Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 347]
| |
V. Mikro en die voortsetting van die humorrealismemikro is die skrywersnaam van christoffel hermanus kühn, wat op 8 Oktober 1903 in die distrik Williston gebore is, sy skoolopleiding op sy tuisdorp, Robertson en Carnarvon ontvang en daarna 'n Landboukursus aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Aanvanklik gee hy onderwys op Kuilsrivier en Ritchie, wy hom van 1944 tot 1949 voltyds aan sy skryfwerk, word daarna lektor aan die Oudtshoornse Opleidingskollege (1950-1955), behartig die redaksie van Boerdery in Suid-Afrika in Pretoria (1956-1960) en dien tot met sy uittrede in 1964 as hoofleier van die Landsdiensbeweging in die Departement van Landbou. Vir Toiings en Pelgrims ontvang hy in 1936 die Hertzogprys vir Prosa, vir Die porseleinkat die W.A. Hofmeyrprys in 1956 en vir Die jongste ruiter die Scheepersprys vir Jeuglektuur (1957), terwyl hy in 1961 ook 'n toekenning van die Nasionale Boekhandel verwerf. Op 17 April 1968 is hy in Somerset-Wes oorlede. Met sy nie minder nie as een honderd en elf boeke is Mikro nie alleen een van die vrugbaarste skrywers wat die Afrikaanse letterkunde nog opgelewer het nie, maar toon hy ook 'n groot verskeidenheid wat genres betref. Afgesien van 'n aantal (oor die algemeen swak) gedigte in Die Huisgenoot van 1930-1931 beoefen hy die roman (-trilogie), novelle, skets, ‘skets-novelle’, kortverhaal, drama, jeugverhaal, speurroman, spanningsverhaal en outobiografie. Met boeke soos Kompartement 1001E (1939), Daar was nege (1944), Die geheimsinnige M9 (1945) en Moord na ete (1948) lewer hy - ná die werk van Langenhoven, Brand en Leipoldt - 'n belangrike bydrae tot die tradisie van die Afrikaanse speurverhaal, al word die intrige van tyd tot tyd te resepmatig en nie veel meer as 'n vernuftige rondstoot van papierkarakters nie. Teen die agtergrond van die vroeë jare van die Kimberleyse diamantvelde, die Witwatersrandse goudontdekkings, die Kaapse Oosgrens in die eerste kwart van die negentiende eeu en veral die Anglo-Boereoorlog skryf hy 'n aantal spannende en boeiende avontuurverhale vir die jeug, soos Die ruiter in die nag (1936), en die vervolg daarop, Kaptein Gereke (1937), Boerseun (1943), Wagters in die nag (1950), Die jongste ruiter (1954), Die wit arend (1955), Die eensame wag (1956), Die Kleingeld-trilogie (1956-1958), Die bont takbok-drieluik (1957-1958), Die jongste veldkornet (1963) en Die poskoetsrower (1965). In die Sias en Mias-reeks (1960-1968) dien die spannende en dikwels vermaaklike avonture van twee seuns as boustof vir 'n veertiental jeugverhale, terwyl hy ook stories vir die kleiner kind skryf. In die dertigerjare publiseer hy drie dramas, wat hy in die vyftiger- en sestigerjare met 'n verdere vier opvolg, meestal (flou) satires op politieke ambisies en maatskaplike standsverskille. Sy belangrikste en betekenisvolste bydrae tot die Afrikaanse literatuur lewer
| |
[pagina 348]
| |
Mikro egter op die gebied van die roman en die novelle. In aansluiting by en as voortsetting van Jochem van Bruggen se humorrealistiese werke met hul episodiese struktuur en tweedimensionele karakters skryf hy in die dertiger- en veertigerjare die Toiings-trilogie, waarin hy die bestaan en gedrag van die plattelandse Kleurling as boustof neem en waarin hy - soos trouens ook in enkele korter sketse en novelles- die leefwyse van die hoofpersoon en veral die groepe op die plaas en in die lokasie vir die eerste keer in Afrikaans oortuigend uitbeeld. Waar hy in sommige latere werke te ‘wysgerig’ oor die Kleurling raak of die aktualiteit van die rasseproblematiek wil voorstel, word die verhaal en