Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 147]
| |
Hoofstuk 5
| |
I. Gustav S. PrellerTerwyl Totius en Celliers albei gedigte voor 1900 geskryf het en Leipoldt se eerste manuskripte reeds uit die eerste jare ná die eeuwenteling dateer, is die gepubliseerde werk waarin die nuwe gees van die Tweede Afrikaanse Beweging merkbaar is, aanvanklik afkomstig van iemand wat nie primêr skeppende kunstenaar was nie en | |
[pagina 148]
| |
sy belangrikste werk op die gebied van die geskiedskrywing gedoen het. Hierdie man is gustav schoeman preller (1875-1943), wat nie 'n volledige skoolonderrig geniet het nie en in 'n groot mate 'n outodidak was. Tydens die Anglo-Boereoorlog is hy lid van die derde battery van die Transvaalse Staatsartillerie, maar kort voor die Vrede van Vereeniging word hy gevang en as krygsgevangene na Indië gestuur. Ná sy terugkeer oorweeg hy dit om na Argentinië te emigreer, maar word deur Eugène Marais oorreed om in die redaksie van Land en Volk te dien. Van 1903 tot 1924 is hy assistent-redakteur en van 1924 tot 1925 redakteur van De Volk(s) stem, en in die jare 1910-1922 behartig hy ook (saam met W.M.R. Malherbe) die redaksionele versorging van Die Brandwag. Nadat hy in 1925 met die Suid-Afrikaanse Party van Smuts breek en Hertzog begin ondersteun, word hy redakteur van Ons (Die) Vaderland, 'n betrekking wat hy tot 1935 beklee. Daarna woon hy op sy plaas Pelindaba buite Pretoria en wy hom aan historiese navorsing, aanvanklik oor die Groot Trek, later oor die Anglo-Boereoorlog. In 1930 het die Universiteit van Stellenbosch aan hom 'n eredoktoraat toegeken vir sy belangrike werk op dié gebied. In die eerste jare ná die Anglo-Boereoorlog skryf Preller onder die skuilname Stoffie en Vastrap 'n paar gedigte in De Volkstem wat uitstyg bo die blote rympies en maakwerk van die tyd. In hierdie jare vertaal hy ook Joubert Reitz se aangrypende gedig ‘The searchlight’, wat handel oor die smart en heimwee van die balling na 'n verlore vaderland, terwyl hy met sy weergawe van ‘To be or not to be’ (1906) die eerste proewe van 'n Shakespeare-vertaling in Afrikaans lewer. Deur sy aandeel aan die Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging sorg hy saam met o.a. Harm Oost vir 'n hernude belangstelling op dié gebied en met die oog op opvoerings vertaal hy Piet s'n tante (na Brandon Thomas se Charley's aunt, 1909) en Erasmus se erfgename (na Emile Zola se Les héritiers Rabourdin, 1914). Dit is egter met sy antwoord op J.H. Hofmeyr se pleidooi oor die behoud van Nederlands as volkstaal dat hy, soos later ook met sy aandeel aan die Afrikaanse Taalgenootskap, aktief aan die taalstryd deelneem en as
| |
[pagina 149]
| |
't ware 'n begin maak met die Tweede Beweging vir die behoud, erkenning en uitbouing van Afrikaans. Hierdie stuk van Preller verskyn onder die titel Laat 't ons toch ernst wezen!, aanvanklik as reeks in De Volkstem, in Julie 1905 in pamfletvorm. As joernalis het Preller verder die geleentheid om bydraes vir De Volkstem en Die Brandwag te keur en op dié wyse die jong Afrikaanse letterkunde aan te moedig. Veral in die jare 1906 tot 1910 verskyn daar ook verskeie kritiese opstelle van hom in De Volkstem, hoofsaaklik as resensies van nuwe werke. As literator is Preller die eerste persoon wat sterk krities staan teenoor Afrikaanse publikasies en wat - onder invloed van die Tagtigers - die kunswerk met suiwer estetiese maatstawe wil meet en veral die belangrikheid van die woord beklemtoon. Daarom kon hy Melt Brink en J.H.H. de Waal se werk negatief beoordeel, terwyl hy reeds vroeg die belangrikheid van Celliers en Marais binne die konteks van die Afrikaanse letterkunde kon insien. In sy beskouinge maak hy hom los van persoonlike voor- en afkeure