Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 58]
| |
Hoofstuk 3
| |
[pagina 59]
| |
die gedig of prosastuk deur die beeld en klank of deur die karakterisering en vertelling oortuigend kan werk. Uit wat tot dusver van die literatuur tussen 1875 en 1900 gesê is, blyk dit reeds dat die figure wat lede van die G.R.A. was of met die Beweging te make gehad het, weinig invloede van Wes-Europese of ander skrywers vertoon. In hoofsaak berus die literêre produkte van die Eerste Beweging dan ook op 'n onderkulturele basis deurdat die skrywers geïsoleerd was van enige buitelandse invloede en binnelandse stimulering vir hulle feitlik nie bestaan het nie. Tog is invloede en navolging van die buiteland nie heeltemal afwesig nie. Van die eerste Afrikaanse gedigte uit die sewentigerjare, met name dié van F.W. Reitz sr. en jr., is navolging van Skotse voorbeelde soos dié van Burns, terwyl heelwat skrywers later onder die invloed kom van die Nederlandse predikantepoësie met hulle huislike liriek en 'n aansienlike aantal anekdotiese en balladeske verse uit Die Patriot en Ons Klyntji vertalings of verwerkings van buitelandse voorbeelde is. Die Hollandse poësie wat in hierdie jare in Suid-Afrika beoefen word, sluit in 'n groot mate aan by die tradisie van Bilderdijk, Da Costa, Tollens en Ten Kate en is grotendeels geskryf in 'n geykte, oorgelewerde idioom wat in elk geval weinig by die landsomstandighede aangepas is. Ook die prosageskrifte in Afrikaans en Nederlands (of Kaaps-Hollands) toon 'n aansluiting by die buitelandse literatuur, met name by die historiese avontuurromans van Scott, Van Lennep en Conscience, by die Hollandse ‘kopijeerlust des dagelijkschen levens’ en die humorrealisme en moraliserende novelle, maar dan - in teenstelling tot die Hollands-Afrikaanse poësie - getransformeer na die Afrikaanse werklikheid. In die verhaalkuns voor 1900 tref ons trouens die eerste voorbeelde aan van vier belangrike rigtings waarin die prosa in die twintigste eeu verder sal ontwikkel, nl. die romantiese in Hoogenhout se Catharina, die (humor-) realistiese in Lion Cachet se Sewe duiwels, die historiese in Du Toit se Di koningin fan Skeba en die folkloristiessosiologiese en die dierverhaal in Von Wielligh se Jakob Platjie. Hierdie rigtings vind ons ná 1900 onderskeidelik terug in die werk van J.H.H. de Waal en C.M. van den Heever, Jochem van Bruggen en C.J. Langenhoven, D.F. Malherbe en later F.A. Venter, en Sangiro, die Hobsons en P.J. Schoeman. 'n Literatuur wat in so 'n groot mate strydgebonde was, is vanselfsprekend nie aan 'n streng kritiese toets onderwerp nie. Die kritiek wat wel uitgeoefen is, was dan ook hoofsaaklik deur tydskrifredakteurs soos Hoogenhout, S.J. du Toit en J.D. Cilliers, wat beoordelend en aanmoedigend opgetree en wat die nasionale en godsdienstige naas meganiese vlotheid en tegniese vaardigheid aan die kunstenaar voorgehou het, soos blyk uit die voorligting in die Eerste beginsels van die Afrikaanse | |
[pagina 60]
| |
taal (1876) en J.D. Cilliers se ‘'n Paar wenke an digters’ (1883) - lg. tereg deur D.J. Opperman ‘'n eerste klein Afrikaanse estetiek’ (Wiggelstok, p. 5) in die trant van Jan van Boendale se Der leken spieghel genoem. Met die verskyning van Di koningin fan Skeba as vervolgverhaal in Ons Klyntji van 1896-1898 ontstaan daar 'n polemiek oor die verhouding tussen werklikheid en waarheid in die kunswerk en moet S.J. du Toit die bestaansreg van ‘verdigting’ en die geldigheid daarvan in die literatuur verdedig. Die letterkunde in die laaste kwart van die negentiende eeu hang ten nouste saam met die Beweging, al is daar ook heelwat Hollandse geskrifte, o.m. ook deur die Genootskappers self. In die sewentigerjare, vóór die totstandkoming van die G.R.A., is daar sporadiese gedigte van Reitz en Melt Brink wat in 'n volkse idioom geskryf is. Daarna volg heelwat geskrifte - geleentheidspoësie en didaktiese prosa van Hoogenhout en S.J. du Toit - wat die stryd vir die erkenning van Afrikaans en die Eerste Vryheidsoorlog weerspieël en in diens hiervan staan. In die jare 1882 tot 1895 word die literêre toneel oorheers deur swak moraliserende geskrifte en heelwat werk deur Du Toit aan die Bybelvertaling, al verskyn die meeste van Lion Cachet se belangrike Sewe duiwels in hierdie periode. Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog kom daar 'n ‘tweede asem’ in die Beweging as die nuwe tydskrif Ons Klyntji van die belangrikste werk van S.J. du Toit, Lion Cachet en Von Wielligh publiseer, die eerste dramas in Afrikaans verskyn en as die natuur en die fyngevoelige mens - alhoewel nog aarselend en literêr onoortuigend - in die werk van M.H. Neser op die voorgrond tree. In hierdie tyd kry ons ook enkele van die heftigste verse oor die vryheidstryd - dié keer ingegee deur die Anglo-Boereoorlog - al word dié gedigte spoedig kwalitatief en kwantitatief deur die werk van skrywers van die Tweede Beweging oortref. | |
II. Belangrikste figure1. F.W. Reitz jr.Alhoewel hy nooit 'n lid van die G.R.A. was nie, kan francis william reitz jr. (1844-1934) as die direkte voorloper van die Eerste Beweging beskou word. Hy was agtereenvolgens advokaat in Kaapstad, regter in Bloemfontein, president van die Oranje-Vrystaat (1888-1895), staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek en lid en president van die Unie-senaat. In 1880 verdedig hy Afrikaans teen die beskuldiging dat dit 'n ‘barbaarsche patois’ is en noem dit die lewenskragtige volkstaal van die Afrikaners, ‘for that High-Dutch, as a spoken language in South Africa has any existence, excepting among a few recently arrived Hollanders, no
| |
[pagina 61]
| |
one can contend’. Saam met G. McCall Theal skryf hy 'n Korte geschiedenis van Zuid-Afrika van 1446 tot 1835 (1890). In 1902 publiseer hy 'n biografie oor President Steyn en later, in samewerking met J.H. Hofmeyr, 'n uitvoerige werk oor Onze Jan (1913), terwyl sy uitvoerige outobiografie in 1978 met 'n inleiding deur C.J.S.C. Burger verskyn. Vir die Afrikaanse letterkunde is hy van belang as eerste bloemleser, wat die Vyftig uitgesogte Afrikaanse gedigte (1888), later vermeerder tot Sestig (1897) en tot Twee en sestig (1909) saamstel. Reitz se eie verse is geskryf in Engels, Nederlands en Afrikaans. Vir sy eerste Afrikaanse gedigte, wat in die sewentigerjare in Het Volksblad verskyn, steun hy dikwels op Engelse voorbeelde van Cowper, Scott en Burns. Hiervan is veral ‘Klaas Gezwint zijn paert’ (1870), 'n verwerking van Burns se ‘Tam O' Shanter’, besonder geslaag deur die sprankelende Afrikaanse idioom en die geestigheid wat verkry word deur die effektiewe beskrywings, die eeue-oue rusie tussen man en vrou, die klanknabootsing (soos in die beskrywing van die dansende skelette in die kerkhof), die gebruik van geestige eiename en die skynmoraal aan die slot van die gedig. In 1873 publiseer hy in dieselfde blad die oorspronklike ‘Die steveltjies van Sannie’, 'n gedig wat gou algemeen bekend geword het en as volksliedjie gesing is. Die geestigheid in hierdie gedig word veral bereik deur die gebruik van die plat naas die meer gestileerde uitdrukkings, in een geval selfs deur 'n ou idioom (nl. kalwerliefde) effens te wysig (‘Hul seg ons is maar vulletjies’) sodat iets komies deur die geringe verandering aan die vers toegevoeg word. In die elegiese gedig ‘Ter nagedachtenis van kommandant Louw Wippenaar’ maak hy van die ‘gedrae’ Nederlandse medium gebruik en skryf hy een van sy aangrypendste strofes (‘Hy leg op Thaba Bosigo’). Die tweede fase van Reitz se digterskap is geïnspireer deur die Anglo-Boereoorlog en later gebundel in Oorlogs- en andere gedichten (1910). Ook hier vind ons die aanwending van die Nederlandse taalvorm, soos in die droewige ‘Vaarwel aan de Vierkleur’. Die Afrikaanse gedigte maak egter 'n natuurliker indruk, soos ‘Die proclamatie of papieren bom’, ‘Die handsupper’ en veral ‘Die neem van die kanon Lady Roberts’, 'n hekelende krygsvers met 'n bietjie meer verbeelding as sy ander oorwinningsliedere. Met enkele uitsonderings is Reitz se hele digterlike oeuvre simptomaties van die laat-negentiende-eeuse tradisionele verskuns in Suid-Afrika, nl. 'n gerym vir die aardigheid. Kultuurhistories is dit egter van belang deurdat ons daarin die neerslag kry van belangrike gebeurtenisse uit die tyd en deurdat hy met verskillende media eksperimenteer in 'n stadium toe die Afrikaner nog op soek was na 'n vaste skryftaal. Met enkele verse, soos ‘Klaas Gezwint zijn paert’, ‘Die steveltjies van Sannie’ en ‘Die neem van die kanon Lady Roberts’ lewer hy 'n wesentlike bydrae.
