Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 155]
| |
Hoofstuk 6
| |
I.J.H.H. de Waal
jan hendrik hofmeyr de waal (1871-1937), 'n neef van Onze Jan, is 'n tyd lank werksaam as onderwyser en joernalis en studeer daarna regte in Londen. Reeds in die negentigerjare skryf hy gedigte en klugte, en in 1903 publiseer hy die liefdesdrama Anjelina. Van 1903 tot 1914 is hy redakteur van die tydskrif De Goede Hoop waarin van sy belangrikste prosa- en dramawerke en ook talle versies en boekbesprekings verskyn. Met sy redigering van hierdie blad, met sy aandeel aan die Afrikaanse Taalvereniging en met sy pogings om Afrikaans in die Kaapse geregshowe erken te kry, speel hy 'n leidende rol in die Tweede Beweging. Daarna tree hy tot die politiek toe en word Volksraadslid en later Speaker. Vir sy bydrae tot die taalstryd en die letterkunde ken die Universiteit van Pretoria in 1936 'n eredoktoraat aan hom toe.
| |
[pagina 156]
| |
Afgesien van 'n aantal verhaaltjies wat hy in die bundel Stompies (1911) versamel het, is De Waal die skrywer van kort toneelstukke waarmee hy die klugtige tradisie van Melt Brink en die historiese romantiek van S.J. du Toit voortsit. Hieronder is (afgesien van Anjelina) Die spioen en sy handlangers (1907), Amper maar nog nie (1907) en Die dobbelspelletjie (1930) die belangrikstes, terwyl hy in Die jonge skrywer (1931) sterk reageer op ongunstige kritiek, o.a. dié van Preller en Schoonees. Sy blywendste bydrae lewer hy met die biografie oor sy vader (Die lewe van David Christiaan de Waal, 1928) en die dokumentering van My herinnerings van ons taalstryd (1932). Sy besondere gewildheid as volkskrywer en sy literêr-historiese belangrikheid berus egter veral op sy romans, in die besonder op Johannes van Wyk, wat van 1904 tot 1906 as vervolgverhaal in De Goede Hoop verskyn en in 1906 die eerste publikasie van die Tweede Beweging in boekvorm is. Soos in sy ander geskiedkundig-romantiese verhale - Die tweede Grieta (1912) en Oupa en sy kleindogters (1923), in 1926 onder die titel Oupa vir die toneel verwerk - en avontuurromans - waaronder Die eksentrieke Essie (1934), in 1936 aansienlik uitgebrei - word die gebeure in Johannes van Wyk oorheers deur 'n vernuftige reeks toevalle, terwyl die karakters slegs vir die intrige aanwesig is en verpersoonlikings word van sekere engelagtige of duiwelse eienskappe. Die basiese patroon is telkens 'n beeldskone meisie wie se eer deur een of meer gewetenlose skurke bedreig word, 'n vlekkelose held wat onverskrokke stry om haar uit die gevaar te red, terwyl die skurk meestal met sy lewe moet boet, en 'n gelukkige huwelik wat aan die slot van die verhaal vir die held en heldin wag. Die liefdesleed en uiteindelike -geluk is dus hoofsaak en die geskiedkundige raamwerk oorwegend daar om die romantiese waas van 'n vervloë en geïdealiseerde tydperk op te roep, om die verhaal meer gekompliseerd te maak en om vir die verteller die geleentheid te gee om informasie in verband met die bepaalde historiese periode oor te dra. Die verteller rig hom verder regstreeks tot sy lesers en kondisioneer hulle om bepaalde opvattinge oor die karakters te hê. Met dit alles sluit De Waal aan by die ou historiese verhaal, soos dit deur Scott en Van Lennep beoefen is, en kry ons weinig karakterontwikkeling of 'n logiese progressie in die gebeure. Daarby is sy taal - ten spyte van 'n sekere natuurlikheid in die dialoog - oorwegend stereotiep en vol anglisismes. Alhoewel De Waal se romans en dramas dus nie as 'n wesentlike bydrae tot die Afrikaanse literatuur beskou kan word nie, is hy tog van belang deurdat hy met sy geestige spele die nodige stof vir die toneel gelewer en met sy avontuurverhale ontspanningslektuur vir die lesende publiek verskaf het. Deurdat sy werk dikwels op die Suid-Afrikaanse verlede as raamwerk steun, kon hy op dié wyse lesse in die vaderlandse geskiedenis gee en bydra tot die verdere uitbouing van die nasionale bewussyn. | |
II. Voortsetting van die romantiese tradisie en die intrigeverhaalAfgesien van Brink, De Waal en Celliers se historiese dramas word die toneelspel met 'n geskiedkundige agtergrond in hierdie jare beoefen deur A. Francken, wat vir sy Susanna Reyniers (1908) 'n episode uit die Kaapse sewentiende eeu dramatiseer, en | |
[pagina 157]
| |
deur M. Jansen-Pelissier, wat - afgesien van haar tendensverhale oor pedagogiese en seksuele vraagstukke, versamel in Die veldblommetjie (1919) en later in Die erfenis en Sommerso (albei 1940) - met Afrikaner harte (1914) by die melodramas oor die Anglo-Boereoorlog aansluit. Hierdie melodramas word verder beoefen deur Horatius (Mag is reg, 1917), C.E. Viljoen (Die silwere rand, 1917), A.J. Bruwer (Gert Vosloo - die egte rebel, 1918), J.C.B. van Niekerk (Slagoffers, 1928 - oor W.A. van der Stel - en Van Riet tot Rietfontein, 1930) en in die talle stukke van david petrus du toit (1870-1936), 'n skrywer wat reeds in 1893 Di bedriegers skryf, met stukke soos Jaloesi en geldsug (1913) en Maloesa die getroue (1933) bydraes vir die toneel lewer en verder met sy grappige versies en romans - soos Syn pa se skuld (1918) en Haar broer se skuld of Die roosknoppie (1930), toneelverwerking in 1934 - in die leesbehoefte voorsien, al is hy minder handig met avontuurlike situasies as