Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 169]
| |
Hoofstuk 7
| |
I. Dr. O'KulisBy die aanvang van die Tweede Beweging het willem postma (1874-1920), seun van ds. Dirk Postma en self later predikant van die Gereformeerde Kerk in Bloemfontein en Reddersburg, 'n leidende aandeel met sy artikels wat hy in 1905 oor die Afrikaanse taal onder die skuilnaam Jong Afrika in De Vriend skryf en waarin hy Afrikaans as 'n spontane ontwikkeling uit Nederlands sien en dit as skryftaal verdedig. Onder die skuilnaam dr. o'kulis (= oogdokter) behartig hy van 1905 tot 1914 die rubriek Oogdruppels in De Vriend des Volks en gee hy raad vir allerlei nasionale ‘oogsiektes’, soos die Engelse onderwysstelsel, die erkenning van Afrikaans en politieke aangeleenthede. Hiermee wil hy op 'n onderhoudende wyse die wantoestande aan die kaak stel. Dit is egter met die outobiografiese herinneringsgeskrif Die eselskakebeen (1909) dat hy sy belangrikste bydrae lewer. In hierdie werk, wat bestaan uit tien hoofstukke, 'n voorwoord, inleiding en toepassing, gee hy 'n beeld van die angliserende onderwysstelsel uit die sewentigerjare van die vorige eeu | |
[pagina 170]
| |
en van die periode onmiddellik ná die Anglo-Boereoorlog. Op humoristiese en satiriese wyse skets hy episodes uit die lewe van 'n Boereseun en sy ervarings met ‘British and Cape History’ op skool. Soms groei die satire uit tot heftige verontwaardiging, maar meestal wil hy, soos Simson die Filistyne met 'n eselskakebeen doodgeslaan het (Rigters 15:15), die Filistyn in die Afrikaner vernietig en hom bewus maak van die denasionaliserende gevolge wat die onderwys op hom het. Afgesien daarvan dat die sketse elkeen 'n afgeronde eenheid vorm en deur die oorspronklike woordgebruik in hul eie reg as 'n bydrae tot die literatuur beskou kan word, is dit ook 'n belangrike kultuurhistoriese dokument. In Doppers (1918) gee hy 'n beeld van die godsdiens van die Gereformeerdes en hulle plek in die Afrikaanse samelewing, terwyl hy in De Boerevrouw (1919) talle stukke oor die Voortrekkers en die konsentrasiekampe (o.m. die gedenkskrif van Anna Steenkamp en koerantartikels van Marie Koopmans-de Wet) kompileer. | |
II. Voortsetting van die satiries humoristiese tradisieNog voordat Langenhoven aan die woord kom, publiseer jacobus gideon engela (1862-1950) Afrikaanse verhale (1909), Gesellige half uurtjies (1910) en Gesêls (1913) waarmee hy die leeslus onder die volk wou aanwakker. Veral geestige en klugtige voorvalle vertel hy onderhoudend, terwyl sy ernstiger werk te moraliserend en tranerig word. Later publiseer hy 'n Terugblik (1925) en Die getatoeëerde ‘K’ (1929). Belangriker as Engela is reenen jan van reenen (1884-1935), wat in Die agterstevoortrekkers (1917) goedig die spot dryf met 'n aantal Bloemfonteinse akademici wat met ossewaens 'n toer vanuit die Vrystaatse hoofstad op die ou pad van die Voortrekkers onderneem. Met Celestine (1919) en Verborge skatte (1920) bundel Van Reenen die eerste spookstories in Afrikaans ná S.J. du Toit se Werkelike geesverskynings: Europese en Afrikaanse (1892) en lei hy die klein tradisie in wat later deur Lan Genhoven, Marais en Leipoldt voortgesit word. Op die model van Edgar Allan Poe (met wie se werk hy tydens sy studieverblyf in die Verenigde State kennis maak) wil hy die atmosfeer en geheimsinnigheid van die ‘tales ofmystery’ navolg, maar sy siening is oor die algemeen te nugter en die verhale eindig meestal met 'n antiklimaks. In Die lokaas (1921) betree hy die terrein van die probleemroman, maar die
| |
[pagina 171]
| |
psigologiese ontwikkeling van die karakters is onoortuigend en sy roman verval in die aaneenskakeling van losstaande episodes. In Die muurkassie (1919) gee G. Jordaan kort sketse uit die Afrikaner se daaglikse lewe, maar oor die algemeen is die stukke nog swakker as dié van Engela. Die spookverhaal word in hierdie jare ook druk beoefen deur E. Serfontein in die bundels Kort verhale (1927), Los hande (1930), Erns en luim (1932) en Sluipende honde (1937), terwyl hy - onder die skuilnaam Flaneur - met Die getuie vir die verdediging (1935) op die gebied van die speurverhaal beweeg en daarmee by die werk van Langenhoven, Brand en Leipoldt aansluit. Op 'n hoër vlak staan die luimige dorpsvertellings van ernst berthold grosskopf (1888-1949), wat in Swart slang (1930), Henri, die skildknaap (1935) en Dorpenaars (1940) gebundel word. Met Patrys hulle (1926) lewer hy een van die eerste boeiende jeugboeke in Afrikaans, al het die oorbodige kommentaar en inligting van die alwetende verteller en sy manipulasies om die verhaal in 'n bepaalde rigting te stuur, 'n sekere onbeholpenheid in die struktuur tot gevolg. Ten spyte hiervan munt die werk uit deur die kostelike humoristiese situasies. | |
