Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2
(1983)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 35]
| |
Hoofstuk 9
| |
[pagina 36]
| |
I. Realistiese en ander drama, eenbedryf en blyspel 1940-1955Afgesien van die werk van leidende of meer prominente outeurs staan die historiese drama in hierdie tydvak in die kader van die Voortrekkerfees van 1949, soos die spele van H.J.L. Douwes, Sophie Coetzee en M.C.E. van Schoor, terwyl die tradisie van die Bybeldrama voortgesit word deur didaktiese stukkies van A.J.V. Burger, 'n Kers- en Passiespel deur Karin (pseudoniem van C.M. Marais), 'n drama oor Koning Saul (1949) deur Antonius (skuilnaam van Michael A. Smit) en oor Simson en Delila (1950) deur Pedro. H.R. van der Walt en H. du P. Steytler skryf blyspele en dramas oor burgerlike temas, terwyl P. de Roubaix enkele eenakters bundel en Andries en Hélène de Klerk gesamentlik Die ring en ander eenbedrywe (1944) versamel en met Die ongebore dag (1953) 'n histories-vertellende toneelstuk lewer. Hélène de Klerk skryf later ook die tendensdrama Marionet aan die muur (1963), terwyl Andries de Klerk verskeie romans, o.m. Die weg na die sterre (1954) - 'n liefdesverhaal in dagboekvorm uit die tyd van W.A. van der Stel - publiseer. Van die skrywers wat in hierdie tydvak debuteer, is dit slegs W.A. de Klerk en Gerhard J. Beukes wat plek-plek verdienstelike werk lewer en iets aan die realisties-naturalistiese tradisie of die Bybeldrama toevoeg. | |
1. W.A. de Klerkwillem abraham de klerk, gebore op 7 Maart 1917 op Marquard in die Oranje-Vrystaat, ontvang sy skoolopleiding in Kaapstad en Bloemfontein en studeer daarna in die Regte aan die Universiteit van Stellenbosch. Agtereenvolgens is hy advokaat aan die Kaapse Balie, vryskutskrywer en omroeper/regisseur by die S.A.U.K. in Kaapstad. Ná 'n Europese reis keer hy in 1951 terug na die S.A.U.K., maar gaan boer dan op die plaas Saffier in die Klein-Drakenstein naby die Paarl. Afgesien van toekennings deur uitgewerye en verenigings ontvang hy in 1952 die Hertzogprys vir Drama en in 1958 die Scheepersprys vir Jeuglektuur. As skrywer is De Klerk op verskeie gebiede werksaam, en sy omvangryke oeuvre bestaan uit eenbedrywe, dramas van groter omvang, sielkundige en sosiologiese romans, novelles, joernalistieke prosa, betogende (meestal wysgerig-politieke) geskrifte en jeuglektuur. In die avontuurverhale Die skarlaken eskadril (1942; in 1959 herdruk as Die skarlaken eskader) en Die vallei van die rooi gode (1945) skryf hy oor idealistiese jongmense wat 'n spannende stryd teen gewetenlose egoïste voer, terwyl dieselfde positiewe strekking uit sy historiese jeugromans Die gésel van Mamaland (1945) en Agtien man en 'n meisiekind (1956), die twee Poens-verhale (1957 en 1962) en Willemien se ligte dae (1958) blyk. Die Stellenbosse studentelewe vorm die agtergrond vir die romantiese Komedie onder die eike (1955), terwyl die jagwêreld van Suidwes-
| |
[pagina 37]
| |
Afrika as materiaal vir Die verste blou einder (1962; in 1977 herdruk as Kleinben drink die bitterbloed) dien. Die wêreld van Suidwes en Angola vorm ook die boustof vir De Klerk se drietal keurige reisverslae, Drie swerwers in Suidwes (1949), Drie swerwers oor die einders (1953) en 'n Swerwer op die sonpad (1959), waarin naas mooi beskrywings heelwat interessante feite oor die geskiedenis. (o.m. die Dorslandtrek), geografie en volkekunde van dié gebiede voorkom. Op onderhoudende wyse joernaliseer hy saam met Marthinus Versfeld oor die Berge van die Boland (1947), terwyl hy die Engelse teks vir Tom Burgers se fotoboek Cedar people (1968) verskaf. Sy liefde vir die Boland blyk uit sy kundige werk oor Die witwyne van Suid-Afrika (1967) en Klein reis deur Drakenstein (1974), waarin hy hulde bring aan 'n vallei wat in baie opsigte die bakermat vir die Afrikaanse Beweging was, al verhinder die strewe na effek en die ekkerige inslag dat dit die peil van M.I. Murray se Witwater se mense bereik. In sy betogende werk oor wysgerige en politieke aangeleenthede wat in Buite die raamwerk (1968), Beweging uitwaarts (1969; saam met J.J. Degenaar en Marthinus Versfeld), The puritans in Africa: A story of Afrikanerdom (1975), en Tyd van vernuwing (1979) gepubliseer word, hinder De Klerk se geleerdheidsvertoon, deureenhaspeling van uiteenlopende sake en verwarde logika. Saam met J.P. Coetzer stel hy die bloemlesing Onder die Suiderkruis (1970) saam, terwyl hy Denis de Rougemont se La part du diable as Die aandeel van die duiwel (1974) verwerk. As dramaturg bou De Klerk die realistiese rigting van Grosskopf verder uit deur sy aansluiting by Ibsen en O'Neill en deur by herhaling die mens (of maatskappy) in sy begrensdheid en eindigheid sentraal te stel. Heel dikwels is dit die egosentriese mens met onbeperkte geloof in homself, met die vaste voorneme om ten alle koste oor andere te heers en vir wie die redding in selfverloëning en 'n oorskryding van die self lê. In die dramatiese voorstelling van hierdie gegewe slaag De Klerk meestal deur die verhoudings en kontraste tussen mense, die raak tipering, die kundige opeenvolging van tonele en deur die konsentrasie op spannende situasies waarin die gestaltes belangrike aspekte van hulle geesteslewe openbaar. Daarteenoor word die spele ontsier deur die pseudo-wysgerigheid en uitsprake wat die karakters keer op keer kwyt raak, die geringe uitbuiting van die dramaties-handelende woord en die inherente armoede van die taal wat òf weinig genuanseerd òf te bewustelik regionalisties-volks is. De Klerk se pogings tot tragiese dramatisering misluk telkens deurdat die oplossing deur die teatrale optrede van 'n histeriese karakter in die rigting van die melodrama neig en veral deurdat die karakters beperk gekonsipieer word en selde menslike afgronde onthul. Ga naar voetnoot+ | |
[pagina 38]
| |
Uit die goeie aarde (1942; drie bedrywe), die drama waarmee De Klerk debuteer, handel oor 'n student wat in sy strewe na akademiese sukses alle ander waardes negeer en wat uiteindelik, ná 'n selfmoordpoging, leer dat hy die ego moet transendeer om sy taak en funksie in die geheel te vind. In die uitwerking van hierdie gegewe ontaard die dialoog dikwels in filosofiese gesprekke en tree die karakters te teatraal en onwerklik op om die uiterlike spanning te verhoog, terwyl die slot te uitgerek en melodramaties, met te veel retoriese verdieping en 'n neiging tot etiese didaktiek verloop. 'n Vooruitgang hierop is die Drie dramas wat De Klerk in 1947 bundel. In Die verterende vuur (drie bedrywe en epiloog), wat handel oor 'n idealistiese medikus se grootse stryd om 'n middel teen kraamkoors uit te vind, word die groot enkeling Semmelweiss teenoor die tevredenheid en kleinlikheid van sy tyd gestel. In die teenstelling tussen Semmelweiss en Klein word Klein egter te bewustelik skurkagtig gesien, terwyl Semmelweiss se optrede te uiterlik-teatraal bly en te weinig ideologies-gefundeerd uitgewerk word, met die gevolg dat sy waansin en selfmoord aan die slot nie die noodwendige gevolg van die ‘verterende vuur’ van die arbeid is nie en eerder 'n melodramatiese effek het. In Nag het die wind gebring ... (drie bedrywe), wat met die oorheersende vaderfiguur wesentlik 'n ‘moderne’ variasie van die generasiekonflik gee, is Otto weer 'n weinig genuanseerde skurkagtige karakter, ontbreek 'n duidelike progressie en word die gebeure met behulp van kleinburgerlike rusies en skeldpartye algaande tot 'n bloot uiterlike dramatiek gereduseer. Alhoewel die dialoog in Hellersee (drie bedrywe) ook soms onaanneemlik en onnatuurlik is, slaag De Klerk hier in sy voorstelling van 'n egosentriese karakter (vgl. Emile in Uit die goeie aarde) wat alle kleinburgerlikheid verafsku en deur haar helder insig en lewensintensiteit geleidelik tot selfmoord gedryf word. Die teatrale en histeriese is hier in 'n groot mate geregverdig deur die oorspanne karakter van Tonia, en die bergpoel word op bevredigende wyse met 'n simboliese krag gelaai, terwyl die drama veel oortuigender as Die verterende vuur iets van 'n noodlotsmag in die gang van sake suggereer. In Vlamme oor La Roche (1951; vier