Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 356]
| |
Hoofstuk 6
| |
[pagina 357]
| |
van kinderboeke (waaronder die Meintjie-reeks vir dogters), vermaaklike sketse oor bediendes (Ek en my bediende, 1955, en Alweer my bediende, 1959), tiperende uitbeeldings van 'n plattelandse vrou (Lettie Bock kom kuier, 1956, en Tot siens, Talettie, 1957), verhale van 'n baasverteller uit die Noordweste (Toon Prens, 1958) en ligte ontspanningslektuur. Na Sangiro en die Hobsons se romans en novelles bereik die uitbeelding van die dier en die inboorling hoogtepunte in die werk van P.J. Schoeman en G.H. Franz. Albei hierdie skrywers wyk in mindere of meerdere mate van die tradisie voor hulle af en lewer 'n eie bydrae tot die folkloristiese prosa in Afrikaans. | |
I. P.J. Schoemanpieter johannes schoeman, wat op 20 September 1904 in Utrecht, Natal gebore is, matrikuleer aan die Helpmekaar-Hoërskool in Johannesburg en bestudeer daarna Volkekunde en Bantoekunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1933 met 'n verhandeling oor Grepe uit die lewe van die Swazies promoveer. Ná verdere studie in Londen en 'n periode as joernalis word hy dosent en later hoogleraar in Bantologie aan sy alma mater, 'n aanstelling wat hom die geleentheid gee om sy navorsing oor die inboorlingstamme voort te sit, o.m. gepubliseer as Die Swazies se jaarlikse seremonie van die eerste vrugte (1937) en Gevalle van onwettige bevrugting by die Zoeloe (1940). In 1946 bedank hy om hom uitsluitlik aan skeppende werk te wy, terwyl hy in die jare 1950-1955 as hoofwildkurator in Suidwes-Afrika diens doen. Sedert 1956 woon hy weer op Stellenbosch, waar hy voltyds skryf. In vergelyking met Sangiro en die Hobsons is daar by Schoeman veel groter aandag aan die inboorling in sy natuurlike omgewing, alhoewel die avonture op die jagtog en die waarneming van die wilde dier ook by hom voorkom. Wesentlik beoefen hy egter 'n romantiese tipe prosa waarin hy by voorkeur swerwers of heroïese figure laat optree, by herhaling die primitiewe wysgeer met sy lewenswysheid en gebondenheid aan die voorvaderlike sedes as karakter invoer en die aandag toespits op die geheimsinnige en bekoorlike in die lewe van die oerwoud- of
| |
[pagina 358]
| |
woestynbewoner. Hierdie romantiese sfeer in sy verhale word nog verder versterk deur die botsing tussen die kultuur van die Bantoe en die blanke en die weemoed oor die verdwynende primitiewe stamlewe en -gewoontes wat daarmee saamhang. Veel meer as in die geval van Sangiro word sy werk egter ontsier deur hinderlike interpolasies van volkekundige en moraliserende aard, iets wat tot 'n basiese tweespalt tussen suiwer woordkuns en populêr-wetenskaplike inligting of didaktiek in sy verhale lei. In sy werk vind ons ook die aanwending van die uitdrukkingswyse van die inboorling deurdat die Afrikaans by die besondere idioom van die ander medium aangepas word en deurdat hy verskeie woorde uit die Bantoetaal opneem. Met hierdie werkwyse verkry hy soms mooi poëtiese en beeldende effekte, maar dikwels moet hy die woorde regstreeks vertaal of omskryf om die volle drakrag by sy potensiële leser by te bring. In sy eerste twee werke, Die swerwerjagter (1933) en Die jagterprins (1935), versamel Schoeman 'n uiteenlopende reeks verhale en sketse, waaronder verslae oor jagavonture in Zoeloeland, Swaziland en Oos-Afrika, uitbeeldings van Zoeloe- en