D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 407]
| |
Hoofstuk 12
| |
[pagina 408]
| |
en soetgoed sou gesit het nie, was roomys en nageregte nou vir hom lekker en het sy smaak vir soutigheid afgeneem. Hy het 'n studie van die effekte van alkohol op die menslike liggaam en gees gemaak en tot die gevolgtrekking gekom dat die ontspannende en prikkelende funksies wat daaraan toegeskryf word, 'n illusie is en dat dit in alle opsigte 'n destruktiewe werking het. Waar hy vroeër van publisiteit weggeskram het, was hy nou toegankliker vir die pers en het hy meer geredelik onderhoude toegestaan en openliker oor sy eie werk en sy posisie as digter gepraat. In teenstelling tot sy vroeëre onwilligheid om dieperliggende sake te bespreek, was dit nou vir hom makliker om in gesprekke te sê wat hy oor godsdienstige en persoonlike sake dink. Teenoor sy dogter Heila het hy byvoorbeeld gesê dat dit vir die mens makliker is om op die vaste basis van 'n geloofsisteem te lewe indien hy dit kan doen. En tog het hy nie, soos 'n mens dikwels by 'n persoon na 'n ernstige siekte kry, tot 'n religieuse inkeer in die tradisionele sin van die woord gekom nie. Vir hom was sy herstel toe te skryf aan die toediening van die regte middels en ‘Christus’ was ‘korrekte chemikalieë’, soos hy later in ‘Die ballade van spek en ham’ in Komas uit 'n bamboesstok sou skryf. Hy was trouens afkerig van mense wat sy ‘geval’ as ‘embleem’ of ‘preek’ wou gebruik en het met ongeduld gereageer op persone wat 'n ‘goedkoop’ les aan sy siekte wou vasknoop. Op 'n keer het hy aan Koos Human gesê dat die mens die trotsste en verwaandste wese denkbaar is. Terwyl alle ander dinge op aarde 'n absolute dood sterf, het die mens die waan dat hy onsterflik is en dat daar derhalwe 'n god moet bestaan om aan hom daardie onsterflikheid te gee. Dit was vir hom die toppunt van die mens se hubris: dat hy 'n god moet postuleer om aan hom sy besondere posisie in die skepping te gee. Maar terselfdertyd was hy iemand wat waarde geheg het aan uiterlike vorme. By openbare plegtighede waar hy bekronings ontvang het of sy werk bekend gestel is, het hy daarop aangedring dat een van die aanwesiges 'n tafelgebed doen. Soos die spanning tussen impuls en verantwoordelikheid het hierdie tweespalt tussen 'n afkeer van die metafisiese en 'n aandring op uiterlike vormgodsdiens ook ná die siekte deel van Opperman gebly. Aan die begin van 1977 het hy met nuwe geesdrif en dryfkrag na sy werk teruggekeer. Op 4 Februarie 1977 woon hy die sewe en sestigste verjaardagviering van Uys Krige op Onrusrivier by waartydens die huldigingsbundel Oggendlied (met sy geleentheidskwatryn oor Krige se ‘periodieke maagpyn’) aan die jubilaris oorhandig word. Met die heropening van die Universiteit van Stellenbosch op 14 Februarie is Opperman terug in die tuig en gee hy sy eerste lesing vir die derdejaarstudente. Op 'n departementele vergadering bedank hy sy kollegas vir hulle belangstelling tydens sy siekte en vir die wekker wat hulle hom geskenk en wat hom ‘teruggewek het uit die dood’! In 'n onderhoud met Die Matie, wat op 25 Februarie gepubliseer is, spreek hy hom geesdriftig uit oor sy doseerwerk. Die groot klasse maak persoonlike kontak in die voorgraad- | |
[pagina 409]
| |
se jare moeilik, maar in die Letterkundige Laboratorium het jong skrywers die geleentheid ‘om 'n selfontdekkingsproses te ondergaan, kritiek op hul werk aan te hoor, en hulle werk te verdedig.’ Vir die Honneursstudente gee hy sekere opdragte en probeer hy ‘eerder regulerend as leidend optree’, terwyl hy as studieleier vir M.A.- en D.Litt.-studente ‘'n mede-ontdekker op 'n avontuur in die letterkunde word’. Die hedendaagse jong mens met sy verset en rewolusie is vir hom deel van die mens se ‘permanente evolusieproses’, al bestaan die gevaar dat ‘'n idee 'n obsessie’ kan word wat tot ‘fanatiese propaganda...sonder...gebalanseerde perspektief’ lei. Die jong digter moet ‘oop bly vir sy wêreld en maatskappy, sodat hy kan verken en blootlê’, maar hy moet versigtig wees vir ‘'n oorbeheptheid wat kan oorgaan in obsessie’. In die Afrikaanse situasie is dit gevaarlik as 'n skrywer te sterk betrokke raak by politieke vraagstukke, aangesien dit tot ‘eensydigheid’ kan lei en die leser tot 'n ‘versadigingspunt’ kan bring. Saam met hierdie hernieude belangstelling in doseerwerk en in studente het Opperman ook begin voel dat hy baie dinge kan weggee wat hy in die loop van sy lewe bymekaargemaak het. Terwyl hy voor sy siekte spaarsaam was en geld nie onnodig sou uitgegee het nie, het hy nou by herhaling groot geskenke vir sy vrou en kinders gekoop, veel meer mededeelsaam teenoor vriende geword en baie aan homself bestee. In hierdie fase, waarin hy 'n groter nederigheid en menslikheid ontwikkel en - soos hy dit in ‘Ou taai koen’ in Komas uit 'n bamboesstok stel - tot die besef kom dat hy geen ‘vaste eiendom’ besit en dat alles net ‘tydelik...aan hom...geleen’ is, skenk hy die waardevolle versameling van sy manuskripte en dokumente aan die Universiteit van Stellenbosch. Die onmiddellike aanleiding vir die skenking was 'n besoek aan die einde van 1976 van Alba Bouwer en Rykie van Reenen aan Opperman. Hulle was besig met die samestelling van 'n Kosbare erfenis, 'n uitgawe van M.E.R. se briewe, en hulle wou ook graag van die skryfster se briewe aan Opperman in die bundel opneem. Terwyl hy en Marié aan die soek was daarna, het die besef by hom posgevat dat sy uitgebreide materiaal beter gesistematiseer moes word en dat die dokumente op 'n veilige plek toeganklik vir navorsers behoort te wees. Die dokumente wat Opperman aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk het, bestaan uit die oorspronklike manuskripte van sy eie werk in al die stadiums van hulle ontstaan; manuskripte van ander skrywers en digters; korrespondensie met Nederlandse en Suid-Afrikaanse letterkundiges en skrywers; persoonlike briewe en dokumente; korrespondensie en manuskripte wat verband hou met Die Huisgenoot en Standpunte; dagboeke, koerantuitknipsels, programme, katalogusse en ander personalia; en verskeie geskrifte van sy vader en familiebriewe uit die tydperk van die Anglo-Boereoorlog. Onder die dokumente is verder ongepubliseerde kritiese artikels en geleentheidstukke, keurdersverslae vir uitgewersfirmas, puntelyste van studente en getuigskrifte, en toonsettings en vertalings van Opperman se poësie. Volgens die skenkingsakte | |
[pagina 410]
| |
word die materiaal aan die Universiteit gegee ‘op voorwaarde dat ek en my erfgename die draers sal wees van die kopiereg op ongepubliseerde geskrifte van my skepping, en dat, in die algemeen, stukke in die versameling met voortreflike oordeel en omsigtigheid vir studie en navorsing beskikbaar gestel sal word.’ Die skenking en die ondertekening van die skenkingsakte vind op 3 Junie 1977 in die Langenhoven-Studentesentrum plaas. By dié geleentheid sê die rektor, prof. Jannie de Villiers, onder meer dat dit 'n geskenk is wat nie in geld bereken kan word nie. Die Universiteit van Stellenbosch het reeds waardevolle versamelings van N.P. van Wyk en W.E.G. Louw ontvang, en die Universiteit is nou, na die skenking van Opperman, bevoorreg om die dokumente van drie van ons prominentste skrywers te besit. In sy kort toespraak by die oorhandiging sê Opperman dat sy solder te vol kissies geword het en dat sy studeerkamer tot oorlopens toe vol brieflêers en houers van eie en ander se manuskripte was. Ter wille van lewensruimte moes hy 'n plan maak met hierdie afvalprodukte van die skrywersbedryf, al bly die essensiële in die literatuurondersoek natuurlik die kunswerk. Die dokumente is bedreig, só het hy dit gestel, ‘deur swamme, stof en papiervarkies’. Hy het voortgegaan: Toe bly daar vir my die keuse tussen die swart plastieksakke van die Munisipaliteit van Stellenbosch of die kliniese bergkluise van die Universiteit van Stellenbosch. Ek het op laasgenoemde besluit. Dit sou die aansien van 'n gul gebaar kan hê - ‘gesture as language’. Vir die geskiedenis van ons beskawing is afvalhope van die uiterste belang. Uit hulle het ons gekrap 'n Steentydperk, 'n Babilon, 'n Troje, 'n Pompeji. Op veel minder en kleiner skaal en sonder enige pretensie hoop ek dat studente 'n stukkie literatuurgeskiedenis sal kan haal uit dié krabbelinge en inskripsies van hierdie potskerwe.Ga naar eind1 Hoewel Opperman tydens hierdie kort toesprakie nog stadig en afgemete gepraat het, was dit vir die aanwesiges duidelik dat daar met sy verstand, sy insig en sy verrassende historiese verbandlegging niks geskort het nie. In teenstelling tot die kortsigtigheid van baie ander literatore wat by die ontsluiting van manuskripmateriaal in die ‘gevare’ van 'n genetiese benadering vasgekyk het, kon hy met die skenking bydra tot 'n nuwe impetus in die Afrikaanse literatuurnavorsing: om naas die teks die ontstaan en voorstadia van die kunswerk te ondersoek. Ook uit sy eie ‘afvalprodukte’ ontvang hy in hierdie tyd 'n geskenk. Tydens die werk aan die eerste band van sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur het John Kannemeyer gevind dat heelparty kritiese stukke en geleentheidstoesprake van Opperman in verskillende koerante en tydskrifte verspreid lê en moeilik toeganklik was. Reeds vóór 1976 het hy die aanvoorwerk vir 'n bloemlesing uit dié stukke gedoen, maar van publikasie afgesien toe Opperman ernstig siek in die hospitaal gelê het. Na die merkwaardige herstel het hy die werk hervat en | |
[pagina 411]
| |
Verspreide opstelle saamgestel. Die eerste afdeling van dié bundel bestaan uit resensies wat Opperman in die laat-dertiger- en veertigerjare in Die Natalse Afrikaner, Die Huisgenoot, Ons Eie Boek en Critisch Bulletin gepubliseer het, terwyl die tweede afdeling geleentheidswerk bevat wat op versoek geskryf is. Dit wissel van 'n radiorede by die dood van 'n vriend, 'n keurdersverslag oor 'n digbundel en 'n toespraak by die aftrede van 'n kollega tot motiewe-studies oor die letterkunde, 'n inleiding tot die Afrikaanse verhaalkuns en 'n motivering by 'n bekroning. Die derde afdeling bestaan uit Opperman se voordrag by die aanvaarding van die CNA-prys vir Dolosse en sy opstel oor ‘Die uitdyende heelal’ vir die Uniefeesbylae van Die Burger in 1960. Die bundel word in Junie 1977 deur Human & Rousseau gepubliseer en tydens 'n noenmaal in De Kelder op Stellenbosch aan Opperman oorhandig. Later dieselfde jaar ontvang Opperman 'n toekenning uit 'n onverwagte oord. In September en Oktober 1977 is regter N.S. Guimares, 'n Brasiliaanse regter wat geïnteresseerd is in die Afrikaanse letterkunde, op besoek in Suid-Afrika en oorhandig hy aan Ernst van Heerden en Opperman diplomas namens 'n Brasiliaanse skrywersunie, die União Brasileira de Escritores do Amazonas, uit erkentlikheid vir hulle bydraes tot die Afrikaanse letterkunde. Die verering van Opperman vind op 4 Oktober 1977 op Stellenbosch plaas. Soos uit sy toespraak tydens die oorhandiging van sy dokumente blyk sy sterk historiese bewussyn weer uit die antwoord wat hy by dié geleentheid tot regter Guimares rig. Terselfdertyd betrek hy in sy kort rede implisiet eie gedigte soos ‘Vigiti magna’ uit Negester oor Ninevé en die Dias-gedeelte uit Joernaal van Jorik: Your Honour, As far back as the seventeenth century the boats of the Dutch East Indian Company used to edge along your Brazilian coasts, before heading for the breakers of the Cape, this Cape which the Portuguese initially called Cabo Tormentoso. Here, they believed, the wild, white-clouded spirit, Adamastor, jealously guarded the grandeur and splendour of its interior. Twee verdere eerbewyse val Opperman in die volgende jaar te beurt. In 1978 word 'n gedenkteken ter ere van Gideon Scheepers op Graaff-Reinet onthul, naby die plek waar hy volgens oorlewering gefussileer is. Die woorde ‘hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!’ uit ‘Gebed om die gebeente’ word met verlof van die digter as inskripsie op die gedenkteken gebruik. Op 9 Augustus 1978 ontvang Opperman die erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring tydens 'n byeenkoms in die Jannasch-saal van die Konserwatorium vir Musiek op Stellenbosch. By dié geleentheid lewer hy 'n voordrag oor die ‘Letterkun- | |
