Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 48]
| |
Hoofstuk 2
| |
I. Die totstandkoming van die genootskap van Regte AfrikanersDie eerste persoon wat 'n doelbewuste poging aanwend om Afrikaans tot skryftaal te verhef en daardeur die beweging vir die erkenning van Afrikaans begin, was Arnoldus Pannevis, 'n Nederlander wat in 1866 na die Kolonie gekom het. Hy word onderwyser in klassieke tale aan die Paarlse Gimnasium, en sy aandeel aan die
| |
[pagina 49]
| |
Afrikaanse Beweging kan teruggevoer word na sy sterk godsdienssin, sy nasionale bewussyn, sy groot belangstelling in taalstudie en die feit dat twee ander hooffigure van die eerste Beweging, t.w. S.J. du Toit en C.P. Hoogenhout, leerlinge van hom was. Pannevis sien die noodsaaklikheid van 'n Afrikaanse Bybelvertaling in en bepleit dit in 'n brief aan De Zuid-Afrikaan van 7 September 1872. Hy wil die vertaling graag hê ‘voor het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land’, aangesien dit nie alleen ‘zou meewerken tot beter verstand der Heilige Schrift..., maar ook meer belangstelling en dagelijksch en onmiddellijk onderzoek der waarheid zou opwekken en te weeg brengen bij hen, voor wie de kennis van Gods Woord tot nu toe alleen door middel eener half vreemde en onvolkomen verstane taal toeganklijk gesteld was’. Uit hierdie aanhaling kan 'n mens duidelik aflei dat Pannevis nie 'n pleidooi vir Afrikaans as taal gee nie, maar slegs bekommerd is oor die geestelike heil van die gekleurde bevolking. C.P. Hoogenhout, ook 'n Hollander van geboorte, wat in 1860 in Suid-Afrika aangekom het, gaan nog 'n stappie verder as hy in De Zuid-Afrikaan van 12 April 1873 'n Bybelvertaling vra ‘nie alleen ver die bruin mense nie, maar ook ver banja blankes, want daar is ook regte banja blankes wat die Hollandse taal nie half verstaan nie’. Hoogenhout se brief is totaal anders in gees en met 'n heeltemal ander strekking geskryf as dié van Pannevis, en 'n mens kan sê dat die stryd vir die
| |
[pagina 50]
| |
erkenning van die regte van Afrikaans met die verskyning daarvan in die openbare pers begin het. Hierna volg Hoogenhout se bekende reeks ‘Gesprekke tussen oom Jan Vasvat en neef Daantje Loslaat’, wat op 26 Julie 1873 onder die skuilnaam Klaas Waarzegger jr. in De Zuid-Afrikaan begin verskyn het. In hierdie gesprekke gaan Hoogenhout voort om vir die erkenning van Afrikaans as taal van die onderwys en as Bybeltaal te pleit. Hy doen dit by wyse van gesprekke tussen oom Jan Vasvat, wat 'n voorstander van Afrikaans is, terwyl neef Daantje Loslaat aanvanklik bedenkinge het. Veral die verengelsing in die Kerk en die onverskillige houding van so baie predikante teenoor die Hollandse taal kom in die stukke ter sprake. Nog in dieselfde jaar publiseer Hoogenhout 'n populêre oorvertelling van Die geskiedenis van Josef. In aansluiting by Pannevis en Hoogenhout se pleidooie en as reaksie teen die verengelsing skryf S.J. du Toit, predikant in die Paarl, onder die skuilnaam Ware Afrikaander in De Zuid-Afrikaan van Julie 1874 'n reeks van drie artikels oor ‘De Afrikaansche taal’. In hierdie stukke - wat met veel meer kennis as die vroeër briewe en artikels geskryf is en wat ook getuig van 'n wetenskaplike benadering ten opsigte van die onderwerp - kry ons 'n pleidooi vir die moedertaal as die mens se kosbaarste besit; 'n weerlegging van die uitspraak dat Afrikaans geen taal kan wees nie omdat dit uit verskillende elemente saamgestel is of geen grammatika het nie; en 'n samevatting van die skade wat daar reeds aan die Afrikaner gedoen is deur die onbillike invoering van Engels in die parlement, die geregshowe, die skole en die kerke. Uit hierdie artikel is dit duidelik dat Du Toit nie alleen 'n buitengewoon intelligente man was nie, maar dat hy deur sy groot liefde vir die taal ook die eerste Afrikaanse nasionalis in die ware betekenis van die woord genoem kan word. 