Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2
(1983)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 228]
| |
Hoofstuk 2
| |
[pagina 229]
| |
indruk, afgesien van die feit dat die provokerende en militante werkwyse van dié organisasie dikwels aanstoot gee. Naas sy publikasie van vakkundige woordeboeke en die oprigting van 'n Vereniging vir Afrikaanse Teksuitgawes sorg die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns deur die instelling van nuwe pryse (soos die Akademieprys vir vertaalde werk, die Eugène Marais-prys vir 'n debuutof vroeë werk, die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap, die S.A.U .K.-prys vir hoorspele en die Scheepersprys en Tienie Holloway-medalje vir jeuglektuur) dat 'n groter spektrum van die Afrikaanse letterkunde aangemoedig of erken word. Hierby sluit die pryse van ander instansies, persone of uitgewers aan met die instelling van die (Nederlandse) Reina Prinsen Geerligs-prys en Ingrid Jonker-prys vir debuutwerke, die jaarlikse C.N.A.-toekenning en Louis Luyt-prys vir die beste letterkundige publikasie, die W.A. Hofmeyr- en Recht Malan-prys vir uitgawes van die Nasionale Pers-groep en die A.P.B.- (later die Perskor-) prys. In 1968 word daar in die Senaat voorgestel om, gedagtig aan premier Verwoerd se versugting dat ons skrywers ook die heldedade van hulle eie geslag ‘sal besing en nie net volgens moderne patrone ... wat elders by volkere wat reeds oud is, die mode’ geword het nie, 'n prys in te stel wat die naam van Verwoerd sal dra. Teen hierdie gedagte kom daar sterk reaksie van skrywers, o.a. van N.P. van Wyk Louw, wat dit as 'n soort Stalin-prys vir Suid-Afrika beskryf. Nadat die aangeleentheid na 'n letterkundige kommissie verwys is, aanvaar die Senaat 'n wysiging van die oorspronklike voorstel tot 'n Republiekprys wat vyfjaarliks aan enige werk van geesteswetenskaplike of letterkundige aard toegeken word. Hierdie prys is egter slegs een keer toegeken, t.w. aan Henriette Grové. | |
II. die ‘ideologie’ van sestig en die verdere emansipasie van die Afrikaanse letterkundeDie reaksie op die voorgestelde Verwoerdprys is simptomaties van die polarisasie in die sestiger- en sewentigerjare tussen die skrywers aan die een kant en die owerheid, die Kerk en die literêre ‘establishment’ aan die ander kant. Dit bring mee dat die vernuwing van Sestig nie net tot die literatuur beperk is nie, maar sy invloed op die hele maatskaplike bestel in Suid-Afrika laat geld, baie van die taboes en vooroordele van die samelewing afbreek en die literêre, morele, godsdienstige en politieke konvensies van die Afrikaner wysig. Die Sestigers en hulle opvolgers in die sewentigerjare oefen hierdie invloed op die gemeenskap allereers deur middel van hulle skeppende werk uit, maar daarnaas sit sommige van hulle by herhaling hulle opvattinge oor die kuns en hulle idees oor die verhouding tussen die literatuur en die owerhede in betogende stukke uiteen. Die kunsteoretiese besinning neem 'n aanvang met Bartho Smit se opstelle oor ‘Henri Michaux en die mens in opstand’ (1957) en ‘Die krisis van ons werklikheidsbeeld in drama en epiek’ (1962) waarin hy, met verwysing na die wysgerige agtergronde van die twintigste-eeuse literatuur, die aksent laat val op die veranderende siening van die mens en realiteit in die hedendaagse letterkunde en die eksperimente wat dit ten opsigte van tyd en ruimte in die roman en drama tot gevolg het. Daarteenoor beklemtoon André P. Brink in sy artikels in die sestigerjare veral die vormvernu- | |
[pagina 230]
| |
wing, uitbuiting van die woord en die verkennende eksperimenteringsdrif in die kontemporêre literatuur. In teenstelling tot die ‘gemoedelik-lokaal-realistiese’ beeld wat die Afrikaanse prosa tot in die middel van die vyftigerjare oorwegend toon, wil die nuwe geslag skrywers, volgens Brink, van hierdie oppervlakkigheid en eensydigheid wegswaai deur 'n verkenning van ander wêrelde agter of anderkant die Suid-Afrikaanse. Die tematiese en tegniese vernuwing wat hierdie instelling tot gevolg het, bring mee dat die Sestigers dikwels 'n mitologiese raamwerk as basis van 'n roman gebruik en o.m. die terrein van die seksuele met veel meer openheid en uitgesprokenheid as enige geslag prosaskrywers voor hulle in Afrikaans betree en dieselfde vryheid vir die prosa verlang as wat Van Wyk Louw en sy geslag in die dertigerjare vir die poësie geëis het. Alhoewel die Sestigers nie uitsluitlik tot die gebied van ‘seks en simbole’ beperk is nie en skrywers soos Bartho Smit en Jan Rabie ook in die laat-vyftiger- en sestigerjare die Suid-Afrikaanse aktualiteit verken, kom daar in die sewentigerjare 'n hernude belangstelling vir die politieke en sosiale in die wydste sin en 'n verkenning van die vasteland van Afrika wat deel van die beeldspraak en die fynste vesels van die kunswerk word. Hierdie wending in die rigting van 'n meer ‘betrokke’ literatuur word deur Brink in die Kol-polemiek van 1969 bepleit, en in Concept 2, Julie 1970 sê hy dat ‘the peculiar and important social functions fulfilled by younger writers in this country places an immense social, moral and political responsibility on us ..., we have a responsibility not only towards our work - although that must necessarily remain our first love - but to those touched by our words’. In sy lesing voor die Kaapstadse Somerskool in 1973 en in die artikel ‘Op soek na Afrika’, wat dieselfde jaar in Standpunte (XXVIII: 8, Desember 1973) verskyn, kom Brink weer terug op die hele kwessie. In laasgenoemde stuk sê hy dat ‘in 'n tyd soos ons s'n, waar die indiwidu begin wegraak onder die opstand van die hordes, waar die Stelsel (hetsy kommunisties, hetsy kapitalisties; hetsy diktatoriaal, hetsy demokraties) belangriker is as die enkeling ... in só 'n tyd lê die funksie van die kuns in revolusie: nie maklike politieke revolusie nie, maar die soort voortdurende opstand teen alles wat die lewe onwaardig maak’. Alhoewel hierdie uitspraak ekstreem geformuleer is indien dit op alle Afrikaanse literatuur van die sewentigerjare van toepassing gemaak word en Brink buitendien later met Hennie Aucamp se pleidooi vir die literatuur van die ‘private ache’ (Die Burger, 5.6.75) akkoord gaan,
toon die hoofstroom in sowel die poësie as die prosa in die sewentigerjare 'n groter
| |
[pagina 231]
| |