karakterisering verdring deur die moralisering en verkondiging van idees. In die vyftigerjare skryf hy, in die trant van die kleindorpse verhaaltradisie, 'n reeks ‘skets-novelles’ oor die mense van Gonnakolk en Soetwater, waarin hy o.m. die lewe en lotgevalle van Meraai Botes aanskoulik uitbeeld. In teenstelling tot die kleinrealisme van die meeste skrywers voor hom slaag Mikro egter daarin om in sy beste stukke 'n nuwe element tot die tradisie by te dra deurdat hy met die doelbewuste manipulering van die karakters as marionette en met die geestigheid en oordrywings iets fantasties, onwerkliks, soms selfs sprokiesagtigs, aan die realistiese verhaal toevoeg. Daardeur word dit bo blote werklikheidsbeelding verhef. Mikro se eerste werk is 'n tweetal onbeduidende toneelstukke wat as Diplomaties (1930) en Die grootste genot (1931) gepubliseer word. In 1936 volg hy dit op met Net een dag of Die vakansiegangers - soos die eerste twee in drie bedrywe - waarin hy op onoortuigende en geforseerde wyse wil aantoon hoe 'n ingrypende gebeurtenis 'n radikale ommekeer by 'n groep mense kan teweegbring. Sy eerste belangrike werk op die gebied van die roman lewer Mikro met die trilogie Toiings (1934), Pelgrims (1935) en Vreemdelinge (1944), waarin hy episodes gee uit die lewe van 'n bruin skaapwagter op 'n idilliese plaas met 'n blanke boer as mentor. Van tyd tot tyd vertrek die hoofpersoon ook na die wêreldser bestel van die lokasies, waar hy hom meestal sonder die toesig van 'n patronerende figuur aan die verleidings van drank en seks oorgee, alhoewel hy altyd na die vertroude landelike tuiste terugkeer en algaande, naas sy soektog na geluk wat vir hom in die beskermende liefde van 'n vrou beliggaam word, tot die besef kom dat die mens slegs 'n pelgrim en vreemdeling op aarde is. Terwyl Von Wielligh se uitbeelding van die nie-blanke tot 'n optekening van gewoontes en taaleienaardighede beperk bly en
| |
[pagina 349]
| |
D.F. Malherbe en C.M. van den Heever in werke soos Die meulenaar en Somer die bruinman tot potsierlike bykarakter reduseer, stel Mikro in sy trilogie die Kleurling vir die eerste keer sentraal en laat val hy - naas die gebruik van geestige idiome en segswyses en die uitbeelding van spesifieke gewoontes - ook die aksent op die geesteslewe van sy karakters, al bly dit dan - binne die kader van die Toiings-figuur - hoofsaaklik 'n naïewe belewing van sekere religieuse vraagstukke. Wat die bou en wyse van behandeling betref, sluit Mikro regstreeks aan by Jochem van Bruggen se humorrealisme, veral soos dit tot uiting kom in die Ampie-trilogie. Soos die Ampies is die Toiings-trilogie wesentlik episodiese verhaalkuns wat van toneel tot toneel (Kersaand, ploeëry, doop, tweede huwelik, voetbalwedstryd e.d.m.) en van plek tot plek (Kareeplaas, Blikkiesdorp, Rooiwal) wissel, telkens met 'n ander karakter (Siena, Griet, Drieka, Dawid, Jannetjie) wat in die sentrum van Toiings se aandag staan. Soos Kasper Booysen vir Ampie is Fanie Naudé (in Vreemdelinge die sendeling Herklaas van der Vyver) die blanke leenheer wat vir Toiings die Christelike ideaal leer en hom op die regte pad hou, terwyl die wêreld van Kareeplaas (vgl. Booysen se plaas) vir die hoofkarakter die nodige ankerplek is en die sielerus verskaf wat hy in die bose wêreld van Blikkiesdorp en Rooiwal (vgl. Ampie se besoek aan Blikkiesdorp en later aan die diamantvelde) moet ontbeer. Soos Ampie telkens deur 'n reeks listige karakters verlei raak terwyl 'n aantal goeie mense hom teen die aanslae van bui te probeer beskerm, word Toiings in sy swerftog deur die lokasie ook deur 'n reeks bose en goeie ‘sinnekens’ begelei, o.a. verteenwoordig in Daat