Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 7]
| |
Deel I
| |
[pagina 9]
| |
Hoofstuk 1
| |
[pagina 10]
| |
daar 'n nuwe tipe nomadiese mens ontstaan wat die oop ruimtes van die land leer liefkry, wat selfstandig in sy eie karige behoeftes voorsien en wat fisiek en psigologies opgewasse is vir die harde eise wat die baanbrekerslewe aan hom stel. Die isolasie waarin die trekboer leef en die afwesigheid van kerk- en skoolgeriewe of beskawende invloede het tot gevolg dat hy - afgesien van die sporadiese hulp van rondtrekkende leermeesters - op homself aangewys is vir die opvoeding van sy kinders. In hoofsaak was dit die sterk invloed van die Calvinistiese godsdiens en die daaglikse omgang met die Bybel wat die trekboere teen algehele verwildering gevrywaar het. Aan die begin van die agttiende eeu kan die blanke gemeenskap in die Kolonie dus verdeel word in 'n stedelike bevolking, bestaande uit handelaars en ambagslui, wat in Kaapstad gereelde kontak met die amptenaredom en reisigers en op dié wyse ook met die Europese kultuur en beskawing het, 'n gevestigde boerebevolking in die Boland, wat onafhanklik van dié invloede 'n patriargale bestaan gevoer en 'n patronerende invloed op die slawe en Hottentotte uitgeoefen het, en die veeboere op afgeleë plase, wat in 'n bestaanstryd met die natuur en inboorlinge gewikkel was, maar wat tog 'n innerlike geestelike adel besit het, soos dit tot openbaring kom in hul natuurlike gasvryheid, mensliewendheid en openhartigheid. In die beginjare van die nedersetting was daar geen kleurgevoel onder die koloniste nie en is die enigste verskil tussen die Hottentotte en die blankes gebaseer op grond van die Christelike geloofsoortuiging. Soos die Kolonie al hoe verder ontwikkel en die grensboere met die inboorlinge in aanraking kom, maak hierdie verskil tussen ‘Christen’ en ‘Heiden’ egter plek vir 'n onderskeid wat op beskawingspeil, gewoontes en leefwyse berus. Die kontak met die Europese kultuur en beskawing wat die inwoners van Kaapstad gehad het, was nie só sterk dat daar 'n stimulerende geestes- of kulturele lewe kon ontwikkel nie. Die eerste predikant is eers in 1665 benoem, en dit het tot 1704 geduur voordat die Groote Kerk in Kaapstad ingewy is. Die eerste skool dateer uit die jaar 1663, maar tot in die agttiende eeu was die kerkraad in bevel van die onderwys in die Kolonie. Die algemene intellektuele lewe was - met die totale afwesigheid van kulturele bedrywighede soos toneelopvoerings - nie hoogstaande nie, al was daar enkele persone, soos Adam Tas en Joachim von Dessin, wat uitgebreide versamelings boeke besit het; dié van Von Dessin is ná sy dood in 1761 in 'n openbare biblioteek omskep. Die gebrek aan 'n daadkragtige intellektuele lewe en die afwesigheid van skole en kerke vir 'n groot deel van die nedersetting het tot gevolg gehad dat ook die Nederlandse spreektaal aangetas is. Saam met die aanwesigheid van vreemdelinge wat gebrekkige Nederlands gepraat het en die dialektiese verskille wat daar onder die eerste koloniste was, lei dit tot die ontstaan van 'n spreektaal wat vir besoekende Hollanders as ‘foutief’ voorkom, maar wat in werklikheid - deur allerlei maatskaplike faktore - slegs 'n versnelde ontwikkeling in die rigting van defleksie was, iets wat kenmerkend van die historiese gang van alle Germaanse tale is. In teenstelling tot die voorafgaande periodes is die tydperk van goewerneur Ryk Tulbagh (1751-1771) gekenmerk deur 'n groter ekonomiese groei, maar dit is eers in die laaste ongeveer twintig jaar van die Kompanjie se bewind aan die Kaap dat die maatskaplike voorspoed 'n sterker kulturele lewe tot gevolg gehad het. In hierdie tyd word Kaapstad, o.m. deur die aanwesigheid van Franse troepe, 'n | |
[pagina 11]
| |
