Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 17]
| |
Hoofstuk 2
| |
I. Amptelike registers, joernale en vroeë sporadiese digwerkEen van die opdragte wat elke amptenaar van die Kompanjie kragtens artikel XCI van die Artyckel-Brief ontvang het, was dat alle joernale, kaarte, geskrifte en aantekeninge aan die Goewerneur-Generaal van Indië of aan die Nederlandse bewindhebbers voorgelê moes word. Dit was dan ook deel van die taak van die eerste kommandeur, johan anthoniszoon van riebeeck (1619-1677), om 'n amptelike Daghregister te hou met 'n verslag oor die belangrikste gebeure tydens sy dienstermyn. Hierdie Daghregister neem 'n aanvang in Desember 1651 met die vertrek van
| |
[pagina 18]
| |
die drie skepe Drommedaris, Reijger en Goede Hoope uit Texel en word in Mei 1662 afgesluit met Van Riebeeck se vertrek na die Ooste. Daarmee begin ook die literatuur in Suid-Afrika, want alhoewel die grootste deel in die tipiese amptelike styl van die sewentiende eeu geskryf is, bly dit nie net 'n nugter verslag nie. Plekplek vertel Van Riebeeck, naas die informasie wat hy oor die weersgesteldheid en die ekonomiese aangeleenthede moes verskaf, besonder lewendig oor die land en sy mense, in die besonder oor die Hottentotte Herry en Eva en die talle geestige en avontuurlike voorvalle wat tydens sy termyn plaasgevind het. Dit is veral sy boeiende beskrywings en sy rake tekenings, gepaard met sy gebruik van die volkswoord en -uitdrukking, wat sy geskrif laat uitstyg bo die ander offisiële registers van sy tyd en aan lewendigheid en spontaneïteit laat wen. Die amptelike dagregisters word deur Van Riebeeck se opvolgers voortgesit tot 1795, en ook kleiner joernale en verslae van ontdekkingsreisigers is daarin opgeneem waarin die persoonlike kyk op sake - soms ernstig, soms humoristies - 'n mens heel dikwels by die lees opval, alhoewel hulle vanselfsprekend nie as literatuur bedoel was nie. Tussen die jare 1660 en 1664 is ses reise deur amptenare van die Kompanjie onderneem met die doel om die handel met die inboorlinge te bevorder en om na die legendariese ryk Monomotapa en die goudstad Vigiti Magna te soek. Van drie van hierdie reise is die Deen pieter van meerhoff (ca. 1635-1668) die joernaalhouer, en sy verslae munt, naas die praktiese ingesteldheid om toekomstige reisigers oor hulle grootste probleme te help, in die besonder uit deur die geestige wyse waarop hy voorvalle kan vertel. Verder bestaan daar die twee joernale wat
| |
[pagina 19]
| |
deur hendrik claudius, afkomstig uit Breslau (ca. 1655-ca. 1697), gehou is: die Rapport van den vaendrich Oloff Bergh ... op hare reyse na de cralie van de Namaquas (1683) en die Dagregister en beschryvinge van de voyagie gedaan naar het Amaquas land, onder het beleid van den Ed. Heer Simon van der Stel, commandeur van Cabo de Boa Esperança (1685-1686). Ten spyte van die omslagtige styl en die vervelende weerverslae boei hierdie joernale tog plek-plek deur die interessante avonture wat op 'n lewendige wyse vertel word. In die jare 1686-1694 word die offisiële dagregister gehou deur johannes guillelmus de grevenbroeck (1644-1725), wat daarin boeiend skryf oor die wedervaringe van die skipbreukelinge van die Stavenisse in 1687. De Grevenbroeck was 'n wêreldreisiger en 'n Latinis van formaat, en in latere jare begin hy met die