D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 284]
| |
Hoofstuk 9
| |
[pagina 285]
| |
Grahamstad egter geen enkele oomblik oorweeg nie, omdat hy dáár te geïsoleerd van uitgewers en die Afrikaanse wêreld sou wees. As Rob Antonissen hom vra om 'n aanbeveling vir sy kandidatuur vir die professoraat by Rhodes te skryf, is hy dan ook dadelik bereid om dit te doen. In sy verslag sê hy dat Antonissen se ‘wye agtergrond...hom in staat (stel) om fynsinnige vergelykings en oortuigende waardebepalings te maak’ en dat hy nêrens sy gelyke het ‘wat die kennis van sowel die Nederlandse en Vlaamse as die Afrikaanse letterkunde betref nie’. Aan die begin van 1958 het 'n belangriker moontlikheid vir Opperman opgeduik. Van Wyk Louw het in die tweede helfte van 1957 na Suid-Afrika gekom as kandidaat vir die vakante leerstoel aan die Universiteit van die Witwatersrand. Terwyl hy nog in die land was en ook Kaapstad besoek het, is bekend gemaak dat hy in Johannesburg aangestel is. Opperman het Van Wyk Louw een aand aan huis van W.E.G. Louw saam met 'n groep ander gaste gesien, maar die moontlikheid van opvolging in Amsterdam het tóé nie ter sprake gekom nie. In 'n brief van 27 Januarie 1958 aan Wytze Hellinga noem Van Wyk Louw Dekker, J. du P. Scholtz, W.E.G. Louw, Opperman, Merwe Scholtz, A.P. Grové en P. du P. Grobler as persone wat in aanmerking kom vir die pos in Amsterdam en in briewe van 26 Maart 1958 vra Garmt Stuiveling verlof van Dekker, J. du P. Scholtz, W.E.G. Louw en Opperman om hulle te benoem as kandidate vir die Amsterdamse professoraat. Alhoewel die moontlikheid van so 'n belangrike betrekking vir Opperman aantreklik moet gewees het, was hy met sy Afrika-gerigtheid en verbondenheid aan die Suid-Afrikaanse wêreld en problematiek nie bereid om vir 'n onbeperkte aantal jare na Nederland te gaan nie. Daarby het hy opgesien teen die ingeperkte en ‘suinige’ lewe van die Hollanders. In 'n brief van 19 April 1958 aan Stuiveling wys hy dan ook die uitnodiging van die hand. Opperman het geweet dat die professoraat in Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch aan die einde van 1959 met die uittrede van F.E.J. Malherbe vakant sou raak. 'n Mens kan aanvaar dat hy sy hoop op dié leerstoel begin vestig het. | |
IIIn die tyd ná sy terugkeer uit Europa tot aan die einde van 1959 verskyn geen nuwe skeppende werk van Opperman nie, maar is hy besig om die ervarings wat hy opgedoen het, in 'n aantal belangrike gedigte vas te lê. Dit beteken nie dat daar in dié periode niks van belang gebeur nie. Hy is steeds besig met die redigeringswerk, enkele kritiese stukke, Standpunte-sake en keurdersverslae vir uitgewers. | |
[pagina 286]
| |
Kort na sy terugkeer val 'n besondere eer Opperman te beurt as hy op Saterdagoggend, 24 Augustus 1957 in die Ruskamer van die CSV-gebou op Stellenbosch die Hertzogprys vir Drama ontvang. By dié geleentheid voer W.J. du P. Erlank die huldigingsrede. Volgens hom is Periandros van Korinthe nie net belangrik vir die geniale behandeling van die verhouding van 'n mens tot sy gesin en van 'n staatsman tot sy volk nie, maar ook van die mens tot die ewigheid. Dit bevat roerend verbrede en verdiepte patetiek. Die volgehoue klank-, bewegings- en vormprobleme in die stuk bind die hele handeling tot 'n rituele beweging wat ver buite die eintlike dramatiese gebeurtenisse sin en betekenis vind. Hy beskou dit as die grootste drama in die Dietse letterkunde sedert die verskyning van Vondel se Lucifer driehonderd jaar tevore.Ga naar eind1 Die toekenning van die Hertzogprys, wat deur Anna de Villiers aan hom oorhandig is, het nie sonder haakplek verloop nie. Die keurkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het bestaan uit G. Dekker, H. van der Merwe Scholtz (senior) en Tj. Buning. Hulle kon nie eenstemmigheid bereik oor die keuse tussen Van Wyk Louw se Dias en Periandros van Korinthe nie en die Fakulteitsraad het besluit om die saak na 'n breë letterkundige kommissie te verwys. Die uitslag van die stemming was sewe ten gunste van Periandros van Korinthe en drie ten gunste van Dias. Op die Raadsvergadering daarna was die menings ook erg verdeeld en word Periandros van Korinthe met 'n meerderheid van net een stem vir bekroning aanbeveel. As die Akademieraad daarna byeenkom, vra hulle vir 'n duideliker