bedrywe) voel 'n mens ook iets van die noodlot deur die brand aan die slot, maar die geheel beweeg haas uitsluitlik op 'n uiterlike spanningsvlak ten einde aan die geleidelike ontknoping iets dramaties te gee. In Die jaar van die vuur-os (1952; vier bedrywe), wat vir die Van Riebeeckfeesjaar geskryf is, word die problematiek van die egosentriese indiwidu van Uit die goeie aarde en Hellersee na dié van die volk verruim: die Afrikaner word gedwing om te besef dat hy te midde van 'n verwikkelde rassevraagstuk sy eie isolement moet laat vaar, sy bruin en swart landgenote moet eerbiedig en leer ken en op dié wyse 'n nuwe heil vir almal moet vind. Hierdie gedagte is egter nie volledig genoeg uitgewerk nie en telkens word die aandag van die kern afgetrek deur karikaturale karakters (Kemp), gebeurtenisse wat die uiterlike spanning moet verhoog (die moord op Twansiep) en newemotiewe (Alexis se onvergenoegdheid met die land en sy ‘dramatiese’ vertrek). As sentrale karakter verryk die Generaal wel die emosionele drakrag van die drama, maar hy is nie iemand wat sterk handelend optree of die omringende figure tot die daad aanvuur nie, terwyl die meeste karakters op een of ander wyse in diens van die probleem staan en daardeur nie volwaardig ontwikkel word nie. Nog sterker is dit die geval in Wanneer see en branders dreun (1963; drie dele) waarin die karakters wesentlik bepaalde standpunte ten opsigte van die rasseprobleem verteenwoordig. Die dialoog in dié | |
[pagina 39]
| |
spel staan òf in diens van die ideologiese òf ‘indiwidualiseer’ die karakters op 'n geforseerde wyse deur middel van spraakeienaardighede, terwyl die natuurramp aan die slot nie 'n noodwendige oplossing bied nie en die aanwending van 'n expositor ludi, wat 'n Brechtiaanse aanskyn aan die drama moet gee, nie tussen die handeling en die gehoor ingryp nie en in werklikheid oorbodige kommentaar lewer wat net die verloop vertraag. Soos telkens in sy ernstige stukke word De Klerk se twee lang komedies, Die twisappel (1955; vier bedrywe) en Vermaak se kind (1963; drie dele), deur 'n eindelose gepraat ontsier. Die sterk ideologiese inslag van die dialoog is ook die belangrikste beswaar teen Die markplein (1978; vier bedrywe), al beweeg die stuk oor die algemeen op 'n veel hoër vlak as Wanneer see en branders dreun. Die drama werk op 'n vernuftige wyse met bekende De Klerk-temas en -karakters, soos die egosentriese vrou (Menan Marseveen), huweliksonmin en -vervreemding, die terugkeer van 'n karakter uit die buiteland en die besef van die waarde van die grond (vgl. sy roman Die uur van verlange). Die eerste bedryf toon 'n sterk stuwende lyn en 'n fyn ontwikkelde sin vir die dramatiese, terwyl die daaropvolgende bedrywe te veel in ideologiese debattering verval. Daarby is Bertie en Willie Marseveen te oppervlakkig gekonsipieer, die toneel tussen Louis en sy seun aan die begin van die vierde bedryf te lank uitgerek en weinig funksioneel, en word Menan se feitlik totale afwesigheid in die slotbedryf 'n ernstige gebrek en ontduiking van 'n belangrike konfrontasie. Enkele drade (soos die vraag of Pierre wel sy grond gaan verkoop en of Louis en Kittie 'n versoening gaan bereik) bly loshang, iets wat 'n sekere onvoltooidheid aan die drama gee. Naas Die jaar van die vuur-os is De Klerk se beste dramatiese werk te vinde onder sy negetal eenbedrywe. In Drie vroue (1945), wat hy blykens die voorwoord as 'n
| |
[pagina 40]
| |
trilogie gekonsipieer het, is die vrou telkens die sentrale karakter. In Die jammer hart oorwin Else de Wet haarself deurdat sy haar siek kindjie om die lewe bring en haarself daarna aan die gereg oorgee. Teenoor die mooi lyn in die dramatiese ontwikkeling van dié spel doen die opeenvolging van karakters en tonele in Die volmaakte huwelik behendig maar gemanipuleerd aan, terwyl Gerda se oorgang tot waansin in Ontvlugting psigologies onaanvaarbaar is. Minder dramaties is Pilatus (opgeneem in Gerhard J. Beukes se Ses eenbedrywe, 1946), terwyl Die reën van jou liefde (opgeneem in Beukes se Uitgesoekte eenbedrywe, 1948) deur sentimentaliteit en melodrama ontsier word. Sterker, daarenteen, is Waai, westewind (opgeneem in F.C.L. Bosman se Vier uitgesoekte eenbedrywe, 1950) waarin die temas van die patriargale boer, generasiekonflik en droogtetoestande (vgl. C.M. van den Heever) effektief gebruik word om 'n stuk met 'n sterk konftik op te bou. Aansluitend by Die reën van jou liefde handel die drietal spele in Adam en Eva (1953) almal oor die huwelikstema. In 'n Blommetjie vir Ans word die huweliksonmin lig en komies aangewend, terwyl Die end van die reënboog die uitwerking van 'n egskeiding op twee dogters op 'n teatrale en skellerige wyse weergee. Die geslaagdste van die drie spele is Die spieël, waarin die spel-in-die-spel-tegniek (vgl. Celliers se Reg bo reg) oortuigend aangewend word om 'n bepaalde insig oor te dra. Die gebrek aan 'n sterk persoonlike styl wat 'n mens by herhaling in De Klerk se dramas tref, geld in 'n nog groter mate vir sy romans en novelles. Meestal word karakters en situasies oppervlakkig gehanteer en gebeure telkens in die rigting van melodrama ontwikkel, terwyl die ontknoping dikwels nie die dwingende resultaat van die idees is nie, maar die gevolg van die een of ander avontuurlike toevalligheid of grillige inval by die hoofkarakter. Alhoewel Die grenslose (1946) meevoerend vertel word en iets nuuts aan die tradisionele generasiekonflik (vgl. D.F. Malherbe en C.M. van den Heever) toevoeg, hinder die eensydige karakterisering van Anna in haar verhouding tot haar skoondogter Andrie en veral die hele voorstelling van die verhouding tussen Andrie en Tonie. Wat veral ongeloofwaardig aandoen, is die feit dat Andrie in die langdurige spanning tussen haar en haar skoonmoeder nie haar probleme met haar man deel nie en dat Tonie die hele tyd niks van die ernstige situasie aanvoel nie. Saam daarmee hinder die bewustelike manipulasie van gebeure en karakters, die uitwendige ‘sosiale’ dryfvere vir Anna se optrede, die uiterlike spanning en reeks teatrale voorvalle wat - ten spyte van die ‘diep’ gedagtes wat by monde van Andrie se ‘wysgerige’ vader gegee word - alles aan die gang moet hou. Die ideële spanning tussen materiële en hoër waardes en die verskil tussen twee lewensbeskouings lei nie tot 'n groot botsing tussen mense nie, maar ontaard in kleinlike uitvalletjies, nydigheid en wrokke wat die drakrag van die roman oneindig beperk. Teleurstellend ook is die briefroman wat De Klerk saam met Anna Neethling-Pohl onder die pseudoniem Anna Heymans as Van Willem en San (1947) publiseer; nêrens word die moontlikhede van dié spesifieke kategorie uitgebuit of die inherente beperkinge daarvan bevredigend gekamoefleer nie. In Die wolkemaker (1949; hersiene uitgawe 1962) bring De Klerk 'n aantal uiteenlopende mense bymekaar uit wat hulle ná 'n vliegtuigongeluk op 'n haas onbegaanbare berg bevind. Die inset van die verhaal en die motivering waarom die hoofkarakter hom aan die aktiewe lewe onttrek het, is onbevredigend, terwyl die newelagtigheid van die figuur en die uitweiding oor die berge die roman in die rigting van 'n vae | |
[pagina 41]
| |
romantiek laat beweeg. As Abraham Koch egter met sy soektog begin om die oorlewendes op te spoor, verlewendig die verhaal, al voel 'n mens dat die reis berg af die roman laat ontwikkel in 'n reeks biografieë van problematiese mense met 'n voorliefde vir eindelose oppervlakkige of kwasie-filosofiese gesprekke, iets wat tot 'n vertoon van belesenheid, eensoortigheid van karakters en tydsbreuke lei. Tog is daar iets pakkends in die moeisame en futiele tog wat Koch onderneem om die mense te red, net om aan die einde alleen terug te wees waar hy begin het. Kleiner in omvang en konsepsie is Nelia Bell (1951) - later onder die titel Die belydenis van Nelia Bell - waarin, soos ook in Die jammer hart en Die verterende vuur, 'n etiese problematiek (in hierdie geval vrugafdrywing) ten grondslag van die gebeure lê, al word hierdie problematiek algaande verdring deur die spannende uiterlike gebeure met die gevolglike verwaarlosing van enige werklike karakterisering. Weinig genuanseerd wat karakters betref, is Die eensames (1953), 'n verhaal wat oor die bedrywighede van 'n geheime organisasie in Suid-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog handel. Grootser van opset is Die uur van verlange (1953; hersiene en bygewerkte uitgawe 1971) waarin die persoonlike liefdesverhoudinge van die ek-verteller teen die agtergrond van die geleidelike industrialisering van 'n landelike gemeenskap en die opkoms van 'n verwikkelder maatskappy gesitueer word. Die Sederbergse wêreld van Clanwilliam en Wupperthal, wat deur Boerneef in sketsmatige vertellings en deur M.I. Murray in 'n episodiese verhaal en deur 'n verdieping in die ‘onderkultuur’ van 'n vervloë wêreld opgeroep is, groei by De Klerk tot boustof vir 'n breë vierdelige roman. Wat egter hinderlik aandoen, is dat die groot verskeidenheid figure sonder
