balkende uitgehongerde ou koei-ding wat selde, heel selde die wit melk in die blink emmer laat straal en spat ...’Ga naar eind77. Hy voel die suidelike son maak hom só lui dat hy skaars die krag of lus het om 'n brief ordentlik klaar te skrywe. En as hy dink dat hy 'n bestaan uit sy skryfwerk moet maak, vra hy hom af of hy sy prosa nie in Engels moet lewer nie. By die lees van sulke uitsprake voel 'n mens, in die lig van al die getuienis uit Uys se briewe oor sy wye belesenheid, dat hierdie selfmiskenning en gevoel van eie swakheid en nutteloosheid uit die nou reeds bekende neiging tot neerslagtigheid voortkom. Daarby was hy nog aan die begin van sy skrywersloopbaan en is 'n mate van onsekerheid oor eie talent iets wat dikwels by jong skrywers aanwesig is, al kon hy reeds in hierdie stadium ‘Tram-ode’ en ‘Romanza’ aan die wêreld wys. Uit talle uitsprake in sy briewe kan 'n mens aflei dat iets besig was om in hom te groei: ‘dit krioel, lewe en gaan te keer in my gedagte-wêreldjie asof al die stille werkers daar skielik tong gekry het en een of ander groot feesviering voorberei.’Ga naar eind78. Die belangrikste enkele rede vir die onsekerheid wat Krige in hierdie stadium van tyd tot tyd beleef, is of sy Afrikaans goed genoeg is om sy groot drome as skrywer te verwesenlik. In sy belangwekkende studie oor ‘Die leerjongenskap van Uys Krige, skrywer’ sê Hennie Aucamp dat Krige se Afrikaans aanvanklik afsteek by sy Engels en dat | |
[pagina 180]
| |
daar 'n onsekerheid by hom is wat idioom en sintaksis betref. Uit sy korrespondensie met sy familie kom ons agter dat Krige ‘sy soepel prosa met bloed, sweet en trane verwerf het’Ga naar eind79. en dat sy briewe eintlik die ‘opwarmingsoefeninge’Ga naar eind80. van 'n jong skrywer is. Op 10 Februarie 1932 skryf hy aan Bokkie dat hy stadig, ‘voetjie vir voetjie’, met 'n kortverhaal besig is en dat hy bitter swaar skryf: ‘Bloed en trane. Sweet en snot. Dis hartverskeurend, pynigend somtyds, en ek word so moedeloos.’ Hy kan nie verstaan hoe daardie ou leuen, die legende van die inspirasie, ooit kon ontstaan het nie. Op 6 April 1932 laat hy Bokkie weet: ‘God, hoe meer ek probeer skrywe, veral prosa, hoe swaarder word dit. Die arbei en swoeg en wanhoop wat agter my ou werkies sit, ek het dit my nooit so voorgestel nie.’ En teen 1933 vra hy: ‘My ewige pre-okkupasie met myself, my werk, my strewe, my planne, my ideale, is dit 'n swakte, 'n sprekende bewys van egoïsme of wel miskien 'n sterkte (van die letterkundige oogpunt beskou) wat deur die tyd, as ek skouer aan die wiel sit en vlytig werk en bewys goedgekeur sal word?’Ga naar eind81. Wanneer 'n mens hierdie briewe lees, word jy beïndruk deur die wyse waarop Krige met 'n voortdurende besinning oor sy ambag besig is. In hierdie opsig, voel 'n mens, sal daar in die geval van 'n bewuste kunstenaarskap altyd, by wyse van selfbehoud, 'n mate van egoïsme en sentrering rondom die self aanwesig wees. Om Afrikaans as medium vir homself te verower, lees Uys tydens sy jare in Provence die eksemplare van Die Huisgenoot, Ons Vaderland en Die Burger wat sy vader weekliks aan hom stuur, intensief deur en maak hy lyste van woorde wat vir hom nuut is of van idiome en stelwyses wat hom tref. Wanneer hy dan in 'n tram sit onderweg na 'n rugbyoefening of 'n wedstryd, memoriseer hy dié lyste.Ga naar eind82. Soos met Frans is dit vir hom 'n vreugde om elke dag 'n nuwe nuanse van 'n woord of 'n nuwe taalkundige skoonheid te ontdek.Ga naar eind83. Soms