Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 296]
| |
Hoofstuk 4
| |
[pagina 297]
| |
I. Voortsetting van die romantiese tradisie en die intrigeverhaalAan die begin van die vierde dekade vind die romantiese verhaal met 'n historiese agtergrond sy voortsetting in die werk van anna johanna dorothea de villiers (1900-1979), wat in Sterker as die noodlot (1930) die liefdesgeskiedenis van Dora Meyer teen die negentiende-eeuse milieu van die Kaap met sy verengelsingsbeleid en die tipiese plattelandse lewenswyse laat afspeel, al is die historiese dimensie ondergeskik aan die enigsins meganiese hantering van die noodlotsidee wat reeds in die titel gegee word. In haar latere romans, Die wit kraai (1938) oor die Voortrekker Hans Dons, Hercule des Prés (1947) oor die Hugenote, Purper daeraad (1952) oor die volksplanting aan die Kaap en Die storm trek verby (1958) oor die Transvaalse Burgeroorlog van 1864, oorheers die rekonstruksie van die bepaalde periode in so 'n mate dat die karakteruitbeelding en bou van die verhaal verwaarloos word. Op kultuurhistoriese terrein doen Anna de Villiers heelwat navorsingswerk, o.m. in Vrouegalery (1962) en Barrevoets oor Drakensberg (1975), laasgenoemde oor die lewe van agt Voortrekkervrouens. Naas Anna de Villiers word die historiese roman beoefen deur miemie-louw theron (skrywersnaam van maria catharina elizabeth theron, 1898-), wat in Op eie wieke (1931) die heropbou van die afgebrande plase na die Anglo-Boereoorlog as boustof het, terwyl sy in 'n Wiel binne-in 'n wiel (1935) die ervarings van die hooffigure oorvertel, iets wat tot lang uitweidings oor die geskiedenis en vlak karakterisering lei. Naas heelparty jeugverhale, werke oor die geskiedenis van Tulbagh en die Groot Trek, 'n toneelstuk en stigtelike lektuur beweeg sy in Die reënboog in die wolke (1940) in die rigting van 'n sosiale roman met die armblankevraagstuk as boustof. Die suiwer liefdesverhaal met geringe karakterontwikkeling word in die dertigerjare beoefen deur elizabeth fouché vermeulen (1897-1978). Ná haar debuut, Vlaktes en sterre (1932), waarin die enkellynige figure nog tot die tradisionele teenstelling tussen helde en skurke lei, behandel sy in die trilogie Temmers van die Noordweste (1941), Stormlaagte (1943) en Elsa (1944) die lewe van 'n pioniersgeslag in die jare 1833-1934. Van hierdie romans is die eerste met sy bevredigende karakterisering die geslaagdste, terwyl die uiterlike gebeure in die ander twee oorheers. Dit geld ook vir haar tweede trilogie (Towergoud, 1954, Fata morgana, 1956 en Reënboog in die skemering, 1958) en vir haar romans Geluksoord (1945), Kringloop (1964), Waters van betowering (1966) en Die lugspieëling (1971), waarin die dialoog oor die algemeen veel te wense oorlaat en die nodige motivering vir handeling ontbreek. In Kind van die veld (1933) behandel Helen Blackmore die probleem van 'n meisie wat verskeur word tussen haar liefde vir haar Afrikaanse vader en haar Engelse moeder wat Suid-Afrika nie as land kan aanvaar nie, terwyl sy in 'n Goedhartige man (1935) oor die leed van die eenvoudige lewe skryf en met verskeie verhale (o.m. met Toe Liesbet nog klein was, 1928) 'n bydrae tot die kinderlektuur lewer. In Ou Boland (1939) gee Recht Malan teen die agtergrond van 'n resepmatige liefdesgeskiedenis 'n kultuurhistoriese beeld van die negentiende-eeuse lewe op 'n Bolandse plaas. Oor die geskiedenis van die Groot Trek skryf ook Lulu Brewis in die kinderverhaal Niko die dromer (1935), terwyl sy in die roman Marietjie (1932) van haar | |
[pagina 298]
| |
karakters blote spreekbuise vir haar beskouings oor kuns en opvoeding maak. Afgesien van die sentimentele Botsing (1941) doen sy mee aan die avontuurverhaal in Die spookhuis (1939). In Pagal (1932) verweef J. Gysbert Slier die wedervaringe van 'n aantal Boerekrygsgevangenes en hulle pogings om die afgebrande plase weer bewoonbaar te maak met 'n aantal spannende gebeure en liefdesverwikkelinge. Vir Waar die driedorings groei (1933) kies C.J. Scheepers Strydom die Korana-strooptogte in die Noordweste as agtergrond vir 'n reeks avonture. A.D. Divine situeer Die seerower van Saldanha (1935) in die tyd van die V.O.C., terwyl 'n reeks spannende gebeure op Robbeneiland die hoofdis vir Die smokkelaars (1937) vorm. Belangriker as skrywer van ontspannings- en jeugverhale is karl kielblock (1907-), wat in romans soos Jasper le Feuvre (1942), Guillam Woudberg (1945), Adriaan Deneys (1947), Luitenant Lafras Cuyper (1965), Lafras Cuyper en die Hirondelle (1968) en Lafras Cuyper in die Britse lokval (1973) 'n reeks avonture met 'n spannende intrige teen die agtergrond van 'n vervloë tydperk uit die vroeë geskiedenis van Suid-Afrika situeer. Eweneens skrywers van spanningsverhale teen 'n historiese agtergrond is S. Swanepoel met Die avontuur van Eugene de Villemont (1939) en Die slot Ehrenstein (1946), Jan Fick met Voortrekkers van Portersburg (1939) en Die grenswag (1941; uit die tyd van die grensoorloë) en P.J.L. Odendaal met Die môreskof (1939; oor die aanvang van die Groot Trek). Suiwer spanningsverhale is H. Veeneboer Smit se Die begraafde stad (1935), wat oor onwettige diamanthandel en 'n
soektog na 'n verlore stad in die Kalahari gaan, August van Oordt se Seuns van die wolke (1934), waarin die avontuurlike gebeure in die jaar 2034 geplaas word (vgl. Langenhoven se Loeloeraai), en Konstant Kamerling (pseudoniem van J. Wapenaar), wat in Die juweel uit 'n Oosterse tempel (1932), Die geheim van die bergkom (1937) en Begraafde geld (1944) avonture met skatte, kaarte en rare gebeurtenisse as boustof het. Van die belangrikste spanningsverhale is dié van abraham jacobus du plessis (1907-), wat in Die skraal man (1937) 'n reeks avonture met 'n geheimsinnige gemaskerde veedief met 'n romantiese geskiedenis teen die milieu van 'n Karooplaas verweef. Dieselfde motiewe wend hy aan in Die tweebeen- jakkals (1939), terwyl hy die gebeure in Wit stede (1944) teen die agtergrond van die negentiende-eeuse goudsoektog situeer. Naas Hendrik Brand word die speurverhaal in die dertigerjare beoefen deur Hans Rompel, A. Maree, Dirk Terblank, E. Louis Ellenberger, Mynhardt Fourie (pseudoniem van S. Ign. Mocke), R. Hendriks, G. Lampen, J.J. Brits, Johann van der Post en Adriaan Roodt (albei pseudonieme van S.G. Smidt) en David Louw. Op die gebied van die kinderverhaal word belangrike bydraes gelewer deur helena johanna francina lochner (1892-1951), Lulu Latsky, Sita (pseudoniem van S.S. de Kock), skryfster van o.m. die dagboeksketse Uit juffrou se dagboek (1934) en Juffrou op reis (1937) en Wekroep (1976), 'n verhaal wat op outentieke briewe berus en oor die lotgevalle van
| |
[pagina 299]
| |
'n Afrikanergesin tydens die Anglo-Boereoorlog handel. Die gewilde kosskoolstorie word deur Marié Malherbe en Stella Blakemore in die Innis-, Maasdorp- en Keurboslaan-reekse (lg. deur Blakemore onder die pseudoniem Theunis Krogh) geskryf. Marié Malherbe bundel verder kortverhale en dorpsketse in Kringe (1939), skryf reisverhale oor Spanje (Land van kokanje, 1958) en Skandinawië (Land van toe en tans, 1960) en versamel legendes en volksverhale uit Engeland, Nederland, Rusland, Duitsland en Skandinawië in verskillende bundels. Rikie Postma en G.S. du Plessis skryf toneelstukke vir kinders, terwyl A. Fouché, B. Traas en veral tienie holloway (1888-1967), lg. met 'n hele paar bundels sprankelende rympies en versies, 'n belangrike bydrae tot die kleuterpoësie lewer. 'n Hele aantal rymelaars doen mee aan grappige en sentimentele liefdesverse en bespiegelende gedigte oor die ‘lewe’, soos B.M. Swemmer, Ben J. Dreyer, G.J. Diamond, D. Gildenhuys, P.C. van Zyl, Boy Stockenström, Gerhard R.A. Moll, M.L. de Villiers, W.A. Willemse, W.L. Marais, J.H. Naudé en Lourens Taljaard. Wat 'n mens opval in baie van die historiese en avontuurromans van die dertigerjare, is dat die skrywers op die geskiedenis, folklore en romantiese drome van die Afrikaner en sy voorgeslagte steun, en met die idealisering van vroeëre tydperke en die herhaling van bepaalde soort avonture in verband met die soek na verlore stede, die stryd teen die ongetemde mens en dier en die taak van pionier en Voortrekker in 'n wilde wêreld algaande 'n eie mite en resep vir die spanningsverhaal opbou. In die veertigerjare sal hierdie rigting voortgesit word, al neem die speurverhaal dan kwantitatief oor. | |