III. C.J. Langenhovencornelis jakob langenhoven is in die nag van 12 op 13 Augustus 1873 op die plaas Hoeko in die distrik Ladismith, K.P. gebore. Vyf dae ná sy geboorte is sy moeder oorlede, en in dié omstandighede word hy groot by sy oom en tante, vir wie hy as ouers aanvaar. Sy skoolopleiding ontvang hy van 'n aantal goewernantes, die Hollandse Meester Bloemkolk en later op Ladismith en Riversdal. Daarna studeer hy aan die Victoria-kollege, waar hy in 1895 die graad B.A. behaal. Aangesien dié inrigting nog geen regsfakulteit gehad het nie, skryf hy in as kandidaat-prokureur op Ladismith en verwerf hy die LL.B. deur private studie in 1899 van die Universiteit van Kaap de Goede Hoop. Daarna praktiseer hy - afgesien van 'n kort onderbreking as advokaat in Kaapstad - as prokureur op Oudtshoorn, waar hy o.m. bekendheid verwerf op die gebied van watergeskille. Hy word eers betreklik laat bewus van sy roeping as taalstryder en skrywer, maar dan produseer hy binne minder as 'n kwarteeu 'n omvangryke oeuvre. In 1912 word hy redakteur van Het Zuid-Westen, 'n Oudtshoornse nuusblad wat hy vir die volgende drie jaar as podium vir sy opvattinge oor Afrikaans gebruik. As hy in 1914 as Oudtshoornse lid van die Provinsiale Raad verkies word, loods hy nog dieselfde jaar 'n mosie deur waarvolgens Afrikaans as voertaal tot en met standerd IV in die Kaaplandse skole erken word. In dieselfde jaar lewer hy sy beroemde rede oor ‘Afrikaans as voertaal’ voor die Akademievergadering in Bloemfontein en voer hy 'n polemiek met prof. P.J.G. de Vos oor die keuse tussen Nederlands en Afrikaans as landstaal. In 1920 word hy Volksraadslid vir Oudtshoorn en die jaar daarop Senator, waardeur hy in die posisie gestel is om ook met die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal in 1925 'n beduidende rol te speel. In 1927 het die Akademie die Hertzogprys vir Skaduwees van Nasaret aan Langenhoven (saam met Sangiro en Jochem van Bruggen) toegeken, maar - o.m. as gevolg van die feit dat Mof en sy mense die vorige jaar slegs ‘eervolle vermelding’ ontvang het (kyk hieroor P.J. Nienaber, Die Hertzogprys vyftig jaar, Kaapstad, 1965, pp. 111-116) - weier hy die prys. Reeds betreklik | |
[pagina 172]
| |
vroeg in sy loopbaan neem hy stelling in teen doktore, professore, resensen te, sogenaamde ‘malkunsapostels’ en ‘die bloemlesing-skêr-en-gompot-literateurs’ wat sy lewe ‘vergal’, en voorin die meeste van sy latere werke verskyn die versoek ‘Geen resensie word gevra nie’. In 1931 ken die Universiteit van Stellenbosch 'n eredoktoraat aan hom toe. Op 15 Julie 1932 is hy op Oudtshoorn oorlede. In 1955 is sy huis Arbeidsgenot as museum oopgestel. Langenhoven se uitgebreide oeuvre is nie slegs tot die literatuur beperk nie, maar het raakpunte met haas alle aspekte van die maatskaplike lewe van sy volk. Op die gebied van die politiek en die regswetenskap skryf hy reeds vroeg Iets over arbiters en arbitraties (1906), terwyl hy later die vraag behandel of Suid-Afrika van die goudstandaard moet afstap (Goud of papier?, 1929) en die naturellekwessie uitvoerig bespreek (Die witman se pand, 1929). Saam met Preller publiseer hy in 1919 Twee geskiedkundige opstelle en teoretiseer hy oor die aard van historiese navorsing en studie. Die bundel Die opdraende pad (1923), waarin hy 'n aantal van sy referate versamel, bevat voordragte oor ‘Die krag van 'n nasie’, ‘Die vooruitsigte van die Britse Ryk’ en ‘Inkomste en uitgawe’. Vir Engelstalige lesers skryf hy in Republicans and sinners (1918) en The everlasting annexation (1919) oor die gevare van die Britse imperialisme. In A first guide to Afrikaans (1926) gee hy vir Engelssprekendes 'n eenvoudige handleiding tot die Afrikaanse taal, terwyl hy in Hoe om te skrywe (1931; saam met E.C. Pienaar) advies aanjong skrywers verskaf. Hy stel die jeug bekend aan die burgerplig (Die goeie burger, 1928), die natuurwetenskap (Water en sy aard, 1928, en die opstel oor ‘Die sonnewyser’, 1926) en die sterrekunde (Van die aarde na die sterre, I en II, 1926), terwyl hy in Hooftrekke van die Bybelverhaal (onvoltooid; postuum 1933) die Ou-Testamentiese gebeure in eenvoudige taal oorvertel. Oor Die
| |
