Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 78]
| |
Hoofstuk III
| |
[pagina 79]
| |
Aan die begin van 1927 vertrek Japie en Sannie Krige na Cathcart, waar Japie Krige as volwaardige magistraat aangestel is. Vir die nuwe akademiese jaar moes Bokkie en Uys derhalwe nou dringend losies kry. Omdat die koshuise reeds vol bespreek was, woon hulle saam met ses ander studente in by Bergville in Victoriastraat, regoor die ou Hollandse geboutjie, waar die H.B. Thom-teater vandag geleë is, en skuins teenoor die Ou Hoofgebou, waar baie van Uys se klasse sou plaasvind. Eers vanaf sy tweede jaar sou hy inwoon in John Murrayhuis, die ‘Huis van Roem en Faam’Ga naar eind4. met sy Eiffeltoring in die vierkant, wat as nuwe manskoshuis in 1921 in gebruik geneem is en by die studente as Dagbreek bekend gestaan het. Die ingebruikneming van Dagbreek met sy, vir dié tyd, moderne inrigting lei 'n nuwe periode in die koshuiswese van die Universiteit van Stellenbosch in. Jare lank kon die Dagbrekers roem op die, helaas ongekontroleerde, feit dat hulle koshuis die grootste in sy soort in die Suidelike Halfrond is! Uys se kamer, wat hy gedeel het met Felix Jooste, was reg by die ingang, die eerste deur aan die linkerkant. Van die begin af was Uys baie gelukkig by die Universiteit van Stellenbosch. Aan sy ouma Uys skryf hy dat dié inrigting met sy mooi geboue, met grasperke tussenin, en sy uitstekende biblioteek die beste in die land is. Veral in die biblioteek in Crozierstraat boer hy: ‘when you've looked at the rows and rows of books, you feel as if you really know nothing, and the atmosphere is soothing and an incentive to study. I have a little corner already, to which I have become very attached, where I can sit, undisturbed, for hours on end - there is a fine collection of English works, particularly Poetry, Drama and Criticism which is all I want[.]’ Soos op skool het Uys baie gou aan die sport- en sosiale aktiwiteite van die studentegemeenskap begin deelneem. Hy beleef die tydperk van die groot geesdrifte, is elke dag verlief op 'n ander nooi en woon die ‘swanky dinners’,Ga naar eind5. met danse en toesprake tussen die verskillende geregte, van die regsfakulteit by. Afgesien van bergklim en swem oor naweke neem hy deel aan krieket. Feitlik iedere naweek in die somermaande speel hulle op die omliggende dorpe en kom hy opnuut onder die indruk van die Bolandse natuurskoon: Na Somerset-Wes - o grootse amfiteater van daardie trotse pieke. Na Simondium - waar kry 'n mens 'n mooier vallei, het die gedagte dikwels jare later in Europa in my van heimwee deurtrokke | |
[pagina 80]
| |
gemoed opgekom, as juis dié van Simondium só grysblou verdoesel in die verte, op 'n somermôre bo van Helshoogte gesien? Iemand wat hom in die besonder met sy ‘stille, maar besielende aanwesigheid’Ga naar eind7. en sy sterk persoonlikheid en karakter beïndruk, is hulle kaptein, Bennie Keet, later een van die eerste vyf Bybelvertalers en professor in teologie op Stellenbosch. In die jare wat sou kom, sou sy bewondering en eerbied vir Keet verder groei. ‘Long before the war’, sê hy in 'n onderhoud, ‘he came out against that infirmity of ignoble minds, anti-semitism, and against Nazism. When a lot of English people in England were still encouraging Hitler and Mussolini, Dr. Keet was already saying: “This is wrong.”’Ga naar eind8. In krieket haal Uys die tweede en later eerste span van die universiteit. Hy wou egter graag soos sy vader, Japie, in die eerste rugbyspan speel, maar kon dit op senter - dieselfde posisie as waarin Japie gespeel het - nie verder bring as die derde span nie. Baie jare later, nadat hy reeds van Stellenbosch vertrek het, kom hy mnr. A.F. Markötter, in die wandel bekend as Oubaas Mark, die legendariese afrigter van Stellenbosse rugbyspanne, op Onrust teë. Oubaas Mark, wat by voorkeur Engels gepraat het, sê aan Uys: ‘You were a good rugbyplayer, my boy.’ Uys antwoord: ‘Excuse me, Mr Mark, I didn't hear that properly, say that again.’ Op sy oënskynlik norse manier herhaal Oubaas Mark: ‘You were a good rugbyplayer.’ Uys vra: ‘Why did I never get any further than the third team?’ Oubaas Mark antwoord: ‘You played in the wrong position.’ Uys reageer: ‘Where should I have been playing?’ Oubaas Mark: ‘You shouldn't have been playing centre, you should have been playing scrum-half.’ Uys protesteer: ‘But why didn't you put me there, Mr Mark?’ Oubaas Mark se reaksie was dat hulle hom daar sóú geplaas het, maar hy het te gou van Stellenbosch vertrek. Later het Uys wel skrumskakel gaan speel vir die onder-19-span, maar in daardie stadium was die beroemde Danie Craven reeds op die toneel. Hy het Uys uit | |
[pagina 81]
| |
die span gespeel, kort daarna sy kleure vir Suid-Afrika verwerf en later kaptein van die Springbokke geword. In 'n onderhoud met Morkel van Tonder op 15 Maart 1974 sê Uys sy triomfdrome is nie dat hy 'n goeie toneelstuk skryf wat daar so onaantasbaar soos Tafelberg staan nie of dat hy die Hertzogprys verower nie, maar dat hy vir Suid-Afrika rugby speel. Dan sê hy vir homself in sy droom: ‘Maar jy droom mos nou, man. Jy is vyftig jaar oud, jy kan nie meer rugby speel nie.’ Maar dan antwoord hy homself: ‘Ek is steeds fiks en het my liggaam goed opgepas. Ek kan nog steeds iets op die rugbyveld doen.’ Hoewel Stellenbosch as ‘that oak-hard citadel of conformity’Ga naar eind9. Uys reeds in hierdie jare sou teenval, het die voordele en verdienstes van die dorp en universiteit die nadele oortref. In die laat twintigerjare was die studentetal van Stellenbosch net oor die duisend, klein genoeg sodat die dosente heelwat persoonlike aandag aan almal kon gee. Feitlik 98% van die studente was van die platteland en vir baie van hulle was universiteitstudie 'n sleutel na die grootstad van kennis, insig en ervaring. Wat Uys jare later steeds van Stellenbosch sou waardeer, is dat die universiteit vir hom en baie ander 'n springplank en vertrekpunt was op die pad na intellektuele ondersoek en die bevraagtekening van elke ding onder die son. 'n Universiteit, so sien hy dit, is nie in eerste instansie daar om kennis mee te deel nie, maar om die student se nuuskierigheid vir eie ondersoek te prikkel. ‘What I, the professor, say’, gaan hy voort, is only of importance in that I spur you on - to do it off your own bat, to grope, search, query, doubt, do your own thinking so that eventually you even disagree with me and you come with arguments that knock me out....Curiosity is the beginning of all knowledge. ‘Be curious!’ should be the motto of every University on earth and the question mark its symbol.Ga naar eind10. Stellenbosch sou vir Uys sonder die universiteit nie Stellenbosch wees nie, want ‘Stellenbosch University has...something of the essence of the Boland, the charm, grace and attraction of the Western Province. And at the same time it gives voice to the Afrikaans mind and spirit in a variety of ways.’Ga naar eind11. Naas die bywoning van klasse en sy deelname aan krieket en rugby het Uys sy studiejare veral bestee aan lees en skryf, maar tyd genoeg oorgehad vir die gebruiklike studentepret en die verenigings- | |
[pagina 82]
| |
lewe. In 'n dagboek wat hy in die tweede helfte van sy eerste jaar afwisselend in Afrikaans en Engels hou, skryf hy dat hy vir die Julievakansie sy eerste besoek aan sy ouers se nuwe tuiste op Cathcart bring en met die trein na Stellenbosch terugkeer. By 'n byeenkoms van die Afrikaanse Kultuurvereniging op 4 Augustus 1927 sit Abraham Jonker, skrywer en latere politikus, langs hom. Uys het sy gedig ‘Wiegliedjie’,Ga naar eind12. duidelik geskryf met sy babasustertjie Mizzi in gedagte, vir die poësiewedstryd van die vereniging ingestuur. Jonker lewer as beoordelaar gunstige kommentaar op dié vers en Uys verower daarmee 'n tweede prys - 'n bundel van Kloos se gedigte. Dié Langenhoviaanse gedig is nog grotendeels 'n voortsetting van sy skoolverse: Baba is moeg, moeg van lawaai,
Moeg van die heeldag haar voetjies rondswaai ...
