Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 48]
| |
Hoofstuk II
| |
[pagina 49]
| |
nering aan die Anglo-Boereoorlog met sy konsentrasiekampe herleef en is Botha en Smuts deur baie Afrikaners as verraaiers en handlangers van die Britse Ryk beskou. Die verset onder heelparty republikeinsgesinde Afrikaners, veral in die Vrystaat, maar ook in Transvaal en Kaapland, lei in 1914 tot 'n openlike rebellie waaraan heelparty Boeregeneraals en -offisiere deelneem. Die rebelle was egter swak bewapen en georganiseer en die verset was van korte duur. Van die Uniewording, die Botha-Hertzog-twis, die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie was die klein Uys salig onbewus terwyl hy as seun van 'n staatsamptenaar in sy vroeë kinderjare telkens saam met sy ouers, broers en later ook sy oudste suster van tuiste verander het. Vroeg in sy lewe het hy waarskynlik geweet dat 'n niggie van sy vader, Isie Krige, getroud was met generaal Jan Smuts, wat 'n leidende aandeel aan die regering gehad het. In die verhaal ‘Die stad’ uit Die palmboom praat die ouers van die seuntjie Hansie, die sentrale karakter, baie daarvan hoe arm hulle is en op die periferie is Hansie ook vaagweg daarvan bewus: ‘Dit het glo iets te doen met die oorlog wat daar nog altyd tussen die Engelse en die Duitsers aan die gang is.’Ga naar eind2. Eers teen die einde van die oorlog, toe Uysie al nege jaar oud was, figureer die afloop van die oorlog die eerste keer in een van die briewe wat hy as kind skryf. In 'n brief van 21 Augustus 1919 aan mev. Howe-Browne, die vrou van een van sy vader se kollegas, vertel hy hoe hy die vorige Maandagaand na die ‘Peace Celebration’ gaan kyk het en hoe die Parlementsgebou met pragtige rooi, blou en oranje vlae oordek was. Die skerp verbeelding van die klein Uysie blyk reeds uit die wyse waarop hy noukeurig waarneem en beskryf: ‘The Station was like a big yellow castle. I saw the little lights on the ships, and I saw the rockets going up in the sky, and they looked like big snakes.’ Aan sy dogter, Eulalia, het hy later vertel hoe hy pennies van Australiese soldate, wat ná afloop van die oorlog op hulle terugvaart Kaapstad aangedoen het, uit die Langstraatse swembad uitgeduik het.Ga naar eind3. As gevolg van sy vader se herhaalde noodgedwonge verskuiwings het Uysie in sy kinderdae kontrei op kontrei geken, iets wat hom in later jare laat vra het of sy hunkering na ander plekke en die afwesigheid van een bestendige agtergrond vir sy ‘universele besopenheid’Ga naar eind4. en sy swerwersdrang verantwoordelik is. In begeesterde oomblikke, so gaan hy voort, is hy ‘dronk van die wêreld, ja, dronk, skoon dronk nie alleen van al die stede, plekke, lande wat ek nog nooit | |
[pagina 50]
| |
gesien het nie en ek nog eendag wil sien nie maar ook van al die stede, plekke, lande wat ek wel jare gelede gesien het maar ek om die dood weer 'n keer wil sien voordat ek afklop’.Ga naar eind5. Sy vroegste herinneringe het Uysie aan sy grootvader Uys se plaas Bontebokskloof, waarheen sy moeder vir die bevalling gekom het, 'n pragtige plaas met baie melkhoutbome aan die voet van die Langeberge. Wanneer hy jare later tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Libiese woestyn die lyk van 'n swart soldaat waarneem, wek die uitgespreide arms - méér vleuels as menslike ledemate - by hom 'n jeugherinnering: ‘that of the bat one of his cousins had nailed alive against the stable door on his grandfather's farm twenty-five years before’.Ga naar eind6. En wanneer hy ná sy ontsnapping uit 'n Italiaanse konsentrasiekamp twee jaar later die stilte, ‘die vars reuk van aarde verjong deur reën’ en ‘die aromatiese geure van tiemie, basilie, marjolein en ander kruieplante’Ga naar eind7. in die Abruzzi-gebergte ruik, dink hy terug aan Bontebokskloof waar hy as tienjarige seun 'n vakansie deurgebring en in die klowe rondgeklouter het. In een van sy eerste groot verse, ‘Tram-ode’, sal hy met iets van weemoed terugdink aan hierdie sorgvrye dae en, soos Christina van Heyningen dit noem, die ‘secure origins’Ga naar eind8. van sy jeug: Waar is die wonder en die ou geloof
wat ek eens had as kind by Bontebokskloof?Ga naar eind9.
Bontebokskloof lê ongeveer agtien kilometer van Swellendam, die derde-oudste gemeente sedert die VOC-nedersetting en vroeg in sy geskiedenis die toneel van politieke onrus as die inwoners in 1795 'n onafhanklike republiek uitroep. Die optrede van die Swellendammers tydens die eerste Britse besetting van die Kaap in daardie jaar was die aanleiding tot die eerste bekende Afrikaanse gedig waarin die van Nederlands afwykende taalgebruik van die burgers spottend nageboots word: die anonieme ‘Lied ter eere van de Swellendamsche en diverse andere helden bij de bloedige actie aan Muisenburg in dato 7 Aug. 1795’. Deel van die spot in hierdie gedig is dat Delpoort, die burgers se kommandant, voor hulle vertrek eers ‘Een groote vette bonte bok’ skiet - 'n aanduiding van die lekker lewe waaraan hy in die omgewing van Uysie se geboorteplaas gewoond was en dat hy in ‘Muisenburg’, in plaas daarvan om 'n Engelsman aan te keer, tot niks beter in staat sou wees as om met sy onervare krygsvernuf net | |
[pagina 51]
| |
die idiomatiese bok te skiet nie! Ook Swellendam, wat Uysie as kind dikwels moet besoek het, figureer in ‘Tram-ode’: En daar's 'n hawe in die vaal mis, Amsterdam.
Die herfs-son gooi 'n goudvlek teen die tram.
God, dit moet lente wees nou in Swellendam!Ga naar eind10.
Ongeveer agt kilometer van Bontebokskloof in die rigting van die Langeberge lê die sendingstasie Zuurbraak, die toneel van F.W. Reitz se bekende ‘Klaas Geswind en sij pêrd’, een van die geslaagdste geestige verse voor 1900: Plesier is nes 'n jong komkommer:
As jij hom pluk, verlep hij sommer;
Of nes 'n skulpad in sij dop in:
So's jij hom vat, dan trek hij kop in.Ga naar eind11.
Met sy geboorte was daar dus vir die klein Uys 'n literêre tradisie in die kleine in Swellendam en sy omgewing. Dit is egter, soos D.J. Opperman in sy Digters van DertigGa naar eind12. opmerk, blote toeval dat die geestige en satiriese in hierdie verse later ook by Krige voorkom. Van regstreekse skakeling tussen hom en sy Overbergse literêre voorlopers is daar geen sprake nie. Tydens Uysie se geboorte was sy vader klerk in die magistraatskantoor op Clanwilliam,Ga naar eind13. maar kort daarna is Japie Krige na Uniondale, waar Uysie se broer François op 20 Julie 1913 gebore is, die vierde en jongste seun in die Krige-gesin. Van Clanwilliam en Uniondale het Uysie as volwassene geen herinnering gehad nie, al moes die enorme afstande en die serene atmosfeer van die Groot Karoo tog 'n indruk op hom gelaat het. Wat hom, ook uit latere besoeke aan die Karoo, bygebly het, was die vriendelikheid en informaliteit van hierdie mense wat in 'n semi-woestyn 'n bestaan moes maak. ‘They participate in the generosity of their horizons’, sou hy hierdie mense treffend vir Christina van Heyningen karakteriseer.Ga naar eind14. In die hartjie van die Groot Karoo het Uysie 'n groottante met 'n geweldige lewenslus en -krag en met 'n kostelike, uitbundige sin vir humor gehad. Soms kon sy dinge kaalkop by hul name noem. Sy was iemand wat met al haar ‘onhebbelikhede’, getemper deur die Boerehumor, vir hom 'n verademing was en hom kon laat lag soos niemand ooit sedertdien | |
[pagina 52]
| |
nie. Haar lag, so beskryf hy dit later, was die soort lag wat jou versoen ‘met die menslike lot,...'n uitroep, 'n kreet van blydskap om die lewe, 'n juigende bevestiging van jou aanvaarding van daardie lewe met sy wel én wee, sy soet én suur; ja, die lag, die oop, gulle, menslike lag is altyd onvermydelik verlossend.’Ga naar eind15. Van Uniondale is Japie Krige met sy gesin na Bredasdorp om 'n betrekking as klerk in die magistraatskantoor te aanvaar, nie ver van Sannie se mense in die Overberg nie. Daar het die gesin op Zandhoogte, in 'n uithoek van die pragplaas Nagwag, gebly en het Japie Krige elke oggend met 'n klein fietsie vir sy werk Bredasdorp toe gery.Ga naar eind16. In vakansietye het die gesin dikwels die omliggende strandoorde besoek waar die ‘verlatenheid van berg en duin’ 'n mens ‘eensaam, byna verlore’Ga naar eind17. kan laat voel. In ‘Tram-ode’ roep Uys later sy sorgvrye vakansies op die naby geleë Waenhuiskrans op: Daar is 'n strandjie, Waenhuiskrans,
waar ek ses jaar oud was, en ons saans
halfag na bed moes gaan, nog voor
die ‘lighuis’ met sy blink oog oor die deining gloor.Ga naar eind18.
