Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 23]
| |
I
| |
[pagina 25]
| |
Hoofstuk I
| |
[pagina 26]
| |
Die stamvader van die Suid-Afrikaanse Uyse is Cornelis Janz Uys (voor 1677- ná 1714) van Leiden, Nederland.Ga naar eind3. Daar is aanduidings dat hy reeds teen 1700 aan die Kaap was en hom op 'n plaas naby die huidige Kuilsrivier aan die Polkadraaipad, nie ver van Stellenbosch af nie, gevestig het.Ga naar eind4. Sy seun, Dirk Cornelis (1696 of 1698-1758), gebore in Leiden, kom saam met sy ouers na die Kaap. Hy was die eienaar van die plaas Groote Salze in die Stellenbosse distrik en 'n leiersfiguur in sy gemeenskap. Dirk Cornelis se seun, Cornelis Janse Uys (1736-1811), word groot op Groote Salze. Hy is die eerste nasaat van die stamvader wat die betreklik knusse wêreld van die destydse Kaap verlaat en hom in die ongenaakbaarder, heuwelagtige en minder beskutte Overberg vestig. Hy trou met 'n nooi Swart wie se ouers uit Nederland gekom het. Aanvanklik boer hy met beeste op die plaas Wydgelegen (later bekend as Ouplaas) tussen Bredasdorp en Malgas, maar op advies van Daniel van Reenen, seun van die welgestelde Dirk Gysbert van Reenen, oorspronklike eienaar van Rhenosterfontein naby Witsand, begin hy met die teel van merinoskape. Dirk Gysbert van Reenen het op sy Breërivierplase minder in skape belanggestel en op perde gekonsentreer, maar Daniel van Reenen het later 'n klein troppie wolskape besit. Die bejaarde Uys, skryf Edmund H. Burrows in sy Overberg outspan, ‘allowed himself to be persuaded by the Van Reenens to permit his daughter to rear some merino hanslammers (ten ewes and one ram), and so disinterested was old Uys that Daniel had to deliver the lambs to his daughter himself!’Ga naar eind5. Só suksesvol was Cornelis se boerdery met wolskape dat hy as 'n welgestelde man gesterf het. Die seun van Dirk Cornelis se oudste broer, Johannes Gerhardus (Jan) Uys (1727-1769?), is Johannes Jacobus (1761-1837), die vader van die Bolandse Uyse. Die tweede seun van Johannes Jacobus is Koos Bybel (Jacobus Johannes, gebore 1771), wat in 1793 die eienaar was van die plaas Napkymond aan die Breërivier, maar hom later naby Uitenhage in die Oostelike Provinsie gevestig het. Op sy beurt is hy die vader van Petrus Lafras Uys (Piet Italeni; gebore 1797). Piet Uys verlaat die Kolonie in 1837 saam met sy vader se trek. Hoewel nomineel leier van dié trek kon die bejaarde vader in die praktyk weinig uitrig en het die administrasie en besluitneming in groot mate op Piet se skouers geval.Ga naar eind6. Hy neem deel aan die tweede suksesvolle ekspedisie teen Mzilikazi se Ndebele en staan met sy sterk persoonlikheid bekend as 'n gebore leier wat geen vrees geken het nie. Saam | |
[pagina 27]
| |
met sy vyftienjarige seun Dirkie (Dirk Cornelis, gebore 1823) sterf hy in 1838 toe hulle in Natal in 'n Zoeloe-hinderlaag gelei word. Die lotgevalle van Piet Uys en sy seun Dirkie het die verbeelding van mense nog lank ná hul dood aangegryp, in so 'n mate dat hulle telkens in gedigte en prosawerke figureer. Die legende het trouens ontstaan dat Dirkie teruggedraai het om sy dodelik verwonde vader by te staan en voor sy eie dood 'n hele paar Zoeloes afgemaai het, 'n weergawe wat volgens ooggetuies met die feitelike verloop van die droewige gebeure bots.Ga naar eind7. In sy drama Magdalena Retief sal Uys Krige by monde van sy karakter Bêrend die lof van Piet Uys as Voortrekkerheld besing: ‘Waar kon mens 'n beter aanvoerder of dapperder krygsman gekry het as hy, die held van die Hoëveld, wat die Matebeles nege dae lank al langs die Marico-vallei af soos skape voor hom uitgejaag het?’Ga naar eind8. Piet Uys was 'n neef van Uys Krige se oupagrootjie aan moederskant, sodat daar 'n direkte bloedverwantskap tussen die Voortrekkerheld en die skrywer bestaan. Uys Krige se oupa Uys en Dirkie was kleinneefs. Jacobus Johannes Uys (1785-1831), wat in die Overberg agtergebly het en nie saam met die ander Uyse na die Oos-Kaap is nie, was bekend as Piet Kadie en was getroud met Catharina Grobbelaar (1766-1852). Kadie is die naam wat hy aan sy plaas langs die Breërivier gegee het ter herinnering aan die skip van die Barry-neefs, die Overbergse winkeliers en grondbaronne, wat oornag die verouderde transportmetodes oor die moeilike berge vernuwe het en see langs vir die plaasprodukte die potensiaal van 'n nuwe mark in die Kaap geskep het. In 1865, ná die dood van Piet Kadie, strand die Kadie egter by Port Beaufort by die ingang na die Breërivier. Nog 'n voorsaat in hierdie geweste, met 'n nooi Uys getroud, was Pieter ‘Rooibaard’ Swart (1878-1946), 'n hardvogtige man wat nie wou toelaat dat sy jongste seun met die Sweedse meisie van sy liefde trou nie. Op die dag toe sy beminde met die Breërivier af uit die Overberg wegvaar, het Rooibaard se seun homself doodgeskiet. Hierdie daad het Rooibaard nie van sy ewe hardvogtige optrede teenoor sy oorlewende ouer seun laat afsien nie, met die gevolg dat ook dié seun die weg van selfmoord gekies het.Ga naar eind9. In Die twee lampe (oorspronklik Twee Lampe) sou Uys Krige baie jare later hierdie boustof en die wêreld van die plaas Kadie, Port Beaufort en Witsand, wat hy as kind tydens strandvakansies goed leer ken het, as gegewe gebruik, 'n drama wat hy baseer op die verhaal ‘Die vader’, wat sy moeder in haar eerste bundel kortverhale opneem. | |
[pagina 28]
| |
Piet Kadie se seun, Jacobus Johannes Uys (1819-1896), het op dieselfde plaas gewoon en was getroud met Susara Johanna Beukes (1823-1883). Hy was as Koos Kadie bekend, maar word later die eienaar van die plaas Rooiheuwel naby Heidelberg, 'n deel wat van die oorspronklike Kadie afgesny is. Koos Kadie het omstreeks 1850 'n voorgevoel gehad dat hy nie meer lank sou lewe nie en 'n lang gebed geskryf en laat druk om onder sy agt kinders uit te deel. Waarskynlik het die gebed ook vir homself voordele ingehou, want hy het nog ses en veertig vrugbare jare voortgeleef.Ga naar eind10. 