De Waal en al is sy vertellings soms te omslagtig. Op die terrein van die histories-allegoriese spele verskyn daar - naas Langenhoven se werk op dié gebied - slegs S.P.E. Boshoff se Jannies, Johnnies en Jantjies (1917). Eers in die twintigerjare word dramas met Bybelse motiewe beoefen deur P. de Waal (Die bekeerde Jodin, 1923, en Delila, 1926), J.A. Kotzé (Liefde versmaad, 1927, en 'n Droom, 1928) en P.W. Botha (Die stryd om die troon, 1930), wat literêr-histories ook van belang is as die skrywer van die eerste Afrikaanse hoorspel (Witwatersberg, omtrent 1932). Die enigste Bybeldramas wat enigsins bo die middelmatigheid uitstyg, is Saul van W.J. Pienaar en Die doper of die Herodes-treurspel van Jac. J. Müller (albei 1928). Alhoewel laasgenoemde stuk in uiters powere verse geskryf is en as geheel onbevredigend aandoen, is daar hier reeds iets van 'n sielestryd in die hoofkarakter aanwesig en kry ons 'n sterk dramatiese botsing. Daarby is dit - in teenstelling tot die prekerigheid, swak bou en vlak karakterisering van die meeste ander stukke - 'n eerste (mislukte) poging tot tragiese vergestalting en die voorloper van Malherbe en Van Wyk Louw se uitbeelding van die profeet-figure. Vir die novelle Twee susters (1915), 'n taamlik onbeholpe verhaaltjie uit die konsentrasiekampgeskiedenis van die Anglo-Boereoorlog, ontvang Chris Euvrard die eerste toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir literêre werk. Naas G.R. von Wielligh en D.P. du Toit word die ou tradisionele avontuurverhaal veral beoefen deur Joubert Reitz met Die dolosgooier (1916), Beproewing (1918) en Wraak (1927), wat al drie vol spannende avonture is maar taalkundig en stilisties onbeholpe aandoen. In Deur die smeltkroes (1917) lewer Gordon Tomlinson verslag van sy avonture tydens die Anglo-Boereoorlog in die omgewing van Swellendam, maar ten spyte van die lewendige tonele wat hy oproep, is sy natuurbeskrywings te stereotiep, sy insig in die menslike psige te oppervlakkig en die geheel te veel vanuit 'n pro-Afrikaanse en anti-imperialistiese standpunt geskryf. Jare later bundel hy sy aandeel aan die taalstryd in Herinneringe van 'n jong Turk (1956). J.H. Malan skryf in Die swerweling (1921) oor die tydperk van die Franse Hugenote in Drakenstein in 'n omslagtige en konvensionele styl, terwyl hy, naas die toneelstuk Na olikheid kom vrolikheid (1917), in Sonskyn en skaduwee (1926) verhale en verse bundel. Met Getrou (oorspronklik as vervolgverhaal in Die Huisgenoot, daarna in 1921 as boek gepubliseer) lewer A. du Biel 'n spannende avontuurverhaal wat teen die agtergrond van die Hugenote-periode gesitueer is, terwyl hy in Die misdade van die vaders (1919) en Kain (1922) die tema van die vadersvloek op romantiese wyse verwerk en in die | |
[pagina 158]
| |
reeks Oor berg en vlaktes (1922-1925) spesifiek vir die jeug skryf. Onder die skuilnaam Dómine lewer A.J. Jacobs in Reisavonture op land en see (1920) verslag van sy reis oor Madeira na Argentinië en sy besoek aan die Afrikanerkolonie aldaar. In Langs kronkelende weë (1921) vertel Sadie Bosman 'n sentimentele verhaaltjie uit die tydperk van die 1914-veldtog teen Duits-Suidwes. G.J. Otto gee 'n beeld van die tipiese Afrikaanse leefwyse in Uit die lewe (1921) en doen in My heideblommetjie (1924) verslag van 'n aantal bekeringsgeskiedenisse. Naas historiese werke vir kinders skryf Nico Hofmeyr die romans Fanie (1925) en Op die walle van die Vaal (1929); eersgenoemde is 'n geromantiseerde geskiedenis van die Trek, gebaseer op sy en Kestell se Nederlandse Dagboek van Izak van der Merwe, maar dit mis 'n grootse siening en 'n epiese dimensie. Nog 'n verhaal wat die tydperk van W.A. van der Stel as agtergrond het, is N.H. Theunissen se Marianne (1925), terwyl Hettie Cillié in die boeiende meisieverhale Chrissie en Joey (1925), Vier vriendinne (1929) en Beter as geld (1935) die lewe van die student en die koshuisbestaan as boustof neem. In Mont-auxsources (1925) doen G.W. Eybers verslag oor sy togte na die berge, terwyl hy in Die lotgevalle van Dominik, die fortuinsoeker (1935) 'n tradisionele geskiedenis in die tyd van die vroeë Kaap - o.m. die gevegte teen die inboorlinge - situeer. Met Die drie dogters (1928) lewer P.R. Gauche 'n enigsins sentimentele liefdesroman teen die agtergrond van 'n idilliese plaaslewe. Ná C.J. Langenhoven se Donker spore word die eerste geslaagde speurverhale in Afrikaans geskryf deur Hendrik Brand (pseudoniem van S.H. Skaife), wat o.m. Adriaan Hugo (1928), Die swart hand (1930), Die skerpioen (1932) en Onegte diamante (1938) publiseer. Haas al die werke wat hier bespreek is, doen nog sentimenteel aan of is onbeholpe wat taal en styl betref. Die tradisionele opset van die nasionaal-romantiese avontuurverhaal vorm ook nog die basiese patroon van D.F. Malherbe en Jochem van Bruggen se (prosa-) debute - Vergeet nie (1913) en Teleurgestel (1918) onderskeidelikmaar dan is daar sekere elemente in albei romans wat dit dadelik onderskei as die werk van skrywers wat tot veel meer en beter in staat is. Terwyl Van Bruggen met sy eerste roman nog oorwegend aan die romantiese tradisie vassit maar daarna in 'n meer realistiese rigting ontwikkel, bly Malherbe in al sy werk end-uit die romantikus-by-uitstek in die Afrikaanse prosa.