Dikwels het die kinders ook op Port Beaufort, met Kaap Infanta en Witsand aangrensend, aan die mond van die breedste rivier in Suid-Afrika - breër as die Oranje - saam met hul ouers gaan vakansie hou. Dan is hulle voertuig by Malgas op die enigste oorblywende pont oor die rivier getrek en het hulle afgedaal op 'n wêreld waar dit lyk of see en Karoo bymekaar uitkom. In die gedig ‘Na vyftig jaar’, waarin hy op dié fase in sy lewe terugkyk, roep hy met voldoening die rustige vrede van dié tyd op: Wind oor die Breë Rivier
wat rimpel, rimpel tot by sy boord.
Wind oor die wêreld, die water
en die rivier vloei voort, vloei voort.
Wind deur die popliereblare
by Malgas.
Die hart vloei oor van vrede, rus,
niks kan hom nou verwond, verras.Ga naar eind19.
| |
[pagina 53]
| |
By Waenhuiskrans, Port Beaufort, Witsand, en ook by Onrust, waar hulle Krige-grootouers in die somermaande met vakansie was, het die Krige-kinders 'n heerlike, onbekommerde jeug gehad. Daar is Uysie se liefde vir die see met sy strand, sy skulpe en sy wit meeue, swart duikers en skarrelende strandlopertjies vir altyd vasgelê. Jare later kon sy moeder nog onthou hoe Uysie en sy broer François as witkopseuntjies skulpies op die strand opgetel het. Sannie Uys se verhaal ‘Die vader’, wat as basis vir Uys se drama Die twee lampe dien, speel in die Witsand-wêreld met sy rivier en die Barry-kerkie op die bult af. Die karakters in sy drama en sy moeder se verhaal lê almal in die kerkhof op die plaas begrawe. Die plasie Zandhoogte, waar die kinders grootgeword het, was vir hulle 'n heerlike wêreld met baie speelplek. In sy verhaal ‘Die stad’ roep Uys later dié louter genot op: Ai, die wippe wat hulle gehad het, die stelle, die groot fisante wat hulle gevang het, die dam met die groot wilgerboom daaroor, aan die lang sterk latte waarvan hulle tot bo in die kruin van die boom opgeklouter het; al die skilpaaie wat hulle vroeg in die môre tussen die bossies en struike gekry het, terwyl die hele ou wêreld nog so natterig is en alles blink en skitter van die dou; die bokkies wat teen skemeraand aan die onderend van die werf kom wei het - en dan begin hulle rondtrippel en bokspring totdat 'n paar van hulle skielik stokstil gaan staan op hul dun beentjies en daar waai hulle soos vere hoog bo oor die heiningdraad...Ga naar eind20. In sy kinderjare moes Uysie baie van sy oupagrootjie Petrus Arnoldus Lourens van die plaas Dipka naby Swellendam gehoor het, al is hy oorlede toe die latere skrywer kwalik drie jaar oud was. Iets van die beheptheid met familiebande en 'n sekere soort ligte waansin deel hierdie oupagrootjie met sy agterkleinseun. As 'n mens die skrywer se verhaal ‘Die doodkis’ op die woord af kan glo, het hierdie nie-tradisionele patriarg die gewoonte gehad om op solder in sy eie doodkis - waar volgens algemene gebruik gewoonlik dinge soos droëvrugte en ander eetware gestoor word - in die namiddae 'n bietjie te gaan lê en rus, net om gewoond te raak aan die bed waarin hy later so lank sal moet lê! Hy was 'n man met skielike ingewings, grille of stemminge, en soos sy skrywer-nasaat altyd met iets spontaans en | |
[pagina 54]
| |
seunsagtigs in sy optrede. En soos klein Uysie van jongs af kon hy praat, praat, praat, ook oor sy eie tekortkominge en ten koste van homself, sonder enige kwaadwilligheid teenoor medemense: Aan sy humorsin is daar...paal nog perk. 'n Klompie van ons sit om hom aan die eettafel of in die namiddagsonnetjie op die stoep, en ons luister, asof in betowering, na elke woord. Niemand onderbreek hom nie. Daar's net een persoon aan die woord; dis Grootoupa....En onder Grootoupa se gesprekke deur was dit telkens weer asof plotseling, verruk en verwonderd, 'n mens tot 'n seldsame ontwaking kom - nes of die lewe subiet 'n dieper, waarder, voller sin en betekenis kry, met sy gebied verryk en sy horisonne verruim; en jy skielik jouself 'n beter, waardiger en veral mensliker wese voel...Ga naar eind21. Vakansies waarna die kinders gretig uitgesien het, was dié op Bontebokskloof van hulle Uys-grootouers. Hierdie grootouers kon die kinders baie van hul avonture tydens die Anglo-Boereoorlog vertel. Omdat hulle familie in die twee republieke gehad het, was hulle bereid om die Boere te eniger tyd te help, maar hulle moes uiters versigtig wees om moontlike vervolging en gevangenisstraf vry te spring. Op 'n aand hoor hulle 'n diskrete klop aan die voordeur. 'n Buurman bring 'n moeë jongman binne wat uit 'n krygsgevangenekamp in Simonstad ontsnap het en graag weer by die Boeremagte wou aansluit. Om die Kakies te vermy, word hy snags teen middernag op sy lang reis terug na die republieke van plaas tot plaas gesmokkel. Op die buurman se versoek of daar 'n paar dae onderdak beskikbaar is, word die jong kryger met ope arms ontvang. Voor dagbreek het Ouma Uys hom naby die plaashuis in die diep kloof, begroei met melkbos, dorings en wilde olyfbome, gaan wegsteek. Drie maal per dag is sy bos toe om vir hom kos te neem. Telkens het sy voorsorgmaatreëls getref dat nie een van die plaasarbeiders haar sien nie, aangesien 'n toevallige woord van een van hulle tronkstraf vir haar man kon beteken. Hierdie jong kryger, met die Engelse familienaam Robertson, is later per skip van Mosselbaai of Port Elizabeth na die destydse Lourenço Marques, van waar hy weer by Kruger se magte kon uitkom.Ga naar eind22. Op Bontebokskloof het die kinders ook hul moeder se ondeunde broer Nols (Petrus Arnoldus Uys, 1877-1955) leer ken. Hy het nie baie waarde aan klere geheg nie en hom soms uiters slonsig geklee, maar | |
[pagina 55]
| |
soos sy grootvader Lourens was hy 'n baie intelligente man met 'n aansteeklike humorsin. Onder die doringboompie op die werf het oom Nols, tot ontsteltenis van sy suster Sannie, vir Bokkie en Uys behoorlik leer vloek. Op betreklik vroeë leeftyd het Nols in Lindley in die Oranje-Vrystaat gaan onderwys gee en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog by die Heilbronse kommando aangesluit. In November 1900 is hy deur die Kakies gevang. Hulle wou hom summier fusilleer, maar hy kon toe skriftelik bewys dat hy kort voor die oorlog onderwyser in die Vrystaat was en burgerskap aanvaar het. Toe is hy as krygsgevangene na St. Helena gestuur. Ná sy terugkeer het hy 'n tyd lank naby die Limpopo gewoon en in Kenia wild geskiet.Ga naar eind23. Tydens die 1914-Rebellie was oom Nols 'n majoor in die Suid-Afrikaanse verdedigingsmag, maar hy was nie die gedagte goedgesind om na Duitswes te gaan nie. Hierdie weiering het hom en sy maats twee jaar in die Johannesburgse fort laat beland. Tydens die Prins van Wallis se reis deur Suid-Afrika in 1925 is die koninklike besoeker en sy gevolg op Swellendam onder andere aan oom Nols voorgestel. Toe hy die prins se aide de camp sien, sê oom Nols: ‘Sir, I have met you before.’ Toe die aide de camp vra waar hierdie ontmoeting plaasgevind het, was oom Nols se antwoord: ‘Through the peepsight of my gun during the war.’ Ná die dood van sy vader het oom Nols eienaar van Bontebokskloof geword. Hy en sy vrou was kinderloos; daarom was hy besonder geheg aan die Krige-kinders, vir wie hy tydens vakansies van al sy avonture kon vertel. Sy manuskrip Anekdotes van interessante persone word in die Drostdy Museum op Swellendam bewaar.Ga naar eind24. Ná die jare op Zandhoogte is die Kriges in 1917 na Kaapstad, waar die gesin in Hastingsstraat 17 in Tamboerskloof woon,Ga naar eind25. 'n straat met 'n hele reeks mooi losstaande huise wat presies eenders lyk en deur dieselfde argitek ontwerp is. In Kaapstad maak Uysie die eerste keer kennis met die wondere van die stad: die hoë geboue, die rye winkels, die motors, die trems en die menigte mense. Met hul aankoms per trem was die meubels al afgelewer. In sy verhaal ‘Die stad’ in Die palmboom besluit die seuntjie Hansie - Uys se broer François is hier die model - om die nuwe omgewing so 'n bietjie op eie houtjie te verken. Op dié heerlike dag, met die hemel in ‘'n ligblou kleur soos 'n vink se eier’,Ga naar eind26. verdwaal die seuntjie in die buurt en kan hy hulle huis nie weer kry nie. In sy paniek lyk die huise vir hom later ‘almal klein en almal eners’,Ga naar eind27. presies soos dié in Hastingsstraat. | |
