Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermdDeel III
| |
[pagina 75]
| |
Hoofstuk 1
| |
[pagina 76]
| |
onopgeleide burgers sonder krygservaring of militêre dissipline as soldate diens moes doen. Ten spyte van die feit dat die oorlog aan verskillende fronte gevoer moes word, het die Boere aanvanklik groot suksesse behaal deur die beleg van stede en dorpe soos Kimberley, Mafeking en Ladysmith. Die oorwinnings soos dié by Modderspruit, Stormberg en Magersfontein is egter nie opgevolg nie, en dit het die Britte die geleentheid gegee om addisionele troepe en voorrade aan wal te sit en hulle magte doeltreffend te organiseer. Kimberley en Ladysmith is ontset, genl. Piet Cronje is by Paardeberg tot oorgawe gedwing, die stede Bloemfontein, Johannesburg en Pretoria is deur die Britte ingeneem en die twee republieke is tot die ‘Orange River Colony’ en ‘Transvaal Colony’ onder Britse beheer verklaar. Paul Kruger het na Europa vertrek en daar geprobeer om steun vir die Boeresaak te verkry, terwyl lord Roberts, die Britse gesagvoerder, teruggekeer het na Engeland, onder die indruk dat die oorlog verby is. Die Boeremagte onder aanvoering van bekwame generaals soos C.R. de Wet, J.H. de la Rey, Louis Botha, J.B.M. Hertzog en J.C. Smuts het egter hul gevegstaktiek gewysig en in klein kommando's verdeel wat die Britte orals onverwags aangeval en daarna weer die wyk geneem het. Hierdie guerrilla-oorlog is deur lord Kitchener, die opvolger van Roberts, beantwoord met die afbranding van plase en huise en die verwydering van vroue en kinders na konsentrasiekampe. Die verskriklike verwoesting van die land, die hoë sterftesyfer in die kampe en die geweldige Britse oormag wat 'n voortdurende toevoer deur die hawens gehad en die spoorlyne en stede beheer het, dwing die Boere uiteindelik om hulle onafhanklikheid prys te gee, die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 te onderteken en die Britse vors as wettige heerser te erken. Die hele oorlog het die Britse skatkis ongeveer R400000000 gekos, terwyl 7000 offisiere en manskappe aan Britse en 4000 aan Boerekant die lewe verloor het. In die konsentrasiekampe is 116000 mense aangehou en het minstens 27000, hoofsaaklik vrouens en kinders, gesterf, terwyl sowat 32000 krygsgevangenes na kampe binne en buite Suid-Afrika (op St. Helena, Ceylon, die Bermuda-eilande en in Indië) gestuur is. Die oorlog was 'n harde slag vir Brittanje se prestige, aangesien baie Europese lande die saak van die Boere goedgesind was en Brittanje se optrede in Suid-Afrika as despoties beskou het. Ook in Engeland self was daar verset teen die oorlog en mense soos Emily Hobhouse het die leed van die vroue en kinders in die kampe pertinent onder die aandag van die Britte gebring. Die koloniale Afrikaners in Kaapland en Natal is deur krygswet bedwing, maar duisende van hulle het gerebelleer, veral na die instelling van die konsentrasiekampe en die ‘verskroeide aarde’-taktiek van Kitchener. Die einde van die oorlog het meegebring dat die Vrystaat en Transvaal tot kolonies van Brittanje uitgeroep is. 'n Minderheid onder die Boere wou die Britse gesag in geen omstandighede aanvaar nie en het na Argentinië, Oos-Afrika, Duits-Suidwes-Afrika en die Verenigde State uitgewyk. Dié wat gebly het, was openlik verdeeld: teenoor die ‘bittereinders’, wat die stryd ten alle koste wou voortsit, was daar die ‘hensoppers’ en ‘oorlopers’, wat die Britse bewind as enigste uitweg beskou het, terwyl daar neergesien is op die ‘joiners’ wat die Britte gesteun of oorlogsgeheime aan hulle oorgedra het. Die Boere is deur die oorlog geweldig verarm en was geestelik weerloos, al ontstaan daar later, juis as gevolg van die oorlog, onder die Afrikaners 'n diep geestelike eenheidsbesef en 'n hernude nasionalisme wat historiese herinnerings as voedingsbodem | |