Plakkies, Helmet, Bakkies Spyker en Abraham Jollie enersyds en oompie Dissel en tant Bet andersyds. Wesentlik berus die spanning, soos vroeër reeds by Van Bruggen en Van den Heever, op die teenstelling tussen 'n positiewe, rustige en gelukkige landelike leefwyse teenoor 'n nie-landelike bestaan wat deur die bekoring van vrou en drank verleidelik lok. In al drie die romans is Toiings die hoofkarakter deurdat die gebeure om hom sentreer en die handeling binne-in sy bewussyn geplaas word, al verskuif dit plekplek na Fanie Naudé, Jannetjie of Dawid en al gee die verteller soms onnodige informasie of regstreekse kommentaar waaruit 'n mens kan aflei dat hy op 'n ander vlak as dié van sy karakters staan. Van die drie romans is Toiings die geslaagdste. Struktureel toon dit die hegste eenheid deurdat haas elke hoofstuk 'n afgeslote geheel vorm, Toiings se terugkeer aan die einde ná 'n periode van uitspattighede 'n sikliese element aan die roman gee en die verhaal by wyse van drie sentrale gebeurtenisse (die dood van Siena, die mislukking van sy huwelik met Griet en die siekte van Dawid) wat motories funksioneer, telkens in 'n bepaalde rigting gestoot word. Die dood van Siena, wat tot in daardie stadium sy leidster was, bring 'n persoonlike krisis in sy lewe en lei tot sy vertrek na Blikkiesdorp om vir Dawid 'n nuwe moeder te vind. As die huwelik met Griet 'n mislukking blyk te wees, jaag hy haar van die plaas af weg en lei dit tot sy geestelike verval as hy hom in die lokasie aan vrouens en drank oorgee, die herinnering aan die gestorwe Siena vervaag en die dwaallig van Drieka sy lewe begin oorheers. Eers deur die ernstige siekte van Dawid (vgl. Ampie: Die kind) word hy gelouter en ontdek hy dat Jannetjie, wat al die tyd vir hom gewag het, maar net soos Siena is. Aan die einde neem hy haar as vrou terug na die stilte van Kareeplaas. In vergelyking met Toiings is Pelgrims (soos Ampie: Die meisiekind) skraler wat materiaal betref en word die verhaal - soos A.J. Coetzee | |
[pagina 350]
| |
aangetoon het - verweef rondom drie basiese motiewe: Toiings se verbondenheid aan die gestorwe Siena en sy verhouding tot sy nuwe vrou, sy strewe na groter besit en rykdom ten tyde van 'n knellende droogte en sy besef van die verganklikheid van alles en van die mens se pelgrim-wees op aarde. Opvallend is die feit dat Toiings ook hier 'n periode van aardse uitbundigheid beleef as die herinnering aan Siena en die gebondenheid aan Jannetjie vervaag, terwyl Gasie Flink se stroois, soos Blikkiesdorp in Toiings, die plek van onheil is. Soos die aarde toenemend uitdor en die skape vrek, ontwikkel daar ook 'n geestelike droogte by Toiings, iets wat tot 'n einde kom as die beeld van die gestorwe Siena weer met 'n skok tot hom terugkeer en hy besef dat die strewe na rykdom hom tydelik verkeerde waardes laat aanhang het. Die wêreld van die roman is hier wel yler as in Toiings, maar dit het die voordeel dat die spanninge deur 'n kleiner getal karakters effektief gedra word, al voel 'n mens dat die ontknoping, veral die geboorte van Jannetjie se kind, nie genoegsaam in die verhaal voorberei word nie. In Vreemdelinge verskuif die aksent na Dawid, Toiings se seun, wat slegte neigings begin ontwikkel, deur Fanie Naudé van die plaas weggejaag word en uiteindelik op Rooiwal in die tronk beland, 'n gebeurtenis wat Toiings daartoe bring om tydelik op die dorp te gaan woon om sy seun te help. In vergelyking met die ander twee dele is Vreemdelinge minder heg gekonstrueer. Sowel Dawid se aanvanklike oorgawe aan die bose as sy skielike herstel nadat hy uit die tronk ontslaan word, is nie oortuigend gemotiveer nie, en Mikro laat hier die kans verbygaan