aanbeveling en word die aangeleentheid na die Fakulteitsraad terugverwys. Op die Fakulteitsraadvergadering van 29 Maart 1957 het een van die oorspronklike beswaarmakers sy standpunt verander en steun hy nou die aanbeveling om Periandros van Korinthe te bekroon. Die Raad besluit dan ook eenparig om Opperman se drama vir die toekenning aan te beveel, 'n besluit wat deur die Akademieraad aanvaar is.Ga naar eind2 Hoewel Opperman ingenome was met die Hertzogprys, het hy in dié stadium van sy lewe nie veel waarde geheg aan sulke uiterlike erkennings nie. Hy het 'n basiese wantroue gehad in die wyse waarop die Akademie in literêre sake optree. Een van die bepalings van die toekenningsprosedure van die Hertzogprys was dat dieselfde outeur net een keer in 'n bepaalde genre bekroon kon word. Dit het meegebring dat Opperman ná die toekenning van die Hertzogprys vir Poësie aan Heilige beeste nie vir werke soos Negester oor Ninevé, Joernaal van Jorik, Engel uit die klip en Blom en baaierd enige toekenning van die Akademie kon ontvang nie, 'n situasie wat hom sowel geamuseer as omgekrap het. Hy kon tereg vra watter sin dié bekronings het as sy (en Van Wyk Louw se) beste werk nie daarvoor in aanmerking kon kom nie. | |
[pagina 287]
| |
IIINog voordat hy sy werk as dosent aan die begin van die tweede semester van 1957 hervat het, moes Opperman dringend aan 'n lastige saak aandag gee. Tydens sy afwesigheid het Peter Blum die manuskrip van sy tweede digbundel, Enklaves van die lig, aan Koos Human van die Nasionale Boekhandel voorgelê. Human het aan Opperman geskryf en gevra of hy kans sien om die manuskrip in Europa te beoordeel, maar hy het nie. Sy standpunt was trouens dat Human onmiddellik behoort uit te gee: ‘... by iemand van Blum se formaat sukkel mens nie nog met 'n keurder nie’.Ga naar eind3 Blum het egter daarop aangedring om 'n mening oor die manuskrip te hê en het aanbeveel dat dit aan J. du P. Scholtz voorgelê word. Scholtz het, veral oor Blum se neologistiese taalgebruik, baie voorbehoude gehad en by Human aanbeveel dat daar tot Opperman se terugkeer met die manuskrip gewag word. Opperman het betreklik gou na sy aankoms Blum se bundel deurgegaan en met Scholtz bespreek. In sy en Scholtz se gesamentlike verslag, wat deur Scholtz geskryf is, het hulle dit veral teen Blum se ‘opsetlike gebruik van woorde wat geen Afrikaans is nie of nie die betekenis of funksie het wat hy in 'n bepaalde verband klaarblyklik daaraan gee nie’. Volgens hulle wek ‘hierdie soort taalgebruik by Blum (in byna alle gevalle) op sy bes bevreemding, meestal bloot onsekerheid en verwarring, en soms selfs 'n bietjie ergernis’. In 'n brief van 29 Augustus 1957 skryf Opperman aan Blum dat hy en Scholtz van oordeel is dat Enklaves van die lig nie op die peil van Steenbok tot Poolsee is nie en dit sou jammer wees as jy dit net so wil uitgee. Daar is te veel middelmatige verse en te min wat 'n besondere indruk op 'n mens maak. Ook is daar veral in ‘Die Klok in die Newel’ 'n onoortuigende gebruik van vreemde woorde. Ons het oral hierdie soort woorde aangestip, woorde wat o.i. nie verdedigbaar is nie...Gedeeltes van ‘Die Klok in die Newel’ is indrukwekkend, maar gedeeltes daarvan te rou en soms ook studentikoos. Die intieme kamertonele sou ek vroeër afsluit - dan sal hulle aan suggestie wen en 'n sekere oordaad wat nou hinder, uitskakel...ek dink jy is dit aan jou talent verskuldig om nog 'n ruk aan die verse te werk en miskien nuwes by te kry. En my vertroue in jou talent is so groot dat ek weet jy kan met 'n mooier bundel kom. Scholtz en Opperman het dus nie die bundel afgekeur nie. Die versweë gedagte was eerder dat die besware aan Blum voorgelê moes word en dat hy na weglatings en byvoegings 'n bevredigender manuskrip moes voorlê. Hiervoor was Blum egter nie te vinde nie. Hy het die manuskrip van Enklaves van die lig aan Balkema voorgelê wat bereid was om dit met sekere wysigings en die weglating van die Apollinaire-vertalings te publiseer. | |
[pagina 288]
| |