Swazifigure, optekeninge uit hulle verhaalskat van legendes en sprokies en grepe uit hulle geskiedenis die belangrikste is. In die verhale oor bepaalde inboorlingkarakters gee Schoeman voorkeur aan heroïese of eensame romantiese figure, terwyl hy in die jagverhale (wat in die ek-vorm geskryf is) sketsmatig te werk gaan en sy beskrywing by herhaling met verduidelikings en inligting onderbreek. In die verhaal ‘Strepies - die sebratjie’ (uit Die swerwerjagter), wat oor 'n sebra-wesie handel (vgl. Sangiro se ‘Renosterlewe’ in Uit oerwoud en vlakte), probeer Schoeman Sangiro se inlewing in die dier se ‘sielelewe’ met die ek-perspektief van die jagter verbind, maar die aanwesigheid van die verteller as karakter gee aan die inlewing 'n sekere ongeloofwaardigheid en ‘kunsmatige’ dramatisering. In vergelyking met hierdie twee mengelbundels toon Mboza, die Swazi (1939) 'n hegter eenheid deurdat die grootste deel van die boek oor 'n jong inboorling handel wat deur die beskawende invloed van die blanke skole van die voorvaderlike paaie afwyk en ontwortel word, 'n tipe boustof wat hy later in Rook op die horison (1949) en Jabula, die Zoeloe (1972) - verhale oor die verderflike invloed van die goudstad op 'n ontstamde inboorling - weer sal aanwend. Op die groot spore (1942) bestaan uit twee langer verhale. In die titelverhaal skryf hy oor die gewoontes en tradisies van die Zoeloe binne 'n spannende jagraamwerk, terwyl hy in ‘Nobiyane, die ou Zoeloefilosoof’ (in 1963 ook afsonderlik gepubliseer) 'n inboorling aan die woord stel wat oor die grootse verlede van sy volk en die afvalligheid van die voorvaderlike gebruike treur. Met hierdie laaste verhaal - een van sy beste enkele stukke - lê Schoeman 'n ander patroon in sy werk vas wat hy later by herhaling gebruik: 'n wyse ou inboorling wat vir die grootste deel van die verhaal aan 'n blanke ek-verteller die mites, legendes, wette en gewoontes van sy volk verduidelik en uitlê. Met so 'n procédé slaag Schoeman daarin om die primitiewe idioom uit te buit, maar meestal mis die volgorde waarin die opgenome verhale en die verskillende tonele aangebied word, enige noodwendigheid en verval die geheel in fragmente wat slegs deur 'n dun epiese draadjie met mekaar verbind word. Dit is die geval in Jagters van die woestynland (1951), waarin Schoeman - soos vroeër Von Wielligh en die Hobsons - die lewe en gewoontes van die Boesman as boustof neem en waarin Xameb saans om | |
[pagina 359]
| |
die kampvuur van sy voorgeslagte en hulle opvattinge oor die skepping, hulle sedelike oortuigings en hulle sprokies vertel. Dieselfde tipe gekamoefleerde inligting in die vorm van 'n betreklik struktuurlose roman vind ons in Trados, die swerwer-Boesman (1963) en Vulindaba (1964), waarin 'n Boesman en 'n Zoeloe onderskeidelik oor hulle volk se verlede praat en uit hulle verhaalskat aan 'n luisterende ek vertel. Gedeeltelik, veral in die eerste helfte, word hierdie patroon ook aangewend in Pampata (1978), wat die geskiedenis van Tsjaka as boustof het. Die hooffiguur in dié verhale is gewoonlik 'n tolk vir die geskiedenis, mites en verhale van sy volk, en van enige genuanseerde karakterisering is daar haas geen sprake nie. Die hoofsaak is die inligting wat die sentrale figuur by wyse van 'n vraag-en-antwoord-tegniek aan die ek-spreker verskaf. 