D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 309]
| |
IV Stellenbosch
| |
[pagina 311]
| |
Hoofstuk 10
| |
[pagina 312]
| |
dan ook by herhaling in die veertigerjare die prooi van Kees Konyn se striemende aanvalle. In Opperman se Kaapse vriendekring was daar baie mense wat die literêre bedrywigheid op Stellenbosch geassosieer het met Pienaar en Malherbe: wansmaak, oorhaastig afgerammelde werk en oppervlakkige wetenskaplike navorsing. Na sy dood is Pienaar in 1950 opgevolg deur W.J. du P. Erlank, 'n letterkundige wat eerder op grond van sy roem as volksredenaar en lojale Afrikaner as sy status as digter en literator die benoeming gekry het. Erlank was onder die indruk dat hy as opvolger van Pienaar die Afrikaanse letterkunde sou doseer. Met sy aankoms op Stellenbosch het Malherbe egter 'n groot deel van die Afrikaanse letterkunde en die moderne Nederlandse poësie as sy aandeel opgeeis en die Middeleeue, die Goue Eeu en die res van die moderne literatuur aan sy kollega oorgelaat, 'n werkverdeling wat vir Erlank onaanvaarbaar was. Die twis tussen die twee letterkundiges het tot groot onenigheid gelei, in so 'n mate dat die Senaat moes ingryp en 'n verdeling tussen die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde as oplossing moes instel. As die senior man in die Departement is Malherbe die geleentheid gegee om te kies en het hy besluit om die Afrikaanse letterkunde vir sy rekening te neem. Erlank was dus verplig om die Nederlandse letterkunde te doseer, 'n opdrag wat hy aanvanklik met wrewel aanvaar en uitgevoer het. In sy kursusse het hy haas uitsluitlik gekonsentreer op die Nederlandse poësie van Tagtig tot ongeveer Nijhoff en Achterberg, en die ruim gebiede van die Middeleeue, die sewentiende eeu, die prosa en die drama eenvoudig weggelaat. Die werkverdeling het wel die praktiese probleme in die Departement opgelos, maar daar was weinig toegeneentheid tussen die twee kollegas. Jare lank het hulle haas nie met mekaar gepraat nie. Met sy koms na Stellenbosch het Opperman dus toegetree tot 'n Departement wat in die Afrikaanse literêre wêreld geen hoë aansien gehad het nie, al was die persoonlike verhoudinge met die aftrede van Malherbe daar beter aan toe. Willem Kempen was professor in die Afrikaanse taalkunde, terwyl Meyer de Villiers Middelnederlands en sewentiende-eeuse Nederlands gedoseer het maar veral in die fonetiek, fonologie en semantiek geïnteresseerd was. Opperman is benoem as professor in die Afrikaanse letterkunde, maar het met Erlank afgespreek om enkele lesings aan die Nederlandse letterkunde te wy in ruil waarvoor Erlank Opperman se eie poësie sou doseer. Die Departement was dus verdeel in vier feitlik afgeslote kompartemente, iets wat op papier na 'n netjiese verdeling gelyk maar bevrugtende wisselwerking en 'n organiese geheel feitlik onmoontlik gemaak het. Aanvanklik het Opperman goed met sy onmiddellike kollegas saamgewerk. Met sy koms na Stellenbosch het hy Kempen die swakste geken, maar aan die begin gereeld saam met hom gaan visvang op die plaas Goedgeloof wat aan Niel Joubert behoort het. Daarvoor het hulle 'n emmer water met paddas saamge- | |
[pagina 313]
| |
neem, 'n padda aan die hoek gesit en gewag tot die vis die padda begin jaag en uiteindelik insluk! Op 'n dag het Opperman vir Kempen gesê om versigtig te beweeg, want daar is nog ‘'n hele agtermiddag in jou emmer’, 'n opmerking wat volgens Kempen hom laat besef het dat hy met 'n man te make het wat, ten spyte van sy vasgeankerdheid in die aarde, beeldend-metafories op verskynsels reageer. Op sy beurt het Kempen vir Opperman vertel van 'n ervaring wat hy op 'n keer in Namakwaland beleef het. 'n Bejaarde boer met min skoolopleiding vra hom op 'n dag: ‘Doktortjie, jy is nou so slim. Sê vir my waarom is 'n skilpad se dop so hard?’ Toe Kempen nie kon antwoord nie, sê die boer: ‘Omdat sy hart so sag is.’ Hierdie storie het Kempen, wat soms taamlik kwasterig in sy klasse kon wees en by tye 'n gevreesde verskyning was, graag vir sy studente vertel om vir hulle indirek te sê dat ook hý ten spyte van sy streng uiterlike taamlik verwondbaar is. Opperman het van dié verhaaltjie gehou en dit later in sy drama Voëlvry gebruik.Ga naar eind2 Alhoewel daar dus aanvanklik 'n mate van kontak was, het Kempen te min van 'n ‘orgaan’ - soos Opperman graag gesê het - vir die letterkunde gehad om ooit 'n intieme vriendskap met sy kollega op te bou. Opperman se voorkeur het uitgegaan na die beskaafde Meyer de Villiers met wie hy aangenaam kon gesels, wat 'n fyn aanvoeling vir die letterkunde gehad het en self voortreflike Afrikaans kon skryf. De Villiers het vir Opperman 'n inskiklike kollega sonder nukke of eienaardighede gevind, iemand wat pligsgetrou sy werk verrig het en met wie hy oor probleme kon gesels. Van die kollegas in die Departement was De Villiers en Opperman die naaste aan mekaar. Van die begin af het Opperman ook baie kontak met Erlank gehad. Soms, na sy middagslaap, het hy en Marié na Duke en Hettie Erlank gegaan en van Hettie se heerlike toebroodjies met fyn gerasperde biltong geëet. Dan het hulle lekker gesels, al was Erlank vir Opperman nie altyd goed ingelig oor die jongste stand van sake in die literêre wêreld nie. Hy het in dié stadium opgegaan in sy komiteewerk by die NTO en ander organisasies en nie eintlik meer veel gelees nie. Opperman het besef dat Erlank, ten spyte van sy welwillendheid en waardering vir sy skeppende werk, nie op dieselfde akademiese vlak as hy beweeg nie. As studente soms met klagtes oor Erlank by hom gekom het, was hy egter baie lojaal. Hy het hulle gewys op die intrinsieke gehalte van 'n boek soos Jaffie en die belangrike volksdiens wat Erlank in moeilike omstandighede moes doen, en die besware probeer demp deur baie daarvan weg te lag. Toe Erlank in die sestigerjare met sy Shakespeare- en Goethe-vertalings begin, het Opperman hom baie aangemoedig en ondersteun. Die Macbeth-vertaling het hy noukeurig deurgewerk en by geleentheid die manuskrip 'n hele nag deur uitvoerig met hom bespreek. Met die aanbreek van die dag het Marié vir hulle spek en eiers kom opdis! Die geringe aansien wat die Stellenbosse literêre afdeling voor sy toetrede gehad het, was vir Opperman nie 'n belemmering nie. Hy het daarin die uitda- | |
[pagina 314]
| |
ging gesien om 'n Departement met akademiese statuur op te bou. Hy was dan ook begeesterd om sy doseerwerk as professor met nougesetheid aan te pak en het die grootste deel van Januarie en Februarie 1960 aan die voorbereiding van sy lesings gewy. Volgens die werkverdeling sou hy op Maandae en Vrydae geen lesings hê nie en kon hy dié dae volledig by die huis aan sy eie werk bestee, behalwe as hy nagraadse studente oor hulle verhandelinge te woord moes staan. Dié kandidate het hy gewoonlik op 'n Maandagoggend tuis ontvang en dan dikwels 'n hele oggend aan 'n diskussie gewy. Aangesien sy lesings almal laatoggend op 'n Dinsdag, Woensdag en Donderdag geval het, was dit Opperman se gewoonte om eers teen tienuur die oggend by die Universiteit op te daag en saam met sy kollegas in die Departement tee te drink. Dan het hy gewoonlik 'n lesing van 10.30 tot 11.10 gehad, gevolg deur 'n tweede van 11.20 tot 12.00. Op Donderdae het hy ook nog 'n lesing van 12.10 tot 12.50 gehad. Die klastye het uitstekend ingepas by die werkpatroon wat hy in Kaapstad gehad het, naamlik om sy doseeropdrag in die oggend af te handel, met 'n drankie by die huis te ontspan, in die middag te slaap en in die aand en nag tot drie-uur soggens te werk. Die enigste verpligtinge in die middag was die periodieke Fakulteitsraads- en Senaatsvergaderings en by tye mondelinge toetse wat hy by die derdejaars afgeneem het. Met Opperman se aankoms op Stellenbosch was die Departement Afrikaans-Nederlands in die Van der Sterr-gebou gehuisves. Die fisieke inrigting het bestaan uit twee seminaarkamers, 'n studiesaal, 'n teekamer en 'n kantoor vir elk van die vier professore en Jaco van der Merwe (wat van 1960 af die pas ingestelde eenjarige afgeronde kursus in Afrikaans I behartig het). In 1966 het die Departement verhuis na die nuwe Wilcocksgebou, langs die Administrasiekantoor en regoor die Ou Hoofgebou en die Carnegie-Biblioteek, waar die hele tweede verdieping deur Afrikaans-Nederlands in beslag geneem is. In die letterkundige afdeling van die Departement het Opperman pragfoto's van die leidende Nederlandse en Afrikaanse skrywers laat aanbring en in die letterkunde-seminaarkamer fotokopieë van die manuskripte van ‘Die hond van God’ en ‘Die swart luiperd’ in glaskaste uitgestal. Die bode van die Departement was Johnny Martin, 'n geliefde persoon by al die dosente en nagraadse studente en iemand met wie Opperman ook 'n goeie persoonlike verhouding opgebou het. Aangesien die Departement - met die uitsondering van Jaco van der Merwe wat slegs vir die Afrikaans I-kursus verantwoordelik was - uitsluitlik uit professore bestaan het, moes Opperman die Afrikaanse letterkunde van die eerste jaar- tot die Honneurskursus aanbied. Vir die eerstejaarkursus het hy begin met 'n inleiding tot die Taalbewegings, die studente verwys na Dekker se Afrikaanse literatuurgeskiedenis, hulle ingelei in die belangrikste literatuur op die gebied en probleemstellend te werk gegaan, byvoorbeeld deur die twispunt aan die orde te stel oor wanneer die Afrikaanse letterkunde (1652, 1860 of 1875) | |
[pagina 315]
| |
begin. Die feitelike besonderhede moes die studente self met Dekker as handleiding bestudeer en by wyse van 'n kontroletoets van 'n honderd kort vragies daaroor verslag doen. Nadat hy - soos hy dit later in die gedig ‘CNOringkorrel’ in Kuns-mis sou stel - sy ‘kandidate’ ingelei het ‘met Dekker’, het hy ‘stadig die gesprekke’ geopen en hulle as ‘ontdekkers’ die ‘letterdoelas’ laat ingaan en met voorbeelde uit die verskillende tydvakke 'n oorsig van die Afrikaanse poësie gegee. Die kursus is gewoonlik afgesluit met die behandeling van twee prosawerke. Dit was Opperman se gebruik om - soos sy leermeester G.S. Nienaber vroeër in Natal - ook van die jongste literatuur met eerstejaarstudente te behandel. Van betreklik vroeg af was hy daarop gesteld dat elke student oor die basiese apparaat vir die vak moes beskik. Op die voorgeskrewe lyste is dan ook uitdruklik vermeld dat elke student 'n eksemplaar van M.S.B. Kritzinger en andere se Verklarende Afrikaanse woordeboek (later die HAT), die Suid-Afrikaanse Akademie se Afrikaanse woordelys en spelreëls en A.P. Grové se Woord en wonder of die Nienabers se Woordkuns moet aankoop. By die tweedejaars het Opperman in die eerste paar jaar van sy hoogleraarskap sy kursus begin met 'n bespreking van die klein epe in Afrikaans en Celliers se Martjie, Totius se Trekkerswee en Van Wyk Louw se Raka behandel. Erlank het dié gedeelte van die kursus afgesluit met 'n reeks lesings oor Opperman se eie Joernaal van Jorik. Daarna het hy die digkuns van Dertig histories benader, die aard van die vernuwing aangetoon en die werk van die Dertigers en Veertigers bespreek. Aan die einde het hy 'n kort inleiding tot die romankuns gegee en enkele voorbeelde behandel. As oriënterende literatuurgeskiedenisse vir die kursus het hy Antonissen se Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede en sy Digters van Dertig voorgeskryf. In later jare het hy - soos by die eerstejaars - ook telkens van die kontemporêre literatuur behandel. Vir sy derdejaarskursus oor die poësie en die drama het Opperman van bepaalde teorieë en kategorieë uitgegaan. Die eerste aantal lesings is gewy aan Elisabeth Eybers se poësie met Cleanth Brooks se opvatting van die gedig as drama as uitgangspunt. Daarna het hy die verkenning van die dramatisering in die poësie voortgesit met 'n bespreking van die ballade, die dramatiese alleenspraak en die versdrama, telkens met verwysing na Afrikaanse voorbeelde. Vir die kursus oor die prosa (wat oor een lesing per week vir 'n semester gestrek het) was dit Opperman se aanvanklike doelstelling om die studente sowel teoreties as histories te oriënteer. Daarvoor het hy begin met 'n bespreking van die probleme van die verhaalkuns, die studente bekend gestel aan die teoretiese werke en steekproewe gemaak uit die Afrikaanse verhaalkuns. Die werk van die Sestigers en die verskyning van Van Wyk Louw se Vernuwing in die prosa was vir Opperman 'n verligting, want hy het dadelik van hierdie werke in sy kursus ingevoer en daarmee terselfdertyd die enigsins droë hout van vroeër uitgekap. Met Van Wyk Louw se beskouing as uitgangspunt het hy van die nuwe prosa behandel en Nienaber se Perspektief en profiel as algemene handleiding voorge- | |
[pagina 316]
| |
skryf. Met die oorsigte van Dekker, Antonissen en Nienaber, so het hy as idealistiese dosent gemeen, was sy studente dus goed toegerus om in hulle verdere lewe met die Afrikaanse letterkunde om te gaan. In later jare, toe Opperman geen eerste- en tweedejaarsklasse meer behartig het nie, was hy, wat voorgraadse werk betref, verantwoordelik vir 'n semesterkursus oor die Afrikaanse poësie en was dit sy vaste gebruik om Blum se Steenbok tot poolsee, Van Wyk Louw se Tristia en Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet te bespreek. Aangesien sy eie werk deur Erlank behandel is, het Opperman enkele onderwerpe uit die Nederlandse poësie vir sy rekening geneem. In 1960 het hy byvoorbeeld vir die tweedejaars klas gegee oor A. Roland Holst, terwyl hy by die derdejaars oor die poësie van Marsman gepraat het. In 1961 het hy vir die derdejaars lesings aangebied oor die poësie van Henriëtte Roland Holst-Van der Schalk, 'n skryfster oor wie se werk 'n mens - gedagtig aan die opstel oor C.M. van den Heever - by voorbaat kon verwag dat Opperman negatief sou staan. In sy lesings het hy dan ook gewys op die gevaar van 'n te sterk beskoulike, ideële element in die poësie. Die taak van die digter, so het hy dit - met 'n reminissensie aan sy matriekstudie van A midsummernight's dream - gestel, is om ‘a local habitation and a name’ in plaas van 'n ‘airy nothing’ te gee. Hierdie voorkeur vir die visuele het hy dan geïllustreer aan die hand van ‘De vredige dood I’ wat in 'n stuk veralgemening ontaard en weinig visueel is, in vergelyking met die Middeleeuse ‘Egidius’-lied wat 'n stuk ervaring dramaties en beeldend gee. Die tipe eksplisiete beelding in ‘De boom van grootverdriet’ was vir hom as poësie 'n te maklike procéde. 'n Moderne digter, so het hy dit aan sy studente gestel, sal die boom nie regstreeks met verdriet verbind nie, maar met beeld en klank só opbou dat hy stadig sy geheim loslaat. Om dit te illustreer, het hy die gedig volledig herskryf en aan sy studente voorgelees, 'n les in die digkunde en die fabrieksgeheime van die digter wat dié lede van die klas wat waardering daarvoor kon hê, lank moet bygebly het.Ga naar eind3 Vir die Honneursstudente het Opperman aanvanklik sy Kaapstadse kursus oor die Geskiedenis van die Literêre Kritiek met sekere aanpassings aangebied, maar toenemend min doseerwerk self gedoen en eerder verwag dat die studente met voorbereide stukke moes kom wat dan by wyse van seminare in die klas voorgedra is. Aangesien Erlank nie in die Middeleeue en Goue Eeu geïnteresseerd was nie, het Opperman van 1961 tot 1966 ook oor die Middeleeuse literatuur klas gegee. Vir 'n gedeelte van die sestigerjare het hy verder 'n kursus oor die Afrikaanse prosa aangebied. Dit is chronologies benader met die uitlig van hoogtepunte van die aanvang af, maar daar is van die studente verwag om die gebied met behulp van die sekondêre literatuur te verken en seminare in die klas te lewer. Die Honneurskursus wat Opperman self die meeste vreugde verskaf het, was dié oor die Afrikaanse poësie. In 1960 het hy indringend en met groot waardering - as 'n mens sy aanvanklike enigsins negatiewe reaksie oor dié bundel in aanmerking neem - oor Van Wyk Louw se Nuwe verse ge- | |
[pagina 317]
| |
praat, daarna die twee bundels van Peter Blum behandel en sy kursus afgesluit met seminaarklasse oor die jongste publikasies op die gebied van die poësie. Volgens die uitruilooreenkoms het hy in 1960 oor Achterberg se poësie klas gegee, in later jare ook oor die werk van die Nederlandse Vijftigers. Nog later het hy die kursus begin met 'n oriëntering ten opsigte van die hoogtepunte van die Afrikaanse poësie, die belangrikste bundels aangedui en die studente self aan die woord gestel om in chronologiese volgorde te praat en ook die jongste publikasies te bespreek, telkens afgewissel met sy eie kommentaar. Met die verskuiwing na Stellenbosch het Opperman veel groter getalle in sy voorgraadse klasse gehad. Die vraag ontstaan van watter metodes hy by die onderrig van die literatuur gebruik gemaak het en hoe geslaag hy as dosent was. Opperman het nooit probeer om met allerlei uiterlike kunsies of oratoriese vermoëns sy vak by die massa gewild te maak of na oppervlakkige populariteit te strewe nie. Vir die gemiddelde student was hy by tye met sy halwe sinne en inartikulate uitsprake verwarrend en soms was daar vir hulle 'n element van verveling in sy klasse. Hy was ook nie altyd op sy gemak voor groot groepe nie. Vir die belangstellende en ingeligte student was hy egter 'n voortreflike dosent. Wat telkens opgeval het, was die uiters logiese en geordende verdeling en aanbieding van die werk, die wyse waarop hy die jong student aan die belangrikste bronne oor 'n bepaalde onderwerp kon bekend stel en sy vermoë om 'n saak kernagtig en sistematies saam te vat. Telkens het hy sy studente verras deur die wyse waarop hy binne die bestek van 'n lesing van veertig minute die hoofpunte van 'n hele digterskap, 'n betreklik omvangryke gedig of 'n bepaalde aspek van 'n oeuvre kon aandui en terselfdertyd riglyne vir verdere ondersoek aan die hand kon doen. Hy was in staat om met enkele opmerkinge tot die essensie van 'n teks deur te dring en met verwysing na ander werk van dieselfde outeur of vergelykbare werk in ander tale verrassende verbande te lê. Deur sy breë kennis van die literêre teorie kon hy ook telkens aan die hand van bepaalde voorbeelde sy kandidate in die groter gebied van die literêre probleemstelling inlei en hulle deur sy vrae na 'n stuk selfontdekte waarheid voer. Vir die swakker student was dié enkele opmerkinge dikwels duister, maar vir die belangstellendes en toegewydes was sy riglyne waardevolle sleutels waarmee hulle verder kon gaan en hulle kennis en insig kon uitbrei. Met dit alles was sy lesings 'n pragtige balans tussen 'n sintetiese en analitiese benadering van die letterkunde, 'n verbinding van teorie en literatuurgeskiedenis aan die een kant en die praktyk van die letterkunde aan die ander kant. 'n Opvallende kenmerk van sy doseerwerk was die afwesigheid van enige dogma. Omdat hy self 'n ruim oopgesteldheid teenoor die literatuur gehad het, was hy nie net geïnteresseerd in 'n klein esoteriese terrein of 'n meganiese metode van analise nie. In sy lesings het hy dan ook herhaaldelik probleemstellend te werk gegaan deur telkens sekere basiese aspekte van 'n teks aan te dui, soms uitsprake van ander literatore te betrek wat op sekere punte ingrypend | |
[pagina 318]
| |
van sy eie interpretasie of oordeel oor 'n spesifieke werk verskil en dan aan die hand daarvan by wyse van vraagstelling die student verder aan die dink te sit. Hy was dus ruim genoeg om plek te maak vir uiteenlopende interpretasies en teorieë en kon só die behoeftes en smake van elke student bevredig. By geleentheid het hy hierdie basiese ingesteldheid as volg geformuleer: ‘Dit sou...van enige dosent dwaas wees om sy studente 'n skewe beeld te gee, want op die duur ondermyn hy sy eie doseerwerk. Kom die studente eenmaal buite die sfeer van sy lesings, ontdek hulle tog die waarheid, en terugskouend word sy arbeid ongedaan gemaak.’Ga naar eind4 In die loop van sy lesings in die sestigerjare het Opperman nie net probeer om die gebied van die Afrikaanse letterkunde te dek nie, maar ook om by sy studente sekere beginsels en teoretiese uitgangspunte tuis te bring. In sy lesings oor die poësie was hy besonder gevoelig vir die juiste woord en treffende siening, die wyse waarop 'n digter sy woorde etimologies kan ontgin of 'n sekere sensitiwiteit vir die ‘insluimerende beeldspraak’ openbaar, 'n begrip wat hy self na aanleiding van Elisabeth Eybers gebruik het.Ga naar eind5 Hierdie gevoeligheid vir die korrekte woord en 'n bevredigende styl het ook duidelik geblyk uit sy nasienwerk, want hy was gesteld op presiese formulering en het graag met sy rooi pen 'n kring om die klakkelose herhaling van dieselfde hulpwerkwoord in 'n sin getrek. Ná die aandag aan woord en beeld het hy telkens die aard van 'n bepaalde soort gedig, genre, kategorie of digterskap histories gesitueer, by voorkeur probleem- en vraagstellend gewerk en gewys op die sekondêre literatuur oor die teks onder bespreking. Na die literêr-historiese oriëntering het die hoofaksent in sy lesings op struktuursake geval. By voorkeur het hy 'n gedig benader as 'n klein drama en gewys op gevalle waar die beelding deur mymering of denke versteur word. 'n Element wat hy in sy eerste jare as dosent baie beklemtoon het, was die strukturerende funksie van die dramatiese spreker in 'n gedig of die verteller in 'n prosawerk. 'n Gedig moes vir hom selfgenoegsaam wees, as 't ware ‘in sy eie water smelt’, soos hy dit gestel het. Maar naas die analise van die enkele gedig moes sy studente ook wyer kon werk en die wêreld van een gedig met dié van 'n ander kon vergelyk. Vir so 'n vergelyking het hy die maatstaf van Pepper, soos verder genuanseer deur Warren en Wellek, in sy klasse gebruik, naamlik ‘the amount and diversity of material integrated’, al het hy in sy gesprekke met nagraadse studente erken dat dié maatstaf tog in laaste instansie onbevredigend is en nie alle moontlikhede dek wat die literatuur bied nie. Ander sake wat hy by herhaling ter sprake gebring het, was die verhouding tussen eksegese en beeld, die verskille tussen die belydenis- en beeldingsvers en die wyse waarop 'n skrywer 'n sekere korrektief in sy werk kon invoer. Wat baie van sy studente waarskynlik die langste bygebly het, was die feit dat hy nie slegs as 'n koel vakman gedigte ontleed het nie, maar 'n digter was wat | |
[pagina 319]
| |
kreatief met literatuur omgegaan en die geheime van die ambag deeglik geken het. Dit was nie vir hom genoeg om die kunswerk as 'n stuk timmerwerk of 'n blokkiesraaisel te sien wat jy uitmekaar kon haal of oplos nie. As ‘iemand wat self skryf’, het hy by geleentheid gesê, weet hy ‘dat die kunswerk veel meer as 'n woordspeletjie is, dat hy uit ervaring met die lewe self opgebou word’.Ga naar eind6 Hoewel die aksent in sy lesings telkens op struktuursake geval het, was sy studente uit sy hele omgaan met die vak daarvan bewus dat hulle te make gehad het met iemand vir wie die literatuur veel meer as 'n esoteriese gedoente met die taal was. Deur die wyse waarop hy sy vak kon doseer, het Opperman dus die respek van sy studente afgedwing, want vir baie van hulle was hy iemand wat as kennisbron nooit uitgeput kon raak nie. Die groot getalle in die voorgraadse jare het dit vir hom onmoontlik gemaak om elkeen in sy klasse persoonlik te leer ken, maar by die nagraadse studente was hy bekend as 'n genaakbare persoon met wie hulle oor probleme in verband met die vak kon gaan gesels. Alhoewel hy nie iemand was wat sy lesings met praatjies gevul het nie, kon sy skerp humor van tyd tot tyd na vore kom. By geleentheid het hy by die eerstejaars gevra waarom die ‘literêre’ liefdesvers, na die anonieme volkspoësie van die negentiende eeu, by die Eerste Geslag na 1900 grotendeels afwesig was en eintlik eers in die werk van die Twintigers verskyn. ‘Celliers was reeds op gevorderde leeftyd toe hy begin skryf het,’ was sy antwoord, ‘Marais se vrou was reeds oorlede, Leipoldt het nie veel belangstelling getoon nie en Totius...nou-ja, ons weet nie met sekerheid of hy ooit gevry het nie’! Op 'n keer het hy ‘Die profeet’ van Van Wyk Louw met die tweedejaars waarderend behandel en aan die einde daarvan ewe droog opgemerk: ‘Vergelyk Van Wyk Louw se gedig nou met die figure wat D.F. Malherbe as profete die wêreld ingestuur het.’ Tog kon hy by tye streng optree. Hy was afkerig van 'n koffieklas, omdat dit sy fyn uitgewerkte program omver gegooi het. Op 'n dag toe die studente nie vir 'n lesing opgedaag het nie, het hy op die swartbord geskryf wat hy van plan was om in dié periode te doen en dit as afgehandel beskou, iets wat 'n hele konsternasie veroorsaak het omdat dié werk essensiële afronding vir 'n komende toets was! Aanvanklik het Opperman die studente aan die Universiteit van Stellenbosch baie stimulerend gevind. As dorps- en residensiële universiteit met 'n lang tradisie het Stellenbosch naas dié uit Kaapland ook studente uit die ander provinsies getrek, iets wat aan dié inrigting 'n studentekorps met 'n groot akademiese potensiaal besorg het. Daarby het die mense in sy klas oorwegend uit Afrikaanse huise gekom en was die probleme met die medium wat vir baie van sy studente in Kaapstad 'n remmende faktor was, iets van die verlede. Om 'n goeie rekord van sy studente te hê, het hy in die Departement 'n nuwe puntestelsel ingevoer. Elke punt wat 'n student vanaf sy eerste jaar behaal het, is in 'n punteboek aangeteken, die predikaat of jaargemiddelde uitgewerk en die finale | |
[pagina 320]
| |
eksamenpunt tydens 'n bespreking aan die einde van die jaar deur die vier professore bepaal. Dié gegewens het hom ook in staat gestel om kundige getuigskrifte oor studente te skryf. Hoewel Opperman sy administratiewe verpligtinge nougeset nagekom en aanvanklik sy volle aandeel aan die Departement gehad het, was hy nooit tydens sy loopbaan as dosent geïnteresseerd daarin om baie vergaderings by te woon, ekstra administratiewe werk op hom te neem of posisies soos dié van dekaan te beklee nie. Senaatsvergaderings het hy gereeld bygewoon, maar hy het verkies om sy lidmaatskap van komitees tot die minimum te beperk en dit oor te laat aan kollegas wat in dié tipe werk belanggestel het. In Mei 1964 is hy deur die Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap aangestel as lid van die Senaat van die pas gestigte Universiteit van Port Elizabeth, 'n benoeming wat hom uitgedaag het om te help met die opbou van die nuwe akademiese inrigting en hom - in teenstelling tot die betreklik passiewe rol as lid van die Stellenbosse Senaat - gestimuleer het om 'n positiewe bydrae op die vergaderings te lewer.Ga naar eind7 Aangesien die vier professore in Afrikaans-Nederlands gelykwaardige status gehad het, was daar nie 'n vaste hoof van die Departement nie, maar 'n voorsitter wat van tyd tot tyd kon wissel. Met Opperman se toetrede tot die Departement was Kempen die voorsitter. Opperman en die ander twee professore het gevind dat Kempen - wat ook in 1960 dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte was - die werk goed behartig. Daarom het hulle hom telkens aan die einde van 'n siklus opnuut voorgestel en só die addisionele las van hulleself weggehou. Alhoewel hy dus groot vreugde uit sy nuwe werkkring geput het, was die oorskakeling vir Opperman 'n aanpassing en het dit hom 'n hele paar jaar geneem om heeltemal tuis te raak. Betreklik gou het hy gevoel dat hy te veel werk moes behartig en dat die groot klasse en getal studente baie van hom verg. Van 'n uitbreiding van die aantal dosente was daar aanvanklik nie sprake nie, omdat die Departement juis die vorige jaar die Administrasie laat verstaan het dat die besetting bevredigend was. Daarby het die verdeling van die vak in vier eenhede 'n verlammende uitwerking gehad, omdat elke professor jaloers oor sy regte en gebied gewaak het en elkeen presies dieselfde as die ander wou hê. Om die probleem met die geweldige administratiewe las en die nasiendrag op te los, het die Departement egter in die loop van die eerste semester van 1960 aansoek gedoen om die toekenning van vier assistente, een vir elk van die professore. Die assistente sou verantwoordelik wees vir die nasien van alle eerste- en tweedejaarstudente se werk, probleme verduidelik as daar navrae kom, as skakelpersone tussen die studente en die dosente dien en behulpsaam wees met biblioteekbestellings. Die eerste assistente se dienstermyn het in Julie 1960 begin en hulle is uit die Honneursklas of residerende Magisterstudente gekies. Aangesien die meeste van hulle later in akademiese poste by verskillen- | |
[pagina *17]
| |
35 In later jare saam met Meyer de Villiers, sy taalkundige kollega op Stellenbosch.
36 Onder die prieel op die voorstoep van Kiepersol, Opperman se huis op Stellenbosch, saam met Marié en hul dogter Heila.
| |
[pagina *18]
| |
37 Saam met Koos Human, met wie hy in die sestiger- en sewentigerjare ten nouste saamwerk as keurder, skrywer en direkteur van Human & Rousseau.
38 Tydens N.P. van Wyk Louw se besoek aan Stellenbosch in 1963 saam met Trienke, Diederi en Heila by sy Stellenbosse huis.
39 By die verskyning van Dolosse in 1963. Van links na regs: Ernst Lindenberg, Opperman, Marié Opperman, Heini Jaekel en Willem Jordaan, wat dié bundel - soos ook baie ander publikasies van Opperman - tipografies versorg het.
| |
[pagina *19]
| |
40 Skildery deur Opperman se vader met die onderskrif ‘Plinius studeer’. Dit vorm deel van die boustof vir die gedig ‘Dennebol’ uit die bundel Dolosse.
41 Van der Heiden (Fred le Roux) sterwend van honger en ontbering in die Donker Gat, een van die hoogtepunte in KRUIK se opvoering van Vergelegen in 1964.
| |
[pagina *20]
| |
42 Opperman op sy vyftigste verjaardag op Franskraal met die verskyning van Kuns-mis.
43 In 1966 ontvang Opperman die Hofmeyrprys vir die derde keer, van Heini Jaekel, bestuurder van die Nasionale Boekhandel.
| |
[pagina *21]
| |
44 Opperman ontvang die eredoktoraat van die Universiteit van Natal in 1968.
45 In 1968, die jaar waarin Gees van die wingerd verskyn.
| |
[pagina *22]
| |
46 Fred le Roux, Suzanne van Wijk en ander spelers tydens die première van Voëlvry in die H.B. Thomteater op 26 Oktober 1967.
| |
[pagina *23]
| |
47-49 Met enkele van sy studente en lede van sy Letterkundige Laboratorium: Leon Strydom (47), Antjie Krog (48), J.C. Kannemeyer, Lina Spies en J.P. Smuts (49).
50 Opperman gee klas vir sy Letterkundige Laboratorium.
| |
[pagina *24]
| |
51 Thys Pieterse, die model vir ‘Doors Dubbeldop’ uit ‘Kantelkompas’ in Edms. Bpk. wat in 1970 verskyn.
52 'n Tekening van Opperman wat Katrine Harries in 1972 maak.
53 By 'n huldigingsaand net voor sy sestigste verjaardag, gehou deur die Afrikaanse Studiekring op 12 September 1974. Links van die digter staan prof. Merwe Scholtz, regs van hom dr. Helize van Vuuren en dr. Bertie du Plessis, twee van sy nagraadse studente.
| |
[pagina *25]
| |
54 Op 29 September 1974 saam met Diederi en Marié by die viering van sy sestigste verjaardag.
55 Net ná sy ernstige lewersiekte van 1976.
| |
[pagina *26]
| |
56 ‘... toe...ek só eersugtig uit die dood terugstap ...’ Opperman ontvang 'n eredoktoraat van dr. J.S. Gericke, Vise-Kanselier van die Universiteit van Stellenbosch, einde 1976.
57 Opperman oorhandig sy dokumente aan die Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, prof. Jannie de Villiers, vir bewaring in die Universiteitsbiblioteek, 1977. Regs staan mnr. Flooi du Plessis, hoofbibliotekaris.
58 Saam met sy kollega W.E.G. Louw, van 1967 tot 1978 professor in die Nederlandse Letterkunde op Stellenbosch.
| |
[pagina *27]
| |
59 Opperman besig met sy bosviool.
60 Tydens 'n noenmaal op 3 Februarie 1979 oorhandig Opperman die manuskrip van Komas uit 'n bamboesstok aan die uitgewers Human & Rousseau. Van links na regs: mnre. H.D. Büttner en Leon Rousseau, Opperman en mnre. F.J. Davin, Koos Human en Heini Jaekel.
| |
[pagina *28]
| |
61 Marco Polo, met Bellela, Donata, Moreta en Fantina. Met die proewe van Komas uit 'n Bamboesstok.
62 Koos Human oorhandig 'n leergebonde eksemplaar van Komas uit 'n bamboesstok aan Opperman tydens 'n dinee op Stellenbosch op 8 Junie 1979. Voor sit prof. P.J. Cillié, seremoniemeester, en mev. Geraldine de Villiers, vrou van die Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, prof. Jannie de Villiers.
| |
[pagina *29]
| |
63 Die kunstenaar Philip Terblanche rond 'n kopstuk van Opperman af. Dit word tans bewaar in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek.
64 By die SAUK in Johannesburg op 14 Augustus 1979. Van links: Sheila Cussons, S.J. Pretorius, Ernst van Heerden, Dolf van Niekerk, Opperman en Olga Kirsch.
| |
[pagina *30]
| |
65 Opperman ontvang in Junie 1980 sy vierde Hertzogprys, dié keer vir Komas uit 'n bamboesstok, van prof. H.W. Snyman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
66 Opperman en Marié saam met dr. Philip Nel - jeugvriend en studentemaat - in Augustus 1980 in Durban.
67 Opperman in Malawi besig om tambala's (sente) uit sy beurs te haal om vir die kinders in die lang gras te strooi, soos hy dit in sy kinderjare met die Zoeloetjies in Natal gedoen het.
| |
[pagina *31]
| |
68 Aan die werk in sy studeerkamer. Sy groot lessenaar was altyd toe onder boeke en papiere.
| |
[pagina *32]
| |
69 Die laaste foto wat van Opperman voor sy beroerte geneem is. Die geleentheid was die verskyning van Eitemal se Reinaard die Jakkals, wat in die Libertassentrum net buite Stellenbosch op 19 Junie 1981 in ontvangs geneem is. Van links na regs: Opperman, Marié, Hettie en Duke Erlank.