Voor die verskyning van die bundel skryf Blum op 10 September 1957 aan Opperman. Uit sy brief is dit duidelik dat hy die verslag en Opperman se reaksie as 'n afwysing van sy bundel interpreteer. Hy begin deur te sê dat hy nie kan saamstem ‘oor die demeriete (vertaal dít gou in boere-Afrikaans) van “Enklaves” nie. Dit is m.i. solieder en suiwerder as jou peetkind “Steenbok”; en jou oordeel laat my wonder of my vroeë werk nie net nuuskierigheidswaarde vir jou gehad het nie. Al sou dit ook swakker wees dan “Steenbok”, vind ek dit moeilik om te glo dat dit swakker is dan “Kruis & Kraai” of die poësie van A.J.J. Visser.Ga naar eind4 Die afwysing van bundel II lyk my dus ekstreem.’ Hy gaan voort: Die bohaai oor neolog- en ander -ismes is vir my onoortuigend.... Dit was juis my doel om my woordeskat, en dié van julle taal, te verfyn en uit te brei - dus om woorde te adapteer en te skep waar ek, uit kennis van ander tale, skakerings waarneem wat Afr. nie dek nie. As ek Duits of Engels skryf doen ek dit ook. By Pretoria staan daar 'n ‘adaptasie’ van die voelkerschlacht-denkmal by leipzig - 'n argitektoniese Germanisme - en Scholtz neem my 'n dosyn Germanismes kwalik.... ‘Klok in die newel’ - ek weet nie so mooi wat ‘studentikoos’ wil sê nie; maar jy moes verwag het dat ek, by salige gebrek aan 'n Calvinistiese opvoeding, my jeug langer sal behou as - nou ja, vul maar self in. Ek wou hê hd. outobiografiese vers moet moesseer en skuim en geil wees; ek meen hy doen en is dit...‘Intieme kamertonele’: is hulle werklik so intiem? Van 3 mense aan wie ek dit gewys het, was twee onseker of daar wel ingegaan is; by Kamertoneel II was dit in werklikheid nie die geval nie. Waarvandaan die skielike preutsheid? Vir kamertonele verwys ek jou na Goethe: Römische Elegien, veral No. 20. Oordaad inderdaad! Buitendien is die bou ‘golfagtig’: elke golf moet kulmineer, en breek. Het dit jou opgeval? Elke passus het sy ‘hoogtepunt’ - dus natuurlik waar nodig 'n seksuele. Maar erg swelgend is hulle, volgens 'n nugtere oordeel, nie. Hy sluit af deur onder meer te sê dat die verse is soos hy hulle wou hê, dat hy geen waarborg het dat Opperman ‘van die herbebroeide verse meer sal hou nie’, dat sy verse nie deur 'n ‘geknutsel’ sal wen nie en omdat hy ‘'n sterk vermoede het dat (sy) werk na die verkiesing onpubliseerbaar sal wees - (die Regiment van Heiliges het bloed geproe)’. Hy wend dus pogings aan om sy werk gepubliseer te kry en beloof om aan Opperman 'n eksemplaar te stuur indien hy slaag. Vroeg in 1958 verskyn Enklaves van die lig, maar Blum - wat teen hierdie tyd 'n sterk gevoel oor die hele aangeleentheid teen Opperman opgebou het - hou hom nie by die belofte van 'n geskenkeksemplaar nie. In 'n brief van 6 Februarie 1958 reageer Opperman op Blum se vorige brief en probeer hy met die gebruik van allerlei neologismes Blum se styl naboots. Hy skryf: Die letterperde het toe nooit die presenteksemplaar wat jy my ver-beloof het, begaai nie. I.p.v. 'n Nasionaal-Calvinistiese ondersoek te laat instel om die fout te | |
[pagina 289]
| |
ontdek (veral na die verkiesing wat jy so gevrees het!) het ek myself ontvyftiensjielingend (of onttwaalf-en-sessend?) geênklaves-van-die-lig. En ek was verbril om te boog dat jy Hoewel Opperman en Scholtz die manuskrip van Enklaves van die lig nooit afgekeur het nie, is dit tog so dat hulle voorbehoude die publikasie van die bundel vertraag het en Blum daardeur verplig was om na 'n ander uitgewer te gaan. Oor die intrinsieke literêre gehalte van Blum se twee bundels kan daar verskille bestaan, maar 'n mens voel tog dat Enklaves van die lig, veral in vergelyking met die gehalte van ander digbundels uit dieselfde tydperk, sonder aarseling vir publikasie aanvaar moes gewees het. In hierdie opsig gee 'n mens Human gelyk waar hy sê dat dit ‘een van die weinige oordeelsfoute’Ga naar eind5 in Opperman se loopbaan was. Die hele gebeurtenis bring 'n breuk in die verhouding tussen Opperman en Blum en hulle sou na die verskyning van Enklaves van die lig nooit weer persoonlik met mekaar verkeer nie. In briewe aan vriende uit dié tydvak begin Blum spottend na Opperman verwys as ‘ou dik Dirk’ en ‘Poeperman’. Nadat hy Suid-Afrika in 1960 permanent verlaat het, skryf hy nog enkele briewe en veral snedige kaartjies aan sy eertydse vriend.Ga naar eind6 Afgesien van Enklaves van die lig het Opperman in die periode 1957-1959 ook met ander manuskripte te make gehad. Reeds in 1949 het hy 'n manuskrip gedigte met die titel Na die somer van Ingrid Jonker gelees. Indertyd het hy haar genooi om saam met hom 'n koppie tee te drink en die hele manuskrip met haar deur te gaan. Van dié ontmoeting het Ingrid Jonker later onthou dat sy aanvanklik ‘baie opgewonde en 'n bietjie bang was’, maar dadelik gerusgestel | |
