D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 442]
| |
Hoofstuk 13
| |
[pagina 443]
| |
verder verswak en het sy herkenningsvermoë later só versleg dat hy nie altyd sy kinders kon eien nie. Toe hy nog betreklik helder was, het hy sy waardering sukkelend uitgespreek vir wat Hannes van der Merwe vir hom tydens die reis gedoen het en na hom verwys as ‘my spoorsnyer in Malawi’. In 'n stadium het hy teenoor Marié, wat 'n baie godsdienstige persoon is, gesê: ‘Ek glo nou soos jy’ en wroegings gehad oor sy eie geloofslewe, in so 'n mate dat hy haar en sy dogter Heila gevra het om vir hom te bid. Aangesien hy nie kon terugpraat nie en kommunikasie met hom baie moeilik was, het Marié - wat hom daagliks besoek en gevoed het en alles gedoen het om dit vir hom gerieflik te maak - gereeld vir hom gedigte voorgelees en 'n eksemplaar van Groot verseboek langs sy bed neergesit indien die steeds talryke besoekers ook iets vir hom wou lees. Aan die begin kon hy nog sê watter digter hy wou hoor; later kon dit ook nie meer nie. Hy het baie gehou van die verse van Boerneef en Leipoldt en kon ‘Op my ou ramkietjie’ nie genoeg kere aanhoor nie. Ook die voorlees van sy eie gedigte was vir hom aangenaam, want dit was - soos Marié ná sy dood in 'n onderhoud in Die BurgerGa naar eind2 sou sê - ‘asof hy hom net wou vereenselwig met sy bekendste verse’. Dikwels kon hy gedigte soos ‘Sproeireën’ met 'n onhelder artikulasie nateem. Aan die einde was dit nog ál kommunikasie met hom wat oor was. Ook ná die beroerte het die eerbewyse en bekronings nie opgehou nie, al kon hy dit nie meer persoonlik in ontvangs neem nie en was hy teen die einde waarskynlik selfs nie meer heeltemal bewus daarvan nie. In November 1981 ken die Universiteit van Pretoria 'n eredoktoraat aan hom toe, in Oktober 1983 ontvang hy die erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in 1984 word hy bekroon met die Dekorasie vir Voortreflike Diens van die Staatspresident, en in 1985 word hy vereer met die Gustav Prellerprys vir Literêre Kritiek. Teen die middel van September 1985 het Opperman se gesondheid vinnig begin versleg as gevolg van blaasmoeilikheid, longontsteking, nierprobleme en die eerste tekens van geelsug, wat daarop gedui het dat ook die lewer besig was om in te gee. Op Sondagoggend, 22 September 1985, teen 4.45 vm. is hy in Geluksoord oorlede, vier jaar en drie maande ná die ernstige beroerteaanval. By sy dood het die Staatspresident, mnr. P.W. Botha, gesê dat die leemte wat Opperman se heengaan laat, gevul sal bly met die erflating waarmee hy die nageslag ryker gemaak het. ‘Met dié wete wil ek namens almal wat lief is vir Afrikaans - hierdie mooi, jong taal van Afrika - my meegevoel uitspreek teenoor sy groot familie en vriendekring.’ Letterkundiges soos Ernst van Heerden, A.P. Grové, T.T. Cloete, F.I.J. van Rensburg, Roy Pheiffer, Lina Spies en J.C. Kannemeyer het hulde aan Opperman gebringGa naar eind3 en vir meer as een was sy eie woorde uit ‘Gebed om die gebeente’ op homself van toepassing: | |
[pagina 444]
| |
Hy moes drie dode sterf, maar hy wat drie maal sterf
die sterf nie meer; ...
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!Ga naar eind4
In 'n hoofartikel op 23 September 1985 huldig Die Burger hom as digter, dramaturg, kritikus, literêre teoretikus en opvoedkundige. ‘Hulle wat bevoorreg was om hom as mens te ken, kan vandag getuig van sy onwrikbare eerlikheid, sy fyn menslike humorsin, diepe mensekennis en sy drang om meer te weet van elke onderwerp wat onder sy aandag gekom het. Ons is dankbaar en trots daarop dat so 'n man onder ons geleef het.’ Onder blyke van groot belangstelling is Opperman op Donderdag, 26 September 1985 om 10.00 vm. uit die Stellenbosse Moederkerk begrawe.Ga naar eind5 In die Kerk het ds. Derick Conradie die skriflesing uit Psalm 8 en Hebreërs 2 gedoen en kort en sober oor die oorledene gepraat, terwyl Gesange 47:1-3 en 15:1-4 onderskeidelik voor en na die boodskap en gebed gesing is. As draers by die graf het opgetree sy broer Koos, sy skoonseuns Dirk Laurie en Dale Lippstreu, sy neef Gerard Loubser, Johan Spies as kollega van die Nasionale Pers en Meyer de Villiers as kollega van die Universiteit van Stellenbosch. Na die reën van die vorige paar dae was dit 'n stralende, skoon dag. |