70 Opperman se begrafnis op 26 September 1985: mev. Marié Opperman en familielede.
| |
[pagina 321]
| |
de universiteite aangestel is, was die betrekking as assistent terselfdertyd 'n leerskool wat vir latere onderrig en navorsing van onskatbare waarde was. Deur die biblioteekbestellings het hulle die geleentheid gehad om op die hoogte te kom met die jongste publikasies op die vakgebied, terwyl die nasien van toetse en opstelle hulle ingelei het in die tipe probleme van jong studente. Van 1962 af het Opperman ook 'n stelsel van vakansieleeswerk ingevoer wat dan deur sy assistent by wyse van mondelinge toetse gekontroleer moes word. Eerstejaars moes tydens die Julie-vakansie en tweede- en derdejaars tydens die Desember-Januarie-vakansie 'n aantal boeke uit die Afrikaanse poësie, prosa en drama bestudeer. Dit het gedien as aanvulling tot of voorbereiding vir 'n bepaalde kursus en terselfdertyd as uitbreiding van die studente se leeservaring. Vir die assistente was dit 'n metode om hulle vakkennis te verruim, want hulle moes die boeke deeglik bestudeer ten einde die mondelinge toetse bevredigend af te neem. Deurdat die assistente voortdurend in noue kontak met die professor moes bly, was hulle in 'n gulde posisie om 'n goeie persoonlike verhouding met hom op te bou en hom deeglik te leer ken. Opperman se assistente was agtereenvolgens John Kannemeyer (Julie 1960-1961), Lina Spies (1962), Johann Botha (1963), Pieter Harteveld (1964-1965), Chris van der Merwe (1966-1967), Charles Fryer (1968-1970), Wium van Zyl (1971), Dorothea Labuschagne (later Van Zyl; 1972), weer Wium van Zyl (1973), Helize van Vuuren (1974), Gerrit Olivier (1975), Anlen Jordaan (later Marais; 1976), Louise Viljoen (1977) en Joan Hambidge (1978-1979). Omdat die meeste van hulle ook met Honneurs- of Magisterstudie onder Opperman besig was, het hulle sy werkmetode, ingesteldheid teenoor die vak en hele persoonlikheid beter leer ken. Vir die meeste assistente, wat nog maar baie onervare was en oorweldig is deur Opperman se formaat as digter, was dit aanvanklik 'n moeilike aanpassing om op so 'n persoonlike vlak met hom te verkeer. Pieter Harteveld wou tydens sy jare as assistent byvoorbeeld graag vir Opperman beter leer ken. Hy het agtergekom dat Opperman op Donderdae 'n periode vry gehad het en dat hy dan nie altyd aan die werk was nie. Harteveld het gevoel dit is 'n gulde geleentheid, gereeld met Opperman gaan gesels en gevind dat hy baie genaakbaar en toeganklik was. So groot was sy verering vir Opperman dat hy egter besluit het hy mors die man se tyd. Op 'n spesifieke Donderdag het hy toe ook nie weer na Opperman se kantoor gegaan nie en weggebly. Groot was sy verbasing toe Opperman in sy deur verskyn met die woorde: ‘Kom jy gesels?’ Dit was vir Harteveld 'n groot deurbraak en die begin van 'n besondere persoonlike verhouding en vriendskap. Aangesien Harteveld nie alleen skerpsinnig oor die literatuur kon gesels nie, maar ook - soos Opperman - 'n wye belangstelling in 'n verskeidenheid dinge gehad het, was daar 'n hele paar raakpunte tussen hulle. In 1964, toe baie min Stellenbosse studente nog 'n eie ryding kon besit, het Harteveld vir hom 'n | |
[pagina 322]
| |
bromponie aangeskaf en dit vir Opperman gaan wys. Opperman het hom vertel van sy eie Harley Davidson wat hy in sy Pietermaritzburgse studentedae gehad het, 'n motorfiets wat hy Jangroentjie gedoop en waarmee hy die nôi besoek en die ander kêrels groen gehad het! Met sy bromponie kon Harteveld by die see uitkom, sy belangstelling in diepseeduik uitleef en vir Opperman allerlei vreemde seekosse aandra. So het hy van tyd tot tyd aangekom met 'n bottervis en 'n melkvis, 'n kraai- of papegaaibekvis en 'n orgie wat ook 'n varkie of gorra genoem is, 'n knorhaansoort wat bo die water knor of snork. Soms kon Harteveld van die diephoudende visse in die hande kry en moes hy vir Opperman alle onderwaterse seetonele en -geluide haarfyn beskryf: die tik-tik van klippe in die branding, die grom van skuiwende rotse, die omstrengeling van die seebamboes en die toneel van 'n sandvlakte met ingegraafde rôe of vlete by Smitswinkelbaai. Opperman was ook intens geïnteresseerd in die name van die seediere en in hengel- en duikterme en wou graag meer daarvan weet. Hoewel hy self in dié stadium by Franskraal visgevang en die seelewe goed geken het, was hy nie in dié mate met diepseeduik op die hoogte of só toegewyd aan visvang nie. Sy dogter Diederi het by geleentheid vir Harteveld gesê: ‘Pa hengel nie eintlik nie; hy sit maar net en droom en ondersoek opdrifsels en seedierreste. Soms sit hy nie eens aas aan sy hoek nie’! Die kennismaking met Harteveld was dus vir Opperman 'n belewenis, omdat hy deur hom met fasette van die seelewe in aanraking gekom het wat aan hom onbekend was. In sy latere werk kom baie van die see- en visterme, wat hy waarskynlik die eerste keer by Harteveld gehoor het, weer terug, soos in ‘Vreters van die bossie’ in Komas uit 'n bamboesstok. Wat die meeste van sy assistente die langste bygebly het, was Opperman se verbysterende kennis van die literatuur en sy vermoë om selfs die kleinste detail te onthou, sonder dat hy veel kantaantekeninge of kommentaar in sy boeke geskryf of sy lesings uitvoerig uitgewerk het. Sy klasaantekeninge oor die Middelnederlandse letterkunde het byvoorbeeld bestaan uit 'n paar foliovelle met hier en daar 'n fyn gekrabbel. By geleentheid wou Harteveld se vader - wat sy skoolopleiding in Nederland ontvang het - graag weet wie die skrywer van 'n gedig is waarvan hy uit sy jeugjare net twee reëls kon onthou. Die twee reëls het gelui: Hij schoof het schuifken open.
Grootvader, geef mij het maar.
Harteveld is met die twee reëls na Opperman. Na 'n oomblik se aarseling het Opperman gesê hy vermoed dit is die werk van een van die susters Loveling, twee digteresse wat met die eeuwenteling in Nederlands geskryf het maar vandag aan selfs deeglike vakmanne onbekend is. Hy het opgestaan, 'n bloemlesing uitgehaal en binne enkele oomblikke die hele gedig aan Harteveld gegee! | |
[pagina 323]
| |
Naas die formidabele geheue is sy assistente dikwels getref deur die lewendige wyse waarop hy 'n verhaal of voorval kon vertel en deur sy humorsin wat van tyd tot tyd tot uiting gekom het. Harteveld kon jare later onthou in watter detail Opperman, in 'n kamerjas, slaapklere en pantoffels geklee en met 'n glas brandewyn in die een hand, van sy ervaring van stiergevegte in Spanje vertel het. Selfs in later jare, toe sy gesondheid nie meer na wense was nie, het hy sy assistente met sy droë humor verras. Die Departement Geskiedenis, onder meer met prof. D.J. Kotzé, was gehuisves op die boonste vlak van die Wilcocksgebou, 'n verdieping hoër as Afrikaans-Nederlands. Op 'n dag daag Opperman betreklik laat in die teekamer op. Annette Theron, Kempen se assistent, sê vir hom: ‘Prof. Kotzé van hierbo het na u gesoek’, waarop Opperman van hom laat hoor: ‘O, en wat wou die engel hê?’ Hoewel Opperman hom nougeset aan sy voorgraadse klasse gewy het, was die instelling van die assistentstelsel vir hom 'n verligting, want hy het gevoel hy word aan flarde geskeur en sy energie op elke moontlike manier getap. Met 'n bietjie wrewel skryf hy dan ook later in Kuns-mis in een van die reeks ‘Selfportrette’ van die denneboom wat vroeër ‘die Suidoos moes uitdaag’ maar nou ‘vir tamatiekissies opgesaag’ word, 'n toespeling op wat van hom as dosent by die Maties aan die word is! Daarom het hy van die begin af meer belanggestel in die senior klasse en deur die jare baie studente gehad wat die M.A.-graad onder hom voltooi het, dikwels oor onderwerpe wat hy self in die klas aangevoer of as probleemvelde gesien het. In 1962 verkry John Kannemeyer die M.A. met 'n studie oor Die dramatiese spreker in 'n vers, in 1963 Lina Spies oor Die bewerende en beeldende vers by Elisabeth Eybers, in 1964 F.M. Gaum oor Onhistorisiteit in Bybeldramas en -romans en in 1965 J.C.M.D. du Plessis oor Tradisie en vernuwing in die Afrikaanse verhalende prosa. In die loop van sy jare op Stellenbosch het sewentien studente onder hom hul M.A. voltooi, van wie die meeste later akademiese posisies sou beklee.Ga naar eind8 Na gelang van die aard en gehalte van die kandidaat het die metodes verskil waarop Opperman leiding gegee het. Hy was nooit voorskriftelik of dogmaties nie en het daarop aangedring dat 'n student eers self sy onderwerp - al was dit dan in 'n rudimentêre vorm - formuleer en nie na hom vir 'n tema kom nie. Hy het van sy studente verwag om self helderheid te bereik, 'n voorlopige indeling in te lewer en dan die studie - hoofstuksgewys, as hulle dit verkies het - vir hom te bring. As hy dan iets op papier voor hom het, was hy bereid om 'n stuk met kritiese oorgawe te lees en sy gebruiklike skerpsinnige kommentaar te lewer. Vir die D. Litt. het Opperman tydens sy loopbaan as dosent drie kandidate gehad wat die studie onder hom voltooi het, nl. John Kannemeyer, Dawid Spangenberg en Johan Smuts. In 1964 promoveer Kannemeyer oor die onderwerp Die stem in die literêre kunswerk waarin hy die aanbiedingswyse in die poësie, prosa en drama nagaan. Naas Opperman as promotor tree Erlank as interne en Rob Antonissen as eksterne eksaminator op. In 1973 voltooi Span- | |
[pagina 324]
| |
genberg die D. Litt. met 'n studie oor Die nie-metriese vers in Afrikaans waarin hy die tradisie van die vrye vers vanaf Marais se Boesmangedigte tot Uys Krige se poësie en die werk van Breyten Breytenbach nagaan. W.E.G. Louw en Merwe Scholtz tree onderskeidelik as interne en eksterne eksaminatore op. In 1975 lewer Johan Smuts sy proefskrif oor Karakterisering in die Afrikaanse roman in, 'n studie waarvoor Louw en Scholtz weer die eksaminatore is. Al drie hierdie kandidate betuig in die voorwoord tot hulle studies hulle skatpligtigheid teenoor Opperman. Ook baie van sy voorgraadse en Honneursstudente spreek later hulle waardering uit vir sy onderrig. Tussen sy dokumente in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek is daar baie briewe van oud-studente wat hom vir sy aandeel aan hulle vorming bedank. Amanda Boshoff skryf waarderend oor sy lesings wat vir haar ‘uniek’ sal bly, sy lesse om noukeurig op taalgebruik te let en sy aanmoediging tot eie skeppende werk. Bridget du Toit bedank hom vir die insig in die spesifieke werke en die ‘liefde vir ons taal’ wat hy daarmee aangewakker het. En D.W. van Rensburg, vader van Ria Smuts, bedank hom vir wat hy vir hulle dogter beteken het: By herhaling het sy (Ria - J.C.K.) met hoë waardering van u as mens en as dosent gepraat. Met groot dankbaarheid het sy vertel wat u vir haar vorming beteken het. Sy is diep beïndruk deur u vakkennis, u voorbereidheid vir elke dag se lesing, maar veral deur die vaderlike en natuurlike menslikheid waarmee u u studente behandel. Sy het groot waardering vir die manier waarop u hulle gedissiplineer het tot strenge objektiwiteit en wetenskaplike vorsing. | |
IIDie jaar voor Opperman se koms na Stellenbosch het Meyer de Villiers begin om by een van sy lesings vir die derdejaars die klas in twee te verdeel, met een groep studente werk te behandel wat nóú by die literatuur aansluit en met die ander groep - wat oorwegend 'n belangstelling in die taalkunde gehad het - gevorderde werk op 'n gespesialiseerde gebied te doen. Kempen het hiervan te hore gekom en gemeen dit is 'n baie goeie gedagte. Toe die vier professore aan die begin van 1960 byeenkom om oor die jaarprogram te praat, het De Villiers die gedagte genoem en gevra of die ander dosente nie ook met so iets wil begin nie. Opperman het dit onmiddellik aangegryp, want met die verdeling van die klas in twee groepe, van wie een groep, kleiner in getal as die ander, in die letterkunde sou spesialiseer, het hy die moontlikheid gesien van die verwesenliking van 'n ideaal, nl. om 'n werkswinkel of 'n laboratorium te stig waarin hy voornemende jong digters van advies oor hulle skeppende werk kon bedien, 'n | |
[pagina 325]
| |
‘school der poëzie’ wat die studente deur bestudering van mekaar se werk kon help om hulle eie foute in te sien en geleidelik deur eie ervaring tot selfstandige digters te ontwikkel. Voor Opperman se koms was Erlank wel altyd bereid om studente se skeppende werk te bekyk, maar sy advies het privaat geskied en nie deel van die curricula gevorm nie. Ook Ernst van Heerden was tydens sy jare as lektor op Stellenbosch toeganklik vir voornemende skrywers en het van tyd tot tyd hulle werk gelees en hulp verskaf. In 1959 was hy 'n jaar lank met verlof met die doel om die ‘creative writing schools’ aan Amerikaanse universiteite te bestudeer, 'n ervaring waaroor hy in 'n atikel in Standpunte, XIV:1, Oktober 1960 verslag doen. Alhoewel hy ná sy terugkeer na alle waarskynlikheid met Opperman oor sy navorsing sou gesels het,Ga naar eind9 was Van Heerden se inligting nie deurslaggewend vir Opperman se besluit nie.Ga naar eind10 Die feit dat hy reeds in Pietermaritzburg skoliere aangemoedig en van hulle skryfpogings nagegaan het, sy jarelange werk as uitgewerskeurder vir die Nasionale Boekhandel en sy persoonlike bemoeiing met die werk van digters soos G.A. Watermeyer, Ernst van Heerden, Ina Rousseau en Peter BlumGa naar eind11 het die instelling van 'n kursus in die digkunde eintlik 'n logiese voortvloeisel van sy belangstelling in ander se skeppende werk gemaak. In Kaapstad met sy baie Engelstalige studente was so 'n kursus nie prakties moontlik nie, anders sou hy waarskynlik reeds vroeër in sy loopbaan as dosent daarmee begin het. Die akademiese jaar aan die Universiteit van Stellenbosch het in 1960 op Maandag, 22 Februarie begin. Op dié dag is Opperman deur Kempen as voorsitter van die Departement in die teenwoordigheid van die ander kollegas aan die studente voorgestel. Op Dinsdag, 23 Februarie het hy sy eerste lesings gegee, hoofsaaklik deur inleidend te praat, die program vir die jaar in die vooruitsig te stel en die voorgeskrewe boeke aan te kondig. Sy eerste werklik volledige lesing was egter 'n voordrag wat hy op Vrydagaand 26 Februarie op uitnodiging van die Afrikaanse Studiekring, die letterkundige vereniging van die studente, gehou het. By dié geleentheid kon hy vir die eerste keer van sy senior studente op 'n meer persoonlike vlak ontmoet. Voor die lesing het die bestuur van die Studiekring al vier die professore en hulle vrouens uitgenooi na 'n dinee in die Drostdy-Hotel. By dié geleentheid het Meyer de Villiers die Oppermans op 'n geestige wyse baie hartlik welkom geheet. Die Van der Sterr-gebou is dieselfde middag geopen en die eerste openbare voorlesing in die hoofsaal van dié gebou was dié van Opperman. Sy onderwerp het hy geformuleer as ‘Kolporteur en kunstenaar’,Ga naar eind12 'n formulering waarmee hy die dubbele taak van dosent oor die literatuur en vervaardiger van die literatuur aandui. In die eerste gedeelte van sy voordrag het hy gekonsentreer op sy belangstelling as vakman in die ‘strata en struktuur van 'n kunswerk’, al wou hy nie benaderings soos die historiese, die biografiese, die genetiese en dergelike meer heeltemal verwerp om 'n bydrae tot die verstaan van 'n kunswerk te lewer nie. In die tweede helfte van sy lesing het hy die | |
[pagina 326]
| |
aksent verskuif na sy eie skeppende werk en sy opvattinge in dié verband. ‘My eerste taak is natuurlik om die literatuur te doseer,’ het hy gesê, maar as iemand wat self skryf, stel ek ook belang in die skeppende werk van die studente. Met die groot Afrikaanse studentemateriaal behoort die verhouding van die Afrikaanse skeppende genie hier aansienliker as op die meeste ander plekke te wees. Die bedoeling is dan om 'n groepie studente hulle eie skeppende werk krities te laat bespreek, dus 'n soort letterkundige laboratorium aan te lê. Dit kan 'n uiters omslagtige en tydrowende manier van doseer wees - daarom is dit noodsaaklik dat die deelnemers tot 'n klein groepie beperk word. Dié groepie moet alreeds in die literatuur onderrig ontvang het en dus oor 'n sekere agtergrond beskik. Dit sal heel moontlik gevorderde studente wees wat al self gedig het. Na hierdie aankondiging oor die instelling van 'n Letterkundige Laboratorium het hy voortgegaan om sy eie opvattinge oor die skryfarbeid uiteen te sit: 'n afkeer van eksegese binne die kunswerk behalwe waar dit esteties verantwoord is en 'n voorkeur vir beeldende poësie, ‘die verstand deur die oog en oor gevoed’.Ga naar eind13 Die gedig moet as 't ware homself skryf, ‘die digter moet hom in die proses net help’.Ga naar eind14 Vir baie van die studente wat as jong mense ontvanklik gestaan het teenoor nuwe indrukke, was dié lesing 'n hele belewenis: Opperman se programmatiese inset wat by herhaling in die loop van die jaar in hulle gesprekke opgeduik het namate hulle sy lesings aangehoor en sy werkwyse en teoretiese beginsels beter leer ken het. Die Letterkundige Laboratorium het eers aan die begin van die tweede semester van 1960 'n aanvang geneem toe Opperman twee lesings by Afrikaans-Nederlands III gehad het en die verdeling van die klas in twee groepe kon plaasvind. Studente wat vir die kursusGa naar eind15 in aanmerking wou kom, moes aan die einde van die tweede jaar 'n bevredigende akademiese prestasie van ten minste 60% behaal het of moes deur voorlegging van skeppende werk hulle toelating tot die kursus kon motiveer. Van studente wat reeds gedigte geskryf het, is verwag om van hulle werk in te lewer. Daaruit het Opperman dan 'n bloemlesing van ongeveer twintig gedigte saamgestel wat oorgetik, afgerol of gefotokopieer en in 'n boekie ingebind is. By die oortik is die name van die skrywers weggelaat. In later jare het hy vir die gedigte 'n mooi houer laat maak wat deur Tafelberg en Human & Rousseau verskaf is: 'n lêer met aan die een kant 'n bladsy uit die geskrewe manuskrip van Van Wyk Louw se ‘Groot ode’ en aan die ander kant 'n gedeelte uit die manuskrip van Opperman se eie Joernaal van Jorik. Die klasse, waarvan die getal tot sestien of hoogstens twintig beperk is, het die vorm aangeneem van 'n streng kritiese bespreking van die tekste waaraan alle studente onder leiding van Opperman moes meedoen. Aangesien die studente 'n persoonlike betrokkenheid by hulle eie werk gehad het, was daar 'n sterk motivering om die werk onder bespreking te verdedig of aan te val. Die hele metode van onderrig was dus gegrond op die intense betrokkenheid van | |
[pagina 327]
| |
die aanwesiges, indiwiduele kontak en wisselwerking, en genadelose en eerlike kritiek terwyl die skrywers deur hulle anonimiteit beskerm is. Omdat Opperman dit as 'n anomalie beskou het dat die beeldende kunstenaar en selfs die komponis aan universiteite met hulle skeppende werk punte kon verwerf maar nie die digter nie, was dit van die begin af sy oortuiging dat ook die skeppende literêre genie dieselfde voorreg moes geniet. Die digter hoef nie - soos hy dit baie later in 'n onderhoud van 26 Oktober 1979 met Die Suidwester sou stel - ‘versmoor (te) word onder muwwe taalteorie’ nie. Met die ingelewerde gedigte het die studente dus reeds punte verwerf. Daarnaas het hy nog twee kriteria aangewend by die toekenning van punte: die ontleding van gedigte (waarvoor die nie-skeppende lede van die Letterkundige Laboratorium stukke moes inlewer) en die responsievermoë op 'n stuk wat ter bespreking voorgelê is. Hieruit is dan 'n gemiddelde punt saamgestel. Die eksamenvraag was altyd 'n vergelyking en ontleding van die gedigte in die betrokke jaar se werkboek. Dit was Opperman se gewoonte om eers heel aan die einde van 'n bespreking self toe te tree en op ontledings en waarnemings te reageer. Nooit het hy egter probeer om sy eie sienings, oordele of vooroordele aan sy studente op te dring nie. In die besonder het hy daarteen gewaak om sy eie voorkeur uit te spreek waar dit by 'n lewensbeskouing of 'n -isme kom. In sy onderhoud met Die Suidwester sê hy dat hy vrede het met ideologie, lewensbeskouing of moraliteit; in die digkunde-klasse het dit gegaan om vakmanskap en tegniek: ‘Ons grootste gemene deler is nie lewensbeskouing nie, maar skerpsinnigheid, nie drilvisagtige aanploetery nie, maar geraffineerde intellek.’ Tog het Opperman in die loop van die kursus sekere beginsels by die voornemende skrywers tuisgebring. Gewoonlik het hy aan die begin die verskil tussen 'n gewone rympie en 'n goeie gedig geïllustreer deur van die versies in Die Burger se in memoriam-kolomme teenoor die Middeleeuse ‘Egidius’-lied te stel en daarna die verhouding tussen inspirasie en perspirasie te bespreek. Al het hy toegegee dat daar voorbeelde in die literatuur is (onder meer sy eie ‘Sondag van 'n kind’!) waar die digter deur een of ander inblasing feitlik mediumisties 'n vers kon skryf, was dit geïsoleerde gevalle. Die totstandkoming van poësie vereis meestal harde arbeid. Hy het die geval genoem van Tagore wat 'n kind sy digterlike vader laat sien as iemand wat snippermandjies vol papier skryf, al het hy gewaarsku dat 'n gedig nie - soos die Nederlandse diggenootskappe geglo het - net deur arbeid verkry kon word nie. As die beerwelpie doodgebore is, sal - soos Staring tereg sê - die gelek van die moeder niks help nie. Die vonk en die aanvoeling moet dus daar wees, maar daarnaas moet die kunstenaar homself nie spaar nie. Om sy studente van die romantiese opvatting van die digterskap te genees, het hy 'n bestudering van The creative process aanbeveel, 'n boek waarin verskillende skrywers uit uiteenlopende gebiede onder redakteurskap van Brewster Ghiselin oor die skeppingsproses uit- | |
[pagina 328]
| |
wei. In later jare het hy die ‘groot besinnings’ oor die poësie en die digterlike ambag vir die studente laat fotokopieer en vir hulle uitgedeel: vanaf Aristoteles en Horatius se uitsprake, deur Dante, Van Boendale, Sidney, Shakespeare en Vondel tot Shelley, Keats, Wordsworth, Coleridge, Poe, Whitman, Kloos en Van Ostaijen. Vervolgens het hy, meestal na aanleiding van tekste in die betrokke jaar se bloemlesing, studente gemaan om veralgemenings te vermy, hulle sintuie te kultiveer en eerder beeldend as beredenerend te werk te gaan. Jare na haar bywoning van sy klasse kon Lina Spies byvoorbeeld nog duidelik onthou hoe Opperman gewaarsku het teen woorde soos ‘twyfel’, ‘sekerheid’, ‘krag’ en ‘vrees’ wat eerder met konkrete beelde en metafore vervang moes word.Ga naar eind16 Hy het sy studente gewys op die gevare van -ismes en ideologieë en hulle afgeraai om Filosofie as vak te neem. Die dosente in die Filosofie, so het hy dit gestel, is met hulle abstrakte denke ‘'n bedreiging vir...(sy) klein skeppende kudde’.Ga naar eind17 In aansluiting hierby het hy aanbeveel dat die digter van sy eie ego af moet wegskryf. As hy byvoorbeeld oor die verganklikheid wil uitwei, moet hy in dinge soos roes, mos, sens of wurm 'n ekwivalent daarvoor kry. Hy moet dus na 'n ‘objective correlative’ soek soos Eliot gesê het, hy moet leer soos Nijhoff om nie met sy mond te fluit nie maar met 'n fluit, hy moet die ‘slobberige kwyldrade van die bibberende mond’Ga naar eind18 probeer vermy. ‘Hy het my geleer dat ek die self moes aflê as ek wou skryf,’ sê Lina Spies, ‘dat ek die wêreld met opgeskerpte sintuie moes ontdek, dat ek moes kon kruip in die vel van my medemens en hom met 'n sesde sintuig moes aanvoel, dat die oop oog en die oop hart nodig is en nie die toemaak in die eie klein binnewêreldjie nie. Dit alles beteken vir die digter harde werk om waardig te wees vir die bedryf.’Ga naar eind19 ‘Die voordeel van hierdie wegskryf van jouself af is,’ sê Opperman, ‘jy bekyk jouself klinies en selfs sinies, in elk geval objektief. Dit bring verhouding en perspektief en die siening van alles in betreklikheid. En die allerbelangrikste nog: jy kan rustig werk en oordeel oor die finale vormgewing. Jy byt deur die atavistiese naelstring.’Ga naar eind20 'n Ander belangrike saak wat Opperman telkens in sy klasse by die Letterkundige Laboratorium ter sprake gebring het, is dat die persoon wat wil skryf, deeglik op die hoogte moet wees van die literêre tradisie waarbinne hy optree. ‘Die kunstenaar moet, om te kan skep,’ het hy reeds in sy ‘Kolporteur en kunstenaar’-lesing gesê, ‘'n tegniese én historiese vakkennis hê. Die literatuur ken geen of weinig voorbeelde van skrywers wat nie by 'n tradisie aansluit nie.’Ga naar eind21 In sy klasse het hy by herhaling op die uitspraak in Van Wyk Louw se ‘Ars poetica’ gewys: ‘Uit die gevormde literatuur/ is nooit weer poësie te maak nie.’ Uit die dae van sy Pietermaritzburgse leeswerk oor die literêre teorie en kritiek kon hy vir hulle Hopkins aanhaal, woorde wat vroeg reeds in sy lewe vir hom 'n stelreël geword het: ‘I read masterpieces and do otherwise.’ Die gevaar dat 'n ander digter die eie stem van die skrywer mag demp, was vir | |
[pagina 329]
| |
Opperman 'n baie belangrike saak wat die jong digter vroeg in sy loopbaan deeglik moes leer ken. 'n Digter kon, soos Vondel gesê en Opperman self ook in die praktyk bewys het, leer om behendig te steel, maar hy moes daarteen waak dat iemand anders in sy ‘woordklank...saampraat’.Ga naar eind22 By geleentheid het 'n gedig van een van die studente ter sprake gekom waarin 'n kat geteken word wat versigtig oor die nat teerstrate stap: 'n Kat sluip druipstert
oor die swart slang;
skuur half-bang teen 'n kaal lamppaal,
wat sy flou liggie troosteloos uitsprei.
Opperman het gevra of hierdie siening nie aan 'n bestaande gedig herinner nie. 'n Lid van die klas het gewys op Van Wyk Louw se ‘Straat’ uit Alleenspraak met die slotbeeld van: 'n kat
met koue glim van swart fluweel
en voete vies'rig vir die nat.