In hierdie tyd skryf hy gereeld verslae oor Stellenbosse sportgebeure vir The Cape Argus, waarmee hy heelwat sakgeld verdien. Hy is altyd verheug as die koerant sy bydraes sonder snitte publiseer. Vir The Outspan skryf hy 'n brief oor die gehalte van plattelandse hotelle, gebaseer op sy ervarings tydens sy besoek aan Cathcart. Hy woon musiekkonserte en die joernaalaande van die debatsvereniging by, besoek die bioskoop gereeld en speel viool saam met twee van sy maats. Hy gaan luister ook gereeld na hofsake en kom onder die indruk van die lyding in die bruin gemeenskap wanneer hy die getuienis van 'n jong kind in 'n verkragtingsaak aanhoor. Maar veral lees hy baie; in sy dagboek maak hy aantekeninge oor sy leeswerk, wat getuig van die fyn insig en oordeel waartoe die jong student reeds ontwikkel het. The master of Ballantrae van Robert Louis Stevenson vind hy ‘a great book - one can feel the masterhand in the flowing sweep of the sentences, in the tense stirring scenes, in the sustained interest of the action’. Wanneer hy dit heeltemal klaar het, teken hy aan: ‘moving, gripping, with the subdued force that is so characteristic of Stevenson’. Die nuwe verhale van Léon Maré is vir hom langdradig en vol gebreke en hy twyfel of dié skrywer nog iets groots gaan lewer, veral omdat reeds tien jaar ná die verskyning van sy eerste bundel verloop het en hy in dié tyd ‘net afgesak’ het. Op 8 Augustus is daar 'n bespreking van Jochem van Bruggen se Ampie voor die Afrikaanse Kultuurvereniging. Uys wou ook praat, | |
[pagina 83]
| |
maar hy was bang die ander dink hy is ‘'n verwaande eerstejaartjie’ en het bly sit. In die toekoms, so is sy voorneme, gaan hy egter praat ‘om sodoende die ou skaamte en opgewondenheid af te werk’. Dat hy net vier dae later hierdie - vir dié wat hom in sy volwassenheid geken het merkwaardige - skroom moes oorkom het, blyk uit 'n aantekening van 12 Augustus: ‘My tong moet ek beheers, hy begin te glad te gly en dring orals in waar hy nie moet wees nie. Ek het besluit ek gaan 'n oog op hom hou.’ Wanneer hy later Ampie lees, vind hy dit ‘'n buitengewone werk’. Leipoldt se drama 'n Vergissing vind hy baie yl: die ‘gedagtetjie satieries uitgewerk, maar dis baie effens en taamlik deurskynend, en ek dink ek kon dit self geskrywe het’. Dr. Fransie Malherbe se opvoering van Grosskopf se As die tuig skawe vind hy 'n goeie produksie. Tog het hy voorbehoude: ‘the serious parts they (the players) did not intensify enough, they did not make us feel the tragedy of the povertystricken family's existence’. Hy woon 'n lesing oor die Anglo-Boereoorlog by en kom onder die indruk van die groot onreg indertyd - ‘wanneer sal 'n skrywer kom om daardie moedige, manhaftige stryd teen 'n oorweldigende oormag in geskikte, gloedvolle taal te verewig?’ Maar ook sy medestudente se doenighede geniet hy. Saam met hulle in Bergville, so skryf hy op 10 April 1927 aan sy ouma Uys, is ‘a great card’ met die naam Pieta. ‘I have been here for three weeks’, gaan hy voort, ‘and I have never seen him busy with a book ...; he is gifted with a chronic incapability of mind which enables him to forget his debts, the lectures he has to attend, and the works he has been told to study, in fact he never seems to have money at all - it is a kind of communistic little world of ours this - we are all socialists and when one of us goes to some function or other, he goes as the house's representative, with somebody else's butterfly-collar and bowtie round his neck, somebody else's studs in his shirt, somebody else's overcoat round his body, and somebody else's polish on his boots.’ Saam met Pieta, met brandende vuurhoutjies voor die sitvlak om die blou vlamme te meet, hou hulle wedstryde om te kyk wie die langste kan poep - natuurlik deur vooraf te laai met boontjies!Ga naar eind13. Wanneer Uys die dag goed werk - iets wat nie elke dag gebeur nie - vind hy groot bevrediging daarin. ‘I have come to realize’, skryf hy in sy dagboek, ‘that there is a happiness which fills one with a quiet feeling of satisfaction with oneself when one knows that one has done one's duty and one's best - gradually I am getting the better of | |
[pagina 84]
| |
myself.’ Soms sit hy egter terneergedruk by sy boeke. Hy lees Gezelle, Yeats en Fletcher, maar vind dit moeilik om te konsentreer. Hy probeer om aan die skrywe te kom, maar dit is pure verniet: ‘ek skort nog aan wilskrag en determinasie - ek moet leer om myself te oorwin. Weer 'n paar goeie idees gekry vir stories, wat ek net moet goed uitwerk om beter werk te kan lewer dan vantevore.’ Op 3 September 1927 spreek hy in sy dagboek 'n wens uit wat hy dwarsdeur sy lewe in vervulling sou laat gaan en wat die tenger Uys met sy basies minsame geaardheid in botsing met baie van sy tydgenote en medeskrywers sou bring: ‘my greatest wish is that I may never slavishly follow convention’. Ander kere geniet hy die lewe uitbundig. Tydens die Septembervakansie van 1927 kuier Uys en Bokkie op 'n plaas naby Protem in die Overberg en raak Uys ‘kop en pootjies’ verlief op Magda, vir wie hy van tyd tot tyd so 'n bietjie ‘liefkoos’. Aan die einde van die jaar gaan al vier die Krige-seuns twee dae lank na die Kelders naby Gansbaai, 'n ervaring wat Uys meer as een keer in sy latere briewe aan sy broers oproep. Met heimwee herinner hy Bokkie in 'n brief van 12 Januarie 1932 uit Sanary-sur-Mer in die suide van Frankryk aan ‘daardie myle lang wit strand in die môre, aan die een kant die see, en voor en agter en links die berge, en die brekfis aan die end van die trek. Ons het almal kaalgat aangesit...Dis snaaks hoe dikwels, en soms heeltemal buite die verband, die herinnering daaraan by my opkom. Dis of daardie twee dae, die geluk, en sorgeloosheid daarvan 'n apoteose is van geheel ons kinderdae en jongmanskap.’ Met sy gehegtheid aan sy moeder was die wintervakansie van 1927 op Cathcart vir Uys en Sannie 'n heerlike weersiens. Wanneer hy by sy vertrek op 24 Julie van haar afskeid neem, hou hy haar hand styf vas, want 'n paar weke later sou sy 'n ernstige operasie moes ondergaan waarvan die afloop weens die moontlikheid van kwaadaardigheid nie seker was nie. Gelukkig kon sy vader hom op 24 Augustus telegrafeer dat die operasie suksesvol afgeloop het en dat dit in die omstandighede met haar so goed gaan as wat verwag kon word. In sy dagboek sê Uys dat hy op 11 Augustus, 'n paar dae voor die operasie, 'n brief van haar ontvang het, amper asof sy vrees sy gaan hom nie weer sien nie. ‘I was struck by the tenderness and beauty of her letter’, teken hy aan. Sannie skryf: ‘I hope you have a humble mind and will stick to it all your life. If you haven't got it, cultivate it. Dear old Uys, I am glad I have known you for 17 years. You were such fun. | |
[pagina 85]
| |
Keep it up. Be keen on things you want to do, in love with life, kind to everyone and hang on to the highest in yourself which is of God.’ Hierdie liefdevolle woorde en rigtingwysers vir sy toekoms roer hom diep en hy skryf: ‘how grateful I must be to have had such a mother, such a mother of mothers!’ | |
IIDie regsfakulteit van die Universiteit van Stellenbosch, waarby Uys in 1927 as eerstejaarstudent inskryf, was saam met Latyn en Grieks gehuisves in die Ou Hoofgebou op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat. In 1919 word H.A Fagan, later veral bekend as politikus en dramaturg, benoem tot eerste hoogleraar in die regsgeleerdheid, maar aan die einde van dieselfde jaar bedank hy ten gunste van die advokatuur in Kaapstad. Hy word opgevolg deur H.D.J. Bodenstein, wat ná sy promosie in Leiden en enkele ander betrekkings 'n tyd lank hoogleraar was in Amsterdam. Wanneer Uys in 1927 met sy studie begin, is Bodenstein nog professor op Stellenbosch, maar in Mei van dieselfde jaar word hy - tot groot verlies van Stellenbosch - deur die Hertzog-regering benoem tot sekretaris van buitelandse sake, met die spesiale opdrag om later internasionaal oor die Britse kolonies se onafhanklikheid binne die nuut opgerigte gemenebes en oor die Statuut van Westminster te beraadslaag. Reeds in 1921 word dr. W.M.R. Malherbe, wat in 1906 in Leiden in die regte promoveer en jare lank redakteur van die ou Brandwag was, aangestel as tweede hoogleraar op Stellenbosch. Ná Bodenstein se vertrek staan Morty, soos Malherbe alombekend was, aan die spits as dekaan van die fakulteit. Hy lê 'n kursus vas om juriste op te lei, sonder om die klem in die eerste plek op die behoeftes van die praktisyn te plaas. Self het hy niks gepubliseer nie - selfs sy promosie in Leiden was gebaseer op stellinge, nie op 'n proefskrif nie -, maar die bekende vroeëre regshandleidings in Afrikaans was alles die werk van sy oudstudente. Naas Morty Malherbe het Uys in dié jare as dosente veral A.B. Beyers, later regterpresident van die Kaapse Hooggeregshof, L.C. Steyn, later hoofregter, en I. van Zyl Steyn onthou. Van Zyl Steyn het bekend gestaan as die briljante jong dosentGa naar eind14. en latere professor wie se vroeë dood op dertigjarige leeftyd 'n groot verlies vir Stellenbosch en die regswetenskap in Suid-Afrika was. ‘Sy groot gawes’, skryf R.W. Wilcocks in 'n huldeblyk,Ga naar eind15. ‘het hy gebruik volgens die weg wat vir | |
[pagina 86]
| |
hom aangewys is deur sy nougesette pligsgetrouheid, sy fyngevoelige eerlikheid en sy menseliefde.’ Waarskynlik was dit Van Zyl Steyn se lesings wat aan Uys 'n lewenslange eerbied vir die Romeins-Hollandse regstelsel gegee het. ‘If there was one thing we were taught at Stellenbosch - no, instilled into us by our professors and lecturers -’, skryf Uys baie jare later wanneer hy oortuig is daarvan dat die Nasionale regering met sy aanhoudings sonder verhoor die wese van die reg in Suid-Afrika aantas, ‘it was a great respect, a profound admiration for our South African law - that body of Roman-Dutch Law modified, as later in some respects it was, by the English Common Law. We were taught it was as fine a body of law as is found anywhere in the world.’Ga naar eind16. Hoewel hy in 'n brief aan sy ouma Uys laat weet dat hy ook die lesings in Romeins-Hollandse Reg geniet, was Uys nie regtig geïnteresseerd in sy regskursusse en 'n toekomstige loopbaan in die regte nie. Veral in die derde jaar, toe hulle uitsluitlik lesings oor die geskiedenis van die Romeinse Reg moes bywoon en seminaarwerk oor Romeins-Regterlike bronne by prof. Morty Malherbe moes bestudeer, het die verveling en die verlange na die natuur en die literatuur sy tol begin eis. In die speelse ‘Lesingsliedjie’, wat hy in September 1929 in Die Stellenbosse Student publiseer en - met 'n verdere uitbreiding, wat die gedig meer as twee keer langer maak - in sy eerste bundel aan Morty sou opdra, toon hy sy voorkeur en ware liefde: Wie kan tog luister
na Romeinse Reg
as sy hart jubel:
‘Kyk, dis lente nou!’...
