| |
| |
[binnenkant voorplat]
[binnenkant voorplat]
| |
| |
[voorkant schutblad]
[voorkant schutblad]
| |
| |
| |
| |
| |
| |
Voorwoord
Toe ek in die vyftigerjare van die vorige eeu op skool in die letterkunde begin belangstel het, was Uys Krige se eerste twee digbundels, Kentering en Rooidag, reeds lank uit druk en kon ek slegs 'n eksemplaar van sy bundel oorlogsverse, Die einde van die pad, vir my persoonlik aankoop. In die ou biblioteek op my geboortedorp, Robertson, kon ek werke soos Sol y sombra en Ver in die wêreld uitneem en onder die bekoring kom van 'n skrywer wat wye draaie in die Mediterreense lande gaan gooi het. Ek onthou ook nog baie duidelik watter genot die ervaring van sy ‘Tram-ode’ met die ‘wakker mars van name’ vir my was toe ek deur middel van ons skoolbloemlesing die eerste keer daarmee kennis gemaak het. Ek dink aan reëls soos die volgende:
Daar is 'n haltjie, Dwaal,
Granada is 'n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet 'n berg se piek in Mexico.
Vir baie mense van my geslag was sulke verse met hul ritmiese stuwing en vreemde musiek, so anders as die verse van ander Afrikaanse digters, 'n vreugde om te ervaar. Dit het die romantiese drang gevoed wat inherent in 'n jongmens leef en wat in hom die begeerte wek om nuwe wêrelde vir homself te ontdek. In die Byvoegsel van Die Burger op Saterdae het Krige se artikels oor Franse en Spaanse digters in dié jare verskyn en deur sy vertalings het ek kennis gemaak met digters en literature wat my vreemd betower het. Ek het dié artikels uitgeknip en later van die verse van buite geken, soos die volgende van Lorca:
Pikswart ryperd, ronde maan,
met 'n sak olywe teen my saal.
Al wis ek waar elke stofpad gaan,
nooit sal ek Córdoba ooit haal.
Toe ek ná my skooljare aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer het, kon ek dieper kennis maak met Krige se poësie. In 1962
| |
| |
is ek aangestel as lektor aan die Universiteit van Kaapstad en het ek Krige - van die begin af vir my Uys - persoonlik leer ken. Hy het in daardie stadium saam met Jack Cope in een van die houthuisies op Clifton se Tweede Strand gewoon en kon onderhoudend gesels oor die Romaanse letterkundes en met allerlei kwinkslae op die Afrikaanse literêre wêreld reageer. Die hersiene uitgawe van sy twee eerste digbundels het pas die vorige jaar as Gedigte 1927-1940 verskyn en ek het hom uitgenooi om ons studente oor sy teksversorging toe te spreek en aan die hand van voorbeelde vir hulle 'n kykie in die werkswinkel van die digter te gee. Die voorbereiding van die bundel, soos dit uit sy voordrag dié dag duidelik geword het, was vir my 'n openbaring, want ek kon telkens voorbeelde aanteken van hoe grondig Uys hersien het en watter verantwoordelikheid en vakmanskap daar ten grondslag aan sy veranderinge lê.
Omdat ek onder meer die Afrikaanse drama aan die Universiteit van Kaapstad moes doseer en graag van Uys se werk met my studente wou behandel, het ek 'n keuse uit sy eenbedrywe saamgestel en 'n inleiding daartoe geskryf. Hy wou egter eers die tekste hersien. Drie dae lank het ons in Clifton elke woord in die vier eenbedrywe van my keuse grondig deurgegaan. Toevallig kom ek op 'n dag in die universiteitsbiblioteek met die deurblaai van ou ingebonde dele van die Tijdschrift voor Nederlandsche Taal- en Letterkunde af op die Esbatement van den appelboom. Daarin verwerk 'n anonieme rederyker die legende wat ook die boustof van Uys se drama Die goue kring is. Die goue kring het my tóé reeds met sy aansluiting by verskillende dramatiese tradisies geboei en in 'n uitgebreide opstel het ek daaroor uitgewei. Uys was amper soos 'n kind verheug oor dié opstel en kon nie uitgepraat raak oor die raakpunte wat ek met die Middeleeuse en Shakespeariaanse teater aangedui het nie. Toe ek heelwat later, in 1984, deur Koos Human gevra is om Uys se Versamelde gedigte vir sy vyf en sewentigste verjaardag redaksioneel te versorg, was ek dadelik bereid om dit te onderneem, want dit was vir my weer 'n geleentheid om my met sy bruisende, vitale verse besig te hou. In my geskenkeksemplaar van dié uitgawe was hy so vriendelik om die volgende pragtige woorde te skryf:
Aan John Kannemeyer - En ek kan jou nie genoeg bedank nie vir al jou hulp en aanmoediging.
