Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2
(1983)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 3]
| |
Deel IV
| |
[pagina 5]
| |
Hoofstuk 8
| |
I. M.E.R.maria elizabeth rothamann, 28 Augustus 1875 op Swellendam gebore, ontvang haar skoolonderrig op haar tuisdorp en Stellenbosch deur medium Engels. Daarna word sy een van die eerste meisies wat 'n universiteitskursus aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad volg. Aanvanklik woon sy op Swellendam, maar vertrek in 1897 as onderwyseres na Johannesburg. Tydens die Anglo-Boereoorlog keer sy terug na Swellendam, woon 'n tyd lank op Grahamstad, waar sy in die huwelik tree, en vestig haar dan met haar twee kinders op haar tuisdorp, waar sy weer in die onderwys staan. In 1917 gaan sy na die Laeveld, waar haar broer Frits op 'n plaas in | |
[pagina 6]
| |
die distrik Barberton woon en waar sy vir die eerste keer begin skryf. Daarna hou sy weer 'n ruk lank skool op Ermelo en word dan joernaliste, eers (1920-1922) by Die Boerevrou in Pretoria en dan (1922-1928) by Die Burger in Kaapstad, waar sy as die eerste vroueredaktrise werksaam is. Van 1928 tot 1938 is sy organiserende sekretaresse van die A.C.V.V. en dien terselfdertyd in die Carnegie-kommissie, wat die armblanke-vraagstuk ondersoek. Hierdeur kry sy die geleentheid om baie in die land rond te reis en die verarming van gesinne waar te neem. In 1938 gaan sy op uitnodiging na die V.S.A. vir die bestudering van verarmingsvraagstukke in Kentucky en in 1940 publiseer sy onder die titel A comparison 'n vergelykende studie oor die verarmingsprobleme in Leslie County, Kentucky en Knysna. In 1929 is sy medestigter van die Voortrekkerbeweging en in 1933 ondervoorsitster van die Kaaplandse Nasionale Party. Van 1929 af woon sy in haar huis Kom nader op Swellendam, waar sy op 7 September 1975, tien dae ná haar honderdste verjaardag, oorlede is. In die twintigerjare het M.E.R. se werk nie veel aandag ge trek nie, terwyl die amptelike erkenning ná haar herverskyning as skryfster in die veertigerjare ook aanvanklik uitgebly het. In 1951 ken die Universiteit van Kaapstad egter aan haar 'n eredoktoraat toe op grond van haar letterkundige geskrifte, terwyl die Suid-Afrikaanse Akademie haar werk in 1953 met die Hertzogprys, in 1961 met die Scheepersprys vir Jenglektuur en in 1970 met die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterkuns vereer en die Universiteit van Suid-Afrika ook in 1973 aan haar 'n eredoktoraat in die letterkunde gee. Vir haar bydrae tot die maatskaplike werk ontvang sy in 1950 'n eredoktoraat van die Universiteit van Stellenbosch, terwyl die F.A.K. in 1965 'n erepenning vir volksdiens aan haar gee. In die twintiger- en vroeë dertigerjare is M.E.R. aanvanklik werksaam op die gebied van die jeuglektuur. Met die gedramatiseerde voorstellings Die mieliedogter (1921) en Drie sangspelletjies vir kinders (1926) en die verhale Die Sondagskind (1922),
| |
[pagina 7]
| |
Hansie en die bessiekinders (1922) - aangepas uit Duits - Die Kammalanders (1928), Stoute Bengel (1931), Die Sokka-boek (1926) en Sokka se plaas (1933) voorsien sy in die behoefte aan leesstof vir kleuters, terwyl sy in Karlien en Kandas (1933) met verse soos ‘Kitaar speel’ en ‘Sondagskool’ 'n belangrike bydrae tot die kinderpoësie lewer en deur die speelsheid en lewendigheid by die volkspoësie voor 1900 en die latere werk van Van Wyk Louwen Boerneef aansluit. Met Vanmelewe (1926), verhale oor Nederlandse en Franse voorouers en die vroeë periode van die V.O.C., en Die oorwinnaar (1929), wat oor die lewe van president Steyn handel, maak sy die Afrikaanse kind van sy eie volksverlede bewus. Dit geld ook vir haar debuut, Kinders van die Voortrek (1920; in 1960 hersien en uitgegee as Die tweeling trek saam), waarin die lotgevalle van twee kinders, wat saam met hulle gesin aan die Groot Trek deelneem, die boustof vorm. Afgesien van die spannende ervarings en dramatiese voorvalle boei die verhaal deur die noukeurige besonderhede oor die trekkerslewe, al verbreek die skryfster soms haar aanbod deur lang uitweidings en 'n ‘datering’ van die gegewe deur parallelle met die twintigste eeu te trek. Gedeeltelik outobiografies is Jong dae (1933; vgl. My beskeie deel, hoofstuk 5) wat ten spyte van die langdradigheid op sommige plekke deur die boeiende beskrywings van die daaglikse doen en late en die nagtelike avonture van die meisies 'n sprankelende beeld van die kosskoollewe aan die einde van die negentiende eeu gee. Uit die sketse, opstelle, pentekeninge en kort vertellings wat M.E.R. in die jare 1922-1941 in Die Burger en Die Huisgenoot gepubliseer het, verskyn keuses in Uit en tuis (1946) en So is onse maniere (1965), terwyl 'n drietal bydraes ook in die versamelbundel Die dammetjie (1960) opgeneem is. In al hierdie stukke staan die vertelster telkens in die sentrum met haar gedagtes en gevoelens, sodat die herhaalde uitweidings, beskoulike gedeeltes en didaktiek volledig deel van die geheel word en nie die eenheid van die skets of vertelling versteur nie. Wat 'n mens by die lees van hierdie rustige, beskeie en stil kuns opval, is die groot verskeidenheid stof (berge, riviere, blomme en veldplante, huisdiere, 'n ou Kaapse dorp met sy inwoners en die gebruike van vroeër jare) waaroor die verskillende stukke handel, die fyn waarneming van die kleinste besonderhede, die intieme kennis van die Afrikaanse werklikheid en die trefseker woordgebruik en sober styl waarin dit geskryf is. Met die
| |
[pagina 8]
| |
noukeurige beskrywing van blomme, veldplante, diere en natuurverskynsels in stukke soos ‘Lig loop’ met sy dramatiese gang van die een toegespitste waarneming na die ander, ‘Klipgate’ met sy pragtige namespel, ‘Maskam’ met sy gebruik van teenstellings, vergelykings en subtiele skakels tussen paragrawe, ‘Kapok op die Drakensberge’ en ‘Starlings’ met hul presiese, lewendige en konkrete sienings en die bekoorlike tekeninge van 'n reeks huisdiere (‘Piet’, ‘Kaffer’, ‘Hoenderstreke’ en ‘Dassie’) gee M.E.R. op die gebied van die prosa iets van Leipoldt se natuurpoësie, terwyl sy in haar dorpsketse 'n beeld van 'n ou Afrikaanse leefwyse met sy plaasskole, outydse blomtuine, doopsondae, kossoorte, bruilofte en begrafnisse (vgl. veral die tweede afdeling van Uit en tuis) vaslê en daarmee die tradisie van die kleinrealisme ná die werk van Meurant, Zwaartman, Burgers en Lion Cachet op 'n veel hoër vlak bring. Die belangrike kultuurhistoriese bydrae wat sy hiermee vir 'n begrip van die negentiende-eeuse Afrikanerwêreld lewer, blyk ook uit haar sketse oor bruinmense, persone wat 'n invloed op hulle omgewing gehad het (‘Sendelingsvrou’) en enkele openbare en kunstenaarsfigure (president Reitz, Melt Brink, Hugo Naudé, Eugène Marais). Ten spyte van die feit dat haas al hierdie stukke oorspronklik as koerant- en tydskrifpublikasies bedoel was, het M.E.R. die patroonmatigheid en resepmatigheid wat die werk van die joernalis bedreig, sowel deur haar natuurlike woordgebruik as deur die gevarieerde komposisie van die stukke vermy. Nog meer as dié van Sangiro (wie se En die Oranje vloei verby 'n vergelyking met ‘Langs die Grootrivier’ en ‘Reisvertelling’ uitlok) is die werk van M.E.R. in sy onopgesmuktheid en pretensieloosheid joernalistiek van 'n besondere orde. Nadat sy die redaksie van Die Burger in 1928 verlaat, is M.E.R. werksaam op die gebied van die sosiologie en kultuurgeskiedenis, wat in die publikasie van verskeie wetenskaplike geskrifte en geredigeerde uitgawes neerslag vind. In die dertigerjare skryf sy artikels in Eendrag, die blad van die A.C.V.V., terwyl sy by die vyf en twintigste en vyftigste herdenkingsjare van hierdie vereniging die feesuitgawes Ons saamreis (1930) en Ons voortgang (1954) versorg. As lid van die Carnegiekommissie skryf sy die afdeling oor ‘Die moeder en die dogter van die armgesin’ in deel V van Die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika: Verslag van die Carnegie-kommissie (1932). Hierin ondersoek sy die lewensomstandighede van 'n groot aantal arm gesinne, gee met aanhalings uit die dialoog van die mense voorbeelde van die verarming en kom tot die gevolgtrekking dat die gebrek aan ‘onderlinge skikking’ en 'n ‘sin vir orde’ die kardinale probleem vir die situasie van dié mense is. Daarmee word M.E.R. se verslag feitlik 'n ‘werkswinkel-voorbeeld’ (Elize Botha, Lantern, XX: 3, Maart 1971) vir sommige van haar vertellings en kan dit in baie opsigte as 'n sleutel tot die wêreld van haar verhale en besondere problematiek beskou word. In 1939 sorg sy vir 'n Afrikaanse vertaling van die Nederlandse dagboek van Tant Alie van Transvaal, terwyl sy ook 'n verafrikaanste uitgawe van die Oorlogsdagboek van 'n Transvaalse burger te velde 1900-1901 (1947) en Anna Geyer se Londense briewe aan haar dogter (1950-1954) as Briewe uit Highveld (1965) redigeer. In die inleidings tot albei hierdie uitgawes - in die besonder tot dié van die Oorlogsdagboek, wat oorspronklik in Die Huisgenoot van Augustus-September 1943 verskyn het - gaan sy die maatskaplike en geesteslewe van die negentiende-eeuse Afrikaner na en toon sy aan watter skadelike invloed die angliseringsbeleid en die | |
[pagina 9]
| |
oorheersing van een kultuurgroep deur 'n ander op baie geslagte gehad het. Soos in die geval van die Carnegie-verslag is hierdie inleidings 'n belangrike sleutel tot die kultuurhistoriese inslag van 'n aansienlike deel van M.E.R. se skeppende arbeid. Die belangstelling vir die geskiedenis van Swellendam, wat 'n mens reeds in haar sketse aantref, blyk ook uit Die Drostdy van Swellendam (1960), opgestel in samewerking met haar dogter Anna Rothmann - skryfster van Klaasneus-hulle (1964; in 1972 met die Scheepersprys vir Jeuglektuur bekroon), Kraai-hulle (1965), albei ook in Engels, en Kriek-hulle (1979), waarin interessante feite oor 'n verskeidenheid van diere gegee word en waarin dieselfde noukeurige waarneming en gemaklike verteltrant as dié van M.E.R. opval. Afgesien van enkele stukke in So is onse maniere is M.E.R. se vertellings van groter omvang gepubliseer in Onweershoogte en ander verhale (1927; waaruit 'n drietal aansienlik gewysig in Kwartet, 1957, herdruk is), Vroue wat Jesus geken het (in 1939 geskryf, maar eers in 1965 gepubliseer), Drie vertellings (1944) en Die gewers (1950). Die verhale in Onweershoogte het oorspronklik in Die Brandwag, Die Boerevrou en Die Huisgenoot verskyn. In teenstelling tot die latere vertellings waarin die aksent op die uitbeelding van mense, hulle innerlike dryfvere en die verhoudings tussen hulle val, word die meerderheid stukke in hierdie versameling gekenmerk deur 'n spannende en dramatiese verloop met besondere aandag aan die uiterlike gebeure, selfs al is daar hier ook reeds 'n belangstelling in die persoonlikheid en die rustige betragting van die gewone mens. Die meeste verhale word nog ontsier deur 'n karige intrige, skurkagtige voorstelling van sommige karakters, bewustelike manipulering van die verteller, episodiese bou en in een geval (‘Om die draai’) 'n te opvallende allegoriese inslag. Terugskouend is die nugter mededelende styl en die afwesigheid van enige bewuste literêre strewe egter 'n opvallende verdienste van die bundel. Die hoogtepunt van die versameling is die briefnovelle ‘Goedgeluk’, wat handel oor die groeiende verhouding tussen Regina, 'n boervrou in die Laeveld, en Rheede, 'n vreemdeling wat op haar vader se plaas kom woon en 'n saagmeule begin, die ontdekking dat Rheede 'n volslae alkoholis is, die verbreking van die verhouding en Rheede se tragiese dood as hy in 'n swart stat doodgeslaan word. In vergelyking met die held-skurk-verhale van De Waal en die debuutromans van Jochem van Bruggen en D.F. Malherbe openbaar M.E.R. hier 'n genuanseerder,
