Voorwoord
Terwyl die eerste band van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur die hele gebied vanaf die oorsprong tot 1940 dek, word die tweede band gewy aan die letterkunde vanaf 1940 tot omstreeks 1970. Dit beteken dat die vierde afgebakende hooffase wat in die eerste band tot 1940 beskryf is, nl. ‘Dertig en verdere verbreiding (1930-1955)’, hier voltooi word, terwyl die vyfde fase, ‘Sestig en die hedendaagse letterkunde (1955-hede)’, tot aan die begin van die sewentigerjare nagegaan is. Soos in die geval van band I is die oeuvres van skrywers wat voor 1970 gedebuteer maar hulle werk na dié datum voortgesit het, volledig beskryf. In die eerste drie hoofstukke van deel V, ‘Sestig en die hedendaagse letterkunde (1955-hede)’, word die lyn tot vandag deurgetrek wat betref die algemeen-historiese oriëntering, die verdere erkenning en bestendiging van Afrikaans, die beheer oor publikasies, die literêre beweging, die ontwikkeling op die gebied van tydskrifte en uitgewerye, die ontwikkeling van die uitvoerende kunste, die ontwikkeling van die skeppende literatuur en die rol van die kritiek.
Afgesien van korter oorsigte - waarvan Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde (1965; vyfde uitgawe 1980) onder redaksie van E. Lindenberg met die medewerking van R. Pheiffer, André P. Brink (oorspronklik P.G. du Plessis) en A.J. Coetzee die belangrikste is - en die omvangryke werke van G. Dekker (Afrikaanse literatuurgeskiedenis, twaalfde uitgawe 1972) en Rob Antonissen (Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, derde uitgawe 1965) wat die literatuur tot 1965-1966 dek, word die letterkunde vanaf omstreeks 1955 tot 1978 uitvoerig behandel in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (1980) onder redaksie van T.T. Cloete. In hierdie werk skryf A.P. Grové oriënterend oor die literatuur en ‘Beweging’ van Sestig, terwyl die drama, poësie en prosa onderskeidelik deur J.P. Smuts, T.T. Cloete en Elize Botha bespreek word. Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig bevat, in die besonder op die gebied van die prosa, van die belangrikste Afrikaanse kritiek van die afgelope dekade en meer en is as naslaanwerk met sy nuttige (maar onnoukeurige) bibliografieë besonder waardevol, maar wesentlik is dit 'n hibridiese werk wat aarsel tussen literatuurgeskiedenis en tekskritiek. Die enigste poging tot samehang en sintetisering is te vinde in die oorsig oor die drama, terwyl die oriënterende inleidende hoofstuk die historiese verloop van sake eensydig voorstel.
Soos in die geval van band I wil ek graag my skatpligtigheid betuig teenoor die skrywers van oorsigtelike studies, kritiese werke oor bepaalde outeurs en tydvakke uit ons literatuur, en veral ondersoeke na spesifieke gedigte, romans en dramas. Wat suiwer feitelike inligting betref, kon ek by herhaling op bestaande studies steun, terwyl die beskouinge oor afsonderlike kunswerke telkens my interpretasies en waarde-oordele genuanseer of my na ander fasette gelei het. Afgesien van die