'n Mens sien dit reeds in 'n stelling wat hy aan die begin van sy reeks artikels maak: ‘De taal van een volk vertoont het karakter des volks. Men kan geen nationaliteit vormen zonder een eigen taal. Ontneemt een volk zyne taal en gy ontneemt dat volk het voertuig zyner gedachten; gy ontneemt dat volk de wysheid zyner voorvaderen, nagelaten in al die zinspreuken, spreekwoorden, uitdrukkingen, enz.’ Die artikels van Du Toit lei tot die briefwisseling tussen Klaas Waarzegger jr. en Ware Afrikaander in De Zuid-Afrikaan van 1874, wat die begin is van die vrugbare samewerking tussen Du Toit en Hoogenhout en waarin Du Toit reeds een van sy spellingsreëls formuleer, nl. ‘Ons skryf soos ons praat’. Intussen gaan Pannevis voort met die idee van 'n Afrikaanse Bybelvertaling, en op 7 November 1874 skryf hy aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap en versoek hulle om die Bybel in Afrikaans te vertaal. ‘At the present,’ skryf hy, ‘the English Bible is of no use for the greater part of the people, and at the same time for thousands and thousands among the Dutch speaking population the Dutch Bible must be regarded as a closed book. For in the course of years, partly by the neglect of the native tongue, a dialect has been formed, idiomatically quite different from the Holland Dutch: and as there are no other Dutch Bibles printed than in the Holland Dutch language, we may say indeed, that many thousands in Cape Colony are without any Bible; and this also is undoubtedly one of the causes of the degradation, rapidly increasing, among the colonists, especially the coloured population.’ In die Nederlandse weergawe van hierdie brief beveel Pannevis S.J. du Toit sonder sy medewete aan vir die vertaling van die Bybel. Op dié brief het die B.B.B.G. geantwoord dat hulle ‘by no means | |
[pagina 51]
| |
inclined (is) for (to? - J.C.K.) perpetuate jargons by printing Scriptures in them’, maar hulle verwys die saak na G. Morgan, hulle verteenwoordiger in die Kolonie. Hy tree met Du Toit in verbinding en versoek hom om 'n verslag te skryf oor die behoefte aan en moontlikheid van 'n Bybelvertaling. Op 'n vergadering op 14 Augustus 1875 in die Paarl, wat bygewoon is deur S.J. du Toit, Gideon Malherbe, D.F. du Toit (Dokter), D.F. du Toit (oom Lokomotief), C.P. Hoogenhout, P.J. Malherbe, A. Ahrbeck en S.G. du Toit, word besluit dat die tyd nog nie ryp is vir 'n Bybelvertaling nie, maar dat die volk oortuig moet word van die belangrikheid van hulle eie taal. Om dié doel te bereik, is daar op die vergadering oorgegaan tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (oorspronklik: Afrikaanders). Daar bestaan onsekerheid oor die rede vir Pannevis se afwesigheid, maar dit kan moontlik herlei word tot sy teleurstelling oor die ander se houding ten opsigte van 'n Bybelvertaling. Later tree hy wel toe tot die Genootskap, maar bedank in 1877 om gesondheidsredes. | |
II. Die werksaamhede van die Genootskap van Regte AfrikanersDie Genootskap van Regte Afrikaners het tot stand gekom as gevolg van die Afrikaanse nasionale ontwaking in die sewentigerjare. Daarom was dit dan ook nie net 'n suiwer taalgenootskap nie, maar het dit as doel gehad om die Afrikaner se nasionale belange in die algemeen te bevorder. 'n Mens sien dit reeds in artikel II van die ‘Algemene Bepalings’ waarin hulle dit as hulle doel formuleer ‘om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land’ en uit die verskillende strofes van ‘Die Afrikaanse volkslied’ waarin daar agtereenvolgens van die Land, Taal, Wet, Reg, Tyd en God van alle nasies gepraat word. Dat die G.R.A. nie slegs 'n taalbeweging was nie, maar inderdaad nasionale oogmerke gehad het, sien 'n mens verder in die
| |
[pagina 52]
| |