[pagina 77]
| |
gehad het. Onder Vrystaters en Transvalers was daar 'n gevoel van trots dat die twee republieke drie jaar lank teen 'n wêreldmoondheid kon weerstand bied. Ná die oorlog was dit die taak van Milner om die republieke materieel weer op te bou. Die verwoesting van die plase het 'n nuwe ‘groot trek’ na die stede meegebring, van baie Afrikaners stedelinge en werknemers gemaak en die einde van die ou patriargale en konserwatiewe lewensvorme ingelui. Milner hervestig baie boere op hulle plase, kry die goudmynbedryf weer aan die gang deur die invoer van Chinese arbeiders, pas 'n angliseringsbeleid in die onderwys toe en beywer hom op politieke gebied vir 'n federasie van Suid-Afrika waarin die Britse element die belangrikste aandeel moes hê. Milner se materiële heropbou was doeltreffend, maar hy het die groeiende gevoel onder die Afrikaners teen Engels en die Britte eerder versterk as laat afneem en hy was nie in staat om vir die volk 'n bestendige en aanvaarbare samelewing te skep nie. Die reaksie teen sy imperiale beleid was aanvanklik 'n kulturele herlewing wat in pleidooie vir die behoud van Nederlands en vir die uitbouing van Afrikaans uiting gevind het, later 'n politieke oplewing, veral toe die Liberale Party onder Campbell-Bannerman (wat tydens die oorlog die saak van die Boere goedgesind was) in 1905 in Brittanje aan die bewind kom en 'n beleid van versoening teenoor die verowerde republieke volg. Dit lei tot die instelling van verantwoordelike bestuur in die Oranje-rivierkolonie en Transvaal. Die regering in Transvaal word gelei deur Louis Botha en J.C. Smuts en dié in die Vrystaat deur Abraham Fischer en J.B.M. Hertzog. | |
II. Unifikasie en politieke ontvoogdingBy die Liberale regering wat in 1905 in Brittanje aan die bewind gekom het, was daar 'n sterk gevoel om die vier Britse kolonies in Suider-Afrika te verenig. So 'n stap, is geredeneer, sou meer Britse immigrante na Afrika trek en sou die Britse Ryk versterk, veral met die oog op 'n moontlike botsing met Duitsland. Ook die leiers van die vier kolonies het begin dink aan 'n eenwording as die moontlike oplossing vir ekonomiese en politieke probleme. Ten einde oor die vorm van die eenwording te besluit en 'n konsepgrondwet op te stel, is 'n nasionale konvensie in 1908 en 1909 agtereenvolgens in Durban, Kaapstad en Bloemfontein gehou. Op 31 Mei 1910 kom die Unie van Suid-Afrika tot stand met Louis Botha as premier. Die land sou deur 'n Volksraad en Senaat geregeer word, terwyl die Britse koning deur 'n goewerneur-generaal verteenwoordig is. Soos Kanada, Australië en Nieu-Seeland
| |
[pagina 78]
| |
sou Suid-Afrika dominiumstatus verkry en sou die regering volgens die Britse demokratiese stelsel verkies word deur stemgeregtigdes wat alle blankes en Kleurlinge - aanvanklik net mans, vanaf 1930 ook vroue - bo een en twintig jaar ingesluit het. Die vroeëre kolonies sou provinsies van die Unie word en plaaslike bestuur sou in die hande van 'n administrateur, 'n uitvoerende komitee en 'n provinsiale raad geplaas word. In dieselfde jaar as die totstandkoming van die Unie is die eerste verkiesing gehou wat die ondersteuners van