samestelling van 'n Latyns-Hottentots-Hollandse woordelys en skryf hy - soos sy tydgenoot petrus kalden (ca. 1670-1739), predikant aan die Kaap - heelwat Latynse versies. Met hierdie twee figure kry die literatuur in Suid-Afrika 'n afskaduwing van die Renaissance en die Nederlandse Goue Eeu. In die vroeë jare van die Kompanjie se bewind is daar nie veel amptenare wat die tyd of aanleg gehad het om aan die poësie mee te doen nie. Tog verskyn daar in 1678 die Rijm-wercken van aernout van overbeke (1632-1674) waarin enkele, meestal geestige, gedigte oor die Kaap voorkom. Belangriker is die Vroolijke uuren bestaande uit verscheide soorten van mengel-digten (1681) van pieter de neyn (1643-na 1681), van Februarie 1672 tot Oktober 1674 fiskaal aan die Kaap, wat hoofsaaklik ‘slempdigten’ bevat, maar waarin, naas 'n hele paar verse oor Kaapse meisies, die ‘Gedachten op het gesighte van het Zuider-kruis’ opgeneem is - die eerste ernstige gedig wat oor 'n Suid-Afrikaanse tema handel. Van enige hegte verbondenheid met die land en sy mense is daar egter in hierdie verse geen sprake nie. | |
II. Dagboekliteratuur en verdere reisverslaeIn die loop van die agttiende eeu ontstaan daar 'n dagboekliteratuur aan die Kaap wat veel sterker as die amptelike dagverhale, die reisjoernale of die sporadiese gedigte van besoekers 'n Afrikaanse gees en inslag openbaar en wat van die offisiële geskrifte verskil deurdat die gerigtheid nou veel meer op die nuwe vaderland is, nie meer op Holland nie. Die belangrikste hiervan is die Dagregister van adam tas (1668-1722) wat slegs fragmentaries (1705-1706) bewaar gebly het en waarin die skrywer,
| |
[pagina 20]
| |
naas 'n verslag oor die burgers se ontevredenheid met die bewind van W.A. van der Stel, die omgewing met 'n besondere geestigheid teken en die amptenaredom hekel. Afgesien daarvan dat sy Dagregister vir 'n kennis van die politieke verskille in dié periode van groot belang is, gee hy vir ons 'n insig in die maatskaplike toestande van die tyd en die lewe van die boere wat dikwels ‘onder het dampen van een pijpje smookkruid’ saam met mekaar gesellig verkeer het. Hy word tereg deur Bogaert ‘de bekwaamste ter penne’ onder die vryburgers en deur Van der Stel ‘een sierlijck schrijver’ genoem, iets wat tot uiting kom in sy vernuftige en ratse gebruik van die woord en die konstruksie van sy sinne. Afgesien van sy belangrikheid as dagboekskrywer is hy ook die opsteller van die vryburgers se Klachtschrift en die Contra-Deductie (1712), wat die klagtes van die vryburgers tesame met die belangrikste dokumente en bewysstukke teen die goewerneur bevat, maar wat slegs van historiese belang is. Veel later in die eeu volg daar verdere dagboeke van meer as blote offisiële betekenis. In 1776 skryf hendrik swellengrebel (1734-1803), seun van die goewerneur, twee verslae oor sy en Pieter Cloete se gesamentlike tog na die binneland. Hy gee o.m. 