‘Klein Parys’, wat die direkte oorplanting van die swier en verfyning van die Franse ‘Pruiketyd’ na die Kolonie beteken. Die eerste drukpers dateer uit die jaar 1784, en op kulturele gebied vind dié voorspoed sy blywendste neerslag in die Kaaps-Hollandse boustyl wat onder Louis Thibault en Anton Anreith tot sy hoogste bloei gekom het. In dié jare word ook die eerste toneelopvoerings aan die Kaap gehou. Vir die grootste deel van die Kompanjie se bewind was daar van die kant van die burgers geen aktiewe deelname aan die politiek nie. In Kaapstad het hulle deur middel van burgerrade slegs 'n beperkte aandeel aan die sentrale bestuur gehad. Ook in die buitedistrikte was hulle aandeel aan die plaaslike besture van beperkte aard, alhoewel hulle as heemrade en veldwagmeesters tog 'n rol gespeel het. Op militêre gebied moes die burgers hulle eie verdediging bedink en só ontstaan die kommandostelsel waardeur strafekspedisies teen die Boesmans en later die Xhosas gestuur is. Ten spyte van enkele ondernemende en belangstellende goewerneurs wat hul bes gedoen het om die Kolonie te bevorder, was die Kompanjie nie geïnteresseerd daarin om doelbewus en stelselmatig die volksplanting te ontwikkel nie. Die laag besoldigde amptenare het deur hulle onwettige private boerdery en die gevolglike kompetisie en uitbuiting die ekonomiese bestaansmoontlikhede van die burgers verminder, iets wat aan die begin van die agttiende eeu tot die geslaagde verset teen W.A. van der Stel en sy terugroeping as goewerneur aanleiding gee. Die ekonomiese, geestelike en politieke verwaarlosing teen die einde van die Kompanjie se bewind lei in 1779 tot 'n openlike verset teen die wanbestuur van goewerneur Joachim van Plettenberg, iets wat nog verder versterk is deur die groei van demokratiese denkbeelde wat vanuit Nederland ook die Kaap bereik het. In navolging van die Nederlandse politieke verdeling was die koloniste in hierdie jare sterk Patriotgesind, pro-Frans, gesteld op 'n groter seggenskap in die bestuur en vervul met 'n republikeinse ideaal, terwyl die amptenare op hulle beurt weer aan die kant van Willem van Oranje gestaan het en as sodanig nie ongeneë was om die Prinsgesinde Engelse bondgenote in die land toe te laat nie. Toe die Engelse in 1795 die Kaap beset, kom hierdie republikeinse strewe onder die burgers die eerste keer in Suid-Afrika tot uiting in die verset wat die distrikte Swellendam en Graaff-Reinet teen die bewindsoorname toon. | |
II. Britse oorname en die periode van verengelsingTerwyl die demokratiese denkbeelde onder die koloniste tot 'n groter politieke bewuswording en tot ontevredenheid met die Kompanjie se bestuur gelei het, is die bewind aan die Kaap deur Brittanje oorgeneem. Aanvanklik was die oorname slegs tydelik (1795-1803), maar reeds in dié sewe jaar het Engels - wat in daardie stadium 'n heeltemal vreemde taal in die Kaapkolonie was - wyer bekend geword. Met die tweede Britse besetting (vanaf 1806) is die koloniste belowe dat hulle regte en voorregte behou sou word, maar dit was van die begin af die bedoeling van die Britse regeerders om die Kaap nie weer aan Nederland terug te gee nie, veral omdat | |
[pagina 12]
| |
die beheer oor die Kolonie die handel met die Ooste beveilig het en omdat die Kaap buitendien 'n belangrike militêre rol in die stryd met Frankryk kon speel. Die Britse bewindhebbers het van betreklik vroeg duidelike pogings aangewend om die Hollandse taal aan die Kaap te onderdruk en Engels as amptelike en as omgangstaal so gou moontlik ingeburger te kry. In 1811 het goewerneur sir John Cradock 'n stelselmatige verengelsing van die Kolonie by die Britse regering bepleit. In 'n brief aan die rektor van die Latynse skool in Kaapstad (gedateer 8 Desember 1812) vra hy hom ‘to promote and establish the cultivation of the English language to the greatest extent among your pupils of the highest rank, as the foundation upon which they will in their future life best make their way’, aangesien van die jonger mense ‘a perfect knowledge of the English language, as indispensable in the admission to offices’ vereis sal word. Hierdie voorwaarde vir staatsdiensaanstellings tree in 1813 in werking en is streng nagekom, met die gevolg dat daar teen omstreeks 1825 niemand in diens van die regering was wat Engels nie goed geken het nie. Met die koms van die nuwe goewerneur, lord Charles Somerset, in 1814 is die verengelsing nog verder gevoer, aangesien hy opdrag van die Britse minister van kolonies ontvang het om Engels so gou as moontlik tot die