Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 276]
| |
Hoofstuk 3
| |
[pagina 277]
| |
Van Bruggen van sy suiwerste novelles en die Hobsons hulle beste dierverhale; Marais versamel sy gedigte (1933) en maak 'n aansienlike toevoeging tot sy kortverhale, terwyl Leipoldt sy Skoonheidstroos (1932) en Totius sy Passieblomme (1934) publiseer. Ook ná 1935 gaan sommige van hierdie skrywers voort. Totius berym die Psalms, sorg met die bundel Skemering (1948) vir een van die hoogtepunte in sy persoonlike poësie en wy hom verder aan die hersiening van die Bybelvertaling. Sangiro publiseer min, die Hobsons voeg weinig toe aan hul beeld as skrywers, terwyl Malherbe en Van Bruggen se prosa 'n sterk dalende lyn vertoon en Leipoldt se poësie in hierdie jare 'n jammerlike insinking verteenwoordig. Die verrassendste ontwikkeling op prosagebied is die verskyning van M.E.R., wat reeds in die twintigerjare gedebuteer het, maar van haar belangrikste werk in die veertigerjare publiseer. Intussen sterf die meeste skrywers van die Eerste Geslag in hierdie tydvak: Langenhoven (1932), Marais (1936), Celliers (1940), Preller (1943), Leipoldt (1947) en Totius (1953). Die skrywers wat hoofsaaklik in die twintigerjare hulle verskyning maak, bly tot een publikasie beperk of lewer oorwegend swak werk. Met die herdruk van sy eerste bundel in 1931 trek Toon van den Heever meer aandag, maar Die speelman van Dorestad (1949) bring nie die lang verwagte bevestiging van sy digterskap nie, al dra hy by tot die kleinkuns op die gebied van die prosa met sy bundel Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer (1948), wat egter grotendeels reeds in die twintigerjare ontstaan het. Dit geld ook vir die verse wat Wassenaar, Haarhoff, Eitemal, Fagan en J.R.L. van Bruggen publiseer. Daarteenoor lewer Fagan (o.m. met Ousus) in die dertigeren Grosskopf (o.m. met Die klipdolk) in die veertigerjare verdienstelike dramas - Grosskopf sorg ook vir 'n bundel fyn vertellings - terwyl Eitemal in die vyftigerjare met Jaffie en Skaduwees teen die muur sy belangrikste werk op die gebied van die prosa publiseer. Twee outeurs wat reeds in die twintigerjare begin skryf maar hulle historiese
| |
[pagina 278]
| |
posisie as oorgangsfigure in 'n groot mate ontgroei, is I.D. du Plessis en C.M. van den Heever, wat in die beginjare liedjies, ballades, kwatryne en enkele gevoelige stemmingsverse skryf. Du Plessis toon in sy eerste gedigte sterk ooreenkomste met Leipoldt deur verse oor die natuur (die Karoo), die Ooste en die eensaamheid, terwyl hy later by die belydenispoësie van Dertig aansluit, al lewer hy sy belangrikste werk op die gebied van die folkloristies-romantiese ballade en die kwatryn. In die veertigerjare skryf hy oorwegend swak satiriese verse en slaag hy, ondanks herhaalde pogings om van sy eie werk bestek op te maak en homself te vernuwe, ook later nie daarin om iets van besondere waarde te lewer nie, terwyl sy prosa nie bo die middelmatigheid uitstyg nie. C.M. van den Heever, wat voor Du Plessis tot bundeling oorgaan, begin aarselend met poësie (1926) en prosa (1927), maar ontwikkel daarna sy stemmingspoësie en romans oor die plaas- en dorpslewe totdat hy sy beste werk met Deining (1932), Somer (1935), Aardse vlam (1938), Laat vrugte (1939) en enkele bundels kortverhale lewer. As literêre figuur gee hy - o.m. deur sy besinnende opstelle en kritiese geskrifte - tot ongeveer 1935 die toon in die nuwere literatuur aan en oefen hy ook - o.m. deur sy aandeel aan die Afrikaanse Skrywerskring - invloed op jonger skrywers uit. Daarna kom daar egter toenemend kritiek op sy werk en toon sy publikasies in die veertiger- en vyftigerjare 'n oorwegend dalende lyn. Sowel Du Plessis as Van den Heever is in 'n groot mate oorgangsfigure, al behoort hulle tot Dertig deur hulle aandeel aan die belydenispoësie, die sterk bewustheid van die taak van die digter, die beoefening van die vrye vers en die groter aandag wat die woord in hulle poësie en teoretiese geskrifte geniet. Die eerste werk van die digters wat later as die Dertigers bekend sal staan (Elisabeth Eybers uitgesonderd), verskyn in die twintigerjare in tydskrifte. Hierdie skrywers het die voordeel gehad dat hulle op 'n sekere digterlike tradisie in Afrikaans kon steun, deur middel van hulle skoolopleiding met die Afrikaanse literatuur vertroud kon raak en aan universiteite hulle studie, o.m. aan die hand van bestaande handleidings (soos dié van Van Niekerk, Pienaar en Schoonees), kon voortsit. Die deurbraak kom in die jare 1934-1937 as hulle met hul eerste digbundels 'n verrassende vernuwing in die Afrikaanse poësie bring: W.E.G. Louw met Die ryke dwaas (1934) - waarby Sy kom met die sekelmaan (1937), die biegroman van Hettie Smit, aansluit -, N.P. van Wyk Louw met Alleenspraak (1935) en Die halwe kring (1937), Uys Krige met Kentering (1935) en Elisabeth Eybers met Belydenis in die skemering (1936). In hierdie poësie - waarvan die vroegste voorbeelde eenvoudige liedjies en balladeske verse, later 'n intens persoonlike poësie oor die binnelewe van die indiwidu (sy liefde, sy geding met God en sy menswees) is - word die leser getref deur 'n veel groter professionaliteit in vergelyking met die werk voor 1930. Die nuwe kunstenaars sien die poësie as 'n bewuste taak en wil 'n vers skep waarin elke woord en beeld suiwer en artistiek bevredigend is. Daarby weier hulle om by 'n klein beperkte koloniale tradisie aan te sluit wat net plek het vir die lokale en tipiese, en eis hulle die reg op om alle gebiede van die menslike lewe te verken en in hulle poësie tot gestalte te bring. Alhoewel die werk van die Dertigers aanvanklik op die intieme binnelewe van die ek gerig en selfanalities en belydend van aard is, bring hierdie doelstelling 'n groot verskeidenheid in hulle poësie mee. Terwyl Elisabeth Eybers die wêreld van die vrou verken en albei die Louws 'n sterk roepingsbewustheid vertoon en die digter sien as 'n profeet wat alleen en afgesonderd van die massa | |
[pagina 279]
| |
sy eensame werk moet voortsit, die boodskap van 'n hoër bestaan moet bring en selfs 'n geding met God moet aanknoop, reik die ek in Uys Krige se gedigte uit na die wêreld rondom hom, na mense of dinge wat dikwels die draers van sy romantiese verlange word of na plekke wat hy met 'n intense aardse vreugde kan waarneem, selfs al is hy meestal nie in harmonie met die wêreld wat hy oproep nie. Hierdie verskeidenheid vind ook neerslag in die vorm van hulle poësie. Terwyl die ouer Afrikaanse digkuns dikwels sterk aan uiterlikhede en aan bepaalde rym- of metriese skemas gebonde was, is die nuwe poësie die resultaat van 'n strenger en verwikkelder vakmanskap wat krities teenoor eie werk staan en die intellek ten volle by die kreatiewe aktiwiteit inspan. Naas die lied en die volksballade beoefen die Dertigers in hulle eerste fase veral die sonnet, die kwatryn en die vierreëlige strofe, alhoewel Krige met sy vrye verse hier ook 'n uitsondering vorm. Die sterk gerigtheid op die self en die bewustheid van die hoë eis wat die kuns van hulle verg, laat die gevaar ontstaan van 'n estetisering, 'n oorbewuste kultus en 'n te groot afgetrokkenheid van die buitewêreld met sy prikkels. Met sy groter