Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2
(1983)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 245]
| |
Hoofstuk 3
| |
[pagina 246]
| |
bundel kortverhale, terwyl die werk van die twee oorgangsfigure onderweg na Dertig, C.M. van den Heever en I.D. du Plessis, aanmerklik verswak of in 'n soort geroetineerdheid verval. Die enigste figuur wat vóór 1930 debuteer en ná 1955 nog werk van kwaliteit lewer, is M.E.R. met haar beskeie, stil en suiwer kuns. Met die uitsondering van die outobiografiese My beskeie deel (1972) is haar latere publikasies egter meestal die bundeling van stukke wat reeds eerder in tydskrifte en koerante verskyn het. Van enkele van dié skrywers - Leipoldt (Polfyntjies vir die proe, 1963), Totius, Visser, Celliers, Marais ('n Paradys van weleer, 1965, en ander natuurwetenskaplike geskrifte in Engels) - verskyn postume werke of versamelings wat soms met hul eeufeesvierings saamval. Intussen sterf die meeste van die oorblywende skrywers uit die periode vóór 1930 in hierdie tydvak: Van Melle (1953), Toon van den Heever (1956), Jochem van Bruggen (1957), Fagan (1963), Haarhoff (1971), Keet (1972), M.E.R. (1975) en Sangiro (1979). In vergelyking met die aktiewe skrywers van vóór 1930 wat grotendeels tot 'n afgehandelde periode behoort en weinig werk van waarde lewer, is die Dertigers en die digters wat in die veertigerjare debuteer, nie alleen almal nog baie aktief nie, maar bereik hulle werk ná 1955 dikwels nuwe hoogtepunte of kom hulle met 'n nuwe inset wat hulle kuns in vroeër onvermoede rigtings laat ontwikkel. In die vyftigerjare oorheers D.J. Opperman die literêre toneel en bereik hy 'n hoogtepunt met Blom en baaierd (1956), terwyl Elisabeth Eybers met Die helder halfjaar (1956), Neerslag (1958) en die ‘Hollandse’ bundels van die sestiger- en sewentigerjare aan haar poësie 'n nuwe gelade kwaliteit gee met verse wat van alle uiterlike tooisel gestroop is. In die vyftigerjare sit W.E.G. Louw en Ernst van Heerden - eersgenoemde ná 'n lang stilswye - hulle werk verder voort met gedigte oor Bybelse of skildersfigure en 'n fyn matematies beplande tipe vers onderskeidelik, terwyl Uys Krige hom meer op die drama toelê en G.A. Watermeyer wansmakige nasionalistiese verse skryf waarin die fris beeldspraak van sy eerste bundel tot retoriek vervlak. In die sestigerjare kom ook Petersen en Philander met nuwe bundels waarin die sosiale nood van die veronregte met groter nadruklikheid as vroeër verwoord word of waarin die geskiedenis en mite van die bruinmens as boustof vir lang epiese verse dien, terwyl die digteresse Olga Kirsch en Ina Rousseau na 'n lang periode waarin niks van hulle verskyn nie, weer nuwe werk publiseer. Ook S.J. Pretorius se poësie ondergaan 'n vernuwing deurdat die lewenspyn met 'n heftiger drif en in meer fasette as vroeër in gestaltes geprojekteer en die selfbejammerende belydenis deur die ironie teengewerk word. 'n Belangrike en verrassende ontwikkeling is die werk van Boerneef wat met 'n sestal bundels sy verskyning as digter maak en met die aardse inslag, gebruik van 'n landelike beskawing se folklore en mite in 'n gewestelike idioom en hunkering na 'n jeugwêreld enersyds en die leed, vrees vir die ouderdom en eensaamheid van die stadsmens andersyds sy eie besondere bydrae tot die Afrikaanse digkuns lewer. In die sestigerjare speel Van Wyk Louw, wat in die vyftigerjare die Amsterdamse leerstoel beklee en nie aktief aan die literêre lewe in Suid-Afrika kon meedoen nie, 'n belangrike rol deur sy pogings om by wyse van onderhandelings en deur verklarings of briewe aan die pers 'n gunstiger sensuurbedeling en 'n beter verhouding tussen skrywers en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te bewerkstellig, terwyl hy met Tristia (1962) een van die heel belangrikste bundels Afrikaanse poësie publiseer. In die sestigerjare verskyn van | |
[pagina 247]
| |
Opperman minder skeppende werk, al bring hy met Dolosse (1963) iets nuuts ná die metaforiese laagpoësie van vroeër en al het hy 'n groot invloed as dosent en literêre adviseur vir uitgewerye. Aan die einde van die sewentigerjare publiseer hy met Komas uit 'n bamboesstok (1979) 'n bundel verse wat met die speelse geestigheid en ironie, nuwe eenvoud en verbluffende konstruksie deur die kaatsspel tussen afsonderlike gedigte 'n nuwe hoogtepunt in die Afrikaanse poësie is. Veel minder skouspelagtig is die bydrae van skrywers uit die tydvak 1930-1955 op die gebied van die drama en prosa. In die vyftigerjare verskyn 'n paar versdramas - Periandros van Korinthe (1954) en Vergelegen (1956) van Opperman en Germanicus (1956) van Van Wyk Louw - waarmee die Afrikaanse dramaliteratuur deur 'n meer gespanne dialoog en hegter konstruksie tot 'n waaragtiger tragiek verhef word, terwyl Van Wyk Louw in die sestigerjare 'n aantal hoorspele en geleentheidstukke publiseer waarin hy - o.m. deur die gebruik van 'n expositor ludi en die terugftits - eksperimenterend nuwe moontlikhede verken. Deur sy aanwending van elemente uit verskillende dramatiese tradisies, verskeidenheid karakters en vermenging van komiek en erns neem Die goue kring (1956) van Krige 'n besondere plek in die Afrikaanse drama in. Daarteenoor ontsier die te sterk ideologiese lading en teatrale effekte die spele van W.A. de Klerk, terwyl Gerhard J. Beukes met Bybelshistoriese stukke en blyspele en klugte in die sfeer van die melodrama bly of selde met die voorspelbare verwikkelings bo situasiekomiek uitstyg. Die te sterk ideologiese lading is ook die belangrikste beswaar teen De Klerk se romans en novelles. F.A. Venter se groots opgesette romans oor Bybelse figure en die Groot Trek in die vyftiger- en sestigerjare word geskaad deur die onbeholpe karakterisering, neiging tot 'n uiterlike bioskooptegniek en swak strukturering; op 'n hoër vlak is sy sketsmatige beelde van die plaaslewe by die Oranje (Werfjoernaal, 1965) en in die Olifantsriviervallei (Die middag voel na warm as, 1974) en die weergawe van sy Karoo-jeug (Kambro-kind, 1979). Op die gebied van die kleindorpse realisme bring Mikro 'n nuwe nuanse met sy Gonnakolk- en Soetwater-novelles, al lei die lang reeks werke van dieselfde aard op die lange duur tot 'n sekere eenselwigheid en resepmatigheid. Van die suiwerste prosa deur ouer skrywers is Uys Krige se sketse in Sout van die aarde (1961), Elise Muller se kortverhale (Die vrou op die skuit, 1956) en novelles (Van eensame mense, 1956), wat opval deur die sober styl, oortuigende karakterisering en hegte bou, Boerneef se Teen die helling (1956), wat die hoogtepunt van sy reeks sketsverhale oor die wêreld van Boplaas vorm, C.G.S. de Villiers se bundels Overbergse sketse, Alba Bouwer se Rivierplaas-stories en ander kinderverhale en M.I. Murray se atmosferiese uitbeelding van 'n groep plaasmense in hulle elementêre verhouding tot aarde en God (Witwater se mense, 1974). Die skrywers wat later as die Sestigers bekend sal staan, maak almal - met die uitsondering van Chris Barnard - omstreeks die middel van die vyftigerjare met publikasies in boekvorm hulle verskyning op die literêre toneel, al debuteer Jan Rabie reeds so vroeg as 1943 en Bartho Smit in 1949. Daarby sluit 'n hele paar van hulle (Rabie, André P. Brink, Abr. H. de Vries en Dolf van Niekerk) in hulle jeugwerk regstreeks aan by ouer tradisies, soos die historiese roman, die gemoedelike, kleindorpse realisme, die pastorale romantiek of die streeks- en kontreikuns, Tog is dit so dat almal van hulle in die vyftigerjare, soos Van Wyk Louw dit stel, 'n ‘klimaatverandering’ (inleiding tot Windroos, Johannesburg, 1964) ondergaan en | |
[pagina 248]
| |