lees hy godskreiend swak verhale in Die Huisgenoot ‘met 'n fyn kammetjie’Ga naar eind84. deur op soek na nuwe woorde. Reeds in Januarie 1932 is Krige, wat aan die Universiteit van Stellenbosch net 'n jaar lank Afrikaans en Nederlands as vak geneem het, besig om Nederlandse boeke te lees, al het hy in Sanary-sur-Mer nie veel tot sy beskikking nie. Lodewijk van Deyssel se opstelle beïndruk hom nie. Hy lees die Nederlandse vertaling van die Bybel sistematies deur en gee soms in sy briewe aan Bokkie voorbeelde van goeie styl, gedeeltes sonder enige geswollenheid of omhaal van woorde. So | |
[pagina 181]
| |
vind hy byvoorbeeld die beskrywing van 'n prostituut voortreflik: ‘Deze was woelachtig en wederstrevig; haare voeten bleven in haar huis niet. Nu buiten, dan op de straten zynde, en by alle hoeken loerende ...’Ga naar eind85. Hy lees Prediker, Spreuke, Hooglied en Job deur, luister noukeurig na die stemmingswaarde, die nuanse en die werklike betekenis, boekstaaf pligmatig elke woord, frase of sinswending wat aan hom onbekend is. Die Nederlandse Bybel is vir hom ‘'n voortdurende volle suiwere woordeheerlikheid’.Ga naar eind86. In Sanary-sur-Mer kom hy tog op enkele verdere boeke in Nederlands af. Só begeesterd is hy met sy ontdekking van dié vir hom in groot mate onbekende literatuur dat hy in 'n brief van 4 Oktober 1932 Bokkie vra om hom nog Nederlandse boeke, in die besonder Multatuli se Max Havelaar en van Vondel se dramas, te stuur. Hy beveel by Bokkie die poësie van die Nederlandse Tagtigers en P.C. Boutens aan. ‘God ek moet Hollands lees. Ek het meer en meer woorde nodig.’Ga naar eind87. Bokkie moet gehoor gegee het aan hierdie oproep van sy broer, wat teen dié tyd só arm was dat hy selfs skeermeslemmetjies bedel omdat hy reeds ses maande lank met dieselfde lemmetjie skeer - ‘dit krap en skuur soos 'n ploegskaar’! Op 20 Julie 1933 laat Uys Bokkie weet dat hy effens teleurgesteld met die geheel van Max Havelaar was, al vind hy onderdele skitterend: ‘die tekening van Droogstoppel, die liefdesgeskiedenis van Saïdja en Adinda, Havelaar se toespraak aan die inboorlinge, die gelykenis van die klipwerker en uiteindelik die perorasie.’ Maar Vondel se dramas vind hy pragtig. Gijsbreght van Aemstel is vir hom 'n felgekleurde, hewige, kragtige stuk werk, soos 'n skildery deur Rubens. Leeuwendalers is Vondel se ‘allerbeminlikste spel - so vrolik en lugtig’. Dit is ‘'n lang liefdesang’ wat 'n mens herinner aan A midsummer night's dream. Adam in ballingschap en Lucifer vind hy meesterlik: Van daardie slingerende, stygend en dalende, heerlik deinende volsin - die Alexandryn, nie waar nie? - het Vondel hom die grootmeester gemaak. God, wat 'n digter! Nou die aand het ek vir Roy die geveg in die hemel uit Lucifer voorgelees. Stadig, tweesin by tweesin, en stip noukeurig vertaal. Ons het albei so opgewonde geraak, ek het naderhand begin dink die dakbalke gaan instort om soveel versmusiek en dawerende woordegedruis. En Roy het ons oordeel op die glansryke skoonheid van Lucifer volkome gedeel. My tong het begin lam en pap voel, my gehemelte | |
[pagina 182]
| |