| |
[pagina 159]
| |
III. D.F. MalherbeDaniël Francois Malherbe is op 28 Mei 1881 op Daljosafat in die Paarlse distrik gebore as die seun van P.J. Malherbe, stigterslid van die G.R.A. Saam met A.G. Visser en Totius ontvang hy onderrig aan die Gedenkschool der Hugenoten en groei hy op in die geestelike sfeer van die Patriotters. Ná voltooiing van sy studies op Stellenbosch vertrek hy in 1902 na Freiburg in Duitsland, waar hy in 1906 promoveer op 'n dissertasie oor Das Fremdwort im Reformationszeitalter. By sy terugkeer na Suid-Afrika het hy 'n leidende aandeel aan die taalstryd, onder meer as lid van die Afrikaanse Taalvereniging en met die rede “Is Afrikaans 'n dialekt?’ wat hy in Oktober 1906 op Wellington hou. Hy word aangestel as skoolhoof op Carnarvon (1907-1909), doseer daarna 'n kort tydjie op Stellenbosch en word in 1910 benoem tot hoogleraar in moderne tale aan die Grey-universiteitskollege te Bloemfontein. In 1918 word hy aan dieselfde inrigting professor in Afrikaans, 'n leerstoel wat hy - afgesien van die jare wat hy as rektor waargeneem het - tot met sy aftrede in 1941 beset. Malherbe was sowel op taalkundige as literêre terrein aktief deur sy lidmaatskap van die Taalkommissie, redigering van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (1922-1939), advies aan die Bybelvertalers en Gesangberymers, resensies in heelparty tydskrifte, bloemlesings uit die Afrikaanse letterkunde en die versameling Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1926). Die Hertzogprys is drie keer aan hom toegeken (vir Die meulenaar in 1926, vir Hans-die-skipper in 1930 en vir Saul die worstelheld en Die profeet in 1939), terwyl hy eredoktorate van die Witwatersrand, Unisa en Stellenbosch ontvang het. Op 12 April 1969 is hy in Bloemfontein oorlede. As skeppende kunstenaar is Malherbe werksaam as digter, dramaturg en prosaïs, maar - afgesien van enkele verspreide gedigte - lewer hy sy omvangrykste en belangrikste bydrae op die gebied van die verhalende prosa as verteenwoordiger van die romantiese stylrigting in die Afrikaanse letterkunde. In hierdie verband
| |
[pagina 160]
| |
word hy gewoonlik gestel teenoor sy tydgenoot Jochem van Bruggen, wat met sy uitbeelding van die armblankes in die dorps- en plaasmilieu en sy gebruik van die gewone en konkrete woord 'n meer realistiese inslag openbaar. Daarteenoor maak Malherbe gebruik van geïdealiseerde en dikwels heroïese figure, steun sy romans op die grootse verlede van die Bybelse oudheid en die eie nasionale geskiedenis as boustof en gee hy voorkeur aan die deinende volsin met 'n volle klankorkestrasie waarin die betekenis van die enkele woord verdoof en weggesus word (o.m. deur die herhaling van voegwoorde en voorsetsels, parallelle konstruksies in die sinsbou, die veelvuldige aanwending van die onvoltooide deelwoord en die voortdurende funksieverwisseling van die rededele). Met hierdie liriese taalgebruik wou Malherbe - soos Preller voor hom - doelbewus 'n bepaalde stylrigting in Afrikaans beoefen, maar die beswaar is dat hy - afgesien van die feit dat hy onbeholpe te werk gaan en die moontlikhede van hierdie styl nie volledig benut nie - met sy liriese uitweidings telkens die epiese gang van sy verhale tot 'n stilstand bring en dat sy meestal enkellynige en konfliklose karakters nie sterk genoeg is om die geweldige las van die woordrykheid te dra nie. Die gevolg is dat die romantiese waas van herinnering en verlange telkens die hewige konflik en die daad in sy figure verdring, ten spyte van die feit dat hy dikwels aktiewe karakters - soos die meulenaar, visserman en die vroeë pioniers - in sy romans laat optree. Ook in sy verse maak hy van ongewone woorde en neologismes gebruik en lei sy aksent op idees en beskouings en die vervoering van die woord self dikwels tot vae bepeinsings, hinderlike samevoegings, onsuiwer beeldspraak en 'n liriese roes waarin die enkele woord sy betekenis verloor. Die eensydigheid wat sy besondere soort romantiek tot gevolg het, bring ook mee dat hy op die gebied van die drama nie een enkele gestalte kon skep wat as karakter oortuig nie. Teen die spesifieke stylrigting as sodanig is daar dus geen beswaar nie; Malherbe hanteer dit net lomp. Aan die begin van sy loopbaan as skrywer publiseer Malherbe sy eerste digpogings onder die pseudoniem Runo in De Goede Hoop. In 1909 debuteer hy met die bundel Karroo blommetjies. As gevolg van hierdie vroeë eerste bundel is hy in die verlede dikwels saam met Celliers en Totius (wie se debuutbundels 'n jaar tevore verskyn) en Leipoldt (wie se Oom Gert vertel in 1911 gepubliseer word) as digter van die Eerste Geslag genoem, terwyl sy poësie (blykens die tydskrifpublikasies) van resenter datum is, kwalitatief op 'n veel laer vlak beweeg en buitendien reeds invloede van sy onmiddellike voorgangers in Afrikaans toon. In Karroo blommetjies is die verse deurgaans swak, toon die taal 'n sterk Nederlandse inslag, is die beelding meestal uiters onbeholpe en word die geheel ontsier deur 'n sterk moraliserende en redenerende inslag. Die titel van die bundel is enigsins onvanpas, aangesien daar verskeie verse opgeneem is wat die wêreld buite die Karoo tot boustof het. In ‘Die berg’-siklus teken Malherbe die vroeë bewoners en eerste pioniers van Afrika,