enige reliëf voor die leser beweeg, iets wat veral 'n beswaar word by die verteller se afskeid in deel I en groetery in deel II en wat op 'n gemanipuleerde wyse die moontlikheid bied om allerlei karakters, anekdotes en wetenswaardighede in verband met die streek te verwerk. Daarmee gee die roman 'n bont verskeidenheid, terwyl die epiese lyn verlore raak. Naas die wêreld van die Sederberge wil die skrywer die gebeure wat vanaf die twintigerjare tot ná die Tweede Wêreldoorlog strek, ook in die ruimer verband van die tydgenootlike Europese geskiedenis, die beëindiging van kolonialisme, die ontwikkeling van Afrika en die spanning tussen Afrikaner-wees en internasioneel-wees situeer, 'n Mens voel egter dat hierdie dinge te veel op die periferie bly en dat die roman telkens 'n groter wêreld suggereer, sonder om dit sinvol genoeg in die verhaal te laat funksioneer. Die gevaar van oortollige klein besonderhede of toneeltjies en die gevolglike onnodige stremming van die gang van die gebeure is ook 'n beswaar teen Die laer (1964; in Engels as The
| |
[pagina 42]
| |
Thirstland vertaal), 'n historiese roman oor die Dorslandtrek en die poging van hierdie groepie pioniere om 'n wilde stuk wêreld te tem, in die eerste persoon vertel deur die ontwikkelde Will Jordan, 'n Kapenaar van ‘gemengde’ bloed, wat 'n bewondering vir die boere se heroïese stryd het, as hulle adviseur optree en uiteindelik vermoor word. Afgesien van die wydlopigheid, dokumentêre aard en die joernaalkarakter van die roman hinder die dialoog waarmee De Klerk die Dorslandtrekkers se afwykende taal wou ‘rekonstrueer’, veral omdat die Engelse hoofkarakter sy herinneringe in normale Afrikaans weergee. Ook struktureel toon die roman 'n ernstige tekortkoming. Die ‘eintlike’ vertelling word voorafgegaan deur 'n ‘Vooraf’ en gevolg deur 'n ‘Naskrif’ waarin 'n ander spreker as die vertellende ek aan die woord is en waardeur die hele vertelling van Jordan as 'n ‘finale belydenis’ aangebied word, 'n illusie wat die skrywer van buite af op die verhaal afdruk en wat hy buitendien betreklik gou laat opgaan in 'n gewone kroniek. Naas die ses romans is De Klerk verder die skrywer van vyf novelles waarvan drie in O, heilige onrus (1956) en twee in Die soekende mens (1960) opgeneem is. In Die rivier word die gebeure weer in die vir De Klerk bekende Suidweswêreld gesitueer, terwyl Honger 'n beeld van 'n geskeide vrou se verslawing aan verdowingsmiddels en haar uiteindelike redding gee. In die titelverhaal van die eerste bundel is die hoofpersoon, soos in Die grens lose, Hellersee en Menan in Die markplein, weer 'n egosentriese vrou wat eers 'n groot ramp moet beleef om tot inkeer en selfverloëning te kom. Die selfverlonende vrou, die etiese problematiek en die belydende ek-verteller van Die belydenis van Nelia Bell word ook aangewend in Lewendige sake, terwyl Die dam weer met die huweliksvervreemding (vgl. Hellersee, Ontvlugting, Die end van die reënboog en Die markplein) as boustof werk. Wat 'n mens telkens in hierdie en heelparty ander werke van De Klerk opval, is dat die verhaal wesentlik uit 'n reeks betreklik spannende avonture of dramatiese gebeurtenisse bestaan wat dan met die een of ander etiese of metafisiese problematiek van buite af gelaai word om dit tot ‘literatuur’ te verhef. Daarmee kry ons sowel in sy dramas as sy romans en novelles 'n basiese tweespalt tussen 'n bewuste wil-tot-‘literatuur’ deur 'n sterk ideologiese lading, neiging tot mooiskrywery en aanwending van moderne tegnieke, en suiwer ontspanningslektuur met die aksent op die verhaalvlak, uiterlike botsings en teatrale effekte. Hiermee hang saam 'n dualiteit tussen realisme en romantiek in sy werk: aan die een kant die aanwending van situasies wat 'n rou werklikheid wil beeld en 'n dialoog wat dikwels deur die gebruik van streek- of afwykende woord en taal 'n uitstalkas vir eienaardighede word, aan die ander kant die gebruik van 'n verliteratuurde taalgebruik, vervagende simbole, see- en berglandskappe en 'n vervloë wêreld waaroor nostalgies gemymer word. Dit alles gee iets pretensieus aan 'n skrywer wat bloot as verteller meevoerend kan skryf en sonder ‘literêre’ mooidoenery sy leser op 'n suiwer verhaalvlak kan boei. Ga naar voetnoot+ | |
[pagina 43]
| |
2. Gerhard J. Beukesgerhardus johannes beukes, wat op 21 November 1913 op Upington gebore is, gaan skool op Keimoes en sy geboortedorp, studeer op Stellenbosch, word daarna onderwyser in Pretoria en promoveer met 'n proefskrif oor Die moderne eenbedryf (1974) aan die Universiteit van Pretoria. Sedert 1947 tot met sy aftrede in 1978 is hy lektor en later professor aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 1952 deel hy die Hertzogprys vir Drama met W.A. de Klerk, terwyl die bundel Beeld en bedryf (1978) onder redaksie van J.H. Senekal by sy aftrede aan hom opgedra word. Uit sy een bedrywe stel Charles Malan die bloemlesing Kort gesprek (1978) saam. Afgesien van sy doktorale verhandeling publiseer Beukes saam met F.V. Lategan die oorsigtelike studie Skrywers en rigtings (1952) waarin hy die hoofstukke oor die poësie en drama behartig. Daarnaas lewer hy 'n bydrae tot die popularisering van die drama en die aanmoediging van jonger skrywers deur die samestelling van talle bundels eenbedrywe: Ses eenbedrywe (1946), Uitgesoekte eenbedrywe (1948), Nuwe eenbedrywe (1952), Vyf nuwe eenbedrywe (1957), Skerm en masker (1958), Kom ons speel toneel! (1959), Spele vir die jongspan (1959), Woord en masker (1964), Uur van die waarheid (1969), Twee sente vir 'n pêrel (1969), Iewers langs die pad (1970) en Skuif oop die gordyn (1982). Beukes se oorsigtelike studies in Skrywers en rigtings word 'n blote profilering van gestaltes sonder enige samehang en konsentreer slegs op die positiewe aspekte van 'n oeuvre, terwyl die talle bloemlesings meestal van 'n lukraak keuse getuig, weinig sisteem openbaar en mekaar dikwels oorvleuel. Dieselfde onoordeelkundige werkwyse wat sy kritiese en kompilatoriese aktiwiteite kenmerk, blyk ook uit die talle heruitgawes in gewysigde vorm wat sy eenbedrywe beleef. Die eerste sestal verskyn in Laat die kerse brand! (1945), wat met een weglating hersien en aangevul is tot tien stukke in Kerse teen die wind (1950). Hieruit word die agt beste ernstige en geestige spele in opnuut hersiene vorm en dikwels onder nuwe titels in onderskeidelik Viertal (1968) en Die nôientjie het planne! (1969) gepubliseer, terwyl
| |
[pagina 44]
| |