enigste amptelike taal in die Kolonie te verhef. Die eerste stap wat Somerset dan ook gedoen het, was om 'n memorandum op te stel in verband met die gebruik van Nederlands en Engels in regeringskantore. Die bevinding was dat Nederlands oorwegend gebruik is in die geregshowe, die munisipale besture en by openbare plegtighede. Dit lei dan tot die Taalproklamasie van 1822 waarin onder meer verklaar is dat ‘the English language be exclusively used in all Judicial Acts and Proceedings, either in the supreme or inferior Courts of this Colony ... and that all official Acts and Documents, of the several public Offices of this Government ... be drawn up and promulgated in the English Language’ vanaf 1 Januarie 1827. | |
1. Die reaksie van die Hollandse kolonisteOor die algemeen was die Hollandse koloniste aanvanklik tevrede met die Britse bestuur van die Kolonie, hoofsaaklik omdat hulle -in teenstelling tot hulle ervaring van die wanbestuur voor 1795 - ekonomies daar beter aan toe was en omdat Somerset 'n sterk politieke standpunt ten opsigte van die Oosgrenskwessie ingeneem het. Tog is dit 'n feit dat hulle nie veel van die Britse regeerders gehou het nie, al het hulle streng godsdienssin en gevoel vir orde verhinder dat hulle openlik in opstand gekom het. Vandaar dan ook dat daar geen verset teen Somerset se taalproklamasie was nie. Buitendien het die bepalinge van die proklamasie, behalwe waar dit die regspleging aanbetref, nie veel probleme laat ontstaan nie. Die koloniste het egter die uitsluiting van Nederlands uit alle offisiële dokumente baie sterk gevoel, al was hulle aanraking met die amptelike instellings te gering om hulle tot openlike verset en daadkragtige reaksie uit te lok. Geleidelik het die verengelsing egter wel ingetree, omdat die Hollandse koloniste duidelik onder die indruk was van die noodsaaklikheid van 'n goeie kennis van Engels vir hulle en hulle kinders. Aanvanklik het hierdie invloed hom veral in | |
[pagina 13]
| |
Kaapstad geopenbaar, waar die jeug hoofsaaklik in die staatsdiens betrek is en waar Engels gou op die gebied van die handel die voortou geneem het. Daarby was Kaapstad, as belangrikste administratiewe, juridiese en kulturele sentrum, veel vatbaarder vir die Engelse invloed as die platteland, en die ouers was dan ook in die besonder daarop gesteld dat hulle kinders 'n behoorlike kennis van Engels moes hê, aangesien dit ook die maatstaf van ontwikkeling en beskawing geword het. Só sterk was hierdie gevoel dat veral die jonger geslagte van die oueres begin praat het as die ‘ignorant Dutch people’ en hulle op politieke en kulturele gebied heeltemal vereenselwig het met die Britse ideale en lojaliteite, met uitsluiting van die Nederlandse kulturele erfenis en met totale verontagsaming van hulle eie identiteit en nasionaliteit. Tog was hierdie oorgawe nie absoluut nie. Heelparty Kaapse koloniste het nog omstreeks 1850 die waarde van die Hollandse taal en kultuur besef en hulle eie nasionale selfstandigheid binne die huislike kring gehandhaaf, al was daar by hulle nie die insig dat hulle as 'n aparte volksgroep in hierdie land moet bestaan nie. Daarby het Engels - as gevolg van geografiese redes, die konserwatief-behoudende uitkyk op die lewe en die sterk invloed van die Bybel en die Kerk - nooit op die platteland dieselfde invloed gehad nie. Vandaar dat die sterkste reaksie teen die verengelsingsbeleid van die platteland afkomstig was en ook in die uitsluitlik Engelstalige parlement heftige verset uitgelok het. | |
2. Die verengelsing in die skoolGa naar voetnoot+Om die kennis van Engels verder te bevorder, het Cradock reeds daartoe oorgegaan om dertien sogenaamde Kosterskole in die lewe te roep. Hierdie skole was egter 'n totale mislukking omdat die ouers voorkeur gegee het aan private skole waar hulle kinders ook in die Nederlandse taal onderrig is. As lord Charles Somerset in 1814 goewerneur aan die Kaap word, stig hy vyf en twintig vry Engelse skole waarin onderwysers uit Engeland en Skotland die kinders deur medium Engels onderrig het, met uitsluiting van enige studie in Nederlands. Ook hierdie skole was nie suksesvol nie en die ouers het voorkeur gegee aan private skole waar Hollands gedoseer is en waarin onderwysers en leerlinge mekaar behoorlik kon verstaan. Somerset sien die haglike situasie reeds in 1834 in, maar dit duur tot 1839 voordat 'n nuwe onderwysstelsel in werking tree. Hiervolgens is Hollands wel erken as vak in die laer skole, maar slegs met die bedoeling om die mediumprobleem van die leerlinge op te los - nie om die taal self in meer besonderhede te bestudeer nie. Dit | |