[pagina 173]
| |
letterkundige skoonhede van die Bybel lewer hy in 1932 'n lang lesing op Stellenbosch, en in heelparty geskrifte, o.m. in Oor opstelle (postuum 1937) en in Die opdraende pad (1923), laat hy hom uit oor literatuur en styl. Dit is egter veral in sy stukke oor Afrikaans as skryftaal dat sy betoë in helderheid uitmunt. Terwyl hy nog as student in 1893 die uitspraak kon maak dat ‘For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has no literature and a very poor vocabulary’, kom hy reeds in 1910 tot die insig dat Afrikaans deur algemene samewerking 'n eie letterkunde kan ontwikkel wat ‘the growth of our own national genius, of which we have no reason to be ashamed’, sal illustreer. In die jare wat daarop volg, spreek hy-in teenstelling tot die ander taalstryders - homself heftig uit teen Nederlands in Suid-Afrika, omdat dit geen natuurlike medium vir die Afrikaner kan wees nie en omdat Afrikaans soepeler en beweegliker as Nederlands is. Daarteenoor beskou hy Engels as 'n lewende taal vir Suid-Afrika omdat dit deel is van die ‘landskap’ waarin die Afrikaner beweeg. Sy pleidooie vir Afrikaans bereik 'n hoogtepunt in ‘Afrikaans as voertaal’, wat hy in 1914 voor die Akademie lewer. Hierin, soos ook in verskeie van sy ander stukke, is dit opvallend hoe hy telkens die abstrakte en konkrete, teorie en praktyk, uitspraak en voorbeeld met mekaar afwissel en sy standpunt by herhaling aan die hand van illustrasies - dikwels uit die eg-Afrikaanse werklikheid - aan die toehoorder oordra. Maar ook as skrywer van literêre werke openbaar Langenhoven 'n besondere veelsydigheid, al gaan dit nie altyd met gehalte gepaard nie. Hy beoefen die kortverhaal, roman, prosa- en versdrama, klug en allegorie, poësie, spreuk, brief, kinderboek, outobiografie, ruimtefiksie, spook- en speurverhaal, essay en vertaling. Alhoewel sy blyspele en klugte hoër staan as dié van die meeste van sy tydgenote, lewer hy met nie één stuk 'n wesentlike bydrae tot die Afrikaanse toneelliteratuur nie. In sy ernstige poësie verkondig hy lewenswysheid, mymer hy oor die raaisels van die lewe, besing hy die ‘via dolorosa’ van sy volk se geskiedenis of gee hy verslag van sy religieuse oortuigings - meestal sonder dat die gedagtes volledig genoeg beeld geword het. In sy geestige verse munt hy dikwels uit deur 'n sekere kernagtige stelwyse of puntigheid, maar in dié opsig word sy werk gou oortref deur sy enigsins latere tydgenoot A.G. Visser. In sy romans en verhale toon hy 'n verwantskap met die agttiende- en negentiende-eeuse humortradisie van Sterne, | |
[pagina 174]
| |
Lamb, Jonathan en veral Multatuli, en in sy werk maak hy by herhaling gebruik van die humoristiese styltegnieke, o.m. die hiperbool, geestige herhalings, samevoegings van heterogene begrippe, logiese ongerymdhede e.d.m. Sy verhale toon meestal 'n los komposisie met baie onderbrekings en veelvuldige uitweidings wat die eenheid van die geheel versteur, terwyl baie van sy essays oor tydgebonde maatskaplike of politieke vraagstukke handel en in moralisasies en soms selfs prekerigheid verval. In sy beste werk word die leser getref deur 'n kernagtige eenvoud en 'n verrassende woordgebruik waaruit dit duidelik blyk dat 'n mens hier met 'n taalbewuste kunstenaar te make het. In hierdie opsig lewer hy 'n belangrike bydrae in die ontwikkeling van 'n eie Afrikaanse prosatradisie en vorm hy 'n teenvoeter vir die bewuste sierstyl van D.F. Malherbe. Daarom is sy werk vandag - ten spyte van die soms erg sentimentele en soetsappige dele, selfs in werke wat andersins bevredig - leesbaarder as dié van die romantici, al is dit moeilik om spesifieke werke van hom uit te sonder as werklike bydraes tot die Afrikaanse letterkunde. As 'n paar stukke betogende prosa en vroeë blyspele buite rekening gelaat word, debuteer Langenhoven in 1911 met Stukkies en brokkies, wat 'n versameling gedigte, verhale en sketse uit tydskrifte is. In 1912 volg sy Afrikaanse verjaardag-boekie, waarin hy reeds met sy kenmerkende geestigheid, spitsvondigheid en woordspelings spreuke vir elke dag van die jaar versamel. In Ons weg deur die wêreld (1913) neem hy Stukkies en brokkies as 'n geheel op, maar vul dit aan met nuwe verse, verhale, spreuke en prekies, terwyl hy in die tweede druk (1919) die rede oor ‘Afrikaans as voertaal’ byvoeg. Met die derde druk (1922), wat uit drie dele bestaan, kry Ons weg deur die wêreld sy finale beslag deurdat hy verskeie vroeë gedigte weglaat, 'n verdere