II. C.M. van den Heeverchristiaan maurits van den heever is op 27 Februarie 1902 in die konsentrasiekamp naby Norvalspont gebore en ontvang sy skoolopleiding in die distrik Trompsburg en later aan die Brebner- en die Grey-kollege in Bloemfontein. Daarna studeer hy in Bloemfontein, waar proff. A. Francken en D.F. Malherbe 'n belangrike vormende invloed op hom het. Ná 'n kort tydjie as onderwyser, staatsamptenaar en joernalis in die redaksie van Die Landbouweekblad en Die Volksblad hervat hy sy studies, eers (1926-1927) in Bloemfontein en daarna (1928-1929) in Utrecht. Ná sy terugkeer uit Nederland is hy lektor in Bloemfontein (1931-1932), promoveer hy oor Die digter Totius (1932) aan die Universiteit van Suid-Afrika en word hy (1933) aangestel as hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand, 'n posisie wat hy tot sy dood beklee. As stryder aan die Rand help hy baie om die kulturele lewe te bevorder, terwyl hy deur sy aandeel aan die Afrikaanse Skrywerskring en sy organe - die Jaarboek en die Tydskrif vir letterkunde - ander skrywers, o.a. Uys Krige en Elisabeth Eybers, help om hulle werk gepubliseer te kry. Afgesien van sy bloemlesings uit Celliers, Totius en Malherbe blyk sy belangstelling in die Nederlandse letterkunde en die bande met die Dietse lande uit talle artikels en versamelings uit die werk van Hooft, Vondel en Gezelle. Naas sy skeppende en kritiese aktiwiteite is hy ook werksaam op die algemene historiese terrein met sy omvattende biografie oor Generaal J.B.M. Hertzog (1943; ook in Engels) en met sy redigering (saam met P. de V. Pienaar) van die driedelige Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner (1945-1950), | |
[pagina 300]
| |
terwyl hy in My jeugland (1952) heelparty skrywers aanspoor om oor hulle geboortestreek te skryf. Vir Die nuwe boord ontvang hy in 1928 die Hertzogprys vir Poësie, terwyl Laat vrugte in 1942 met die Hertzogprys vir Prosa bekroon word. Op 8 Julie 1957 is hy in Johannesburg oorlede. As digter skryf Van den Heever hoofsaaklik stemmings- en verhalende verse, terwyl hy as prosaïs die skets en essay, die kortverhaal, novelle en roman van groter omvang beoefen. Op die gebied van die drama het hy hom - met die uitsondering van die eenakter Ek kom dadelik! (Helikon, Junie 1955) - nie gewaag nie, terwyl sy dagboek (in besit van sy dogter, mev. Salome Herbst) nog in manuskripvorm bestaan. Met sy poësie sluit Van den Heever aanvanklik aan by D.F. Malherbe en Totius en wil hy, onder invloed van sommige digters uit die twintigerjare (veral Wassenaar) en die Nederlandse Tagtigers, die neerslag van sy eie indiwiduele ervarings in impressionistiese en belydende verse gee. In sy gedigte skryf hy veral oor die dood, verganklikheid, twyfel, verlange en eensaamheid in 'n tipe vers wat deur middel van 'n stromende wegdeinende sin, vervloeiende enjambemente, verglydende versbeweging en 'n weinig geslote strofevorm musies moet meevoer. As tipiese romantikus is hy vervul met weemoed oor die verganklikheid van die aarde, wat hy dikwels in die gedempte herfskleure of die wuiwende grasvlaktes waarneem en wat hom laat verlang na iets anderkant hierdie bestaan. Met sy twyfel en verlange, die belydende toon en die vergeestelikte waarneming lewer hy - onder invloed van veral die Negentigers en die geslag van 1910 - 'n bydrae tot die vroeë Dertigerpoësie, veral in sy bundels Deining en Aardse vlam. 'n Groot deel van sy werk word egter ontsier deur die eenselwige voorstellings, die gebrek aan beelding en die veryling
| |
[pagina 301]
| |
wat deur die veelvuldige gebruik van abstrakte woorde ontstaan. Daarby hinder die weinig funksionele adjektiewe, veelwoordigheid, maklike en slordige ryme, stoplappe, versvullings en onoordeelkundige funksiewisseling van woorde, selfs in sy beste verse. In teenstelling tot die Louws buit hy nie die juiste, onvervangbare woord in dieselfde mate uit nie en word die trefkrag van die enkele beeld, woord of vers opgeoffer ter wille van 'n dikwels vae stemmingsindruk of 'n musiese effek. Dieselfde stemmingswêreld lê basies ten grondslag van sy verhalende prosa. In die werke wat hy in die eerste twaalftal jare van sy loopbaan skryf en waarmee hy ook sy wesentlikste bydrae lewer, toon hy 'n verwantskap met D.F. Malherbe deurdat hy die natuur dikwels tot simbool verhef en deurdat hy stilisties by Malherbe se lirisme aansluit. Met die uitsondering van Anderkant die berge beoefen hy egter nie, soos Malherbe, die historiese roman nie en is die wêreld van sy verhale meestal dié van die Vrystaatse vlaktes waarin hy die gang van die lewe en seisoene in 'n kosmiese verband sien. Naas die swerwer of die kunstenaarsfiguur word sy plaasromans bevolk deur versukkeldes, verarmdes, agterlikes of mense wat sonder veel durfkrag is en weinig geestelike weerstand bied. Dikwels gaan die karakters onder as gevolg van droogte of skuld en word die spanning verkry deur die onbegrip van 'n oorheersende vader vir sy jong opgroeiende seun. Daarnaas gebruik Van den Heever die benepe kleindorpse lewe en skindery as boustof in sy latere romans met die klerk, verarmde boer wat as mynwerker moet arbei of die oppervlakkige kultuurlose Afrikaner as karakters, dikwels met die ontmaskering van valse waardes of maatstawe as tema. Alhoewel hy dus wel by die volkse romantiek van Malherbe aansluit, is Van den Heever se romans in werklikheid 'n kruising tussen die werk van Malherbe en Van Bruggen. Daarmee gee hy 'n nuwe nuanse aan die romantiese stroming in die Afrikaanse letterkunde, al bly die nadelige gevolge vir sy werk nie uit nie. Deurdat sy figure nie beperk is in hulle kleinheid nie, maar - soms kunsmatig en geforseerd - met die kosmiese gang en ewige sterre verbind en met 'n oneindige weemoed vervul word, aarsel sy werk dikwels tussen realisme en romantiek, tussen 'n voorstelling van die uitwerking van droogte en skuld op die sukkelende boere en die uitbeelding van dieselfde mense as dromers wat met 'n kosmiese verlange vervul is. Hierdie dualisme bring dikwels 'n stilistiese breuk in sy romans, veral as hy aan die een kant in abstrakte of vervagende woorde die oneindige weemoed wil oproep en aan die ander kant met behulp van streektaal of gemoedelike uitdrukkings die Vrystaatse boerelewe wil tipeer. In sy stadsromans word die mense dikwels skematies voorgestel en verhoed die karikatuuragtige wesens enige moontlikheid tot heroïese ondergang of tragiek, terwyl die pessimistiese siening van die werklikheid en die verbinding met groter magte ook 'n humorrealistiese hantering van die stof uitsluit. Naas werke soos Somer en Laat vrugte is enkele van sy kortverhale, waarin hy | |
[pagina 302]
| |
dikwels die mens in 'n krisisstadium van sy lewe uitbeeld, oor die algemeen geslaagder as sy latere psigologiese romans. Van den Heever se vroegste poësie verskyn in De Goede Hoop, die Vrystaatse universiteitsblaaie, Die Huisgenoot en Die Boerevrou, terwyl die ongepubliseerde ‘Die aandster’ - 'n lang gedig van ongeveer nege honderd reëls in vyfvoetige jambes oor 'n liefdesgeskiedenis in die trant van Malherbe se Die skaduwee van 'n vrou - uit 1923 dateer. Sommige van hierdie eerste gedigte word opgeneem in die bundel Stemmingsure, wat opgedra is aan D.F. Malherbe en waarmee hy in 1926 debuteer. Naas enkele liedagtige verse (soos ‘Vroeër’, ‘Verlore Stemme’ en ‘Gee my’), waarmee hy by Leipoldt aansluit, en 'n paar vaderlandse verse (soos ‘Die beeld van oom Paul’ en ‘Deur die muur van Lemetfords’), wat duidelik deur Toon van den Heever beïnvloed is, word die bundel oorheers deur 'n gevoel van heimwee en verlange en 'n uitdrukking van gedagtes oor verganklikheid en dood met die aandster, uil en maan as terugkerende beelde. Deur die simboliek is hy verwant aan Malherbe, deur die eenselwigheid van die stemmingswêreld en eksplisiete verklarings aan Totius en deur die temas en besondere wyse van verwoording aan Wassenaar (soos in ‘Blou berge II’), terwyl hy soms regstreekse invloed van die Tagtigers ondergaan (soos van Perk en Kloos in ‘Aand op die plaas’). Die meeste gedigte in die bundel word ontsier deur retoriese wendinge, rymarmoede (wat o.m. uit die onfunksionele aanwending van die rykrym blyk), swak woordkeuse en vergelykings wat eerder vervagend as konkretiserend werk. Die beste enkele gedig is ‘Die konsertina in die nag’, wat 'n fyner verssin as dié van die meeste ander digters uit die twintigerjare openbaar deurdat die swewende gang verkry word deur die voortstromende enjambemente en die aaneenskakeling in die
sinskonstruksie (veral in strofe 2). Die konsertina is in hierdie gedig die draer van die romantiese verlange, en die afwesigheid van sterk sintuiglike beelde dra by tot die ontgrensing en die klankdeining. Alhoewel Die nuwe boord (1928) ook nog baie invloede van ander digters openbaar (soos van Celliers se ‘Eensaamheid’ in ‘Net my skaduwee’, Malherbe se ‘Jakob Ontong’ in ‘Wie om twaalfuur snags’ en Leipoldt in ‘Outa Hans’ en ‘Hier waar die groen-beboste strand’), gee Van den Heever in sy tweede bundel blyke van 'n bewuster kunstenaarskap, 'n sterker wysgerige basis en - o.m. onder invloed van Gossaert, Bloem en A. Roland Holst (vgl. ‘Harp van die eeue’) - 'n gevoeliger woordgebruik. Hierdie gevoeligheid is egter tot onderdele beperk, terwyl daar haas nie een enkele vers is wat as geheel bevredig nie. Dikwels maak hy gebruik van maklike eindklanke, 'n paarrymskema wat deur sy eenselwigheid, swak terminale en voortdurende enjambemente die funksionaliteit van die strofiese verdeling ophef en eksplisiete toevoegings (dikwels met behulp van die ‘van’- konstruksie) wat die ontoereikende beeld van buite af met ‘diepte’ moet laai. Selfs 'n bekende gedig soos ‘Amandelboom, o lentebruid’ word ontsier deur swak woordkeuse, abnormale sintaksis ter wille van die rym, eienaardige samestellings en versvulsels. Die beste enkele gedig is, eienaardig genoeg, nie een van die mymerverse nie, maar ‘Die wagtertjie stap’ met sy verwerking van Bantoe-motiewe.