en probeer hy hom uitsluitlik op die teks rig, alhoewel kultuurhistoriese oorwegings en natuurgetrouheid ook as maatstawe by hom meespeel. Met sy beskouinge en die eise wat hy stel, lê hy ‘'n toekomstige program van aksie vir ons kunstenaars’ (D.J. Opperman) vas. Dit geld in die besonder vir sy kritiek op De Waal se Johannes van Wyk, waarin hy met sy pleidooi vir ‘gawe, ronde, hele woorde’ wat die kunstenaar moet ‘navoel, en wik en weeg’, die rigting aandui vir die tipe gestileerde prosa van D.F. Malherbe en andere, iets wat ongelukkig in die praktyk in 'n soort sierskrywery ontaard het. Tog is Preller die eerste Afrikaanse prosaskrywer wat op literêre modelle (Van Deyssel) gesteun en bewustelik kunsprosa beoefen het. Hierdie bewustelike beoefening van 'n bepaalde styl geld ook vir sy historiografiese geskrifte, en telkens tref hy met sy helder betoog en sy beeldende vermoë, al maak hy hom soms ook skuldig aan hinderlike maniërismes en die veelvuldige gebruik van uitheemse woorde. In dieselfde jaar waaruit sy antwoord op Hofmeyr dateer, begin hy in De Volkstem met 'n reeks artikels oor die Voortrekkerleier Piet Retief. Dit verskyn in 1906 in boekvorm, beleef daarna talle bygewerkte herdrukke en kan saam met De Waal se Johannes van Wyk as die eerste prosawerk van die Tweede Afrikaanse Beweging beskou word. Die boek is nie net 'n biografie nie, maar 'n beeld van 'n bepaalde tydvak, 'n poging om tot 'n duidelike begrip te kom van wat die Groot Trek vir die Afrikaner beteken en in watter mate die geskiedenis van 'n enkele mens en 'n spesifieke periode vir die Afrikaner aan die begin van die twintigste eeu van waarde kan wees. Daarom word die massa feite tot 'n duidelike beeld van 'n stuk verlede opgebou en probeer hy telkens om met behulp van die skilderende woord beskrywings te gee van die dramatiese hoogtepunte in Retief se lewe, soos die oortog oor die Drakensberge en die eerste aanblik van Natal. Alhoewel die werk grootliks 'n bronneversameling geword het, Retief se bydrae onkrities beoordeel en ander leiers (soos Potgieter, Uys en Maritz) te veel verwaarloos of in 'n skewe lig gestel is, het Preller hiermee vir die Afrikaner bewys dat hy 'n geskiedenis het, net soos die eerste verse van Marais, Celliers en Totius mense kon oortuig dat Afrikaans as medium nie minderwaardig hoef te wees nie. Veel later, in 1937, publiseer Preller sy tweede groot biografie oor 'n Voortrekkerleier, t.w. Andries Pretorius. Dit is 'n lywiger werk as dié oor Retief en konsentreer in die besonder op Pretorius se Natalse periode en sy optrede in Transvaal, veral sy militêre prestasies en sy rol as staatsman (soos sy formulering van 'n naturellebeleid | |
[pagina 150]
| |
vir Natal, sy poging om die partytwiste in die Transvaal op te los en sy deelname aan die Sandrivierkonvensie). Die boek toon egter ernstige gebreke as gevolg van 'n onkritiese aanwending van bronne en deur die feit dat Preller telkens van sy hooftema afdwaal en by herhaling oor newesake uitwei. As biografie is dit nie juis geslaag nie, al boei hy hier ook weer telkens met sy lewendige beskrywings van die gevegte. Naas sy uitgebreide werke oor die Voortrekkerleiers publiseer Preller verder studies oor die geskiedenis van Transvaal en die Anglo-Boereoorlog: Baanbrekers: 'n Hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal (1915), kort lewensketse van Kaptein Hindon (1916), Generaal Botha (1920) en genl. D. Erasmus (in Talana, 1942), 'n ondersoek na die vroegste goudontdekkinge in Transvaal en 'n uitgawe van die dagboek van Pieter Jacob Marais wat hiermee saamhang (Ons goud roman, 1935), en 'n studie van Die Grobler moord (1930). Hierby sluit sy eie persoonlike herinneringe en sy dokumentering van ander se ervaring tydens