Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 267]
| |
Hoofstuk 2
| |
I. Die stryd op die breë kulturele terreinTerwyl Hertzog en die Nasionale Party in die twintigerjare die stryd vir Afrikaans op staatkundige gebied voortsit, word hierdie taak op kulturele terrein behartig deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (F.A.K.), wat tydens 'n volkskongres op 18 en 19 Desember 1929 in Bloemfontein gestig is. Die F.A.K. het as doel ‘die bevordering van 'n nouer samewerking tussen alle Afrikaanse kultuuren aanverwante vereniginge, waar hulle ook al aangetref word met die oog op: (a) gesamentlike, en waar nodig, gelyktydige optrede; (b) die beskerming van 'n eie nasionale kultuur, gegrond op die godsdiens en tradisies van die Afrikaner, en (c) die behartiging van ander, daarmee in verband staande sake’. Die leuse van die F.A.K. is ‘Handhaaf en Bou’ en die eerste Uitvoerende Komitee het bestaan uit N.J. van der Merwe, T.J. Hugo, L.J. Erasmus, E.C. Pienaar en M.M. Jansen. Onder die belangrikste take wat die F.A.K. vir sy rekening neem, is die poging om die verwaarlosing en verminking van die Afrikaanse taal teen te werk deur die publikasie van vakkundige terme sodat Afrikaans sy regmatige plek oor die radio en
| |
[pagina 268]
| |
in die handel en nywerheid kan inneem en taalsuiwerheid gehandhaaf kan word. Verder sorg die F.A.K. in 1937 vir die versameling Afrikaanse volksliedere in die F.A.K.- Volksangbundel, waaraan 'n hele paar digters van die Tweede Geslag - o.a. Eitemal - meewerk, alhoewel die meeste van hierdie liedere vertalings of verwerkings is. Daarnaas help die F.A.K. met die organisasie vanjaarlikse kultuurfeeste op Unie- en Geloftedag, neem die inisiatief by die reëling van ‘Afrikaanse Boekweke’ (waarvan die eerste in 1935-1936 gehou word), gee hulp met die organisasie van die simboliese Ossewatrek van 1938 en die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en beywer hom vir die erkenning van ‘Die stem van Suid-Afrika’ van Langenhoven as amptelike volkslied. Die F.A.K. neem ook die inisiatief om Paul Kruger se verjaardag tot openbare vakansiedag erken te kry en om sy sterfhuis in Switserland vir Suid-Afrika aan te koop. Ook aan die taalfeeste in 1959 onder die titel ‘Die Wonder van Afrikaans’ en die feesvierings in 1975 by geleentheid van die onthulling van die Paarlse taalmonument, het die F.A.K. 'n belangrike aandeel. Aanvanklik, veral met die negatiewe gesindheid wat ná die amptelike erkenning nog sporadies van die Engelstalige kant gekom het, is die stryd van die F.A.K. en verwante liggame sterk militant ingestel, soos ook dié van die Handhawersbond, wat in 1930 in Johannesburg gestig is met die doel om die regte van die Afrikaners in die sakewêreld deur 'n uitsluitlike gebruik van die moedertaal in winkels en handelsake af te dwing. Betreklik gou word die stryd egter nie anti-Engels nie maar pro-Afrikaans gerig. By hierdie strewe sluit ook die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (A.T.K.V.) aan, wat in 1931 in Johannesburg opgerig word vir die bevordering van Afrikaans en die kulturele belange van die Afrikaners, veral onder die spoorwegpersoneel. Die A.T.K.V. speel 'n prominente rol in nasionale en historiese feeste en sorg met sy maandblad Die Taalgenoot vir breë kulturele bearbeiding. In 1950 word die Rapportryers in Johannesburg gestig om die Afrikaanse taal, etiek en gewoontes te bevorder en die strewe en doelstellinge van die Afrikaner, soos dit in sy geskiedenis en tradisies tot uiting kom, te verwesenlik. In dieselfde jaar stig die Suid-Afrikaanse Akademie 'n Vaktaalburo, wat die taak om woordelyste vir die verskillende vakgebiede op te stel, van die F.A.K. oorneem. Wat die F.A.K. en verwante liggame gedoen