As affodille
fier die son aanskou
want hul's die somer
se klaroene! Seg,
wie kan tog luister
na Romeinse Reg
as sy hart jubel:
‘Kyk, dis lente nou!’Ga naar eind17.
Uys se belangstelling het in die eerste plek uitgegaan na die letter- | |
[pagina 87]
| |
kunde. Latyn neem hy twee jaar lank by prof. P.J. van Braam en mnr. J. McCulla. Naas grammatikale oefeninge en 'n kort oorsig van die Romeinse geskiedenis konsentreer hulle in die eerste jaar op 'n keuse uit Sallustius, Vergilius en Cicero, terwyl die tweedejaarskursus gewy word aan Terentius, Horatius, Cicero, Livius en verdere werk van Vergilius. Veel belangstelling in Latyn het Uys egter nie gehad nie, al is sy slaagpunt van 60% voldoende. Indien die leerstof in Nederlands en Afrikaans tydens sy studietermyn boeiender was en die dosente meer inspirerend, is dit heel moontlik dat hy reeds in dié jare sy kursus van Regte na Tale sou gewysig het. By die aanvang van sy studiejare was die knap taalkundige J.J. Smith, met sy benoeming in 1918 die eerste professor in Afrikaans - enkele maande vóór D.F. Malherbe in Bloemfontein -, reeds besig met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, waarvan hy die eerste redakteur was. In sy plek het Nico Uys die taalkunde by die eerstejaars behartig, maar volgens 'n aantekening in sy dagboek het Uys dit ‘onsmaaklike spyse’ gevind wat op 'n onintelligente wyse vir hulle opgedis is. Prof. E.C. Pienaar, die een professor in letterkunde, het hy reeds in hierdie jare die toppunt van wansmaak gevind. Pienaar was bekend vir sy bombas in die klas en as openbare redevoerder het hy die ideale van 'n eng Afrikanernasionalisme uitgedra wat geen of weinig ruimte vir ander menings geduld het nie. Wanneer hy twee jaar later, ná die voltooiing van sy studie, in Johannesburg werksaam is, skryf Uys met 'n vlymskerp verbinding van ironie en sarkasme aan sy broer Bokkie dat E.C. Pienaar ‘in gelyke mate’ hulle albei se ‘bewondering en eerbied’ wegdra. E.C. Pienaar, sê hy, ‘is die pragtigste produk wat ons Afrikaanse nasie nog voortgebring het -, so manhaftig en fier in sy optrede, so in die ooglopend edel van inbors, so 'n baasredenaar en fynbesnaarde kritikus, kortom, so 'n prag-eksemplaar van 'n Afrikaner! Sy piramidale verdienstes imponeer my.’ En hy vra of Bokkie Pienaar se ‘Dingaansdag-ontboeseming in die nuutste Brandwag’ gelees het. Hy ‘staan verbaas voor so 'n blokstuk van retorika! Ek kan net ademloos in 'n vreemde taal uitroep: “What bloody sentimental tripe”’. Dit is opvallend dat daar, ná sy by tye sterk nasionale skoolverse, in Uys se gedigte tydens sy universiteitsjare geen nasionale of religieuse tendense aanwesig is nie. Miskien het Pienaar se oordrewe chauvinisme iets te make gehad met hierdie vroeë koersverandering by Uys, al sou hy in die dertigerjare in Spanje weer momenteel sterk nasionaalvoelend word. | |
[pagina 88]
| |
Buitendien was daar in hierdie tyd op Stellenbosch sterk meningsverskil oor die verligte idees wat Johannes du Plessis, professor in teologie, in die klaskamer verkondig het en wat volgens die beswaarmakers strydig was met die kerkleer. Die besware, wat by tye in heftige polemieke verwoord is, was van die begin af oor die vraag na die Goddelike outoriteit van Jesus Christus en of Jona as 'n historiese of as 'n allegoriese figuur beskou moes word.Ga naar eind18. Onder die werklik denkende studente gaan daar 'n simpatie uit na Du Plessis en in Die Stellenbosse Student, waarvan Uys in 1928 en 1929 redaksielid is, verskyn van tyd tot tyd artikels waarin steun vir die professor se standpunte uitgespreek word. Hoewel Uys self nie 'n artikel oor die Du Plessis-aangeleentheid skryf nie, is dit duidelik waar sy simpatie lê. Meer waardering as vir Pienaar het Uys in die Departement Nederlands en Afrikaans gehad vir dr. Fransie Malherbe. Malherbe stel Uys aan die jonger Nederlandse poësie voor, en deur buitemuurse lesings oor die skilderkuns ook aan die impressioniste. So ontdek hy die werk van Van Gogh en Cézanne, wat vir hom 'n hele openbaring is. Hy lees feitlik elke bundel van die destyds moderne Nederlandse poësie in die biblioteek en raak goed vertroud met Dirk Coster se Nieuwe geluiden waarin naas verse van Roland Holst en Bloem van die kwatryne van Jacob Israel de Haan en eksperimente met die vrye vers opgeneem word.Ga naar eind19. Maar dr. Fransie, wat in Uys se verhaal ‘Die diefstal’ figureer as ‘die nuwe prof. Malherbe, die een uit Europa’,Ga naar eind20. en die knap, vroeggestorwe prof. Lydia van Niekerk kan hom nie oorhaal om langer as een jaar 'n kursus in Nederlands en Afrikaans te volg nie. Aan die einde van 1927 skryf hy dié vak af en behaal hy 60% in die eksamen. Baie waardering het Uys vir prof. H.C. Notcutt, mnr. V. Walpole en mnr. D. Hopwood, sy dosente in Engels, wat hom aan die hand van voorgeskrewe tekste uit die werk van Shakespeare, die klassieke, romantiese en realistiese drama, en die poësie verder in die Engelse literatuur inwy. Die kursusse was goed saamgestel en die dosente prikkelend. Anders as die eerbiedwaardige Pienaar met sy grys hare het ou Nottie - soos Notcutt onder die studente bekend was - op 'n ouerige fietsie in die Stellenbosse strate rondgery. Hy was 'n gebore onderwyser wat deeglike studie en eerstehandse werk van sy studente vereis het. Sy proefskrif het gehandel oor Keats se Endymion, maar hy was veral geïnteresseerd in Spenser, in die besonder sy Faerie Queen, vir wie hy as 'n onderskatte skrywer beskou het.Ga naar eind21. Ook Hopwood en Walpole was inspirerende dosente. Omdat hy tydens die Eerste Wê- | |
[pagina 89]
| |