'n nuwe kyk op die werklikheid openbaar. Hierdie verandering, waartoe C.J.M. Nienaber se Keerweer (1946) die verre voorloper was, word in die prosa ingelei deur Leroux met Die eerste lewe van Colet (1955) en veral Jan Rabie met Een-en-twintig (1956), terwyl die jaar 1962 die definitiewe deurbraak bring met die verskyning van Lobola vir die lewe (Brink) en Sewe dae by die Silbersteins (Leroux), voorafgegaan deur Hilaria (1957), Die mugu (1959), albei deur Leroux, en Die son struikel (1960) deur Van Niekerk. Terwyl die ouer Afrikaanse prosa hoofsaaklik op die klein Afrikaanse wêreld van dorp en plaas konsentreer en uiters selde die motiewe van droogte of oorlog tot 'n universele problematiek laat uitgroei of (afgesien van Van Melle se Bart Nel) 'n beeld van die mens in sy stryd teen oorweldigende magte gee, wil die Sestigers juis die verwikkeldheid van menswees as sodanig in hul romans en verhale gestalte laat aanneem en iets van die onsekere gang van die mens op sy ontdekkende reis deur die heelal oordra. Dit beteken nie dat die Sestigers groots opgesette karakters in 'n driedimensionele wêreld soos dié van Dostojewski of Tolstoi lewer nie. In sy Een-en-twintig en Mens-alleen sluit Rabie ten nouste aan by die surrealisme, terwyl daar telkens in die werk van Barnard, De Vries en veral Leroux 'n spel met werklikhede aan die gang is en die aksent voortdurend - soos Bartho Smit dit in ‘Die krisis van ons werklikheidsbeeld in drama en epiek’ sien - op 'n voortdurend veranderende realiteit val. In sy reaksie op die beperkte beeld van werklikheid en mens in die ouer Afrikaanse prosa en in aansluiting by baie strominge in die twintigste-eeuse literatuur meen Smit selfs dat die ‘realistiese’ benadering
uitgedien en die mens nie meer rasioneel kenbaar is nie en die beeld van hom daarom radikaal verskil van die voorstellings wat hy vroeër gehad het. Die dilemma van die wesentlike onkenbaarheid van die mens lei in Leroux, Van Niekerk, Barnard en De Vries se werk tot 'n voorliefde vir die simboliese, pre-rasionele persoonlikheid, die anti-held wat gesigloos bly en tot houdings en maskers gedoem is. Die vaer wordende grense tussen werklikheid en fantasie, verstandelik-logiese en irrasioneelintuïtiewe of bewuste en onbewuste het in Leroux se prosa tot gevolg dat die mitesoekende enkeling 'n sterk allegoriese en mitologiese lading dra en tot 'n argetipe ontwikkel, terwyl daar by heelparty skrywers (Rabie, Brink, Barnard) 'n voorliefde is vir die buitestaander-figuur en sonderlinge eenling, in sommige gevalle (veral by Van Niekerk) ook vir die wanaangepaste of psigopaat. In teenstelling tot die ouer Afrikaanse prosa gaan die nuwe kyk op die werklikheid gepaard met 'n veel groter uitgesprokenheid oor sake wat in die verlede vir die Afrikaanse roman en kortverhaalkuns grotendeels taboe was, in die besonder ten opsigte van godsdiens en die
| |
[pagina 249]
| |
beeld van die mens in sy liggaamlikheid en seksualiteit. Sommige van die skrywers wat hulle op die korter prosa toelê (De Vries, Hennie Aucamp, Barnard), steun dikwels op 'n romanties beleefde jeugherinnering of anekdote wat gaandeweg afgetakel word, terwyl die vervreemdingsproses, kleurprobleem, neurose en die seksuele (homo- én heteroseksueel) as materiaal verwerk word. Sowel in die roman (Leroux se 18-44, Brink se Miskien nooit) as in die kortverhaal (De Vries, Aucamp) is die skryfproses deel van die boustof, iets wat aansluit by die intense vakmanskap wat die Sestigers van vorige geslagte prosateurs onderskei. Die aanwending van die skryfproses as boustof in die prosa en die bemoeienis met die aard van die vertelling gee reeds 'n aanduiding van die veel groter bewustheid van stilistiese, tegniese en strukturele sake as wat by die ouer Afrikaanse skrywers aanwesig was. Naas die effektiewe uitbuiting van die enkele woord maak sommige Sestigers gebruik van verbrokkelde sinne, kort sintaktiese eenhede en 'n soort herhalingstegniek om bepaalde effekte te bereik (bv. Katastrofes van Breytenbach), al is enkeles se taalbeheer gebrekkig en slordig. Soms word skynbaar verbandlose nuusberigte of advertensies in 'n ander lettertipe in 'n verhaal ingevoeg om 'n soort ‘collage’-tegniek te bereik (De Vries) of word 'n hele roman tipografies eksperimenteel aangebied (Brink se Orgie). Wat veral by herhaling voorkom, is die gebruik van verskillende vertellers om 'n verhaal uit 'n verskeidenheid gesigspunte aan te bied (Die ambassadeur van Brink), die afwisseling van 'n ek- en hy-vertelling (Lobola vir die lewe van Brink), die bewussynstroomtegniek, die terugflitstegniek (albei in Die ambassadeur) en 'n spel met tye waarmee die verhaal dikwels op 'n achronologiese wyse vertel word (Een vir Azazel van Leroux). Met die opheffing van die tipies epiese strukture van die ouer verhaalkuns oorskry die prosateurs ook dikwels die ‘grense’ van die genre, sodat liriek, epiek en dramatiek in een en dieselfde werk soms intens verweef word (Lobola vir die lewe). In baie van die romans, in die besonder dié van Leroux en Brink, is 'n mens bewus van allegoriese, mitologiese, historiese en literêre wêrelde wat as verwysings of as oerpatrone meespreek. By herhaling word semiliterêre genres soos die speurverhaal (Een vir Azazel), die reisroman (Leroux se Isis Isis Isis ... ) en die draaiboek (Brink se Miskien nooit) in 'n ernstige werk ingespan, dikwels - veral by Leroux - om die nodige satiriese of ironiese effek te bereik. Oor die algemeen dra al hierdie middele en tegnieke by om aan die prosa van Sestig 'n veel groter digtheid en kompaktheid te gee as wat die ouer Afrikaanse roman- en kortverhaalskrywers in hulle werke kon bereik. In teenstelling tot die prosaskrywers vóór 1955, wat meestal by ouer tradisies (Flaubert, Van Deyssel, Streuvels) aansluit en weinig invloed van die kontemporêre literatuur van ander lande verraai, leef die Sestigers intens met die tydgenootlike Wes-Europese en Amerikaanse letterkunde mee en is hulle goed op hoogte van die jongste geestestrominge en die werk van uiteenlopende skrywers. Naas die filosofiese invloede van die eksistensialiste (veral Sartre en Camus - lg. vir die ‘outsider’ - figuur - op Rabie, Brink en Van Niekerk) en die bevrugtende uitwerking van sommige psigoloë (Freud en veral Jung op Leroux) sluit die Sestigers aan by skrywers soos Joyce met sy taalbewussyn, Durrell met sy verskeidenheid vertellers, Nabokov en Boon met hulle gedurfde seksuele openheid, Robbe-Grillet en die Franse ‘nouveau roman’ en ‘anti-roman’, Woolf met haar aanwending van die ‘stream of consciousness’, Proust met sy reise na 'n verlore tyd, Kafka met sy | |
[pagina 250]
| |
angservaring in 'n vreemde surrealistiese wêreld en Waugh met sy kille aanwending van ironie. Soms lei hierdie invloede tot navolging, maar in hoofsaak illustreer die aansluiting by ander skrywers in watter mate die Sestigers - in teenstelling tot die ouer prosaskrywers, wat eerder op 'n ‘onderkulturele’ basis steun - deur 'n ruim geesteswêreld en 'n verskeidenheid prikkels gestimuleer word. Opvallend is verder die feit dat hierdie groep skrywers veral, naas hulle kennis van die Engelse, in die Franse literatuur as voedingsbodem belangstel, terwyl die Dertigers hulle eerder by die Nederlandse en Duitse wêrelde aansluit. In hierdie opsig is Uys Krige met sy gerigtheid op die Mediterreense lande en Parys as kultuursentrum (waar 'n hele paar van die skrywers in die vyftiger- en sestigerjare vir korter of langer periodes woon) die eintlike literêre peetvader van Sestig. Maar afgesien van die groep wat as die Sestigers bekend staan, is daar heelparty ander skrywers in die sestiger- en sewentigerjare wat buite die vernuwing om tog hulle eie bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer of wat struktureel by die Sestigers aansluit en die tegniese winste benut, sonder dat hulle regstreeks met die ‘Beweging’ van Sestig in die enger sin van die woord te make het of deurgaans in die nuwe idioom skryf. Ongeveer gelyktydig met die eerste werke van die meeste