| |
[pagina 161]
| |
waardeur dit 'n verwantskap toon met Totius se Verse van Potgieter's trek en die latere Uit donker Afrika, maar die geheel bly onhelder en die berg het as simbool te weinig bindende krag. Op 'n enigsins hoër vlak is Klokgrassies (1914) waarin Malherbe - soos Totius voor hom - natuurdinge as naïewe sprekers aanroep en sy vers simbolies verdiep deur na aanleiding van 'n natuurvoorwerp te mymer. Die lang vers oor die dood van sy moeder (‘Moeder’) vergelyk ongunstig met Totius se lykdigte en die bundel as geheel word ontsier deur die neiging tot didaktiek. Iets beter is ‘Die see is vol van eeuwigheid’, al mis die gedig 'n dramatiese progressie en konkrete beelding, en ‘Slaap’ (eers in die tweede druk bygevoeg), wat ná Leipoldt se sonnette uit Oom Gert vertel die eerste geslaagde vers in dié kategorie in Afrikaans is, al beweeg dit in die sekstet op die rand van die didaktiek. In Vir vryheid (1919) en Die timmerman (1921) wend Malherbe hom tot die epiese poësie en probeer hy - met weinig positiewe gevolge - die idilliese van Celliers se Martjie met die epies-liriese van Totius se Trekkerswee verbind. In Vir vryheid steun hy, soos S.J. du Toit in Magrita Prinslo, op die historiese (tonele uit die Groot Trek ná Retief se besoek aan Dingaan) en die romantiese (die liefdesgeskiedenis van Jan Bruwer en Geertruid de Kok), maar Malherbe se prosodiese skema is meestal lomp deur die ritmiese versteurings en die tekort aan bindingselemente, terwyl die verteller plek-plek (soos aan die begin van deel IV) onnodig verklarend in sy verhaal intree. Die verdienstelikste dele is enkele landskapsienings, soos die slot van deel III, alhoewel daar hier - soos elders - invloed van Celliers voorkom. Op 'n hoër vlak is Die timmerman, die verhaal van 'n teruggekeerde balling wat ná veel omswerwinge sy verlore dogtertjie in 'n weeshuis terugvind. Opvallend is hier Malherbe se bereidwilligheid, soos trouens ook elders in sy oeuvre, om met allerlei vorme, in die besonder metriese variasies en klanknabootsings, te eksperimenteer (bv. in ‘Langsaam lui die koperklok’, waarin die gelui van die klok effektief geëvokeer word). Die bou van die geheel (agt afdelings, telkens ingelei deur 'n liriese voorspel) is oor die algemeen hegter as dié van Vir vryheid, terwyl die motief van arbeidsverheerliking wat later in die romans so 'n belangrike rol gaan speel, hier reeds aanwesig is. Malherbe steun in dié werk weer op die klein Afrikaanse literêre tradisie, meer spesifiek op Trekkerswee in sy uitbeelding van die ongelukkige timmerman wat sy verdriet aand na aand in die hotel wil wegdrink en wat met sy besoek aan die kerk en die aanhoor van die predikant 'n beslissende wending in sy lewe bereik (vgl. Dina in Totius se gedig). Rivier en veld (1922), wat hierop volg, is 'n mengelbundel deurdat dit liriese, epiese en dramatiese verse bevat. Naas 'n viertal sonnette en die ballade ‘Antjie Somers’ beoefen Malherbe die sangspel in ‘Die blom van Orléans’ (in 1939 as Drakenstein verwerk vir die Bloemfonteinse Hugenotefees en in 1943 in Die meul dreun opgeneem). Die taal van hierdie sangspel is egter te bloemryk en die verstegniek onrustig-wisselend, terwyl daar 'n romantiese waas oor die agttiende-eeuse gebeure hang, nog verder versterk deur die optrede van die tipiese speelman as swerwersfiguur. In die lang gedig ‘Bosrand’ lê die konflik tussen die ontaarding van die jonger Afrikaner teenoor die behoudende vader, 'n tipe boustof wat Malherbe later in sy romans Hans-die-skipper en Die bergstroom ruis sal gebruik. Met die driedelige oorwegendepiese Die skaduwee van 'n urou (1923) vaar Malherbe weer swakker deurdat die probleem van die ondergang van twee mans se vriendskap as gevolg van die invloed van 'n vrou oneg en gesog aandoen en buitendien retories verwoord is. Die bundel | |
[pagina 162]
| |
Somerdae (1928), wat hierna verskyn, bevat van Malherbe se beste verse en voer sy verheerliking van die arbeid en die see (laasgenoemde o.m. in ‘Verby’ met sy - vir Malherbe! - nugter eerste strofe) verder deur. Opmerklik is die feit dat hy weer in, die bespieëlende gedigte misluk en in sy beste verse van 'n balladeske vorm gebruik maak, iets waardeur hy die neiging tot romanties-liriese jubeling met die nugterepiese kan bedwing, Daarom is die ballades ‘Jan Gebhart’, ‘Die wolfhuis’ en veral ‘Jakob Ontong’ met sy treffende sienings en beelde, die nabootsing van die kitaarspel in die klank van die vers en die nuwe funksie wat hy aan 'n ou refrein gee, van sy geslaagdste verse. In ‘Die rooivlerkspreeu’ word die voël die draer van Malherbe se romantiese verdriet deurdat hy die spreeu se lied naboots op 'n wyse wat dit tot 'n waardige voorloper van Uys Krige se seemeeu maak. Die bundel word