kurkdroog. Toe het Roy gesê: Wag, ek het 'n plan. En soos 'n middernag-dief het hy by 'n agtervenster in 'n toegesluite kamer ingeklouter om die laaste bottel rooiwyn wat Mary daar aspres vir die dag van môre weggebêre het, te gaan opspoor en buit maak. Die bottel was gou leeg tot op sy boom - wyl sy vogtigheid soos 'n koel lawende gety deur ons bloed stroom en spoel. Vieruur die môre is ons toe eindelik uitmekaar met die toegeneentheid van vriende wat op die slagveld, voor die eerste koeël, mekaar die hand gee. Roy se entoesiasme is soos 'n gletser of liewer 'n kransstorting. Niks op die goeie aarde is daarteen bestand nie. Aan die begin van 1933 stuur Bokkie sy broer 'n bloemlesing bestaande uit ‘drie mooi wit boeke’ wat die Nederlandse letterkunde, sowel poësie as prosa, vanaf die Renaissance tot om en by 1914 dek. Hoewel Uys die titel nie noem nie, klop die beskrywing van die stel boeke met K.H. de Raaf en J.J. Griss se Een nieuwe bundel, wat die skrywers se historiese oorsig Stroomingen en gestalten vergesel en waarvan die eerste uitgawe juis in die vroeë dertigerjare verskyn.Ga naar eind88. By ontvangs van hierdie pragtige geskenk het Uys sommer ‘gehuppel van vreugde’ en die boeke se ‘glanspapier begin vingertas asof hul edelgesteentes is’.Ga naar eind89. Hy gaan dié boeke, so laat weet hy sy broer, oor en oor deurwerk, ‘sorgvuldig, orespitsend, pligmatig, naarstiglik’, en veral Vondel en Hooft lees om nuwe woorde te ontdek. ‘Woorde, woorde, gee my woorde!’ roep hy in sy brief aan Bokkie uit.Ga naar eind90. Wat Krige met sy lyste woorde, sy sorgvuldige lees van Afrikaanse dag- en weekblaaie en sy bestudering van die Nederlandse letterkunde bereik het, was 'n opskerping van sy taalsintuig. Daarmee kon hy as 't ware sy medium verower en sy strewe na 'n losser, soepeler, elastieser taal met meer skakerings en grasie as Afrikaanse prosaskrywers vóór hom verwesenlik.Ga naar eind91. Sy oorsetting van gedigte uit Frans en sy lees van die Wes-Europese literatuur kom, soos Hennie Aucamp dit stel, ‘neer op 'n intensiewe kursus in vertaalkunde en vergelykende letterkundestudie’.Ga naar eind92. Daarom dat hy met soveel insig in die taak van die skrywer reageer wanneer sy jong suster Mizzi hom 'n gedig stuur wat sy self geskryf het. Hierdie diep menslike brief van 1933 - wat 'n mens, maar dan sonder die uitgesproke didaktiek, aan die vermaninge van Polo- | |
[pagina 183]
| |
nius aan Laertes in Shakespeare se Hamlet laat dink - noem Hennie Aucamp tereg op grond van die takt ‘'n voorbeeld vir almal wat skeppingswerk van gevoelige jong mense moet hanteer’.Ga naar eind93. Dit is terselfdertyd die eerste opgetekende illustrasie van hoe intens geïnteresseerd hy was in ander se skryfpogings en hoe aanmoedigend hy kon optree.Ga naar eind94. Uit die brief spreek talle leerstellinge vir 'n literêre lewe, hoe om met boeke om te gaan, hoe om gedigte te lees. Hy moedig sy suster aan om die meesters te leer ken: ‘Dis die enigste manier om te leer hoe om te skrywe. Goeie skrywers, veral die grotes, te lees - en om altyd op elke sinnetjie te let, die klank, die ritme daarvan, om te let juis op hoe 'n manier die gedagtes uitgedruk word en watter woorde gebruik word.’ En wanneer Mizzi skryf dat sy drie uur lank aan die gedig gewerk het, sê Uys: Ek werk dae en dae, selfs weke aanmekaar aan 'n gedig. Laat dit vir maande lê, en begin dan weer. Of ek dink en dink daaraan, maar skryf dit nooit neer nie. Ek het nou net 'n gedig klaargemaak wat ek al drie jaar lank in my kop omdra. En ek het nou ander verse in my gedagtes wat ek seker eindelik na 'n jaar of twee sal afmaak en ten papier sal stel. Jare later sal Uys in sy onderhoud met Jan Rabie weer oor hierdie manier van gedigte skryf uitwei. Terwyl hy al sy prosa eers met die pen neerskryf en later oortik of laat tik, sê hy party van sy gedigte, veral die