pleitrede vir Afrikaans byvoeg en 'n aantal spreuke deur 'n kritiese en relativerende opmerking in 'n ander lig stel. Die eerste deel bestaan uit 'n aantal ‘Verhaaltjies en karaktersketse’ waaruit die neiging van Langenhoven reeds blyk om direk kontak met sy lesers te maak en om sy karakters sprekend in sy verhale in te voer, terwyl die tema van die hond (‘Twee oues van dae’), die sonde-met-die-bure-motief (‘'n Brief van sy ouers aan Jan op die kollege’), die kluisenaarsfiguur (‘Die kluisenaar van die Karro’) en die spot met Nederlands (‘Meester’) reeds hier aanwesig is. Daarna volg 'n viertal ‘Ligte leekprekies’ waarin Langenhoven sy voorliefde vir antiteses (ook in die sinsbou) en sy illustrerende betoogstyl toon, terwyl die bundel afgesluit word met elf samesprake en 'n monoloog wat geskryf is met die oog op debatsaande. Hieronder is die bestes ‘Die ingewikkelde boodskap’, ‘Die tweetalige vonnis’ en ‘Die kys about die forro’. In die tweede deel bundel hy 'n duisendtal ‘besproke’ en ‘onbesproke’ spreuke, waarmee hy by die Nederlandse tradisie van Cats tot Greshoff en die sestiende- en sewentiende-eeuse Franse moraliste aansluit. Dikwels neem die spreuke die vorm aan van 'n variasie of uitbreiding op 'n bestaande volksidioom, soms met 'n verrassende omdop van 'n algemeen-aanvaarde oerwaarheid. By herhaling tref Langenhoven met sy geestigheid en ratse woordspel, al word dit soms te vernuftig. Deur die gebruik van Stoffel Gieljam in die ‘Besproke spreuke’ kry die skrywer die geleentheid om telkens op die relatiwiteit en dubbelkantigheid van 'n stuk ‘waarheid’ te wys, om 'n saak van meer as een kant te belig en homself in die hekeling te betrek. In die tweede afdeling versamel hy 'n aantal ‘Fantasieë’ waarin hy o.m. naïewe personasies (die watersloot, wa en berg) as sprekers laat optree, al voel 'n mens dat die moraliserende en sentimentele op die | |
[pagina 175]
| |
lange duur steurend is. Dit geld ook vir die honderd prekies wat hy, telkens op 'n spreuk uit deel II, in die derde deel van Ons weg deur die wêreld saam met ‘Afrikaans as voertaal’ en ‘De heilige ennen van Rehum en Simsai’ ('n pleidooi in Nederlands vir die invoering van Afrikaans as kerktaal) opneem. Die gedigte wat hy as afdeling III van Ons weg deur die wêreld II bundel, is oorwegend moraliserend of geestig en put hul boustof uit die daaglikse doen en late van die mens, vaderlandse motiewe (oor die Groot Trek en die Rebellie) en enkele kere, soos in ‘Credo in Deum Patrem’, uit die worsteling van die indiwidu om geloof en helderheid oor die basiese vrae in verband met die mens se bestaan. Die meeste verse word ontsier deur die didaktiek en sentimentaliteit, die gebrek aan sterk beelding en tegniese onbeholpenhede. Die beste gedigte is ‘Ag wat, dis maar 'n hond!’, waarin 'n geliefde Langenhoven-tema weer die boustof vorm, ‘Liefdesonsin’ (‘Lamtietie, damtietie’), wat die mees volgehoue spel met die verkleinwoord in Afrikaans is, en ‘Die mot en die kers’, al kom daar met die slotreël 'n ongeregverdigde perspektiefverskuiwing wat 'n breuk in die struktuur veroorsaak. Die geskiedenis van Suid-Afrika, wat reeds in enkele gedigte uit Ons weg deur die wêreld verwerk is, vorm ook die boustof vir 'n drietal verdere werke van Langenhoven, t.w. Die Hoop van Suid-Afrika (1913), Die Vrou van Suid-Afrika (1918) en Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika (1921). In die eerste twee beoefen hy die allegoriese drama deurdat daar, naas historiese karakters soos Retief, Kruger, Rhodes en Dingaan, abstrakte personasies of ‘exempels’, bv. Hoop, Vader Tyd, Britannia, die Boer, die Vrou, die Slaaf e.d.m., optree. Met hierdie twee werke, wat onderskeidelik die geskiedenis van Suid-Afrika van 1650-1838 en van 1843-1902 vertel, lê hy 'n patroon vas wat D.F. Malherbe, N.P. van Wyk Louwen Gerhard J. Beukes later sal voortsit. In aansluiting by Totius, Leipoldt en Malherbe skryf hy in Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika 'n lang werk waarin betreklik willekeurige grepe uit die vaderlandse geskiedenis as boustof dien. Dit handel agtereenvolgens oor die ‘Eerste verspieders’, die aankoms van Van Riebeeck, die ‘Eerstelinge’ (waarin die geskiedenis van Frederik Bezuidenhout en die Slagtersnekrebellie verwerk word), die Groot Trek met die aksent op Retief en sy dood, en die moord op Blaauwkrans, sodat die geheel dus dieselfde periode as Die Hoop van Suid-Afrika dek. In die meeste van die veertien episodes is die