| |
[pagina 303]
| |
'n Verrassende styging in Van den Heever se poësie kom met die bundel Deining (1932; vermeerderde druk 1935), wat - soos Opperman dit stel - ‘met sy verheerliking van die kunstenaar, die nuwe sintuiglikheid, beluistering van eie sielelewe, groter ekspressiwiteit en 'n vryer en soepeler versbeweging, die eerste bundel van Dertig’ (Digters van Dertig, p. 144) genoem kan word. Soos in sy eerste twee bundels oorheers die temas van verganklikheid, fataliteit, dood en die verhouding tussen die ek en die wêreld, maar die verwoording is oor die algemeen fyner en in die plek van abstraksies en vaaghede kom daar soms sensitiewe beelding, selfs al bly die wêreld van sy poësie nog eenselwig. Naas die invloede van Totius, Gezelle en die Tagtigers wen sy vers deur die aansluiting by Boutens, Bloem en veral A. Roland Holst. Sommige gedigte is geskryf na aanleiding van bepaalde kunstenaars of kunswerke (‘Voor die Nagwag van Rembrandt’, ‘Die Venus van Melos in die Louvre’, ‘Aan Keats’, ‘By Gezelle se graf in Brugge’), terwyl sy verse oor die digterskap (bv. ‘Die digter’) en sy aanwending van fyn impressionistiese sienings (bv. ‘Reën in die nag’) 'n voorspel is tot die vroeë W.E.G. en Van Wyk Louw. In ‘O koele water van die spruit’, waarin hy - soos Gezelle - natuurdinge waarneem en op dié wyse na sy eie wese deurdring, wissel die versreël in lengte en word die herhaling feitlik 'n inkantasie waarmee hy 'n monotone effek bereik. Dieselfde sensitiewe hantering van die vers kom voor in ‘Voëls in die skemering’, waarin die gevoel van wêreldvreemdheid beliggaam word in die voëls wat soos bannelinge in die skemerlig sit en waarin die slepende e-klanke en die aaneenskakelende sinskonstruksie tot die monotonie bydra. Ten spyte van die sterker sintuiglikheid, ook in treffende onderdele van baie gedigte, is die musiese en verglydende nog die wesenskenmerk van Van den Heever se poësie. Daarmee bereik hy wel treffende effekte en enkele goeie gedigte, maar op die lange duur word die vaagheid, ontgrensing en ylheid 'n belangrike literêre beswaar teen sy poësie, veral ook omdat sy verse meestal 'n logiese gang, dramatiese progressie en noodwendige afsluiting mis, iets wat die lees van die bundel as geheel 'n irriterende aktiwiteit maak. Meermale word die vers, soos Opperman dit stel, ‘'n weemoedige, monotone geneurie waaronder 'n mens dreig om in te sluimer, maar kort-kort deur jou kritiese sin gewek word om te vra: Wat is die verband? Waarna mik die digter? Wat is die noodsaak van hierdie vers?’ (Wiggelstok, p. 45). Die hoogtepunt van sy poësie bereik Van den Heever in Aardse vlam (1938), wat nog wesentlik dieselfde grondmotiewe bevat, maar waarin hy 'n groter verskeidenheid verwerk en onder invloed van filosowe soos Spinoza en Schopenhauer en die Oosterse wysbegeerte (o.a. Tagore) 'n ruimer denksubstraat as grondslag het. Soos in die werk van baie mistici is daar by Van den Heever die drang om een te word met die ewigheid, kosmos en die Lig waarvan hy self 'n klein vonk is, terwyl 'n gevoel van somberheid en fataliteit hom soms oormeester by die gedagte aan die sinloosheid van alles. Naas die belydende gedig met sy slepende klanke en wegdeinende versreëls is daar ook enkele verse waarin hy oor die Afrikaner en sy verlede besin en waarin hy - soos in sy opstelbundel Die Afrikaanse gedagte en die roman Kromburg - oor die oppervlakkige en kleinlike maatskaplike lewe van sy volk nadink. In ‘O verre wydtes’ word die oopgaan in die oneindigheid versterk deur die vervloeiende versbeweging, die enjambemente en die afwesigheid van sintuiglike beelde, al word die gedig plek-plek ontsier deur die hinderlike funksiewisseling van | |
[pagina 304]
| |
woorde (‘klooster’ as werkwoord), eienaardige neologismes (‘verheimlik’) en 'n argaïsme in rymposisie (‘beê’). In ‘Die vertrekkende wildeganse’, wat 'n ooreenkoms toon met Karel van de Woestijne se ‘Wilde eenden slaan de luchten in’, groei die siening van die ganse wat in die hemel verlore raak tot 'n beeld van die mens en sy verganklikheid, iets wat musies versterk word deur die swewende gang en die effektiewe hervattings (vgl. die herhaling van ‘oogwenk’ en ‘verby’) in die sinskonstruksie. ‘Afrika’, een van die verse waarin Van den Heever sy nasionale bekommernis verwoord, is 'n bede dat die voorgeslagte wat hierdie vasteland help tem het, ons moet besiel, maar die beeldspraak is nie orals ewe suiwer nie. Die hoogtepunt van die bundel en van Van den Heever se hele poëtiese oeuvre is ‘Die gevalle Zoeloe-indoena’ met sy volgehoue aanspreking van die gestorwene, die effektiewe en evokatiewe gebruik van die woord (soms versterk deur alliterasies), die uitbuiting van die woordposisie, die gebruik van die werkwoord en die selfstandige naamwoord wat van 'n werkwoord afgelei is om aktiwiteit op te roep en die effektiewe herhalings (soms met subtiele variasies). Die slotreël (‘Hier waar jy was, sal skape wei’) doen steurend aan, aangesien die skaapbeeld nie by die topografie van Zoeloeland (wat by uitstek 'n beeswêreld is) aansluit nie. In die meeste gedigte word 'n mens egter geïrriteer deur die slordige woordgebruik, slap verse en onhelder beelde, terwyl die vae, newelagtige wêreld en gebrek aan sintuiglikheid 'n belangrike literêre beswaar teen die hele bundel word. Dit is asof Van den Heever - in die woorde van Shakespeare se Theseus uit A midsummer night's dream - die ‘local habitation and a name’ van die konkrete beelding vir die ‘airy nothing’ van die abstraksie opoffer. 'n Jaar ná die verskyning van Stemmingsure debuteer Van den Heever ook op prosagebied met die novelle Op die plaas (1927), wat oorspronklik as vervolgreeks in Die Volksblad verskyn en wat handel oor die onbeantwoorde liefde van 'n arm en enigsins agterlike plaasseun vir 'n stadsmeisie (vgl. Van Bruggen se Ampie- en Malherbe se Faans-karakters). Soos ook in sy latere werke word die enkeling hier gesitueer teen die agtergrond van die groot kosmiese magte en die voortgang van die tye en beleef hy 'n oneindige weemoed oor die tot niet gaan van die dinge. Alles is saamgetrek in die hooffiguur Freek, sonder dat enige newetema die aandag van hom wegneem. 'n Belangrike beswaar teen die novelle is egter dat die verhouding tussen Freek en Miem nie tot 'n krisistoneel lei nie en dat die oplossing - haar huwelik met 'n ander man - van buite die verhaalgebeure kom. Freek se stryd word fisiek veruiterlik deur 'n longaandoening wat wel gedeeltelik voorberei word, maar
| |
[pagina 305]
| |
wat wesentlik niks met sy verhouding tot Miem te make het nie. Daarby lei die universalisering van die enkele geval deur die verband met die seisoene en kosmiese situering tot onnodige natuuruitweidings wat die verhaalgebeure tot 'n stilstand dwing, nie regstreekse verband met die hoofkarakter het nie en wysgerig te verwikkel is vir sy geringe geestelike ontwikkeling. In Langs die grootpad (1928) word die konsentrasie op 'n enkele motief en karakter verruim tot 'n breër uitwerking van verskillende motiewe. Enersyds handel die roman oor die onverstandige en hartelose optrede van oom Gert, wat sy bywoner van die plaas wegjaag en ná sy tweede huwelik geleidelik van sy kinders vervreem raak tot sy gesondheid knak, andersyds oor die bywoner, oom Rooi-Stefaans, wat in moeilike omstandighede 'n tweede begin maak en as gevolg van 'n geluk op die diamantvelde in staat gestel word om 'n plaas te koop en betreklik welvarend te boer. In hoofsaak gaan die roman egter oor oom Gert se drie kinders: Hansie, die draer van die romantiese gevoel in hierdie werk, wat ná 'n stryery met sy stiefbroer van die plaas weggaan, as bywoner by oom Rooi-Stefaans bly en dan - op aandrang van Maria, met wie hy 'n liefdesverhouding het - in die stad suksesvol 'n kursus in die musiek voltooi; Susie, wat ná haar teleurstelling met Pieter Theron by familie in Durban gaan woon en haar lewe met selfmoord beëindig; Hannie, wat 'n skynbaar gelukkige huwelik aangaan met Gert, van wie sy aanvanklik nie gehou het nie; en die stiefseun Johnnie, wat ná herhaalde misstappe 'n tronkstraf opgelê word. Die geskiedenis van die twee families en die omdop van die situasies in die verhouding tussen boer en bywoner is mooi geteken, terwyl die verdere ontwikkeling van Hansie tot 'n bevredigende einde kom. Daarteenoor is Susie se selfmoord te abrup en strook haar halfhartige optrede teenoor haar familie in Durban nie met die sterk standpunt wat sy vroeër teenoor haar stiefmoeder inneem nie, terwyl Hannie se skynbare huweliksgeluk nie vir die leser aanneemlik is nie en Johnnie te uiterlik, ongekompliseerd en skurkagtig voorgestel word. As gevolg van die verwikkelder hoofpersoon is die verband met 'n donker noodlot en kosmiese bewussyn bevredigender as in Op die plaas, maar dit lei tot onnodige uitweidings en bespiegelings, veral aan die slot van die roman, waar die gedagte van die ‘grootpad’ van die lewe opsetlik aandoen. Droogte (1930), die geskiedenis van vyf broers wat in die Vrystaat boer en as gevolg van die fisieke en geestelike droogte ondergaan, is 'n eerste poging in die Afrikaanse romankuns om die realistiese uitbeelding van die natuur met 'n sekere simboliese betekenis te laai. In sy voorstelling van die karakters slaag Van den Heever met die uitbeelding van die figuur van die swaksinnige Ou-Datie; veral hoofstuk XVI, waar hy ná die moord in sy vervolgingswaan geteken word, is besonder oortuigend. Daarteenoor neig oom Sagrys te veel in die rigting van 'n karikatuur en word hy in die sluheid en hebsug wat hy aan die dag lê om die ander se grond in te palm, eensydig deur 'n partydige verteller voorgestel. Nog minder geslaag, o.m. ook omdat dit slegs oppervlakkig met die res van die roman verbind word, is die newemotief van die onderwyser Hendriks, terwyl Van den Heever met die besoek van Joey Schoeman slegs 'n eensydig-negatiewe siening van die stad Johannesburg gee. Ten spyte van die aangrypende beeld van die versengende droogte misluk die roman as poging tot tragiese voorstelling omdat die karakters in hulself te klein en geestelik te gering is om 'n titaniese stryd met die natuur aan te knoop. Daarby voel 'n mens dat Van den Heever soms (bv. met die visvang-episode | |
[pagina 306]
| |
in hoofstuk VI) doelbewus die lokale en gemoedelike woord gebruik om sekere realistiese effekte te bereik, iets wat 'n stylbreuk met die filosofiese mymeringe van Hendriks tot gevolg het. Terwyl die stad as tema slegs terloops in Droogte aangeraak is, kry dit in Groei (1933) vir die eerste keer in die Afrikaanse roman 'n prominente posisie as milieu waarteen die ondergang van 'n joernalis en sy gesin geteken word, met die terugkeer na die plaas as uiteindelike oplossing. Alhoewel hierdie ‘ontwikkeling’ mooi geteken word en die slot simbolies oortuig, is die stadslewe te oppervlakkig, eensydig en karikaturaal gesien. Daarby het die groot verskeidenheid karakters tot gevolg dat die eenselwige stadslewe en die ekonomiese en sedelike agteruitgang telkens vanuit 'n ander hoek belig word, iets wat tot 'n voortdurende verskuiwing van aandag en 'n sekere onrustigheid in die gang van die verhaal lei. In vergelyking met sy vorige werke toon hierdie roman egter wel 'n vooruitgang deurdat Van den Heever meer deur middel van handeling en dialoog werk en suiwer beskrywing grotendeels vermy.