om die motief van Katryn se liefde as 'n deurslaggewende faktor vir Dawid se regenerasie te benut. Daarby laat die aksent op die sendeling en sy gedagtes oor die bearbeiding van die gemeente die roman te veel wegswaai van Toiings as sentrale karakter, terwyl die perspektiefverskuiwing na Dawid - in die besonder in hoofstuk 19 - die eenheid van die roman versteur en die ongeluk van Dawid by die meul te veel aan die slot van Die meulenaar van D.F. Malherbe herinner. Die idee van vreemdelingskap wat hier 'n verdere uitbouing van die pelgrimsgedagte is, lei tot 'n kunsmatige en geforseerde verdieping van die verhaal en is nie genoegsaam veranker in die romangebeure nie. 'n Vraag wat by die lees van die trilogie ontstaan, is of ons hier te make het met drie outonome romans en of die tweede en derde deel nie net verdere hoofstukke van die Toiings-verhaal vorm nie. Pelgrims en Vreemdelinge steun op gegewens uit Toiings en in albei gevalle begin die latere romans 'n bietjie stroef omdat die verteller die nodige inligting in verband met die karakters en situasie opsommenderwys gee, al slaag hy daarin om deur middel van die dialoog en die gerapporteerde gedagtes van Toiings die leser betreklik gou mee te voer. Ten spyte van die gedeeltelike verskuiwing van die aksent na Dawid in die derde deel neem Toiings in die trilogie die sentrale posisie in. Alhoewel hy deur sy segswyse en die geestige situasies wesentlik 'n tipe is wat geen ontwikkeling toon nie, word hy tog op enkele plekke (bv. by Siena se dood en Dawid se siekte in Toiings, die besef van sy foutiewe optrede in Pelgrims en sy reaksie by Dawid se dood in Vreemdelinge) verdiep, sodat daar sprake van 'n derde dimensie is. In vergelyking met hom het die ander figure hoofsaaklik die funksie om die wêreld van Toiings te vul, om hom te help of te verlei en om die geestigheid deur hulle aandeel te versterk. Afgesien van die Toiings-trilogie gebruik Mikro ook in 'n hele paar ander romans, verhale en novelles die wêreld van die bruinman as boustof. Rou rieme (1935) bevat | |
[pagina 351]
| |
twee verhale oor die Kleurlinglewe, waarvan ‘Ou Sampie van die Rôeveld’, flitse uit die latere lewe van die onverskrokke figuur wat terloops in Toiings sy verskyning maak, die beste is. In Oeslande (1938) gee Mikro ook 'n beeld van 'n groep Kleurlinge, maar die handeling is gekonsentreer op die idealistiese pogings van 'n blanke sendeling om hulle op te hef. Die karakters word egter te oppervlakkig voorgestel, sodat die botsing tussen blank en bruin tot 'n momentele uitbarsting vervlak en nie tot 'n wesentlike konflik tussen twee wêrelde uitgebou word nie. Op 'n hoër vlak staan Huisies teen die heuwel (1942), waarin die lotgevalle van die verskillende gesinne op die plaas van 'n Bolandse wynboer tot 'n mosaïekstruktuur lei en plek-plek 'n aangrypende beeld van hierdie mense se vrees vir die dood en oorgawe aan die drank word, al gee die karige verhaal aan die geheel 'n trae gang en al is die simboliek van die populierbos 'n bietjie gesog. Soos Huisies teen die heuwel is Stille uur (in dieselfde bundel) sketsmatig opgebou en gee dit 'n beeld van 'n plaasgemeenskap met die sendeling in hierdie geval as 'n enigsins swak mentor. Oor die algemeen is dit egter geslaagder as die meeste ander werk van Mikro uit hierdie jare deurdat die verhaal mooi saamgetrek word op die lewe en leed van Boetsap, die koster van die gemeente, terwyl Mikro se humor en geestigheid een van sy hoogtepunte in afdeling 5 van die verhaal bereik met die sendeling se besoek aan Koos Makatees, die man met die twee vrouens. In drie ander werke oor die bruinmens het Mikro die tipering van groepe opgeoffer