aangebied as ‘glansies in die land van my arbeid’ en die verheerliking van die arbeid en die see sluit ten nouste aan by die arbeidsromans Die meulenaar en Hans-dieskipper, wat in hierdie jare verskyn. Intussen het Malherbe hom - alhoewel met weinig sukses - op die gebied van die toneelkuns gewaag. Sy dramatiese oeuvre neem 'n aanvang met die vertaling van 'n maatskaplike tendensdrama, Die skoonseun van mnr. Poirier (1919), uit die Frans van Augier en Jules Sandeau; op die gebied van die vertaalkuns sal hy ook in die veertigerjare weer werksaam wees met die publikasie van Wilhelm Tell (na Schiller, 1944 - eerste bedryf reeds in Die meul dreun, 1943) en Die koopman van Venesië (na Shakespeare, 1949). In die plaasdramas Koringboere (1921) met brandstigting en die botsing tussen twee broers as temas, Die mense van Groenkloof (1925), wat die agteruitgang en onwettige diamanthandel tydens die depressiejare behandel, en Op die trekpad (1931), wat teen die agtergrond van die groot droogte afspeel, kies Malherbe die eietydse probleme van die Afrikanervolk tot boustof. In al drie spele mis die handeling egter die nodige motivering en berus die ontknopings te veel op uiterlike sake. Veel beter vaar hy met Meester (1927), wat op 'n boereplaas in die Mosselbaaise distrik teen die einde van die agttiende eeu afspeel en die eensaamheid van 'n rondtrekkende Hollandse skoolmeester met afwykende wysgerige en religieuse idees tot boustof het, al word die romantiese waas wat oor al die gebeure hang en sy neerslag in die dialoog vind, op die lange duur hinderlik. Die verskuiwing van die milieu na een of ander tydperk in die verlede bly deurgaans die basiese patroon van Malherbe se latere dramatiese werk. Die situering van die handeling in die verlede vind ons ook in Malherbe se eerste roman, Vergeet nie (1913), wat teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog, meer spesifiek van die Kaapse Rebellie, afspeel en wat in die figuur van kommandant Bester sekere ooreenkomste met die geskiedenis van Gideon Scheepers vertoon. In 'n hoë mate sluit die verhaal nog aan by die ou historiese roman soos De Waal dit beoefen het, al kom daar naas die opeengestapelde reeks spannende gebeurtenisse ook 'n poging om deur te dring tot die psige van die karakters, altans van die
| |
[pagina 163]
| |
vroulike hooffiguur. Die verteller is egter deurgaans sterk partydig vir die Afrikanersaak, die dialoog het dikwels iets baie kunsmatigs en in enkele tonele - soos in die afskeid tussen Marais en Bettie aan die begin - voel 'n mens dat Malherbe sy eie wysgerige beskouinge in die monde van sy karakters lê. Alhoewel kommandant Bester, die derde persoon in die liefdesdriehoek, wel aanvanklik iets van die tradisionele romanskurk het, is hy tog veel meer genuanseerd in sy optrede en word hy later, as hy met sy lewe moet boet, verder verdiep. Die onbeantwoorde liefde en die fusillering herinner enigsins aan Celliers se Martjie (hoewel die twee motiewe in Vergeet nie in een enkele karakter saamgetrek word), terwyl S.J. du Toit reeds in Liifde in oorlog die probleem van die stryd tussen liefde en politiek verwerk het. Die tema van die onbeantwoorde liefde en die figuur van die romanskurk kom ook in Die meulenaar (1926) voor, maar dan is dit deur die vervlegting van 'n hele paar hoof- en newetemas 'n roman met 'n veel groter wêreld en binne die konteks van Malherbe se prosa een van sy hoogtepunte. Saam met die tema van die onbeantwoorde liefde, soos verteenwoordig in die bywoner Faans se verhouding met Leonore, die dogter van die plaaseienaar, verwerk Malherbe ook met die Faans-figuur die gehegtheid aan die plaas en die verheerliking van die arbeid, iets waardeur die karakter van Faans as ‘die meulenaar’ groot prominensie verkry en betreklik volledig uitgebeeld word. Daarnaas maak die uitvoerige skildering van die Bolandse landskap en lewe - o.m. ook dié van die bruin arbeiders met hulle gebruiklike vrolikheid, hulle onderlinge liefdesverhoudings en hulle kragmetings as dit by die bewerking van die wingerd kom - van Die meulenaar ons eerste werklike plaasroman, al is Malherbe juis deur die aanwending van liriese intermezzo's en 'n verwikkelde sinsbou meestal minder gelukkig in die beskrywende gedeeltes. Die verheerliking van die arbeid en die uitbeelding van Faans se stryd en uiteindelike ondergang as gevolg van sy onbeantwoorde liefde bring mee dat die roman aarsel tussen plaasromantiek en die tragiek van 'n enkele mens, terwyl Faans as karakter - soos Rob Antonissen tereg aangetoon het - geestelik te beperk is om werklik die draer van 'n tragiese bewussyn te wees. Die gevolg is dat Faans nie ondergaan weens die feit dat hy die plaas moet verlaat en van sy geliefde meul moet afskeid neem nie, maar omdat hy slagoffer word van die sameloop van 'n aantal toevallige gebeurtenisse wat gesamentlik tot sy dood lei. Daaruit blyk dit verder ook dat die simboliek van die meul en die motief van die arbeidsverheerliking in sigself te ontoereikend uitgewerk word om Faans te laat ondergaan en dat Malherbe dus ander middele moet bedink om die gebeure in 'n bepaalde rigting te stuur. 