| |
[pagina 62]
| |
2. C.P. Hoogenhoutcasparus petrus hoogenhout (1843-1922), 'n Nederlander van geboorte wat in 1860 na Suid-Afrika kom en in 1869 onderwyser word, skryf briewe en dialoë in De Zuid-Afrikaan waarin hy 'n Afrikaanse Bybelvertaling sowel vir die blanke as gekleurde bevolking van die land bepleit. Uit die Statebybel vertaal hy Mattheus 28 (1873) en die volledige Markus-evangelie (1878) en skryf, nog voor die totstandkoming van die G.R.A., Die geskiedenis van Josef (1873), wat gerig is op die begripsvermoë van die kind met aanpassing van die idioom aan die Afrikaanse werklikheid. Sy Eerste Afrikaanse printjies boeki ver soet kinders (1879) is eweneens didakties ingestel met verduidelikende verhaaltjies en nuttige lessies by elke ‘printjie’. Catharina, die dogter van die advokaat (1879) word bekroon met Die Patriot se eerste prysvraag vir novelles. Die verhaal is romanties gekleurd en die verteller, wat aan die kant van die Ware Afrikaners staan, word die pleitbesorger van 'n bepaalde saak en probeer die lesers na sy kant oorhaal. Hierdie partydigheid lei tot didaktiese uitweidings wat telkens 'n breuk in die struktuur van die verhaal bring en tot 'n tipe mensbeelding wat ter wille van die Afrikaanse saak verval in blote verpersoonlikings van die Ware Afrikaners of die Afrikaners met Engelse harte. As redakteur van Die Patriot se poësierubriek sorg hy vir die popularisering van die verskuns. Onder die skuilnaam ‘Oom Jan wat versies maak’ beoefen hy self 'n groot verskeidenheid digsoorte: patriotiese verse, gedigte oor die Afrikaanse taal, godsdienstige en liefdesverse, romantiese ballades en hekeldigte. 'n Groot deel van sy poëtiese oeuvre is geïnspireer deur die gebeure in die twee republieke, meer spesifiek die Eerste Vryheidsoorlog waarvan hy die belangrikste oorwinnings, soos Bronkhorstspruit, Langenek, Schuinshoogte en Magubaberg, besing. Later skryf hy ook oor die Jameson-inval en Paul Kruger. Van hierdie gedigte is daar egter weinig wat vandag nog onthou word. Om kultuurhistoriese redes is ‘Die Afrikaanse volkslied’, wat hy saam met Pannevis, D.F. du Toit en S.J. du Toit opgestel het, nog bekend. Dit neem die vorm aan van 'n programgedig deurdat elke strofe oor 'n bepaalde onderwerp handel en op dié wyse die ideale van die G.R.A. berym. Die gedig is 'n voorbeeld van 'n volkslied; vandaar die sterk sangerige inslag met die keervers waarin die woord ‘Suid-Afrika’ telkens voorkom en die volksgebed in die slotstrofe waarmee die gedig eindig. In ‘Ons toekomstige volkslied’ stel hy die
| |
[pagina 63]
| |
ideaal van 'n verenigde Suid-Afrika, weer met 'n sangerige inslag, maar met 'n stadiger versbeweging deur die langer versreël. Dit neem ook die vorm aan van 'n programgedig, al is die ontwerp 'n bietjie weggesteek. Die meganiese afklop van die versreël word ná 'n tydjie eentonig deurdat die sesuur telkens op dieselfde plek kom, terwyl die vierde strofe - waarin die digter na Europa verwys - buite die beelding van die res van die gedig val. Ook sy gedig ‘Vooruitgang’, wat oor die verengelsingsbeleid handel, het 'n growwe opbou met verskeie retoriese wendinge, selfs al is die hekeling plek-plek oortuigend en al bereik hy iets geestigs met sy volkse beeldspraak. Van sy geslaagdste spotdigte is ‘Di mislukte Jameson komplot’ en ‘De dappere Moneypenny’. Hoogenhout se literêre produksie is wesentlik didakties en nasionalisties, sonder dat hy 'n enkele stuk geskryf het wat die toets van die tyd kon deurstaan. As populariseerder van die verskuns en as ‘kultuurbearbeider’ doen hy egter belangrike aanvoorwerk vir Afrikaans as taal. | |
3. S.J. du Toit
stephanus jacobus du toit (1847-1911) ontvang sy skoolopleiding in die Paarl - a.o. van Pannevis - en studeer daarna aan die Stellenbosse kweekskool in die teologie. Hy word agtereenvolgens predikant in Noorder-Paarl, Superintendentgeneraal van Onderwys in Transvaal en wy hom daarna voltyds aan die Bybelvertaling terwyl hy ook Die Patriot, Ons Klyntji, De Getuige, Stemmen des Tijds en Ons Taal redigeer. In die vroeë sewentigerjare publiseer hy enkele Nederlandse hekelverse in De Zuid-Afrikaan, maar hy is veral bekend as skrywer van betogende en polemiese prosa, soos blyk uit sy Nederlandse briewe oor ‘De Afrikaansche taal’, wat in 1874 in dieselfde koerant verskyn. Hy is medeskrywer van die G.R.A. se Manifes en ander pleitstukke, mede-oprigter van Die Patriot, belangrikste skrywer aan Die geskiedenis van ons land (1877) en opsteller van die Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging (1880). Uit hierdie aktiwiteit is dit duidelik dat Du Toit in die G.R.A. nie slegs 'n suiwer taalbeweging gesien het wat o.m. die Afrikaanse Bybelvertaling op hom moes neem nie, maar as 'n organisasie wat die nasionale bewussyn verder
| |
[pagina 64]
| |