Somer (1935), wat aanvanklik as vervolgverhaal in Die Huisgenoot verskyn, daarna in Nederlands, Engels en Duits vertaal word en in 1974 deur André P. Brink in 'n draaiboek verwerk en verfilm is, verteenwoordig 'n aansienlike styging in Van den Heever se prosakuns. Hierdie werk, wat sekere ooreenkomste met De oogst van Stijn Streuvels toon, is veel meer gekonsentreerd en die verskillende motiewe veel hegter verbind as dié in Van den Heever se vroeëre romans. Die gebeure speel af teen die agtergrond van 'n Vrystaatse somer met sy versengende hitte en gee 'n beeld van die mens tydens die oestyd, maar dit alles word verbind met die voortdurende kringloop van die seisoene, die ewige afskeid en die futiliteit van die mens se liefde vir 'n medemens. Die handeling word verdeel oor drie motiewe heen: die geskiedenis van die twee broers oom Tom en oom Faans wat die plaas Driefontein besit, en oom Faan (vgl. oom Sagrys in Droogte), wat hulle hul grond probeer ontneem; die liefdesgeskiedenis van Linda, die dogter van oom Tom, wat die rondswerwende Wynand bo Hannes, die seun van oom Faan, verkies; en die Bolandse arbeider Stefaans, wat April by die werk uitstof en die liefde van Katryn wen, 'n motief wat die ernstige liefdesgeskiedenis feitlik parodieer en 'n ligte afwisseling in die verhaalgebeure bring. Die verskillende motiewe word egter heg geïntegreer deurdat alles verband hou met die oes van die koring en die afskeid- en verganklikheidsgedagte. Dit geld ook vir die inligting oor die finansiële toestand van die boere en die gedagte in hoofstuk IX dat die vorming van 'n koöperasie tot 'n nuwe ekonomiese bedeling sal lei en die einde van die era van die kleinboer sal beteken, al voel 'n mens dat die verruiming van die roman se drakrag tot die probleem van die boer in die algemeen
| |
[pagina 307]
| |
hier grotendeels misluk. Die parallelisme tussen wit en bruin verliefdhede, versterk deur die aanwesigheid van die rondloperfiguur wat in elke groep ook die beste werker is, dra by tot die romantiese en idilliese indruk van die roman as geheel. In die besonder word die romantiese lewensgevoel egter gedra deur die Wynand-figuur wat as ‘wandelaar’ altyd moet afskeid neem en in wie die belewing van die natuur met sy ewige kringloop beliggaam word, al vervlak sy onthulling teenoor Linda aan die slot sy swerwerskap van 'n ewige ‘noodlot’ tot 'n blote misstap wat hy as jong man begaan het en wat hom volgens sy eie oordeel sosiaal onaanvaarbaar maak. Hierdie dualisme tussen romantiek en realisme, waarmee Van den Heever een van sy belangrikste werke ernstig skaad, vind ook sy neerslag in die stylbreuk tussen die geestige bruinmenstonele met die uitbuiting van die volkse en lokale woord en die natuurflitse en die lirismes waardeur die kosmiese bewussyn en die voortgang van die seisoene belewe word. Ten spyte van hierdie besware is Somer deur die hegte verbinding van die motiewe en die konsentrasie op 'n sentrale tema een van Van den Heever se suiwerste werke. Die motiewe van 'n skuldlas en die ontfutseling van grond kom reeds in Langs die grootpad en Droogte voor, maar dit word hier, soos die motief van die onbeantwoorde liefde in Op die plaas, bevredigender uitgewerk. Met die driehoeksituasie wat in die bruin verhoudings gerelativeer word, is Die meulenaar van D.F. Malherbe die regstreekse voorloper van Somer in die Afrikaanse prosaliteratuur, terwyl Linda in haar vrugtelose en futiele liefde 'n mens aan Faans uit Die meulenaar, maar veral aan Celliers se Martjie, laat dink. In sy volgende werk, Kromburg (1937), wat die ondergang van 'n vrou teen die agtergrond van 'n kleindorpse lewe met sy benepenheid en skinderlus uitbeeld, sit Van den Heever die psigologiese realisme van Groei voort en neem hy in baie opsigte Gustave Flaubert se Madame Bovary as model. In teenstelling tot Flaubert se genadelose analise van 'n stuk werklikheid kom Van den Heever se minagting vir die kleinlike lewe op Kromburg tot uiting in eindelose oppervlakkige gesprekke en eensydige karikature, in so 'n mate dat alle sin vir verhoudings en ander aspekte van die mensbeelding verlore gaan. Daarby hinder die groot rol wat die toeval by die noodlottige ongeluk van Wenda se verloofde speel, terwyl haar huwelik met Flip Swart as gevolg van hulle uiteenlopende persoonlikhede hoogs onwaarskynlik is en sy lydsaamheid deur al haar grille nie aanneemlik gemaak word nie. As sy later in Johannesburg deur die oppervlakkige toneellewe sien, klink haar skielike verlange na Kromburg vals en is haar dood aan die einde pateties. Wat dus 'n magtige uitbeelding van of 'n skerp satire op 'n stuk Afrikaanse werklikheid kon geword het, laat Van den Heever misluk deur gebrekkige karakterbeelding en vervelige dialoë. In baie opsigte moet Kromburg egter as die voorspel beskou word vir die psigologies-realistiese stads- en dorpsromans met hulle vlak figure, onwaarskynlike situasies en power satire wat Van den Heever in die veertiger- en vyftigerjare die wêreld sal instuur. Met Laat vrugte (1939), wat in 1942 met die Hertzogprys bekroon word, bereik Van den Heever die hoogtepunt wat sy werk op die gebied van die prosa betref. Die roman toon 'n sekere ooreenkoms met De vlaschaard van Stijn Streuvels en De boer zonder God van Jan Eekhout, terwyl dit regstreeks aansluit by die kortverhaal ‘Taai wortels’ (uit die bundel Kruispad, 1938) en heelparty vroeër motiewe in Van den Heever se werk. Die oorheersende vaderfiguur van Langs die grootpad en die man wat - | |
[pagina 308]
| |
soos in Droogte - sy boerdery selfs ten koste van familietwis wil uitbrei, keer hier terug in die figuur van oom Sybrand, terwyl die skinderlus en kleinlikheid van Kromburg in talle gesprekke voortgesit word en die romantiese liefdesverhouding tussen Henning en Johanna en die kringloop-motief sy direkte voorloper in Somer het. In baie opsigte kan Laat vrugte as 'n generasieroman gesien word waarin drie geslagte - verteenwoordig in ou tant Willa, die verharde oom Sybrand en die jong, lewenskragtige Henning - optree en hulle wil op ander familielede laat geld. Die hoofkarakter is oom Sybrand, wat soos 'n tiran oor sy gesin en naaste familie regeer, met sy seun in botsing kom en ná die dood van sy vrou deur 'n tweede, jonger eggenote oorheers word (vgl. oom Gert in Langs die grootpad) totdat hy ná 'n beroerte-aanval op sy sterfbed met sy kinders versoen word en in sy kleinkind die ewige voortgang van die geslagte kan sien. Die gang van die verhaal geskied deur middel van min of meer gelade dramatiese kerne, en veel meer as in Van den Heever se vroeëre werke vind die karakterisering plaas met behulp van dialoog en handeling, al het die verteller wat openbarend werk, nog steeds 'n belangrike karakteriserende funksie. Die subafdelings van die
verskillende hoofstukke markeer dikwels 'n verskuiwing van aandag van een karakter na 'n ander. Alhoewel daar hiermee 'n versplintering van aandag kom en Van den Heever iets van die tegniek van die kortverhaal in sy roman aanwend, verkry hy tog die nodige skakeling deurdat een situasie dikwels terugverwys na 'n vorige. So bv. begin die verhaal met 'n sterk dramatiese episode as 'n jong perd deur Henning ingebreek word, 'n toneel waardeur oom Sybrand se koppigheid en afguns op sy seun se jeug treffend geïllustreer word. Die bepaalde episode kry egter eers sy volle betekenis as die finale botsing tussen Henning en sy vader in hoofstuk V juis kom nadat oom Sybrand dié spesifieke perd verkoop en hy in die oomblik wanneer hy sy seun te lyf wil gaan, voor die krag en beslistheid van die jong man aarsel. Ook die woorde ‘Jou dag sal kom’ en ‘God slaap nie’, wat feitlik soos 'n refrein deur die roman sirkuleer, help om die skakeling tussen uiteenlopende tonele te bereik. Daarby word die hele boek gedra deur die ontwikkelingsgang van oom Sybrand en sy uiteindelike aftakeling aan die einde. Die insig waartoe hy kom, bereik hy vanuit sy eie ervarings, terwyl sy
| |
[pagina 309]
| |
toenadering tot Maria en oom Jaap in hoofstuk VIII - wat skynbaar na 'n breuk in die karaktervoorstelling lyk - geregverdig word as hy homself daarna, by wyse van korrektief, in 'n laaste wanhopige sterk optrede verman en staal teen die omstandighede wat hom wil breek. Die enigste beswaar wat 'n mens teen die slot van die roman kan hê, is dat die verhaal te uitsluitlik op oom Sybrand toegespits word en die newemotiewe en -karakters (Henning, oom Gert, tant Maria en oom Jaap) slegs toevallig en via oom Sybrand se besoeke in die gebeure betrek word. 'n Belangriker beswaar teen die roman is egter die minder gelukkige uitwerking van die bywoner Buks en sy vrou Maggie. Die boom wat Buks se dood veroorsaak, is 'n bloot toevallige gebeurtenis wat net help om die huwelik tussen Maggie en oom Sybrand moontlik te maak, terwyl die verteller met die hele episode onoordeelkundig en te bewustelik 'n verband met die Bybelse parallel van Dawid en Bátseba lê. Die liefdesgeskiedenis, wat in Somer in die sentrum van die gebeure staan, is hier op die agtergrond, in so 'n mate dat die toneel in hoofstuk IV waarin Henning en Johanna mekaar by die damwal ontmoet, te vaag en algemeen bly en die karige agtergronds-beskrywings slegs ingevleg word om die onbeholpe liefdesbetuiging 'n bietjie te verbloem. Die weinig informasie wat daar in hierdie toneel verstrek word, is buitendien 'n belangrike beswaar, veral as dit later blyk dat daar 'n baba uit die verhouding gebore word. Daarby word die latere geskiedenis van Johanna en Henning te fragmentaries en terloops in die verhaal verwerk, veral aangesien Henning as aanvanklike en sterkste antagonis van sy vader in die eerste vier hoofstukke 'n prominente rol speel. Ten spyte van hierdie besware moet Laat vrugte deur sy grootse konsepsie, vervlegting van verskillende temas, uitbeelding van die hooffiguur en geslaagde karakterisering as Van den Heever se belangrikste roman beskou word, al is die motiewe in Somer meer gekonsentreerd. Al is dit nie naasteby gelykwaardig aan bv. William Faulkner se groot boereromans nie, is dit tog in Afrikaans die mees ambisieuse poging om die plaaslewe en daardie