het en nog steeds doen, is om dít wat deur wetgewing offisieel gemaak is, in die praktyk deur te voer en te konsolideer. Met die kritiese houding van die Afrikaner wat geleidelik - veral nadat hy in 'n politieke en ekonomiese magsposisie begin kom - sy verskyning maak, staan hy minder geesdriftig en soms selfs suspisieus teenoor ‘amptelike’ kultuurdraery - ‘kultuurleiers sonder kultuur’, soos N.P. van Wyk Louw hulle noem - wat dikwels selfgenoegsaam terugkyk op wat reeds ‘bereik’ is. Die F.A.K. en ander kultuurverenigings kan dus in hierdie tydvak nie dieselfde leidende of rigtinggewende funksie verrig as soortgelyke organisasies tydens die Eerste en Tweede Beweging nie. Daarom ook dat D.J. Opperman kan sê: ‘Die F.A.K. kan die Derde Beweging slegs aanvanklik lei, op sy beste bewus maak van die strewe na gelykwaardigheid en volwassenheid na eie aard, en daarvoor in die stryd tree. Maar met die bereiking van volwaardigheid en volwassenheid verval die leiding en beweging. Die Derde Beweging beteken op die ou end 'n beweging teen bewegings!’ (Digters van Dertig p. 14). | |
[pagina 269]
| |
="4" II. N.P. van Wyk Louw en die idee van 'n ruim Afrikaanse letterkundeDie ‘strewe na gelykwaardigheid en volwassenheid’ wat die ‘Derde Beweging’ onderskei van die vroeëre georganiseerde pogings om die Afrikaanse taal en letterkunde te bevorder, bring mee dat die skrywers en letterkundiges van Dertig nie meer verdedigend en beskermend ten opsigte van hulle voorgangers staan nie, maar die ouer literatuur krities bekyk en nagaan watter gebiede van die werklikheid nog deur die woord gestalte moet vind. Dit het tot gevolg dat hulle hulself oriënteer ten opsigte van die werk voor hulle, berekend met die tradisie omgaan, hulself as vakmanne bekwaam deur tegnies en histories op hoogte met die letterkunde te kom en ernstig besin oor die taak van die skrywer en van die Afrikaanse skrywer in die besonder. Die teoretiese besinning oor die taak van die nuwe literatuur en die besondere aard van die Afrikaanse geesteslewe word beoefen deur C.M. van den Heever, wat in Die Afrikaanse gedagte (1935) en Die stryd om ewewig (1939) sy enigsins vae en onhelder opstelle bundel. 'n Veel juister karakterisering van waaroor dit vir hierdie geslag wesentlik gaan, is W.E.G. Louw se opstel oor ‘Vernuwing van die Afrikaanse poësie’ (1938), later opgeneem in die bundel Vaandels en voetangels (1958), waarin hy die ou Afrikaanse ‘motiewe’-kuns as 'n beperkte soort literatuur verwerp en daarop wys dat die nuwe Afrikaanse letterkunde groter aandag vir die Afrikaanse mens vra en met die kardinale probleme van die lewe worstel. Die persoon wat die strewe van die nuwe geslag die skerpste formuleer en die helderste insig in die probleme van die Afrikaanse skrywer en die spesifieke aard en beperkinge van die Afrikaanse geesteslewe openbaar, is egter N.P. van Wyk Louw, wat met sy bundels Berigte te velde en Lojale verset (albei 1939) 'n belangrike teoretiese bydrae tot die ‘idee van 'n Afrikaanse nasionale letterkunde’ lewer, terwyl hy in die vyftigerjare in die reeks ‘Die oop gesprek’ in Die Huisgenoot - later o.m. gebundel in Maskers van die erns (1955) en Liberale nasionalisme (1958) - beskouinge publiseer oor 'n moontlike geesteshouding vir die Afrikaner en die rol wat die tradisie daarin speel. In 'n lesing oor ‘Die rigting van die Afrikaanse letterkunde’ (opgeneem in Berigte te velde), wat hy in Maart 1936 op Stellenbosch hou en wat in baie opsigte as die manifes van die nuwe geslag beskou kan word, wys Van Wyk Louw daarop dat selfs ons beste ouer prosa, bv. Jochem van Bruggen se Ampie: Die natuurkind, by die tradisie van die ‘gemoedelike lokale realisme’ aansluit wat wesentlik ‘die gemoedelike idealisering van die verbygegane landelike lewe’ gee, nie 'n realisme ‘wat eerbiedig voor die naakte wonder van die werklikheid staan’ nie. Die beperktheid van (veral) die Afrikaanse prosa lê nie daarin dat dit die plaas en platteland as boustof het nie, maar in die feit dat daardie wêreld - soos hy dit in ‘Onderhoud per brief’ formuleer - ‘nie volledig en groot-menslik verbeeld’ en die