ontvanklikheid teenoor die buitewêreld was daar by Krige reeds van die begin af 'n ingeboude korrektief aanwesig, terwyl die ander digters geleidelik al hoe meer van die belydenis wegswaai in die rigting van 'n beeldings- en gestaltepoësie. Hierdie ontwikkeling tot objektivering kom die sterkste tot uiting by Van Wyk Louw, wat in die vroeë veertigerjare met Gestaltes en diere (1942) 'n nuwe soort psigologiese ballade beoefen waarin die persoonlikheid geprojekteer is en dramatiese monoloë skryf waarin die innerlike botsing binne die indiwidu in 'n bepaalde gestalte geplaas word wat dikwels op die rand van die waansin beweeg, terwyl hy met Raka (1941) 'n moderne epos lewer wat die spanning in twee teenstellende figure beliggaam. Ná sy worsteling met sy eie verskeurdheid as mens, soos dit tot uiting kom in erotiese en religieuse spanninge, bereik W.E.G. Louw 'n groter mate van objektiwiteit en 'n voorlopige oplossing vir hierdie probleme in Adam en ander gedigte (1944), terwyl Elisabeth Eybers - ná die belewing van die moederskap in Die stil avontuur (1939) - haar poësie tematies verruim en die persoonlike emosie in bepaalde gestaltes projekteer (Die vrou en ander verse - 1945 - en veral Die ander dors - 1946). In teenstelling tot die digters van die Eerste Geslag, wat grotendeels by verouderde literêre tradisies aansluit, staan die Dertigers veel ontvankliker teenoor die tydgenootlike poësie. Naas die werk van Cel1iers, Totius, Leipoldt (vera1 die verse oor die eensaamheid, godsdienstwyfel en swerwerskap) en Toon van den Heever (die geding met God) het die Tagtigers met hulle kunstenaarstrots en wêreldveragting en die Negentigers met hulle uitstromende, enjamberende verse en lang belydenisse oor die persoonlike lewe 'n belangrike vormende invloed op die Dertigers se werk. Daarnaas kom hulle onder die bekoring van die geslag van 1910 (A. Roland Holst, Bloem, Gossaert, De Haan), terwyl die vitalisme (Marsman) en later die onpersoonlike poësie van Nijhoff verrykend op hulle inwerk. Al die digters ondergaan ook die invloed van die Engelse romantici, die Pre-Raphaeliete, die Georgians (Brooke, Owen, Sassoon) en later Yeats en die Suid-Afrikaanse Engelse digter Roy Campbell. Vir Van Wyk Louw is die Duitse letterkunde van belang, terwyl Krige reeds vroeg in die Franse en Spaanse poësie geïnteresseerd raak en daaruit vertaal. Hierdie beïnvloeding is nie, soos dikwels in die geval van Celliers en Totius, tot die meganiese navolging van geïsoleerde verse beperk nie, maar vloei | |
[pagina 280]
| |
voort uit die organiese belewing van 'n hele geestesfeer of wêreldbeskouing. Daarnaas word die meeste van hierdie digters ook beïnvloed deur staatsteorieë (die Kommunisme en Nasionaal-Sosialisme) en die wysbegeerte (die panteïsme, die evolusieleer, Bergson se vitalisme, Schopenhauer, Nietzsche en die eksistensialisme). Hierdie digters lewe uit 'n Afrikaanse en Europese tradisie, bly voortdurend op hoogte met die jongste literatuur en geestestrominge en verwerk die prikkels van 'n ruim geesteswêreld in hulle poësie. In vergelyking met die vorige twee geslagte, wat in hulle daaglikse aktiwiteit 'n verskeidenheid beroepe beoefen wat meestal buite die literatuur lê, staan die digters van Dertig oorwegend as dosente binne die akademiese wêreld. Die poësie word dus vir hulle 'n daaglikse besigheid waarmee hulle ook letterlik aan die lewe bly. Onder die Dertigers is W.E.G. Louw met- sy eerste verse en die besielende invloed wat hy op sy tydgenote het, aanvanklik - ná C.M. van den Heever - in 'n toonaangewende posisie. In 1935 vertrek hy egter vir verdere studie na Amsterdam en word sy plek ingeneem deur N.P. van Wyk Louw, wat met sy kragtige pleidooie en oproepe, sy besinnende opstelle en veral met sy poësie die toonaangewende figuur van die generasie word. In die veertigerjare bereik W.E.G. Louw met Adam en ander gedigte en Elisabeth Eybers met Die vrou en ander verse en Die ander dors die hoogtepunte van hulle vroeë werk, maar daarna swyg Louw as digter en wy hom meer aan kritiese werk, terwyl Eybers minder skryf en met die bundel Tussensang (1950) 'n duidelike stilstand in haar poësie bereik. Uys Krige se verse word toenemend deur onversorgdheid en 'n amorfe struktuur bedreig, en in die vyftigerjare lê hy hom meer op vertalings en ander genres toe. Ook in die vroeë veertigerjare is Van Wyk Louw nog steeds die belangrikste figuur in die Afrikaanse poësie en slaag hy daarin om - meer as die ander digters -sy werk te verdiep en nuwe moontlikhede op geslaagde wyse te verwesenlik. Met uitsondering van tydskrifverse (hoofsaaklik in Standpunte) swyg hy egter ná 1942 as digter en is hy grotendeels as dramaturg en veral as essayis werksaam. In die jare 1950-1957, wanneer hy as professor in Amsterdam woonagtig is, beleef hy sy mees kreatiewe periode as kunstenaar, maar hierdie werk word - afgesien van opstelle en die bundel Nuwe verse, wat in 1954 die lig sien - eers later gepubliseer. Ook W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers en Uys Krige maak - met mindere of meerdere mate van sukses - eers ná 1955 hulle herverskyning as digters. In die veertigerjare kom 'n nuwe geslag aan die woord wat voortbou op die werk van die Dertigers, aanvanklik met die voortsetting van belydenis- en stemmingsverse sterk onder hulle invloed staan en heelparty modewoorde en wendinge van hulle oorneem. Van die begin af is die oorlog, die stad en 'n nuwe maatskaplike bewussyn egter sterker by hulle aanwesig en gee hierdie ontvanklikheid vir kontemporêre en aardser prikkels aanleiding tot 'n harder, kantiger vers, 'n meer gedronge poësie en 'n belangstelling in die ‘lelike’ kant van die werklikheid, veral soos dit in die stad belewe word. By Ernst van Heerden kom dit tot uiting in die worsteling van 'n gevoelige en weerlose mens teen die moderne wêreld en maatskappy, by S.J. Pretorius in 'n meegevoel met die verstotenes in agterbuurt en krot en by Olga Kirsch en S.V. Petersen in 'n deernis met die Jood en die Kleurling onderskeidelik. Die belangrikste digter van hierdie geslag is D.J. Opperman, wat reeds in die dertigerjare tydskrifverse en kritiek publiseer, tydens die digterlike swye van Van | |
[pagina 281]
| |