die Anglo-Boereoorlog aan, wat hy in Oorlogsoormag en ander sketse en verhale (1923) en Ons parool (1938) - gebaseer op sy oorlogsdagboek - bundel en wat van sy beste en onderhoudendste prosa bevat. Verder maak hy 'n studie van die Voortrekkers van Suidwes (1941) en versamel hy sy Historiese opstelle (1925) en sy Sketse en opstelle (1928), terwyl postuum Lobengula: The tragedy of a Matabele king (1963) verskyn. Preller se waardevolste bydrae op historiografiese gebied is sy uitgawes van dagboeke, gedenkskrifte en dokumente oor die Groot Trek en die Anglo- Boereoorlog. In 1917 publiseer hy die Dagboek van Louis Trigardt, terwyl die ses bundels Voortrekkermense (1918-1938) o.m. briewe van die Trekkers, Erasmus Smit se Dagboek, die Gedenkschrift van Anna Steenkamp en die herinneringe van F.P. van Gass en J.H. Hattingh bevat. Hierdie stukke stel die leser in staat, soos Preller self sê, ‘om die Voortrekkers te leer ken soos hulle hulself gesien het, op die trek, in die laer, op die jag en in die huislike kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake, in hul gewoontes, en in die kleredrag van hul tyd’. Afgesien van sy uitgawe van die notule van die Natalse Volksraad (Voortrekker wetgewing, 1924) versorg hy verder Scheepers se Dagboek (1938). Dit is een van die ontroerendste dokumente uit die periode van die Anglo-Boereoorlog, en Preller lewer by sy uitgawe deeglike kommentaar oor die aard en omstandighede van Scheepers se dood, die gerugte en legendes in verband met hom en die jarelange soektog van sy moeder na die bewyse vir sy dood. Alhoewel Preller dus nie in die eerste plek skeppende skrywer was nie, lewer hy tog met sy historiografiese arbeid 'n bydrae tot die bellettrie, terwyl hy met enkele sketse uit Ons parool en Oorlogsoormag in sy eie reg 'n prosaskrywer van formaat is. Met sy werk as geskiedkundige lei hy die tradisie van wetenskaplike navorsing op dié gebied in en stel hy heelwat bronne vry waarop latere navorsers kon voortbou. As pleitbesorger vir die regte van Afrikaans is hy aan die begin van die twintigste eeu verantwoordelik vir 'n nuwe inset in die Afrikaanse Beweging en as literêre kritikus is hy die eerste persoon wat suiwer estetiese norme vir die kunswerk aanlê. As stilis is hy ons eerste prosakunstenaar wat hom oopstel vir buitelandse invloede en bewustelik 'n bepaalde kunsrigting volg. Met dit alles is Preller op verskillende gebiede 'n pionier wat aan die voorpunt staan en die weg vir latere skrywers en navorsers aandui. | |
[pagina 151]
| |
II. Voortsetting van die historiograpfiese arbeidAfgesien van Preller se studie oor Piet Retief is die ander werke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat in hierdie jare geskryf word, nog in Nederlands. Onder dié publikasies is J.D. Kestell en D.E. van Velden se De vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit (1909; in 1982 deur F.J. le Roux in Afrikaans oorgeset), Kestell se outobiografiese Met de Boeren commandos (1903), sy lewensbeskrywing van N.J. Hofmeyr (1911) en D.S. van Warmelo se Mijn commando- en guerilla-commando-leven (1901) die belangrikste. Eers in 1913 verskyn die volgende werk in Afrikaans, nl. J.H. Malan se Boer en barbaar, wat handel oor die geskiedenis van die Voortrekkers tot 1840 en van die swart nasies met wie hulle in aanraking gekom het. Stilisties is hierdie studie egter weinig oortuigend, ook waar hy - in navolging van Van Oordt - oor die Trekker se afskeid van die Kaapse woning skryf. Dit geld ook vir sy lywige werk oor die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat tot 1863 (Die opkoms van 'n republiek, 1929). Ander werke wat in hierdie jare verskyn en oor spesisfieke historiese gebeurtenisse handel, is Th. Blok se studie-in-verhaalvorm