[pagina 412]
| |
dige Laboratorium - 20 jaar’ wat kort daarna in Tydskrif vir Letterkunde, XVI:3, Augustus 1978 gepubliseer word - 'n lesing waarin hy verslag doen van sy ‘rentmeesterskap’ as dosent in die digkunde. Teen die einde van 1978 moes Opperman egter ook 'n goeie vriend en vertroueling aan die dood afstaan. Op 12 Oktober sterf Schalk Pienaar na 'n jarelange lyding aan keelkanker. Terwyl Pienaar in 1976 deur Die Burger gevra is om 'n hoofartikel oor Opperman se dood te skryf, verskyn daar nou van Opperman in Rapport die geleentheidsgedig ‘By die dood van 'n joernalis’ wat hy later in Komas uit 'n bamboesstok opneem. Kort voor sy dood het Pienaar gevra dat Opperman die inleiding moes skryf tot die uitgawe van sy politieke herinneringe waarmee hy tot kort voor sy dood besig was. Opperman wysig Pienaar se titel Brokkies uit groot tye na die meer effektiewe Getuie van groot tye en skryf 'n inleiding waarin hy Pienaar se bydrae as joernalis en politieke kommentator kernagtig saamvat en ook oor hulle persoonlike verhouding uitwei. In vergelyking met die meeste stukke kort voor sy siekte is sy prosa in hierdie inleiding veel beter versorg wat woordgebruik en opbou van die argument betref. As iemand nog getwyfel het aan Opperman se herstel, was hierdie stuk en die gedig oor Pienaar die sekerste bewys dat hy sy kragte volkome herwin het. | |
IIKort ná sy siekte het Opperman reeds weer begin om manuskripte vir Human & Rousseau te keur en saam met Koos Human en Leon Rousseau oor beleidsake van die uitgewery te beraadslaag. As die Nasionale Boekhandel in 1977 met 'n gunstige finansiële aanbod vir oorname kom, besluit die direksie om die firma te verkoop en word Human & Rousseau deel van dié groep maatskappye. Voortaan sou dié uitgewery dus onder dieselfde direksie as dié van Tafelberg sake doen, al sou hulle steeds as firmas onafhanklik van mekaar funksioneer en in wedywering met mekaar verkeer. Met die oorname het Koos Human en Leon Rousseau mede-hoofbestuurders van Human & Rousseau geword en het die bestaande direkteure van die firma hulle posisies verloor. Heini Jaekel, besturende direkteur van die Nasionale Boekhandel, het egter laat blyk dat hy in geen omstandighede die indruk wou wek dat Opperman nou as 't ware ‘afgedank’ word nie en dat Human & Rousseau moet voortgaan om hom as keurder te gebruik. Daarom word Opperman dan ook in 1977 benoem tot literêre adviseur van Human & Rousseau en verskyn sy naam in dié hoedanigheid op die briefhoofde van dié firma. In 'n gesprek met Jaekel ongeveer twee jaar later het Opperman laat blyk dat hy binne die nuwe opset van die twee firmas as deel van die Nasionale Boekhandel-groep ook gewillig sou wees om manuskripte vir Tafelberg te keur. In | |
[pagina 413]
| |
Augustus 1979 word hy dan ook aangestel as Tafelberg se letterkundige adviseur. In 'n brief van 20 Augustus 1979 aan Danie van Niekerk bedank Opperman hom vir die eer en sien hy die aanstelling as ‘die vervulling van 'n jeugideaal wat...(hy) amper nie durf droom het nie - 'n Afrikaanse Eliot, Day-Lewis.’ Vir sy gebruik is spesiale skryfblokke met die woorde ‘Verslag deur prof. D.J. Opperman’ bo-aan vir hom gedruk. In die tydperk van sy herstel het Opperman baie manuskripte vir die twee uitgewerye gelees en oor baie sake rakende projekte en beleid advies gegee. As Etienne Leroux se roman Magersfontein, o Magersfontein! in 1977 verbied word, lewer Opperman in die daaropvolgende Hooggeregshofsaak getuienis namens Human & Rousseau en die skrywer. Leroux se roman bring volgens hom 'n nuwe dimensie tot die historiese roman in die Afrikaanse letterkunde deurdat die skrywer teenoor die heroïese in die verlede die skynheilige en dekadente van die hede hekel. Wanneer een van sy laboriete, E.W.S. Hammond, se digbundel Hamburgers en hotdogs in 1981 met 'n verbod bedreig word, is Opperman ook bereid om die bundel te verdedig en stel hy 'n verslag vir gebruik deur Tafelberg-uitgewers saam. Met die verbod op Magersfontein, o Magersfontein! is hy, soos in die geval van Kennis van die aand, baie ontsteld, omdat die ernstige literatuur in Afrikaans met so 'n optrede bedreig word. In gesprekke met Merwe Scholtz en andere wat met publikasiebeheer te make het, spreek hy hom dan ook sterk uit oor die aangeleentheid. Met baie van die manuskripte wat Opperman ná sy lewersiekte keur, is hy nie besonder ingenome nie. Daniel Hugo se werk is vir hom struktureel en beeldend te ná aan dié van sy eie en die verse word vir hom ontsier deur ‘die dreun of die meganiese kreun wat die versbeweging en die versklank vasvang’. Vir die ontwikkeling van dié digter is dit vir Opperman noodsaaklik dat Hugo ‘die klankdreun moet verbreek, die versreël laat wissel en pols (en) dat hy ander losser vorms moet beproef’. Etienne van Heerden se verse is vir hom weinig meer as 'n ‘papierwêreld’ en die gedigte van F.W. de Jongh vind hy in 'n eerste manuskrip nog onryp. Henk Rall se Proefskrif keur hy af vir publikasie. Dit is 'n manuskrip wat getuig van 'n ‘gefnuikte digterskap’. Dit is vir hom ‘gevange in die bedryf van periodiek-nog-'n-ou-bundeltjie-soos-al-dieander-ewig-belowende-ou-jong-mannetjies-se-bundels-om-te-bewys-dat-'n- mens-darem-nog-lewe-bundeltjies’. Teenoor so 'n ‘geploeter’ wat niks meer as ‘amateurpoësie’ oplewer nie, beveel hy aan dat die digter die ‘gevoelige jong verssel só laat ontwikkel volgens eie potensie dat die meganiese dit nie tot rympie laat verloop nie.’ Die digter moet dus sorg dat elke gedig 'n ‘eie struktuur en samehang’ het deur aandag te gee aan elke woord, woordposisie, rym, enjambement, versbeweging en dergelike meer. Teenoor dié werk wat vir hom minder bevredigend is, keur hy bundels soos Ina Rousseau se Kwiksilwersirkel en Heuningsteen, Johan van Wyk se Bome gaan dood om jou en Stephan Bouwer se Portrette, private dele en kanttekeninge | |
[pagina 414]
| |
goed vir publikasie. As André P. Brink Klipkus van Marlise Joubert vir Human & Rousseau afkeur, verskyn die roman by Tafelberg op 'n geesdriftige aanbeveling van Opperman. Twee bundels waarmee hy besonder ingenome was, maar waarin hy weens sy siekte nie voor publikasie insae gehad het nie, is Die swart kombuis van Sheila Cussons en Marlene van Niekerk se Sprokkelster. Op Marlene van Niekerk as briljante student van die Universiteit van Stellenbosch en as een van sy laboriete was hy besonder trots en hy het haar beskou as een van die sterkste talente wat uit sy digkunde-klasse voortgekom het. As hy uit Stuttgart - waarheen sy vir verdere studie vertrek het - 'n brief van haar ontvang, is hy só meegevoer dat hy vir haar al digtende advies gee. In 'n brief van 11 November 1979 skryf hy dat hy vir haar 'n spesiale Letterkundige Laboratorium stig. Hy sê: Dig oor jou probleme, byvoorbeeld. Miskien is ek te pastoraal geskool
en daarom dat ek
in hierdie metropool twee swane
(reeds beloon met sewemaal versterkte koolhidrate)
smiddags op die parkdam voer,
en daarom dat ek
die enkele duiwe wat dié stad bewoon
(gekoring met hormoontablette teen die teel)
én na die suidelike skuif van trekvoëls kyk,
en daarom dat ek
gratis musiekkonserte op die straat
deur dwarsfluit en klein viool bywoon,
en daeliks na die katedrale stryk,
siek
by die sneller tik van daardie metronoom
waar ek nie vir die infraklanke
na sy neuriënde metropool
my eie bladmusiek kan toon.
En hy voeg by: ‘Ek stuur ook my probeerslae - as aanmoediging! Verbeter hieraan, en dis joune!’ Reeds voor sy siekte het Opperman teenoor Koos Human die gedagte uitgespreek dat daar 'n nuwe literatuurgeskiedenis van die Afrikaanse letterkunde behoort te kom en is John Kannemeyer gevra om die taak te onderneem. Opperman het dele van die manuskrip voor voltooiing gelees. As die eerste band van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur in 1978 verskyn, neem Opperman deel aan 'n televisie-uitsending waarin die boek bekend gestel word en op 2 Augustus 1979 lewer hy in die Here XVII in Kaapstad die commendatio by die | |
[pagina 415]
| |
toekenning van die Recht Malanprys aan dié werk. In sy rede maak Opperman van boukundige beelde gebruik en illustreer hy die houding van die kunstenaar en die literêre geskiedskrywer in twee kwatryne teenoor mekaar. Vir die kunstenaar sal die ‘etikettering’ van die historikus in laaste instansie onbevredigend wees, al is die literatuurgeskiedenis vir hom ‘as hulpmiddel vir die student...'n noodsaaklike euwel wat geduld moet word’.Ga naar eind2 Oor drie digbundels wat tydens sy herstelperiode deur sy hande gaan, is Opperman geesdriftig. In die loop van 1980 ontvang hy van Tafelberg 'n manuskrip gedigte onder die titel Van heinde en ver van die letterkundige kritikus T.T. Cloete. Hoewel hy in die loop van jare afwisselend waardering vir en bedenkinge oor Cloete se literêr-wetenskaplike aktiwiteit gehad het, is dié manuskrip vir hom 'n volkome verrassing, omdat hy - soos trouens die hele Afrikaanse literêre wêreld - salig onbewus daarvan was dat Cloete in die stilligheid besig was om gedigte te skryf. In 'n geesdriftige verslag skryf hy dan ook dat die publikasie van dié bundel - wat later in 1981 as Angelliera verskyn, 'n titel wat Opperman aan die hand doen - die letterkundige nuus van die jaar gaan wees. ‘'n Deursoute akademikus,’ skryf hy, openbaar hom onverwags op betreklik gevorderde leeftyd as volbloed digter. En dan is hy ook nie 'n stamelaar van los versies nie, maar 'n digter met 'n eie persoonlikheid wat een van die beste debuutbundels in Afrikaans lewer. As die Ingrid Jonker-prys vroeg in 1981 tydens die Afrikaanse Skrywersgilde se beraad in Gordonsbaai aan Cloete oorhandig word, lewer Opperman die commendatio. In gesprekke kom hy by herhaling terug op Cloete se verse en beskou hy die bundel as een van die merkwaardigste manuskripte wat hy in sy loopbaan gehanteer het.Ga naar eind3 In die loop van 1980 stuur Annesu de Vos, in daardie stadium 'n Standerd VIII-leerling aan die Hoërskool Linden in Johannesburg - van haar verse na Tafelberg wat die gedagte gehad het om gedigte van 'n aantal jong skrywers in 'n derde Stiebeuel uit te gee. As Opperman haar manuskrip ter insae kry, is hy baie geïmponeer. Hy beveel aan dat die gedigte in 'n aparte bundel moet verskyn en dat Danie van Niekerk 'n persoonlike ontmoeting vir hom met die digteres op Stellenbosch moet reël. Die ontmoeting vind in Julie 1980 plaas en Annesu de Vos bly tydens haar besoek van twee dae by Opperman aan huis. Drie en twintig van die gedigte het Opperman sonder meer goedgekeur vir publikasie, maar gesê dat daar tien was waaraan sy kon verbeter en waaraan sy - hoofsaaklik in die nag! - op Stellenbosch moes werk. Van die gedigte wat | |
[pagina 416]
| |