Louis Botha aan die bewind geplaas het, met die Unioniste en die Arbeiders as die belangrikste opposisiegroepe. In 1911 het die Suid-Afrikaanse Party tot stand gekom wat die regeringsondersteuners met Botha as leier verenig het. Botha, bygestaan deur J.C. Smuts - Minister van Binnelandse Sake, Mynwese en Verdediging - het 'n beleid van versoening ten opsigte van Brittanje gevolg en die ideaal gekoester om deur ‘konsiliasie’ en deur ‘vergewe en vergeet’ die Afrikaners en Engelse tot een Anglo-Afrikanernasie saam te smelt. Hierteenoor was J.B.M. Hertzog - Minister van Justisie - van mening dat Botha in die toepassing van sy beleid van die middeweg afgewyk en die Engelssprekendes bevoordeel het. Hollands, wat volgens artikel 137 van die grondwet saam met Engels amptelike status as landstaal geniet het, was in 'n minderwaardige posisie in die staatsdiens, en Hertzog wou die Afrikaner se taal en kultuur naas dié van die Engelssprekende beveilig sien. Vir hom was daar in Suid-Afrika twee volksgroepe wat kultureel albei die reg op voortbestaan gehad het en hy word apologeet vir 'n ‘tweestroombeleid’ wat algehele gelykheid van die twee blanke kulture, sonder dat die een die ander oorheers, ten grondslag het. Teenoor Botha, wat met die dominiumstatus van Suid-Afrika tevrede was, het Hertzog Suid-Afrika se reg op selfbeskikking bepleit en was hy 'n voorstander daarvan dat 'n nasie sy eie sake in sy eie belang moes reël. As hy in Desember 1912 in 'n toespraak op De Wildt hierdie beginsel van ‘Suid-Afrika eerste’ stel, lei dit tot 'n breuk met Botha en word Hertzog deur die Unioniste as fanaties en ekstremisties uitgekryt en sy beleid as ‘Hertzogisme’ gebrandmerk. Die breuk tussen Botha en Hertzog lei in 1914 tot die stigting van die Nasionale Party, wat nasionale selfstandigheid voorstaan, wat ten gunste is van 'n goeie verhouding met Brittanje sonder onderhorigheid aan hom en sonder dat die Unie se belange tweede kom, en wat taalgelykheid en eerbied vir die kultuur, geskiedenis, godsdiens, sedes en gebruike van die twee blanke groepe wil bevorder. Daardeur word Hertzog nie alleen 'n politieke figuur van belang nie, maar word hy ook deur die leiers van die Tweede Beweging as 'n kampvegter vir hulle saak gesien. Die verdeeldheid onder die Afrikaners tussen ‘Sappe’, wat ‘Engelsgesind’ was en ‘reggemaak’ moes word, en tussen ‘Natte’, wat as konserwatief en eng beskou is, vind sy neerslag in die Hollands-Afrikaanse koerantwese ná Uniewording. De Volkstem, De Vriend en Ons Land word organe van die Suid-Afrikaanse Party, terwyl Ons Vaderland (1915-1932 in Pretoria, in 1932 opgevolg deur Die Vaderland en sedert 1936 in Johannesburg), Die Volksblad (1916- in Bloemfontein) en Die Burger (1915-in Kaapstad onder aanvanklike redaksie van D.F. Malan) die Nasionale Party ondersteun. Die weekblaaie Die Brandwag (1910-1922 in Pretoria), Die Voorloper (1912-1914 in Kaapstad) en Ons Moedertaal (1914 in Stellenbosch), wat in 1916 in Die Huisgenoot onder redaksie van J.J. Smith en C.J.L. Ruysch van Dugteren | |
[pagina 79]
| |