[pagina 14]
| |
spreek vanself dat hierdie toestand van sake die mense nie tevrede gestel het nie. Die gevoel het by hulle ontstaan dat die staat die Nederlandse taal doelbewus afskeep ten einde Engels te bevorder en die koloniste van hulle Hollandse kulturele erfenis te vervreem. In elk geval was die regering doof vir die klagtes en besware van die mense. In sommige skole is kinders verbied om Hollands te praat, en bordjies met ‘It is forbidden to speak Dutch’ is aangebring aan leerlinge wat hierdie reël oortree het. Ná 1840 het die verengelsing van die Kolonie vinniger gevorder en met die skoolwet van 1865 is die gebruik van Hollands as voertaal in die skole beëindig en het Engels die enigste medium van onderwys geword. Om enige skoolopleiding in hulle eie land te verkry, moes die Afrikaanssprekende kinders dus teen wil en dank van 'n vreemde taal gebruik maak. | |
3. Die verengelsing in die KerkMet Somerset se bewindsaanvaarding in 1814 was daar 'n groot tekort aan predikante in die Kolonie. Om die probleem op te los, het hy 'n paar predikante uit Skotland benoem, aangesien hy geen leraars uit Nederland kon kry om die vakatures te vul nie. Die Skotse predikante het almal Hollands behoorlik geken en hulle dienste in Nederlands gelei, al het Somerset reeds in dié vroeë stadium ingesien dat hierdie mense van groot waarde vir sy verengelsingsbeleid kon wees. Alhoewel die verengelsing van die staatsdiens die koloniste ongelukkig laat voel het, was dit nie vir hulle genoeg rede om in verset te kom nie. Wat die mense egter in die besonder gegrief en ontstel het, was die deursigtige plan van die goewerneur om Hollands ook in die Nederduitse Gereformeerde Kerk uit te skakel en met Engels te vervang. Reeds die benoeming van die Skotse leraars was vir hulle 'n onaangename saak, en in 1824 het die Sinode, onder druk van Somerset, 'n besluit aangeneem dat dienste sowel in Engels as in Nederlands gehou kon word. Somerset se opvolgers het hierdie geleidelike verengelsing van die Kerk voortgesit deur die invoeringvan meer Skotse predikante. Op die Sinode-sitting van 1834, waar hulle in die meerderheid was, is aan elke predikant die vryheid gegee om in Nederlands of Engels te preek. Verskeie gemeentes het ernstig beswaar gemaak teen die verdere benoeming van Skotse leraars, veral in die lig van die feit dat daar seuns van koloniste beskikbaar was wat in Nederland as predikante opgelei is, maar wat geen gemeentelike aanstellings kon kry nie. Deur die toenemende verengelsing het heelparty Afrikaners teen omstreeks 1855 onverskillig teenoor hulle eie waardes en identiteit gestaan, maar die Kerk was - deur die besonder hoë aansien wat dit in die maatskappy gehad het - nog vir hulle van besondere belang. Om daardie rede was die Kerk in hierdie jare die belangrikste vesting van die Hollandse taal en nasionaliteit in die land, al is daar reeds dienste in Engels gehou. Op aandrang van veral die verengelste Afrikaners het die kerkraad in 1865 'n voorstel aanvaar dat twee dienste, een in Engels en een in Nederlands, in die Groote Kerk in Kaapstad gehou moet word. Hierdie besluit het ook die weg voorberei vir Engelse preke op die plattelandse dorpe, al was die verengelsing van die Kerk altyd beperk en al kon Engels op godsdienstige gebied Nederlands nooit volledig verdring nie. | |
[pagina 15]
| |