'n weergawe van die inboorlinge se lewensgewoontes, 'n siening van die koloniste en die ekonomiese en ander probleme van die grensboere. Nog boeiender en met veel meer Afrikanismes is die Berigt aan den Weleedelen Gestrengen Heer Mr. Joachim van Plettenbergh ... van 't geene my ondergeteekende ontmoet is, wat ik gehoord ende gezien hebbe, zeedert dat ik langs de Groote Rivier op ende needer gezworven hebbe (1779) deur die Göteborgse Sweed hendrik jacob wikar (datums onbekend), wat in 1775 uit die hospitaal van die Kompanjie weggeloop en vier jaar lank saam met die Hottentotte by die Oranjerivier gewoon het. In teenstelling tot hierdie avontuurryke Berigt skryf johanna margareta duminy (1757-1807) in die negentigerjare van die agttiende eeu 'n opgewekte dagboek oor haar daaglikse ervarings op 'n boereplaas naby Caledon en gee sy, soos Tas voor haar, 'n beeld van die lewe in een van die buitedistrikte, onder meer 'n besonder geestige verslag van 'n vendusie. Van hierdie dagboek het twee fragmente uit die jaar 1797 bewaar gebly. Die reeks dagboeke en joernale word afgesluit deur vier verslae oor reise wat die vier broers Van Reenen afsonderlik aan die einde van die agttiende en die begin van die negentiende eeu onderneem het. jacob van reenen (1755-1806) skryf in 1790-1791 'n verslag oor die ekspedisie wat na oorlewendes van die wrak van die Grosvenor aan die kus van Pondoland gesoek het. willem van reenen (1756-1806) onderneem in 1791-1792 'n reis na die Oranjerivier en tot in Damaraland op soek na goud,
| |
[pagina 21]
| |
terwyl sebastiaan valentyn (1760-1821) in 1793 'n dagboek hou oor sy bootreis langs die Weskus tot in Walvisbaai. Dit is egter veral die laaste van hierdie vier joernale, die Dag-verhaal eener reize naar de binnelanden van Africa beoosten de Kaap de Goede Hoop geleegen (1803), onderneem deur die Bataafse goewerneur, J.W. Janssens, en beskryf deur dirk gysbert van reenen (1754-1828), wat getuig van 'n sterk verbondenheid met die vaderland en sy besondere probleme. Oor dieselfde reis bestaan daar ook 'n verslag van die Nederlander paravicini di capelli (1778-1848), die aide-de-camp van die goewerneur. Die verskil tussen Afrikaner en Hollander blyk duidelik uit 'n vergelyking van die twee geskrifte. Terwyl Di Capelli saaklik oor die Hottentotte en sendelinge skryf en bekoor word deur die natuurskoon van die omgewing, laat Van Reenen die aksent val op die boere se stryd teen die veesiektes, die rooftogte van die inboorlinge en die talle verwoeste plase wat hulle op die tog verbygaan. Sy Dag-verhaal is die produk van iemand wat die land en sy besondere probleme deel van homself gemaak het en ernstig na 'n oplossing soek. | |
III. Godsdienstige lektuur en die eerste bewuste pogings tot literatuurMet uitsondering van die ‘mengel-digten’ van Van Overbeke en De Neyn is die eerste Nederlandse poësie wat in Suid-Afrika ontstaan, van 'n satiriese aard. Die eerste gedig wat tot ons gekom het, is 'n lang epos ‘Historie van de Kaap zeer krachtig’ (1796), geskryf deur 'n Patriotgesinde wat die lamsakkige optrede van die regeerders tydens die eerste Britse bewindsoorname hekel. Alhoewel hierdie gedig anoniem oorgelewer is, bestaan daar die vermoede dat dit geskryf kon gewees het deur hubert dirk campagne (1763-1828), 'n Hollandse amptenaar wat as gevolg van sy anti-Prinsgesindheid in 1796 na Engeland gedeporteer is en wat in sy historiese gedig ‘Gedachten bij de beschouwing van het voorleeden en toekomstige lot van de Kaap’ en die satiriese ‘De verwaandheid in Africa’ met die politieke beleid van die nuwe gesaghebbers die spot dryf. In hierdie gedigte openbaar Campagne homself as 'n Afrikaner, terwyl sy taal ook reeds in die rigting van Afrikaans beweeg.