mate van ‘betrokkenheid’ by Afrika en sy besondere problematiek as vroeër. Naas bydraes tot vakblaaie soos Tydskrif vir Letterkunde, Standpunte, Sestiger en Kol verskyn hierdie betogende stukke dikwels - veel meer as in die geval van enige geslag vóór die Sestigers - in die vorm van dagbladartikels, verklarings aan die nuusmedia, briewe in die meningskolomme van koerante, persoonlike onderhoude met verslaggewers en geleentheidstoesprake. Met dié aktiwiteit kom die Afrikaanse skeppende kunstenaar meer as ooit tevore in die sentrum van die openbare belangstelling en word die literatuur van Sestig en later dikwels 'n fel omstrede aangeleentheid. In die besonder neem die skrywers deel aan polemieke waarin die morele gehalte van hulle werk in die gedrang kom en hulle van ‘volksvreemdheid’ beskuldig word, terwyl die pulikasiewetgewing van die sestiger- en sewentigerjare by herhaling reaksie uitlok en 'n langdurige debat oor die vryheid van die kuns en die aangetaste regte van die skrywer tot gevolg het. | |
III. Beheer oor publikasies en die reaksie van skrywersVoor die eerste wetgewing van 1963 deur die Volksraad is beheer oor publikasies in Suid-Afrika toegepas op grond van verskeie koloniale of provinsiale wette, bepalings in verband met doeanebeheer en die Sensuurwet van 1931. Reeds in 1947 kom die beheer oor binnelandse publikasies ter sprake, terwyl die aangeleentheid andermaal onder die soeklig kom as die Transvaalse Hooggeregshof in 1953 uitspraak moet lewer in verband met die kopieregskending van 'n ‘obsene’ artikel wat die tydskrif Keur volgens bewering van Fyn Goud oorgeneem het. Laasgenoemde saak is een van die aanleidende oorsake tot die benoeming van die Cronjé-kommissie in 1954 om ‘die euwel van onwelvoeglike, aanstootlike of skadelike leesstof’ te ondersoek. Die verslag van dié kommissie word in 1956 in die Volksraad ter tafel gelê en in 1957 gepubliseer, maar die verreikende voorstelle in verband met beheer word uiteindelik nie deur die Regering aanvaar nie. Reeds in dié vroeë stadium is daar by herhaling kritiek van skrywers en akademici op die voorgestelde beheer oor publikasies, In 'n opstel wat hy in 1947 publiseer, pleit N.P. van Wyk Louw vir die vryheid van kunsbeoefening en sê hy dat die ‘vernietiging van die moontlikheid dat groot kuns kan ontstaan, ... ook die vernietiging van die hoogste bestaansreg van 'n volk (is)’. In 1953 vra die redaksie van Standpunte verskillende persone om hulle uit te spreek oor die wenslikheid van binnelandse sensuur. Uit die meningsopname blyk dat die oorgrote meerderheid teen die instelling van sensuur is, o.m. omdat die opvattinge oor wat onwelvoeglike of skadelike leesstof is, in so 'n mate op persoonlike smaak berus dat dit moeilik sal wees om 'n maatstaf te vind wat almal sal bevredig. Ná die publikasie van die Cronjé-verslag in 1957 vra Die Huisgenoot in die uitgawe van 21 Oktober 'n aantal skrywers en letterkundiges om kommentaar te lewer, en weer spreek die meerderheid hulle sterk uit teen die voorgestelde beheer. ‘Loop ons ... nie gevaar nie,’ sê G. Dekker, ‘dat hierdie goedbedoelde middel (d.w.s. 'n wet op ongewenste publikasies - J.C.K.) om een nare euwel te bestry oorsaak word van 'n veel groter euwel: die belemmering van die vrye geestelike groei van 'n volk soos dit tot openbaring | |
[pagina 232]
| |
kom in die heel essensiële openbaring van sy geestelike lewe en bestaan: die kuns.’ Ná die Cronjé-kommissie se verslag was daar verskeie ander pogings om sensuur ingestel te kry totdat die Regering in 1963 die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede deur die Parlement loods. Ingevolge hierdie wet word beheer uitgeoefen deur 'n Raad wat uit minstens nege lede bestaan en van wie ses besondere kennis van kuns, taal en lettere of die regspleging moet hê. Die aanstelling word gedoen deur die Minister van Binnelandse Sake, wat ook 'n paneel aanwys waaruit die Raad komitees kan benoem om - onder voorsitterskap van een van die raadslede - verslag te doen oor 'n publikasie wat aan hom voorgelê word. Enige lid van die publiek is geregtig om publikasies vir beoordeling aan die Raad voor te lê, terwyl iemand - 'n skrywer, uitgewer of invoerder - by enige afdeling van die Hooggeregshof (en daarna ook by die Appèlhof) appèl kan aanteken indien hy hom deur 'n verbod veronreg voel. Volgens die wet is dit nie vir die Raad nodig om redes vir sy beslissings aan te voer nie. Koerante wat lid van die Suid-Afrikaanse Persunie is, ressorteer nie onder die wet nie. Uit die staanspoor was die heftigste kritiek op die wet gerig teen die kriterium wat by 'n verbod aangelê word. Ingevolge artikel 5 (2) is 'n publikasie ongewens indien dit of 'n deel daarvan onbetaamlik of onwelvoeglik is of vir die openbare sedes aanstootlik of skadelik is; godslasterlik is of vir die godsdienstige oortuigings of gevoelens van enige bevolkingsdeel van die Republiek aanstootlik is; enige bevolkingsdeel van die Republiek belaglik of veragtelik maak; vir die betrekkinge tussen enige bevolkingsdeel van die Republiek skadelik is; of vir die veiligheid van die Staat, die algemene welsyn of die vrede en goeie orde nadelig is. Artikel 6 gee dan 'n omskrywing wat onder ‘onbetaamlik of onwelvoeglik of vir die openbare sedes aanstootlik of skadelik’ verstaan moet word: indien dit na die oordeel van die hof die strekking het om die gedagtes van persone wat waarskynlik aan die uitwerking of invloed daarvan blootgestel sal word, te verderf of te laat ontaard; waarskynlik skokkend of walglik sal wees vir persone wat dit waarskynlik sal lees of sien; of op
| |
[pagina 233]
| |