'n Splintertjie skryftalent is dus ook by hierdie voorvader aanwesig, al sou Uys later selde aan gebede in sy skeppende werk meedoen. Koos Kadie se seun, Mattheus Gerhardus Uys (1848-1912), wat sy name van sy grootvader kry, is op Rooiheuwel gebore, maar het later die plaas Bontebokskloof besit. Hy was getroud met Francina Gertruida Johanna Lourens (1853-1925). Haar vader, Petrus Arnoldus Lourens (1828-1913), was woonagtig op die plaas Dipka naby Swellendam en is die sentrale figuur in ‘Die doodkis’, een van Uys Krige se geslaagdste vroeë kortverhale wat hy in sy bundel Die palmboom opneem. Van sy oupagrootjie Lourens en sy Uys-grootvader kon Krige alleen vae, indien enige, herinneringe gehad het, want hulle is oorlede toe die digter nog baie klein was. Die oupagrootjie, 'n gebore platjie, se legende het egter voortgeleef in die familie en die skrywer moet as kind baie van sy doen en late verneem het om 'n verhaal soos ‘Die doodkis’ te skryf. Waarskynlik het Uys Krige sy latere beheptheid met die familieband en sy gehegtheid aan sowel die Uyse as die Kriges van dié grootjie geërf. Wanneer sy agterkleinseun - die digter - die dag gebore word, stap die grootoupa, volgens die verhaal, met 'n sweep die bulte uit waar niemand hom sou hoor nie en slinger die tou in die lug rond. Wanneer hy tuiskom, moet sy vrou die familieboom uit sy raam haal en 'n nuwe takkie groen byskilder.Ga naar eind11. Hierdie oupa het 'n besondere humorsin gehad en hy kon bevrydend lag. ‘Die lag is iets heerliks, iets heiligs,’ sê hy in sy agterkleinseun se verhaal, 'n gawe van God...In hierdie ou lewetjie wat so bitter en suur kan wees soms, is die lag dikwels ons enigste verdediging teen die lewe. En ook ons enigste verdediging teen die dood, wat maak dat ons hom vas in sy twee oë kyk, hom uittart, selfs met hom die gek skeer...Ga naar eind12. | |
[pagina 29]
| |
Volgens 'n aantekening wat Uys Krige in 1960 in een van sy notaboeke maak, het die dominee oupa Lourens op 'n dag oor sy drankgebruik betig en hom gevra om sy bottel brandewyn in die water van die Breërivier te gooi. Sy antwoord was: ‘Ek het al gehoor van water wat in wyn verander, maar nog nooit van wyn wat in water verander nie!’Ga naar eind13. As kind het Uys Krige plesier daarin gehad om vakansies saam met sy ouers, drie broers en oudste suster op sy geboorteplaas by ouma Uys deur te bring. Wanneer sy susterskind Justin Fox later oor Uys se skilderbroer François skryf, gee hy 'n mooi beeld van hierdie vakansies: The children played in the river bed, made clay oxen with the labourers' children and went walking in the kloofs looking for animals. They would watch the shearing and dipping of sheep, the slaughtering, and the hanging of skins to dry in a corner of the wagon-house. They would help with sowing and harvesting and take sickly lambs back to the farmhouse to be raised.Ga naar eind14. Ook by die ooms en tantes op die ander Uys-plase in die Overberg het Uys ervarings beleef wat hy in later jare steeds met vreugde kon onthou. Die plaas Kadie is later onderverdeel in Kadie-Bo, Kadie-Onder, Waterkloof, Kadiesvlei, Kadieswagendrif, Koppie, Waterkloof en Rooiheuwel, almal erfplase wat, soos ook Wydgelegen, Melkbosch, Slangrivier, Karringmelksrivier en Bontebokskloof, geslag na geslag in die Uys-familie gebly het.Ga naar eind15. Veral Karringmelksrivier het die Krigekinders dikwels besoek en in later jare kon Uys hom verlustig in al die storietjies van sy Overberg-familie. So kon hy hoor van John Uys, wat met sy baie plase hardwerkend was en as 'n onbesproke man in die familieherinnering voortleef. Hy was die eienaar van Rooiheuwel, Jakkalsfontein en Sandfontein en die goedhartigheid self. In 'n tyd toe daar nog 'n duidelike standverskil tussen die plaaseienaar en sy werknemers was, het hy gesê: ‘As 'n mens in jou voorkamer sit en die “skawagter” kom in, moet jy hom ook laat sit en koffie laat kry.’ Louwtjie ‘Sandfontein’ Uys het as kind graag met die Bybel in die hand vir ander kinders gepreek. ‘Gaan hy vir predikant leer?’ vra een van die Uys-vrouens op 'n dag. ‘Nee,’ was die antwoord van 'n Uys-man, ‘die Uyse leer nie vir predikant nie, hulle preek sommer sonder om te leer.’ Aan Uys Krige het Henry Hall op 'n keer | |
[pagina 30]
| |
vertel dat nog 'n familielid, Coen Muller, so kwaai gedrink het dat sy vrou hom op die swartlys laat plaas het. Dit het egter weinig gehelp, want sy vriende het steeds vir hom drank bly koop. Coen moes gevolglik voor die magistraat verskyn. ‘Maar, Coen, vertel my,’ was die magistraat se woorde, ‘waar kry jy jou drank vandaan?’ Coen antwoord: ‘Edelagbare, in die ou dae het ek altyd bottels onder die sand begrawe net waar ek omdop. Nou waai die wind hulle oop.’ Ook die sêgoed van hierdie mense het Uys Krige meegevoer en hy het talle daarvan in 'n boek opgeteken.Ga naar eind16. Van dié sêgoed steun sterk op die agrariese wêreld wat die boere daagliks op die plase ervaar het. ‘Die aalwyne kom oor die berge soos Kakies in gelid’ was een van die vergelykings wat hom getref het, soos ook die volgende rymende uitspraak: ‘Die wind gaan waai dat die hel op ons draai.’ Oom Lem Uys het by geleentheid gesê: ‘Ek wil nie ver teruggaan in die verlede nie, dan land ek dalk in die kombuis!’ Nog uitsprake waarin hy plesier gehad het, was: ‘Snags kaatjie van die baan, bedags dooie bobbejaan; skop hom op sy blaker dat sy kersie so wip; ek het my amper uit my broek se boom uitgeskrik; hulle werk met 'n vyfpondnoot soos bobbejaan se kind met 'n granaatskil.’ Mense wat hulle hooghartig en afstandelik hou, was ‘fyn en effentjies se mense’, terwyl blomme van plastiek ‘afstofblomme’ genoem is. Die Uyse het dus betreklik gou ná die koms van die stamvader die Kaap verlaat en hulle in die Overberg gevestig, terwyl sommige van hulle later aan die Groot Trek deelgeneem en in die Vrystaat en Transvaal beland het. Daar het hulle gehelp om die binneland mak te maak. Oor hierdie trekgees van die Uyse skryf Uys Krige in die verhaal ‘'n Seun word gebore’ in sy bundel Die palmboom: En oor die eindelose vlaktes het daardie wiele aangehou met rol. Oor die rantjies en die rûens, voort, altyd maar voort. Teen steiltes van ontsaglike berge op. Dikwels, 'n paar tree van 'n gapende afgrond, het die wiele in die los, kruimelende rotsgrond geknars of op die vaal klipplaat gegly, maar nie padgegee nie terwyl in 'n mens se ore die remskoene kraak en skeur. Op en op - met die swart kranse, so hoog dat jy nie hul kruine kan sien nie, aan die hotkant, en die blou dieptes, so diep dat jy daarvan duisel, aan die haarkant - tot bo-op die Drakensberge vanwaar hulle vir die eerste maal, ver onder, die beloofde land soos 'n wonderlike blou prentjie kon sien.Ga naar eind17. | |
[pagina 31]
| |
Naas die trekgees en die sug na avontuur is 'n sterk vaderlandsliefde en ondernemingsgees, onder meer op die gebied van die landbou en veeteelt, van hul kenmerkendste eienskappe.Ga naar eind18. ‘They were a proud, vulnerable, and fiery people,’ skryf Christina van Heyningen,Ga naar eind19. ‘often restless and melancholy, with a distinct streak of adventurousness.’ Onder die Uys-voorgeslagte was daar die Swarts uit Hoorn in Nederland en die Grobbelaars, die Beukese en die Lourense, almal uit Duitsland. Teenoor hierdie oorwig Duitse voorgeslagte was die enigste Franse bloed wat Uys Krige van die Uyse kon gekry het en wat later by hom so sterk sou stroom, deur die vrou van die stamvader se seun. Dirk Cornelis is getroud met Dina Maria le Roux (1703-1740), dogter van die Hugenoot Jean le Roux uit Lille, Normandië, Frankryk - die vroegste Franse bloed wat in die Uys-familie opgeneem is. Deur die Kriges se huwelike met mense van Franse herkoms sou hierdie stroom egter aanmerklik sterker word. Deur die Uyse het hy bloedlyne na die heldefigure uit die Groot Trek gehad en was hy die ‘nasaat van epiese voorouers’ en ‘lid van 'n volk met 'n epiese geskiedenis’, soos hy dit later in die biografiese skets in sy Afrikaanse versamelingGa naar eind20. sou stel. | |