opgaan, en Die Boerevrou(w) (1919-1931 in Pretoria onder redaksie van Mabel Malherbe) sorg vir goeie lektuur in Afrikaans en publiseer ook werk van die belangrikste skrywers. Ten nouste hiermee verbonde is die totstandkoming van 'n aantal uitgewerye, waarvan J.L. van Schaik (Pretoria, 1914) en die Nasionale Pers (Kaapstad, 1915) die grootste is en wat die belangrikste Afrikaanse literêre publikasies in die eerste dertig jaar van die twintigste eeu die lig laat sien. Die verdeeldheid onder die Afrikaners word nog verder versterk deur die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914. Die Britse oorlogsverklaring aan Duitsland, pas twaalf jaar ná die Vrede van Vereeniging, het die dominiums van die Britse Ryk sonder keuse in die oorlog gebring, en vir baie Afrikaners was dit onaanvaarbaar om aan die kant van Brittanje te veg teen 'n land wat in die verlede vriendelik teenoor hulle saak was en dat Suid-Afrika in 'n oorlog betrek is waarmee sy inwoners niks te make gehad het nie. Veral toe die regering besluit om Duits-Suidwes-Afrika binne te val, het die herinnering aan die Anglo-Boereoorlog met sy konsentrasiekampe herleef en is Botha en Smuts deur baie Afrikaners as verraaiers en handlangers van die Britse Ryk beskou. Die verset onder heelwat republikeinsgesinde Afrikaners, veral in die Vrystaat, maar ook in Transvaal en Kaapland, lei in 1914 tot 'n openlike rebellie waaraan heelwat Boeregeneraals en -offisiere soos C.R. de Wet, J.H. de la Rey, C.F. Beyers, Manie Maritz en J.C.G. Kemp deelneem. Die rebelle was egter swak bewapen en georganiseer en die verset was van korte duur. Verskeie rebelle - onder wie De Wet - is boetes of gevangenisstraf opgelê, en Jopie Fourie is gefusilleer. Die Helpmekaar-beweging is in die lewe geroep om die boetes deur middel van 'n fondsinsameling te betaal, terwyl die oorskot gebruik is om jong Afrikaners verder te laat studeer. In 1918 word die Afrikaner-Broederbond in Johannesburg gestig met die doel om op kulturele en ekonomiese gebied te help met die opbou van die Afrikaner. Ná die geslaagde inval in Duits-Suidwes is Suid-Afrikaanse magte na Tanganjika gestuur om die Imperiale troepe met die verowering van dié Duitse kolonie te help. By die Vrede van Versailles onderteken Botha en Smuts, alhoewel met sterk verset, die vredesverdrag. Suidwes-Afrika word as mandaatgebied deur die Volkebond onder Suid-Afrika se bestuur geplaas. Smuts, wat tydens die oorlog lid van die Britse oorlogskabinet was, het 'n belangrike aandeel in die handves van die Volkebond, en met sy holistiese filosofie word hy as 'n belangrike teoretikus van die Ryksidee gesien en geniet hy internasionale roem as staatsman. Ná Botha se dood in 1919 word hy premier.
| |
[pagina 80]
| |
Met die verkiesing van 1915 het die Suid-Afrikaanse Party reeds van sy steun verloor, terwyl Hertzog se Nasionale Party heelwat stemme op hom verenig. Die ekonomiese vraagstukke en die stygende lewensduurte bring groot ontevredenheid by die arbeiders, boere en amptenare, en in 1920 besluit Smuts om sy party met dié van die Unioniste te verenig ten einde 'n verkiesingsnederlaag af te weer. Die gevolg is dan ook dat die Suid-Afrikaanse Party in 1921 weer met 'n oorweldigende meerderheid aan die bewind gestel word. In 1922 heers groot industriële onrus aan die Witwatersrand as gevolg van stakings oor lone in die mynbedryf, en dit lei tot bloedige gevegte waarin die regeringstroepe van masjiengewere gebruik gemaak het. Die politieke gevolg hiervan was dat die mynwerkers - onder wie baie Afrikaners - sterk teenstanders van die regering word. Met die verkiesing van 1924 vorm die Nasionale Party 'n ‘pakt’ met die Arbeiderparty en word Hertzog premier in die plek van Smuts. Die bewindsaanvaarding van Hertzog bring mee dat hy sy beginsels van ‘Suid-Afrika eerste’, gelyke taal- en kultuurregte aan Afrikaans- en Engelssprekendes en volle selfbeskikkingsregte