| |
[pagina 270]
| |
‘verskillende hartstogte, demoniese drifte en dade’ nie in ons literatuur verwerk word nie. Daarom is die Afrikaanse prosa in sy uitbeelding van die ‘lokale’ en die ‘tipiese’, soos dit ook in die beoefening van die jagverhaal tot uiting kom, wesentlik 'n koloniale letterkunde. Daarteenoor stel hy die ideaal van 'n ruim Afrikaanse literatuur waarin elke ‘hartstog of gedagte wat 'n Afrikaanse mens beleef of gedink het’, weerspieël moet word: ‘Alles, maar ook alles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet ook in ons literatuur sy neerslag kry.’ Hierdie ruim en omvattende ideaal wat hy vir die Afrikaanse literatuur stel, blyk verder uit sy opstel oor ‘Die strewe van die jonger Afrikaanse poësie’ (Berigte te velde), wat in November 1936 verskyn. Die sentrale kenmerk van die ‘jonger poësie (is) dat hy die volledige menslikheid in Afrikaanse vorm wil uitdruk’. Daarvoor wend die nuwe geslag digters die temas van alle groot poësie - ‘die mens teenoor die natuur, teenoor die gemeenskap, teenoor die liefde, teenoor God’ - aan en vermy die uitbeelding van die lokale en die tipiese of laat dié dinge in 'n groot menslike verband opgaan. Die poësie word ‘'n hoë en dwingende taak’, nie ‘'n aangename spel of 'n tydkorting om ledige uurtjies te vul nie’. Dit bring mee dat die digter sy vakmanskap in 'n ernstige lig beskou en ‘suiwerheid en tegniese volmaaktheid’ nastrewe deur te soek na die musikale ‘klank, die glansende enkele woord, presiesheid van beelde (en) intellektuele beheersing van alles wat hy wil sê’. Met hierdie aksent op vakmanskap by die digter is die rol van die letterkundige as apologeet vir die Afrikaanse letterkunde dan ook vir altyd verby: ‘Ons eis nie vandag meer 'n ligter oordeel, ter wille van ons saak' en omdat, ons leesstof vir ons mense moet verskaf’ nie. Ons mag nie vra dat daar met 'n ander maatstaf gemeet word wanneer die kritikus voor Afrikaanse werk staan as wanneer hy buitelandse literatuur beoordeel nie. Elke eis van hierdie aard veronderstel 'n aangebore minderwaardigheid by ons. Alleen die beste sal ons saak werklik dien. En al sal die hoeveelheid groot kuns dan by ons minder wees as by die nasies wat meer mense tel, moet ons eis dat met verloop van tyd ons hoogste werk net so hoog as hulle s'n sal staan.’ | |
III. Die literêre strydIn teenstelling tot die eerste dertig jaar van die twintigste eeu, waarin die skeppende kunstenaars betreklik los van mekaar staan en nie bewustelik groepe vorm nie, is daar by die Dertigers en latere figure 'n duidelike behoefte om met mekaar gedagtes uit te ruil en soms gesamentlik in belang van die letterkunde op te tree. Hierdie behoefte lei tot veelvuldige en stimulerende gesprekke tussen vriende oor die literatuur en tot sporadiese byeenkomste op ‘literêre aande’ wat nie op 'n vaste basis of 'n verenigingsgrondslag gereël word nie maar spontaan ontwikkel. Later kom daar wel georganiseerde optrede en lei dit tot groepsvorming en uiteindelik tot 'n polarisering tussen Noord en Suid. | |
[pagina 271]
| |
