Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1
(1984)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 33]
| |
Hoofstuk 4
| |
I. Afrikaans ter wille van spot en illustrasieIn ooreenstemming met die ingesteldheid van die eerste skrywers was die vroegste geskrifte in Afrikaans 'n poging om met die gebruikers van die taal te spot. Terwyl die optrede van die Prinsgesinde Kaapse regering en sy rol by die eerste oorname deur die Engelse in die gedig ‘Historie van de Kaap zeer krachtig’ en in verse van H.D. Campagne gehekel word, spot die anonieme skrywer van die ‘Lied ter eere
| |
[pagina 34]
| |
van de Swellendamsche en diverse andere helden bij de bloedige actie aan Muisenburg in dato 7 Aug. 1795’ met die powere optrede van die binnelandse burgerkommando's en die rol van die Patriotte tydens die verset. Met hierdie skimplied op die wysie van die Hollandse volkslied ‘Al is ons prinsje nog zoo klein’ kry ons ook die begin van die Afrikaanse letterkunde, want alhoewel die taalvorm nog 'n sterk verafrikaanste Nederlands vertoon, was dit die bedoeling om Afrikaans in die mond van die verteller te lê en die Swellendammers en ‘andere helden’ kleinerend na te boots en met hulle ongeletterdheid en agterlikheid die spot te dryf. As Afrikaans vir die tweede keer gebruik word, kom dit voor in De vruchten mijner werkzaamheden, gedurende mijne reize, over de Kaap de Goede Hoop, naar Java, en terug over St. Helena, naar de Nederlanden, 'n reisverslag wat marten douwe(s) teenstra (1795-1864) in briefvorm aan 'n vriend rig. In die sesde brief verskyn 'n samespraak waarin hy vir lesers in Nederland by wyse van 'n stukkie dialoog tussen 'n Caledonse boer, sy vrou en sy slaaf illustreer hoe die taal aan die Kaap van suiwer Nederlands afwyk. Veel later, in 1880, hou hendrik stiemens (1822-1894) in Nederland 'n lesing onder die titel ‘Oude tijden in Natal en Transvaal’ waarin hy vir sy Hollandse gehoor 'n grappige voorstelling van die Boere se taal gee. In albei gevalle word binne 'n kort bestek soveel as moontlik van die taaleienaardighede geïllustreer en is dit uit die herinnering opgeteken, sodat die juistheid van die weergawe betwyfel kan word. Met die uitsondering van die ‘Lied’, Teenstra se samespraak en 'n paar ander verspreide voorbeelde is daar 'n direkte verband tussen die gebruik van geskrewe Afrikaans en die opkoms van die Kaaps-Hollandse joernalistiek in die negentiende eeu. Wanneer die eerste koerante in die ware sin van die woord in die twintigerjare gepubliseer word, vind Afrikaans ook van tyd tot tyd 'n plek daarin. In die jare 1826 tot 1828 verskyn daar in De Kaapsche Courant, Afrikaansche Berigter (of De Verzamelaar) nege Afrikaanse briewe in 'n poging om die plattelanders deur middel van 'n nabootsing van hulle taal grapperig voor te stel, almal waarskynlik geskryf deur J. Suasso de Lima. In 1830 word C.E. Boniface redakteur van De Zuid-Afrikaan, en benewens 'n kort briefie uit ‘Bedelaarsdorp’ deur die Hottentot Adam Slokker aan sy oom Kievedo, skryf hy nog dieselfde jaar 'n samespraak waarin die Hottentot Hendrik Kok met 'n Nederlandse ondervraer Afrikaans praat en waarin daar die spot gedryf word met dr. Philip en die filantropie van ander Britse sendelinge. Ook in sy hekeldrama De nieuwe ridderorde of De temperantisten (1832) praat die Hottentotkarakters Manus Kalfachter en Grietje Drilbouten suiwer Hottentot-Afrikaans met mekaar, iets waarmee hy die laglus opwek en waardeur sy hekeling met die filantropiese sendelinge skerper tref. In 1844, toe Boniface reeds in Natal gevestig was, skryf hy 'n skets in De Natalier waarin hy twee boere wat mekaar | |
[pagina 35]
| |