onbetaamlike wyse handel met 'n lang reeks onderwerpe soos moord, wetteloosheid, verslaafdheid, allerlei vorme van seksualiteit e.d.m. Daarby mag die doel van die skrywer of uitgewer nie by die vasstelling van onbetaamlikheid of onwelvoeglikheid in ag geneem word nie. Die besware teen die wet geld allereers die bepaling dat 'n publikasie ongewens verklaar kan word indien dit ‘of 'n deel daarvan’ onbetaamlik of onwelvoeglik is. Daarmee is die teoretiese moontlikheid geskep dat 'n boek op grond van 'n enkele paragraaf of woord verbied kan word, terwyl nêrens die besondere aard van die literêre kunswerk en die elementêre stelreël dat 'n gedig, roman of drama alleen as 'n geheel beoordeel kan word, in die wet ingebou is nie. Dat estetiese oorwegings inderdaad heeltemal irrelevant was, het geblyk uit die hofsaak in verband met When the lion feeds van Wilbur A. Smith - die eerste verbod op 'n publikasie wat kragtens die wet tot 'n regsgeding lei - waartydens die regters beslis het dat die getuienis van literêre deskundiges nie toelaatbaar is nie. Afgesien hiervan was daar besware teen die wyse waarop die wet deur die Regering deur die Parlement geloods is en die persone wat aanvanklik vir sitting op die Publikasieraad in aanmerking gekom het. Daar is openlik gegis dat Abr. H. Jonker - een van die belangrikste Regeringswoordvoerders vir die wetsontwerp in die Volksraad - voorsitter van die Raad sou word, 'n benoeming wat om 'n verskeidenheid redes vir die meeste skrywers nie aanvaarbaar sou wees nie. Die instelling van die Publikasieraad het verder saamgeval met die verskyning van enkele belangrike werke deur Sestigers, o.m. Brink se Lobola vir die lewe en Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (albei 1962), en letterkundiges en skrywers was bevrees dat werke van dié literêre gehalte verbied kon word indien die Publikasieraad nie uit kundige persone saamgestel is nie. Deur bemiddeling van N.P. van Wyk Louw is G. Dekker as voorsitter van die Raad aangestel, terwyl drie prominente Afrikaanse literatore - A.P. Grové, Merwe Scholtz en T.T. Cloete - tot lede benoem is. Ten spyte hiervan was daar deurentyd kritiek van skrywers en is petisies, pleidooie en versoeke by herhaling opgestel om die wetgewing te keer of om vir 'n gunstiger bedeling te pleit. Van Wyk Louw noem die wetgewing 'n effektiewer manier om die Afrikaanse taal en literatuur dood te smoor as wat Milner kon bedink het, terwyl D.J. Opperman op die ‘agterlike literatuurbeskouing ten grondslag’ van die wet, ‘die groot magte van willekeur in nieliterêre hande’ en ‘die finansiële risiko van appèl’ (Verspreide opstelle, Kaapstad/Pretoria, 1977, p. 81) wys. Namens die Sestigers tree veral André P. Brink by herhaling deur middel van persoonlike korrespondensie met die Minister en literatore, briewe aan koerante, artikels en lesings op as belangrikste kritikus van die nuwe bedeling en verdediger van die skrywers se belange. Brink waarsku dat sensuur en die klimaat van vrees wat daardeur opgewek word, die kreatiewe moontlikhede van die Afrikaanse letterkunde kan fnuik, terwyl hy dit later het oor ‘die feit dat daar dag vir dag baklei moet word vir literêre waardes wat in die res van die wêreld al geslagte lank as vanselfsprekend beskou word’ (Die Sestigers, Kaapstad/Pretoria, 1973, p. 30). Ná sy termyn as voorsitter word Dekker opgevolg deur Jannie Kruger, wat op grond van sy publikasies en algemene aansien as literator nie die respek van sy voorganger afgedwing het nie. In die sestigerjare verbied die Publikasieraad by herhaling uitgawes van die tydskrif Scope, wat dan later deur die Hooggeregshof ter | |
[pagina 234]
| |
syde gestel word. Afgesien van die ongunstige openbare belangstelling wat dit in die werk van die Raad uitlok, laat die groot aantal kostebevele teen die Raad bedenkinge by die belastingbetalers ontstaan oor die funksionaliteit van die hele publikasiebeheer en word die stelsel en die lede van die beheerliggaam die skyf vir felle kritiek en skerp satiriese reaksies. Kort voor die vervanging van die 1963-wetgewing met 'n nuwe bedeling word André P. Brink se Kennis van die aand deur die Publikasieraad verbied. In die Hooggeregshofsaak wat daarop in Kaapstad volg, gee regterpresident Van Wyk en regters Diemont en Steyn uitspraak ten gunste van die Publikasieraad, al laat regter Steyn blyk dat hy dié besluit ‘vanweë die behoefte aan 'n viriele letterkunde in die Afrikaanse taal’ teensinnig neem. In 1972 word 'n kornitee (later verander in 'n kommissie) van ondersoek onder voorsitterskap van J.T. Kruger saamgestel om die toepassing van die publikasiewetgewing na te gaan. In die meerderheidsverslag wat dié kommissie in 1974 ter tafel lê, word onder meer gesê dat baie lede van die publiek nie meer vertroue in die beheerstelsel het nie en dat die vervlakking van die volk se moraal en ondermyning van die goeie sedes en gewoontes die doelstellings van die kommunisme kan bevorder. Daarom is nuwe wetgewing noodsaaklik. A.H. van Wyk merk egter op dat dit ‘nie onbillik (sou) wees om te beweer dat die terugslae wat die raad in die howe gekry het, 'n bydraende oorsaak van die wetgewende ywer was nie’ (Standpunte, XXVII: 6, Augustus 1974). Die Wet op Publikasies van 1974, wat die 1963-wetgewing vervang, bring 'n radikale vernuwing van die beheerstelsel mee. Die Publikasieraad word afgeskaf en in die plek daarvan kom 'n Direktoraat, bestaande uit 'n direkteur, adjunk en 'n aantal onderdirekteure, wat as suiwer administratiewe liggaam die wet moet uitvoer. Die Direktoraat benoem ook 'n aantal komitees uit 'n lys wat jaarliks deur die Minister van Binnelandse Sake saamgestel word en wat die funksie het om publikasies as gewens of ongewens te verklaar. Sowel die lede van die Direktoraat as dié van die komitees word aangestel op grond van hulle opvoedkundige kwalifikasies. Die appèl na die howe word volgens die nuwe wet afgeskaf en 'n Appèlraad in die lewe geroep wat uit minstens drie lede bestaan van wie die voorsitter 'n persoon is wat voorheen as regter, advokaat, prokureur of dosent in die regsgeleerdheid tien jaar ondervinding moes gehad het. Die voorsitter van die Appèlraad word deur die Staatspresident aangestel, en hy wys weer op sy beurt die ander lede op grond van hul opvoedkundige kwalifikasies vir 'n bepaalde sitting aan, terwyl die direkteur vyfjaarliks 'n lys van moontlike name vir die Appèlraad aan die Staatspresident voorlê. Soos in die geval van die vorige wet mag enige lid van die publiek 'n beslissing van 'n komitee oor 'n publikasie verkry. Indien daar ontevredenheid oor die beslissing van 'n komitee bestaan, kan 'n uitgewer of skrywer en die Direktoraat hom op die Appèlraad beroep. Ook die Minister het die bevoegdheid om die Appèlraad te versoek om 'n beslissing in hersiening te neem, maar die Appèlraad self kan nie uit eie beweging optree nie. Wat die omskrywing in verband met ongewenstheid betref, kom die nuwe wet woordeliks met dié van 1963 ooreen, behalwe dat die waarskynlike leser van 'n geskrif nie meer in aanmerking geneem word nie. Die nuwe Wet op Publikasies skep 'n veel moeiliker situasie vir die voortbestaan en uitbouing van 'n lewenskragtige literatuur as die vorige bedeling. Besware wat | |