moes voed en die volksontwikkeling moes stimuleer. Vandaar dan ook sy medewerking aan die volkslied, eie blad van die G.R.A., woordeboek, grammatika en vaderlandse geskiedenis. Voor 1890 skryf hy slegs enkele gedigte in Afrikaans, soos ‘Daar kom 'n stem uit Engeland’, 'n verafrikaansing van C. Hattingh se ‘Lied van die Voortrekkers’, die verhaal van ‘Hendrik en Lettie’ uit die Eerste Vryheidsoorlog en die ‘Transvaalse Vryheidslied’, 'n stuk geskiedenis op rym waardeur hy die vaderlandsliefde wil opwek. In 1881 stel hy die bundel Transvaalse volksliedere saam. Sy prosageskrifte in Nederlands en Afrikaans is veel ruimer in getal. Verslae oor sy reise in Europa en die Midde-Ooste verskyn as Op reis (1881) en Bijbellanden doorreisd (1883) - albei in Nederlands - en Alweer op reis (1886) in Afrikaans. Verder skryf hy - meestal in Nederlands - brosjures oor matigheid in drankgebruik, die leer van die Sabbatariërs, verskilpunte tussen die Apostoliese Broeders en die Ned. Geref. Kerk en twee belangrike stukke oor die onderwys: De Christelijke school in haar verhouding tot Kerk en Staat (1876) en De vrije school voor 't Kaapsche Parlement onrechtvaardig veroordeeld (1886). Reeds in 1889 verskyn Dri proeve van die Bybel in Afrikaans, maar vanaf 1890 wy Du Toit sy aandag voltyds aan hierdie werk. Agtereenvolgens verskyn dan Génesis (1893), Mattéus (1895), Openbaring (1898), Di Psalme (1907), terwyl Hooglied, Markus en Handelinge in Stemmen des Tijds (1905-1908) gepubliseer word en Lukas in manuskripvorm bestaan. Hierdie vertalings, met uitvoerige aantekeninge, is almal uit die oerteks. Soms bereik Du Toit iets besonders met sy woordkeuse en idioom, al gebruik hy te veel woorde wat buite die toon val. In 1892 publiseer hy ook die eerste bundel spookstories in Afrikaans: Werkelike geesverskynings: Europese en Afrikaanse. In 1894 besoek Du Toit Matebeleland, waar hy die gedig ‘Nag en dageraad in Matabeleland’ skryf, opgeneem in sy in Nederlands geskrewe Sambesia, of Salomo's goudmijnen bezocht in 1894 (1895). Hierdie reis lewer ook die stof vir sy historiese roman Di koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia (1898). Die roman handel oor vyf persone, met inbegrip van die skrywer, wat 'n reis onderneem na die Simbabwe-ruïnes en die berg Afoer waar hulle ou papirus- en perkamentrolle ontdek wat dan deur die skrywer vertaal en elke aand aan die ander vier voorgelees word. Du Toit skep op voortreflike wyse 'n realistiese situasie, o.m. deur die leser direk aan te spreek en deur die roman outobiografies aan te bied. Die gerigtheid op die leser skep ook die moontlikheid vir die verteller om opvoedkundig op te tree, hoofsaaklik om die leser in te lig aangaande die Egiptiese geskiedenis en inboorlinggewoontes. Hy bring dus sy lesers op hoogte met die geskiedenis en die volkekunde, maar terselfdertyd vermy hy op 'n behendige wyse dat die didaktiek 'n breuk in die werk veroorsaak deurdat die informasie - gedeeltelik, ten minste - esteties geregverdig word deur die tegniek van die raamvertelling. Tydens die taalkongres wat in 1897 gehou is, word Du Toit se Magrita Prinslo, of Liifde getrou tot in di dood opgevoer. Dit bestaan uit vyf bedrywe, maar daar is so min samehang en innerlike noodwendigheid dat ons eerder kan praat van 'n verhaal wat in dertien tonele aangebied word. Dit is die geskiedenis van Magrita en Pieter wat van mekaar geskei word as gevolg van die Groot Trek: sy gaan saam met Retief en sy mense, terwyl hy in die Kolonie agterbly. Op die trek versprei Koos, wat die skurk van die verhaal is en 'n ogie op Magrita het, die gerug dat Pieter deur die Kaffers vermoor is, maar sy bly getrou ‘tot in di dood’ en wys vir Koos af. Die laaste | |
[pagina 65]
| |
van die dertien toneeltjies wys waar die Zoeloes die laer aanval en Pieter net betyds op 'n perd opdaag om sy gewonde beminde te. red. Die gang van die drama word dus bepaal deur heelwat afwisseling: naas die romantiese verhaal werk die stuk ook met historiese boustof, terwyl die Hottentot Danster en die Kaffer Zwartland vir die lokale kleur en die geestigheid sorg. In hoofsaak het ons hier egter die tipiese romantiese resep van die held, heldin en skurk wat die patroon van die Afrikaanse drama en prosa tot ongeveer 1920 sal wees. In dieselfde jaar verskyn ook Du Toit se beste gedig en een van die poëtiese hoogtepunte voor 1900, t.w. ‘Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het’. Dit is die eerste voorbeeld van 'n dramatiese monoloog in Afrikaans. Aan die woord is Danster, 'n ou Griekwa, wat vir ons 'n siening van die eerste blankes se aankoms aan die Kaap gee. Hierdie siening verskil egter van die algemeen-aanvaarde beeld wat ons uit die geskiedenis kry, omdat die gedig die standpunt van 'n primitiewe mens op die gebeure gee, soos ook blyk uit die animistiese beeldspraak. Dié verdraaide siening word vir die hoorders aanvaarbaar deurdat ou Danster telkens die waarheid van sy verhaal beklemtoon deur middel van frases soos ‘glo vir my’ en ‘so waar as waar die waarheid is’. Daardeur verneem die hoorders nie alleen ou Danster se siening van die gebeure nie, maar kry hulle ook 'n insig in die karakter van die spreker. In Ons Klyntji van 1900 tot 1902 verskyn van Du Toit ook nog die novelle Liifde in oorlog, waarin hy sy politieke idees verkondig. Die tendens word hier egter die hoofstroom van die verhaal, terwyl die geheel 'n selfverdediging word waardeur karakterisering en vertelling deur onnodige uitweidings verwaarloos word. | |
4. J. Lion Cachet