[pagina 290]
| |
is deur Opperman ‘se erns en kalmte en, bowenal, die briljante oë wat nie vir...(haar) uitgelag het nie’.Ga naar eind7 In die vyftigerjare het sy gereeld gedigte aan hom gestuur en dan het hy opmerkings daaroor gemaak en haar aangemoedig.Ga naar eind8 Haar debuutbundel Ontvlugting van 1956 het hy egter nie onder oë gehad nie. 'n Ander skrywer aan wie se werk hy in hierdie tyd baie aandag bestee, is A.P. Grové. Op versoek van Grové onderhandel hy met Nasionale Boekhandel oor die setwerk, band en tipografie van die bundel Oordeel en vooroordeel wat in 1958 verskyn. As Grové en J.L. Steyn hulle Keur uit die Nederlandse poësie (1959) voorlê, gaan Opperman die keuse noukeurig na en vergelyk hy sy eie voorkeure met dié van die twee samestellers, soms deur net een digter per aand te lees en daardeur feitlik die hele gebied van die Nederlandse poësie opnuut te verken. Reeds in 1951 werk hy mee as adviseur aan die agtdelige Die skatkis onder redaksie van Roy E. Stevens waarvoor hy ‘Janfrederik’ van Eugene Field en die Middelnederlandse ‘Heer Halewyn’ vertaal. Vir dieselfde redakteur se reeks Wêreldletterkunde behartig hy in 1959 die keuse uit die Afrikaanse verhaalkuns, voorafgegaan deur 'n inleiding. As Sarie Marais op 1 April 1959 'n spesiale uitgawe by geleentheid van ‘Die Wonder van Afrikaans’-fees en die vyftigjarige bestaan van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns publiseer, willig hy op versoek van Fred le Roux in om 'n artikel oor ‘Die vrou in die Afrikaanse letterkunde’ te skryf. Vir 'n spesiale bylae tot Die Burger van 6 April 1959 skryf hy na aanleiding van Helena Lochner se kindergedig ‘Albastertyd’ oor die ontstaanswonder en die wonderbaarlike voortbestaan van Afrikaans om dan uiteindelik by die digter se getoorde ghoenie en die skoonheidswonder van die taal uit te kom: ‘Die digter speel met die sterre albaster, sy ghoen gloei van 'n verborge lewe, raak met betowerde behendigheid ál die albasters...laat hulle spat uit die kringe!’ 'n Skryfster met wie se werk Opperman reeds in sy jare by Die Huisgenoot kennis gemaak het, is Elise Muller. As die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan haar die Hertzogprys vir Prosa op grond van haar bundel Die vrou op die skuit toeken, willig hy in om die rede by die oorhandiging te voer, een van sy seldsame optredes by 'n Akademieplegtigheid. Op 23 April 1958 voer hy die woord in die Lesingsaal van die Bellvillese Burgersentrum. In sy rede verwys Opperman na Elise Muller se vroeë romans en onderskei hy tussen haar werk as ‘vakleerling’ en dié van die ‘volwasse kunstenares’ wat sy met Die vrou op die skuit en Van eensame mense lewer. In haar beste kortverhale ‘kies sy doodgewone voorvalle maar wat deur haar indringing en vormvermoë oomblikke van openbaring word, intense stukkies lewe in taal’. Daarby is ‘haar prosa opvallend deur sy onopvallendheid’. ‘In Afrikaans’, gaan hy voort, kry ons veral twee soorte prosa. Die eerste is 'n mooiskrywery, 'n juweeltjiesprosa, 'n opgeblase, geforseerde prosa wat deur 'n hele aantal van ons sogenaamde | |
[pagina 291]
| |
groot skrywers beoefen word, deur 'n professor of twee bedryf word en in die inleidingskolomme van een van ons koerante nageaap word. Hierdie soort prosa is in die verlede telkens deur die Akademie bekroon en dus aangemoedig terwyl dit een van die grootste bedreigings vir ons vertelkuns is. Die tweede soort prosa is die natuurlike, die nugtere en die heldere. Die Akademie het dit te laat by 'n M.E.R. ontdek, dit by 'n Van Melle glad nie raakgesien nie en tot dusver nog nie in 'n Boerneef bekroningswaardig geag nie. Daarom is ek dubbel bly dat die Hertzogprys aan Elise Muller toegeken word: eerste om die intrinsieke waarde van hierdie natuurlike prosa, tweedens omdat die Akademie dit onmiddellik en nie eens op haar oudag ontdek het nie. Die toekenning is dus 'n bekroning vir wat sy reeds bereik het en 'n aanmoediging vir haar en ander om in hierdie rigting voort te gaan.Ga naar eind9 Afgesien van die behartigenswaardige dinge wat Opperman hier oor Elise Muller se werk sê, is die rede ook van belang