Een van die studente het gevra wat die posisie is as die skrywer voor die skryf van die gedig onbewus was van dié spesifieke vers van Van Wyk Louw en dat daar dus nie sprake van beïnvloeding kon gewees het nie. Opperman se onmiddellike antwoord was dat dit nie net 'n saak van beïnvloeding is nie. As 'n digter vandag in Afrikaans die beweging van 'n kat oor 'n nat straat wil uitbeeld, móét hy weet dat Van Wyk Louw vóór hom reeds so 'n tekening gegee het en dat sy gedig aan dié van Van Wyk Louw s'n gemeet gaan word. Hy moet dus rekening hou met die gedig van Van Wyk Louw en dit is deel van sy taak om die literêre tradisie voor hom te ken indien hy in daardie tradisie wil skryf. In die loop van jare het baie studente wat in die digkunde-klasse was, begin publiseer. In sy artikel in Tydskrif vir Letterkunde noem Opperman die name van ‘produkte soos Kannemeyer, Smuts, Spies, Strydom, Van Vuuren, Britz, Olivier, e.a.’Ga naar eind23 wat op die gebied van die kritiek werksaam is. Onder lede van die Letterkundige Laboratorium wat later ander genres beoefen het, is die dramaturg Pieter Fourie, die draaiboekskrywer Franz Marx en die prosaskrywers Louis Krüger en Etienne van Heerden; laasgenoemde is ook die skrywer van 'n digbundel. Van ses digters verskyn verse in Stiebeuel 2 (1965), naamlik Pieter Fourie, Pieter Harteveld, André Potgieter, Lina Spies, Annette Theron (later Snyman) en Margaretha van der Merwe. In die sewentiger- en tagtigerjare verskyn dan debuutbundels van twaalf digters: Lina Spies, Fanie Olivier, Leon Strydom, Niel van Tonder, André le Roux, Rika Cilliers, Marlene van Niekerk, Charles Fryer, Etienne van Heerden, Annette Snyman, E.W.S. Hammond en Daniel Hugo. In die bundel Visier (1984) verskyn verse van Robin Hawkins, Anlen Marais en Wium van Zyl wat ook die Letterkundige | |
[pagina 330]
| |
Laboratorium bygewoon het. Tereg kon Opperman in sy artikel dus sê dat daar met hierdie werk ‘'n duidelike Stellenbosse impuls in ons jongste digkuns gekom het’.Ga naar eind24 Baie van hierdie werk is dan ook met literêre pryse bekroon. Die geslaagdheid van die Letterkundige Laboratorium deur die jare is in die eerste plek toe te skryf aan Opperman se persoonlike betrokkenheid as dosent. Dit was 'n kenmerkende eienskap van hom dat hy altyd werklik opgewonde kon word as iemand anders presteer en gedigte kon inlewer wat hy as geslaag beskou het. Daarnaas kon hy ook met sy hele inset as digter doseer en sy eie beginsels by die skryf van poësie oordra, al het sy katolieke smaak, oopgesteldheid en gebrek aan vooroordele verhoed dat hy aspirant-digters in 'n smal voortjie laat loop het. Daarom dat George Boshoff, een van die lede van die Letterkundige Laboratorium en later sportredakteur van Beeld, by geleentheid met groot waardering oor Opperman se digkunde-klasse kon skryf: Onbewus het hy homself, Opperman die mens en skepper van groot poësie, aan ons blootgelê, hoe hy te werk gaan met die skrywe van 'n gedig, sy deeglikheid, sy moeitelose volharding en sy tevredenheid met net die beste. Dit was ook in hierdie klasse dat ek hom leer ken het as 'n skerpsinnige kritikus, 'n virtuose vakman wat altyd weet wat hy wil hê.Ga naar eind25 Vir Leon Strydom was die opname van gedigte in die Laboratorium se bloemlesing 'n eerste ‘groot uitdaging vir die aspirant-digter, en 'n eerste onderwerping aan die “literatuurkritiek”. Eintlik kan mens sê: D.J. Opperman was ons eerste redakteur, ons eerste uitgewer; opname in sy Laboratorium en die daarmee gepaardgaande “bloemlesing” was 'n eerste doelwit.’Ga naar eind26 En die dinge wat die studente in die digkundeklasse geleer het, is nie aan hulle opgedring nie. Leon Strydom sê: Belangrik is dat dié waarhede jou nie gevoer is nie, maar dat die geleentheid vir jou geskep is om dit proefondervindelik self te ontdek, dat jy reeds tóé kon begin leer, en wel in die geselskap én onder beskerming van D.J. Opperman vir wie wedersydse vertroue en kreatiewe betrokkenheid voorwaardes was vir die studiesituasie.Ga naar eind27 Alhoewel Opperman dikwels studente aangeraai het om ná opname in die Letterkundige Laboratorium se bloemlesing van hulle gedigte aan Standpunte te stuur, het hy hulle dikwels gemaan om nie oorhaastig met publikasie te wees nie. Aan Pieter Harteveld het hy vertel dat die eerste weergawe van ‘Sprokie van die spikkelkoei’ drie jaar in sy laai was voordat die slotstrofe homself aangebied het. ‘'n Mens moet nie 'n ding probeer ryp druk nie. Tyd bring ryping en rypheid. 'n Jong digter moet versigtig wees vir te vroeë bundeling,’ het hy graag gesê. Toe Lina Spies in 1968 'n eerste bundel aan hom voorgelê het, was hy beïndruk, maar het hy gemeen dat sy nog nie reg is vir publikasie | |
[pagina 331]
| |
nie. Onderweg na Natal het hy in Port Elizabeth aangekom en met haar in die Algoa-Hotel gesels. Daar was vir hom baie goeie gedigte in die manuskrip, maar nog te veel swakkeres. ‘As jy jou nek wil afsny,’ het hy aan haar gesê, ‘moet jy die bundel só uitgee.’ Terug uit Nederland in 1970 het Lina Spies hom weer 'n manuskrip gewys wat toe feitlik sonder wysiging vir hom goed was. In so 'n geval, waar hy 'n manuskrip as goed genoeg vir publikasie beskou het, kon hy deur sy jarelange kennis van die uitgewersbedryf sy studente verder bystaan deur 'n ontmoeting tussen die skrywer en 'n spesifieke uitgewer te reël en selfs advies te gee wat formaat, bandontwerp en lettertipe van die komende uitgawe betref. Die verhouding tussen Opperman en sy laboriete - soos hy hulle graag genoem het - was dus veel meer as dié tussen dosent en student en selfs dié tussen studieleier en promovendus. Opperman het met sy optrede absolute vertroue geskep en van die studente kon openlik oor baie sake met hom gesels, al het hy nie gehou van 'n sieklike belangstelling in die self of 'n ‘metafisiese gekwyl’ oor religieuse aangeleenthede nie. Gedagtig aan sy vader se eksperimente in sy dae as kind en jong man het hy in verband met die spiritisme vir Harteveld gesê: ‘Bly maar weg daar, dit is 'n doodloopstraat - hoogstens interessant.’ Hy was 'n man van die aarde en konkrete dinge en verskynsels het hom geïnteresseer, nie abstrakte bespiegelings wat nêrens heen lei nie. Tydens hulle persoonlike kontak met hom is daar soms vir die laboriete bepaalde aspekte van hulle leermeester se karakter treffend geïllustreer. By geleentheid is Bertie du Plessis, van 1968 tot 1975 literatuur- en teologiese student op Stellenbosch en iemand wat ook die skilderkuns beoefen, deur die studentetydskrif Penseel gevra om pentekeninge van Van Wyk Louw en W.E.G. Louw vir die omslag te maak en daarna ook van Opperman met die oog op sy sestigste verjaardag in 1974. Terwyl Opperman tuis vir Du Plessis aan die poseer was, het hy vir Marié gevra om 'n fles wyn met net een glas daarby neer te sit. Toe Du Plessis vra waarom nie ook hý wyn kry nie, het Opperman speels gesê hy is bang daar word 'n skewe beeld van hom geteken. In alle erns het hy egter voortgegaan en gesê dat 'n kunstenaar miskien sy ingewings deur drank kan kry, maar dat hy nie onder invloed kan skep nie. ‘Alkohol is 'n verwarrende invloed en dit belemmer jou tegniese afronding,’ het hy gesê. 'n Ander beginsel wat by herhaling in gesprekke met Opperman na vore gekom het, is die sentrale en alles usurperende posisie wat skeppende werk in 'n kunstenaar se lewe inneem. In 1975 het Antjie Krog die Letterkundige Laboratorium as gasstudent bygewoon en was sy aan die werk aan haar bundels Beminde antarktika en Mannin. Opperman het albei bundels - wat oorspronklik as een manuskrip voorgelê is - deurgegaan, wysigings voorgestel en vir publikasie aanbeveel. Na die goedkeuring van die manuskrip het Antjie Krog egter 'n bepaalde gedig uit 'n siklus verwyder, omdat sy bang was dat dit in later jare 'n negatiewe uitwerking op een van haar kinders kon hê. Ná die | |
[pagina 332]
| |
verskyning van die bundel het Opperman haar in 'n gang van die Wilcocksgebou gekry en gevra dat sy met hom moet kom gesels. In sy kantoor het hy, so vertel Antjie Krog self, die bundel ‘op die lessenaar laat kletter en kortaf gevra na die uitgelate gedig’. Haar ‘senuweeagtige verduideliking is saaklik, maar wreed, kort geknip: “As jou lojaliteit teenoor die poësie só lyk, moet jy asseblief nóú ophou skryf”’.Ga naar eind28 Die onvoorwaardelike oorgawe en lojaliteit aan die kunstenaarskap was vir Opperman een van die min aangeleenthede waaroor nie geredeneer word of waaroor ander gesigspunte bestaan nie. In ‘Kuns is boos!’ het hy reeds uitvoerig uiteengesit dat die digter geen lojaliteite behalwe dié teenoor die poësie ken nie, 'n beginsel wat in sy lewe as kunstenaar allesoorheersend was en wat hy ook onvoorwaardelik van sy laboriete verwag het. Iets wat baie studente ná aan hom opgeval het, was dat Opperman 'n kunstenaar alles sou vergewe en dat sy lojaliteit en verskilpunte tussen persone in laaste instansie altyd by die kunstenaar sou lê. Vir 'n enigsins verbeeldinglose kollega, wat een van sy laboriete as 'n bietjie mallerig beskou het, was sy antwoord baie gou: ‘Baie kunstenaars wyk af, maar dit beteken nie dat hulle noodwendig sertifiseerbaar is nie. Jyself was ook nog nooit heeltemal normaal gewees nie.’ Toe 'n digteresvriendin aan die skei was, het hy aanvanklik simpatie met die man gehad. ‘Ek wil ook nie 'n vrou hê wat in die oggend gediggies skryf en in die aand aan migraine ly nie,’ het hy gesê. Tog het sy medelye en bekommernis uiteindelik na haar uitgegaan, omdat sy die skeppende persoonlikheid is en kragtens haar werk in sy waardesisteem 'n belangriker posisie beklee het. Studente met skeppende talent kon dus op hierdie basiese ingesteldheid van Opperman steun. By geleentheid het hy selfs in die hof getuig ten gunste van 'n aspirant-digter wat hom aan dwelmmisdade skuldig gemaak het. Die Letterkundige Laboratorium, soos Opperman dit op Stellenbosch aangebied het, was 'n unieke eksperiment op die gebied van die literatuuronderrig in Suid-Afrika. Met sy seldsame verbinding van skerp kritiese vermoëns en digterskap, van intellek en hartstog, was hy die ideale persoon om so 'n kursus aan te bied. Daarom het Hennie Aucamp gelyk as hy beweer ‘dat die Opperman-skoling in 'n hoë mate die Opperman-persoonlikheid was’.Ga naar eind29 Hy was nie geïnteresseerd daarin om 'n stelsel of 'n ‘model’ te ontwerp wat ander ná hom meganies kon voortsit nie, waarskynlik omdat hy intuïtief geweet het dat so 'n stelsel of ‘model’ nie bestaan nie en slegs 'n sterk persoonlike betrokkenheid by dié tipe doseerwerk resultate sou hê. Wat Johan Smuts van Opperman se doseerwerk as sodanig sê, geld in die besonder vir die Letterkundige Laboratorium: Opperman was as dosent glad nie in die eerste plek daarin geïnteresseerd om vir sy studente 'n aantal literatuurwetenskaplike handgrepe by te bring nie, maar wel om hulle tot 'n verantwoorde kritiese gesprek te dwing. Omdat hy self so 'n buitengewone literêre aanvoeling gehad het en feilloos kon oordeel, was hy in | |
[pagina 333]
| |
staat om deur sy kommentaar op 'n teks of 'n student se ontleding telkens tot die kern deur te dring. In dié proses is jou literêre intuïsie op 'n feitlik magiese wyse verfyn, terwyl hy terselfdertyd deur sy gedronge formulering jou styl geslyp het.Ga naar eind30 | |
IIIMet sy verskuiwing na Stellenbosch en sy toetrede tot 'n Afrikaanstalige universiteit was Opperman as dosent in 'n gunstiger posisie as in Kaapstad om nuwe talent en opkomende skrywers na Standpunte en die Nasionale Boekhandel vir publikasie te kanaliseer. Daarby was die groter afstand van Kaapstad geen belemmering vir 'n voortsetting van sy werk as keurder nie, aangesien hy telefonies bereikbaar was en die uitgewers hom maklik op Stellenbosch kon besoek. In sy eerste drie jaar op Stellenbosch skryf hy dan ook heelwat verslae vir die Nasionale Boekhandel en by geleentheid 'n enkele vir HAUM en Perskor. Hoewel 'n manuskrip gedigte onder die titel Getuie van Pirow Bekker ‘'n simpatieke indruk maak, is die bundel as geheel te skraal, is baie van die verse onvolkome of nog blote probeerslae’ en doen die digter te veel mee aan die ‘kwatrynekultus’ wat al begin mode word het. Ook Lionel Sheldon se ‘rou’ gedigte vind hy minder goed: ‘... hy worstel langs die digterlike Jabbok en kom meestal geskonde daarvan af.’ Verse van Pieter W. Grobbelaar is vir hom, ten spyte van mooi sienings, ‘blote rymjoernalistiek’. Suiderkruis van S.V. Petersen vind hy ‘nie 'n rewolusionêre of indrukwekkende bundel nie’, maar dit is ‘suiwerder en meer ingetoë’ as sy vroeër werk en in 'n groot mate het die digter die ‘cliché-taal’ en die ‘oorbeklemtonings’ oorwin. In 'n verslag van 28 Maart 1960 oor die manuskrip Ukulele van Ingrid Jonker dui hy as geslaagde gedigte aan ‘25 Des. 1959’, ‘By die dood van 'n maagd’, ‘Swanger vrou’ en ‘Jy't my gekierang’ en wys hy ook op mooi onderdele in ander verse. Alhoewel dit vir hom 'n ontwikkeling ná Ontvlugting toon, is dit nog nie 'n sterk bundel nie. ‘Persoonlik voel ek die digteres behoort die groep verse wat ek uitgesonder het, as 'n kern te beskou en daarvandaan opnuut te begin werk. Sy is 'n strenger dissipline aan haar vinnig ontwikkelende talent verskuldig.’ As hy in Maart 1961 'n hersiene teks van Ukulele ontvang, oordeel hy skerper. Die verse ly vir hom aan 'n ‘struktuurloosheid’, hulle is ‘vol los funksielose reëls en beelde (en) daar kan willekeurig bygevoeg of weggelaat word’. Verder is die beeldvorming ‘cliché-agtig’, die verstegniese effekte van ‘beweging, nadruklikheid en opeenstapeling herinner aan die oorspronklike werk en/of vertalings uit die Spaans van Uys Krige’ en baie van die gedigte ‘kom nog te sterk eksperimenteel-surrealisties...voor’. As hy vroeg in 1960 'n manuskrip van Adam Small onder die titel Jesus en ander verse ontvang, beveel hy aan dat die digter van die swakker verse weglaat | |
[pagina 334]
| |
en aan party verder werk. Vir die afdeling ‘Vir die kitaar’ het hy besondere waardering. Dit is nie 'n navolging van Van Wyk Louw, Boerneef en Blum se volkse verse nie, maar ‘'n soort Bybelse klopslied wat eerder aan 'n Afrikaanse Vachel Lindsay laat dink’. In Julie 1961 lê Small die bundel Kitaar my kruis voor waarin die volkse verse 'n sentrale plek inneem. In sy uitstekende verslag karakteriseer Opperman die ‘basiese patroon’ van dié gedigte as ‘een wat van die ghommalied tot die lekepreek wissel sodat die gedigte beweeg van die lied tot die spreekvers’, 'n produk ‘wat verwantskap toon met die Amerikaanse gedigte gebaseer op die “Negro spirituals”’. Hy het beswaar teen die ‘raserigheid, herhalings en veelwoordigheid’ en oor die algemeen mis die verse die ‘gekonsentreerdheid en gehalte’ van Blum se ‘Kaapse sonnette’. Die gevaar van die rasseprobleem as sentrale tema ‘is dat dit 'n obsessie word en aan die verse 'n doel buite die digkuns gee’. Die hoofsaak is dan nie meer ‘die interne lewe en verborge skoonheid van die gedig nie, maar die buite-literêre probleem waarop die aandag telkens gevestig word’. Kitaar my kruis maak dus ‘die indruk van roue digterlike improvisasies oor 'n uiters aktuele probleem’, maar dit is ‘improvisasies met so 'n eie hartstog en noodsaak, so 'n eie selfregverdiging dat...(hy) publikasie daarvan kan aanbeveel’. Hoewel die meeste van hierdie keurdersverslae vir die Nasionale Boekhandel geskryf is, kom daar in die sestigerjare 'n onvergenoegdheid by Opperman oor dié uitgewery se doen en late. Reeds in die vroeë vyftigerjare het sekere onoordeelkundige besluite om werke nie te publiseer nie, hom omgekrap, maar sy ontevredenheid is besweer deur die bestendige aanwesigheid van Ben Olivier wat die herdrukke van sy verseboeke goed behartig het. Met die aanstelling van Koos Human wat sy eie publikasies voortreflik gehanteer het en deur sy ondernemingsgees medewerkers kon stimuleer, het Opperman 'n belese en kundige gespreksgenoot op die gebied van die literatuur en 'n goeie vriend bygekry. In 1958 het Human egter, waarskynlik as gevolg van 'n sekere Jan Salie-gees by die uitgewery en 'n gebrek aan deskundige leiding, besluit om 'n betrekking by die Afrikaanse Pers-Boekhandel in Johannesburg te aanvaar. 'n Tyd lank is die Algemene Publikasies weer deur George Minnaar waargeneem wat die uitgawe van Opperman se Astrak - 'n bloemlesing uit sy werk - behartig het. Jan Scannell, Opperman se Natalse studentevriend, was in daardie stadium verbonde aan Naweekpos, maar het 'n uitnodiging van die Nasionale Pers aanvaar om 'n Kernensiklopedie saam te stel. Toe sy werk daaraan klaar was, het hy weer tot die Algemene Publikasies van die Nasionale Boekhandel toegetree en was hy in 1963 verantwoordelik vir die uitgawe van Opperman se Dolosse waarvoor die omslag deur Willem Jordaan ontwerp is. In 1964 hanteer hy ook Kort reis na Carrara, 'n bloemlesing deur A.P. Grové uit die werk van Opperman wat by geleentheid van die digter se vyftigste verjaardag verskyn. Van die beperkte oplaag is 120 genommerde en getekende eksemplare in 'n luukseband | |
[pagina 335]
| |
uitgegee. Die tipografie is behartig deur Jürgen Fomm. Dit het die prys vir die bes versorgde boek van die jaar van die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging ontvang. Die verskyning van die bloemlesing is in die Lobster Pot in Bellville gevier. Vir dié geleentheid het Scannell die laaste strofe van die gedig ‘Negester en stedelig’ met 'n bietjie aanpassing agterstevoor geskryf, dit deur Fomm op handgeskepte papier laat druk en dit by die geselligheid voorgelees en aan Opperman oorhandig: Dirk in trurat - Na 50
Terwyl die stedeligte in jou siel nog skitter,
straal altyd Suiderkruis en Negesterre witter
in jou besef van vegter weer van die begin, alleen.
Jy gee aan die geslagte sin deur eeue heen,
en aan jou werke grens die ewigheid.
Wat sal ons dan onthou altyd?
Sal ons die buffel sonder metafisika hier noem,
die flits, die nartjie, Dabor wat verdoem?
Mag jy nou verder deur die grysland reis,
met vyftig nuwe sterre om die weg te wys.
Koos Human was egter nie lank in Johannesburg nie. As iemand wat goed op die hoogte was van die jongste strominge in die Afrikaanse literatuur, met heelparty skeppende kunstenaars bevriend was en daarby as sakeman 'n uitstekende kennis van die uitgewerswêreld gehad het, was dit sy oortuiging dat daar by baie mense 'n behoefte bestaan het aan 'n jong en ondernemende firma wat nuwe dinge sou aandurf. Die APB het in daardie stadium veral gekonsentreer op populêre leesstof en sy boeke was tipografies swak versorg. By Van Schaik is weinig nuwe werke van jonger skrywers gepubliseer en die firma het met die oog op die voorgeskrewe mark hoofsaaklik aan die ouer gevestigde figure se werk voorkeur gegee. Onder leiding van Opperman as kundige keurder het die Nasionale Boekhandel die voortou geneem wat publikasies op die gebied van die poësie betref, maar op die terrein van die prosa was die firma minder ondernemend. In die vyftigerjare is Eitemal se Jaffie, Elise Muller se Die vrou op die skuit en C.G.S. de Villiers se Snel dan jare vir publikasie afgewysGa naar eind31 en die skrywers het hulle tot A.A. Balkema gewend wat in daardie stadium in die Afrikaanse literêre mark geïnteresseerd was en sy uitgawes tipografies puik versorg het. Human het dus tereg gemeen dat 'n ondernemende Afrikaanse saak 'n funksie sou kon vervul. Op 1 Februarie 1959 was hy terug in Kaapstad om saam met Leon Rousseau die nuwe uitgewery Human & Rousseau te loods. Later dié jaar verskyn hulle eerste twee publikasies: The last division van Anthony Delius en die heruitgawe van W.E.G. Louw se vertaling van Gustave Flaubert se Die legende van die heilige Julianus die herbergsame. Van die begin af wou Human graag Opperman se samewerking hê. Reeds | |
[pagina 336]
| |
terwyl hy by die Nasionale Boekhandel werksaam was, het Opperman teenoor hom die gedagte uitgespreek dat 'n ondernemende Afrikaanse uitgewersfirma 'n figuur van literêre allure as direkteur behoort aan te stel, soos T.S. Eliot dit vir Faber & Faber was. In daardie stadium het Opperman iemand soos Canis Scholtz in gedagte gehad wat met sy ervaring as korrektor goed op die hoogte was van die uitgewerswêreld. Human het egter gemeen dat Opperman sélf met sy jarelange keurwerk, noue kontak met jonger skrywers, praktiese ingesteldheid en verbluffende kennis van die literatuur en die boekdrukkuns die aangewese persoon vir sy nuwe uitgewery sou wees. Hy het die saak teenoor Leon Rousseau genoem, maar dié het gemeen hulle moet 'n jaar of wat wag en die firma eers behoorlik opbou. Intussen was Human egter gereeld met Opperman in aanraking en het hy heimlik gehoop dat hy die een of ander tyd sy regstreekse samewerking sou kon kry. Vroeg in 1960 het Opperman vir Human gesê: ‘Bel my oor ses maande in verband met L.L.’, want hy het in daardie stadium gemeen dat die Letterkundige Laboratorium se bloemlesing tot 'n beperkte klein uitgawetjie kon lei. Human het die datum in sy sakboekie aangeteken, maar moes ses maande later verneem dat Opperman nog niks definitiefs oor ‘L.L.’ kon sê nie. Intussen het die Afrikaanse Studiekring verskeie skrywers en letterkundiges van oor die hele land uitgenooi om as sprekers op te tree en het die bestuur ernstig daaraan gedink om die lesings in een of meer bundels te laat publiseer. Opperman het met Human geskakel en die moontlikheid daarvan genoem. Op dié wyse het Aanslag en Woordwêreld wat 'n jaar of wat later die lig sou sien, ontstaan. Dit het vir die jong Stellenbosse studente - onder andere Kannemeyer, Smuts en Hans Büttner, laasgenoemde later 'n lid van Human & Rousseau se personeel - 'n eerste ervaring gegee met die kontrolering van proewe en die hele produksie van 'n boek. Die deurbraak vir Human & Rousseau as firma en sy vestiging as toonaangewende nuwe uitgewery het in 1962 gekom. In dié jaar het Human daarin geslaag om die manuskripte van Leroux se Sewe dae by die Silbersteins en Brink se Lobola vir die lewe - wat albei eers aan ander uitgewers voorgelê is - te bekom en terselfdertyd met die publikasie van N.P. van Wyk Louw se Tristia en Elisabeth Eybers se Balans die medewerking van twee van die voorste Afrikaanse digters te verkry. Human het gemeen dat die firma nou genoeg status het en dat hulle Opperman kon uitnooi om as direkteur toe te tree. Oor 'n ete by Leon Rousseau se huis in Somerset-Wes het die twee vennote die saak aan hom gestel. Indien Opperman sou inwillig, sou dit nie vir hom nodig wees om aandele te koop nie en sou hy onder geen verpligting wees wat sy eie publikasies betref nie. Opperman het gevra om oor die hele aangeleentheid na te dink. Na afloop van 'n geselligheid in November 1962 by Ernst Lindenberg se huis in Pinelands het hy egter onderweg na Milnerton vir Human gesê dat hy bereid is om direkteur te word. ‘Ek aanvaar dit met vreugde en met dankbaarheid,’ was | |
[pagina 337]
| |
sy woorde. Hy het in so 'n toetrede die geleentheid gesien, so sou hy dit later formuleer, ‘om as skeppende kunstenaar, soos Eliot, saam met twee besielde jong manne regstreeks aan 'n uitgewery verbonde te wees’.Ga naar eind32 Alhoewel hy nie verplig was om in die maatskappy te belê nie, het Opperman daarop aangedring en heelwat aandele gekoop. Sy onafhanklikheid as skrywer en sy trou teenoor die Pers het hy egter herbevestig deur in 1963 sy bundel Dolosse by die Nasionale Boekhandel te laat verskyn. Kuns-mis (1964) en Edms. Bpk. (1970) het hy daarna wel by Human & Rousseau gepubliseer, terwyl ook die omvattende Gees van die wingerd (1968) by dié uitgewery verskyn het. By haas alle besluite van die vitale en snelgroeiende firma het Human toenemend vir Opperman regstreeks betrek en gereeld na Stellenbosch oorgery om met hom te onderhandel en nuwe manuskripte voor te lê. In dié omstandighede het Opperman dit gerade geag om sy keurwerk vir Nasionale Boekhandel te beëindig en sy volle gewig by Human & Rousseau in te gooi. Leon Rousseau het Opperman by die jeugafdeling ingespan, hom 'n aandeel laat neem aan groot ondernemings soos die Kennis-ensiklopedie en hom selfs sover gekry om Sunny B. Warner se Tobias en sy groot rooi tas (1964) in Afrikaans te vertaal. Tussen Human en Opperman het daar egter 'n nouer samewerking ontstaan. Human het daarin geslaag om ouer digters soos Uys Krige, S.J. Pretorius, Olga Kirsch en Ina Rousseau by sy firma te laat uitgee en het nuwelinge soos George Louw, Rosa Keet en H.W. Truter gelok. Op sy beurt het Opperman die Stellenbosse skeppende talente aangeraai om hulle manuskripte na Human & Rousseau te stuur en dikwels self as bemiddelaar tussen die jong digters en Human opgetree. Op dié wyse het Lina Spies, Leon Strydom, Fanie Olivier, Niel van Tonder, André le Roux en Marlene van Niekerk in die loop van die sewentigerjare by Human & Rousseau gedebuteer. In 1970 was dit Opperman wat aanbeveel het dat Human die gedigte publiseer van Antjie Krog, in daardie stadium 'n Kroonstadse skooldogter wat met haar ‘gewaagde’ verse en prosastukke in die skooljaarblad en deur die oorname daarvan in die Sondagkoerant Die S.A. Beeld van 16 Augustus 1970 landwyd bekendheid verwerf het. As hy 'n paar jaar later toevallig in 'n boekwinkel afkom op 'n eksemplaar van Vir die bysiende leser, die in daardie stadium vir hom onbekende debuut van die digteres Wilma Stockenström, is hy dadelik só entoesiasties dat hy vir Human bel met die versoek om die regte vir die bundel oor te neem en met die skryfster in aanraking te kom.Ga naar eind33 Maar Human het Opperman se kragte nie alleen vir die poësie opgeëis nie. Toe Human in 1965 van 'n uitgebreide reis deur die VSA terugkeer met voorbeelde van kernagtige literatuurstudies wat as handleiding vir studente bedoel was, het Opperman die wenslikheid en noodsaaklikheid van 'n soortgelyke reeks in Afrikaans ingesien. Hy het dit Blokboeke oor die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde genoem, 'n beknopte samevatting van riglyne en metodes geskryf, 'n lys eerste onderwerpe opgestel en deur bemiddeling van Human | |
[pagina 338]
| |
medewerkers genader. Die reeks was 'n groot sukses, want feitlik alle uitgenooide letterkundiges het geesdriftig meegedoen. Binne enkele jare het 'n hele aantal handleidings die lig gesien wat sowel by universiteite as skole 'n belangrike hulpmiddel vir die literatuuronderrig geword het, soos Opperman se reeks verseboeke dit sedert hulle verskyning vir die poësie-onderrig was. Die sestigerjare in die Afrikaanse letterkunde was egter in die besonder 'n tydperk van vernuwing op die gebied van die prosa, 'n vernuwing waaraan Human & Rousseau met sy publikasie van baie van die jongeres se werk 'n belangrike aandeel gehad het. Reeds voor Opperman se toetrede as direkteur het die firma Lobola vir die lewe en Sewe dae by die Silbersteins gepubliseer. Na sy aanvanklike gebrek aan geesdrif vir Leroux se werk in die vyftigerjare was Sewe dae by die Silbersteins vir hom 'n groot verrassing en het hy dit vir sy Stellenbosse studente voorgeskryf. Ook Lobola vir die lewe was vir hom 'n belangrike deurbraak. In gesprekke het hy die hantering van seks in dié roman verdedig teen kritici soos F.E.J. Malherbe wie se oordeel minder gunstig was en dit ook met sy klasse behandel. Van Leroux se vroeëre werk het sy voorkeur by die hernieude kennismaking na Die mugu uitgegaan, 'n roman wat hy met sy pakkende inset as die hiperbool van 'n skoolopstel gesien en vir sy eerstejaars voorgeskryf het. Leroux was daarop gesteld dat Opperman sy manuskripte bekyk. In die sestigerjare was dit Leroux se metode om 'n nuwe manuskrip na voltooiing aan Human te pos wat dit self deurgegaan, daarna aan Opperman besorg en soms ook aan een van die taalkorrektors voorgelê het. As die werk aan die manuskrip deur al drie voltooi is, het Leroux vir 'n paar dae na Kaapstad gekom. Gewoonlik was hy in die Hotel Metropole in Langstraat tuis, maar Human het hom so gou moontlik na sy aankoms vir 'n sessie met Opperman na Stellenbosch geneem waartydens die manuskrip deeglik deurgegaan en bespreek is. Opperman het byvoorbeeld teen die slot van Een vir Azazel beswaar gehad en Leroux het in die Metropole daaraan verander, al het hy volhard en nie Opperman se wenk opgevolg om die hoofstuk ‘Deur die oog van die luiperd’ weg te laat nie. Teen die middeldeel van Die derde oog het Opperman ook besware gehad, maar oor 18-44, veral oor die funksionele refreinvertelling, was hy meer geesdriftig. Aangesien die onderhandelinge met Leroux meestal mondeling plaasgevind het, is daar geen volledige verslae van Opperman oor dié romans nie - hoogstens enkele aantekeninge op los stukkies papier. Oor Brink se werk in die sestigerjare bestaan daar vollediger verslae. Opperman was egter meermale negatief in sy oordeel of het aangedring op ingrypende hersiening. Alhoewel hy uiteindelik Miskien nooit bevredigend genoeg vind vir publikasie, is daar vir hom ‘iets verkeerds met die ratio tussen die soektog en die geweld’ in die roman en kom ‘die kamera...telkens in die pad van die pen’. Die ‘newevertellings en -beskrywings wil miskien doelbewus iets flenterigs aan die verhaal bring, maar dit werk versperrend’. Teen 'n manuskrip van Brink onder die | |
[pagina 339]
| |
titel Dood van 'n by het Opperman ernstige besware. Dit wil ‘'n Afrikaanse Waste Land op die ruwe raamwerk van Sofokles se Antigone wees’ en in dié opsig die mite-wêreld van Etienne Leroux benader, maar die geheel en die ooreenkomste met Sofokles en Eliot vind hy verwarrend. Die rebelle lees vir hom vervelig en gerek, die kragwoorde is te willekeurig en die historiese aantekeninge oorbodig. Hy beveel dit wel aan vir publikasie omdat die firma deur die verskyning van Die verhoor - die ander Slagtersnek-drama waarmee Die rebelle 'n tweeluik vorm - homself gekompromitteer het, maar maak dit duidelik dat die uitgawe teen sy sin is. Hoewel ‘die naaktonele en beskrywings van geslagtelike omgang’ in 'n Oomblik in die wind ‘soberder is as in party van sy vorige romans, is dit nog volgens die tipiese Brink-resep’. Die ‘vroeëre strafmetodes’ teen nie-blankes aan die Kaap word te sterk beklemtoon en ons kry, volgens Opperman, ‘'n uiters eensydige siening van die blanke: hy is wreed, negatief, sadisties. Daar is oral die genot wat die verteller haal deur uit te wei oor besonderhede en buite die verhouding van sy verhaal daarmee aan te hou.’ Die roman as geheel bied ‘'n uiters geringe leesavontuur; dis eindelose reisbeskrywings, af en toe onderbreek deur “flash-backs”....Verder het ons dié soort reisbeskrywings en tegniek alreeds gehad by Jan Rabie, en meer elementêr by G.R. von Wielligh en Karl Kielblock. Hier wil dit ook 'n “innerlike reis” word, maar dit word te veel oorwoeker deur uiterlikhede. Ten spyte van die geloop, gereis, raak die verhaal eintlik staties. Die slot is uiters teleurstellend, die probleemstelling word ontduik ... It just peters out.’ Oor baie van die prosawerke wat hy in die sestiger- en vroeë sewentigerjare beoordeel, skryf Opperman nie volledige verslae nie omdat heelparty mondeling afgehandel is. Daarby is sy prosa - ook in sy briewe uit dié tyd - soms slordig deur te vlugtige oorgange wat selfs grammatikaal gewelddadig aandoen. 'n Mens kry die gevoel dat dit vir hom 'n oorlas was om prosa te skryf en dat hy gevoel het hy mors waardevolle tyd wat hy aan skeppende werk kon gewy het, al is daar van tyd tot tyd steeds verrassende formulerings in sy motiverings. 'n Prosawerk waaroor hy sy oordeel redelik uitvoerig motiveer, is Dambord van Anna-Louize Heiberg wat hy met al die sielkundige uitpluisings onaanvaarbaar vind. Die veelduidigheid van die vertelling in Die moeder van Dolf van Niekerk het vir hom iets onbevredigends, omdat die verhaal ‘in die baarmoeder’ bly, nie tot ‘betekenisvolle vertelling’ uitgroei nie en om diepsinnigheid ‘bedel’. Die verhaal van Jan Rabie se Klipwieg is te ‘skraal’, die vertelling ‘sloer’ en die geheel is te ‘uitgerek en eentonig’, terwyl die karakters ‘“eksentrieke” van die moderne wêreld’ is, telkens met ‘dieselfde etikette’. Verder dreig ‘'n tweespalt tussen reisbeskrywing en karakterverkenning’ en bestaan die gevaar dat ‘bespieëling en gefilosofeer...oral die reisbeskrywing en handeling (versper)’. Uiteindelik beveel hy die uitgawe aan, maar vra dat die roman ‘dramaties verkort en hersien word’. 'n Prosageskrif waarvan Opperman stap vir stap die hele wordingsproses belewe en wat hy uitvoerig | |
[pagina 340]
| |
met die skrywer bespreek het, is Leon Rousseau se Die groot verlange. Nog voor die skryf daarvan het hy vir Rousseau sekere bronne aangedui oor hoe 'n biografie geskryf behoort te word en daarna elke hoofstuk volledig deurgewerk soos dit ontstaan het. ‘Dit was sy oordeel,’ sê Koos Human, ‘dat die werk aan Die groot verlange 'n doktorsgraad waardig is.’Ga naar eind34 Maar Opperman se grootste belangstelling was nog steeds die poësie. Soms gee hy aan aspirant-digters waardevolle advies, onder meer om Grové se Woord en wonder te bestudeer, 'n groot verskeidenheid gedigte in Groot verseboek te lees en vas te stel hoe die digter te werk gegaan het, met 'n beeld of reël te begin en geduldig daaraan te werk en die geheel te ‘voed’, daarna van die voltooide verse aan 'n tydskrif te stuur en van die redaksie se optrede af te lei of daar vordering is, en uiteindelik om uit die tydskrifverse 'n keuse te maak en die bundel aan 'n uitgewer voor te lê. Alhoewel daar in onderdele heelwat in die gedigte van Wilhelm Knobel uit 'n manuskrip van 1968 te waardeer is, bly die meeste verse ‘yl en fasiel’, bereik hulle ‘selde die magiese wat hy in party gedigte nastreef’ en beoefen hy ‘oor die algemeen 'n soort joernalistieke vers: 'n vers wat jy met 'n eenvoudige lees uitgeput het’. Antjie Krog se Januariesuite bevat vir hom talle mooi sienings en 'n paar goeie verse, maar die gedigte ‘word gekenmerk deur 'n toenemende vormloosheid, 'n opsommingstegniek, beperkte temas en die “ek:jy”-gedigte wat, ten spyte van sporadiese treffende beelde, eentonig raak’. Die bundel is wel sterker as haar eerste en hy beveel publikasie aan, maar hy waarsku: ‘Die digteres ken die vonk..., maar 'n mens kry effens die indruk dat sy vlamme aan haar voete voel.’ Oor Barend J. Toerien se Illusies, elegieë, oorveë, transfusies oordeel hy gunstig. Die Shakespeariaanse sonnette in dié bundel vorm ‘'n boeiende mikrokosmos van Suid-Afrikaners en die mens oor die algemeen’. Die gedigte is ‘vlot geskryf’, maak gebruik van die ‘enumerasie-tegniek’ en deur die epiese en die terugkerende karakters is daar 'n ‘sikliese element’ wat vir ‘'n indrukwekkende eenheid’ sorg. Oor Ina Rousseau se Taxa is hy baie geesdriftig. Dié ‘harde, amper emosielose poësie’ het vir hom 'n ‘vaart’, is ‘skerp en helder’ met die ‘interne en snelle rymklanke, interessante ritmes en vaart’. Die poësie in Marlise Joubert se So ver en verder bly te veel ‘geïsoleerde siening en beeld’, dit gee nog nie ‘daardie intuïtiewe, assosiatiewe oorrompelende spronge’ wat 'n mens verwag om 'n ‘magiese eenheid’ te kry nie - ‘daardie amper biologiese opbloei van die wonder vind nie plaas nie’. In die bundel is daar ‘'n baie sterk element wat gedig na gedig uitmekaar ruk, i.p.v. bind, sodat ons 'n fragmentasie kry wat hierdie talentvolle digteres se werk vernietig’. Oor die werk van Opperman se laboriete bestaan daar geen volledig geskrewe verslae nie, waarskynlik omdat dié manuskripte mondeling met Human afgehandel is. Alleen in die geval van Lina Spies se 'n Mus vir Marjolein - die voorloper van Digby vergenoeg - en Fanie Olivier se Om alleen te reis is daar in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek enkele aantekeninge. In later jare het hy daartoe oorge- | |