Wyk Louw in die jare 1945-1956 die literêre toneel oorheers en in baie opsigte ander moontlikhede vir die Afrikaanse poësie verken. Terwyl Dertig bedreig is deur 'n te bewuste kultivering van die indiwiduele emosies en 'n vervreemding van die wêreld deur profetiese eensaamheid en 'n aristokratiese afsydigheid, is daar by Opperman 'n verkenning van alle gebiede van die werklikheid in 'n feitlik mistieke drang tot vereenselwiging met alle aardse dinge en 'n gekonsentreerde woordekonomie wat tot uiting kom in die gedronge metafoor, die kortsluitende beeld, die formuleagtige vers en die beoefening van die moderne laaggedig, met Yeats en veral Eliot, Auden en Achterberg as buitelandse voorbeelde. Die besondere oopheid teenoor die werklikheid bring ook mee dat hy, meer as enige van sy generasiegenote, homself en sy tyd in 'n historiese perspektief plaas en sy poësie toenemend kon verruim deur groter wêrelde te betrek. Poëties en teoreties is sy werk 'n reaksie op die intieme belydenisvers wat ‘onthul’ in plaas van ‘verhul’ en 'n ontwikkeling in die rigting van 'n objektiewe poësie waarin ‘die verstand deur die oog en oor gevoed’ word, wat beeldend meevoer en nie regstreeks eksegeties werk nie. Dit is dan ook nie toevallig nie dat dit juis Opperman was wat in sy omvattende Digters van Dertig (1953) die bestek van sy voorgangers opgemaak het en deur die samestelling van 'n reeks deeglike verseboeke en deur sy aanmoediging aan jonger skrywers (vgl. o.m. Stiebeuel, 1946, saam met F.J. le Roux) 'n sterk invloed op die poësie ná hom sou hê. In sy eie werk ontwikkel hy vanaf die liefdesvers tot 'n verwikkelde laaggedig en beoefen hy die sonnet, kwatryn, siklus, alleenspraak, moderne epos (Joernaal van Jorik, 1949) en versdrama (Periandros van Korinthe, 1954) totdat hy - veel meer as in die geval van Totius - 'n verwikkelde bundeleenheid in Blom en baaierd (1956) bereik. In vergelyking met dié van Opperman is die werk van sy tydgenote minder skouspelagtig. Pretorius publiseer 'n reeks ongelyke bundels, terwyl Van Heerden se werk 'n basiese tweespalt tussen belydenis en vergestalting of objektivering toon; albei digters ontwikkel later (deels deur verwerkte Opperman-invloed) in eie rigtings en lewer met ryper werk 'n wesentlike bydrae. Die poësie ná Opperman tot omstreeks 1955 vertoon minder indrukwekkend, en onder die nuwe digters is dit net G.A. Watermeyer met 'n nuwe soort sangerige vers (Sekel en simbaal, 1948), Ina Rousseau met religieuse gedigte (Die verlate tuin, 1954) en P.J. Philander met 'n ontginning van die Kleurling-‘mite’ (Uurglas, 1955) wat die aandag trek; Sheila Cussons en Barend J. Toerien, wat albei verse tot Stiebeuel bydra, debuteer eers later. Voor die vernuwing wat met Peter Blum se Steenbok tot poolsee (1955) ingelei word, is die belangrikste verskynsel in die Afrikaanse poësie van die vyftigerjare die ontginning van 'n nuwe soort idioom wat op 'n volkspoëtiese basis berus (Van Wyk Louw in ‘Klipwerk’ uit Nuwe verse, Boerneef in Teen die helling en sy latere digbundels en Opperman - hoewel in mindere mate - in Blom en baaierd en Vergelegen). In vergelyking met die hoë vlug van die poësie is die prosa in hierdie tydvak veel minder indrukwekkend. Die Dertigers beoefen wel die kritiek en essay, maar skryf selde verhalende prosa; waar dit wel voorkom, soos in die geval van Hettie Smit se
| |
[pagina 282]
| |
Sy kom met die sekelmaan (1937) of Uys Krige se reissketse, is dit belydend en persoonlik van aard. Die romantiese tradisie vind sy voortsetting in C.M. van den Heever (Somer, 1935; Laat vrugte, 1939), terwyl I.D. du Plessis by die tradisie van die spookverhaal en die vertelling oor geheimsinnige gebeurtenisse aansluit. Die uitbeelding van die dier, oermens en die folkloristiese verhaal word beoefen deur P.J. Schoeman, G.H. Franz (Moeder Poulin, 1946) en Minnie Postma, wat legendes uit Basoetoland versamel. Die humorrealistiese lyn van Jochem van Bruggen word voortgesit deur Mikro in sy uitbeelding van Kleurlingkarakters (o.m. die Toiings- trilogie, 1934-1944) en later kleindorpse tipes, terwyl J. van Melle 'n naakter realisme beoefen, saam met C.M. van den Heever die kortverhaalkuns tot 'n hoër vlak opvoer en met Bart Nel (1936 in Nederlands, 1942 in Afrikaans) die beste ouer roman lewer. In die laat-dertiger-, veertiger- en vyftigerjare word die korter prosa, kleinrealisme en streekliteratuur druk beoefen, veral deur Boerneef met sy kontreisketse (o.m. Boplaas. 1938) en M.E.R., wat van die suiwerste prosa in Afrikaans skryf (o.m. Uit en tuis, 1946), terwyl die probleemmens aarselend by Willem van der Berg, W.A. de Klerk en C.J.M. Nienaber optree en S.V. Petersen en F.A. Venter (lg. met Swart pelgrim, 1952) meer pertinent die nood van die nie-blanke belig. Aansienlik meer vertalings as vroeër sien die lig, terwyl Helena J.F. Lochner, I.D. du Plessis, P.J. Schoeman, Mikro, W.A. de Klerk, F.A. Venter en Minnie Postma 'n groot getal kinder- en jeugboeke skryf. Veral sedert die Tweede Wêreldoorlog verhoog die vraag na ontspanningslektuur en ontstaan daar 'n massaproduksie deur die snelle ontwikkeling van die populêre tydskrif en boekskema. Meestal is hierdie verhale egter ingestel op die sensasionele en bly die gehalte laag. Die noemenswaardigste buitelandse invloede op die prosaskrywers in hierdie jare is Flaubert en Streuvels (albei op C.M. van den Heever) en Tagore en Van Deyssel (op Hettie Smit), terwyl die Tagtigers se prosastyl op Van Melle se vroeë sketse ingewerk het. Oor die algemeen is die prosa egter betreklik vry van invloede, iets wat nie noodwendig 'n ongekwalifiseerde voordeel is nie en eerder op die grotendeels ‘onderkulturele’ basis van die Afrikaanse verhaalkuns dui. As die prosa van die eerste dertig jaar van die twintigste eeu met dié in die jare | |
[pagina 283]
| |
1930-1955 vergelyk word, is daar wel sprake van 'n verdieping en verdere uitbouing van stylrigtings waarmee daar vroeër 'n aanvang gemaak word, maar - ten spyte van aarselende pogings wat van 'n wegbreek getuig - kom daar geen duidelike deurbraak op pad na iets nuuts nie. Soos in die geval van die prosa voor 1930 word die meeste werke bedreig deur 'n te versierde, liriese prosa (Malherbe, C.M. van den Heever) of 'n te bewustelik gestroopte styl (Jonker) wat geforseerd aandoen en deur 'n te uitsluitlike konsentrasie op die kleinmenslike hartstogte en emosies, selfs in gevalle waar die roman - blykens die opset van die hele verhaal - 'n groter gedagtewêreld wil belig of 'n ruimer drakrag wil hê (vgl. C.M. van den Heever). Dit geld ook vir die romans wat die stad en die stadsmens as boustof het, aangesien die belangstelling hier net verskuif, sonder om daadwerklik verdiep te word. Juis daarom is 'n roman soos Bart Nel, wat 'n beeld van die vereensaamde en alleenstaande indiwidu in sy volle menslikheid gee, so 'n merkwaardige uitsondering in die ouer Afrikaanse prosakuns. In die vyftigerjare bereik die Afrikaanse prosa inderdaad 'n soort ‘stilstand’, al word daar van tyd tot tyd op beskeie vlak verdienstelike werk gelewer. In 'n nog groter mate geld hierdie besware vir die Afrikaanse drama in dié tydvak. Die historiese rigting word aanvanklik voortgesit deur Uys Krige, terwyl Van Wyk Louw hom reeds in die dertigerjare aan die versdrama waag. Die oorheersende stroming is egter dié van die realistiese en maatskaplike probleemdrama, wat ná J.F.W. Grosskopf vera1 deur H.A. Fagan en in die veertigerjare deur W.A. de Klerk voortgesit word, terwy1 D.F. Malherbe en Jochem van Bruggen in die dertigerjare enkele van hulle romans vir die toneel verwerk. Die belangrikste bydrae tot omstreeks 1950 is op die gebied van die eenbedryf, waar Krige, De Klerk en Beukes verdienstelike werk lewer, terwy1 Malherbe met sy geswolle Bybelstukke en Beukes met sy naïewe klugte vir 'n laagtepunt sorg. In die vyftigerjare verskyn 'n aantal belangrike versdramas - Van Wyk Louw se Dias (1952), Opperman se Periandros van Korinthe (1954) en Vergelegen (1956) en Van Wyk Louw se Germanicus (1956) - wat die stand van die Afrikaanse drama opstoot van kleinmenslike patos en onbeholpe dialoog tot 'n waaragtiger tragiek en gespanne aanwending van woord en wederwoord.