[pagina 235]
| |
teen die wetgewing uit 'n juridiese oogpunt genoem kan word, is dat 'n komitee nou ook die besit van 'n publikasie kan verbied, die Minister enigiemand die magtiging kan gee om persele te betree en op boeke beslag te lê, die reg van appèl na die howe afgeskaf word en die Minister te veel arbitrêre magte verkry. Naas die lomp administrasie, vaaghede van die aanklagte en twyfel oor die bevoegdheid van komiteelede bly die belangrikste beswaar uit 'n literêre oogpunt die situasie dat 'n werk nie in sy geheel beoordeel word nie en estetiese oorwegings vir die wetgewer irrelevant is. Sedert die nuwe bedeling is 'n hele aantal Afrikaanse literêre werke verbied. Afgesien van die verbod op die vertaalde trefferroman Die Odessa-dossier, wat op 'n amusante vergissing in verband met staatsveiligheid berus het en onmiddellik herroep is, word Skryt (Breyten Breytenbach), Keerkring (Welma Odendaal), Magersfontein, o Magersfontein! (Etienne Leroux) - in 1980 ter syde gestel - Struisbaaiblues (André le Roux) - intussen opgehef -, Donderdag of Woensdag - in 1983 opgehef - en Stanley Bekker en die boikot (albei John Miles), Kommas uit 'n boomzol en Sonneskyn en Chevrolet (albei Dan Roodt) en Te hel met ouma! (André le Roux) - intussen ter syde gestel - op grond van die 1974-wetgewing verbied, terwyl ook die teks van die ongepubliseerde Dieselle ou storie (Pieter-Dirk Uys) - in 1982 opgehef - en And death white as words (vertalings van gedigte deur Breyten Breytenbach) in die ban gedoen is. In die geval van Magersfontein, o Magersfontein! beslis die Appèlraad dat die boek ongewens is, al verskil A.P. Grové en Douglas Fuchs, twee lede van die raad, van die meerderheidsuitspraak van die voorsitter, J.H. Snyman. Ook die uitgewers se appèl na die Hooggeregshof oor prosedurekwessies wat met die verbod gevolg is, het nie die gewenste resultaat nie, al bevind die Hooggeregshof dat die Appèlraad gedwaal het deur by die beslissing dat die boek onbetaamlik is, nie die waarskynlike leser in aanmerking te neem nie. In 1980 stel die Appèlraad egter ná 'n verdere versoek van die uitgewers die verbod ter syde. In sy 1980-uitspraak oor Magersfontein sê die Appèlraad dat twee faktore by die beslissing van kardinale belang was. In die eerste plek het die Hooggeregshof in die 1978-saak beslis dat die waarskynlike leser pleks van die gemiddelde man by die toepassing van artikel 47 (2) (a) van die Wet by die besluit in aanmerking geneem behoort te word oor die wenslikheid al dan nie van 'n publikasie. In die tweede plek bring die feit dat die begrippe ‘letterkunde, taal en kuns’ in die Wysigingswet op Publikasies van 1978 vir die eerste keer in die Wet genoem word, mee dat die Appèlraad in sy oordeel ‘hierdie faktore as positiewe aspekte’ in ag behoort te neem. Wat die beslissing hieroor betref, sal die Appèlraad hom laat lei deur die advies van 'n Komitee van Deskundiges wat deur die 1978-wetgewing as moontlikheid gestel is en van wie se mening hy nie ligtelik sal afwyk nie. Die Voorsitter van die Appèlraad mag volgens die 1978-wetgewing so 'n Komitee aanstel, maar móét dit doen as 'n belanghebbende daarom vra. Die Komitee bestaan uit ten minste drie persone wat, afgesien van hulle opvoedkundige kwalifikasies, op die gebied van die kuns, taal- of letterkunde onderleg is. Waarborge vir skrywers wat die Appèlraad in die uitspraak gee, is dat enige onderwerp - ook 'n immorele - in 'n kunswerk behandel mag word; dat die woord ‘aanstootlik’ in die Wet nie ‘beteken ... dit wat ergerlikheid of misnoegdheid veroorsaak nie’ en ‘juis ... ook die lelike en skokkende uitgebeeld mag word’; dat die waarskynlike leser in ag geneem moet word ‘by die bepaling van die aard of strekking van die boek in sy geheel ... en met inagneming van die konteks waarin | |
[pagina 236]
| |
die woorde daarin gebesig’ word; en dat die ‘isolasiemetode van beoordeling ... nie toegepas mag word nie’. Van die werke wat ingevolge die nuwe wetgewing verbied is, sluit van die belangrikste Afrikaanse literatuur van die sewentigerjare in, terwyl die hele situasie met die beheer oor publikasies ontmoedigend werk teenoor jong, belowende skrywers (bv. Welma Odendaal en André le Roux). Daarby het die gevaar van ‘presensuur’ deur uitgewers wat uit vrees vir 'n verbod nie kans sien om die risiko van 'n publikasie te loop nie, nou 'n werklikheid geword. In twee gevalle, nl. 'n Oomhlik in die wind en 'n Droë wit seisoen (albei deur Brink, wie se Kennis van die aand in 1982 vrygestel word), moes J.J. Human, die uitgewer aan wie die manuskripte aanvanklik vir publikasie voorgelê word, verklaar dat die werke literêr aanvaarbaar is maar dat sy firma weens die gevaar van optrede deur die beheerliggame nie tot publikasie kan oorgaan nie. Wat Brink vroeër ‘die vretende, broeiende, bose klimaat’ rondom die Wet genoem het, is met die nuwe bedeling vir die Afrikaanse skrywer 'n wrede werklikheid. En al sal, soos E. Lindenberg dit stel, die ‘knap skrywer ... in sy werk op 'n vyandige wetgewing reageer deur eenvoudig listiger, met groter ironie te skryf, ... (word) sy gees ... aan bande gelê juis omdat hy voortdurend bewus moet wees van en reageer op allerlei abnormale toestande en beperkings’ (Standpunte, XXXI: 1, Februarie 1978, p. 15). | |
IV. Die literêre strydAlhoewel die verskeidenheid, uiteenlopendheid en die verskille met betrekking tot styl, struktuur en die aard van die eksperiment van die begin af by die Sestigers oorheers en hulle dus nie 'n literêre groep genoem kan word wat 'n bepaalde rigting in die kuns voorstaan in die sin wat die Nederlandse Tagtigers in hulle beginfase of die eksperimentele digters van die vyftigerjare dit was nie, is daar tog 'n duidelike gemeenskaplike doelstelling wat tot hulle historiese situasie en gesamentlike reaksie op die bestaande orde herlei kan word. In hulle werk reageer die Sestigers bewustelik of onbewustelik op die beperktheid en die konserwatiewe beeld van die Afrikaanse prosa vóór hulle en kom hulle ooreen deurdat hulle werk - hoe sterk die onderlinge verskille ook al mag wees - in baie opsigte verrassend-nuut aandoen.