jan lion cachet (1838-1912) is, soos Hoogenhout, in Nederland gebore. In 1861 kom hy as onderwyser na die Kaap, word daarna predikant in die Gereformeerde Kerk en is sedert 1894 permanente hoogleraar aan die Burgersdorpse kweekskool (wat in 1905 na Potchefstroom verskuif word). Hy skryf Engelse geleentheidsrympies en verse in Nederlands onder invloed van Da Costa en versorg in Die Patriot die politieke rubriek ‘Zwarte pilletjes’, waarin enkele sosiaal-geskiedkundige sketse van hom verskyn. As ‘Neef Jan wat versies maak’ skryf hy verskeie godsdienstige en polities-historiese gedigte, o.m. ‘Op! Op met die Vierkleur’, wat later getoonset is en algemeen bekend geraak het as die ‘Vlaglied’. As digter word hy vandag egter uitsluitlik onthou vir ‘Die Afrikaanse taal’, waarin die verhouding tussen die tale allegories aangedui word deur die verwantskap tussen die Boerenooi, haar Hollandse suster en Engelse niggie. Die Afrikaanse taal is die spreekster in die gedig, en dit
| |
[pagina 66]
| |
skep - reeds deur die feit dat sy self aan die woord is - 'n sekere naïewe sfeer. Die beeld van die ‘koning’ in die vyfde strofe val buite die toon van die gedig omdat dit nie tot die Afrikaanse volkseie behoort nie, terwyl die slotstrofe in 'n blote stuk verklaring en didaktiek ontaard. As historikus skryf Lion Cachet 'n Geskiedenis van di Hugenote van di jaar 1521 tot 1698 (1886), en by geleentheid van die vyftigjarige jubileum van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in 1909 stel hy 'n Gedenkboek op. In die tipies humorrealistiese styl van Beets met die vermenging van geestigheid en weemoed is sy reisverhaal oor Een bezoek bij de Afrikaansche emigranten te St. Januario Humpata (1882; opgeneem in D. Postma jr. se Eenige schetsen voor eene geschiedenis van de trekboeren te St. Januario Humpata, 1897). Lion Cachet se humorrealisme bereik egter 'n hoogtepunt met die bundel Sewe duiwels en wat hulle gedoen het (1907). Vyf van hierdie novelles, t.w. Di geldduiwel (1882), Di drankduiwel (1882), Di liegduiwel (1883), Di praatduiwel (1884) en Di spogduiwel (1892), verskyn in Die Patriot, terwyl Di Afgunsduiwel (1897) en Di baasduiwel (oor huigelary; 1898) in Ons Klyntji opgeneem word. Soos die titels aandui, is die geheel verdeel in sewe novelles waarvan elk 'n bepaalde hoofsonde behandel. Telkens kom 'n kardinale gebrek by die hoofpersoon ter sprake en die karakter beland in verskillende situasies om die betrokke gebrek of ‘sonde’ te openbaar wat dikwels aan die einde tot sy ondergang lei. Aan die een kant het 'n mens dus hier te make met 'n soort realistiese prosa, aan die ander kant is Lion Cachet, alreeds deur sy keuse van situasies om die gebreke te illustreer, nie meer heeltemal getrou aan die werklikheidsillusie nie. Daardeur verval hy in 'n eensydigheid en konsentreer hy slegs op een hoofkarakter. Sy doel is om die leser deur die voorbeeld af te skrik, iets waardeur hy die realistiese illusie opoffer en waardeur sy karakters in nie veel meer as blote tipes ontaard nie. 'n Verdere beswaar is dat elke novelle te breed aangevoer word, met die gevolg dat die veelheid van die besonderhede die eenheid van die geheel skend. Ten spyte hiervan is die Sewe duiwels egter beter as die ander didaktiese prosa voor 1900 omdat dit primêr 'n verhaal aanbied, nie 'n ‘saak’ verdedig nie. Deur die toestande en situasies wat hy beskrywe, lê Lion Cachet buitendien 'n beeld van 'n stuk verbygegane Afrikaanse werklikheid vas. | |
5. G.R. von Wiellighgideon retief von wielligh (1859-1932) het reeds as kind saam met sy vader in Boesmanland gereis. Ná sy skoolopleiding aan die Paarlse Gimnasium lê hy die landmeterseksamen af en word hy in 1894 aangestel as landmeter-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek, 'n beroep wat hom in staat stel om groot dele van die land te besoek en te deurreis. Op betreklik vroeë leeftyd word hy lid van die G.R.A. en werk hy mee aan Die Patriot. Later skryf hy ook in Ons Klyntji en Ons Taal. Op gevorderde leeftyd dokumenteer hy sy herinneringe aan die G.R.A.-manne en die stryd vir Afrikaans in Eerste skrywers (1918) en Baanbrekerswerk (1925). As outeur van folkloristiese en sosiologiese verhale word hy egter veral onthou as die skepper van Jakob Platjie, gedeeltelik gepubliseer in Ons Klyntji (1896-1906), daarna in gewysigde uitgawe in Die Brandwag (1912-1914) en in 1918 in boekvorm onder die titel Jakob Platjie: Egte karaktersketse uit die volkslewe van Hotnots, Korannas en Boesmans. Die | |
[pagina 67]
| |
geheel bestaan uit anekdotes en is didakties-informatief van aard, met die gevolg dat daar 'n gebrek aan eenheid in die werk is. In die beskrywende gedeeltes vaar Von Wielligh op sy swakste; waar die Hottentotte en Koranas self aan die woord kom, word die verhaal boeiender, al het hy nie daarin geslaag om tot die dieper lewe van hierdie mense deur te dring nie. Sy bundels Dierestories (1907; in vier dele gepubliseer in 1917-1922 en waaruit 'n keuse in 1958 verskyn) en Boesmanstories (vier dele, 1919-1921) is optekeninge uit die mond van die Hottentotte en Boesmans, waardeur hy die vertelkuns, gesegdes en uitdrukkings van die inboorlinge naboots. | |
III. Byfigure en anonieme volkspoësieAfgesien van die belangrikste skrywers in die laaste kwart van die negentiende eeu werk heelparty kleiner figure aan die tydskrifte van die G.R.A. mee. Daarnaas bestaan daar die anonieme volkspoësie waaronder van die beste gedigte voor 1900 voorkom.