korteres, is kant en klaar in sy kop geskryf voordat hy hulle op skrif stel. Selfs wanneer hy op die strand op sy maag lê of in kafees en kroeë sit, beplan hy nuwe werk in sy gedagtes of draai 'n nuwe rympie in sy kop.Ga naar eind95. Hoewel Krige dit oorweeg het om Engels as sy joernalistieke taal aan te wend, sê hy in sy onderhoud met RabieGa naar eind96. dat 'n digter nie goeie verse in sy tweede taal kan skryf nie. Afrikaans is dus die taal van sy poësie. En hy wil nie 'n bloot navolgende digter wees nie. In 'n ongedateerde brief aan Bokkie sê hy dat hy nie soos Kloos, Valéry, Campbell, Rilke of Boutens wil skryf nie. Hulle werk is pragtig, maar vir hom persoonlik is dit nie meer 'n weg wat hy kan volg nie. Hy kan enorm baie van hulle almal leer, maar hy moet 'n ander rigting inslaan. En die skeppingsdrang is sterk by hom aanwesig, die ‘ewig brandende lus om te krap met die pen’.Ga naar eind97. Van die verse wat Krige in hierdie tyd skryf, is ‘My dae’, wat met | |
[pagina 184]
| |
die gebruik van die kwatrynvorm nog by sy Johannesburgse periode aansluit, die swakste. Met die volgehoue personifiëring herinner dié gedig aan die verouderde allegoriese tradisie van Totius en Celliers. ‘Afspraak’, wat hy in Julie 1932 in Nice skryf en in Gedigte 1927-1940 chronologies foutief by die latere ‘Provence-Spanje’-verse voeg, het iets van die Middeleeuse Meilied in sy poging tot oorreding, maar word te lank uitgerek. Sy Stellenbosse gedig ‘Nagreën’ brei hy nou verder uit, maar hy is onseker of die hersiening en aanvulling die vers meer bevredigend maak. Wanneer hy dit op 9 Februarie 1933 aan Bokkie stuur, vra hy of dit nie 'n bietjie ‘traandeurweek en papperig’ klink nie, of hy nie met die ‘swaar rammelende trommelslag’ van die herhaling die ‘stil musikale eienskappies’ doodgemoker het nie en of die hele vers nie die indruk wek van ‘daardie lang uitgerekte stringe stokou wors wat mens dikwels sien hang in die vensters van 'n slagtery’ nie. Tog publiseer Krige ‘Nagreën’ in Die Huisgenoot van 25 Augustus 1933 en neem hy die uitgebreide weergawe in 1935 in sy debuutbundel op, al verkort hy dit later weer met nege strofes. Waarskynlik is dit hierdie veelwoordigheid wat H.A. Mulder, een van Krige se vroegste en skerpsinnigste kritici, by alle waardering van sy werk van sulke oordaad as ‘poëzie bij de ellemaat’ en 'n ‘woordenwoestenij’Ga naar eind98. laat praat. In die hersiene vorm werk Krige mooi met kort versreëls wat aan die eindklanke prioriteit verleen om die reën in die nag uit te beeld en bereik hy in die opeenvolging van die sirkulerende ‘blare’-beeld 'n mooi progressie. Die twee verse uit hierdie periode wat, naas ‘Tram-ode’ en ‘Romanza’, die sterkste indruk maak, is ‘Ballade van Monsieur Lapeyre’ en ‘Treursang vir Van der Merwe’. Die wrang-ironiese siening van ‘Romanza’ tref 'n mens ook aan in ‘Ballade van Monsieur Lapeyre’, waarin die droomwêreld van 'n eenvoudige lettersetter fel kontrasteer met die werklikheid van sy armsalige bestaan. Die gedig volg basies die patroon van die Franse ballade van Villon, maar in die plek van die refrein kom daar 'n lang uitstromende slotreël aan die einde van elke strofe, 'n tegniek wat eers veel later deur Barend J. Toerien in ‘Die tante’ voortgesit sal word. 'n Mens kan egter, soos D.J. Opperman, die vraag stel of die ‘terminale eenklankigheid’ soos in die volgehoue aa-rym van strofe 3 nie 'n ‘terminale eentonigheid’Ga naar eind99. word nie. Hoewel Krige hier die Franse balladevorm van Villon gebruik, val | |