reldoorlog sy een long verloor het, was Walpole nie altyd baie gesond nie. Hy het egter sy studente beïndruk deur die klaskamer binne te kom met net 'n klein stukkie papier waarop enkele notas was en wat hy, ná afhandeling van die logies afgeronde lesing, opgefrommel en in die snippermandjie weggeskiet het. Sy toetse is nooit aangekondig nie. Hy het eenvoudig op 'n oggend opgedaag, ‘One student, one bench’ afgekondig, en dan moes die studente skryf! So meegevoer was Uys met die Engelse letterkunde dat hy in sy eerste jaar reeds op sy eie die verwikkelde poësie van Yeats, Eliot en Owen gelees, 90% in die eksamen behaal en derhalwe met onderskeiding geslaag het - 'n prestasie wat nie algemeen was vir Engels met sy hoë standaard nie. In die tweede jaar, toe die luiheid al by hom begin oorneem het, sak Uys af na 60%, wat vir dié streng departement nog steeds 'n goeie punt was. In sy tweede jaar kon Uys met Nederlands en Afrikaans as studierigting voortgaan, maar Pienaar en Nico Uys se vervelige stof wek 'n knop op sy maag. Geprikkel deur Fransie Malherbe se buitemuurse lesings oor die impressioniste het hy nou die behoefte om meer van die Franse kultuur en literatuur te wete te kom. So beland hy in die klas by dr. J.L.M. Franken, wat Frans in Luik, België, studeer en in 1919 as lektor op Stellenbosch aangestel word. Franken het 'n wye belangstellingsveld gehad en later belangrike werk op die gebied van die biografiese geskiedskrywing gedoen met sy Piet Retief se lewe in die Kolonie (1949), 'n boek oor een van Uys se voorsate. Franken was ook intens geïnteresseerd in die geskiedenis van die Afrikaanse taal. Veertien van sy belangrikste studies in dié verband word gebundel in sy Taalhistoriese opstelle (1953), 'n publikasie waarmee hy die Stalsprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verower. Met sy studie van die Franse letterkunde gaan daar 'n nuwe wêreld vir Uys oop. Franken stel hom met sy inspirerende lesings bekend aan die groot skatte van die Franse poësie en hy leer die groot digters reeds tydens sy studiejare ken: Villon, Baudelaire, Rimbaud, Verlaine, Mallarmé en Apollinaire. Hy ontdek ook die werk van Daudet en De Maupassant en vertaal van hulle kortverhale in Die Huisgenoot. Hy verdiep hom in alle Franse boeke waarop hy sy hand kan lê. Hoewel hy aan die einde van die jaar net 60% haal, was die jaar se studie vir hom 'n hele vreugde. Wanneer hy op 'n keer slegs 'n C vir 'n toets kry en self meen hy moet nou harder werk, sê Franken: ‘As ek jou | |
[pagina 90]
| |
pa was, sal ek jou slaat met 'n karwats.’ Net die volgende dag sê Franken in die loop van 'n lesing: ‘Die Franse filosowe sê as jy die man skraap, kom die gorilla uit.’ Uys merk daarby rats op: ‘En gister wou Doktor my gepiets het!’ Wanneer hy in 1950 sy bundel vertalings Vir die luit en die kitaar publiseer, dra Uys dit op aan Franken, ‘aan wie ek my liefde vir die Franse letterkunde verskuldig is’. Vanaf sy eerste Franse les by dr. Franken ontstaan daar by Uys die drang om na Frankryk te gaan en om die land, sy kultuur en sy mense in hom in te drink.Ga naar eind22. Drie jaar later sou hy dié droom verwesenlik. | |
IIIAs studente saam met Uys op Stellenbosch was mense wat groot bekendheid sou verwerf, soos die onderwys- en taalman C.P. van der Merwe, S. Meiring Naudé, later president van die WNNR en voorsitter van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, H.B. Thom, later rektor van die Universiteit van Stellenbosch, P.A. Weber, ouer as die normale voorgraadse studente en later redakteur van Die Burger en voorsitter van die Nasionale Pers, Erika Theron, later professor in maatskaplike werk op Stellenbosch, die skrywer Abraham H. Jonker en L.I. Coertze, vertaler van Hamlet, en soos Jonker ook later politikus. H.F. Verwoerd was 'n jong blondharige lektor in sielkunde. Hy was by almal bekend as akademies briljant en Stellenbosch se eerste hoogleraar in sosiologie. Uys was nie die enigste regstudent wat in die letterkunde geïnteresseerd was en sy hand op papier gewaag het nie. Saam met nege van sy medestudente vorm hy 'n vereniging vir die skryfkuns onder die naam ‘The Nine Muses’. Naas Uys en Bokkie was daar Helm van Zyl en Louis van Winsen, wat albei later regters sou word, en Willem van Rooijen, later bekende joernalis van die Cape Times. ‘I was the only one of...(those) aspiring writers who stayed the course’, skryf Uys. Within a few years of leaving the University all of them were very busy devoting their energies to the professions they had chosen and, while not losing their interest in literature, had given up the idea - and without the least regret, I am sure - of thinking of it in terms of their life's work.Ga naar eind23. | |
[pagina 91]
| |
Van die studenteverse wat Uys in Die Boerevrou, Die Huisgenoot, Die Nuwe Brandwag, Voorslag, The South African Nation en Die Stellenbosse Student publiseer, neem hy later op in sy debuutbundel Kentering van 1935 en sy bundel vertalings Vir die luit en die kitaar van 1950. In Die Stellenbosse Student, maar nêrens elders nie, gebruik hy dikwels die skuilnaam Matuk, gevorm van Mattheus Uys Krige. In hierdie stadium is Uys nog aan die tas na temas en vorme. 'n Mens sien dit veral in prosabydraes soos ‘A camp fire’Ga naar eind24. en ‘On coercion’Ga naar eind25. wat nog in groot mate by sy skoolstukke aansluit - al huiwer daar 'n noot van ligte, onuitgesproke verset teen enige vorm van dwingelandy in die laaste opstel, iets wat op skool nog by hom ontbreek. Dat Uys in hierdie jare nog, soos seker haas alle skrywers aan die begin van hul loopbaan, onseker is van die rigting waarin hy moet ontwikkel, blyk, naas die plek-plek nog sukkelende verse en die eksperimente in verskillende rigtings, uit 'n stuk wat hy skryf wanneer hy veel later gevra word om die poësiebydraes van die Universiteit van Kaapstad se Groote Schuur te beoordeel. Hy skryf: I...remember how inwardly unsure I was of myself, despite the bright blaze of those literary ambitions; how I warmed to the slightest word of praise or appreciation from any of my professors or fellow-students; and what a chill would come creeping into my soul at the least breath of adverse criticism.Ga naar eind26. Waardering vir sy talent ontvang hy tydens sy studiejare van sy medestudent Louis van Winsen, wat in 'n artikel ‘On Stellenbosch poetry’Ga naar eind27. Uys loof vir sy ‘rare appreciation for what is poetically beautiful in words and conceptions’, al kwalifiseer hy hierdie lof deur te sê dat daar geen diep agterliggende motief of ‘flodding impulse’ in die digter aanwesig is nie. Hy ‘indulges himself in the luxury of sensation. He is a dilettante of sights and sounds. He is in an intensely poetic state when he writes and in that condition can interpret through himself sensations of sight, sound and touch.’ Hierdie feitlik Van Deysselliaanse lewe van sensasies blyk duidelik uit sommige van Krige se Engelse verse uit dié tyd, soos ‘By the fire’,Ga naar eind28. waarin hy, soos Opperman reeds aangetoon het,Ga naar eind29. die woordmusiek van Swinburne nastreef en met die slot iets van Stevenson se kinderverse toon. Die invloed van Swinburne blyk hier reeds uit die oormatige gebruik van alliterasie: | |
[pagina 92]
| |
Just the patter of tiny footsteps
And a few little fitful flames;
Just the music of fairy fiddlers
And the laughter of dancing dames;
Just the whisper of soft little voices
And the music so sweet of the band;
Just the gleam of red little dresses
And the tilt of the saraband.