| |
[pagina 22]
| |
Suiwerder Nederlands skryf die Latinis helperus ritzema van lier (1764-1793), leraar aan die Kaap en belangrike figuur in onderwyskringe, in sy twee Verhandelingen (1792 en 1793) oor teologiese aangeleenthede en sy twee bundels Leerredenen (1796 en 1806) waaruit ons 'n aanduiding van die preekwyse teen die einde van die agttiende eeu kry. Sy suster, catharina aldegonda van lier (1768-1801), is die skryfster van 'n Dagboek, gemeenzame brieven en overdenkingen (1804) wat met sy mistieke inslag, sentimenteel-stigtelike trant en die gebruik van die briefvorm by 'n soortgelyke rigting in die agttiende-eeuse Nederlandse letterkunde aansluit. Slegs met die gedig ‘Moet ik steeds met onspoed strijden’, wat sterk kontrasteer met haar moeisame, lomp, bespieëlende prosa, lewer sy 'n wesentlike bydrae; vandag is hierdie gedig in gewysigde vorm bekend as Gesang 41. Die briefvorm word aan die begin van die negentiende eeu ook gebruik in die Merkwaardig verhaal van die lewe en lotgevalle van michiel christiaan vos (1759-1825) ‘door hem zelven in den jare 1819 briefsgewijze aan eenen vriend medegedeeld’. Vos, wat op verskillende plekke in Nederland, Asië en Afrika Hervormde predikant was, skryf 'n oorwegend Bybelse styl met 'n sterk sentimentele inslag, al boei hy soms deur die ironiese toon wat van tyd tot tyd uit sy werk opklink. Van hierdie vroeë Kaapse predikanteskrywers is die Fries meent borcherds (1762-1832) die vrugbaarste en veelsydigste. Naas stigtelike en lerende verse op die agttiende-eeuse Frans-klassisistiese patroon - waarvan die epiese gedig in vier sange, De maan (volledig in 1802), die langste is - skryf hy sedepreke, sketse, verhale en stukke oor die vaderlandse geskiedenis wat veral in die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift, opgerig in 1824, verskyn. In hoofsaak is hy egter 'n beoefenaar van uitgediende literêre tradisies. | |
IV. Voortrekker geskrifteDie kronieke oor die stryd teen die in boorlinge (waarvan Dirk Gysbert van Reenen se Dag-verhaal reeds getuig) en die nuwe land wat getem moet word, is ook die hooftema van die reeks Voortrekkerdagboeke van die negentiende eeu, wat - naas briewe en enkele verse - die enigste vorm was waarin hierdie pioniers hulle gedagtes
| |
[pagina 23]
| |
op skrif gestel het. Uit dié dagboeke spreek nie alleen hulle oortuiging in die sin van die Trek en hulle sterk geloofsbesieling nie, maar ook die gebondenheid van dié mense aan die Afrikaanse bodem en die feit - wat reeds uit die onbeholpe taal van die geskrifte duidelik is - dat hulle nie meer Nederlandse koloniste nie, maar 'n eie volk met 'n eie karakter is. Die belangrikste hiervan is die Dagboek van louis tregardt (1783-1838), wat uit twee dele bestaan, maar waarvan slegs die tweede deel (1836-1838) letterkundige waarde het. Wat hier opval, is die sterk invloed van die Bybelstyl en veral die erns waarmee die Trek benader word. Tregardt skryf aantekeninge oor die geografie, die weersgesteldheid, die gewoontes en die leefwyse van die swart stamme wat hulle op die Trek teëkom en gee 'n verslag van die siektes van mense en diere. Daarnaas tipeer hy ook sekere voorvalle en sien hy die optrede van enkele Voortrekkerfigure in 'n humoristiese lig. Met dit alles is sy werk van groot kultuurhistoriese waarde deurdat hy 'n groep Afrikaners wat in besonder moeilike omstandighede na 'n nuwe heenkome soek, in hulle daaglikse doen en late uitbeeld. Verder bestaan daar die Dagboek van erasmus smit (1778-1863), ongeordende predikant saam