Sestigers debuteer drie skryfsters wat elkeen 'n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse prosa maak. Henriette Grové se kortverhale en vertellings, saam met die werk van ander skryfsters in Kwartet (1957), en daarna versamel in Jaarringe (1966) en Winterreis (1971), val op deur die besondere aanwending van 'n dikwels naïewe verteller en die ironiese perspektief wat daarmee ontstaan en die vermoë om met die gebruik van sirkulerende motiewe 'n verhaal tot 'n hegte eenheid op te bou. Anna M. Louw en Elsa Joubert beoefen albei die reisverhaal en ontwikkel op die gebied van die roman in verskillende rigtings: Louw o.m. met twee historiese romans oor Paul Kruger (Die banneling: Die lyfwag, 1964, en Die groot gryse, 1968) en Kroniek van Perdepoort (1975), wat skynbaar by die tradisionele plaas- en gesinsroman van vroeër en Lion Cachet se Sewe duiwels en wat hulle gedoen het aansluit, maar deur die spel met die chronologie heen 'n aangrypende beeld van die stryd tussen die goeie en die bose in die mense opbou; Joubert o.m. met Ons wag op die Kaptein (1963), wat binne 'n Angolese situasie van terrorisme en verskrikking die mens in sy wag op 'n onafwendbare dood belig, en Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), wat die geskiedenis van 'n swartvrou se hopelose stryd teen onmenslike wette op 'n roerende wyse weergee. In die sestiger- en sewentigerjare is daar verder regionale vertellings en ander kleinkuns van skrywers soos Petronella van Heerden, Alet Viljoen, A.A.J. van Niekerk, A.C. Cilliers en D.M. Greeff, 'n rigting waarby die aandag vir die mense van 'n bepaalde streek, soos verder blyk uit Aucamp, Barnard, De Vries, P.W. Grobbelaar en C.J.M. Nienaber se redigering van werke oor onderskeidelik die Stormberge, Laeveld, Klein Karoo, Vrystaat en Natal, aansluit. Een van die belangriks te figure op die gebied van die roman ná Sestig is Karel Schoeman, wat in sy beste werk met sy passiewe en besluitelose hoofkarakters (o.m. in Op 'n eiland, 1971) 'n besondere nuanse aan die buitestaanderfiguur in die Afrikaanse prosa gee, terwyl hy met Na die geliefde land (1972) 'n onthutsende toekomsbeeld opbou van die nuwe Suid-Afrika ná 'n rewolusie. Met hierdie roman lei Schoeman die reeks werke van die sewentigerjare in waaruit die moderne Afrikaanse skrywers se intense betrokkenheid by Afrika, die Suid-Afrikaanse politieke toestande en vrees vir 'n moontlike | |
[pagina 251]
| |
of gewisse ondergang blyk, al het Rabie hom in werke soos Ons, die afgod (1958) en die Bolandia-reeks (1964-1977) ook met die Suid-Afrikaanse aktualiteit besig gehou en al is Suid-Afrika en sy besondere problematiek een van die konsentriese sirkels in Leroux se Sewe dae by die Silbersteins. In John Miles se Okker bestel twee toebroodjies (1973) en Donderdag of Woensdag (1978) neem die anti-held binne 'n surrealistiese wêreld ná Leroux 'n verrassende nuwe gestalte aan, terwyl die uiterlike spanningslyn deur allerlei ondergrondse bedrywighede - ook politieke geweld - opgebou word. Op 'n ander wyse kom die geweld tot uiting in P.J. Haasbroek en Welma Odendaal se kortverhale, wat dikwels teen 'n gistende, tropiese Afrika-milieu afspeel, terwyl J.C. Steyn in Op pad na die grens (1976) en Dagboek van 'n verraaier (1978) aan die motiewe van doem en ondergang met die gebruik van 'n joernalistiekdokumentêre werklikheidsillusie en 'n intens betrokke ek-verteller die klank van 'n eksistensiële noodkreet gee. Die Suid-Afrikaanse aktualiteit spreek ook mee by Wilma Stockenström (o.m. Eers Linkie dan Johanna, 1979), terwyl 'n hele paar van die Sestigers in hulle latere werke toenemend Afrika as motief verwerk: Chris Barnard in Duiwel-in-die-bos (1968), waarin met die inspeel van verskillende verhale op mekaar 'n verwikkelde bundeleenheid tot stand kom, en Mahala (1971), waarin die spel van skyn en wese, illusie en werklikheid 'n namelose vrees en voortdurende afwagting teen die broeiende agtergrond van die tropiese Mosambiek tot gevolg het; en Brink, wat in sy romans Kennis van die aand (1973), 'n Oomblik in die wind (1975), Gerugte van reën (1978), 'n Droë wit seisoen (1979) en Houd-den-bek (1982) verskillende aspekte van die Suid-Afrikaanse politieke werklikheid fel belig, dikwels met tydgenootlike gebeure as bron vir die verhaal. Alhoewel Sestig, sover dit die literêre ‘beweging’, polemiese aktiwiteite en - met die uitsondering van Breyten Breytenbach - openbare belangstelling betref, allereers 'n geslag van prosateurs is, maak 'n hele aantal belangrike nuwe digters sedert 1955 hulle verskyning, neem die aantal poësiedebute vanaf die sestigerjare sterk toe en word daar op die gebied van die digkuns werke gepubliseer wat die beste op prosagebied ten minste ewenaar en selfs oortref. Die vernuwing in die poësie word in 1955 ingelei deur Peter Blum, 'n figuur wat buite die ‘Beweging’ van Sestig staan, maar wat met die bundels Steenbok tot poolsee (1955) en Enklaves van die lig (1958) 'n nuwe inset ná Opperman bring, in die besonder met die spreekritme, verrassende (dikwels hiperboliese) beeldspraak en gebruik van neologismes in 'n tipe vers wat doelbewus antisentimenteel, demaskerend en satiriserend wil wees. In aansluiting by die protespoësie van Amerikaanse Negers skryf Adam Small in Kitaar my kruis (1961) en Sê sjibbolet (1963) 'n sterk satiriese, geestige, honende en soms bitter vers waarin Bybelse situasies dikwels oorgeplaas word na Suid-Afrikaanse toestande, meestal met die gebruik van die Kaapse Kleurlingdialek, inkanterende ritmes en herhalingseffekte. Alhoewel Ingrid Jonker soms nog haar verse tradisioneel opbou, gee sy in haar beste werk (Rook en oker, 1963) voorkeur aan 'n vrye vers wat by die
| |
[pagina 252]
| |
poësie van Éluard en die Nederlandse eksperimentaliste van die vyftigerjare aansluit. Hierdie vrye vers met die wisselende lengte van die reël en gebruik van assosiatiewe beelde bring 'n welkome afwisseling op die kwatryndreun en patroonmatigheid van die Opperman-epigone en word in die sestiger- en sewentigerjare voortgesit deur uiteenlopende digters soos Wilhelm Knobel, Marlise Joubert, Antjie Krog, Wessel Pretorius, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Henk Rall, Jeanne Goosen, Johan de Jager, Rosa Keet en Johan van Wyk, al is sommige van hierdie skrywers nie van 'n amorfe element in die opbou van die vers vry te pleit nie. Die belangrikste nuwe talent wat in die sestigerjare sy verskyning maak, is Breyten Breytenbach, wat veral met die bundels Die ysterkoei moet sweet (1964), Die huis van die dowe (1967), Kouevuur (1969), Lotus (1970) en Voetskrif (1976) tot een van die indrukwekkendste digters in Afrikaans ontwikkel. Met sy oorspronklikheid, verbluffende beeldingsvermoë en uitbuiting van die sigwaarde van die woord illustreer Breytenbach in bundel na bundel sy meesterlike beheer oor die Afrikaanse taal, terwyl sy liefdespoësie, gedigte oor 'n doodsbenoudheid en deernis met homself en ander, verse oor die verlange na 'n verlate vaderland en protes- en politieke gedigte oor die Suid-Afrikaanse rassetoestand telkens van 'n eksistensiële betrokkenheid getuig, sonder dat sy werk in 'n hinderlike ekkerigheid verval. Dit is opvallend dat ander motiewe en tegnieke van die sestigerjare - die liefdesmotief, soos by Fanie Olivier en Antjie Krog, die ontdekking van Afrika en die ‘betrokkenheid’ by Suid-Afrika, soos by Wilma Stockenström, Wopko Jensma en J.C. Steyn, en die spel met woord en taal wat ná Blum en Van Wyk Louw se Tristia teruggevoer en deur Leon Strydom, Merwe Scholtz en J.C. Steyn voortgesit word - almal in die werk van Breytenbach aanwesig is en verfynings ondergaan. Ná Breytenbach kom die belangrikste groeipunte vir die poësie voor in die Wurm-groep en veral die Stellenbosse impuls van D.J. Opperman se ‘letterkundige laboratorium’. Onder