Just the scraping of bows on the fiddles
And the clapping of tired hands;
Just the throb of the drums in the darkness
And the sobbing of silken strands.
⋆
I am stretched half-asleep on the carpet,
I am drowsy with warmth from the glow
And I creep into bed in the quiet,
And I dream I am dozing below.
Teenoor die Swinburniaanse oorvloed woorde in dié gedig - so kenmerkend van die Victoriaan - is ‘The hero’Ga naar eind30. veel soberder. Deur, soos Opperman dit formuleer, ‘die sfeer en loopgraaftaal van Siegfried Sassoon en Wilfred Owen’,Ga naar eind31. wie se poësie Krige in dié jare leer ken, vind 'n mens dat hy hier nader by die spreektaal aansluit, 'n nugter aardsheid met 'n sweem van ironie nastreef en iets verraai van die anekdotiese ekspressionisme van Marnix Gijsen en Dop Bles, wie se verse hy in Coster se bloemlesing lees. Wat hy hier ook regkry, is om die vorm van die Shakespeariaanse sonnet voortreflik uit te buit deur met 'n terugkeer na die slagter se beroep die slotkoeplet met 'n ekstra stukkie wrangheid te laai. Dit is die enigste volwaardige sonnet wat Krige ooit gepubliseer het: The motor crashed and broke into the tree.
Eight men were hurtled, flung into the air,
Came down and fell in broken heaps, and three
Were corpses dead in pools of blood and hair.
| |
[pagina 93]
| |
The butcher spoke with slow and tragic sound.
He slobber'd, beamed upon the scribbling ‘press’,
Held forth unto the mob that stood around
With bated breath, ‘I saw it all, oh yes!
I thought I was in Flanders once again.’
There was a brave glint in his bleary eye,
‘My war-experience told me right as rain
That they were dead! My God! I've seen men die!’
And if he'd said - My experience long
Of mutton and dead beaf, would he've been wrong?
Reeds in Die Huisgenoot van 23 Desember 1927 vertaal Krige uit T. Sturge Moore ‘Die lied van die roeiers’. Dit volg hy in die uitgawe van 20 Januarie 1928 van dieselfde tydskrif op met ‘Requiescat’ van Matthew Arnold en op 20 Junie 1928 met ‘Die strik’ van James Stephens. In Die Stellenbosse Student van Maart 1928 vertaal hy ook Jan Celliers se ‘Stille werkers’ as ‘Evening’. Onder aansporing van Franken waag Krige hom aan twee gedigte in Frans (‘L' Hiver’ en ‘J' Aime’).Ga naar eind32. Ook uit Frans begin hy nou te vertaal: Sully Prudhomme se ‘Die oë’Ga naar eind33. en ‘Sug’,Ga naar eind34. wat hy in Vir die luit en die kitaar opneem, selfs al spreek die oorgevoelige romantiek later nie meer tot hom nie;Ga naar eind35. ‘Die fonteintjie’,Ga naar eind36. ‘Tydens die storm’ en ‘Die bron’ (laasgenoemde twee albei in Vir die luit en die kitaar) van Théophile Gautier, wie se skildersoog en beskrywende vermoë hy bewonder; en Leconte Delisle se ‘Hart van Hialmar’, wat in Die Stellenbosse Student van Maart 1929 verskyn, maar wat Franken so goed vind dat hy dit vir publikasie aan Die Nuwe Brandwag voorlê.Ga naar eind37. Dié vertaling op agtienjarige leeftyd en die publikasie op so 'n jeugdige leeftyd in die destydse prominentste literêre tydskrif in Afrikaans was, soos Krige dit later in 'n onderhoud sou stel, vir hom 'n deurbraak en die eerste bevestiging van sy poëtiese talent.Ga naar eind38. Dit is opvallend dat Krige met sy vertalings uit Frans, soos trouens Celliers vóór hom, op mindere digters konsentreer en die groot digters vir wie hy in dié jare leer ken, waarskynlik uit 'n te groot ontsag, vir eers laat links lê. Hierdie vertalings is van die eerstes wat hy doen en die begin van 'n aktiwiteit waarmee hy later groot aansien in die Afrikaanse literêre wêreld sal verwerf. Digters soos Villon en Baude- | |
[pagina 94]
| |
laire maak egter in sy studentejare reeds 'n groot indruk op hom. In Vir die luit en die kitaar skryf hy in 1950 dat hy twee en twintig jaar tevore - dus in 1928 - Baudelaire, ‘die vader van die moderne poësie’,Ga naar eind39. die eerste maal gelees het. Hy gaan voort: Dit staan my nog so helder voor die gees asof dit gister gebeur het. Ek was op die plaas Appelsbos in die distrik Swellendam. Ek het dié middag aan die slaap geraak met 'n Franse bloemlesing op die tafeltjie langs my. Ook van Uys se oorspronklike gedigte wat in Die Stellenbosse Student verskyn, toon dat hy in dié jare deeglik van die Franse poësie en Franse vorme kennis geneem het, soos die twee triolette (‘Ek wis nie dat ons eens moes skei’Ga naar eind41. en ‘Ek wou 'n ligte liedjie sing, Alet’Ga naar eind42.) en ‘Beauté inconnue’,Ga naar eind43. laasgenoemde 'n villanelle. Waarskynlik is die kwatrynvorm wat hy nou ook begin beoefen en wat hom - ook deur sy voorkeur vir die aaba-rymskema - 'n streng tug oplê, geïnspireer deur die kwatryne van Jacob Israel de Haan in Coster se Nieuwe geluiden, al laat die verbinding van die dood met die figuur van die prostituut 'n mens eerder dink aan Oscar Wilde en die Engelse Nineties: Al swierend deur die strate om haar lewensbrood
het sy gebied die dorre vrugte van haar skoot;
koket, geknipoog, hard gelag - en skel in
haar stem het ek gehoor die grynslag van die dood!Ga naar eind44.
Soms klink die kunstenaarstrots sterk uit hierdie verse op, al word die onsterflikheid van die digter nie met soveel bravade as by Kloos (‘Maar Ik zal heerlijk in mijn Vers herrijzen!’Ga naar eind45.) bevestig nie. Tog hoor 'n mens hier, ook uit frases soos ‘heel vaag’ en ‘heel ver’, 'n eggo van Kloos: | |
[pagina 95]
| |
Hoewel die dood, heel vaag nog soos die môremis,
heel ver, meedoënloos my liedjies uit sal wis.