wapen wat G.R. von Wielligh in 1877 vir die Genootskap ontwerp het en waarin die woorde ‘Verenigde Suid-Afrika’ omring word deur die name van die vier suidelike state van Afrika met die devies ‘Ver Moedertaal en Vaderland’ bo-aan. Dat die G.R.A. verder ook 'n godsdienstige doelstelling gehad het, blyk uit artikel VII van die Manifes, t.w. dat ‘Ieder lid moet gelowe in die Versoeningsdood van onse Heer Jezus Christus’, en uit die sentrale plek wat die Bybel en die deugde van Geloof en Liefde in die wapen inneem. Tog is dit so dat die Genootskappers in die eerste plek in die taal geïnteresseerd was as die middel waardeur hulle ook ander doelstellings kon realiseer. In die aanvangsjare van die Genootskap se bestaan was die stryd hoofsaaklik tot 'n klein groepie intellektuele beperk wat veral in die Paarl woonagtig was en van wie die leiding sou uitgaan. Hierdie mense het ernstig besin oor die toekoms van die Afrikaner en sy taal en oor die vraag of die Afrikaner met sy eie nasionaliteit en kulturele waardes in dié land kon voortbestaan. Eers toe daar oor dié kardinale saak eenstemmigheid gekom het, kon hulle begin om deur middel van propaganda die gewone mense te bereik en bewus te maak van hulle ideale. Die bewusmaking begin met die publikasie van ‘Die Afrikaanse volkslied’ in De Zuid-Afrikaan van 7 Julie 1875 (dus nog voor die stigting van die G.R.A.) en met die ‘Manifes’-pamflet waaruit die godsdienstige en nasionale oorwegings vir hulle taak duidelik blyk. Hulle onderskei daarin drie soorte Afrikaners: ‘Daar is Afrikaanders met engelse harte. En daar is Afrikaanders met hollanse harte. En dan is daar Afrikaanders met afrikaanse harte. Die laaste noem ons regte afrikaanders, en die veral roep ons op om an ons kant te kom staan.’ As verwesenliking van artikel IX, wat die publikasie van 'n eie orgaan in die vooruitsig stel, verskyn daar op 15 Januarie 1876 die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot, wat die mondstuk van die G.R.A. word. Hierdie blad bestaan uit verskillende rubrieke waarin artikels oor die Afrikaanse geskiedenis, die vernaamste nuus en taalkennis verskyn en waarin daar ook plek ingeruim word vir Afrikaanse gedigte en 'n rubriek van vrae en antwoorde om die kennis van die lesers uit te brei. Die eerste uitgawes het maandeliks verskyn; later, as die getal intekenare opskuif, word dit 'n weekblad. Die gewildheid van Die Patriot blyk uit die toename van die getal intekenare van vier honderd in 1876 tot oor die drie duisend in die tagtigerjare, waarmee dit die grootste Hollands-Afrikaanse koerant in die land word. Hierdie gewildheid was nie die gevolg van Die Patriot se taalmedium nie, maar deurdat hy 'n duidelike politieke standpunt - onder meer oor die Anneksasie van Transvaal, die
| |
[pagina 53]
| |
Eerste Vryheidsoorlog en die kandidatuur van Paul Kruger vir die Transvaalse presidentskap - inneem en leiding gee aan die ontluikende nasionale bewussyn. In 1880 word die blad dan ook die orgaan van die Afrikanerbond. Die hoofredakteur was bekend as Oom Lokomotief, 'n skuilnaam wat agtereenvolgens gebruik is deur C.P. Hoogenhout, J.W. van der Rijst, M.L. Rousseau en D.F. du Toit (lg. van 1878 tot 1890 - vandaar dat hy gewoonlik met dié naam aangedui word). Tog was S.J. du Toit die eintlike besieler van die blad en behartig hy ook die redaksie in die kwynende jare van 1890 af totdat publikasie in 1904 gestaak is. Dit is veral hý wat deur artikels en ander geskrifte die Afrikaner geestelik opvoed, hom inlig oor landsake, 'n politieke en nasionale bewussyn by hom kweek en - deur die stukke in die taalrubriek - die belangrikheid en die bestaansreg van Afrikaans by hom tuisbring. Afgesien van die Genootskappers publiseer die belangrikste skrywers voor 1900, onder wie J. Lion Cachet, almal hulle eerste werk in Die Patriot. Die blad self word, soos trouens al die publikasies van die G.R.A., van 1878 af uitgegee deur die Paarlse firma D.F. du Toit & Co. Ander uitgawes van die Genootskap was die Eerste beginsels van die Afrikaanse taal (1876), wat 'n goeie inleiding tot die taalstudie was en later (1897) omgewerk en uitgebrei is