die Wurm-groep is Wilma Stockenström met haar sinvolle verkenning van Afrika met sy droë, harde landskap en sy voorgeskiedenis van ontdekkingsreise, primitiewe lewe en paleontologiese opgrawings, besondere siening van die mens in sy verhouding tot sy wêreld en uiteindelik ook 'n bowewerklikheid, gedronge beeldspraak en geskubde taal en aansluiting by die tradisie van Opperman en Blum die belangrikste figuur. Die reaksie op die te amorfe struktuur van die beoefenaars van die vrye vers en die terugkeer na 'n meer geslote vorm kom ook voor by heelparty digters wat by Opperman hulle skoling in die ‘digkunde’ gehad het, o.a. by Lina Spies (Dagreis, 1976), Fanie Olivier (Om alleen te reis, 1973), Leon Strydom (Geleentheidsverse, 1973) en Marlene van Niekerk (Sprokkelster, 1977). Buite hierdie twee groepe om is Sheila Cussons (o.m. Plektrum, 1970 en Die swart kombuis, 1978), M.M. Walters met satiriese gedigte, I.L. de Villiers met religieuse verse, George Weideman met Namakwalandse streekspoësie, J.C. Steyn (Die grammatika van liefhê, 1975) met 'n fenomenologiese taalspel en Annesu de Vos en T.T. Cloete met debuutbundels in 1980 die noemenswaardigste digters wat op die oomblik in Afrikaans werksaam is. Soos in die geval van die prosa en die poësie kan die vernuwing in die Afrikaanse drama teruggevoer word na 1955. In dié jaar verskyn Bartho Smit se Moeder Hanna in Standpunte, al word dit eers in 1959 in boekvorm gepubliseer. Veel meer as vroeër toon die Afrikaanse drama in dié tyd vak die bevrugtende invloed van die kontemporêre literatuur van ander lande, soos die moderne moraliteit (Smit), die absurde | |
[pagina 253]
| |
(Ionesco en Beckett op André P. Brink en Chris Barnard), die eksistensialistiese teater (Sartre op Brink), Brecht se epiese teater (Adam Small) en Weiss se tonele in 'n gestig (P.G. du Plessis), terwyl van die skrywers veelvuldig gebruik maak van tegnieke soos die terugflits en vooruitflits (Henriette Grové, Brink, Dolf van Niekerk, Smit, Small), verteller (Brink, Smit, Small), jukstaponering van monoloë (Van Niekerk) e.d.m. Waar die dramaturge by ouer tradisies in die Afrikaanse toneelliteratuur, soos die maatskaplike probleemdrama (Du Plessis) en die historiese drama (Brink) aansluit, is die aanbieding dikwels verrassend-nuut en die dialoog veel natuurliker as vroeër. Vir die Afrikaanse drama sedert 1955 is Smit as teoretikus en skeppende kunstenaar (o.m. Christine, 1971) 'n sleutelfiguur, terwyl Du Plessis van die speelbaarste stukke met 'n vlot dialooghandeling (Nag van legio, 1969, en Siener in die suburbs, 1971) lewer. Barnard skryf enkele gevoelige hoorspele en sluit met Pa maak vir my 'n vlieër pa (1964) by die teater van die absurde aan, terwyl Brink heelwat eksperimenteer, van Shakespeare se dramas geestig na Suid-Afrika transponeer en met Elders mooiweer en warm (1965) sy beste enkele drama skryf. Die belangrikste moderne stuk is Small se Kanna hy kô hystoe (1965) met sy verbinding van epiese, liriese en dramatiese elemente. In die sewentigerjare is daar 'n herlewing van die vyftigerjare se vrolike volksheid in die opvoering van Mikro se Mattewis en Meraai (verwerk deur Du Plessis) en Van Bruggen se Ampie, 'n rigting waarby Pieter Fourie met sy Faan-stukke aansluit, al gee hy met Die joiner (1976) blyke van groter belofte. Nog voor publikasie word Pieter-Dirk Uys, wat ook as regisseur aktief is, se werk verbied; die enigste wat van hom in Afrikaans verskyn, is die geestige Die Van Aardes van Grootoor (1979). In die periode sedert 1955 word daar heelwat meer op die gebied van die drama gepubliseer as vroeër, terwyl sommige stukke belofte toon en enkeles selfs 'n behoorlike peil bereik. Tog vergelyk die drama nog steeds - ten spyte van hierdie duidelike ontwikkeling - ongunstig met die prosa en poësie en kan geen enkele hedendaagse drama naas Opperman en Van Wyk Louw se beste werk gestel word nie, al is die stukke oor die algemeen speelbaarder as dié van voor 1955. | |
II. Die totstandkoming van die streekrade en die verdere ontwikkeling van die uitvoerende kunsteMet die totstandkoming van die Nasionale Toneelorganisasie (N.T.O.) in 1947 verbeter die gehalte en professionaliteit van toneelaanbiedings, het Afrikaanse dramaturge meer geleenthede om hulle werk opgevoer te kry, word sale op die platteland omskep en van moderner toerusting voorsien en dra besoekende regisseurs en groepe uit die buiteland daartoe by om die belangstelling in die toneel te
| |
[pagina 254]
| |
stimuleer. Die lang afstande wat spelers oor die hele land moes aflê en die ontevredenheid wat daardeur ontstaan, die tekort aan geld, die kritiek op die keuse van stukke vir opvoering en die herhaalde, heftige polemieke waarin die N.T.O. betrokke raak, lei egter in 1961 tot die aanstelling van die De Bruyn-kommissie om die hele aangeleentheid te ondersoek. Die belangrikste aanbeveling van dié kommissie was dat die uitvoerende kunste in 'n gedesentraliseerde vorm en op provinsiale basis onder die regstreekse toesig van die administrateurs maar met finansiële steun van die sentrale regering moet voortbestaan. So kom die Kaapse, Transvaalse, Vrystaatse en Natalse streekrade (KRUIK, TRUK, SUKOVS en NARUK) dan in 1962 tot stand. Die instelling van die streekrade los die probleem van die lang en uitputtende landsreise op en bied met die vaster professionele tuistes 'n groter mate van sekuriteit aan die spelers, terwyl dit ook 'n impetus gee aan die oprigting van nuwe, moderne teaters: die stadskouburge van Johannesburg en Bloemfontein, die Aula, H.B. Thom- en Baxter-teater aan die Universiteite van Pretoria, Stellenbosch en Kaapstad onderskeidelik, die Nico Malan-teater in Kaapstad, die Oude Libertasopelugteater op Stellenbosch en die Staatsteater in Pretoria. Deur die verbetering in die gehalte van die aanbiedings wat hierdeur en deur die besoeke van oorsese regisseurs soos Fred Engelen en Peter Kleinschmidt ontstaan, word groter gehore na die teaters getrek. Terselfdertyd kry toneelspelers deur die instelling van volwaardige departemente van drama en toneel aan Afrikaanse universiteite - Stellenbosch (met Fred Engelen en later Fred le Roux as hoogleraars), Pretoria (met Anna Neethling-Pohl as mede-professor) en die Oranje-Vrystaat - die geleentheid om professionele onderrig in hulle vak te ontvang. 'n Hele aantal belangrike nuwe kunstenaars tree op die voorgrond, o.a. Robert Mohr, François Swart, Truida Louwen Pieter Fourie as regisseurs en Fred le Roux, Babs Laker, Johann Nell, Kita Redelinghuys, Jannie Gildenhuys, Paul en Johan Malherbe, Tine Balder, Cobus Rossouw, Sandra Kotze, Marius Weyers, Carl Trichardt en Katinka Heyns as spelers. Afgesien van die instelling van jeuggroepe wat voorgeskrewe letterkundige werk op hoër skole deur voordrag en toneelspel aanskouliker maak, stimuleer die streekrade die ontwikkeling van die Afrikaanse drama deur opdragte aan skrywers soos N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Bartho Smit en Chris Barnard. Naas die produksie van klassieke werke deur Sophokles, Shakespeare, Goethe, Ibsen, Tsjechow en Shaw is die streekrade ook verantwoordelik vir die opvoering van stukke deur hedendaagse dramaturge uit die wêreldliteratuur,
soos Brecht, Ionesco, Dürrenmatt en Kohout, al het die boikot om politieke oorwegings van 'n hele aantal belangrike kontemporêre skrywers 'n remmende uitwerking. Deur die opvoering van plaaslike stukke kry ook die Afrikaanse dramaturge die geleentheid om hulle eie werk geproduseer te sien en uit moontlike foute te leer. Hierdie produksies sluit in
| |
[pagina 255]
| |