op die mark ontmoet, Afrikaans met mekaar laat praat, al staan dit agter by die geestige dialoog in sy ander stukke. Die weergawe van die taal van die Hottentotte, meer spesifiek die deureenhaspeling van Afrikaans en Engels, kom ook voor in andrew geddes bain (1797-1864) se Kaatje Kekkelbek, or Life among the Hottentots wat op 5 November 1838 in Grahamstad opgevoer is, maar wat eers in 1846 in die Kaapstadse blad Sam Sly's African Journal verskyn het. In hierdie lied, wat gebaseer is op ‘The three tailors of Tooley Street’ en aansluit by die tradisie van die ‘comic song’ van die Engelse ‘taverns’, word daar weer eens die spot gedryf met die filantropie van die Britse sendelinge deurdat Kaatje nie juis deur hulle idealistiese opheffingspogings verbeter word nie. Dit is opvallend dat Afrikaans, wat juis in hierdie jare as ‘Hotnotstaal’ bekend begin staan het, in die vroeë geskrifte gebruik is vir die weergawe van die taal van die gekleurdes met die doel om 'n sekere geestigheid te bereik of 'n lokale kleur aan 'n werk te gee. Slegs in enkele gevalle, hoofsaaklik om dokumentêre oorwegings, is Afrikaans in die mond van blankes gelê. | |
II. L.H. Meurant en die eerste bloei van die Afrikaanse persliteratuurDie eerste persoon wat 'n ernstiger gebruik van Afrikaans maak, is Louis henri meurant (1812-1893). Reeds in die jare 1844-1846 en weer van 1849-1851 skryf hy verskeie briewe en samesprake oor aktuele sake onder die skuilname Platje Wysneus en Elsie Beuzemstok. In Desember 1860 - in die tyd toe daar sterk sprake was van 'n
| |
[pagina 36]
| |
skeiding tussen die Oostelike en Westelike Provinsie - skryf hy die eerste twee dele van sy Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelyke en Westelyke Provincie. Die groot gewildheid en verhoogde afset wat hierdie publikasie tot gevolg gehad het, lei tot die oprigting van Het Cradocksche Nieuwsblad, waarin vier verdere dele van die Zamenspraak in 1861 verskyn. In dieselfde jaar bundel Meurant al ses stukke saam sodat dit, ten spyte van die Nederlandse titel, as die eerste boek in Afrikaans beskou kan word. In teenstelling tot die vroeëre dialoë, waarin die skrywers die komiese situasies deur die optrede van Hottentotkarakters bereik, gebruik Meurant die samespraak om sy lesers tot 'n bepaalde politieke standpunt oor te haal in 'n Afrikaans wat getoets is aan die spraakwerklikheid van die Afrikanerboer. Alhoewel Neef Klaas en Oom Jan weinig meer as spreekbuise vir bepaalde standpunte is en alhoewel die dialoog in die laaste vier samesprake grotendeels in verslae ontaard, het die stukke 'n groot bekendheid en gewildheid geniet. In Het Cradocksche Nieuwsblad van 26 Januarie 1861 verskyn van Meurant ook ‘Het nieuwe afscheidings lied genaamd Theunis Ezelsvley’ op die wysie en na die voorbeeld van Kaatje Kekkelbek. In dieselfde koerant sit Meurant in 1861 die gedagtegang van die Zamenspraak voort by wyse van 'n veertiental briewe wat literêr van groter waarde is en waarin hy die karakters en situasies fyn waarneem en boeiend voorstel. Tot so laat as 1890 verskyn daar gereeld, onder meer in Het Volksblad en De Zuid-Afrikaan, briewe en samesprake van Meurant oor politieke aangeleenthede en ‘verslae’ oor die parlementêre debatte. Met hierdie publikasies ontketen hy 'n hele reaksie in die Hollandse pers deurdat hy sowel in die gebruik van die samespraak- en die briefvorm as in die aanwending van die Afrikaanse taal nagevolg word. Die skuilnaam Klaas Waarzegger raak algemeen bekend onder Afrikaners en word deur verskeie pesone in verskillende blaaie gebruik. Meurant se stukke bereik so 'n populariteit dat ook ander koerante daarvan oordruk. Uit dieselfde jaar as wat Meurant se Zamenspraak in boekvorm verskyn, dateer ook 'n aankondiging in Het Volksblad (gepubliseer op 2 November 1861) van 'n bundel godsdienstige gedigte ‘in echt boeren-Kaapsch’ en in ‘rijm en de versificatie geheel naar den Kaapschen tongval ingerigt’. Baie jare lank is hierna as die ‘vermiste digbundel’ verwys; in die veertigerjare het die teorie ontstaan dat die aankondiging betrekking het op die (nooit ontdekte) eerste uitgawe van daniël christiaan esterhuyse (1815-1897) se Dertig liederen waarvan daar herdrukke in 1890, 1910 en 1935 verskyn het. Indien hierdie teorie korrek is, het die gedigte egter met Afrikaans baie min gemeen, word die ‘afwykende’ woorde hoofsaaklik beperk tot die rymposisie en is die poësie self van weinig literêre belang. Die verhoogde joernalistieke bedrywigheid wat deur die Meurant-impuls ver- | |