tot Fergelykende taalkunde fan Afrikaans en Engels; Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk (1877), wat 'n (eensydige) korrektief was op die ‘amptelike’ geskiedenisboeke wat in die skole gebruik is; die Afrikaanse Almanak, wat jaarliks vanaf 1877 verskyn het en waarin onder meer versies en kort prosastukkies opgeneem is; die sewe versamelings van Afrikaanse gedigte uit Die Patriot en die Almanak, waarvan die eerste in 1878 verskyn; die Spel- en leesboek (1878) vir die jeug deur Oom Willem (van der Rijst); Catharina, die dogter van die advokaat (1879) deur C.P. Hoogenhout, die eerste Afrikaanse novelle, wat in die eerste prysvraag van die G.R.A. bekroon is; die Eerste Afrikaanse printjies boekie ver soet kinders (1879) deur Hoogenhout; en die Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging ver vrind en vyand uit publieke en private bronne bewerk (1880) deur S.J. du Toit, waarin die ontstaan en ontwikkeling van die Beweging geskets word en waarin heelwat van die eerste pleidooie in belang van Afrikaans opgeneem is. Die Genootskap het aanvanklik te kampe gehad met groot teenstand teen hulle pogings om Afrikaans tot skryftaal te verhef. Die intellektuele het eers geprobeer om die beweging dood te swyg en later openlike verset getoon, soos blyk uit die toespraak van hoofregter lord J.H. de Villiers (Mei 1876) waarin hy Engels as die toekomstige taal van Suid-Afrika gesien het. Ook van Hollandse kant was daar
| |
[pagina 54]
| |
besware. Met uitsondering van die lesing wat J. Brill in Mei 1875 in Bloemfontein gehou het oor ‘De landstaal’ (waaronder hy Afrikaans verstaan), was die Nederlandsgesindes van die oortuiging dat Afrikaans 'n minderwaardige dialek is en het hulle gevrees dat die beweging die Dietse kultuur in Suid-Afrika sou vernietig. Die Genootskappers het self besef dat Afrikaans nog ongevorm was en het teen Nederlands nooit 'n vyandige of onverskillige houding ingeneem nie. Hulle het besef dat Afrikaans veel kan baat deur dit met Nederlands te verryk en te verruim, en hulle optrede was grotendeels vir die besluit van 1882 verantwoordelik dat Nederlands ook in die parlement gebruik kon word. Baie voorstanders van Nederlands het dan ook later Afrikaans begin ondersteun. | |
III. Die Hollandse BewegingDie Eerste Beweging was grootliks - afgesien van die reeds genoemde lesing van J. Brill - geografies beperk tot Wes-Kaapland. Die gevolg is dat die strewe om Nederlands erken te kry, 'n groter terrein bestryk en ook die intellektuele meer bevredig het. Vanaf 1880 word die regering, hoofsaaklik deur die werk van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) - die belangrikste leier van die Kaaplandse Afrikaners op politieke gebied - gedwing om aan Nederlands meer regte en voorregte te gee, terwyl S.J. du Toit met sy onderwysbrosjures ten gunste van die C.N.O.-skole en Nico Mansvelt - dosent in moderne tale aan die Stellenbosse Gimnasium, skrywer van die Proeve van Kaapsch-Hollandsch idioticon (1884) en sedert 1891 Superintendent van Onderwys in Transvaal in die plek van Du Toit - daarvoor sorg dat Nederlands sy regmatige plek as voertaal in die onderwys kry. Die ope brief wat Mansvelt in 1890 tot alle voorstanders van die Hollandse taal in Suid-Afrika rig, lei tot die eerste Taalkongres, wat nog dieselfde jaar in Kaapstad gehou is. Op die vergadering was sowel voorstanders van Afrikaans as Nederlands teenwoordig, alhoewel die aanwesiges besluit het om hulle eie ideale nie 'n twispunt te laat word nie, maar dit aan die toekoms oor te laat watter een van die twee tale in Suid-Afrika sou bly voortbestaan. Op dié kongres is die Suid-Afrikaanse Taalbond gestig, wat die kennis van die volkstaal en die aankweek van 'n nasionaliteitsgevoel moes bevorder deur middel van die verspreiding van leesstof, taalbondeksamens, taalpropaganda en die aanmoediging van jonger skrywers. Die gevolg van die kongres was dat die