Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige
(2002)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 17]
| |
InleidingVanaf ongeveer 1945 tot ruim in die jare sestig en selfs die vroeë sewentig was Uys Krige die bekendste Afrikaanse skrywer in die buiteland. In 'n brief wat hy op 10 Mei 1954, ná Krige se besoek van feitlik twee jaar aan Frankryk in 1952-1953, skryf, sê Jan Rabie: ‘Man, jou legende leef voort in Parys. Jy verstaan die kuns om mense in jou teenwoordigheid “af te skrik” en as jy weg is hartseer en vol sagte plekkies na jou te laat verlang. Jy is soos die prikkel-skulpie in die see wat as dit jou aanraak eers brand en dan week en vol mensliefde maak. Ons word oorval met navrae na jou en ons is self vol heimwee na jou.’Ga naar eind1. In sy bundel Buidel sê Rabie dat Krige bekend staan as die menslikste van alle Afrikaanse skrywers. ‘Kom 'n mens by literêre kringe oorsee,’ skryf hy, ‘is die vraag “En hoe gaan dit met Oeys Kreighe?”’Ga naar eind2. In sy Seisoen in die paradys wys Breyten Breytenbach op dieselfde reaksie: ‘Wanneer ek waar dan ook in literêre kringe melding maak daarvan dat ek van S.A. kom, dan is die reaksie dikwels - “O, Uys Krige!” (of Hwies Krieghe.)’Ga naar eind3. En die Suid-Afrikaanse Engelse digter Guy Butler herinner hom jare ná die Tweede Wêreldoorlog hoe die naam van Uys Krige telkens in Italië aan hom genoem is, ‘the brilliant young Afrikaner poet who, in addition to English and Afrikaans, spoke Italian, Spanish, French and German [-] a mythical man who was always cropping up in literary gossip, on the radio and in the press.’Ga naar eind4. Vroeg in sy lewe reeds was Uys Krige vir almal die digter van die son, die goue seun van die Afrikaanse literatuur. Ten spyte van hierdie hoë waardering in die buiteland is die lof vir Krige se werk en persoon in Suid-Afrika dikwels oorstem deur negatiewe kritiek, ook in gevalle waar 'n mens terugskouend meer waardering sou kon verwag het. Terwyl hy oorsee vir sy geskrifte in Engels en sy vertalings uit Afrikaans bekroon is, het sy oorspronklike werk by meer as een geleentheid by literêre keurkomitees verbygegaan. Hoewel hy nie die beste digter van sy geslag was nie, het hy pragtige verse geskryf wat met hulle bruising en vitaliteit die Afrikaanse poësie verryk en vensters oopgemaak het op wêrelde wat nog nie deur Afrikaanse skrywers ontdek is nie. Met sy sketse en verhale het hy stilisties 'n heilsamer koers as baie van sy voorgangers ingeslaan en dikwels 'n tipe prosa beoefen waarin 'n mens die stem van die digter kon hoor, sonder dat dié stemtoon, soos in baie prosa van | |
[pagina 18]
| |
dié aard, steurend word. Op toneelgebied het hy speelbare blyspele en dikwels ontroerende eenbedrywe gelewer en met Die goue kring vir 'n boeiende verbinding van verskillende tradisies én 'n kleurryke spel gesorg. Met sy oopgesteldheid vir die literatuur van die Mediterreense lande het hy ons, soos Jan Rabie dit stel, ‘daaraan...herinner dat daar nie net stoere Germaanse bloed in ons are vloei nie, maar ook vurige Latynse bloed’.Ga naar eind5. Hoewel die andersoortigheid van sy werk in vergelyking met dié van sy tydgenote in hierdie versuim 'n rol kon gespeel het, was dit in die eerste plek Krige se volgehoue uitgesproke standpunte in verband met politieke aangeleenthede wat hom in diskrediet by baie van die bewindhebbers van sy tyd en die magsfigure in die literêre bestel gebring het. Toe hy op die gevare gewys het wat die opkomende Fascisme en Nazisme vir die Wes-Europese beskawing inhou, was daar van sy tydgenote wat die standpunt gehuldig het dat Franco en Hitler alleen die beste vir hulle onderskeie volkere wou hê. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy - anders as die meeste van sy literêre tydgenote - generaal Smuts se toetrede tot die oorlog gesteun en hom - tot die wrewel van baie bekrompe en kortsigtige Afrikaners - as oorlogskorrespondent in die kantoor van die eerste minister aangemeld. Hy het nie gehuiwer om kritiese vrae te stel oor die rigting waarin die Afrikanernasionalisme deur die Nasionale Party ontwikkel is nie. By tye het hy standpunt ingeneem oor openbare aangeleenthede waaroor hy sterk gevoel en wat swaar op sy gewete gerus het. Hy was vry van die gebruiklike Suid-Afrikaanse parogialisme, al het hy nie voortdurend oor politieke sake getorring of geneul nie. Met die jare het hy ontwikkel tot 'n eersteklas openbare spreker wat, naas die voortreflike interpreterende voorlees van sy eie poësie, sterk stelling kon inneem oor omstrede politieke kwessies. In sy tenger gestalte het daar 'n obstinate wil en onbuigsaamheid geskuil wat hom nie laat terugdeins het wanneer hy oortuig was van sy standpunt nie. Hy het voortgegaan, soos Christina van Heyningen dit stel, ‘to participate in public affairs, never wavering in his opposition to racialism and authoritarianism’.Ga naar eind6. Die gevolg hiervan was dat sy politieke opponente hom uitgekryt het as 'n nonkonformis, 'n ‘liberaal’, selfs by tye as 'n gevaarlike politieke radikalis en 'n ‘kommunis’. Dié etikettering het keurkomitees en amptelike rade, wat dikwels onder politieke druk geswig het, lugtig gemaak om Krige se oorspronklike werk die erkenning te gee wat dit verdien. | |
[pagina 19]
| |
Enkele kere het hierdie onbegrip vir en gebrek aan waardering vir sy werk Krige laat uitbars, al was hy selde kleingeestig of venynig in sy reaksie op kritiek. Wat hom telkens uit depressies en 'n oorgawe aan die negatiewe en sombere gered het, was sy onuitroeibare geloof in die waarde van die mens. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy as oorlogskorrespondent en later as krygsgevangene in Italië gevind dat die doodgewone mens in doodsgevaar pragtig reageer, dat hy nie net aan homself dink nie, maar aan andere, en dat hy gewillig is om sy eie lewe op die spel te plaas. Die doodsgevaar gee aan hom iets bomensliks, selfs goddeliks. In 'n brief van 24 September 1969 aan Fay Goldie sê Krige dit is juis sy geloof in sy medemens wat hom onderskraag en die lewe vir hom die moeite werd maak. Daarnaas kom die geestelike en intellektuele reserwes wat ek oor die jare vir my opgebou of vergaar het; my ‘nuuskierigheid’ omtrent die mens en die lewe - ek sê altyd elke nuwe dag behoort vir my iets nuuts te bring; selfs my drang om te ‘reis’, nuwe lande en plekke te sien. Watter soort mens en skrywer was hierdie Uys Krige om, ten spyte van die eensydige en vertekende beeld wat daar van sy essensiële wese en werk bestaan het, tog by baie figure in die Afrikaanse literatuur, veral jonger skrywers, so 'n hoë aansien te kon geniet, iemand van wie die romanskrywer Chris Barnard gesê het: ‘As skoolkind was daar vir my, wat statuur betref, min te kies tussen Apollo en Moses en Einstein en Uys Krige.’Ga naar eind7. Waarskynlik moet 'n mens hierdie besondere ‘statuur’ soek in die feit dat hy mense rondom hom kon meevoer en gaande maak. ‘Noem die naam Uys Krige’, skryf die joernalis Martie Retief in 'n reeks staccato-kensketsings, en jy hoor die reaksie: ‘Spanje. Lorca. Baudelaire en daardie lekker Kleurling-gediggies. Abdol en Adoons en die visname mos.’ ‘Clifton. Ek sien hom in sy baaibroekie, geselsend. Met almal.’ ‘Dáár's my man. Toe die lot van die Akademie hom mos half en half 'n prys wou gee, toe sê hy mos gaan bars.’ ‘Ek ken nie 'n vrygewiger mens nie. Amper manies-gul teenoor ander skrywers, maar hy het nog nooit in sy lewe 'n kompromis gemaak nie.’ ‘Ons het sy Tram-ode en daai ene van die bomme oor | |
[pagina 20]
| |
Spanje voorgeskryf gehad. Ek het die meeste van hom as van al die ander gehou.Ga naar eind8. En Uys Krige kon gesels. ‘As Uys Adderleystraat onder vat, kom hy nooit bo uit nie, want hy móét met almal langs die pad gesels,’ skryf Martie Retief.Ga naar eind9. By geleentheid moes die joernalis Johan Vosloo van Rapport by hom op Onrust 'n onderhoud voer. Uys se woordestroom was soos 'n damwal wat gebreek het: Ja, ek het jou mos al voorheen gesien, waar was dit?, waar was dit nou weer?, bly julle vir ete? Babsie, Eulalia, hulle bly vir ete, ek gaan nou-nou swem, ek swem elke dag, het jy jou baaibroek saamgebring?, ek is kwaad vir julle, sê vir Rykie,Ga naar eind10. my nuwe saamgestelde bundel: net so 'n stukkie in Rapport, net so 'n stukkie, kom in, ek praat so baie, tee