| |
[pagina 284]
| |
II. Die ontwikkeling van die Afrikaanse toneel en die totstandkoming van 'n staatsteaterIn die vroeë dertigerjare word die Afrikaanse beroepstoneel opnuut gestimuleer deurdat Paul de Groot en Louis de Vriendt op hulle tweede besoeke na Suid-Afrika kom, maar hulle aanbiedings word oorskadu deur André Huguenet, wat met Ampie (Jochem van Bruggen), en Hendrik Hanekom, wat met Oom Paul (D.C. Postma) landsreise onderneem. In hierdie jare word die toneel verder verryk deur die toetrede van belangrike nuwe kunstenaars, soos Berdine Grünewald, Elsa Fouché, Ria Olivier, Aletta Gericke en Anna Neethling-Pohl, terwyl die eerste Afrikaanse rolprent, Moedertjie ('n verwerking van J.F.W. Grosskopf se In die wagkamer), in 1931 met Stephanie Faure in die hoofrol vervaardig word. As gevolg van die swak gehalte van die meeste voorstellings wat deur die beroepstoneel aangebied is, gaan verskillende belangstellendes oor tot die stigting van amateurverenigings. Reeds in 1928 ontstaan die Krugersdorpse Munisipale Vereniging vir Drama en Opera, wat veral in die dertigerjare bedrywig is, terwyl die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging (K.A.T.) in 1934 met H.A. en Queenie Fagan, A.M. Viljoen, I.W. van der Merwe, Anna Neethling-Pohl, M.I. Murray, Herman Rooseboom, N.P. van Wyk Louw en Jacques Malan as bestuurslede gestig word met die doel om die Afrikaanse toneel deur opvoerings, besprekings en vertalings te bevorder, 'n toneelbiblioteek en 'n teater met die nodige fasiliteite op te rig en die Afrikaanse Eisteddfod te ondersteun. In sy aktiefste jare doen die K.A.T. heelwat aan die bevordering van die Afrikaanse drama en voer hulle stukke soos Rooibruin blare en Ruwe erts (Fagan), Die seeman (Malherbe), Ousus (Fagan), Die heks (Leipoldt) en eenbedrywe van Grosskopf op. In 1936 kom die Volksteater in Pretoria onder die besielende leiding van Anna Neethling-Pohl en met die medewerking van o.a. Leonie Pienaar en Napier de Bruyn tot stand en word stukke van Grosskopf, Fagan, Schumann, Van Wyk Louw, Steyn en Malherbe opgevoer. Tydens die Tweede Wêreldoorlog word hierdie aktiwiteit voortgesit en verkry Anna Neethling-Pohl ook die medewerking van Gert van den Bergh en Lydia Lindeque. Reeds vroeg kom daar 'n poging van die kant van die F.A.K. om die verskillende beroepsgeselskappe te laat saamwerk deur die oprigting van 'n Toneelbond (1936). Dit misluk egter as gevolg van gebrek aan geesdrif en finansiële steun, en in die veertigerjare ontvang verskeie van die toneelgeselskappe hulp van die Reddingsdaadbond. Die samewerking wat daar wel kom, ontstaan onder die verskillende amateurgroepe as daar in 1938 oorgegaan word tot die stigting van die Federasie van Amateurtoneelvereniginge in Suidelike Afrika (F.A.T.S.A.) met P.P. Breytenbach as eerste voorsitter. Vroeg in die veertigerjare bepleit die leiers van F.A.T.S.A. 'n staatsondersteunde toneel, en in 1945 vind 'n landswye debat oor die hele aangeleentheid plaas, o.m. gestimuleer deur die Suid-Afrikaanse Akademie wat die saak tydens sy jaarvergadering in Bloemfontein aanroer. Hierdie pogings lei uiteindelik in 1947 tot die oprigting van die Nasionale Toneelorganisasie (N.T.O.) met Breytenbach as voorsitter en o.a. Anna Neethling-Pohl en Huguenet as lede. Afrikaanse spelers wat vir die N.T.O. optree, is o.a. Huguenet, Siegfried Mynhardt, | |
[pagina 285]
| |
Gert van den Bergh, Anna Neethling-Pohl, Hendrik, Mathilde en Tilana Hanekom, Eghard van der Hoven en Johan Fourie. Oorspronklike Afrikaanse stukke wat die N.T.O. opvoer, is o.m. Nag het die wind gebring, Die jaar van die vuur-os en Die twisappel (De Klerk), As ons twee eers getroud is en Verkiesing sonder politiek (Beukes), Die ryk weduwee (Krige), So praat die ou rivier (Eitemal) en Germanicus (Van Wyk Louw). Die N.T.O. opereer landswyd en handhaaf op die gebied van spel en regie 'n veel hoër peil as wat vroeër die geval was. 'n Belangrike probleem vir die N.T.O. was egter die geografiese uitgebreidheid en daarmee saam die yl bevolking van die Suid-Afrikaanse platteland wat deur die een enkele organisasie bedien moes word. Daarby was die keuse van stukke dikwels swak of betwisbaar en het die N.T:O. goeie Afrikaanse dramas - soos Opperman se Periandros van Korinthe en Vergelegen en Krige se Die goue kring - vir opvoering oor die hoof gesien ten gunste van populêre stukke wat nie die ontwikkeling van 'n eie toneelliteratuur kon bevorder nie. Die gevolg hiervan was dan ook dat die N.T.O. by herhaling in die vyftigerjare in heftige polemieke verwikkel geraak het en telkens by monde van die voorsitter van die Beheerraad sy optrede moes verdedig. | |
III. Kritiek en polemiekeTerwyl die kritiese geskrifte in Afrikaans tot 1930 nog grotendeels aanmoedigend van aard was en regstreeks in diens van die taalstryd gestaan het, is dit nie meer in dieselfde mate ná 1930 die geval nie. Met die vernuwing van Dertig kom daar ook 'n nuwe inset vir die kritiek deurdat die ligter oordeel en aanmoedigende inslag deur 'n strenger artistieke toets en suiwerder maatstawe vervang word, terwyl die aard van die nuwe poësie die kritikus tot 'n gevoeliger registrasie en wetenskapliker verantwoording van sy oordeel dwing. Daarby is die pleidooie van die nuwe geslag nie meer in diens van 'n Afrikaanse Beweging in die eng sin van die woord nie, maar
| |
[pagina 286]
| |
'n standpuntinname ten opsigte van hulle taak as woordkunstenaars in die algemeen. Terselfdertyd word die kritiek toenemend verryk deur 'n aantal deeglike studies in die vorm van akademiese proefskrifte of herwaarderings van ouer skrywers se werk. In die dertigerjare is E.C. Pienaar en veral G. Dekker en F.E.J. Malherbe die aktiefste resensente op die gebied van die poësie, terwyl P.C. Schoonees hom veral op die prosa toelê. Hierdie kritiek verskyn hoofsaaklik in Die Huisgenoot, Die Nuwe Brandwag en Ons Eie Boek, maar die meeste dagblaaie en koerante (Die Burger, Die Suiderstem, Die Volksblad en Die Vaderland) publiseer ook van tyd tot tyd beskouings oor die nuwe literatuur en bied 'n podium vir die pleidooie en polemiese geskrifte van die jongeres. Van die kritici ná 1930 is matthys stefanus benjamin kritzinger (1896-1977), redakteur van Ons Tydskrif (1933-1937) en later hoogleraar in Pretoria, die eerste om sy verskyning te maak met 'n proefskrif oor Die opstandsmotief by Vondel (1930) en 'n aantal studies oor prosa en poësie wat in Oor skrywers en boeke (1932), Letterkundige kragte (1932) en Studies en kritieke (1934) versamel word. Oor die literatuur van Dertig laat Kritzinger, met uitsondering van enkele geïsoleerde stukke, hom egter selde uit en sedert die veertigerjare speel hy haas geen rol meer in die literatuurkritiek nie. Dit is ook die geval met tjaarda buning (1901-), wat ná sy dissertasie oor die Afrikaanse versbou (1939) weinig opstelle oor die letterkunde skryf. Van groot belang vir die vroeë geskiedenis van die literatuur in Suid-Afrika is elizabeth johanna möller conradie (1903-1939) se deeglike Amsterdamse proefskrif oor Hollandse skrywers uit Suid-Afrika I (1934), opgevolg deur 'n tweede deel, wat in 1949 postuum uitgegee word deur anna johanna dorothea de villiers (1900-1979), skryfster van Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika (1936). petrus johannes nienaber (1910-) promoveer in 1938 met 'n Amsterdamse dissertasie oor Die Afrikaanse romantematologie, doen verskeie studies oor die vroeë Afrikaanse letterkunde, sorg vir teksuitgawes, kompilasiewerk en versamelings en stel die uitvoerige Bibliografie van Afrikaanse boeke (nege dele, 1943-1981) en Bronnegids by die studie van die Afrikaanse taal en letterkunde (1947-1968) saam. Vir heelparty van hierdie uitgawes en bloemlesings word hy bygestaan deur sy broer gabriel stefanus nienaber (1903-); saam is hulle die outeurs van Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde (tot aan die einde van die negentiende eeu) en Geskiedenis van die Afrikaanse Beweging (albei 1941), terwyl G.S. Nienaber alleen 'n kort geskiedenis van die Afrikaanse letterkundige kritiek (1941) publiseer. 'n Kritikus wat reeds vroeg deur sy deelname aan die polemiek oor Toon van den Heever se debuutbundel die aandag trek en 'n tyd lank aan die ‘beweging’ van Dertig deelneem, is abraham hendrik jonker (1905-1966), van wie beskouinge oor die prosa - o.m. pleidooie vir die Nuwe Saaklikheid - in Prosa-rigtings en ontleding (1940) opgeneem word en wat met 'n Stellenbosse proefskrif oor Die roman - sy aard, ontstaan en soort (1942) promoveer. Van die skeppende kunstenaars wat deur polemiese stukke, manifeste, resensies en studies aan die kritiek meedoen, is christiaan maurits van den heever (1902-1957) veral in die vroeë dertigerjare bedrywig met 'n proefskrif oor Die digter Totius, sy betekenis vir die Afrikaanse letterkunde (1932) - die eerste doktorale studie wat aan 'n spesifieke figuur uit die Afrikaanse literatuur gewy word - en algemene kultuurbeskouings waarin hy op oppervlakkige toestande in die samelewing reageer. Die meeste van hierdie stukke, wat versamel is in Die Afrikaanse gedagte (1935), Die stryd | |
[pagina 287]
| |
om ewewig (1941), Mens en woord (1947) en Delwer en sif (1954), is te vaag en algemeen en mis 'n sekere trefkrag in die formulering. Daarteenoor is nicolaas petrus van wyk louw (1906-1970) die skrywer wat die strewe van die Afrikaanse poësie in die dertigerjare die helderste formuleer en met sy strydvaardige opstelle - versamel in Berigte te velde en Lojale verset (albei 1939) - hom teen die geestelike selftevredenheid, oppervlakkige kultuurdraery en swak kritiek verset. In sy latere opstelle, versamel in Maskers van die erns (1955), Liberale nasionalisme, Swaarte- en ligpunte en 'n Wêreld deur glas (al drie 1958) is sy toon minder polemies, meer rustigbesinnend en dikwels in dialoogvorm, waardeur twee standpunte teenoor mekaar gestel word. Naas stukke oor nasionalisme en kultuur in Suid-Afrika handel hierdie opstelle veral oor literêr-teoretiese vraagstukke, soos die verhouding tussen letterkunde en wêreldbeskouing en 'n standpuntinname teen die psigologistiese kritiek (lg. in die belangwekkende reeks oor ‘Die ‘mens’ agter die boek’ in Swaarte- en ligpunte). In Vernuwing in die prosa (1961; tweede uitgawe 1963) bespreek hy die redes vir die groot agterstand wat die Afrikaanse letterkunde op die gebied van die prosa het, noem hy maniere waarop 'n vernuwing kan plaasvind en wys hy op enkele werke wat reeds 'n vernuwing aandui. Oor die algemeen skryf Van Wyk Louw min kritiese stukke oor bepaalde werke of outeurs. Naas 'n inleiding tot die poësie en prosa van Marsman (1943), 'n beskouing oor die klassieke literatuur-in-vertaling (lg. as inleiding tot J.P.J. van Rensburg se Die vroue van Troje, 1944), studies oor Marais, Totius, Greshoff, Joernaal van
Jorik en die prosa van Sestig wat later as Weegskaal (1982) gebundel word, is sy Opstelle oor ons ouer digters postuum in 1972 versamel. Hierin kom hy met 'n herwaardering van Celliers en Leipoldt, skryf hy uitvoerig oor die begrip ‘volkspoësie’ en maak hy 'n (deels aanvegbare) studie oor ‘Geestigheid in die poësie’ na aanleiding van Visser se werk. In 'n reeks radiopraatjies wat hy kort voor sy dood lewer en wat postuum as Rondom eie werk (1970) uitgegee is, skets hy die agtergronde by sommige van sy gedigte. Die sterk pleidooi wat hy hierin vir die ‘eenvoudige’ vers lewer, lei hom dikwels tot onbillike kritiek teen skrywers wat sy werk volgens sy eie oordeel eensydig of foutief geïnterpreteer het. In ‘Die hoorspel as nuwe kunsvorm’ en die ‘Naskrif by Asterion’ (albei opgeneem in Weegskaal) skryf hy verhelderend oor genres wat hy self beoefen het. Heelparty opstelle - o.m. oor die Afrikaanse Taalbeweging in breë perspektief, die probleem van ‘moeilike’ letterkunde e.d.m. - wat in die vyftigerjare in die reeks
| |
[pagina 288]
| |
‘Die oop gesprek’ in Die Huisgenoot verskyn het of as praatjies deur Radio Hilversum Wereldomroep uitgesaai is - word opgeneem in Deurskouende verband (1977). Hierin verskyn ook sy belangwekkende Amsterdamse intreerede oor Die digter as intellektueel (1950) en die lesing Wat is 'n intellektueel? wat hy in 1961 aan die Universiteit van Pretoria gehou het. 'n Verdere keuse, meestal uit die algemene politiek-sosiale stukke, word gebundel as Skietlood (1982). Naas Van Wyk Louw doen william ewart gladstone louw (1913-1980) in die dertigerjare heelwat om die Dertigers bekend te stel, o.m. met sy inleiding tot De nieuwere Afrikaanse poëzie (1938), wat vir Nederlandse lesers bedoel is, en met artikels soos ‘Tradisie en vernuwing in die literatuur’ en ‘Vernuwing van die Afrikaanse poësie’. In die veertigerjare promoveer hy met 'n studie oor Die invloed van Gorter op Leopold (1941), skryf 'n hele aantal uitvoerige herwaarderings oor ouer digters (Totius en Leipoldt) en beoefen 'n sterk satiriese kritiek waarin hy te velde trek teen wat hy as verkeerde tendensies in die literatuur en kritiek beskou, dikwels - soos in die geval van sy aanvalle op P. de V. Pienaar en Rob Antonissen - geïnisieer deur negatiewe kritiek op sy eie werk. Hierdie opstelle is grotendeels opgeneem in Ou wyn van vreugde en Vaandels en voetangels, wat albei in 1958 verskyn. Vir die derde deel van die Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner (1950) skryf hy 'n sensitiewe oorsig oor die Afrikaanse poësie waarin hy oor die algemeen met 'n juiste oordeel kom, in die meeste gevalle egter sonder om sy aanvanklike waarde-oordeel logies te verantwoord. Hierdie neiging tot 'n impressionistiese kritiek geld ook vir die talle ongebundelde resensies wat hy van 1957 tot 1966 as kunsredakteur van Die Burger lewer. Van die algemener kulturele opstelle wat hy vir dié blad skryf, is gebundel as Onvoltooide kalender (1963) en Kolom (1964). NaasW.E.G. Louw skryf elisabeth françoise eybers (1915-) in die dertiger- en veertigerjare enkele gevoelige en fyn resensies oor digbundels en prosawerke (later deur J.C. Kannemeyer gebundel as Voetpad van verkenning, 1978), terwyl mattheus uys krige (1910-) minder besprekings lewer en hom meer toespits op kort inleidings tot die Franse en Spaanse poësie, later ook tot sy vertalings van Lorca se Yerma, die surrealistiese poësie van Éluard en van die Spaans-Amerikaanse digters. Die Neder-