IITeenoor die Uyse wat oorwegend migrerende skaapboere was en hulle lewens blootgestel het aan die gevaar en ontbering van die binneland, was die Kriges meestal welgestelde landhere wat met die lewe aan die Kaap tevrede was. Wanneer hulle wél besluit het om te trek, was dit meestal binne 'n fatsoenlike afstand van die Kaap af. Hulle was gekultiveerde mense wat in hulle Kaaps-Hollandse gewelhuise onder die Stellenbosse berge gewoon het, omring deur hul wingerde en eikebome. Tot die einde van die negentiende eeu en nog ver die twintigste eeu in het hulle plase feitlik die hele oostelike kant van die dorp omsoom. Teenoor die Uyse, wat deur 'n sekere hardkoppigheid en onafhanklikheidsdrang gekenmerk is, het die Kriges met hul wellewendheid meer opgegaan in die gemeenskap en 'n groot rol in die burgerlike en professionele lewe van die Boland gespeel.Ga naar eind21. Volgens Johan Krige, wat die Europese herkoms van die familie sorgvuldig nagegaan het,Ga naar eind22. vestig die Kriges hulle in die Duitse stadjie Lingen, sowat eenhonderd en vyftig kilometer van die see en aan die Emsrivier geleë. Van ouds was Lingen en die omliggende dorpies | |
[pagina 32]
| |
as gevolg van godsdienstige verskille en spanninge tussen die Rooms-Katolieke en die Protestante 'n erg omstrede gebied. In 'n stadium het dit onder Spaanse bewind gestaan, later was dit Sweeds en nog later beheer deur die Nederlandse Huis van Oranje. Met die Vrede van Munster in 1648 word Lingen as grondgebied van die Huis van Oranje erken en word die Protestantse geloof herbevestig. In 1713 kom die stad egter onder Pruisiese bestuur en begin die langsame proses van verduitsing, al word twee Nederlandse dialekte vandag nog steeds gepraat. Sowat vyftig kilometer in 'n suidwestelike rigting lê die dorpies Lenegrich, Lienen, Ladbergen en Brochterbeck, elkeen ongeveer tien kilometer van mekaar. Al hierdie dorpies het die bloedige geskiedenis van die graafskap Lingen meegemaak en hier speel die voorgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse Krige-familie af. Hoewel die spelling in hierdie dorpies wissel van Krige en Kriege na Krijge, is dit dieselfde familienaam. In Duitsland, en ook in ander lande waarheen die Krieges geëmigreer het, is die vorm Kriege behou. Alleen in Suid-Afrika het dit Krige geword. Die naam beteken volgens Pama strydbaarheid of styfhoofdigheid,Ga naar eind23. maar van daar lê die semantiese verband met kryger voor die hand. Dit is 'n merkwaardige toeval dat die naam Krige ook met een van die betekenisse van die Uys-naam ooreenstem. Die stamvader van die Suid-Afrikaanse Kriges was Wilhelm Adolph Kriege of Krigo (1698-1738), seun van Johann Henrich Kriege (1659-1742) en Anna Machtild Noordbeck (1668-1752). Hierdie Krieges of Krigos het gewoon in Brochterbeck - een van die klein dorpies aan die Emsrivier in die hartjie van die provinsie Wesfale, sowat halfpad tussen Keulen en Hamburg. Dit lê naby die stad Lingen, wat vanweë die langdurige godsdiensoorloë kort-kort van eienaar verander het. Toe Wilhelm Adolph in 1698 gebore is, was hy Hollandse onderdaan; toe hy sowat twee en twintig jaar later na die Kaap vertrek het, was hy Duitse burger. As gevolg van die verarmde landelike omgewing en as tweede-oudste seun met geen vooruitsigte om grond te erf nie, het hy besluit om sy heil elders te gaan soek. In hierdie tyd was emigrasie na Noord- en Suid-Amerika, Rusland en Nederland 'n algemene verskynsel, veral as gevolg van die diensplig wat deur die Pruisiese owerheid van 1713 af op die bevolking afgedwing is. Wilhelm Adolph gaan werk tydelik in Nederland en sluit aan as soldaat by die VOC. As hy in 1721 op die skip Het Vaderland Getrouw by die | |
[pagina 33]
| |
Kaap aan wal stap, bring hy sekere kultuurgoedere saam met hom, soos sy agtiende-eeuse spreektaal, wat nou verwant was aan Hollands. Omdat hy nie van die werk as soldaat gehou het nie, word Wilhelm Adolph stalkneg in diens van die VOC. Later sluit hy 'n werkskontrak met Jacob de Villiers, een van die twee stamvaders van die uitgebreide De Villiers-familie in Suid-Afrika, en word hy boukneg op die pronkplaas Bosch-en-Dal naby Franschhoek. In 1729 trou hy met Johanna, die dogter van Jacob de Villiers en Marguerite Gardiol - albei Franse vlugtelinge - waardeur die Duitse Krige-bloed van Suid-Afrika met nog Hugenotebloed versterk word. Hoewel Bosch-en-Dal nooit Krige-besit was nie, is die plaas van veel betekenis vir die Kriges. Hier het die stamvader, wat intussen in 1731 burger geword het, sy bestaan gemaak en is sy kinders gebore. Ná sy vroeë dood op een en veertigjarige leeftyd in 1738Ga naar eind24. het sy gesin na alle waarskynlikheid daar aangebly. Van daar sou die twee seuns uitgaan om hulle eie plase aan te skaf. Hierdie twee seuns was Johannes Stephanus (Jan; 1737-1786), wat die plaas Uiterwyk aankoop, en Willem Adolph (1735-1808), wat op Groote Zalse gaan boer. Albei hierdie plase was nader aan Stellenbosch en met die aankoop van Groote Zalse, oorspronklik die plaas van die eerste geslag Uyse in die land, kom daar 'n vroeë aanraking tussen die twee families wat met die skrywer Uys Krige 'n bloedverbintenis sou word. Jan trou in 1761 met Elizabeth, 'n dogter van Jacobus de Villiers en Louisa Joubert. Hierdie Jacobus was 'n broer van Jan se moeder Johanna, sodat Jan en Elizabeth neef en niggie was. Op sy beurt is ook Willem Adolph in 1762 met sy niggie Louisa Jacoba de Villiers getroud, terwyl sy tweede vrou Suzanna Wilhelmina Marais was. Steeds word die Duitse bloed van die Kriges dus met Franse bloed aangevul. Oor 'n verdere Willem Adolph (1772-sterfdatum onbekend) bestaan daar weinig inligting, behalwe dat ook hý in 1798 met 'n nooi De Villiers getroud is. Sy was Elizabeth Petronella de Villiers, 'n dogter van Jacob de Villiers en Maria Marais. Willem Adolph en Elizabeth was die ouers van Jacob Daniel (1819-1894), wat in 1840 met Maria Wilhelmina Joubert (1822-1866) getroud is, nog 'n toevoeging van Franse bloed in die Krige-familie. Hierdie Maria was 'n dogter van Margaretha Louisa Retief, 'n suster van Piet Retief. Op dié wyse is daar 'n regstreekse bloedband tussen Uys Krige en die beroemde Voortrekkerleier, want Margaretha Louisa Retief was die skrywer se oumagrootjie aan vaderskant. Piet | |