volgens hom gewysig moes word, het ‘die geletterde spinnekop’ die mees ingrypende veranderinge ondergaan en is die reël ‘met drade platinet’ regstreeks deur Opperman aan die hand gedoen. Die eerste twee strofes van ‘pligsbesoek aan die ouetehuis’ was aanvanklik 'n poging tot 'n liefdesvers, maar op aanbeveling van Opperman voeg sy die oorspronklik aparte ‘ek sien die oumense’ as derde strofe en korrektief by. Sommige van die gedigte het hy heeltemal verwerp, die indeling in vier afdelings voorgestel en die bundeltitel Gebed van 'n groen perske aan die hand gedoen. Tydens haar besoek het Opperman vir Annesu de Vos saamgeneem na die Letterkundige Laboratorium om van haar gedigte voor te lees en oor haar werkmetode te praat. Sy was baie beïndruk met die kreatiewe appèl wat hy op haar gedoen het en sy het gehou van sy humorsin en die wyse waarop hy persoonlik met haar kontak wou maak. Ná die verskyning van Gebed van 'n groen perske herbevestig hy in 'n brief van 31 Januarie 1981 sy waardering vir die bundel. ‘Ewe avontuurlustig,’ skryf hy, ‘het ek saam met jou gereis: picketing and pocketing places and people.’ Hy sluit af: ‘In jou ontwikkelende digterskap (en so iets is nooit voltooi nie) sal jy vind dat jy jou eie Bybel aan die skryf is.’ As sy in 1981 die beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde bywoon, besoek sy vir Opperman op Franskraal. By haar aankoms was hy besig om saad te plant vir 'n heining en het hy haar aangemoedig om haar vingers diep in die grond te druk sodat sy die aarde in haar hande kan voel. Veel later in die dag het hy na nuwe gedigte van haar gekyk en gesê hy kan sien sy kan wel skryf; as dít nie die geval was nie, het hy met 'n guitige laggie bygevoeg, ‘then I would have dropped you’. Wanneer die Eugène Marais-prys aan haar toegeken word, ontvang sy 'n kaartjie van Opperman op 2 Mei 1981. Hy wens haar geluk met die bekroning en voeg by: ‘Mag jy in die toekoms nog groot vastelande van die gees aflê.’ Een van die laaste manuskripte wat Opperman beoordeel en 'n daadwerklike aandeel aan gehad het, was Otters in bronslaai van Antjie Krog, 'n digteres wie se bundels hy van die begin af onder oë gehad en wat ook in 1975 as gasstudent sy Letterkundige Laboratorium en sy Honneursklasse bygewoon het.Ga naar eind4 In die loop van 1979 het sy 'n drama oor die geskiedenis van die Voortrekkervrou Susanna Smit vir publikasie voorgelê, maar dit is deur Fred le Roux afgekeur op grond van 'n gebrek aan toneelmatigheid. As Opperman dit ter insae kry, is sy kommentaar dat dit eintlik geskikte boustof vir 'n dramatiese alleenspraak sou wees. Teen die einde van 1980 stuur Antjie Krog 'n bundel gedigte vir Human & Rousseau wat aanmerklik verskil van Otters in bronslaai; baie gedigte is later uit die finale bundel weggelaat, terwyl die oorspronklike manuskrip met ‘Kunsgalery’ open en die siklus ‘Die leeu en die roos’ in daardie stadium nog nie bestaan het nie. In 'n brief van 24 November 1980 lewer Opperman kommentaar op elke afsonderlike gedig en ken hy aan elkeen 'n punt toe uit tien. Gedigte waarvan hy baie hou, is ‘Kunsgalery’ wat vir hom ‘ontstellend en | |
[pagina 417]
| |
aangrypend’ is, ‘Hoe en waarmee oorleef mens dit?’ waarin die gegewe sterk georden is, ‘Familieresep?’ wat hy ‘keurig’ vind en ‘Die dag gee hom oor aan sy droefheid’ waarin die triestigheid treffend verwoord word. Baie van die gedigte is vir hom egter minder bevredigend en hy voel dat sy verder daaraan moet werk, 'n titel moet vind en 'n indeling vir die geheel moet kry. Verder beveel hy aan dat die Susanna Smit-gegewe by die bundel aansluit en dat sy 'n gebed daarvan moet maak. As Antjie Krog beswaar maak en sê: ‘Nee, ek kan nie bid nie,’ beveel Opperman die dagboekvorm aan. Met Opperman se kommentaar en die ‘opdrag’ van 'n dagboek oor Susanna Smit het Krog aan die werk gespring en 'n rukkie later 'n gewysigde manuskrip ingestuur. Opperman laat weet haar daarop dat sy Kaapstad toe moet vlieg, 'n paar dae op Stellenbosch aan die bundel moet kom werk en haar tikmasjien moet saambring. By haar aankoms in April 1981 het hy enkele riglyne voorgestel, aan die hand gedoen dat sy die bundel op grond van reëls uit 'n dansliedjie in Kleuterverseboek moet rubriseer en die Susanna Smit-siklus hegter moet bind. Die geheel was vir hom te lank en hy wou hê dat sy aansienlik daaraan moes sny. Aan die begin van hulle gesprek oor die siklus het hy gevra: ‘Wat is vir jou die belangrikste, wat is die primêre gegewe wat jy wil beklemtoon?’ Krog het geantwoord: ‘Die ouderdomsverskil tussen Erasmus Smit en Susanna.’ Opperman se antwoord was: ‘Goed, plaas dit dan eerste. Wat is verder vir jou van belang? Gaan nou so voort en sit alles wat jy wil sê, in die volgorde van belangrikheid.’ Op dié wyse het Krog deur die nag tot die volgende oggend gewerk. As die dag begin breek, val alles vir haar meteens in 'n patroon. Tydens die ontbyt vra hy aan haar om alles hardop te lees. Met 'n opmerking oor die rymwoorde waarvan hy nie hou nie, gaan hy slaap. Na nog 'n ruk se werk raak ook Krog na 'n vermoeiende en uitputtende nag aan die slaap. As sy wakker word, vind sy dat sy hoegenaamd nie kan konsentreer nie en dat Opperman se aanwesigheid en skeppende oormag haar geweldig hinder. As sy alleen wil gaan stap, dring hy aan om haar te vergesel en praat hy aanhoudend, iets wat haar nog verder in die war bring. Teen die aand se kant kom sy egter sover om verder te werk, uit te sny en te begin met die oortik. As hy na middagete die volgende dag die voltooide produk oorlees, is sy aanvanklike reaksie dat hy eers wil wag totdat Marié dit ook gelees het, weer eens 'n aanduiding watter hoë waarde hy aan haar oordeel geheg het. Albei se reaksie was uiteindelik dat die gedig nou aangrypend is, maar dat die slot nog nie heeltemal bevredig nie: in die slot moet sy die ‘hele ding’ saambind en elke woord 'n besondere gewig laat dra. Na haar terugkoms op Kroonstad kon sy die slotstrofe voltooi en met die sleutelwoorde ‘kaalvoet’, ‘skryf’, ‘brons’, ‘geskubde’ en ‘Drakensberg’ die essensie van die siklus kernagtig saamvat. Vir Antjie Krog was die hele ervaring in die digbedryf saam met Opperman 'n onvergeetlike ondervinding. Dit het haar, soos sy dit later sou stel, finaal bevry van die ‘koninklike digterskap’ en haar geleer om as digter sluwer te werk te gaan: om alles te lees | |
[pagina 418]
| |
en te ervaar ter wille van die digterskap, om te verwring en te lieg ter wille van 'n beter en effektiewe segging. In die periode van sy herstel en geesdrif vir werk hersien Opperman twee keer die reeks verseboeke en maak hy belangrike toevoegings tot sy bloemlesings. In 1978 verskyn Junior, Senior en Groot verseboek in aansienlik omvangryker uitgawes en tipografies aantrekliker gedaantes. In 1983 - as hy reeds weer ernstig siek is - verskyn die negende uitgawe van Groot verseboek waartoe André P. Brink oorwegend die keuse maak uit bundels wat ná 1980 verskyn het, maar waarin Opperman se finale keuse uit gepubliseerde bundels tot daardie datum nog opgeneem word. Hiervoor het hy weer feitlik die hele gebied van die Afrikaanse poësie deurgewerk. Uit Leipoldt neem hy nou - ná die publikasie van dié digter se Versamelde gedigte - aansienlik meer verse op, terwyl hy selfs 'n betreklik mindere digter soos Abraham Fouché se fraai ‘Wie ken die taal van die blindemol?’ insluit en ook op enkele verdere gedigte van I.D. du Plessis besluit. Ook uit Tristia en Uys Krige is die keuse ruimer, terwyl hy uit die latere bundels van W.E.G. Louw,Ga naar eind5 Elisabeth Eybers, Ernst van Heerden, S.J. Pretorius, S.V. Petersen, Olga Kirsch, Ina Rousseau, Breyten Breytenbach en uit sy eie Komas uit 'n bamboesstok 'n keuse doen. In dieselfde tyd werk hy aan nuwe uitgawes van Kleuter- en Klein verseboek wat - in vergelyking met dié van die vyftigerjare - met 'n veel ruimer keuse en illustrasies van Cora Coetzee einde 1981 verskyn. | |
IIIKort voor sy siekte het Opperman verskillende projekte in gedagte gehad. Hy het ontwerpe gemaak vir poppespele, historiese dramas oor Paul Kruger en J.B.M. Hertzog oorweeg, en geïnteresseerd geraak in Savanarola as hooffiguur vir 'n versdrama. In 'n stadium was hy ook van plan om aantekeninge te skryf oor die agtergrond van sommige van sy eie gedigteGa naar eind6 en het hy dit gerade geag om bronne en manuskripte voorlopig agterweë te hou en nie aan Stoffel Nienaber te verskaf wat 'n fotoboek oor hom as mens en digter wou aanpak nie. Na sy herstel het Opperman egter belangstelling verloor in hierdie projekte, aangesien die problematiek in die meeste van hulle ná sy persoonlike ervaring vir hom irrelevant geword het. Hy wou graag oor sy belewenisse tydens die siekte skryf, maar die vraag was hoe om dit sonder sentimentele uitweidings en selfgesentreerdheid aan te pak. Alhoewel sy poësie veel meer outobiografies was as wat die meeste kommentators op sy werk ooit kon vermoed, het hy altyd 'n pes gehad aan die belydenisse van Dertig wat vir hom reeds vroeg in sy loopbaan niks minder as 'n soort ‘digterlike Oxford-groepery, 'n skaamtelose geestesnaaklopery’Ga naar eind7 was nie. In 'n vroeë stadium het hy dit oorweeg om die hele ervaring in prosa weer te gee en selfs met die oog daarop opsommings | |
[pagina 419]
| |
begin maak. Betreklik gou egter het hy gevoel dat die vorm en regstreekse weergawe van belewenisse hom nie bevredig nie. Terwyl hy aan die soek was na 'n bevredigende oplossing vir hierdie spanning tussen mens en kunstenaar, belydenis en gestaltegewing en ‘reveal’ en ‘conceal’, het hy na baie jare weer teruggedink aan Die reise van Marco Polo waarmee hy reeds op laer skool deur middel van die voorgeskrewe Engelse leesboek in die reeks High Road Readers kennis gemaak het. Skielik, met 'n flitsende insig soos destyds met Jorik, het hy besef dat dié gegewe die perfekte ‘objective correlative’ bied om sy ervaring te verwoord. Marco Polo was, soos hy self, ook die vader van drie dogters en tydens sy lang afwesigheid, terwyl hy in die Ooste op reis was, het die mense van sy geboortestad Venesië gedink hy is dood. Ná sy terugkeer is sy verhale oor die wonderwêreld van die Ooste nie geglo nie en het die Venesiane hom uitgekryt as 'n leuenaar. Met hierdie gegewe, so het Opperman gemeen, kon hy die persoonlike belewenisse in 'n objektiewer gedaante plaas en sodoende die gevaar van belydenis en sentiment vermy. Die gedagte om alles oor die boeg van Marco Polo te gooi, het in Mei 1978 ontstaan en betreklik gou het 'n digterlike ontploffing gevolg. Binne enkele maande het hy eenhonderd en dertig verse geskryf en moes hy dag en nag werk om - soos hy dit in 'n onderhoud gestel het - die ‘skerwe uit die puinsteen’ te haal. Terwyl hy vroeër nooit op Franskraal gewerk het nie, kon hy nou ook groot dele van die bundel in sy huis by die see skryf. Na die voorarbeid van lees, flitsende insig en die daaropvolgende ontploffing moes hy die verse slyp en rangskik, alles opnuut krities bekyk en uiteindelik vyf en tagtig verse vir die finale bundel uitkies. Die werk aan die bundel was terselfdertyd vir Opperman terapeuties, want dit was vir hom die sekerste bewys dat hy die jare van digterlike stagnasie ontgroei het en geestelik en liggaamlik volkome genees was. Die eintlike mirakel was nie vir hom die herstel van die lewersiekte nie, maar die ‘rehabilitasie’ wat finaal met die kunsskepping plaasvind: die heiligheid wat uit die suiwer vakmanskap voortkom. Alhoewel vriende en kollegas vaagweg daarvan bewus was dat Opperman besig was om te skryf, het hy self niks regstreeks daaroor gerep nie, in ooreenstemming met sy ou stelreël dat 'n mens nie oor koek in die oond praat nie. Op 'n keer het hy skertsend gesê as 'n digter oor sy eie werk praat, kan die muse altyd kom en sy koringveld met 'n weerligstraal vernietig! In ernstiger trant het hy dit as sy oortuiging geformuleer dat 'n skrywer deur 'n gepraat oor werk waarmee hy besig is, die spanninge ontlaai en homself op dié wyse uitwoed. Hy moet eerder hierdie dinge vir homself hou en dit in sy kunswerk tot uiting bring. Tog was daar vir mense ná aan Opperman tekens van 'n skeppende aktiwiteit. Die eerste aanduiding wat Koos Human van 'n nuwe bundel gekry het, was toe Opperman hom op Saterdag, 27 Mei 1978, by 'n noenmaal in die Here XVII, waartydens die bundel Skanse teen die tyd aan W.E.G. Louw oorhan- | |
[pagina 420]
| |