die bloemlesing Uur van die waarheid (1969) die enigste nu we eenbedryf uit latere jare van Beukes bevat. Onder die titel Die huigelaar (1967) gee hy 'n vrye verwerking van Molière se Tartuffe, terwyl hy Trygve Gulbranssen se Og bakom synger skogene as En ewig sing die woude (1968) vertaal. As toneelskrywer geniet Beukes in die veertiger- en vroeë vyftigerjare 'n groot populariteit met sy komedies en klugte, historiese stukke en Bybelse spele. Die vier eenbedrywe in Die nôientjie het planne! werk almal met geestige situasies, nl. Broer Wolf en die ooilam (vroeër in Laat die kerse brand! en Kerse teen die wind onder die titel In my dae) wat gebaseer is op ‘Die huweliksaansoek’ uit C.M. van den Heever se bundel Simson, Die braaiboud (ook vroeër in Laat die kerse brand! en Kerse teen die wind), Die nefie kom kuier! (in Kerse teen die wind gepubliseer as As die nefie kom kuier!) en Die nôientjie het planne! (in Kerse teen die wind onder die titel Mamma het planne). Alhoewel Beukes van tyd tot tyd 'n goeie begrip vir situasiekomiek openbaar, maak hy te veel gebruik van voorspelbare en geykte situasies en verrassende wendinge aan die slot, terwyl sy stukke mank gaan aan 'n onvermoë tot karakterbeelding en natuurlike dialoog. Die afwesigheid van oortuigende karakters, die opeenhoping van lawwe snaaksighede wat op die meelewing van 'n weinig kritiese gehoor gemik is en die gebrek aan 'n sterk dramatiese lyn het tot gevolg dat sy langer blyspele - As ons twee eers getroud is! (1952; vier bedrywe), Verkiesing sonder politiek (1956; drie bedrywe) en Die vonkel in haar oë! (1960; vier bedrywe) - niks tot die tradisie van die Afrikaanse komedie bydra nie. Met hierdie stukke is Beukes weinig meer as die Melt Brink van die vyftigerjare. Die aksent op uiterlike effekte en spanninge en die verwaarlosing van karakteruitbeelding geld ook vir die historiese spele en enkele verspreide ‘realistiese’ stukke. In Oktobernag (vgl. Grosskopf se verwante Oorlog is oorlog.) en Die vrees (finale tekste in Viertal; vroeër in Laat die kerse brand! en Kerse teen die wind), wat albei teen die agtergrond van die 1914-Rebellie afspeel, wend Beukes 'n poging aan tot karakterisering, al word hy weer verlei tot skokeffekte wat die slot - ondanks 'n mooi spel met die ironie in Die vrees - in albei stukke onaanneemlik maak. In die Kruger-stuk Die winde van U toorn (Viertal; vroeër in Laat die kerse brand!) ontaard die dialoog in blote informasie, terwyl die teleurstelling aan die slot tot melodrama lei. 'n Toppunt van wansmaak enersyds en blatante naskrywery andersyds is Langs die steiltes (1952) wat met die gebruik van 'n verteller, prosa- en versgedeeltes en afwisselende optrede van
| |
[pagina 45]
| |
kore en karakters by die simbolies-allegoriese tradisies van Celliers en Langenhoven aansluit en ‘Hoogtepunte uit ons driehonderdjarige volkswording’ gee. Deur die onbeholpenheid van die retoriese woord en futlose vers is Beukes egter volkome onmagtig om selfs die gebrekkige visie van Celliers en Langenhoven te ewenaar en moet hy op uiterlike dinge soos beligting, gebare en toneelskikking vir sy effekte steun. In Kerse teen die wind (Viertal; vroeër in die versamelbundel met dieselfde titel) sluit Beukes aan by die realistiese probleemdrama in sy uitbeelding van verarmde Afrikaners in die grootstad, al laat die onegte situasie en dialoog en die holle gebaar van die slot die stuk volkome misluk. Die neiging tot skokeffekte en onwaarskynlike gebeure maak van Die ligblou vaas (Kerse teen die wind) 'n stuk suiwer melodrama, terwyl Uur van die waarheid (in die gelyknamige bundel; vroeër onder die titel Kwartet in Nuwe eenbedrywe) op 'n enigsins hoër vlak 'n beeld van vier terdoodveroordeeldes in die nag voor hulle teregstelling gee. Onoortuigend is ook Beukes se poging tot 'n ‘realistiese’ drama van groter omvang in Die swart engel (1947; drie bedrywe) deurdat die situasies weer hopeloos oordryf word en die hoof- en newemotiewe te los van mekaar beweeg. In die eenbedryf Iewers langs die pad (uit die versamelbundel met dieselfde titel) word 'n beeld van die verbrokkeling van 'n gesin gegee, maar die te bewustelike aanwending van die dialoog om juis hierdie verbrokkeling keer op keer te suggereer, maak die situasie onaanvaarbaar. Met enkele van die eenbedrywe op Bybelse temas lewer Beukes sy verdienstelikste werk. In Die hand wat Hy eenmaal geneem het (in Laat die kerse brand! en Kerse teen die wind opgeneem) gee hy die reaksies van Johannes, Petrus en Judas ná die gevangeneming van Christus en maak hy effektief gebruik van 'n sekere karakterkontras. Afgesien van die optog-slot wat, soos M.P.O. Burgers aangetoon het, teenoor die mistiek-realistiese inslag van die res minder bevredig, is Laat die kerse brand! (in die gelyknamige bundel en in Kerse teen die wind), wat afspeel tydens die kindermoord en die vlug na Egipte, Beukes se sterkste stuk deur die bevredigende opbou, die funksionele gebruik van die Bybeltaal en die hantering van die krisis wat van Magda 'n keuse tussen die dood van haar eie baba of dié van die Christuskind vereis. Met sy Bybelspele van groter omvang sluit Beukes aan by die tradisie van D.F. Malherbe, behalwe dat hy meer spesifiek op Nuwe-Testamentiese stof konsentreer. Salome dans! (1950; drie bedrywe) misluk as gevolg van swak karakterisering, onegte dialoog en die veelheid van dramatiese motiewe, terwyl Jesus van Nasaret (1954) - vgl. Dorothy Sayers se The Man born to be King -, 'n reeks van veertien hoorspele oor die geboorte en lewe van Christus (waarvan die eerste oorspronklik as Ons het 'n ster gesien! in Nuwe eenbedrywe verskyn het), deur die gemeensame taal en te vertroulike omgang met die heiliges ontsier word. In Judas van Keriot (1959; vyf bedrywe; in 1976 herdruk as Man van Keriot) gee Beukes, ná 'n inleidende proloog deur die hoofkarakter, 'n beeld van Judas se lewe en die redes waarom hy as vurige nasionalis, wat van Christus 'n militaristiese bevryding verwag het, uiteindelik as verraaier van sy Meester kon optree. Maar ook weer hier, soos telkens in sy ander werk, blyk Beukes se onvermoë tot karakterisering. Hierdie gebrek, en daarmee saam die goedkoop effekte waarop veral sy blyspele steun, het tot gevolg gehad dat sy gewildheid in die veertiger- en vyftigerjare die ontwikkeling van die Afrikaanse drama en toneel eerder gestrem as bevorder het. | |
II. Die romanties-realistiese tradisie en die probleemroman | |
[pagina 46]
| |
Vanaf die veertigerjare word die stroom liefdesromans, verhale waarin spannende avonture beleef word en ander lektuur wat op 'n populêre mark gerig is, veel talryker. Ná die Tweede Wêreldoorlog, wanneer die papierbeheer opgehef word en meer boekeskemas en populêre tydskrifte tot stand kom, lei die aanvraag vir dié soort verstrooiingsverhale tot die gebruik van goedkoop resepte en die aanwending van die sensasionele en gewaagde om die verkope te laat styg. Naas die realistiese kontrei- en ander kuns wat die ‘literêre’ prosatradisie in hierdie jare saam met die latere werk van enkele ouer prosaïste (Jochem van Bruggen, Van Melle, M.E.R.) aan die gang hou, is daar in die romantiese rigting enkele skrywers wat effens bo die vlak van die populêre lektuur uitstyg. In Die ontleedmes en ander verhale (1940) bundel L.W. Viljoen 'n aantal stukke oor die dood en bonatuurlike verskynsels, terwyl Blanche Pienaar (pseudoniem van S.J. Meadows-Cullum) in Liefdesloutering (1942) die tradisionele driehoek in die liefdesverhouding tot sentimentaliteit banaliseer en in Skewe bome (1944) wanverhoudinge in die huwelik behandel. In regstreekse aansluiting by die swoele Oosterse mistisisme wat 'n tipiese modeverskynsel in die Wes-Europese literatuur van die dertigeren veertigerjare was, lewer Phil Olivier met die ‘belydenisse van 'n seun’ in Kom droom met my (1942) die manlike pendant vir Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. Olivier is ook die skrywer van Nuwe wyn (1946), Offer (1951) en 'n aantal kinderboeke. Op 'n hoër vlak is die godsdienstige romans Die dale juig (1946) en Wat is die mens tog? (1951) van H. en F. von Hörsten, twee skrywers wat met hulle reeks oor die Bushies idealistiese verhale vir die jeug skryf. Hierby sluit F.J. Steenkamp met sy romans oor Bybelse temas, o.m. Dawid (1948), aan. Die wêreld van die Vrystaatse Republiek en die era van Ryk Tulbagh is onderskeidelik die boustof van J.J.G. Grobbelaar se Die driemanskap (1947) en Pêrels en pruike (1948), terwyl A.M. de V. Esterhuysen se Corneels Kanniedood (1953) oor die lyfwag van president Steyn skryf. Meer romanties is Skewe potte (1946), Die susters Dupont (1946), die dagboekroman My liewe Magda (1950) en die sketsbundel Ken u haar? (1950) wat ANNA SERVASINA (NEETHLING-)POHL (1907-) onder die skuilnaam A.P. NIEHAUS publiseer; onder haar eie naam doen sy later in die outobiografiese Dankbaar die uwe (1974) verslag oor haar werk as toneelspeelster, regisseuse en professor in drama, terwyl sy onder die pseudoniem ANNA HEYMANS saam met W.A. de Klerk die briefroman Van Willem en San (1947) skryf. Die swaar pad terug (1947) van Aline van Alphen (pseudoniem van Aty Greshoff) handel oor die liefdeslewe van 'n Nederlandse meisie in New York teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog. In die veels te wydlopige Anderkant die einders (1953) van F.P. van der Merwe kom 'n egosentriese onderwyser ná 'n periode van loutering tot 'n nuwe besef van homself en sy medemens. Ná die vroeëre probleemromans en die eksperimente met die Nuwe Saaklikheid is daar enkele skrywers in die veertiger- en vroeë vyftigerjare wat met nuwe boustof en soms ook moderner tegnieke die probleemroman beoefen, al is die nuwe meestal afgelei van buitelandse modelle en toon die werke stilisties en struktureel te veel gebreke om van 'n deurbraak te kan praat. Die enigste roman wat in dié jare blyke | |