[pagina 341]
| |
gaan om 'n puntestelsel vir gedigte aan te lê en op dié wyse vas te stel of 'n manuskrip publiseerbaar is. Een van sy maatstawe was dat 'n bundel ten minste vyf goeie verse moet hê wat in 'n bloemlesing soos Groot verseboek opgeneem kan word. Ten nouste verbonde met sy werk as uitgewerskeurder en sy belangstelling in ander se skeppende werk is sy lidmaatskap van komitees wat literêre pryse moes toeken. Ten spyte van die feit dat hy lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was, het hy nooit in dié liggaam se keurkomitees gedien nie. In 1961 tree hy op as keurder toe die eerste CNA-prys aan Chris Barnard vir Bekende onrus toegeken word en later is hy in die komitee wat Fanie Olivier met die Reina Prinsen-Geerligsprys vir sy bundel Gom uit die sipres bekroon. In 1963 dien hy in die komitee wat die eerste Perskorprys aan Ingrid Jonker vir haar bundel Rook en oker toeken, 'n bundel wat veel sterker is as die voorlopers wat hy onder die titel Ukulele ter insae gehad het. In 1964 is hy en Van Wyk Louw baie geesdriftig oor Breyten Breytenbach se Katastrofes en Die ysterkoei moet sweet en oorreed hulle F.I.J. van Rensburg, die ander lid van die komitee, wat Chris Barnard se Dwaal wou bekroon, om 'n eenparige aanbeveling ten gunste van Breytenbach in te stuur. In sy verslag vind Opperman die twee werke van Breytenbach nou verwant aan mekaar. Die spreker in albei is ‘'n dubbelgestalte ...: 'n realis en 'n fantas wat 'n eie grillige wêreld opbou’. Die vrye verse neig na die prosa en die prosa neig na die poësie en albei is opvallend los van Afrikaanse invloede. Katastrofes vind hy 'n verdere ontwikkeling ná Jan Rabie, terwyl die ‘selfportrettering’ wesentlik verskil van ‘die Dertiger se narcissisme’ en nader kom ‘aan Peter Blum se selfspot’. Die selfportrettering is ‘'n egosentriese tekening wat óns en die tydgenootlike wêreld intelligent, sterk sintuiglik, verbeeldingryk, geestig maar ook simpatiek sien’. Soms is die verse in Die ysterkoei moet sweet ‘gesog en ekshibisionisties’ en soms ‘is daar 'n te groot willekeur in die assosiasies en die katalogisering van indrukke’, al het hy waardering ‘vir die avontuurlike woord- en beeldgebruik’ in albei boeke. Oor die algemeen slaan hy Katastrofes hoër aan as die verse, omdat dié ‘digterlike prosa ... meer (kan) verduur as die soms prosaïese gedigte’ en meer stukke op hulle eie kan staan.Ga naar eind35 Opperman se noue betrokkenheid by Human & Rousseau en die werk van jonger Afrikaanse skrywers was medebepalend vir sy standpunt in verband met en reaksie op 'n saak wat die hele literêre wêreld in Suid-Afrika in die sestigerjare geraak het, naamlik die wetgewing om binnelandse publikasies te beheer en eventueel te verbied. Met die verskyning van die werk van prosaskrywers soos Leroux en Brink en digters soos Small en later ook Breytenbach was die eerste stappe in die rigting van beheer oor binnelandse publikasies al aan die gang. Reeds in 1953 is die Cronjé-kommissie aangestel om ‘die euwel van onwelvoeglike, aanstootlike of skadelike leesstof’ te ondersoek, maar die verslag wat in 1956 in die Volksraad ter tafel gelê is, was uiteindelik vir die rege- | |
[pagina 342]
| |
ring onaanvaarbaar. Van tyd tot tyd was daar egter sterk druk op die regering van die kant van die Afrikaanse kerke en was senator Jan de Klerk, Minister van Binnelandse Sake onder wie moontlike wetgewing sou ressorteer, verplig om iets aan die saak te doen. Opperman, wat reeds in 1953 met die oog op die Cronjé-kommissie se bevindinge 'n groot aantal persone gevra het om hulle mening oor die saak in Standpunte te stel, kon as gevolg van sy werk as dosent van die Afrikaanse letterkunde, sy optrede as keurder en direkteur van 'n uitgewersmaatskappy en sy aktiwiteit as skeppende kunstenaar nie sy oë vir die ontwikkelings sluit nie. Daar is openlik gegis of werke soos Lobola vir die lewe en Sewe dae by die Silbersteins verbied sou word indien die wetgewing wat vir 1963 beoog is, op die wetboek sou kom. Sulke besluite sou Human & Rousseau regstreeks raak en ernstig knou. Terwyl iemand soos Van Wyk Louw by herhaling in die pers protes aangeteken het teen die beoogde wetgewing, het Opperman eerder by wyse van private gesprekke as openbare optrede probeer om sy invloed te laat geld. Namate meer besonderhede oor die beoogde wetsontwerp bekend geraak het en moontlike kandidate vir die Publikasieraad genoem is, het sy ontsteltenis en verontwaardiging egter gegroei. Die bepaling dat 'n publikasie ongewens verklaar kan word indien dit ‘of 'n deel daarvan’ onbetaamlik, onwelvoeglik of ongewens is, het vir hom die teoretiese moontlikheid geskep dat 'n boek op grond van 'n enkele paragraaf of woord verbied kon word. Die wetsontwerp het nêrens rekening gehou met die besondere aard van die literatuur en die elementêre stelreël dat 'n kunswerk alleen as 'n geheel beoordeel kan word nie. Voor die wetsontwerp goedgekeur en die name van die lede van die Publikasieraad bekend gemaak is, het gerugte die ronde gedoen dat Abr. H. Jonker - een van die belangrikste regeringswoordvoerders vir die wetsontwerp in die Volksraad - voorsitter van die Raad sou word en dat Abel Coetzee, professor aan die Witwatersrandse Universiteit, sy bereidwilligheid te kenne gegee het om as lid te dien. Albei hierdie persone was om 'n verskeidenheid redes vir die meeste skrywers onaanvaarbaar. Terwyl die aangeleentheid in die Volksraad onder bespreking was, het W.A. de Klerk (met die medewerking van Van Wyk Louw) en Mary Renault 'n ‘credo’ opgestel waarin namens Suid-Afrikaanse skrywers beswaar teen die beoogde wetgewing aangeteken is. Die wetsontwerp hou, volgens hulle, nie rekening met ‘die aard en intensie van 'n werk as letterkunde’ nie en die kunswerk word ‘nie as 'n geheel geoordeel’ nie. Daarby bestaan die gevaar dat uitgewers in die lig van die hoë koste om 'n saak in die hof te beveg, oorversigtig sal raak. Dit is 'n situasie wat veral die Afrikaanse skrywer tot ‘swye of oppervlakkigheid’ kan dwing en ‘noodlottige gevolge’ kan hê, aangesien die Afrikaanse letterkunde in 'n hoë mate alleen plaaslik gepubliseer en bemark kan word. Saam met 'n hele aantal prominente skrywers onderteken Opperman hierdie ‘credo’ wat deur die opstellers persoonlik aan min. De Klerk oorhandig is. | |
[pagina 343]
| |
Tydens die algemene debat oor die tweede lesing van die wetsontwerp het senator J.J. Boshoff van die Nasionale Party in die Senaat gesê dat skrywers wat fout vind met die beoogde wetgewing, aan 'n ‘skuldige gewete’ ly. Daar was 'n tydstip toe Afrikaanse skrywers 'n groot bydrae tot die land se letterkunde gelewer het, maar hy meen dit het in die jongste tyd nodig geword om die ondermyning van sedes te voorkom. Van Wyk Louw, wat hom by herhaling teen die wetsontwerp uitgespreek het, is volgens Boshoff die laaste persoon wat moet praat, want hy is 'n opvoedkundige en geen letterkundige nie.Ga naar eind36 Dit was vir Opperman onmiddellik duidelik dat senator Boshoff nie op eie insig en kennis steun nie, maar - soos hy later trouens sou erken - inligting oordra wat deur iemand anders aan hom gegee is. Opperman het gevoel dat hy nie langer kan swyg nie. In 'n brief wat hy telefonies gedikteer het en wat in Die Burger van 20 Maart 1963 gepubliseer is, verwyt hy die regering dat hy nie alleen met die wetsontwerp volhard nie, maar ‘hom selfs die reg veroorloof om by monde van sen. Boshoff ons grootste kunstenaar, N.P. van Wyk Louw, én die Afrikaanse letterkunde te beledig’. Na 'n aanduiding van die status van Van Wyk Louw sê hy dat 'n simpatieke regering met ‘die grootste agting en waardering’ na so 'n persoon sou geluister het, maar nou word hy ‘beledig’ en in sy ‘beroepseer’ aangetas. Ten grondslag van die hele wetsontwerp lê 'n ‘agterlike literatuurbeskouing’, terwyl die beoogde wetgewing ‘die literêr ongesonde toestand van 'n pre-publikasie-sensuurraad’ tot gevolg sal hê en ‘groot magte van willekeur in nie-literêre hande’ sal plaas.Ga naar eind37 Nog voor publikasie van die brief tree Die Burger met senator Boshoff in verbinding om kommentaar te lewer. Boshoff, wat hom kennelik oor sake uitgespreek het waaroor hy nie behoorlik ingelig was nie, het Opperman gebel met die versoek om die brief terug te trek. Daarvan wou Opperman nie hoor nie en hy het die senator daarvan beskuldig dat hy hom op 'n terrein begewe waarvan hy volkome niks weet nie. ‘Maar wat raai u my aan om nou te doen?’ het Boshoff gevra. ‘Ek sou sê,’ was Opperman se antwoord, ‘vra vir die man deur wie u u laat misbruik het, nl. Abraham Jonker, om u uit die gemors te help.’Ga naar eind38 Die skermutseling met senator Boshoff was Opperman se eerste openbare toetrede tot die stryd in verband met die beoogde publikasiewetgewing. Dit sou egter nie net hierby bly nie, al het hy verkies om eerder deur gesprekke as deur briewe na koerante 'n verandering in die regering se standpunt en die behandeling van skrywers oor die algemeen teweeg te bring. Ná die wetgewing deur die Parlement aanvaar is, het Van Wyk Louw persoonlik die minister geadviseer om bevoegde persone as lede van die Publikasieraad aangestel te kry en só die gevare van die wet in onkundige hande te besweer. Deur sy bemiddeling is G. Dekker as voorsitter en A.P. Grové, Merwe Scholtz en T.T. Cloete as lede van die raad benoem en mense soos Jonker en Coetzee weggehou. Opperman lewer ook 'n bydrae as Dekker op 20 Junie 1963 vertroulik aan hom skryf en inligting vra oor die geskiktheid van C.J.D. Harvey en A.H. Murray | |
[pagina 344]
| |
as moontlike lede. Hoewel hy soos Van Wyk Louw hom teen die wetgewing verset het, was dit sy oortuiging dat hy Dekker eerder moes help as om hom heeltemal te onttrek. Daarom reageer Opperman op die brief en spreek hy hom gunstig uit oor albei se eventuele lidmaatskap. In sy gesprekke het Opperman egter voortgegaan om by herhaling op die gebreke in die wetgewing te wys en die gevare aan te toon wat daardeur vir die letterkunde sou ontstaan. Op Franskraal het hy dikwels die geleentheid gehad om met lede van die Volksraad te gesels en het hy onomwonde sy standpunt oor die saak gestel. Meer as een keer moes Grové en Merwe Scholtz vir vergaderings van die Publikasieraad na Kaapstad vlieg en het hulle dikwels ná afhandeling van hulle werk by Opperman op Stellenbosch 'n draai gaan maak. In gesprekke by hom aan huis het hy sy misnoeë oor die hele sensuurgedoente te kenne gegee en met Scholtz gespot wat metodologies enige verwysing na die outeur in literêre analises as iets uit die bose beskou, maar nou as lid van die Publikasieraad ewe gedwee rekening hou met die leser wat ook vroeër vir hom irrelevant by stilistiese ondersoeke was.Ga naar eind39 Alhoewel hy onder die indruk van Scholtz se intelligensie was en hom 'n boeiende gespreksgenoot gevind het, was Opperman skepties oor die metodes van die stilistiek op linguistiese grondslag en Scholtz se manier om telkens met 'n verrassend nuwe siening van 'n gedig sy eie slimmigheid as leser te illustreer. Toe Scholtz se opstel ‘Wat vertel “Oom Gert vertel”?’ met 'n radikaal nuwe interpretasie van Leipoldt se gedig in die vroeë sestigerjare verskyn, het Opperman op 'n vraag ewe droog opgemerk: ‘Merwe probeer nou weer om met een poep 'n hele akker te bemes’!Ga naar eind40 In 'n bitter oomblik het Opperman vir Scholtz op die betreklike waarde van die kritiek gewys. ‘As ek en my soort,’ het hy gesê, ‘vanaand besluit om nooit weer 'n enkele woord te skryf nie, is jy en Grové geestelik gesproke werkloos.’ Dit was woorde waaraan die jong en soms weerbarstige Scholtz moeilik gesluk het. Ook teenoor Grové het hy sy ongeduld oor die wetgewing en die vermeende magsposisie van sommige kritici nie weggesteek het. Grové was in hierdie jare in beheer van Standpunte en Opperman het besef dat dié kritikus deur sy redaksionele werk, sy lidmaatskap van die Publikasieraad, sy posisie as dosent aan die Universiteit van Pretoria waar hy 'n groot getal studente kon beïnvloed, die rol wat hy met die voorskryf van boeke kon speel en sy funksie as lid van die Akademie se bekroningsliggame groter mag gehad het as enige Afrikaanse letterkundige voor hom, groter selfs as F.E.J. Malherbe wat nooit ‘staatserkenning’ vir sy werk gekry het nie. Hoewel hy waardering gehad het vir Grové se kritiese insigte en sy meestal suiwer oordeel, was daar in die sestigerjare gevalle waarin Opperman dikwels radikaal van hom verskil het, soos die negatiewe Standpunte-opstel oor Breytenbach se werk. ‘Alewyn, ek is geskok,’ was sy woorde toe Grové dié opstel as lesing op Stellenbosch aangebied het. Daarby was hy bewus van Grové se sterk gevoel oor die posisie wat Antonissen as | |
[pagina 345]
| |
kroniekskrywer in die geledere van Standpunte beklee het. As Grové in Die Vaderland van 2 Augustus 1963 Antonissen se bundel Kern en tooi negatief bespreek en voorkeur gee aan Cloete se Op die woord af, bedank Antonissen as kroniekskrywer en is Opperman die persoon wat die gemoedere na albei kante toe moet kalmeer en 'n gewapende vrede bewerkstellig. Opperman se simpatie was egter duidelik by Antonissen en hy het nie geaarsel om sy gevoel teenoor Grové te laat blyk nie. Vir Opperman was Grové en Cloete - vir wie hy persoonlik nie so goed geken het nie, maar wie se oordele en insigte vir hom dikwels teleurstellend was - glad te eenstemmig in hulle uitsprake. Op 'n keer het hy met heelwat onnutsigheid sover gegaan as om na hulle te verwys as ‘twee poepe uit een hol’! Saam met Scholtz, wat soos die ander twee 'n kwekeling van Dekker was, het hy graag gepraat van die ex-Potchefstroomse kliek in die Afrikaanse kritiek. Tydens 'n besoek van Scholtz en Grové een aand aan hom het Scholtz met allerlei slimmighede en spitsvondighede die standpunt ingeneem dat hy en Grové in die Publikasieraad dien om mense soos Opperman en Van Wyk Louw die geleentheid te gee om te lees. Opperman het dadelik deur die sofistiese redeneerpatroon gesien en laat hoor: ‘Griet, man, hou op, ek laat my nie bebôgger nie’! Die solidariteit tussen Scholtz, Grové en Cloete en hulle skakeling met verteenwoordigers van die regering was toenemend 'n bron van ergernis vir Opperman, veral omdat nie een van die drie openlik standpunt ingeneem het in gevalle waar die letterkunde van owerheidsweë met 'n gebrek aan kennis en begrip benader is nie. Op 31 Mei 1966 het die indertydse Eerste Minister, dr. H.F. Verwoerd, by geleentheid van die vyfde herdenking van die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in Pretoria 'n toespraak gehou waarin hy die versugting uitgespreek het dat daar vir ons ook, soos by ander volke in hulle wonderuur, die skrywers en die digters mag ontstaan wat kan en sal wil besing die heldedade van hul eie geslag. O, kan dit vir ons gegee word, soos dit in die uur van roem van groot volke in die verlede was, dat daar diegene kan opstaan wat nie weifelend vra: wat is 'n volk nie, maar wat sal uitjubel: dit is my volk, só is my volk, só kan hy ook wondere verrig, só is hy as skepper van 'n eie toekoms! Die skrywer en digter wat in hierdie tyd sou kon besing wat nou gebeur, sal aangehaal word solank soos die volk van die Republiek van Suid-Afrika bestaan.Ga naar eind41 Hierdie uitspraak van Verwoerd was 'n duidelike toespeling op Van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver wat met die woorde ‘Wat is 'n volk?’ begin. Opperman was ontstig oor hierdie onbegrip van regeringskant en het die drie Afrikaanse kritici in die Publikasieraad verwyt dat hulle niks gedoen het om Van Wyk Louw te verdedig nie, terwyl mense soos Chris Barnard, F.I.J. van Rensburg en F.A. van Jaarsveld wel in perskommentare bereid was om sterk te reageer. | |
[pagina 346]
| |
'n Paar dae na Verwoerd se toespraak moes Opperman na Transvaal gaan om Van Wyk Louw se sestigste verjaardag by te woon en namens Human & Rousseau die Tristia-sketsboek, een van die huldigingsuitgawes vir dié geleentheid waarvoor hy en Ernst Lindenberg die keuse gemaak het, te oorhandig. In sy toespraak het Opperman gevra ‘dat daar van owerheidsweë groter begrip vir Van Wyk Louw se werk...(behoort te) kom’Ga naar eind42 en het hy uitgewei oor die slegte behandeling wat die letterkunde van regeringskant ontvang. Na afloop van die funksie is Opperman na Johan en Elize Botha se huis in Pretoria, waar ook Grové en regter Kowie Marais aanwesig was. Tydens die gesprek oor Die pluimsaad waai ver by dié geselligheid was slegs Marais bereid om die stuk te verdedig. Die ander was van mening dat die drama nie die waarheid weerspieël nie, omdat dit die verraad van die Afrikaner uitbeeld maar geen woord oor die konsentrasiekampe sê nie. Opperman was ontsteld oor hierdie eng perspektief by mense van wie hy tereg 'n groter ruimheid en openheid kon vermoed het. Kort ná Verwoerd se toespraak en die viering van Van Wyk Louw se verjaardag het Opperman 'n naweek by sy vakansiehuis op Franskraal gaan uitspan. In die loop van die naweek is daar vleis gebraai by die huis van senator Hein Basson, voormalige organiserende sekretaris van die Nasionale Party in Kaapland, en P.W. Botha het spesiaal vir die geleentheid van Kaapstad af oorgery. Die vriende het gesellig verkeer, die rooiwyn het gevloei en heel gou het die gesprekke, soos dikwels op Franskraal, in die rigting van die politiek begin ontwikkel. P.W. Botha, wat vroeër die portefeulje Kleurlingsake in die kabinet behartig het maar op 5 April 1966 deur Verwoerd as nuwe Minister van Verdediging aangestel is, het sy vreugde oor sy nuwe taak uitgespreek en in gemoedelike stemming woorde oor sy vorige portefeulje gebruik wat Opperman teen die bors gestuit het. Die woordewisseling het daarop begin warm word. In aansluiting by Verwoerd se oproep tydens die Republiekfees het Botha vir Opperman en sy medeskrywers van ‘laksheid’ begin beskuldig. ‘Julle skrywers, wat doen julle?’ het hy gevra. ‘Julle moet die Republiek besing. Man, Dirk, jy sit so lekker hier by die see - gaan sit op 'n rots en skryf 'n epos oor hoe ons ons Republiek gekry het.’Ga naar eind43 Opperman se antwoord was dat hy lank voor die koms van die Republiek in Joernaal van Jorik reeds daaroor geskryf het. Dit het Botha egter nie tevrede gestel nie. ‘Al jou bundels staan op my rak,’ het hy vir Opperman gesê, ‘maar ek begryp daar bôggerol van.’ Opperman was gekwets hieroor en het onder die invloed van die rooiwyn warmer as gewoonlik geword. Met 'n bietjie moedswil het hy na Botha verwys as ‘jou Knysnase kakkerlak’ en gesê: ‘Met die nuwe mag wat jy gekry het, kan ek aan drie vier dinge dink wat jy nou kan doen. Die eerste is om doringdrade op te rig vir skrywers. Omdat jy 'n mislukte skrywer is, wil jy nou aan óns voorskryf hoe om te skryf. Johnson, Macmillan, De Gaulle rig nie doringdrade op nie, maar wel die Russe!’Ga naar eind44 Op al die argumente het Botha telkens laat hoor: ‘Gaan sit op 'n rots en besing die Republiek’, 'n refrein wat Opperman uiteindelik laat ant- | |
[pagina 347]
| |
woord het: ‘Man, die eerste rymwoord met rots wat by my opkom, is kots. En vir elke ander woord wat jy kan noem, sal ek 'n rymwoord hê.’Ga naar eind45 Toe Botha moes teruggaan Kaapstad toe, was die ligte van sy motor defek en moes Hein Basson iemand van Gansbaai vir die herstelwerk laat kom. Almal was bewus daarvan dat daar ten spyte van die gejil tog nou 'n wesentlike breuk tussen Opperman en Botha plaasgevind het en hulle wou graag die vrede herstel. In 'n mate is die gemoedere dan ook gekalmeer. Toe Botha uiteindelik kon vertrek, het Opperman saam met die ander op die stoepie uitgekom. Uit die vertrekkende motor het Botha 'n laaste keer aan hom die advies gegee om die volgende dag op die rots te gaan sit en skryf, iets wat Opperman se woede opnuut laat ontvlam en hom in 'n erg gesteurde toestand huis toe laat loop het. Toe Van Wyk Louw in November 1966 'n toespraak voor die Johannesburgse Rapportryerskorps moes hou, het hy sonder die noem van name in breë trekke dié hele voorval vertel. Alhoewel Opperman geen twyfel gehad het oor die korrektheid van die standpunt wat hy teenoor Botha ingeneem het nie, was hy tog ontsteld dat die rots-kots-storie sonder sy medewete openbaar gemaak is, want hy het Botha steeds as een van die knapste politici in die Kabinet beskou en wou nie iets doen wat sy beeld kon skaad nie. Uit sommige verkrampte Pretoriase kringe het stringe briewe in noordelike koerante verskyn waarin verontwaardiging uitgespreek is dat 'n vieslike woord soos ‘kots’ in plaas van ‘trots’ die eerste by 'n digter sou opkom.Ga naar eind46 Die onderonsie met Botha oor die verwagting van politieke leiers ten opsigte van skrywers en die algemene sfeer van sensuur wat deur die publikasiewetgewing geskep is, was egter nie die enigste konfrontasie tussen Opperman en 'n verteenwoordiger van die regering nie. In 1967 het Breyten Breytenbach sy tweede bundel gedigte, Die huis van die dowe, aan Human & Rousseau voorgelê. Human het die manuskrip aan Opperman vir beoordeling deurgestuur. In sy verslag sê Opperman 'n mens mis aanvanklik ‘die jeugdige frisheid en parmantigheid van Die ysterkoei moet sweet..., maar algaande - veral met die tweede lees - besef jy daar het iets rypers en innigers bygekom en dat die geestigheid milder geword het’. Die afdeling ‘Eet my woorde, trooswoorde’ is 'n voortsetting van die liefdesverse in die debuutbundel. ‘Die ontroering en wondersfeer van opbloeiende beelde voer mee, die versbeweging het 'n nuwe bekoring bygekry en die binnerym en refrein word meer dikwels gebruik. Mens sou by Breytenbach kan praat van impressie-improvisasies ... wat meermale aan 'n soort Afrikaanse D.H. Lawrence laat dink: die assosiatiewe spel wat plekke by hom oproep: “in die gebalde dag van jou oog”.’ Die strydpoësie in die afdeling ‘Wit vlieg’ vind hy minder, omdat die fynheid van beelding dikwels deur die betoog verbreek word. ‘Wat wel duidelik na mode stink,’ sê hy ten slotte, ‘is die vlieg- en kakkultus’ in die verse. Opperman het die manuskrip baie sterk vir publikasie aanbeveel, maar Human het dit gerade geag om op grond van regsadvies 'n paar wysigings aan die | |
[pagina 348]
| |
hand te doen en voor te stel dat die gedig ‘Swart dood’ weggelaat word. Hierdie wysigings is deur Breytenbach aanvaar en die bundel het in 1967 verskyn. Vroeg in 1968 moes die toekenning van die jaarlikse CNA-prys bekend gemaak word en Opperman was een van die beoordelaars in die Afrikaanse afdeling. Dit was vir hom onmiddellik duidelik dat Die huis van die dowe die sterkste aanspraakmaker op die toekenning was en hy het vermoed dat die ander lede van die komitee sy mening sou deel. Aangesien Breytenbach egter by herhaling in die voorafgaande jare politieke uitsprake in briewe aan koerante en in onderhoude met die media gemaak het en 'n visum aan sy vrou tydens die Verwoerd-era geweier is, wou Opperman graag weet of die regering hulle in die land sou toelaat as die egpaar sou wou kom om die prys persoonlik in ontvangs te neem. Daarom het hy sy vriend Johan Spies gevra om met die Eerste Minister, mnr. John Vorster, in verbinding te tree om te hoor of 'n visum aan mev. Breytenbach toegestaan sou word. Vorster het in daardie stadium oor meer besonderhede in verband met Breytenbach se betrokkenheid by politieke organisasies beskik as wat algemeen bekend was. Hy het aan Spies gesê dat Yolande kan kom en dat haar Viëtnamese herkoms geen beletsel vir die toekenning van 'n visum sal wees nie, maar dat Breytenbach as gevolg van sy politieke aktiwiteite onwelkom is. ‘Indien hy sy voet in die land sit,’ het hy aan Spies gesê, ‘stop ek hom so ver in die tronk weg dat hy nooit weer daaruit kom nie.’ Toe Vorster hoor dat daar sprake was dat die CNA-prys aan Breytenbach toegeken sou word, het hy uit sy pad gegaan om te keer dat die bekroning plaasvind. Vroeg in 1968 sou Opperman 'n eredoktoraat van die Universiteit van Natal ontvang en voor sy vertrek na Pietermaritzburg het Rupert as jarelange vriend besluit om 'n onthaal ter ere van hom op Stellenbosch te hou. Opperman het Koos Human, Johan Spies en hulle vrouens, wat ook die onthaal sou bywoon, gevra om vooraf na sy huis te kom. Terwyl hulle in die studeerkamer oor 'n drankie sit en gesels het, was daar 'n oproep vir Opperman van die Eerste Minister se kantoor. Telefonies het Vorster gesê Breytenbach is 'n vyand van die volk en sy poësie is moreel verderflik en polities aanstootlik vir die Afrikaner. Opperman het gevra of Vorster 'n eksemplaar van die bundel besit en of hy dit gelees het. ‘Ja,’ was sy antwoord, ‘ek het dit gelees, en, professor, ek kan u sê ek is geskok.’ ‘Hoe lank het u daaraan gelees?’ was Opperman se volgende vraag. ‘So 'n uur of wat,’ het Vorster geantwoord. ‘Wel, ek kan u verseker,’ het Opperman voortgegaan, ‘ek het drie maande daaraan gewerk, my studente bestudeer dit nege maande lank en ons het nog nie duidelikheid oor alles nie.’ In daardie stadium was daar 'n dringende oproep vir Vorster en het hy onderneem om na afloop daarvan vir Opperman terug te bel. Terwyl hy gesit en wag het vir die telefoon om te lui, het Opperman Human en Spies se advies gevra oor hoe om die saak verder te voer. Human het verwys na Vorster se | |
[pagina 349]
| |
uitspraak dat hy self min van die ekonomie weet en daarom volkome op sy raadgewers se advies aangewys is en dan ook vertroue in hulle het. Op dieselfde wyse behoort Vorster nou ook as leek op die gebied van die literatuur van adviseurs gebruik te maak. Toe die gesprek voortgesit is, het Opperman die wenk van Human opgevolg en aan Vorster voorgestel dat hy kundiges se oordeel oor Breytenbach se werk moet aanvaar en hom nie met literêre toekennings behoort te bemoei nie. Vorster wou egter nie luister nie en het aan die hand gedoen dat Opperman na Groote Schuur moes kom sodat hulle oor die bundel en die implikasies van 'n bekroning van Breytenbach kon gesels. Opperman het geantwoord: ‘Mnr. Vorster, ek is al meer as vyf en twintig jaar besig om die literatuur te doseer. Ek is belese, ek ken digters in alle tale wat vir my toeganklik is en daar is nou nog dinge in Breytenbach se werk waaroor ek nie helderheid het nie. Ek is nie gewillig om dit met 'n amateur te bespreek nie. Indien u 'n gesprek met my oor Breytenbach se bundel wil voer, stel ek as voorwaarde dat u eers drie jaar lank my klasse op Stellenbosch kom bywoon sodat ek u vir so 'n gesprek kan oplei.’ Ná die toekenning van die CNA-prys aan Die huis van die dowe het Breytenbach in 'n onderhoud met Vrij Nederland gesê dat die toekenning van die prys oëverblindery is en ‘'n vorm van omkopery om hom te probeer oorreed om nie sy sê te sê nie’.Ga naar eind47 Hy het verder bygevoeg dat hy as gevolg van sy vrou se velkleur toegang tot Suid-Afrika verbied word en dat hy elke sent uit sy outeursaandeel aan organisasies gaan skenk wat optrede teen Suid-Afrika bepleit. Koos Human was egter kort tevore in Parys waar hy Breytenbach gesien en die hele geskiedenis van Vorster se reaksie op die imminente CNA-toekenning, die moontlikheid van 'n visum vir mev. Breytenbach en die telefoongesprek met Opperman vertel het. Dit was vir hom glashelder dat Breytenbach opsetlik 'n verdraaide en feitelik onjuiste prentjie aan 'n buitelandse joernalis voorgehou het, in so 'n mate dat dit vir Human & Rousseau as uitgewers van Die huis van die dowe skade kon berokken. Hy het met Opperman en Leon Rousseau oor die aangeleentheid gesels en op 13 November 1968 publiseer hulle as direkteure van Human & Rousseau gesamentlik 'n ope brief aan Breytenbach in Die S.A. Beeld. In dié brief wys hulle daarop dat dit nie in die eerste plek Yolande se ras was wat die Breytenbachs se koms na Suid-Afrika verhinder het nie, maar die feit dat Breytenbach hom ‘al lank op verskillende maniere vir 'n bloedige inval in ... (sy) eie vaderland beywer.’ Hulle wil graag hê Breytenbach moet weet dat hulle ‘Suid-Afrika se eie vryheidsvegters steun en bydra tot die fonds teen die terroriste’. ‘Miskien,’ so sluit hulle af, ‘moet ons nog verder gaan en vir elke rand wat ons in die vorm van outeursaandeel aan jou uitbetaal, 'n rand tot die anti-terroristefonds bydra - net om die balans te bewaar. Maar dit lyk dalk te berekend, en indien nodig dra ons graag nog meer as jou verdienste by.’ Die ope brief lei daartoe dat Breytenbach sy bande met Human & Rousseau verbreek en sy boeke by ander uitgewers laat publiseer, al is die gedeeltelike breuk | |
[pagina 350]
| |
met Opperman veel later tydens 'n besoek van hom aan Breytenbach in die gevangenis herstel.Ga naar eind48 Deur sy telefoongesprek met Vorster het Opperman daarin geslaag om die onafhanklikheid wat die literatuur en die bekroningsprosedure in Suid-Afrika behoort te geniet, helder en onomwonde te stel, al het sy gespreksgenoot dit slegs wrokkig geduld. Die aantasting van hierdie outonomiteit het vir hom voortgevloei uit die hele sfeer wat deur die publikasiewetgewing geskep is en hy het voortgegaan om hom daarteen te verset. In Februarie 1970 onderteken hy 'n versoekskrif wat deur Van Wyk Louw en Ernst van Heerden opgestel en aan die voorsitter van die Publikasieraad gerig word. Daarin word gevra dat persone wat regstreeks met die literatuur te doen het, nie aansoek hoef te doen om 'n verbode boek te lees of te koop nie, maar dat 'n vrystelling uitgereik word waarmee hulle na 'n boekhandelaar kan gaan om die nodige boeke te bestel. Hierdie aksie het geen positiewe resultaat tot gevolg nie, behalwe dat dit lede van die Publikasieraad bewus kon gemaak het van die gevoelens van prominente skrywers en letterkundiges oor die posisie waarin hulle as gevolg van die wetgewing verkeer. As André P. Brink se Kennis van die aand in 1974 die eerste Afrikaanse literêre werk is wat kragtens die wetgewing van 1963 as ongewens verklaar word, is Opperman dadelik bereid om met die oog op die komende regsgeding skriftelike getuienis ten gunste van die skrywer in te dien. Opperman betoog dat die waarskynlike leser van die roman die ‘uitsonderlike, volhardende of professionele leser’ sal wees omdat die geleerde aanhalings vooraf, die stadige verteltrant, die omslagtige beskrywings, die literêre verwysings en die filosoferings die gewone man sal verveel. Die roman sal dus in die eerste plek spreek tot die persoon wat in die literatuur geïnteresseerd is. Wat die wêreld van die roman betref, wys hy daarop dat die funksie van die kunswerk as spieël vandag verouderd is. Die roman word deesdae gesien ‘as 'n seepbel wat 'n sferiese siening, geboë weerkaatsing van die werklikheid gee’. Waar die hoofkarakter in Kennis van die aand reeds veroordeel is, verwag 'n mens by voorbaat oorbeklemtonings en verdraaiings en 'n ‘verwarde siening van die wêreld’. Vanuit hierdie ‘retrospektiewe vertelling wat wissel tussen werklikheid en waan’ moet dit as 'n geheel beoordeel word. Opperman vind die meeste geslagtelike beskrywings ‘teer, idillies en selfs adolessent’; in Lobola vir die lewe en Orgie word daar in byna alle opsigte meer ‘gesondig’ as in Kennis van die aand. Alhoewel hy die werk soms te ‘langdradig’ en die procédé soms te ‘eentonig’ vind, ‘bly dit 'n besondere poging om groter volwassenheid in die Afrikaanse roman te bring’. Ten spyte van die sterk pleidooie wat Opperman en letterkundiges soos I.D. du Plessis en Ernst Lindenberg lewer, bevind die regbank in Augustus 1974 dat die boek op godsdienstige, sedelike en politieke gronde ongewens is. Opperman was veral verontwaardig oor die feit dat Grové en veral Cloete lang pleitstukke ten gunste van die Publikasieraad ingedien het. | |
[pagina 351]
| |
Volgens 'n aantekening in sy eksemplaar van Cloete se stuk was hy onthuts oor die diskrepansie dat Cloete onder meer sy getuienis staaf met aanhalings uit Brink se Standpunte-artikel ‘Op soek na Afrika’ en dat die ‘kernstuk’ van Kennis van die aand in Standpunte 100 verskyn het, terwyl Cloete en Grové albei lede van die redaksie was en in dié hoedanigheid geen beswaar teen die publikasie gehad het nie. Indien hulle só sterk oor die saak gevoel het, was dit hulle plig om te kla, as lede van die redaksie of as lede van die Publikasieraad te bedank. Daarby het Opperman dit verregaande gevind dat professore wat 'n skatpligtigheid en lojaliteit teen die letterkunde behoort te hê, hulle eie vakgebied só kan ondergrawe deur in 'n hof te pleit dat 'n verbod op 'n roman in daardie taal gehandhaaf moet word. Terwyl die hofsaak oor Kennis van die aand aan die gang was, het die Parlement egter reeds wysigings goedgekeur wat die oorspronklike wetgewing van 1963 moes vervang. Die wysigings het onder andere behels dat die Minister veel meer arbitrêre magte verkry en die reg van appèl na die howe afgeskaf word, terwyl die belangrikste beswaar uit 'n literêre oogpunt nog steeds was dat 'n werk nie in sy geheel beoordeel word nie en estetiese oorwegings vir die wetgewer irrelevant is. Waarskynlik het die teleurstelling oor die hofuitspraak en die strenger nuwe maatreëls Opperman beïnvloed om nog sterker as vroeër te voel oor publikasiebeheer en die gevolge daarvan vir die Afrikaanse letterkunde, al het hy nie onmiddellik iets aan die saak gedoen nie. Op 29 September 1974 sou hy egter sy sestigste verjaardag vier. Die uitgewersfirmas Human & Rousseau en Tafelberg het besluit om op dié dag 'n groot aantal gaste na 'n noenmaal in die 1900-Kamer in Woodstock uit te nooi waartydens 'n hele paar spesiale uitgawes aan Opperman oorhandig sou word. J.D. Pretorius, uittredende hoof van Tafelberg, sou 'n eerste eksemplaar van Naaldekoker, Opperman se ongebundelde kritiese stukke, aan hom gee, A.P. Grové Dolosgooier van die woord, 'n versameling resensies en opstelle oor sy werk, Merwe Scholtz Woord en wederwoord met nuwe studies oor Opperman, en Koos Human Verse vir Opperman waarin 'n groot aantal digters in nuwe gedigte hulde aan die jubilaris bring. By dié geleentheid sou D.P. de Villiers, besturende direkteur van die Nasionale Pers, as seremoniemeester optree, terwyl Piet Cillié, redakteur van Die Burger, die heildronk op Opperman sou instel. Grové en Scholtz sou albei by die oorhandiging van hulle onderskeie bundels kort toesprake lewer. Albei was tot kort tevore lede van die ou Publikasieraad en nou ook gemoeid met die nuwe sensuurbedeling wat toe pas ingestel is. Na die feestelike maal, die toesprake en die oorhandiging van die spesiale uitgawe het Opperman aan die woord gekom. Hy het sy toespraak begin deur kortliks oor eie agtergronde uit te wei en die sprekers voor hom vir hulle gewaardeerde woorde en die geskenke te bedank. Daarna het hy voortgegaan: | |
[pagina 352]
| |