[pagina 185]
| |
dit 'n mens op dat hy terselfdertyd 'n soort praatpoësie met 'n uitbuiting van die gewone spreektaal aanwend. Dit is iets waarop W.E.G. Louw die aandag vestig as hy sê dat Krige se poësie in dié stadium tussen twee uiterstes beweeg: ‘aan die een kant die behoefte aan 'n streng geslote vorm, aan die ander kant 'n drang om 'n vaart te kry, om uit te skryf, ongehinder deur enige oorweging van vorm, reëlmaat of konvensie’.Ga naar eind100. Met ‘Treursang vir Van der Merwe’ neig Krige se praatpoësie in die rigting van die anekdotiese ekspressionisme, waarmee hy aan 'n komies-realistiese gebeurtenis sin probeer gee, in hierdie geval die plotselinge dood van 'n man wat deur sy skielike ‘vertrek’ uiteindelik ook verlossing van sy alte deftige naam verkry het. Blykbaar het Uys en Bokkie op Stellenbosch werklik iemand met dié naam geken, want in 'n brief van 2 Februarie 1933 aan sy broer sê hy die naam van hulle ou skoolmaat het skielik opgeduik terwyl hy te fiets onderweg was na Martigues; die res van die ‘deuntjie’ het hom toe sommer vanself rondom die naam kom skaar. Soos in ‘Romanza’ buit Krige hier die gewone woord effektief uit en maak hy ruimskoots van die ironie as stylmiddel gebruik. Die gedig bestaan uit drie strofes, telkens met 'n tweesillabige reël as inset en 'n lang uitstromende slotreël waarvan die belangrikheid binne die konteks van die gedig ook klankmatig deur die ccc-rym bevestig word. Die meeste prosa wat Krige in sy Provensaalse periode skryf, is joernalistieke indrukke wat uit sy reiservarings voortkom en artikels oor uiteenlopende onderwerpe, soos Trotski se verblyf in Marseille en Duitse skrywers in ballingskap. Verder publiseer hy in dié tyd net een kortverhaal, ‘Medelye’, wat in Die Huisgenoot van 26 Mei 1933 verskyn. Dit begin belowend met 'n boeiende karakterskets van 'n nuwe kelner wat die sentrale ervarende figuur, Michael Fairford, in sy stamrestaurant in Nice leer ken, maar dan ontwikkel die verhaal tot 'n besinning oor menslike meegevoel wat die handeling stol. Wanneer die fokus uiteindelik weer op die kelner en Fairford se waarneming van hom terugkeer, is dit te laat om die verhaal, wat in elk geval stomp eindig, te red. | |
VOmdat Bokkie, wat besig was om sy studie in Oxford af te rond, op die punt gestaan het om terug te keer Suid-Afrika toe, nooi hy Uys | |
[pagina 186]
| |
om op sý koste van Frankryk na Engeland te reis sodat hulle vir oulaas twee weke gesellig bymekaar kan deurbring. Uys, altyd op soek na nuwe ervarings en ander ‘name wat daar skielik sing’, laat nie op hom wag nie. Vroeg in Junie 1933, op 'n Sondagaand, vertrek hy per trein uit Marseille. Die reis was ongerieflik, want as gevolg van die baie passasiers was geen sitplekke meer beskikbaar nie en moes hy haas die hele afstand na Parys in die gang staan. Die tyd gebruik hy om 'n hele boek met Huxley se kortverhale klaar te lees. Om agtuur die Maandagoggend kom hy in Parys aan, slenter rond in die grys oggend en stap op die Champs-Elysées, ‘surely the most majestic and beautiful avenue or thoroughfare in the world’.Ga naar eind101. Ná 'n besoek aan Montparnasse gaan hy op 'n bedevaartstog na die begraafplaas om Baudelaire, die digter wat hy so bewonder, se graf op te soek: It was lonely and tucked away in a corner, without a single adornment, plain to the point of ugliness. The memorial to his hallowed memory on the other side of the cemetery filled me with disgust. A