Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 25]
| |
Hoofstuk 3
| |
I. Die Hollandse toneel en die werk van De Lima en BonifaceTeen die einde van die agttiende en die begin van die negentiende eeu ontstaan die toneel in Suid-Afrika deur die aanwesigheid van die Franse soldate, 'n Duitse toneelgroep en - ná die bewindsoorname - deur die aktiwiteit van die Engelse garnisoen. Hierdie werksaamhede op toneelgebied lei tot die oprigting van 'n skouburg op die Boereplein. Dit word in Oktober 1801 ingewy en bly vir die eerste helfte van die eeu die vernaamste plek vir opvoerings - soms ook vir konserte en danspartye - in Kaapstad.
| |
[pagina 26]
| |
Die eerste Nederlandse toneelgeselskap wat in die lewe geroep is, was ‘Tot leering en vermaak’ (opgerig in 1803; in 1809 herdoop tot ‘Tot nut en vermaak’), weldra gevolg deur ander groepe, soos ‘Honi soit qui mal y pense’, ‘Men doet wat men kan’, ‘Vlyt en kunst’, ‘Door yver vruchtbaar’ en ‘Door yver bloeit de kunst’. Terwyl ‘Tot nut en vermaak’ in die eerste helfte van die eeu die voortou op toneelgebied neem, is dit ‘Door yver bloeit de kunst’ wat in die vyftigerjare onder die leiding van J.C. Combrink die toon aangee en veral die Rederykerskamer ‘Aurora’ (op 4 Oktober 1866 onder die sinspreuk ‘Onvermoeide vlyt komt alles te boven’ gestig) wat in die tweede helfte van die eeu die bedrywighede oorneem en in Kaapstad 'n belangrike bydrae tot die vorming van 'n toneeltradisie lewer. In die eerste helfte van die negentiende eeu word die Kaapse toneellewe oorheers deur die aanwesigheid en bedrywighede van joseph suasso de lima (1791-1855) en veral charles etienne boniface (1787-1853). Boniface, 'n Fransman van geboorte, kom in 1807 na Suid-Afrika en neem van die begin af aktief deel aan die toneellewe aan die Kaap. Kort na sy aankoms voer hy sy eie Franse blyspel L'enragé op en in die volgende paar jaar wy hy hom aan die produksies van ballette, pantomimes en dramas, nie alleen as skrywer of bewerker nie, maar ook as akteur, regisseur en teaterbestuurder. De Lima, 'n Nederlander van Portugees-Joodse afkoms, vestig hom in 1818 aan die Kaap en werk as vertaler en onderwyser, later ook as boekhandelaar. Afgesien van 'n aantal vertalings publiseer hy in 1821 'n bundel Gedichten - in 1840 gevolg deur Nieuwe gedichten - waarin hy, soos Borcherds voor hom, aansluit by die tradisie van Bilderdijk en Tollens en 'n weinig oorspronklike tipe (hoofsaaklik geleentheids-) vers met 'n sterk sentimenteel-godsdienstige en chauvinistiese inslag beoefen. De Lima se chauvinisme kom verder tot uiting in sy eensydige en verheerlikende Geschiedenis van de Kaap de Goede Hoop (1825) en veral later in sy onbeheerste reaksie oor De taal der Kapenaren (1844) teen wat hy as 'n ‘schandelijke aanranding’ van Changuion beskou het. In 1823 sluit De Lima en Boniface 'n hegte vriendskap, en De Lima vertaal Boniface se L'enragé onder die titel De dolzinnige of De gewaande dolleman. In 1824 word hulle egter geswore vyande en in die volgende aantal jare skryf hulle verskeie haatstukke teen mekaar. Boniface se ballet Limaçon de dichter, waarin hy die gebreklike uiterlike voorkoms van De Lima hekel, word beantwoord met 'n Zamenspraak tusschen Limaçon een dichter en een prozaisch gaskonjer (1825), waarin De Lima op sy vyand se ondankbaarheid wys. Hierop antwoord Boniface met 'n alleenspraak De twee slakken of Limaçon, sen. en Limaçon, jun. (1825), en later, as hy weer 'n keer met De Lima slaags was, skryf hy Clasius stupidibus bavianus of Het proces om een komedielootje (1834), 'n satiriese blyspel in twee bedrywe met talryke spitsvondighede en lewendige handeling, alhoewel die hekeling te onbeheers is en nie van die spesifieke geval- De Lima se private lewe -loskom nie. Op hierdie stuk antwoord De Lima met Aballino junior (1835), wat die frisheid en sprankeling van Clasius mis. In die twintiger- en dertigerjare is sowel De Lima as Boniface werksaam as joernaliste en redigeer albei 'n tyd lank Kaapse weekblaaie. Boniface se onenigheid en rusies met verskeie persone het tot gevolg dat hy in 1843 in geselskap van Cornelis Moll na Natal gaan, waar hulle saam 'n koerant oprig. Ook hierdie vriendskap is kortstondig en in die jare 1846 tot 1849 skryf Boniface 'n reeks van twaalf bitter hekelskrifte in Nederlands, Engels en Frans onder die titel Bluettes franco-nataliennes, | |