met die Natalse Trek van Maritz en Retief, wat - in teenstelling tot dié van Tregardt - in suiwer Nederlands geskryf is, die hoofmomente van die Groot Trek nader belig en die aksent laat val op die leiersfigure Retief, Maritz en Potgieter. Dit word feitlik 'n lydingsgeskiedenis van die Groot Trek, al skryf hy ook telkens oor sy eie leed (soos met die dood van sy seun Salomon) en die persoonlike smaad wat hy van die ander Trekkers moes verduur. Naas die dagboeke van Tregardt en Smit is daar ook heelwat gedenkskrifte van Voortrekkers wat hulle herinneringe later opgeteken het. Die belangrikste hieronder is die Journaal van sarel cilliers (1801-1870) wat op sy sterfbed geskryf en in 1876 gepubliseer is en waarin ons die siening van 'n streng ortodoks-gelowige man kry oor wat God se doel met die Trek was. Ander herinneringe is die Gedenkschrift (1843) van anna elizabeth steenkamp (gebore retief) (1797-1891), die Herinnerin-
| |
[pagina 24]
| |
gen van ferdinand paulus van gass (1822-1883) wat by sy dood as Een Afrikaner verskyn het, en De geschiedenis van de Hollandsch-Afrikaansche boeren, vanaf hun vertrek uit de Kaapkolonie, tot op de aftreding van President Burgers (1893) van jacobus hendrik hattingh (1819-1897). | |
V. Is hierdie geskrifte deel van die Afrikaanse letterkunde?Sommige van hierdie eerste geskrifte wat op Suid-Afrikaanse bodem ontstaan het, openbaar 'n duidelike Afrikaanse karakter, en die vraag ontstaan of hulle almal as deel van die Afrikaanse letterkunde beskou moet word. Deur die spesifieke aard van die joernale en dagboeke en die boustof wat daarin verwerk is, kan hulle duidelik onderskei word van die literatuur wat in Nederland self ontstaan het. 'n Mens kan selfs sover gaan as om te sê dat indien daar verder geen Afrikaanse taal ontwikkel het nie, hierdie geskrifte nogtans as deel van die Hollands-Suid-Afrikaanse letterkunde beskou sou gewees het, net soos die Frans-Kanadese of die Engelstalige literatuur in Australië en Suid-Afrika van dié in Frankryk en Brittanje verskil. In die ontwikkeling van die Afrikaanse literatuur tot ongeveer 1800 is daar dus aanvanklik nog 'n sterk Nederlandse inslag aanwesig, nie alleen in die taalvorm nie, maar ook wat die behandeling van die stof en die benadering ten opsigte van die land en mense betref. Teenoor hierdie werke - wat hoofsaaklik deur amptenare of besoekende reisìgers geskryf is - staan die geskrifte van die vryburgers en later die Voortrekkers, waarin die skrywers nie 'n uitheemse kultuur probeer voortsit nie, maar ingestel is op die Suid-Afrikaanse werklikheid, die bodemgesteldheid en die nuwe situasies waarin hulle hulself op hierdie vasteland bevind. Dié aanhanklikheid aan die land wysig dan ook hulle totale geesteshouding en uitkyk op die lewe, en die verknogtheid aan die grond bring mee dat hulle ook 'n besondere tipe beeldspraak en idioom ontwikkel. Vandaar dat 'n werk soos Louis Tregardt se Dagboek reeds so tipies Afrikaans is, ten spyte van die onbeholpe poging om Nederlands te skryf. Aanvanklik kry 'n mens dus 'n Nederlandse koloniale letterkunde wat stilisties aansluit by soortgelyke werke in Nederland en alleen daarvan verskil wat die boustof betref. Later, as die skrywers te kampe het met die spesifieke probleme wat hierdie land aan hulle stel, ontwikkel 'n eie geesteshouding wat sy neerslag vind in die geskrifte van die mense, selfs al is die taalvorm nog nie volledig Afrikaans nie. Hierdie literatuur kan 'n mens dus beskou as die oorsprong van die Afrikaanse letterkunde.
|
|