criminal piece of work. I cannot think how the admirers of Baudelaire can tolerate such a tribute.Ga naar eind102. In skrille kontras met sy eerste ervaring van Engeland, toe die reën en wind hom na Provence verdryf het, is die weer met sy aankoms pragtig. Oxford met sy torings, sy spitse, sy kolleges, sy groot bome, riviere en 'n groenigheid orals vind hy bekoorlik. Aan sy ouers laat weet hy Bokkie se blyplek met al die rye en rye boeke, die vuurherd, die gemakstoel en die sofa is pragtig, die soort huis wat hy self hoop om êrens in die toekoms te besit wanneer sy swerftogte tot 'n einde gekom het. Oxford is vol blonde jongmans, verfrissend ná die donker huid en Latynse gelaatstrekke van die Franse. Hy voel nederig by die gedagte wat Oxford in die verlede op die gebied van die wetenskap en die literatuur voortgebring het. Die twee weke saam met Bokkie vind hy heerlik. In die oggend lees, skryf en studeer hulle en tik Uys sy gedigte oor wat hy nou aan tydskrifte in Nederland wil stuur. Dan het hulle middagete in Wadham se ruim eetsaal met die bruin panele. Ná koffie in die leeskamer en aangename gesprekke met van die studente gaan hulle op 'n wandeling deur die pragtige kollegetuine of êrens in die omgewing langs die rivier of deur die bosse. Om halfvyf sit hulle aan vir die Engelse ‘high tea’ met baie koek, | |
[pagina 187]
| |
toebroodjies en aarbeikonfyt. Daarna luister hulle na musiek, swem hulle en gaan hulle die stad in om te eet. Soms besoek hulle later die bioskoop of teater of keer hulle terug om tuis te sit en gesels. Aan sy ouers skryf hy in 'n ongedateerde brief dat hy die lewe in die son en langs die rivier in Oxford geniet. By die ‘high tea’ lê die toebroodjies opgestapel op 'n skottel en lyk dit of die teepot geen bodem het nie. Die hospita, breed in die boude, se lag klink soms soos die hoefslag van perde. Hy gaan voort: You lie back, you talk lazily, your speech is full of drifting sunmotes, you smoke and the white vapour mounts in the air like a thin pillar of smoke from an altar. You lie back, you brim over with well-being. The sun washes through you like wine. You muse: ‘Man was born to joy (not sorrow) as the sparks fly upwards’ you think, correcting Solomon's (or was it Job's?) obiterdicta. Anyway both were prejudiced a little as regards life. Job because he was made the helpless victim of a bet between two warring powers; Solomon, since a couple of hundred wives must have considerably soured his days. Uys ontmoet Bokkie se vriende: Engelse, Amerikaners, 'n Italianer, 'n Indiër, 'n Kubaan - ‘all manner of men’. Hy het Max Reinhardt, bekend vir sy unieke hantering van skares op die verhoog, se besonderse opvoering van A midsummer night's dreamGa naar eind103. op 'n perfekte someraand tussen die eike gesien. ‘We came away enchanted. It had the effect of a dream that when one awakes, still lingers in the mind, beguiling one's sense.’ In Londen besoek hy die National Gallery ‘and came away quite delirious’. Hy kuier weer by Enslin du Plessis en bring 'n aand saam met Laurens van der Post deur. Met Bokkie aan die vertrek, verlaat Uys Londen en op 11 Julie 1933 is hy terug by die Campbells in Martigues. Uit Cathcart verneem hy dat sy vader as magistraat na Ladybrand verplaas is en dat sy ouers binnekort gaan verhuis. Die gedagte aan die Vrystaat en die Drakensberge wek by Uys 'n verlange na sy mense en 'n vlagie heimwee in die hart na 'n plek en 'n landstreek wat hy nog nooit eers gesien het nie. En die verlange na veral sy moeder lei hom in 'n brief van September 1933 tot 'n toekomsvlug, die tipies onpraktiese droom van die ewige romantikus: | |