mensliker houding ten opsigte van een van Lion Cachet se ‘sewe duiwels’ deurdat Rheede nie as skurk
| |
[pagina 10]
| |
nie maar as 'n tragiese geval behandel word. Wat egter in die besonder opval, is die geslaagde wyse waarop die skryfster die moontlikhede van die briefvorm met sy berekende omgang met die leser hier gebruik om die inligting in verband met die Laeveld, die fragmentariese en episodiese aard van die vertelling met sy herhaalde hervattings en die etiese didaktiek esteties aanvaarbaar te maak, sonder dat die onderbrekings en spronge hinderlik aandoen. Met die boeiende en gedetailleerde beskrywing van die omgewing en die rustige verteltrant het M.E.R. slegs in enkele gevalle later die gehalte van ‘Goedgeluk’ geëwenaar, terwyl dit as voorbeeld van die briefvorm saam met Langenhoven se Skaduwees van Nasaret nog onoortroffe in Afrikaans is. In aansluiting by die aandag wat Langenhoven, met wie se ‘wellewenskuns’ sy bepaalde raakpunte het, aan Bybelse motiewe en godsdienstige vraagstukke in verskeie van sy laaste geskrifte gee, gaan M.E.R. in Vroue wat Jesus geken het Christus se houding teenoor vroue in die algemeen na en spits dan haar beskouing toe op die twee susters Martha en Maria en op die moeder van Jesus. In hierdie deels vertellende deels betogende werk is die mens telkens in die middelpunt van die belangstelling en beklemtoon die skryfster naas die bonatuurlike van die Christus-verskyning ook die praktiese en alledaagse aspek van Sy geboorte, iets waardeur dit 'n verwantskap met die afwisseling tussen magie en realisme in die Middeleeuse Kersliedere toon. Saam met ‘Die plig’ uit So is onse maniere, wat oorspronklik in Die Huisgenoot van 22 Augustus 1941 verskyn, is die verhale in Drie vertellings en Die gewers, veel meer as haar vroeër werk, die resultaat van M.E.R. se sosiologiese en kultuurhistoriese belangstellings. Naas die kennis van die verlede, tradisies, mense en natuur van Suid-Afrika in die algemeen en die ou-Swellendamse wêreld in die besonder gaan haar belangstelling uit na mense en gebeurtenisse, by voorkeur dié wat deur die vertelster self geken en ondervind is. Die verhouding tussen man en vrou en veral dié tussen moeder en dogter, susters en vriendinne en hulle besondere verbintenisse met mekaar is een van die sentrale temas in M.E.R. se werk, terwyl sy deur die verhaal heen telkens 'n bepaalde stuk lewenswysheid wil leer. Hierdie didaktiese doelstelling bepaal - soos Helena P. Jordaan aangetoon het - die keuse van haar boustof (maatskaplik-ekonomiese vraagstukke, huweliksprobleme, oorheersing van een persoon deur 'n ander) en lei haar daartoe om voorkeur te gee aan ekonomies hulpbehoewende karakters wat deur simpatieke mensbeelding oortuig en maatskaplike hervormers (die sosiale werkster, dokter, predikant) wat dié mense wil ophef, al is daar van 'n patronerende karakter na die model van Jochem van Bruggen geen sprake in haar werk nie. M.E.R. se didaktiese doelstelling en simpatieke benadering van die mens lei verder daartoe dat die ek voortdurend in haar verhale aanwesig is en dat die besonder vertroulike omgang met die leser die illusie skep dat ons met 'n stuk mondelinge literatuur te doen het. Die skryfster kom telkens na vore om iets aan die leser mee te deel, soms selfs die geheim van 'n storie aan die einde te verklap en die boustof te vertolk. Alhoewel hierdie optrede van die verteller die vertroulike omgang met die leser verhoog, lei die lang uitweidings, betoë, moralisasies en bespiegelings tot 'n gebrek aan konsentrasie op die hooftema, iets wat veral 'n beswaar word as die verhaal ook 'n duidelike struktuur ten opsigte van die gebeure aanneem en 'n intrige wil ontwikkel. In 'n groot mate word hierdie besware opgehef as 'n mens M.E.R. se werk sien as primêr dié van 'n verteller wat met onderbre- | |
[pagina 11]
| |
kings, hervattings en moralisasies geleidelik 'n verhaal ontwikkel wat bedrieglik chaoties voorkom maar juis in 'n hoë mate by die tradisie van die mondelinge literatuur aansluit. Met dié vertelwyse gee sy nie alleen oortuigende karakteriserings nie, maar bou sy gaandeweg met behulp van eg-Afrikaanse woorde, uitdrukkings en segswyses 'n beeld van 'n hele lewe, geslag of tydperk op. In vergelyking met die meeste ander beoefenaars van die kleindorpse realisme voor haar, wat in die anekdotiese bly vassteek, groei haar vertellings uit die wel en wee van klein lewens tot literatuur wat iets wesentliks omtrent die mens te sê het. Van die verhale waaruit M.E.R. se sosiologiese belangstelling blyk, is ‘Die plig’ (So is onse maniere) een van die markantste voorbeelde deurdat ta’ Maria se vertelling oor die geboorte van haar kinders feitlik woordeliks - soos Elize Botha aangetoon het (Lantern, XX: 3, Maart 1971; kyk ook 'n Kosbare erfenis, pp. 32-34) - op daadwerklike feite berus wat M.E.R. in die vyfde deel van die Carnegie-verslag (p. 192) gedokumenteer het. Soos telkens in haar werk handel die verhaal oor menslike verhoudinge en veral die verpligting wat dit op die mens lê: tant Sarie, wat haar lewe lank haar swaksinnige suster Kristien opgepas het en daardeur ongetroud moes bly, en ta’ Maria, wat haar man getrou bygestaan en in moeilike omstandighede ses kinders in die lewe gebring het. Wat hier in die besonder opval, is die kontraswerking wat M.E.R. in die uitbeelding van die twee vroue bereik, sodat die verhaal aan die slot deur die uitsigloosheid van dié mense 'n aanklag teen die wreedheid van die lewe word. In vergelyking hiermee is Drie vertellings, met 'n oorkoepelende motto uit Spreuke en voorafgegaan deur 'n balladeske vers in dialoogvorm oor die Hartseer, van wisselvallige gehalte. ‘Bergwind’, waarvan die eerste deel reeds so vroeg as in Junie 1922 in Die Huisgenoot verskyn het, ontaard in 'n te oppervlakkige beskrywing van 'n hele groep mense en hulle onderlinge verhoudings, terwyl die newetema van die liefdesgeskiedenis - soos M. Nienaber-Luitingh aantoon (‘Die vertellings van M.E.R.’, Uit twee letterkundes, pp. 30-43) - in die laaste deel van die verhaal tot hoofmotief verhef word om die verhaal tot 'n bevredigende eindpunt te voer en die natuurgeweld (die bergwind) as weerspieëling van bepaalde gemoedsaandoeninge in die mens as motief heeltemal verlore gaan. Sterker, onder meer omdat die karakteruitbeelding op slegs twee in plaas van 'n hele groep toegespits word, is ‘Kató; en Martjie’ wat, soos ‘Bergwind’, uit twee sketse (oorspronklik in Die Boerevrou, Mei 1929 en Die Huisgenoot, 11.3.32) groei. Die hooftema van die verhaal is die dominerende invloed wat 'n sterk persoonlikheid (Kató) op die lewe van 'n ander (Martjie) kan uitoefen, in so 'n mate dat die vrees vir geestelike oorheersing haar later daartoe lei om haar verlowing te verbreek en ongetroud te bly. Die agtergrondstekening, wat op sigself boeiend en oortuigend is, lei egter in die eerste twee dele tot te veel uitweidings en besonderhede wat nie vir die hooftema en Martjie se beslissing in die derde deel ter sake is nie. Verwant aan hierdie tematiek, maar dan besonder geslaag uitgewerk, is die verhouding tussen Helena en Hettie in ‘Die susters’ , wat op die lewens van M.E.R. se stieftantes gebaseer is (kyk 'n Kosbare erfenis, p. 24). Soos ‘Die plig’ toon die verhaal die sosiologiese belangstelling van die skryfster deur die uitweidings oor oorerwing en opvoeding in die ontwikkeling van die twee susters, maar die aksent val in die eerste plek op die uitbeelding van Helena en Hettie as mense en hulle verstrengelde lewens van die kinderdae tot die | |
[pagina 12]
| |
ouderdom. Deur die rustige ontplooiing van die vertelling bou die skryfster nie alleen 'n stuk negentiende-eeuse beskawingsgeskiedenis op nie, maar word die aandag telkens op die lewensloop van die twee vroue gerig, eers saam in die ouerhuis, dan terwyl hulle die losieshuis besit en allerlei probleme ondervind, daarna die jare van Helena se getroude lewe en Hettie se tydperk alleen op die dorp deurdat die aandag afwisselend van die een na die ander verskuif, en uiteindelik aan die einde van hulle lewens as hulle weer saamwoon en die dood sy intrede maak. Naas die kontraste tussen die twee vroue, wat algaande opgebou word, is M.E.R. se nugter, a-romantiese voorstelling van sake veral opvallend. Daarby slaag sy daarin om deur die herhaalde afwisseling van vertelling, bepeinsing en dialooggedeeltes die nodige verskeidenheid in haar aanbieding te verkry; in 'n groot mate is hierdie verskeidenheid en die funksionele gebruik van dialoog juis verantwoordelik vir die sober, suggestiewe slot. In teenstelling tot Drie vertellings, wat 'n los versameling is en slegs deur die gemeenskaplike motto 'n vae verband met mekaar het, hang die agttal verhale in Die gewers ten nouste saam deur - soos Elize Botha aangetoon het (Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle, pp. 119-137) - die eensoortigheid van die karakters (almal ‘vanslewe se mense’), die feit dat almal ‘gewers’ was (nie ‘van goed nie, ... (maar) van moed, van hartversterkende geloof; en sommer van goedheid’ - vgl. ‘Verduideliking’) en deur die deurlopende lyn wat die naam van Sara Meurant aan die bundel gee. Die gewers handel oor die laaste lewensjare van Sara (van 1938 tot 1946), en alhoewel die geheel episodies van aard is, gaan die verhale op een uitsondering na almal oor Sara en haar kinders. Twee van die stukke (‘Slaafgebore’ en ‘Dokter Dennis’) is eerder lang karaktersketse as verhale deurdat daar geen sprake van enige intrige is nie en die stukke deur middel van wisselende staaltjies en anekdotes, uitweidings en bespiegelings soos 'n alledaagse gesprek voortbeweeg. In sommige verhale, soos ‘Ou skuld’ en ‘Die vriend’, ontwikkel hoof- en newemotiewe in so 'n mate langs mekaar dat die sentrale tema van die verhaal moeilik vasstelbaar is en die geheel in verskillende dele uiteenval, terwyl die ‘eintlike’ verhaal - soos ook in die geval van ‘'n Nemer’ - as 'n rekonstruksie aangebied en derhalwe tot 'n verslag gereduseer word, iets waardeur die ek-vertelster haar gegewe bewustelik dateer. Die hoogtepunt van die bundel is ‘Die hol krans’, wat oorspronklik in Standpunte, III: 1, Januarie 1948 verskyn het. In hierdie geval is die aanvanklike uitvoerige beskrywing funksioneel vir die latere gebeure, terwyl die skitterende weergawe van Sara se doodsangs in die grot, waarmee die ‘drama’ sy klimaks bereik, mooi afgewissel word deur haar bepeinsing van die ander vrees: om fisiek en psigies van haar seun vervreem te wees. Eers nadat sy dié vrees oorwin het, kan Johannes aan die slot verskyn. En daarmee is die ‘angs’ ook weg, nie alleen die angs vir die dood nie, maar ook - selfs al gee die verhaal nie uitsluitsel of Johannes by die Engelse lugmag gaan aansluit of nie - die vrees dat haar kind vir haar 'n vreemdeling sal word. Soos in die geval van ‘Twee susters’ is daar hier 'n mooi balans tussen uitbeelding en besinning, uiterlike en innerlike handeling, en konkrete voorstelling en abstrakte bespiegeling. In die tyd dat M.E.R. met sketse en vertellings haar herverskyning as skryfster maak, publiseer sy ook twee romans, Na vaste gange (1944) en Die eindelose waagstuk (1948), waarin wesentlik dieselfde temas en tegnieke as dié van haar ander werk uit | |