1. Die Afrikaanse SkrywerskringIn 1934 word die Afrikaanse Skrywerskring op inisiatief van C.M. van den Heever en T.J. Haarhoff in Johannesburg gestig met die doel om Afrikaanse skrywers met mekaar in kontak te bring, literêre probleme te bespreek, die verspreiding van die Afrikaanse boek plaaslik en in die buiteland te bevorder, gereelde oorsigte oor die groei van die Afrikaanse letterkunde te publiseer, van tyd tot tyd die beste boeke aan te wys en in 'n adviserende hoedanigheid by die voorskryf van boeke op te tree. Kunstenaars wat veral met die Skrywerskring gemoeid is, sluit S. Ign. Mocke, Eitemal, J. van Melle en P. de V. Pienaar in, terwyl Van den Heever en later Abel Coetzee as voorsitter dien. Aanvanklik word gereelde oorsigte in Die Huisgenoot en Die Vaderland gepubliseer, maar in 1936 gaan die Skrywerskring oor tot die publikasie van 'n Jaarboek waarin poësie, prosa, drama, beskouinge en oorsigte opgeneem word. Die laaste uitgawe van die Jaarboek verskyn in 1950 en in 1951 word dit vervang met die Tydskrif vir Letterkunde, agtereenvolgens met C.M. van den Heever, Abel Coetzee, Coenie Rudolph en Elize Botha as leidende redakteurs. Aan die begin verskyn daar belangrike literatuur in die Jaarboek, maar weens gebrek aan die nodige stimulerende leiding en toenemende bedenkings oor die kreatiewe en kritiese vermoëns van C.M. van den Heever en sy groep raak die belangrikste Afrikaanse kunstenaars van die Skrywerskring vervreemd en word dit grotendeels beset deur beperkte of teleurgestelde skrywers wat in die Jaarboek 'n podium vir hulle idees en werk vind. Dit geld ook vir die Tydskrif vir Letterkunde, wat in die vyftigerjare skeppende en kritiese werk van oorwegend mindere gehalte publiseer, al is daar in die sestiger- en sewentigerjare 'n geleidelike verbetering in die blad te bespeur. | |
2. Die Vereniging vir die Vrye BoekBelangriker vir die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde is die stimulus wat daar van 'n groep Kaapse skrywers en kunsliefhebbers uitgaan. Aanvanklik kom W.E.G. Louw, Hettie Smit en Fred le Roux bymekaar om gedagtes oor die literatuur te wissel, terwyl N.P. van Wyk Louw, Boerneef (I.W. van der Merwe), J. du P. Scholtz, I.D. du Plessis en Abr. H. Jonker later by hierdie vriendekring aansluit en lewendig oor die kuns, politiek en letterkunde gesels. Deur bemiddeling van die ondernemende Gerrit Bakker van die firma H.A.U.M. koop, lees en bespreek hulle die poësie van kontemporêre Nederlandse digters soos A. Roland Holst, Bloem, Donker, Gossaert en Nijhoff, terwyl C.H. Weich, musiekkritikus van Die Burger, hulle gereeld in sy huis ontvang en plaatopnames voorspeel. Uys Krige, wat kontakte met sowel die noordelike as die suidelike skrywers het, publiseer 'n
| |
[pagina 272]
| |
bloemlesing uit die nuwe poësie as Afrikaanse versameling (1937) en verkry daarvoor die medewerking van die prominente Nederlandse kritikus Dirk Coster, wat 'n inleiding tot die bundel skryf. In Nederland (waarheen hy vir verdere studie gaan) stel W.E.G. Louw die jongste digkuns bekend in 'n publikasie met die titel De nieuwere Afrikaanse poëzie (1939), terwyl hy na sy terugkeer in samewerking met D.B. Bosman, Van Wyk Louw en Jan Greshoff die bloemlesing Tussen die engtes (1940) saamstel ten einde Nederlandse skrywers tydens die besetting te help. Naas hierdie oorwegend indiwiduele pogings werk 'n hele paar van die suidelike groep in 1935 mee aan een van die F.A.K. se boekweke en ontstaan die behoefte om self werke uit te gee wat nie slegs aan die eis van voorskryfbaarheid voldoen nie. Op dié wyse kom die Vereniging vir die Vrye Boek (V.V.B.) in 1936 met J. du P. Scholtz, N.P. van Wyk Louw, Boerneef, W.E.G. Louw, Abr. H. Jonker en F.E.J. Malherbe tot stand met die doel om ‘die Afrikaanse letterkunde uit (die) enge beperkings’ van die voorskryfmark te bevry. In die omsendbrief van die V.V.B. (opgeneem as ‘'n Oproep’ in Berigte te velde) sê Van Wyk Louw dat die vereniging gestig word om die Afrikaanse literatuur van die ‘gemoedelike lokale realisme’ en die eensydige