[pagina 188]
| |
Think, if we could have had - not a castle - but a little cottage or farm house in Spain - for a year or two! We could have lived on almost nothing, all of us together. And if a little cottage in Spain (una casa pequena) is as far and inaccessible as the Pole, there are many beautiful homesteads and ‘plekkies’ in the Cape. - Who knows? Perhaps one day we shall have a lovely little place near Cape Town and I shall live with you. - And this morning the thought of the Residency at Cathcart with the fresh green ivy up against the walls and the first roses blooming in the garden and all of you there, fills me with a longing and nostalgia infinitely deeper and more lasting than the vague hankering after a hypothetical home in Spain. Die gedigte wat Uys na Nederland stuur, word deur De Nieuwe Gids en Elsevier afgekeur. Sy moeite om kontakte in Nederland en Vlaandere op te bou, word egter juis in hierdie tyd beloon. Aan die tydskrif Helikon, wat onder die beheer staan van die uitgewer A.A.M. Stols, lê hy sy Johannesburgse kwatryne voor. Met 'n bietjie moedswil, om toekomstige kritici te troef, skep hy vir homself 'n alter ego en stuur ‘My dae’ en ‘Ballade van Monsieur Lapeyre’ onder die naam Mattheus Joubert in: Mattheus, sy eerste naam wat hy nooit gebruik nie, en Joubert, een van die voorname van sy broer Bokkie en die familienaam van een van sy oumagrootjies. In antwoord hierop sê Stols dat hy enkele van Uys se gedigte en van ‘sy vriend Joubert’ besonder goed vind en dat hy graag van hulle in Helikon opneem. Hy is bly dat hy nou 'n bydrae uit Suid-Afrika ontvang. Die kwatryne verskyn dan ook saam met ‘My dae’ en ‘Ballade van Monsieur Lapeyre’ in Helikon, jaargang III, nommer 10, Desember 1933. By die ontvangs van Stols se brief stort Uys, soos hy aan Bokkie skryf, trane van blydskap: Dit het in my hart gejuig soos op die Matie-pawiljoen wanneer Stellenbosch die Intervarsity wen. Vir die res van die dag was ek vir enigiets, van watter aard ook, heel en al ‘onkapabel’ - Eindelik! eindelik die eerste erkenning! Ja die trane het my oor die wange geloop. Dit was - vir die oomblik - bedwelmend, oorweldigend. Jy kan dit alles mooi besef. Dis die begin - en hoe makliker dit die toekoms maak. En die prestige in S.A. as my verse gereëld in Europa publiseer word. En dan is (hul) ook dade- | |
[pagina 189]
| |
lik onder die oë van digters, skrywers, kritikusse, van al die literators van belang in Nederland. En wie weet miskien publiseer Stols dan later my eerste bundel...En toe ek die mooi katalogus oopslaan wat Stols my gestuur 't, vind ek dat Helikon vir medewerkers het: Boutens, Van Nijlen, J.C. Bloem, A. Roland Holst, J. Greshoff, Nijhoff, Donker, Marsman, Slauerhoff, Minne, Herreman, De Vries, Roelants ens. ens. - almal name wat ek goed ken, amper al die jong Hollandse en Vlaamse digters van merk. Ek moes 'n taamlik sterk indruk op Stols gemaak het. Hy vra of ek nie kan sorg vir meer bydraes van ‘jong dichters uit Afrika’ nie, of ek nie as soort S.Ase redakteur kan ageer nie....Wel, lyk my, dis eindelik die begin. Mary en Roy was vreeslik bly. Roy het gesê: ‘En dit sonder enige invloed!’ - en hy het ook somar dadelik 'n bottel rooi wyn aan die hand gegee. Teen hierdie tyd het die blote daaglikse bestaan in Martigues vir die Campbells as gevolg van die wêreldwye depressie al hoe moeiliker geword. Frankryk, het hulle gevind, is 'n duur land, hulle verloor met die omskakeling te veel op die Britse pond en die krisis tref die beroepskrywer swaar. Roy se bundel Flowering reeds (1933) het weinig aandag van die kritici ontvang en die verwagte inkomste uit die publikasie is nie vervul nie. Hy het dit as 'n literêre boikot gesien en dit het sy gevoel van isolasie en selfs vervolgingswaan verskerp.Ga naar eind104. Teen dié tyd was hy vol skuld en was die Campbells ongewild by die winkels in Martigues. In 'n ongedateerde brief aan Bokkie skryf Uys twee skuldeisers het die vorige dag opgedaag. Hulle wou nie langer vir hulle geld wag nie en het gedeeltelike afbetaling geëis. In hierdie omstandighede het die Campbells nou ernstig daaraan begin dink om na Spanje te verhuis, sterk gesteun deur Uys, wie se hart al 'n hele tyd na dié onbekende land met die baie son gehunker het. Sedert hy begin het om Spaans te lees, het die Spanjaard se feitlik ingewortelde melancholie en sy diep mistisisme, gekombineer met 'n sterk ontwikkelde sin vir die praktiese, hom gefassineer. En daarby was daar die opwindende vooruitsig om 'n nuwe taal te leer praat. Op 'n kaart van Spanje oorweeg hulle die verskillende moontlike blyplekke en besluit hulle om nog voor die einde van die somer te vertrek. Intussen moet hulle suinig lewe om die skuld te delg, veral deur op kos, drank en sigarette te bespaar. Op 11 September 1933 skryf Uys aan sy ouers die pryse styg steeds en die muise vreet hulle die huis uit: | |
[pagina 190]
| |
They scuttle about in the cupboards and drawers at night so unconcernedly and joyously one can hardly sleep. In the kitchen, next to my room, there is a continual clatter of them. Every time I open the cupboard I surprise five or six of them together collecting food for the tribe and family. They have eaten almost all my newspaper cuttings, nibbled off the edges of a book of poetry by Paul Verlaine - made a great excursion into one of my pullovers - I can put my hand through the hole - [and] demolished two pairs of socks. And I am certain most of the damage they have done is yet to be discovered. When I sit peacefully reading of a night they sometimes even have the effrontery to come tumbling into the open and roll amourously about at my feet and then scamper away. They are going from bad to worse. So we are going to Spain. Die uiteindelike verhuising na Spanje word voorafgegaan deur 'n lagwekkende voorval. Laat in 1933 breek Tess se hansbok deur die buurman se heining en vernietig 'n klompie perskebome.Ga naar eind105. Die buurman eis vergoeding. Toe dit nie gebeur nie, dagvaar hy hulle. Daar was geen manier waarop Roy kon betaal nie. Om die skande van tronkstraf te vermy, beraam hy vinnig planne om oor die Spaanse grens te verkas. By vriende in Engeland leen hy, feitlik in wanhoop, die bedrag van £50, terwyl Uys dieselfde sommetjie geld - in daardie tyd nie so min nie! - van Bokkie aanvra. In November 1933 vertrek Roy en Mary, steeds met baie onbetaalde skuld, in die nag per trein na Barcelona, 'n paar dae later gevolg deur Uys, die twee dogters, die Franse huishulp, Thérèse, die groot swart hond met die naam Sarah en 'n hele berg bagasie. Omdat hulle vinnig en geluidloos moes vertrek, moes die Campbells baie van hulle besittings - boeke, skilderye en meubels - agterlaat.Ga naar eind106. Uys kon gelukkig die meeste van sy goedjies, wat in elk geval nie veel was nie, saamneem. |
|