| |
[pagina 237]
| |
Daarby het die meeste kritici aan die begin hulle werk met baie voorbehoude benader of negatief beoordeel. Die instelling van die Publikasieraad in 1963 dra verder by om die solidariteit onder die skrywers te versterk, omdat die aanvanklike literêre onbegrip - wat slegs van tydelike aard was - daarmee verskuif het na die veel groter gevaar van ‘ongewenstheid’ as sodanig. Al hierdie probleme waarmee die skrywers te kampe het, help dus die groepsvorming verder aan. Maar afgesien hiervan word hulle ook verenig deur die drif vir die literatuur en die behoefte om van tyd tot tyd - aanvanklik tydens die somervakansies in Kaapstad, later tydens die Kaapstadse Somerskool en die byeenkomste van die Skrywersgilde - met mekaar te gesels en gedagtes te wissel. | |
1. Die wegbereiding vir Sestig en die rol van N.P. van Wyk LouwTerwyl die meeste Sestigers se eerste werke, wat meestal uit tradisies soos die lokale realisme of die boereromantiek stam, in die middel van die vyftigerjare begin verskyn het, was daar landswyd onder kritici 'n besinning oor die stand van die Afrikaanse prosa aan die gang. In 'n reeks wat Die Huisgenoot vanaf 24 Oktober tot 28 November 1952 publiseer en wat bydraes deur o.a. W.E.G. Louw, F.E.J. Malherbe, P. du P. Grobler, Meyer de Villiers en W.J. du P. Erlank bevat, word gewys op die stilstand in ons prosa en die gevaar van veelskrywery om kommersiële oorwegings in 'n situasie waarin die skrywer maar al te maklik 'n uitgewer kon vind. In 'n artikel wat by hierdie reeks aansluit (O.E.B., XVIII: 2), wys Rob Antonissen op die ‘skamel skouspel’ wat die Afrikaanse prosa bied. Hy waardeer die bydraes van ouer prosaïste in die veertiger- en vyftigerjare (Boerneef, M.E.R., Toon van den Heever, Franz), maar hulle kan nie as die ‘hoop van die toekoms’ beskou word nie, terwyl 'n paar werke deur jonger outeurs ‘nouliks 'n ligpunt in 'n dik newel van gelykvloersheid en onmag’ is. Vyf jaar later vra die S.A.U.K. 'n twaalftal skrywers en kritici om te besin oor die vraag Wat van ons letterkunde? In hierdie reeks, wat in brosjurevorm gepubliseer word en waartoe o.a. N.P. van Wyk Louw, W.J. du P. Erlank, W.E.G. Louw, G. Dekker, Merwe Scholtz, G.S. Nienaber, P. du P. Grobler, F.E.J. Malherbe en Rob Antonissen bydra, oorheers die klagtes oor die gehalte van die Afrikaanse prosa. Van Wyk Louw wys op die stilistiese onvermoë van baie ouer prosaskrywers en die gemis aan romans wat ons ‘groot’ en ‘groots’ kan noem, wat ‘iets van die eindelose rykdom van die werklikheid ... gee, iets van die ellende, die grootsheid en die verskrikking van die lewe, iets van die mens in sy bietjie deug en sy groter sondigheid’. Volgens Rob Antonissen besit ons in Afrikaans heelwat voortreflike prosa ‘in humoristiese, anekdotiese, moralistiese, regionalisties-tiperende en joernalistiek-causerende trant, met name in die genres van vertelling, novelle, kortverhaal en skets’. Die verontrustende verskynsels lê volgens hom ‘in die massaproduksie van vals-romantiese prulverhale; in die stylloosheid, vlakheid, omslagtigheid, retoriek en taalgeknoei van so baie romans en novelles wat as ewesovele nuwe mylpale-in-ons-letterkunde aangedien word; in die amper volslae afwesigheid van die roman wat die angswekkende probleme van ons bestaan in hierdie land en van ons bestaan-sonder-meer pakkend in beeld sou bring; en in die | |
[pagina 238]
| |
geesteshouding van ‘taboe’-skreeuende welvoeglikheidsprofete en kultuurleiers wat ... hemel en aarde wil beweeg om daardie afwesigheid te bestendig’. Jare voordat die vernuwing in die Afrikaans prosa in sy volle omvang deurbreek, is daar dus reeds nagedink oor die probleme wat ten grondslag van die stilstand op dié gebied lê. Vanuit hierdie besinning en kritiese instelling kon reeds 'n sekere mate van stimulering uitgegaan het, al is dit so dat baie van die aspekte en voorwaardes wat die kritici ter sprake bring, juis nie by die Sestigers neerslag vind nie. Naas sekere stilistiese effekte wat hulle wel bereik, toon sommige van hulle 'n ontstellende onverskilligheid wat taal en styl betref. Daarby het die vernuwing nie beweeg na die ‘grootse’ roman wat 'n hele wêreld met sy verskeidenheid kan vasvang nie, maar eerder in 'n rigting wat eksperimenterend ander weë en ‘gewaagde’ temas verken. Tog kan 'n mens sê dat die besinning oor die agterstand van die Afrikaanse prosa in die vyftigerjare die denkende leser en jonger voornemende skrywers gevoeliger gemaak het vir 'n groot hiaat in die Afrikaanse literatuur én in die Afrikaanse werklikheidsbelewing as sodanig. Met die verskyning van Van Wyk Louw se Vernuwing in die prosa (1961), waarvan die grootste deel in 1957 en 1958 as praatjies deur die Nederlandse Radio Hilversum Wereldomroep uitgesaai is, word die Afrikaanse prosa nog verder aan 'n skerp kritiese ondersoek onderwerp. In die eerste deel van dié boek wys Van Wyk Louw op die belangrikste tekortkominge van die ouer prosa en dui hy die rigtings aan waarin vernuwing moontlik is, terwyl hy in 'n ‘Nákaart oor vernuwings’ (1961) op die nuwe werk van Rabie, Leroux en Van Niekerk (in die tweede uitgawe van 1963 ook op dié van Brink) wys en sy waardering daarvoor uitspreek. Daarmee is Van Wyk Louw, ná Antonissen in sy gereelde kronieke in Standpunte, die eerste prominente literator wat die aandag pertinent op werk van die jonger skrywers vestig en 'n welkome afwisseling bring op die onbegrip waarmee hulle aanvanklik begroet is. Hierdie erkenning deur 'n persoon met die status van Van Wyk Louw het vir die Sestigers besonder baie beteken. Deur sy belangstelling deur middel van persoonlike gesprekke, bydrae tot Sestiger en inleiding tot die bloemlesing Windroos (1964) word hy in die eerste fase van die vernuwing die belangrikste apologeet van Sestig en dui hy tendense in hulle werk en strewe betreklik vroeg duidelik aan. Terwyl die meeste kritici die verandering baie aarselend en heel dikwels negatief beoordeel het, skryf baie van hulle ná die verskyning van Vernuwing in die prosa met groter geesdrif en enkele male selfs met entoesiasme of formuleer hulle hul besware vollediger en met meer kundigheid. | |
2. Die totstandkoming en funksie van SestigerAanvanklik vind sommige van die Sestigers, soos Jan Rabie en Etienne Leroux, dit moeilik om van hulle bydraes in die gevestigde literêre tydskrifte gepubliseer te kry, terwyl uitgewers in die beginstadium ook nie altyd hulle manuskripte sonder voorbehoud wou aanvaar nie. Hierdie probleme was egter slegs van tydelike aard, en betreklik gou ná die verskyning van Vernuwing in die prosa geniet die Sestigers algemene erkenning van vrywel alle belangrike kritici. Tog was daar by enkele van die jonger skrywers die gedagte om met 'n eie literêre | |