versvorm te amorf en mis 'n mens noodsaaklike bindmiddele, terwyl die betogende inslag van die geheel die beelding laat veryl ten koste van beskouings of vrae oor die sin van die geskiedenis. In ‘Via dolorosa’, die enigste gedeelte waarin Langenhoven van 'n tradisionele strofebou en rympatroon gebruik maak, is die beelde te geyk en die versreël te meganies afgeklop. Die vier gedigte waarmee die bundel afsluit, is nie 'n integrale deel van die epiese opset van die res nie, maar is as poësie veel geslaagder. Onder hulle is veral twee van sowel literêre as nasionale betekenis: ‘Ons eie vlag’, waarvan die laaste strofe deur F.J. Joubert getoonset is en algemeen as vlaglied aanvaar word, en ‘Die stem van Suid-Afrika’, wat op 30-31 Mei 1918 ontstaan het, later deur M.L. de Villiers getoonset is en jare lank as nie-amptelike volkslied bekend was totdat dit op 2 Mei 1957 offisieel as sodanig verklaar is. Die gedig bestaan uit vier kwatryne wat telkens deur 'n koeplet gevolg word. Deur middel van sterk teenstellings, parallelismes, herhalings en 'n vaste maatslag sonder verskuiwende ruspunte gee dit 'n beeld van die Afrikaanse landskap en by herhaling 'n belydenis van getrouheid aan die ‘gelief- | |
[pagina 176]
| |
de’. Die gedig word 'n ‘statige eedaflegging en gebed van die Afrikaanse volk’ (D.J. Opperman, Naaldekoker, p. 7) en is as enkele gedig Langenhoven se geslaagdste werk. Afgesien van die twee allegorieë en die twee ernstige dramas Vrouetrou (1921) - in versvorm - en Petronella (1931), wat albei erg sentimenteel is, beoefen Langenhoven veral die klug en blyspel op toneelgebied. In 1909 publiseer hy Die familiesaak en Die troubelofte, en in die twintigerjare Die onmoontlike tweeling (1920) en Die kinderparlement (1927), wat almal in 'n hoë mate by die klugtige tradisie in die Afrikaanse toneelliteratuur van dié jare aansluit. Die laaste van die takhare, wat in 1925 verskyn, is 'n bewerking van Die watersaak (1909), wat op sý beurt weer as basis vir Die wêreld draai (1912) gedien het - die enigste voorbeeld in Langenhoven se oeuvre waar hy 'n bepaalde geskrif grondig hersien het. Dit werk met 'n groot verskeidenheid bekende motiewe, soos die sonde-met-die-bure, die stryd tussen Afrikaans en Engels en die verandering in die maatskaplike patroon, en deur sy geestige situasies en spel met woorde is dit Langenhoven se beste drama. Ook met verskeie van sy prosageskrifte wou Langenhoven populêr skryf en op dié wyse die volk aan die lees kry. Dit geld vir Die lig van verre dae (1924), 'n verhaal oor die eerste pioniers na die suidweste uit die jaar 1752. Die roman sluit in 'n groot mate aan by die histories-romantiese tradisie van De Waal, die toeval speel 'n groot rol, geen enkele poging word aangewend om die onverwagte verskyning van karakters op kritieke momente aanneemlik te maak nie en die verteller verbreek telkens sy verhaal deur vanuit 'n perspektief in die twintigste eeu inligting te gee. Donker spore (1926), die eerste speurverhaal in Afrikaans, speel af teen die (vir Langenhoven) bekende agtergrond van Ladismith, K.P. en gee 'n knap ontrafeling van die moordgeskiedenis. In Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte (1930) bundel hy die meeste van sy spookstories, en daarmee word hy die belangrikste beoefenaar van dié kategorie in Afrikaans. Opmerklik is die feit dat hy in elke verhaal twee vertellers gebruik: die outeur wat 'n ander verteller, die ‘bron’ van die verhaal, bekend stel, sy betroubaarheid, eerlikheid en geloofwaardigheid só sterk beklemtoon dat hy die leser as 't ware kondisioneer om die ‘fantastiese’ van die ‘eintlike’ verhaal (waarin die aangekondigde verteller aan die woord is) as
| |
[pagina 177]
| |
werklikheid te aanvaar. In 'n ‘Na-woord’ tot Geeste op aarde sit Langenhoven sy eie opvattinge oor geestesverskynings uiteen. Naas hierdie werke voorsien hy ook in die behoefte aan lektuur vir kinders met Die eensame Hoop (1922), 'n allegoriese fantasie (vgl. Die Hoop van Suid-Afrika) oor die voorgeskiedenis van ons land, Brolloks en Bittergal (1925), een van die klassieke van die Afrikaanse kinderliteratuur deur die gebruikmaking van die eie ‘folklore’ om twee skrikwekkende sprokiesfigure te skep, Die Krismiskinders (1927), wat ongelukkig aan die slot deur 'n troebel simboliese verdieping ontsier word, Die boekie sonder naam (1928) en Verhaaltjies (1931). In Mof en sy mense (1926) draai die gebeure rondom 'n hond, maar die mense self tree te