[pagina 56]
| |
Gelukkig word hy later deur 'n vriendelike swart man en 'n Maleise winkelier gered en by die huis terugbesorg. Dit is juis hierdie vriendelike winkelier wat aan die Krige-seuns tydens hulle jare in Tamboerskloof lekkers op sig verskaf, sonder om later hulle skuld op te eis! Saam met sy broers Bokkie, Arnold en François vorm Uysie hier 'n bende wat gereeld die ongebruikte rioleringtonnels in die oop veld wat aan Hastingsstraat grens, gaan inspekteer. Aan die onderent van die straat was die Anglikaanse weeshuis, omring deur 'n hoë muur met bottelstukke, wat die klein Krigetjies die ritteltit gegee het. As sewejarige seuntjie gaan Uysie saam met sy moeder, wat gereeld die toneelopvoerings bygewoon en vir die kinders tuis daarvan kom vertel het, die eerste keer na 'n teater. Die stuk wat hy in The Opera House sien, is J.M. Barrie se gewilde Peter Pan met Frieda Godfrey in die titelrol en met Leonard Rayne as regisseur. Die hele ervaring van Peter Pan wat by die venster ingesweef kom, was vir die toekomstige dramaturg soos 'n mirakel, die bliksemslag wat die bekoring van die teater vir hom laat begin het.Ga naar eind28. Tuis hou Uysie hom besig met sy seëlversameling, die vlae op sigaretdosies wat hy bymekaarmaak en die legkaart wat hy van mev. Howe-Browne ontvang. In Tamboerskloof beleef die kinders die Groot Griep van 1918 wat duisende mense in Kaapstad laat sterf. In later jare kon Uys die oop waens met die baie kiste onderweg na die Woltemade-begraafplaas steeds helder onthou.Ga naar eind29. En in sy ‘Tram-ode’ roep hy sy en sy broers se gelukkige jeug in Tamboerskloof momenteel op met verwysing na die lukwartbome wat vandag nog steeds in die tuin oorkant Hastingsstraat 17 te sien is: Is daar nog loekwartbome om te roof
in die skadu van Leeukop, by Tamboerskloof?Ga naar eind30.
Van Tamboerskloof is Japie Krige met sy gesin teen die middel van 1919 na Bellville. In 'n brief van September 1919 skryf Uysie aan mev. Howe-Browne dat hy dit in Bellville aangenamer vind as in Kaapstad. Hulle besittings is met 'n wa van Kaapstad af vervoer, maar reeds in Hastingsstraat het die een wiel gebreek! In Bellville woon hulle in Van Riebeeckshof, naby die destyds digte portjacksonbos waar die kinders middae kon gaan speel. In daardie bos, skryf Uys baie jare later in sy bundel Sout van die aarde, | |
[pagina 57]
| |
het ons klompie kwajongens soos 'n trop wilde katte geleef; in sy diepste dieptes vir ons 'n hut gebou, asook 'n boomhuis in een van die paar verdwaalde dennebome wat ons kon opspoor, want 'n ou portjacksonboompie was mos glad te klein vir iets so groot en belangrik as 'n boomhuis.Ga naar eind31. Die bos het vir hulle 'n ‘onweerstaanbare aantrekkingskrag’Ga naar eind32. gehad. Baie van die portjacksons het hulle afgekap om as vuurmaakhout in die dorp te gaan verkoop. In 'n oop kol, in die hartjie van die bos, het hulle hul eie krieketveld gehad, 'n sport wat Uysie en sy broers later met nog meer oorgawe sou beoefen. Maar ook op ander gebiede was die tyd in Bellville besonder vrugbaar vir 'n verbeeldingryke kind soos die jong Krige. In 'n brief wat hy op 20 Desember 1919 aan mev. Howe-Browne skryf, vertel die negejarige Uysie van hulle konsert. Hy en sy broer Bokkie was Indiane en hulle het die hoede gedra wat sy vir hulle gemaak het. ‘I made my bow and arrow and tomahawk’, skryf hy. The first thing we had to do was that the whole class had to sing River. The 2nd was ‘Ten little nigger boys’. Jacobus [Bokkie - JCK] and I was one of them. A boy named Stanley Everest stood in front of us and said it up. I was the first little nigger boy. I had to choke myself and then there were nine little nigger boys left. Jacobus was last. Reeds as kind moet Uys 'n besondere mens gewees het. In 'n brief van 22 Augustus 1964 herinner hy sy moeder daaraan hoe sy hom op 'n keer vir straf in 'n donker kamer opgesluit het. Toe sy later die deur oopmaak, hardloop Uysie poedelnakend lag-lag rond, iets wat sy vroeë sorgeloosheid en traak-my-nie-agtigheid treffend illustreer. Maar hy kon ook geniepsig wees. Wanneer hy in die dertigerjare in Frankryk woon, skryf hy op 'n keer aan sy broer Arnold in 'n ongedateerde brief oor iets wat hom nog steeds kriewelrig en amper rooi van skaamte laat voel. ‘Ek sien jou,’ skryf hy, jou hakke wys wit soos jy wegpyl die straat af. Die versoeking is te sterk. Ek skiet my poot tussenin, en jy klits neer met jou kniekoppe teen die sementrand van die sloot. Die bloed tap, jy sê ek is 'n gemene vent. Ek lieg en voel sleg van skaamte, maar lieg | |
[pagina 58]
| |
maar deur. En Ouma - Ouma Uys - kyk my streng aan, en sê ek is 'n buffel! Onthou jy nog? En 'n ander keer die geveg in die agterplaas...Ons slaan en moker mekaar. Jy krap my. Ek wil juig van plesier as ek my vuis voel wegsak in jou wang. En ek slaan weer - mis! en klink my vier kneukels wawyd ope teen die agterkamermuur. Uysie kon ook sy maatjies en broertjies fyn strepe trek en lekker verkul met die uitruil van posseëls. In die 1964-brief aan sy moeder vertel hy hoe hy sy broer Arnold op 'n keer gefop het. In plaas van 'n tiekie gee hy hom 'n oulap. ‘Man, kyk,’ was sy woorde. ‘Myne is groter as joune. Slaan jou slag, kêrel!’ Hy kon 'n groot finansier gewees het en skatryk, skryf hy aan sy moeder, want dit is die maklikste ding ter wêreld om goed geld te maak. Maar op dertienjarige ouderdom het hy besluit: ‘Nee wat, ek stel geen verdere belang in die maklikste ding op aarde nie. Van hierdie heden af sien ek geld raak vir wat hy is en verag ek hom.’ Daarom dat hy later nooit geweet het waar sy tjeks en sy vyfpondnote - tussen stapels paperasse of in 'n brilhuisie wat hy ses maande lank ongebruik laat lê het - hulle bevind nie. | |
IIIn Bellville het Japie Krige net 'n jaar gewerk voordat hy 'n aanstelling as ondermagistraat op Stellenbosch gekry het. Vir Japie was dit 'n terugkeer na die voorvaderlike dorp van die Kriges en sowel vir hom as vir Sannie die plek waar hulle albei 'n deel van hulle skoolopleiding en naskoolse onderrig ontvang het. Met die verhuising na Stellenbosch breek vir Uysie die heerlikste tyd van sy jeugjare aan, want hy was nou in 'n omgewing wat met sy besondere natuurskoon baie sterk tot hom gespreek het. In hierdie stadium was Uysie se oupa, ds. Koos Krige, reeds met emeritaat en gevestig in die pragtige Villa Caledon in Neethlingstraat, 'n huis waarheen die Krige-kinders graag op besoek gegaan het. Aanvanklik vestig Japie Krige en sy gesin hulle in Hofmeyrstraat, maar later betrek hulle 'n skakelhuis in Van der Stelstraat, Mostertsdrif, naby die ou historiese Meulsloot. Wanneer Uys in sy laaste skooljaar is, word Japie en Sannie se tweede dogter, Suzanne, op 19 Maart 1926 daar gebore. Wat Uysie van die begin beïndruk het, was die gevestigde verfynde | |
[pagina 59]
| |