Na hierdie woorde van dankbaarheid moet ek tot my spyt 'n woord van teleurstelling uitspreek oor ons huidige owerhede se optrede. Hulle het deur ons taalbeweging en Afrikaanse letterkunde die teenswoordige hoogtepunt bereik. En uit dankbaarheid word ons nie eers die eenvoudigste reg, nl. appèl na die hof, gegun nie, maar hulle vaardig 'n klomp wette uit wat ons terugdwing tot 'n kleuterletterkunde. Maar goeie skrywers verloor nooit op die duur teen 'n owerheid nie - hulle maak 'n plan, gebruik dan die wêreld van die sprokie en die fabel. Maar dit is 'n bose dag wanneer die owerheid teen sy skrywers oorlog verklaar. Hulle het 'n nuwe letterkunde begin met die volgende resep: Jy begin altyd met ‘Daar was eendag...’, dan voer jy wesentjies, denkbeeldige diertjies en plantjies, in. Ek gaan vandag die eerste bydrae lewer. Hy het sy toespraak afgesluit met ‘Die sprokie van Tjienk en Tjonk’ waarin toespelings voorkom op Vorster, Connie Mulder en A.P. Treurnicht, drie van die leidende politici in die Nasionale Party van destyds: Daar was eendag 'n tokkelosie en terselfdertyd 'n tjienkerintjietjie, maar bo almal was die Vos. Albei Tjienk en Tjonk wou die volgende ster wees. Tokkelosie besluit toe om te sê die kriekies lokketossie te veel, maar Nig Tjienkerintjie treur en hy gaan hom nie laat uitoorlê nie. Hy sê die krieke die tjiee te veel. Maar toe tjirp die krieke dat hulle na die oerwaters teruggevoer word op die Kontjiekie. Opperman se toespraak en sy kritiek op die sensuurwetgewingGa naar eind49 het groot ontsteltenis by sommige aanwesiges veroorsaak. Grové en Scholtz het albei met lang gesigte gesit en Hannes van der Merwe was verontwaardig oor wat hy as 'n onbillike aanval op die wetgewers beskou het. ‘Piet, jy kan nie hierdie ding sommer so laat verbygaan nie,’ was sy woorde aan Cillié wat saam met Grové en Scholtz aan die hooftafel gesit het. Cillié was as goeie vriend van Grové en veral Scholtz in 'n moeilike posisie. Alhoewel hy bedenkinge gehad het oor die nuwe wetgewing, het hy in Die Burger se hoofartikels die standpunt ingeneem dat die komende bedeling 'n kans gegun moes word. Die feit dat Grové en Scholtz steeds bereid was om 'n aandeel aan die publikasiebeheer te hê, het groot gewig by hom gedra. Op pad terug van die noenmaal af het hy by Die Burger se kantoor in Keeromstraat aangegaan en onder die opskrif ‘Dis nog nie oorlog nie’ 'n hoofartikel vir die volgende dag se koerant geskryf. Daarin sê Cillié dit ‘is jammer dat die digter Dirk Opperman sy mooi en literêr belangrike sestigste verjaardagviering vir sommige van sy vriende enigsins bederf het met 'n oorlogsverklaring teen ons bewindhebbers’. Hy het begrip vir ‘die kommer van die doyen van ons digters’, maar kan sy ‘opgewondenheid’ nie deel nie. Hy gaan voort: Was sulke swart beskouinge van die literêre toekoms nie ook algemeen toe die sensuurstelsel gewysig is om binnelandse publikasies te omvat nie? Toe was die | |
[pagina 353]
| |
verstandigste skrywers en letterkundiges bereid om die nuwe bedeling 'n kans te gee, en sommige van die voorstes het saamgewerk om dit te laat slaag. Onder invloed van Hannes van der Merwe en Merwe Scholtz het Cillié die vermeende reaksie op die toespraak verkeerd getakseer, want sy hoofartikel het by baie skrywers en persone ná aan Opperman 'n gevoel van wrewel gewek. In 'n brief wat Koos Human op 30 September 1974 aan Die Burger skryf, sê hy dat hy met ‘stygende ongeloof en ergernis’ die hoofartikel gelees het. Hy vind dit ‘aanmatigend, onhoflik en in bedenklike smaak’. Met ‘'n literêre nonentiteit’ soos Jannie Kruger as voorsitter van die Publikasieraad is ‘ernstige wantroue in die eventuele raad realisties, nie pessimisties nie’ en om teenstand teen ‘hierdie drastiese wet aan landsveiligheid te koppel, is belaglik’. Cillié weier om dié brief te plaas en sê dat die hoofartikel bedoel was om kritiek op Opperman se verjaardagrede te voorkom, nie om dit aan te blaas nie! Ook 'n brief van protes deur Abraham H. de Vries word nie gepubliseer nie. Die hoofartikel lei tot 'n driftige telefoongesprek en 'n tydelike verwydering tussen Cillié en Opperman. Veel later skryf Opperman in die geestig-satiriese ‘Ballade van die groot paartie’ in Komas uit 'n bamboesstok oor sy toespraak en die ‘selective journalism’ wat Cillié met die weiering van briewe oor die aangeleentheid toegepas het.Ga naar eind50 Dat Opperman se waarskuwing oor die nuwe sensuurbedeling van 1974 nie onvanpas was nie en Cillié die gevaar van die wetgewing heeltemal onderskat het, word bevestig deur die groot aantal Afrikaanse literêre werke wat in die sewentigerjare tydens die regime van regter J.H. Snyman as voorsitter van die nuwe Appèlraad in die ban gedoen is. Ook aan sommige van die pogings om 'n verbod opgehef te kry, sou Opperman 'n aandeel hê. Sowel in sy hoedanigheid as dosent en skeppende kunstenaar as in sy funksie as keurder en direkteur van 'n uitgewersfirma het die publikasiewetgewing hom geraak en gegrief en het hy hom geroepe gevoel om by herhaling daarop te reageer. | |
[pagina 354]
| |
IVKiepersol, die huis in Thibaultstraat 3 in Mostertsdrift wat die Oppermans in November 1959 betrek het, was 'n ideale huis vir die besondere dagindeling en werkprogram van 'n digter en akademikus. Die huis was op twee vlakke geleë. Voor was 'n pragtige tuin wat met die jare verder ontwikkel is, met 'n oprylaan aan die regterkant na die motorhuise agter die woning en 'n syingang wat na 'n portaal lei. Aan die linkerkant was 'n ruim sitkamer, terwyl die eetkamer en groot studeerkamer langs die kombuis geleë was. In die studeerkamer het Opperman met die jare houtrakke ingerig, terwyl sy dokumente, knipsels en korrespondensie in kartonleggerdose weggebêre is. Aan die kant van die trap was daar was- en toiletgeriewe, terwyl die tweede verdieping uit vyf ruim slaapkamers en 'n badkamer bestaan het. Opperman se slaapkamer was terselfdertyd ingerig as 'n tweede studeerkamer waar hy kon werk as hy vroegoggend wakker word of as hy invalle of ‘bevliegings’ vlugtig wou neerkrabbel. Agter die huis het die erf gestrek tot teenaan die historiese meulsloot. Dáár kon die gesin heerlik stap tot by die Eersterivier en van daar teen die hang op na Bothmaskop. In later jare het die Oppermans die stoep voor die sit- en eetkamer laat toebou en dit het mettertyd die gesin se geliefkoosde leefruimte geword. Die huis in Mostertsdrift was geleë in dieselfde straat as dié van die Ruperts en binne loopafstand van Meyer en Suna de Villiers en die Kempens in Van der Stelstraat. 'n Paar jaar na hulle aankoms het die komponis Arnold van Wyk regoor die Oppermans in 'n betreklik nuwe huis ingetrek, terwyl Ronnie Melck van die Stellenbosse Boerewynmakery die huis langsaan hulle laat herbou en in 'n pragwoning omskep het. Vir Opperman was die oorskakeling na Stellenbosch ingrypend en hy het tyd nodig gehad om ten volle aan te pas, maar uiteindelik was hy baie gelukkig in sy nuwe vriendekring. Naas sy onmiddellike kollegas in die Departement Afrikaans-Nederlands het hy kontak gehad met die bibliotekaris Flooi du Plessis, J.P.J. van Rensburg van Grieks (wat die inleiding tot die skooluitgawe van Periandros van Korinthe geskryf het), Frans Smuts van Latyn, Piet van der Merwe van Geskiedenis, en later ook C.J.D. Harvey van Engels. Twee kollegas buite die onmiddellike terrein van die taal- en letterkunde met wie hy bevriend geraak het, was Matthie Taljaard van die Departement Geologie en James Yeats van die Regsfakulteit. Met albei se wye belangstellingsvelde kon hulle vir die tipe gesprekke sorg wat Opperman altyd op prys gestel het as hy van die eng gebied van die letterkunde wou wegkom, terwyl albei sy groot waardering vir die verfyning van die druif gedeel het. Taljaard was geïnteresseerd in die literatuur en het Attilio Gatti se Saranga, dwerg van die reënwoud (1951) vry uit Italiaans en Ooms (1961) uit die Amerikaanse volkstaal verwerk. Na sy vroeë dood in 1966 het Opperman die postume Enthout en Wind in die | |
[pagina 355]
| |
solder (albei 1970) versorg waarin Taljaard outobiografies-reminisserend oor die outydse leefwyse in Namakwaland en op Stellenbosch skryf. Aan die begin van hulle vriendskap moes Taljaard wel daarop gewys word dat Opperman in die middag slaap, want hy het tydig en ontydig kom kuier, soms die voordeur geïgnoreer en by die buitedeur van die studeerkamer aangeklop. Opperman was verplig om twee dromme in die paadjie na die studeerkamer te plaas ten einde Taljaard en ander besoekers op ongeleë tye te ontmoedig! Aan die begin het Meyer en Suna de Villiers, wat van die Stellenbossers die beste met hulle bevriend was, nie so dikwels by die Oppermans gekom nie, omdat hulle hulle die geleentheid wou gee om eers 'n eie vriendekring op te bou. In so 'n mate was hulle afsydig dat Opperman selfs op 'n keer gesê het hy dink Meyer de Villiers is snaaks! As hy hoor daar was besoekers by die De Villiers's en hy was nie ook genooi nie, het hy met sy knaende nuuskierigheid gesê: ‘Ek hoor julle het mense gehad’! Dit was ook gou vir die De Villiers's duidelik dat Opperman daarvan gehou het om vriende buite die klein kring van die letterkunde en die akademiese wêreld te maak. Afgesien van Rupert het hy nou ook Dirk Hertzog van die Rembrandt-maatskappy leer ken, terwyl hy vir sy buurman Ronnie Melck 'n kort verhelderende beskrywing van die Nederburg-wyne opgestel het wat op die etikette afgedruk is.Ga naar eind51 Onder die Stellenbosse boere was sy vriende veral Niel Joubert van Spier en Nico Myburgh, die eienaar van die historiese landgoed Meerlust. Saam met Matthie Taljaard het Opperman dikwels Meerlust besoek en soms 'n naweek lank by Myburgh se strandhuis op De Hoop naby Bredasdorp gaan uitspan. Joubert was direkteur van die KWV en kon Opperman tydens die werk aan Gees van die wingerd in opdrag van die KWV help om met persone in die wynbedryf te skakel en korrekte inligting te bekom. Dit het Joubert opgeval dat Opperman verkies het om van 'n fles in plaas van 'n bottel wyn te praat en ook die woord verflessing in die plek van bottelering gebruik het. In die laat-sestigerjare het hulle 'n paar keer gaan jag op Schietfontein, die spogplaas van Henry Barnard, Opperman se swaer en die eggenoot van sy vrou se suster Mien. Die plaas was in die Aberdeense distrik geleë en vir die jaggeleenthede het Opperman spesiaal 'n jaggeweer, Sako 308, vir hom aangeskaf. Hoewel hy by geleentheid 'n springbok geskiet het, was jag nie in sy bloed nie en het hy die geweer later weer by Jacques Arzul, die Stellenbosse wapensmid, van die hand gesit. Hy het meer daarvan gehou om op die solder van die plaashuis rond te snuffel of die restante van die klipmure te ondersoek. Die Stellenbosse kennisse was egter net 'n onderdeel van Opperman se ruim vriendekring, want hy het voortgegaan om sy vriende in Kaapstad gereeld te sien en kontak te behou met die Franskralers deur sy naweekbesoeke aan sy vakansiehuis. In die sestiger- en vroeë sewentigerjare het hy toenemend met Koos Human te make gehad soos sy betrokkenheid by die firma Human & Rousseau groter geword het. Maar ook letterkundiges en skrywers van oor die | |
[pagina 356]
| |
hele land het tydens besoeke aan Kaapstad altyd moeite gedoen om by Opperman uit te kom. Naas ou vriende soos Philip Grobler, Stoffel en Miep Nienaber, A.P. Grové en Ernst van Heerden het hy nou ook Rob Antonissen, Ernst Lindenberg, Elize Botha, André P. Brink en Etienne Leroux beter leer ken. Alhoewel Van Wyk Louw na 'n ernstige hartaanval aan die einde van 1961 minder gereeld in die Kaap gekom het, was dit vir Opperman - ten spyte van die gewapende vrede tussen hulle na die Digters van Dertig-geskiedenis - altyd 'n vreugde om sy ou vriend te sien. Aan die einde van 1964 was Van Wyk Louw en sy gesin in C.F. Albertyn se huis op Hermanus en het hy en Opperman een aand heerlik soos in die vroeë jare in Kaapstad met mekaar gesels. Die gesprek het onder die klink van glase in so 'n skittering en flonkering van geestigheid ontwikkel dat dit vir die vroue en ander gaste 'n vreugde en voorreg was om dit aan te hoor. Ten spyte van die verskille van die verlede was hulle tog nog geheg aan mekaar. Tydens een van sy besoeke aan Stellenbosch in die vroeë sestigerjare het Van Wyk Louw Opperman se nagraadse studente oor sy bundel Tristia toegespreek en van hulle vrae beantwoord. In 1966, toe Van Wyk Louw sestig jaar geword het, is Opperman namens Human & Rousseau vir die geleentheid na die noorde om die viering by te woon. Vir die huldigingsbundel Smal swaard en blink het hy ‘Vele woninge’ geskryf, 'n gedig waarin hy na sy klipperige wêreld as kind van 'n spoorwegwerker terugkyk en as ‘ou steenmaker’ sy vriend se ‘bouwerk’ vereer wat telkens met 'n skok verras
in elke bundel, gebak uit ander klei:
'n blywende binnevuur wat wisselend speel
deur ruite
vanuit kleurwronge glas.
Waarskynlik is die gedig ingegee deur twee voorvalleGa naar eind52 uit die lewe van Thomas Mann waarop Fred le Roux vir Opperman gewys het. Thomas Mann vertel by geleentheid hoe Hermann Hesse se roman Das Glasperlenspiel hom getref het as 'n werk wat ten spyte van verskille op 'n merkwaardige wyse met dié van sy eie ooreenkom, iets wat by hom 'n onaangename gevoel en die vraag laat ontstaan het: hoe kan ek lewe as Hesse ook lewe? En by die dood van Gerhart Hauptmann kon Mann onthou hoe Hauptmann op 'n keer iets uit sy eie werk voorgelees en vir Mann gevra het om ook uit Der Zauberberg voor te lees. Toe Mann aanvanklik weier, het Hauptmann kwaad geword en gesê dat daar in die huis van die Vader vele woninge is. Vir Opperman was dit merkwaardig hoe Van Wyk Louw in Tristia van Ovidius se werk uitgaan maar iets anders daarvan maak as hy self. Ovidius is die digter wie se Metamorfoses sedert sy kennismaking daarmee tydens die Matriekkursus in Latyn 'n groot indruk op Opperman gemaak het, in so 'n mate dat dit algaande 'n sentrale posisie in sy skeppende werk en sy opvatting van die kunstenaarstaak sou inneem. By ge- | |
[pagina 357]
| |
leentheid het hy gesê Van Wyk Louw se ‘Cartesiaan’-sonnette in Tristia met die aanspreking van siel en liggaam is 'n variasie in 'n ander toonsleutel van sy eie ‘Troumars’, die slotgedig van die ‘Kroniek van Kristien’-reeks in Blom en baaierd: Ag, ou liggaam, vol littekens en jong sere,
hoe lank hou jy my weg nog van my Here?
En jy, armsalige en agterbakse siel,
waarom word ek deur jou soveel verniel?
Die ooreenkoms in hulle werk moes dus vir hom, soos vir Mann, 'n onaangename ervaring gewees het, al was die gedagte dat hulle albei soos steenmakers aan hulle poëtiese huise bou, 'n vertroosting en versekering dat die wêreld van die poësie inderdaad ‘vele woninge’ toelaat. Toe Van Wyk Louw in 1968 ernstig siek was aan sy hart en weens sy benoudheid met 'n suurstofapparaat in sy studeerkamer in Johannesburg gelê het, was Opperman by hom op besoek. Ten spyte van sy siekte het Van Wyk Louw die besoek waardeer en 'n bietjie met Opperman gesels. Toe Opperman die trappies uit die studeerkamer in die geselskap van Truida Louw opklim, was hy baie bewoë oor sy vriend se toestand en het hy in die woonkamer onbedaarlik begin huil, iets wat 'n aanduiding is van die sterk gevoel en liefde wat hy vir Van Wyk Louw gekoester het. Ten spyte van die druk program wat hy ook op Stellenbosch volgehou het, was daar altyd vir Opperman tyd om aan sy vrou en kinders te wy. Marié Opperman het in die vroeë sestigerjare 'n uitnodiging van Human & Rousseau aanvaar om die volledige werk van Hans Christian Andersen in Afrikaans te vertaal, 'n opdrag waarvoor sy spesiaal Deens bestudeer en wat 'n paar jaar van haar tyd in beslag geneem het. Van sy kinders was Trienke die ingetoë een wat - soos hy dit in 'n brief van Oktober 1961 aan sy suster Liz stel - rustig en intens toegewyd voortstudeer en ook 'n belangstelling in die literatuur openbaar. Heila was vir hom vinnig van begrip en met haar wye belangstelling het sy tot 'n uitstekende gespreksgenoot ontwikkel wat haar woord goed kon doen. Om Diederi se liggaamlike en geestelike groei te ervaar, was vir hom 'n hele ervaring. In die oggend as die koerant kom, het hy en Diederi dikwels saam in die bed gelê en lees. Die twee oudste dogters het albei later die graad B.A. met Afrikaans-Nederlands as hoofvak voltooi en hul vader dus as dosent gehad. Heila was 'n tyd lank onderwyseres en vertaler, terwyl Trienke kort na die voltooiing van haar graad getroud is met Dirk Laurie, later professor in Toegepaste Wiskunde en Rekenaarwetenskap by die Vaalrivierkampus van die Potchefstroomse Universiteit op Vanderbijlpark. Diederi se hoofbelangstelling was van betreklik vroeg af die musiek. Later het sy die graad B.Mus. voltooi en as violiste in die Kaapstadse Stadsorkes gespeel. Sy is getroud met Dale Lippstreu, 'n beleggingskonsultant in Kaapstad. Vir haar het Opperman by geleentheid die kwatryn ‘Aan my laatlam’ geskryf: | |
[pagina 358]
| |
Diederi, mag jy altyd,
soos nou, die kriek en reënvoël
terug antwoord op geluid
van klavier, blokfluit en viool.
Op Stellenbosch kon Opperman sy daaglikse roetine voortsit waaraan hy in Kaapstad gewoond geraak het. Soggens het hy vroeg wakker geword en was Marié gereed om vir hom roereier en tamatiesous of skywe eiervrug met 'n degie daarom te bring, twee geregte waarvoor hy besonder lief was. Daarna het hy soms weer ingesluimer, gebad en aangetrek en na die Universiteit vertrek as hy die dag doseerverpligtinge gehad het. Omstreeks halfeen was hy terug by die huis. Dan het hy met 'n paar drankies gesit en ontspan en gekyk hoe die voëltjies in die tuin broodkrummels oppik, geëet en gaan slaap. So teen vieruur het hy 'n klokkie gelui vir lemoensap en 'n koppie karringmelk of biltong, weer ingesluimer en ná aandete deurgewerk tot laat in die nag. Alhoewel Opperman nie van diere in die huis gehou het nie en nooit 'n kat wou besit nie, het hy in die laat-sestigerjare 'n Staffordshire-bullterriër by Nico Myburgh op Meerlust gaan haal. Dié hond het hy met biltong as beloning opgelei en met 'n spesiale hondefluit bo die toonhoogte van die menslike oor geroep om saam met hom te gaan stap. Op Franskraal het die hond bosluiskoors ontwikkel en was Opperman verplig om hom op Kersoggend 1973 dood te skiet. Soos sy kring van kennisse in ander stadia van sy lewe is Opperman se Stellenbosse vriende getref deur besondere aspekte van sy karakter. Hoewel sy studeerkamer vir almal behalwe homself chaoties voorgekom het, was hy uiters georden en het daar 'n duidelike sisteem ten grondslag gelê van alles wat hy wou onderneem. Hy het nie daarvan gehou as daar dinge in die huis stukkend was nie; wat onbruikbaar geword het, moes so gou moontlik vervang word. Voordat hy op iets besluit of 'n bepaalde standpunt ingeneem het, was dit sy gewoonte om eers 'n saak van alle kante te bekyk. Dit het sy vriende opgeval dat daar by hom geen poging was om gesofistikeerd te wees of hom anders voor te doen as wat hy is nie. Hy was basies 'n nederige mens, onvervals en onopgesmuk, opreg en openhartig. Daarby was sy hele menswees, soos sy digterskap, oop en ontvanklik vir die aarde. ‘Ek het die aarde nie gesien’, 'n reël uit Van Wyk Louw se Alleenspraak, was vir hom 'n ingesteldheid waarvan hy gegru het en waarop hy met sy kunstenaarskap en sy hele wese as mens fel gereageer het. Opperman het 'n groot affiniteit vir die werk van Michelangelo gevoel en sy beeldhouwerk deeglik bestudeer, maar oor die algemeen het hy 'n beperkte belangstelling in ander kunste gehad, selde uitstallings van skilderye bygewoon, baie min die teater besoek en musiekuitvoerings slegs sporadies saam met sy vrou bygewoon. Daarteenoor het hy sy lewe lank ou reisbeskrywings met oorgawe gelees en bestudeer. Oor staatkundige aangeleenthede het hy hom in die openbaar slegs by hoë uitsondering uitgespreek, maar sy politieke vrien- | |
[pagina 359]
| |
de op Stellenbosch en Franskraal was soms verbysterd oor die kennis en insig wat hy wel gehad het. Hy was krities teenoor baie aspekte van die Nasionale regering en daarom ook teen baie akademici wat prominente posisies aan die Universiteit van Stellenbosch beklee het. In 1961 het ds. D.P. Botha kort na die verskyning van sy opspraakwekkende Die opkoms van ons derde stand 'n lesing voor die Afrikaanse Studiekring gelewer. By 'n klein geselligheid in die Uitspankafee daarna het Erlank die standpunt ingeneem dat Verwoerd die ruimheid sal hê om toegewings teenoor die bruinmense te doen. Opperman, wat waarskynlik in daardie stadium beter ingelig was oor die Eerste Minister se onverbiddelikheid, het dadelik gewys op gevalle waar die regering uiters ekstremisties in sy optrede was en die oortuiging uitgespreek dat niemand daarin sal slaag om Verwoerd tot ander insigte te bring nie. En tog het hy dit nooit oorweeg om radikaal met die Nasionale regering te breek, uit die Afrikaner-Broederbond te bedank of uit die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te tree nie. Hy het selfs naïef meegedoen aan die stryd van die Afrikaner. In 1960, toe die referendum vir die republiekwording ophande was, het Die Burger gevra dat mense slagspreuke moet instuur wat deur politici en joernaliste gebruik kon word. Opperman het 'n hele paar slagspreuke bedink wat deur Die Burger gepubliseer is, soos Die repliek
van ons kroniek
is Republiek.
Met die groeiende inkomste uit sy tantièmes en sy versigtige beleggings was Opperman reeds in die sestigerjare 'n welgestelde man. Met sy koms na Stellenbosch was hy finansieel so sterk dat hy die nuwe huis kon betaal en Kraaines - wat hy nie onmiddellik voordelig kon verkoop nie - saam met sy vakansiehuis op Franskraal kon behou. Vroeg in 1960 het hy ook 'n nuwe Borgward Isabella aangeskaf. Tog was hy finansieel baie konserwatief. Hy was daarop gesteld dat al die huise so gou moontlik afbetaal en leningvry moes wees. Hy het verkies om sy geld veilig teen rente te belê en was nie daarin geïnteresseerd om veel te spekuleer of om aandele te koop nie, behalwe in gevalle van firmas soos Human & Rousseau en die Nasionale Pers waar hy dit in belang van die Afrikaanse letterkunde gedoen het. Ook wat die behartiging van lopende uitgawes betref, was hy konserwatief. As dinge aangekoop moes word, het hy verkies om kontant of per tjek daarvoor te betaal of hoogstens van 'n koophulpskema, waarvan hy lid was, gebruik te maak. Kredietkaarte het hy nooit benut nie. Afgesien van literêre bekronings is Opperman by herhaling in die sestigeren vroeë sewentigerjare vereer soos die waardering vir sy werk gegroei het. In bloemlesings in Engels en Duits is vertalings van sy werk deur C.J.D. Harvey en Helmut Erbe opgeneem, terwyl die publikasie van 'n bloemlesing uit sy poësie by die Nederlandse uitgewer Van Oorschot baie gunstige resensies uit- | |
[pagina 360]
| |
gelok het. Ná Grové se vroeë voorkeur vir die werk van Opperman bo dié van Van Wyk Louw is ook Stoffel Nienaber toenemend in die sestigerjare geboei deur die konkreetheid, agterhaalbaarheid en boumeesterskap van sy vriend se poësie bo die ‘veilige vaagheid’, selfs wollerigheid, in baie van die Dertigers se werk. In later jare het onder andere André P. Brink toenemend waardering gehad vir Opperman wie se verskyning vir hom ‘'n literêre ontploffing’ ná die woordverliefdheid van Dertig was en wie se werk deur sy verankerdheid aan Suid-Afrika en die wêreld die leser op die aarde met sy konkrete dinge gefassineerd gevange hou. Ook van persone buite die literatuur het Opperman by herhaling lof ontvang. Op 12 Julie 1962 skryf die historikus F.A. van Jaarsveld aan hom hoe hy sy poësie bewonder, miskien omdat daarin ‘so 'n sterk historiese inslag’ aanwesig is. ‘Dit asem deur en deur 'n gees wat ek verstaan, 'n gees wat uitspreek wat 'n Afrikaner onbewus dra...’ Met hierdie toenemende waardering het vererings dan ook nie uitgebly nie. By geleentheid van sy vyftigste verjaardag in 1964 verskyn sy bundel Kuns-mis en Kort reis na Carrara, 'n bloemlesing uit sy poësie deur A.P. Grové. Naas spesifiek literêre bekronings ontvang hy in 1970 die erelidmaatskap van die Stellenbosse Boere- en Wynproewersvereniging ‘as hoë blyk van...erkentlikheid vir die voortreflike dienste deur hom gelewer ten behoewe van die belange van ons boere, waarvoor hy hom nie alleen ingespan het nie, maar waarin hy hom ook onderskei het as vriend van die boer’.Ga naar eind53 In 1971 word hy benoem tot buitelandse erelid van die Koninklijke Vlaamse Academie voor Taal- en Letterkunde, 'n benoeming wat hy hom laat welgeval, al was hy in daardie stadium gesteur oor Nederland se politieke houding jeens Suid-Afrika en het hy jare lank reeds nie meer sy lidmaatskapsgelde vir die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde betaal nie. Vir sy naderende sestigste verjaardag in 1974 het sy studente 'n huldigingsprogram met voordragte uit sy werk gereël. In sy toespraak by dié geleentheid het Bertie du Plessis gewys op die wisselende spel van evangelis en objektiewe waarnemer in Opperman se werk, sy voorliefde vir die geskiedenis en die verbinding van hede en verlede, die ontdekkingstema, die besondere vakmanskap en verbinding van Afrika en Europa. Reeds in 1969 skilder Alfred Krenz 'n portret van Opperman en in 1973 maak Katrine Harries 'n tekening van hom in 'n stadium toe hy taamlik oorgewig en sy algemene liggaamlike toestand ongesond was. Met die oog op die tekening moes hy vir Katrine Harries poseer. Na ontvangs van 'n brief van waardering van haar skryf hy om haar te bedank vir die informele en gesellige tekensessie. ‘To tell you the truth,’ sê hy, initially I was rather nervous, later it became a game: You stare at me, I stare at you - to such an extent that I was continually tempted to wink at you! Perhaps that is why I admire the eyes, but I don't like your model and that is not your fault! I saw the drawing for only a few minutes, my wife has not seen it at all. I have no objection to any exhibition. I am your creation! | |
[pagina 361]
| |
Van alle eerbewyse wat hy in die sestigerjare ontvang, moet die eredoktoraat van sy alma mater, die Universiteit van Natal, vir hom besonder aangenaam gewees het. Op 23 Maart 1968 word die graad D. Litt. honoris causa in Pietermaritzburg aan hom toegeken. In die laudatio wat by dié geleentheid gelewer is, word Opperman se agtergrond en prestasies vlugtig geskets en op sy verbintenis met Natal gekonsentreer. Aan die einde van sy rede het die ‘University Orator’, prof. J.V.O. Reid, gesê: The role of the poet in the human drama is something difficult to define; but in the case of D.J. Opperman it is fairly easy because he stands out so well: to help produce a new language, clear and suited to new tasks, to bring to the field of poetry in his language the real subjects and the real objects of present day life and to deal with them in a modern way. If indeed one wanted to describe his poetry with the one best suited word, one would not call it Afrikaans poetry, or South African poetry, but modern poetry. Whatever of good this University gave him years ago he has multiplied many times, and he is here now to receive due recognition from it. By dieselfde geleentheid het ook die Engelse Suid-Afrikaanse skrywer Alan Paton 'n eredoktoraat ontvang. Alhoewel daar nie van die eregraduandi verwag is om iets te sê nie, het Paton uit sy eie opgestaan en 'n voorbereide toespraak gelewer. Opperman is gevra of hy ook 'n paar woorde wou sê. Hy moes dus uit die vuis praat, 'n situasie waarin hy gewoonlik sy beste toesprake gelewer het! Hy het begin deur te vertel dat hy eintlik sy verstand begin kry het in die Natalse spoorwegdorpe waar daar nie 'n sterk nasionale bewussyn onder die mense aanwesig was nie. Daarby was daar baie Engelstaliges onder hulle en as kind het hy goed met hulle oor die weg gekom en Engels in 'n stadium veel beter as Afrikaans geken. Aan die Engelstalige Natalse Universiteitskollege het hy - na die vier jaar op die Hoërskool Vryheid - baie dinge geleer, maar onder meer van sy herkoms en nasionaliteit bewus geword en in 'n pleitbesorger van die Afrikaner onder die Engelse ontwikkel. Dit is daarom ook maar goed, het hy met 'n vonkel in die oog afgesluit, dat hy in Natal kom studeer het, anders was hy vandag ook 'n Alan Paton! Die uitgebreide doseeropdrag en groot getal studente tesame met sy werk as direkteur en keurder vir Human & Rousseau het met die jare sy tol begin eis en Opperman se gesondheid beïnvloed. In die sestigerjare moes hy gereeld vir die Senaatsvergaderings na die nuwe Universiteit van Port Elizabeth vlieg, maar tydens die besoeke aan die Oos-Kaap was dit meestal vergadering op vergadering en het hy moeg na Stellenbosch teruggekeer. Afgesien van enkele besoeke aan Schietfontein het hy in 1968 groot verlof van ses maande geneem en tydens die April-skoolvakansie 'n uitgebreide reis per motor deur die hele Suid-Afrika tot in Botswana onderneem. Vergesel van Marié en Diederi het hy M.E.R. op Swellendam besoek, Port Elizabeth aangedoen en op Grahamstad twee dae | |
[pagina 362]
| |
lank by die Antonissens oorgebly. Van daar is die gesin na Pietermaritzburg, Durban en Vryheid waar hulle familie en ou vriende besoek het. In Johannesburg het hulle by Schalk Pienaar oorgebly en het Opperman ook besoeke aan Grové in Pretoria en Dekker in Potchefstroom gebring. Daarvandaan is hulle na Kimberley waar hulle saam met sy broer Koos na die uitsending van sy drama Voëlvry geluister het en na Gabarone waar hulle 'n ruk lank by sy suster Liz kon oorbly. In Kimberley het Koos vir Opperman 'n lieflike karos van jakkalsvel present gegee waaronder hy van toe af altyd geslaap en wat hy op koue wintersdae om sy bene gevou het. Op pad terug het hulle by Etienne Leroux op Koffiefontein aangedoen en oorgebly. Tydens sy besoek aan die Reinethuis op Graaff-Reinet het hy onverwags in D.F. Malherbe vasgeloop. Opperman het, so sou hy later vertel, Malherbe speels aan die baard gepluk en hom herinner aan die aantygings van godslastering en die maaierkultus wat hy kwansuis in die Afrikaanse poësie ingevoer het. Toe die bejaarde Malherbe uiteindelik agterkom wie voor hom staan, het hy begin stamel en wou hy 'n ‘drinksessie’ reël, maar Opperman was teen dié tyd al in sy motor onderweg na Aberdeen waar hy die landsreis met 'n paar dae op Schietfontein afgesluit het. Afgesien van hierdie reis het die Oppermans enkele kere saam met die Yeatse na die lenteblomme by Clanwilliam gaan kyk. Toenemend het Opperman egter opgesien teen lang motorritte en naweke en vakansies reikhalsend weggevlug na Franskraal waar hy los van alle verpligtinge kon wees. Daar kon hy volkome ontspan, die irritasies van Stellenbosch en die literêre wêreld vergeet en feitlik 'n dier of 'n plant word as hy met sy visstok op die rotse sit, alikruk uithaal, hout kap of die erf en die huis skoonmaak. Hy het graag met die vissers gemeng om die lewe van die gewone mens te ervaar en na aan die aarde te beweeg. Op Franskraal het die kinders hom ook leer ken as 'n gewone mens. As hy daar intellektueel verkeer het, was dit hoofsaaklik om te gesels oor die politiek: die riglyne en optredes van die Nasionale Party, die beleid teenoor die bruinmense en die publikasiewetgewing - alles omstrede sake waaroor die Franskralers driftige gesprekke kon voer. Op Oujaarsaand het hulle dikwels die see ingevaar en gestaan en sing as die boot by die punt gaan draai. Oor die Paasnaweek het hulle 'n groot vleisbraaiery gereël en dan het die Yeatse, die Erlanks en die De Villiers's van Stellenbosch oorgekom om saam te eet. Op Franskraal het Opperman in sy ou rugbytrui, kortbroek en baret altyd soos 'n gogga gelyk en hom nie gesteur aan wat mense van sy kleredrag mag dink nie. Die houthuisie wat die Oppermans in 1957 laat bou het, was mooi geleë aan die see en het hulle baie vreugde verskaf. Daar was egter net twee slaapkamers, die dogters het groter geword en wou by tye graag van hulle maats saamneem en hulle het ook nie plek vir 'n bediende gehad nie. Aangesien Opperman Franskraal ideaal gevind het as uitspanplek en kuuroord, het hy besluit om hoër op nog 'n erf te koop en van siersteen 'n praghuis te laat bou. Die planne is | |
[pagina 363]
| |
na uitvoerige samesprekings deur Hannes van der Merwe opgestel en Opperman het Piet Vermeulen, 'n plaaslike aannemer, saam met elf handlangers vir die bouwerk in diens geneem. Omdat die padvervoerordonnansie dit belet dat 'n eienaar self sy materiaal vervoer, het Opperman die stene en sement snags onwettig laat aanry en self oor naweke gegaan om toesig oor die bouery te hou. Op 'n dag toe hy weer daar was, kom George Slabbert, een van die messelaars, en ou Jood, 'n handlanger, agter dat Opperman 'n mandjie met twee bottels saamgebring het. Hulle was teen dié tyd bewus daarvan dat hulle werkgewer lief was vir 'n glasie brandewyn, en George sê vir Jood: ‘Jong, Doktor kan nie uit twee bottels tee drink nie. Hy kom in die oggend hier met sulke “buckle”-beentjies aan. Iewers moet daar 'n “flop” wees. Ons moet loer wat is in die bottels.’ Toe George gaan kyk, vind hy brandewyn in die een bottel en besluit hy om die tee en drank deurmekaar te gooi. ‘Dit was die stilste dag op die job; Doktor het nooit iets daaroor gesê nie,’ kon Jood jare later nog onthou! Die bouery het ongeveer agt maande geduur. Vroeg in 1965 was die nuwe dubbelverdiepinghuis klaar en kon die gesin intrek. Hierdie keer het Opperman die huis Bieblebom gedoop en die naambordjie weer deur Hannes van der Merwe laat ontwerp. Bieblebom is 'n naam uit 'n ou Afrikaanse kindergedig wat hy ook in Kleuterverseboek opgeneem het en slaan op wesentjies van die verbeelding wat in 'n onwerklike huis woon. Bo-aan elkeen van die kamers het die kinders die name van Opperman se bundels aangebring. Die verste toilet onder in die hoek is Vergelegen gedoop, die ander een nader het die naam Kuns-mis gekry! Onder het Opperman 'n Japannese net gespan waarin optelgoed van die land en see versamel is: 'n stompkop, 'n muskeljaatkat, 'n see- en 'n landskilpad, die werwelbeen van 'n walvis, 'n seevarkie, see-eiertjies, 'n seemanspet en 'n rob se kop - 'n ‘net van die dood’ soos hy dit by geleentheid genoem het. Die huis was geleë op 'n erf met melkhoutbome en Opperman het buite vir hom 'n ‘boskamer’ tussen die melkhoutbome ingerig en 'n bosviool - 'n eensnaarinstrument - gemaak wat hy by tye bespeel het as Heila op die kitaar besig was en die gesin lekker saamgesing het. Franskraal was dus vir Opperman tegelyk 'n paradys en 'n monument, want die nuwe huis was 'n pragwoning wat hy vir hom, Marié en die kinders op ‘Dirk se erf’ gebou het, 'n Taj Maria soos hy dit op 'n keer sou noem. Met die werk aan die huis het Opperman van die vaste inwoners van Franskraal nog beter leer ken. Iemand wat gereeld vir ‘Miester’ Opperman kom dagsê het, was Thys Pieterse met die byname Thys Vlooi of Thys Voël. Hy was 'n visterman, maar het die gesin van brandhout voorsien en die ystervarke van die bolplante verwilder. Terwyl Opperman op 'n dag besig was om die huis skoon te maak en weggooiklere vir die morsige affêre aangetrek het, kom Thys verby, steek verbaas vas en sê: ‘Hene ekskuus miester Opperman, ek dag jy is een van jou Hotnots’!Ga naar eind54 Met sy pragtige gelaatstrekke en Herejesussandale het Thys gelyk soos iemand uit die Bybel. Op betreklik gevorderde leeftyd is hy | |
[pagina 364]
| |