spesifieke deel van ons werklikheid vas te lê. Intussen het Van den Heever hom ook met wisselende sukses op die beoefening van die kortverhaal toegelê en publiseer hy in die dertiger- en vroeë veertigerjare 'n viertal versamelings - Simson (1932), Vuurvlieg en sterre (1934), Kruispad (1938) en Nooit! (1942) -, terwyl hy in Die Afrikaanse gedagte (1935) en Die stryd om ewewig (1941) sy besinnende opstelle oor die Afrikaanse literatuur en geesteslewe en die strewe na kulturele selfstandigheid bundel. Wat in die verhale in Simson opval, is die rol wat die mag van die verlede in 'n beslissende krisisoomblik van 'n menslike bestaan kan speel, dikwels beleef in die gedagtes van 'n bepaalde karakter, sodat die dramatiese handeling ter wille van eenselwige vertelling opgeoffer word. In die titelverhaal en ‘Vadersmart’ bepaal die Bybelse parallelle (die Simson- en Absalom-geskiedenis) in so 'n mate die gang van die gebeure dat dit geforseerd aandoen. ‘Die huweliksaansoek’ boei deur die tipiese Boere-geestigheid en die slaankrag aan die slot, terwyl ‘Die uitgeploegde geraamte’ by Van Reenen, Marais en Langenhoven se spookverhale aansluit. Die beste verhale is ‘Verbittering’ en ‘Broedertwis’ met sy aangrypende slot waar die verdrinkende broers hulle rusies vergeet en in die stormagtige see aan mekaar vasklou. In Vuurvlieg en sterre is dit die mag van die gewete en die wesentlike eensaamheid van die mens wat as basis vir die meeste verhale dien. Dikwels verloop die gebeure egter sonder 'n bevredi- | |
[pagina 310]
| |
gende ontknoping aan die einde (‘Lig’, ‘Leuens’ en ‘Die geheim’), terwyl die optrede van die karakters nie altyd goed gemotiveer word nie (soos dié van die meisie in ‘Die skeiding’). Die beste enkele stuk is die titelverhaal, selfs al bly die psigologiese tekening van die hoofkarakter oppervlakkig. Ook Kruispad handel oor die mens se eensaamheid in sy verhouding tot iemand anders, terwyl die krisispunt in die meeste gevalle as 'n ontmoeting van twee weë, 'n kruispunt, gesien word, dikwels met die gebruik van temas uit die grootstadslewe, plaaswêreld en huwelik. Die sterkste verhale is ‘Taai wortels’ (vgl. Laat vrugte) en die geestige ‘Die daad’. In Nooit! gee Van den Heever ook telkens 'n krisismoment in die lewe van die persoon, al bevat dit heelparty motiewe (die Afrikaner in die stad of op die plaas) wat vroeër beter uitgewerk is en al word die meeste verhale ontsier deur die oordaad aan beskrywing en die weinig sprankelende dialoog. Die beste stukke is die laaste drie verhale, waarin die verlede volledig in die hede geïntegreer en die gebeure deur sterk motiewe (soos die wraakgedagte in ‘En nou?’) gedra word. In die veertiger- en vyftigerjare wend Van den Heever herhaalde pogings aan om as skrywer sy aanvanklike aansien te behou, maar sowel op die gebied van die poësie as die prosa is sy eksperimente vrugteloos en slaag hy nie daarin om die dalende lyn in sy werk te stuit nie. Die enigste uitsondering is sy breedopgesette biografie oor Generaal J.B.M. Hertzog (1943), wat wel heelwat dokumentering bevat, maar 'n sintetiese kyk op die figuur mis. In 1945 publiseer hy sy Versamelde gedigte, wat 'n keuse uit die eerste drie bundels en die volledige Aardse vlam bevat, terwyl hy 'n veertigtal nuwe gedigte byvoeg. Hierdie nuwe verse sluit regstreeks aan by Aardse vlam; die enigste ontwikkeling is die aarselende neiging in die rigting van 'n konkreter vers, 'n groter gebruik van die spraakwerklikheid en 'n bytende satire. Met enkele gedigte, soos ‘Simson’ (vgl. W.E.G. Louw in Bybels en Babels) en ‘Louis Trichardt se einde’ (vgl. Opperman se ‘Clat boek’ uit Blom en baaierd en Voëlvry), probeer hy die newelagtigheid en veryling teenwerk deur die gebruik van bepaalde gestaltes, terwyl hy met sy verkenning van die Oosterse filosofie en die gebruik van die Brahmaanse lewensleer 'n invloedsfeer vir latere digters (o.a. Gilliland en Breytenbach) aandui. In Verhalende gedigte (1950) bundel hy vroeëre epiese verse met toevoeging van 'n aantal nuweres, maar die verhaalelement word grotendeels verdring deur die meditasie en belydenis in verse wat eenselwig voortdreun en enjamberend en paarrymend voortgly, sonder enige noodwendigheid of dramatiese progressie. Die kosmiese lewensgevoel, dood en verganklikheid en die ewige gang van die seisoene - alles motiewe wat reeds oor en oor in Van den Heever se vroeëre werk voorkom - is ook die basiese motiewe in Honderd sonnette (1955). Met die
| |
[pagina 311]
| |
sonnetvorm, wat Van den Heever hier konsekwent aanwend, het 'n mens aanvanklik die vermoede dat hy die newelagtigheid en verglyding wat sy vers bedreig, met die geslote vorm wil teenwerk en vir homself 'n groter selftug wil oplê. Dit is egter nie wat hier gebeur nie. Die oorgrote meerderheid sonnette is Shakespeariaans van aard, alhoewel daar soms (soos in II en X) die neiging kom om reeds iets van 'n wending aan die begin van die negende reël te bring. Met die Shakespeariaanse vorm laat hy die moontlikheid van twee sterk teenstellende ritmiese golwinge en dramatiese teenbewegings vaar ter wille van 'n rustige mymervers met 'n verdieping of relativering in die slotkoeplet, wat egter deurgaans by Van den Heever die nodige slaankrag mis en bloot moraliserend of abstraherend eindig, dikwels met 'n onbeholpe poging om die ek by die toepassing te betrek of met behulp van 'n vae filosofie ‘lewensvrae’ te stel. Veral as die sonnet (bv. XXIX) deur sy hele sinsbou na die einde uitreik, is die futlose slotkoeplet dubbel irriterend. Daarby toon die sonnette 'n tekort aan beelde, kry ons die veelvuldige gebruik van abstrakte woorde (op -ing en -heid) en lei hulle aan alle moontlike gebreke in rymopsig (swak terminale, onbeholpe hantering van die rykrym en rymdwang). Waar die vers wel deur middel van konkrete beelde werk, funksioneer die waarneming slegs as 'n eksemplariese vertrekpunt (VII), mis 'n mens 'n logiese of dramatiese gang (XIII) of word die vae waarneming te gou in verband gebring met die gedagte van dood, wanhoop en vereensaming (XXII, XXIV, XXV). 'n Vers soos LXXVIII met sy blote vulsel (‘dan’, ‘maar’, ‘daar’), willekeurige beelde (‘verlore seun’, ‘verrotte vrug’) en rymdwang (‘verwag’ en ‘gebaan’) is 'n uiterste voorbeeld van lukraak woordgebruik en illustreer in watter ontstellende mate Van den Heever nie die konsekwensies van sy beeldspraak deurdink het nie (bv. as daar aan die een kant sprake is van die dood se ‘wortels’ en aan die ander kant van ‘sy laaste slag’). Die beste sonnette is dié waarin hy die abstrakthede grootliks laat vaar vir 'n realistiese beskrywing van 'n bepaalde gestalte, soos in ‘Die ewige kind’ (XXXIII), ‘Oupagrootjie’ (XLVII), ‘In memoriam patris (a)’ (XLVIII) en ‘Die misdadiger’ (LXIX). Die dalende lyn geld ook vir die sestal romans wat Van den Heever ná 1940 publiseer en waarin hy oor die algemeen, in aansluiting by Kromburg, sy karakters as psigologiese gevalle sien of 'n satire op die Afrikanermaatskappy wil gee, dikwels met blote karikature as resultaat. Gister (1941) wil die ontworteling van 'n gesin in Johannesburg en hulle terugkeer na die plaas (vgl. Groei) uitbeeld, maar dit bly 'n blote herhaling van bekende Van den Heever-motiewe. Telkens word die leser geïrriteer deur die onbeholpe situasies, die inligtende en kommentariërende verteller, die onoortuigende karikature en die valse, eensydige beeld van die oppervlakkige stadslewe. Die eensydige karaktertekening van 'n oorheersende vader en die invloed wat hy op sy gesin het, is ook die belangrikste beswaar teen Van aangesig tot aangesig (1942). Daarby word dit nie aanneemlik gemaak dat die kinders juis as gevolg van die vader se streng optrede verword nie, iets wat die ‘oomblik van waarheid’ en die konfrontasie met homself nie tot 'n eksistensiële belewing uitlig | |
[pagina 312]
| |
nie. In Anderkant die berge (1944) waag Van den Heever, in navolging van Malherbe se pionierstetralogie, hom op die terrein van die historiese roman deur die situering van die gegewe aan die Vaalrivier in die middel van die negentiende eeu. In teenstelling tot Malherbe se arbeidsvreugde is Van den Heever se roman wesentlik 'n verdere verwerking van sy bekende motiewe (oorheersende vaderfiguur, botsing tussen vader en seun, ongelukkige huwelik), al voeg hy tog iets nuuts hieraan toe deur sterk opponerende karakters teenoor mekaar te plaas en op dié wyse 'n reeks kontraste en parallelismes te verkry. Die held (1948) is weer 'n voortsetting van Van den Heever se psigologiese realisme deur 'n beeld van die minderwaardigheid van die Afrikaner in die stad met behulp van eensydige karakters en ideologiese gesprekke oor ekonomies-maatskaplike en kulturele probleme. In Vannag kom die ryp (1952) verwerk hy andermaal die tema van huweliksontwrigting, terwyl Dirk se oorwinning (1952) die ontwikkelingsgang van 'n weeskind tot kunstenaar gee. Met nie een van hierdie romans slaag Van den Heever daarin om sy vroeëre hoogtepunte ook maar naasteby te ewenaar nie. Die herhaalde aanwending van 'n uitgediende tematiek wys duidelik op 'n verstarring in sy werk. Ook wat sy novelles, kortverhale en sketse betref, is daar heelparty onaanvaarbare karakters, onegte situasies en herhaling van vroeëre temas, al vermy hy in die korter werke meestal die langdradige sielkundige ontrafelings van sy romans en is die styl oor die algemeen soberder. Kringloop van die winde (1945) bevat drie novelles. Daiel se afskeid vertel die verhaal van 'n arm, versukkelde boer wat die geleentheid kry om met die hulp van 'n patronerende prokureur (vgl. Jochem van Bruggen se Kasper Booysen) op sy eie plasie te boer, maar wat as gevolg van herhaalde waansinaanvalle besluit om liewer soos vroeër alleen rond te swerf (vgl. Somer). Afgesien van die spronge in die verhaalgang wat aan die novelle 'n episodiese struktuur gee, offer Van den Heever aan die einde 'n realistiese oplossing (behandeling in 'n gestig) op ter wille van die vae romantiek van 'n ewige swerwer, iets waaruit die basiese dualisme in sy werk weer eens duidelik blyk. In Vyand, 'n episode uit die 1914-Rebellie, maak Van den Heever gebruik van die tegniek van verskillende vertellers en bereik hy 'n treffende teenstelling tussen die twee broers met hulle verskillende lojaliteite. Swakker is Die ontwaking van Jacques Duvenhage, wat in 'n soort Kromburg-wêreld afspeel, maar as gevolg van die karige dialoog, inligtende verteller en karikaturale figure nie enigsins tot lewe kom nie. In die eerste