dig is, skelmpies 'n stukkie papier met die woorde Komas uit 'n bamboesstok wys en te kenne gee dat dit die titel van 'n nuwe bundel sou wees. Op Donderdagaand, 14 September 1978, was Opperman en Marié saam met Fred en Ria le Roux die gaste van John en Althea Kannemeyer. Ná die ete het Opperman in die sitkamer 'n paar velletjies papier uitgehaal en tot almal se verbasing en vreugde die reeks ‘Grondstowwe by die siklus van seisoene’ voorgelees. Dit was vir Le Roux en Kannemeyer die eerste definitiewe getuienis van 'n nuwe bundel wat op koms was. Opperman het Le Roux sover gekry om ‘Herfs’, die eerste van die vier gedigte, na 'n vlugtige instudering vir die aanwesiges hardop te herhaal. Met sy fyn aanvoeling en diep sonore stem het Le Roux die gedig voortreflik voorgelees en die uitspraak gemaak dat dit die mooiste ‘herrysenisverse’ is wat hy ken. In hierdie stadium was die bundel reeds in 'n gevorderde staat. Toe Human weer by geleentheid op Stellenbosch kom, het Opperman hom die volledig geskrewe titelblad gewys, onder meer met die woorde ‘uitgegee deur Human & Rousseau’ aan die einde. Human was bly dat hy die uitgewer van die nuwe bundel sou wees, maar Opperman - wat van guitigheid oorgeloop het en baie terglustig kon wees - het die vreugde gedemp en gesê dat dit maar 'n voorlopige titelbladsy was; aan Danie van Niekerk het hy dieselfde titelblad met 'n aanduiding van Tafelberg as die uitgewer getoon! Toe Human daarop aanbied om die bundel met die beste beskikbare tipografiese versorging te laat publiseer en van die eerste oplaag 250 eksemplare op handgeskepte papier te laat druk, was Opperman se lakonieke kommentaar: ‘Dit sal ek in elk geval eis’! In die loop van November 1978 het Jetty Degenaar, sekretaresse in die Departement Afrikaans-Nederlands, die manuskrip oorgetik. Opperman het weer die bundel noukeurig nagegaan, enkele verdere gedigte geskryf en die finale afwerking voltooi. Op Vrydag, 2 Februarie 1979, het hy tydens 'n noenmaal in Kaapstad by, die twintigste verjaardag van Human & Rousseau die aanwesiges verras deur die manuskrip van Komas uit 'n bamboesstok aan Koos Human te oorhandig. By die afskeid het Heini Jaekel, besturende direkteur van Nasionale Boekhandel, Opperman van sy groep se beste dienste verseker. Hoewel dit sy voorneme was om die bundel eers later in die jaar te laat verskyn wanneer hy as professor aan die Universiteit van Stellenbosch uittree, het dié woorde vir Opperman op 'n nuwe idee gebring. Op 'n onheilige uur die volgende Saterdagoggend het hy Koos Human gebel met die mededeling dat die boek onmiddellik moet verskyn en dat Willem Jordaan by die vroegste moontlike geleentheid na Stellenbosch moet kom sodat hulle uitvoerig oor die tipografie en bandontwerp kon beraadslaag. Human het besef dat Opperman in sy oorgeesdriftigheid en vreugde oor die nuwe bundel moeilik gekeer sou kon word en dat hy geen keuse het as om dadelik aandag aan die uitgawe te gee nie. Komas uit 'n bamboesstok was dan ook, soos hy dit later sou stel, die enigste digbundel wat na sy wete in 'n wedloop betrokke was! Reeds die volgende week is Human na Kiepersol waar | |
[pagina 421]
| |
Jordaan later op 'n motorfiets en in 'n geel gewaad opgedaag het. Nog veel meer as vroeër was Opperman nou intens geïnteresseerd in die grafiese vormgewing van sy bundel. Hy het die papier en linne vir die luukse-uitgawe uitgesoek en selfs aangedui dat die grein vertikaal - en nie horisontaal soos op die monster nie - moes loop.Ga naar eind8 Daarna het Opperman, soos Human later kon onthou, ‘die basiese grondliggende tema, die beelde wat voortdurend terugkeer, die simbole, die samehang tussen die verse, die samehang tussen vers en werklikheid en dies meer’Ga naar eind9 verduidelik, 'n ‘begeesterde uiteensetting’Ga naar eind10 wat vir albei die aanwesiges 'n hele ‘belewenis’Ga naar eind11 was. Aanvanklik het Opperman eindeloos uitgewei, maar in betreklik abstrakte terme, oor die spore wat telkens in die bundel voorkom: Marco Polo se spore na China, die eerste rit met ‘My pa se eerste perdjie’, die motief van die spoorweë, die vliegreise, die weg na die ‘teruggekeerde Opperman’ en dergelike meer. Die omslag moes vir hom iets van hierdie spore suggereer. Hy het dit vir Jordaan aan die hand gedoen, wat egter net op sy gebruiklike wyse doodstil gesit en sy ‘swyg’ geswyg het, soos Opperman dit in die gedig ‘Ex libris + Ex libris’ sou stel. Die volgende dag kom Jordaan by Human op kantoor. ‘Die ou praat so van spore en kraters, maar sy gesig lyk ná die siekte soos 'n maanlandskap. Ons moet 'n foto van sy gesig as basis vir die spoor-idee gebruik, want as outobiografiese bundel sal die gesig met plooie presies weerspieël wat hy in die gedigte sê.’ Jordaan is weer na Stellenbosch waar hy letterlik 'n dag lank foto's geneem het van Opperman se gesig. Uit die foto's het hy die bevredigendste gekies en met vergroting en intensivering die stofomslag beplan. Van die ander het hy 'n tekening gemaak wat hy op die band van die boek self wou plaas. Vir Opperman sou die twee weergawes egter te oordadig wees en saam het hulle besluit om die tekening te verklein en met die Bontekoe-kwatryn op die titelplaat te laat verskyn.Ga naar eind12 Vir die bandontwerp het Opperman 'n vis aan die hand gedoen wat Jordaan - in aansluiting by ‘Glaukus klim uit die water’ - soos 'n jakopewer geteken het.Ga naar eind13 Vir die titelblad moes Jordaan saam met Opperman na die Departement Geografie aan die Universiteit van Stellenbosch om ou kaarte en titelblaaie te bekyk, al het Opperman versoek dat hy nie die sewentiende-eeuse titelblaaie moes naboots nie maar 'n moderne ekwivalent daarvoor moes vind.Ga naar eind14 Die mannetjie op die titelblad wat met sy vingers 'n obsene teken maak, was Jordaan se idee, maar Opperman was daar baie ingenome mee. Intussen is die setwerk deur die Nasionale Boekdrukkery gedoen en het Opperman begin om die strookproewe na te sien. In die bladsyproefstadium is volledige stelle van die proewe aan die belangrikste koerante en tydskrifte gestuur om aan resensente met die oog op besprekings van die bundel voor te lê. Soos sy gebruik was, is Opperman reeds met die manuskrip na verskillende lesers om hulle oordeel oor sy nuutste werk te hoor. Van die drie het Merwe Scholtz geen kommentaar gelewer nie en net - tot Opperman se verbasing - die manuskrip sonder kommentaar teruggegee, terwyl Fred le Roux in besonder- | |
[pagina 422]
| |
hede die woordkeuse in verskillende gedigte en die struktuur van die geheel met Opperman bespreek het. Meyer de Villiers was beïndruk met die manier waarop Opperman diepsinnige sake op 'n ligte trant aanraak. In die grappies en humor het hy 'n verwantskap met Rabelais bespeur, 'n verbandlegging wat Opperman as 'n besondere insig beskou het en vir hom 'n aanduiding was dat De Villiers die essensie van die bundel snap. Ná die bekendstelling van die ‘Grondstowwe’-siklus voor 'n beperkte vriendekring het Opperman die gedigte ook op 20 Maart 1979 voorgelees by die verskyning van die Stellenbosse Fynproewersgilde se resepteboek So eet ons op Stellenbosch. By dié geleentheid hou hy 'n kort toespraak waarin hy die een en ander oor die gedig ‘Aankoms by Cabo de Boa Esperança’ en die ‘Grondstowwe’-siklus meedeel. Oor die eerste gedig sê hy: Hierdie gedig groei eintlik uit 'n siekte-ervaring. Ek was sewe maande lank in die hospitaal en het aan algehele aftakeling van die gestel gely. Dié ervaring beskryf ek in terme van 'n matroos wat op een van die ou skepe aan skeurbuik ly en verlang na die heerlikhede in die Kompanjiestuin aan die Kaap. Oor die ‘Grondstowwe’-siklus verstrek hy die volgende geestige agtergrondinligting: Ek sou as 'n voortsetting van Jan de Marre, d.i. 'n Nederlandse digter van 1746, die ‘lusthof’ aan die Kaap beskryf het...maar ek het nie rekening gehou met die fyn proewende vroue van Stellenbosch nie. Die verskyning van die bundel is vasgestel vir Vrydag, 8 Junie 1979. In die week voor die verskyning het Opperman onderhoude gevoer met Amanda Botha van Die Transvaler en Jan Breytenbach van Rapport, terwyl 'n aflewering van die ‘Van alle kante’-rubriek in Die Burger van 7 Junie 1979 volledig aan Komas uit 'n bamboesstok gewy word. Dieselfde aand lees Opperman in die Klankpaljas-program oor die Afrikaanse sender van die SAUK van die gedigte uit die bundel voor en vertel hy iets oor die siektegeskiedenis, sy mirakelagtige genesing en hoe hy letterlik soos 'n kind die wêreld moes leer ontdek en van | |
[pagina 423]
| |
nuuts af aan leer loop, praat, lees en skryf. Vir baie van die luisteraars was die program 'n ontroerende ervaring, want Opperman het sy verse met oorgawe voorgedra en ‘Tweede huwelik’, die gedig aan die vrou ‘wat nie vergeet/ het’ nie, met groot eenvoud maar gevoelvol gelees. Uiteindelik het Vrydag, 8 Junie 1979, aangebreek. Human & Rousseau het die Restaurant De Kelder volledig vir die groot aantal gaste van die aand bespreek en die verskillende gange van die spyskaart is aangedui met name uit die bundel: Sop Bamboesstok, Vis Venesië, Springbok Schietfontein en Djinn: 1001 Nagte. Piet Cillié, die seremoniemeester, het Duke Erlank aan die woord gestel om die tafelgebed te doen. In sy gebed het Erlank - wat as gelowige mens bewus was van Opperman se afwending van die metafisiese - onder meer die Opperwese gedank wat, selfs as ons onsself weerbarstig van Hom afwend, die mens nogtans met Sy liefde agtervolg sodat ons uiteindelik na Hom moet terugkeer - 'n formulering wat Opperman later aan sy oud-kollega laat sê het: ‘Dankie, Duke, dat jy dit nie só gesê het dat ek verleë gevoel het nie’! Piet Cillié het met allerlei kwinkslae begin en daarop gesê dat die aanwesiges getuies is van 'n groot literêre gebeurtenis: die verskyning van Opperman se eerste werk na Edms. Bpk. van 1970 en sy eerste digbundel ná sy siekte van 1976 waartydens hy by herhaling as sterwend verklaar is. Aan die einde van sy inleiding het hy vir Koos Human aan die woord gestel wat kortliks die produksiegeskiedenis van die bundel geskets en eksemplaar nommer 1 van die luukseuitgawe aan Opperman oorhandig het. Daarop is Opperman aan die woord gestel. Hy het na Koos Human verwys as ‘die groot Kubla Khan van uitgewers in ons land’ en hom bedank vir 'n boek wat hy ‘tegnies (as) die mooiste en grootste digbundel in Afrikaans beskou’. Verder het hy sy waardering uitgespreek teenoor Heini Jaekel wat by hom die gedagte geplant het om die bundel dadelik te laat verskyn en nie tot sy verjaardag in September te wag nie. Daarna het hy Willem Jordaan bedank wat met hierdie bundel sy hoogtepunt as ontwerper en tipograaf bereik het. Ten slotte het hy sy gedig vir die rektor, ‘Seremonie van die naelstring’, voorgelees en 'n spesiaal vervaardigde koker met die strookproewe oorhandig vir bewaring in die Universiteitsbiblioteek. Jannie de Villiers kon egter weens sy opname in die hospitaal as gevolg van 'n ernstige hartaandoening nie self teenwoordig wees nie. Hy het egter 'n antwoord-gedig op ‘Seremonie van die naelstring’ geskryf wat by dié geleentheid deur sy vrou Geraldine voorgelees is. Opperman was bewus daarvan dat De Villiers nie aanwesig sou kon wees nie en het in 'n laat stadium op die masjienproef twee reëls bygevoeg: Naskrif: Dit spyt my om hierdie koker op te dra
aan u, Meneer die Rektor, in absentia.
Die gedig van die rektor lui as volg: | |
[pagina 424]
| |
Dankwoord van die Rektor 8-6-'79
Waar ons 'n volksboek kry
deur bloot naelstring te sny,
vereer U.S. die Oppermans
met glorie en met glans.
Dank vader Dirk's geen bees,
hul moet plasentas eet soos vlees,
hy kan die vrugte van sy oes
oprol in bamboes
en pynloos skenk aan Jannie.
Met eerbied sal ons Vlooi
die baba oppas, uitstal mooi:
en sorg dat nege rolle sy
ontrafel word en liefde kry.
Waar moet hul pronk?
Medisyne, Teologie, Dieetkunde, Hidroulika?
of Sielkunde, Handel, Geografie, Rhetorica?
Waters - manlik, - moederlik, - piskatoriaal
of Geeste Groot en Geniaal?
Hergebore? Wonderwerk?
Of Reisigers Joernaal?
Een doodlik feit word opgedis:
Met doktorsgraad het U.S. nie misgis,
al is ons Dirk 'n Lasarus.