vir die Unie ten opsigte van die buiteland in die praktyk kon toepas. Daardeur kon hy die nasionale selfstandigheid van die Unie beklemtoon, soos in ekonomiese opsig blyk uit die slaan van eie munte in 1925 en die stigting van 'n yster- en staalnywerheidskorporasie (Yskor) in 1926. Tydens sy bewind het hy aangedring op die handhawing van tweetaligheid in die staatsdiens en word Afrikaans tot amptelike landstaal naas Nederlands en Engels verhef (1925). Op staatkundige gebied sorg hy in 1926 met die Balfour-verklaring dat Suid-Afrika en die ander dominiums outonome status binne die Britse Ryk verkry, wat in 1931 deur die Britse parlement met die Statuut van Westminster in wetgewing vasgelê word. In 1928 word 'n eie nasionale vlag naas die Union Jack gehys. Die gevolg van hierdie beleid is dan ook dat Hertzog die verkiesing van 1929 met 'n vergrote meerderheid wen. | |
III. Verandering in die maatskaplike struktuurTerwyl Suid-Afrika sedert ongeveer 1880 tot omstreeks 1925 hoofsaaklik 'n land- en mynbouland was, kom daar in die twintigerjare 'n fundamentele verandering in die ekonomiese struktuur deurdat Hertzog 'n aantal nywerhede vestig met die oog op 'n oplossing van die werkloosheid en die armblanke-vraagstuk wat in hierdie jare 'n knellende probleem geword het. Die armblanke-vraagstuk was enersyds die gevolg van die Anglo-Boereoorlog, wat die boeregemeenskap sonder inkomste gelaat het, andersyds die gevolg van die groot droogtes met die gepaardgaande verlies aan vee en gesaaides en die lae pryse wat die boere vir hulle produkte ontvang het. Die resultaat was dat baie blankes wat nie vir enige bepaalde beroep opgelei was nie, na die stede gestroom het om ongeskoolde arbeid saam met die nie-blankes te verrig. Terselfdertyd is baie immigrante uit ander lande, veral Brittanje, vir geskoolde werk gewerf. Die aanraking tussen hierdie mense en die verarmde blankes het 'n kultuurkonflik tot gevolg wat die Afrikaners se lewensgebruike en -gewoontes | |
[pagina 81]
| |
ingrypend wysig. Hierdie wysiging vloei voort uit die hele agtergrond van die Afrikaner, wat tot feitlik die einde van die negentiende eeu hoofsaaklik as pionier en boer op 'n plaas gewoon het, wat onbekend was met die handel en die kapitalistiese geldekonomie en wat uit die aard van sy samelewing nie 'n stedebouer kon wees nie. Die Afrikaner was deur sy hele verlede aangewys om 'n boer te word - vandaar die naam ‘Boerevolk’ - en dit was die enigste beroep waarmee hy oor die algemeen vertroud was. As boer was hy geslagte lank verstoke van onderwysgeriewe en beroepsopleiding en het hy 'n landelike kultuur en lewenswaardes geken wat vreemd was aan die stad. Daarom was die stede wat wel ontstaan het, die produkte van ‘uitlanders’, mense van vreemde herkoms en fortuinsoekers wat nie die lewensgebruike en-gewoontes van die Afrikaner geken het nie. Die gevolg was dat die Afrikaner swak toegerus was vir die stedelike samelewing en dat hy deur sy ekonomiese agterstand gedwing is om in agterbuurtes soos Vrededorp, Fordsburg en Langlaagte te woon, terwyl hy geestelik en kultureel ontwortel, ontwrig en minderwaardig gevoel het as gevolg van die denasionaliserende en angliserende invloede wat op hom ingewerk het. Deur die verarming wat daar op die platteland geheers het, was baie boere en ‘bywoners’ egter verplig om na die stad as enigste uitkoms te trek. Om die armoede en werkloosheid die hoof te bied, soek Hertzog die oplossing in die vestiging van nywerhede wat aan hierdie