| |
[pagina 289]
| |
landse skrywer jan greshoff (1888-1971) vestig hom in 1939 in Kaapstad, raak bevriend met heelparty van die Dertigers en lewer sporadies algemene artikels oor die literatuur en die literêre lewe in Suid-Afrika. Saam met frederick jacobus le roux (1913-1984) skryf hy in die jare 1940-1944 onder die naam Kees Konyn 'n reeks skerp kritiese opstelle en boutades waarin gereageer word op dié persone wat deur hulle selfvoldaanheid, pose, gebrekkige bevattingsvermoë en swak oordeel die literêre en kulturele 1ewe in Suid-Afrika in gevaar stel. Met die sterk satiriese inslag, geestige kyk op sake, helder formulering en aforistiese vermoë ondergrawe Kees Konyn die gevestigde literêre en akademiese reputasies en protesteer hy teen die outoritêre houding van mense in magsposisies. 'n Keur uit hierdie stukke met 'n inleiding deur J.C. Kannemeyer verskyn in 1982 as Die koléperas van Kees Konyn. Van die noordelike groep skryf abel jacobus coetzee (1906-1975) 'n erg eensydige en onkritiese proefskrif oor C.M. van den Heever, die wese van sy kuns (1936). Veel later publiseer hy 'n onbeholpe inleiding tot die literêre teorie (Letterkundige begrippe, saam met S.C. Hattingh, 1951) en 'n onoordeelkundige en skewe geskiedenis van De hedendaagse Afrikaanse letterkunde (1963) vir gebruik in België en Nederland. Die belangrikste ‘begeleidende’ kritikus van die Dertigers en die persoon wat die ontvanklikste vir hulle strewe en rigting gestaan het, is die Nederlandse digter hendrik adolph mulder (1906-1949), wat in Pretoria en later in Grahamstad doseer en saam met Van Wyk Louwen W.E.G. Louw in 1945 die blad Standpunte oprig. In sy opstelle toon Mulder 'n groot begrip en juiste insig in die poësie van die Dertigers en kom hy oor die algemeen tot 'n korrekte oordeel oor hulle werk. Deur sy groot belesenheid in die moderne Nederlandse literatuur kon hy die Afrikaanse produkte in 'n Europese perspektief stel en 'n nuwe kyk op die letterkunde van sy tydgenote gee, terwyl sy belangstelling in die polêre spanning in 'n gedig en sy aksent op ‘adekwate vormgewing’ en ‘intensiteit’ in die poësie hom tot die struktuur van 'n kunswerk gelei het. Alhoewel hy in sy beskouinge nie finaal breek met 'n biografiese benadering van die literatuur nie, lei hierdie beklemtoning van struktuursake hom weg van 'n eensydige psigologistiese kritiek. Deur middel van opstelle, bloem1esings en uitgawes kon hy verder die Afrikaanse leser inlei in die werk van bepaalde Nederlandse skrywers, terwy1 hy ook met sy voortreflike, dikwels beeldende styl 'n nu we standaard vir die Afrikaanse kritiek gestel het. Mulder se studies is versamel in Opstelle oor poësie (1939) en Twee wêrelde (1942), terwyl D.J. Opperman in 1961 'n keur uit sy nagelate werk as Laaste opstelle publiseer. In die dertiger- en vroeë veertigerjare ontstaan daar 'n hele paar polemieke waardeur die nuwe Afrikaanse literatuur pertinent onder die aandag kom. Ná die verskyning van Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan en F.E.J. Malherbe se
| |
[pagina 290]
| |
resensies oor die roman volg daar 'n polemiek in Die Burger waaraan Malherbe, Jonker, Van Wyk Louw, Boerneef en Scholtz deelneem. As Van Wyk Louw in 1937 die Hertzogprys vir Alleenspraak met I.D. du Plessis moet deel, wys hy die bekroning van die hand. Op Pienaar se negatiewe beoordeling van Die halwe kring volg 'n verdere twisgesprek in Die Burger en Die Brandwag waaraan Mocke, Scholtz, Krige en Mulder deelneem. In die jaar daarop ontstaan nog 'n polemiek in Die Brandwag tussen Mulder en L.J. Odendaal (pseudoniem van S. Ign. Mocke) oor die belangrikheid van Van Wyk Louw en Leipoldt vir die Afrikaanse letterkunde. As Abel Coetzee in 1939 Mulder se Opstelle oor poësie resenseer en vrae stel oor Mulder se voorkeur vir Van Wyk Louw bo C.M. van den Heever, lei dit andermaal tot 'n meningswisseling waaraan ook Elisabeth Eybers deelneem. Die verskyning van Standpunte teen die einde van 1945 gee verskeie jonger kritici die geleentheid om van hulle opstelle te publiseer. Afgesien van W.E.G. en Van Wyk Louw wat in hierdie jare as essayiste en kritici bedrywig is, verskyn die eerste deeglike opstelle van diederik johannes opperman (1914-) in hierdie jare in Die Huisgenoot, Ons Eie Boek en Standpunte. Aanvanklik skryf Opperman heelparty resensies oor prosawerke, wat saam met ander geleentheidstukke deur J.C. Kannemeyer as Verspreide opstelle (1977) gebundel is, later deeglike opstelle oor die Nederlandse en Afrikaanse poësie (o.m. oor Totius en C.M. van den Heever) waaruit sy sintetiese kyk op die literatuur, sy belesenheid en sy vermoë tot kernagtige formulering en verrassende verbande duidelik blyk. Hierdie opstelle word in 1959 versamel as Wiggelstok. 'n bundel waarin hy ook studies oor die kwatryn en die versdrama opneem wat in baie opsigte sy eie praktyk as kunstenaar belig, terwyl hy in sy opstel oor ‘Kuns is boos!’ 'n sleutel tot sy digterlike voorkeur vir die beeldings- en gestaltepoësie verskaf en sy teorie oor die wesenloosheid van die kunstenaar en - aan die hand van Keats - die digter as verkleurmannetjie ontwikkel. Opperman se sintetiese kyk op die literatuur kom verder tot uiting in sy omvattende Kaapstadse dissertasie oor die Digters van Dertig (1953) waarin hy nie alleen die agtergronde en invloede van die beweging en die verskillende digters nagaan nie, maar ook - alhoewel kursories en kripties - die aksent op enkele werke laat val en sommige fasette daarvan verrassend belig. Opperman se vermoë om deeglik met 'n enkele teks om te gaan, blyk duidelik uit sy latere opstelle, wat in Naaldekoker (1974) versamel is, terwyl sy omvattende bloemlesing uit die Afrikaanse
poësie, Groot verseboek (eerste uitgawe 1951), telkens van 'n trefseker keuse getuig. As aanmoediger vir jonger digters en as keurder van manuskripte kom Opperman nie alleen feitlik deurgaans tot 'n juiste oordeel nie, maar is hy deur voorgestelde wysigings en kreatiewe verbeterings in staat om 'n belangrike vormende invloed op jonger digters (o.a. Van Heerden, Watermeyer, Pretorius, Philander en Blum, later ook Lina Spies, Fanie Olivier en Leon Strydom) uit te oefen.