getroud met Gertie en het hulle in 'n klein huisie met die naam Evergreen ingetrek. Op 14 Desember 1963 is hy en Mike Germishuys die see in om te gaan visvang. Dit was 'n volmaakte kalm dag met geen onweer in die lug nie. Die volgende dag toe Schalk Pienaar gaan visvang, vind hy die skuitjie op die strand. Hein Basson het die polisie in kennis gestel en almal het vermoed dat die twee mans verdrink het. Twee dae later het Mike se lyk uitgespoel by die Blou Sloep, aaklig gevreet deur die visse en verinneweer deur die see. Van Thys was daar egter geen spoor nie. Opperman was baie geïnteresseerd in die hele gebeurtenis en het op en af langs die strand geloop en soek of hy iets van Thys gewaar. Eers op 19 Desember het Thys se lyk by die skuithuis uitgespoel, dieselfde plek van waar dit sy gewoonte was om met die boot uit te gaan. In teenstelling tot Mike was Thys se liggaam ongeskonde maar sonder klere soos die see met hom gewoel het. Deur die strome, so kon hulle vasstel, is die lyk oor die hele lengte van die baai om die Blou Sloep en die Groot Eiland gevoer totdat hy by die vertrekpunt uitgespoel is. Nakend het die liggaam daar op die strand gelê, pragtig behoue en groot soos 'n beeld van Michelangelo as gevolg van die seewater wat die longe laat opblaas het. Opperman het drie keer na die lyk gaan kyk en die begrafnis bygewoon. Opperman het die verhaal van Thys se verdrinking by herhaling en met oorgawe vertel, onder meer aan Etienne Leroux wat dáár die ingewing vir die verdrinking van die reus Adam Kadmon Silberstein in Een vir Azazel gekry het.Ga naar eind55 Self verwerk hy die geskiedenis van Thys se dood in sy gedig ‘Kantelkompas’ in Edms. Bpk., 'n bundel wat in 'n groot mate - soos vroeër die gedig ‘Seevelde van bamboes’ in Dolosse - op die wêreld van Franskraal en sy ervarings daar steun. Een van die ‘optelgedigte’ kry hy present van Japie de Villiers wat vir hom op 'n dag op sy versoek die name van die visvangplekke op 'n Rembrandt-sigaretdosie afgeskryf het. Voorin die geskenkeksemplaar aan De Villiers staan die woorde: ‘Baie dankie, Japie, vir Bls. 25!’ Die gedig heet ‘Visvangplekke op die plaat’ en bekoor 'n mens deur die ‘soet musiek van name’Ga naar eind56 waarvan W.A. van der Stel in Vergelegen praat: Haakgat
Die Polle
Sopiesklip
Mierkom
Voorsteklip
Vyeklip
Maerbankies
Otterbaai
Tafelklip
Hoëkrans
Skeurbank
Galjoenbank
| |
[pagina 365]
| |
Klipgat
Bontlakei
Varswater
Waenhuis
Verwulf
Pofadderbank
Die Stal
Die Kruis
Hemelhoog
Die Hel
| |
VAlhoewel Opperman in die sestigerjare en later minder kritiek beoefen as vroeër en geen resensiewerk meer onderneem nie, was hy tog verplig om van tyd tot tyd sekere opdragte te aanvaar of as geleentheidspreker op te tree. Van die redigeerwerk wat hy in hierdie jare onderneem, was dikwels die logiese voortvloeisel of finale afwerking van vroeër belangstellings, soos die bloemlesing uit Gustav S. Preller se kritiese opstelle (Eerstelinge, 1961) waaraan hy reeds in sy M.A.-verhandeling aandag gegee het, en die keuse uit H.A. Mulder se nagelate werk (Laaste opstelle, 1961) waarmee hy reg laat geskied aan een van die fynste kommentators oor die Afrikaanse letterkunde oor wie hy reeds in die veertigerjare uitgebreid geskryf het. In 1962 maak hy 'n keuse uit die beskouinge van P.C. Schoonees (Die tweede verdieping) en skryf hy in die voorwoord met groot waardering oor sy eerste leermeester en ‘volksonderwyser’ wat gewillig was om sy mense op verskillende vlakke te dien. In aansluiting by sy werk as uitgewerskeurder, dosent van die Letterkundige Laboratorium en adviseur vir digters stel hy en Fred le Roux in 1965 Stiebeuel 2 saam. Soos sy voorloper in 1946 bied dit vir jong skeppende talente die geleentheid om hulle werk te vergelyk met dié van hulle tydgenote en reaksie van kritici op hulle werk te verkry.Ga naar eind57 Die jaar daarna is hy verantwoordelik vir die Afrikaanse afdeling van Dubbelloop, 'n bloemlesing van hom en Stoffel Nienaber uit die Afrikaanse en moderne Nederlandse poësie. Die doel hiervan was om die skolier ‘tot selfstandige kennismaking en tot 'n persoonlike ontdekkingsvreugde’ te prikkel, maar ook vergelykingsmateriaal te verskaf wat tot ‘fyner karakterisering en uiteindelike waardebepaling’ kon voer. Omdat hy na sy werk aan die Kleuter- en Klein verseboek 'n behoefte gevoel het aan 'n Kinderkeur uit A.G. Visser om reg aan dié digter se verse vir die jeug te laat geskied, stel hy in 1967 'n bloemlesing onder dié titel met illustrasies deur Katrine Harries saam. In dieselfde jaar skryf hy 'n voorwoord vir die bundel redevoerings wat Anton Rupert in Wie in wondere glo versamel en word hy meegevoer deur die besondere poësie van 'n man wat handel, wetenskap en kuns kon versoen en ‘illusies | |
[pagina 366]
| |
en drome...in vervulling (kon laat) gaan in groter syfers, nuwe sake, nuwe lande, nuwe direksies’. Die opstelle en voordragte wat Opperman in die sestiger- en vroeë sewentigerjare lewer, is meestal kleiner van opset as die reeks groot studies wat hy in Wiggelstok versamel, al maak hy ook in dié stukke verhelderende uitsprake en kom daarin steeds van sy verrassende formulerings voor. Die enigste artikel wat hy sonder aandrang van buite skryf, is ‘Dina van Witwatersrand’ (Standpunte, XV:2-3, Februarie 1962) waarin hy op verrassende ooreenkomste tussen Trekkerswee en die Middeleeuse mirakelspel Mariken van Nieumeghen wys. Hierdie kort studie is waarskynlik 'n neweproduk van die lesings wat hy vanaf 1960 oor Totius se gedig vir sy tweedejaarskursus aangebied het. As hy in Maart 1961 gevra word om 'n lesing by die Universiteit van Pretoria te hou, kies hy ‘Die aard van die dramatiese alleenspraak’ as onderwerp. Met die oog op die voorbereiding van sy derdejaarskursus in 1960 het hy onder meer die dramatiese alleensprake van Leipoldt en Van Wyk Louw opnuut bekyk en Robert Langbaum se monografie The poetry of experience oor die dramatiese alleenspraak as vorm intensief deurgewerk. Die lesing in Pretoria gee hom die geleentheid om sy gedagtes oor dié onderwerp verder te orden en die uitstekende studie van Langbaum bekend te stel. In dieselfde jaar lewer hy by geleentheid van die Stellenbosse Kunsfees 'n voordrag oor ‘Moderne digkuns’ waarin hy die vernuwing in temas, verspatroon, taal en beeld nagaan en met enkele voorbeelde uit die Afrikaanse poësie illustreer. Die volgende jaar word hy deur die FAK uitgenooi om by hulle kongres in Durban op 11-13 Julie 'n lesing oor moderne tendensies in die Afrikaanse poësie te lewer. Aanvanklik weier hy, maar dit lei tot 'n besoek van prof. H.B. Thom, rektor van die Universiteit van Stellenbosch en voorsitter van die FAK, aan sy huis en 'n sterk beroep om tog in te stem. ‘Maar ek het al verlede jaar daaroor gepraat,’ het Opperman probeer skerm. ‘Dan weet jy presies wát om te sê,’ was Thom se antwoord! Dié lesing van Opperman verskyn in 'n bundel FAK-referate en word ook in Standpunte, XVI:1, Oktober 1962 opgeneem. Die aanvanklike onwilligheid om die FAK-lesing te hou, was tekenend van 'n geestesgesteldheid wat toenemend in die sestigerjare by Opperman voorgekom het. Met die tyd en energie wat die professoraat en sy verantwoordelikhede by Human & Rousseau van hom geëis het, was daar minder geleentheid as vroeër vir skeppende en kritiese werk. Daarby het hy gevoel dat hy met die groter getal goeie studente en potensiële vakmanne op Stellenbosch van sy teoretiese opvattinge en kritiese insigte deur nagraadse kandidate wou laat uitwerk eerder as om dit self te doen. Die gevolg hiervan is dat sy kritiese publikasies in hierdie tydvak hoofsaaklik geleentheidswerk was wat hy op uitnodiging as voordragte gehou of as artikels gelewer het. Na die ‘Kolporteur en kunstenaar’-lesing in 1960 wat as 'n soort beleidsverklaring vir die Stellenbosse professoraat beskou kan word, lewer hy | |
[pagina 367]
| |
op 23 April 1964 'n rede by die opening van 'n tentoonstelling oor die ontwikkeling van Afrikaans in die Carnegie-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch. Hoewel hy gevra word om binne tien minute Langenhoven se aandeel te beklemtoon en dit as 'n ‘kwasterige opdrag’ beskou, buit hy die aweregse element in dié taalstryder se karakter en sy besondere verbintenis met Stellenbosch uit deur Langenhoven self aan die woord te stel en sy tipe kwinkslae na te boots. In 1963 word hy oorgehaal om 'n kort praatjie vir die BBC oor Afrikaans as taal en die ontwikkeling van die literatuur te lewer, terwyl hy in 1965 'n stuk opstel vir die herdenking van Jan Celliers se honderdste verjaardag waarin hy 'n uitstekende samevatting van dié volksdigter se werk gee.Ga naar eind58 Die verskyning van Celliers se poësie dui hy aan met dié digter se beeld van die rustige vlakte waaroor die haelstorm skielik opsteek: soos dié haelstorm was die verskyning van ‘Die vlakte’ saam met Marais se ‘Winternag’ van groot betekenis as inset van die Tweede Afrikaanse Beweging ná die eeuwenteling. Uitgaande hiervan tipeer hy Celliers se werk en dui hy ook die swakhede in dié poësie aan. Hy sluit af: Daar is egter 'n groepie verse waarin ons die statige woord en ruimtelikheid waardeer, soos bv. in party strofes van ‘Die vlakte’; ten tweede het ons die karakterisering van enkele nasionale figure, soos De Wet en Kruger; en ten derde het ons die vaslegging van 'n heengegane tydperk in die ontwikkeling van ons Boerekultuur soos dit so mooi en natuurlik sy uiting vind in Martjie. Hier is Jan Celliers in die skoonste sin van die woord volksdigter, en 'n later geslag bly hom dankbaar vir hierdie verse. Wanneer Duke Erlank as professor aftree, lewer Opperman op 19 Oktober 1966 by geleentheid van 'n kultuurprogram op Stellenbosch 'n rede waarin hy op sy kollega se werk as spreker en stryder wys en sy letterkundige bydrae bespreek. Vir sy oud-professor Gawie Nienaber se sewentigste verjaardag skryf hy in 1973 die artikel ‘Twee bottels wyn’ wat oorspronklik in Sewentiger G.S. Nienaber gepubliseer word en waarin hy reminisserend oor sy Natalse studentejare en sy verhouding tot die jubilaris skryf. In dieselfde jaar hou hy op uitnodiging van die Hoërskool Bloemhof - waar sy dogter Diederi toe was - 'n lesing oor die voorgeskrewe werk Periandros van Korinthe, die enigste keer dat hy 'n lesing uitsluitlik aan 'n werk van homself gewy het. Vir die onderwysers en skoliere moet die lesing egter 'n teleurstelling gewees het, want Opperman was weinig verhelderend oor sy eie drama! In sy rede begin hy deur daarop te wys dat sommige persone die digter as die beste kritikus van sy eie skepping beskou, maar dat die ervaring leer dat hy dikwels die swakste insig en oordeel oor sy eie werk het. Die skrywer as kritikus is ook gevaarlik, omdat hy ‘'n verdedigende of beskermende houding of selfs 'n aanvallende houding oor sy beste werk kan inslaan’. Die skrywer is wel inherent kritikus as hy tydens die skeppingsproses tussen verskillende moontlikhede | |
[pagina 368]
| |
soos woorde en situasies moet kies, maar dan is dit deel van die skeppingsproses. Dit is dus beter om nie die skrywer nie, maar die kunswerk self te raadpleeg. Daarna wei hy uit oor 'n paar sake in verband met Periandros van Korinthe. 'n Mens moet nie verwag dat die drama sal voldoen aan die vereistes van die klassieke tragedie nie, al skep die klassieke boustof en indeling in vyfbedrywe ‘'n basis van verwagting en dus 'n spanning met wat die kunstenaar aangevang het’. As tragiese held voldoen Periandros nie aan die vereistes van Aristoteles nie, maar toon hy eerder ooreenkomste met die wreedaard in Richard III. Daarna konsentreer hy op die verhouding digter-heerser in die drama. Alhoewel Opperman plek-plek insiggewende dinge sê, is die motivering onvolledig en volg die gedagtes te kripties en soms verbandloos op mekaar. Die lesing oor Periandros van Korinthe is slegs in handskrif oorgelewer, nie orals volledig uitgeskryf nie en nooit gepubliseer nie, terwyl die meeste van die geleentheidstukke uit die sestigerjare later in Naaldekoker (1974) opgeneem word of in Verspreide opstelle (1977) versamel is. In aansluiting by die kort rede oor Langenhoven oorreed die redaksie van Matieland hom in Augustus 1973 by geleentheid van dié volkskrywer se honderdste verjaardag om 'n waardering van ‘Die stem van Suid-Afrika’ te skryf, die enigste artikel van Opperman wat uitsluitlik aan die analise van 'n enkele gedig gewy is. As die Universiteit van Stellenbosch in 1975 besluit om in die taalfeesjaar 'n aantal persone wat op die gebied van die Afrikaanse taal en letterkunde werksaam is, met eredoktorate te vereer, stel Opperman voor dat Uys Krige as oud-student van Stellenbosch en as gevierde Dertiger bekroon word. Vir die gradeplegtigheid op 10 Desember 1975 lewer hy die commendatio wat deur die rektor voorgedra is, terwyl hy by die noenmaal daarna 'n kort tafelrede hou waarin hy met Krige se belangstelling in eie juvenalia spot. Hy stel die heildronk op Krige in met ‘'n kwatryntjie’: Ten spyte van sy periodieke maagpyn
en dat hy kort-kort na die buiteland verdwyn,
trap hy tussendeur uit flonkerende korrels
telkens in ons letterkunde 'n kroonjaarwyn.
Toenemend het Opperman hom egter in die laat-sestigerjare en vroeë sewentigerjare van allerlei kritiese aktiwiteite of verpligtinge onttrek wat sy tyd gevreet en hom van sy skeppende werk weggehou het. As hy in 1963 deur Bartho Smit uitgenooi word om 'n nuwe literatuurgeskiedenis vir die APB te skryf, wys hy dit begryplikerwyse onmiddellik van die hand, waarskynlik omdat hy in daardie stadium nie meer in 'n omvangryke onderneming van dié aard geïnteresseerd was nie en omdat hy nooit 'n daadwerklike verbintenis met die APB gehad het nie. Maar ook as F.I.J. van Rensburg hom vra om in 1968 vir Pirow Bekker se doktorale proefskrif en weer in 1975 vir dié van Chris van der Merwe as eksterne eksaminator op te tree, weier hy. Van Rensburg se uitnodi- | |
[pagina 369]
| |
ging om by die RAU 'n lesing oor Van Wyk Louw te kom hou, beantwoord hy op 4 November 1970 telegrafies en kripties-digterlik: ‘Beste Frans sien nie kans.’ In 1971 wys hy ook 'n uitnodiging van die hand om 'n studiereis deur België te onderneem. In Junie 1973 word hy deur Ernst van Heerden gevra om 'n nuwe reeks Jan Hofmeyr-lesings by die Universiteit van die Witwatersrand in te lei oor enige tema wat hy verkies, maar ook dié versoek weier hy. As hy in 1974 gevra word om as eksaminator vir André P. Brink se D. Litt. op grond van reeds gepubliseerde kritiese werk by die Rhodes-Universiteit op te tree, sien hy ook nie kans nie en sê hy in 'n brief van 5 Maart 1974 aan Brink dat hy naas 190 derdejaar- en vyf B.A.-Honneurs-studente ook tien M.A.- en drie D. Litt.-kandidate het wat almal wil klaarmaak en dat hy dus hoofstuk na hoofstuk moet nasien, bespreek en weer moet nasien. Die groot drag werk was dus beslis een van die oorwegings waarom hy hom toenemend aan die kritiek onttrek en die standpunt ingeneem het dat hy meer tyd aan sy skeppende werk wou wy. As 'n mens egter die omvang van Opperman se publikasies in die sestiger- en vroeë sewentigerjare met dié in sy periode in Kaapstad vergelyk, is dit kwantitatief en by tye kwalitatief veel minder. Vermoedelik was daar dus ook ander faktore vir hierdie afname in die skeppingsdrif by hom aanwesig. Met sy aankoms op Stellenbosch was daar egter nog niks hiervan merkbaar nie. Ongeveer ses maande nadat hy die professoraat aanvaar het, verskyn Astrak van die gedigte van D.J. Opperman, 'n omvattende bloemlesing uit sy eerste vier digbundels wat, volgens A.P. Grové in Die Huisgenoot van 28 Oktober 1960, ‘'n pragtige en verantwoorde beeld gee van Opperman se digterskap’. In dieselfde jaar versorg Merwe Scholtz vir die Nederlandse uitgewer Van Oorschot D.J. Opperman: 'n Keur uit sy gedigte, 'n bundel waarin die volledige Joernaal van Jorik opgeneem is en wat baie gunstige reaksies in die Lae Lande uitlok. In Vrij Nederland van 8 Oktober 1960 sê A. Nuis onomwonde dat van die bloemlesings uit Opperman en Van Wyk Louw (van wie gelyktydig 'n keur by Van Oorschot gepubliseer is) dié uit Opperman die meeste indruk op hom gemaak het. Die rede hiervoor, so lei 'n mens uit sy betoog af, is dat land, volk en geskiedenis by Opperman 'n veel belangriker rol speel as by Van Wyk Louw, dat Opperman se besondere beeldspraak die Afrikaanse landskap sterker in die geheue laat vashaak en dat hy meer gebruik maak van die spesifiek Afrikaanse woord. Nuis se argumente laat 'n mens terugdink aan Albert Verwey se uitspraak dat Leipoldt in vergelyking met Totius en Celliers veel meer daarin slaag om aan ‘de dichterlijke inhoud van Zuid-Afrika’Ga naar eind59 gestalte te gee. Dié uitspraak was vir Opperman in die veertigerjare 'n ‘haunting phrase’ en 'n tartende uitdaging om in die vorm van die epiese gedig Joernaal van Jorik op sy besondere wyse dié ideaal te verwesenlik. Op 7 Februarie 1961 gee N.A. Donkersloot, professor in Nederlandse letterkunde aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, in 'n rede vir Radio Hilversum | |
[pagina 370]
| |
ook voorkeur aan Opperman se poësie bo dié van Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers. Opperman is 'n digter van die land, maar zijn geladen poëzie is verre van pastoraal of idyllisch, en zij omspant veel meer dan een landstreek of plaatsleven, zij groeit uit tot een symboliek van het gehele land en men kan zeggen van het gehele leven. Het lijkt een paradox maar toch zou men kunnen zeggen dat van deze drie groten (Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en D.J. Opperman - J.C.K.) de dichter Opperman, de meest plaatselijke, toch tegelijkertijd de meest omvattende, de universeelste is. Nog voor die verskyning van Astrak lees Opperman 'n aantal van sy nuwe gedigte oor die radio voor en in Standpunte, XIII: 4, April 1960 verskyn ‘Dennebol’, gevolg deur ‘Carrara’, ‘Ou kroonkandelaar’, ‘Sondag van 'n kind’ en ‘Seevelde van bamboes’ in Standpunte, XIII: 5, Junie 1960. Saam met ‘By die dood van Roy Campbell’, ‘Fabel’, ‘Bulalalamp’ en ‘Wensbeentjie’ word dié verse in die afdeling ‘Ongebundelde gedigte’ in Astrak opgeneem, die eerste nuwe verse wat Opperman na Blom en baaierd publiseer en die eerste aanduiding dat hy met verdere skeppende werk besig was. Tog duur dit nog meer as drie jaar voordat hy dié gedigte saam met ander in Dolosse publiseer, 'n bundel wat op 13 November 1963 verskyn en waarvoor Willem Jordaan die stofomslag ontwerp. Van die gedigte in die bundel dateer terug na ervarings tydens Opperman se Europese reis van 1957, soos sy besoek aan 'n Atheense kerkhof (‘Gedagtes by 'n sarkofaag’), die Sixtynse Kapel in Rome (‘Carrara’) en Pompeji (‘Dennebol’), al is dit nie reispoësie in die oppervlakkige sin van die woord nie. 'n Gedig soos ‘Springbokke’ is reeds in 1957 in Londen geskryf nadat hy met C.W. de Kiewiet se Anatomy of South African misery kennis gemaak het, terwyl ‘Vuurbees’ ontstaan na die lees van ‘The epic of man’ in 'n 1961-uitgawe van Life. Wat 'n mens in dié bundel opval, is die onthutsende toekomsblik wat Opperman hier op die Westerse wêreld as sodanig het. Daar is sprake van die einde van die Westerse beskawing, 'n ‘allesuitwissende slagveld’,Ga naar eind60 ‘atome (wat) stoel uit die atol’Ga naar eind61 en die mens as 'n frats in die mutasieketting van die heelal. Meer spesifiek word daar ook gepraat van Suid-Afrika wat in die ‘wêreldraad’ aangekla word en van die Afrikaner wat ‘geroepe (is) om 'n groot afspraak/ met die dood te maak’.Ga naar eind62 Hierdie kultuurpessimisme is Opperman se persoonlike ‘Untergang des Abendlandes’ van die sestigerjare. 'n Voorspel hiertoe is die kort maar insiggewende ‘Blik in die toekoms’ wat hy vir die Uniefees op 24 Mei 1960 tot 'n spesiale bylae van Die Burger bydra.Ga naar eind63 Uitgaande van 'n strofe uit A. Roland Holst se ‘Bij het kristal’ skets hy die Afrikaner se fenomenale ontwikkeling sedert Uniewording, al het dit meegebring dat ons van mekaar af wegbeweeg en in 'n volk van ‘kultuurlose vakmanne’ aan die ontwikkel is: Daarby het ons verhouding met ander rassegroepe en volkere versleg: | |
[pagina 371]
| |
Die Afrikaner het gebou aan sy wêreld, het hom sterk gemaak en in dié proses die Engelsman, Kleurling en Bantoe van hom vervreem. Dié vervreemding is verhaas deur 'n verstedeliking of eerder 'n verfabrieking wat onpersoonlike verhoudings verder versterk het. Dit het ook 'n geestelike vervreemding meegebring, dit wil sê ons kultuurwêreld het verarm: ons kinders praat slegter Engels as wat ons dit gepraat het, lees minder graag Nederlands en Engels, die stedelike Kleurling praat al minder Afrikaans en ons dwing die naturel terug na sy eie taal, tydskrifte, boeke...Max Lamberty het gesê 'n volk moet 'n aantrekkingskrag ontwikkel; dit lyk asof ons die teenoorgestelde voortreflik beoefen het: 'n sterk wegstotende mag. En dit werk ook deur na die buiteland: deur ons rassespanning stel oorsese vriende al hoe minder in ons kultuurprestasies belang. Die ander gesig in die kristal is dus ‘'n geestelike lewe oorheers en verdor deur rassespannings en rassewaardes’. Daar is wel die moontlikheid dat die magte weer in ewewig kan kom en ons 'n geestelike vernuwing kan belewe, maar op die oomblik bly die oorheersende beeld van ons toekoms dié wat ek geskilder het: binne-in ons eie geledere én na buite, magte wat wegstoot, ons van mekaar, ander van ons - 'n uitdyende heelal. Die sterre beweeg verder en verder van mekaar, hulle koel af en elkeen sal uiteindelik in sy eie selfgenoegsaamheid tot stilstand kom. Wat mens met skrik vervul oor ons eie toekoms, is die gesig van hierdie koue geestelike hel. Hy sluit die opstel af deur Van Wyk Louw se ‘Inferno’ aan te haal, 'n gedig waarin dié ‘koue geestelike hel’ angswekkende gestalte vind. As dié artikel in Die Burger verskyn, is Izak van der Merwe só beïndruk dat hy aan Opperman skryf om te sê hoe ‘skitterend’ hy dit vind, terwyl sy vrou Fannie byvoeg: ‘Die beste artikel wat ek in tye gelees het.’ By herhaling sou Adam Small in die toekoms ook op dié artikel terugkom. Die verskyning van Dolosse word tydens 'n noenmaal in die Here XVII op 13 November gevier. By dié geleentheid stel Ernst Lindenberg die bundel aan die gaste bekend, wei hy uit oor die toepassingsmoontlikhede wat die titel kan hê en staan hy ook stil by die benouende ‘boodskap’ wat Opperman hier gee: ons sien mense gevange in ‘getye van verdriet’, seëvierende ‘rooi reinaerdes’, 'n kraaminrigting vir radiumgevalle, atome ‘wat stoel uit die atol’, 'n ‘aasdrywer’, 'n ‘sterbemorste nes’ en uitgebraakte ‘uilballe’; die uitwissing van die Afrikaner, die kultuur, homo sapiens... As Opperman 'n eksemplaar van Dolosse aan sy oud-kollega Izak van der Merwe stuur, ontvang hy op 4 Desember 1963 'n bedankingskaartjie met 'n ‘versie’: | |
[pagina 372]
| |
Vir Dirk Opperman
Selfs nie die nooit volprese doloswoord
is vir atoom se doodkastyding woord genoeg
geen woord is daarvoor woord genoeg
en palissandertaal te muggieswak
dis die dat ek al sê jy ook dis dwaas
terwyl die Bolandslug nog suiwer is
troos soek in wat vir jou so nietig is
noudat die lug nog stil en suiwer is
Ook A.P. Grové bedank hom op 11 Desember 1963 vir die toesending van Dolosse en skryf - in aansluiting by Opperman se gebruik van rympies voorin geskenkeksemplare aan sy vriende - 'n kwatryn wat by die trant van die bundel aansluit: Hopies beendere - Paris en Hélena - byeengevoer
borskas sonder hart, bekkenholte sonder moer;
laat die digter formules prewel of stilweg soos die mantis bid
totdat met spier en vleis die dor geraamte roer.
Grové is ook die eerste kritikus wat in 'n resensie op die bundel reageer. In Die Huisgenoot van 13 Maart 1964Ga naar eind64 wys hy op die deurlopende ondergangsmotief, al is daar tog aan die slot van sommige gedigte vir hom sprake van 'n bevryding en 'n triomf. In Kriterium, I:4, Januarie 1964Ga naar eind65 werk Ernst Lindenberg die verskillende interpretasies van die bundeltitel verder uit en wys hy op die ‘speelse beweeglikheid’ wat daar met sommige gedigte in Opperman se poësie kom. Rob Antonissen toon in Standpunte, XVII: 5, Junie 1964Ga naar eind66 aan dat Opperman met hierdie bundel in 'n mate van die ‘metaforisme’ van vroeër wegswaai en veel meer ‘saaklike mededeling (gee), verbinding van feitlike gegewens, superposisie van historiese en mities-historiese tekens, kruising van 'n menigte begrippe en gebeurtenisse gerig op wedersydse verduideliking en op duiding van een gemeenskaplike sin, 'n basiese eensinnigheid’. T.T. Cloete wys in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, IV:2, Junie 1964Ga naar eind67 op die gemak waarmee die digter beelde, simbole en motiewe uit gans verskillende sfere bymekaarhaal’ en op die ‘vormrykdom’ wat Opperman hier soms in ‘die doodgewoonste Afrikaans’ gee. Soos Lindenberg noem André P. Brink in Sestiger, I:4, Augustus 1964 die oper vorm van dié poësie: ‘betekenismoontlikhede wat nie bo-op mekaar gestapel word soos in 'n palimpses nie, maar as 't ware sirkelvormig uit die gedig uitwaaier, horisontaal’, 'n procédé wat byvoorbeeld die ‘verbysterende beweeglikheid’ van ‘Vloervelletjie’ oplewer. Dolosse was een van die belangrikste aanspraakmakers op die CNA-prys wat vroeg in 1964 toegeken moes word. Die beoordelaars vir die Afrikaanse afdeling was W.J. du P. Erlank, Audrey Blignault en Piet Beukes, redakteur van Die Landstem. Erlank en Blignault het albei, volgens die puntestelsel wat vir | |
[pagina 373]
| |
die CNA-bekronings gevolg moes word, Dolosse eerste geplaas en die hoogste moontlike punte daaraan toegeken, terwyl hulle Die ambassadeur van André P. Brink die tweede plek laat inneem het. Beukes was egter van mening dat Brink se roman die beste publikasie van die jaar was en dat Dolosse geen plek op die merietelys behoort te kry nie! Toe die drie beoordelaars se berekeninge bymekaargetel is, was Die ambassadeur eerste met dertien teenoor tien punte vir Dolosse. Vir Erlank was die uitslag onaanvaarbaar en onbillik teenoor Opperman. Hy het die hoofbestuurder van die CNA geskakel en hom daarop gewys dat twee beoordelaars vir Opperman die hoogste punte gegee het en dat hy en Blignault 'n persverklaring sal uitreik indien die prys nie aan Opperman toegeken word nie. Blykbaar moet die hoofbestuur van die CNA Erlank se beswaar in 'n ernstige lig beskou het, want op 12 Maart 1964 word die prys by 'n geselligheid in Kaapstad aan Opperman oorhandig. Die commendatio word gelewer deur niemand minder nie as Piet Beukes wat egter meer oor Die ambassadeur as oor Dolosse uitwei! In aansluiting by die ‘dampkring’ waaruit die bundel ontstaan, wys Opperman in sy antwoordGa naar eind68 op die gevaar van 'n ‘totale uitwissing’ vir die mens as sodanig en die gevaar vir 'n klein volkie as gevolg van ‘die stryd tussen die groot volke of magsgroepe’. Terwyl so 'n ingryp vir die Engelstalige skrywer geen wesentlike gevaar inhou nie, is die ‘Afrikaanse skrywer en meer bepaald die Afrikaanse digter...onlosmaaklik en noodlottig verbonde aan die Afrikaanse klankwêreld’. Daarby is die gevaar dat die Afrikaanse kunstenaar deur politieke betrokkenheid mislei kan word tot ‘propaganda’ en ‘strekking’, terwyl dit sy eerste taak is om ‘eerlike kunswerke’ te bou. Die skrywer het in Suid-Afrika deur die verskeidenheid mense ‘'n wonderlike bron van prikkels’ en hy behoort ‘met die verskuldigde dankbaarheid, trots en eerlikheid van die vakman dáármee (te) werk’. Dolosse het egter ook vir 'n ander toekenning gekwalifiseer. In 1965 moes die Hertzogprys vir Poësie toegeken word uit alle digbundels wat in die tydvak 1962-1964 gepubliseer is. Vir ingeligtes op die gebied van die letterkunde was dit duidelik dat Dolosse, Van Wyk Louw se Tristia en Elisabeth Eybers se Balans die sterkste aanspraakmakers op die prys was. Die keurkomitee van die Akademie, met A.P. Grové as sameroeper en Ernst van Heerden en Elize Botha as bykomende lede, sou dus 'n aanbeveling moes maak. Op hulle vergaderings in Maart en April 1965 het die lede dan ook die bundels van Opperman, Van Wyk Louw en Eybers uitgesonder as dié wat vir die bekroning in aanmerking kom. Na verdere oorweging het Balans verval en die komitee was daarna twee maal bymekaar om 'n finale keuse tussen Dolosse en Tristia te probeer doen. Ter sake vir die beslissing was onder meer dat albei digters een keer tevore vir 'n digbundel die onverdeelde prys ontvang het en dat daar van albei belangrike bundels was wat, as gevolg van die vroeëre bepaling dat 'n skrywer net een maal in 'n bepaalde genre met die Hertzogprys | |
[pagina 374]
| |
bekroon kon word, nooit vir toekenning in aanmerking gekom het nie. Die komitee kon op grond van die twee bundels alleen tot 'n slotsom kom. ‘Maar,’ lui die verslag wat uiteindelik aan die Fakulteitsraad voorgelê word, hoe verder die diskussie gevorder het, hoe duideliker het dit geword dat 'n finale rangordening so goed as uitgesluit was. Hierdie bundels is eintlik nie vergelykbaar nie. Tristia is dikker, bevat meer gedigte, is in 'n sekere sin ruimer, ‘vetter’, stoutmoediger in sy eksperimentering met die taal. Maar let jy op die afsonderlike gedigte, oorval die twyfel jou weer. Opperman se ‘geraamte’-bundel bevat, ten spyte van sy beperkte omvang, miskien meer werklike groot gedigte as een van sy vorige bundels, afgeronde gedigte wat bo alle eksperimentering uitstyg en na konsepsie en vormgewing behoort tot die allerbeste in ons taal. As 'n mens uit elk van die twee digters se hele oeuvre 'n bloemlesing van sê 30 gedigte sou saamstel, dan sal Dolosse in die Opperman-bundel waarskynlik net so goed verteenwoordig wees as Tristia in die Louw-bundel. Daarmee is gesê dat die twee bundels hoogtepunte vorm in die werk van die twee digters, hoogtepunte ook in ons letterkunde. Omdat die komitee albei bundels derhalwe as ‘vorstelik...in hulle eie reg’ beskou en die kritiese apparaat vir 'n keuse by so 'n ‘peil van voortreflikheid’ die letterkundige in die steek laat, lê hulle albei aan die Akademieraad voor: Ons weet dat 'n verdeling van die prys selde populêr is. Maar in die verlede is verdelings al gemaak, en ons glo dat 'n verdeling in hierdie geval, waar dit ons twee grootste skrywers geld, nie een van die twee tot oneer sal strek nie. Ten slotte, ons maak hierdie aanbeveling, nie omdat ons verskil nie maar juis omdat ons tot die eenparige slotsom gekom het dat 'n wetenskaplik gefundeerde rangordening in hierdie geval nie moontlik is nie. Die Fakulteitsraad van die Akademie sou op 23 April 1965 in Pretoria vergader om onder meer oor die toekenning te besluit. In daardie stadium was die aanbeveling van die komitee reeds aan Van Wyk Louw bekend en het hy Ernst van Heerden en P.J. Nienaber, sy kollegas by die Universiteit van die Witwatersrand, duidelik laat verstaan dat hy die prys sal weier indien 'n verdeling plaasvind. Op die vergadering wys Nienaber dan ook daarop dat verdeelde pryse in die verlede tot rusies in die pers aanleiding gegee het. Die Fakulteitsraad besluit dat die komitee se aanbeveling na 'n breë letterkundige komitee verwys moet word indien die Akademieraad dit nodig ag. As die uitvoerende komitee van die Akademieraad die volgende dag onder voorsitterskap van dr. A.J.A. Roux vergader, sê die gemoedelike prof. Nienaber by herhaling dat die aanwesiges moet onthou Van Wyk Louw is sy ‘baas’ - tot ergernis van die voorsitter wat hom versoek om nie weer so iets te noem nie! Op die vergadering van die Akademieraad op 8 Mei 1965 in Bloemfontein voel Gerhard J. Beukes dat die eenparige verslag van die keurkomitee aanvaar moet word, 'n standpunt wat die meerderheid van die Raad steun. Die voorsitter wys | |
[pagina 375]
| |
egter op paragraaf 12 (a) van die reglement by die toekenning van die Hertzogprys wat bepaal dat die Raad 'n breë komitee van tien lede moet benoem indien die keurkomitee meer as een skrywer aanbeveel. Op voorstel van V.G. Hiemstra word 'n breë letterkundige komitee dan ook aangewys, bestaande uit G. Dekker, Ernst Lindenberg, F.I.J. van Rensburg, P.D. van der Walt, P. du P. Grobler, J. du P. Scholtz, T.T. Cloete, Ampie Coetzee, S. Strydom en W.J. du P. Erlank. Wanneer die Fakulteitsraad weer op 30 Junie 1965 op Potchefstroom vergader, word die verslag van die breë letterkundige komitee voorgelê. Coetzee, Cloete, Dekker, Grobler, Lindenberg, Scholtz en Van Rensburg was ten gunste van 'n toekenning aan Tristia, terwyl Erlank en Van der Walt van mening was dat Dolosse bekroon moes word. In sy aanbeveling sê Erlank dat Tristia in vergelyking met die Opperman-bundel ongelyk van waarde is, Dolosse tematologies en struktureel as bundel sterker vertoon en Opperman se verse 'n ‘meer dwingende taalkrag’ en 'n sterker ‘konkretiserende vermoë’ openbaar. Opperman, so voeg hy by in 'n formulering wat selfs vir 1965 merkwaardig was, het groter ‘aktualiteitswaarde, van Boerestandpunt gesien’! Strydom het die ongewone stap gedoen om, strydig met die moontlikhede wat die reglement bepaal, aan te beveel dat 'n volle Hertzogprys - en nie 'n verdeelde prys nie - aan elk van die twee digters toegeken moes word. Die aanbeveling was dus sewe ten gunste van Tristia, twee ten gunste van Dolosse en een vir albei. In die lig daarvan besluit die Fakulteitsraad dat Tristia bekroon moet word, 'n aanbeveling wat later dieselfde dag deur die Akademieraad bekragtig is. Terwyl die vorige verwysing na 'n breë letterkundige komitee in die besluit oor Dias en Periandros van Korinthe ten gunste van Opperman verloop het, was dit dié keer dus Van Wyk Louw wat bekroon is. Alhoewel Opperman die prys aan Van Wyk Louw gegun en self by geleentheid verklaar het dat Tristia ‘letterlik en figuurlik een van die grootste digbundels in Afrikaans’Ga naar eind69 is, was hy ontstig oor Van Wyk Louw se kleinlike weiering om 'n verdeelde prys te aanvaar en woedend oor Nienaber se rol in die hele geskiedenis, in so 'n mate dat hy later geweier het om Nienaber aan huis te ontvang. Hy weier ook die Akademie se versoeke om so ‘grootmoedig’ te wees en die commendatio vir die toekenning aan Tristia te lewer. Dolosse was egter die sterkste aanspraakmaker vir 'n ander bekroning. Op 23 Februarie 1966 oorhandig Heini Jaekel van Nasionale Boekhandel die Hofmeyrprys tydens 'n noenmaal by die hoofkantoor van die uitgewery in Parow aan Opperman. By dié geleentheid word die rede gelewer deur Merwe Scholtz, toe pas aangestel as nuwe professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. In sy commendatio sê Scholtz dat hy geen ander Afrikaanse digter ken wat meer fasette van die Afrikaanse werklikheid en die Suid-Afrikaanse problematiek in sy poësie onder oë gesien het as Opperman nie. Hy gaan voort: | |
[pagina 376]
| |
Die hele bonte, kaleidoskopiese beeld van hierdie land en sy mense, dit kom veral in en sedert Joernaal van Jorik in toenemende mate tot uitdrukking in sy poësie. Maar dit is dan nasionale poësie wat baie ver gekom het sedert die dae toe ons poësie nog sy voorkeur uitgespreek het vir 'n man wat sy man kan staan. In Opperman se poësie is die Afrikaner in die eerste plek...mens. Meer spesifiek Westerling. In sy antwoord bedank Opperman die Nasionale Boekhandel met 'n kwatryn (waarin 'n toespeling voorkom op Marlene Dietrich wat toe op besoek was in Suid-Afrika): Vir 'n bundel knoetsige ou bene,
nie volgens die maatstaf van Athene,
kry ek die prys, want die Here Direkteure
dog my naam is Dieterich Marlene.