[pagina 47]
| |
gee van 'n werklike vernuwing, is die psigologiese Keerweer (1946; hersiene uitgawe 1961) van CHRISTOFFEL JOHANNES MICHAEL NIENABER (1918-), dosent en later professor aan die Natalse Universiteit. In hierdie werk word die gemoedstoestande van 'n kranksinnige met sy agterdog, vervolgingswaan, vreeskomplekse, los assosiasies en ‘visioene’ uitgebeeld, 'n procédé wat plek-plek tot die vervlegting van motiewe en feitlik tot 'n surrealistiese, nagmerrie-agtige belewing lei. Die basiese probleem van hoe om die waansin in die geordende vorm van die literatuur oortuigend aan te bied, los Nienaber vernuftig op deur binne die chaotiese wêreld van die kranksinnige die deurlopende motiewe van die blou verpleegster en die ‘blou’ musiek, die grootheidswaan, die vreeskomplekse en veral die jeugherinneringe as eenheidsbindende elemente te gebruik. Die vraag ontstaan egter of die ekperspektief heeltemal oortuigend is, veral aangesien die psigoticse skisofreen wat soms in 'n kamer met bedekte mure opgesluit moet word, tog nog in die roman van geordende taal gebruik maak. Ten spyte van hierdie bedenking is Keerweer die verre herout van die vernuwing wat eers in die tweede helfte van die vyftigerjare definitief deurbreek, terwyl die surrealistiese prosa literêr-histories die voorganger van Jan Rabie se Een-en-twintig is. Alhoewel Nienaber se roman vandag, danksy die aandag wat N.P. van Wyk Louw daarop in Vernuwing in die prosa gevestig het, algemeen as die vroeë aankondiger van die Sestigerprosa gesien word, het dit indertyd by die eerste verskyning nie besondere aandag getrek nie. 'n Skrywer wat veel meer in die brandpunt was en groot belofte ingehou het, is WILLEM PETRUS VAN DER BERG (1916-1952), radioman en later dosent aan die Witwatersrandse Universiteit. Van der Berg se beste, maar betreklik tradisionele, werk is te vinde in die novellebundel 'n Profeet in die Boland (1948) waarin veral die titelstuk (afsonderlik gepubliseer in 1961) oor 'n onafhanklike, waardige ou boerefiguur wat tydens die Tweede Wêreldoorlog geïnterneer word, sowel op die verhaalvlak as deur die uitbeelding van die hoofkarakter meevoer. Daarnaas skryf hy 'n aantal behoorlike humoristiese, maatskaplike en liefdesverhale in Solitêrspel by kerslig (1949), terwyl enkele goeie essays in Die asvaal ou Karoo (1951) - o.m. met die kind se primitiewe kyk op dinge - opgeneem word. Die werk waarmee hy egter indertyd die aandag op hom gevestig het, is Reisigers na nêrens (1946), 'n breed opgesette roman oor 'n aantal ontwikkelde Kaapstadse Afrikaners wat die lewe as sinloos ervaar en stuurloos in hul vereen-
| |
[pagina 48]
| |
saamde bestaan voortdobber. Die konsentrasie op 'n aantal karakters in dieselfde stadsmilieu en die opvolging van tonele wat temporeel min of meer gelyk met mekaar is, sluit struktureel aan by die simultane totaliteitsvisie van romanskrywers soos Vicki Baum en ander eksponente van die Nuwe Saaklikheid en veral Aldous Huxley se Point counter point, terwyl die gesprekke waarin die karakters na vaste waardes vir hulle lewens soek of in 'n algehele skeptisisme verval, in die konteks van die Afrikaanse prosa indertyd 'n ‘moderne’ indruk gemaak het. Die filmiese konstruksie wat die opeenvolgende tonele in elke hoofstuk tot gevolg het, bring wel 'n voortdurende wisseling in die struktuur van die roman, maar 'n mens mis die nodige verskeidenheid omdat die karakters, dialoog en verskuiwende ruimtes 'n groot eenselwigheid toon en die ‘filosofieë’ meestal 'n oppervlakkige indruk maak. Hinderlik is ook die waarnemings in die spieël en die telkens herhaalde procédé om aan die begin van 'n nuwe afdeling die aandag op 'n karakter-in-handeling te fokus, terwyl die slot met sy onbevredigende beëindiging van motiewe en voortdurende verskuiwende tonele 'n gemanipuleerde indruk maak. Alhoewel Tema en variasies (1947) hegter van struktuur is en daar naas die ‘reisigers na nêrens’-motief ook met die werkstoestande by die settery 'n maatskaplike problematiek bykom, toon die roman 'n te groot ooreenkoms met sy voorganger, ook wat die tegniek van die ‘close-up’, die konsipiëring van die karakters en die konvensionaliteit van tipes en situasies betref. Oppervlakkig, sentimenteel en met te weinig epiese gang is die spanningsroman Ruwe ontwaking (1949) en die novelle Groen oewers (1950). Op 'n heelwat laer vlak as dié van Van der Berg staan die geskrifte van JOHANNES MEINTJES (1923-1980), wat naas sy werk as skeppende skrywer ook die skilderkuns beoefen, enkele boeke oor die beeldhou- en skilderkuns lewer en as amateurhistorikus studies oor die Anglo-Boereoorlog en die Voortrekkers maak en 'n hele paar biografieë (Kruger, Steyn, De la Rey, Scheepers) in Afrikaans en Engels skryf. Met die bundel Kamerade (1947; in 1971 herdruk en uitgegee as Siembamba) versamel Meintjes essays, sketse en kortverhale waarin die boheemse lewe en - ná enkele verse en verhale van I.D. du Plessis - die wêreld van die homoseksueel die eerste keer in Afrikaans figureer. By Meintjes lei hierdie tematiek tot narcissisme, eenselwigheid, goedkoop belydenis en ekkerigheid, iets wat ook sy dramas Die blanke stilte (1952; drie bedrywe) en Die soekendes (1958; twee bedrywe) met pseudo-artieste as karakters en die eindelose gepraat oor die sinloosheid van die lewe pretensieus laat aandoen. Die tema van die ou familieplaas en die houvas wat dit op mense kan hê, is reeds aanwesig in Die blanke stilte, en dit word verder uitgewerk in die romans Stormvlei (1955) en Gister is vandag (1963), laasgenoemde met 'n kunstenaarsfiguur as
| |
[pagina 49]
| |
hoofkarakter wat as gevolg van die tweestryd tussen sy liefde vir die plaas en sy kuns tot selfmoord gedryf word. Die Kaapse artiestelewe van Die soekendes vorm ook die boustof vir Die singende reën (1962) waarin die onbeholpe gebruik van verskillende ek-vertellers steurend is, terwyl die toneel in Mallemeule (1964) na die partytjielewe van Johannesburg verskuif. In Jeugjare (1963) en die twee dele van sy Dagboek (1961-1972) doen Meintjes nogal minusieus verslag oor die klein kunstenaarswêreld waarin hy beweeg, meestal met homself egosentries in die middelpunt. In teenstelling tot die esoteriese, narcissistiese wêreld van Johannes Meintjes stel HENDRIK STEPHANUS HERTZOG VAN BLERK (1915-), mynwerker en joernalis in Johannesburg, sy lesers voor aan die ruwe werklikheid van die diamantdelwer in Dit blom tussen bantoms (1949), die houtryer in Los donkies (1950) en die mynwerker in die Randse goudmyne in Daarom is die winddreun diep (1951) - 'n titel wat ontleen is aan Totius se Trekkerswee -, Reën van erbarming (1952), Twee stuiwers vir 'n mossie (1959), Die mynramp (1964) en Son van geregtigheid (1965). In al hierdie werke word ons getref deur die humorrealistiese uitbeelding van die minderbevoorregtes wat blootgestel is aan die verleidings van hulle omgewings, onder meer deurdat die dialoog met die spraakwerklikheid van hierdie mense rekening hou en die klein toneeltjies op die delwery of rondom die myn gesamentlik die bont mosaïek van hulle lewens gee. 