'n Verdere patroon in Schoeman se werk is dié verhale waarin hy teen die agtergrond van 'n jagavontuur 'n liefdesverhaal vertel of 'n stuk romantiese simboliek verweef wat aan die gebeure 'n dieper dimensie gee. Op ver paaie (1949) handel oor 'n reis wat die vertellende ek deur die Kaokoveld in Suidwes-Afrika onderneem, maar deur die aksent op die ‘ver paaie’ en die soektog na 'n wilde perd ontwikkel die reis in 'n verkenning van die gees en word die uiterlike gebeure met die romantiese verlange en die strewe na 'n onvervulde droom verbind. Op sigself is hierdie verdieping van die verhaalvlak nie steurend nie, maar dit bots met die beskrywings van die nugter werklikheid wat ook 'n aansienlike deel van die boustof vorm. Terug op die ver paaie (1962) kan as die vervolg hierop beskou word, terwyl Jetwa - die buffelbul (1965) wesentlik - met die legendariese buffelbul as die romantiese simbool - 'n variasie op dieselfde resep is. In Waar ver winde waai (1957) word die liefdestryd van 'n meisie verbind met die uiterlike gegewe van 'n reis, maar die geheel kry iets tweeslagtigs deurdat die jagavonture nie heg genoeg met die romantiese verhaal skakel nie. Telkens, soos trouens ook in ander verhale van Schoeman, word informasie en verhaal, werklikheid en verbeelding, uiterlike gebeure en simboliek nie bevredigend verbind nie. Daarby lei die herhaling van dieselfde basiese patroon tot 'n sekere eenselwigheid, iets wat nog verder versterk word deur die retoriek van die ‘ver paaie’, die ‘ver plekke’ en die ‘groot spore’ wat telkens voorkom. Naas die romantiese jag- en inboorlingverhale is Schoeman verder van belang vir sy uitstekende jeuglektuur, wat wesentlik op dieselfde basiese gegewe berus: DrieGa naar voetnoot+ | |
[pagina 360]
| |
jong jagters (1935), Sonogies, die Swazie-prinsessie (1938), Op die klein spoortjies (1944) en Waar motors nie kan kom nie (1948) - die vervolg daarop -, die Fanie-reeks (1948-1961), ‘ Uitspring, kêrels!’ (1951) en ‘Inspring, kêrels!’ (1960), die Dronkie-reeks (1965-1966), Katjieland (1965), Kampvure wat nie uitbrand nie (1966) en Spore wat nie toewaai nie (1979). Vir sy bydrae tot die jeuglektuur, waaronder Drie jong jagters - die verhaal van 'n Bosveldse jagavontuur met drie seuns as sentrale karakters - 'n hoogtepunt vorm, is Schoeman twee keer met die Scheepersprys bekroon. In Uit die dagboek van 'n wildbewaarder (1967), Van jagter tot wildliefhebber (1969) en Geliefde ou Afrika-vriende (twee dele, 1975 en 1976) skryf hy onderhoudend oor sy jagervarings en waarnemings van wilde diere, gebaseer op sy veldnotas oor 'n periode van bykans sestig jaar. Hierdie populêr-wetenskaplike werke is egter streng gesproke nie meer deel van die literatuur nie. | |
II. G.H. Franzgottfried heinrich franz is op 30 September 1896 op Mphome in die omgewing van Houtbosdorp in Noord-Transvaal as die seun van 'n Duitse sendeling gebore. Ná sy skoolonderrig op sy tuisdorp, Pietersburg, Germiston en Pretoria gaan hy na die Transvaalse Universiteitskollege, waar hy as onderwyser opgelei word. Daarna is hy sewe jaar lank verbonde aan die Pietersburgse Hoërskool. In 1926 word hy inspekteur van Bantoe-onderwys in die Oranje-Vrystaat, terwyl hy in 1930 in dieselfde hoedanigheid na Transvaal verhuis, waar hy van 1947 tot sy aftrede in 1956 hoofinspekteur is. Afgesien van sy skeppende werk in Afrikaans skryf hy dramas, prosawerke en leerboeke vir skoolgebruik in Noord-Sotho. Verder stel hy vir Afrikaanse