En as antwoord op Opperman se late byvoeging het die rektor sy gedig ook afgesluit met 'n naskrif: N.S. En nou
vir Dirk (en Marié)
die seremonie:
Ek sny met afstandsbeheer,
moderne tegnologie
wonderlike chirurgie
dank sy die heerGa naar eind15
Ná hierdie oorhandiging het Merwe Scholtz, wat aan die begin van 1979 as opvolger van W.E.G. Louw op Stellenbosch aangestel is, aan die woord gekom om 'n heildronk in te stel. Scholtz het verwys na 'n stuk wat hy in 1976 | |
[pagina 425]
| |
geskryf het toe Opperman ernstig siek was, maar wat hy sorgvuldig na die merkwaardige herstel van sy kollega se nuuskierige oë weggehou het. In die stuk, wat vir publikasie na Opperman se dood bedoel was, staan dit ‘op rekord’ dat Scholtz gesê het: ‘gelukkig was sy werk voltooi’! Alhoewel enkele dinge in Edms Bpk. uitwys na Komas uit 'n bamboesstok, is die nuwe bundel 'n nuwe inset en met die herlewingsproses 'n soort Pilgrim's progress. Hy weet, so het Scholtz voortgegaan, van geen digter in watter taal ook al wat die stilte ingegaan en weer teruggekom het nie. Komas uit 'n bamboesstok is die produk van 'n volkome toegeruste digter wat die lewe weer opnuut sien en waarin hy tegelyk kan ‘patterjot’ en ‘Renaissance’. Met so 'n bundel word, so het hy afgesluit, ‘vir ons jongmense veral in Afrikaans 'n lewe en leefwyse geskep wat dit vir hulle die moeite werd maak om in Afrikaans te leef en te sterf’. Asof die aand nie al vreugdevol genoeg was nie, het D.P. de Villiers, besturende direkteur van die Nasionale Pers, ná die heildronk aangekondig dat Opperman, wat aan die einde van 1979 as professor sou uittree, sou voortgaan met sy onderrig vir die Letterkundige Laboratorium. Die Nasionale Boekhandel willig in om die bedrag van R8 000 jaarliks aan die Universiteit van Stellenbosch te skenk met die versoek dat Opperman in staat gestel word om sy belangrike taak ook ná sy aftrede voort te sit. Met 'n toespeling op ‘Ballade van die groot paartie’ antwoord Opperman daarop met 'n digterlike dankie: Adv. Villiers,
ek voel hier die hand
van generaal Cronjé.
Hy dop my Groot Paarties
met repartees graag om,
hy wou nou seker
vir klein Dirkie
aan die Universiteit
'n los joppie gee.
In elk geval, adv. Villiers,
deur hierdie boodskap waarmee
u uit die bamboesbosse kom,
is ek deur die blydskap
voorlopig stom,
en uit die ruising van bamboesblare
duisend duisend dankies
van Dirkie.
Aan die einde van die aand is eksemplare van Komas uit 'n bamboesstok aan die aanwesiges oorhandig, 'n geskenk wat - in ooreenstemming met die ‘gul ge- | |
[pagina 426]
| |
baar’ en ‘groot weggee’ waaroor hy vroeër reeds gepraat het - afkomstig was van Opperman self, nie van die uitgewers nie. Ná die opwinding en vreugde van die verskyning en amptelike oorhandiging was Opperman uiters nuuskierig oor hoe die resensente op sy bundel sou reageer. Aangesien die belangrikste koerante, weekblaaie en vaktydskrifte bladsyproewe van die bundel ontvang het wat aan van die leidende poësiekritici in die land vir breedvoerige besprekings uitgestuur is, het resensies taamlik gou gevolg. Reeds op 8 Junie 1979, die publikasiedatum van die bundel, verskyn Merwe Scholtz en A.P. Grové se besprekings in Die Burger en Beeld onderskeidelik. In sy resensie verken Scholtz die opeenvolgende rolle in die bundel en staan hy uitvoerig stil by ‘Mirakelspel: Wie 't mossie doodgemaak?’, terwyl Grové in dié vroeë stadium reeds 'n aantal lyne voortreflik deurtrek en telkens met verrassende insigte kom. In Rapport van 10 Junie 1979 gee André P. Brink 'n skerpsinnige en indringende ontleding van die bundel in sy volle rykdom van motiewe. Die bespreking van F.I.J. van Rensburg in Die Transvaler van 9 Junie 1979 met sy verkeerde inligting en foutiewe afleidings was vir Opperman 'n teleurstelling, terwyl die stelling dat ‘'n werklike oordeel oor die bundel as 'n geheel’ as gevolg van die ‘magdom weggesteekte dinge en dingetjies ... eers na 'n lang tyd moontlik sal wees’, geloënstraf word deur die knap insigte, basiese ‘greep’ op die bundel en korrekte waardebepalings van die ander kritici in dié vroeë stadium. In Standpunte, XXXII: 4, Augustus 1979 skryf Ernst Lindenberg 'n deeglike en indringende analise van die bundel as geheel met oral fyn waarnemings van onderdele en 'n uitstekende ontleding van die gedig ‘Egipties’, terwyl T.T. Cloete in sy beskouing in Tydskrif vir Letterkunde, XVII: 4, November 1979 op die ‘koggelstyl en bifokale struktuur’ en die ‘merkwaardige manier van sien’ konsentreer. Met sy voortdurende gevoel van wedywering met Van Wyk Louw het Opperman baie gehou van Cloete se waardering vir ‘Grondstowwe by die siklus van seisoene’ wat ‘in die plek kom staan van Van Wyk Louw se “Vier gebede by jaargetye in die Boland”’ en wat, in vergelyking met die ‘liriese loflied op die dood’ by Louw, 'n besinging is van ‘die grondige aarde, met al sy sintuie beleef’. Uit Stuttgart, waar sy besig was om Filosofie te bestudeer, ontvang Opperman op 29 Oktober 1979 'n brief van sy laboriet Marlene van Niekerk wat by hierdie waardering vir die ‘Grondstowwe’-siklus aansluit. ‘Veral baie,’ skryf sy, ‘het ek gehou van die 4 gedigte vir die resepteboek. Dit voel my al u maak met N.P. wat Marx met Hegel gedoen het! Die seisoene met die maag en nie met die gees verbind nie.’ In die jare wat kom, sou 'n hele aantal kritici soos Lina Spies, D.J. Hugo en Henning Snyman verdere studies aan bepaalde gedigte uit of aspekte van Komas uit 'n bamboesstok wy, terwyl verdere besprekings van die bundel deur Johann Johl, Fanie Olivier, Hilda Grobler en Hein Viljoen volg. Nog voor die einde van 1979 verskyn twee omvangryker beskouinge: J.C. Kannemeyer se Kroniek van klip en ster waarin 'n uitvoerige bespreking van die bundel opge- | |
[pagina 427]
| |
neem word en A.P. Grové se Blokboek waarin hy sekere aspekte van sy resensie verder uitwerk, op die agtergrond van talle gedigte wys en orals met fyn insigte en analises kom. Ook die reaksie van die publiek was oorweldigend. Naas die 250 luukseeksemplare het die eerste druk bestaan uit 1982 eksemplare wat binne tien dae uitverkoop was. In Julie 1979 het die tweede druk, hierdie keer in klein formaat, gevolg wat tot Junie 1981 drie keer herdruk is met 'n gesamentlike oplaag van 8580 - die mees fenomenale afset wat 'n Afrikaanse digbundel al ooit in so 'n kort tydjie beleef het. Maar ook van indiwiduele persone ontvang hy geskenke. Van die Stellenbosse Fynproewersgilde kry hy doekpoedings, van 'n dokter in die Vrystaat 'n blanko tjek vir 'n hele paar eksemplare van die bundel, 'n aanbod van iemand wat sy jaggeweer wil koop en reaksies en advies van dominees, dokters en dieetkundiges. Na aanleiding van die gedig ‘Nuwe klere’ waarin daar 'n verwysing na hom is, gee die Stellenbosse skoenmaker Lubbe vir Opperman 'n paar koedoeleerskoene en die brosjure The story of the velskoen deur sy vader, Willem P. Lubbe. Van onbekendes ontvang hy biltong, beskuit en briewe, ‘vreemde mense’, soos hy dit later in 'n onderhoud sou stel, ‘wat op dié manier wil dankie sê omdat hy kon doen waarvoor hul eie hande te dom was’. En van sy ‘beminde suster’ Liz ontvang hy op 29 September 1979 - sy verjaardag - 'n brief waarin sy persoonlik op Komas uit 'n bamboesstok reageer. Die gesig op die stofomslag laat haar aan 'n Namib-landskap dink, 'n ‘ruwe, vanalles-aards-ontdane landskap - geen uiterlike vertoon - weggebeitel tot die essensie, die basiese...'n Landskap gekerf deur tyd en storms en waar net die kern behoue gebly het. Dit vertel 'n verhaal van lyding - nie net liggaamlik nie, maar ook 'n geestelike stryd en foltering, maar uiteindelike oorwinning - van vasberadenheid, stoere boeremoed - van “ou vegters...wat deur die eeue veg” - en van 'n reis in 'n vreemde, ver land.’ En sy sluit af: ‘Ek dank God wat jou gespaar het om terug te kom en hierdie grootse werk voort te bring - eers in 'n digterlike ontplowwing, waaruit jy die verse gelig en geslyp het tot 'n worp vol lewe en helderheid en tot Sy verheerliking.’ In hierdie ekstatiese vreugde wat Opperman beleef en die medemenslikheid wat hy na die verskyning van Komas uit 'n bamboesstok openbaar, kom die enkele verskille van vroeër met ander mense ook tot 'n einde. Reeds tydens die Komas-ete is Piet Cillié só ingenome dat hy vir Opperman vra om die gedig oor hom netjies oor te skryf, al is die gelykstelling tussen hom en generaal Cronjé, wat tydens die Anglo-Boereoorlog met al sy manskappe moes oorgee, vir hom 'n ‘lae hou’! Van Hannes van der Merwe, met wie daar ná die noenmaal tydens sy sestigste verjaardag 'n krapperigheid ontstaan het, ontvang Opperman na aanleiding van ‘Tafelberg op die tafel’ 'n pragfoto van die Kaapse wolkekrabbers met 'n eie gedig daarby: | |
[pagina 428]
| |
Opperman, Superman
Dirk der Duisende
Hier is (ter herinnering)
aan my vriend
Kaapstad se neuse
nasinale reuse
'n m-o-n-u-m-e-n-t vir die vent
Terwyl nog orent!
Van die medikus, prof. Andries Brink, wat verontwaardig kon gevoel het oor sekere reëls in die gedig ‘Tygerberg’, ontvang Opperman op 18 Junie 1979 'n afskrif van die mediese verslag wat indertyd in 1976 aan die huisdokter gestuur is. ‘'n Mens wonder,’ voeg hy by, ‘of daar in u vele reise nie ook 'n rol is vir die woord “dankie” nie. Dusver het dit ontbreek.’ In die mildheid wat Opperman nou ervaar, kom dan ook die versoening met hierdie ‘hoë priester van aparte pyn’, soos hy dit in ‘Geneeshere van Egipte’ stel. Op 20 Augustus 1979 stuur Opperman aan Brink 'n eksemplaar van Komas uit 'n bamboesstok met die volgende inskripsie: Ná ons albei se spontane wegbêre van lansette
én die wedersydse kliniese selfondersoek,
gee ek nou uit dankbaarheid én etikette
volgens Vader Hippokrates, aan u my bamboesboek.
En ewe koelant reageer Brink deur die gebied van sy kollega te betree. Op 27 Augustus 1979 stuur hy saam met sy dogter Annalise, wat in dié jaar Honneursstudent by Opperman is, die volgende versie: 'n Boodskap met my klein koerier:
‘Ek het u bamboesboek ontvang.
Vir my en Tygerberg 'n groot plesier.
Ons gee dus terug indien u verlang.’
Met hoogagting en waardering,
Andries Brink.
| |
IVSaam met die vreugde tydens sy ‘herrysenis’ het Opperman heelwat eerbewyse ontvang, geleentheidstoesprake gehou en veel openliker as vroeër oor homself en sy werk gepraat. Sommige van sy vriende het gevoel dat daar nou 'n element van selfgesentreerdheid in hom aanwesig was, dat hy openlik homself | |
[pagina 429]
| |
adverteer en selfs dat daar 'n persoonlikheidsverandering by hom gekom het. Iemand soos Fred le Roux het dit egter anders gesien. Na die donker jare van stilte en depressie was Opperman vir hom soos iemand wat uit pure uitbundigheid voor 'n gehoor gespeel het. Hy was in verrukking om almal by die feestelike verskyning van Komas uit 'n bamboesstok met 'n eksemplaar te sien vertrek en het behae daarin geskep dat hy deur die finansiële bewilliging van Nasionale Boekhandel met sy werk aan die Letterkundige Laboratorium kon voortgaan. ‘Ek tree nooit af nie,’ het hy by geleentheid trots gesê. Hy het in baie opsigte die grootmensskap afgelê en 'n nuwe kinderlikheid in sy lewe bereik. Die gevolg van hierdie uitbundigheid en vreugdevolle genieting van die lewe was dat 1979 en 1980 jubeljare in Opperman se lewe was. Ná die verskyning van Komas uit 'n bamboesstok, waarin hy met soveel krag in sy woord terugkom, was hy eenvoudig nie te keer nie en het hy ook sy geesdrif op ander mense oorgedra. Vir die SAUK se boekeveiling op 14 Augustus 1979 vlieg hy Johannesburg toe en dra hy tot die bibliofiele uitgawe Veertien verse ‘Leipoldt sterf’ by, die laaste gedig (afgesien van enkele geleentheidsverse) wat hy tydens sy lewe publiseer: Dus: onder 'n swart (beduiwelde!) suidoos
laveer die leste skip vannag
na hierdie hospitaal in Tamboerskloof.
Vergeefs het ek by Soekaradja
Boeddha na geheime varings
agter die waaiervarings uitgevra.
Vergeefs gesoek by Hyde Park na wondermedisyne
om agter rododendrons fyner rododendrons
te gewaar, konyne agter die konyne!