| |
[pagina 313]
| |
afdeling van Woestynsand dek die spore (1946) bundel Van den Heever 'n tweehonderdtal ideë en besinnings wat die puntigheid van die aforisme (vgl. Langenhoven) mis, terwyl die twee novelles Twyfel en Geloof allegories die verhale van Ahasveros en Moses onderskeidelik vertel. Oordrewe satire en karikature ontsier die novelle Marthinus se roem (1949), wat tematies baie nóú by Van aangesig tot aangesig aansluit, terwyl die milieu van Koppiesburg (vgl. Die ontwaking van Jacques Duvenhage) niks anders as 'n tweede Kromburg is nie. Die verhale in Die laaste baken (1951) en Beelde in die stroom (1956; bestaande uit twaalf stukke uit Kruispad en nege nuwe verhale) dra niks by tot die beeld van Van den Heever as kortverhaalskrywer nie, terwyl Mens en woord (1947) en Delwer en sif (1954) benewens enkele sketse vae en onhelder opstelle oor algemene literêre en kulturele sake bevat. Die beste deel van Van den Heever se latere werk berus op die evokasie van 'n gelukkige jeug op die plaas: die sketsereeks Jeug (1951) en die nuwe stukke in Swaard van die oomblik (1954), wat hy saam met 'n paar oues uit Kruispad en Mens en woord bundel. As gevolg van die newelagtige voorstellings, gebrek aan beelding en slordige tegniek moes Van den Heever betreklik vroeg sy posisie as digter prysgee, terwyl hy as prosaïs ná 'n aarselende inset in die jare 1935-1939 sy suiwerste werke lewer en daarna tevergeefs probeer om die psigologies-realistiese roman in Afrikaans te verfyn. Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde berus op sy gevoelige uitbeelding van 'n felle oesseisoen in Somer, 'n kragtige beeld van 'n vereensaamde mens se stryd teen die wetmatigheid van die ewige kringloop in Laat vrugte, enkele bevredigende kortverhale en 'n aantal gedigte waarin stemminge fyn verwoord is of bepaalde figure draers van 'n elegiese gevoel word. Die wydlopigheid en afwesigheid van enige dramatiese progressie of noodwendigheid ontsier egter die grootste deel van sy poësie, terwyl die latere romans as gevolg van die onegte wêreld, oordrewe karakterisering en futlose satire oor die algemeen as mislukkings beskou moet word. Literêr-histories is hy egter van belang as eerste Dertiger op die gebied van die poësie en as verfyner van die romantiese stylrigting in die Afrikaanse prosa. | |
III. I.D. du Plessisizak david du plessis is op 25 Junie 1900 op Philipstown gebore en ontvang sy skoolopleiding op Steynsburg, Petrusville en later aan die Hoër Seunskool Wynberg in Kaapstad. Ná sy studie aan die Universiteit van Kaapstad is hy 'n tyd lank onderwyser op Worcester, joernalis in die redaksie van Die Burger en Die Huisgenoot en daarna lektor aan die Kaapse Tegniese Kollege. In hierdie jare ontstaan sy belangstelling in sport (veral rugby) en die maatskaplike lewe en kulturele produkte van die Maleiers. In 1932 aanvaar hy 'n aanstelling as lektor aan die Universiteit van Kaapstad en in 1935 promoveer hy met 'n proefskrif oor Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied. In die dertigerjare reis hy heelwat in die buiteland en besoek onder meer Europa (waar hy die Berlynse Olimpiese Spele van 1936 bywoon), die Ooste (o.m. Java) en Suid-Amerika. In 1948 word hy hoof van die Instituut vir Maleise Studies aan die Kaapstadse Universiteit en van 1953 tot 1963 dien hy as kommissaris en later sekretaris en adviseur vir Kleurlingsake, 'n betrekking wat hom in staat stel om heelwat waardevolle werk vir dié bevolkingsgroep te | |
[pagina 314]
| |
doen (o.m. ook vir die oprigting van die Universiteit van Wes-Kaapland, waarvan hy die eerste kanselier word). In 1937 word sy bundels Vreemde liefde en Ballades met die Hertzogprys vir Poësie bekroon, terwyl hy in 1962 die Scheepersprys vir Jeuglektuur ontvang. Van die Universiteit van Kaapstad ontvang hy 'n eredoktoraat. Op 11 Desember 1981 is hy in Kaapstad oorlede. Du Plessis is een van die veelsydigste en vrugbaarste skrywers wat die Afrikaanse letterkunde nog gehad het. Naas jeugverhale, navertellings van ou legendes en volksverhale, spookstories, kortverhale, essays, werke oor die Maleiers en 'n outobiografie is hy die skrywer van een-en-twintig bundels poësie - bloemlesings en versamelings uitgesonderd - waarin hy uiteenlopende vorme soos die ballade en sonnet, die biegvers en hekeldig, die volkse vers en kwatryn beoefen. Ongelukkig gaan hierdie verskeidenheid en vrugbaarheid nie altyd met gehalte gepaard nie. Aanvanklik sit Du Plessis met sy poësie die lyn van Keet, Visser en veral Leipoldt voort deur die liedagtigheid, die beskrywings van die Karoo, die belangstelling in die Ooste en die gebruik van die fraai, eksotiese woord en pralende beeld, en beoefen hy 'n tipe folkloristies-romantiese digkuns wat van heelparty retoriese elemente gebruik maak en op uitgediende literêre tradisies steun. Onder invloed van die vroeë W.E.G. en Van Wyk Louw verfyn hy sy vers en sluit hy aan by die persoonlike biegkuns van Dertig, wat by hom die vorm aanneem van 'n belydenis oor sy eie eensaamheid en stryd teen die vleeslike. Hierdie aansluiting by twee verskillende tradisies bring 'n sekere tweeslagtigheid in sy vers. 'n Mens kry egter die gevoel dat hy slegs toevallig Dertiger was en dat sy wesentlike stylaard dié van die uiterlike sierpoësie met sy eksotiese woorde, flambojante beelde en sangerige strofes is, al probeer hy die gebrek aan binding en dramatiese gang en die veelwoordigheid besweer deur die lengtebeperking wat die kwatryn en pantoen hom oplê. Die bewustelike beoefening van die kunslied en die eksotiese boustof gee dikwels 'n sekere bestudeerdheid, afgeleidheid en selfs opportunisme aan sy kuns, wat saam met die slordige woordkeuse, rymdwang en hortende ritme sy werk ontsier. Du Plessis publiseer reeds sedert 1920 gedigte in die Kwartaalblad van die Uniwersiteit van Kaapstad, Die Huisgenoot, Die Kleinspan en Die Nuwe Brandwag, maar neem slegs 'n klein keur daaruit op in sy debuut, Lied van Ali en ander gedigte (1931). Soos in die geval van sommige ander digters uit die twintigerjare is dié bundel tematies gerubriseer, en naas invloede van Perk en die Pre-Raphaeliete sluit hy met sy liedjies aan by Keet en Leipoldt. ‘Gee my’ het 'n sekere bekoring, maar word 'n
| |
[pagina 315]
| |
blote katalogus van die hele Karoo, sonder enige logiese gang in die opbou, terwyl die ‘Gee my’-inset regstreeks by Leipoldt aansluit. Ook by Visser - oor wie hy 'n in memoriam-vers met gebruik van wendinge en woorde uit sy poësie skryf - sluit hy direk aan in 'n gedig soos ‘Blomme in Adderleystraat’, wat sterk aan ‘Waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand’ herinner. Die suiwerste werk bereik hy in enkele gevoelige natuurgedigte, soos ‘As my hart nou wil sing’ en veral ‘Kelkiewyn’ met sy fyn klanknabootsing, terwyl sy skilderende tegniek en belangstelling in die Ooste veral tot uiting kom in die vier ballades waarmee die bundel open en wat handel oor Ali se vergeefse liefde vir die Sultan se vrou. Wat hier opval, is die flambojante woordgebruik, die veelvuldige vergelykings en die aksentuering van die adjektief deur die plasing daarvan aan die begin van 'n versreël. Die bundel bevat ook 'n hele reeks vertalings uit die Franse poësie, o.m. uit Verlaine, Hugo en Rostand. In die Sabie (1932), Du Plessis se tweede bundel, swaai heeltemal weg van die eenvoudige liedjie of die Oosterse sfeer van die ballades en bestaan uit 'n reeks hekelverse oor aktuele sake, soos die spellingstryd, die Du Plessis-kerksaak en politieke toestande. Soos in die Middeleeuse diere-epos word dit alles voorgestel deur middel van beelde uit die dierewêreld, mes die ‘windhond’ as hooffiguur. Alhoewel Du Plessis soms tref met sy effektiewe woordgebruik en volkse beelde, ly die vers aan 'n metriese gladheid, is die toespelings te vaag en mis die hele reeks die fyn geestigheid wat die wisselwerking tussen mens en dier in die Middeleeuse diereepos juis so boeiend maak. In nog sterker mate geld hierdie besware vir Skermutseling en skote (1943), waarin hy die spot wil dryf met literêre toestande (die V.V.B., die stryd oor Sy kom met die sekelmaan en Kees Konyn) en die politieke situasie oor die algemeen. Dit is 'n soort vers wat deur sy joernalistieke vlotheid slegs 'n kortstondige bekoring het, terwyl geen poging aangewend word om die aktuele gebeure tot 'n universeler vlak te verhef nie. Intussen leer Du Plessis as dosent aan die Universiteit van Kaapstad die broers Louw persoonlik ken en verskyn W.E.G. Louw se eerste bundel, Die ryke dwaas, in 1934. In hierdie dampkring voel hy hom aangetrokke tot 'n meer ‘indiwidualistiese’ of 'n persoonliker biegvers, iets wat in die bundels Stryd (1935), Vreemde liefde (1937) en Kwatryne (1941) gestalte vind. In Stryd kry ons die belydenis van 'n vereensaamde enkeling wat in konflik met die sintuiglikheid van die bloed gewikkel is en wat strewe na 'n volmaakte suiwerheid. Die reeks belydenissonnette ‘Duister weë’, waarmee die bundel open, staan sterk onder invloed van Perk en word ontsier deur rymdwang, geykte idiome, verslete beeldspraak en die herhaalde gebruik van die ‘van’-konstruksie en samestellings met die woord ‘lewe’ waardeur hy sy vers wil verdiep. In die gedigte wat daarop volg, treur hy telkens oor ‘verlore kanse’ en wil hy (soos Leipoldt) na die natuur terugkeer. Suiwerder is die weemoedsverse, soos die fyn liefdesgedig ‘Offerande’, wat egter deur die eksplisiete beelding (‘somber boom van smart’) ontsier word, die mooi herbelewing van die liefde in | |
[pagina 316]
| |