vir sy siening van die ontwikkeling van die Afrikaanse prosa, juis in 'n tyd toe heelwat mense gekla het oor die ‘stilstand’ in dié genre en die hoop op die ‘ongeborenes’ gevestig het. Reeds vóór die bekroning van Elise Muller was die eerste tekens van 'n vernuwing op die gebied van die prosa egter al aan die gang. Waarskynlik as gevolg van sy ingesteldheid op die poësie het hierdie eerste ‘roersele’ by Opperman verbygegaan. In die vyftigerjare ontvang hy kortverhale en ‘prosas’ van Etienne Leroux en Jan Rabie vir Standpunte, maar weier alles vir publikasie. As Rabie se Een-en-twintig verskyn, maak dit op hom - wat in elk geval alle eksperimente met versigtigheid bejeën het - nie 'n besondere indruk nie. Hy laat na om Die eerste lewe van Colet, Hilaria en Die mugu by hulle verskyning te lees en raak eers geïnteresseerd as Van Wyk Louw in Vernuwing in die prosa pertinent op die belangrikheid van Leroux wys. Waarskynlik is hy in sy aanvanklike negatiewe gesindheid beïnvloed deur Canis Scholtz se sterk reaksie op sy ‘nefie’ se slordige prosa en swak taalgebruik en deur die feit dat hy en sy vrou by herhaling deur S.P. le Roux - Etienne Leroux se vader en Minister van Landbou in die Malan- en Strijdom-kabinette - vir ete na die Volksraad genooi is om sy seun te ontmoet. Voorlopig sou hy dus die eerste vreugde van die vernuwing in die Afrikaanse prosa nie deel nie. | |
IVNa die oordrag van die redaksie-sekretariaat aan W.E.G. Louw maak Opperman hom losser van Standpunte, al behou hy sy belangstelling in die tydskrif. In 1959 keur hy die gedigte, W.E.G. Louw die artikels en Fred le Roux die prosa, terwyl Koos Human as redaksie-sekretaris optree. As daar sprake is van 'n uitbreiding van die redaksie, stel hy voor dat Peter Blum genader word om toe te tree en ook die sekretariaat oor te neem. | |
[pagina 292]
| |
Teen hierdie gedagte neem Greshoff sterk standpunt in. ‘Een ieder die eenige goede gedichten schreef, ja ieder die een groot dichter is,’ skryf hy op 18 September 1959 aan Opperman, is dáárom nog geen goed tijdschriftleider!...Ik waardeer Blum in zijn beste gedichten, maar hij is voor een tijdschrift véél te weinig evenwichtig. Hij heeft mij ook te veel van een omgevallen boekenkast. Belezenheid staat niet gelijk met inzicht. Ook mist hij naar mijn overtuiging de noodige mate van objectiviteit voor een redacteurschap. Aangesien W.E.G. Louw hom van die redigering wou losmaak, stel Opperman voor dat A.P. Grové die sekretariaat moet oorneem. ‘Tegen Grové heb ik minder bezwaren,’ laat Greshoff vir Opperman weet, ‘maar hij is mij wat te kleurloos en hij is in de verste verte geen Opperman.’ Tog moet Opperman se voorstel later vir die meeste redaksielede aanneemlik gewees het, want begin 1962 neem Grové die redaksie-sekretariaat oor. Onder leiding van W.E.G. Louw verskyn Standpunte ongereeld en laat, sodat Blum die blad tot Sloerpunte herdoop. As Blum nie sy tjeks vir bydraes aan Standpunte van Louw ontvang nie, vra hy in 'n brief van 20 Junie 1957 aan Opperman: ‘... wil hy my bevark? Het daardie geredde siel dalk gewetensbesware teen uitbetaling aan heidene? Of het hy dit uit pure lojaliteit gestort in die Orrelfonds van die gemeente Albanie? Op briewe of telegramme reageer hy natuurlik nie: water off a saint's back. Ek wil graag weer iets instuur, maar ek wil ook nie my geestesprodukte in 'n boomlose vat gooi nie.... Kan jy die mannetjie nie 'n bietjie opdreun nie? Jy weet miskien hoe om met hom te werk te gaan: hy is my talente verby.’ In 'n brief van 16 Maart 1959 aan Opperman kla ook Rob Antonissen dat Standpunte byna vyf nommers agter is. Hy het agt keer aan W.E.G. Louw geskryf, ook oor dringende sake, ‘en nooit één enkele letter antwoord gekry nie’. Hy vermoed die swye het te make met sy bespreking van Louw se Ou wyn van vreugde en Vaandels en voetangels wat in hierdie stadium nog nie verskyn het nie en waarin hy ernstige stilistiese besware opper. Antonissen se vermoede was korrek. Uit 'n brief van Maart 1959 van Opperman aan Antonissen blyk dit dat Louw baie seergemaak gevoel het oor die kritiek. Hy het aanvanklik geweier om Antonissen se stuk te plaas en Fred le Roux in sy vertroue geneem. Le Roux het dadelik telefonies met Opperman in aanraking gekom en vir hom die artikel ter insae gebring. Hulle was dit eens ‘dat die stuk streng is maar dat dit sonder die minste twyfel moet verskyn’. Hy deel Antonissen verder mee dat as Louw in sy weiering volhard om die stuk te publiseer, Le Roux op 'n redaksievergadering sal aandring sodat Opperman regstreeks inspraak kan hê. 'n Maand later het Louw egter uit eie beweging die stuk aan Opperman gewys, met die begin van 'n antwoord daarop. Opperman het Louw ten sterk- | |