ter wille van regstreekse lering en die verkondiging van idees. In Die donker stroom (1946) wil hy waarsku teen die ligsinnige hantering van kleurvraagstukke, maar die teenstellings tussen die groepe word geforseer en die simboliek van die donker stroom opsetlik uitgewerk, terwyl die roman as geheel in tendenswerk verval. In Die koperkan (1959) wou Mikro die skrynende toestande wat as gevolg van die apartheidswetgewing ontstaan, in die ervarings van 'n Kleurlingonderwyser en -digter beliggaam, maar die situasies word onbeholpe gehanteer, die gesprekke monotoon afgestem op ras en kleur en die karakters blote spreekbuise in diens van bepaalde idees. Daarby gee die herhaalde perspektiefverskuiwings iets onrustigs aan die struktuur van die geheel en is die roman as sodanig onoortuigend deurdat die menslike leed van die hoofpersoon gestalte vind in gedigte wat - ten spyte van die ‘gesaghebbende’ oordele van kriticiliterêr gesproke geen ernstige aandag verdien nie. Ewe onoortuigend is Osse van klei (1969), waarin die bitterheid van die Kleurling hoofsaaklik by wyse van 'n eindelose gepraat en te min deur handeling voorgestel word. Intussen het Mikro - in aansluiting by die werk van Van Bruggen, Jonker en Johanssen - ook die wêreld van die verarmde Afrikaner of die leefwyse van die plattelandse mens in sy werk betrek. In Rou rieme (1935) bundel hy 'n viertal verhale oor dorpstipes wat deur die onbeholpe struktuur nie bevredig nie. In Huurlinge (1940) behandel hy die probleem van 'n onderwyser in 'n kleindorpse gemeenskap,
| |
[pagina 352]
| |
maar die roman misluk as gevolg van gebrekkige karakterisering en hinderlike toeligting deur die verteller. In Basjan Bastiaanse (1944), waarin Mikro, naas die lewe van die hoofpersoon, ook die ontwikkelingsgang van die Afrikaner in die twintigste eeu wou uitbeeld, is die agtergrond te ruim vir die simplisties voorgestelde hoofkarakters. Nog swakker is die godsdienstige roman Vier mense (1944), waarin die mensbeelding soms potsierlik aandoen. Op 'n hoër vlak is Klaradynstraat (1947), waarin die lewe van die verarmde Afrikaner in die stad as boustof dien, al gee die afwesigheid van 'n sentrale verhaal iets fragmentaries aan die geheel. Tematies hieraan verwant is Ons lampe gaan dood (1949), wat veral op die vlak van die karakterisering 'n mislukking is. In Môre is dit nuwemaan (1959) wil Mikro die mens se reaksie by die uitbreek van 'n epidemie en voor die aangesig van die dood uitbeeld, maar die hele situasie word te oppervlakkig gehanteer en die satire te simplisties aangewend. Geslaagder is 'n Span van 20 muile (1965), wat op twee tydsvlakke afspeel en oor 'n landelike gemeenskap handel wat deur die totstandkoming van 'n nuwe goudmyn sy tradisionele leefwyse verloor. Dit is egter opvallend dat Mikro nie met één van hierdie werke 'n wesentlike bydrae kon lewer nie, waarskynlik omdat hy meestal nie - soos in die geval van die Toiings-trilogie - 'n afstandelike verhouding tussen hom en sy stof behou nie en omdat die verteller telkens as kommentator, pleitbesorger en moraliseerder regstreeks in die romangebeure intree. Dit is juis deur die besondere aanwending van die vertellersrol dat Mikro in die vyftigerjare met 'n hele aantal van sy novelles en ‘skets-novelles’ 'n verrassende vernuwing in sy werk bring en iets aan die tradisie van die kleinrealisme van dorp en plaas in die Afrikaanse literatuur toevoeg. Hierdie reeks novelles, waarop Elke huis het sy kruis (1946; radiosketse deur Marie Schoeman verwerk) 'n klein prefigurasie was, word gebundel in Nog geen herberg (1949), Lente (1952), Die wa-as (1952), Die houtswaan (1954), Die porseleinkat (1955), Die