‘Et praeterea nihil’ met 'n reminissensie aan Leipoldt en enkele voorbedde van verouderde digterlike diksie (soos ‘Nag se vleuels’) en die indiwidualistiese ‘Eenling is die mens gehore’. In die reeks ‘In die Karoo’ slaan Leipoldt soms deur in die woordkeuse en die katalogiserende opnoem van die plante, terwyl die sekstet van ‘Reën’ aan ‘Die vlakte’ van Celliers herinner. Daarby is 'n mens - soos Ernst van Heerden dit geformuleer het - ‘by die sonnette ... (soms) pynlik bewus van hul sonnetagtigheid’ (Rekernskap, p. 46), al bereik Du Plessis iets moois in ‘Koppies’ met sy verbinding van Griekse mitologie en voorwêreldlike Karoo. In die bundel Vreemde liefde, wat regstreeks by Stryd aansluit, maak hy gebruik van verskeie modewoorde (soos ‘steile hellings’, ‘bitter’, ‘magiese deurhuiwering’, ‘steiltes’ en ‘skemering’) uit Die ryke dwaas en Alleenspraak, iets wat bewys lewer van hoe gou hy invloede (onverwerk) kan oorneem. Die bundel het iets van 'n epiese gang en gee vir die eerste keer in die Afrikaanse letterkunde die probleem van die homoërotiek (vgl. ook ‘Die redder’ uit Gevreesde vriend): die enkeling wat alleen teen die hartstog moet veg (afdeling 1), die oorgawe aan 'n geliefde (afdeling 2), die verwydering en herinnering aan hulle saamwees (afdeling 3) en uiteindelik 'n (onoortuigende) oplossing met sekere religieuse bowetone (afdeling 4). Alhoewel Du Plessis se vers in hierdie bundel oor die algemeen natuurliker en minder retories as vroeër is, word dit - afgesien van die steurende invloed van die Louws - ontsier deurdat dit te veel vassteek in 'n biografiese vertrekpunt wat nie deel van die boustof vorm nie
(vgl. bv. ‘Dat vreugde uit pyn kom’) en 'n newelagtigheid in die hand werk. Dit geld ook vir ‘As ek my vreemde liefde bloot moes lê’ wat as inleidende vers 'n sleutel tot die res moet wees, maar wat deur sy vaagheid op uiteenlopende vorme van die liefde betrekking kan hê en nie die probleem van die homoërotiese mens primêr stel nie. Die geslaagdste verse in die bundel bereik hy in die mymering oor die verbygegane liefde, soos in ‘Ek wonder of jy soms’ met sy mooi beelde en natuurlike ritme. Die vyftigtal Kwatryne, wat oorwegend van die abab-rymskema gebruik maak, toon nog woordelikse ooreenkomste met W.E.G. Louw en Van Wyk Louw, sluit soms by die ouer Afrikaanse digkuns aan (bv. by Marais in ‘O Liefde dieper as die diepste see’), maak op 'n hinderlike wyse van eksplisiete beelding gebruik (bv. ‘winter van ons afskeid’, ‘suile van herinnering’) en word ontsier deur die vaagheid oor die spesifieke ‘nood’, ‘verlange’ en ‘heerlikheid’ van die spreker. Oor die algemeen toon Du Plessis se verskuns hier egter 'n vooruitgang deurdat hy - onder invloed van De Haan, Boutens en Willem de Mérode - die kultus van die mooi woord met die streng vorm van die kwatryn probeer onderskep. Teenoor die eerste afdeling hoofsaaklik belydende kwatryne, wat regstreeks by Vreemde liefde aansluit en deur hulle newelagtigheid minder aantreklik is, bereik hy soms iets moois in die tweede groep met hulle reisindrukke en natuursienings (‘Egipte’, ‘In Djokjacarta’), die uitbeelding van Oosterse en Maleiergestaltes (‘Voorbode’, ‘Chalifah’, ‘Piekniek’, ‘Tempel-optog’) en soms flitsende waarnemings (‘Duiwe’), terwyl hy in die derde afdeling met die siening van die verganklikheid van die lewe en die
‘Carpe diem’-gedagte tematies by die kwatryne van Omar Khayyám
| |
[pagina 317]
| |
aansluit. Met sy kwatryne dra Du Plessis iets wesentliks by tot die digkuns van Dertig, al mis sommige van dié verse die sterk sluitende eenheid van die Persiese kwatryn en al buit hy deur sy voorkeur vir die abab-skema nie die moontlikhede van dié kategorie (twee stuwingslyne, kontraswerking, spanning en ontspanning) ten volle uit nie. Dat Du Plessis egter sy digkuns nie volledig in die rigting van Dertig laat ontwikkel het nie, word onder meer bewys deur die feit dat hy in die tyd van Stryd en Vreemde liefde ook die meer volkse rigting van Lied van Ali verder uitbou. Met die bundel Ballades, wat hy in 1937 publiseer, word hy bekoor deur die flambojante, kleurryke, gloeiende, eksotiese woord en word hy verlei om op die klank af te skrywe, sonder dat elke woord of beeld verantwoord is en die noodwendige ordening en opbou van 'n situasie dikwels ontbreek. Heelparty van die verse maak gebruik van die omslagtige aanbod, verouderde uitdrukkinge en singende refrein van die tradisionele ballade, en, soos H.A. Mulder aangetoon het, word die eentonigheid van motiewe, die oorgelewerde toneeldekor, die uiterlike praal en die ‘wonderlik-verslete ballade-rekwisiete’ (Opstelle oor poësie, p. 35) 'n belangrike beswaar teen die gedigte, veral as hy die voortgang van die verhaal ter wille van sy beskrywingswellus opoffer. Die beste enkele ballade is ‘Rietfontein’, waarin hy die Middeleeuse minnenyd en wraakgedagtes op 'n Afrikaanse gegewe transponeer en deur die geleidelike (hoewel enigsins geforseerde) progressie in die refrein iets dramaties verkry. Die eksotiese wêreld en die kleureskittering van sy ballades en Oosterse verse bereik 'n groter suiwerheid in sommige gedigte uit Die vlammende fez (1944) waarin hy meer spesifiek die Maleier, sy wêreld, geloof en kultuur as boustof neem. Telkens word 'n bepaalde faset van die Maleiers se lewe - soms met 'n sekere sosiale deernis - belig en bereik Du Plessis hoogtepunte met sy uitbeelding van groepe (‘Karnaval’) en veral figure, soos in ‘Katrina’ (die straatvrou) en veral ‘Kaalvoet-klonkie’, wat - ten spyte van die Leipoldtiaanse vrae - 'n oortuigende beeld van die groenteverkopertjie met sy naïewe refrein gee. By hierdie gedigte sluit ook aan sy studies oor die Maleiers (Bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied, 1935; Die Maleise samelewing aan die Kaap, 1939; The Cape Malays, 1944; en saam met C.A. Lückhoff The Malay quarter and its people, 1953) en sy versameling liedere (Maleise liedereskat, 1939), moppies (Kaapse moppies, 1977), sprokies, fabels en legendes (Uit die Slamse buurt, twee dele, 1939, in 1978 in gekeurde vorm as Die Maboersa en ander Kaapse stories uitgegee); Die gevleuelde perd en ander Kaapse stories, 1943; Tales from the Malay Quarter, 1945; Doederomandro en ander Kaapse stories, 1970; en Sapen Sewekop en ander Kaapse stories, 1971). Land van ons vadere (1945), wat - net soos Die vlammende fez - deur Le Roux Smith le Roux geïllustreer is, bevat naas enkele natuurtonele en historiese beelde 'n ernstige bekommernis oor volkswakhede en -probleme wat egter te verstandelik en beredeneerd uitgewerk word, alhoewel hy hier tog 'n soberder tipe vers probeer skryf. Met die Bloemlesing (1947), voorafgegaan deur twee (oorwegend vae en onbevredigende) credo's, wou Du Plessis self 'n bepaalde fase in sy digkuns afbaken en 'n bestekopname van sy poësie tot op daardie datum maak. Ballade van die eensame seeman (1949), wat hierna verskyn, het inderdaad die vermoede gewek dat hy met die sterker vormtug en groter beheer oor die flambojante woord 'n nuwe periode in sy werk wou inlei. Die gedig, wat uit vyf en sewentig kwatryne met gekruiste rym | |
[pagina 318]
| |
bestaan, is 'n monoloog van die ‘eensame seeman’ wat sy geliefde vriend verloor en daarna in afsondering die sin van die liefde en die lewe vir homself ontdek. Die boustof herinner aan Coleridge se The rime of the ancient mariner en Melville se Moby,Dick, maar toon ook invloed van Campbell se The flaming terrapin, Van Wyk Louw se ‘Die swart luiperd’ en Watermeyer se Sekel en simbaal. Die verhalende eerste deel met sy plek-plek treffende sienings is die bevredigendste, terwyl die liriese tweede deel met sy belydenisse, oorpeinsings en moralisasies die vers laat verbrokkel. Opvallend is hier die feit dat Du Plessis ewe gemaklik selfstandige kwatryne uit vorige bundels as deel van die ballade invoeg, 'n praktyk wat hy reeds vroeër met die oorname van verse uit Stryd in Vreemde liefde aangewend het en waarmee hy die vermoede bevestig dat sy kwatryne heel dikwels 'n organiese kern en selfstandigheid mis. Wat hierna nog van Du Plessis op poësiegebied verskyn, het geen wesentlike invloed meer op die ontwikkeling van die Afrikaanse poësie nie. Lig en skaduwee (1952) is 'n mengelbundel wat natuurverse, persoonlike belydenisse, ‘nasionale’ liedere, hekelverse, liefdesgedigte en mymeringe oor lewe en dood bevat wat gesamentlik feitlik 'n spektrale beeld van alle genres en kategorieë gee wat Du Plessis vroeër beoefen het. Slegs die ses pantoens (vgl. Hendrik de Vries) bring iets nuuts in sy verskuns. Die bundel Verhalende ballades (1952) is 'n heruitgawe van ou werk, aangevul met twee nuwes op Maleise en Bantoemotiewe. Die sanger, die bose en die lied (1955) is die verhaal van 'n sanger wat na 'n lang tyd na sy land terugkeer en 'n boodskap - by wyse van liedere uit Land van ons vadere! - aan sy volk voorsing, maar dit misluk sowel as epiese vers en as program vir 'n nuwe inset in sy poësie. In 'n viertal bundels ‘versamel’ Du Plessis daarna telkens sy gedigte: Versamelde verse (1957), wat - in teenstelling tot die Bloemlesing van vroeër - op 'n chronologiese indeling berus, Versamelde ballades (1961), Karoo-verse (1965) en Vaderlandse verse (1966), telkens met toevoeging van enkele nuwe gedigte. In From a Persian garden (1959) vertaal hy 'n aantal kwatryne van Omar Khayyám, terwyl hy in Terugblik (1967) 'n vers met 'n ‘moderner’ aanskyn en probleemveld beoefen. Opmerklik hierin is die reeks nuwe pantoens met hulle volkse inslag en die lang kwatrynereeks ‘Terugblik’ (vgl. ‘Vraagteken’ uit Karoo-verse en Vaderlandse verse) wat hier en daar 'n mooi beeld uit die kinderjare bevat, maar te bespiegelend raak en die
nodige samehang mis. In Sjeg Joesoef (1970), aan wie hy reeds in Die vlammende fez 'n gedig
| |
[pagina 319]
| |