[pagina 34]
| |
Retief (1780-1838) was die groot politieke leier van die Groot Trek wat in 1837 tot goewerneur verkies is, maar in 1838 saam met sy geselskap van ongeveer sewentig vrywilligers en dertig agterryers deur die Zoeloekoning Dingane vermoor is. Deur sy opvoeding, intelligensie en penvaardigheid was hy onder sy mense by uitstek die persoon wat aanvanklik in sy skriftelike onderhandelinge met Andries Stockenström alles moontlik gedoen het om tot 'n vergelyk met die Britse koloniale owerheid te kom. Toe dit blyk dat hy hierin nie suksesvol sou wees nie, het hy in sy beroemde Manifes, gepubliseer in die Graham's Town Journal, die Voortrekkers se probleme en die redes vir hulle trek die helderste verwoord. In sy biografie oor hierdie Voortrekker skryf Gustav Preller dat al sy tydgenote van hom getuig as 'n uiters moedige man wat die gawe besit het om vertroue in te boesem en gesag uit te oefen.Ga naar eind25. In die nasionalistiese fase wat Uys Krige kortstondig later in Spanje sal belewe en wat tot 'n reeks gedigte sal lei wat hy onder die pseudoniem Arnoldus Retief in sy bloemlesing Afrikaanse versameling opneem, huldig hy, sonder om hulle op die naam te noem, Piet Retief en sy Uys-Trekkervoorsate in 'n enigsins bombastiese taal en in lang paarrymende verse wat aan die vroeë epe van D.F. Malherbe en C.J. Langenhoven herinner. Waarskynlik gedagtig aan Retief praat hy van die mens wat deur ‘die waan en skyn van dinge sien’ en ‘één drang, één drif, één wens slegs het; hul volk te dien!’Ga naar eind26. Die vryheid was vir hierdie mense by uitstek die rigsnoer, sê Uys Krige: Die Leidster vlammend deur die nagte, bo die grense dóer:
die Vryheid van die trekkers, van ons vaders stoer
wat voor geen band of boei, alleen voor God wou buig,
waarvan hul pad, gans hul geskiedenis getuig;
hul Hartstog om die horison, sy stiltes wyd,
sy ruimtes helder-wit, al sy oneindigheid
van lug en velde vér, wat immer voor hul strek
tot waar hul Son moes wegsink, en die Nag hul dek...Ga naar eind27.
Jacob Daniel Krige en Maria Wilhelmina Joubert, susterskind van Piet Retief, het sestien kinders met 'n uiteenlopende verskeidenheid vermoëns gehad. Op vyftigjarige leeftyd besluit Jacob Daniel, toe reeds bekend as Vader Jacob, om hom aan sy boerdery in die Bottelarykloof te onttrek en hom saam met sy vrou in Dorpstraat op Stellenbosch op die hoek van die teenswoordige Krigestraat te vestig. Een | |
[pagina 35]
| |
van sy seuns was die vader van Isie Krige, wat later met die regsgeleerde en staatsman Jan Christiaan Smuts in die huwelik sou tree en dus 'n groottante van Uys Krige was. Soos haar latere man het Isie bekend gestaan as 'n uitsonderlik begaafde mens en een van die eerste vroue wat aan die destydse Victoria Kollege as student gaan inskryf het. Hoewel sy die goeie eienskappe in haar mense se karaktersamestelling raakgesien het, was Isie tog 'n bietjie skepties oor die te beleefde wellewendheid wat hulle verhinder het om daadwerklik op te tree. ‘Jy moet 'n bietjie vuur maak onder 'n Krige se gat as jy wil hê hy moet iets doen’, was 'n uitspraak van haar wat Uys Krige met genoegdoening in 'n brief aan Alan Paton aanhaal.Ga naar eind28. 'n Ander seun van Jacob Daniel en Maria was Jacobus George Joubert Krige (1846-1920), wat hom as predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk bekwaam en in 1874 met Maria Magdalena Louw (1856-1951) in die huwelik tree. Aanvanklik was hy behulpsaam in die sendinggemeente van die Paarl en later leraar op Franschhoek. Van 1881 af is hy dertig jaar lank predikant op Caledon. Ná aanvaarding van sy emeritaat in 1912 vestig die egpaar hulle in Villa Caledon in Neethlingstraat 7 op Stellenbosch. As klein seuntjie het Uys Krige nog helder herinneringe aan hierdie Oupa Dominee - soos hy onder die kleinkinders bekend was - gehad, veral ook deur die heerlike vakansiehuis Melkbos op Onrust, waar die Krige-seuns later, ook ná die grootvader se dood, graag in die somervakansies saam met Ouma Dominee by die see deurgebring het. Hierdie boerestrandhuis, oorspronklik in die laat negentiende eeu deur 'n boer van Caledon gebou, was omring deur melkhoutbome. Die oorspronklike voordeur, wat later vervang is, het gekom van die Birkenhead, die Britse troepeskip wat in 1855 naby Gansbaai met 'n groot verlies van lewens op die rotse geloop het. Die toilet was, in die ou Overbergse tradisie, in 'n aparte kamer langs die huis, die kombuis het 'n oop haard gehad - eers later is 'n houtstoof ingebou - en buite was die stal en die waenhuis, met 'n krip vir die perde. Ouma Dominee met haar brilletjie was altyd in swart geklee en het 'n paar spesifieke huisreëls streng gehandhaaf. Niemand is toegelaat om in haar teenwoordigheid te rook nie, vroue mag nie in broeke voor haar verskyn het nie en die vroulike kleinkinders moes beurte maak om Ai Rosie, die huishulp, in die kombuis by te staan. Oupa Dominee kon by tye ná die hoofmaal langdurig bid, net om soms deur Ouma se tydige ‘Amen, Pappa’ kortgeknip te word! Maar naas hier- | |
[pagina 36]
| |
die voorskrifte en formaliteite het die Krige-kinders saam met hulle talle maats 'n heerlike tyd op die strand deurgebring, skulpe opgetel, na die klipvissies en krappe tussen die groen seewier gekyk of op die lagune geroei. Saans is hulle na die ‘ramhok’ wat Oupa vir hulle buite langsaan die garage gebou het. Daar het hulle gelag en stories vertel en later van skone uitputting aan die slaap geval.Ga naar eind29. Dominee Koos Krige en sy vrou het dertien woelige kinders in die mooi klassieke pastorie op Caledon grootgemaak. Hy was die sagsinnigheid self en 'n ware Israeliet sonder bedrog wat nooit kwaad van ander mense gepraat het nie. Daarby was hy beskermend teenoor sy kinders. ‘Vrou,’ het hy op 'n dag gesê, ‘jy moet ontslae raak van die bediende. Sy praat nie mooi met die kinders nie.’ Hy het egter die behoefte gehad om hom van tyd tot tyd van die wêreld los te maak, 'n familietrek wat sommige van sy nasate oorgeërf het. Om van sy babbelende kleingoed weg te kom, het hy vir hom 'n hut in een van die groot eikebome in sy pastorietuin gebou en, soos Uys Krige dit later sou stel, daar - ‘in 'n groen stilte en 'n ewe groen afsondering - sy preke, hoog en droog, nader aan die hemel as aan die aarde rustig sit en skrywe’.Ga naar eind30. Van dominee Koos Krige se sewe seuns het twee mediese dokters geword, een 'n bankbestuurder, een 'n hoërskoolonderwyser en een 'n magistraat - almal dus mense wat hul gemeenskappe gedien het en vooraanstaande lede van die samelewing was. Die magistraat onder hulle was Jacob Daniel (Japie), wat op 5 Julie 1879 op Franschhoek gebore is en in 1908 met Susanna Hermina Uys, gebore op 8 Februarie 1886 en in die wandel bekend as Sannie, getroud is. Hulle was die vader en moeder van Uys Krige. Hy was dus die sewende geslag van die Kriges in Suid-Afrika. Buite hierdie naaste familie om het Uys Krige as jong seun en ook in sy later lewe kennis gemaak met ander lede van sy roemryke familie of van hulle doen en late kennis geneem, soos blyk uit die talle knipsels oor die Kriges in sy nalatenskap. So byvoorbeeld het hy baie belanggestel in die loopbaan van Alice Krige, die Suid-Afrikaans gebore Hollywood-ster wat met haar rolle in films soos Chariots of fire en King David naam gemaak het. ‘My mother is a clinical psychologist, while my father and both my brothers are doctors’, sê Alice Krige in 'n onderhoud. ‘You couldn't come from a straighter family. But one branch of my family is bohemian: they're artists and writers and actors. I don't know why that one aberrant gene ended up with | |