'n Dieper sintese en 'n hegte bou ontbreek dus en die roman val uiteen in twee gehele wat nie 'n duidelike eenheid vorm nie, terwyl heelparty afsonderlike hoofstukke, hoe boeiend ook al op sigself (bv. ‘Wingerd spit’), nie 'n integrale deel van die roman uitmaak nie. Afgesien van die bruin karakters, veral die astrante en bekkige Velbaadjie, is die ander figure in die roman nie oortuigend nie. Louw word eensydig boos geteken, Leonore bly die tipies romantiese maar 'n enigsins skimagtige figuur, en van die vader en moeder en die verhouding tussen hulle kom daar weinig tereg. Die verteller verbreek telkens die aanbod om aan die lesers kennis te verstrek waaroor sy karakters nie beskik nie, om liries of verduidelikend uit te wei, besonderhede te gee wat in die toekoms gaan gebeur of motiewe van die karakters direk te openbaar en om sommige van hulle - soos bv. Louw en sy konfraters - doelbewus in 'n slegte lig te | |
[pagina 164]
| |
stel. Afgesien van die liriese besinging van die arbeid en die natuur, wat die handeling tot 'n stilstand dwing, is die dialoog ook dikwels onoortuigend, soos dié tussen Louw en Leonore oor laasgenoemde se redes waarom sy so 'n groot liefde vir musiek het en waarom sy op die plaas wil bly (‘Ideale’). Literêr-histories is die roman egter van belang, omdat Malherbe hierin met sekere tonele patrone vaslê wat later deur ander skrywers voortgesit word, bv. die kompetisie tussen die arbeiders (‘Wingerd spit’) en die vendusie-, piekniek- en verjaardagsmaaltonele waarmee hy 'n beeld van die negentiende-eeuse leefwyse van die Afrikaner in ons prosa oproep. Met sommige van hierdie tonele en met die verstandelik minderbedeelde Faans wil dit vir 'n mens voorkom of Malherbe doelbewus terugspeel op Ampie: Die natuurkind (1924) en dat hy teenoor Van Bruggen se realistiese voorstelling van die verarmde Afrikaner 'n ander idillies-romantiese beeld van die boer op 'n Bolandse plaas wil skep. Met sy uitbeelding van die bruinman is hy trouens ook die voorloper van Mikro in die dertigerjare. Soos vroeër in die epiese gedig ‘Bosrand’ uit die bundel Rivier en veld is die konflik tussen vader en seun die hoofmotief van Hans-die-skipper (1929), al sluit dit met die sentrale karakter se liefde vir die see en sy werk en die arbeidsverheerliking by verskeie van die figure ten nouste by 'n belangrike motief in Die meulenaar aan. Die verskil van en vooruitgang op Die meulenaar is egter dat hierdie twee motiewe intiem met mekaar verbind word en 'n hegter roman tot gevolg het: die botsing tussen Hans en sy seun Johan is nie in die eerste plek 'n generasie-konflik nie, maar die stryd tussen 'n vader wat met sy hele wese in die vreugde van die visvangs en liefde vir die see opgaan, terwyl die seun se arbeidsdrang hom in ooreenstemming met sy persoonlike aanleg in 'n ander rigting laat ontwikkel en by die smedery geluk laat vind. 'n Verdere vooruitgang op Die meulenaar is die feit dat die bymotiewe nouer by die hoofmotief aansluit en in diens daarvan staan, terwyl die newekarakters oortuigender uitgebeeld word en die idee van die arbeidsverheerliking telkens uit 'n ander hoek belig. In vergelyking met Leonore is Lenie 'n geslaagder vrouefiguur, terwyl Rooi-Koos nie die tradisionele romanskurk word nie, maar deur sy toewyding aan die werk en sy opregte liefde vir Lenie sekere nuanses bykry wat 'n karakter soos Louw in Die meulenaar mis. Naas Hans met sy liefde vir die see en Johan met sy hartstog vir sy werk by die smedery is daar die figuur van Meester, wat sy bevrediging in die onderwys en in die opvoeding van die kinders in die stranddorpie vind, terwyl Andries as messelaar en tant Trynie as huisvrou hulle idilliese geluk ook in die arbeid uitlewe. Die gevaar van so 'n karakterkonsipiëring is egter dat die figure almal 'n bepaalde idee verteenwoordig en enkellynig bly, terwyl die feit dat haas al die karakters tot
dieselfde tipe behoort, die roman eentonig maak en 'n beperkte en
| |
[pagina 165]
| |
eensydige wêreld tot gevolg het, iets wat nog verder versterk word deur die liriese vervoerings waarin al die karakters hulle verlangens en ideale verwoord. Soos in die geval van Die meulenaar is daar ook hier 'n dualisme tussen romantiek en volgehoue tragiek en is die motief van die eensydige arbeidsdrang onvoldoende om die ondergang van die hoofkarakter te bewerkstellig. Hans se dood word nie deur sy gefnuikte droom veroorsaak nie, maar as gevolg van die griepepidemie, wat buite die handelingsgeheel van die roman lê, terwyl die versoening tussen Hans en Johan melodramaties aandoen en in elk geval slegs skyn bly. Daarby lei die uitweiding oor Meester se geluk en die jeugliefde wat hy na jare terugvind, die gebeure te ver weg van die sentrale motief en gee dit te veel prominensie aan iemand wat in werklikheid slegs 'n bykarakter in die roman is. Ten spyte van hierdie besware is