oor die stryd teen die Basoeto's (Grensboere, 1918) en oor Die Adendorff-trek (1927). Belangriker werke oor die Dorslandtrek is A.J. van der Walt se Noordwaarts (1919) en veral J.A. Coetzee se Dorsland-trekkers (1924), waarby ook sy twee bundels Die swerwers (1925) en Die trekgees (1926) aansluit. Ná Preller word die biografie beoefen deur C.A. Neethling en J.M. de Wet in hulle kort skets oor Jopie Fourie (1915) en Totius in Ds. S.J. du Toit in weg en werk (1917), wat wel heelwat bronne oor die Eerste Beweging beskikbaar stel, maar nie 'n helder beeld van S.J. du Toit gee nie. G.B.A. Gerdener maak 'n studie van Sarel Cilliers (1919), terwyl Kestell oor Christiaan de Wet (1920) en N.J. van der Merwe oor Marthinus Theunis Steyn (1921) skryf. Van hierdie werke is veral dié van Gerdener van belang deur die lewendige skildering van die gebeure en die belangrike invloed wat dit vir die erkenning van ‘Dingaansdag’ as amptelike feesdag gehad het, al is dit deur die gebrekkige verwerking van oorspronklike dokumente nie 'n wesentlike bydrae tot die geskiedskrywing nie en al is sy voorstelling van Retief, Pretorius en Cilliers as onderskeidelik die martelaar, krygsman en profeet van die Groot Trek te simplisties. In die twintigerjare verskyn vyf verdere biografiese werke: Paul Kruger (1925, deur J.P. la Grange Lombard), Tobie Muller (1925, deur B.B. Keet en G.C. Tomlinson), Marie Koopmans-de Wet (1925, deur F.S. Malan), Die lewe van David Christiaan de Waal (1928, deur J.H.H. de Waal) en Genl. Louis Botha (1928, deur F.V. Engelenburg). Die meeste van die gedenkskrifte wat veral oor persoonlike herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe handel en wat in die oorspronklike taalvorm gepubliseer word, verskyn eers veel later en is minder talryk. Onder hulle is Preller se uitgawe van Scheepers se Dagboek (1938), die Dagboek van Hugo H. van Niekerk (1972), die Dagboek van H.C. Bredell, 1900-1904 (1972) die Oorlogsdagboekie van H.S. Oosterhagen, Januarie-Junie 1902 (1976), die Oorlogsjoernaal van S.J. Burger, 1899-1902 (1977), Totius se Vier-en-sestig dae te velde (1977) en Jan F.E. Celliers se Oorlogsdagboek (1899-1902) (1979). In verafrikaanste vorm publiseer M.E.R. Tant Alie van Transvaal (1939) se herinneringe, wat op haar dagboek oor die jare 1880 tot ná die Vrede van Vereeniging gebaseer is, en Frederik L. Rothmann se Oorlogsdag- | |
[pagina 152]
| |
boek van 'n Transvaalse burger te velde, 1900-1901 (1947). In Afrikaanse vorm verskyn ook die Kampdagboek Mei 1901-Augustus 1902 (1964) van Maria Fischer en Jan Hoogeveen se Briewe uit ou Transvaal (1982). Die meeste ander publikasies op dié gebied is herinneringe wat later opgeteken word, maar meestal vroeër as die outentieke of verafrikaanste uitgawes verskyn. S.P.E. Boshoff se Vaalrivier, die broederstroom (1916) en Rebellie-sketse (1918) handel oor die Rebellie van 1914, terwyl D.F. Naude in Die Burger Opstand, 1914-1915 in naïewe Middeleeuse trant 'n rymkroniek met talle humoristiese staaltjies oor die Rebellie lewer. G.G. Munnik gee in sy Kronieke van noordelike Transvaal (1902) 'n beeld van die vroeë baanbrekers en vertel ook talle boeiende Kruger-anekdotes. Lenie Boshoff-Liebenberg se Moedersmart en kinderleed (1921) lei die groot aantal geskrifte oor die konsentrasiekampe in wat voortgesit word deur J.R.L. van Bruggen in Bittereinders (1935), T.C. Pienaar in 'n Merk vir die eeue (1937), Sara Raal in Met die Boere in die veld (1937), E. Neethling in Mag ons vergeet? (1938) - 'n verwerking van Should we forget? -, Hendrina Rabie van der Merwe in Onthou! (1940), E. Steenkamp in Helkampe (1941), Emma D.M. Venter in En toe daar vrede kom (1942) en G.E. Bezuidenhout in Uit die donker woud (1946). 