sentimenteel op en mis die nodige nuanses in hul karakters om die slot, waar die sakeman sy bose optrede laat vaar, aanneemlik te maak. Die satiries-humoristiese lyn in Langenhoven se verhaalkuns bereik 'n hoogtepunt in die twintigerjare met die publikasie van drie romans: Sonde met die bure (1921), Herrie op die oú tremspoór (1925) - die vervolg daarop - en Doppers en Filistyne (1921). Sonde met die bure speel af in die volstruisveerdae van Oudtshoorn en is 'n ‘noukeurige en onverbloemde verslaggie’ van Sagmoedige Neelsie, Vroutjie en Engela se vakansie in Meiringspoort. Deur die aanwesigheid van die vertellende ek en die invoering van sy gesinslede as karakters skep hy die werklikheidsillusie wat nodig is om die dikwels ‘onmoontlike’ en haas absurde tonele aanvaarbaar te maak. Wat 'n mens hier nog hinder, is die sentimenteel-romantiese uitweidings oor die natuur (die see in hoofstuk III en die water in hoofstuk VI), terwyl heelparty gebeure (bv. die spookstorie in hoofstuk VIII) nie 'n integrerende deel van die verhaal uitmaak nie. Ten spyte hiervan slaag Langenhoven daarin om kostelike situasies op te bou waardeur hy die spot kan dryf met talle groepe in die maatskappy. In Herrie op die oú tremspoór bring die gesin 'n tweede besoek aan Meiringspoort, sodat Neelsie in die geleentheid gestel kan word om rustig aan 'n reeks lesings oor verskeie hoogs akademiese onderwerpe te werk wat hy in opdrag van die Universiteit van Stellenbosch moet lewer. Die werklikheidsillusie word in hierdie roman nog verder gevoer deur die gebruik van ‘werklike’ persone as karakters en die verwysing na ‘werklike’ gebeurtenisse. Die geheel bestaan uit agt hoofstukke en die samehang word verkry deurdat elke hoofstuk (vgl. die inhoudsopgawe) wesentlik uit 'n ‘ontmoeting’ bestaan, al word die verskillende situasies nie heg met mekaar verbind nie en al toon die roman 'n episodiese opset. Prof. Smith se besoek aan die slot, waar hy Neelsie kom ‘verlos’ van die verpligting en hom 'n doktorsgraad namens die Universiteit aanbied, het iets van 'n deus ex machina, maar deur die geestige en satiriese opset van die geheel word dit aanvaarbaar gemaak. Besonder interessant is die wyse waarop verskeie tonele in Herrie terugspeel op sekere episodes in Sonde, telkens met die omdop van situasies: terwyl Neelsie vroeër verwens en vervolg is, word hy nóú feestelik onthaal en met die verskuldigde ontsag vereer. Daarmee ontstaan daar 'n boeiende wisselwerking tussen die twee boeke deurdat dieselfde situasie telkens herhaal word, iets wat die selfgenoegsaamheid van (veral) die tweede werk problematies maak. Langenhoven se vertroulike omgang met die leser vind sy beste uiting in Doppers en Filistyne. Die verteller en hooffiguur is nie alleen 'n bepaalde karakter (Stoffel Gieljam) nie, maar ook die skrywer van die boek - vandaar dat sy naam op die titelbladsy verskyn. In die loop van sy vertelling verklap hy iets van die oorsprong | |
[pagina 178]
| |
van die boek en die samewerking met Sagmoedige Neelsie, wat die korreksies aangebring het - ‘'n neef van my wat 'n baie hooggeleerde man is en my 'n sommetjie geld skuld’. Ons kry dus hier die verdubbeling van die persoonlikheid, wat nie alleen die geleentheid bied vir 'n politieke satire nie, maar ook vir selfspot. Soos die verhaal vorder, word 'n reeks parallelle en kontraste opgebou tussen oom Stoffel en Neelsie waaruit dit blyk dat hulle, ten spyte van verskille, groot ooreenkomste met mekaar vertoon en dat daar teenoor oom Stoffel 'n ander figuur opgebou word wat 'n teenstelling, 'n alter ego, met hom vorm. Ook die rol wat Neelsie direk in die vertelling speel, dra by om hierdie teenstelling verder te verhoog. Neelsie is 'n bron van kennis en inligting, tree enkele kere as karakter op en waarsku soms die leser by wyse van 'n voetnoot teen oom Stoffel se uitsprake. Oom Stoffel is vir die grootste deel van die boek aan die woord, en daardeur word die ietwat losse bou van die verhaal alreeds by voorbaat geregverdig. Aan die ander kant is oom Stoffel nie die alleen-verteller van die verhaal nie. Neelsie het 'n definitiewe aandeel, implisiet deur sy korreksies, eksplisiet in die gedeeltes waar hy self na vore tree. Soms word Neelsie deur oom Stoffel as karakter in die boek ingenooi, soms word sy gedigte aangehaal, maar 'n enkele maal maak Neelsie by wyse van 'n voetnoot 'n opmerking waaroor oom Stoffel geen beheer het nie. Daarom ook is die gelukstoestand wat oom Stoffel in