lewenstyl van die mense, wat hy kon ervaar wanneer hulle gesin in naweke vriende en familie op die plase rondom Stellenbosch besoek het: die Myburghs, die Louws, die Neethlings, die De Waals, die Marais's en al die ander in hulle ruim vriendekring. ‘There was a marked elegance, grace, charm and humanity about that way of life’, sê hy in 'n ongedateerde en ongepubliseerde onderhoud met Philip Stohr en Christopher Kavanagh.Ga naar eind33. Op die plase waar hy gereeld saam met sy ouers op besoek was, het die Kaaps-Hollandse argitektuur van die ou herehuise reeds vroeg tot hom gespreek. ‘Stellenbosch’, sê hy, ‘is part of something that has a real tradition, background, continuity, something that flows through us as cleanly as the dorp's own clear waters beside its wide-oak-shaded streets.’Ga naar eind34. Iets van die elegansie en grasie, die savoir vivreGa naar eind35. van dié leefwyse, sal hy later in sy blyspel Die ryk weduwee vaslê. In hierdie boomryke dorp, met die Meulsloot wat feitlik voor hulle huis verbyvloei, kon die Krige-kinders salige dae beleef. Wanneer die kerkklok Sondae lui en dit wil voorkom ‘of die son / sy bronsmond is/en die Tweelingpieke dóér/waar 'n sonstraal flits,/die verre eggo's’,Ga naar eind36. moes die Krigetjies vir die preek en Sondagskool vertrek. In ‘As die akkerblaar praat...’ herinner Uys hom jare later hulle beroemde bootresies ‘op die lang ent pad wat ons elke Sondagmôre moes aflê van Mostertsdrif na die Groot Kerk dóér in Kerkstraat.’Ga naar eind37. Saam met sy broers Bokkie, Arnold en François, hul vriende Googoo en Karel Louwrens en nog 'n paar knapies wat nie eintlik tot hul binneste kring behoort het nie, het hulle resies elke Sondagoggend 'n aanvang geneem by die groot wilgerboom waar Van der Stelstraat en Jonkershoekweg inmekaar loop en Van Riebeeckstraat begin. Dan het hulle hul bootjies, blote takke of planke wat hulle met hul knipmesse glad en gelyk gesny het, in die Meulsloot geplaas en - met 'n luide gejuig of krete van teleurstelling, al na gelang die vordering - angstig gekyk of 'n bootjie teen 'n klip aanstrand of by die ander verbyskiet. Die spanning het veral hoog geloop waar die Meulsloot by Bosmanstraat onder die pad induik om weer verder af in Van Riebeeckstraat te verskyn, want enigiets kon in daardie duisternis gebeur. ‘Ons geesdrif’, skryf hy, ‘het egter sy tierende hoogtepunt bereik by die wenpaal vlak voor die ou UitspanGa naar eind38. aan die bo-ent van Pleinstraat waar die meulsloot vir goed wegduik onder drie of vier kopertralies deur.’Ga naar eind39. Net voor die preek in die Moederkerk om halftwaalf sou begin, het hulle dan opgesluip na die linkerkantste galery om die | |
[pagina 60]
| |
teksvers aan te hoor waaroor hulle tuis verslag moes doen. Wanneer die preek ‘'n bietjie begin trek’,Ga naar eind40. het hulle die dosyne handtekeninge bestudeer wat teen die agterkant van die banke met knipmesse of lemmetjies ingekerf was. Jare later, wanneer hy 'n artikel oor die Stellenbosch van sy jeugjare publiseer, maak Uys se beskrywing herinneringe wakker by Muriel Garwith, sy vriendin van jare her. ‘I remember you in your much-loved little red cap’, skryf sy op 1 Oktober 1963 aan hom, ‘the four “wit-kop” Krigetjies in their grey Sunday suits and on Monday with their shirts hanging out and their bare feet sloshing through mud.’ Self onthou hy dat hy as seun met die somerreëns nooit sy jas saam skool toe geneem het nie en daarvan gehou het om ná skool sonder hoed of baadjie onder die reën in te stap. ‘Dit was omtrent 'n myl na huis’, skryf hy, en ek onthou nog goed watter genot dit vir my was om die reën oor my te voel stroom, dwarsdeur my klere tot op my vel - die reën kon jou op twee heeltemal verskillende maniere kielie: in jou ore en langs jou rugstring af - en watter opwinding om die breë plasse staande water in geweldige beroering te bring deur vinnig dwarsdeur te hardloop of stadig groot, bruin branders met jou voete teen die plas se walle op te stoot. En as die weerlig miskien blou en wit strepe wild oor die swartbord van die wolke krap en die donker kraak en klap daarbo soos reuse-klappers, des te beter...Selfs die modder in die pad had sy eie sterk bekoring, het jou voetsole gestreel, deur en om jou tone gekrul.Ga naar eind41. Naas die weeklikse bootresies was daar ook ander vermake: die uitbundige swemmery in die Eersterivier en in die swempoel bo in die Jonkershoekberge,Ga naar eind42. die rasende vaart waarmee hulle die groot swaaibrug naby Coetzenburg laat skud het, die akkergevegte waarin partykeer ‘twee vyandelike leërs’Ga naar eind43. van dertig man elk teen mekaar opgestel was en hoe hulle selfs voor Sondagskool ‘akkergemeen’Ga naar eind44. geraak het. Toe die Kriges in Mostertsdrif ingetrek het, was dit nog 'n wilde, oop wêreld. Reg voor hulle huis het die seuns hul eie rugbyveld, met pale en al, gebou. In die skets ‘Krieket...’ dink Uys later terug aan hoe die klompie seuns van Mostertsdrif hulle eie krieketklub gestig het om met dié van die Bodorp en die Onderdorp te kompeteer. Op hulle swart pette het hulle, gedagtig aan die befaamde | |
[pagina 61]
| |
Britse MCC, hulle moeders die letters MDCC - Mostertsdrif Cricket Club - met rooi garing laat uitwerk. Jare later kon Sannie Uys nog in haar bundel Papawers en pikkewyne onthou hoe Uysie se rooi wange en blou oë van opgewondenheid blink en hoe sy ligte hare onder die donker pet uitsteek.Ga naar eind45. Met die eerste historiese wedstryd teen die Bodorp het die MDCC as oorwinnaars van die veld gestap. ‘Dit was 'n homeriese stryd,’ skryf Uys, elkeen van daardie verbete wedstryde, met elf Ajaxe op hul stoutmoedigste gekant teen elf Hektors op hul kranigste. En alhoewel ons nie die torings van ons Troje aan die brand gesteek het nie - ons ouers het darem naderhand protes begin aanteken teen ons oordaad van geesdriftige gesprekke en ewige argumente oor ons krieketwedstryde smiddags en saans om die eettafel - het ons af en toe onder mekaar (en selfs onder die lede van dieselfde span) handgemeen geraak na gelang van die een of ander ‘verkeerde’ beslissing van een van ons skeidsregters of iets dergeliks.Ga naar eind46. Van tyd tot tyd kon die kinders ook saam piekniek hou en saam met die bure se seuns teen die berg oploop, al het hul vader gewaarsku dat daar luiperds en bobbejane rondswerf. In Desember 1920 gaan kuier Uysie en sy broers per trein in Somerset-Oos by mev. Howe-Browne. Daarvoor moes hulle op De Aar vir Noupoort oorstap en via Cradock verder reis na Cookhouse, waar hulle die trein na Somerset-Oos moes haal. Die uitgestrektheid van die Karoo maak 'n groot indruk op sy jong gemoed. Op Somerset-Oos woon hy sy eerste politieke vergadering by. ‘Mense’, skryf hy later, ‘het op stoele en tafels gespring, mekaar met die vuis toegetakel en daar het bloed gevloei.’Ga naar eind47. En, terug op Stellenbosch, sê hy in 'n brief aan mev. Howe-Browne bykans 'n jaar later dat hy die rolprent Ali Baba and the forty thieves gaan sien en dit baie geniet het. Saam met sy broers gaan hy ook gereeld Saterdagmiddae na die vervolgstuk The masked rider kyk.Ga naar eind48. Soos iedere dorp het Stellenbosch ook sy gebruiklike kwota ‘karakters’ gehad. In ‘As die akkerblaar praat...’ noem hy 'n paar bruin mense ‘vol humor en sêgoed en lewensvreug’,Ga naar eind49. 'n paar Joodse figure en ‘nurse’ Leppan, ‘die eksentrieke klein Engelse distriksverpleegster met die groot hart’,Ga naar eind50. wat ook in sy verhaal The dream onder haar regte naam haar verskyning maak. In ‘As die akkerblaar praat...’ | |
[pagina 62]
| |
noem hy twee Hollanders vir wie hy nooit sal vergeet nie.Ga naar eind51. Een van hulle is beslis die koster, mnr. Van Kerkhof, wat ook in The dream verskyn, 'n vreemde en vir baie mense 'n onaangename man, maar iemand van wie Uysie tog gehou het. Op Stellenbosch was dit bekend dat mnr. Van Kerkhof soms swaar kon drink. Die ouer inwoners kon jare later nog vertel hoe hy tydens die Groot Griep van 1918, toe hy daagliks talle mense moes begrawe, op 'n aand in die donker Laan oor die wortel van 'n eikeboom gestruikel het. Met 'n gespook het hy weer op sy voete gekom. Terwyl hy steeds sy hoëbolkeil vashou, met die rand stewig teen sy neus vasgedruk, het hy woes geswets: ‘O God, ik heb de pest!’Ga naar eind52. ‘Vir die goue glans wat daar oor my jeug lê’, skryf Uys in 'n ongepubliseerde skets, is hy baie verskuldig aan Stellenbosch. Hy kan hom nie ‘'n blyer, gesonder, meer normale, natuurliker, spontaner of lewenskragtiger en lewenslustiger kindertyd en jeug’ voorstel as dié wat hom op dié pragtige ou Bolandse dorp te beurt geval het nie.Ga naar eind53. ‘I have seen thousands of villages in three or four continents’, skryf hy, ‘and there aren't many to beat Stellenbosch and its surroundings.’Ga naar eind54. En dié glans van sy jeug vergelyk hy in sy bundel Sout van die aarde met dié ‘wat 'n mens so dikwels teen skemeraand diep en innig - asof dit uit krans en rots, van diep binne uit die klip self, straal - op die Stellenbosse berge sien gloei’.Ga naar eind55. Maar die goue glans is by tye ook verdof deur wat Uys later tydens sy Spaanse jare die ‘sombra’ sou noem, die skadukant van die lewe, die bewuswording van die eindigheid van dinge en die dood. Op 18 Maart 1920 sterf sy oupa Krige in die ouderdom van vier en sewentig jaar. In sy lang outobiografiese The dream, een van sy heel belangrikste Engelse verhale wat later voortreflik deur Ina Rousseau as Die droom vertaal is, sê Uys dat sy grootvader in sy slaap gesterf het en dat daar geen vrees of verterende pyn mee gepaardgegaan het nie. Anders was dit gesteld met die dood van sy tante - sy moeder se suster - en sy twee niggies. Cornelia Benjamina (Miemie) Uys, wat op 27 Junie 1883 gebore is en met Kenneth McKillop getroud was, verdrink op 3 Januarie 1922 in die Duiwenhoksrivier by Heidelberg saam met haar tweelingdogtertjies, Francina en Kathleen, toe sy hulle uit die stroom probeer red. Die nuus van hierdie tragedie, wat hulle tydens die Kersvakansie op Onrust bereik het, was, so sien die seun Jannie - in werklikheid klein Uysie - dit in The dream, vir sy | |