[pagina 37]
| |
me.’Ga naar eind31. Dit is 'n uitspraak wat Uys Krige se geesdrif vir hierdie veraf familielid van hom sou verhoog het, terwyl sy diepgewortelde verankerdheid aan die land van sy geboorte getref sou gewees het deur haar onomwonde verklaring ná jare in Hollywood: ‘I'm African and South African down to the soles of my feet.’ Twee van sy grootooms het Uys Krige reeds as kind leer ken. Sy grootoom Joel Krige was Caledon se verteenwoordiger in die ou Kaapse parlement en medestigter van die dorpie Onrust, waar hy 'n strandhuis vir hom aan die kus laat bou het. Later was hy speaker van die Parlement en alleenstigter van Vermont, die stranddorpie wat aan Onrust grens.Ga naar eind32. Nog 'n grootoom, Japie Krige, was in die twintigerjare een van Uys Krige se onderwysers. Oom Japie Home, soos hy alom as inwonende hoof van die koshuis bekend gestaan het, was iemand wat soos Isie Krige (Smuts) baie kennis van die Krige-familie gehad het. As lid van die stadsraad, die skoolraad, die bestuur van Kirstenbosch, die Afrikaanse Taalvereniging, die Unie-Debatsvereniging, die Christenstudentevereniging (CSV) en as sekretaris van die Hospitaalraad het hy 'n groot bydrae tot die openbare lewe van Stellenbosch gelewer. Ná sy lang termyn as inwonende hoof van The Home het hy hom gevestig in Lingen, 'n woonhuis op die hoek van Victoria- en Neethlingstraat (waar die nuwe Konserwatorium van die Universiteit van Stellenbosch later gebou is). Naas sy elf eie kinders het hy in Lingen ook loseerders en behoeftige kinders laat inwoon. Met die besoek van die Prins van Wallis aan Suid-Afrika in 1925 moes oom Japie die prins op sy toer deur Stellenbosch begelei. Ten spyte van die hoë besoek was oom Japie sy gemoedelike self. Hy het die Koninklike Hoogheid vertroulik aan die arm gevat, hom in die verlangde rigting gestuur en telkens vaderlik as my boy aangespreek. Deur sy gerusstellende styl het die prins nie aanstoot geneem nie.Ga naar eind33. Uys Krige was trots daarop om lid van so 'n bekende familie soos die Kriges te wees, 'n familie wat Olive Schreiner in 1894 beskryf het as ‘in the foremost rank of the nineteenth-century civilization and culture’.Ga naar eind34. By geleentheid het Uys Krige die kenmerke van die Kriges as volg opgesom: Daar's hul elegansie of grasie van gees; hul besondere sagaardigheid of sagmoedigheid; 'n sekere wêreldvreemdheid gepaard met 'n eenvoudige hoflikheid en welwillendheid teenoor alle mense | |
[pagina 38]
| |
heeltemal afgesien van hul stand, ras, kleur of geloof; 'n sterk regverdigheidsgevoel(.)Ga naar eind35. Op 'n dag was hy, sy vrou en dogtertjie op besoek aan Irene, die woning van generaal en mevrou Smuts net buite Pretoria. Hulle gesels eenkant op die stoep met tant Isie. ‘Generaal Smuts’, vertel Uys, ‘sit so 'n entjie van ons af saam met 'n ander groepie besoekers om 'n tafel. Skielik staan hy op en sê glimlaggend: “Maar wag, nou moet ek by die Royal Family aansluit ...” En hy stap oor na ons. Ek weet die Generaal het op sy innemende manier met sy vrou en ons die gek geskeer, ek laat die woord “royal” dus links lê, maar ek sou sekerlik saamstem dat daar iets rojaals is omtrent die meeste Kriges wat ek in my tyd geken het.’Ga naar eind36.
Die mooiste kompliment wat hy van die Kriges gehoor het, gaan hy voort, kom van iemand wat 'n paar jaar tevore in die distrik Stellenbosch begin boer en 'n hele paar Krige-bure gehad het. Toe Uys vra hoe hy met hulle oor die weg kom, was sy antwoord: ‘Nee, baie goed...hulle was van die begin af baie gaaf vir my. Soos my vrou altyd sê: die Kriges is liefdesmense.’Ga naar eind37. | |
IIIJapie Krige, vader van die digter, is kort ná sy geboorte op 5 Julie 1879 op Franschhoek na Caledon, waarheen sy vader 'n beroep as Nederduitse Gereformeerde leraar aanvaar het. Sy skoolloopbaan begin hy op Caledon, maar dan gaan hy na Stellenbosch, waar hy die Victoria Kollege bywoon en die graad B.A. verwerf. In 1899 aanvaar hy 'n betrekking as klerk in die magistraatskantoor op Caledon, maar keer in 1903 terug na Stellenbosch. Ná sy huwelik in 1908 en die geboorte van hul eerste seun in 1909 is Japie agtereenvolgens magistraatsklerk in Clanwilliam, Bredasdorp, Uniondale, Kaapstad en Bellville voordat hy in 1920 weer na Stellenbosch terugkeer. In 1927 word hy bevorder tot magistraat op Cathcart, 'n betrekking wat hy daarna ook op Ladybrand en Bethlehem beklee. Ná sy uittrede het hy en sy vrou, Sannie, tydelik in woonstelle in die Kaap rondgeswerf voordat hulle 'n Victoriaanse huis in Draperstraat, Claremont, gekoop het. Later het hulle in 'n skakelhuis naby hul dogter Suzanne gaan woon, | |
[pagina 39]
| |
maar vakansietye was hulle altyd op Onrust. Daar het Japie bedags Die Burger baie sorgvuldig gelees en vreemde woorde op sy sigaretdosie opgeteken om later na te slaan. Dit is 'n aanduiding daarvan dat hy, soos sy skrywende seun, 'n groot belangstelling in taal en die korrekte gebruik van woorde gehad het, al was hy dan nie in dié rigting skeppend aangelê nie. Teen die einde van sy lewe het hy en sy vrou in Annandalestraat in Kaapstad-Tuine gewoon. Daar is hy op 14 Januarie 1961 op een en tagtigjarige leeftyd oorlede. In later jare kon Uys Krige sy vader as 'n beskaafde en liewe mens met 'n sagte geaardheid en 'n groot verdraagsaamheid onthou, iets wat die seun, soos ook die klein gestalte, van sy vader oorgeërf het. Waarskynlik was dit sy vader se regsloopbaan wat Uys daartoe beweeg het om ná voltooiing van sy skoolloopbaan in die regte te studeer. Dit is egter nie as magistraat dat Japie Krige deur die hele Suid-Afrika bekendheid verwerf het nie, maar, volgens die oordeel van baie sportdeskundiges, as die grootste Suid-Afrikaanse rugbysenter van alle tye.Ga naar eind38. Reeds as jong seun het Japie dikwels saam met sy maats op Caledon se gruisveld rugby gespeel