| |
| |
En mag jou lewe altyd 'n sonneblom bly - van jou ou vriend, Uys Krige.
Die hoë lof vir my ‘hulp en aanmoediging’ was beslis te hoog gestem, maar ek het sy warmte en menslikheid met dié gebaar baie gewaardeer.
Toe ek ná voltooiing van my Leipoldt-biografie na 'n nuwe projek begin soek het, was die lewensverhaal van Uys Krige, wie se dokumentasie intussen by die Dokumentesentrum in die J.S. Gerickebiblioteek aan die Universiteit van Stellenbosch gekatalogiseer is en vir navorsers beskikbaar gekom het, 'n vanselfsprekende keuse. Soos D.J. Opperman, C.J. Langenhoven en C. Louis Leipoldt, die ander Afrikaanse skrywers met wie se lewens ek my onledig gehou het, was Krige vir my ook 'n boeiende persoonlikheid deur die veelsydigheid van sy skrywerskap en die veelkantigheid en beweeglikheid van sy karakter. Wat my veral naas sy gawes as skeppende genie nader aan hom getrek het, was sy intellektuele gawes, sy kinderlike eenvoud en verwondering oor dinge wat hy tot op gevorderde ouderdom kon behou, en boweal sy absolute integriteit en onomkoopbaarheid in 'n literêre en politieke bestel waarin hy dikwels deur sy sterk humanitêre beginsels en gevoel vir vryheid van die algemeen aanvaarde stroom afgewyk het, 'n indiwidualisme waarvoor hy 'n hoë prys moes betaal.
Daarom wil ek graag my hartlike dank betuig aan Uys Krige se dogter, mev. Eulalia Krige, en sy seun, mnr. Taillefer Krige, wat my volle toegang tot die Krige-dokumentasie gegee het en bereid was om tydens onderhoude inligting en foto's te verskaf. Prof. Hennie Aucamp het my by herhaling tydens my werk aan Krige ongevraagd van dokumente en inligting voorsien en sy ruim kennis van dié skrywer se lewe en werk onbaatsugtig met my gedeel. Ek beskou dit as 'n groot eer dat hy sy portret oor Uys Krige in Bly te kenne aan my opdra. Prof. G.C.L. Brümmer het my attent gemaak op 'n werk van Ignazio Silone waarin Krige in die inleiding genoem word en die relevante dele vir my mondeling uit Italiaans in Afrikaans vertaal. Prof.
| |
| |
J.C. Steyn het bibliografiese besonderhede oor Krige se vroeë publikasies in Die Burger en prof. F.I.J. van Rensburg sy briefwisseling met die skrywer in verband met sy Krige-monografie tot my beskikking gestel. Mev. Ina Rousseau het telkens telefonies flitsende blikke op Krige gewerp wat my gehelp het om my siening en interpretasie van sy karakter verder te verhelder of te nuanseer. Mnr. Johan Vosloo van Rapport was so vriendelik om 'n hele legger met besondere foto's van Krige aan my beskikbaar te stel. Fotomateriaal is verder welwillend afgestaan deur mev. Suzanne Fox en mnr. Johan Krige, terwyl ek gebruik kon maak van die foto's wat in die leggers van Die Burger, die Cape Times, die Cape Argus, die Sunday Times en Rapport bewaar word. Verder wil ek my dank uitspreek teenoor die volgende persone met wie ek almal onderhoude kon voer: mevv. Ferrie Binge-Coetzee, Frieda Boshoff-Mostert en Stella Branca, mnr. Gerry de Melker, mnr. Revel en mev. Suzanne Fox, me. Grethe Fox, prof. Pieter Grobbelaar, mnr. J.J. Human, mev. Sylvia Krige, mev. Louie Lemmer, me. Egonne Roth, mnr. Leo en mev. Wendy Theron, mnre. Barend J. Toerien en Danie van Niekerk en me. Marjorie Wallace.