[pagina 63]
| |
moeder 'n groot skok, veral omdat sy in daardie stadium verwagtend was. Agterna kon hulle die grusame besonderhede verneem: They had pieced the story together from the confused accounts of little three-year-old Fredel who, an hour after the drowning, had been found wandering about, crying bitterly on the bank of the river. Francina, who couldn't swim at all, had waded too far out in the pool. Then Kathleen - whom Jannie had taught to do a dog paddle at Onrust the year before - had tried to help her. Aunt Miemie must have just taken off her bathing-costume when her daughters' cries had made her rush to the pool and plunge in after them; for later her clothes as well as her costume were found behind a bush about fifty yards from the river. Two men from the village had dived in and found her there, lying naked at the bottom of the pool, her children clasped in her arms. She must have put up a tremendous struggle for there were deep scratches and bruises on her neck and shoulders where the two girls had clutched frantically at her as they drowned.Ga naar eind56. Wanneer hulle van Onrust terug is op Stellenbosch, bedink klein Jannie van die verhaal wat hy alles vir sy komende Kleinboet sal doen; hy was daar seker van dat die kind 'n seuntjie sou wees. Hy sal Kleinboet al hulle speletjies leer en in die geheime van rugby inlei. Teen die tyd dat Kleinboet op hoër skool is, sal Jannie reeds vir Stellenbosch se eerste span, vir die Westelike Provinsie en moontlik ook vir Suid-Afrika speel en sal hy aan hom oordra wat hy van hul vader, die grote Japie - een van die grootste spelers van Suid-Afrika - geleer het. Vir die wintervakansie gaan Jannie se twee broers op die Overbergse plaas Karringmelksrivier kuier. Op 'n oggend, wanneer Jannie instap, is suster Leppan, die bekende vroedvrou van die dorp, by hulle in die huis en sê sy dat sy nuwe broertjie dié oggend gebore is. Jannie besef onmiddellik dat die geboorte drie weke te vroeg is, aangesien sy moeder duidelik gesê het dat die nuwe broertjie eers teen die einde van die vakansie, wanneer sy twee broers reeds terug sou wees, sou kom. Wanneer hy haar gaan groet, sê sy moeder: ‘He's going to be a fine boy. His name is Japie. So he'll play for South Africa.’Ga naar eind57. In 'n brief van 16 Junie 1922 aan mev. Howe-Browne skryf Uysie dat die nuwe lid van hulle gesin - 'n seun met die naam Jacob Daniel - | |
[pagina 64]
| |
dié oggend aangekom het. ‘The doctor was with my mother from 12 o'clock till 8 o'clock. It was all a hustle and a bustle. I went down town 7 times. It is a mile down to the town so I walked and rode 14 miles during one day. I had to buy clothes etc. etc. for the little one. The servants then began to make little trousers for him. He is a very small baby. Mizzie is delighted with him. So there must come another Krige signature in your birthday book 5 boys and 1 girl - just imagine it.’ In The dream neem Jannie die hand van die pasgebore babatjie in sy hand: It stirred, he could feel its little nails against his flesh, the hand seemed to flutter in his palm as if Kleinboet were frightened, he wanted help, he was clutching at his fingers, like the young dove he had picked up the other day after it had fallen from its nest in the pear tree in front of the house. And as he stood there, smiling now at his mother and then at Kleinboet - with the baby's hand quivering between his fingers - Jannie felt better.Ga naar eind58. Vier dae ná die geboorte van Kleinboet bel mev. Max Clark, goeie vriendin van die gesin, om hulle met die geboorte van die nuwe baba geluk te wens en te vra of Jannie nie die res van die vakansie by hulle in hulle pragtige Claremont-huis Brerewood wil kom kuier nie. Hoewel hy aanvanklik nie lus het om sy moeder en Kleinboet alleen te laat nie, willig hy tog in. In Claremont hou hy lekker vakansie en lees hy van die boeke in Uncle Innes se ruim biblioteek, wat hom laat terugdink aan sy oupa se groot studeerkamer in Villa Caledon. Saam met mnr. Clark gaan hy rugby kyk op Nuweland, maar dan spreek hy die wens uit om terug te gaan huis toe. Per trein reis hy na Stellenbosch. Wanneer hy tuiskom en aan sy moeder 'n speldekussing gee wat hy in Kaapstad vir haar gekoop het, huil sy en voel hy hoe haar hele liggaam teen syne ruk. Dan hou sy hom weg van haar af: she was no longer sobbing or even crying but looking at him with large blue eyes that were sad, terribly sad. At length she said quietly: ‘You know, Jannie, Kleinboet died fifteen minutes ago. He wasn't well, right from the beginning. Two days ago he got meningitis...’ She stopped for a moment, then continued: ‘The doctor said that if he had lived he would have been ill all his life...’... | |
[pagina 65]
| |
‘Japie would have been a cripple...’ he heard his mother say as if from a distance. ‘He would never have been able to walk...’Ga naar eind59. Jacob Daniel Krige, gebore op 16 Junie 1922, was nog nie drie weke oud toe hy op 4 Julie 1922 gesterf het nie. Op die doodsertifikaat het die huisarts, dr. J.H. Neethling, die oorsaak van die dood as premature geboorte aangegee, nie meningitis nie.Ga naar eind60. 'n Mens vermoed dus dat die vroeë geboorte verhoed het dat die fetus volledig ontwikkel. Vir Jannie in die verhaal, waaragter die klein Uysie skuilgaan, is dit 'n ontsettende slag. In 'n droom verbeel hy hom dat hy hom in 'n bos naby die Clarks se huis in Claremont bevind, 'n vreemde wêreld wat alleen hy bewoon, waar hy eienaardige gesigte sien en waar hy snaakse mense ontmoet wat hom, met 'n bewende en natgeswete liggaam, laat wakker skrik.Ga naar eind61. Professor De Vos van die Kweekskool neem die begrafnis waar en Kleinboet word langs oupa Krige begrawe. Dat Uys self groot waarde aan The dream geheg het, blyk uit 'n brief wat hy op Maandag, 26 Oktober 1953, aan sy moeder skryf uit Tossa, Spanje, waar hy aan sy drama Die goue kring gewerk het. Hy skryf: Ek is bly dat Mammie so baie van ‘Die droom’ hou. Eintlik is ek diep ontroer deur Mammie se woorde. Juis omdat daar so baie van u in die verhaal is: Ons is die hoofkarakters daarin. Gelukkig vir die Krige-gesin is daar, ná die verlies van Jacob Daniel, 'n nuwe vreugde met die geboorte van 'n tweede dogter, Suzanne | |
[pagina 66]
| |
Hermine, op 19 Maart 1926. In 'n brief aan mev. Howe-Browne skryf hy hoe die baba langs hom skop terwyl hy met die brief besig is: Baby is lying beside me as I write, kicking up her fat little legs and chewing at her fat little fingers out of the happiness of her heart, with red peach blossoms on her fat little cheeks and the blue of the summer mountains in her eyes, striving all the time for self-expression - with the little sounds pouring forth like a stream over round, smooth pebbles - and I wish you could see her. In hierdie passasie van 'n matriekleerling herken 'n mens reeds die toekomstige woordkunstenaar. Later sal Uys, terwyl hy die briewe van John Keats lê en lees, sy eie jaar oue dogtertjie se bewegings en geluide beskryf op 'n wyse wat nogal 'n merkwaardige ooreenkoms met dié in hierdie jeugbrief toon: Eulalia kruip rond op vet beentjies.