en sommer maklik in so 'n ‘wedstryd’ vyftig drieë aangeteken. ‘Toe hy dertien was’, skryf Niel Hammann, ‘het hy vir Caledon se eerste span gespeel. Die eerste dag toe die klein witkopseuntjie op die veld draf, het hy glo in trane uitgebars. “Ek kan mos nie teen sulke groot manne speel nie,” het hy gesê. Maar daardie dag het die jong seun die groot manne gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.’Ga naar eind39. In 1895 is hy na Stellenbosch, waar hy drie agtereenvolgende jare as victor ludorum vir atletiek aangewys is en die kampioenskap oor die 100 en die 220 tree gewen het. Maar dit was op die gebied van rugby dat hy werklik presteer het. In die jare 1896-1899 speel die klein en skraal speler in Stellenbosch se eerste span en beïndruk almal deur sy ratsheid en vaart. Hy het in dié jare 'n belangrike aandeel daaraan om Stellenbosch twee jaar agtereenvolgens die kampioenskap te laat buit. Hy word ook verkies om vir die Westelike Provinsie te speel en dra daartoe by om sy span die Curriebeker te laat verower. Wanneer hy in 1903 na Stellenbosch terugkeer, speel hy vir Suid-Afrika teen die besoekende Britse toerspan. In die jare 1904-1906 speel hy gereeld vir Stellenbosch en die Westelike Provinsie en in 1906 is hy lid van Paul Roos se Springbokspan wat deur Brittanje en Frankryk toer. Hierdie span het oor die beroemdste driekwartlyn in die geskiedenis van Suid- | |
[pagina 40]
| |
Afrikaanse rugby beskik: Bob Loubser, Japie Krige, Boy de Villiers en Anton Stegmann. Krige speel as senter teen Skotland, Ierland en Wallis, maar as gevolg van 'n blindedermoperasie het hy die toetse teen Engeland en Frankryk misgeloop. Geen wonder nie dat tydens Japie en Sannie Krige se troue op 11 Februarie 1908 op SwellendamGa naar eind40. die bruidskoets in plaas van deur 'n span perde deur 'n span rugbyspelers van die Westelike Provinsie getrek is! Dit was juis tydens hierdie 1906-toer dat Japie Krige in die loop van 'n wedstryd 'n besondere uitdaging ontvang het van Pietie le Roux, wat op die pawiljoen gesit het. 'n Engelsman langs Pietie het gesê hy het al so baie van Krige se vermoëns gehoor, maar dat sy spel hom nie juis beïndruk nie. 'n Argument het gevolg. ‘All right, my boy,’ het die Engelsman gesê, ‘if you're so confident about Krige, I'll have a bet with you that he won't score three tries.’ Pietie het die weddenskap vir £5 aanvaar, maar besef dat hy nie in staat sou wees om soveel geld - soos £5 in 1906 inderdaad was! - by die hele span in te samel nie. Daarom het hy Japie tydens rustyd vertel van die moeilikheid waarin sy groot mond hom laat beland het. Japie se reaksie was: ‘Toemaar, Pietie, moenie bekommerd wees nie. Kry maar solank die £5 by die groot meneer.’ Ná sy derde drie het Japie tot voor die pawiljoen geloop en geskreeu: ‘Pietie, het jy gesê drie of vyf drieë?’Ga naar eind41. Dit is veral die senter-vleuel-kombinasie van Japie Krige en Bob Loubser wat ondersteuners én teenstanders beïndruk het. Van Bob Loubser het Japie Krige gesê: ‘Hy is die beste vleuel wat Suid-Afrika ooit gehad het - die naaste aan honderd persent wat 'n vleuel kan kom. Hy was deur en deur goed. Hy het 'n wonderlike swenk met 'n vinnige vaartversnelling gehad, hy kon deeglik afstoot, hy was sterk en vinnig, kon goed skop en kon 'n bal in elke moontlike posisie raakvat.’Ga naar eind42. Van sy kant het Bob Loubser by geleentheid gesê: ‘Japie Krige het my gemaak wat ek was. Hy het feitlik nooit die bal aangegee as hy bemerk het dat daar vir my geen deurkomkans was nie. Dit was sy manier om sowel sy senter as my vleuel te betrek voordat hy aangegee het. As ek dan oop veld voor my gehad het, het hy nog opgevolg om 'n terugaangee te ontvang as dit nodig was. Ons het die bal soms vier maal na mekaar gegee voordat een van ons oor die lyn gegaan het.’Ga naar eind43. Veral Japie Krige se lenige bewegings en sy vaart het in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby legendaries geword, in so 'n mate dat Oubaas A.F. Markötter, breier van die Stellenbosse span en | |
[pagina 41]
| |
groot Suid-Afrikaanse rugbybaas, na Krige, die vriendelike ‘witkoppie’, as die ‘prins van alle senters’Ga naar eind44. verwys het. As mens was Japie Krige nederig en sonder enige pretensies. ‘But’, skryf Danie Craven, ‘when he was on the rugby field a metamorphosis took place. He became highly competitive, a ruthless opponent.’Ga naar eind45. Sy krag het, soos A.C. Parker dit stel, in sy skielike koersveranderings en snelheid gelê, sy ‘elusiveness’ en sy ‘split-second thinking’.Ga naar eind46. Baie gou het die toeskouers die spelers aangevuur met die woorde ‘Gee die bal aan Japie!’; wanneer hy dan die bal kry, het die pawiljoen gedreun met ‘Daar trek Japie!’ sodra hy by sy eerste teenstander verby was. Daarom ook dat hy die bynaam Hasie gekry het. ‘When he got the ball’, skryf W.A. Millar, ‘he was off like a flash; would invariably swerve to the right and then to the left, and the defence would wonder how it happened.’Ga naar eind47. Hy kon, skryf D.C. Dirksen, ‘wegspring, vassteek, van rigting verander, ewe gemaklik dan links en dan regs systap en so sy pad deur 'n hele span vleg. As hy sien hy word aan die een kant vasgekeer, pyl hy anderkant toe, of as hy gewaar sy vleuel of buitesenter gaan dit nie maak as hy die bal aangee nie, spring hy soos 'n pyl uit 'n boog in die teenoorgestelde rigting. So het Japie Krige menige drie op eie houtjie aangeteken en aan grypende arms ontkom - kompleet nes 'n hasie.’Ga naar eind48. En altyd was dit die ‘klein witkoppie’ wat soos 'n gerubynGa naar eind49. op die groepfoto's van die Springbokke tussen sy groot medespelers gesit het. In die dertigerjare sou die woord ‘gerubyn’ ook gebruik word in verband met die blonde Uys Krige toe hy rugby in Frankryk gespeel het! Soos sy dominee-vader was Japie Krige 'n sagsinnige mens wat nooit kwaad in ander mense wou sien nie en sy hele lewe lank vlekkeloos eerlik was, eienskappe wat sy digterseun, in ander opsigte weer 'n tipiese Uys en sy ma se kind, in oortreffende mate van hom geërf het. Jare later kon Japie se dogter Suzanne vertel dat haar vader tydens die Tweede Wêreldoorlog nie wou meedoen as die kinders soms 'n bietjie met die karige voorraad brandstofkoepons wou kul nie. In die huis was hy 'n bestendige faktor midde-in die groot gesin, maar dit het besoekers opgeval dat hy verkies het om stil te bly en nie veel aan die gesprek mee te doen nie. Soos sy domineevader het hy die neiging gehad om hom te onttrek,Ga naar eind50. iets wat sy jongste seun, die skilder François, by hom gekry het. Wanneer Japie se vrou, Sannie Uys, in haar verhaal ‘Hessie gaan trou’ in haar bundel Papawers en pikkewyne die verteller die volgende woorde oor haar rus- | |