[pagina 13]
| |
die veertigerjare aangewend word, maar waarmee sy, ten spyte van bekoorlike onderdele, minder suksesvol vaar. Wat in albei romans hinder, is die eensydige karakterisering, dikwels eksplisiete probleemstelling, trae gang van die gebeure en 'n ontduiking van die hoofproblematiek wat die gegewe na vore bring. In Na vaste gange word die huwelik tussen 'n Indiër en 'n blanke vrou, wat in die sentrum van die handeling moes gewees het, deur die dood van die man beëindig en val die hoofaksent op die maatskaplike hervorming waarmee die weduwee in 'n agterlike gemeenskap besig is. Daarmee verdring M.E.R. die sosioloog nie alleen M.E.R. die kunstenares ter wille van uitpluising van die verarmde mens se probleme nie, maar word die karakters ook te sterk geïdealiseerd of te realisties voorgestel en raak die struktuur van die roman deur allerlei naïewe manipulasies gaandeweg onbeholpe. Ten spyte van die didaktiese uitweidings, spronge in die tyd en neiging om telkens stukke verlede te agterhaal, is Die eindelose waagstuk geslaagder as die eerste roman, onder meer deur die parallelle lyne van Rensie Theunissen se egskeiding en die huwelik van haar broer Gert, die wyse waarop M.E.R. die insettoneel met tant Hannie Swart en Nelia later funksioneel laat uitgroei, die genuanseerde (hoewel fragmentariese) uitbeelding van Lukas Steinbach en die menslikheid wat uit die karakterisering van die vroue spreek. M.E.R. se laaste werk is die outobiografiese vertelling My beskeie deel (1972) wat tussen haar vyf en sewentigste en een en negentigste jaar geskrywe is. Die boek handel nie net oor haar lewe nie en word veral nie die ‘uitpluis van 'n mens se eie aard, dryfvere, gevoelens’ nie, maar is eerder 'n voortdurende wegskryf van die te private en te persoonlike wat volgens M.E.R. nie bevredigende boustof vir die literatuur is nie. Naas die uitweidings oor haar eie agtergrond en lewe gee sy ook 'n beeld van die ou Afrikaanse leefwyse in 'n bepaalde deel van ons land, haar reaksie op belangrike gebeurtenisse in die geskiedenis van die Afrikanervolk (Anglo-Boereoorlog, Uniewording, stryd tussen Botha en Hertzog, Rebellie, groei van die Nasionale Party) en haar indruk van en oordeel oor bekende politieke figure. Die ontwikkeling van 'n enkele mens word dus gesien teen die agtergrond van die Afrikaner se nasionale groei. Daarby verskaf M.E.R. telkens agtergrondsbesonderhede oor haar eie werk. Soos in haar verhale is die skryfster hier ook die vertelster wat gemaklik met haar leser gesels en van tyd tot tyd iets van haar diep en suiwer insig in die mens en lewe oordra. By My beskeie deel sluit die twee bundels briewe aan wat ná M.E.R. se dood verskyn het: Familiegesprek (1976), briewe aan haar dogter Anna van 1928 tot 1954 waarin sy onder meer op maatskaplike, politieke en literêre gebeurtenisse reageer, en 'n Kosbare erfenis (1977), 'n keur uit haar korrespondensie met letterkundiges, ander openbare figure en vriende. In Oor skilders en skrywers (1979) druk J. du P. Scholtz briewe van M.E.R. af, o.m. oor die versorging van haar manuskripte.
| |
[pagina 14]
| |
M.E.R. is die skryfster van suiwer wetenskaplike en suiwer literêre werk, terwyl 'n groot deel van haar oeuvre gekenmerk word deur 'n botsing tussen literêre en eties-sosiologies-didaktiese ideale. Daarby is die wêreld van haar kuns beperk en mis 'n mens meestal by haar die dramatiese krag en wye visie van 'n groot prosaskrywer. Hiervoor vergoed sy egter deur haar besonder noukeurige waarneming, indringende siening van die mens en die meestal trefseker woordgebruik en sober styl. Haar werk is 'n pragtige verbinding van 'n onpersoonlike en ‘menslike’ tipe kuns: aan die een kant skryf sy van haarself af weg en beweeg sy in die rigting van 'n objektiewe uitbeelding, maar juis daardeur bereik sy aan die ander kant 'n besondere insig in ander mense en hulle verhoudings tot mekaar. Daarby gee haar verhale 'n uitstekende beeld van 'n verbygegane stuk Afrikaanse wêreld en is haar werk 'n ryk bron vir die kultuurhistorikus en sosioloog. Alhoewel daar heelparty kortverhaalskrywers en essayiste ná M.E.R. kom wat 'n persoonlike aangetrokkenheid tot haar het, verteenwoordig sy geen ‘rigting’ of ‘skool’ in die literatuur nie en beoefen sy ook geen spesifieke stylrigting nie, behalwe dan deur haar natuurlike aansluiting by die didaktiese lyn in die Afrikaanse prosa. Met haar pretensielose prosa was sy egter in die veertigerjare 'n belangrike korrektief op die woordoordaad van etlike ander skrywers, terwyl sy met enkele sketse en essays en vertellings, soos ‘Goedgeluk’, ‘Die plig’, ‘Twee susters’ en ‘Die hol krans’, 'n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse prosa maak. | |
II. Die realisme in die veertiger- en vyftigerjare en verdere plaas- en kontreikunsAfgesien van die belangrike eksponente van objektiewe uitbeelding, humoristiese tipebeelding, die probleemroman en Nuwe Saaklikheid is daar in die veertiger- en vyftigerjare 'n groot aantal skrywers wat die realistiese rigting verder voortsit, die omvang van die Afrikaanse boekemark uitbrei en veral triviaalliteratuur beoefen. Met Die sluipende skaduwee (1940), die verhaal van 'n weeskind se stryd teen verguising, toon J.P.J. Coetzee 'n tematiese verwantskap met P. de V. Pienaar en P.W. Botha, terwyl Baffie Coetzee in Arm maar ryk (1942) en Annemarie Wessels (pseudoniem van Mary Ann Elizabeth Adler en skryfster van toneelstukkies vir kinders en godsdienstige lektuur) in Verdiende loon (1944) beelde gee van armblanke-seuns se uitstyging uit hulle agterlike milieus. Hierby sluit ook Magda Smit in Hersenskim (1941) en H.W. van der Merwe in Opdraandes (1945) aan; laasgenoemde is 'n roman wat deur die fragmentariese bou en verskeidenheid ervarings 'n beeld van verskillende lae van die samelewing gee en daardeur 'n ooreenkoms met Jochem van Bruggen se werk toon. In aansluiting by Helmüth Luttig skryf Jan H. du Preez in Onder eenvoudige mense (1941) oor die Knysnase boswerkers en hul probleme, meer spesifiek oor hulle aanvaarding van die armoede, geloof in 'n beter toekoms en vreugde in die arbeid (waarmee hy 'n verwantskap met D.F. Malherbe toon). Oor die opheffing van die arm gesin handel Jeanette Nel se 'n Wil en 'n weg (1942), terwyl Liza Venter in Manda (1944) en Johan Theron in Blinde eise (1946) dieselfde probleem teen 'n stadsagtergrond verwerk. Op 'n laer vlak as dié van Jochem van Bruggen en Holmer Johanssen is die voorstelling van 'n agterlike mens se bestaan in | |
[pagina 15]
| |
Ou Frans (1948) deur C.M. Stimie. 'n Sterk liefde vir die landelike lewe en die bodem spreek uit Erfplaas (1944) en Swart skape (1948) van gerhardus bartholomeus schutteus pasch (1916-1960), maar die karakterisering bly nog betreklik oppervlakkig. Verwant hieraan is die meestal konvensionele sketse en verhale in Steiltes (1938) en Penwortels (1945) van gert jacobus joubert (1907-). Met Oupa Landman se viool (1951) sluit hy aan by die tradisie van die plaasroman en die uitbeelding van die landelike idealisme, al dra hy iets wesentliks tot dié tradisie by deurdat die ‘oupa’-tema die kontinuïteit deur verskillende geslagte heen suggereer. In Ou kamferboom (1940) ontwikkel Emma D.M. Venter 'n liefdesverhouding teen die agtergrond van maatskaplike probleme, terwyl sy in Die uitbuiters (1950) die gebeure in die tyd van die Anglo-Boereoorlog situeer. Persoonliker is Hierdie rykdom (1945) van Mareka oor die konflik tussen skryfwerk en die pligte van 'n huisvrou, terwyl W.A. Willemse in Dwaalweë (1944) op die verhouding tussen twee mense konsentreer. Oorbewustheid, onmag om uit te beeld, swak karakterisering, yl milieu-tekening en stilistiese gebreke ontsier die sielkundige romans Laura (1942) en Nuwe gebooie (1943) deur anna louise conradie (1924-), terwyl die latere simboliese werke Dans makaber (1966) en Dambord (1969), wat sy onder die naam heiberg publiseer, deur die opsigtelike simboliek, wasige wêreld en swak taal grotesk word. Te langdradig is die verloop in Louise Behrens se psigologiese romans Die verwaaide vlam (1945) en Sewe stuur geskenke (1954), terwyl die familieroman Die kinders van Alida Fourie (1955) oor die algemeen geslaagder is. Ongenuanseerd en psigologies heeltemal onjuis is die behandeling van die rasseprobleem in Marius Gie (pseudoniem van Martha C. Gieseke) se Haar genooides (1945) en Tippy Verbrugh se Dokter Björgen se vrou (1950). Die wêreld van die misdadiger vind neerslag in Gooi my vir die aasvoëls (1947), Ek, ellendige mens (1947), Koning van die boewewêreld (1948), Met 'n dankbare liefdesgroet (1948) en Kersfees in die tronk (1949) deur Christoffel Lessing, terwyl Mark Preston (pseudoniem van H.J. Potgieter) in My God en ek (1949) en Largo (1952) oor sy langsame herstel na 'n ernstige motorongeluk skryf. Met die groeiende tydskrifte, ontstaan van boekeskemas en groter aanvraag na populêre leesstof dra toenemend meer skrywers by tot die Afrikaanse ontspanningsen jeuglektuur, o.a. Herman Steytler (Kasper Landman, 1942), Cecil van der Spuy (Stinkie, 1943), Ella Eloff-van der Walt, Paula (pseudoniem van J.M. Theron), M. Steyn van Rooyen, G. Sutherland, Wim Hartman, Alexander Moolman, M.H. Theunissen, Ela Spence, Tryna du Toit, Dricky Beukes, Cor Dirks, J. van Elders, D. Möller-Malan (Die pad was lank en swaar, 1978 - oor die lewe van die transportryers), Ben Conradie, A.C. Sparks, H.J. Vermaas, Topsy Smith, B. Naudé, Gerrie Radlof, Nan Henning, Anthonie P. Roux en Bennie Fritz. Naas die voortsetting van die realistiese roman is daar 'n hele aantal skrywers wat in die korter prosagenres meedoen aan die plaas- en kontreikuns en sketse oor die lief en leed van elke dag lewer. In Boernooiens en bokkapaters (1941) bundel W.L. Louw 'n
| |
[pagina 16]
| |