Sy swaai hot om, dan met 'n oulike liewe
glimlag gaan sit sy op my boek.
Ek frons konsuis, sy lag, sy skater;
dis of 'n streep wit klippies plons
skielik in 'n poel helder water.Ga naar eind62.
| |
IIIToe die Krige-kinders nog klein was, het Sannie hulle bekend gestel aan baie van die klassieke werke van die wêreldliteratuur en só 'n hele wonderwêreld vir hulle oopgemaak. Sy het Carroll se Alice in Wonderland, groot stukke van Bunyan se The pilgrim's progress en Dickens se romans, Kingsley se The water-babies, Swift se Gulliver's travels, Defoe se Robinson Crusoe, Van Eeden se De kleine Johannes en die Statebybel aan hulle voorgelees en hulle op dié wyse geprikkel om self verder te lees. ‘My moeder’, sê Uys later in 'n onderhoud met Jan Rabie, ‘was verantwoordelik vir al ses van haar kinders se liefde vir die letterkunde.’Ga naar eind63. Japie Krige was iemand wat, behalwe Buffalo Bill en Die Burger, nie baie gelees het nie, al het hy 'n besondere woordgevoeligheid besit. Uitstappies van die gesin het Sannie gereël; Japie was tevrede om heel rustig alleen by die huis te bly. | |
[pagina 67]
| |
Sy eerste skoolopleiding ontvang Uysie op sewejarige ouderdom deur medium Engels aan die Tamboerskloof Primary School. Daar hou die kinders iedere jaar 'n konsert. Saam met sy maats is Uysie - volgens 'n brief aan mev. Howe-Browne - in Augustus 1918 een van die matrose in die opvoering, terwyl die meisies ‘milkmaids’ gaan wees - ‘and they have to get a stool and pail and a little stick to hit the cows with’. In 1919 verhuis die gesin na Bellville. Wanneer die eindeksamen in sy nuwe skool in Desember van dié jaar afgelope is, kan hy sy uitslae in 'n brief aan mev. Howe-Browne trots meedeel: English reading 100, Recitation 85, Composition 82, Dictation 85, Grammar 44; Dutch Reading 100, Recitation 100, Dictation 65; Handwriting 60; Map drawing 80; Mental A good, written 100; SA History 70; Geography 100; Nature Study 80; Singing good. 1 171 uit 1 400; missed 229 marks. Wanneer hulle in die loop van 1920 na Stellenbosch trek, word Uysie ingeskryf by die ou baksteengebou van die Hogere Jongenschool, wat in dié jare ook die laere klasse geakkommodeer het. Ná sy goeie uitslae in Tamboerskloof en Bellville vaar hy swak op Stellenbosch in standerd 2, met punte wat meestal onder die 50% is, al sorg sy 73% vir Nederlandse lees en diktee daarvoor dat hy darem 'n gemiddelde van 49% behaal. Piet Cillié, later redakteur van Die Burger en professor in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch, word ook langs die Meulsloot in Mostertsdrif groot, al was hy meer as ses jaar jonger as Uysie en daarom as kind beter bevriend met Arnold en François. Saam met hulle was verder die latere majoor Pine Pienaar, vir wie Uys weer in Oxford en nog later in die Somalilandse woestyn sou raakloop. Pine neem deel aan hulle akkergevegte in die ou Laan, en selfs in die Sondagskool voordat die onderwyser inkom, en swem saam met hulle in hulle swempoel bo in die Jonkershoekberge.Ga naar eind64. Jare later kon Uys onthou hoe 'n merkwaardige inrigting die parallelmedium Hogere Jongenschool was. Hy het daar ook onderrig deur medium Engels ontvang en sowel Afrikaans- as Engelssprekendes het hulle volkome tuis en gelukkig gevoel. ‘I remember’, skryf hy, ‘the rapport, the relationships between the Afrikaans boys and the minorities, the English-speaking ones and the Jewish....We all knew each other; we were all young and we were very, very innocent.’Ga naar eind65. Die goeie verhoudinge in die skool skryf hy in groot mate toe aan | |
[pagina 68]
| |
die invloed van die hoof, Paul Roos, wat kaptein was van die Springbokspan van 1906 wat deur Brittanje en Frankryk getoer het en waarvan sy vader Japie ook 'n lid was. Roos was 'n indrukwekkende en wyse man en hy het met die jare die skool opgebou tot 'n pragtige inrigting wat sy naam sou dra. Aangemoedig deur die groot roem van sy vader het Uysie ook van vroeg af 'n groot belangstelling in sport getoon. Hy het die ambisie gehad om soos sy vader in die eerste rugbyspan te speel, maar op skool vaar hy nie so goed nie, al verskyn hy in die jaarblad op 'n spanfoto saam met Paul Roos. Sy roemrykste herinnering aan sy sportaktiwiteite op skool was op die gebied van krieket. Saam met hulle deelname aan die Mostertsdrif Cricket Club het die Krige-seuns gehelp om eiehandig op die stuk grasveld langsaan die skool vir hulle 'n krieketbaan aan te lê en 'n volledige stel paaltjies, knikkertjies, beenskutte en selfs 'n mat aangekoop. By geleentheid moes die leerlinge teen die personeel speel en Paul Roos word skoongeboul deur...Uys Krige! Oor dié krieketbaan wat hulle self gebou het, skryf Uys: Daardie gruisbaan wat ons gereeld met die grootste piëteit natgegiet en toe mooi platgerol het met 'n ou roller wat ons op 'n donker nag van iemand se tennisbaan ‘geskaai’ het, daardie pragtige lang groen mat wat ons oop- of toegerol het asof dit die einste towertapyt was waarmee Sinbad deur die lug na al dié verre, fabelagtige kontreie gevaar het - dit was ons heilige oortuiging g'n skoolkinders het nog ooit tevore op hul eie met so 'n prestasie voor die dag gekom nie.Ga naar eind66. Van tyd tot tyd het hulle in die Paarl en op Wellington teen ander skoolspanne gaan speel. Reeds vroeg in sy lewe het Uysie hom aangetrokke gevoel tot die bekoring van die natuur. Wanneer hulle teenstanders gekolf het, was hy terdeë bewus van die hoë akker- of dennebome rondom die veld, hul donkergroen blare - die eike was eers liggroen, maar met die aanwas van die somer het hulle al donkerder geword - hoe die lower roer of wuiwe in die wind; en bewus, veral, van die ewigwisselende spel van lig, kleur en tint op daardie majestueuse berge.Ga naar eind67. | |
[pagina 69]
| |