nooiensuil (1957), Gonnakolk (1957), Die weduwee Meraai (1959), Drie oroue en 'n hond (1961) en Kinders van Meraai (1962). Nie al die novelles is op dieselfde bevredigende peil nie. In Nog geen herberg bundel Mikro twee stukke oor die lewe van 'n predikant en 'n toneelspeler onderskeidelik, maar die idee van 'n begrypende liefde in albei se lewens lei tot 'n hinderlike strekking in die verhale, terwyl Lente, wat beelde uit die lewe van 'n opgroeiende dogter teen die agtergrond van 'n Bolandse wynplaas bevat, plek-plek te sentimenteel ontwikkel word. Die verhale in Drie vroue en 'n hond gee ook 'n beeld van die bestaan van die | |
[pagina 353]
| |
eenvoudige dorpstipes, maar soms - soos in die titelstuk -lei die gebeurtenisse tot 'n skokkende ontknoping wat nie alleen nie deur die rustige, gemoedelike inset in die vooruitsig gestel word nie, maar ook aan die slot van die skrywer 'n onaanvaarbare uitbouing van die vertellersperspektief vereis en die indruk van 'n epiloog maak. Daarteenoor is die verhale oor Gonnakolk en Soetwater wat in die ander bundels verskyn, van die beste werk wat Mikro gelewer het. In hierdie ‘skets-novelles’ - met Meraai Botes as die sentrale karakter in die Gonnakolk-verhale - rig die verteller hom telkens tot die leser om die milieu te skets, hom direk aan te spreek, kommentaar te lewer of te interpreteer. Op dié wyse stel hy die milieu - in die trant van Dylan Thomas se Under Milk Wood - amper soos 'n legkaart voor en word 'n onwerklike dorp opgebou waarin die verteller kan doen wat hy wil. Daar bestaan dus geen afstand tussen die verteller en die werklikheid nie, sodat hy doelbewus die wêreld onreëel kan maak en tot 'n marionettespel kan vervlak, al kan hy met die ‘liewe leser’ -procédé 'n beroep op die leser doen om hom sy volledige vertroue te skenk en die gekonstrueerde wêreld van die novelle te aanvaar. Ook met die voorstelling van die figure distansieer die verteller sy karakters van die werklikheid en staan hy tussen sy persone en die leser om hulle kunsmatigheid, hulle semirealiteit amper, te beklemtoon. Binne so 'n wêreld is die naïwiteit van die verteller, bv. sy voorstelling van die karakters soos die verhaal vorder en sy strukturele ‘oorslane’, heeltemal aanvaarbaar en word die leser algaande 'n vertroueling van die verteller en deel hy bepaalde kennis met hom. As argitek van die wêreld van Gonnakolk en Soetwater en as vertroulike metgesel van die leser is die verteller 'n organiese noodsaak vir die novelles en beklemtoon hy telkens die onwerklikheid van die situasies waaraan hy die leser voorstel. Met die Gonnakolk- en Soetwater-novelles (wat as Mattewis en Meraai in 1971 voortreflik deur P.G. du Plessis vir die toneel verwerk en met groot sukses deur TRUK opgevoer is) bring Mikro dus 'n nuwe nuanse in die kleindorpse realisme deurdat hy nie slegs 'n beperkte stuk werklikheid uitbeeld nie, maar deur die manipulering van figure, die fantastiese en selfs sprokiesagtige 'n belangrike nuwe faset daaraan toevoeg. Soms word die siening te karikaturaal of oordrewe (‘Hier kom Gawie Jordaan’ in Die houtswaan), soms skort daar iets aan die struktuur (soos in ‘Liewe (Beste) Maans’, waarin die briefvorm en die liefdesraamwerk nie essensieel vir die Soetwater-wêreld is nie) en soms is die gebeure te wydlopig en word die simboliek onhelder (soos in ‘Die wa-as’). In sy beste novelles bereik Mikro egter iets besonders, soos in die mooi, ingehoue, fyn gang van die gebeurtenisse in ‘Nag, Mattewis’ (Die wa-as), die verlange van die mens na iets anders en mooiers as die gewone bestaan in ‘Soppenhoef’ (Die porseleinkat) en Meraai se strewe om ná sy dood met Mattewis kontak te maak in ‘Tot siens, Mattewis’ (Die weduwee Meraai; vgl. hiermee die gesprekke van Toiings by Siena se graf). Ongelukkig lei die lang reeks ‘skets-novelles’ tot 'n herhaling van dieselfde tipe probleemstelling ('n moeilikheid wat oorbrug moet word) en boustof (die klein probleme | |