Hans-dieskipper Malherbe se suiwerste werk en lê hy met die kon flik tussen vader en seun 'n patroon vas wat telkens deur latere skrywers (soos Jonker, C.M. van den Heever en Krige) verder uitgebou sal word. Die twyfel aan die tradisionele geloof, wat reeds aarselend in die Marais-figuur uit Vergeet nie en in die drama Meester aanwesig was, word verder beliggaam in die karakter van Hendrik uit Loutervure (1931), terwyl die arbeidsvreugde in die figuur van die romantiese bywoner Niek voortgesit word. As geheel is Loutervure 'n swak roman deurdat sommige motiewe (soos bv. die aanvanklike liefde tussen Hester en die predikant) nie werklik noodsaaklik vir die handeling is nie, die afbranding van die plaashuis ongelooflik naïef gemotiveer word en 'n mens die gevoel het dat Malherbe se stem telkens in die gesprekke oor nasionaal-ideologiese aangeleenthede (soos nasiebou, geloof en taal) deurskroei. Die sentrale gedagte van hierdie roman, nl. dat die kultuurstryd alleen sinvol kan wees as dit met 'n Christelike geloofsvertroue gepaard gaan, is egter die hoofterna in haas alle latere werk van Malherbe, maar spesifiek van die reeks Bybelse en vaderlandse romans wat hy in die volgende dekades skryf. In dié opsig is dit dus 'n voorspel tot sy latere skryfarbeid. In die Ou-Testamentiese romans, Die hart van Moab (1933), Saul die worstelheld (1935), Die profeet (1937) - oor Jeremia - en Boerprofeet (1953) - oor Amos, bevry Malherbe hom van die tradisionele historiese avontuurverhaal en beoefen hy 'n tipe geskiedkundige roman waarin hy die heroïese karakters van die Bybel simbolies laai om sy siening oor die nasionale roeping van 'n volk te beliggaam, sonder om die geskiedenis eksplisiet op die Afrikanervolk se wording en verwording te betrek. Die teatrale effekte en die liriese taal lei egter daartoe dat die verteller telkens tussen die gebeure en die leser te staan kom en dat die strakheid van die Bybelse epiek verlore gaan, terwyl al vier romans as gevolg van die swak styl op die lange duur onleesbaar word. In Die hart van Moab word die opkomende nasionalisme gepersonifieer in die figuur van Azkar, maar sy ondergang is die gevolg van 'n toevalligheid, nie van sy nasionale ywer nie, sodat ons 'n diskrepansie tussen die sentrale motief en die hoofkarakter kry en die afwikkeling wesentlik buite die struktuur van die roman val. In sowel Die profeet as Boerprofeet ontbreek 'n volgehoue spanningslyn, selfs al word daar baie gebeurtenisse liries verwoord. Van die vier romans is Saul die worstelheld die geslaagdste, veral deurdat Malherbe met die invoering van die Tirsa-figuur, wat die koning tot vrou maak, 'n psigologiese motivering vir Saul se afvalligheid gee, selfs al is die menslikheid en boosheid in Tirsa nie bevredigend met mekaar verbind nie en al word die Dawid-karakter 'n eensydige en vaag-romantiese figuur. In al | |
[pagina 166]
| |
vier romans wyk Malherbe af van die Bybelse gegewe deur weglatings waardeur hy die karakters en gebeure vervlak en vereenvoudig en deur toevoegings waardeur hy telkens sekere motiewe herhaal of die natuur liries besing, sonder dat hy dit alles in die geheel integreer. Die basiese besware teen die reeks Bybelromans geld ook vir die pionierstetralogie wat gesamentlik as 'n ‘epos van die Afrikaanse volkswording’ (F.V. Lategan) beskou kan word en wat met mekaar verband hou deurdat die dinamiese hoofkarakters almal tot dieselfde familie behoort en besiel word deur dieselfde drang, t.w. om die onbewoonde land te tem en op die voorpunt van die vernuwing te staan. Die bergstroom ruis (1940) speel af rondom die figuur van August Fenting in die onbewoonde gebied tussen die Drakensteinberge en die Bergrivier teen die einde van die sewentiende eeu; Vlam van die Suurueld (1943) in die omgewing van die Visrivier met Rooi-Willem ('n kleinseun van Fenting) as die hoofkarakter; En die wawiele rol (1945) aan die begin van die negentiende eeu as Groot-Gert (die kleinseun van Rooi-Willem) oor die Grootrivier trek en hom as die eerste Voortrekker in Griekwaland vestig; en Over-die-berge (1961) - 'n voortsetting van die verhaal van Groot-Gert - onder die Voortrekkers in die Vrystaat en Natal. Twee romans wat verwante boustof behandel, is Spore van Vlieland (1948), wat die eerste Britse besetting van die Kaap as agtergrond het, en Die skeur van Vaalspruit (1952) - later gedramatiseer as Boeta van Skeurfontein (1959) - wat tydens die eerste anneksasie van Transvaal afspeel. Al ses hierdie romans moet egter as mislukkings beskou word omdat die historiese agtergrond haas geen funksie het nie en slegs dien om aan die onwerklike, heroïese karakters 'n waserige romantiek by te gee. Daarby word die karakters in so 'n mate deur een enkele drif besiel dat hulle heeltemal enkellynig en sonder enige konflik is, iets wat die moontlikheid tot 'n waaragtige botsing uitsluit. Waar daar wel sprake van 'n konflik is, verval dit in kleinburgerlike aangeleenthede wat met die heroïese konsepsie van die karakters bots. In die geval van Die bergstroom ruis is die pionierstema buitendien so power ontwikkel dat Malherbe 'n liefdesintrige nodig het om Kobus tot die trek te motiveer, met die gevolg dat die gebeure aan die einde verloop en buite die basiese struktuur van die boek val. Dit is weer 'n geval van disharmonie tussen hoofmotief en karakter, en dit lei tot 'n duidelike breuk in die verhaal. Die dramas wat Malherbe in hierdie jare publiseer, toon 'n tematiese verwant-