instelling van die boekhandel los te maak. Volgens hom ‘moet (dit) moontlik wees dat alles wat eerlik, sterk en mooi in 'n volk gedink en gesê kan word, ook in die volksliteratuur sy neerslag kan vind; nie ter wille van die klompie skrywers nie; ook nie ter wille van die plesier van 'n groot aantal lesers nie - dit gaan om die geestelike status van die volk en die onafhanklike voortbestaan van sy letterkunde’. In sy kort bestaanstyd publiseer die V.V.B. vier werke: Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan (1937); N.P. van Wyk Louw se Die halwe kring (1937); Paul Géraldy se Aimer,vertaal as Hélène deur N.P. van Wyk Louw (1939); en Gustave Flaubert se La légende de saint Julien l'hospitalier, vertaal as Die legende van die heilige Julianus die herbergsame deur W.E.G. Louw (1940). Reeds voor die eerste publikasie ontstaan daar probleme in die bestuur as Malherbe nie al die vergaderings bywoon nie. Met die verskyning van Sy kom met die sekelmaan skryf Malherbe enigsins negatiewe besprekings in Die Huisgenoot en Die Suiderstem, word hy en Jonker feitlik verplig om uit die bestuur te bedank en ontstaan daar 'n polemiek in Die Burger, waaraan Le Roux, Jonker, Boerneef, Malherbe, Scholtz en Van Wyk Louw deelneem. Ook na aanleiding van die publikasie van Die halwe kring kom daar meningsverskil, veral né E.C. Pienaar se eensydig-‘nasionale’ resensie, waarop Krige, Seholtz, Moeke en Mulder reageer. Die V.V.B. beleef net vier uitgawes, ten spyte van die ‘vragte kopie’ wat by die bestuur aangemeld is. Daarmee het die vereniging bewys dat daar nie soveel goeie manuskripte gereed was wat as gevolg van onwillige uitgewers nie gepubliseer kon word nie. Tog het die V.V.B. die funksie gehad om - deur die medewerking van kunstenaars soos F. Caldecott-Zerffi - vir uitgewers die weg na die tipografies mooi versorgde boek aan te dui, terwyl die polemieke groot prominensie aan die jonger letterkunde gegee en enkele van die ouer en gevestigde kritici se onvermoë met die nuwe werke aan die kaak gestel het.
| |
[pagina 273]
| |
3. Algemene en literêre tydskrifteDie hoë vlug van die literatuur vanaf die dertigerjare stimuleer reeds bestaande algemene tydskrifte, terwyl 'n hele paar spesifiek literêre blaaie opgerig word om as podium vir bepaalde groepe of rigtings in die letterkunde te dien. Daarnaas laat die groter vraag om ontspanningslektuur populêre tydskrifte ontstaan wat dikwels swak werk publiseer en met die vereiste resep van moord en liefdesgeskiedenis in die rigting van 'n ‘geel pers’ ontwikkel. In die dertigerjare ontstaan 'n hele paar algemene tydskrifte, soos Castilia (1934), Die Moderne Vrou (1936-1937), Die Afrikaanse Denker (1937) en Kort en Goed (Johannesburg, 1939-1949), terwyl die Gereformeerde blad Koers (Potchefstroom, 1933) gereelde resensies oor nuwe boeke publiseer. Belangriker vir die literatuur is Die Brandwag (Pretoria, later Johannesburg, 1937-1965), waaraan hoofsaaklik noordelike skrywers meewerk wat dikwels eensydige en persoonlike aanvalle op die suidelike groep publiseer. Die leidende algemene tydskrif in die dertiger- en veertigerjare is egter Die Huisgenoot. In die jare 1931-1949 staan dié blad onder redaksie van J.M.H. Viljoen, wat die medewerking van die belangrikste skrywers kry, nuwe outeurs ‘ontdek’ en aanmoedig, 'n besonder hoë standaard handhaaf (o.m. deur uitvoerige besprekings van literêre werke) en 'n balans tussen ontspanningslektuur en ernstige werk bewaar. Viljoen word - ná 'n kort periode waarin A.M. van Schoor die blad redigeer - opgevolg deur Johan Spies, wat - ten spyte van die sterk druk van die ligter weekblaaie - die hoë peil voortsit, o.m. met boekbesprekings deur die belangrikste literatore van die vyftigerjare en deur die