vyandigheid van die Hollandse kant teen Afrikaans aansienlik verminder het en verskeie verenigings vir die bevordering van Nederlands, soos Ons Spreekuur op Stellenbosch, gestig is. Dit alles bring 'n hernude belangstelling vir die Nederlandse taal teweeg, onder meer die oprigting van 'n amptelike orgaan vir die Taalbond - Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (tot 1893), Jong Zuid-Afrika (1893-1896) en Ons Tijdschrift (1896-1901) - en die stigting in 1894 van 'n uitgewersfirma deur Jacques Dusseau & Co. wat in 1899 deur J.H. de Bussy van Amsterdam oorgeneem is as die Hollandsch-Afrikaansche Uitgeversmaatschappij (H.A.U.M.) om in die leesbehoeftes van die mense te voorsien. Hierdie belangstelling vir Nederlands sou ook uiteindelik vir die bevordering van Afrikaans voordelig wees. Onder die Taalbondmanne was daar die gevoel dat Nederlands met sy geslagsreëls en werkwoordsvorme onnodig moeilik gemaak word en dat dit wenslik is om | |
[pagina 55]
| |
die Hollandse spelling in 'n vereenvoudigde vorm in Suid-Afrika in te voer. Predikante soos A. Moorrees en Adriaan Hofmeyr spreek hulle tydens 'n taalkonferensie in 1894 uit ten gunste van die vereenvoudiging, en 'n jaar later neem Taalbondmanne soos P.J.F. de Vos en W.J. Viljoen die inisiatief om die spelling te hersien. Ons Land voer hierdie nuwe spelling in en word deur De Volksstem gevolg. In Januarie 1897 word die ‘Eerste congres ter vereenvoudiging der Nederlandsche taal’ in Kaapstad gehou waarop 'n groep voorstelle aangeneem word, en ná die oorlog besoek Viljoen Nederland en België om gesaghebbende persone en liggame te nader en die vereenvoudiging en die aanpassing van Nederlands by Suid-Afrikaanse omstandighede goedgekeur te kry. Die ‘Nieuwe Spelling’ is in enkele koerante gebruik, en boeke van W.J. Viljoen, Nico Hofmeyr, N. Mansvelt e.a. het in dié medium verskyn, al het dit nooit juis enige lewensvatbaarheid gehad nie. By die eeuwenteling het slegs 'n klein groepie mense beskaafde Nederlands beoefen, terwyl die grootste deel van die blanke bevolking Engels geskryf, Afrikaans gepraat en slegs by openbare geleenthede 'n soort stywe Nederlands gebruik het. Aan die begin van die twintigste eeu was dit dus reeds duidelik dat die voorstanders van Nederlands besig was om 'n verlore stryd in Suid-Afrika te voer. | |
IV. Die verdere verloop en die einde van die Eerste BewegingIn die negentigerjare werk heelwat van die G.R.A.-manne mee aan die Nederlandse tydskrifte, terwyl S.J. du Toit die eksamens van die Taalbond organiseer. Du Toit, wat van 1882 tot 1890 Superintendent van Onderwys in Transvaal was, het verder een en sewentig stellinge oor Afrikaans ons volkstaal vir die Taalkongres van 1890 gestuur, aangesien hy nie self aanwesig kon wees nie. In hierdie brosjure verdedig hy Afrikaans as taal vir die land, volk, Bybel, skool en kerk, wys hy op wat reeds vir Afrikaans bereik is en doen hy 'n kragtige oproep vir die ondersteuning van die volkstaal aan almal wat teen die Engelse oorheersing gekant is. Alhoewel Du Toit se voorstelle nie op die kongres bespreek is nie, was dit die grondslag vir verdere werk en lei dit tot die eerste Afrikaanse Taalkongres wat op 15 en 16 Januarie 1896 - twintig jaar na die verskyning van Die Patriot - in die Paarl gehou is, met Du Toit as voorsitter. Op dié kongres word besluit om 'n Afrikaanse grammatika- en woordeboek op te stel en om 'n nuwe maandblad te begin wat grotendeels aan artikels en skeppende werk gewy sou word. Verder word Du Toit, wat reeds van 1885 af besig was met 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans, versoek om met sy proewe voort te gaan, en hy vertaal dan ook 'n hele paar boeke, waarvan Genesis, Mattéus, Openbaring en die Psalme tussen 1893 en 1907 gepubliseer is. Tog het Du Toit se vertalings nooit inslag by die algemene publiek gevind nie, waarskynlik omdat die Vrystaatse en
| |
[pagina 56]
| |