stukke deur Van Wyk Louw (Germanicus, Die pluimsaad waai ver), D.J. Opperman (Vergelegen, Voëlvry), Uys Krige (Die loodswaaiers), Chris Barnard (Pa maak vir my 'n vlieër pa, Taraboemdery), P.G. du Plessis (Die nag van legio, Siener in die suburbs, 'n Seder val in Waterkloof) en Adam Small (Kanna hy kô hystoe). Afgesien van die beskikbaarheid van goeie tekste is die belangrikste beperking vir die Afrikaanse toneel die klimaat van sensuur en die optrede deur burokratiese liggame in die keuse van stukke. Die herhaalde afstellings van Bartho Smit se stukke (Christine, Bacchus in die Boland) en die feit dat sy Putsonderwater jare lank op opvoering moes wag, het 'n nadelige uitwerking op die ontwikkeling van dié dramaturg gehad. Met die koms van die streekrade verdwyn die meeste amateurgroepe, al doen organisasies soos die Bellvillese Afrikaanse Toneelvereniging (B.A.T.) en amateurverenigings by universiteite, soos die Libertas-teaterklub op Stellenbosch, goeie werk. 'n Groot stimulus gaan uit van eksperimentele teaters soos die Arena- en Markteater in Johannesburg, die Sterrewag-teater in Bloemfontein en Die Ruimte in Kaapstad, waar o.m. stukke van Pieter-Dirk Uys (Dieselle ou storie, Karnaval) opgevoer word. Die Ruimte, soos ook die Klein- en die Baxter-teater by die Universiteit van Kaapstad, is van hul ontstaan af veelrassig, terwyl die meeste staatsondersteunde teaters in die sewentigerjare ook vir alle bevolkingsgroepe oopgestel word. Naas die toneelbedrywighede ondergaan die filmbedryf in Suid-Afrika in die sestiger- en sewentigerjare 'n vernuwing met die aktiwiteite van o.a. Jamie Uys, Emil Nofal en Jans Rautenbach. Hierdie ontwikkeling het ook sy effek op die Afrikaanse letterkunde, aangesien dit skrywers die geleentheid gee om draaiboeke te skryf (bv. Brink se verwerking van C.M. van den Heever se Somer) of van hulle werk verfilm te kry (soos P.G. du Plessis se Siener in die suburbs). Met die instelling van 'n televisiediens vir Suid-Afrika in 1976 word hierdie geleenthede veel groter, aangesien regisseurs soos Stephan Bouwer, Franz Marx en Katinka Heyns ook vir die produksie van inheemse stukke verantwoordelik is. | |
III. Kritiek en polemiekeDie strenger wetenskaplike basis wat met die toespitsing op die struktuur van die kunswerk in die vroeë vyftigerjare die kritiese benadering begin oorheers, word in die tydvak 1955-hede voortgesit, al is die veld van ondersoek nou groter en raak die kritici - teenoor die vroeëre haas uitsluitlike gerigtheid op poësietekste - ook geïnteresseerd in 'n ondersoek van die prosa en drama. Hierdie verruiming word gestimuleer deur die Sestigers, wat veral met hulle prosawerke nuwe uitdagings aan
| |
[pagina 256]
| |
die kritiek stel en - soos vroeër die poësie van die Dertigers en die digters wat in die veertigerjare aan die woord kom - 'n noukeurige interpretasie van die kritikus vereis. Soos die Dertigers maak die Sestigers van tyd tot tyd uitsprake oor hulle werk en neem hulle dikwels standpunt in ten opsigte van hulle taak as woordkunstenaars, al is hulle aktiwiteite op dié gebied hoofsaaklik polemies deur die verdediging van hulle werk teen ongeregverdigde aanvalle uit 'n moreel-godsdienstige of politieke hoek en die veroordeling van 'n beheer- en sensuurstelsel wat die ontwikkeling van die letterkunde strem. Veral vanaf die sewentigerjare staan haas elke koerant heelwat ruimte af aan boekbesprekings en kort beskouinge oor die literatuur, 'n ontwikkeling wat die aantal resensies oor elke werk laat toeneem en aansienlik meer kritici geleenthede bied om te skryf. In die vyftigerjare is F.E.J. Malherbe, P.C. Schoonees en G. Dekker nog steeds aktief as kritici, alhoewel hulle nie meer die literêre toneel oorheers nie. Ná sy verhandeling oor die Digters van Dertig (1953) skryf Opperman minder kritiek, terwyl N.P. van Wyk Louw hom in sy Huisgenoot-rubriek ‘Die oop gesprek’ en sy praatjies vir Radio Hilversum Wereldomroep hoofsaaklik op literêr-teoretiese aangeleenthede toespits. In die vyftiger- en sestigerjare is Rob Antonissen met sy deeglike Standpunte-kronieke en A.P. Grové met sy resensies in Die Huisgenoot en Die Vaderland, redigering van Standpunte en samestelling van bloemlesings die aktiefste kritici, terwyl Merwe Scholtz, P. du P. Grobler, Ernst van Heerden, C.J.M. Nienaber, M. Nienaber-Luitingh en Elize Botha se opstelle hoofsaaklik in Standpunte verskyn en later gebundel word. Die opstel of essay is die belangrikste vorm vir hierdie kritici; slegs enkeles, soos T.T. Cloete en F.I.J. van Rensburg, pak ná hulle proefskrifte 'n omvattende stuk navorsing met die oog op publikasie in boekvorm aan. Die reeks Monogrofieë uit die Afrikaanse letterkunde onder redaksie van A.P. Grové en die Blokboeke oor die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde onder redaksie van D.J. Opperman gee vanaf die sestigerjare aan kritici die kans om kort studies oor 'n bepaalde outeur of 'n spesifieke werk aan te pak, terwyl huldigingsbundels soos Beskouings oor poësie (1957), Dietse studies (1965), Smal swaard en blink (1966), Woord en wederwoord (1974), Ter wille van die edel spel (1975), Die lewende Totius (1977), Skanse teen die tyd (1978), Leipoldt 100 (1980) Hulsels van kristal (1981) en Beeld van waarheid (1982) die geleentheid vir behoorlike stukke navorsing skep. Van die kritici van vóór 1955 behartig in dié tydvak boekerubrieke in dagblaaie, soos W.E.G. Louw in Die Burger en A.P. Grové in Die Vaderland, terwyl F.I.J. van Rensburg as resensent veral in Die Volksblad aktief is. Enkele omvangryke studies oor die digters van die Eerste Geslag word in die vyftiger- en vroeë sestigerjare gedoen, soos jasper lodewyk steyn (1916-1982) se Totius as psalmberymer (1953), jan kromhout (1917-) se Leipoldt as digter
| |
[pagina 257]
| |
(1954) en marius philip oliviera burgers (1909-1962) se C.L. Leipoldt: 'n Studie in stof-keuse, -verwerking en -ontwikkeling (1960), wat reeds eerder (1939) Die mens Langenhoven die lig laat sien het en ook as resensent - veral op die gebied van die drama - aktief is. Alhoewel hierdie studies dikwels onbekende gegewens vrystel, ontaard hulle te veel in suiwer tematiese ondersoeke en word die aksent by Burgers verskuif na die psige van die skrywer. Die toespitsing op die tematiek en die verwaarlosing van struktuursake is ook die belangrikste beswaar teen marthinus stefanus du buisson (1912-1962) se Die mens-Godverhouding in die Afrikaanse poësie (1959). Van die kritici wat in die laat-vyftiger en vroeé sestigerjare begin werk, sluit ernst lindenberg (1928-), dosent in Kaapstad en hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand, met sy woordgevoeligheid die nouste aan by die eksponente van die stilistiek op linguistiese grondslag, al is hy van die begin af ook ingestel op breër strukturele lyne en word die historisiteit van die woord 'n belangrike faktor in sy hele benadering. Lindenberg se resensies en opstelle verskyn in Die Huisgenoot, Die Brandwag, Trek, Tydskrif vir Letterkunde, Standpunte, Kriterium, Die Burger, Oggendblad en Die Vaderland en word gedeeltelik gebundel in Onsydige toets (1965). Wat hierin veral opval, is sy helder stelwyse, korrekte waardebepalings en vindingryke ooplees van dikwels bekende tekste, soms deur op ander se uitsprake te reageer en polemiserend nuwe insigte te ontwikkel. Belangrik is sy gesonde kritiese ‘realisme’ dat ‘'n suiwer kritiese instelling en apparaat geen waarborg ... (vir 'n korrekte) kritiese oordeel ... (kan) ... wees nie’ (Taalkundige literêre teorie en kritiek, 1972). Sy belangstelling gaan, wat die ouer Afrikaanse digters betref, veral uit na Eugène N. Marais oor wie se poësie hy 'n voortreflike Blokboek (1966) skryf, terwyl hy deur 'n ondersoek van die oorspronklike tydskrifpublikasie van die verse tot 'n korrekter chronologiese plasing van Marais as digter kom. Lindenberg se opstelle oor D.J. Opperman, Peter Blum en N.P. van Wyk Louw (in die besonder sy talle Tristia-analises) behoort tot die beste kritiek in die periode 1955-hede, terwyl hy ook die oorsig oor die poësie in Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde (1965) behartig en met die medewerking van N.P. van Wyk Louw die bloemlesing Treknet (1966) saamstel. By laasgenoemde skryf hy ook 'n Blokboek (1979). Naas Lindenberg is petrus duvenhage van der walt (1927-), dosent in Natal en hoogleraar aan die Potchefstroomse Universiteit, die bedrywigste as resensent, o.m. in Standpunte en Die Transvaler. Sy opstelle, wat in Mené tekél (1969) en Bestek (1975) versamel is, toon 'n ontvanklikheid vir kontemporêre werk; maar word ontsier deur vae veralgemenings, oppervlakkigheid en die gebruik van vreem-