Tog was hul skoon, het hul gesing van son en
van see, en van lewens soet geheimenis.Ga naar eind46.
In ander verse uit sy studentejare hoor ons baie sterk die naklanke van Leipoldt se slampamperliedjies, soos in ‘Weemoed’Ga naar eind47. en veral ‘Die Karo’: Blou is die hemel, blou daarbo,
Blou die koppies van die ou Karo!Ga naar eind48.
Met ‘Lied aan Kalomien’,Ga naar eind49. die gedig waarmee hy sy debuutbundel Kentering sal open, sluit hy nóú aan by die liedkultus in die Afrikaanse poësie van dié tyd, soos beoefen deur Visser en I.D. du Plessis, al skep hy met die langer klankspel, soos Opperman aantoon, iets ‘eentonigmelancholies’Ga naar eind50. in sy vers. Waarskynlik Krige se beste vers uit sy Stellenbosse jare is ‘Nagreën’, al is dit aanvanklik te uitgesponne en laat hy later, naas ander teksveranderings, nege strofes weg. Wat hy probeer doen, is om vir die eerste keer die eentonigheid van die nag lange reën deur die klank van die vers te evokeer. Dit doen hy deur die opstapeling van dieselfde rymterminale in kort versreëls en deur die sirkulering van beelde. Só eindig die gedig: O alleen
net die reën
wat daar gaan
langsaamaan
deur die nagte,
my gedagte,
deur die bome,
deur my drome ...
O die sug
die gerug
van die reën
droef-aaneen
alomheen ...Ga naar eind51.
| |
[pagina 96]
| |
Enkele van sy vroeë verse bundel Krige eers in Gedigte 1927-1940 (1961), 'n grotendeels (drasties hersiene) heruitgawe van sy eerste twee bundels, Kentering (1935) en Rooidag (1940). Met die epigrammatiese ‘Grafskrif’ sluit hy aan by die tradisie van Visser, terwyl ‘Aand ...’Ga naar eind52. met sy verbinding van waarneming en stemming suiwer Kloos is. Die uiterlike vorm van die sonnet, soos ook in ‘Reisindruk’,Ga naar eind53. is blote skyn, aangesien die slotkoeplet slegs die stemming voortsit. Onder hierdie verse neem veral ‘CE 93 ...’ deur die sober woordgebruik, die karige opnoem van indrukke om 'n hele sfeer op te bou en die beheerste vorm 'n besondere plek in. Die beeld van die peperbome sal in Opperman se Joernaal van Jorik terugkeer: 'n Rooi-wit huisie langs die spoor
waar flenter-wasgoed waai
en blomme in die sand versmoor
en heen en weer 'n stukkende hekkie swaai.
'n Rooi-wit huisie langs die spoor,
treurig, verlate, alleen.
'n Paar ou peperboompies voor
en om hom vaal die vlakte heen.Ga naar eind54.
'n Unieke gedig onder sy vroeëre poësie, maar wat Krige tereg weens die kwaliteit daarvan nie later in 'n bundel opneem nie, is die anekdoties-ekspressionistiese ‘Publieke foon’,Ga naar eind55. Krige se eerste werklik vrye vers waarvoor 'n mens, soos Opperman tereg aantoon, voorbeelde by Eliot, Laforgue, Dop Bles en Van Schagen kan aanwys: Ek wag hier vir die foon om net te lui, te lui,
rinkinkel en te keer te gaan ...
Ek wag
stok siel alleen,
sonder sigaret of pyp,
sonder 'n stukkie sjokolade om aan te smul.
Sans verbeelding, sans esprit, sans 'n lyntjie
van my eie poësie om my te sus
en op te beur. -
'n Troostelose ewige verveling.
Ennui! Ennui accablant!
Je suis désespéré!
| |
[pagina *1]
| |
1. Die handtekening van Cornelis Janz Uys (voor 1677 - na 1714), stamvader van die Uyse in Suid-Afrika. (C. Pama, Die groot Afrikaanse familienaamboek, Kaapstad, Human & Rousseau, 1983.) Tensy anders vermeld, kom alle foto's uit die Uys Krige-versameling by die Universiteit van Stellenbosch.
2. 'n Kunstenaar se voorstelling van die hinderlaag waarin Piet Uys en sy seun Dirkie, heldefigure uit die Groot Trek en in die Uys-familie, gesterf het. (Afrikaanse kinderensiklopedie, deel VI, Kaapstad, Nasionale Boekhandel, 1953.)
3. Handtekening van Wilhelm Adolf Krigo (1698-1738), stamvader, wat later sy familienaam as Krige geskryf het. Hy tree in die huwelik met Johanna de Villiers en boer saam met sy skoonvader op die spogplaas Bosch-en-Dal naby Franschhoek, bakermat van die uitgebreide De Villiers-familie. (C. Pama, Die groot Afrikaanse familienaamboek, Kaapstad, Human & Rousseau, 1983.)
| |
[pagina *2]
| |
4. 'n Voorstelling van Piet Retief, die groot politieke leier van die Groot Trek, in die Kaapse Argiefbewaarplek. Tussen hom en Uys Krige is daar 'n regstreekse bloedband, want Retief se suster Margaretha Louisa was die skrywer se oumagrootjie aan vaderskant. (Maria Hugo, Piet Retief, Johannesburg, Voortrekkerpers, 1961.)
5. Die opstal van Bontebokskloof waar Krige op 4 Februarie 1910 gebore is. (Sol y sombra, video oor die lewe van Uys Krige, deur Pierre Marais, 1985.)
| |
[pagina *3]
| |
6. Die Bontebokskloof-Uyse in 1896. Van links na regs agter: Nols, Sannie (moeder van die digter), Mattheus Gerhardus (1848-1912; oupa) en Sara. Voor van links na regs: Minnie, Lettie, Francina (geb. Lourens; ouma) en Anna. (lan S. Uys, Die Uys-geskiedenis 1704-1974, Heidelberg, uitgegee deur die skrywer, 1974.)
7. Jan Christiaan Smuts, staatsman en regsgeleerde, en sy vrou Isie Krige, groottante van Uys Krige. (Trewhella Cameron, Jan Smuts, Kaapstad, Human & Rousseau, 1994.)
| |
[pagina *4]
| |
8. Jacob George Joubert Krige (1846-1920). Hy was onder die Krige-kinders bekend as oupa Dominee. Hy was dertig jaar lank predikant op Caledon. (Foto: Caledon Museum.)
9. Villa Caledon, die pragtige woning in Neethlingstraat 7 op Stellenbosch, waar oupa Dominee ná aanvaarding van sy emeritaat kom aftree het. (Foto: Johan Krige.)