Niks by Clanwilliam in die Pakhuispas
verwag - met Vader se viool kasgepak
deur manne van Calvyn - as 'n handvol as!
Van my eerste tot hierdie trombotiese gesnik
was die grootste wonder elke oomblik klip,
elke kriekie, ramkie, varing wat nóú daar vir my knik!
Bog, Boetie, met betoë! Vaak is vaak,
ek raak bedwelm, ruik reeds uit die kombuis
tifone vol speserye vir gaar maak!Ga naar eind16
In dieselfde tyd maak Philip Terblanche 'n bronsbeeld en 'n skildery van hom. Die werk aan die skildery word op 'n televisiefilm vasgelê en by dié geleentheid | |
[pagina 430]
| |
voer Pierre Marais 'n onderhoud met Opperman. Op 5 Oktober 1979 word 'n voordragprogram uit sy werk in die H.B. Thom-teater gehou waartydens Fred le Roux 'n briljante vertolking van ‘Dennebol’ gee en op versoek van die digter die slotmonoloog van Periandros van Korinthe voordra. Nog 'n bronsbeeld van hom word gemaak deur Wynand Mulder en in Opperman se aanwesigheid op 6 Desember 1979 in die Sasol-Biblioteek op Sasolburg onthul. 'n Besondere belewenis vir Opperman in die loop van 1979 is sy vyf en sestigste verjaardag op 29 September. Die verjaardagviering vind dié keer plaas in die Spier-Restaurant, weer met Piet Cillié as seremoniemeester. By dié geleentheid oorhandig Heini Jaekel aan Opperman 'n spesiale nommer van Standpunte (XXXII: 5, September 1979) wat oorwegend uit dokumentasiemateriaal in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek saamgestel is, terwyl John Kannemeyer aan hom 'n spesiale leergebonde eksemplaar van Kroniek van klip en ster skenk, 'n studie oor Opperman se werk wat vir die tweede band van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur bedoel was maar by dié spesiale geleentheid in 'n eenmalige uitgawe verskyn. As hoofdis van die aand oorhandig dr. David de Villiers van Sasol, wat die boek geborg het, 'n uitgawe van Die galeie van Jorik, 'n faksimilee en transkripsie van die ontwerp en geskrewe manuskrip van Joernaal van Jorik, met redaksionele aantekeninge en 'n inleiding deur John Kannemeyer. Hierdie boek is ontwerp deur Jürgen Fomm, 'n tipograaf wat reeds met Kort reis na Carrara vir een van die mooiste Opperman-uitgawes gesorg het en met dié publikasie 'n hoogtepunt bereik wat beplanning, uitleg en versorging betref. Die transkripsiegedeeltes is geset deur Slobodanska Vasiljkovich, 'n tour de force wat groot inspanning geverg het. Terwyl sy met die setwerk besig was, het mej. Vasiljkovich die tandarts besoek en het hy gemerk dat sy blykbaar die gewoonte aangeleer het om op haar tande te kners. ‘You must be under very heavy strain,’ was sy opmerking! In sy toespraak op die aand van die oorhandiging bedank Opperman die groot aantal persone wat 'n aandeel in die drie publikasies gehad het. Wat die setwerk betref, sê hy, kom ‘alle eer mej. Slobodanska Vasiljkovich toe’, 'n Joego-Slawiese naam wat hom assosiatief aan die kinderrympie ‘Sê danke, mooi klanke, sê Janka Malanka’ herinner. ‘Die verdere versorging,’ gaan hy voort, ‘het groter tipografiese probleme as The Waste LandGa naar eind17 gestel wat haarfyne beplanning geverg het, soos mnr. Jürgen Fomm sal kan getuig. Hy het maande lank slapelose nagte gehad en die afgelope drie weke letterlik langs die teks gewaak. Mnr. Fomm, u het in Afrikaans nuwe hoogtes bereik.’ Hierdie besondere verering was egter net die begin van die bekronings van die daaropvolgende jaar of wat. Op 2 Februarie 1980 ontvang Opperman op Groot Constantia die ere-lidmaatskap van die KWV. In sy toespraak sê hy dat daar iets ironies in dié verering skuil wat hom te beurt val, omdat hy ná sy lang wynreis by die ‘fonteine van die woestyn’ uitgekom het en nou weet ‘hoe eufories helder water skop’, al dink hy met vreugde aan ‘vroeër togte’ terug. | |
[pagina 431]
| |
Sowel in die Oosterse as die Westerse literatuur is die fynste uitbeelding van die wyn ‘waar dit as verwysingsveld of basis vir die gelykenis, die vergelyking of die metafoor dien’ en hoofsaaklik aangewend word ‘om geestelike state van vervoering uit te beeld en om die vrou te verheerlik’. By die Persiese skrywers van ouds vind 'n mens reeds die wynkultus, terwyl van die vroegste en mooiste lofliedere op die vrou in Hooglied voorkom ‘waar haar prieel met trosse druiwe vergelyk word’, iets waarby Opperman in sy ‘Mohammed aan Ajesja’ aansluit. In die Westerse letterkunde met sy Dionusiese drif kry ons veral die aanprysing van die wyn self en die uitwerking daarvan op die mens, 'n rigting wat ook in die Afrikaanse literatuur voorkom. Opperman wys op voorbeelde in Leipoldt se ‘Vrede-aand’, Van Wyk Louw se Germanicus en sy eie wyngedigte waarin hy die Dionusiese drif, ‘sonder enige verdoeseling of opsmuk, probeer gee waar hy hom opbou of uitwoed by die enkeling en meermale by die skeppende kunstenaar’. En hy sluit af met 'n kwatryn waarin hy 'n bede rig dat die nuwe oes geseën mag wees: Gode Loff
In ons stryd teen molduine en hakeabosse,
teen donsige skimmel en ander wingerdvosse,
seën, Heer, ook vanjaar se oes en breek
borrelend uit in hierdie eerste suidelike trosse.
Dat Komas uit 'n bamboesstok met al die belangrike literêre pryse van 1980 sou wegloop, was die algemene verwagting onder letterkundiges. Op 28 Maart 1980 ontvang Opperman die Louis Luyt-prys tydens 'n geselligheid in die Hotel Boulevard in Pretoria. Dr. G.F. Garbers praat namens die RGN, wat die funksie gereël het, terwyl Merwe Scholtz die motivering vir die toekenning lewer. In sy geestige bedankingstoespraak wys Opperman op die verwantskap tussen Louis Luyt en Marco Polo, tussen Louis Luyt en homself en hoe hy reeds vóór sy ontmoeting met Luyt geskryf het oor die groot ‘tycoon’ Periandros ‘wat in sy volkshuishouding 'n ewewig vir die handel, die kuns en die geesteslewe nagestreef het’. Dit is wat hy in Luyt waardeer en daarvoor bedank hy hom. Op 17 April 1980 ontvang hy in Johannesburg die CNA-toekenning en praat hy by dié geleentheid oor die besoek van ‘the man from Porlock’ wat Coleridge verhinder het om sy ‘Kubla Khan’ te voltooi, 'n soort situasie wat ook die Afrikaanse skrywer bedreig, soos reeds blyk uit die negentiendeeeuse ‘Moeilikheid om liedjies te maak op 'n boereplaas’.Ga naar eind18 Op 25 Junie 1980 word Komas uit 'n bamboesstok in Bloemfontein tydens die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon met die Hertzogprys, die vierde keer dat Opperman met dié prys vereer word en die tweede keer dat hy dit vir poësie ontvang. In sy huldigingswoord, wat deur Merwe Scholtz voorgelees word, wys T.T. Cloete op die | |
[pagina 432]
| |
stilistiese vernuwing wat met dié bundel in Opperman se werk kom en sy oeuvre na 'n hoogtepunt voer. ‘As 'n lesersgemeenskap so ver gevoer word,’ sê hy, ‘dat hy 'n stuk literêre fynproewerswerk as 'n volksboek beleef, dan het daar iets baie seldsaams gebeur, iets waarvoor die literatuur nie dankbaar genoeg kan wees nie.’ In sy antwoord wys Opperman - wat in hierdie stadium al so 'n aansien in die literêre wêreld gehad het dat hy feitlik met almal en alles die draak kon steek - op die bedenklike geskiedenis van die Hertzogprys en die betwisbare bekronings van die verlede. Dit laat hom dink aan 'n vriendin wat onderwyseres was by 'n verbeteringskool in Tokai. Op 'n keer het sy ‘hierdie stoute seuns’ 'n toneelstuk van Shakespeare laat opvoer en die spel van die seuns het by die publiek groot byval gevind. Tydens die pouse sê een van die seuns vir haar: ‘We're not doing too badly for a bunch of criminals, are we?’ Ten spyte van die polemieke en twiste was die Akademie in die verlede ‘meestal binne die kol’ met sy bekronings. Daar word, so sluit hy af, ‘so heftig oor die Hertzogprys gevoel omdat dit so 'n groot aansien geniet en omdat dit by ons die langste tradisie van 'n strewe na ernstige oordeelvelling is.’ En op Donderdag, 4 September 1980 ontvang Opperman die W.A. Hofmeyr-prys by 'n geselligheid in die Here XVII waartydens die Recht Malan-prys aan Andries Brink en sy medewerkers aan die Woordeboek van Afrikaanse Geneeskundeterme oorhandig word. Dit was terselfdertyd die eerste keer dat die bekroondes naas bepaalde bedrae ook met ‘medaljes’ vereer is, iets wat Opperman die geleentheid gegee het om lekker te spot met Piet Cillié se medaljes wat kwansuis gesmelt moes word om die nuwes van te laat maak! Naas die bekronings van Komas uit 'n bamboesstok val ook 'n ander besondere eer Opperman in die loop van 1980 te beurt. Op 27 Junie ontvang hy die D. Litt. honoris causa van die Universiteit van Kaapstad, die universiteit waaraan hy elf jaar as dosent verbonde was en waar hy ook die doktorsgraad in 1953 met Digters van Dertig behaal het. In sy rede verwys die ‘University Orator’, prof. John Juritz, na Opperman se luisterryke loopbaan en die geskiedenis van Marco Polo wat hy in sy jongste bundel verwerk en wie se lewe 'n merkwaardige parallel met dié van sy eie vorm. Hy sluit af: In addition to his own creative work, Opperman has played the leading role in producing a valuable series of anthologies of Afrikaans poetry suitable for all levels of school and university. As a literary critic, his sharp insight has been of permanent value. He has ever encouraged his students, by the inspiration and supervision of theses, and by the founding of a ‘literary laboratory’ at Stellenbosch. He has played an important part in building up the Jagger Library's fine collection of medieval Dutch texts and modern Dutch poetry, and was also instrumental in securing for the Jagger Library the H.A. Mulder papers. | |
[pagina 433]
| |
true that Dirk Opperman has already received the D. Litt. degree of the University of Cape Town. But on that occasion, it was not honoris causa - which is not to say that it was dishonoris causa. By conferring this degree, we shall at least confirm that no mistake was made upon the former occasion.Ga naar eind19 Maar in hierdie tyd dra Opperman ook by tot die verering van ander digters, iets waaruit sy spontane waardering vir ander se werk en sy groot menslikheid duidelik blyk. Op 9 Februarie 1980 lewer hy 'n rede in die Birkenhead Hotel in Hermanus by 'n viering van Uys Krige se sewentigste verjaardag. Hierin praat hy in hoofsaak geestig oor die politiek en die godsdiens in Krige se werk. ‘Wat die gebruik van die gewone woord, gewone onderwerpe en voorwerpe betref,’ sê hy, ‘staan ek diep in die skuld by Uys Krige. Ek dink hier bv. aan my gedig “Ballade van die grysland”.’Ga naar eind20 Vir I.D. du Plessis se tagtigste verjaardag op 25 Junie 1980 skryf hy ‘Proklamasie’, ‘in gedupliseerde kwatryn’: Oerdododron uit die Karoo wat ‘kelkiewyn’
oor Leipoldt, Ta'Miem en kwelspoke by Rietfontein;
oor Springbokke, Olimpiades en vampiere,
wat sing verby skermutseling en skote, die venyn
van Dertigers en Veertigers en oorle Kees Konyn,
word summier deur Laurikas van die luisterliere,
deur Maleiers, Arnold en Hubert se klaviere
as kroonwild van die volk afgeharp in kwarantyn.