die slothoofstuk beskryf (die samesmelting van die Engelse en Afrikaners in die S.A.P.) blote skyn. Oom Stoffel mag miskien daarmee genoeë neem, maar Neelsie as Nat (en as ‘medewerker’ 'n faktor waarmee oom Stoffel moet rekening hou) sal dit nooit aanvaar nie. In hierdie opsig is die skynbaar idilliese situasie van die slothoofstuk 'n beeldende protes teen die samesmelting, omdat Neelsie enige oomblik die rus kan kom verstoor. In die Afrikaanse prosa is Doppers en Filistyne deur die voortdurende aanspreking en deur die verdubbeling van die hoofpersoon die beste voorbeeld van die vertroulike omgang met die leser. Afgesien van enkele verspreide korter stukke tree oom Stoffel ook as karakter op in Loeloeraai (1923), waarmee Langenhoven - ná die voorbeelde van Jules Verne en H.G. Wells - die ruimtefiksie in Afrikaans invoer deur die aankoms van 'n besoeker van Venus en die familie se ekskursie na die maan. In teenstelling tot Sonde met die bure en Herrie op die oú tremspoór is die moralisering en tendens veel sterker en hinderliker aanwesig. Hierdie neiging tot 'n tendens ontsier ook Die wagtende wêreld (1927), wat oor die verskrikkinge handel wat tegniese vooruitgang (hier die splitsing van die atoom) vir die mens kan inhou. Reeds in 1922 publiseer Langenhoven 'n dertigtal Gesange in Afrikaans (gevolg deur 'n beryming van Psalm 42 en enkele ander liedere) wat - soos dié van Jan F.E. Celliers, P.L. Louwen G.B.A. Gerdener twee jaar later - nie kerklik erken is nie.
| |
[pagina 179]
| |
Langenhoven se vaardigheid met die kort epigrammatiese vers en woordspel bereik 'n hoogtepunt in sy weergawe van Die Rubáiyát (1923) van Omar Khayyám, wat bestaan uit vyf en sewentig kwatryne na die eerste edisie van Edward Fitzgerald se vertaling van 1859. In Khayyám se poësie vind Langenhoven, volgens die inleiding, ‘'n veroordeling van die spinnerak-wysbegeerte van sy tyd ... en 'n lewensleer van ongeloof aan enige toekoms oorkant die graf, met 'n daarmee ooreenkomstige aanbeveling om die beste van hierdie lewe te maak’. Die siklus is egter nie net ‘'n hooglied en loflied van wyn en liefde ... (,) 'n getroue spieël ... van die drifte en drange van ons liggaam en van die vertwyfelde versugtinge van ons gees onder die verborgenhede van die plan van ons bestaan’ nie, aangesien dit ‘ál gaande sy eie reductio ad absurdum (bevat). Daar kom in ons op 'n oorweldigende terugslag; ons Godbewuste binneste siel verset hom. Nee, die Heelal het 'n ander doel! - Die Rubáiyát moet al baie godloënaars en wellustelinge tot nadenking gebring het.’ In vergelyking met Leipoldt, H.C. Bosman, Jonker en Van Soelen se herdigtings tref Langenhoven se vertaling telkens deur die woordkeuse en beeldende vermoë. Daarby is dit as eerste bundel kwatryne (met die konsekwente gebruik van die aabarymskema) literêr-histories die voorloper van I.D. du Plessis en veral D.J. Opperman se werk op dié gebied. Die aandag aan religieuse en filosofiese vraagstukke en die beswering van die geloofstwyfel deur 'n nougesette bestudering van die Bybel is oorheersend in die laaste aantal jare van Langenhoven se lewe. Afgesien van die Stellenbosse lesing oor ‘Die letterkundige skoonhede van die Bybel’, die onvoltooide Hooftrekke van die Bybelverhaal (1933) en die eweneens onvoltooide Bybelroman Die mantel van Elia (1933) bereik hierdie verdieping 'n hoogtepunt in Skaduwees van Nasaret (1927), wat bestaan uit ses verdigte en twee ‘egte’ briewe. Die eerste brief (‘Aan 'n Jodin’) dien as inleiding en voorwoord, skets die ontstaansgeskiedenis van die boek en gee 'n verklaring van die titel van die werk. Daarna volg die ses verdigte briewe, telkens in pare gegroepeer, waarin Langenhoven die besondere moontlikhede van die briefvorm en die vertroulike verhouding met die leser effektief aanwend, veral deur - telkens op 'n ander wyse - die leser in te lei in 'n stuk geskiedenis wat vir hom vreemd is. Die briefvorm regverdig bv. die breë aanloop in die verslag van die Griekse filosoof Aristarchus aan 'n kollega in Athene en bied die moontlikheid vir Zardok, die Skrifgeleerde, om in sy brief aan die owerpriesters 'n saaklike, sistematiese uiteensetting van Jesus se lewe, leer en politiek te gee. Die ses verdigte briewe belig telkens verskillende fasette en benaderings van die onderwerpe, maar elke keer val die aksent op Jesus van Nasaret as konvergeerpunt. Die boek word afgesluit met 'n brief van die skrywer aan 'n student oor die geloofstwyfel. As aanhangsel