[pagina 42]
| |
tige man, Frits, laat sê, herken die ingeligte leser die figuur van Japie Krige: Frits is 'n verstandige man. Hy praat nie oor 'n telefoon nie en hy bestuur nie 'n motorkar nie. Hy spaar homself baie moeite en ergernis. Doodbedaard gaan hy sy gang op 'n pas wat nooit verander nie. In die môre stap hy dorp toe om inkopies vir die huis te doen. Smiddags rus hy. Hy help 'n bietjie in die tuin. Frits stel baie belang in die politiek. Hy spandeer ure en ure aan die lees van die koerant. Sy afleiding kry hy by Jantjie, die kat. Frits het 'n snaakse gewoonte. As daar enige funksie is wat hy moet bywoon, word hy siek. 'n Dinee of 'n skemerparty is genoeg om 'n aanmaning van 'n ou maagkwaal aan te bring....My man het 'n doeltreffende beskerming. Hy ken die waarde van stilte.Ga naar eind51. In latere jare was Japie Krige tevrede om daagliks sy koerant te lees, 'n bietjie tennis te speel en soms op 'n Saterdag onopgemerk op Nuweland na 'n rugbywedstryd te staan en kyk. Met die beëindiging van sy rugbyloopbaan, so het hy waarskynlik gevoel, het sy rol as openbare figuur tot 'n einde gekom en het hy geen ambisie gekoester om langer in die kalklig te wees nie. Ná sy uittrede as magistraat het hy aan 'n sekere mate van inersie gely en sommige dae net gesit, sonder om iets daadwerkliks uit te voer. Binne 'n groot gesin, aangevuur deur 'n energieke eggenote, was hy waarskynlik 'n bietjie eensaam. In die vyftigerjare het hy 'n drankprobleem ontwikkel wat sy huwelik in 'n stadium in gevaar gestel het,Ga naar eind52. veral ook omdat, volgens wat Sannie in 'n brief aan haar seun Uys skryf, ‘geslagsverenigbaarheid’ in 'n huwelik van vyftig jaar nie ‘die skurwe weg versag [het] nie’.Ga naar eind53. Daarby het hy jare lank in die geheim gedrink, iets wat sy vrou ontstel het maar terselfdertyd 'n groot deernis vir hom by haar laat ontwikkel het. ‘Arme mens,’ skryf sy op 22 Junie 1952 aan Uys, ‘ek het 'n groot jammerte as ek aan hom dink & dit is heel dag & nag as ek wakker word.’ Die haas onpeilbare eensaamheid voel Uys baie later aan wanneer hy die kroegie op Onrust binnestap, sy vader met 'n glasie wyn voor hom en Die Burger in sy hand sien, dit oorweeg om 'n geselsie met hom aan te knoop en saam met hom te drink, maar dan besluit dat sy vader júis stil op sy eie hier wil sit: | |
[pagina 43]
| |
Die sonlig skuif oor hom, glans silwer op sy kop.
'n Honderd beelde van dié man staan in my op:
die Rugbyheld, die groot atleet
van wie se roem my maatjies en die hele wêreld weet;
die sagtheid altyd van dié stil mensliewende man en toe die jare
van my manlikheid my nader,
die groeiende besef in my van sy eensaamheid as mens en vader.Ga naar eind54.
| |
IVTeenoor die rus, wellewendheid en galanterie van die Kriges, en spesifiek van haar man, was Sannie Uys, gebore op 8 Februarie 1886 op die plaas Bontebokskloof naby Swellendam, uit 'n geslag van skaapboere met 'n neiging tot askese en neerslagtigheid. In sy studie Digters van Dertig sê D.J. Opperman: ‘sy erf van die familietrekke 'n teruggetrokkenheid, 'n kwesbaarheid en 'n liefde vir sake van die verbeelding: sy kon opgaan in haar omgewing maar ook daarvan afskeid neem, sodat sy los teenoor alles en almal staan.’Ga naar eind55. As kind het Sannie tussen die renosterbosse op 'n plaas met baie melkhoutbome grootgeword in 'n tyd toe haar mense nie besonder welgesteld was nie.Ga naar eind56. Ná haar velskoendae op die plaas is sy na die Victoria Grove High School for Girls op Riversdal, 'n skool waar Engels by die kinders ingedwing is. Wanneer sy in haar verhaal ‘Die Ierse lugkastele’ in Papawers en pikkewyne oor die Engelse skoolopleiding van vroeër jare skryf, kan 'n mens met redelike sekerheid aanneem dat dit op haar eie ervaring gegrond is: Ons moes Engelse maniere en 'n Engelse aksent aanleer en die Afrikaanse taal, die sogenaamde kombuistaal, en die gewoontes van 'n eenvoudige boerevolkie so gou moontlik vergeet. Nie alleen moes ons konfyt wees in die deugde van die roemryke Engelse volk wat die wêreld die voorbeeld in alles stel nie - eerlikheid, beleefdheid, skoonspel - maar ons moes die land se geskiedenis en aardrykskunde tot in die fynste besonderhede ken.Ga naar eind57. Ná 'n ‘finishing school’ op Riversdal is sy na Bloemhof op Stellenbosch om haar as onderwyseres te bekwaam en klavier onder professor F.W. Jannasch te bestudeer, 'n instrument wat sy nog tot laat | |
[pagina 44]
| |
in haar lewe kon bespeel. Selfs in Bloemhof moes sy, as sy haar op dié besondere dag aan Afrikaans vergryp het, saans uitskryf: ‘I spoke Dutch three times today’, of wat die geval ook al was. Die huwelik tussen Jacob Daniel Krige en Susanna Hermina Uys op 11 Februarie 1908 bring twee tipies Afrikaanse families bymekaar. Japie was die sportman, die Victoria Kollege se victor ludorum in atletiek en 'n man wat uitgeblink het in rugby, tennis en krieket, maar veral in rugby wêreldroem verwerf het. Daarnaas was hy 'n bekwame regsman wat as magistraat bekend was vir sy weloorwoë uitsprake en sy mensekennis. Teenoor hom was Sannie die kunssinnige en die dromer, lief vir die literatuur en die musiek, al kon sy haar huisgesin mooi beheer en haar kinders goed grootmaak. Ten spyte van haar teruggetrokkenheid het sy 'n groot rol gespeel in die gemeenskappe waarvan sy en haar man deel gevorm het. So byvoorbeeld was sy waarskynlik een van die eerste vroue wat in 'n skoolkomitee gedien het. Sy het ook 'n leidende aandeel gehad aan liggame soos die acvv, die ovv en die vlv. Terwyl hulle op Cathcart was, dien sy in die bestuur van die Helpmekaar-Vereniging. As gevolg van haar skoolopleiding het Sannie Engels goed onder die knie gekry en dit later oorwegend met haar kinders gepraat, terwyl Afrikaans die taal was wat die kinders van hul vader gehoor het. Ten spyte van haar duidelike aanleg as woordkunstenaar kry sy eers op twee en veertigjarige ouderdom, toe haar kinders al groot was, die geleentheid om self kortverhale te begin skryf. Die resultaat was Vroue (1948), Papawers en pikkewyne (1953) en The nightingale sings (1964). Naas die verhale wat sy en haar seun Uys in Engels vertaal het en in The nightingale sings opgeneem is, het 'n hele paar van dié verhale in Duits verskyn. Só beïndruk was D.J. Opperman deur haar verhaal ‘Die sterfbed’ toe sy dit aan hom in sy hoedanigheid as redaksiesekretaris van Standpunte voorlê, dat hy dit in die prominente posisie aan die begin van die betrokke uitgawe geplaas het, een van die eerste kere dat 'n stuk Afrikaanse prosa gepubliseer is in dié hoogstaande tydskrif wat tot in daardie stadium oorwegend poësie, kritiek en beskouende artikels opgeneem het. In 'n brief van 30 Oktober 1948 aan N.P. van Wyk Louw sê Opperman: ‘Ek vind daar meer komposisie, humor, ironie e.d.m. in as in baie van M.E.R. se stukke.’Ga naar eind58. ‘Die sterfbed’ is Sannie Uys se meesterstuk. Dit is die verhaal van 'n man wat op sy sterfbed sy hele lewe van heidense wellustigheid en talle ervarings met verskillende vrouens reminisserend oproep en op dié | |