'n Afsonderlike plek word ingeneem deur Trienie Mey se Diep waters (1935), gebaseer op die herinneringe van Fransina van Graan, wat nooit in 'n konsentrasiekamp was nie maar twee jaar lank voor die vyand gevlug het. Aansluitende hierby is die herinneringe van Boere aan hulle oorlogsjare, wat begin met Deneys Reitz se Kommando (1929) en in die volgende twee dekades deur soortgelyke werke gevolg word. Die belangrikste hiervan is J.L. de Villiers se Hoe ek ontsnap het (1934), L.A. Visagie se Terug op kommando (1936), C.H. Muller se Oorlogsherinneringe (1936) van 1896 tot 1914, Ph.J. du Plessis se Oomblikke van spanning (1938), Manie Maritz se My lewe en strewe (1939), J.A. Smith se Ek rebelleer (1939) oor die avonture van 'n Kaapse rebel tydens die Anglo-Boereoorlog, J.N. Brink se Oorlog en ballingskap (1940) - 'n uitgebreide verwerking van sy Nederlandse Ceylon en de bannelingen - wat herinneringe aan die bannelingsjare op Ceylon bevat, E.J. Weeber se Op die Natalse front (1940), J.C.G. Kemp se Vir vryheid en reg (1941; later gevolg deur Die pad van die veroweraar, 1942, wat sy ervarings as politikus ná die Vrede van Vereeniging tot 1939 bestryk) en François D. Conradie se Met Cronjé aan die Wesfront (1943), waarin die optrede van genl. Cronjé gekritiseer word. Oor die taalstryd en die strewe om Afrikaans as landstaal volwaardig erken te kry, skryf J.H.H. de Waal in My herinnerings van ons taalstryd (1932), C.J. Langenhoven in U dienswillige dienaar (1932) en Gordon Tomlinson in Herinneringe van 'n jong Turk (1956). Naas die dagboeke en gedenkskrifte bestaan daar verder verskeie werke wat op persoonlike ervaring of op aantekeninge berus en deur verdere navorsing bygewerk is. Sulke werke is D. Mostert se Slegtkamp van Spioenkop (1935), waarin die skrywer die avontuurvolle lewe van kapt. H.F. Slegtkamp - soos opgeteken in sy dagboek - oorvertel, A.J.V. Burger se Worsteljare (1936), wat gebaseer is op die oorlogsdagboek van ds. A.P. Burger, veldprediker tydens die. Anglo-Boereoorlog, R.D. McDonald se In die skaduwee van die dood (1939), die herinneringe van genl. P.H.
| |
[pagina 153]
| |
Kritzinger, G.D. Scholtz se In doodsgevaar (1940), die oorlogsavonture van kapt. J.J. Naudé, P.G. Visser se Herinneringe van Suidwes-Voortrekkers (1940) en vier werke deur H.J.C. Pieterse: Volksaltare (1941), gebaseer op genl. P.C. Joubert se ervarings tydens die Eerste Vryheidsoorlog, die Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan (1941), Baanbrekers in die maalstroom (1942), die dagboek van mev. Abel Pienaar (Sangiro se moeder), wat haar in 1907 in Duits-Oos-Afrika gaan vestig het, en My tweede vryheidsoorlog (1945), die herinneringe van genl. P.C. Joubert. In 1944 verskyn twee werke waarin die skrywers hulle eie herinneringe aan die oorlog te boek stel: Oorlogswolke oor die Republiek deur Buurman en Op kommando onder kommandant Buys deur J.G. van den Heever. Oor die periode van die Groot Trek handel L.J. Nel se verwerking van gedenkskrifte (Uit die Voortrekkertydperk, 1939) en T. de Witte se Langs die pad van Suid-Afrika (1939), terwyl J.G. Prinsloo en J.G. Gauche (In die woeste weste, 1933), P.J. van der Merwe (Pioniers van die Dorsland, 1941) en J.W. von Moltke (Jagkonings, 1943) oor die ontberings van die Dorslandtrek skryf. Afgesien van direkte gedenkskrifte of werke wat op bestaande dagboeke en mémoires gegrond is, maak heelparty geskiedkundiges noukeurige studies van die Groot Trek en die Tweede Vryheidsoorlog, soos S.F.N. Gie, C.J. Scheepers Strydom, C.F.J. Muller, J.H. Breytenbach, G.D. Scholtz en F.A. van Jaarsveld, maar dan is hierdie werke suiwer op die vlak van die historiografie en kan dit nie meer as deel van die skeppende literatuur beskou word nie. Dit geld ook vir die reeks