[pagina 27]
| |
gerig teen sy vyande Moll en Walker. In teenstelling tot hierdie geskrifte met hul persoonlike aanvalle is Boniface se beste enkele stuk, De nieuwe ridderorde of De temperantisten (1832), 'n drama waarin hy die teater omskep tot 'n maatskaplike strydperk. Dit is satiries gerig teen die filantropiese sendelinge en 'n nuwe ‘orde’ of genootskap wat ten gunste was van matigheid in drankgebruik en wat onder invloed van die Metodistiese geestesdrywery tydens die dertigerjare van die negentiende eeu ontstaan het. Die drama neem die vorm aan van 'n klugtige blyspel in vier bedrywe en die karakters wat optree, is verteenwoordigende tipes uit die maatskappy (soos die Hottentotfigure Manus Kalfachter en Grietje Drilbouten), soms met allegoriese byklanke in hulle name (soos doctor Mac-thirsty, Andrew Everdry, Hans Droogekeel en Dampje Waterschuw) of toespelings op bestaande persone (soos dominé Humbug Philipumpkin), alhoewel die hekeling - in teenstelling tot dié in Clasius en sy vroeëre stukke - bo die bloot persoonlike uitstyg. Die drama bestaan uit 'n reeks realistiese taferele wat gesamentlik die voortdurende botsing tussen die twee partye gee, met die gevolg dat daar nie juis sprake van 'n duidelike spanningslyn of enige noemenswaardige intrige kan wees nie. Daarby is dit wesentlik 'n tendensdrama met die doel om die oneerlikheid van die mense aan die kaak te stel. Ten spyte hiervan boei dit deur die besonder sprankelende dialoog en die komieklike situasies waarin die karakters hulle telkens bevind, in die besonder aan die einde, waar die lede van die matigheidsbeweging een na die ander die jenewer ten prooi val. Veral die Hottentotkarakters word geestig geteken, en Boniface slaag goed daarin om deur hulle gebruik van 'n tipiese Hottentot-Afrikaans 'n lokale kleur aan sy drama te gee. Sowel wat die bou as die volkse taferele betref, toon De nieuwe ridderorde 'n ooreenkoms met Bredero se klugte. | |
II. Die opkoms van die Hollandse joernalistiekDie eerste boekdrukkuns in Suid-Afrika dateer uit die jare 1795-1797 as Johann Christian Ritter die eerste almanakke op 'n klein handdrukpersie vervaardig. In
| |
[pagina 28]
| |
1799 word 'n drukpers ingevoer, en op 18 Augustus 1800 begin die joernalistiek in Suid-Afrika met die verskyning van The Cape Town Gazette and African Advertiser - Kaapsche Stads Courant en Afrikaansche Berigter, 'n staatsblad waarin daar, naas amptelike proklamasies, ook nuusberigte en advertensies verskyn het. Tydens die Bataafse bewind word hierdie koerant uitsluitlik in Nederlands uitgegee en neem sy gewildheid baie toe. As Nederlands egter ná 1806 geleidelik minder gebruik en die blad later uitsluitlik in Engels gedruk word, neem die sirkulasie af en bestaan dit feitlik net uit proklamasies en amptelike stukke. In 1826 word dit herdoop tot The Cape of Good Hope Government Gazette. Die ongewildheid van die Kaapsche Stads Courant het tot gevolg dat onafhanklike blaaie wat meer spesifiek op nuus ingestel en koerante in die ware sin van die woord was, tot stand gekom het. In 1824 verskyn die weekblad South African Commercial Advertiser, wat al gou onder redaksie van Thomas Pringle en John Fairbairn en met George Greig as drukker kritiek teen die koloniale regering uitspreek, in onguns raak by die bewindhebbers en deur lord Charles Somerset verbied word. Ná 'n beroep van Greig op die staatsekretaris vir kolonies word hierdie verbod ter syde gestel en word die vryheid van die pers gewaarborg. In hierdie blad verskyn enkele van die vroegste voorbeelde van briewe in Afrikaans. In dieselfde jaar word die eerste uitgawe van die tweetalige South