aantal geestige verhale, terwyl M.A. Oberholzer in Nietige mense (1941), soos Léon Maré vroeër, sketse uit die lewe van klein mense ('n grafgrawer, padwerker en dammaker) gee. Naas 'n bundel Eerste verse (1936) en kortverhale (Oog om oog, 1944) lewer J.H. Naudé 'n bydrae tot die uitbeelding van die dorpslewe in Carino Cate (1945), terwyl die Tweede Wêreldoorlog die agtergrond vir sy romans Die jong vrou van Krakou (1949) en Die bittere vrug (1956) vorm. Oor die algemeen oppervlakkig is die verhale wat W.M. de Villiers in Ek het gedwaal (1944) en C.A. Groenewald in Stil rooi aarde (1945) bundel. In My kliënt Van Tonder en ek (1945) skryf S. Hendriks oor die daaglikse ervarings van 'n plattelandse prokureur, maar die ondervindings bly te eensoortig en die geheel te tafereelmatig. In briefvorm vertel Annie van Niekerk in Met liefde van Katinka (1946) oor 'n jong meisie se ervaring in die stad, terwyl Susan Troskie se briewe in Stories oor die pos (1950) tot 'n roman uitgroei. Reminisserend oor 'n Tulbaghse jeug en die gewoontes en leefwyse van vroeër is Oom Jan vertel (1954) van J.D. Wiese. Saam met M.E.R., Grosskopf, Toon van den Heever en Eitemal is Boerneef en C.G.S. de Villiers in die veertiger- en vyftigerjare die belangrikste verteenwoordigers van die regionale literatuur in Afrikaans. Terwyl die meeste ander beoefenaars van die kleinrealisme in die plaas of kontrei vassteek, oorskry hierdie twee skrywers in meerdere of mindere mate die grense van hul wêrelde en lewer hulle deur die noukeuriger aandag aan die woord 'n belangriker bydrae tot die literatuur. | |
1. Boerneef
boerneef is die skuilnaam van izak wilhelmus van der merwe (Boplaas, Ceres, 11 Mei 1897 - Kaapstad, 2 Julie 1967) wat op sy geboortedorp skoolgaan, aan die Suid-Afrikaanse Kollege studeer (M.A., 1918), onderwys aan die South African College School gee en vanaf 1922 tot 1961 as dosent in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad verbonde is, die laaste aantal jare (1956-1961) as medeprofessor. Vir Teen die helling ontvang hy in 1956 die W.A. Hofmeyr-prys, terwyl die Hertzogprys vir Poësie in 1968 postuum aan hom toegeken word. Met die medewerking van D.B. Bosman en later L.W. Hiemstra is hy die opsteller van die Tweetalige woordeboek (eerste uitgawe in 1936 en daarna telkens hersien en aangevul).
| |
[pagina 17]
| |
Boerneef is vir die Afrikaanse letterkunde van belang as prosaïs en digter. Al sy werk is in twee bundels versamel: die Versamelde poësie (1977), met 'n verantwoording deur L.W. Hiemstra, en die Versamelde prosa (1979), wat deur Merwe Scholtz versorg en ingelei word. In sy skets- en verhaalbundels Boplaas (1938), Van my kontrei (1938), Pensie (1938), Van my kinderdae (1939) en Vlettervlie en Koesnaatjie (1942) roep hy by wyse van herinnerings die kleurryke wêreld van sy jeug in die Koue Bokveld en Rôeveld op. Die sketse en verhale ontstaan as gevolg van 'n gemis van en verlange na die jeugwêreld en verskil - soos F.I.J. van Rensburg aangetoon het - van die romantiese prosa van bv. C.M. van den Heever deurdat die verlange en weemoed nie skering en inslag van die situasie is nie, maar tot die ‘verhaalomlysting’ beperk bly. Temas en motiewe wat by herhaling in Boerneef se werk voorkom, is die jaarlikse trek met die veetroppe uit die Koue Bokveld na Ceres se Karoo, die oes, trap en wan van die graan, die geestigheid, gebruike en gewoontes van die outydse wêreld van die boer (waarmee sy werk 'n verwantskap met dié van M.E.R. toon, hoewel die kultuurhistoriese inslag by hom nie so sterk aanwesig is nie) en die talle bruinmense en feitlik simbolies geworde diere uit dié kontrei, wat soms op die periferie beweeg en soms sentraal in die vertelling staan. Wat die bruinmense betref, is daar Jakob April, Jan Skotland, Pensie en bowenal Dirk Ligter, baashardloper en dief van dié kontrei en 'n kunstenaar in sy eie reg, terwyl die besondere eienskappe van die plaasdiere (voorbokke, osse, perde) met hulle treffende name (Mooiveld, Stokwil, Douland) feitlik legendaries word. Die sketse en verhale is ryk aan die spesifieke taal en idioom van die streek en dra by tot die kleurrykheid van die prosa, al kry 'n mens soms die indruk dat 'n bepaalde stuk bloot geskryf is om die besondere van die mense se spraak te illustreer en dat Boerneef se leksikografiese belangstelling steurend werk. In haas alle sketse is die verteller regstreeks aanwesig as aanbieder en organiese sentrum van die
gebeure wat in 'n groot mate die illusie van regstreekse ervaring wek. Meestal roep die verteller momente uit 'n ryk verlede op of neem die stukke die vorm aan van 'n reeks anekdotes of voorvalle rondom 'n sentrale motief, karakter of situasie. Die sketse en verhale is los en improviserend gekomponeer, mis 'n sekere afgerondheid of hegte bou, bly dikwels swewend en ‘oop’ aan die slot en bevat weinig intrige of konflik. In sy optrede sluit die verteller aan by die tradisie
| |
[pagina 18]
| |
van die vertroulike omgang met die leser, maar in sy aanspreking van die jy is daar 'n sekere mate van ‘minagting’ deurdat hy die belangstelling van die leser in sy ‘herinnerinkies’ wantrou en hom as 'n buitestaander beskou. Daarmee stel hy dus die intieme verhouding tussen homself en die leser op die proef en is die skynbare geringskatting van sy eie werk verwant aan dié van Leipoldt in sommige slampamperliedjies. In die sketse en verhale wat Boerneef in Stad en land (1941), Sketsboek (1948) en Teen die helling (1956) bundel, kry ons 'n tematiese verruiming van sy wêreld deurdat die stadslewe en stedelike figure soos groenteventers, koerantjoggies (die ‘Oupie’-sketse in Sketsboek), bedelaars en visverkopers naas Boplaas die boustof vorm. Met kantoorwerkers en onderwysers soos Dietlof, Opperman, Marais en Viljoen en deur 'n literêre verwysingsveld (Marsman, Frederik van Eeden en A. Roland Holst) verbreed hy die wêreld van sy sketsverhale, selfs al is hierdie figure - óók in gevalle waar die stuk in die hy-vorm geskryf is - wesentlik projeksies van Boerneef self. In enkele sketse en verhale in Stad en land word die aksent verskuif vanaf die Boplaas-wêreld na die ervarings van 'n groepie teringlyers in 'n sanatorium, terwyl 'n paar stukke teen 'n Vrystaatse agtergrond in die tyd van die Anglo-Boereoorlog afspeel, al bly die tematiek en tipe karakters basies dieselfde as dié van die sketse oor die Koue Bokveld. Opvallend is ook die feit dat Boerneef in hierdie bundels, soos vroeër in die geval van die Dirk Ligter-, Pensie- en Vlettervlie-en-Koesnaatjie-stukke, by herhaling 'n reeks sketse of verhale rondom 'n bepaalde figuur (Hans Saal en Oupie) bou. Naas die tematiese verruiming deur die wêreld van die stad te betrek, verkry hy 'n besondere verdieping deurdat sy figure dikwels eensame en ‘misplaaste’ swerwers in die stad is, mense met 'n sterk verlange na 'n verlede in die Koue Bokveld maar met die besef dat hulle nie meer in daardie wêreld sal aard nie. Hierdie verdieping is in heelparty sketse aanwesig, maar dit bereik 'n hoogtepunt in die titelstuk uit Teen die helling. Die tipe situasie waaraan ons hier voorgestel word, het sy voorgangers in sketse soos ‘Stortreën’ en ‘Êtjie’, terwyl die figuur van Andries Harlekyn ooreenkomste toon met die romantiese troebadoer Dirk Ligter. Alhoewel Andries deur sy segswyse en liedjies 'n besondere kontrei verteenwoordig, ontwikkel hy deur sy doodsvrees en gevoel van vreemdelingskap (vgl. die Holst-verwysing) tot 'n volwaardige karakter wat die tipiese oorskry. Hiermee lê Boerneef binne 'n lokaal-realistiese opset iets universeels en nader hy die tragiese deur die beeld van 'n lewe wat onafwendbaar na 'n onbepaalde bestemming voortbeweeg. Die bundel Teen die helling word afgesluit met 'n aantal ‘Namakwalandse rympies’, en met die uitsondering van enkele sketse in Standpunte en Die Burger sal hy | |
[pagina 19]
| |
hom vir die oorblywende deel van sy lewe uitsluitlik op die skryf van 'n heel besondere tipe poësie toelê wat in 'n vyftal bundels - Krokos (1958), Ghaap en kambro (1959), Mallemole (1962), Palissandryne (1964) en Op die flottina (1967) - versamel is. Ná sy dood maak F.I.J. van Rensburg 'n keuse uit die oorblywende gedigte in die Boerneef-versameling van die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad (Die sesde hoepel, 1976). Boerneef se poësie toon 'n duidelike verwantskap met sy prosa deurdat heelparty motiewe, karakters, diere en situasies van vroeër terugkeer en deurdat daar in die bundels, soos in die prosaversamelings, algaande 'n aksentverskuiwing van die Boplaas-wêreld na die stad en die eensaamheid en doodsvrees van die ek kom. In die poësie is die verwoording egter meer gekonsentreerd en gelaai en word die alleenheid, heimwee en angs, maar ook die vreugde om die aardse, intenser beleef, terwyl die wyse waarop diere en karakters uit die prosasketse in die verse terugkeer, hulle tot simbole verhef, in sommige gevalle selfs tot ‘mitologiese’ gestaltes vergroot. Met die landelike beelde, herhalingseffekte, woord- en klankspel, gebruik van konkrete simbole, volkse segging en gewestelike taal sluit Boerneef aan by die sterk belangstelling wat daar in die vyftigerjare in die ‘onder-kultuur’ en die wêreld en taal van die bruinman by Van Wyk Louw, Everwyn Wessels, Blum, Opperman en later ook Small kom. Alhoewel Boerneef se prosa van die begin af 'n sterk verwantskap met die poësie openbaar en volksverse reeds in die sketse in Boplaas opgeneem word, was die verskyning van Van Wyk Louw se ‘Klipwerk’ waarskynlik onbewustelik die prikkel tot die nuwe inset in sy oeuvre. Tussen Boerneef se verse en die ‘Klipwerk’-reeks is daar naas die ooreenkomstige gebruik van 'n landelike beskawing se folklore en mite egter belangrike verskille: teenoor die geslote wêreld van Van Wyk Louw het Boerneef se gedigte ook ruimte vir die stad, die ‘lawaaiseksie’ van skorries en morries en veral vir die persoon van die skrywer met sy vrees, opstand, verlange en eensaamheid, iets waardeur hy die gewestelike idioom en volkse elemente vir 'n persoonlike tipe vers benut. In Krokos en Ghaap en kambro handel die verse in hoofsaak oor die landskap, diere,
| |
[pagina 20]
| |