Tot op veertienjarige ouderdom het Uysie slegs die tipiese avontuurboeke en speurverhale gelees waarin veral seuns belangstel: populêre leesstof soos Phillips Oppenheim, Clarence Mulford en Zane Grey. Dikwels het hy ‘penny horribles’ by 'n tweedehandse boekwinkel of in kafees gekoop. As hulle te veel uit fatsoen was, het hy hulle met 'n lou strykyster uitgestryk. Die reuk van papier het hom van vroeg af in vervoering gebring, net soos sy broer, die stil, teruggetrokke François, die latere kunsskilder, dikwels met sy stukkie papier en potlood onder die tafel weggekruip en ure lank sit en teken het.Ga naar eind68. Soms was Uysie verveeld met die gewone skoolleesboeke en lees hy die Afrikaanse boeke van sy ouer broer Bokkie op eie houtjie deur. 'n Boek wat hy in dié jare met groot vreugde lees, is Die agterstevoortrekkers (1917), waarin Reenen J. van Reenen goedig die spot dryf met 'n aantal Bloemfonteinse akademici wat met ossewaens 'n toer vanuit die Vrystaatse hoofstad op die ou pad van die Voortrekkers onderneem. Veral die tog oor die berge en die beskrywing van die sterre en nagte bly hom by.Ga naar eind69. Met sy karige sakgeldjies begin hy nou self boeke aankoop. Toe hy in Darter se boekwinkel op die boek oor Sinbad se avonture afkom, wou hy dit opsluit besit, al was dit teen die kolossale bedrag van drie sjielings en 'n sikspens totaal buite sy vermoë. Op aanstigting van sy broer François beraam hy egter die plan om die boek uit die winkel te vervreem, net om dit later, gekwel deur 'n ondraaglike skuldgevoel, weer behendig te gaan terugsit! Dit is 'n gegewe wat hy later in sy verhaal ‘Die diefstal’ in Die palmboom sal gebruik.Ga naar eind70. Die eerste werklike openbaring van die literatuur kom vir Uysie, ná die eerste prikkel van sy moeder, van die Engelse onderwyser, eerw. P.J. Loseby, wat 'n groot liefde vir die Engelse romantici gehad het. Soos 'n stout seun het hy voor die klas bo-op sy lessenaar gaan sit, met sy bene wat oorhang vlak voor die kinders in die eerste ry en met sy broek wat optrek. Dan het hy met glinsterende oë met sy pragtige Oxford-stem uit Shelley en Keats en Wordsworth voorgelees en het die kinders ademloos voor hom gesit.Ga naar eind71. ‘When I heard’, sê Uys later, ‘Shelley and Keats spoken in this beautiful English voice for the first time at the age of fourteen - well, something happened to me; I never was the same afterwards.’Ga naar eind72. En hierdie liefde vir die woord is in die jong gemoed gepaar met die ontluikende gevoeligheid vir die Bolandse landskapGa naar eind73. en die weelde van die natuur wat hy in die blomme en die ou eikebome gevind het. Dikwels het hy, met Shelley en Keats in | |
[pagina 70]
| |
sy ore, opgekyk na die Jonkershoekberge en bewus geword van die skoonheid om hom. Dan het reëls soos Season of mists and mellow fruitfulness,
Close bosom-friend of the maturing sunGa naar eind74.
vir hom 'n besondere betekenis gekry en kon hy saam met Keats die bekende romantiese dictum onderskryf: ‘Beauty is truth, truth beauty,’ - that is all
Ye know on earth, and all ye need to know.Ga naar eind75.
Loseby inspireer van sy skrander leerlinge tot die stigting van die Corinthian Club - in Afrikaans die Uile-klub genoem - waaraan Uys en ander ywerige Latyn-leerlinge meedoen en waarvoor hulle gereeld by hulle onderwyser aan huis bymekaarkom. Lidmaatskap van hierdie vereniging is voorafgegaan deur 'n seremonie met 'n nie-openbaar gemaakte inwydingsritueel - die naaste wat Uys in sy lewe aan 'n geheime organisasie soos die Broederbond of die Vrymesselaars gekom het! Saam met die ontdekking van die Engelse poësie word Uys deur die Afrikaans-onderwyser, mnr. Timo Kriel, 'n waardige en streng gelowige man, ingelei in die ontwakende Afrikaanse poësie. Kriel lees vir hulle voor uit die gedigte van Celliers, Leipoldt, Keet en Wassenaar. Naas Wassenaar se see-sonnette word die jong Uys bekoor deur Keet se pralende klankspel: As saans die son stilswygend sterfGa naar eind76.
en sy vurige vaderlandsliefde: Gee my 'n roer in my regterhand,
Gee my 'n bok wat vlug oor 'n rand -
En 'n flukse perd om hom weg te dra:
Gee my Suidafrika.Ga naar eind77.
In 1920 word Jan Celliers as buitengewone professor op Stellenbosch aangestel en baie kere sien Uys hom stap.Ga naar eind78. Dikwels lees hy in Celliers se Vlakte-bundel en word hy, soos by Keet, veral aangegryp deur die klankrykheid: | |
[pagina 71]
| |
Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.Ga naar eind79.
Dit is 'n stylgreep wat Celliers by herhaling gebruik en wat tot 'n maniërisme in sy werk sal lei. In die Vlakte-bundel kom dit 'n hele paar keer voor, soos in Besonder aangrypend vir Uys is Celliers se beeld van die kosmos wat die honderde graffies bedek van kinders wat in 'n konsentrasiekamp gesterf het:Ga naar eind81. Maar kyk, dis 'n fees wat my oog gewaar
van blommetjies, blommetjies aanmekaar,
op ranke stingel oor graffie en steen -
soos graan op die lande, aaneen, aaneen;
soos kindertjies selwe in feesgewaad,
in hupp'lende dans op die windjie se maat;
spierwit hul kleertjies en roserooi -
die sonlig se glans op hul hemelse tooi.Ga naar eind82.
Ook Leipoldt se ironie in ‘Vrede-aand’ en ‘'n Nuwe liedjie op 'n ou deuntjie’ spreek sterk tot hom. By geleentheid,Ga naar eind83. jare later, vra hy wie beter verse in Afrikaans geskryf het as Leipoldt in sy sonnet oor die dood: O trotse Dood, die mense doen jou eer,
Bang vir jou hartstog, huiw'rend vir jou hand,
Wat lewe wegslaat en die donker land
Hiernamaals aanwys, waar die spoke weer
Tot mis en onaantasb're ligte keer.Ga naar eind84.
| |
[pagina 72]
| |
En heimlik hoop die jong Uys dat hy eendag net sulke poësie sal kan skep, dat ook hý een van die begenadigdes sou wees waaroor Shelley in sy ‘Ode to the West Wind’ skryf: Make me thy lyre, even as the forest is:
What if my leaves are falling like its own!
The tumult of thy mighty harmonies
Will take from both a deep, autumnal tone,
Sweet though in sadness. Be thou, Spirit fierce,
My spirit! Be thou me, impetuous one!Ga naar eind85.