Op 12 Desember 1980 besoek hy Breyten Breytenbach in die Pollsmoorgevangenis en voer hy 'n lang gesprek met hom oor sy aanhouding, die pogings wat aangewend word om die uitdiening van sy vonnis te verkort en die tydgenootlike literêre situasie in Afrikaans.Ga naar eind21 Op 20 Maart 1981 woon hy in Johannesburg Ernst van Heerden se vyf en sestigste verjaardag by. Tydens dié geleentheid besoek hy sy ou vriend die eerste keer sedert Van Heerden se eie ernstige siekte. In die studeerkamer kyk hy geïnteresseerd die versameling boeke deur en ‘bedel’ hy E.E. Cummings se Collected poems en Breytenbach se And death white as words as geskenke af! En op 19 Junie 1981 is hy aanwesig in die Libertassentrum buite Stellenbosch by die viering van Eitemal se tagtigste verjaardag en die verskyning van Reinaard, die jakkals, die laaste openbare funksie wat hy bywoon en waartydens 'n foto van hom saam met sy oud-kollega geneem word.Ga naar eind22 Veel meer as vroeër onderneem Opperman in die periode van sy herstel reise na verskillende stede en geleenthede. In 'n onderhoud met Kerneels Breytenbach, wat op 29 September 1979 in Die Burger verskyn, stel hy 'n reis na Suid-Amerika - die nuwe wêreld wat reeds in sy Joernaal van Jorik ter sprake kom en waaroor hy meer wou weet - in die vooruitsig, terwyl hy ook met die gedagte gespeel het om saam met Koos Human na New York te gaan. Van hierdie reise het egter niks tereg gekom nie. Afgesien van die besoeke aan Bloemfontein, | |
[pagina 434]
| |
Pretoria en Johannesburg om bekronings te ontvang of spesiale geleenthede by te woon, reis hy in hierdie jare ook na Suidwes-Afrika en Durban. Van 19 tot 27 Oktober 1979 besoek hy as gas die Windhoekse Onderwyskollege waar hy lesings en illustrasies van sy Letterkundige Laboratorium gee, onderhoude aan die pers en radio toestaan, 'n onthaal ter ere van hom in die Thüringer Hof bywoon en by sy suster Liz en swaer Jannie Theron tuisgaan. En in Augustus 1980 vlieg hy en Marié saam met Danie van Niekerk na Durban waar hulle by die Hotel Blue Waters tuisgaan en hy sy broer Chris weer na baie jare sien en lekker met hom oor die ou dae in Natal gesels. Tydens die paar dae in Durban wou Opperman graag weer 'n besoek bring aan Philip Nel, Natalse Direkteur van Onderwys en sy ou vriend van skool- en universiteitsdae af. Die tyd was egter te kort om ook na Pietermaritzburg te gaan waar Nel woonagtig was. Daarom bel hy op 7 Augustus om te hoor of Nel nie kan oorry Durban toe nie. Toevallig moes Nel die volgende dag 'n modereervergadering van die eksamenkomitee in 'n gebou naby die Blue Waters bywoon en het hy met Opperman afgespreek dat hy die middag saam met hom en Marié sou eet. Ná die ete sit hulle en gesels en vra Nel hom om saam te gaan na die vergadering waar daar, afgesien van 'n paar jong mense, van Opperman se ou vriende aanwesig sou wees, onder andere Jan Stander, hoof van die Voortrekkerskool in Pietermaritzburg in die veertigerjare. Opperman willig in, op voorwaarde dat hy nie 'n toespraak hoef te hou nie. Ná afhandeling van die kort agenda stel Nel Opperman aan die aanwesiges bekend en heet hy hom welkom. Terwyl hulle almal saam om die tafel sit, het Opperman spontaan begin praat. Hy het begin deur te sê dat hy self as jong man in die stryd van die Natalse Afrikaner gestaan en daaraan deelgeneem het. Hy kon hom nog te alle tye volkome daarmee vereenselwig, omdat dit gegaan het oor die taal en oortuigings wat vir die Afrikaner waardevol is. As hy nóú daaraan dink dat hy in 1945 hier weggetrek het, dan voel hy soos 'n droster, 'n mens wat hulle in die steek gelaat het. Want hier, het hy voortgegaan, is sy ou maats nog altyd besig met dieselfde sake en probleme van destyds. Nel het hom onderbreek: ‘Nee, jy het op jou gebied 'n baie groot bydrae gelewer vir ons taal.’ Opperman het voortgegaan en gesê hy het in 1945 gevoel dat die oorlogsbeklemmende situasie en die anti-Afrikaanse gesindheid in Natal hom as mens en kunstenaar gewurg het en dat hy wou wegkom om perspektief te kry. Daarom is hy na Johannesburg en later na die Boland waar hy hom kon blootstel aan die invloed en inwerking van 'n Afrikaanse gemeenskap. Ná Heilige beeste het hy geweet dat hy meer dinge wou sê wat eers in hom moes ryp word. Daarvoor was die Boland as die bakermat van ons taal vir hom die ideale omgewing. As sy ou vriende vandag nou so vriendelik wil wees om teenoor hom te sê dat sy bydrae óók as waardevol erken word terwyl hy tog nie in die onmiddellike stryd was soos hulle nie, dan, so het hy afgesluit, ‘het ons tog op die lang pad mekaar aanvullend in die stryd gedien’. | |
[pagina 435]
| |
Opperman het hierdie woorde in diepe erns gesê. Dit was ook 'n oomblik van werklike ontroering vir alle aanwesiges, want daar het 'n volslae stilte op sy boodskap gevolg. Dit was vir hulle of hy in daardie minute homself vrye teuels gegee het om met sy eie mense in 'n intieme kringetjie te praat. Toe het hy gesê: ‘Nou goed’ en opgestaan. Na afloop van die vergadering het Nel 'n bietjie met die Oppermans in Durban rondgery en sy ou vriend se lughartigheid en vrolikheid het hom besonder opgeval. Vir 'n Zoeloevrou het hy in haar taal gesê: ‘Loop mooi; sê groete by die huis,’ iets wat haar laat omkyk het. In 'n geskenkeksemplaar van Komas uit 'n bamboesstok het Opperman vir Nel 'n inskripsie geskryf ‘as herinnering aan ons heerlike jeug saam op Vryheid’. By die afskeid het hy vir Nel gesê dat dit met al die pryse en die spesiale doseerpos uitstekend met hom gaan. 'n Vriend het 'n paar dae tevore vir hom gesê: ‘Man, vandat dit nou so goed gaan met jou, kan ek nie meer botter eet nie.’ Op Opperman se vraag: ‘Hoekom nie?’ was die antwoord: ‘Want jy het met jou gat daarin geval!’Ga naar eind23 | |
VDie vreugde van die herstel en die uitgelate uitbundigheid het egter ook 'n skadukant gehad, want nie alles het vir Opperman so vlot verloop en ewe suksesvol geëindig nie. In die besonder was daar sekere verwikkelinge in die Departement wat hom ontstel en 'n lang nawerking by hom gehad het. Aanvanklik, na sy terugkeer in 1977, het dit goed gegaan. Na die lewersiekte het hy opnuut 'n geesdrif vir sy doseerwerk gehad en uitstekend met studente en kollegas oor die weg gekom. ‘Ek het die werk gekry wat my die beste pas,’ het hy by geleentheid gesê. Aan die einde van 1977 is hy tot voorsitter van die Departement benoem in die plek van Meyer de Villiers wat die pos sedert Kempen se aftrede aan die einde van 1974 beklee het. Dié werk het hy 'n jaar lank nougeset behartig, al was hy vroeër nooit veel geïnteresseerd in die administrasie nie. Een van die eerste sake waaraan hy aan die begin van 1978 moes aandag gee, was die professoraat van W.E.G. Louw wat aan die einde van die jaar vakant sou word. Volgens die nuwe vaste gebruik van die Universiteit van Stellenbosch kon die pos nie, soos vroeër, aan iemand aangebied word nie, maar moes daar eers 'n advertensie in verskillende koerante verskyn. Van die kandidate, so het Opperman gemeen, het Andre P. Brink as skeppende kunstenaar en akademikus die sterkste gestaan. In 'n gesprek met die rektor, prof. Jannie de Villiers, het Opperman die standpunt ingeneem dat Brink aangestel behoort te word, iets wat, weens 'n persoonlike en literêre afkeer, groot ontsteltenis by W.E.G. Louw veroorsaak het. Op die hoogste bestuursvlak van die Universi- | |
[pagina 436]
| |
teit is trouens gevoel dat Brink se benoeming weens sy politieke uitlatinge in die verlede volkome onaanvaarbaar vir Stellenbosch sou wees. Jannie de Villiers het dit aan Opperman oorgedra, wat die rektor daarop meegedeel het dat sy keuse in daardie geval op John Kannemeyer sou val. By 'n byeenkoms van die aanstellingskomitee het die rektor egter aan die hand gedoen dat Merwe Scholtz uitgenooi moes word om die betrekking te aanvaar. Hoewel Opperman bedenkinge gehad het oor Scholtz se metodes as letterkundige en by herhaling in die verlede met hom geskerts het oor sy aandeel in die publikasiebeheer, het hy 'n eerbied gehad vir Scholtz se intelligensie en rats insigte. Saam met die dekaan, prof. Andries Nel, het hy oorgery na die Universiteit van Kaapstad om die pos persoonlik vir Scholtz aan te bied. Scholtz het dit na 'n paar dae se bedenktyd aanvaar. Met die koms van Scholtz aan die begin van 1979 het Opperman aanvanklik moeite gedoen om met sy nuwe kollega oor sake te gesels, maar hy was teleurgesteld dat sy gereelde besoeke aan Scholtz se kantoor nie beantwoord is met besoeke aan hom nie. Aangesien hy self in 1979 sou aftree, gee hy op 22 Januarie 1979 aan die rektor kennis dat hy aan die einde van die jaar sy pos sal ontruim.Ga naar eind24 As uittredende professor kon Opperman geen aandeel hê in die keuse van sy opvolger nie, maar hy het geredelik verwag dat Scholtz die saak met hom sou bespreek. Tot sy verbasing en later woede het Scholtz egter die swye bewaar. Uit 'n ander bron moes Opperman verneem dat die professoraat afgeskaf is en dat slegs 'n senior lektor benoem sou word. Hy was ontsteld hieroor, omdat die taalkunde-professore nou 'n oorwig in die Departement gehad het en Scholtz buitendien met sy taalkundige belangstelling en simpatieë in die verlede vir hom nie 'n volbloed literator was nie. Ten spyte van die teleurstelling en die gespanne verhoudinge wat in die Departement as gevolg van Scholtz se optrede en afsydigheid ontstaan het, was Opperman bereid om ook ná sy aftrede in 1979 met sy werk aan die Letterkundige Laboratorium voort te gaan. Hy het egter toenemend uitgeskuif gevoel en agtergekom dat die ander drie professore - naas Scholtz, Johan Combrink en F.A. Ponelis wat Kempen en Meyer de Villiers onderskeidelik opgevolg het - samesprekings sonder hom voer. Daarby was hy bekommerd oor die wyse waarop Scholtz optree teenoor ander lede van die Departement, van wie 'n hele paar as oud-studente besonder ná aan hom was. By meer as een geleentheid het Scholtz aan nagraadse studente gesê: ‘Onthou, die era van Opperman en Kannemeyer in die Departement is verby’, 'n uitspraak wat Opperman se ore bereik en sy woede ontketen het, alhoewel hy aanvanklik niks aan die saak gedoen het nie. In Augustus 1980 het iets egter gebeur wat sy lewe dramaties sou beïnvloed. Marié is opgeneem in die Tygerberg-Hospitaal, 'n operasie is gedoen en 'n gedeelte van haar skildklier verwyder, iets waarvan sy toe reeds geruime tyd las gehad het. Aanvanklik was die uitslag van die operasie gerusstellend, maar | |
[pagina 437]
| |
dieselfde middag kom die internis by haar met die mededeling dat die analise tog kwaadaardigheid aangedui het en dat hy die volgende dag weer sou moes opereer. Op 22 Augustus 1980 is die tweede operasie gedoen. Opperman sou die middag saam met Meyer en Suna de Villiers by Dirk Hertzog eet. Voor die ete bel hy vir De Villiers en sê: ‘Man, ek is laat, ek kan nie my skoene vasmaak nie; my hand is so snaaks.’ De Villiers is oor om hom te help en saam het hulle oorgeloop na Hertzog se huis. Ná die ete het Opperman by herhaling na die hospitaal gebel om te hoor hoe dit met Marié gaan. Hy was ontsteld om te verneem dat sy reeds geruime tyd uit die teater is maar nog nie bygekom het nie. Toe hy die volgende oggend eers met haar kon praat, het hy gekla van 'n seer arm en been. Marié het onmiddellik 'n ligte beroerte vermoed, die huisarts gebel en binne 'n ommesientjie het Meyer de Villiers hom in die Tygerberg-Hospitaal besorg. Dáár het die geneeshere vasgestel dat hy wel 'n beroerte gehad het, al was dit nie 'n ernstige aanval nie en het die arm en been na 'n dag of wat weer normaal gefunksioneer. Opperman het die ligte beroerte egter wel in 'n ernstige lig beskou. Terwyl hy vroeër onstuitbaar en bruisend was en op Gawie Nienaber se agt en sewentigste verjaardag nog kon sê dat hý op daardie ouderdom op sy beste sou wees, het hy nou 'n mate van depressiwiteit beleef. Terug van die hospitaal het hy onmiddellik ernstig aandag gegee aan sy testament en allerlei reëlings in verband met sy finansiële sake getref. ‘'n Groter waarskuwing kan 'n mens nie kry nie,’ het hy aan Fred le Roux gesê. Hy was bewus daarvan dat hy geleende tyd beleef en wou graag nog heelwat skeppende werk afhandel. Daarom bel hy Koos Human en Danie van Niekerk en sê hy vir hulle dat hy in die toekoms nie meer bereid sal wees om hulle oor alle manuskripte te adviseer nie; slegs in besondere werke en grensgevalle sal hy nog graag insae wil hê. Omdat die situasie in die Departement vir hom al hoe onaangenamer geword het, dien hy ook sy bedanking in as buitengewone dosent vir die Letterkundige Laboratorium. Aangesien hy met die instelling van die digkunde-klasse vir die skeppende studente op die gebied van die literatuur 'n unieke geleentheid gebied het, spreek hy in 'n onderhoud oor die radio die hoop uit dat die Universiteit dit nie sal laat vaar nie maar dat die werk sal voortgaan. Alhoewel Lina Spies as digteres in die Departement uitmuntend geskik was om die digkunde-klasse oor te neem en dit reeds tydens Opperman se siekte in 1976 behartig het, was dit Scholtz se aanvanklike plan om die Letterkundige Laboratorium af te skaf. Ná afloop van 'n afskeidsdinee op 28 November 1980 in die Volkskombuis het Johan Combrink as departementele voorsitter Opperman bedank vir die jare voortreflike diens en gemeen dat die aand se verrigtinge daarmee afgelope was. Opperman het egter opgestaan en in sy kort toespraak 'n ernstige beroep gedoen dat die Departement nie die werk in belang van skeppende talent moet laat vaar nie. Scholtz het dit tereg as 'n bedekte | |