Die werk aan hierdie biografie oor Uys Krige het in Junie 1998 'n aanvang geneem met die verkenning van die Stellenbosse Krigedokumentasie wat sestien meter rakruimte beslaan, omvangryker as dié van enige ander skrywer met wie ek vroeër te make gehad het. Die vordering daarmee is egter telkens onderbreek deur die kontrolering van die verskillende proefstadia van my Leipoldt-publikasies, die voorbereiding van my uitgawe van D.J. Opperman se Sonklong oor Afrika, die afhandeling van Kaap van skrywers en twee ernstige operasies. In Augustus 2000 het ek met die daadwerklike skryf van die biografie begin, maar die werk is onderbreek deur 'n navorsingsreis in Oktober en November 2000 om inligting in Den Haag oor Krige se Nederlandse verbintenisse te bekom. Die manuskrip - met uitsondering van die voorwoord - is voltooi op 15 Junie 2001, gevolg deur die finale hersiening.
Tydens die navorsing en die skryf van die manuskrip van die Krigebiografie het ek met 'n paar probleme te make gehad. Krige het baie keer artikels uit koerante en tydskrifte geknip, sonder om die datum en die bron by te skryf, terwyl hy by die manuskripte van sy radiopraatjies en sy berigte te velde tydens die Tweede Wêreldoorlog dikwels geen datum vermeld het nie. Met die bykans volkome afwesigheid van behoorlike koerantregisters is dit vir 'n navorser manalleen
| |
| |
'n haas onbegonne taak om al hierdie verwysings op te spoor. Waar 'n datum en bron dus ontbreek, het ek die katalogusnommer van die betrokke dokument in die Dokumentesentrum in die J.S. Gerickebiblioteek aan die Universiteit van Stellenbosch vermeld. Waar slegs 'n datum sonder katalogusnommer genoem word, verwys dit altyd na 'n Stellenbosse dokument; in alle ander gevalle word die bewaarsentrum of versameling uitdruklik aangedui.
'n Tweede probleem by die werk van Krige is dat hy met heruitgawes sy werk, in al drie genres wat hy beoefen het, telkens aan deeglike hersiening onderwerp het, in so 'n mate dat hy by geleentheid deur Rob Antonissen met daardie onvermoeide hersiener van eie werk in die Nederlandse letterkunde, naamlik Martinus Nijhoff, vergelyk is. In my bloemlesing uit Krige se eenbedrywe en my werk aan sy Versamelde gedigte het ek my in 'n mate verdiep in hierdie variante, maar dit is so 'n omvangryke werk dat 'n aparte studie of studies, by voorkeur op doktorale vlak, in die toekoms daaraan gewy moet word. By die gebrek aan so 'n ondersoek kon ek in my biografie dié aspek van Krige se werk slegs sydelings belig.
Uys Krige se uitgebreide en kosbare korrespondensie met familielede en vriende is sorgvuldig bewaar deur sy broer, mnr. J.G.J. (Bokkie) Krige, en later as vier omvangryke bundels oorgetik en ingebind. Daarmee het hy 'n uiters belangrike diens aan die Afrikaanse letterkunde en 'n toekomstige biograaf bewys. Maar dié briewe skep 'n derde probleem by die werk aan 'n Krige-biografie, want dikwels het Uys sy briewe nie gedateer nie. Met die oortik kon Bokkie egter 'n benaderde datum uit die posstempel op die koevert vasstel. Ek staan vir my lewensbeskrywing van Uys Krige diep in die skuld by Bokkie Krige, want die briewe is die rykste enkele bron vir besonderhede oor die lewe én werk van hierdie skrywer. Die briewebundels is tans in besit van mev. Eulalia Krige, maar fotokopieë daarvan is beskikbaar in die Stellenbosse Dokumentesentrum. Die oorspronklike briewe word bewaar by die ‘Krige Family Papers’ in die Nasionale Biblioteek in Kaapstad. Dit is 'n skenking van mnr. Bokkie Krige.