biografieë wat sedert die dertigerjare verskyn en waarvan sommige belangwekkende publikasies is: S.P. Engelbrecht se Thomas François Burgers (1933), 'n boeiende maar wetenskaplik nie goed gefundeerde apologie vir die Transvaalse staatspresident, C. Potgieter en N.H. Theunissen se Hendrik Potgieter (1938), wat die foutiewe feite van Preller en Gerdener regstel en die Voortrekkerleier in 'n ander lig beskou, C. Louis Leipoldt se uitvoerige maar onbetroubare werk oor Jan van Riebeeck (1938), G.D. Scholtz se studies oor Genl. C.F. Beyers (1941), Pres. J.H. Brand (1957) en Dr. Hendrik Frensch Verwoerd 1901-1966 (twee dele, 1974), C.M. van den Heever se Genl. J.B.M. Hertzog (1943), P.J. Nienaber se J.D. Kestell (1946), E.J. Cloete se F.S. Malan (1946), H.B. Thom se Die lewe van Gert Maritz (1947), die beste studie oor 'n Voortrekkerleier deur die deeglike bronnestudie en die nuwe beeld wat die skrywer van Maritz en die verhoudinge tussen die ander Trekkers gee, J.L.M. Franken se Piet Retief se lewe in die Kolonie (1949), wat sekere hiate in Preller se ondersoek aanvul en wetenskaplik beter gefundeer is, Nellie Kruger se Rachell I. Steyn (1949), A. Kieser se President Steyn in die krisisjare (1896-1899) (1951), J.H. Breytenbach se Komt. Danie Theron (1952), N.J. le Roux se W.A. Hofmeyr (1953) en Jannie Kruger se President C.R. Swart (1961). Die beste biografieë van die afgelope jare is die uitvoerige werk van D.W. Krüger oor Paul Kruger (twee dele, 1961-1963), die deeglike navorsing van A.J. Boëseken oor Simon van der Stel en sy kinders (1964) en Jan van Riebeeck en sy gesin (1974), B.J. Liebenberg se Andries Pretorius in Natal (1977), wat ná Preller se studie 'n objektiewer beeld van dié Voortrekkerleier gee en P.S. de Jongh, wat in Die lewe van Erasmus Smit (1977) die lewe van die Voortrekkerpredikant uitvoerig beskryf. Bun Booyens beskryf die eerste veertig jaar van Die lewe van D.F. Malan (1969), terwyl H.B. Thom in D.F. Malan (1980) die aksent laat val op hierdie staatsman se aandeel aan die taalstryd, hereniging van die Afrikanergroepe in die veertigerjare en uitbouing van die apartheidsbeleid na die 1948-verkiesing. Thom | |
[pagina 154]
| |
gee hiermee waardevolle feitelike inligting oor Malan, maar die boek word eerder 'n hagiografie as 'n biografie. Johannes Meintjes skets die geskiedenis van pres. M.T. Steyn in Vader van sy volk (1968), O.J.O. Ferreira die lewe van die Transvaalse leier Stephanus Schoeman in Stormvoël van die Noorde (1978), J.P. Brits die lewe van Tielman Roos (1979), M.S. Appelgryn die geskiedenis van Thomas François Burgers Staatspresident 1872-1877 (1979), wat wetenskaplik veel meer verantwoord is as die vroeëre werk van Engelbrecht, en J.L. Basson se J.G. Strijdom: Sy politieke loopbaan van 1929 tot 1948 (1980), terwyl Rykie van Reenen in Heldin uit die vreemde (1970) en Mione du Toit in Man op Nebo (1973) op populêre wyse die lewensverhale van Emily Hobhouse en S.J. du Toit onderskeidelik oorvertel. Die belangrikste gedenkskrifte is 'n Joernalis vertel (1953) deur J.M.H. Viljoen en Afrikanervolkseenheid en my ervarings op die pad daarheen (1959) van D.F. Malan, alhoewel dit nouliks as deel van die bellettrie gereken kan word. Daarteenoor is M.E.R se herinneringe in die outobiografiese My beskeie deel (1972) wel deeglik deel van die skeppende literatuur, terwyl Leon Rousseau in Die groot verlange (1974) op voortreflike wyse die lewensverhaal van Eugène N. Marais dramaties weergee en daarmee op die gebied van die biografie 'n unieke bydrae lewer. Oor die Vrystaatse geskiedenis doen Karel Schoeman voortreflike navorsing in Bloemfontein: Die ontstaan van 'n stad (1846-1946) (1980), Die dood van 'n Engelsman (1982) en Vrystaatse erfenis (1982).
|
|