African Journal - Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift onder redaksie van Pringle, Fairbairn en (vir die Hollandse uitgawe) Abraham Faure gepubliseer, 'n blad wat die bevordering van godsdiens, ‘benevens de letteren en wetenschappen’, nastrewe en wat in die beginjare onder meer stukke van Meent Borcherds en groot dele uit Van Riebeeck se Daghverhaal opneem. In 1826 verskyn De Verzamelaar - The Gleaner, wat onder redaksie van J. Suasso de Lima waarheidsliefde, onderwys en nut wil bevorder en die ‘opkomende letterbloei’ wil stimuleer en wat die volgende jaar - ná die oprigting van The Cape of Good Hope Government Gazette - as De Kaapsche Courant, Afrikaansche Berigter (of De Verzamelaar) voortgesit word. In hierdie blad kom onder meer 'n negetal Afrikaanse briewe van histories-taalkundige belang voor. As De Lima in 1830 bankrot speel, word sy koerant verkoop en gaan dit voort onder die naam De Zuid-Afrikaan, aanvanklik met C.E. Boniface as redakteur. Hierdie blad, waarin deur die jare enkele verspreide proewe - meestal briewe - in Afrikaans verskyn, word die eerste koerant wat 'n duidelike ‘Suid-Afrikaanse’ standpunt inneem. Dit verskil van die Advertiser deurdat dit afwysend staan teenoor die Engelse filantropie en negrofilie en van De Verzamelaar deurdat dit nie slegs op die weergawe van nuus ingestel is nie. Geleidelik kom dit met 'n definitiewe politieke en maatskaplike gedragslyn en vertolk dit die sienswyse van die Afrikaner. In 1871 word dit verenig met die in 1862 gestigte De Volksvriend, en onder redaksie van Jan H. Hofmeyr (Onze Jan) speel die blad 'n belangrike rol in die Afrikaanse gemeenskap van die negentiende eeu en dien dit in die sewentigerjare as podium vir enkele belangrike pleidooie in belang van Afrikaans. Die blad bly tot 1894 bestaan en word dan verder voortgesit as Ons Land. Van 1839 tot 1848 gee De Lima 'n tweede reeks van sy Verzamelaar uit. Saam met Cornelis Moll redigeer Boniface van 1837 tot 1838 The Moderator of the Cape of Good Hope Impartial Observer, nog in die jaar van oprigting herdoop tot De Meditator, 'n blad wat - soos De Ware Afrikaan (1838-1842) - besonder simpatiek teenoor die saak | |
[pagina 29]
| |
van die Voortrekkers was en waarin die Trekkertreurlied ‘Het lot van Zuid- Afrika’ (‘O Afrika! gij macht wel weenen!’) naas heelwat oorspronklike digwerk verskyn. In die jare 1837-1838 redigeer Moll ook Lees-vruchten, 'n driemaandelikse blad vir literatuur en geskiedenis. In 1843 vestig hy en Boniface hulle in Natal, waar hulle die eerste weekblad, De Natalier en Pietermaritzburgsche Trouwe Aantekenaar (1844-1846) oprig. Hierin skryf Boniface die eerste voorbeelde van Afrikaans in Natal. Dié blad word in 1846 tweetalig en herdoop tot De Natalier and Pietermaritzburg True Recorder; as daar onenigheid tussen die twee redakteurs kom, bedank Boniface en sluit hy hom aan by die opponerende The Natal Witness - De Natalsche Getuige (1846-1931), terwyl Moll De (Natalsche) Patriot - The Patriot (1846-1848) stig. Reeds in 1831 word 'n begin gemaak met die joernalistiek in Oos-Kaapland as L.H. Meurant in Grahamstad met die uitgawe van die Graham's Town Journal begin. In 1840 publiseer J.G. Franklein die eerste uitgawe van The Cape Frontier Times, 'n blad waarvan ook 'n afsonderlike Hollandse uitgawe onder die naam Het Kaapsche Grensblad (1844-1851, 1852-1861) verskyn. In die jare 1844-1846 en weer 1849-1851 behartig Meurant die redaksionele werk van dié koerant, en in dié periode word daar onder verskillende skuilname nie minder nie as nege en twintig briewe en samesprake in Afrikaans opgeneem, waarvan die meeste na alle waarskynlikheid deur Meurant self geskryf is. Teen die einde van die vyftigerjare verskyn die Engelse weekblad The Cradock News onder redaksie van J.S. Bold. In hierdie koerant publiseer Meurant in Desember 1860 twee samesprake in Afrikaans wat die sirkulasie geweldig laat styg. Dit lei tot die oprigting van Het Cradocksche Nieuwsblad (1861-1862) waarin nog vier