'n Mens voel egter dat Van Blerk hierin vir Jochem van Bruggen en Mikro as voorgangers het en dat hy sy tonele dikwels in 'n sentimentele of melodramatiese rigting laat ontwikkel, terwyl die kyk op die mens by die ouer skrywers sober bly en deel van iets omvattenders uitmaak. Teenoor die enigsins episodiese opset van dié werk skryf Van Blerk ook 'n aantal deurlopende verhale wat 'n sterk spanningslyn openbaar en meestal die Suid-Afrikaanse geskiedenis as agtergrond het: Geboorteplaas (1959) en Broer oor die visier (1963), albei oor die Randse mynstaking van 1922, En drie maal kraai die haan (1968), 'n mynverhaal wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, en 'n hele reeks romans waarin hy die gebeure in die tyd van die Anglo-Boereoorlog situeer, onder meer die twee verhale oor die verkenners van Danie Theron, Die eerste verkenner (1969) en Boerespioen (1971). Minder oortuigend en melodramaties is sy uitbeelding van die dorpslewe in Soos gras is sy dae (1955) en Die tollenaar van Tiekiedraai (1956). Naas 'n drietal bundels geforseerde en didaktiese kortverhale (Die swart wa, 1951, Die man in saal sewe, 1962 en Vallei van die wingerde, 1967) skryf dirk gysbert richard (1918-), joernalis en koerantredakteur in Johannesburg, twee romans waarin hy aktuele sake aanraak: Voor die nag kom (1953) oor die vervlakking van
| |
[pagina 50]
| |
leessmaak en die opkoms van die geel pers, en Die gekneusde jaar (1963) oor die onvermoë van 'n jong Afrikaner wat uit die buiteland terugkeer om hom weer by die eng tradisies van sy volk aan te pas. Sy beste werk lewer Richard met die viertal eenbedrywe in Die laaste skakel (1955) wat op genuanseerde wyse en met gebruik van lewendige dialoog die stryd uitbeeld tussen 'n ouer en jonger geslag Afrikaners wat voeling met mekaar verloor het. Aansluitend by die werk van Van Blerk, Jochem van Bruggen en Van Melle (onder meer deur die verskuiwings in tyd en ruimte) teken Kas van den Bergh - 'n skrywer wat ná sy belowende begin met goedkoop verstrooiingslektuur tevrede geword het - in Vlieë teen die ruite (1953) 'n bywonersgesin waarvan die kinders in hulle uiteenlopende lewens weer 'n sekere maatskaplike orde bereik. In Jôhannie giet die beeld (1954) en Met erbarming, o Here (1957) skets Arthur Fula, die eerste swart skrywer wat in 'n roman Afrikaans as medium gebruik, die verderflike invloed wat die grootstad op die swartman het. In dieselfde trant en met onoortuigende karaktervoorstelling gee Eddie Domingo in Okkies op die breë pad (1955) 'n beeld van die verleidings van drank, vroue, dagga en vreemde ideologieë wat 'n onontwikkelde bruin man in Johannesburg ervaar. Met al drie hierdie werke het 'n mens die gevoel dat dieselfde tipe situasie deur ander skrywers reeds beter gehanteer is: in die geval van Van den Bergh deur die humorrealiste en Van Melle, in die geval van Fula en Domingo deur talle Engelse Suid-Afrikaanse skrywers (onder andere Paton) en deur F.A. Venter in Swart pelgrim. | |
III. F.A. Venter en die voortsetting van die historiese roman
françois alwyn venter, gehore op Hopetown op 27 November 1916, ontvang sy skoolopleiding op Vioolskraal, Strydenburg en sy geboortedorp, studeer aan die Universiteit van Stellenbosch,en is daarna agtereenvolgens joernalis in Kaapstad, Windhoek en Johannesburg. In 1960 vestig hy hom op 'n plaas tussen Kenhardt en Carnarvon, en in 1970 begin boer hy in die distrik Vredendal. Ná sy aftrede vestig hy hom in die Strand, waar hy hom voltyds aan skryfwerk wy. Afgesien van die werke onder sy eie naam publiseer Venter ook heelwat ontspanningslektuur onder die pseudonieme Meiring Fouché, Elske te Water, René Stegmann en Marius de
| |
[pagina 51]
| |
Jongh. In 1961 ontvang hy die Hertzogprys vir Swart pelgrim en Geknelde land en in 1981 'n eredoktoraat van die Universiteit van Port Elizabeth. Van sy werke is in Engels, Nederlands, Duits, Noorweegs, Sweeds en Spaans vertaal. Vir die Ministerie van Waterwese stel hy in 1970 'n boek oor Water saam. Venter se oeuvre bestaan uit twee jeugverhale, 'n bundel kortverhale, tien romans en drie bundels sketsvertellings. In teenstelling tot die belangrikste prosaïste in die laat-vyftiger- en sestigerjare eksperimenteer hy nie met nuwe tegnieke of boustof nie en is sy werk eerder 'n voortsetting en verfyning van wat ander skrywers voor hom reeds aangedurf het. Met sy kortverhale sluit hy, wat toon en verhaaltegniek betref, aan by Abr.H. Jonker, terwyl hy op die gebied van die Bybelroman en vaderlandse historiese verhaal die rigting van D'Arbez, Nico Hofmeyr, D.F. Malherbe, P.J.L. Odendaal en andere verder uitbou. Hierdie aansluiting by ouer skrywers geld ook vir sy latere werk, waarin hy die plaaswêreld en die lewe van die bruinmens verken, al is sy sketsvertellings verder verwyder van ouer modelle. Met Swart pelgrim, 'n roman oor 'n Xhosa se wedervaringe in Johannesburg, en Die middag voel na warm as, vertellings oor bruin plaasarbeiders in die Noordweste, lewer hy sy belangrikste bydrae, wyk hy met sy besondere benadering af van die simplistiese hantering van dié tipe boustof deur die meeste skrywers voor hom en open hy plek-plek ook nuwe gebiede in menslike verhoudinge vir die Afrikaanse verhaalkuns. In al hierdie verhale is die meevoerende en spannende verteltrant Venter se belangrikste kwaliteit, terwyl die uiterlike dramatiek, teatrale effekte, vlak karakterisering en te beeldryke styl iets oppervlakkigs aan sy werk gee. Venter debuteer met die jeugverhaal Die geheim van die berg (1944; hersiene uitgawe 1958), terwyl hy later - as 'n neweproduk van sy reeks romans oor die Groot Trek - die jeugroman Wit oemfaan (1965) publiseer wat op die geskiedenis van die Voortrekkerseun Ferdinand Paulus van Gass, soos geredigeer deur Gustav Preller (Voortrekkermense, deel I), gebaseer is. Alhoewel die avontuurlike reeks ervarings in albei dié werke vlot vertel word, is daar in die eerste verhaal 'n gebrek aan dramatiese dialoog en mis 'n mens in die wedervaringe van die Voortrekkerseun die nodige karakteronthulling. In Gebondenes (1949), wat tematies verwant is aan Abr.H. Jonker se Bande, bundel Venter 'n aantal verhale oor mense wie se lewens fisiek of geestelik deur dronkenskap, selfopofferende naastediens, plig, liggaamsgebreke e.d.m. begrens word. Soms is die aanloop te lank (‘Nuwe inkeer’), mis die verhaal 'n bevredigende proporsie (‘Alpheus’), hinder daar iets aan die ontknoping (‘Kentering van
| |
[pagina 52]
| |
mnr. Buyskes’) en word die geheel deur 'n oordaad versierende adjektiewe en onderbrekende vergelykings geskaad. Die hoogtepunt van die bundel is ‘Twee vyande’, waarin die oerdrifte wat deur 'n vernietigende stryd in die mens ontketen word, in die oplaaiende haat tussen 'n Duitse en 'n Russiese vlieënier teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog beliggaam is. Wat 'n mens hier opval, is die parallelismes wat deur die alternerende aandag aan die twee vlieëniers bereik word en die ironiese einde waar die twee vyande aan mekaar se bors sterf, 'n slot wat - naas alle verskille - aan C.M. van den Heever se ‘Broedertwis’ (Simson) laat dink. Vir sy eerste roman, Eenderse morge (1950), kies Venter die tema van stryd en vyandskap tussen twee families op buurplase as gevolg van verskille in hulle uitkyk op die Tweede Wêreldoorlog. Alhoewel die roman met die tradisionele plaaswêreld as milieu werk, is daar 'n poging om die lokale realisme te oorskry en in die skeuring tussen Syferkuil en Bronwater iets van die verwarring in die Afrikanervolk van die veertigerjare te lê. Ongelukkig word hierdie groter stryd egter nie bevredigend uitgewerk nie, omdat Venter sy toevlug tot uiterlike oplossings (die damwal wat breek en 'n versoening tussen die twee vyande bewerkstellig) neem, terwyl die roman vlak bly in die uitbeelding van karakters en deur die woordrykheid en oormatige gebruik van vergelykings ontsier word. Op 'n hoër vlak is Die drosters (1952), 'n fantasie wat in die derde wêreldoorlog afspeel en die angs van drie drostende soldate - 'n Duitser, 'n Italianer en 'n Suid-Afrikaner - uitbeeld. Veral die eerste deel van dié roman is geslaag, terwyl die fantastiese afloop te veel op die vlak van 'n bloot uiterlike avontuur beweeg.