Vir my persoonlik as biograaf het my werk aan Krige verdere probleme geskep wat ek in my vroeëre ervarings met die lewens van skrywers nie ondervind het nie. Anders as Opperman, Langenhoven en Leipoldt, wie se lewens 'n besliste of vermoedelike skadukant bevat, is daar by Krige geen donker deel aanwesig nie. Hy het hom nie aan drankmisbruik skuldig gemaak nie, hy het geen aantoonbare buite- | |
| |
egtelike verhoudings gehad nie en hy was te eerlik, oop en naïef om hom aan misdadige bedrywighede te vergryp. Die fases van depressiwiteit wat hy van tyd tot tyd belewe het, was oorgeërf van sy Uysvoorsate en nie die resultaat van een of ander groot geheim nie. Krige het trouens sy geheime en depressies uitgepraat en geen besondere verhaal is daaruit te maak nie. Dit was vir my aanvanklik 'n hele aanpassing om as subjek vir my biografie iemand te hê wat in vergelyking met my ander biografieë ‘psigologies’ só probleemloos is, al het die boeiende veelsydigheid van die hele Krige-figuur ruimskoots daarvoor vergoed.
Nog 'n probleem vir my by Krige was die feit dat hy ná die ernstige beserings wat hy in 1976 in Pretoria tydens 'n motorongeluk opgedoen het, fisiek en geestelik nie meer dieselfde was nie en in die elf oorblywende jare van sy lewe tot sy dood in 1987 geleidelik verstandelik agteruitgegaan en skeppend tot stilstand gekom het. Die probleem vir 'n biograaf is hoe om so 'n aftakeling in sy lewensbeskrywing aan te bied én terselfdertyd die waardigheid en statuur van sy subjek te behou. Daar is baie vermaaklike staaltjies oor Uys se vergeetagtigheid tydens hierdie laaste fase van sy lewe, maar daar skuil 'n bepaalde gevaar in die blote dryfsand van grappige anekdotes en is buitendien beswaarlik die soort noot waarop 'n boek oor 'n prominente persoon se lewe moet eindig. Ek het dit oorweeg om my biografie met die motorongeluk te laat begin en achronologies terug te werk, soos ek met Langenhoven gedoen het in 'n poging om Sarah Goldblatt se Langenhoven-industrie oor dekades heen te akkommodeer. Ek het egter gou besef dat dit in Krige se geval nie moontlik is nie en dat ek die anekdotes oor sy vergeetagtigheid moet beperk. Ek het my dikwels afgevra: Hoe sou die beeld van Krige in die Afrikaanse letterkunde daar uitgesien het indien hy in 1976 tydens die ongeluk gesterf het? Sy literêre werk en wat hy bereik het, sou dan 'n skerp, helder klaarheid vertoon en hy sou, met die erkenning van sy oorspronklike werk deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kort vóór en ná die ongeluk en ná die ignorering oor dekades heen, op 'n hoogtepunt geëindig het. As ons biografie kan stop soos ons fiksie kan stop, sou ons, soos Richard Holmes by geleentheid opmerk, op 'n kritieke, gekose moment die gang van die geskiedenis kon wysig. Maar 'n biografie kan juis nié gestop word nie, want die skrywer daarvan moet berus en hom skik by die gekompliseerdheid en vreemdheid van die lewe waaroor hy dit het en die
lewensloop van
| |
| |
sy subjek tot die einde volg. Daarin lê trouens die andersoortigheid van die biograaf se werk in vergelyking met dié van die romanskrywer, en óók die outoriteit van die soort waarheid wat hy wil oordra. In die geval van Krige was dit dus vir my nodig om die lewensloop tot die einde te volg, al het die biograaf die betreklike vryheid om keuses te maak en deur die aandag wat hy aan die opeenvolgende fases van sy subjek se lewe wy, die aksente só te laat val soos die struktuur van sy werk aan hom dikteer.