samesprake en 'n hele reeks briewe van Meurant verskyn. Hierdie stukke was baie gewild en is deur ander koerante oorgeneem. In 1848 rig B.J. van de Sandt de Villiers Het Volksblad op, wat net vir een jaar bestaan, en in 1849 maak De (Gereformeerde) Kerkbode sy verskyning. In die Vrystaatse blaaie The Friend - De Vriend (1850) en De Tijd (1862-1875) en in De Transvaal Argus (1866-1869) word daar ook periodiek Afrikaanse stukke opgeneem. In die jare 1856 tot 1886 laat De Villiers Het Volksblad herlewe, en saam met De Zuid-Afrikaan word dit die belangrikste negentiende-eeuse Hollandse koerant, waarin ook baie van die oudste Afrikaanse stukke verskyn, soos Samuel Zwaartman se
| |
[pagina 30]
| |
prosastukke en F.W. Reitz sr. en jr. se gedigte. In sy blad bepleit De Villiers enersyds 'n hegter samewerking tussen die twee blanke volksgroepe, wat 'n sterk kontras vorm met die anti-Afrikaanse beleid van die Engelse pers, andersyds 'n liberaler instelling en ruimer wêreldbeskouing onder die Afrikaners, veral wat kerksake betref. Die kerklike stryd tussen die sg. ortodokse en liberale groepe in hierdie jare lei tot die beoefening van 'n kragtiger polemiese prosa, 'n groter leeslus onder die Afrikaners en tot die oprigting van verskeie nuwe blaaie. Naas Het Volksblad word De Onderzoeker (1860-1884) onder redaksie van Leopold Marquard en die Transvaalse koerant De Volksstem (vanaf 1905 verander na De Volkstem en sedert 1927 Die Volkstem, 1873-1951) onder redaksie van Jan F. Celliers sr. die belangrikste mondstukke van die liberales, terwyl die ortodokse rigting gesteun word deur De Volksvriend (1862; in 1871 verenig met De Zuid-Afrikaan), De Wekker (1859-1925) en die kwartaalblad Elpis (1857-1861, 1873-1879). | |
III. Die Nederlandse literêre tradisieTerwyl Afrikaans geleidelik maar toenemend in die Hollandse koerante sy verskyning gemaak en die leeslus onder die Afrikaners laat toeneem het, was Nederlands nog steeds die medium vir amptelike geskrifte en vir bewuste pogings tot literatuur. Wat laasgenoemde betref, was dit veral die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift onder redaksie van Abraham Faure wat 'n belangrike rol gespeel het en wat in 1833 die mondstuk word van die Maatschappij ter Uitbreiding van Beschaving en Letterkunde. Heelwat van die medewerkers aan hierdie tydskrif was verbonde aan die onderwys in Kaapstad. Op die personeel van die bloeiende Hollandse skool Tot nut van 't algemeen was onder andere J.J. de Kock, 'n bekende toneelspeler, almanakskrywer en opsteller van die Nieuwe Hollandsche Geselschapsliederen (1852). justus gerhardus swaving (1787-1835), vertaler by die Hooggeregshof, dosent in Frans aan die Zuid-Afrikaansch Athenaeum (wat in 1829 opgerig is om aan Hollandssprekendes gevorderde onderwys te gee) en mede-oprigter van die Maatschappij, publiseer fragmente van Reizen en lotgevallen (1830 in boekvorm) oor sy verblyf aan die Kaap in De Verzamelaar en die Tijdschrift. In dieselfde onderhoudende skryftrant is ook sy Vlugtige biografische schets van de 28 Hollandsche gouverneurs van de Kaap de Goede Hoop (1829). Vanaf 1831 tot 1842 is antonie nicolaas ernest changuion (1803-1881) hoogleraar in tale aan die Athenaeum, later (1842-1860) hoof van sy eie Instituut waar hy die Nederlandse taal, téén die toenemende verengelsing in, kan doseer en handhaaf. Changuion speel 'n hoofrol by die stigting van die Maatschappij, dien in die redaksie van die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift, is as leksikograaf werksaam en skryf 'n bundel oorwegend retoriese poësie (Nagalmen, 1865). Hy is egter veral van belang as prosaïs en redenaar wat die Nederlandse taal en letterkunde hartstogtelik wil bevorder, soos blyk uit sy Voorlezing tot aanprijzing van de beoefening der Nederduitsche taal en letterkunde in Zuid-Afrika (1840) en De Nederduitsche taal in Zuid-Afrika hersteld (1844). Veral met die byvoegsel tot laasgenoemde, ‘Proeve van Kaapsch taaleigen’, waarin hy op verskille tussen Nederlands en Afrikaans wys, trek hy die aandag, ook in Nederland. Op hierdie werk reageer De Lima met De taal | |