Swart pelgrim (1952; hersiene uitgawe 1958), Venter se volgende werk, is die verhaal van 'n Xhosa wat in die tradisies van die stam opgelei is, na die stad gaan om geld te verdien en sy broer Mfazwe te soek, en daar aan allerlei ervarings blootgestel word voordat hy, liggaamlik geskend, na sy tuiste terugkeer. Die roman lok 'n vergelyking uit met Alan Paton se Cry, the beloved country, wat ook oor die Suid-Afrikaanse ‘kleur’-aktualiteit handel. Terwyl Paton egter die aksent op die milieu van swart én wit laat val wat met mekaar in aanraking kom, gee Venter se roman grotendeels 'n beeld van 'n bepaalde swartman se reaksie op die vreemde milieu en figureer die blanke slegs waar die hooffiguur met hom in aanraking kom. Daardeur verkry Swart pelgrim, soos Rob Antonissen aangetoon het, 'n homogener karakter en strakker lyn in die uitbeelding van sowel die stamlewe (die eerste vyf en die slothoofstukke) as die bestaan in die plakkersdorp, én van bepaalde indiwidue binne daardie wêrelde, in die besonder die hooffiguur Kolisile. In vergelyking met
| |
[pagina 53]
| |
sy vorige werke word die oordadige beeldspraak in dié roman funksioneel ingespan om die idioom van die Xhosa te suggereer en om deur sirkulering tot 'n hegte struktuur by te dra. In die hersiene uitgawe van die roman het Venter heelwat byvoeglike naamwoorde, onnodige beeldspraak en sensasietonele weggelaat, terwyl die slothoofstuk só herskryf is dat die toekoms van Kolisile en sy gesin duisterder en meer problematies word. Die roman begin oortuigend met Kolisile se tweestryd of hy op die plaas moet bly of sy broer moet gaan haal. In die verdere ontwikkeling van die roman word Kolisile egter te veel die blote katalisator van 'n reeks rampspoedige gebeurtenisse, teleurstellings en ontnugterings wat gesamentlik vir 'n spannende verhaal sorg, maar waardeur ons te min aan die hooffiguur se reaksies, denke en optrede voorgestel word. As die karakter deur wie se bewussyn en perspektief die leser alles in die roman ervaar, is Kolisile - soos die hoofpersoon in G.H. Franz se Kobus - iemand wat alles te lydelik ondergaan en nie sy ervarings kan interpreteer of in groter verbande kan sien nie. Hierdie gebrek aan sinvolle karakterisering lei daartoe dat die skrywer vir sy effekte op uiterlike geweldtonele steun wat dikwels nie die funksie kan verrig wat hulle kragtens die hele bou van die roman moes gehad het nie. Om Kolisile se antipatie teenoor die blankes te motiveer, het Venter 'n toneel nodig waarin sy hoofkarakter op so 'n wyse deur witmense behandel word dat hy vir Jackson se opruiingswerk vatbaar is. Binne die struktuur van die roman moet Kolisile se eerste ontmoeting met 'n witvrou (hoofstuk VII) dan dié belangrike funksie vervul. Die besondere vrou is egter 'n uitsonderingsgeval wie se man by geleentheid ernstig deur swartmense beseer is, terwyl die toeval - dat Kolisile juis by dié vrou moes uitkom - so 'n belangrike rol speel dat die siening eensydig ten gunste van die swartman swaai en die objektiwiteit verlore gaan. Op dieselfde wyse - soos Fenja Mulock-Houwer aangetoon het - moet die witvrou by wie Kolisile inbreek (hoofstuk XXVI), deur haar simpatieke optrede die bewys lewer dat Jackson se opruiende veroordeling van ‘die witman’ vals is. Hierdie vrou tree egter só uitsonderlik op dat die hele toneel oneg aandoen en nie werklik die deurslaggewende dryfkrag vir Kolisile se wending na die ‘goeie’ kan wees nie. Deurdat Kolisile die wêreld waarin hy beweeg, so weinig genuanseerd ervaar, lei dit tot 'n doelbewuste manipulering van tonele en tot 'n sterk en oorvereenvoudigde teenstelling tussen karakters, soos in die geval van Mafasoe en Jackson wat onderskeidelik as Kolisile se goeie en bose ‘sinnekens’ funksioneer. Terwyl Mafasoe in sy eenvoud, vaskleef aan tradisies en liggaamlike gebreke oortuigend geteken word, is Jackson weinig meer as 'n karikatuur wat as onderduimse agitator iets van die tipiese romanskurk word. Juis deurdat hierdie | |
[pagina 54]
| |
karakter 'n mens so weinig oortuig, is die latere verloop van die roman onbevredigend en mis 'n mens 'n noodwendige eindpunt in Kolisile se wedervaringe. Soos telkens in sy werk offer Venter karakterisering op ter wille van dramatiese voorvalle en uiterlike avonture, iets wat, volgens J.P. Smuts, daartoe lei dat die verhaal nie by die emosionele keerpunt in die roof-episode sy noodwendige afloop vind nie. Die roman kry 'n ‘verlengstuk’ as Kolisile teruggaan myn toe, vermink raak en aan die einde na sy land terugkeer. Alhoewel die hersiene slot 'n aanmerklike verbetering op die eerste uitgawe is, klink die twee slotparagrawe tog, soos Fenja Mulock-Houwer opgemerk het, ‘'n bietjie soeterig vir 'n roman waarin sulke geweldige dinge gebeur, en dit verswyg volkome die feit dat ‘hulle wat so lank gewag het’, nie die sterk, hardwerkende, trotse vader teruggekry het nie, maar 'n verminkte man met maer hande, wat seerkry as hy loop, ‘nie baie’ geld vir sy arbeid in die stad, ‘nie baie’ kompensasiegeld gekry het nie. Die Kolisile wat teruggekom het, is minder as ooit opgewasse om hulle te help in die noodtoestand waarin hulle verkeer’ (Blokboeke, nr. 29, p. 21). Ná Swart pelgrim is Die tollenaar (1954), die verhaal van teringlyers in 'n sanatorium, 'n groot teleurstelling deur die aksent op uiterlike spanning, swak karakteruitbeelding en maniërismes in die styl. Grootser van opset en konsepsie is Man van Ciréne (1957), die lewensverhaal van Simon Niger wat aanvanklik teen Christus gekant is, later noodgedwonge deel aan sy lydingsweg het, tot inkeer en bekering kom en uiteindelik soos sy nuutgevonde Meester aan die kruishout sterf. In vergelyking met die vroeëre Bybelse romans gee Man van Ciréne 'n omvattender kyk op die wêreld, 'n noukeuriger weergawe van die spesifieke stuk geskiedenis, 'n juister insig in die mens van dié tyd en 'n boeiender verhaal. Opvallend by die lees van dié roman is die wisselwerking tussen feit en fiksie en die wyse waarop Simon se wedervaringe telkens raakpunte met die groot gebeurtenisse uit die heilsgeskiedenis het, terwyl die teenstelling tussen Simon se onvermoë tot begrip aan die begin en sy offerbereidheid aan die slot plek-plek aangrypend is. Daarteenoor word die eenheid van die werk geskaad deurdat die roman op bepaalde punte sekere kerngebeurtenisse vanuit 'n ander perspektief as dié van Simon ervaar, terwyl die patroonmatige kontraswerking tussen idille en geweld in haas elke hoofstuk 'n strukturele dreun tot gevolg het. Die belangrikste beswaar is egter dat die karakters enkellynig rondom 'n bepaalde idee opgebou word en dat hulle deur teatrale gebare, gewelddadige optrede en skeldwoorde in die rigting van oppervlakkige bioskoopfigure neig. Die wisselwerking tussen feit en fiksie wat reeds in Man van Ciréne opvallend was, is ook aanwesig in die tetralogie wat Venter oor die Groot Trek skryf en wat gepubliseer word as Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968). In vergelyking met D.F. Malherbe se pionierstetralogie, Die wit kraai van Anna de Villiers, Die môreskof van P.J.L. Odendaal en talle ander werke oor die Groot Trek bring Venter nie 'n verrassende nuwe kyk op die geskiedenis nie. Wat sy reeks romans tot 'n hoogtepunt in die tradisionele hantering van historiese boustof
| |
[pagina 55]
| |