mense, natuurdinge en gebruiksvoorwerpe uit die spreker se jeugwêreld waarna hunkerend terugverlang word. Soms teken hy 'n voorval of gebeurtenis uit die daaglikse lewe, soms gee hy 'n stukkie belydenis, weemoed of hartseer en dikwels verwerk hy raaisels, doprympies en werksliedjies of sluit hy aan by die dansritme van die volksvers. Naas die vreugde en verdriet vind die spoke en die demoniese van hierdie wêreld en die besweringsmiddele van paljas en volksgeneeskunde ook neerslag in die werk. Veral vanaf Mallemole vorm die wêreld van die stad, die chaotiese en verwarrende van die moderne lewe, die ‘hoër’ kultuur van die biografiese ek en sy leed, vrese, hunkering, ouderdom en eensaamheid deel van die boustof. Toenemend kom die digterskap en die ‘geringskatting’ van die eie versies saam met die eensaamheid in die latere bundels ter sprake en is daar telkens - in teenstelling tot die ‘troos’ wat die herinnering aan die jeugwêreld bied - 'n daadwerklike soeke na middele om die verlatenheid te besweer, iets wat hy veral in die ‘doepa’ van die woord en in die rympie as skuilplek vind. Alhoewel baie verse in Palissandryne en Op die flottina die verlede nog regstreeks oproep en ons aan 'n onmiddellike situasie voorstel, word die jeugwêreld in die beste gedigte vanuit die stad as herinnering en 'n finaal afgehandelde periode beskou en is die toon, veral in die verse oor ouderdom, eensaamheid en dood, heftiger en meer indrukwekkend. Naas die gebruik van die gewestelike idioom word die poësie van Boerneef gekenmerk deur die musikaliteit wat soms uiting vind in 'n fyn woordspel, 'n inkanterende herhaling van klanke en die fonetiese weergawe van die uitspraak, waardeur die woordgrens vervaag word en die klankpatroon voorrang kry. Telkens maak hy ook gebruik van verkapte aanhalings uit die ou Nederlandse Bybelvertaling en Psalmberyming, die voortborduur en verrassende variasie op bestaande idiome en uitdrukkings, neologismes of woorde wat op die klank af gekies is en in sommige gevalle ook woorde wat nie enige betekenis het nie. Meestal is die interpunksie afwesig en enkele kere is daar geen logiese volgorde in die verse nie, iets waardeur dit 'n verwantskap met die Nederlandse eksperimentele poësie van die vyftigerjare toon. Opvallende struktuurverskynsels is die handelende inslag wat veral deur die veelvuldige gebruik van die imperatiewe vorm van die werkwoord bereik word, die funksieveranderings van die spreker binne dieselfde gedig (dikwels deur middel van regstreekse aanspreking), die herhaling van reëls waardeur heelparty verse iets van 'n rondeelkarakter kry en die veelvuldige herhaling van die insetreëls of sleutelwoorde aan die slot om 'n bevredigende eenheid aan 'n gedig te gee. Deur die improviserende karakter van hierdie poësie, die skynbaar onverskillige digterlike apologie vir die ‘rympies’, die vreugde om die prag van die natuur (veral in Palissandryne en Op die flottina) en die simbolies geworde plaasdiere en droomgestaltes wat die spreker in sy eensaamheid troos, is daar 'n sterk verwantskap tussen Boerneef se verse en Leipoldt se slampamperliedjies. Hierdie verwantskap blyk ook uit persoonlike gevoelens wat dikwels voorkom, uit die feit dat die verse in die laaste twee bundels genommer is en uit die benaming ‘palissandryne’ wat Boerneef later self aan die ‘rympies’ gegee het, terwyl die parallel met Leipoldt eksplisiet in die toonsleutel- en huldeverse aan die begin van sy voorlaaste bundel gelê word. Naas hierdie ooreenkomste verskil die gedigte van Boerneef van die slampamperliedjies deur die literêre assosiasies wat die benaming ‘palissandryn’ (vgl. bv. aleksandryn en kwatryn) wek en deur die feit dat die vers veel sterker as in | |
[pagina 21]
| |
die geval van Leipoldt as beswering van die werklikheid diens doen. Boerneef se gedigte is ongelyk in waarde. Soms haper daar iets aan die ritmiese verskuiwings, dikwels is die vers nie geslote genoeg nie of word dit niksseggend. Op die lange duur doen die herhaling van reëls of woorde aan die slot om 'n hegte geheel te bereik, as 'n maklike styltruuk aan. Die dubbelbodem waarop hierdie poësie berus, lei soms tot 'n diskrepansie tussen die eenvoud van die volksidioom en streektaal en die verwikkelde tema of moderniteit van die stadsmens, terwyl dié tweeslagtigheid enkele kere 'n verwarring van twee verstradisies tot gevolg het, veral, soos Elize Botha opmerk (Die Huisgenoot, 20.11.59), waar 'n ‘moderne’ tipe enjambement (bv. ‘stram/bekke’ in ‘In die splinternuwe afslaankapkarkis’ uit Krokos) binne 'n andersins volkse prosodiese skema gebruik word. By die lees van die bundels kom 'n mens onder die indruk van die herhalings, gebruik van dieselfde effekte en beperkinge van die idioom en taalgebruik. Daarteenoor is daar egter in elkeen van die bundels 'n groot aantal gedigte wat deur die effektiewe gebruik van klank, woord en idioom as poësie oortuig. In die Afrikaanse literatuur is die late ontwikkeling en uitbloei van Boerneef se digterskap 'n verrassende verskynsel, en met die beste verse lewer hy 'n eie en indiwiduele bydrae tot ons digkuns. | |
2. C.G.S. de Villierscornelius gerhardus stephanus de villiers (16 Desember 1894, Dunghye Park, distrik Caledon - 25 November 1978, Ceres) ontvang sy skoolopleiding op sy tuisdorp, studeer aan die Victoria-kollege op Stellenbosch, doseer in die Dierkunde aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria en gaan dan na Zürich, waar hy verder studeer en promoveer. Daarna word hy dosent en later hoogleraar in die Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en verwerf hy bekendheid vir sy navorsing oor die oorsprong en ontwikkeling van die werweldierskelet. Tydens die jare van sy hoogleraarskap besoek hy verskeie Italiaanse, Duitse en Amerikaanse universiteite om voorlesings oor sy navorsingswerk te hou. In 1948 vereer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy werk op wetenskaplike gebied met die toekenning van die Havengaprys. As skrywer is De Villiers aanvanklik werksaam as vertaler uit die Duitse, Skandinawiese en Italiaanse letterkundes. Enkele van hierdie vertalings word gepubliseer: Knut Hamsun se Viktoria (1925) en Die groeiende aarde (1965), Henrik Ibsen se
| |
[pagina 22]
| |
Rosmersholm (1925), Skandinawiese vertellings (saam met A.C. Bouman, 1927), 'n bloemlesing uit Die kortverhaal in Skandinawië (1931), Grazia Deledda se Elias Pòrtolu (1950) en ‘Die moeder’ (in Twee vroue, 1966) en Finn Havrevold se Maren se uiltjie (1961). In 1953 word hierdie werk van De Villiers met die Akademieprys vir Vertaalde Werk bekroon. Sy belangstelling in die genealogie blyk uit die uitvoerige Geslagsregister van die familie Swart in Suid-Afrika (1977), terwyl 'n reeks radiopraatjies vir die S.A.U.K. as Ons klassieke erfenis (1958) gepubliseer word. Vir die Afrikaanse letterkunde is hy egter in die eerste plek van belang vir die sketse en verhale uit en oor die Overberg, wat oorspronklik in Die Huisgenoot verskyn en gebundel word in Snel dan jare (1954), Klein vaderland (1956), Donkiespad (1961), Overbergse eergister (1961), Medereisigers (1964) en Goue fluit, goue fluit (1968). Uit sy kennismaking met sangers, sangeresse en ander musici ontstaan die sketse wat hy in Musici en mense (1958) versamel. Onder die titel Die sneeu van anderjare (1976) stel Hennie Aucamp 'n keuse uit die bundels en verspreide tekste in tydskrifte en bloemlesings saam, voorafgegaan deur 'n voortreflike inleiding. Na sy dood verskyn sy nagelate geskrifte as Soete Inval (1979). Afgesien van die sketse oor musici en enkele stukke in Goue fluit, goue fluit handel De Villiers se werk oor die karakters, omgewing en boere-kultuur van die negentiende eeu in die Overberg, die landstreek wat die distrikte Caledon, Hermanus, Swellendam en Bredasdorp omvat, in baie opsigte verskille toon met die leefwyse in die ‘beskaafder’ en welvarender Boland en deur die ‘clan’-gees van die inwoners 'n hegte eenheid vorm. Met sy uitweidings oor die ou mense, die besondere gesinslewe, die plaasvolk, die rondgaande smouse, saai- en oestyd, kossoorte en eetgewoontes, outydse konserte en jolyt, gebruiksvoorwerpe, ameublement en kleredrag lê hy 'n stuk Afrikaanse werklikheid vas. Die gemaklike geselstrant gee aan sy sketse 'n natuurlike gang, terwyl die gebruik van ou uitdrukkings en streekwoorde ‘'n outydse romantiek’ oproep en deur die argaïstiese sluier aan die stukke 'n ‘statige swier’ (Ernst van Heerden in die ‘Nawoord’ tot Snel dan jare, pp. 130-131) verleen. Alhoewel die bundels grotendeels oor 'n beperkte wêreld handel, is daar tog 'n ruim verskeidenheid deur die skrywer se fyn waarnemingsvermoë, wye belangstelling en afwisselende stemminge wat varieer van geestigheid en speelsheid tot erns en weemoed. Met sy belangstelling in die bonatuurlike en grieselige sluit De Villiers by die spookverhale van Van Reenen, Marais, Langenhoven en Leipoldt aan, en met die familie- en gesinsraamwerk in sy stukke gee hy 'n besondere outentisiteit aan die gebeure en versterk hy die werklikheidsillusie wat ook in die verhale van sy voorlopers as 'n belangrike struktuurpatroon aangewend word. | |
[pagina 23]
| |
Die herinneringskuns in hierdie Overbergse sketse toon 'n noue verwantskap met die werk van M.E.R. deur die kultuurhistoriese inslag en met Boerneef deur die aanwending van die gewestelike taal. Tog is De Villiers se stukke, ten spyte van die bekoring wat daarvan uitgaan en die wyse waarop 'n stuk van die Afrikaner se verlede daarin vasgelê word, 'n geringer bydrae tot die literatuur. Soos in die geval van M.E.R. is die verteller dikwels regstreeks informatief oor die outydse gewoontes en leefwyse, al kan 'n mens dié beswaar deur die natuurlike verteltrant regverdig. Hinderliker is die talle literêre verwysings en aanhalings wat in die loop van die sketse voorkom en die voorstelling van die ongekompliseerde wêreld en mense versteur, iets wat Hennie Aucamp raakgesien en in sy bloemlesing in 'n groot mate weggewerk het. In teenstelling tot Boerneef se direkte inleef en dramatisering van die Boplaas-wêreld bied De Villiers die gewoontes en leefwyse van die Overberg meestal as 'n stuk afgehandelde verlede aan. Dit word versterk deur die romantiese waas en weemoed wat telkens aan die slot 'n ‘verdieping’ moet bring. By Boerneef is die hunkering na vergange se dae ook soms deel van die ‘omlysting’, maar by De Villiers lei die weemoed oor die verbygaan van dinge en die onverbiddelike verandering in 'n bestaans- en leefwyse tot 'n sekere patroonmatigheid en tot 'n tweespalt tussen romantiek en realisme, wat die eenheid van die sketse skaad. Dat die skrywer van hierdie tweespalt bewus is, blyk uit 'n stuk soos ‘Helderfontein’ (Klein vaderland) waarin die romantiek en idealisering van die verteller in regstreekse teenspraak met tant Hendriena se aardsheid en nugterheid staan en waarin dié dualiteit juis tot die boeiende ‘konflik’ tussen die verteller en sy karakter lei. Afgesien van die onafheid van heelwat stukke, wat dikwels nie meer as 'n geestige anekdote oordra nie, het 'n mens die gevoel dat die skrywer in eenselwigheid van boustof en vertelpatroon verval en dat veral die latere bundels deur die veelvuldige herhalings van karakters en voorvalle toenemend yl aandoen. Deur die vaslegging van 'n stuk leefwyse en deur die besondere idioom lewer De Villiers egter sy eie klein bydrae tot die Afrikaanse streekliteratuur. | |
III. Skets, essay en ander kort prosa 1940-1955Naas die beoefenaars van plaas- en kontreikuns is daar 'n hele aantal skryfsters in die veertiger- en vyftigerjare wat in die vorm van skets, essay, kortverhaal en vertelling 'n soort ‘literêre miniatuurkuns’ (Elize Botha, Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle, Kaapstad, 1980, p. 24) beoefen, op die gebied van die joernalistiek werksaam is, 'n verwantskap met of aangetrokkenheid tot die werk van M.E.R. toon en in enkele gevalle 'n besondere bydrae tot die Afrikaanse jeuglektuur lewer. Die bundel Die dammetjie en ander sketse en essays (1960), waartoe 'n hele paar van hierdie skryfsters bydraes lewer, illustreer die verskeidenheid en uiteenlopendheid wat