beginners 'n handleiding van Noord-Sotho op (Thellenyane, 1938), terwyl hy in Bantoestories uit die Transvaal (1930; saam met C.A. Hoffman) en Mooi loop (1956) verhale bundel waarin die Bantoe as motief verskyn. Vir sy roman Rabodutu die eensame ontvang hy in 1954 die Hofmeyrprys vir Prosa. Op 7 Desember 1956 is hy in Pretoria oorlede. Franz se eerste werk verskyn in Engels as Tau, the chieftain's son (1929) en Makinta tales (1936), waarin hy verhale en sketse uit die lewe van die Bantoe bundel en waaruit sy besondere kennis van die Basotho se lewenswyse en denkpatroon reeds spreek. Op aandrang van Markus Viljoen skryf hy van 1936 af ook verhale in Afrikaans, waarvan die meeste oor 'n periode van twintig jaar in Die Huisgenoot, Die Brandwag en Die Vaderland verskyn. Hierdie verhale is gebundel in Moloisi die wyse (1942), Verhale van Hananwa en Laaste verhale (albei postuum, 1965). In die eerste bundel lei Moloisi, een van die oudstes van die stam, 'n jong blanke sendeling deur middel van lang gesprekke in die wysheid, gebruike en verhaalskat van die primitiewe mens in. Die twee bundels wat ná Franz se dood gepubliseer is, sit die patroon van hierdie verhale voort deur die aanwending van die wydlopige vertelwyse, die Sotho-idioom en die wyse lering. Van die beste stukke is dieresketse (‘Adonese - kind van Roto Bobbejaan’) en verhale waarin die karakters in 'n konflik uitgebeeld word, soos dié oor die jong hoofman wat, ná 'n opleidingsperiode onder die blankes, opnuut die besondere leefwyse van sy eie mense moet leer waardeer (‘Molati se ontgroening’). Afgesien van 'n verdere aantal Moloisi-verhale bevat Verhale van | |
[pagina 361]
| |
Hananwa ook ‘Die bekentenis’, die geskiedenis van 'n Basotho-vrou wat twee Blanke kinders tydens 'n botsing met die Halaka-stam red en verder versorg. Hierdie geskiedenis van moed en uithouvermoë, wat op 'n ware gebeurtenis uit die pionierstydperk van Noord-Transvaal gebaseer is, roep 'n vergelyking op met ander soortgelyke uitbeeldings, soos G.S. Preller se ‘Moedersmart’ en A.G. Visser se ‘Amakeia’. In Die Afrikaanse kortverhaalboek (1978) neem Abraham H. de Vries die ongebundelde ‘Makhwibitsana’, die Sotho-weergawe van die Rooikappieverhaal, op. In sy kortverhale leer 'n mens reeds die wêreld ken wat Franz later ook as boustof vir sy romans sal gebruik. Soos by P.J. Schoeman is daar haas in elke verhaal 'n wyse ou man aanwesig wat sprekend ingevoer word om die wyshede en verhale van die stam te vertel. Die besondere perspektief van die verteller gee die skrywer die geleentheid om tydsaam en omslagtig te praat, deur die vertelling heen te karakteriseer, ruim gebruik te maak van die idioom, stel- en denkwyse van die Basotho en om die inligting oor hierdie mense se lewe en die didaktiek esteties te regverdig. In vergelyking met Schoeman bly die aanwending van hierdie tegniek nie tot die weergawe van sprokies en legendes en 'n beeld van die spesifieke stam se lewe en tradisies in oorwegend fragmentariese verhale beperk nie, maar slaag Franz daarin om, veral in sy romans, die vertelling tot 'n hegter eenheid te konstrueer en ook die primitiewe mens se kyk op die lewe van die Afrikaner in 'n idilliese verband te gee. Daarby buit hy, veel meer as Schoeman, die konkrete voorstellingswyse, die idioom en die spreekwoord van die mense op 'n volgehoue wyse uit, in so 'n mate dat hy daarmee nuwe moontlikhede vir die Afrikaanse taal open. Die belangrikste deel van Franz se oeuvre bestaan uit 'n drietal romans, wat hy in die veertiger- en vyftigerjare publiseer. In Moeder Poulin (1946) vertel 'n ou Basothovrou vanuit 'n agterna-perspektief van haar lewe op 'n idilliese plaas waar sy help om die kinders groot te maak, waar sy die liefde en eerbied van die blankes ontvang en in hulle eenvoudige maar egte lewe deel. Hierdie vreedsame bestaan word