[pagina 37]
| |
oorsaak is, vind, naas in die stukke in Het Cradocksche Nieuwsblad, veral sy neerslag in Het Volksblad, De Zuid-Afrikaan, De Vriend, De Tijd en De Transvaal Argus. In Het Volksblad van 1870-1871 skryf samuel zwaartman (pseudoniem van henry william alexander cooper, 1842-1893) sy geestige Boerenbrieven uit Fraserburg na aanleiding van persone, toestande en voorvalle op die dorp in 'n tipiese Boeretaal. Ook sy ernstiger en lerende Kaapsche schetsen, waarin hy informasie gee oor die sentrale en plaaslike regeringstelsel, koerante, howe, e.d.m. word in hierdie koerant gepubliseer. | |
III. Digterlike aanhef: die verse van PulvermacherIn dieselfde blad verskyn daar in die sewentigerjare ook enkele gedigte in Afrikaans: ‘Klaas Gezwint zijn paert’ (1870) deur F.W. Reitz jr., ‘Gert Beyers’ (1872) deur F.W. Reitz sr., ‘Die steveltjes van Sannie’ (1873), ‘Daantjie Gous’ (1874) en ‘Jan Jurgens’ (1875), almal van F.W. Reitz jr. en ‘Dopper Joris en zijn zijltje’ (1873) en ‘Ou Abel Rasmus’ (1879) van pulvermacher, pseudoniem van adam gabriel de smidt (1836-1910). 'n Hele paar van dié verse is bewerkings van Skotse voorbeelde, alhoewel hulle in die proses deur en deur 'n verafrikaansing ondergaan het. Wat F.W. Reitz jr. betref, is hierdie verse slegs die aanhef van iemand wat ook later meer sal skryf en as bloemleser werksaam sal wees. Tot dusver wil dit egter voorkom of ‘Dopper Joris’ en ‘Ou Abel Rasmus’ - wat deur J. du P. Scholtz uit Het Volksblad opgediep is - nie na Skotse of Duitse voorbeelde verwerk is nie en as twee van die heel eerste eie Afrikaanse verse beskou moet word. Die naam Pulvermacher word alleen nog aangetref by die prosabydrae ‘Uit het Dagboek van Pulverma-
| |
[pagina 38]
| |
cher’ in Het Volksblad van 3 April 1866, terwyl 'n verdere gedig ‘Wat die predikante zeg, en wat Titus Tokaan daar van denk’ en 'n aantal prosastukkies onder sy eie naam deur Pieter W. Grobbelaar in 'n Melt Brink-manuskripboek ontdek en in Standpunte gepubliseer is. Uit ‘Dopper Joris’ en ‘Ou Abel Rasmus’ kan 'n mens aflei dat hier iemand met 'n fyn sintuig vir die klank van 'n vers - meer spesifiek vir ritmiese versnellings en verrassende ryme - aan die woord is. ‘Dopper Joris en zijn zijltje’ is die geestige en taamlik onbeholpe liefdesverklaring van 'n plat boer wat sy meisie wil beïndruk met al sy besittings, selfs al is dit dan in die meeste gevalle nie veel meer as ontleende luister nie en al is die dinge nie almal ewe kosbaar nie. Ten spyte van 'n sekere progressie deur die katalogisering in die reeksstruktuur word die geestigheid juis bereik deur die wyse waarop hierdie eenvoudige maar opregte Dopper die verskillende dinge ekstaties opnoem en deurmekaar saamvoeg en deur die beeldende wyse waarop die uitnodiging - in aansluiting by die tradisie van die oorredingslied - tot die geliefde gerig word. In ‘Ou Abel Rasmus’ gee Pulvermacher die geestige geskiedenis van 'n vrou wat deur 'n skerpioen gebyt word en tevergeefs op haar man 'n beroep doen om deur die aanwending van ou boererate haar van die hemel weg te hou. Afgesien van die swart humor in die twee slotstrofes word die geestigheid veral bereik deur die vrou se krampagtige maar vrugtelose opnoem van alle moontlike en onmoontlike medisynes. Hierdie twee gedigte is nie alleen, saam met dié van Reitz, 'n ‘prefigurasie’ van die Eerste Beweging nie; in hulle eie reg is die verse van Pulvermacher 'n digterlike aanhef wat 'n hoë inset vir die Afrikaanse poësie as sodanig beteken en wat eers weer met Eugène N. Marais se ‘Winternag’ in 1905 sy gelyke sal vind. Die aanwesigheid van twee verse van hierdie gehalte in 'n tyd toe Afrikaans nog haas uitsluitlik gebruik is om die spot mee te dryf of om - ter wille van politieke oorwegings - die breë lae van die publiek te bereik, bly steeds 'n merkwaardige verskynsel.
|
|