francis william reitz sr. (1810-1881) skryf, soos sy seun, enkele vertellende verse na aanleiding van Engelse voorbeelde, soos ‘Gert Beyers’ en ‘Saterdagaant in 'n boerewoning’. arnoldus pannevis (1838-1884), dosent in klassieke tale aan die Paarlse Gimnasium, publiseer godsdienstige en bespiegelende verse in Nederlands en daarnaas enkele gedigte in Afrikaans, soos die ballade ‘Helena en Eduard’, twee verwerkings uit die Frans van La Fontaine, enkele fabels in digvorm en die fel anti-Engelse ‘Rasende afgodery’. In prosavorm skryf hy artikels, briewe en samesprake in De Zuid-Afrikaan en Die Patriot oor Afrikaans as taal. Afgesien van 'n sestal dieresketse bestaan daar verder van hom 'n aantal Bybelse stukke, 'n Afrikaanse woordelys en 'n eensydig-kritiese stuk oor die Skotse digter Robert Burns. albertus johannes herholdt (1831-1902) skryf didaktiese verse en ophe-
| |
[pagina 68]
| |
melende gedigte oor Afrikaans, terwyl jan daniel cilliers (1854-1922) 'n konvensionele, weinig oorspronklike tipe vers beoefen. johan carel voigt (1854- sterfdatum ná 1925) skryf sterker sarkastiese en patriotiese verse oor die Transvaalse Anneksasie en die Eerste Vryheidsoorlog. Van pieter daniel rossouw (1845-1896) en jan willem van der rijst (1828-1904) verskyn daar bundels preke, terwyl Van der Rijst ook die skrywer is van die verhaal So gaat dit (1886). Rossouw word vandag veral onthou vir die hekelvers ‘Stellaland’, wat betrekking het op die herroeping van die Engelse kommissaris Mackenzie van die republiek Stellaland. Deur die herhaling van die naam en die drie rymklanke in elke strofe kom die volkse spot tot uiting. Ook bernardus rudolf buys (1876-1938) werk aan Ons Klyntji mee en skryf enkele gedigte waarin hy die vaderlandse geskiedenis berym. Van hierdie latere skrywers is michiel hendrik neser (1874-1932) die produktiefste. Hy publiseer ballades, vertellings, natuurgedigte, anekdotes en historiese verse, en skryf ook 'n allegorie en twee novelles: Wat geld kan doen (1898) en Deur hoogmoed misly (1899). Neser se temas is by voorkeur die liefde en die natuur, sy werk vertoon 'n romantiese inslag en is reeds op weg na 'n belangstelling in die indiwidu en die sielelewe, al is dit nog baie aarselend aanwesig. Van william henry maskew (1861-1903) verskyn 'n Jolly Hotnot en ander snaakse versies uit di ouwe doos (1890). Ander gedigte uit Die Patriot en Ons Klyntji is vertellings en anekdotes, gedigte oor die taal, oor Die Patriot self, oor die geskiedenis, oor die politiek, anglisering, godsdiens, liefde, vry en huislike aangeleenthede. Die prosa uit Ons Klyntji is meestal liefdesverhale, avontuurverhale, sketse en anekdotes, jag-, diere- en spookstories, oorlogsverhale, Afrikaanse familielegendes en volkekundige verhale. In die negentigerjare verskyn ook Di bedriegers (1893), die eerste eenbedryf in Afrikaans deur david petrus du toit (1870-1936) en 'n drama onder die titel Di famili De Plooi deur mimosa. Uit die laaste jare van die negentiende eeu (l891) dateer die bekende Suid Afrikaanse kook-, koek- en resepteboek van elizabeth jane dijkman (1804-1908). Van die verhale uit Ons Klyntij is die anonieme stukke ‘Olifantjag’ en ‘'n Geheimsinnige ontmoeting fan 'n ou Foortrekker’ die beste. Onder die gedigte wat 'n mens opval, is die ‘Engelse volkslied’, 'n parodie op ‘Rule Britannia’, die anonieme gedig ‘Di sprinkaan en di droogte’, wat deur F.W. Reitz aangeprys is, en die ‘Liid fan di diamant’, waarin die skoonheid en skittering van die edelsteen beskryf word. In Ons Klyntji van 1898 verskyn die geslaagdste Afrikaanse ballade voor 1900 onder die titel ‘Op Hartebeesfontein’ deur 'n skrywer wat homself pikkedel noem. Dit is 'n realistiese beskrywing van 'n boerebruilof wat uiteindelik op 'n geveg en die vertrek van die spreker aan die einde uitloop. Die geestigheid van die situasie word versterk deur die besondere aanwending van woorde en uitdrukkings in volksverband, en
| |
[pagina 69]
| |