by Skaduwees van Nasaret word enkele gedigte oor die geboorte en lyding van Christus, die Calvinisme en die heelal bygevoeg. In die outobiografiese U dienswillige dienaar (1932), wat kort voor sy dood verskyn, skryf Langenhoven oor sy jeugjare, skool- en universiteitsopleiding en oor sy aandeel aan die stryd vir die erkenning van Afrikaans. In die laaste tiental jare van sy lewe behartig hy 'n weeklikse rubriek in Die Burger onder die titel Aan stille waters waaruit twee keuses (I, 1930 en II, postuum 1941) saamgestel is en wat groot ooreenkomste met die driedelige Ons weg deur die wêreld toon. Die eerste deel van Aan stille waters bestaan uit vier rubrieke. In die eerste afdeling, ‘Korswil en klug’, gee | |
[pagina 180]
| |
hy 'n komiese lewenskets van homself en neem hy limericks, allerlei versies, spreuke, raaisels, 'n vertaling van Cowper se ‘John Gilpin’ (vgl. vroeër F.W. Reitz jr. se ‘Jan Jurgens’ en Henry Burton se ‘Gilpin redivivus’, lg. deur Ernst van Heerden in Standpunte, XXVIII: 3, Februarie 1975 gepubliseer), satires, toesprake en sketse op. In 'n hele paar vertellings en sketse figureer Stoffel Gieljam, Neelsie en Vroutjie en slaag hy weer in die komiese voorstelling van situasies. Die ‘Sketse en verhale’ van die tweede afdeling is meestal te mymerend en lerend (soos ‘Onder die denne’); die beste vaar hy met die geestige kyk op dinge (soos in ‘Die vlieg’). Die meeste van die gedigte wat hy in afdeling III versamel, is ballades (dikwels met motiewe uit die Griekse mitologie), minneliedjies, vertellende en historiese verse (oor die Voortrekkers en oor Woltemade, wat 'n vergelyking met Leipoldt uitlok), liriese gedigte (o.m. die spreekwoordelik-geworde ‘Met die water wat verby is/ Sal jou meule nooit weer maal’), enkele sonnette (o.m. op die dood van A.G. Visser), ‘Treursange en troossange’ en vertalings (o.m. uit Hamlet - vgl. Preller, Goethe se ‘Erlkönig’ en Gray se ‘Elegy’; die slotstrofe van laasgenoemde gedig is Langenhoven se grafskrif). Die vierde afdeling bestaan uit ‘Gewigtiger stukke’ wat meestal direk didakties of te persoonlik-sentimenteel is. Dit geld ook vir die oorskatte ‘Brief van die harlekyn’, wat deur die belydenis (o.m. oor sy fyngevoeligheid vir kritiek!) te tranerig word. Die tweede deel van Aan stille waters, wat in 1941 verskyn, bevat 'n keuse uit die bydraes vir 1931 en 1932 en bestaan uit verdere vertaalde liedere, sketse oor alledaagse onderwerpe, voordragte oor politieke vraagstukke en die Afrikaanse taal en die bekende ‘Werkreseppie’ (‘Dis die smorende vuur wat swaarkry’). Die meeste stukke in hierdie bundel is egter meer tydgebonde as dié in die eerste versameling. Die Ou-liedjies, wat hy in 1928 publiseer, is uitbreidings van en voortdigtings op bekende volkswysies, soms wel met sekere vondste (soos in ‘Die hiefel en die fiefel’) maar meestal nie suksesvol nie. Die verdere gedigte, waarvan sommige oorspronklik in Die Huisgenoot verskyn het en in deel XVI van die Versamelde werke opgeneem is, word dikwels ontsier deur die lerende inslag en sentimentele emosies. Langenhoven se doel met sy skryfwerk was om die Afrikaner te leer lees. Daarvoor het hy hom tot die breë publiek gerig en veral die humor, spot en satire naas direkte lering en moralisasie as wapens gebruik om die volk te bereik. Met sy beweeglike styl kon hy die volksuitdrukking en die alledaagse woord op 'n natuurlike wyse in sy prosa gebruik en in dié opsig 'n belangrike korrektief bring op die onbeholpe stylloosheid en die kunsmatige sierprosa van baie van sy tydgenote en voorgangers. Daarby was hy in 'n groot verskeidenheid genres tegelyk werksaam, wat hom in die geleentheid gestel het om op verskillende terreine die grondslag vir verdere ontwikkeling te lê. Tog is dit ongetwyfeld so dat 'n groot deel van sy werk vandag verouderd is, ongelyk in waarde vertoon en hoofsaaklik tot kultuurhistoriese betekenis gereduseer kan word. Die rede hiervoor is dat hy by herhaling toegewings aan sy lesers gemaak het in 'n poging om die breë lae van die publiek te bereik of om dikwels sekere vondste - veral op die gebied van sy satiriese werk - deur
| |
[pagina 181]
| |
herhalings en toutologieë te bederf. Daarby misluk hy haas altyd daarin om 'n verhaal of 'n roman tot 'n hegte eenheid te komponeer. Ten spyte hiervan is hy tog deur sy boeiende styl 'n voortreflike verteller, veral op die gebied van die satiriese prosa, terwyl hy as essayis 'n verdienstelike bydrae gelewer het. |
|