[pagina 31]
| |
der Kapenaren tegen de schandelijke aanranding derzelve van professor Changuion (1844). Onder die ouer figure is Changuion die belangrikste apologeet vir die Nederlandse taal in Suid-Afrika, sowel deur sy beredeneerde, deurdagte geskrifte as deur sy onderrig aan die Athenaeum en die Instituut. Die Instituut van Changuion bereik sy hoogste bloei deur die samewerking van manne soos D.P. Faure, Roderick Noble, Leopold Marquard en veral johan wilhelm gerbrandt van oordt (1826-1904). Van Oordt word in die besonder bekend as klassikus en as kenner van die antieke en Transvaalse geskiedenis en is later redakteur van Het Volksblad. Soos reeds gesê, was daar in hierdie jare twee rigtings in die Kaapse Kerk, nl. ortodoksie en liberalisme, en dié strominge vind ook in die literatuur en geskrifte van die tyd hul neerslag. Tot die ortodokse rigting behoort mewes johannes tromp (1808-1854) met sy Eenvoudige mengeldichten (1850), pierre dammes marie huet (1827-1895), skrywer van Paarlsche gedichtjens (1856), Uit Natal (1858) en Afrikaansche gedichten (1868), en herman frederik schoon (1851-1930) met Stichtelijke gedichtjes (1873) en Uitstorting des harten (1885). Die meeste van hierdie gedigte is huislike en predikantepoësie in navolging van Beets, Ten Kate en De Genestet, soms erg romanties en ontboesemend, soms 'n blote naskrywery van die kerksange. Tot die liberale groep in die Kerk behoort die predikante D.P. Faure, J.J. Kotze en S.P. Naudé, wat van belang is vir hulle polemiese stukke. Die sterkste figuur onder hierdie groep is egter thomas françois burgers (1834-1881), wat in Nederland teologie bestudeer, by sy terugkeer predikant op Hanover word, deur sy liberale oortuigings in 'n langdurige hofgeding met die Kerk beland en later, van 1872 tot die eerste anneksasie in 1877, president van Transvaal word, 'n posisie waardeur hy probeer om die algemene standaard van kultuur en beskawing in die Republiek te verhoog. Na aanleiding van sy ervaring van die dorpslewe op Hanover skryf hy twee en twintig sketse wat in 1866-1869 in Het Volksblad verskyn; twaalf hiervan is as Toneelen uit ons dorp in boekvorm gepubliseer, aanvanklik in 1867, later - met 'n voorwoord deur Theodore M. Tromp - in 1882 herdruk. Tematies toon die sketse 'n ooreenkoms met Schetsen uit de pastorie te Mastland van C.E. van Koestveld, maar stilisties sluit dit aan by die ‘Kopijeerlust des dagelijkschen levens’ van Hildebrand. Sy waarneming van die dorp en die inwoners is soms geestig, soms krities, terwyl hy - in ooreenstemming met die moraliserende tradisie - deur aansprekings en onderbrekings in die verhaal vertroulik met die leser omgaan. Die sketse is almal in Nederlands geskryf, maar in die dialooggedeeltes maak Burgers
| |
[pagina 32]
| |
meermale van 'n gevoelige Afrikaanse dialoog gebruik. Deur sy humorrealisme en didaktiese inslag is hy die voorloper van Lion Cachet en Jochem van Bruggen. Later (1870) skryf Burgers 'n skets in Het Volksblad oor sy besoek aan die Kimberleyse diamantvelde. Ook oor sy reis deur Transvaal doen hy verslag by wyse van 'n drietal stukke in Het Volksblad van 1871, in 1872 in boekvorm gepubliseer onder die titel Schetsen uit de Transvaal. Met die werk van die skrywers wat in hierdie afdeling bespreek is, bereik die Nederlandse literêre tradisie sy (betreklike) hoogtepunt, maar ook welhaas 'n eindpunt. Reeds in die Hollandse koerante en tydskrifte voor 1875 is die toenemende beoefening van Afrikaans 'n opvallende verskynsel. Ten spyte van 'n bewuste poging in die laat-negentiende en aan die begin van die twintigste eeu om Nederlands vir Suid-Afrika te red, sal Afrikaans toenemend in die plek van Nederlands gebruik word. Die Hollandse literatuur wat ná 1875 in Suid-Afrika ontstaan, moet grotendeels as die nawater van 'n tradisie gesien word wat nooit werklik in hierdie land lewensvatbaarheid besit het nie. |
|