[pagina 239]
| |
tydskrif te begin. As Bartho Smit en Chris Barnard nie daarin kan slaag om borge vir so 'n blad te vind nie, onderhandel hulle met Abel Coetzee van die Tydskrif vir Letterkunde en word besluit om 'n nuwe tydskrif onder die naam ‘60’ met Tydskrif vir Letterkunde as subtitel in die lewe te roep. Coetzee sou die hoofredakteur bly, met Bartho Smit as hulpredakteur en Etienne Leroux, Jan Rabie, Adam Small, Pieter Venter, Koos Meij, Hennie Aucamp, Abr. H. de Vries en André P. Brink op die paneel. Die doelstelling van die blad sou - volgens die ‘Ter inleiding’ in die eerste nommer - wees ‘om die regte klimaat en begrip vir hulle werk en strewe te skep’, as podium vir die jonger skrywers te dien en ‘'n venster oop te maak op die rigtings en strominge van ons eie tyd, en andersyds ... die jonger skrywer die geleentheid te bied om helderheid te kry oor wat en waarheen hulle wil en moet’. In Februarie 1963 verskyn ‘60’: Tjdskrif vir Letterkunde, nuwe reeks, jaargang 1, nr. 1 met bydraes van die jonger skrywers waarin die vernuwing van die Afrikaanse literatuur by wyse van skeppende werk en kritiese stukke voorrang geniet, voorafgegaan deur 'n volkome verwarde inleidingsartikel van Coetzee wat bedoel is as 'n (haas onverstaanbare) ‘pleidooi’ vir die moderne skrywer. Die eerste nommer van die nuwe tydskrif laat besonder gou 'n heftige reaksie ontstaan as dit blyk dat die opname van die jongeres in die redaksie bedenkinge in sekere kringe veroorsaak en tot gevolg kan hê dat die staatsteun vir die tydskrif gestaak mag word. Coetzee vra Smit om as hulpredakteur uit te tree, waarop ook die lede van die paneel hulle verbintenis met die blad verbreek. Die hele gebeurtenis en die wyse waarop hulle behandel is, het egter die gevoel van solidariteit onder die Sestigers verskerp. Daarby kry die aangeleentheid heelwat publisiteit in die dagblaaie en vind die skrywers dit derhalwe betreklik maklik om 'n borg vir 'n nuwe tydskrif te vind. As Coetzee dreig met 'n hofbevel indien hulle die naam ‘60’ vir hulle blad gebruik, besluit hulle op die naam Sestiger. In November 1963 verskyn die eerste nommer met Barnard, Brink, De Vries, Leroux, Meij, Rabie, Small en Dolf van Niekerk as redaksielede. Smit sou as die hoofredakteur optree, maar nog vóór die verskyning van die eerste nommer was daar pogings om sy posisie as uitgewer by die Afrikaanse Pers-Boekhandel te bemoeilik. As Brink juis in hierdie tyd 'n verklaring oor die publikasiewetgewing aan die B.B.C. doen, word dit as rugstekery van sy kant beskou en verklaar van die ouer akademici dat hulle alle betrekkinge met die A.P.B. gaan verbreek indien sy uitgewer hom langer by die Sestigers skaar. Die enigste praktiese uitweg vir Smit was dus om sy naam ‘amptelik’ aan die redaksie te onttrek en klandestien met die redigering voort te gaan. Vanaf die derde nommer van Sestiger neem Brink die redaksionele werk van die blad oor en word hy die leidende figuur onder die Sestigers in die verwoording van hulle ideale, reaksie op die publikasiebeheer en ongeregverdigde kritiek op die nuwe skrywers en hulle werke. Sestiger bied vir die skrywers die geleentheid om hulle kragte saam te span, vryelik in nuwe rigtings te eksperimenteer, oor hulle werk te besin en polemies standpunt in te neem teen persone en toestande in die literêre wêreld en die samelewing as sodanig. En al is dit so dat die Sestigers by die oprigting van die blad reeds maklike toegang tot ander bestaande tydskrifte en koerante gehad het en uitgewers baie geïnteresseerd was om hulle werk te publiseer, verwesenlik hulle met die totstandkoming van Sestiger die ideaal om 'n eie blad te hê waarin hulle menings onafhanklik en sonder voorbehoud gelug kan word. | |
[pagina 240]
| |
3. Die Kaapstadse Sestigerkongres, die totstandkoming van die Afrikaanse Skrywersgilde en die oprigting van TaurusIn die sestiger- en sewentigerjare is die Sestigers besig om aan hulle oeuvres voort te bou en in al drie genres die Afrikaanse letterkunde met werke van wesentlike belang te verryk. Terselfdertyd is hulle ook telkens betrokke by aksies, versoekskrifte en onderhoude met koerante om die sensuurbedeling te verander of by wyse van briewe aan dagblaaie en tydskrifte polemiserend besig om hulle werk teen ongeregverdigde aanvalle uit 'n moreel-Christelike standpunt te verdedig. By herhaling reageer hulle op die selfingenome en aanmatigende optrede van sommige akademici en foutiewe optrede in verband met bekronings. Hierdie polemiese aktiwiteit bereik reeds 'n eerste hoogtepunt in 1964 met die stryd om die Hertzogprysbekroning van Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, terwyl die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns in 1968 en weer in 1974 daarvan beskuldig word dat hy die Hertzogprys om politieke oorwegings van Breytenbach weerhou. Telkens moet die Sestigers hulself verdedig teen onverdraagsames of onkundiges en die reg opeis om hulle kuns onbelemmerd en met die nodige vryheid te beoefen. In Februarie 1973 reël die Universiteit van Kaapstad as deel van sy jaarlikse somerskool 'n kongres waaraan die belangrikste Sestigers en enkele skrywers van die sewentigerjare deelneem, bestek opmaak van wat reeds bereik is en hulle ideale vir die toekoms stel. Afgesien van die geleentheid wat hierdie byeenkoms vir die skrywers bied om bymekaar te kom en deur middel van gesprekke mekaar te stimuleer, versterk dit die solidariteit onder hulle deur die unanieme afkeer van die beheer oor publikasies en sommige aspekte van die apartheidsbeleid. In dieselfde jaar kry John Miles, Chris Barnard en Ampie Coetzee beheer oor die Johannesburgse tak van die Afrikaanse Skrywerskring, en as Brink se Kennis van die aand vroeg in 1974 verbied word, reageer hulle deur 'n fonds vir die verdediging van die boek te stig en sterk bewoorde verklarings oor die aangeleentheid uit te reik. Hulle versoek ook dié letterkundiges (Grové, Cloete en Scholtz) wat in die Publikasieraad dien en terselfdertyd met die Suid-Afrikaanse Akademie se letterkundige bekronings te make het, om uit die Publikasieraad te bedank, aangesien 'n verbod soos dié op Kennis van die aand nie te rym is met die bevordering van die Afrikaanse letterkunde, waartoe die Akademie verbind is nie. As die Johannesburgse tak oor hulle houding en uitsprake oor sensuur tot verantwoording geroep word, bedank Miles en die ander jonger skrywers uit die Skrywerskring. Dit lei in 1975 tot die eerste Broederstroom-beraad waarop die Afrikaanse Skrywersgilde gestig word met die doel om die belange van die skeppende kunstenaars, ongeag ras of kleur, te beskerm. Sedert sy stigting hou die Afrikaanse Skrywersgilde jaarlikse byeenkomste waarop die kunstenaars gedagtes kan wissel en sake van gemeenskaplike belang kan bespreek. In die besonder is die gilde gekant teen enige vorm van sensuur en word die basiese voorwaardes neergelê wat kan geld as die minimumwaarborge waarsonder 'n ernstige en verantwoordelike literatuur nie kan voortbestaan nie. Dit sluit in dat die literêre werk as 'n geheel beoordeel moet word, estetiese waarde deurslaggewend moet wees, die uitwerking op die waarskynlike leser in aanmerking geneem moet word en appèl na die Hooggeregshof moontlik moet wees. By herhaling rig die gilde ook versoeke aan die Minister van Justisie dat Breyten Breytenbach tydens die | |