By die voltooiing van my werk aan hierdie biografie is ek groot dank verskuldig aan mevv. Hanna Botha, Marina Brink, Lynne Fourie, Margaret Bergh en Mimi van der Merwe van die Stellenbosse Dokumentesentrum vir hulle hulp met die fotokopiëring van materiaal, die opspoor van addisionele inligting en vir die welwillende bystand wat die werk van 'n navorser soveel aangenamer maak. Mev. Mimi van die Merwe het die groot aantal foto's geskandeer en elektronies aan die uitgewers deurgestuur. Ek dink hier ook terug aan mev. Joan Walters, wat die omvangryke Krige-katalogus opgestel het, die laaste groot werk wat sy voor haar vroeë dood kon afhandel. Mnr. Johan Krige van Stellenbosch het my baie inligting oor die Krige-familie verskaf en by die Nasionale Biblioteek in Kaapstad kon ek die ‘Krige Family Papers’ nagaan, terwyl die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA) op Stellenbosch op my versoek 'n kwartierstaat van Uys Krige opgestel het. Mev. Mariena Kotzé van die argief van die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch was so vriendelik om Uys Krige se skooluitslae vir my na te gaan, my op skoolfoto's te wys en Krige se korrespondensie met Irma Roth, wat in die argief bewaar word, aan my beskikbaar te stel. Vir die gebruik van dié briefwisseling was Irma Roth se dogter, me. Egonne Roth, bereid om vir my die embargo daaroor op te hef, waarvoor my hartlike dank. By die Sentrale Klankargief van die SAUK in Johannesburg kon ek alle opnames van Krige se stem beluister en kopieë van sommige bande aanvra. Die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, dr. J.D.Z. Louw, het my toegang verleen tot die Akademiedokumente wat by die Argief vir Eietydse Aangeleenthede (AEA) in Bloemfontein bewaar word, terwyl ek by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (NALN), ook in Bloemfontein, aanvullende Krige-materiaal uit koerante en tydskrifte kon verkry. By die National English Literary Museum (NELM) op
Grahamstad kon ek die omvangryke dagboeke van Jack Cope deurgaan en briewe van Roy Camp- | |
| |
bell en Guy Butler aan Krige opspoor. Mnr. B. Mangiagalli van die Caledon Museum was so vriendelik om 'n foto van die digter se Krige-grootouers beskikbaar te stel. Die Nederlands Letterkundig Museum in Den Haag, Nederland, kon vir my waardevolle besonderhede verskaf oor Krige se verbintenis met die uitgewer A.A.M. Stols en sy briefwisseling met figure in die Nederlandse letterkunde. Wat hierdie aspek van Krige se aktiwiteite betref, wil ek graag my hartlike dank uitspreek teenoor drs. Ingrid Glorie, wat die navorsing in Den Haag kon voortsit omdat die museum as gevolg van herstrukturering vir my nie toeganklik was nie.
Vir my werk aan die Uys Krige-biografie het ek finansiële steun gehad uit Het Jan Marais Nationale Fonds van die Universiteit van Stellenbosch en die Voorsittersfonds van Nasboek. Die Van Ewijckstigting in Kaapstad en die Stichting Neerlandia in Bloemfontein het my finansieel gehelp om Nederland te besoek en die koste van my reis en verblyf te help dra. Aan al hierdie instansies betuig ek my hartlike dank en erkentlikheid. Ek is besondere dank verskuldig aan mnre. P.A. Joubert en Danie Botha vir hulle deeglike werk aan die manuskrip (soos met my werke oor Langenhoven en Leipoldt), aan me. Nazli Jacobs vir die tipografie en omslagontwerp, en mnr. Abdul Amien vir die teken van die kaarte. Ek bedank ook graag mnr. Hannes van Zyl en dr. Riana Barnard van Tafelberg-Uitgewers vir hulle welwillendheid teenoor hierdie onderneming en die insette wat hulle gelewer het.
In aanhalings uit briewe en ongepubliseerde stukke is die voor die hand liggende verskrywings en setfoute, en in enkele gevalle ook foutiewe sinskonstruksies, oogluikend verbeter, sonder dat Krige se betekenis of styl aangetas is.
J.C. KANNEMEYER
Stellenbosch
26 Junie 2001 |
|