| |
[pagina 258]
| |
de begrippe. Van der Walt lewer ook 'n monografie oor S.B. en G.C. Hobson (1964), skryf 'n gids by die studie van enkele sleutelgedigte in Afrikaans (Versvreugde, 1968) en stel 'n keur uit lang Afrikaanse verhalende gedigte saam (Versavontuur, 1968). Uit sy geestige - dikwels satiriese of spottende - essays oor die Afrikaner se hebbelikhede, wat in die tydskrif Sarie Marais verskyn, stel hy 'n keuse saam in die bundel Kelkie sonder voet (1976). Van die filosoof johannes jacobus degenaar (1926-) verskyn Eksistensie en gestalte (1962), waarin hy die denkstruktuur in die poësie van N.P. van Wyk Louw verken deur dit in verband te bring met die denkklimaat van die eksistensiefilosofie. 'n Soortgelyke ondersoek onderneem hy in Die wêreld van Albert Camus (1966). Deeglike studies oor die drama is dié van die Stellenbosse klassikus pieter jacobus conradie (1931-), wat op 'n Utrechtse dissertasie oor Heraktes in die Griekse tragedie (1958) promoveer en in sy verdere publikasies ook 'n besondere belangstelling vir die literêre ‘verwerking’ van die Griekse mites toon, soos blyk uit The treatment of Greek myths in modern French drama (1963) en Niks is in sy tyd gesluit (1976). Hierby sluit Avonture van die Griekse helde en gode (1964) aan, 'n werk waarin hy - soos vroeër S.J. du Toit (Kinders van die daeraad, 1939, Mense van die newels, 1949 en Gode en helde van Achaje, 1965) en P.V. Pistorius (Droomhelde uit Hellas, 1950) - die mites vir gebruik op skool oorvertel. Afgesien van 'n Blokboek oor Germanicus (1966) en 'n inleidende studie tot die tegniek van die drama (Hoe om
'n drama te ontleed, 1968) word sy beskouinge oor die Afrikaanse drama - wat in Standpunte en Kriterium verskyn het - versamel in Spanning en ewewig (1974), o.m. sy uitstekende studies oor die bronne van Germanicus en Periandros van Korinthe. Ook 'n paar ander figure wat as dosente nie primêr met die Afrikaanse letterkunde te make het nie, lewer by wyse van kort studies of artikels bydraes tot die kritiek. Die Kaapstadse dosent jan anton verhage (1907-1974) promoveer op 'n Sintakties-stilistiese studie van die Dagregister van Jan van Riebeeck (1952) en skryf - naas verspreide artikels oor die prosa - 'n monografie oor Langenhoven (1969) en 'n Blokboek oor Sonde met die bure en Herrie op die oú tremspoór (1970). stephanus strydom (1924-), Pretoriase hoogleraar, skryf 'n monografie oor F.A. Venter (1965) en sit met enkele Standpunte-artikels oor Opperman-verse die rigting van die stilistiek op linguistiese grondslag voort. edith hildegard raidt (1932-), dosent in Kaapstad en professor in Johannesburg, promoveer met 'n dissertasie oor die Geskiedenis van die byvoeglike verbuiging in Nederlands en Afrikaans (1968), skryf 'n oorsig oor die geskiedenis van Afrikaans soos dit uit Nederlands en sy voorlopers ontwikkel het (Afrikaans en sy Europese verlede, 1971) en publiseer in Dietse studies (1965), Woord en wederwoord (1974) en D.J. Opperman: Dolosgooier van die woord (1974) 'n aantal uitstekende studies oor Opperman se Blom en baaierd, gebaseer op haar Kaapse M.A.-verhandeling
| |
[pagina 259]
| |
Die bundel as eenheid (1962). Die Kaapstadse hoogleraar roy henry pheiffer (1932-), wat soos Raidt op die gebied van die historiese taalkunde werksaam is en op 'n proefskrif oor Die gebroke Nederlands van Franssprekendes aan die Kaap in die eerste helfte van die agtiende eeu (1980) promoveer, publiseer 'n hoofstuk oor die negentiende-eeuse literatuur in Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde (1965), 'n Blokboek oor Dias en ander hoorspele (1966) en 'n bloemlesing uit die Afrikaanse poësie (Woordpaljas, 1979). Afgesien van hierdie kritici en akademici wat in ander vakrigtings doseer en ook aan die kritiek meedoen, is daar 'n hele aantal skeppende kunstenaars wat met polemiese stukke, manifeste en voordragte uitsprake oor die literatuur maak of met resensies en studies 'n aktiewe aandeel as kritici het. In die laat-vyftigerjare verskyn in Die Burger peter emil julius blum (1925-) se hoogs indiwiduele en tot dusver ongebundelde beskouinge oor figure en werke uit die Franse, Duitse en Engelse literatuur, terwyl hy ook enkele kere nuwe werke resenseer en in die voortreflike satiriese ‘Hoe ek dekadent geword het’ (Standpunte, XI: 2, Oktober-November 1956) op die morele besware teen sy werk reageer en daarmee die lyn van Kees Konyn uit die veertigerjare voortsit. Die meeste Sestigers (Jan Rabie, Etienne Leroux - Tussengebied (1980) - Abr. H. de Vries, Bartho Smit - Losgoed (1974) - Dolf van Niekerk, Chris Barnard) skryf opstelle waarin hulle houding ten opsigte van die skeppende literatuur en hulle eie ideale geformuleer word, terwyl hulle ook van tyd tot tyd polemies hulle eie standpunt verdedig. Daarnaas is sommige van hulle werksaam as dagbladkritici, soos Rabie en De Vries. Rabie versamel sy stukke van die jare 1957-1965, o.m. dié oor die literatuur, in Polemika (1966) en behartig 'n rubriek oor die Afrikaanse letterkunde in The Cape Times. Die Sestiger wat die ideale van sy geslag die duidelikste formuleer en as polemikus en kritikus belangrike werk lewer, is andré philippus brink (1935-), dosent en later hoogleraar aan die Rhodes-universiteit. Brink se pleidooie vir 'n vernuwing in die prosa verskyn in Tydskrif vir Letterkunde en Sestiger en toon van die begin af 'n wye belesenheid en insig in die twintigste-eeuse literatuur, al het hy in sy formulerings dikwels 'n skatpligtigheid teenoor N.P. van Wyk Louw. In die sestigerjare skryf hy na verhouding min kritiek in tydskrifte en koerante en is hy aktiewer as polemikus wat die Sestigers se werk teen aanvalle op grond van morele oorwegings verdedig en pleit vir die vryheid van die skeppende kunstenaar wat met die probleem van 'n knellende beheerstelsel te make het. Sy eerste twee kritiese publikasies in boekvorm is Orde en chaos (1962), 'n studie van Van Wyk Louw se Germanicus en die tragedies
| |
[pagina 260]
| |
van Shakespeare, en Aspekte van die nuwe prosa (1967), waarin die Wes-Europese en Amerikaanse literatuur van die twintigste eeu verken en 'n oorsig van die vernuwing in die Afrikaanse letterkunde gegee word. In die sewentigerjare ontwikkel Brink tot die aktiefste kritikus in Afrikaans met sy Blokboeke oor Die poësie van Breyten Breytenbach (1971) en Jan Rabie se 21 (1977), oorsig oor die prosa (in die 1973-uitgawe van Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde) en Aspekte van die nuwe drama (1974), waarin die stof op dieselfde wyse as in die eerste Aspekte behandel word. Uit sy fenomenale bedrywigheid as resensent vir die Sondagkoerant Rapport verskyn keuses as Voorlopige rapport (1976) en Tweede voorlopige rapport (1980), waarin besprekings oor die skeppende literatuur uit die sewentigerjare opgeneem word. In Brink se kritiese stukke word die leser telkens getref deur die raak formulerings, kriptiese stelwyse, verrassende verbandleggings met ander skrywers, vermoë om binne 'n kort bestek tot die essensie van 'n werk deur te dring en meestal trefseker oordeel. Met hierdie benaderingswyse en met sy aksent op die tematiese of ideë-gegewe en die integrasie van al die onderdele is Brink die logiese ‘opvolger’ van Antonissen en skryf hy van die insiggewendste kritiek van die sewentigerjare, al lei sy toegeeflike houding teenoor betrokke of eksperimentele werk soms daartoe dat hy aksente eensydig lê of tot 'n aanvegbare waarde-oordeel kom. Naas Brink en Rabie bundel twee ander skeppende kunstenaars uit die sestigeren sewentigerjare hulle beskouinge oor die literatuur. In Kort voor lank (1978) versamel hendrik christoffel lourens aucamp (1934-) sy studies oor die korter prosavorme, waarin hy - naas voortreflike analises van verhale van Abraham H. de Vries, Pirow Bekker en Herman Charles Bosman - telkens by tegniese of struktuursake stilstaan en as beoefenaar van die kortverhaal sy belangstelling in die ‘fabrieksgeheime’ van ander skrywers toon, dikwels deur uit 'n groot verskeidenheid Engelse en Amerikaanse bronne aan te haal. In Ontmoetings (1979), wat gedeeltelik vroeër in Standpunte, Die Burger en Tydskrif vir Letterkunde verskyn het, skryf die digteres lina (carellina pieternella) spies (1939-) oor haar persoonlike kennismaking met mede-kunstenaars (Opperman, Blignault, Kirsch, Eybers, ens.) en die invloed wat hulle persoonlikheid en werk op haar gehad het. Afgesien van die werk van resensente en skeppende kunstenaars wat ook aan die kritiek meedoen, kom daar ná die intense teksgerigtheid en stilistiese benadering in dissertasies van die vyftigerjare in die sestiger- en sewentigerjare 'n breër probleemstelling en uitbreiding van die studieveld. Gedeeltelik was dit reeds aanwesig in die proefskrifte van Elize Lindes en Roswitha Geggus, wat met hulle analises van Opperman-gedigte ook die eenheidsprobleem in die letterkunde en die visuele aanbod van die poësie onderskeidelik ter sprake gebring het. In die studies van die
| |
[pagina 261]
| |
sestiger- en sewentigerjare word die terrein van ondersoek egter uitgebrei na die prosa en drama, ontleed die kritici dikwels groter gehele en word 'n verskeidenheid werke vanuit een bepaalde aspek van die kunswerk - soos die stem, verwysing, ritme, titel en karakterisering - bespreek. In haar deeglike Witwatersrandse dissertasie oor Die Afrikaanse poësiekritiek (1965) kom rialette wiehahn (1936-) tot 'n periodisering van die Afrikaanse kritiek en bespreek sy die belangrikste skrywers wat op dié gebied werksaam is, telkens met die aksent op hoofbeginsels en uitgangspunte in die benadering van die kunswerk. - john christoffel kannemeyer (1939-), dosent in Kaapstad, Johannesburg en Stellenbosch en hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand, promoveer op 'n proefskrif oor Die stem in die literêre kunswerk (1965) en skryf resensies en artikels in Inset, Die Huisgenoot, Die Burger, Kriterium, Standpunte, Rapport en Oggendblad. Verder publiseer hy 'n monografie oor Jochem van Bruggen (1965), 'n Blokboek oor Die heks en Die laaste aand van C. Louis Leipoldt (1966), 'n inleiding tot die tegniek van die prosa (Prosakuns, 1968), 'n bundel Opstelle oor die Afrikaanse drama (1970), 'n studie van Etienne Leroux se Sewe dae hy die Silbersteins (Op weg na Welgevonden, 1970), 'n bloemlesing uit en inleiding tot die sewentiende-eeuse Nederlandse poësie (Nederduitse digkuns, 1973), 'n Blokboek oor Die Afrikaanse Bewegings (1974), 'n oorsig oor Letterkunde en Beweging voor 1900 (1975), 'n bundel letterkundige opstelle en kritiek (Konfrontasies, 1977) en Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (twee bande, 1978-1983; die gedeelte oor Opperman uit band II word reeds eerder gepubliseer as Kroniek van klip en ster, 1979). Verder stel hy 'n keur uit Uys Krige se eenbedrywe
saam (Vier eenbedrywe, 1978), versamel kritiese opstelle en ander stukke van D.J.
| |
[pagina 262]
| |
Opperman (Verspreide opstelle, 1977), Elisabeth Eybers (Voetpad van verkenning, 1978), Etienne Leroux (Tussenspel en Tussengebied, albei 1980) en Kees Konyn (Die koléperas van Kees Konyn, 1982) en versorg uitgawes van die oorspronklike handgeskrewe en getikte dokumente in verband met Opperman se Joernaal van Jorik (Die galeie van Jorik, 1979) en C. Louis Leipoldt se Versamelde gedigte (1980). - pieter georg du plessis (1934-), dosent aan die Witwatersrandse Universiteit, later verbonde aan die R.G.N. en hoofredakteur van die Pretoriase koerant Hoofstad, behartig in die sestigerjare 'n boekerubriek in Sondagstem, stel bloemlesings uit verhale en artikels in Die Huisgenoot saam (Halfeeu, 1966 en Hoogtepunte, 1967), skryf die prosa-hoofstuk in die eerste uitgawes van Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde (1965) en promoveer met 'n studie oor Die verwysing in die literatuur (1968), waarin hy 'n groot aantal voorbeelde uit die Afrikaanse poësie vir analises betrek. abraham jacobus coetzee (1939-), dosent en professor aan die Universiteit van die Witwatersrand, promoveer met 'n studie oor die lang verwaarloosde terrein van Ritme en skandering (1971), behartig die oorsig oor die drama in Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde, skryf 'n Blokboek oor Mikro se Toiings-trilogie (1967), stel bloemlesings uit Breytenbach se poësie saam en onderneem in Poësie en politiek (1976) 'n verkenning van betrokkenheid in die Afrikaanse poësie. In Die titel in die poësie (1970) gaan pirow (petrus jacobus) bekker
(1935-) die verskillende soorte titels, subtitels, motto's e.d.m. na en ontleed hy die verhouding tussen titel en ‘gedig-liggaam’ of groter eenheid (soos siklus en bundel. Bekker skryf ook 'n Blokboek oor Die kwatryn (1974) en stel saam met H.J. Schutte 'n bloemlesing uit die poësie van die twintigerjare saam (Digters op die toring, 1970). In Karakterisering in die Afrikaanse roman (1975) gee johannes pieter (van der bijl) smuts (1934-), dosent aan die Universiteit van Stellenbosch, 'n uiteensetting van die opvattinge oor karakter in die literêre teorie en kritiek, bespreek daarna voorbeelde uit die Afrikaanse prosa en kom aan die hand daarvan tot 'n verdeling tussen kommunikatiewe en nie-kommunikatiewe romanfi-
| |
[pagina 263]
| |
gure. Smuts is (soms met die medewerking van Ria Smuts-van Rensburg) die samesteller van bloemlesings uit die prosa (Mosaïek, 1965, Kompas, 1965, Jangroentjie, 1972, Japtrap, 1979 en Pylvak, 1982), die skrywer van 'n inleidende studie tot die tegniek van die prosa (Hoe om 'n roman te ontleed, 1977), 'n Blokboek oor Kroniek van Perdepoort (1979) en behartig die drama-oorsig in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (Kaapstad, 1980). In Oor die eenheid van die digbundel (1976) illustreer leon strydom (1944-), professor aan die Vrystaatse Universiteit, die standpunt dat die ‘bundelperspektief as 't ware 'n ekstra leidraad bied vir die konkretisering van die gedig’, met 'n analise van N.P. van Wyk Louw se Gestaltes en diere. Daarmee lewer hy 'n bydrae tot die gesprek oor die eenheidsprobleem in die moderne literêre teorie, al is sy interpretasies van afsonderlike gedigte nie vry van inleeskunde nie. Ook david herculaas steenberg (1937-), Potchefstroomse hoogleraar, rig hom in Dolos en denke (1971) op die ondersoek van 'n spesifieke bundel (in dié geval D.J. Opperman se Dolosse), terwyl hy in Sestigerproblematiek (1975) - ná Dekker, Versfeld en Van der Walt se vroeëre werk in dié rigting - met sekere stellings van die Sestigers oor morele en wêreldbeskoulike kwessies as uitgangspunt 'n literatuurbeskouing wil ontwikkel wat sowel esteties geldig as vir die Christen aanvaarbaar is. Met medewerking van o.a. P.D. van der Walt, Lucia C. Minnaar en Leendert Dekker gee Steenberg in Rondom Sestig (1977) analises van die hedendaagse Afrikaanse prosa. 'n Kritikus wat sterk polemiserend ingestel is en 'n aantal omvangryke opstelle skryf waarin hy literêr-teoretiese probleme sentraal stel, is die Johannesburgse dosent H.C.T. Müller. Naas dié kritici wat in hulle proefskrifte teoreties-verkennend vanuit 'n bepaalde aspek of struktuurelement 'n hele verskeidenheid werke vir ondersoek betrek, gaan sommige navorsers bepaalde genres of literêre kategorieë, hele oeuvres of spesifieke werke in hulle verhandelings na. In Die kind en sy literatuur (1968) en Die kinderverhaal as literatuur (1975) ondersoek lydia pienaar (1936-) 'n tot dusver onontgonne gebied van die Afrikaanse letterkunde, terwyl ronald kenneth belcher (1933-), dosent aan die Natalse Universiteit, in Grondslae van die sonnetvorm (1969) op die geskiedenis en komponente van dié kategorie konsentreer. In sy studie oor Eugène Marais as prosaïs (1969) en verspreide opstelle oor dié digter se verse kom die Port Elizabethse hoogleraar william stephen humphries du randt (1936-) soms tot nuwe interpretasies, terwyl willem frederick jonchkeere (1938-), dosent aan die Rhodes-universiteit, met sy Johannes van Melle: Realist tussen twee werelden