gewy het, gee hy by wyse van 'n monoloog in (meestal) vyfvoetige rymlose jambiese verse die lewe van die heilige weer. Terselfdertyd, alhoewel baie vaag en op die agtergrond, bevat die gedig 'n besinning oor die Suid-Afrikaanse rasseprobleem. Hierdie besinning voer hy verder in Ballade van broer Blindeman (1973), 'n titel wat ooreenstem met 'n gedig uit Leipoldt se Skoonheidstroos, maar origens niks daarmee te make het nie. Alhoewel Du Plessis se vers hierin 'n groter soberheid en afgewerkt-heid bereik en enkele beelde uit die Maleierlewe treffend is, mis die geheel die nodige samehang en is die kleurprobleem te vaag en op die agtergrond. Dit geld ook vir die gedigte in The passing show (1975), wat heel dikwels 'n sterk anekdotiese inslag het en 'n te aarselende en versigtige ‘aanklag’ teen diskriminasie is. In Song of Venus (1976) bundel hy 'n aantal liefdesverse met mitologiese motiewe. Ook Raamwerk vir Suid-Afrika (1980), wat hy as 'n ‘Credo op rym’ aanbied, bevat gedigte oor die rasseprobleem en die toekoms van die Afrikaner, telkens met 'n sterk bewerende en programmatiese inslag in 'n ses- of sewe-reëlige vers waarin die beelding meer as wenslik afwesig is. Die gedigte in die eerste afdeling van dié bundel is 'n heruitgawe van gedeeltes van Land van ons vadere. By geleentheid van sy tagtigste verjaardag in 1980 versamel Du Plessis sy poësie in Mens en ster wat ook ongepubliseerde verse uit die periode 1925-1937 bevat. Afgesien van sy navertellings van Maleise verhale en legendes, wat in die eerste instansie kultuurhistories belangrik is, bevat Du Plessis se prosa weinig wat 'n literêre toets kan deurstaan. Naas sy weerga we van Legendes van alle nasies (1932) skryf hy vir die jeug 'n aantal rugbyverhale waarmee hy bewondering vir die sportman wil wek: Die Springbok (1931), Die silwervaring (1933), Die rugbykroon (1934) en Rugby in Rio (1941). Hierby sluit ook Olimpiade (1941) aan, terwyl hy in Die skat van Robbeneiland (1940) en Hart van Java (1942) die gebied van die spanningsverhaal betree en in Hasie by die dam (1966) vir die kleuters skryf. Die oog van Boeddha (1944), wat op 'n onvoltooide manuskrip van H. Luhis berus, gee 'n verskeidenheid verhale met 'n Oosterse en see-agtergrond, terwyl hy saam met H.R. Cooper die geskiedenis van Die wrak van die Grosvenor (1956) oorvertel. Die reisbeskrywing Kom reis met my (1948) handel oor sy indrukke van die Ooste, Suid-Amerika en Europa. In aansluiting by die spookverhaalkultus van Leipoldt, Marais en Langenhoven bundel hy 'n aantal verhale oor bonatuurlike gevalle in Uit die ander wêreld (1935), Goëlery (1941; in 1980 opnuut uitgegee met byvoeging van nuwe verhale as Uitgesoekte goëlstories), Afrikaanse goëlstories (twee dele, 1942) en Poltergeists of the South (1966). In Die wedstryd (1936), Die Corcovado (1942), Die verbode ryk (1943), Gevreesde vriend (1946) en Moleste op die Albatros (1978) versamel hy sy kortverhale, waarin hy meestal mense teen 'n plattelandse agtergrond laat optree (dikwels met lewensroeping as tema), die lewe van die Kleurling en Maleier (met 'n begrip vir die patos van hulle bestaan) uitbeeld of iets van die bonatuurlike, geheimsinnige en onverklaarbare van die lewe suggereer. Die meeste van hierdie verhale word egter bederf deur stukke beskrywing wat niks met die gebeure te make | |
[pagina 320]
| |
het nie, motiewe wat halfpad bly hang en nie tot 'n bevredigende eindpunt gevoer word nie, 'n te abrupte afwikkeling of moraliserende slot en veral deur die verrassing naby die einde, wat telkens voorkom en iets resepmatigs aan Du Plessis se werk gee. In Goede dood (1953), Versamelde prosa (1960) en Drie wêrelde (1970) gee hy bloemlesings uit verskillende fasette van sy prosakuns, telkens met toevoegings van nuwe werk. Versamelde prosa bevat ook 'n keur uit die vyftigtal essays wat hy in 1952 as Die mag van die woord bundel, maar wat die nodige kernagtigheid en skerpheid van die Engelse essay mis. Aantekeninge uit Tuynstraat (1975) bevat Du Plessis se memoires, o.m. onderhoudende vertellings oor sy vriendskappe met Leipoldt en literêre figure uit die dertigerjare. Du Plessis lewer dus sy beste werk met sensitiewe impressies en belydenisse, gevoelige en beeldende kwatryne en veral met enkele gestaltes uit die Kaapse Kleurling- en Maleierwêreld. Literêr-histories is sy werk van belang deurdat hy 'n aandeel het aan die ‘indiwidualistiese’ fase van Dertig en die eksotiese ballade druk beoefen, terwyl sy optekeninge en navertellings van Maleierlied ere en -verhale veral van kultuurhistoriese waarde is. As skrywer van jeugverhale sorg hy vir die nodige leesstof vir skoolgaande kinders in 'n stadium toe daar nog betreklik min op dié gebied in Afrikaans beskikbaar was. As skrywer van kortverhale is sy werk egter meestal te resepmatig, gefabriseerd en futloos om 'n belangrike bydrae op dié gebied te wees. | |
IV S. Ign. Mockesolomon ignatius mocke 25 April 1912 in die Frankfortse distrik gebore. Ná sy skoolopleiding op Bothaville en later op Kroonstad word hy klerk in die staatsdiens in Pretoria, maar studeer terselfdertyd privaat in die regte. Daarna is hy verbonde aan Die Vaderland en Die Brandwag, word later hoofredakteur van Horison en behartig die redaksie van die letterkundige blad Helikon, waarin dikwels venynige aanvalle op die Dertigers en veral Opperman verskyn. Tans woon hy in Johannesburg. Soos C.M. van den Heever en I.D. du Plessis is Mocke 'n oorgangsfiguur wat in sy eerste werk by 'n ouer tradisie aansluit en later sterk deur jonger en beter tydgenote beïnvloed word. In Gedigte (1932) toon hy 'n verwantskap met C.M. van den Heever deur die problematiek van lewe en dood, neiging tot moralisering, oorwoekerende abstraksies en vae veralgemenings, alhoewel die bundel deur haas elke Afrikaanse digter voor hom beïnvloed is en deur die uiterlike metriese skema (Celliers en Totius), opwekkingsliedere (Celliers en enkele digters van die Tweede
| |
[pagina 321]
| |
Geslag), die kwasie-wysgerige diepsinnighede (Wassenaar en die latere Leipoldt), retoriek, Nederlandse woorde, ‘poëtiese’ jargon en rymarmoede 'n afgeleide en geforseerde indruk maak. Slegs in enkele verse, soos ‘Die Vrystaat’ met sy sterk sintuiglike waarneming en ‘Dood’ met sy verre naklanke van Hooft (soos trouens in heelparty van die ander sonnette), ontkom hy aan die gevare wat sy poësie bedreig en lewer hy iets moois. Dieselfde mymering oor lewe en dood, ewigheidsbesef, oorgawe aan stemmings, retoriese beeldspraak en onbeholpenhede kom ook voor in Vlugtige aandrif (1936), al toon die bundel minder regstreekse ïnvloede van sy voorgangers en het verse soos ‘Silhoeëtte’ en ‘Arendsvlug’ 'n sterker sintuiglike inslag. In Loflied aan die Onsterflikheid (1973) neem Mocke verbeterde en gedeeltelik herskrewe verse uit Vlugtige aandrif op en sluit hy ook 'n aantal ongebundelde liefdesgedigte van voor 1932 en enkele nuwe verse van resenter datum in. In die veertiger- en vroeë vyftigerjare skryf Mocke 'n hele aantal prosawerke teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog (In die vuurlinie, 1940, Die leeu van Wes-Transvaal, 1942) en die Rebellie (Gister die heldejare, 1941), terwyl hy in Die belofte (1941) en Die donker kleed (1942) hom op die gebied van die kortverhaal en novelle onderskeidelik waag en met Dienaar van die geskrewe woord (1941) 'n handleiding vir studente en skrywers lewer. In hierdie prosawerke val die aksent egter in so 'n mate op die geskiedenis en die idee dat die gebeure onwerklik bly, die vertelling te omslagtig word en die karakters in onwesenlike skimme veryl. Die afwesigheid van 'n boeiende verteltrant het ook tot gevolg dat die speurverhale wat hy onder die pseudoniem Mynhardt Fourie die lig laat sien, vervelige leesst of is. Soos I.D. du Plessis vind Mocke se teleurstelling as digter en sy afkeer van groter tydgenote en skerp kritici sy uiting in satiriese verse, soos die ‘klugspel in agt tonele’ Asperien vir die muse (1942 in Die Brandwag, in 1947 in boekvorm) en verskeie ongebundelde gedigte in Helikon. In die verse wat hy in Liedere van Salome en ander gedigte (1948) bundel, toon hy nog steeds deur die abstraksies, vaaghede en gebrek aan sintuiglike beelding 'n verwantskap met C.M. van den Heever, maar in die plek van ouer digters word hy nou toenemend in woordgebruik, wendinge en temas deur W.E.G. Louw, Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers beïnvloed. Die leesbaarste verse is die ‘Oorlogsgedigte’ en ‘Gebede van die sterwende soldaat’ in die tweede afdeling, wat by Die halwe kring van Van Wyk Louw aansluit, terwyl die stryd tussen liggaam en siel in die titelsiklus tot bombastiese woordrykheid lei en die verse voor 1938 (afdeling III) flou naklanke van Van den Heever en Van Wyk Louw (o.m. van ‘Vier gebede by jaargetye in die Boland’) toon. Die bloot navolgende aard van Mocke se digterskap blyk ook uit sy twee laaste digbundels, Twee lande(1953) en Die koue tye (1956), waarin hy enersyds by die sosiale realisme van Opperman, Pretorius en Watermeyer se stadsverse aansluit en deur die gebruik van | |
[pagina 322]
| |
die kwatrynvorm onder invloed van Opperman 'n tipe vers skryf waarin die woord sterker gelaai word, terwyl hy andersyds Bantoemotiewe in 'n reeks verhalende verse en sonnette ontgin, met heimwee na 'n rustige landelike bestaan verlang en met die fluitspeler en Bantoewysgeer as karakters iets van die primitiewe folklore oproep. Alhoewel Moeke telkens met treffende beelde en sienings in onderdele verras en enkele kere - soos met ‘Hysbakbestuurder’ - 'n bevredigende vers skryf, stel sowel die landelike as die stadsgedigte teleur. In die stadsverse hinder die simplistiese kyk op verontregtes, misdeeldes, verarmdes en boemelaars, die gebrek aan skerp flitsende beelde in die kwatryne wat meestal puntloos verloop, en die rymdwang en onpresiese woordgebruik wat nog steeds sy werk skaad. Die landelike verse word ontsier deurdat Mocke die primitiewe wêreldbeeld nie konsekwent volhou nie en die wysgeer-figure dikwels tot verylende abstraksies aanleiding gee. In die ‘Modjadjie’- en ‘Modemo’-verse in Die koue tye voer Mocke Bantoes as sprekers in wat sekere oergegewens uit 'n primitiewe kultuur in sonnetvorm aanbied, iets wat nie strook met die estetiese konvensies van die Renaissance en die ‘kategoriese verwagting’ wat dié spesifieke vorm by die leser wek nie. Terwyl Mocke dus in sy eerste twee bundels sterk by 'n ouer Afrikaanse tradisie aansluit, word sy laaste drie bundels deur invloede van tydgenootlike digters oorwoeker. Hy beoefen dus 'n bloot navolgende tipe poësie en skryf slegs by hoë uitsondering 'n vers wat deur 'n treffende siening of oortuigende beeld die aandag trek. |
|