| |
[pagina 24]
| |
boustof en tegniek betref, maar ook die verwantskap tussen hulle deur die belangstelling in kultuurhistoriese sake, die besondere van 'n streek, die waardevolle in die lewe van elke dag en - in die meeste gevalle - die netjiese afwerking van die skets of essay. Alhoewel dié skryfsters se werk van wisselende gehalte is, voeg sommige van hulle iets beduidend toe tot die kort prosa of die jeuglektuur. Aansluitend hierby begin twee outeurs wat eers later van hulle werk bundel en allereers as joernaliste aktief is, met hulle publikasies in koerante en tydskrifte. rykie van der byl van reenen (1923-) skryf aanvanklik vir Die Burger, en vertel later in Heldin uit die vreemde (1970) die lewensverhaal van Emily Hobhouse. Uit haar rubrieke in Die S.A. Beeld en Rapport - waarin sy, dikwels na aanleiding van nuusgebeure en aktualiteite van uiteenlopende aard, geestig-gevat maar soms ook puntig en op-dieman-af skryf - maak Tobie Boshoff 'n keuse, wat in 1980 as Op die randakker verskyn. petrus johannes cillié (1917-), van 1954 tot 1977 redakteur van Die Burger en daarna hoogleraar in Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch, publiseer naas die kinderverhaal Glippie en Slippie (1964) drie bloemlesings uit sy koerant- en ander artikels: Tydgenote (1980) waarin hy oor prominente figure in die openbare lewe, in die besonder politici, uitwei; Eet jou rape eerste (1980) waarin hy dikwels met geestige invalle en anekdotes en in aansluiting by die bespiegelende en aforistiese inslag van Langenhoven se essays, oor 'n verskeidenheid onderwerpe skryf, o.m. oor Suid-Afrika se situasie in 'n moeilike wêreld en die voortbestaan van 'n volk; en Trinkie (1982), 'n keuse uit 'n reeks satiriese artikels, voorafgegaan deur 'n inleiding deur Rykie van Reenen. Soos Rykie van Reenen toon Cillié in sy prosa 'n uitstekende beheer oor en fyn aanvoeling vir Afrikaans. | |
1. M.I. Murray
marguerite isabel murray (Worcester, 1899-), aanvanklik onderwyseres op Stellenbosch en in Kaapstad en later lektrise aan die Universiteit van Kaapstad, is die skryfster van 'n aantal dramas en verhaalbundels. Afgesien van die Kersspel Op pad na Bethlehem (1961) en die ses marionetstukke wat sy onder die titel Poppeteater (1962) bundel, skryf sy 'n vyftal eenakters - Die bron (1938), saam met vier ander in So onder deur die maan (1964) opgeneem - wat deur 'n gebrek aan konsentrasie en 'n te filosofiese tipe dialoog ontsier word. Haar belangrikste bydrae op toneelgebied is Binnehof (1959; drie bedrywe) waarin sy, in aansluiting by die kleinrealistiese rigting van baie Fagan-dramas, 'n beeld gee van 'n aantal woonstelbewoners wat in die een of ander opsig deur die lewe ‘gebreek’ is. Op besonder geslaagde wyse word die
| |
[pagina 25]
| |
uiteenlopende drade van hierdie eensame mense deur hulle gesamentlike lewe in die woonstelgebou vervleg, maar die toeval speel op meer as een plek 'n te sterk rol, die onthulling geskied nie geleidelik genoeg nie en die karakterisering bly end-uit te enkellynig en beperk. Drie jaar ná haar debuut as dramaturg maak M.I. Murray met die bundel Die gerf (1941) haar verskyning as prosaskryfster. In teenstelling tot die sierstyl van heelparty romanskrywers uit die twintiger- en dertigerjare is hierdie vertellings veel soberder en bereik die skryfster iets besonders deur die gevoelige uitbeelding van 'n karakter (‘Karolien’) of die voorstelling van die noodlot wat 'n paar mense na dieselfde eindpunt voer (‘Kwartet’). Die vermoë om atmosfeer te skep en die afwesigheid van die bloot-anekdotiese is ook 'n kenmerk van Witwater se mense (1974) waarin sy 'n hele gemeenskap in die Sederberge teen die einde van die negentiende eeu teken. Die geheel bestaan uit 'n reeks episodes wat deur 'n enkele vertelster aangebied word en gesamentlik 'n beeld van hierdie mense se leefwyse gee. Deur die spesifieke kontrei. die gebruike (bv. die trek met die vee na die Buiteveld) en enkele karakters (bv. Dirk Ligter) toon Witwater se mense 'n sekere verwantskap met Boerneef se sketse. Murray se besondere bydrae tot die regionale literatuur is egter dat sy - veel meer as die ander Afrikaanse kontreiskrywers - op die geloof, bygeloof, mites en folklore van hierdie mense en veral hulle elementêre houding teenoor en verhouding tot aarde, God en demoon konsentreer. Daardeur wyk sy af van die gewone kontreikuns, want agter die uitbeelding van dié mense se daaglikse doen en late word 'n mens algaande bewus van die magte wat hulle help vorm en hulle hele lewens rig, o.m. soos dit tot uiting kom in ryme, raaisels, sprokies en verhale. Met hierdie verdieping in die ‘onderkultuur’ van 'n vervloë wêreld en die magte wat 'n hele gemeenskap beheer, gee sy 'n boeiende nuwe nuanse aan die Afrikaanse streekliteratuur. | |
2. Freda Linde
christovira frederika linde, in 1915 gebore op die plaas Bruintjiesrivier in die distrik Swellendam en ná haar skoolopleiding agtereenvolgens joernaliste, uitgewersredaktrise en vryskutskryfster in Kaapstad, publiseer stemmings- en bespiegelingsessays in Terug na die mimosas (1944; vergrote uitgawe 1958) en Vreemdeling in my stad (1962), en dra ook 'n aantal stukke by tot die bundels Die dammetjie (1960), Rooi (1965) en Bolder (1973). In die eerste bundel neem die essay dikwels die vorm van 'n verbeeldingsvlug aan of word die verlange na die skoonheid van die natuur -
| |
[pagina 26]
| |
meestal dié van haar jeugwêreld - fyn verwoord, iets waardeur haar stukke, soos ook deur die naïewe aansprekings, 'n verwantskap met Leipoldt se poësie toon. Dikwels, veral in Vreemdeling in my stad, word die essays egter ontsier deur vae algemeenhede, die neiging tot bespiegeling, die lerende inslag en die geforseerde verdiepings aan die slot, terwyl die taal en segging 'n tekort aan beelding toon en nie 'n ryk assosiatiewe vermoë openbaar nie. Op haar beste is Linde in 'n stuk soos ‘Roetkatjie’ (Vreemdeling in my stad) waarin die perspektief van die kat op die wêreld mooi volgehou word. Teleurstellend is die drie stukke wat sy in Die gesiglose en ander eenbedrywe (1980) bundel. Die besondere gevoeligheid vir die wêreld van die dier is ook sterk aanwesig in die talle voortreflike bydraes wat sy tot die Afrikaanse jeuglektuur lewer: die rympiebundels As jy kan fluit op hierdie maat (1964) en By die oog van die fontein (1974,); boeke vir kleuters, soos Snoet-Alleen (1964), Dakkuiken (1965), Botter-aas (1966), Die stadsmusikante (1967), Stadsmuis en Veldmuis (1969), Maraaia Prima-Donna (1970), die Jos-reeks (1971-1973) en Die kraai wat Jantjie was (1973); en boeke vir ouer kinders, soos Swiera van die Waterkant (1959), Die rooi haan (1963), Ken jy die kierangbos? (1967), Die singende gras (1973), In die boog van die sekel (1975), Die kokkewiet en sy vrou (1977) en 'n Tuiste vir Bitis (1980). In aansluiting by die eeue-oue tradisie van die dierverhaal vermom sy in Die rooi haan 'n geslaagde satire waarin sy met die mens se geveinsdheid, hooghartigheid en heerssug die spot dryf en waarmee sy 'n nuwe faset aan die Afrikaanse dierverhaal ná Sangiro, die Hobsons, Schoeman en Eitemal toevoeg. In Die singende gras skryf sy oor die gehegtheid van 'n bruin seun aan 'n kameel, die besondere verhouding wat daar tussen die twee tot stand kom en die verdieping in die seun se karakter ná die dood van die dier, iets waardeur Linde aan Van Bruggen se Ampie-Jakob-verhouding verrassende nuwe moontlikhede gee. Die nougesette waarneming van die natuur sonder enige moraliserende kommentaar van 'n verteller blyk ook uit 'n Tuiste vir Bitis (1980), die verhaal van 'n pofadder. Deur die fyn verbinding van realisme en verbeelding en fabel en fantasie is Freda Linde se werk 'n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse jeuglektuur. Vir hierdie besondere bydrae is sy bekroon met die C.P. Hoogenhout-toekenning, die Tienie Holloway-medalje, die Scheepersprys vir Jeuglektuur, die W.A. Hofmeyr-prys en die C.P. Bezuidenhout-medalje. | |
3. Hymne Weiss
hymne weiss (1910-) se romans Saaier saai (1948), Vergeet wat agter is (1949), En wie is my naaste? (1950), Die kleinste saaier (1951) en Die wind het gaan lê (1951) word ontsier deur die stigtelike inslag en die afwesigheid van 'n duidelike stuwingslyn. Haar kortverhale, gebundel in Verwaaide bloeisels (1946), Boumeesters (1953), Die geel
| |
[pagina 27]
| |
kruik (1958), Skewe fees (1974) en Bitterbessiebos (1977), het soms 'n sekere bekoring deur die satiriese effekte en die humoristiese situasies, al bederf sy die geheel dikwels deur die sentimentaliteit of die moralisering waarop die verhaalgebeure afstuur. Veel meer as in die geval van Freda Linde word die essays in Die towertapyt (1956) en Diep in die blou stilte (1976) geskaad deur 'n sekere ekkerigheid, vae en algemene wyshede, meditasies, vertoonsugtige literêre verwysings en die gebruik van die eksotiese om haar wêreld te verbreed, terwyl die basiese gegewe oor die algemeen te gering vir die ‘dieper’ waarheid is. Vir haar onnoukeurige en deels ‘gesensureerde’ vertaling van Pär Lagerkvist se Barábbas (1953) ontvang sy die Akademieprys vir Vertaalde Werk. | |
4. Sannie Uys
suzanna hermina uys (1886-1976), moeder van die digter Uys Krige, is die skryfster van die kortverhaalbundels Vroue (1948) en Papawers en pikkewyne (1953); 'n keur hieruit verskyn in Engelse vertaling as The nightingale sings (1964). Deur haar tekening van karakters en situasies, fyn waarneming en meevoerende verteltrant is sy verwant aan M.E.R., al het sy nie so 'n sterk kultuurhistoriese belangstelling nie. Soms lei die los bou van die verhale tot 'n sekere omslagtigheid, soms hou die ontwikkeling nie verband met die hoofmotief nie en heel dikwels bring die slot nie 'n bevredigende ontknoping nie of val dit buite die sfeer van die verhaal. Tog bereik sy mooi effekte met die geslaagde verbinding van werklikheid en sprokie in ‘Alice in Wonderland’, die kontras tussen die twee vroue in ‘Die twee vriendinne’ en die outokratiese oom Sybrand-tipe (vgl. C.M. van den Heever se Laat vrugte) in ‘Die vader’. Sannie Uys se meesterstuk is ‘Die sterfbed’ (in Papawers en pikkewyne), die verhaal van 'n man wat op sy sterfbed sy hele lewe van heidense wellustigheid en talle ervarings met verskillende vroue reminisserend oproep en op dié wyse sy hele verlede stuksgewys onthul. Alhoewel die verhaal ook episodies van opset is, word die verskeidenheid mooi verbind deurdat die hoofkarakter alles herbeleef en alle gebeurtenisse regstreeks met hom in verband staan of deur hom ontketen word. 'n Mens moet na Van Melle se ‘oom’-verhale teruggaan om die gelyke van hierdie tipe vertelling in Afrikaans te vind.