[pagina 241]
| |
jare van sy gevangenisstraf (1975-1982) ingevolge die Wet op Terrorisme, toegelaat moet word om sy werk as skrywer en skilder in aanhouding onbelemmerd voort te sit. In 1976 word die gilde oopgestel vir lidmaatskap van skrywers uit die Engelse taalgebied. In 1977 vra 'n groep lede van die gilde, wat ook lede van die Akademie is, dat bruinmense wat 'n beduidende bydrae tot die literatuur gelewer het, tot die Akademie mag toetree. As die Akademie in November van dieselfde jaar nie tot 'n besluit oor die lidmaatskap van S.V. Petersen kan kom nie, bedank Anna M. Louw, Elsa Joubert, Etienne Leroux, Jan Rabie, Leon Rousseau en Abr. H. de Vries as lede. In aansluiting by die aktiwiteite van die Skrywersgilde rig E. Lindenberg, Ampie Coetzee en John Miles in 1975 die onafhanklike uitgewersfirma Taurus op met die doel om van tyd tot tyd literêre werk van verdienste wat om sensuurredes deur gevestigde uitgewers afgekeur of moeilik aanvaar sal word, te publiseer. Die regstreekse aanleiding hiertoe is Human & Rousseau en later ook Perskor se besluit dat hulle Brink se roman 'n Oomblik in die wind uit vrees vir moontlike optrede deur die beheerliggame nie kan publiseer nie. Sedert sy bestaan verskyn by Taurus, wat in sommige opsigte met die Vereniging vir die Vrye Boek van die dertigerjare vergelyk kan word, o.m. 'n Oomblik in die wind (Brink), Blomskryf (Breytenbach), Donderdag of Woensdag en Stanley Bekker en die boikot (albei Miles), Laaste middagmaal (Stockenström), Die Van Aardes van Grootoor (Uys), 'n Droë wit seisoen (Brink), Sonneskyn en Chevrolet (Roodt) en Te hel met ouma! (Le Roux). Van hierdie publikasies is Stanley Bekker en die boikot en Sonneskyn en Chevrolet nog steeds verbied. | |
V. Algemene en literêre tydskrifteTerwyl die hoë vlug van die literatuur vanaf die dertigerjare die bestaande algemene tydskrifte stimuleer, is dit - dikwels om tematiese oorwegings of 'n verwikkelde verwysingsisteem in die prosa - nie meer in dieselfde mate die geval met die geslag wat in die tweede helfte van die vyftigerdekade aan die woord kom nie. Alhoewel sommige van hulle 'n tyd lank in die joernalistiek werksaam is of rubrieke in koerante en tydskrifte behartig, is die noue verbintenis tussen die literatuur en die joernalistiek iets van die verlede. Dit bring mee dat die algemene tydskrifte, soos Die Brandwag en Die Huisgenoot, geleidelik minder verhale van literêre waarde publiseer en toenemend op ontspanningslektuur ingestel word. In 1965 hou Die Brandwag op om te bestaan, terwyl Die Huisgenoot weinig aan die literatuur meedoen en in die sewentigerjare selfs sy gereelde boekbesprekings staak. Naas die Suid-Afrikaanse Panorama (Pretoria, 1956-), wat as inligtingsblad heelwat foto-artikels opneem, kom enkele ander tydskrifte tot stand wat ook aan die Afrikaanse literatuur aandag gee: Die Bondgenoot (Pretoria, 1955-), amptelike orgaan van die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond, wat op die poskantoorpersoneel ingestel is; die Afrikaans-Nederlandse Maandblad (Johannesburg, 1956-l959), wat die Nederlandse immigrant van informasie oor Suid-Afrika voorsien; Handhaaf (Johannesburg, 1963-), amptelike orgaan van die F.A.K.; en Buurman (Johannesburg, 1970-), wat die begrip tussen die Afrikaanse en Joodse gemeenskappe in die land wil versterk. Van die bestaande literêre tydskrifte gaan Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde in | |
[pagina 242]
| |
hierdie tydvak met publikasie voort. Standpunte word in die vyftiger- en eerste helfte van die sestigerjare veral gedra deur die kritiese artikels van 'n aantal jonger letterkundiges en die gereelde kronieke van Rob Antonissen, terwyl Tydskrif vir Letterkunde aanvanklik heelwat swak werk publiseer maar onder die redaksie van C.F. Rudolph en later veral Elize Botha geleidelik verbeter. In 1960 word die kwartaalblad Contrast in Kaapstad onder redaksie van onder andere Jack Cope, Anthony Delius, Jan Rabie, Kees Greshoff, Uys Krige en Freda Linde opgerig, wat hoofsaaklik op die Engelse letterkunde konsentreer, maar ook Afrikaanse bydraes van jonger outeurs publiseer. Prisma, die kultuurblad van die Stellenbosse studente, verskyn jaarliks in die periode 1956-1959 en bevat van die eerste werk van Abr. H. de Vries, W.F. Knobel, Hennie Aucamp, R.K. Belcher en George Louw, terwyl Inset, die amptelike blad van die Stellenbosse Afrikaanse Studiekring, in die jare 1961-1962 skeppende en kritiese bydraes van studente oor die hele land opneem; hierin verskyn werk van Aucamp, Chris Barnard, Belcher, De Vries, Knobel en Lina Spies en kritiese bydraes van P.J. Conradie, W.F. Jonckheere, J.C. Kannemeyer, Edith Raidt, J.P. Smuts, Henning Snyman en Rialette Wiehahn. In die plek van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns begin die Suid-Afrikaanse Akademie in Maart 1961 met twee blaaie, waarvan die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, met o.a. Elize Botha en later Edith Raidt as redakteurs, ook letterkundige artikels en boekbesprekings opneem. In die sestigerjare word twee uitsluitlik literêr-kritiese blaaie opgerig. Kriterium (Kaapstad 1963-1966) onder redaksie van J.C. Kannemeyer, E. Lindenberg en Edith Raidt vervul as ‘tydskrif vir boekbespreking en kritiek’ tydelik die funksie van die vroeëre Ons Eie Boek, terwyl Klasgids (Pretoria, 1965-) onder redaksie van o.a. C.F. Rudolph en Koos Meij ingestel is op dosente van Afrikaans en naas vakkennis ook aan metodes van onderrig aandag gee. Sestiger (Pretoria, 1963-1966) onder redaksie van Chris Barnard, André P. Brink, Abr. H. de Vries, Etienne Leroux, Koos Meij, Jan Rabie, Adam Small en Dolf van Niekerk en Kol (Johannesburg, 1968-1969) onder redaksie van Chris Barnard, P.G. du Plessis, Louis