III. Maatskaplik-politieke toestande tydens die Britse bewind, die Groot Trek en die totstandkoming van die RepubliekeDie oorname deur Brittanje het 'n periode van ekonomiese voorspoed vir die Kolonie tot gevolg gehad, terwyl die standaard van die onderwys en die algemene peil in die leefwyse verhoog is. Kultureel en polities het die koms van die Britte egter 'n periode van verdrukking ingelei: kultureel deur die ignorering van die Hollandse koloniste se taal en die stelselmatige verengelsing; polities deurdat die mate van seggenskap wat die burgers deur middel van heemrade en veldwagmeesters in plaaslike aangeleenthede gehad het, van hulle ontneem is en deurdat hulle eers betreklik laat - met die totstandkoming van 'n Wetgewende Raad in 1834 en die instelling van verteenwoordigende bestuur in 1854 - weer 'n aandeel aan die bewind gekry het, al was die konstitusionele ontwikkeling van die Kaapkolonie deurentyd in die hande van die Engelse. Ten spyte van hierdie kulturele en politieke verdrukking oor 'n periode van verskeie dekades het die koloniste nooit tot 'n daadkragtige verset gekom nie, enersyds omdat hulle geïndoktrineer was om aan Brittanje as wêreldmoondheid en aan Engels as wêreldtaal die eerste plek te gee, andersyds omdat die afwesigheid van 'n sterk nasionale bewussyn 'n doelbewuster optrede verhinder het. Tog was die koms van die Britte die prikkel wat die koloniste daartoe gelei het om geleidelik van hulle eie identiteit bewus te word en teen die onderdrukking te reageer. Die inherente verskil in maatskaplike, kulturele en politieke opvattinge en denkwyses tussen die Afrikaners en die Engelse het gelei tot heelwat onaangename gebeurtenisse, soos die Swarte Ommegang (1812), die rebellie van Slagtersnek (1815), die herhaalde botsings met die Xhosas en die reeks Grensoorloë waardeur die Imperiale regering telkens sy magteloosheid geopenbaar het om die probleme van die koloniste aan die oosgrens doeltreffend op te los, die wyse waarop die slawe in 1834 vrygestel is en die gevoelige finansiële verliese wat dit vir die koloniste meegebring het. Daarby was die Britse sendelinge se filantropiese en liberale idees, wat voortgevloei het uit die Franse filosoof Jean Jacques Rousseau se opvattinge oor die ‘edele barbaar’, die aanleiding vir 'n botsing met die Afrikaners, wie se ervaring met en kennis van die Xhosas uit die Grensoorloë gestam het. Al hierdie verskille tussen die twee blanke groepe kulmineer in die Groot Trek (1836), wat wesentlik 'n massaverhuising van die oosgrensbewoners na die wildernis noord en oos van die Kaapkolonie beteken. Die Groot Trek bring mee dat die Afrikaners, wat reeds aan die oosgrens 'n besondere geestelike en liggaamlike weerbaarheid opgebou het, in hulle leefwyse nog verder op 'n pioniersbestaan aangewys is, veral in die lig van die feit dat die karige geriewe wat wel aan die oosgrens vir skoolopleiding en kulturele bedry-
| |
[pagina 16]
| |
wighede bestaan het, nou afwesig was en deurdat hul voortbestaan op 'n daaglikse militêre gereedheidsgrondslag berus het. Uiteindelik lei hierdie politieke verset in die vorm van 'n massa-immigrasie tot die stigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek ten noorde van die Vaalrivier (1852) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat ten noorde van die Oranjerivier (1854), terwyl die meeste Afrikaners van die Republiek Natalia hulle ná die Britse anneksasie van 1842 in die Vrystaat of Transvaal vestig. Die massaverhuising lei dus tot 'n onafhanklike noorde en 'n koloniale suide, tot 'n groter geografiese skeiding tussen Afrikaans- en Engelssprekendes en tot die eerste werklike verwesenliking van die Afrikaner se republikeinse ideaal. Maar terselfdertyd was daar nog heelparty Afrikaners in die Kaapkolonie oor wat deur die gebeure rondom die Groot Trek en deur die simpatie wat hulle met hulle volksgenote gevoel het, uit hul politieke daadloosheid wakker geskud is. Aanvanklik was hulle slegs betrokke by 'n beweging om die Oostelike en Westelike Provinsies van mekaar te skei. In die sewentigerjare van die vorige eeu lei dit egter tot 'n nasionale ontwaking en die ontdekking van 'n eie identiteit, iets wat beïnvloed is deur hulle meegevoel met die Vrystaters en die bedenklike rol van Brittanje ten tyde van die diamantkwessie. Hierdie kulturele en nasionale ontwaking is ten nouste verbonde aan die stryd wat in die sewentigerjare begin om Afrikaans sy regmatige plek te gee. |
|