hoewel daar enkele voorbeelde van anglisistiese taalgebruik voorkom, is dit 'n gedig wat in sy eie reg kan staan. Tereg het D.J. Opperman Pikkedel ‘ons verlore Bredero’ genoem wat met sy gedig ‘vir ons 'n Afrikaanse ‘Boeren geselschap’ gegee het’. 'n Besondere plek onder die geestige poësie voor 1900 word ingeneem deur die anonieme volkspoësie, dikwels met die irrasionele en onlogiese wat so kenmerkend van hierdie tipe vers is en met 'n meerduidigheid in die woordgebruik wat as waardige voorlopers van die verwikkelde twintigste-eeuse poësie beskou kan word. Soms handel dié gedigte oor liefde en vry, soos die jong man met sy bruin perd - die Afrikaanse ekwivalent van die Middeleeuse ridder - wat by die nooi gaan besoek aflê (‘Die bruin perd’). Soms vorm die dansmaat die patroon van die vryersverse voor 1900 (soos in ‘Myn bruine oge’) en soms vind die emosies van die teleurgestelde vryer sy neerslag in die ritme en klank van die vers (soos in ‘Hier sit ek onder die hoogte’). 'n Ander patroon in die volkse verse is dié gedigte van vier reëls waarin die tweede reël telkens met 'n ‘o’ begin en daarna 'n herhaling van die eerste reël is, terwyl daar skynbaar geen logiese verband tussen reëls 3 en 4 bestaan nie (soos in ‘Die wit sakdoek se punt’ en ‘Die kelkie sonder voet’). By hierdie irrasionele sluit ook c.w. joubert se reeks ‘Nuttige reseppe’ aan wat met hul skynbare verbandloosheid en ‘onmoontlike’ afmetings van hoeveelhede 'n verwantskap toon met die latere surrealisme en absurdisme. | |
IV. Voortsetting van die Nederlandse tradisie en die Kaaps-Hollandse geskrifte van Melt J. BrinkNaas die Nederlandse werke van die G.R.A.-manne is daar ook nog die voortsetting van die Hollandse skryftradisie in Suid-Afrika. Die meeste werk om Nederlands as taal te bevorder, word gedoen deur die leiers van die Taalbond self. Die Nederland-
| |
[pagina 70]
| |
se poësietradisie word voortgesit deur hubertus elffers (1858-1931) wat, naas 'n Bybeldrama Debora (1893) en 'n oorlogsroman Voor God en Vaderland (1904), bombastiese verse in 'n geykte idioom in Bloemen in het Kaapland geplukt (1885) bundel. Op die gebied van die prosa skryf frans lion cachet (1835-1899) gedenkskrifte oor die geskiedenis van die Ned. Geref. Kerk in Transvaal, maar hy is veral bekend vir De worstelstrijd der Transvalers (1882), wat die geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek dikwels soos 'n roman vertel. dirk postma jr. (1861-1919) skryf Eenige schetsen voor eener geschiedenis van de trekboeren te St. Januario Humpata (1897), wat oor die Dorslandtrek handel. john daniel kestell (1854-1941) beoefen veral die romanties-gekleurde historiese verhaal, soos in Slagtersnek: Een verhaal uit het grensleven van 1815 (1880) en (saam met N.J. Hofmeyr) De Voortrekkers, of het Dagboek van Izak van der Merwe (1898; in 1925 deur Hofmeyr in Afrikaans bewerk onder die titel Fanie), waarin hy die avontuurlike en romantiese lewe van 'n denkbeeldige Voortrekker vertel en terselfdertyd die belangrikste gebeurtenisse uit die Groot Trek van 1834 tot 1838 nader belig. In 1881 publiseer hy in Engels The struggle for freedom, wat ook oor die Slagtersnekrebellie handel. In Johanna Cloete en andere verhalen (1899) bundel hy sewe novelles oor die dorpslewe en die Voortrekkers, terwyl hy in Met de Boeren commandos (1903) en Through shot and flame (1903) sy ervaringe tydens die Anglo-Boereoorlog boekstaaf. Later skryf hy ook biografieë oor De Wet (1920), N.J. Hofmeyr (1911) en Abraham Paul Kriel (1911). In die trant van die Nederlandse kopieerlus is sy Uit het Afrikaansche boerenleven (1898) met dialoog wat nader kom aan Afrikaans as aan Nederlands (later - 1928 - onder die titel Modderrivier in Afrikaans verwerk). Die belangrikste skrywer van die historiese avontuurverhaal is egter johan frederik van oordt (1856-1918), wat as joernalis by Ons Tijdschrift begin en humorrealistiese sketse en verhale publiseer, later gebundel in Kaapsche stories (1896) en - met toevoeging van verhale uit Die Brandwag - Losse klippe (1918). Onder die skuilnaam Nemo skryf hy twee dramas in die trant van Melt Brink (De koekdief, 1904 en De erftante, 1918). Sy belangrikste bydrae lewer hy egter onder die skuilnaam D'Arbez as historiese romanskrywer wat vir die uitgewery Dusseau feitlik alleen die Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek, die Zuid-Afrikaansche Volksbibliotheek en die Kinderbibliotheek behartig. In navolging van Scott, Van Lennep en Conscience