Kaapse Sinodes hulle teen 'n Afrikaanse Bybel verklaar het en omdat Du Toit in sy strewe om so na as moontlik aan die spreektaal te kom, nie altyd met die presiese gevoelswaarde van die woorde rekening gehou het nie. Die nuwe maandblad verskyn in Maart 1896 onder die titel Ons Klyntji met S.J. du Toit as redakteur, aan die begin bygestaan deur J. Lion Cachet, wat ook die naam aan die blad gegee het. Ons Klyntji stimuleer die Afrikaanse letterkunde in die negentigerjare soos Die Patriot voor hom, en die gewildheid van die blad blyk duidelik uit die feit dat die sirkulasie binne 'n jaar tot drie duisend eksemplare styg. Die doel van Ons Klyntji was om ‘di lus en liifde fer ons moedertaal op te wek en an te kweek’ en om politieke, godsdienstige en ander omstrede sake nie aan te raak nie. In teenstelling tot Die Patriot is dit dus 'n suiwerder kulturele en literêre blad. Afgesien daarvan dat die tydskrif werke van Du Toit, Lion Cachet en Von Wielligh publiseer wat nuwe fases in hul ontwikkeling as skrywers verteenwoordig, bied dit ook die geleentheid vir heelparty debutante om hul eerste werk te laat verskyn. Terwyl Die Patriot mense aangemoedig het om in Afrikaans te skryf, wou Ons Klyntji ook, al is dit dan nog in 'n baie beperkte mate, gehalte as maatstaf aanlê en goeie werk deur prysvrae probeer stimuleer. Daarom was dit die doel van die blad om ‘Afrikaanse skrywers en dus 'n Afrikaanse letterkunde te form ... Di Patriot het honderde geleer om te skrywe fer 'n koerant, Ons Klyntji moet tiintalle leer om goed te skrywe. Daarom sal op taal en styl net so gelet worde as op di inhoud. Alles suiwer Afrikaans: form en inhoud’. Reeds vroeg in die negentigerjare is Du Toit, wat van betreklik vroeg af sowel kultureel as polities vervul was met die gedagte van 'n verenigde Suid-Afrika waarin albei blanke volksgroepe tot gelyke reg sou kom, besiel deur die ideaal van Cecil John Rhodes, wat gestrewe het na 'n federasie van Suid-Afrikaanse state. Hierdie politieke oortuiging was nie 'n ommeswaai, soos G. Dekker in sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis beweer het nie, maar - veral ná sy ervaring as Superintendent van Onderwys in die Z.A.R. en sy bittere teleurstelling met Paul Kruger se staatsmanskap - die logiese konsekwensie van sy ideale as leier van die G.R.A. en sy aandeel aan die stigting van die Afrikanerbond, al het hy uiteraard die imperialistiese aspirasies van Rhodes onderskat. Deur hierdie politieke standpunt kom hy in botsing met die ander G.R.A.-manne, wat die redaksie van Die Patriot verlaat, sodat Du Toit alleen agterbly en die blad self agteruitgaan. Ten spyte hiervan word Ons Klyntij nog voortgesit. Die literatuur wat daarin verskyn, is van 'n hoër gehalte as dié in Die Patriot. Afgesien van gedigte en kortverhale verskyn twee van Lion Cachet se Sewe duiwels, Di koningin fan Skeba (1898) van Du Toit - die eerste Afrikaanse historiese roman - en Von Wielligh se Jakob Platji as aflewerings in hierdie blad. Du Toit skryf in dié jare ook die eerste gepubliseerde Afrikaanse toneelstuk, t.w. Magrita Prinslo of Liifde getrou tot in di dood (1897). Ons Klyntji gaan voort tot 1906, maar Du Toit ondervind dan te veel teenstand, veral as gevolg van sy politieke houding en sy ultra-fonetiese spelwyse. Ook die Anglo-Boereoorlog laat die belangstelling in die taalsake tydelik verdwyn. In 1902 verskyn nog die Patriot-woordeboek en in 1906 versamel S.J. du Toit die meeste Afrikaanse gedigte wat in die laaste dertig jaar verskyn het. In die jare 1907-1909 wend hy 'n vergeefse poging aan om met die tydskrif Ons Taal aan die nuwe geesdrif vir Afrikaans mee te werk. Slegs met die godsdienstige blad Stemmen des Tijds (1905- | |
[pagina 57]
| |
1914), waarmee hy De Getuige (1882-1903) voortsit, lewer hy nog 'n bydrae. Maar teen hierdie tyd was die Tweede Beweging vir die volwaardige erkenning van Afrikaans reeds 'n hele ruk aan die gang.
|
|