| |
[pagina 362]
| |
verstoor deur die Anglo-Boereoorlog (vgl. Celliers se Martjie) waarvan die lyding plek-plek, soos dit die gesin van die blankes raak, deel van haar vertelling uitmaak. Ten spyte van hierdie gewelddadige ingryp in die bestaan van ongekornpliseerde mense gaan die lewe egter onverwoesbaar voort en lei dit uiteindelik tot 'n gelukkige afloop aan die slot. Moeder Poulin is die vertelster in die verhaal en deur haar optrede as moeder, opvoedkundige en dienende mens word die wysheid van die Basotho, soos beliggaam in die talle spreuke en lewenslesse, 'n integrerende deel van die roman. Daarby is die enigsins eensydige perspektief waaruit sy haar verhaal vertel, juis aanvaarbaar omdat dit regstreeks by haar siening en insig aansluit en omdat die skrywer hom daarvan weerhou om ander gedagtes in haar mond te lê of haar as spreekbuis te gebruik. Die belangrikste besware wat teen die roman geopper kan word, is die effense insinking in die middel, waar die vertelster minder regstreeks met die handeling te make het en te veel op rapporte moet steun (vgl. veral die hoofstukke ‘Koors’ en ‘Konsentrasiekamp’) en die ooreising van die Pietafiguur, wat as moeilike seun, swierige en verwaande jongman en ‘joiner’ te veel in die rigting van die tradisionele romanskurk beweeg. Daarby is die onwettige teregstelling van Pieta deur Diel en Jannie (hoofstuk V) hoogs onwaarskynlik as 'n mens die waardes van hulle behoudende en konserwatiewe opvoeding in ag neem. Ten spyte van hierdie besware is Moeder Poulin 'n besondere roman deur die volgehoue verteltegniek, die karakterisering van die Poulin-figuur en die ordening van die verhaal deur die hoofstukindeling. Minder gelukkig was Franz met sy ander twee romans, waarin hy wesentlik dieselfde idilliese leefwyse en die goeie verhouding tussen wit en swart uitbeeld, al is hulle tog nie sonder verdienste nie. Rabodutu die eensame (1954) vertel die verhaal van 'n jong man, Rabodutu, wat ná die dood van sy ouers op 'n afgeleë plaas in die Bosveld alleen met Bantoe-bediendes agtergelaat word. By hulle ontstaan dan die vrees dat daar uiteindelik verbastering sal plaasvind en ‘mensmuile’ gebore sal word (vgl. ‘Pundudu, die brandwag’ uit Moloisi die wyse), iets wat hulle laat besluit om 'n wit vrou vir Rabodutu te soek. Hierdie poging slaag uiteindelik en die slot eindig, soos Moeder Poulin, met 'n dubbele huwelik. Die basiese beswaar teen die roman is dat die problematiek wat by die aanvang gestel word, slegs 'n skynproblematiek is en dat die gevaar wat die gryskoppe van die stam sien, deur elke optrede van Rabodutu in die loop van die roman geloënstraf word. Daarby ontwikkel die verhaal aanvanklik uiters stadig en dien die ‘Nkutu’-gedeelte slegs as 'n reeds te lang inleiding tot die eintlike gebeure, terwyl die verdere verloop telkens op toevallige ontmoetings en terloopse vriendskappe tussen ou bekendes steun. In teenstelling tot Moeder Poulin kon