[pagina 45]
| |
wyse sy hele verlede stuksgewys onthul. Haar verhale handel by voorkeur oor die boerekarakters wat sy as kind leer ken het of oor mense op die platteland, soms ook armoedige mense in die stad en die geluk wat hulle soms vind. Haar beste verhale is goed afgewerk met 'n netjiese sluiting, maar soms het hulle 'n oop einde wat die leser onbevredig laat. In haar skeppende werk is sy sterk aangemoedig deur haar skrywende seun wat sy lewe lank in haar talent bly glo het. Sannie se kunsaanleg het by vyf van haar ses kinders wat bly leef het, in een of ander vorm uiting gevind, hoewel ook van hul vader se talente deur hulle geërf is. Die oudste seun, Jacobus Gerhardus Joubert, wat op 12 Februarie 1909 op Stellenbosch gebore is en na sy Oupa Dominee heet, maar - gedagtig aan sy vader se Springbokstatus - die noemnaam Bokkie gekry het, was sowel 'n knap student as sportman. Hy studeer op Stellenbosch en verwerf 'n Rhodes-beurs wat hom die geleentheid bied om in Oxford te gaan studeer. Hy speel rugby vir Stellenbosch in 1929 en 1930 en later ook vir Transvaal. Ná 'n kort tydjie as lektor in Engels sluit hy aan by die Suid-Afrikaanse Lugmag. Later is hy senior inspekteur van vliegvelde in die departement van vervoer. Uit die Frans vertaal hy Antoine de Saint Exupéry se Vol de nuit as Nagvlug en Terre des hommes as Pioniers van die wolke in Afrikaans. Sy huwelik met Dorothy Elinor Rattray was kinderloos, maar tydens die Tweede Wêreldoorlog neem hulle 'n Britse seun, Gerard Jean-Marie, aan wat later in Parys woon en sowel as kernfisikus as politieke filosoof internasionale status verwerf. Chronologies ná Uys is die derde seun Petrus Arnoldus, gebore op 25 Februarie 1911. Ook hý speel rugby en tree ná sy skoolloopbaan toe tot die sakewêreld. Sy eerste huwelik was met Consuelo Burno, 'n Meksikaanse dame. Later trou hy met Vera Laney, maar albei die huwelike is kinderloos. Hy is die enigste van die Krige-kinders wat nie aan die kunste meegedoen het nie. ‘Nee, ek skryf of skilder nie en speel ook nie toneel nie’, het hy graag gesê. ‘Al wat ek doen, is om tjeks vir die ander spul uit te skryf!’ François is op 20 Julie 1913 op Uniondale gebore. Hy ontvang sy opleiding as kunstenaar aan die Michaelis Kunsskool in Kaapstad en studeer daarna aan verskeie inrigtings in Europa. Hy trou met die Vlaamse Poppie Plantenga en ná hulle egskeiding met Sylvia Shear. Later van jare woon hy op Montagu, waar hy skilder en tot een van Suid-Afrika se fynste kunstenaars ontwikkel, veral wat portretskildering en landskappe betref. Soos Bokkie en Arnold het hy ook geen nageslag nie. | |
[pagina 46]
| |
Die twee dogters van die gesin is Maria Magdalena (Mizzi), wat op 10 Mei 1917 gebore is. Sy studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna gaan sy na Nederland, waar sy toneel onder Balthazar Verhagen studeer. Ná haar buitelandse studie doseer sy in Bloemfontein, maar keer dan terug na Kaapstad om by die SAUK te werk. Tydens die Tweede Wêreldoorlog speel sy toneel saam met Lydia Lindeque se geselskap voor die soldate in Kaïro en Italië. Sy is getroud met die medikus Will-frid Exner Baumann, maar sterf betreklik jonk in 1961 aan kanker. Die laatlammetjie van die gesin is Suzanne Hermine, gebore op 19 Maart 1926. Sy werk as joernalis en tree in die huwelik met die Kaapstadse argitek Revel Fox. Dit is dus 'n sterk kunssinnige gesin wat Japie Krige en Sannie Uys in die wêreld gebring het. Hoewel drie van die seuns ook soos hul vader rugbystewels aangetrek het en goeie spelers was, het hulle volgens Danie Craven nie hul vader se spoed geërf nie.Ga naar eind59. Opvallend is verder dat drie van die seuns en albei dogters met Engelssprekendes of mense van ander nasionaliteite trou en dat drie van die seuns geen kinders gehad het nie. Dit is slegs Uys se seun, Taillefer, wat die manlike Krige-lyn voortsit. Ook ná die dood van haar man was die Krige-gesin 'n hegte eenheid wat gereeld - as die tyd en die geleentheid dit enigsins toegelaat het - op 'n Sondagaand by hulle later bejaarde moeder byeengekom het. Ook die kleinkinders was van vroeg af bewus van hul roemryke familie wat in soveel uiteenlopende rigtings in die verlede gepresteer het en die hegte bande wat daar tussen die gesinslede bestaan. ‘Being part of so eminent a White African tribe as the Kriges’, skryf Revel Fox, Kaapstadse filmregisseur en seun van Suzanne en Revel, ‘is not as jolly as you and I might think. When your school syllabus includes the poetry of your legendary uncle, and everyone knows that your granny was a celebrated writer, married to a rugby icon and descended from a Trekker hero, you tend to come up against all sorts of outsider expectations.’Ga naar eind60. Met hulle artistieke aanleg voldoen meer as een van hierdie kleinkinders aan die verwagtings van hul ouers en van Sannie Uys. Van Sannie se kinders was Uys die naaste aan haar. Baie vriende van hulle het guitig opgemerk dat die naelstring tussen hulle nooit gesny is nie! In sy lewe en sy werk neem sy 'n sentrale posisie in, al het hy op 'n keer gesê hy is as digter te onmagtig om 'n vers oor haar te skryf. Christina van Heyningen skryf: ‘Uys Krige describes her, in | |
[pagina 47]
| |
the classic Italian phrase, as “forte e gentile” - strong and sensitive - and again as “gracious, imaginative and vulnerable.”...Her influence on her son has been lasting and profound; an indication of it the fact that she has appeared, in various guises, as a character in many of his plays.’Ga naar eind61. Kort ná haar negentigste verjaardag is Sannie Uys op 20 Februarie 1976 in Kaapstad oorlede. Met sy gehegtheid aan sy moeder was dit vir Uys 'n gevoelige verlies, want daar was by hom selfs op hoë ouderdom 'n sterk aanhanklikheid aan en 'n immer stuwende liefde vir haar. Jare tevore skryf hy in 'n brief uit Nice aan sy broer Bokkie dat hul moeder ‘maar nog die wonderlikste vroumens (is) wat ek ooit raakgeloop het’. En agt en veertig jaar nadat sy aan hierdie seun van haar die lewe geskenk het, roep sy in een van haar sterkste verhale, ‘The scissors’ uit The nightingale sings, die moment van sy geboorte op Bontebokskloof op: An eighty-year-old Coloured woman is bending over her with a pair of scissors and some thread in her brown worn old hands. It is a large room and the young woman's bed is its throbbing centre. The room, for her, is full of her pain. When she can no longer endure it she prays: ‘Let me die ...’ |
|