vir julle, Babsie, maak vir ons tee.Ga naar eind11. So tussen die baie woorde deur was dit Krige se ruimheid van gees wat verantwoordelik daarvoor was dat hy alle mense oor een kam geskeer het. Soos 'n ware aristokraat was alle mense, ryk of arm, wit, bruin of swart, vir hom gelykwaardig.Ga naar eind12. En dieselfde liefde het hom ook daartoe gelei om 'n uiteenlopende vriendekring te hê. ‘Uys was een van die bekendste en bemindste Suid-Afrikaners’,Ga naar eind13. sê sy swaer, die argitek Revel Fox. ‘Uys het 'n hek in my hart oopgemaak’,Ga naar eind14. sê medeskrywer Alan Paton. ‘Geen ander skrywer’, sê Jan Rabie, ‘het sy menslikheid so mild en so vanselfsprekend laat uitstraal oor ons verkalkende samelewing nie; niemand anders was so 'n gulle poskantoor vir so vele Poste Restante-siele nie.’Ga naar eind15. Daarom dat André P. Brink treffende hulde bring as hy in 'n brief van 30 Augustus 1971 Krige bedank vir sy gelukwense by die aanvaarding van die professoraat aan die Rhodes-Universiteit: Ek weet hoe dit uit jou hart kom en dit beteken baie. In die lig van die heel spesiale band wat ons so lank al bind. Nie pa-seun nie (want geestelik gesproke is jy self te jonk daarvoor), maar darem seker 'n soort literêre vaderskap wat jy in my hart het - 'n immergroen Vergilius wat my op jou spore (Steps of the Master) deur die Latynse lande gelei het en soveel ‘magic casements’ vir my oopgemaak het. | |
[pagina 21]
| |
Daarby was Krige, soos die uitgewer Koos Human dit stel, ‘'n diep ernstige mens oor sy werk, die letterkunde, die lewe, die mense rondom hom, sy land’.Ga naar eind16. Hoewel hy baie wêrelde ontdek en die literatuur van baie lande in hom opgeneem het, was Krige in die eerste plek gepreokkupeer met die hele Suid-Afrikaanse ‘siel’, in so 'n mate dat Hennie Aucamp by geleentheid kon sê: Uys Krige was in lewe die groot versoener in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Hy het die spanninge tussen Engels- en Afrikaanssprekendes probeer ontlont; hy het Noord en Suid in die letterkunde probeer versoen; hy het die swart en bruin mense van die land as medelandgenote vereer...Sy oproep aan álle Suid-Afrikaners staan in sy gedig ‘Verre blik’: wees groot en ruim en sterk, wees vry,
vol lig en stilte, soos dié suiderland!Ga naar eind17.
Krige het, ten spyte van sy feitlik universele oopgesteldheid, stewige wortels gehad in die spesifiek Afrikaanse werklikheid. As Afrikaanse skrywer was hy intens geïnteresseerd in die Afrikaanse taal en sy groei, en het hy telkens besondere woorde aangeteken wat hy later in sy skeppende werk kon gebruik. Hierdie passie vir die eie taal het hom ook laat belangstel in mense van die streek waaruit hy voortgekom het. Talle kere, as hy iemand ontmoet, wou hy weet van waar die persoon kom, of hy nie mense het op plekke waar die Uyse vroeër gewoon het nie en of hulle nie dalk familie van mekaar is nie. 'n Kosmopoliet, 'n wêreldreisiger, 'n ‘liberaal’, 'n nonkonformis wat sonder huiwering sowel literêr as polities ander koerse as sy tydgenote ingeslaan het. Op dié wyse het hy vir die Afrikaanse literatuur nuwe wêrelde oopgemaak en vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap 'n milder menslikheid in die vooruitsig gestel. Hy het sy eie nasionalisme met sy eie internasionalisme gepaar, 'n kombinasie wat deur die afwyking van die tradisionele nasionalisme en die besondere gerigtheid op die buitewêreld uniek is onder die skrywers van sy geslag. Maar in laaste instansie was Krige iemand wat sterk verankerd was in die spesifiek Afrikaanse wêreld waarin hy die eerste daglig aanskou het en wat vir hom, ondanks sy kritiek oor baie jare, lewenslank van waarde gebly het. Hy was trots om die nasaat van roemryke mense te wees en hy het die band koesterend bewaar. Daardie erfe- | |
[pagina 22]
| |
nis het hy nooit verloën nie; ook nie sy ideaal vir 'n vrye en groot Suid-Afrika en vir 'n Afrikaanse taal waarin alles en almal geakkommodeer kon word nie. Boweal was hy, selfs op hoë ouderdom en ondanks fases van wanhoop en depressies, die goue seun van Suid-Afrika: 'n oop en ontvanklike mens wat by sy vriende en kennisse geliefd gebly het. |
|