| |
IVDie eerste kort briefies wat Uysie skryf, is sorgvuldig deur sy moeder en haar vriende bewaar, veral dié wat hy aan die egpaar Howe-Browne gestuur het. Die vroegste briefie dateer van 31 Oktober 1916, toe hy ses en 'n half jaar oud was, en is gerig aan mnr. Howe-Browne in 'n Afrikaans wat nog plek-plek Nederlandse invloede toon. Die brief bevat die tipiese spelfoute van 'n kind wat begin skryf, al moet 'n mens onthou dat hy 'n taal gebruik waarvan die spelling nog nie behoorlik vasgelê is nie: Ons het vandag die dijfies yt ge haal en moedr het vandag naar het Dorp gigan met F. mist kieBins arnol het in het zwart dam gi val met het kar ons het de kar het goljat gistr marag gi mak en ons gat een Bont vark zlag en miste Howe Browne moet mij as-Biev tog trig sgryv ek iz Baah jamir oor lat jij niet hier gi komt niet too jij hier too jil hiet gi komt too jy hier op pdarsdorp ge Blyt Daar lê 'n lang pad tussen hierdie sukkelende brief en dié wat hy in 1926 - sy matriekjaar - aan mev. Howe-Browne skryf, selfs al sê hy daarin dat hy nie alles wat hy in die ‘wonderful novel’ van Rabindranāth Tagore, wat hy aan die lees is, begryp nie - ‘his beautiful philosophy is rather difficult to understand’. Vir sy moeder se verjaardag, skryf hy, het hy 'n eksemplaar van Tono-Bungay gekoop, een | |
[pagina 73]
| |
van H.G. Wells se vroeë fantasieë met baie humor en 'n hoogs geslaagde sentrale karakter - 'n aanduiding dat Uys in hierdie stadium reeds 'n goeie literêre oordeel het en belese is. Uit ander dele van die brief kry 'n mens verder die indruk dat hy nie alleen 'n uitstekende beheer oor Engels het nie, maar dat hy bewus is van hoe hy wil skryf en oor sy formulering nadink. ‘The ox-wagon of my school life’, skryf hy, ‘is now on the last stage of its long journey (this is rather a bad metaphor, I think) and I hope it will not be delayed on its way. If it gets there - to use an Americanism, I will be in College next year.’ Die werk van die Engelse romantici en die verse van Celliers, Leipoldt en Keet was vir Uys, soos sy bywoning van Peter Pan op sewejarige ouderdom op die gebied van die toneel, sy coup de foudre, sy bliksemslag op die gebied van die literatuur. Op dertienjarige ouderdom begin hy skryf, eers in Engels en kort daarna in Afrikaans. Hy skryf verse, sketse, verhale, opstelle, nuusberigte - dit stroom uit hom soos water uit 'n dam waarvan die sluise skielik padgegee het! Vir The Cape Argus skryf hy gereeld verslae oor sportgebeurtenisse op Stellenbosch, wat vir hom sakgeld besorg, terwyl van sy Engelse gedigte en opstelle in A.D. Donovan se weekblad The Cape en The South African Review van Alfred Palmer opgeneem word. Wanneer hy by geleentheid 'n prosaskets en gedigte aan The Sunday Times stuur en die redaksie vra om in hulle rubriek ‘Answers to correspondents’ te laat weet ‘if I must cut down summarily the poetical fruit-tree’, is die kritiek egter taamlik vernietigend: ‘Until you cut out altogether the very bombastic style and the dozens of complicated metaphors, it is no use your sending any more articles to us. The story is quite impossible and the poem worse. We should certainly advise you “to chop down summarily the poetical fruit-tree”.’Ga naar eind86. Ten spyte van hierdie negatiewe reaksie wen Uys sy eerste letterkundige prys met 'n skets in Engels in die destydse kinderafdeling van The Cape Argus. Hierdie en ander prosabydraes is egter weinig meer as die skoolopstelle wat hy vir die jaarblad van die Hoër Jongenskool instuur en waarin ook die uitgesponne gedig ‘Die winter’ verskyn. Met sy eerste inskrywing vir De Goede Hoop van dr. N.J. Brümmer verower hy die eerste prys vir 'n gedig oor die Voortrekkers met ‘Dingaansdag’, wat in die uitgawe van 15 November 1925 verskyn. 'n Mens moet D.J. Opperman gelyk gee dat dié lang gedig onmiddellik een van Krige se groot gebreke as digter hier aan die begin van sy oeuvre treffend illustreer, naamlik sy eindelose voort-Ga naar eind87. | |
[pagina 74]
| |
skrywery in rymlose verse met haas geen binding nie.Ga naar eind88. ‘Die geskiedenis’, skryf Opperman, ‘word in die trant van Celliers maar soms met stukke regstreeks uit Keet en Wassenaar oorvertel. Hy gebruik telkens die uitdrukking “Ek sien...” om die geskiedenis tot “visioene” om te skep, maar die hele vers bly sonder 'n sweempie van aanleg.’Ga naar eind89. Tog, ten spyte van al hierdie voor die hand liggende swakhede, was die bekroning van ‘Dingaansdag’ die regte aanmoediging op die regte oomblik. In De Goede Hoop van 15 Desember 1925 publiseer Uys ‘My seun, hou maar aan’, 'n vers waarin 'n sterwende vader van sy seun afskeid neem en hom, wat die jeug en die daeraad verteenwoordig, vreugde en 'n volle lewe toewens. ‘Die stroom’ toon 'n sterker beelding en klankgevoeligheid met 'n strofe soos Soos 'n strepie
Van 'n swepie
In die maan se silwer gloed.
Soos 'n ster
Wat wink van ver
Om 'n reisiger te groet.Ga naar eind90.
Terselfdertyd is die gedig egter ook 'n voorbeeld van in watter ontstellende mate daar negatiewe invloed op die jong digter van sy bewonderde Celliers uitgaan met reëls soos: Brommend, bruisend,
Skuimend, suisend
Is die stroom se voorwaarts gang,
Druisend, dar'tlend
Springend spart'lend
Vergesel deur voëlgesang.
Uys herhaal die ongelukkige effek wat hy met die opgestapelde deelwoorde van die eerste twee reëls wil bereik, nog in vier ander strofes van dieselfde gedig! En in ‘Opdrag’ en ‘Vaderlandsliefde’, in De Goede Hoop van Februarie en Mei 1926 onderskeidelik, is dit Celliers en Keet se chauvinisme wat hom op verkeerde bane lei: | |
[pagina 75]
| |
Wys my 'n volk wat baie kan wa!
Wys my die land Suid-Afrika!
Wys my, wys dit, o vrind!
Daar sal ek my vreugde vind!
en: Laat my ly,
Laat my stry
Vir my land
Vir my land
Suid-Afrika!
Ná ‘Die dromer’ in De Goede Hoop van 15 Mei 1926, wat soos ‘Dingaansdag’ te lank aanhou, publiseer hy in Augustus 1926 in Die Boerevrou van mev. Mabel Malherbe ‘Die ou skeepskaptein’, sy beste gedig tydens sy skooljare en 'n vers wat met die paarrymende koeplette 'n groter ordening as sy ander skryfsels uit dié jare toon: Die stokou skeepskaptein met swak gestel
Is in ons huis van siekte weer herstel.
Toe hy in die môrelug weer asemhaal
en ver die wilde see hoor kook en maal,
Toe sê hy: ‘Bring my daar - daar by die see,
My eie bloue see. Daar sal ek sterf, tevree.’
Ek het hom daar gebring - daar waar die sand
Bang-angstig sluimer langs die see se kant;
Daar waar die see haar safiermantel dra
En waar die witte strikke aan die soom al vra
Om deur die spierwit sand gehoor te word
En dan, gebelg, woes op hul neer kom stort.
| |
[pagina 76]
| |
Daar het hy stilgestaan en ver sy blik
Tot aan die horison gewerp. Verskrik
Het hy die frisse seelug ingedrink
- Uit vreugdeskelk verlaas vir hom geskink.
Vir hom was dit soos soete wyn. Bereid
Het hy in al sy stoere manlikheid
Met hoof omhoog daar soos 'n beeld gestaan,
En lank het hy die see weer ga' geslaan.Ga naar eind91.
Die seebries het sy lokke sag deurspeel,
Met vingers lig die sterk gesig gestreel,
En lank 't hy oor die bloue see gestaar -
Sy lewensskip het oor die horison gevaar.
Die silwer see het aan sy voet geblink,
En glimlaggend het hy daar neergesink.
Hy slaap - hy slaap daar langs die witte strand -
Daar waar die see spoel oor die sagte sand;
Daar waar die seemeeus droewig-klaend ween
al dalend, stygend oor die branders heen.
Ten spyte van The Sunday Times se advies ‘to chop down summarily the poetical fruit-tree’, het Uys bly dig. Hy het selfs die antwoord uit The Sunday Times uitgeknip en dit met trots in sy eerste plakboek geplak! ‘Ek is van mislukkings in mekaar gesit soos 'n tennisnet van gate, maar ek bly hang’, het hy by geleentheid gesê! In ‘Die rymelaar se lied’, wat in De Goede Hoop van 15 April 1926 verskyn, beantwoord hy sy kritici. Dit is sowel Dertig se eerste kunsbelydenis in versvorm as 'n jong seun se manhaftige reaksie op die kritiek wat sy verse uitlok. Terselfdertyd is dit 'n voorbeeld van hoe Uys, ten spyte van die feit dat hy seergemaak moet gevoel het, negatiewe kommentaar kon verwerk: | |
[pagina 77]
| |
Hul sê my versies is niks wêrd,
Van digkuns weet ek kop nog stêrt.
My ritme is mos ook verkeerd,
Die mense is tog so geleerd.
My versies skeur hul uitmekaar,
En daarmee is hul glad nie klaar,
Want ook my versmaat is nie reg.
My versies, o die is so sleg!
Hul' het geen goeie woord daarvoor,
Hul rys hul stem in slegsêkoor....
Die woorde borrel op in my,
Hul kom vanself; ek kan nie swy.
Die klankevloed oormeester my,
Dit is spontaan; ek kan nie swy.
My sirkel van gedagtes dy
Al breër uit; ek kan nie swy.
Die reënboog van my digtrant kry
'n Nuwe kleur; ek kan nie swy....
My moeder sê sy lees hul,
Vir haar is hul so mooi;
Dus skrywe ek nie vir jul,
Maar net vir haar en my.
|
|