skryf hy die romanties-historiese verhaal wat die vorm aanneem van 'n stuk geskiedenis met 'n liefdesband daarom vervleg. Van sy bekendste werke is David Malan (1896), Mooi Annie (1896), De strijd om recht (1897), Tusschen berg en zee (1897), Onder de Vierkleur (1898) en Macht en recht (1899). Hy is verder ook die skrywer van 'n uitgebreide biografie oor Paul Kruger en de opkomst van de Zuid-Afrikaansche Republiek (1898). D'Arbez was as skrywer besonder gewild en is baie gelees. Sy Nederlands bevat reeds heelparty Afrikanismes en in die dialoog gebruik hy dikwels Afrikaanse uitdrukkings en idiome, sodat sy werk onbedoeld 'n oorgang tussen Nederlands en Afrikaans is wat die taalvorm betref. Dit is egter veral melt jacobus brink (1842-1925) wat in sy werk van so 'n ‘tussentaalvorm’ gebruik maak. Brink se eerste aktiwiteit as skrywer is as lid, later amptelike faktor, van die Kaapse Rederykerskamer ‘Aurora’ vir wie hy in die jare 1868-1877 veertien toneelstukke skryf wat hoofsaaklik oor die nasionale strewe van die Afrikaners handel en waarin hy 'n neerslag gee van die maatskaplike lewe aan | |
[pagina 71]
| |
die Kaap en die gebeure in die Vrystaat en Transvaal. Daarna ontstaan die grootste gedeelte van sy digwerk wat in tydskrifte en koerante soos Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift, Jong Zuid-Afrika, Ons Tijdschrift, De Zuid-Afrikaan en later ook in De Goede Hoop en De Unie verskyn. Hierdie gedigte versamel hy in die jare 1893-1909 in 'n sewetal Grappige stories en ander versies. Aanvanklik is dié gedigte in Nederlands; later, vanaf omstreeks 1884, in Kaaps-Hollands. In die inleiding tot die eerste bundel skryf hy: ‘Ik heb mij, wat de taal betreft, zoveel mij zulks mogelijk was, aan de middenweg tussen goed Hollands en Patriots gehouden. Ten eerste omdat ik denk dat deze voor velen gemakkelijker zal lezen, en ten tweede omdat ik het Patriots te overdreven acht, wij spreken zo niet onder ons. Ik heb het Kaaps-Hollands, zoals wij het gewoonlijk spreken, gevolgd ...’ In sy werk soek hy dus na 'n sintese tussen Nederlands en Afrikaans. Sy verse boei deur sy geestige vertelling heen; soos sy sewentiende-eeuse voorganger is hierdie ‘Afrikaanse Vader Cats’, soos hy tereg genoem is, didakties en moraliserend deur sy vermaaklike siening van menslike tekortkominge en gebreke en deur sy komiese beligting van maatskaplike wanpraktyke. Sy groot gewildheid het hy te danke aan sy vertellende vermoë, soos 'n mens kan sien in die gewilde Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan (1904). In sy verse is daar egter 'n gemis aan 'n persoonlike element of psigiese diepte. Verstegnies hinder sy gedigte deur die te vlotte versifikasie en die eentonigheid van die klank wat deur die monotone ritme en die meganiese afklop van die versreël veroorsaak word. Vanaf 1904 skryf hy ook verskeie verse oor nasionalistiese temas, veral oor openbare figure soos Reitz, Kruger, Steyn en Onze Jan. In hierdie jare wy hy egter sy meeste aandag aan geestige toneelstukke met die aksent op uiterlike handeling. Hierdie stukke - waaronder De echtscheiding (1905), De haat verstomt waar liefde komt (1905), Bij de tande-dokter (1905), Maljan onder die hoenders (1906) en O die muiren!; of Het stemrecht voor vrouwen (1908) - het meestal 'n maklike intrige en 'n los bou sonder noodwendigheid van alle onderdele, en daar is weinig verdieping in die karakters. Sy ernstiger stukke wat teen 'n historiese agtergond, veral van die Anglo-Boereoorlog, afspeel, is oorwegend melodramaties. Melt Brink se werk was in sy tyd belangrik deurdat hy as gewilde skrywer 'n
| |
[pagina 72]
| |
oorgangsvorm beoefen. Op dié wyse het hy die lesers aan 'n medium gewoond gemaak wat nie meer Nederlands was nie, sonder om tot die fonetiese eksesse van Du Toit oor te gaan. Onbewustelik het hy dus die skriftelike oorgang van Nederlands na Afrikaans vergemaklik. Deur sy gewilde toneelstukke het hy verder die Hollands-Afrikaanse toneeltradisie aan die gang gehou in 'n tyd toe daar weinig op dié gebied geproduseer is. Kultuurhistories is sy werk 'n belangrike dokument van die toneelsmaak, die maatskaplike toestande en die omgangslewe aan die Kaap in die laat-negentiende eeu. |
|