10. Japie Krige in aksie. Hy was die vader van die digter en die beroemde senter van Paul Roos se Springbokspan wat in 1906-1907 deur Brittanje en Frankryk getoer het. (The Carolin Papers, versamel en geredigeer deur Lappe Laubscher en Gideon Nieman, Pretoria, Rugbyana Publishers, 1990.)
| |
[pagina *5]
| |
11. Melkbos, boerestrandhuis van oupa en ouma Dominee op Onrust, waar die Krige-kinders graag in die somer by die see deurgebring het. (Foto: Santa Hofmeyr-Joubert.)
12. Susanna Hermina (Sannie) Uys, moeder van die digter en skryfster van Vroue en Papawers en pikkewyne. (Foto: Johan Krige.)
| |
[pagina *6]
| |
13. Die drie oudste Krige-seuns in 1914. Van links na regs: Bokkie, Arnold en Uys. (Foto: Suzanne Fox.)
| |
[pagina *7]
| |
14. Hastingsstraat, Tamboerskloof, Kaapstad met sy ry eenderse huise wat in Uys Krige se verhaal ‘Die stad’ in Die palmboom figureer. Die boom waaruit die Krige-seuntjies, volgens die gedig ‘Tram-ode’, dikwels lukwarte gaan ‘roof’ het, staan vandag nog teenoor nommer 29, die woning van die Krigegesin in 1917. (Foto: Wium van Zyl.)
15. Die Krige-kinders omstreeks 1920. Van links na regs: Uys, Arnold, Bokkie, Mizzi en François. (Foto: Suzanne Fox.)
| |
[pagina *8]
| |
16. 'n Gesinsfoto van die Kriges op die stoep van hulle huis in Mostertsdrif, Stellenbosch in die middel van die twintigerjare. Van links na regs: Bokkie, Uys, Mizzi, Japie, François en Arnold. Dit was kort voor die geboorte van Suzanne, die jongste dogter. (Foto: Suzanne Fox.)
17. Die skakelhuis in Van der Stelstraat, Mostertsdrif, Stellenbosch, waar Japie Krige en sy gesin hulle in 1920 vestig. (Foto: J.C. Kannemeyer.)
| |
[pagina *9]
| |
18. Die 1926-matriekklas van die Hoër Jongenskool wat later die Paul Roos Gimnasium sou word. Uys Krige sit in die voorste ry sewende van links en sy broer Bokkie derde van regs in dieselfde ry. In die middel van die tweede ry van voor sit Paul Roos, die skoolhoof. Regs langs hom sit eerwaarde P.J. Loseby, die Engelse onderwyser wat sy belangstelling in die poësie van digters soos Shelley, Keats en Wordsworth aangewakker het. (Foto: Paul Roos Gimnasium.)
19. Die eerste rugbyspan van die Stellenbosse Hoër Jongenskool in 1926. In die middel sit Paul Roos, skoolhoof en afrigter. Voor links sit Bokkie en Uys Krige. (Foto: Paul Roos Gimnasium.)
| |
[pagina *10]
| |
20. Die Ou Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch, waar Uys Krige in 1927 as regsstudent inskryf. In dié gebou vind baie van sy klasse plaas. (Stellenbosch 1866-1966, Stellenbosch, 1966.)
| |
[pagina *11]
| |
21. Uys Krige in 1927 as eerstejaarstudent op Stellenbosch.
22. Dr. J.L.M. Franken wat Krige op Stellenbosch in die Franse letterkunde inwy en vir hom 'n nuwe wêreld laat oopgaan. (Standard Encyclopaedia of Southern Africa, I, Kaapstad, Nasou, 1970.)
23. Bokkie (agter, tweede van links) en Uys (regs) saam met 'n paar medestudente.
| |
[pagina *12]
| |
24. Uys in 1930 in Johannesburg toe hy by die Rand Daily Mail as joernalis werksaam was. Hy het altyd daarvan gehou om op sy maag te lê en skryf.
| |
[pagina 97]
| |
Hy sluit af: O, waarom, waarom die onnodigheid,
die eentonigheid,
die trae suwwe selfgenoegsaamheid
van heel die mensdom,
Dinsdagmôre,
as 'n digter staan en wag?
'n Motor toet - 'n meisie lag...
Ek wag.
Ek wag hier vir die foon om net te lui, te lui,
rinkinkel en te keer te gaan...
Hierby merk Opperman op: Dit bly nog blote eksperiment, maar iets ongewoons vir Afrikaans in hierdie tydperk. Krige is vroeg reeds die bewuste digter, maar effens spottend! Met die ‘verveling’ en die ‘eentonigheid’, met sekere herhalings en opeenhopings, die rukkerige gang wat af en toe vaart vat, herken ons al duidelik die latere Uys Krige.Ga naar eind56. | |
IVIn November 1929 voltooi Uys die Regs-B.A.-kursus met 'n slaagpunt van 60% vir sowel Romeins-Hollandse Reg as Romeinse Reg. Sy broer Bokkie vaar in sy eksamen veel beter en verwerf met sy uitslae 'n Rhodes-beurs, wat hom in staat stel om verder in Oxford te gaan studeer. Maar Uys is nie ontevrede met sy vertoning nie. Aan sy ouers telegrafeer hy manhaftig: ‘Bokkie slaag cum laude, ek sonder moeite!’Ga naar eind57. Teen die tyd dat Uys met sy driejaaropleiding in die regte klaar was, het hy egter reeds besluit dat hy 'n skrywer wil word, nie 'n advokaat nie. Hy het dus geen begeerte gehad om die volgende jaar na Stellenbosch terug te kom en met die LL.B.-kursus te begin nie. Trouens, hy het geen begeerte vir verdere studie gehad nie. Hy wou die wêreld sien, self ervaar, lees en veral skryf. Ná die beëindiging van die akademiese jaar vertrek Uys en Bokkie na Cathcart, die dorp waar hul ouers nou al byna drie jaar in 'n ou | |
[pagina 98]
| |
Victoriaanse huis met 'n mooi tuin gewoon het en waar, soos hy later in Na die Maluti's sou skryf, ‘dit Saterdagmores altyd so druk was in die ruim strate’.Ga naar eind58. Op die partytjies wat die jongmense in hierdie Desembermaand hou, is Uys 'n ‘real live-wire’, soos Daphne Worthington dit nog in 'n brief van 15 September 1961 kon onthou. Saans het hulle gedraai en geswaai tot wie weet watter tyd en kon Uys gesels en gesels met almal wat hom wou aanhoor. Maar hy wou die wêreld nou met alle mag en geweld sien, selfs al het hy nie die nodige fondse daartoe gehad nie. Hy was van plan om aan die begin van 1930 na Johannesburg te vertrek en dan na Lourenço Marques, vandag Maputo, te gaan. Van daar kon hy dan per skip na Europa en sy reisgeld betaal deur aan boord te werk. Vroeg in Januarie 1930, met die feestelikhede van Kersfees en Nuwejaar agter die rug en ná die blye weersiens van sy familielede verby, vertrek hy dan per trein na Johannesburg, die eerste keer dat hy die goudstad, die metropool van Suid-Afrika, sou sien. |
|