[pagina 354]
| |
van huwelik, kinders, sterftes e.d.m.) wat op die duur 'n sekere eenselwigheid en resepmatigheid in die hand werk. Daarby is Langenhoven se opbou van so 'n realisties-denkbeeldige wêreld in werke soos Sonde met die bure en Herrie op die oú tremspoór boeiender deurdat die geestigheid met behulp van oordrywings en plekplek absurde situasies bereik word wat die gemoedelikheid van Mikro oortref. By die oorblywende gedeelte van Mikro se oeuvre hoef ons nie lank stil te staan nie. In die vyftiger- en sestigerjare begewe hy hom weer op die gebied van die drama met die koorspel Die dae van ons jare (1956), wat met gebruik van kore en figure en die aanwending van tekste uit die Bybel en Psalms 'n beeld van die menslike lewe wil gee. In Die rooi lêer (1961), T in die blou kamer (1963) en Twee goue beddens (1963) spot hy met die amptenaredom, snobistiese damesklubs en politieke ambisie, maar in al drie die gevalle is die satire 'n bietjie goedkoop en raak die spot te eenders en eenselwig. Die novelles en verhale wat nog in die sestigerjare van hom verskyn, wissel meestal wat gehalte betref. In Die dames sestien (1962) bundel Mikro twee novelles wat ten spyte van 'n kwasie-diepsinnigheid tog oppervlakkig aandoen, terwyl die novelle ‘Konings, boere en narre’ in Drielaag (1963) niks meer as 'n oppervlakkige verhaal oor oppervlakkige mense is nie. In die bundel Dankie Adrianos (1965) is daar 'n tweespalt tussen 'n wrang realisme en begrypende menseliefde. Op 'n hoër vlak is die kortverhale in Waar die bokmakierie fluit (1966), waarin die mens verlang na 'n plek waar hy sy suiwerheid kan behou en idealisme kan uitleef. Dieselfde sprokiesagtige sfeer en mooi naïwiteit kom ook voor in Droomberg (1967), waaruit die geluksverlange van die mens andermaal spreek. By dié soeke na skoonheid, geluk, liefde en suiwerheid sluit ook die drie novelles in Die winkelvenster (1967) aan. In Hy koop toe vir hom 'n pen (1968) skryf Mikro sy outobiografie in die enigsins kunsmatige vorm van 'n derde-persoonsvertelling. Afgesien van 'n mooi weergawe van sy jeugjare word die boek ontsier deur 'n byna obsessionele sug om erkenning en 'n sterk gevoel teen die kritici wat sy werk blykbaar nie na waarde geskat het nie. In die Afrikaanse literatuur is Mikro dus veral van belang as skepper van die Toiings- en die Meraai-figuur en vir die twee wêrelde (Kareeplaas, Rooiwal en Blikkiesdorp in die geval van Toiings; Gonnakolk in die geval van Meraai Botes) waarin hulle beweeg. Wat eersgenoemde betref, sluit hy regstreeks aan by Van Bruggen. Deur die boustof bring hy wel iets nuuts in die humorrealistiese tradisie en oor die algemeen toon sy verhale 'n sterker komposisie, al is Van Bruggen oortuigender in sy uitbeelding van bepaalde insidente uit Ampie se lewe. Met die Gonnakolknovelles en die fantasie-wêreld bring Mikro 'n nuwe nuanse in die kleindorpse realisme in Afrikaans, maar deur die opbou van 'n ‘onmoontlike’ denkbeeldige wêreld op die basis van 'n stuk realiteit is Langenhoven se werk oortuigender.
| |
[pagina 355]
| |
Daarby mis Mikro, ten spyte van pittige segswyses en mooi vondste, ook Langenhoven en Van Bruggen se taalvermoë en doen sy werk - waarskynlik as gevolg van 'n oorproduksie oor baie jare - dikwels onversorg aan, terwyl hy deur die herhaalde hantering van dieselfde boustof en tegnieke op die lange duur sy eie epigoon word. |
|