| |
[pagina 291]
| |
Saam met Opperman is robert karel jozef emiel antonissen (1919-1972), 'n gebare Vlaming en sedert 1950 dosent en later hoogleraar in Grahamstad, die belangrikste sintetiese kritikus en literêre geskiedskrywer van die Afrikaanse letterkunde. Antonissen promoveer in 1942 met 'n proefskrif oor Herman Gorter en Henriette Roland Holst, stel by herhaling deeglike bloemlesings uit die Nederlandse poësie saam en skryf reeds in België sy tweedelige Schets van den ontwikkelingsgang der Zuidafrikaansche letterkunde (1946), 'n werk wat hy later - naas korter oorsigte, soos dié in P.J. Nienaber se Perspektief en profiel - volledig herskryf en uitbrei tot Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede (1955; derde uitgawe 1965). Wat in hierdie werk opval, is die besonder organiese en integrale rubrisering, die juistheid van die waarde-oordeel in die meeste gevalle en die vermoë om die hele oeuvre van 'n skrywer kernagtig saam te vat en terselfdertyd die aandag op die belangrikste werke of gedigte te vestig en hulle vlugtig te karakteriseer. In die vyftiger- en vroeë sestigerjare is Antonissen besonder aktief as gereelde kroniekskrywer van Standpunte; sy belangrikste studies word versamel in Kern en tooi (1963) en Spitsberaad (1966). Hierdie opstelle munt uit deur die konstruktiewe opset aan die een kant en die vermoë om tot hoofmomente van 'n digbundel of roman deur te dring, al lei dit soms tot 'n eensydige beklemtoning van die ideëvlak of die ‘filosofiese’, met verwaarlosing van formele aspekte. Ook op die gebied van die Nederlandse letterkunde skryf hy belangwekkende studies wat saam met latere opstelle oor die Afrikaanse literatuur postuum deur W.F. Jonckheere in Verkenning en kritiek (1979) gebundel word. Uit Middelnederlands vertaal hy Mariken van Nymegen (1978). Teenoor die sintetiese kritici wat veral in die totale oeuvre van 'n skrywer belangstel en die literêre geskiedskrywing beoefen, is daar in die laat-veertigerjare 'n aantal jonger kritici wat hoofsaaklik die aksent laat val op enkele gedigte en bundels of op tegniese aspekte van die poësie, prosa of drama konsentreer. Die mins indrukwekkende bydrae is dié van gerhard johannes beukes (1913-), wat met 'n oppervlakkige studie oor Die moderne eenbedryf (1947) promoveer waarin hy nie aan al die werk - o.m. dié van Krige - reg laat geskied nie, terwyl hy in Skrywers en rigtings (1952) hoofsaaklik positiewe maar weinig indringende studies oor die poësie en drama versamel. Groter samehang is aanwesig in die bydraes oor die prosa deur felix vincent lategan (l907-), wat in 1956 met 'n studie oor Die kortverhaal en sy ontwikkeling in Afrikaans promoveer en verskeie bloemlesings uit die Afrikaanse prosa saamstel. Van die skrywers wat hoofsaaklik in Ons Eie Boek en Standpunte publiseer, is
| |
[pagina 292]
| |
meyer de villiers (1913-) die enigste wat nie sy studies later bundel nie. De Villiers se sensitiewe opstelle oor die poësie en prosa verskyn hoofsaaklik in die veertiger- en vroeë vyftigerjare en toon reeds 'n toenemende toespitsing op taalkundige aspekte van die kunswerk. Van frederick johannes snijman (1915-) is daar 'n dissertasie oor Literêre styl met die oog op stylondersoek (1945). Van die skrywers wat teen die einde van die veertigerjare aan die kritiek begin meedoen, is alewyn petrus grové (1918-), aanvanklik dosent in Pietermaritzburg en later hoogleraar in Pretoria, die bedrywigste as resensent en bloemleser uit die Nederlandse en Afrikaanse poësie en prosa. Grové debuteer met Die duister digter (1949) - 'n titel ontleen aan Menno ter Braak - en publiseer daarna 'n inleiding tot die tegniek van die poësie onder die titel Woord en wonder (1953), 'n Letterkundige sakwoordeboek (1964), 'n monografie oor D.J. Opperman (1965), 'n blokboek oor Raka (1966) en - saam met Elize Botha - 'n verdere Handleiding by die studie van die letterkunde (1966). Sy belangrikste beskouinge en resensies van die vyftiger- en sestigerjare word versamel in Oordeel en vooroordeel (1958 en 1965) en Fyn net van die woord (1965), waarin hy telkens die aksent laat val op literêr-teoretiese sake - o.m. die dramatisering in die kunswerk en die veelduidigheid van 'n teks - en veral die moderne laaggedig, spesifiek die werk van Opperman, deur gevoelige en indringende analises blootlê. Deur die voortdurende wisselwerking tussen teorie en praktyk en die uitbouing van 'n beginsel aan die hand van 'n paar goed gekose voorbeelde ontwikkel hy 'n eie benaderingsmetode wat - ook deur sy voortreflike styl - 'n belangrike invloed op die literatuurstudie in Suid-Afrika het, terwyl hy soms polemiserend foutiewe uitsprake van ander kritici blootlê, en die weg na 'n suiwerder insig of korrekter benadering aantoon. Gevare waaraan sy kritiek nie heeltemal ontkom nie, is sy neiging om sommige gedigte te oorinterpreteer, 'n hebbelikheid om sy voorbeelde te veel te sien as gedigte oor die poësie en - veral in sy latere werk - politieke en godsdienstige vooroordele in sy waarde-oordele 'n rol te laat speel. Grové se latere opstelle word gebundel in Dagsoom (1978), terwyl hy in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (1980) die historiese verloop sedert 1955 eensydig-negatief voorstel. 'n Ander kritikus wat heelwat aandag aan die werk van Opperman bestee, is ernst van heerden (1916-), wie se beskouings in die bundels Rekenskap (1963), Die ander werklikheid (1969) en Digterlike diagnose (1977) gepubliseer word en wat ook 'n
| |
[pagina 293]
| |