[pagina 438]
| |
skimp op homself geïnterpreteer en hom verplig gevoel om op te staan en te sê dat hy en sy kollegas - waarmee hy die twee taalkunde-professore bedoel het - nog besig was om die saak te ondersoek.Ga naar eind25 Skynbaar in vrede is die lede van die Departement die aand uiteen, al was die gespanne verhoudinge vir almal duidelik merkbaar. | |
VIMet die finale beëindiging van sy doseerverpligtinge en die verminderde werk aan die beoordeling van manuskripte het Opperman hom met oorgawe gewy aan sy skeppende en redaksionele werk. Binne 'n betreklike kort tydjie het hy aanvullende keuses vir die voorgeskrewe bloemlesings gemaak en met 'n geweldige werkywer die hele gebied van die Afrikaanse kinderpoësie deurgewerk met die oog op nuwe uitgawes van die Kleuter- en Klein verseboek. Aan Chris Barnard en Katinka Heyns het hy heelwat hulp verleen met 'n televisiefilm oor sy lewe. Saam met hulle is hy na Franskraal waar baie opnames gemaak is en tuis in sy studeerkamer het hy inligting verstrek en van sy verse voorgelees. Dit was egter sy skeppende werk wat hom veral besig gehou het. In 'n nuwe bundel, Sonklong oor Afrika, wou hy as 't ware die hele Afrika in sy skrywershand hê en die essensie van die vasteland in sy verskeidenheid mense, diere en plante en uiteenlopendheid van geologiese en geografiese samestelling vasvat. Aan die einde van 1980 was hy reeds aan die skryf, maar hy wou graag 'n Afrika-land besoek om regstreekse inligting te bekom. Soos destyds met die Europese reis van einde 1956 het Anton Rupert aangebied om besoeke aan verskillende Afrika-lande vir hom te reël en te finansier, maar Opperman was bang hy word dalk gegryp en in 'n tronk gegooi! Juis in hierdie tyd was sy ou argiteksvriend Hannes van der Merwe besig met 'n projek in Lilongwe, die nuwe hoofstad van Malawi, en moes hy sesweekliks daar besoek gaan aflê om te kyk hoe die werk vorder. Op 'n Vrydagaand om halftwaalf was hy pas tuis van 'n laataandvlug van Malawi toe Opperman bel met die versoek of hy en Marié die Sondag by hulle in Bloubergstrand kan kom eet. Tydens die middagmaal vertel Opperman dat hy die Louis Luyt-toekenning gekry het en dat die reisgeld daaraan verbonde hom in staat stel om êrens heen te gaan. Van alle plekke wil hy die graagste 'n Afrika-land besoek en hy sal verkies om saam met Van der Merwe so 'n reis na Malawi te onderneem. Vaagweg het Van der Merwe vermoed dat Opperman iets in sy broeikas het en dat 'n besoek aan 'n Afrika-land noodsaaklik vir die finale vormgewing was. Hulle het ooreengekom dat die reis in Maart en April 1981 sou plaasvind. Van der Merwe sou dan vir sy gebruiklike inspeksiebesoek 'n paar weke afknyp: een week sou hulle saam rondreis, een week sou Opperman alleen op die meerboot Ilala tot by Tanzanië se grens vaar terwyl Van der Merwe werk, en as afsluiting | |
[pagina 439]
| |
sou hulle dan weer 'n week lank saamreis deur ‘die warm hart van Afrika’. 'n Week of wat later het hulle op Franskraal die reis en datums gefinaliseer. Om by die meerboot se tye aan te pas, moes Opperman en Van der Merwe die besoek 'n maand lank uitstel. Op Maandag, 27 April 1981, kom hulle egter op Blantyre se lughawe aan en moes Opperman gewoond raak aan die stadige afhandeling van roetinesake, die ‘horlosielose Afrika’ soos hy dit later aan Lina Spies sou beskryf. Die gehuurde motor wat vir hulle op die lughawe beskikbaar moes gewees het, is byvoorbeeld eers die volgende oggend afgelewer en Opperman het hom telkens in 'n vriendelike gesig met wit tande vol onbegrip vasgeloop as hy te vinnig in winkels praat en verwag dat sy aanhoorder se verstand net soos syne moes reageer.Ga naar eind26 Met die gehuurde motor het hulle na die aanvanklike kennismaking met Blantyre deur die broeiende landskap van die tropiese Malawi gereis na die vroeëre hoofstad Zomba waar hulle die Universiteit besoek en Opperman in die biblioteek gretig na Malawiese digbundels gesnuffel het. Hy was ongeduldig om te sien en te ervaar en dit was vir Van der Merwe duidelik dat hy presies geweet het waarna hy soek. In boekwinkels het hy byvoorbeeld knaend gevra vir Jared Angira se Silent voices. Sy vermoede was dit is te rewolusionêr en daarom verbied, totdat 'n amptenaar in Kasungu hom kon sê dat dit net as gevolg van die groot aanvraag onder studente tydelik uit voorraad was. In geskenkwinkels het Opperman in die pragtig gekerfde Afrika-beeldjies 'n simboliek waargeneem wat hom snags min laat slaap het en Van der Merwe het geweet daar is dinge wat in hom woel. Hoe meer hy gelees en ervaar het, hoe meer begeesterd en gestimuleerd het hy geraak. Reeds vroeg tydens die besoek het Opperman vir Van der Merwe 'n swart aantekeningboekie gewys met notas wat hy die vorige nag gemaak het - 'n halwe boek vol ‘episodes’, het hy dit genoem. Van der Merwe was dus bewus daarvan dat sy vriend met iets groots aan die gang was, maar het geweet dat hy niks verder uit hom sou kry nie. Na 'n week se rondry moes hulle verneem dat die bootreis op Meer Malawi gekanselleer is omdat die boot nog steeds nie reiswaardig was nie. Hulle het besluit om saam na Lilongwe te gaan waar Opperman in die Capitol Hotel sou bly en verder skryf, terwyl Van der Merwe sy inspeksiewerk afhandel. Agterna gesien was die kansellering 'n bedekte seën, want Van der Merwe kon aan Opperman se koorsagtige gejaag, die geroggel van sy asemhaling en die gang van sy bewegings sien dat hy met 'n man te make het wat kwalik alleen die bootreis sou kon aanpak. Die waarneming van die Afrika-mense was vir Opperman 'n vreugdevolle ervaring. In die moderne hotel in Lilongwe was die geriewe na sy smaak en het hy sy kamer in 'n studeervertrek omskep, met boeke en papier mooi byderhand. Baie gou was ‘the old Professor’ 'n geliefde karakter by die groot personeel: by die ontvangsassistente waar hy elke dag na pos gaan verneem het en by die kamerpersoneel wat Appletizers en tee vir hom moes aandra. Van sy pa- | |
[pagina 440]
| |
piere en boeke moes hulle egter wegbly. Op 'n middag kon Van der Merwe hoor hoe hy in 'n ernstige gesprek met die lang kamerbediende gewikkel was: ‘Remember, no more tip if you remove or sweep up any of the rubbish papers in my room, you understand, no more tip!’ Dit was vir Van der Merwe opvallend dat Opperman slegs geïnteresseerd was in waarneming en interpretasie en nie daarin belanggestel het om persoonlik of intellektueel met die mense te verkeer nie. Op 'n aand was hulle die gaste van 'n Suid-Afrikaanse amptenaar wat ook 'n Malawiese egpaar vir ete oorgenooi het, maar die gesprek wou nie vlot nie. Opperman wou alles van 'n afstand beskou en dan sy waarnemings met leeswerk aanvul. 'n Boek wat hy gekoop en met aandag gelees het, was Oliver Ransford se David Livingstone: The dark interior. Menige kere het hy tydens gesprekke iets in sy notaboekie aangeteken. In die aand wou hy graag na die groot eetkamer gaan waar hulle 'n plek langs die orkes kon kry en waar hy na die oerritmes op die tamboere kon luister. Tydens die laaste deel van die verblyf het Opperman van die beeldjies uit hout en klip en kleurvolle rokmateriaal gekoop. Aan die einde was hulle 'n paar dae lank in die wildtuin Lifupa aan 'n meer naby Kasungu. Op die stoepie van Opperman se rondawel was daar altyd tee of koffie as Van der Merwe aankom, en snags het hy 'n paar kerse gehad vir die tyd wanneer die kragopwekker tot ruste kom. Hy het steeds baie aantekeninge gemaak. Op 'n oggend, asof verlig, het hy gesê: ‘Nou het ek die hele sleutelsin waarna ek so lank al soek.’ Op die Lughawe Jan Smuts, waar hulle moes wag vir 'n aansluiting na Kaapstad, het Ernst Lindenberg, John Kannemeyer en Marcus de Jong vir Opperman en Van der Merwe met hulle terugkeer op Donderdag, 14 Mei 1981, ingewag. Opperman was opgewonde en het in 'n uur se tyd land en sand gesels. Op die Lughawe D.F. Malan was Marié en Diederi om halfvyf die middag by om hulle terug te verwelkom. Dat die hele ervaring in Malawi Opperman begeester het om ook ná sy reis verder voort te werk aan sy wordende nuwe bundel, was duidelik vir almal wat ná sy terugkeer met hom gesels het. Midde-Afrika het hom geboei soos weinig ander geografiese ervarings van vroeër. In 'n brief van 28 April 1981 uit Malawi skryf hy aan Lina Spies oor die ‘felste rooi poinsettia’ wat hy in ‘hierdie onwesenlike landskap’ gesien het en wat ‘die maanblomme en goue kelke vulgêr laat voorkom’. En soos die poinsettias assosiatief die subtropiese landskap van sy Natalse jeugwêreld by hom moet opgeroep het, wek die wisseling van ‘mis en sonlig’ ook 'n verband met sy vroeëre leeswerk, want die verskeidenheid van ‘afgeslotenheid en vergesig, warmte en koue’ in die landskap is vir hom ‘soos 'n magtige Hadewijch’, 'n opmerking waaruit 'n mens kan aflei dat Opperman se beeldingsvermoë, verrassende verbande en flitsende insigte kragtig aan die werk was. Hy het 'n nuwe kreatiewe fase met vreugde ervaar. | |
[pagina 441]
| |
VIITe midde van sy werk aan Sonklong oor Afrika was Opperman, naas sy redaksionele werk aan die bloemlesings, egter ook in minder aangename persoonlike botsings betrokke. Op Franskraal het hy 'n uitval gehad met sy broer Koos oor politieke verskille en voorvalle wat lank tevore in hulle jeug gebeur het. Op Stellenbosch was die gebeurtenisse by die Universiteit vir hom 'n skuddende ervaring. Vroeg in 1981 het hy 'n lang gesprek gehad met Merwe Scholtz. Hy het op aspekte van Scholtz se optrede in die Departement gewys wat na sy mening verkeerd was, pertinente gevalle genoem waar Scholtz volgens hom hulle vriendskap in die onlangse verlede ondergrawe het en aan die einde het hy hulle persoonlike verhouding beëindig. As die Afrikaanse Skrywersgilde by monde van Abraham H. de Vries en Leon Rousseau om beter vergoeding vir opgenome stukke in bloemlesings beding en Opperman se verseboeke daardeur in die gedrang kom, ontlok dit woede-aanvalle by hom. Oor die telefoon het hy vir De Vries daarop gewys dat hy die eerste persoon in die Afrikaanse literêre wêreld was wat hoegenaamd op tantièmes vir bloemlesingstukke aangedring het en dat dit nou vir hom 'n onaangename ondervinding is om deur die Gilde juis hieroor aangespreek te word. Toe Leon Rousseau die aangebode vergoeding vir sekere van sy kinderverse vir opname in Kleuterverseboek weier en as 'n daad van vriendskap die gedigte gratis aanbied, was Opperman erg ontstoke. ‘Hy kan dit in sy gat steek,’ was sy woorde aan Koos Human. Ook met Lina Spies het hy gebots oor godsdienstige aangeleenthede, haar liefde vir katte en wat hy as 'n slap feministiese houding by haar beskou het. Daar was dus 'n sekere opgejaagdheid by Opperman aanwesig wat die intensiteit van die persoonlike botsinge kon vererger het en, retrospektief gesien, op 'n naderende katastrofe kon dui. Tog het hy ook ná sy terugkeer uit Malawi voortgewerk aan die bundel, ten spyte van 'n griepaanval wat hom 'n paar dae lank ongemaklik laat voel het. In hierdie tyd skryf hy ook 'n artikel vir die huldigingsbundel 'n Natsteen vir Koos Human wat later die jaar by geleentheid van sy uitgewersvriend se vyftigste verjaardag sou verskyn, die laaste gepubliseerde stuk wat hy self versorg het. So het Maandagoggend, 22 Junie 1981, aangebreek. Toe sy die oggend wakker word, het Marié vir haar man ontbyt gemaak. Terwyl hulle eet, lees hy vir haar twee gedigte voor wat in die nag ontstaan het. ‘Daar is geen einde aan hierdie nuwe bundel nie. Alles borrel uit,’ was sy woorde. ‘Ek gaan net gou om die blok stap. As ek terugkom, gaan ek begin om Sonklong oor Afrika mooi te rubriseer en oor 'n week begin jy en ek weer saam daaraan lees.’ Daar sou egter geen voortsetting van die werk wees nie. |
|