medewerking van N.P. van Wyk Louw, wat in die jare 1951-1953 die reeks ‘Die oop gesprek’ bydra. Ná die bedanking van Spies word Die Huisgenoot egter toenemend op die populêre mark ingestel en speel dit haas geen literêre rol meer nie. In die jare 1940-1944 word die tweetalige tweeweeklikse Kaapse blad Trek, opvolger van die Independent (1936-1939), onder redaksie van Jacques Malan gepubliseer. Hierin verskyn in die veertigerjare Kees Konyn se gereelde rubriek, waarin op vermaaklik-satiriese wyse met allerlei ‘hoë’ persone in die Afrikaanse ‘republiek der letteren’ die spot gedryf word. In teenstelling tot die meeste ander dag- en weekblaaie van dié tyd publiseer Trek artikels in 'n oorwegend aanvallende styl; daarmee word dit een van die heel eerste tydskrifte wat 'n kritiese ingesteldheid teenoor allerlei aspekte van die Afrikaner se kultuurlewe openbaar. Ander algemene blaaie wat in die veertigerjare ontstaan, is Die Naweek (Kaapstad, 1940-1950), Inspan (Johannesburg, 1941-1952), Rooi Rose (Johannesburg, 1946-), Die Ruiter (Johannesburg, 1947-1948), Naweekpos (Kaapstad, 1954-1970), die vrouetydskrif Sarie Marais (Kaapstad, 1949-), wat onder aanvanklike redaksie van F.J. le Roux
| |
[pagina 274]
| |
o.m. vir goeie populêre voorligting op die gebied van die letterkunde sorg, en Lantern (Pretoria, 1949-), wat driemaandeliks opvoedkundige artikels oor kuns en geskiedenis publiseer. Die eerste tydskrif wat spesifiek aan die literatuur, beeldende kuns en die musiek gewy word, is die kwartaalblad Die Nuwe Brandwag (Pretoria, 1929-1933), aanvanklik met M.L. du Toit as hoofredakteur en vanaf die derde jaargang onder leiding van G. Dekker en H.G. Viljoen. Hierdie blad publiseer poësie, prosa, boekbesprekings, studies en oorsigte van buitelandse literatuur. Alhoewel dit die medewerking van jonger outeurs (soos C.M. van den Heever, I.D. du Plessis en Eitemal) kry, staan dit nie in die teken van vernuwing of 'n grondige herwaardering van die ouer literatuur nie. In Ons Tydskrif (Pretoria, 1933-1937) onder redaksie van M.S.B. Kritzinger verskyn resensies van nuwe Afrikaanse publikasies, maar hierdie funksie word in die jare 1935-1955 oorgeneem deur Ons Eie Boek (Kaapstad; aanvanklik gestig deur F.E.J. Malherbe, Abr.H. Jonker en Jacques Malan, maar sedert 1937 onder uitsluitlike redaksie van eersgenoemde), wat 'n belangrike rol speel met gereelde besprekings van literêre werke deur toonaangewende letterkundiges en ook voorligting met die oog op voorgeskrewe werke vir skole verskaf. In die jare 1945-1947 verskyn Vandag, wat hom onder redaksie van Ehrhardt Planje op die ‘Suid-Afrikaanse aktualiteit’ rig en waaraan Uys Krige in 1947 as mederedakteur saamwerk. Van 1951 tot 1960 redigeer S. Ign. Mocke die Johannesburgse blad Helikon, waarin van tyd tot tyd aanvalle op skrywers, veral op Opperman, wat van ‘duisterheid’ en ‘onsedelikheid’ beskuldig word, verskyn. Aanvanklik het die Dertigers nie 'n eie blad nie, al bestaan daar van die begin af die behoefte om ‘'n tydskrif of 'n reeks cahiers’ te publiseer wat met Europese blaaie vergelyk kan word. In 1945 rig N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw en H.A. Mulder in Kaapstad die blad Standpunte (aanvanklik kwartaalliks, sedert 1954 tweemaandeliks) op, nie - soos N.P. van Wyk Louw dit in die eerste nommer stelmet die doel ‘om 'n standpunt te propageer nie, maar om die vrye bespreking van die grondslae van ... (literêre en verwante) aktiwiteite in Suid-Afrika moontlik te maak’. In Standpunte verskyn in die veertiger- en vroeë vyftigerjare heelwat nuwe werk van N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en D.J. Opperman, terwyl W.E.G. Louw in hierdie jare veral met essays en omvangryke opstelle in herwaarderingstrant