Kort ná die ontvangs van die CNA-prys vir Dolosse en nog voor die debakel oor die Hertzogprys en die toekenning van die Hofmeyr-prys was daar die geleentheid vir 'n verdere huldiging van Opperman. Op 29 September 1964 sou hy vyftig jaar oud word. Vir dié besondere verjaardag het A.P. Grové die bloemlesing Kort reis na Carrara saamgestel wat in 'n luukseband by die Nasionale Boekhandel verskyn het. Aanvanklik was daar die gedagte om by Human & Rousseau 'n bundel opstelle oor sy werk deur verskillende skrywers te publiseer, maar Opperman het gemeen vyftig is te vroeg vir so 'n huldigingsuitgawe en het self daarteen geadviseer. Aan Human het hy die gedagte genoem om 'n bundel saam te stel uit gedigte wat hy om 'n verskeidenheid redes nie by vroeëre publikasies ingesluit het nie, maar wat tog bestendig kon word. Op sy verjaardag word die bundel Kuns-mis dan ook aan Opperman by 'n feestelike geleentheid op Franskraal oorhandig, sy eerste publikasie by die firma Human & Rousseau (afgesien van die Preller- en Mulder-bundels wat hy geredigeer het). Dit is 'n versameling waarin, soos A.P. Grové dit in Die Vaderland van 16 Oktober 1964 formuleer, ‘die sublieme en belaglike, erns en spel’ mekaar afwissel, 'n bundel waarin Rob Antonissen die ‘woordpuntigheid’ naas die bittere erns van die twee ‘Dylan Thomas’-gedigte waardeerGa naar eind70 en wat vir Stoffel Nienaber ‘'n welkome uitbreiding op die letterkundige vernufspel en die aanwending van speelse spot’Ga naar eind71 in die Afrikaanse poësie bied. In aansluiting by die ‘Met apologie’-reeks in dié bundel ontvang Opperman op sy verjaardag 'n besondere geskenk van sy student Pieter Harteveld: 'n verdere parodie op die oerteks van die ‘weduwee Viljee’.Ga naar eind72 Maar ook op 'n ander wyse word Opperman tydens sy vyftigste verjaardag vereer. Na die verskyning van Vergelegen in 1956 het Robert Mohr en later ook Fred Engelen in 'n produksie van die drama belanggestel, maar weer daarvan afgesien, hoofsaaklik as gevolg van die groot rolbesetting met manlike spelers | |
[pagina 377]
| |
wat nie so maklik in Kaapstad en Stellenbosch beskikbaar was nie. Met Opperman se naderende vyftigste verjaardag het Jack Theron, direkteur van KRUIK, egter gevoel dat dit 'n goeie geleentheid is om Vergelegen op te voer. Theron en Laurie van der Merwe, die organiseerder van toneel, besluit om Ria Olivier te nader, omdat sy Periandros van Korinthe so suksesvol in 1955 opgevoer het. As goeie vriende van Opperman was sy en Fred le Roux dadelik bereid om die opvoering te onderneem, maar die vraag was waar om al die spelers vandaan te kry. Stephen de Villiers was beskikbaar vir die dekor- en kostuumontwerp, terwyl Paul Malherbe die rol van Willem Adriaan van der Stel en Fred le Roux dié van Jakobus van der Heiden sou speel. Van die ander leidende rolle is gespeel deur André Rossouw (Elsevier), Jurie Hanekom (Kalden), Bertie van der Merwe (Starrenburg), Herman Steytler (Huising), Fanie Bekker (Tas), Magdalena Swanevelder (Maria van der Stel) en Dawie Maritz (Arie). Van die ander spelers was baie onervare en moes letterlik geleer word hoe om op die verhoog te beweeg en die woorde uit te spreek. Aangesien sy nie genoeg spelers kon kry nie, het Ria Olivier besluit om die Hugenote-episode (derde bedryf, tweede toneel) heeltemal weg te laat, ook omdat dié gedeelte wel die groeiende onrus mooi voorstel maar weinig tot die problematiek van die drama bydra. Daarby het sy en Fred le Roux sommige van die doprympies in die derde toneel van die derde bedryf weggelaat en die herhaling van die ‘Onse Vader’ só laat speel en gedeeltelik gesny dat dit tot die insig en herkennis van sowel Van der Heiden as Van der Stel in die laaste twee bedrywe bygedra het. Die opvoering, wat sy première op 22 Augtustus 1964 in die Hofmeyrteater beleef het en ná die Kaapse speelvak op toer geneem is deur die Boland, het veral in die groepstonele as gevolg van die onervare spelers 'n bietjie stamperig verloop. Die voorstelling as 'n geheel was egter 'n groot sukses en opnuut 'n bevestiging dat Opperman se verse in die hoogste mate speelbaar was. W.E.G. Louw noem dan ook in Die Burger van 24 Augustus 1964 die besondere wyse waarop die spelers ‘deur versnelling en vertraging, deur aksentplasing en vermyding, dié verse laat lééf het’. Die hoftoneel het met die bewegings, inkledings en dekor feitlik 'n sewentiende-eeuse skildery geword, terwyl die Donker Gat-toneel met Fred le Roux se sterk spel van elke aand 'n belewenis gemaak het. Na afloop van die openingsaand word die spelers deur Nico Myburgh uitgenooi na 'n onthaal op Meerlust, die ou plaas van Henning Huising. Dit is 'n ervaring waardeur die gaste as 't ware kon voel hoe verlede en hede deureenskuif: ‘elke speler voel in hom/ sy dode loop’, soos Opperman dit later in ‘Nagfees van toneelspelers’ in Edms. Bpk. sou sien. Na die eerste aand skryf Fred le Roux 'n brief waarin hy sy waardering vir Opperman se drama uitspreek en hulle vriendskap herbevestig. ‘Ek sou lieg,’ skryf hy, as ek sou sê dat die lof wat ons tot dusver ontvang het, nie lekker is nie. Tog, en dit is die waarheid, lê my vreugde en Ria s'n eintlik in die feit dat dit jou werk is | |
[pagina 378]
| |
waarmee die byval behaal kon word, en dat ons in hoe 'n geringe mate ook al, kon bydra tot 'n beter begrip en waardering van 'n werk wat jy in al sy fasette volledig geskep het. Waarskynlik het die sukses van Vergelegen Opperman begeester, want in die sestigerjare maak hy aantekeninge vir 'n hele paar dramas wat hy wou onderneem. Die poppespel Ega en Eggo, waarvan daar twaalf bladsye teks en ontwerp oorgelewer is, sou Skilpad en Skilpadin, Jakkals en sy Vrou, Kriek of Krap en Ega en Eggo as karakters hê. Die bestaande twaalf bladsye bevat 'n onvoltooide vrytoneel tussen Skilpad en sy nooi en erg voorlopige reëls, sonder dat 'n mens veel uit die ontwerp kan wys word. 'n Figuur wat hom ook boei, is Savanarola oor wie hy in September 1969 boeke in die Carnegie-biblioteek uitneem, vier bladsye aantekeninge maak en notas agterop sy Stuyvesant-dosies neerkrap. In dié stadium oorweeg hy om in die stuk oor Savanarola karakters soos Van Riebeeck, Simon van der Stel, Adam Tas, Kruger, Smuts, Hertzog, Malan, Verwoerd en John Vorster te laat optree of om die Medici, Savanarola en Machiavelli onderskeidelik deur Rupert, Koot Vorster en Verwoerd te laat verteenwoordig. Van hierdie planne kom egter niks tereg nie. As hy uitgenooi word om vir die Republiekfees van 1966 in opdrag van kruik 'n drama te skryf, wys hy dit aanvanklik van die hand. Tog aanvaar hy uiteindelik die uitnodiging, waarskynlik uitgedaag deur Van Wyk Louw wat by dieselfde geleentheid vir truk Die pluimsaad waai ver lewer. As boustof kies hy die geskiedenis van Louis Trigardt se trek en raadpleeg daarvoor Gustav Preller en T.H. le Roux se uitgawes van die Trigardt-dagboek. Die eerste aantekeninge en teks van dié drama, wat hy Voëlvry noem, skryf hy in potlood, terwyl Opperman vir die eerste weergawe 'n balpuntpen gebruik in 'n handskrif wat - in teenstelling tot dié van die manuskripte uit die vyftigerjare - 'n bietjie bewerig en onvas voorkom. Van die getikte teks is daar verskeie afskrifte met veranderinge en ook 'n kopie met aantekeninge deur Fred Engelen. In teenstelling tot die paarrym van die eerste twee versdramas is Voëlvry in 'n losser, feitlik prosaïese vers geskryf en toon die opeenvolging van die tonele eerder 'n ooreenkoms met die ‘oop’ vorm van die epiese teater as met die ‘geslote’ bou van die klassieke tragedie wat Opperman in Periandros van Korinthe en Vergelegen volg. In aansluiting by die bekommernis oor die Westerse beskawing en meer spesifiek van die Afrikaner, wat reeds uit sommige gedigte in Dolosse spreek, is Voëlvry 'n besinning oor die aard van 'n volk en die vraag of al die ontberings tevergeefs was en of die trek wel sin gehad het. Wat hierdie problematiek betref, is die gedig ‘Springbokke’, waarin daar van ‘'n groot afspraak /met die dood’ sprake is, die onmiddellike voorloper van Voëlvry. Daar is iets ontsettend tragies in die wyse waarop dié groep mense deur die siektes en vlieë heentrek en uiteindelik, by wyse van spreke, afstort in die see, | |
[pagina 379]
| |
terwyl Trigardt ten spyte hiervan voortgaan om alles neer te skryf in die wete dat ‘dié krabbelinge, dié boek’ miskien die enigste sal wees wat ‘sal kan getuig/ aan dié wat na ons kom dat ons hier was’. Met die eerste weergawe van die teks is Opperman na Fred en Ria le Roux. Fred se reaksie was dat dit in dié stadium nog na 'n blote ‘geraamte’ lyk en dat Opperman meer ‘vleis’ daarin moet sit. Die hersiene teks was aansienlik beter, maar Ria het gevoel dit is nie reg dat sy elke keer die regie van 'n Opperman-stuk behartig nie en dat Fred Engelen, wat sedert 1961 as professor in Drama aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde was, as regisseur moet optree. Na samesprekings het Fred Engelen die uitnodiging aanvaar, op voorwaarde dat Ria hom as assistent-regisseuse bystaan en Fred le Roux die rol van Trigardt speel. Op 26 Oktober 1967 vind die première van Voëlvry in die nuwe H.B. Thomteater op Stellenbosch plaas. Naas Fred le Roux is die belangrikste rolle gespeel deur Suzanne van Wyk (Martha), Johan Malherbe (Karel), Jannie Gildenhuys (Jan Pretorius) en Ernst Eloff (Pieta), terwyl Otto Schröder, professor in Kuns op Stellenbosch, doekskilderye vir die opvoering gemaak het en agtergrondmusiek deur Georg Gruber van die Rhodes-Universiteit gekomponeer is. Engelen het die drama filmies geïnterpreteer wat aan die opeenvolgende tonele 'n sekere gedateerdheid en matheid gegee het, terwyl die doekskilderye van verskillende diere in dreigende posisies nie bevredigend was nie. Die musiek wat Gruber by die werksliedere aan die begin van die tweede deel gekomponeer het, was vir Engelen die aanleiding om die hele toneel ritmies met stampende koevoete te laat uitvoer, 'n interpretasie wat aan die groteske gegrens het. In 'n opvoering van Voëlvry, so het Fred le Roux dit jare later as sy oortuiging uitgespreek, behoort 'n regisseur uit te gaan van die feit dat alles in die drama deel van 'n koorsdroom is. Trigardt se bed moet derhalwe sentraal wees om die koorsdroomeffek latent te hou en die ander karakters moet dan as 't ware uit die koorsdroom voortkom. Met so 'n uitgangspunt, het Le Roux gemeen, sou die drama tot sy reg kan kom en besit dit 'n potensiaal wat nie in Engelen se opvoering gerealiseer is nie. As die drama in 1968 gepubliseer word, wys P.D. van der Walt in 'n resensie in Standpunte, XXII: 1, Oktober 1968Ga naar eind73 daarop dat Voëlvry nie die ‘grootsheid en tragiese krag’ van Periandros van Korinthe of Vergelegen het nie, maar tog 'n drama is met ‘'n onmiskenbare kwaliteit, met 'n artistieke integriteit van vorm, en 'n seggingskrag wat boei en veelal ontroer’. In sy bespreking in Die Burger van 2 September 1968 is dit vir P.J. Conradie 'n stuk wat die vraag na die sin van die verlede en ‘na die wese van 'n volk pertinent stel’, al is Trigardt nie ‘'n figuur wat kragtig genoeg is om die handeling te oorheers’ of wat ‘gewikkel is in 'n titaniese worsteling om die sin van sy bestaan te ontdek nie’. Wat 'n mens by die verskyning van Voëlvry opval, is die relatief klein getal besprekings oor die drama. Van al Opperman se publikasies is dit die werk wat | |
[pagina 380]
| |
ook in later jare die minste aandag van kritici ontvang - miskien 'n implisiete erkenning dat die drama inherent nie genoeg fasette bevat nie. Tog het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die spel as goed genoeg beskou om dit met die Hertzogprys vir Drama te bekroon. Op 4 Julie 1969 ontvang Opperman die toekenning in die Aula van die Universiteit van Pretoria. In sy huldigingswoord sê A.P. Grové dat Voëlvry ‘die pioniersmens op pad na 'n nasionale bestemming’ uitbeeld, al gebruik die dramaturg die Trigardt-gegewe om ons iets te ‘laat voel van die lot van die Afrikaner in sy gang tot nasieskap’. In vergelyking met Opperman se vorige twee dramas is die ‘versdialoog...hier...sappiger, natuurliker, nader aan die spreektaal en dus as menslike spraak aanneemliker as bv. in Periandros van Korinthe’. Dié hoë loftuiting en die feit dat jonger dramaturge vir die bekroning verbygegaan is, lok reaksie uit van sommige kritici, onder meer van F.I.J. van Rensburg, John Kannemeyer en Ernst Lindenberg wat in Kol, I:8, Junie 1969 skryf dat die Akademie Opperman se status as skrywer misbruik om ander dramaturge van die bekroning weg te hou en sy eie klousule 9 van die toekenningsprosedure verkrag wat bepaal dat die prys slegs aan dieselfde skrywer in dieselfde genre toegeken kan word ‘mits 'n duidelike stygende lyn in sy skeppingswerk waarneembaar is’. Al vind dit dus nie sterk neerslag in die gepubliseerde reaksies nie, was daar die gevoel dat Voëlvry 'n insinking vertoon en dat daar in Opperman se skeppende vaart 'n stilstand ingetree het, iets wat vir baie letterkundiges ook merkbaar was uit die klein omvang van bundels soos Dolosse en Kuns-mis in vergelyking met die groot konstruksies van die vyftigerjare. As 'n mens die publikasie van Kuns-mis, wat 'n versameling is van ‘afvalprodukte’ uit die jare 1947-1964, buite rekening laat, is die eerste nuwe bundel van Opperman in die bestek van sewe jaar Edms. Bpk. van 1970. Dit is 'n nog kleiner versameling as Dolosse, al is daar 'n hele paar indrukwekkende gedigte in aanwesig. Terwyl Dolosse van die ondergang van die Weste en Suid-Afrika praat, is daar in Edms. Bpk. telkens toespelings op siekte, dood en die nietigheid van die mens. In die lig hiervan is dit opvallend hoe die digter, soos A.P. Grové in sy bespreking in Die Burger van 31 Julie 1970Ga naar eind74 opmerk, hom ‘meer en meer terugtrek na die vertroude domein, op die aarde waar die wortels lê’. Tog bly Opperman ook in hierdie relatief kleiner werk van hom getrou aan sy eie digterskap, soos blyk uit die wyse waarop hy van die Ovidiaanse gedagte van die gedaantewisseling in die motto uitgaan en die wêreld in die lig daarvan verken, 'n procédé waarmee hy 'n basiese gegewe in sy poësie verder ontgin. Daarom dat André P. Brink in sy bespreking in Voorlopige rapport (1976) op die ‘bundelgeheel’ en die ‘béperking en ínperking, die inkrimp tot essensie toe’ konsentreer, terwyl T.T. Cloete in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, X: 4, Desember 1970Ga naar eind75 wys op ‘die onbeperkte moontlikhede (van die digter) om die vorme van alle dinge in nuwe liggame te verkeer’. | |
[pagina 381]
| |
Ten spyte van die suiwerheid van Edms. Bpk. moet dit vir die lesers van Opperman duidelik gewees het dat die nog kleiner omvang van die bundel in vergelyking met Dolosse op 'n afname in sy skeppingsdrang dui en dat daar iets aan die gebeur was wat hom tot swye gedwing het. Reeds in die vyftigerjare praat hy in Periandros van Korinthe van die radelose soeke na prikkels om as digter en denker verder te ontwikkel, terwyl daar in die gedig ‘Oud-digter’ in Blom en baaierd van 'n poëtiese dood sprake is. In 'n brief van 15 Oktober 1961 skryf hy vir sy suster Liz dat die universiteitswerk hom baie besig hou, met die gevolg dat hy niks aan sy eie skryfwerk kan doen nie. ‘Miskien,’ voeg hy by, ‘het ek ook niks meer te sê nie!’, 'n uitspraak waaruit 'n mens kan aflei dat Opperman self van die stilstand in sy werk bewus was en dat dit vir hom 'n kwellende gedagte begin word het. Hierdie stilstand blyk ook uit Opperman se manuskripboeke van dié jare. Die aantal onvoltooide gedigteGa naar eind76 uit hierdie tydvak is veel minder as dié uit die vyftigerjare en die ongepubliseerde voltooide verse slegs 'n handvol. Onder die titel ‘Baken’ skryf hy 'n vyfreëlige vers, die enigste gedig wat naas die holograaf ook die tikstadium bereik: In hom beur baie kragte
tegelyk na alle kante;
trek gespanne in hom vas
doringdrade, vetes, kiltes
sonder kwispelende kwas.
Sy vriendskap met Matthie Taljaard en ander natuurwetenskaplikes vind neerslag in 'n kort vers: Graag verkeer ek met plantkundiges of bioloë
met sterrekundiges of geoloë
- sien saam met hulle die wonder
van die skepping as gedig
deur normale, tele- of mikro-oë.
As John Vorster op 28 Mei 1967 saam met hom 'n gas is op Nico Myburgh se plaas Meerlust, skryf hy 'n kwatryn waarin hy die historiese verlede van Henning Huising se landgoed en die klagskrif oproep om die Eerste Minister te bedank vir die gewaande groter vryheid wat die mense nou ná die Verwoerdera in Suid-Afrika kan geniet: Anti-Klagskrif
U het u voorgangers, John Vorster,
se visie en graniet; maar Pater Noster,
dankie dat ons as Vryburgers
vandag meer lust voelt en wat losster.
| |
[pagina 382]
| |
In sy mooiste ongepubliseerde gedig uit dié periode sluit hy aan by die tradisie wat Leipoldt begin het met verse soos ‘Ek het 'n mannetjie van potklei gemaak’: Tableau op my tafel
My dogtertjie het vir my
'n ou verhaal gekneus uit klei:
'n vaal mannetjie met rooi pet -
skuins in sy mond 'n sigaret,
daarnaas 'n vroutjie (vol in die knop)
wat stil sit en ertjies dop.
Die derde was 'n kêrel of nooi -
a lá Michelangelo, onvoltooi.
Toe (vuil rympie oor Vondel)
is die hele boel saamgebondel.Ga naar eind77
Ten spyte van die stilstand het die belangstelling in Opperman se werk in die sestigerjare eerder toegeneem as verflou, soos blyk uit die talle opstelle en studies van kritici soos A.P. Grové, Merwe Scholtz, C.J.M. Nienaber, Ernst Lindenberg, T.T. Cloete, F.I.J. van Rensburg, S. Strydom, P.D. van der Walt, Edith Raidt, D.H. Steenberg, R. Geggus, Louise Combrink en J.C. Kannemeyer wat bestendig gepubliseer is. Aan alle universiteite is Magisteren doktorale studies aan sy werk gewy, terwyl sy bundels gereeld vir voorgraadse studente voorgeskryf is. Dié belangstelling wat Opperman se poësie en dramas geniet, blyk ook daaruit dat die oplae van sy publikasies in die sestigerjare en later buitengewoon groot is in vergelyking met die meeste ander digbundels van sy tyd. Ook verdere eerbewyse en besondere onderskeidings is steeds aan Opperman toegeken. Op 23 Oktober 1969 word 'n program met voordragte uit sy werk in die H.B. Thom-teater uitgevoer. In dieselfde jaar is Hannes van der Merwe na Europa om 'n aantal skouburge te bekyk voordat hy as aangewese argitek sy planne vir die nuwe Nico Malan-teater in Kaapstad sou finaliseer. In die Cultuurcentrum De Doelen in Rotterdam het hy gesien dat daar in een van die portale 'n kwatryn van A. Roland Holst uitgebeitel is en die gedagte het by hom ontstaan om vir die nuwe skouburg iets soortgelyks te kry. By sy terugkeer skryf hy dan ook in September 1969 aan Guy Butler, Van Wyk Louw en Opperman en vra hulle om elk 'n kwatryn te lewer wat by die toneelaktiwiteite van die teaterkompleks sal aansluit. Van Butler het hy binne enkele weke 'n kwatryn ontvang, terwyl Opperman laat weet het dat hy iets sal lewer. As Van Wyk Louw egter na verskeie briewe nog nie antwoord nie, vra Van der Merwe | |
[pagina 383]
| |
vir die Administrateur, Nico Malan, om self te skrywe. Hierop laat weet Van Wyk Louw dat hy nie eintlik 'n kwatrynskrywer is nie en dat hy sal verkies dat sy broer W.E.G. Louw iets uit sy werk vir die skouburg kies. Op 12 April 1970 stuur Opperman sy kwatryn: Hier wissel stuk en spelers, hulle oord
en toeskouers; maar kragtens die woord
gaan deur die eeue - soos oor Tafelberg
die wolke - die spel steeds voort.Ga naar eind78
In die brief wat die kwatryn vergesel, sê Opperman: ‘U vra dat ek u 'n aanduiding van die vergoeding moet gee; ek kan net sê: die maksimum!’ Blykbaar het hierdie besondere ‘aanduiding’ nie op dowe ore geval nie, want Opperman ontvang vir die kwatryn 'n tjek van R750,00 waarskynlik die hoogste vergoeding wat ooit per letter aan 'n Afrikaanse skrywer uitbetaal is! Ook 'n ander besondere onderskeiding het Opperman te beurt geval. In 1968 sou die KWV sy vyftigste bestaansjaar vier en by dié geleentheid sou Human & Rousseau 'n omvangryke boek oor die wynbedryf in sowel Afrikaans as Engels die lig laat sien. Human het met Opperman oor die saak gaan gesels en tot sy blydskap en verrassing het Opperman hom meegedeel dat hy bereid is om as redakteur op te tree. Hy het die titel Gees van die wingerd bedink wat in 1968 saam met die Engelse uitgawe, Spirit of the vine, gepubliseer is. Oor die werk aan die boek vertel Human: Met sy enorme werkkrag en verbeeldingrykheid het hy binne die bestek van 'n week of wat sy plan vir die boek uitgewerk en sy skrywers vir elke hoofstuk gekies. Voorlopige kosteberekeninge is gemaak en nadat die direksie van die K.W.V. die onderneming amptelik goedgekeur het, het die werk in alle erns begin. Opperman se medewerkers het nie besef dat hulle met 'n ware slawedrywer te make sou hê nie. Gees van die wingerd is, hoe ongelooflik dit ook al mag lyk, in die bestek van agtien maande gekonsipieer, geskryf, vertaal, geset en gedruk. Enigiemand wat weet wat alles betrokke is by die skryf en produksie in twee tale van 'n boek van hierdie omvang, deurgaans in volle kleur, sal besef watter enorme prestasie dit was.Ga naar eind79 Die eerste eksemplare van Gees van die wingerd, waarvoor Opperman 'n inleiding skryf en 'n studie oor ‘Die wingerd in die Afrikaanse letterkunde’ maak, word by geleentheid van 'n groot onthaal by die hoofkwartier van die KWV in die Paarl bekend gestel. Die direkteure van die KWV was hoogs in hulle skik met die deeglike werk en ook in die buiteland was daar besondere belangstelling in die publikasie. In 1970 ontvang Opperman die Franse Diplôme d'Honneur du Prix de la Propagande vir sy redigering van Gees van die wingerd. Ná die publikasie van Edms. Bpk. verskyn daar in die vroeë sewentigerjare geen nuwe werk van Opperman nie, al ontvang sy poësie steeds baie aandag. In | |
[pagina 384]
| |
1972 word Periandros van Korinthe deur die Universiteitspelers onder regie van Ria Olivier in die H.B. Thom-teater opgevoer. As hy op 29 September 1974 sestig jaar oud word, verskyn Woord en wederwoord, D.J. Opperman: Dolosgooier van die woord, Naaldekoker en Verse vir Opperman wat tydens 'n dinee in Kaapstad aan hom oorhandig word. Vir dié geleentheid maak die Nasionale Filmraad 'n kleurprent van vyftien minute waarin Opperman se lewensloop vlugtig geskets word, terwyl Morkel van Tonder oor die radio 'n onderhoud met hom voer en huldigingstukke deur Lina Spies en John Kannemeyer in Die Burger van 28 en 30 September 1974 onderskeidelik verskyn. Soos Harteveld vroeër skryf sy student en assistent Charles Fryer vir hom 'n ‘verjaardagwens’ wat hy later onder die titel ‘Vir D.J. Opperman’ in sy bundel Rooiwielwa (1978) opneem. Tydens die noenmaal by geleentheid van Opperman se sestigste verjaardag was een van die aanwesiges Danie van Niekerk wat toe pas hoofbestuurder van Tafelberg-uitgewers geword het. Van Niekerk wou graag die noue kontak van vroeër tussen Opperman en die Nasionale Pers-groep herstel. Reeds in Junie 1974, nog voor sy koms na Kaapstad, het hy Opperman toevallig in Pretoria raakgeloop. Opperman was bly om te hoor van sy aanstelling en het aan Van Niekerk gesê dat hy baie lekker met hom gaan saamwerk. Een van die eerste dinge wat Van Niekerk gedoen het, was om daarop aan te dring dat die verseboeke ingrypend hersien moes word. Terwyl Opperman daarmee besig was, verskyn 'n heruitgawe van D.F. Malherbe en F.V. Lategan se Afrikaanse verse. Uit die resensie van André P. Brink in Rapport van 1 Junie 1975 het Opperman die indruk gekry dat Tafelberg sonder sy toestemming en medewete van sy gedigte in die bloemlesing opgeneem het. Die woorde van Brink wat hom op dié idee gebring het, was: ‘Volgens die voorwoord het net een belangrike digter (mens lei af dat dit Breytenbach was) verlof tot opname geweier.’ As hy Rapport klaar gelees het, bel hy vir Van Niekerk en sê hy dat hy 'n interdik teen Tafelberg gaan instel. Van Niekerk moes op die Sondagoggend ingaan kantoor toe, 'n eksemplaar van die bloemlesing kry en uitry na Stellenbosch om vir Opperman persoonlik te gaan wys dat daar nêrens van sy gedigte in die bundel verskyn nie. Vir al sy moeite het hy darem 'n bottel wyn present gekry! In die Junie-Julie-vakansie van 1975 het Opperman hard gewerk aan die aanvulling van die bloemlesings en hy kon die hersiene tekste aan die begin van Augustus aan Van Niekerk lewer. In dieselfde jaar wou die Kaapse Onderwysdepartement Groot verseboek op inisiatief van G.F. Marais, inspekteur van skole, vir die Senior Sertifikaat voorskryf indien Tafelberg sekere tekste weglaat. Die gedigte waarteen daar besware geopper is, was ‘John Williams, De Doelen’ (Leon Strydom), ‘Jong Seun’ (Elisabeth Eybers), ‘Doemanie’ (Adam Small) en ‘Hoekie vir eensames’ (M.M. Walters). Hiervoor was Opperman egter nie te vinde nie. Sy standpunt was dat Junior en Senior verseboek | |
[pagina 385]
| |
vir skole saamgestel is en dat hy dáárvoor bereid is om naas literêre oorwegings ook ander maatstawe aan te lê en toegewings te maak. Vir Groot verseboek was egter alleen literêre meriete die oorweging. As die Indiërraad beswaar maak teen die woorde ‘Kruisband-koelietjies’ en ‘Kaffer’ in D. Couzyn se ‘Diagonaalstraat’, weier hy op dieselfde gronde om dié gedig uit die hersiene uitgawe weg te laat. Die nuwe uitgawes van die verseboeke verskyn in 1976 en is allerweë as 'n belangrike uitbreiding begroet. In daardie stadium het daar egter reeds 'n ander verwikkeling in Opperman se lewe gekom. | |
VIAs Opperman die professoraat op Stellenbosch in 1960 aanvaar, is hy geweldig geesdriftig en doseer hy aanvanklik met groot oorgawe en hartstog. Hy ontwerp nuwe kursusse, berei nuwe lesings voor en loop oor van entoesiasme as hy uit die reaksie van die studente en die gesprekke met hulle die indruk kry dat hy met sy lesings die nodige aanklank vind. ‘Ek het opnuut geïnteresseerd geraak in studente en doseerwerk,’ sê hy op 'n keer. Binne 'n paar jaar het hy dan ook meer nagraadse kandidate as enige van sy kollegas. Tog was daar van betreklik vroeg af ook 'n mate van desillusie. Met die groter verantwoordelikhede, omvangryker klasse, administratiewe verpligtinge en nasienwerk was die professoraat vir hom 'n geweldige opgawe om te behartig. Daarby was daar steeds die spanning tussen verantwoordelikheid en impuls, Afrikanerskap en kunstenaarskap in hom aanwesig. Met die toenemende politieke probleme van die sestigerjare het hy duidelik die meer liberale kant gekies, al was hy steeds lid van die Afrikaner-Broederbond en weier hy om as kunstenaar sy werk tot propaganda te vervlak, ten spyte daarvan dat Jan Rabie hom by geleentheid verwyt het dat hy 'n ‘lafaard’ is en nie duidelik standpunt inneem nie. Ook van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bly hy lid, al verskil hy soms sterk van die bekronings en spreek hy hom in 1966 heftig uit as die Akademieraad, téén die aanbeveling van sy letterkundige kommissie in, besluit om die Hertzogprys vir Drama nie aan Uys Krige toe te ken nie. Met die publikasiewetgewing voel hy dat die regering - teenoor wie hy, en ander skrywers soos hy, deur die jare lojaal was - nou ook sy vak en die Afrikaanse letterkunde as sodanig bedreig. Toenemend was hy ook vervul van 'n ondergang wat die Weste en sy volk bedreig en het hy die mens begin sien as 'n frats in die evolusie, 'n mutasie wat per ongeluk tot stand gekom het. Dit alles lei tot 'n mate van depressiwiteit en 'n toename in sy drankgebruik. Hoewel hy aanvanklik sy lesings met vreugde gegee en 'n goeie verhouding met sy kollegas opgebou het, was daar gou 'n element van ontnugtering. Ter- | |
[pagina 386]
| |
wyl hy in Kaapstad in die persoon van I.W. van der Merwe iemand gehad het met wie hy oor die nuutste publikasies kon gesels en wat kennis geneem het van die jongste strominge (al het hy dan dikwels nie van die metodes gehou nie), was Erlank nie meer geïnteresseerd in nuwe dinge nie en kon hy met moeite sover gekry word om iets nuuts te lees. Hulle verhouding moes dus noodgedwonge oppervlakkig bly, al was hy bewus van die feit dat Erlank 'n baie groot bewondering vir sy skeppende werk gehad het. Alhoewel hy aan die einde van sy termyn in Kaapstad nie meer goed met Canis Scholtz bevriend was nie, het hy eerbied gehad vir Scholtz se vakmanskap en vir die intellektuele uitdaging wat die kontak met hom ingehou het. Meyer de Villiers was as vriend, intellektueel en vakman die persoon in die Departement wat die naaste aan hom was, maar betreklik vroeg was daar verwydering as gevolg van kritiek op sy drinkgewoontes. Aan die begin het Kempen hard probeer om aanklank te vind en gereeld vir 'n whisky opgedaag, maar hy het Opperman nooit teruggenooi nie. Hulle was buitendien in belangstellingsvelde en geaardhede te uiteenlopend om hegte vriende te word. Daarby het Opperman 'n renons gehad in die klein akademiese politiek wat hy daagliks moes belewe. As hy na 'n oggend by die Universiteit by die huis terugkom, het hy dikwels gepraat oor al die sette en teensette in die Departement. ‘Hoe klein/ en vals die wêreld wat ek daeliks moet duld’,Ga naar eind80 kon hy weer 'n keer saam met sy karakter Willem Adriaan van der Stel sê. Soms het dit hom ure en 'n groot aantal drankies geneem om uiteindelik weer te ontspan. Daar was dus gebeurtenisse wat Opperman se entoesiasme gedemp en sy groot droom vir 'n goeie Departement verydel het. Aan die einde van 1966 sou Erlank egter aftree. Opperman wou graag iemand met 'n grondige kennis van die Nederlandse literatuur hê om die leerstoel te beset, iemand wat hom kon help om die letterkundige afdeling van die Departement tot die beste in die land op te bou. In die sestigerjare het Antonissen elke jaar in November 'n week lank na die Universiteit van Kaapstad gekom waar hy as eksterne eksaminator die grensgevalle se skrifte moes nasien en by die mondelinge eksamens moes help beoordeel. Dit was sy gewoonte om na afloop van sy verpligtinge in Kaapstad ook vir Opperman op Stellenbosch te besoek. Op dié manier het Opperman ná sy briefwisseling oor Standpunte-sake in die vyftigerjare Antonissen as mens en akademikus beter leer ken en het hy 'n groot waardering vir hom ontwikkel.Ga naar eind81 Reeds so vroeg as November 1962 het Opperman ten huise van Ernst Lindenberg konfidensieel vir Antonissen gesê dat Erlank oor 'n paar jaar sou aftree en dat hy dit baie op prys sou stel as Antonissen bereid sou wees om die vakature te vul. Vir Antonissen was dit 'n opwindende vooruitsig. As toegewyde dosent, uitstekende administrateur en voortreflike vakman was hy hoog aangeskrewe aan die Rhodes-Universiteit en het hy 'n goeie verhouding met sy studente en kollegas gehad, maar Stellenbosch sou met die groter getal goeie stu- | |
[pagina 387]
| |