die verteller in hierdie verhaal hom nie self tipeer nie, omdat hy as karakter nooit werklik in die roman optree nie en die intieme kennis waaroor hy wel beskik, onwaarskynlik klink. In deel II probeer Franz hierdie gebrek verdoesel deur vertelling en dialoog af te wissel, maar dié tegniek werk verwarrend op die leser in. In Kobus (1956) verskuif die aandag van die afgeleë plaas na 'n plattelandse dorp waarheen Kobus, die seun van 'n hoofman, gaan om by witmense te werk en in die leefwyse en gewoontes van die blankes ingelei te word. In 'n sekere sin moet Kobus dus 'n inisiasieproses ondergaan, en hierdeur sluit Franz aan by Van Bruggen se Ampie, Mikro se Toiings-trilogie en gedeeltelik ook F.A. Venter se Swart pelgrim met Kolom as die begeleier en inisieerder wat Kobus | |
[pagina 363]
| |
moet touwys maak en baas Hendrik as die patroneerder wat sy belange op die hart dra. Met so 'n problematiek kon Franz iets nuuts aan die tradisie van die ontwikkelingsroman toegevoeg het. Die probleem is egter dat die vertellende hoofpersoon hom telkens self feitlik as 'n karikatuur sien en dat die tendens op die lange duur steurend raak, veral omdat die veroordeling en afwysing in die mond van 'n onbeskaafde mens gelê word wat weens sy beperkte ervaring en gebrekkige kennis nie die Bantoe se rede tot ontevredenheid kan verstaan of perspektiveer nie. Die oorblywende vier publikasies van Franz toon geen vooruitgang op sy werk nie en kan eerder as insinkings gesien word. In Dillo (1956) word die kinderjare van 'n sendelingseun en sy intieme omgang met die Basotho en hulle liedere en verhale en sprokies vertel, maar die verhaal is slegs 'n dekmantel vir die inligting oor die Sotho-geskiedenis en die invlegting van sprokies. Masilo se oorwinning (1957) is 'n blote spanningsverhaal oor die stryd tussen twee Bantoestamme, terwyl Twee wêrelde (1957) - die enigste werk van Franz wat buite die Bantoe-wêreld staan - oor die verdeeldheid onder die Afrikaners tydens die Rebellie van 1914 handel. In Modjadji (1957) (vgl. die vroeëre vertelling deur Eugène N. Marais in Sketse uit die lewe van mens en dier en die sonnette-reeks in Die koue tye van S. Ign. Mocke) neem Franz die lewe van die legendariese reënkoningin as boustof vir 'n drama, maar die trae handeling en die afwesigheid van enige werklike konflik laat die geheel in 'n stuk geskiedenis in dialoogvorm ontaard. Uit Sotho vertaal hy ook die indrukwekkende ‘Loflied van die Alskepper’ (Standpunte, V: 2, Desember 1950). Die bekoring van Franz se werk berus dus in hoofsaak op die besondere verteltegniek en die uitbuiting van die Sotho-idioom wat daarmee gepaard gaan. Deurdat hy hierdie tegniek suiwerder hanteer en in romans van groter omvang aanwend, moet sy werk as 'n belangriker bydrae as dié van Schoeman beskou word. Die nadele van dié tegniek is dat die talle woordverklarings soms hinderlik-eksegeties aandoen en dat die hoofkarakter nie altyd alles kan waarneem wat hy of sy moet vertel nie. Saam met hierdie tegniek lei die wêreld van Franz (die primitiewe omgewing in stamverband, die afgesonderde sendingstasie, boereplaas of plattelandse dorp, die situering van die gebeure in 'n idilliese tydperk uit die verlede en die liefdevolle vader-kind-verhouding tussen wit en swart) op die lange duur tot 'n eenselwigheid, al kon hy binne hierdie beperkinge tog 'n aantal voortreflike werke lewer.
|
|