| |
[pagina 167]
| |
skap met sy romans, maar staan kwalitatief op 'n selfs nog laer vlak. Die beste werk lewer hy met die dramatiserings van Hans-die-skipper en Die meulenaar as Die seeman (1933) en Die meul dreun (1938, eers in 1943 gepubliseer) onderskeidelik. Van die twee is Die meul dreun dramaties die sterkste deur die aanwesigheid van die Faanskarakter. In Amrach die tollenaar (1935), Demetrios (in Die meul dreun, 1943) en Fariseër (1956) verwerk hy stof uit die Nuwe Testament, terwyl Moeder en seun (1945), Abimelech (1948), Silo is krank (1956) - waarin ook die stukke In die Namib en Van mense en gode opgeneem is-en Sisera (1958) op gegewens uit die Ou Testament berus. Al hier die dramas is geskryf in uiters retoriese, ‘digterlike’ verse waarin daar 'n basiese tweespalt voorkom tussen die burgerlike situasies en die streng stilering. Die holle retoriek is ook die belangrikste beswaar teen Malherbe se allegoriese dramas, waarin hy besin oor die Afrikanervolk: oor die Groot Trek en die voortbestaan in die Eeufeesstuk Die siel van Suid-Afrika (1938), oor die rasseproblematiek in Spel van blank en swart (1956). Die dalende lyn is verder kenmerkend van die res van Malherbe se geskrifte. Ná die betreklike hoogtepunt wat hy met die versebundel Somerdae bereik het, is Brood op die weg (1939), waarin nasionaal-godsdienstige verse (ook enkele berymde gesange) opgeneem is, te plegstatig en geyk; alleen ‘Padwerkers’ met sy sosiale nood styg hier uit as iets besonders. By die trant van die pioniersromans sluit die gedigte oor die Afrikaner se lotsbestemming in die tweede afdeling van Duine en pioniere (1951) aan, terwyl die meditatiewe verse in die eerste gedeelte oorwegend handel oor die mens se nietigheid en betreklikheid in die algemeen met die ‘speelman’-tema as bindende faktor. Die onhelder simboliek in dié bundel geld ook vir die verse in Kruis en kraai (1957) en Agterland (1965); eersgenoemde bevat gedigte oor dood, vernietiging en die liefde en redding wat Christus bied. Afgesien van die eenbedrywe wat reeds in Die meul dreun opgeneem is, bundel Malherbe 'n sestal korter stukke (waaronder die versdrama Macherus, wat in die tyd van Herodes afspeel) in Die uur van die rooi maan (1952), terwyl Goue appels (waarin karakters uit die Griekse mitologie voorkom) en Hulle het 'n boom afgekap (andermaal oor die generasie-konflik) saam in 1953 verskyn. Afgesien van die novelle Hulle wat verbygaan (1951) oor die apostel Thomas, waarmee hy tematies aansluit by die Bybelromans, verskyn daar nog verder van Malherbe die romans Rooiland (1956) en Kind van die sonde (1959), terwyl Langs groen weivelde (1959) drie radiopraatjies oor die boer bevat. Die eerste van hierdie drie werke handel oor 'n jong boer wat van die familieplaas afskeid neem en as delwer gaan werk, 'n tipe boustof wat Malherbe in staat stel om die pioniersfiguur en die arbeidsverheerliking, soos in die tetralogie, met mekaar te verbind. In Kind van die sonde dien die tema van die ongelowige (soos in Loutervure) weer as boustof, hoewel die probleem nie oortuigend verwerk word nie. In hierdie latere romans is Malherbe stilisties dikwels soberder, maar wat karakterisering en uitwerking van motiewe betref, bereik hy nie die peil van sy beste vroeëre romans nie. Postuum verskyn van hom Twee nagelate novelles en Die slagmes en ander nagelate verhale (albei 1980) wat niks aan sy beeld as skrywer verander nie. Die grootste deel van Malherbe se oeuvre is dus vandag haas onleesbaar deur die irriterende styl, die eienaardige verbinding van die alledaagse en gestileerde, die onhelder simboliek en die feit dat hy nie sy karakteruitbeelding konsekwent volhou nie. Sowel wat sy styl as sy groots-opgesette heroïese figure betref, is sy werk | |
[pagina 168]
| |
pretensieus, omdat die karakter meestal nie die liriese roes van woorde kan dra nie. Daarom is hy vandag grotendeels gereduseer tot 'n ‘gebeurtenis’ in die Afrikaanse literatuur en kan hy beskou word as 'n figuur wat in die tydsomstandighede nodig was om in 'n bepaalde rigting te werk, selfs al het hy met sy eksperimente in daardie rigting nie veel van waarde gelewer nie. Binne die konteks van die Afrikaanse letterkunde is hy egter van belang as stryder vir die taal, as eksperimenteerder wat met sy romanreekse die Bybelse en vaderlandse geskiedenis vir die eerste keer in groots-opgesette romans probeer verwerk het en as skrywer wat met twee van sy romans, Die meulenaar en Hans-die-skipper, en met enkele gedigte 'n wesentlike bydrae tot ons literatuur gemaak het.
|
|