dente en potensiële vakmanne die moontlikheid bied om sy talente ten volle te ontplooi. Opperman het hom verseker dat sy Rooms-Katolieke geloofsoortuiging geen rol by die benoeming sou speel nie, omdat daar reeds met die aanstelling van ander dosente presedente geskep is en die gewetensklousule van die Universiteit van Stellenbosch in elk geval geloof as faktor by 'n benoeming buite orde reël. Antonissen het derhalwe gesê dat hy baie geïnteresseerd sou wees in die betrekking. In 1966 moes die opvolger van Erlank aangestel word. Tydens 'n byeenkoms van die vier professore het Opperman voorgestel dat die pos nie geadverteer word nie, maar dat Antonissen uitgenooi word om die leerstoel te aanvaar. Die voorstel is voorgelê aan die aanstellingskomitee wat die Departement se aanbeveling eenparig gesteun en aan die rektor, prof. H.B. Thom, oorgedra het. Thom wou graag by so 'n belangrike aanstelling vir Antonissen persoonlik ontmoet en met hom oor die betrekking en sy opdrag gesels. Antonissen was in daardie stadium druk besig met die regiewerk van Euripides se Die vroue van Troje wat hy vir die nuwe universiteitsteater op Grahamstad onderneem het en kon aanvanklik nie sy weg oopsien om dié verpligtinge te los en Kaapstad toe te vlieg nie. Uiteindelik kon hulle egter ooreenkom dat hy op Saterdag, 20 Augustus na Stellenbosch sou kom, maar dieselfde aand weer na Port Elizabeth sou terugvlieg. Tydens die onderhoud op 20 Augustus het Thom kortliks vir Antonissen ingelig oor die inrigting van die Departement en wat sy verpligtinge sou wees. Op die ongewone vraag ‘Wie is u opvolger?’ kon die verbaasde Antonissen alleen maar sê dat hy uit die aard van die saak sy moontlike verskuiwing na Stellenbosch met niemand bespreek het nie en dat 'n opvolger eers na sy bedanking aangewys sou kon word. Aangesien hy egter as dekaan van die Lettere-Fakulteit, lidmaatskap van prakties alle komitees en as een van die Senaatsverteenwoordigers in die Universiteitsraad 'n senior posisie aan die Rhodes-Universiteit beklee, het Antonissen vir Thom versoek om hom die geleentheid te gee om sy besluit persoonlik aan die owerhede op Grahamstad mee te deel en dat verdere rugbaarheid, deur die pers of andersins, voorlopig agterweë sou bly. Prof. Thom het hiermee akkoord gegaan. By sy terugkeer op Grahamstad het Antonissen 'n enigsins ‘vreemde’ telegram ontvang dat hy as professor in die Nederlandse letterkunde op Stellenbosch aangestel is, nie 'n formele uitnodiging om die pos te aanvaar nie. In die telegram is egter melding gemaak dat daar 'n brief sou volg en Antonissen het vermoed dat dié brief die korrekte bewoording sou bevat. Nog voordat die brief hom kon bereik en dus ook voordat hy die owerhede van die Rhodes-Universiteit oor sy voorneme kon inlig, verskyn daar in Die Burger van 1 September 1966 'n berig met die nuus dat hy op Stellenbosch aangestel is en die betrekking op 1 Januarie 1967 sou aanvaar. Hierdie berig, amptelik vrygestel deur P.J. Lombard, skakelbeampte van die Universiteit van Stellenbosch, is deur ander koerante - onder meer die Port Elizabethse Oosterlig - oorgeneem | |
[pagina 388]
| |
en binne 'n kort tydjie was die nuus van Antonissen se aanstelling oor die lengte en breedte van die land bekend. Die eerste woord wat Antonissen van die berig in Die Oosterlig verneem het, was toe die skakelbeampte van die Rhodes-Universiteit hom bel met die woorde: ‘Ek moet u seker gelukwens.’ ‘Baie dankie,’ was Antonissen se antwoord, menende dat dit 'n verwysing is na sy suksesvolle opvoering van Die vroue van Troje. ‘Maar is dit waar?’ was die volgende vraag, waarop die inhoud van die koerantberig aan hom meegedeel is. Op Grahamstad het die nuus algemene verslaenheid veroorsaak en vir Antonissen as senior professor in 'n onhoudbare posisie geplaas. Hy was iemand met 'n groot pligsbesef en lojaliteit en hy het groot waarde geheg aan die korrekte en ordelike afhandeling van sake. In 'n brief van 3 September 1966 skryf Antonissen dan ook aan Thom dat die skielike persberig alles ‘sinloos gemaak en uit die bloute 'n onhoudbare toestand geskep (het), wat...(hom) eenvoudig geen ander keuse laat nie as die teenoorgestelde van dié waarop...(hy hom) sedert lank voorberei het: dat... (hy sy) aanstelling in Stellenbosch moet versaak’. Hy beklemtoon dat ‘niemand hoegenaamd die geringste druk op...(hom) uitgeoefen het nie, en allermins die owerhede van die Universiteit Rhodes, en dat die besluit geheel en al en in volle vryheid...(syne) is’. In 'n brief aan Opperman op dieselfde dag skryf hy: Ek wou dadelik verlede Donderdag geskryf het maar het letterlik te siek gevoel van leed. Eers vandag kon ek my dwing tot die onherroeplike stap. Dis presies veertien dae gelede dat ek by julle was, in 'n ander stemming as vandag, met groot planne vir die toekoms, akademies en persoonlik. Dat dit blykbaar nie mág waar word nie - daarin begin ek nou allengs berus, en die tyd sal wel heling gee. Hy hoop dat hulle vriendskap sal voortbestaan, want ‘dit sou vir my die ergste van alles wees en die einde van baie beteken.’ Vir Opperman was Antonissen se besluit 'n ontsettende slag. Vir die verwesenliking van sy groot droom vir die Stellenbosse Departement was Antonissen met sy belesenheid in die Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse letterkunde die ideale persoon. Daar was niemand anders in Suid-Afrika wat dieselfde kundigheid en status as vakman op dieselfde terrein gehad het nie. Alles wat Opperman gehoop het vir 'n prikkelende akademiese milieu en 'n gesonde wisselwerking tussen hom en sy letterkundige kollega het aan skerwe gelê. In die dae ná ontvangs van die brief het hy letterlik ure bestee aan telefoonoproepe en by herhaling 'n dringende versoek tot Antonissen gerig om sy besluit te heroorweeg. In 'n brief van 10 September 1966 herbevestig Antonissen egter weer sy besluit en sê hy dat hy die betrekking in die omstandighede nie kan aanvaar nie.Ga naar eind82 Antonissen se besluit het Opperman só omgekrap dat hy weke lank by die Universiteit net vir sy lesings opgedaag en onmiddellik daarna teruggekeer het | |
[pagina 389]
| |
huis toe. Tog moes die Departement nou dringend aandag skenk aan 'n opvolger vir Erlank wat reeds in daardie stadium 'n betrekking as kultuurattaché by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Den Haag aanvaar het en nie beskikbaar sou wees om in 1969 die Nederlandse letterkunde op 'n tydelike basis te behartig nie.Ga naar eind83 By 'n vergadering van die Departement het die vier professore besluit om Ernst van Heerden te nader om die betrekking te vul, 'n aanbeveling wat deur die aanstellingskomitee bekragtig is. Thom sou juis in daardie tyd in transito op die Lughawe Jan Smuts wees en het Ernst van Heerden geskakel, 'n afspraak met hom op die lughawe gereël en tydens hulle gesprek die leerstoel vir hom aangebied. Van Heerden was in daardie stadium senior lektor by die Universiteit van die Witwatersrand, maar het ook die besondere onderskeiding gehad dat hy benoem is tot ‘reader’ in die Algemene Poëtiek. Die professoraat was vir hom aanloklik, maar hy was baie gelukkig in sy Johannesburgse betrekking en het die vriendskap en kollegialiteit van Van Wyk Louw hoog op prys gestel. Daarby is hy in 1959 vir die Stellenbosse professoraat oor die hoof gesien, ten spyte van die feit dat Erlank die bevordering by meer as een geleentheid aan hom belowe het. Afgesien van die goeie verhouding wat hy deur die jare by die Universiteit van die Witwatersrand met kollegas van verskeie departemente kon opbou, het hy ná Van Wyk Louw se ernstige hartaanval aan die einde van 1961 baie van die administratiewe werk behartig en het hy 'n gevoel van lojaliteit en skatpligtigheid teenoor sy departementshoof en kollegas gehad. In 'n brief aan Thom wys hy dus die uitnodiging van die hand. Die Stellenbosse Departement was nou in 'n groot dilemma, omdat vakkundiges van oor die hele land die dramatiese gebeure intens gevolg en meewarig geglimlag het oor wat hulle as 'n onbeholpe hantering aan die kant van die Universiteit van Stellenbosch beskou het. By die volgende byeenkoms van die vier professore is besluit dat die betrekking in Nederlandse letterkunde alternatiewelik as 'n professoraat, senior lektoraat of lektoraat in Suid-Afrika, Nederland en België geadverteer sou word, alhoewel dit van die begin af die vaste voorneme was om ten alle koste 'n hoogleraar aan te stel. Nog voor die aansoeke gesluit het, is Opperman uitgenooi vir ete na W.E.G. Louw wat toe pas van 'n besoek aan Europa terug was. Tydens hulle gesprek het Louw, wat sedert einde 1957 kunsredakteur van Die Burger was, laat deurskemer dat hy 'n bietjie uitgekuier is by die koerant en daarteen opsien om elke dag die kunsbladsy met een of meer artikels vol te kry, dikwels met medewerkers wat hom op die laaste oomblik in die steek laat. Vir Opperman was die rigting waarin Louw die gesprek gestuur het, 'n aanduiding dat hy in die Stellenbosse professoraat belangstel. Alhoewel hy as vakman vir hom nie op dieselfde peil as Antonissen was nie, het Opperman gevoel dat Louw met sy proefskrif oor Die invloed van Gorter op Leopold en enkele artikels 'n besliste bydrae tot die Nederlandse kritiek gelewer het. Jan Greshoff het jare lank gesê dat Louw saam met Canis Scholtz die enigste Suid- | |
[pagina 390]
| |
Afrikaner was wat na sy wete Nederlands sonder enige sweem van 'n Afrikaanse aksent kon praat. Alhoewel hy in die verlede met die werk aan die verseboeke, met Standpunte-aangeleenthede en met die aansoek om die Kaapstadse professoraat ernstig met Louw gebots het, was dié sake - so het Opperman gemeen - iets van die verlede. Met die sluitingsdatum vir die aansoek om die professoraat was daar nie noemenswaardige kandidate uit Nederland of België nie. Op 'n vergadering het Opperman die ander lede van die Departement meegedeel dat hy die indruk gekry het dat Louw in die pos geïnteresseerd was, maar dat hulle nie kon verwag dat hy sou aansoek doen nie. Daarom wil hy voorstel dat Louw uitgenooi word om die leerstoel te vul. Die gedagte was vir die ander professore aanneemlik. Die aanstellingskomitee het die gedagte gesteun en na deursending deur die gebruiklike kanale is Louw die pos aangebied. Hy het dit met ingang 1967 aanvaar. Die samewerking tussen Opperman en W.E.G. Louw het vriendskaplik begin, maar 'n mens kon by voorbaat voorspel dat die hartlikheid nie lank sou duur nie. Opperman het 'n digterlike, vakkundige en persoonlike renons in Louw gehad wat hy met die beste wil ter wêreld nie kon afskud nie. Afgesien van die baie triviale verse, die gemaksugtige prosa en die impressionistiese metode wat vir hom simptomaties van 'n geestelike luiheid was, het Opperman gevoel Louw is wollerig, dat hy sy lesings met praatjies vul en dat hy die studente met sy mooi stem verlei. Daarby het daar wrywing ontstaan as gevolg van die werkverdeling. Louw wou graag 'n gedeelte van die Afrikaanse letterkunde doseer, in ruil waarvoor Opperman sekere dele van die Nederlandse literatuur moes oorneem. Hiervoor was Opperman egter nie te vinde nie. Hy was krities teenoor Louw en het die standpunt ingeneem dat hy gaan handhaaf wat hy het en nie enige toegewing gaan maak nie. Die ou spook van Fransie Malherbe en Erlank het weer begin loop. Voor die koms van W.E.G. Louw het Opperman haas alle M.A.- en doktorale studente onder hom gehad, aangesien Erlank na die afhandeling van sy laaste kandidate in 1962 geen nuwes bygekry het nie. Met die nuwe aanstelling het hy egter gevoel dat dit nou die aangewese tyd is vir iemand om sy las te verlig en is alle voornemende verhandeling-studente wat in 1967 wou registreer, aan Louw toegewys. Daarby het hy begin om minder op kantoor te kom, hom aan die administrasie onttrek en die indruk geskep dat hy nie juis gemoeid wil wees met die konstruksie en organisasie van die Departement nie. Hoofsaak was sy nagraadse studente en die kwekelinge in sy Letterkundige Laboratorium wat steeds vir hom 'n boeiende spel was en baie bevrediging verskaf het. In die laat-sestigerjare het sy doseerwerk ook begin verswak. Soms het hy voor 'n lesing half verlep op die trappies gestaan en iets op die agterkant van 'n sigaretdosie aangeteken. In die klas het hy mompelend en in halwe sinne voorgedra, al het sy opmerksame studente steeds gevoel dat hy oor 'n verbluffende rykdom kennis beskik en dat sy insigte steeds helder is. Die gemompel was | |
[pagina 391]
| |
vir die belangstellendes meer werd as die welsprekendheid van talle ander. Met die toename in die getal studente het die vier professore gevoel dat hulle 'n sterk saak vir die aanstelling van addisionele dosente kon uitmaak. Die probleem was egter steeds die vier hermeties geslote afdelings waarin die Departement verdeel was. Die twee letterkundiges en die twee taalkundiges het egter ooreengekom om 'n lektoraat elk tussen hulle te verdeel; by 'n later geleentheid kon hulle dan twee verdere poste skep. Die eerste tydelike lektore is in 1969 aangestel. Die letterkunde-pos is gevul deur Leon Strydom wat die betrekking tot die einde van 1970 beklee het. In 1971 is Johan Smuts as die eerste vaste lektor in Afrikaanse letterkunde aangestel, terwyl Lina Spies aan die begin van 1972 in 'n verdere nuwe pos benoem is. In 1971 het Opperman nog 'n halfjaar lank vir die eerste- en tweedejaars klas gegee, maar van 1972 af het hy dié werk volledig aan die twee lektore oorgelaat. Hy het net 'n semester lank oor die Afrikaanse poësie by die derdejaars gepraat, die Letterkundige Laboratorium in die tweede semester behartig en vir die Honneursstudente kursusse oor die Afrikaanse Poësie en van tyd tot tyd ook die Literêre Kritiek aangebied. Reeds in die laat-sestigerjare het vriende en kollegas die indruk gekry dat Opperman belangstelling in dinge begin verloor het. In 1967 is hy uitgenooi om 'n gashoogleraarskap aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam te beklee met behoud van sy professoraat op Stellenbosch. Die gedagte was 'n eenmalige of herhaalde verblyf in Amsterdam van Oktober tot Pase of van Januarie tot Pase. In dié stadium van sy lewe was so 'n pos egter vir Opperman volkome onaanneemlik. In 'n brief van 18 Oktober 1967 aan G.W. Ovink van die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam skryf hy dat dit 'n verleidelike gedagte is om twee leerstoele - ‘skoenlapperend tussen twee wêrelddele!’ - te beset. Daarvoor, sê hy, ‘moet jou van nie slegs Opperman wees nie, jy moet in der werklikheid 'n Superman wees!’ Hy is bevrees die menslike gestel is te broos om aan so 'n groot uitdaging reg te laat geskied. Hy wys dus die uitnodiging van die hand. Uit die weiering van so 'n uitnodiging, saam met al die ander dinge wat hy in hierdie jare van die hand wys, vermoed 'n mens dat hy lewensat was en dat hy 'n soort doodsgang begin belewe het. By die Universiteit het hy slegs 'n stuk of drie lesings per week gegee, vyf minute voor 'n klas opgedaag, sy pos in sy kantoor gaan haal en reguit van die lesingslokaal af na sy motor gegaan. Studente het hom asosiaal en moeilik toeganklik gevind, 'n moeë afgetakelde man wat min lus was vir die lewe. | |
[pagina 392]
| |
VIIAs 'n mens die oorsake probeer vasstel vir die doodsgang wat Opperman in die laat-sestiger- en vroeë sewentigerjare beleef het, stuit jy op 'n hele kompleks verwikkelde faktore. Daar is die groot hoeveelheid werk wat hy voor die aanstelling van die bykomende lektore moes behartig, die spanning tussen verantwoordelikheid en impuls wat steeds in hom aanwesig was en die ondergangsgedagte wat deur die politieke probleme van die sestigerjare vererger is. Verder kan 'n mens twee gebeurtenisse noem wat 'n groot uitwerking op hom gehad het. Met die uittrede van Erlank in 1966 het hy gehoop dat Antonissen die pos sou vul en hom sou help om die letterkundige afdeling van die Departement te versterk, iets waarop hy hom jare lank voorberei het. Toe dit misluk, het daar iets in hom doodgegaan en het hy hom aan die Departement begin onttrek. Ook die dood van Van Wyk Louw in 1970 was vir hom 'n gevoelige slag. Jare lank was daar van Opperman se kant 'n haat-liefde-verhouding teenoor Van Wyk Louw: aan die een kant 'n geweldige verering en bewondering, aan die ander kant 'n kritiese kyk op sekere aspekte van dié digterskap wat hy as minder bevredigend of as gevaarlik vir die poësie beskou het. Van betreklik vroeg af was daar 'n besliste wedywering van Opperman se kant. Hy was gepreokkupeer met Van Wyk Louw en baie van sy werke was 'n doelbewuste poging om op 'n ander wyse in dieselfde kategorie die peil van sy mededinger te ewenaar en te oortref. Lank voordat Van Wyk Louw vir hom in Amsterdam gesê het dat hulle in die toekoms bul teen bul sal staan, het Opperman reeds daardie instelling gehad, al het dit altyd by hom gepaard gegaan met 'n basiese welwillendheid en lojaliteit teenoor sy ou vriend en was hy intens teleurgesteld en geskok oor Van Wyk Louw se houding en gesindheid tydens die debakel oor die Hertzogprys vir Poësie in 1966. Met Van Wyk Louw se dood het hy egter, naas die persoonlike verlies, gevoel dat sy groot sterk mededinger hom ontval het en dat hy hom nie meer kon meet nie. ‘Ek het nou geen kompetisie meer in die Afrikaanse poësie nie,’ het hy by geleentheid gesê. Daar het iets koersloos in hom gekom. Al hierdie faktore gee egter met 'n gedeeltelike verklaring vir Opperman se lewensatheid en die afname in sy skeppingsdrang. Vir baie van sy Kaapstadse vriende was sy oorskakeling na Stellenbosch 'n verkeerde besluit. In vergelyking met die anonimiteit van die stad, wat vir 'n skeppende kunstenaar bevorderlik is, het hulle gevrees dat die besondere kulturele en maatskaplike opset van 'n kleiner plek 'n verlammende uitwerking op hom sou hê en dat daar nie genoeg uitdagings sou wees nie. By meer as een geleentheid het die Kapenaars ná sy aanstelling vir Opperman goedig geterg dat hy op Stellenbosch gaan stagneer. ‘Nou gaan jy daar in die skaduwee van die eikebome sit en net soos | |
[pagina 393]
| |
die Stellenbossers word; nou gaan daar niks meer uit jou kom nie, want jy het daardie prikkel van U.K. en die stad nodig,’ het Hannes van der Merwe as die voorperd gesê. Op sulke opmerkings het Opperman meestal net gereageer met: ‘O, dis wat jy dink, nè?’ Alhoewel iemand soos Jan Celliers na sy aanstelling as buitengewone professor niks meer van waarde gelewer het nie en Stellenbosch 'n power reputasie as kweekplek vir digters gehad het, sou so iets vir Opperman juis uitgedaag het. Daarby was die opmerking onbillik teenoor die geestesenergie wat wél op Stellenbosch aan skeppende werk bestee is. Tog was die vrees vir 'n digterlike swye vir Opperman in die sestigerjare 'n kwellende probleem. Daar is van hom verwag om in die produksie-tempo van die Kaapse jare voort te gaan, 'n verwagting wat 'n sekere onvergenoegdheid by hom laat ontstaan het en hom ongeduldig laat word het as daar vrae was oor waaraan hy werk. Die verskyning van Tristia in 1962 was vir Opperman 'n vreugde, maar ook 'n uitdaging wat hy in die sestigerjare nie kon beantwoord nie. Alhoewel hy werk van gehalte kon lewer, was dit in daardie stadium nie vir hom moontlik om met so 'n demonstrasie van uiteenlopende temas en tegnieke as Van Wyk Louw te kom nie en het sy bundels 'n yl indruk gemaak in vergelyking met die groot werke van die vyftigerjare. In hierdie omstandighede is dit nie verbasend nie dat hy meer begin drink het. Met sy aankoms op Stellenbosch was dit reeds algemeen bekend dat hy taamlik baie alkohol gebruik, al was hy oor die algemeen 'n stadige drinker en kon 'n mens haas nooit - behalwe deur 'n groter spraaksaamheid en vlotter formulering - bespeur dat hy onder die invloed was nie. Tog moet dit die meeste van sy vriende en kennisse opgeval het dat hy te veel drink. Agterna gesien is dit moeilik om te sê of baie van die probleme wat Opperman in die sestigerjare ondervind het, deur die drankgebruik veróórsaak is of die gevolg daarvan was. 'n Mens kan egter met redelike sekerheid aanvaar dat die afname in skeppende krag hom meer laat drink het, want vir iemand vir wie die kunstenaarskap so sentraal was en wie se lewe in so 'n mate op dié drif gerig was, moes die vrees vir 'n vroeë poëtiese dood iets verskrikliks gewees het. Dit is ook bekend dat alkohol by baie gebruikers 'n sekere mate van depressiwiteit kan laat ontstaan, en dit is 'n ope vraag of die sterk gevoel van ondergang by Opperman deur die drank veroorsaak of versterk is. Moontlik het die onttrekking aan baie aktuele sake en verantwoordelikhede en die vlug na Franskraal ook baie daarmee te doen gehad. Daar was dus 'n sameloop van faktore en omstandighede wat tot Opperman se geestestoestand in die sestigerjare gelei het. In die oggend by die Universiteit het dit kollegas en studente opgeval dat hy aan 'n sekere bewerigheid ly, iets wat hy probeer wegsteek het deur sy sigaret peinsend met sy hand teen die kop te hou. Die eerste besliste aanduiding dat die alkohol sy gesondheid nadelig beïnvloed, was in Augustus 1964. Kort voor die première van Vergelegen het hy op 'n Saterdagaand heelwat gedrink en rosyne en neute daarby geëet. Toe hy | |
[pagina 394]
| |
hom weer kom kry, het hy begin bloed spu en moes hy inderhaas per ambulans na die Karl Bremer-hospitaal in Bellville geneem word. Hy is op aarvoeding geplaas en die geneeshere het vasgestel dat die alkohol die maagslymvlies geïrriteer, die maagwande aangetas en die lewer effens laat vergroot het. Na 'n week is hy ontslaan met die vermaning om onmiddellik op te hou met drink en rook. Aan die rookverbod het Opperman hom glad nie gesteur nie, maar tog drie maande lank heeltemal van alkohol weggebly en daarna aanvanklik baie stadig gedrink. Tog was dit vir mense ná aan hom duidelik dat hy nie gesond is nie en dat hy uiterlik sigbaar aan die verouder is. Hy het losser gestaan van letterkundige vriende en akademici en verveeld gelyk met die hele literêre ‘gedoente’ en die Universiteit. Toenemend, terwyl hy met Gees van die wingerd besig was, het hy die ryk boere, KWV-mense en ‘tycoons’ se geselskap opgesoek en in 'n mate verwyderd geraak van goeie vriende soos Meyer de Villiers en Fred le Roux wat in 1969 professor in Drama op Stellenbosch geword het. Dit was asof 'n roekelose drif hom meegevoer het. Alhoewel daar vroeër in gedigte soos ‘Man met horries’, ‘Kitaarspeler’, ‘Oud-digter’, ‘Kroniek van Kristien’ en die ‘Dylan Thomas’-gedigte 'n beheptheid met die ‘drankduiwel’ was, het hy in die laat-sestigerjare openliker oor drank en sy drankgebruik gepraat. Hy het allerlei sêgoed oor drinkgewoontes gehad, soos ‘Dit is nou Het uur U’, ‘Dis nou Tassenbergtyd’ of ‘Die Boeing is al oor’. In die teekamer by die Departement het hy feitlik nooit meer gekom nie. Toe hy op 'n oggend wel daar inloer en Annette Theron, Kempen se assistent, hom vra of hy tee wil hê, was sy antwoord: ‘Nee, ek wil nie die ander dors nou wegneem nie!’ Behalwe teenoor Liz was hy ook gedistansieer van sy familie en nie altyd bereid om hulle aan huis te ontvang nie. Hy was wars van openbare optredes en het geweier om besoekende oorsese letterkundiges, selfs iemand van die formaat van Wayne C. Booth, te ontmoet. Sy standpunt was dat hy liewers so 'n skrywer se boeke lees en hom op dié wyse leer ken. Selfs jonger digters, behalwe sy eie laboriete, kon moeilik 'n afspraak met hom gereël kry. By geleentheid het Casper Schmidt knaend gebel om te hoor of hy Opperman kan kom spreek. Marié se woorde was by herhaling: ‘Dirk is in die bad’, 'n antwoord wat Schmidt later moedeloos laat vra het: ‘Mevrou, is u man 'n digter of 'n dolfyn?’ Opperman se leefwyse het in die laat-sestigerjare verdere gesondheidsprobleme opgelewer. Hy moes vir hoë bloeddruk behandel word en op 11 Oktober 1968 is hy in die Karl Bremer-hospitaal vir aambeie geopereer, 'n operasie met reperkussies toe hy aan die bloei geraak het en sonder narkose toegewerk moes word. Ná die operasie het die chirurg met hom gesels oor sy drankgebruik. Opperman, wat allergies was vir kalmeermiddels, het homself verdedig: ‘Julle weet nie wat dit is om spanninge te beleef en niks behalwe alkohol te hê om daarvan ontslae te raak nie.’ Kort na die voltooiing van Gees van die wingerd was hy op Franskraal en het hy een aand deurmekaar begin praat en ineenge- | |
[pagina 395]
| |
stort. Aangesien daar geen geneesheer op Franskraal was nie, moes Marié 'n dokter uit Hermanus ontbied wat bevind het dat hy oormoeg is en rus dringend nodig het. Marié self het in 1968 'n klein trombose in die kop gehad wat rukkings en selfs by tye 'n verlamming veroorsaak het. In 1970 skryf Oppeman in 'n ongedateerde brief aan sy suster Liz: ‘Marié is pimpel en pers van al die naalde, drade en pypies soos hulle probeer vasstel wat alles verkeerd is voordat hulle opereer.’ Terwyl albei in hulle ellendes inplons, het ook die kinders begin vrees vir hulle ouers se gesondheid en in opstand gekom teen hulle vader se drankgebruik. Diederi was bekommerd as Opperman as gevolg van die baie rook hoesbuie kry sodat hy minute lank nie kon praat nie, terwyl Heila in 'n brief van 12 Maart 1969 hom gesmeek het: ‘asseblief, moenie voortgaan om so stadig feitlik selfmoord te pleeg nie.’ Fred le Roux kon in later jare onthou hoe Opperman skuifelend, waggelend en onder invloed die Senaatsaal binnekom, opgehewe in die gesig, en hoe Francie van Zyl, professor in Geneeskunde, hom met sy oë volg vandat hy in die deur verskyn totdat hy in sy bank gaan sit. Hy het tree vir tree geloop, toenemend in halwe sinne gepraat, 'n misnoegdheid oor sy lesings en verantwoordelikhede openbaar en op allerlei maniere tekens getoon dat hy veels te veel drink. Opperman moes self besef dat sy gesondheid besig was om tot niet te gaan. Op 15 Maart 1969, as Hubert Coetzee van die Nasionale Pers aan 'n longaandoening sterf, besluit hy om op te hou rook en om sy alkohol tot rooiwyn te beperk. Al het hy vroeër by geleentheid aan Ernst Lindenberg gesê dat rooiwyn ‘jou lewer vreet’ en hy daarom voorkeur gee aan brandewyn, het die verandering in sy gebruike aanvanklik sy gesondheid laat verbeter en van die ou vreugdes laat terugkeer. Die verbetering was egter net tydelik, want Opperman het enorme hoeveelhede rooiwyn - hoofsaaklik Tassenberg - gedrink. Sy dogter Heila het in dié jare baie sterk die indruk gekry dat hy gefrustreerd is, verstandelik en liggaamlik ingehok voel en dat hy begin twyfel het aan sy eie vermoëns. Die kinders kon weinig kontak met hom maak en hulle het gevoel dat hy nie verbintenisse wou hê wat emosioneel van aard is nie. Hy wou nie belas word met dinge wat hy as ‘beuselagtig’ beskou het nie. Daarby was hy in 'n stadium oortuig daarvan dat hy sou doodgaan, omdat baie lede van sy familie betreklik jonk oorlede is. By geleentheid het hy selfs gesê dat hy nooit kinders wou hê nie, 'n uitspraak wat sy dogters diep geskok en laat dink het dat hy hulle van hom wou wegstoot. Niks kon sy aandag prikkel nie. Mense om hom het die indruk gekry dat hy alleen wil wees en tog ook nie alleen nie. Die spanning tussen verantwoordelikheid en impuls het soms feitlik 'n breekpunt bereik. Soos by baie ander skrywers was daar by hom 'n vae, romantiese drang om na vreemde gebiede uit te vaar, al was hy tog verankerd in sy vrou en gesin. Op 'n keer het hy gesê hy wil sy goed vat en loop dat niemand hom ooit weer sien nie. As iemand met hom oor sy drankgebruik sou praat en daarop wys dat hy gaan | |
[pagina 396]
| |
sterf as hy nie ophou nie, was sy antwoord: ‘Wat maak dit saak? Is die lewe die moeite werd?’ As daar oor sy skeppende werk gepraat is, het hy in somber oomblikke gevra: ‘Het dit enige sin om te skryf?’ Hy was dus vervul met 'n allesoorheersende fatalisme. Mense ná aan hom het gesien 'n katastrofe is aan die kom. By die huis het hy een bottel wyn na die ander gedrink. Soms, as Koos Human teen halftwaalf by hom aankom, was daar reeds twee leë bottels in die snippermandjie. Meestal het hy oor die middaguur drie bottels gedrink, 'n verdere bottel boontoe geneem as hy gaan slaap en in die aand laat weer verder gedrink. Vir die eerste keer het drank hom nou ook sigbaar aangetas. Enkele kere het dit gebeur dat hy die trap na die boonste verdieping nie kon klim nie en gehelp moes word. Ten spyte van die belangstelling in sy werk was hy suspisieus oor mense en het hy die gevoel gehad dat alles en almal hom verloën het. Slegs enkele persone kon nog tot hom deurdring. Dat Opperman op 'n katastrofe afstuur, was ook die indruk van ou vriende wat hom van tyd tot tyd besoek het. Stoffel Nienaber was ontsteld toe hy op 26 Februarie 1975, by geleentheid van die viering van Elisabeth Eybers se sestigste verjaardag en die oorhandiging van die huldigingsbundel Ter wille van die edel spel aan haar, gemerk het hoe onsamehangend Opperman praat en hoe onvas hy op sy bene was. Na die onthulling van die Paarlse Taalmonument in dieselfde jaar het Philip Nel, ou skool- en universiteitsvriend en Direkteur van Onderwys in Natal, Opperman op Stellenbosch kom besoek. Marié se aanbod van tee het Opperman summier met 'n ‘Wie drink dan nou tee?’ van die hand gewys en reeds elfuur die oggend begin rooiwyn skink. Toe Nel die middag laat daar weg is, was hy geskok en oortuig daarvan dat sy ou vriend op 'n ramp afstuur. By geleenthèid van sy een en sestigste verjaardag op 29 September 1975 het Opperman 'n paar gaste oorgenooi. Na die geleentheid het Johan Spies agtergebly om 'n bietjie met Opperman te gesels. Terwyl hulle in die studeerkamer alleen was, het hy gemerk dat sy vriend al taamlik ver heen was, dat hy nie meer kon ophou met alkohol nie en dat sy drinkery ook slordig geword het. Opperman het nie baie gepraat nie, maar iets begin sê oor die ‘demoon’ en toe onsamehangend geraak. Kempen, wat laat vir die geselligheid was, het ingekom, gesien hoe sake daar uitsien, meewarig na Opperman geloop, hom gelukgewens en weer vertrek. Na Kempen weg is, het Opperman voortgegaan. ‘As jy die begeerte het om te skep,’ het hy gesê, ‘as jy die drang het maar jy kan nie aan die gang kom nie, as daardie demoon jou vat ...’ Soos dikwels het hy nie sy sin voltooi nie, maar Spies het afgelei dat Opperman iets van sy probleem wou oordra en was oortuig daarvan dat die vrees vir 'n digterlike dood die groot spanning in hom was. Hierdie oorgawe aan die ‘duvel’ - soos Opperman dit self gestel het - was die oorsaak van rusies en spanninge. 'n Hele paar keer het Marié in trane uitgebars oor die toestand en vir die kinders gevra om met hulle vader te praat. | |
[pagina 397]
| |
Alle gesprekke was egter soos water op 'n eend se rug. Hy was hopeloos gevange as verslaafde en vervul met die gedagte van 'n gewisse ondergang, al het hy selde met iemand daaroor gepraat. ‘Ek slaap nooit een nag nie. Ek sit net en dink aan die dood,’ hy het in dié tyd vertroulik aan 'n vriend gesê. Teen die einde van 1975 het Opperman 'n veluitslag begin kry wat as psoriase begin en tot rosasee in die gesig ontwikkel het. 'n Spesialis by wie hy was, het die velmiddel Roxy voorgeskryf, 'n vorm van oksitetrasiklien wat hy in pilvorm van 12 Oktober af moes neem. Toe hy uitstap by die spreekkamer het die geneesheer, feitlik as 'n terloopse bygedagte gesê: ‘Die goed sal op jou lewer werk. Ek sien jou weer op 28 Januarie.’ Opperman het gevra: ‘Wat van my rooiwyn?’ Die geneesheer het geantwoord: ‘Drink maar, of stuur liewer van die goed aan my.’ Opperman het hom nie aan hierdie opmerking gesteur nie. Onmiddellik na die gradeplegtigheid op 10 Desember 1975 het hy na Franskraal vertrek. Hy het egter reeds die eerste dag gemerk dat sy urine 'n ongesonde bruin kleur vertoon en dat hy 'n al hoe dikker vloeistof uit sy blaas afskei. Daarby was dit vir sy huismense asof sy maag begin opswel en sy bene nie meer sy gewig wou dra nie. In die loop van die maand het sy broer Koos by sy vakansiehuis aangekom. Koos het gesien sy broer se oë is goudgeel, dadelik vermoed dit is 'n ernstige leweraandoening en hom aangeraai om so gou moontlik by 'n dokter uit te kom. Opperman wou egter nie sy vakansie onderbreek nie. Eers op 18 Januarie het die gesin teruggekeer na Stellenbosch. Maar toe was hy reeds ernstig siek. |
|