| |
[pagina 28]
| |
5. Alba Bouweralberta magdalena bouwer (gebore in die distrik Vredefort, 1920), joernaliste in Kaapstad en later woonagtig op Riversdal, debuteer met die bundels Stories van Rivierplaas (1955) en Nuwe stories van Rivierplaas (1956). In teenstelling tot die regionale herinneringsketse van C.G.S. de Villiers, wat meestal 'n ek-verteller aan die woord stel en die gebeure dikwels deur 'n waas van weemoed aanbied, objektiveer Alba Bouwer haar Vrystaatse jeug in die onmiddellike belewing van die kind Alie. Alles waaraan ons voorgestel word - die lewe op die plaas, die talle situasies waarin Alie haar bevind en die kaskenades wat sy aanvang, haar verhouding tot die natuur, diere en ander mense - word gesien deur die oë van 'n kind, 'n procédé waardeur werklikheid en verbeelding sinryk verweef word. Alhoewel albei bundels uit afsonderlike verhale bestaan, verkry die skryfster tog 'n eenheid deur die terugkerende karakters Alie, haar vriendin Lulu en ou-Melitie, wat as mentor sowel die ‘wyse ou vrou’ as begeleidende karakter is, en deur die herhalings van bepaalde motiewe (die kiewiet, die geklingel van ou-Melitie se armbande, die snuifdoos e.d.m.) wat 'n kontinuïteit op die wyse van die sprokie skep. Met hierdie werk bereik die uitbeelding van die psige van die kind 'n hoogtepunt in Afrikaans, terwyl die lewe op die plaas geslaagder vasgelê word as in die meeste romans van die dertigerjare. In teenstelling hiermee word Stories van Ruyswyck (1963), waarin Alie se hoërskool- en kosskooljare die boustof vorm, opgebou uit geykte situasies (middernagfees, sportprestasies) en verhoudings (onderwyser - leerling), iets waardeur dit op dieselfde vlak beweeg as die gewone kosskoollektuur met sy resepmatige avonture en waardeur die moontlikhede vir sterk beelding en 'n feitlik primitiewe ervaringswyse aansienlik afneem. In Stories van Bergplaas (1963), wat op 'n Bolandse plaas afspeel, bereik Alba Bouwer egter weer iets besonders deur die kind se verrassende waarneming van sake. Dieselfde fyn verhouding tussen fantasie en werklikheid wat haar beste werk kenmerk, vind ons ook in Abdoltjie (1958), ses verhale oor 'n Kaapse Maleiertjie, Katrientjie van Keerweder (1961), Dirkie van Driekuil (1966) en 'n Hennetjie met kuikens (1971). Saam met Audrey Blignault en Rykie van Reenen stel sy die bloemlesing Kom nader en die brieweboeke Familiegesprek (1976) en 'n Kosbare erfenis (1977) uit die werk van M.E.R. saam, terwyl sy saam met Blignault ook die bundel Goedgeluk (1965) versorg. In Ienkel dienkel (1980) versamel sy haar fraai versies vir die ‘kleintjies’. Onder die pseudoniem Magriet Coetzee skryf sy Gebede van 'n vrou (1973) en Aand van die lewe (1982), en in die herdenkingsjaar 1975 versorg sy die keurige fotoboek Afrikaans 100. Vir haar bydrae tot die jeuglektuur word sy bekroon met die Scheepersprys en die C.P. Hoogenhout-toekenning. Ga naar voetnoot+ | |
[pagina 29]
| |
6. Audrey Blignaultaudrey bettie blignault (gebore op Bredasdorp, 1916), wat aanvanklik aan die redaksie van Die Huisvrou verbonde is en sedert 1950 die rubriek ‘Uit die dagboek van 'n vrou’ in Sarie Marais behartig, versamel die beste van haar essays in 'n tiental bundels: In klein maat (1955), Die vrolike lied (1957), Met ligter tred (1962), Die blye dae (1965), Die plesierboom (1967), Om die son te aanskou (1968), Die verlange loop ver (1969, wat geskryf is vóór die stukke in die vorige bundel), Die rooi granaat (1970), Die wind van die see af (1972) en Pas op vir Jantatarat (1979). Uit die eerste nege bundels stel Elize Botha 'n bloemlesing onder die titel Nogtans sal ek jubel (1977) saam, voorafgegaan deur 'n kundige inleiding. Vir die bundel Met ligter tred ontvang sy in 1965 die W.A. Hofmeyr-prys. Afgesien van haar essays publiseer sy Van leser tot leser (1980), 'n handleiding vir leeskringe. Audrey Blignault se essays handel oor die daaglikse bedrywighede van 'n vrou, die gebeurtenisse binne haar gesin en familie en herinneringe aan haar Bredasdorpse jeug en die wêreld van die Overberg (waardeur sy 'n verwantskap met C.G.S. de Villiers toon). Deur die noukeurige waarneming van dinge en voorvalle, die belangstelling wat sy in mense en plekke toon en die geestigheid wat sy deur selfspot, anekdote en dialoog bereik, slaag sy daarin om die ekkerige eenselwigheid wat die essay as sodanig bedreig, grotendeels te vermy, en deur haar besondere aanwending van die woord en die spel met die taal is sy 'n waardige opvolger vir Langenhoven. Soms neig haar stemmingsessays na sentimentaliteit, enkele kere word die bespiegelende stukke deur groot lewensvrae en abstraksies oorwoeker en soms dreig die verwysings na ander skrywers om aan haar essays 'n afgeleide indruk te gee. Oor die algemeen slaag sy egter daarin om die leser deur haar pakkende gesprekstoon, afwisseling van aanbiedingswyse en taalspel mee te voer. Daarby munt haar essays uit deur die besondere strukturele vermoë: die ordening van paragrawe rondom 'n sentrale onderwerp, die dramatiese gang van gebeure of betoog en die meestal geslaagde afronding aan die einde. Deur al hierdie kwaliteite is Audrey Blignault se werk, soos Elize Botha dit in haar inleiding tot Nogtans sal ek jubel stel, 'n geslaagde ‘verbinding tussen 'n besondere joernalistieke aanslag, 'n fyn bestendige sin vir waardes en die onmiskenbare talent van die verteller’.
| |
[pagina 30]
| |
IV. Elise Muller en die ‘psigologiese’ romanelisabeth muller is op 11 Maart 1919 op Ceres gebore, waar haar vader predikant was. Ná haar elfde jaar verhuis die gesin na die Noordweste (Nieuwoudtville en Calvinia, waar sy in 1936 matrikuleer). Haar verdere opleiding ontvang sy in die Paarl en op Stellenbosch, maar as gevolg van 'n ernstige siekte - wat in 1950 tot die verwydering van haar regterlong lei - moet sy haar studies onderbreek. Ná haar herstel is sy tot haar uittrede in 1978 verbonde aan 'n uitgewersfirma in Kaapstad. Vir haar bundel Die vrou op die skuit ontvang sy in 1957 die Hertzogprys. Elise Muller debuteer in 1941 met die psigologiese roman Ek, 'n Samaritaanse vrou, die geskiedenis van 'n jong Kaapstadse student, Corrie Maartens, wat twee jaar lank in die pastorie op 'n Karoodorp deurbring en uiteindelik - ná die dood van die predikant, wat sy as mens intens bewonder, en nadat sy 'n ernstige geloofskrisis deurgemaak het - 'n nuwe lewe begin as sy met die man wat sy bemin, in die huwelik tree. Die hoofkarakter se geloofsomkeer, wat in baie opsigte 'n sentrale posisie in die roman inneem, word onoortuigend en met heelwat retoriese taal aangebied, terwyl die minnaar Fernhout as karakter die swakste figuur in die boek is, veral as gevolg van die afwesigheid van enige konflik tussen sy roeping as predikant en sy liefde vir Corrie. Oortuigender is Die pad verder (1943), wat as breed opgesette familieverhaal met die lewensloop van lede van die Groenewald-gesin werk en daardeur 'n mate van wisseling en verskeidenheid openbaar, al kry die roman later 'n sekere momentum deur die konsentrasie op veral twee karakters. Ten spyte van die wisseling van aandag aan die begin, die manipulasies in die tydsverloop, sodat die gebeure feitlik van vakansie tot vakansie beweeg, en die meestal vlak karakterisering bring die roman tog nuwe nuanses in die hantering van die erfplaas en die kontinuïteit van die geslagte as motiewe, terwyl enkele sober tonele (die dood van ouma Grieta, die afskeid van Leida voor haar vertrek na Nederland en Siebel se tuiskoms) reeds toon waartoe Elise Muller as skryfster in staat is. Maar die jare antwoord (1947) skets die lewensloop van Emma van Deventer, wat 'n noodhuwelik aangaan ten einde van die benouende kleindorpse milieu van Middelpoort weg te kom, in die stad 'n verhouding met 'n getroude man aanknoop en ná die dood van haar man na Middelpoort terugkeer waar sy geestelik verdiep en van haar selfgesentreerdheid loskom. Die
drieledige verdeling van die roman in ‘Keuse’, ‘Kentering’ en ‘Koers’ hang saam met die ontwikkeling in die karakter van die hooffiguur, terwyl die verhaal verder 'n boeiende teenstellende parallelle verloop toon in die kontras tussen die twee jongmense (Emma en Morkel), wat langs mekaar in dieselfde huis grootword maar in twee rigtings ontwikkel. Die jeugverhaal Skat in die Roggeveld (1950) handel oor 'n reeks boeiende avonture teen die agtergrond van die Noordweste.