Eksteen, John Miles en Bartho Smit dien in die sestigerjare albei 'n tydjie lank as podium vir nuwe tendensies in die letterkunde. Met Wurm (Johannesburg, 1966-1970), Ophir (Johannesburg, 1967-1976) en Izuwe (Johannesburg, 1971-1974), waarby skrywers soos Wilhelm Knobel, D.P.M. Botes, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Jeanne Goosen, Wilma Stockenström, Wessel Pretorius, Marié Blomerus en Wopko Jensma betrokke is, kry die Afrikaanse literatuur vir die eerste keer werklike avant-garde-tydskrifte; naas skeppende bydraes publiseer hierdie blaaie kort beskouinge wat veral teen die sensuurbedeling gemik is. In die jare 1976-1978 verskyn Donga (Pretoria en Johannesburg), wat onder redaksie van Welma Odendaal en verskeie gasredakteurs nuwe werk in Afrikaans en Engels publiseer. Twee uitgawes van dié blad word egter in 1977 verbied, terwyl 'n algehele verbod van alle toekomstige uitgawes met die agtste nommer in 1978 in werking tree. As voortsetting van die Donga-lyn en die samizdat-uitgawes van Wurm en Izwe verskyn Inspan (Johannesburg, 1978-), wat periodiek verskyn, skeppende bydraes in Afrikaans en Engels van skrywers soos Jeanne Goosen, Johan van Wyk, Rosa Keet en Phil du Plessis opneem en ook kort beskouinge (veral oor sensuur) publiseer. Hierby sluit die ‘ondergrondse’ blaadjies van Johan van Wyk (o.m. Gronddiens) aan, terwyl Taaldoos (in 1981 verbied), Spado, Graffier, Wietie en The Bloody Horse (almal | |
[pagina 243]
| |
1980 opgerig) en Ensovoort (1981) as podiums vir jonger rigtings in die literatuur dien. In 1982 verskyn Stet,wat met Gerrit Olivier as redakteur militant teen sensuur en die politiek van die gesagsorde gerig is. | |
VI. Die uitgewersbedryfSowel wat die gehalte van 'n snel groeiende produksie as die tipografiese versorging van uitgawes betref, neem die boekebedryf, ná die vernuwing in die veertigerjare, sedert ongeveer 1950 'n hoë vlug. Vanaf die tweede helfte van die vyftigerjare konsentreer uitgewers meer as vroeër op boeke van kwaliteit en gee hulle besondere aandag aan die formaat, lettertipe en -grootte, ontwerp, band en stofomslag van hulle uitgawes. Die faktore wat hierdie ontwikkeling begunstig, is die opkoms van biblioteke - veral die staatsgefinansierde provinsiale biblioteekdienste - wat die verkoop van goeie boeke stimuleer, en die feit dat uitgewers op die terrein van ligte ontspanningslektuur nie met die tydskrifte kan kompeteer nie. Daarby verkry sommige uitgewers, in die besonder vir die publikasie van kinderboeke, die dienste van illustreerders soos Cecil Higgs, François Krige en Katrine Harries, terwyl tipograwe van (veral) Duitsland, soos Jürgen Fomm, en ontwerpers, soos Willem Jordaan, die tegniese gehalte en voorkoms van uitgawes radikaal verbeter. Sedert 1955 verskyn enkele belangrike reekse - soos die versamelde werke van C.M. van den Heever, Totius en Boerneef die Versamelde sprokies van die gebroeders Grimm en Andersen, die Kennis-ensiklopedie, die eerste dele van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, die Ensiklopedie van die wêreld (gebaseer op die Nederlandse Winkler Prins) en Kinders van die wêreld. Tegnies hoogstaande publikasies is o.m. Kort reis na Carrara, Gees van die wingerd, Komas uit 'n bamboesstok en die luukse-uitgawe van Raka en faksimilee-uitgawes soos die Tristia-sketsboek, Naggesprek, Die ysterwoud, Verse vir Opperman en Die galeie van Jorik. Met die kwantitatiewe toename van uitgawes in die vyftigerjare kom 'n aantal nuwe uitgewerye tot stand. Culemborg (Kaapstad, 1955-1958) publiseer o.m. die debuutwerke van Etienne Leroux, Ingrid Jonker en George Louw, maar gaan in 1958 op in H.A.U.M. wat, ná die uitgawes van Leroux se vroeë romans, vanaf die sestigerjare nie veel op literêre gebied uitgee nie. Ook J.L. van Schaik speel in hierdie tydvak 'n minimale rol op die gebied van die Afrikaanse letterkunde en lê hom - soos die Stellenbosse Universiteitsuitgewers (1947-) - toenemend op akademiese publikasies toe, terwyl C.F. Albertyn (Stellenbosch, 1961-) enkele groot reekse en ensiklopedieë uitgee en die Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou, Kaapstad, 1963-) - 'n maatskappy in die Nasionale Boekhandel-groep - universiteits- en skoolboeke publiseer. Simondium (Kaapstad en Johannesburg, 1962-) en John Malherbe (Kaapstad, 1963-) konsentreer veral op vertalings en kinderboeke, terwyl Buren (Kaapstad, 1968-1975) o.m. werke deur Breytenbach en Brink en Reijger (Kaapstad, 1970-1973) die debuutbundel van Wilma Stockenström publi-
| |
[pagina 244]
| |
seer. In die tagtigerjare kom Klipbok, Boschendal, Skoppensboer, Saayman & Weber en Rubicon tot stand. Die belangrikste nuwe uitgewery is Human & Rousseau (Kaapstad, 1959-), wat met J.J. Human, Leon Rousseau en H.D. Büttner as uitgewers en D.J. Opperman as literêre adviseur baie van die werke van die Sestigers publiseer, op die gebied van die kinderboek vir aantreklike en hoogstaande leesstof sorg en deur die filiaalmaatskappye H & R-Academica (1964-) en Kennis-uitgewery (1969-) nuwe akademiese publikasies en handleidings vir studente (o.m. die reeks Blokboeke oor die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde) en ensiklopedieë op die mark bring. As uitgewer stel J.J. Human 'n nuwe standaard wat professionele versorging van manuskripte en onderhandeling met outeurs betref en dwing hy die waardering van sy medewerkers af (vgl. 'n Natsteen vir Koos Human, Kaapstad, 1981). Human & Rousseau word in 1977 deel van die Nasionale Boekhandel-groep. In Johannesburg is die aktiwiteite van Marcus de Jong as boekhandelaar, sporadiese uitgewer (vgl. Kol en Taaldoos) en as inspireerder en gespreksgenoot vergelykbaar met dié van Gerrit Bakker in die dertiger- en veertigerjare. Die bestaande uitgewerye ondergaan in hierdie tydvak aansienlike veranderinge. Dagbreekpers en die Afrikaanse Pers word in 1962 een maatskappy en amalgameer in 1971 met die Voortrekkerpers as die Perskorporasie van Suid-Afrika Beperk (Perskor) wat ontwikkel tot die belangrikste noordelike uitgewery. In 1959 word Tafelberg oorgeneem deur die Nasionale Boekhandel-groep en sorg hy onder die leiding van J.D. Pretorius vir tipografies aantreklike uitgawes wat met effektiewe advertensieveldtogte 'n groot afset het. In 1970 smelt Nasionale Boekhandel en Tafelberg onder laasgenoemde se imprimatuur saam tot een uitgewery, wat sedert 1975 onder die leiding van D.J. van Niekerk belangrike uitgawes van versamelde werke (Totius, Leipoldt, I.D. du Plessis, Visser) en naas skeppende werk 'n groot verskeidenheid kinderboeke, vakkundige werke en feitelike leesstof publiseer. |
|