verhef, is die groot greep wat hy op die gebeure het, die deeglike wyse waarop die geskiedenis verwerk en (soos in J.D. Kestell se De Voortrekkers) met 'n fiktiewe gegewe verbind is, die meevoerende vertelling en die dikwels dramatiese opbou van 'n reeks gebeurtenisse. Die geskiedenis wat hier met die verhaal verweef word, strek vanaf 1834 met die moeilikhede op die Oosgrens tot die besluit om te trek (Geknelde land), die eerste fase van die Trek, die leierskapskwessie, die slag by Vegkop, die strafekspedisie teen die Matebele, die oortog oor die Drakensberg, die moord op Retief en die gebeure by Bloukrans (Offerland), die verdeeldheid onder die Trekkers, die koms van Andries Pretorius, die aflegging van die gelofte en die slag van Bloedrivier (Gelofteland), en die lewe in Natalia, die strafekspedisie teen hoofman Napaai, die beleg by Congella, Dick King se epiese rit, die anneksasie van Port Natal deur sir George Napier, die rusies in die Volksraad en die besluit van baie Trekkers om die land ter wille van vryheid te verlaat en hulle in Transvaal te vestig; (Bedoelde land). Hierdie historiese gebeure word egter primêr aangebied soos beleef deur Rudolf Dreyer, grensboer en later Trekker saam met Retief en Maritz. Die veronregting, angs en lyding wat Dreyer en sy gesin moet verduur, groei algaande tot dié van 'n hele volk, terwyl sy herhaalde verliese aan besittings of dierbares en tydelike herstel daarna simptomaties is van die voorspoed en rampe wat die Trekkergemeenskap afwisselend tref. Met hierdie balans tussen feit en fiksie het Venter 'n reeks romans geskryf wat deur hulle blote omvang 'n mens se bewondering afdwing. En tog kan hierdie tetralogie nie as 'n groot werk beskou word nie. Wat by herhaling in die reeks voorkom, is die verskuiwing van die perspektief van Dreyer as sentrale ervarende karakterna ander figure en gebiede, soos na Dingaan in hoofstuk 15 en die koloniale owerheid in hoofstuk 27 van Offerland of na sir George Napier in hoofstuk 3 van Bedoelde land. Hierdie verspringing van perspektief toon geen vaste patroon nie en kom só sporadies voor dat die leser dit as struktuurbreuke en 'n onbeholpe greep op die boustof ervaar, net soos die herbelewing van Vegkop in die bewussyn van Annie Steyn (hoofstuk 2 van Offerland) as 'n vreemde tegniek binne die konteks van die tetralogie aandoen. 'n Belangrike beswaar teen die reeks as sodanig is dat die uitbeelding van hierdie mense in die algemeen, en van die hoofkarakter Dreyer in die besonder, in kleinrealistiese details of die bloot avontuurlike bly vassteek en dat daar agter die geskiedenis geen groot idee van die mens as ewige trekker of grenslandbewoner opdoem nie. Uitgaande van die karakterkonsepsie van Dreyer as onnadenkende daadmens boei Geknelde land deur die weergawe van uiterlike avonture, maar dit verlei Venter, soos in Man van Ciréne, om sy figure soos bioskoophelde te laat optree en sy romanwêreld met tipiese karakters (tant Poppie)
| |
[pagina 56]
| |
en cliché-figure (die Hollandse skoolmeester) te vul. Die aksent op 'n bloot uiterlike dramatiek lei verder daartoe dat sommige newemotiewe in Offerland, soos bv. die Sybrand-geskiedenis, nie méér as 'n avontuurlike ekskursie vir Dreyer word nie, terwyl die afwesigheid van 'n groter plan agter die geskiedenis die hele leierskapskwessie tot 'n raserige dispuut vervlak. En hierdie oppervlakkigheid geld ook vir Gelofteland en Bedoelde land. Veral die struwelinge in die Volksraad, wat 'n groot deel van die eerste helfte van Bedoelde land in beslag neem, dreig om vervelig te raak, maar in plaas daarvan dat hy aan hierdie rusies 'n groter geldigheid verleen sodat dit werklik 'n stryd om die voortbestaan van 'n volk in sy ‘bedoelde land’ word, verval Venter in 'n skouspelagtige voorstelling van die gegewens en gedra sy figure hulle weinig beter as die tradisionele helde en skurke van die vroegste Afrikaanse romankuns. Dit geld veral vir die poging van Fick en sy konfraters om Andries Pretorius in die Volksraad te arresteer, in die besonder vir die naïewe en toevallige wyse waarop Dreyer die komplot ontdek (hoofstuk 16). Die gevolg van hierdie uiterlike dramatisering is dat Bedoelde land 'n blote avontuurverhaal word, 'n romantisering van die geskiedenis waarin die indiwiduele figure geen reliëf verkry nie. Dreyer se uiteindelike besluit om te trek, word heeltemal uiterlik gemotiveer deur die dreigende hofsaak oor sy eiehandige optrede teen die Zoeloes en deur die dood van oom Elie; van 'n innerlike ontwikkeling is daar niks by hom te bespeur nie. As daar aan die einde van die slotdeel sprake is van 'n louteringsproses waardeur Dreyer ‘gebrand (is) tot op die been’, maar waardeur hy terselfdertyd nog getrou aan homself gebly het, lok die woorde (vgl. ‘hy glo dat hy nog Rudolf Dreyer is, die man wat uit Winterberg weggetrek het om vry te wees’) 'n vergelyking met Van Melle se Bart Nel-figuur uit. In teenstelling tot Bart se innerlike stryd maak Dreyer se gemaklike hantering van die uiterlike gebaar, voortvarendheid en geringe insig in die essensie van die Trek hom egter totaal onaanneemlik vir so 'n konsepsie. 'n Mens voel dat Venter hier sy figuur op 'n geforseerde wyse probeer verdiep om 'n lading te dra waartoe hy kragtens sy hele konstruksie as karakter nie in staat is nie. Teenoor die groot aantal karakters in die tetralogie konsentreer Venter in Die rentmeesters (1969) net op 'n paar figure. Die roman vertel die verhaal van 'n boer wat as gevolg van verkeerde metodes en instelling deur die plaas verwerp word, terwyl sy seun met die hulp van die grootvader die grond van verwaarlosing en ondergang red. Die siening van die mens teen die agtergrond van die grootse natuur herinner aan C.M. van den Heever se Somer, terwyl die gang van die geslagte aan Laat vrugte laat dink. Teenoor die Ben Richter-figuur, wat met 'n sekere oortuigingskrag geteken is, beweeg die ander karakters te veel op die oppervlak en word die grond wat sy eise aan die mens stel, nie 'n werklik lewende mag in hierdie boek nie. Venter se drie bundels sketsvertellings steun op sy ervarings as boer en as kind in die Karoo. In Werfjoernaal (1965) skryf hy oor sy waarnemings op 'n plaas in die Noordweste tussen Kenhardt en Carnarvon en vertel hy van die droogtes en winde,
| |
[pagina 57]
| |
bome plante en struike en veral die voëls en ander diere wat deur die geestige naamgewings tot persoonlikhede verhef word. Deur die intieme geselstoon van die ek-verteller is hierdie stukke oor die Noordweste verwant aan enkele essays in M.E.R. se Uit en tuis en veral Sangiro se En die Oranje vloei verby, terwyl die aandag aan en noukeurige waarneming van diere en plante 'n aangename afwisseling op Venter se filmiese en spektakulêre aanbieding van Bybelse en historiese stof bring. Nog geslaagder is sy waarneming van die lewe en persoonlike nood van bruin plaasarbeiders in Die middag voel na warm as (1974) - 'n titel ontleen aan Van Wyk Louw se ‘Klipwerk’ - wat op sy ervarings op 'n plaas in die Olifantsriviervallei gegrond is. Alhoewel ons hier, soos in Mikro se Toiings, 'n waarneming vanuit 'n baas-kneg-verhouding kry, bring die ervarende ek-verteller en sy kritiese ingesteldheid teenoor homself 'n boeiende afwisseling op die tradisionele aanbieding van dié tipe boustof. In Kambra-kind (1979) vertel Venter van sy kinderjare in die barre Karoo-wêreld van Britstown en Vanwyksvlei en sy mense se trek na die Grootrivier en die Kalahari op soek na weiplek vir die vee. Afgesien van die beeld van 'n bestaanstryd wat dié mense telkens gedwing het om van 'n vertroude omgewing afskeid te neem, lê Venter hier 'n stuk outydse leefwyse met plaasskole, speletjies, bygelowe en boererate vas, terwyl die lewendige beskrywings van mense en situasies en die boeiende vertelwyse dit een van sy geslaagdste werke maak. Met sy hantering van Bybelse en vaderlandse boustof sit Venter die tradisie van die historiese roman voort, sonder dat hy daarmee iets werklik nuuts tot die Afrikaanse literatuur bydra. As Beukes met sy blyspele en klugte die Melt Brink van die vyftigerjare genoem kan word, is Venter - maar dan op 'n veel hoër vlak - met sy historiese romans die D'Arbez of J.H.H. de Waal van die sestigerjare. Alhoewel nie sonder gebreke nie, maak hy met Swart pelgrim en Die middag voel na warm as twee belangrike en uiteenlopende toevoegings tot dié literatuur waarin die ‘kleur’-aktualiteit sentraal staan. Dit is met hierdie werke en met die reminisserende Kambro-kind eerder as met sy groots opgesette geskiedkundige romans dat hy sy belangrikste bydrae tot die Afrikaanse prosa lewer. Ga naar voetnoot+ Ga naar voetnoot+ |
|