monografie oor N.P. van Wyk Louw (1963) skryf en 'n teksuitgawe van Gorter se Mei (1976) besorg. In sy kritiek gaan Van Heerden analities te werk, maar daarnaas behou hy in sy formulering 'n sekere poëtiese sfeer en vermy hy 'n vaste kritiese sisteem in sy benadering. Verwant hieraan is die klein aantal opstelle wat die Durbanse hoogleraar philipus du plessis grobler (19l9-1967) in die bundel Verkenning (1962) versamel, alhoewel hy ook deeglike vormkritiek (o.m. op die werk van Eybers, oor wie hy in 1964 'n monografie skryf) lewer en 'n genuanseerder kyk op die ouer Afrikaanse poësie (Marais, Leipoldt en Visser) bring. willemina nienaberluitingh (1914-), dosent in Pietermaritzburg, se beskouings oor die Afrikaanse letterkunde verskyn aanvanklik in Critisch Bulletin en neem die vorm aan van bekendstellings aan Nederlandse lesers, terwyl sy later 'n inleiding tot die studie van die literatuur onder die titel Woordkuns (1952; in 1962 uitgebrei met medewerking van C.J.M. Nienaber) publiseer, 'n bloemlesing uit die Afrikaanse poësie met kommentaar opstel (Vorm en inhoud, 1954; hersien as Digters en digsoorte, 1973) en veral in Standpunte deeglike en indringende studies oor veral Marais, M.E.R. en Eybers lewer, later saam met opstelle oor die Nederlandse literatuur gebundel in Uit twee letterkundes (1978). Oor Marais skryf sy ook 'n. beknopte biografie met heelwat aandag aan sy gedigte (1962). Naas hierdie analitici, wat hulle in hoofsaak met die struktuur van die gedig bemoei, kom daar in die vyftigerjare 'n groep kritici aan die woord wat onder leiding van W. Gs. Hellinga in Amsterdam studeer en hulle analises van enkele gedigte op 'n linguistiese grondslag plaas of ten minste van die metode van die ‘kreatiewe analise’ gebruik maak. Die stilistici op linguistiese grondslag ‘ondersoek taalwaardes binne 'n bepaalde geval van taalgebruik in hulle betrokkenheid op dié bepaalde geval’ en beperk hulle teoreties nie slegs tot die literêre kunswerk nie, maar ondersoek alle taalgebruiksgevalle. Wat dié metode van dié van die analitiese kritici onderskei, is die uitsluitlike toespitsing op taalwaardes en die kontekstuele integrasie, die ignorering van die skrywer en sy bedoeling en van die leser en die uitwerking wat die geskrewe stuk op hom het. Hierdie nougesette aandag aan die teks het die voordeel dat dit die literatuurstudie opnuut bewus kan hou van sy primêre taak, al maak dit nie altyd voorsiening vir 'n analise van groter eenhede wat deur die bundel of oeuvre aangebied word nie. Daarby word die
| |
[pagina 294]
| |
illustrasie van 'n metode hoofsaak, in so 'n mate dat die stilistici in hulle latere publikasies hulle aanvanklike uitgangspunte wysig, aanpas en soms selfs heeltemal verwerp. Met sy Sistematiese verslag van 'n stilistiese analise: Die towenares (1950) lei hendrik van der merwe scholtz (1924-) hierdie metode in die Afrikaanse kritiek in, terwyl hy later saam met W. Gs. Hellinga in Kreatiewe analise van taalgebruik (1955) 'n uitvoeriger uiteensetting van die prinsipes van die metode gee en telkens in latere opstelle, gebundel in Herout van die Afrikaanse poësie (1975) en Die teken en teiken (1978), daarop terugkom en verder daarop uitbrei. Wat telkens in Scholtz se uiters skerpsinnige studies opval, is sy vermoë om 'n teks noukeurig te lees, verrassende aspekte te belig en selfs 'n eenvoudige teks deur 'n nuwe faset ‘problematies’ te maak. elizabeth lindes-botha (1930-), dosent aan die Universiteit van Pretoria en later Suid-Afrika, promoveer met Veelheid en binding (1955; 'n ondersoek van Opperman se ‘Sprokie van die spikkelkoei’ en die eenheidsprobleem in die literatuur) en wy haar later toenemend aan studies oor die prosa, gebundel in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig en Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle (albei 1980). christoffel johannes michael nienaber (1918-) ondersoek Elisabeth Eybers se ‘Maria’ in Die taal as tolk (1956), skryf 'n kort biografie oor Totius (1962) en versamel sy opstelle in Oor literatuur I en II (1974 en 1977). françois izakjanse van rensburg (1922-), wat aan die Vrystaatse Universiteit doseer en later hoogleraar aan die Randse Afrikaanse Universiteit word, promoveer met Skering en inslag (1964), waarin hy N.P. van Wyk Louw se ‘Ballade van die bose’ stilisties, onder-
| |
[pagina 295]
| |
soek, skryf 'n monografie oor Uys Krige (1963), 'n kort oorsig oor die Afrikaanse letterkunde (Die smal baan, 1963; tweede uitgawe 1971) en twee bundels opstelle oor die werk van N.P. van Wyk Louw (Sublieme ambag en Swewende ewewig, albei 1975). In Die wit in die poësie (1961) ondersoek roswitha geggus-schutte (1935) aan die hand van Opperman se ‘Digter’ die visuele aanbod van die poësie, terwyl sy later 'n monografie aan Toon van den Heever (1966) wy. 'n Kritikus wat in sy proefskrif by die metodes van die stilistiek aansluit, is die Potchefstroomse hoogleraar Theunis theodorus cloete (1924-), wat met 'n vergelyking tussen Trekkerswee en Joernaal van Jorik (1953) promoveer en daarna heelparty studies oor o.a. Totius en Van Wyk Louw maak wat in Die wêreld is ons woning nie (1961), Op die woord af (1963) en Kaneel (1970) gebundel word. Later stel hy bloemlesings uit die poësie en drama saam en skryf monografieë oor Marais en Totius, 'n Blokboek oor Martjie en Trekkerswee (1970), 'n studie oor F.A. Venter se Trek-tetralogie (1970) en 'n inleiding tot Hoe om 'n gedig te ontleed (1982). Sy kronieke oor die poësie word gebundel in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (1980) waarvan hy die redakteur is. Terwyl Cloete in sy proefskrif die klank, betekenis en die ‘wêreld’ van die gedigte noukeurig en met verrassende insigte blootlê, beoefen hy later veral 'n beskrywende metode waardeur hy hom hoofsaaklik op die tematiese en ideële laag van die kunswerk rig en dikwels 'n enkele gedig binne 'n bepaalde ‘stelsel’ forseer en op dié wyse nie vry laat uitspreek nie. Daarby het hy hom by meer as een geleentheid - soos blyk uit sy resensies oor Blum se Steenbok tot poolsee, Opperman se Periandros van Korinthe en Belcher se Mens en Skepper - aan growwe evalueringsfoute skuldig gemaak. Die heftigste polemiek wat vroeg in die vyftigerjare oor 'n literêre aangeleentheid gevoer word, is na aanleiding van die toekenning van die Hertzogprys vir Drama in 1952 aan Gerhard J. Beukes en W.A. de Klerk. Hierdie polemiek begin in Die Huisgenoot, maar word weldra voortgesit in Die Burger met W.E.G. Louw, Opperman en Antonissen aan die een en F.C.L. Bosman en De Klerk self (onder 'n skuilnaam) aan die ander kant.Ga naar voetnoot+ |
|