[pagina 293]
| |
ste afgeraai om op die stuk te reageer en selfs - in 'n oomblik van kru taalgebruik wat vir hom ongewoon was - sover gegaan as om te sê dat kak tot maatstaf in die repliek verhef word, 'n toespeling op die aanhaling uit Van Wyk Louw se ‘Opskrif vir gaste in 'n klooster’ wat as motto aan die begin van die repliek verskyn. W.E.G. Louw wou egter nie luister nie. In Standpunte, XII:5, Junie 1959 verskyn Antonissen se kroniek tesame met ‘Splinter en balk?’, die skerp bewoorde repliek van W.E.G. Louw wat in die daaropvolgende twee nommers reaksies en teenreaksies van die twee polemiseerders uitlok. Die polemiek het duidelik uitgewys dat Louw onversigtig met feite omgaan. Hy moes Antonissen telkens skoorvoetend gelyk gee dat sy weergawe en berekeninge nie korrek was nie, al het hy hom nie van 'n venynige toon en stelwyse weerhou nie. Afgesien van die skade wat dié onaangenaamheid Standpunte aangedoen het, lei dit tot 'n breuk in die verhouding tussen Louw en Antonissen. Dit sou vyf jaar duur voordat die vriendskap herstel is. | |
VReeds voor sy vertrek na Europa het die Nasionale Boekhandel Opperman versoek om die reeks bloemlesings wat hy vir hulle saamgestel het, in te lei met 'n Kleuterverseboek en 'n Klein verseboek. Dit het beteken dat hy die hele gebied van die Afrikaanse kinderpoësie moes deurgaan en 'n keuse daaruit maak. In die tweede helfte van 1957 moes hy hard hieraan werk en moet binne 'n kort tyd die werk voltooi het, want nog voor die einde van die jaar verskyn Kleuterverseboek, opgedra aan ‘Diederi en haar maatjies’. In sy ‘Verantwoording’ voorin sê hy dat die gedigte ‘volgens die kleintjie se natuurlike groei’ georden is: verse waarin ‘die ouer spelenderwys die baba help om homself te ontdek’, daarna 'n aantal slaapliedjies, ‘dan verse waarin die kleuter van sy omgewing en besittings bewus word’. Die boek is dus ‘in die eerste plek 'n skootboek: die ouer sit met die baba op die een knie en die boek op die ander en hulle kyk saam na die prentjies onderwyl die ouer lees, sing, speel en die teks opvoer...totdat die kleuter self later koers vat’. Daarom is die gedigte gerangskik van die eenvoudige na die moeilike. Opperman wys daarop dat samestellers van jeugbloemlesings dikwels nie die nodige erkenning gee aan digters uit wie se werk hulle opneem nie. Daarom sluit hy Kleuterverseboek af met 'n bronnelys en vermeld hy twee belangrike bronne uitdruklik in sy ‘Verantwoording’, naamlik S.J. du Toit se Suid-Afrikaanse volkspoësie en W. Versfeld se Springbok rympies. Op Kleuterverseboek volg Klein verseboek wat in 1959 gepubliseer word, hierdie keer opgedra aan ‘Trienke, Heilarie en hulle maats’. Dié bloemlesing begin met eenvoudige kinderverse, maar word gou meer gevorderd in ooreen- | |
[pagina 294]
| |
stemming met die ontwikkeling van die kind. Daarom word ook geskikte verse van erkende digters ingesluit, sodat - soos Opperman dit in die ‘Verantwoording’ stel - die kind ‘op natuurlike en gepaste wyse ingelei word tot die wêreld van die digters wat hy later as volwassene sal leer ken’. Albei hierdie bloemlesings is by hulle eerste verskyning geesdriftig ontvang. In Die Burger van 7 Desember 1957 noem W.E.G. Louw Kleuterverseboek ‘een van die heerlikste boeke wat dit in jare my plesier was om onder oë te kry’, terwyl hy na aanleiding van Klein verseboek in Die Burger van 12 Februarie 1960 verstom staan ‘oor die groot verskeidenheid van die bronne wat Opperman vir dié bloemlesing aangeboor het’. Met die verskyning van dié twee boeke, gaan hy voort, ‘het Opperman nou wel die Afrikaanse poësie, by wyse van spreke, van die wieg tot aan die graf gedek: Kleuterverseboek, Klein Verseboek, Junior, Senior en Groot Verseboek. Of sou hy nog 'n Ou Verseboek vir die hoogbejaardes in die skild voer?’ Afgesien van die twee geleentheidstukke vir die ‘Wonder van Afrikaans’-fees en die inleiding tot die keuse uit die Afrikaanse verhaalkuns vir Wêreldletterkunde verskyn daar min kritiese werk van Opperman in hierdie jare. In 1958 publiseer Van Wyk Louw in Die Burger 'n reeks artikels oor ‘Geestigheid in die poësie’ waarin hy onder meer sê dat A.G. Visser onregverdig deur die kritiek behandel is. In dié verband verwys hy na die ‘verwaarlosing’ van Visser in Groot verseboek. Van Wyk Louw se artikels en veral die kritiek op die keuse in Groot verseboek ontlok by Opperman reaksie in Die Burger waarin hy sy opname van verse verdedig, die behandeling van Visser deur Afrikaanse kritici ontleed en tot die slotsom kom dat Van Wyk Louw in sy ‘daad van eenvoudige regverdigheid’ nou onbillik is teenoor die ouer kritiek en die indruk wek dat ‘hy as bekeerling bekeerdes probeer bekeer’. Opperman se reaksie, wat hy later in Naaldekoker opneem, is punt vir punt oortuigend beredeneer, maar die plek-plek skerp formulering is 'n aanduiding dat die spanning wat sedert Digters van Dertig tussen die twee digters ontstaan het, selfs ná die weersiens in Nederland, nie oorgewaai het nie.Ga naar eind10 'n Ander stuk wat Opperman in dié jare skryf, onderneem hy op versoek van Fred Engelen. In die 1959-speeljaar voer Engelen Colijn van Rijssele se Spiegel der minnen in 'n verwerkte vorm vir die Koninklijke Nederlandse Schouwburg in Antwerpen en vir die Nationaal Toneel van België op. Vir die program skryf Eug. de Bock uit Vlaandere, Anton van Duinkerken uit Nederland en Opperman uit Suid-Afrika aantekeninge oor die stuk. In sy kort inleiding vat Opperman die waarde van die drama kernagtig saam en noem hy die optrede van die sinnekens een van die boeiendste elemente deurdat hulle die korrektief en ewewig verskaf en die keersy is van die sentimentele en die ernstige. Hierdie aantekeninge is 'n voorstudie tot Opperman se artikel oor Spiegel der minnen wat hy - met 'n verwysing na 'n uitspraak van J.J. Mak - onder die titel ‘Die allerbeste Nederlandse literêre werk?’ in | |
[pagina 295]
| |
Standpunte, XIII:2, Oktober 1959 publiseer en in 1974 in Naaldekoker opneem.Ga naar eind11 Teen die begin van 1959 het Opperman gevoel dat hy nou meer as genoeg artikels vir 'n bundel kritiese opstelle gereed het. Daarom besluit hy om sy belangrikste stukke uit Die Huisgenoot en Standpunte in Wiggelstok te bundel, 'n titel wat aan die kwatryn ‘Droogte’ in Engel uit die klip laat terugdink. Wiggelstok verskyn in November 1959. Die veertiental artikels in die bundel is chronologies volgens tema of onderwerp gerangskik. Dit begin met twee artikels oor die vroeë Afrikaanse letterkundige kritiek wat op Opperman se navorsing vir sy M.A. steun. Daarna volg artikels oor Totius, C.M. van den Heever, Van Wyk Louw, Campbell en Watermeyer. Na die ‘Met apologie’-reeks plaas hy sy teoretiese stukke oor die kwatryn en die versdrama. Dit word gevolg deur die stukke oor Nederlandse digters (Hessels, Roland Holst, Greshoff en Achterberg) en die bundel word afgesluit met ‘Kuns is boos!’ wat as ‘ars poetica’ tereg die sluitstuk vorm. In 'n brief van 5 Desember 1959 bedank Izak van der Merwe Opperman vir die bundel en sê hy: ‘Voel mos vir my of dit die belangrikste bundel kritiese opstelle is wat nog in Afrikaans verskyn het.’ Alhoewel die meeste resensies oor Wiggelstok oorwegend gunstig was, het 'n mens die gevoel dat die analitiese ingesteldheid van die meeste resensente hulle verhinder het om die sintetiese beskouinge van Opperman werklik na waarde te skat. A.P. Grové noem die publikasie in sy bespreking in Die Huisgenoot van 5 Februarie 1960 ‘'n gebeurtenis van groot betekenis’, maar wys daarop dat 'n mens by Opperman ‘nie die versigtige struktuuranalises (moet) soek wat die beste Afrikaanse kritiek van die jare vyftig kenmerk nie’. Hy gaan selfs sover om te sê dat kritiek vir Opperman ‘nie 'n kwessie van redenering (is) nie’, maar ‘'n intuïtiewe, byna op magiese vermoëns berustende werksaamheid’. Die gevolg hiervan is dat Opperman se waardebepalings ‘nie altyd die logiese uitkoms van karakterisering (is) nie’. Wat hy veral waardeer, is dat ‘hierdie stukke langs verskillende weë en soms omweë toegang bied tot Opperman se digterskap’. 'n Vermaaklike reaksie op Wiggelstok, wat terselfdertyd vir Opperman irriterend moes gewees het, is die resensie van Peter Blum. Op 24 Februarie 1960 skryf Blum aan Opperman dat W.E.G. Louw hom gevra het om die bundel vir Die Burger te bespreek. Hy stuur die resensie vir Opperman en maak die opmerking dat dit in sekere opsigte meer krities is as wat jy in ‘die Suide’ kry: ek weet nie of jy daarvan sal hou nie. As dit jou affronteer soos dit is, kan jy | |