mense 'n heenkome kon bied. Deur middel van die Loonwet word vakmanne van goeie en beheerde salarisse verseker, terwyl die Kleurslagboomwet die belange van blanke werkers beskerm. Die ontwikkeling van plaaslike nywerhede is gestimuleer deur die heffing van invoerregte op buitelandse produkte, met die gevolg dat bedrywe soos die vervaardiging van komberse, ysterware, klerasie en leerware vinnig uitgebrei het. Daardeur word die werkmoontlikhede en -geleenthede vir blanke arbeiders in die stede verbeter. Terselfdertyd is daar van allerlei kante, onder meer deur die Kerk, daadwerklike pogings aangewend om die Afrikaner in die stad nie verlore te laat gaan nie, maar om hom sy identiteit te laat handhaaf en hom binne sy volksverband te laat voortbestaan. | |
IV. Opvoedkundige ontwikkelingsVolgens artikel 5 van die vredesooreenkoms van Vereeniging is aan die Boere beloof dat die regte van Hollands gehandhaaf sou word, maar tydens die Milner-regering is alles moontlik gedoen om die Afrikaners so gou moontlik te verengels. Onder die
| |
[pagina 82]
| |
leiding van die Kerk is enkele C.N.O.-skole opgerig om die posisie te verbeter, maar eers met die toesegging van verantwoordelike bestuur kom daar 'n mate van verligting. Deur middel van die Smutswet van 1907 en die Hertzogwet van 1908 is die beginsel van moedertaalonderwys in Transvaal en die Oranje-Vrystaat onderskeidelik ingevoer. Met die totstandkoming van die Unie is gelyke regte aan Hollands en Engels as amptelike tale gewaarborg en is die onderwys in die hande van die provinsiale rade gelaat. In alle provinsies het onderrig tot en met standerd IV in die moedertaal geskied, terwyl ouers vanaf standerd V die onderrigtaal vir hulle kinders kon kies. Hierdie maatreëls is egter nie altyd in die praktyk uitgevoer nie, tot nadeel van Hollands. Intussen het Afrikaans reeds soveel vordering gemaak dat C.J. Langenhoven in 1914 in die Kaapse Provinsiale Raad 'n mosie indien waarin hy versoek dat Afrikaans tot en met standerd IV in die plek van Hollands as voertaal op skole gebruik moet word. Nog in dieselfde jaar volg die rade van Transvaal en die Vrystaat hierdie voorbeeld, terwyl Natal ook later daartoe oorgaan. In 1925 was moedertaalonderrig tot standerd X die algemene praktyk in al vier die provinsies. Met die toenemende vordering wat op onderwysgebied gemaak is, ontstaan daar ook al hoe meer Hollands- en later ook Afrikaansmediumskole. In 1917 kom die Potchefstroomse Gimnasium en die Oosteindskool in Pretoria tot stand, terwyl die Oranje-Meisieskool in 1920 in Bloemfontein gestig word. In 1922 word die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet opgerig, in 1926 die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en in 1927 die Voortrekkerhoërskool in Pietermaritzburg. In 1916 neem die Parlement belangrike wetgewing aan met betrekking tot die oprigting van universiteite. Twee van die kolleges van die nie-doserende Universiteit van Kaap die Goeie Hoop, wat in 1873 opgerig is, t.w. die Victoria-kollege op Stellenbosch en die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad, verkry ingevolge hierdie wetgewing universitêre status en begin in 1918 met onderrig as die Universiteit van Stellenbosch en Kaapstad onderskeidelik. Die ses ander kolleges word onder die beheer geplaas van die Universiteit van Suid-Afrika, wat die Universiteit van Kaap die Goeie Hoop vervang. Van hulle kry die Universiteitskollege van die Witwatersrand in 1922 universitêre status.
|
|