| |
[pagina 31]
| |
In teenstelling tot die vroeëre romans, wat nie van 'n sekere tendens en etiesreligieuse didaktiek vry te pleit is nie, word die geskiedenis van 'n familietwis en 'n hardkoppige vader wat tot inkeer kom, met veel sterker psigologiese oortuigingskrag voorgestel in Die derde rit (as vervolgverhaal in Sarie Marais van 21 September tot 21 Desember 1949 gepubliseer, maar eers in 1978 in boekvorm uitgegee). Die verhaal van Magriet Lintvelt, wat op haar pleegouers se Karooplasie gaan besoek aflê met die doel om met hulle seun Faan in die huwelik te tree, sluit in baie opsigte by die werk van ouer Afrikaanse skrywers aan. So bv. laat die skade by die oes o.m. aan C.M. van der Heever se Somer dink, terwyl die norse patriarg oom Giel in 'n sekere sin die lyn van die Sybrand-tipe in Laat vrugte voortsit. Met die aanwending van bepaalde temas, motiewe en karakters - soos die familievete, die ongenaakbare vader (vgl. die Frederik Richter-figuur in Van eensame mense), die beseerde minnaar (vgl. Dawie in Die wilde loot) en die situering van die gebeure teen 'n Karooagtergrond - stel hierdie novelle ook Elise Muller se latere werk in die vooruitsig. Tog is Die derde rit nie 'n blote eggo van ouer Afrikaanse romans of slegs die ‘voorspel’ tot haar eie latere, ryper kuns nie. Ten spyte van die stereotiepe tonele en karakterisering is die novelle 'n vooruitgang op Elise Muller se vroeëre werk deur die dramatiese opbou van die situasie, die verhouding tussen figure, die genuanseerdheid waarmee die hoofkarakter geteken en die wyse waarop sy as tussenganger én katalisator van oom Giel en die De Kokers gebruik word. 'n Groot vooruitgang op haar romans in die veertigerjare is die kortverhale wat tussen 1947 en 1955 in Die Huisgenoot en Sarie Marais verskyn en waarvan 'n twaalftal in Die vrou op die skuit (1956) gebundel word, die roman Die wilde loot (van 15 September tot 15 Desember 1954 as vervolgverhaal in Sarie Marais en in 1962 in boekvorm) en die novelle Van eensame mense (1956). Die verhale in Die vrou op die skuit word meestal gekenmerk deur 'n besonder fyn struktuur en die effektiewe opbou tot 'n krisissituasie waarin die hoofkarakter by herhaling met 'n nuwe kyk op die werklikheid of een of ander aspek van die realiteit as sodanig gekonfronteer word. Soms spruit hierdie konfrontasie voort uit 'n ander stel waardes, soos die vrou in ‘Nag by die drif’ wat tot die insig gedwing word dat sy nie gasvryheid met geld kan vergoed nie en die hoofkarakter in ‘Die boom’ wat, ná die aanvanklike aarseling as
| |
[pagina 32]
| |
sy besef watter nuwe dinge sy vir haarself kan koop, aan die slot besluit om die boom op die erf nie te laat uithaal nie en die buurman se vergoeding van die hand wys. In ‘'n Brief van Willem’ word die kinders vanuit hulle speelwêreld in die realiteit geruk as die besef van wat 'n egskeiding werklik is - nl. dat hulle vriend vyf jaar lank nie sal kom kuier nie - tot hulle deurdring. 'n Hele paar van die beste verhale handel oor die konfrontasie met die dood: in ‘Die onverklaarbare’ 'n kind se eerste kennismaking met die dood as nie haar afsydige stiefgrootmoeder, wie se dood te wagte was, sterf nie, maar haar eie geliefde ouma by wie sy gereeld uit vrye wil gaan kuier het; in ‘Mevrou Mencke’ as die ek, wat 'n ernstige operasie ondergaan, toevallig op die naam van 'n vorige pasiënt met dieselfde siekte afkom, in haar herstelperiode 'n geïdealiseerde beeld van hierdie vrou opbou wat vir haar tot vertroosting en sterkte is, net om aan die slot te verneem dat die pasiënt tydens die operasie gesterf en die medisyne in werklikheid ‘nie nodig gehad (het) nie’; en die sterk ‘Kinders in die skemer’ waarin die kinders deur hulle gereelde besoeke aan die begraafplaas 'n skynbare vertroudheid met die dood opbou, maar aan die slot, waar hulle die uitnodiging ontvang om na die lyk van hulle gestorwe skoolhoof te gaan kyk, met die onverbiddelikheid van die dood gekonfronteer word en hulle besef dat hulle voortaan in die skemerland tussen lewe en dood sal moet voortgaan, dat vlug hulle nie sal baat nie en dat die dood ook vir húlle eendag sal kom: ‘Hierdie angs lê ons nooit af nie. Iewers, eenmaal, wag die skaduwee óns ook in.’ En in ‘Die dieper dors’ met sy effektiewe teenstelling tussen die Karoolandskap en die wêreld van die Boland wat deur die hoofkarakter se verbeeldingsvlug in die verhaal betrek en algaande reëler as die onmiddellike omgewing word, het die konfrontasie die gevolg dat die vrou haar eie nood vergeet, haar oorblywende vars water aan 'n nuwe intrekker aanbied en die res vir die aronskelke gebruik, 'n daad waarmee sy uit haar eie lewe wegkyk en 'n medelye met alle ‘ontworteldes’ ontwikkel. Afgesien van die verhale waarin die hoofkarakter telkens met 'n onbegryplike stuk werklikheid te make het, deur sy ervaring van onkunde na kennis oorgaan en op dié wyse tot in die diepste kern van sy menswees geskud word, is daar 'n paar verhale wat 'n milde humor openbaar en 'n geestige kyk op die mens gee. Van dié verhale is ‘Van onbekende dinge’ die minste, omdat die geheim van die hoofpersoon groter verwagtings wek as wat die onthulling aan die slot verskaf. Mooi is egter die geestigheid in ‘Die peertak’, waarin Dingetjie se groot kans om by die middagete ter viering van die seun en sy verloofde se tuiskoms as vlieëweerder aanwesig te wees, verydel word deur die nuwe spuitstof wat die baas van die dorp af saambring. Alhoewel hierdie geestigheid ook in die titelverhaal aanwesig is en enkele mooi effekte bereik word, is die relaas van Bessie se lewe te lank en uitgerek en mis 'n mens Elise Muller se gebruiklike hegte konstruksie. Daarteenoor is ‘Blommetjies vir Bella’ een van die hoogtepunte in die bundel deur die effektiewe gebruik van die agterna-perspektief in die mond van 'n verteller wat as 't ware die belangstelling van die dorp in die gebeure verteenwoordig, die geleidelike parallelle ontwikkeling van die twee dames se naastediens, die opbou tot die krisis as tant Bella te sterwe kom en as skynbaar onbeantwoordbare troefkaart iets vir tant Wiesie se dienste in haar boedel nalaat, en die oplossing as tant Wiesie uit haar dilemma ontsnap deur 'n feitlik bandelose liefdadigheid. Geestigheid en ironie word hier meesterlik ingespan in die uitbeelding van die twee dames se kompetisie en die wyse waarop hulle | |
[pagina 33]
| |
deur middel van vriendelikheid hulle ernstige mededinging kamoefleer. Met Die wilde loot sit Elise Muller, maar dan op 'n veel hoër vlak, die realistiespsigologiese rigting van haar romans in die veertigerjare voort. Die gebeure in die werk word gekonsentreer in die ‘een week van beslissing’ wat begin op die Vrydag wanneer Retta Steen onverwags na haar ouerhuis op Lokenburg terugkeer en eindig met haar besoek aan Dawie in die hospitaal die volgende Vrydag. Tussen hierdie twee punte in die tyd word nie net al die spannende en onverwagte gebeure van dié een week gegee nie, maar ook die agtergrond wat nodig is om dié gebeure, veral die implikasies van Retta se terugkeer, te verstaan. Die roman werk dus regstreeks-handelend en onthullend tegelyk en telkens word daar terugverwys na die gebeure van agt jaar tevore: Retta se misstap met Paultjie van Oordt en haar skielike vertrek uit die dorp. Hierdie stuk verlede is nie iets voltooids en afgehandelds nie, maar laat sy stempel op elke lid van die gesin en beïnvloed hulle gedrag tot mekaar en ander mense. Deur hierdie studie van menslike verhoudinge en die wyse waarop die Verlore Seun-motief in romanvorm uitgewerk word, is Die wilde loot 'n boeiende werk, al kan daar ook ernstige besware teen Elise Muller se werkwyse geopper word. Die grootste deel van Die wilde loot bied die gebeure aan vanuit Selina se perspektief, iets wat die roman in die rigting van 'n novelle stuur, die ander figure tot sketsmatige karakters op die periferie reduseer en die enkele perspektiefverskuiwings na struktuurbreuke in die novellistiese opset laat lyk. Daarby is daar iets gesogs in die verskyning van Francke, wat weinig meer as die tradisionele romanskurk word, terwyl die neiging om elke hoofstuk op 'n verrassende noot te laat eindig, iets episodies in die struktuur bring en die vervolgverhaalherkoms verraai. Die belangrikste beswaar teen die roman is egter, soos Rob Antonissen (Spitsberaad, pp. 36-37) aangetoon het, die stilistiese dreun wat met woorde soos gewoon, onverwags, ingedagte, verslae, verwondering, verbystering e.d.m. geskep word, op haas elke bladsy voorkom en in die lig van die herhaalde onverwagte gebeure in die ‘een week van beslissing’ as 'n oorbeklemtoning en 'n te eksplisiete werkwyse aandoen. Alhoewel kleiner van opset is die novelle Van eensame mense 'n suiwerder werk as Die wilde loot. In vergelyking met baie ouer plaas- en dorpsromans word die eensame bestaan van Fransie in die troostelose Karoowêreld sober geteken en haar innerlike fyn ontleed, al het die novellistiese tegniek hier ook - soos in Die wilde loot - tot gevolg
| |
[pagina 34]
| |
dat die ander karakters, met inbegrip van die onderwyser Linder wat hom op Driedoring vestig en 'n toegeneentheid tot Fransie ontwikkel, deur die oë van die hoofpersoon gesien word. Soos in Die wilde loot gebeur daar in die eenselwige en troostelose lewe van hierdie eensame mense ook dramatiese dinge wat tot geweld lei, al voel 'n mens hier dat die uiterlike spanning die innerlike proses van Fransie se ontvoogding verhaas en dat die gebeure sonder die stilistiese dreun van die roman aangebied word. Wat wel as 'n beswaar kan geld, is die enkele plekke in die verhaal waar die perspektief van die hoofkarakter na byfigure verskuif, iets waardeur Van eensame mense ook, alhoewel in mindere mate, tussen roman en novelle aarsel. Hierin lê die belangrikste beswaar teen 'n werk wat andersins 'n pragtige ontwikkeling op C.M. van den Heever se plaasromans toon. Ná 'n aarselende begin wat weinig belofte vir die toekoms ingehou het, groei Elise Muller in die vyftigerjare tot 'n skryfster van formaat met haar fyn bundel kortverhale en die bydraes wat sy tot die Afrikaanse roman- en novellekuns lewer. As skryfster van kortverhale sit sy die beste werk van Van Meile, C.M. van den Heever en M.E.R. voort en is haar bundel Die vrou op die skuit 'n waardige afsluiting vir die tradisionele kleinkuns op die gebied van die Afrikaanse prosa. |
|