besig is. Naas die deeglike studies van Opperman publiseer die blad H.A. Mulder se gevoelige besprekings van die Afrikaanse literatuur. In die vyftigerjare, as daar minder werk van die gevestigde outeurs verskyn en die jonger skrywers aanvanklik nie so prominent vertoon nie, word die blad veral gedra deur die deeglike en skerpsinnige kronieke van Rob Antonissen en die opstelle van A.P. Grové, P. du P. Grobler, Merwe Scholtz en later ook E. Lindenberg. Met die vernuwing van die Afrikaanse literatuur in die sestigerjare verrig Standpunte nie meer die sterk leidende funksie wat dit in sy eerste tydperk gehad het nie, vind die werk van die Sestigers nie in dieselfde mate neerslag in die blad nie en word | |
[pagina 275]
| |
Standpunte toenemend deur 'n dor akademiese ingesteldheid en 'n gemis aan daadwerklike leiding of inisiatief bedreig. Ná die eerste twee jaargange tree Jan Greshoff toe tot die redaksie, terwyl D.J. Opperman in 1950 die sekretariële werk oorneem en van die beste nommers publiseer. Tegelykertyd kom F.J. le Roux by, en later Anthony Delius (agtereenvolgens vervang deur Guy Butler, G.H. Durrant en C.J.D. Harvey), Rob Antonissen, A.P. Grové, André P. Brink, Ernst van Heerden, T.T. Cloete en P.G. du Plessis. Ná Opperman behartig W.E.G. Louwen A.P. Grové agtereenvolgens die redaksionele werk. As daar in 1971 te sterk teenstand teen die enigsins sektariese redigering van Grové kom, neem W.E.G. Louw die leiding weer 'n tyd lank waar totdat dit einde 1974 aan P.G. du Plessis oorgedra word. Begin 1976 is André P. Brink, hoofsaaklik op inisiatief van W.E.G. Louwen F.J. le Roux, verplig om te bedank en word sy plek ingeneem deur Chris Barnard, terwyl J.C. Kannemeyer einde 1976 tot die redaksie toetree en vanaf Januarie 1977 die sekretariaat behartig. In April 1979 bedank Le Roux, terwyl P.J. Cillié, J.C. Steyn en Marlene van Niekerk redaksielede word. In 1981 tree ook R.H. Pheiffer toe tot die redaksie, terwyl Ernst van Heerden die sekretariaat in April 1984 oorneem. | |
IV. Die uitgewersbedryfIn die dertigerjare word die belangrikste Afrikaanse boeke deur J.L. van Schaik en die Nasionale Pers uitgegee, terwyl H.A.U.M. hom minder op die letterkunde toespits. Terselfdertyd ontstaan drie nuwe uitgewerye: Afrikaanse Pers (Pretoria 1932; en sedert 1936 in Johannesburg), Unie-Volkspers (Kaapstad, 1936-1949) en Voortrekkerpers (Johannesburg, 1937), wat onderskeidelik met Die Vaderland, Die Suiderstem en Die Transvaler verbind is. In die veertigerjare gee al hierdie uitgewers toenemend ook populêre leesstof uit, word verskeie boeke in reeksverband gepubliseer (o.m. die Monument- en Libri-reeks van Van Schaik en die Tweede Trek- en Kwarteeu-serie van Nasionale Pers) en kom 'n hele paar boekklubs tot stand wat hulle veral op ligte lektuur toespits. Ná die inisiatief wat die V.V.B. neem om boeke met 'n behoorlike versorging die lig te laat sien, ondergaan die boekbedryf in die veertigerjare in tipografiese opsig 'n aansienlike vernuwing. Die eerste belangrike werk in dié verband word gedoen deur Constantia (Johannesburg, 1943-) en A.A. Balkema (Kaapstad en Amsterdam, 1946-), wat die tegniese gehalte van die Afrikaanse boek geweldig opstoot. Hierdie voorbeeld word gevolg deur die Nasionale Boekhandel en Tafelberg (Kaapstad, 1954-), terwyl Van Schaik minder publiseer en grotendeels akademiese werke en vertalings die lig laat sien. In die veertiger- en vyftigerjare verskyn ook enkele belangrike reekse, soos Die Afrikaanse kinderensiklopedie (onder redaksie van C.F. Albertyn), Die skatkis, Wêreldletterkunde en Drie eeue, terwyl die eerste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse taal (sedert 1947 onder redaksie van P.C. Schoonees) in 1950 gepubliseer word.
|
|