| |
[pagina 264]
| |
(1968, vgl. ook sy Blokboeke oor dié skrywer) onbekende gegewens oor dié figuur vrystel. In Kristalle uit ‘Kroniek van Kristien’ (1971) laat louise esther combrink (1942-) die aksent val op 'n belangrike siklus in Opperman se werk. In Die begrip intellektueel by N.P. van Wyk Louw (1972) maak réna (catharena elizabeth) pretorius (1932-), Pretoriase hoogleraar, 'n deeglike analise van 'n bepaalde aspek van Louw se werk. In twee studies word die psigologiese en filosofiese agtergronde van romans met meerdere of mindere mate van sukses nagegaan. anita lindenberg (1939-), dosent aan die Witwatersrandse Universiteit en tot 1982 redaktrise van die literêre rubrieke in Oggendblad en Die Vaderland, wat in die sewentiger- en tagtigerjare die volledigste en insiggewendste dekking van nuwe publikasies gee, gaan in Geteleskopeerde visie (1976) Dolf van Niekerk se Die son struikel na met betrekking tot die werk van Freud, Nietzsche en Sartre, terwyl charles wynand malan (1945-), dosent aan die Vrystaatse Universiteit en later verbande aan sensal in Pretoria, in Misterie van die alchemis (1978) die Jungiaanse en ander bronne van Etienne Leroux se eerste nege romans agterhaal. Malan is ook die skrywer van 'n Blokboek oor Die ambassadeur van Brink en 'n studie oor Die keiser van Smit. dawid frederick spangenberg (1937-), hoogleraar aan die Universiteit van Suid-Afrika, is die skrywer van Peilings van die poësie (1980), 'n handleiding by die bestudering van die poësie. adriaan petrus van der colf (1932-) promoveer met 'n Randse proefskrif oor Poësie en godsdiens (1980) waarin hy gedigte van N.P. van Wyk Louw ontleed, terwyl henning jacobus snyman (1938-), dosent aan die Universiteit van Kaapstad, in Verkenningsvlugte (1981) opstelle met 'n sterk taalkundige en teoretiese inslag publiseer. Verder skryf hy ook Blokboeke by D.J. Opperman se Junior en Senior verseboek (albei 1978). Afgesien van dissertasies en verhandelings is daar sedert die sewentigerjare, naas die meer gevestigde name, baie jonger letterkundiges in dag- en weekblaaie aan die woord wat tot dusver nog nie omvattende studies in boekvorm die lig laat sien het nie. Hulle is o.a. Anna van Zyl, F.R. Gilfillan, P.P. van der Merwe, Elsa Nolte, P.H. Roodt, E.C. Britz, Fanie Olivier, Ena Jansen, Helize van Vuuren, Johann Johl, Ronèl Johl, L.S. Venter, Wium van Zyl, Dorothea van Zyl, Henriette Roos, Hilda
| |
[pagina 265]
| |
Grobler, Renske Koen, Gerrit Olivier, Louise Viljoen, Jakes Gerwel, H.J. Schutte, H.P. van Coller, Hein Viljoen, C.N. van der Merwe, D.J. Hugo, Ia van Zyl, Rika Preller, Tim Huisamen en Joan Hambidge. In Nederland skryf die Amsterdamse dosent Truida Lijphart-Bezuidenhout, die joernalis Adriaan van Dis en die Nijmeegse Germanis Hans Ester van tyd tot tyd oor die Afrikaanse letterkunde. Verder verskyn daar 'n hele paar rubrieke waarin skrywers onder skuilname - soos Dina-Marie van der Westhuizen in Standpunte in die sestigerjare - satiries-hekelend in verskillende koerante n.a.v. nuwe publikasies of literêre aangeleenthede skryf: L.I. Bertyn (Beeld), Gerrit de Jongh (Die Burger), G.H. Warmoes en Klaas Waarzegger (Die Vaderland) en Arrie le Grange (Rapport). Die skerpste en skerpsinnigste is L.I. Bertyn, wat met sy geestige, geestelike terrorisme ‘die skrikbewind’ van Kees Konyn in die veertigerjare ‘waardig’ voortsit. Veel meer as vroeër word daar in die periode 1955-hede polemieke op die gebied van die Afrikaanse letterkunde gevoer, in die besonder as gevolg van politieke en morele besware teen bepaalde werke, die publikasiewetgewing, die verbod op werke en besluite van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 1958 ontstaan daar 'n polemiek in Die Burger ná die verskyning van Jan Rabie se Ons, die afgod en word politieke besware teen die boek geopper, terwyl die heftigste en uitgebreidste polemiek wat nog ooit op literêre terrein in Suid-Afrika geheers het, in 1964 ná die toekenning van die Hertzogprys aan Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins gevoer word. Letterkundiges soos N.P. van Wyk Louw, Elize Botha, Merwe Scholtz, F.I.J. van Rensburg en J.L. Steyn verdedig die boek, terwyl P.C. Schoonees en Hymne Weiss en teoloë soos A.B. du Preez en A.P. Potgieter die werk op morele gronde veroordeel. In 1966 reageer H.F. Verwoerd om politieke en nasionale oorwegings op N.P. van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver wat tydens die eerste Republiekfees opgevoer is en word sy werk verdedig deur D.J. Opperman, F.I.J. van Rensburg en Chris Barnard. Met die verbod op Kennis van die aand van Brink en Magersfontein, o Magersfontein! van Leroux ontstaan weer polemieke tussen letterkundiges en teoloë. In die geval van Brink se roman lei die verbod uiteindelik tot die oprigting van die Afrikaanse Skrywersgilde met die doel om die belange van Afrikaanse skrywers te beskerm, terwyl Merwe Scholtz en Anna M. Louw na die verbod op Leroux se werk tydelik uit een van die publikasiekomitees bedank. As Magersfontein, o Magersfontein! in 1979 met die Hertzogprys bekroon word, lei dit weer tot 'n polemiek - ook tot 'n twispunt binne die Akademie - waarin die roman andermaal op morele gronde aangeval word. Telkens word die Suid-Afrikaanse Akademie se besluite, veral in verband met die Hertzogprys, in die openbaar gekritiseer, óók in gevalle waar geen toekenning gemaak word nie. In 1966 besluit die Akademieraad om, téén die aanbeveling van sy letterkundige kommissie in, die Hertzogprys nie aan Uys Krige toe te ken nie, 'n besluit wat reaksie van J.J. Human, D.J. Opperman, J.C. Kannemeyer en F.I.J. van Rensburg ontlok en die vermoede laat posvat dat die prys om politieke oorwegings van Krige weerhou is. In 1967 ken die Akademie, waarskynlik uit vrees vir 'n herhaling van die 1964-debakel, geen Hertzogprys vir Prosa toe nie, terwyl belangrike werke soos Leroux se Een vir Azazel en Grové se Jaarringe vir die prys in aanmerking gekom het. In 1970 bedank A.P. Grové, Elize Botha en T.T. Cloete tydelik uit die letterkundige kommissie as die Akademieraad die minderheidsver- | |
[pagina 266]
| |
slag van W.E.G. Louw ten gunste van 'n toekenning van die Hertzogprys aan Karel Schoeman aanvaar en die meerderheidsverslag ten gunste van Etienne Leroux verwerp, terwyl E. Lindenberg in 1974 hom distansieer wanneer die letterkundige kommissie Breyten Breytenbach vir die derde keer vir die Hertzogprys verbygaan en die toekenning aan Uys Krige op grond van 'n bloemlesing uit sy werk maak. Lindenberg stel sy minderheidsverslag aan Rapport vry, terwyl Grové en Cloete daarop reageer. In 1980 ontstaan 'n polemiek tussen T.T. Cloete en J.C. Kannemeyer oor vermeende oornames en naskrywery in lg. se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I. Cloete se standpunt word gesteun deur F.I.J. van Rensburg, terwyl E. Lindenberg, Gerrit Olivier en Ena Jansen Kannemeyer verdedig. |
|