[pagina 296]
| |
Blum se hele optrede was sekerlik nie sonder 'n aansienlike mate van moedswilligheid nie, want hy moet geweet het dat Opperman nie die tipe persoon was wat met kritiek op sy werk sou inmeng nie. In 'n brief van 2 Maart 1960 skryf hy dan ook aan Blum: As redakteur van Stdpte het ek wel 'n kritiese bydrae van jou afgekeur omdat ek gereken het dat dit te skerp was, en ek het al persone oorgehaal om 'n uitspraak oor 'n ander minder skerp te herformuleer. Maar ek het nog nooit, en sal ook nooit, vrye uitspraak oor my eie werk beïnvloed of teengaan nie. (Of moes ek maar net geantwoord het: Ek trap nie in daardie slagyster nie!) Daarom het ek jou stuk onmiddellik op ontvangs aan Gladstone gepos. Blum se resensie verskyn in Die Burger van 11 Maart 1960 en is 'n besonder eensydige en negatiewe stuk. Hy begin deur daarop te wys dat die opstelle nie 'n wye veld dek nie, toeligtings net uit Duits en Engels gehaal word, vreemde letterkundes en die wetenskap buite Opperman se belangstelling lê en 'n vooroordeel teen prosa-epiek bely word. Die feit dat baie opstelle geleentheidstukke is, bring mee dat daar ‘deurgaans liewers met die heuningkwas gewerk word as met die doringtak’. Die waarde van die bundel lê vir hom in die belangrike insigte in die agtergrond van Opperman se eie verse, sy werkmetode en sy digterlike strewe. Hoewel Opperman hom altyd voor publikasie deeglik afgevra het of hy in sy werk glo en nooit iets uit sy hande sou laat gaan as hy nie absoluut oortuig was van die gehalte daarvan nie, moet die gedagte dat sy kritiek meer openbarend was in verband met sy eie poësie as dié van die werk onder bespreking, tog by hom ingang gevind het. In die sestigerjare het hy by meer as een geleentheid hom in gesprekke uitgelaat oor die betreklike waarde van die kritiek en van sy teorieë en insigte aan studente oorgelaat om in verhandelinge uit te werk eerder as om self artikels daaroor te skryf. Teen die einde van die vyftigerjare was hy in elk geval reeds só gevestig as digter dat hy die kritiek glimlaggend en gulhartig aan andere kon afstaan. Selfs in sy ‘telyforgaan’ Helikon verskyn daar onverwags in die uitgawe van September 1959 'n reeks briewe van lesers wat sý digterskap bo dié van Van Wyk Louw stel, 'n aangename afwisseling op die jarelange kleinlike aanvalle op sy werk en persoonlikheid! Ook in kritiese opstelle en dissertasies word sy gedigte, méér as dié van Van Wyk Louw of enige ander Afrikaanse skrywer, in die vyftigerjare aan streng ondersoek onderwerp en dra dit by tot 'n vernuwing in die Afrikaanse literêre kritiek. In die 1960-uitgawe van P.J. Nienaber se Perspektief en profiel stel A.P. Grové die werk | |
[pagina 297]
| |
van Opperman by implikasie bo dié van Van Wyk Louw, die eerste Afrikaanse kritikus wat dit onomwonde só op skrif formuleer. Op die gebied van die poësie en die versdrama, skryf Grové, word Opperman vandag sonder twyfel aanvaar...as die belangrikste digter van Veertig, indien nie van die hele Afrikaanse literatuur nie. As digter kon hy voortbou op die beste van Dertig, maar meer nog: in die veertigerjare verteenwoordig hy die groeipunt in die Afrikaanse poësie. Hy is nl. die eerste digter wat finaal breek met die ‘mooi’ woord om sodoende in prinsipe die hele taal vir die poësie bruikbaar te maak. Trouens, in sy werk vind Afrikaans sy hoogste verwesenliking.Ga naar eind12 | |
VITydens die Julie-vakansie van 1958 was die Opperman-gesin in Natal waar hulle die familie en jeugplekke, onder meer Vryheid, besoek het. Op pad terug is hulle deur Knysna en George en het die lang motorrit Opperman geweldig uitgeput. Hy het begin opsien daarteen om elke vakansie sulke reise te onderneem en begin uitkyk na 'n huis by die see waar hulle kon uitspan en ook vir naweke na kon wegvlug. Terug in Kaapstad het hy Marié gevra om vir hulle 'n plek te kry waar hulle na die uitputtende reis by die see kon gaan sit en ontspan voordat die Universiteit heropen. Terselfdertyd kon hulle ook dink aan 'n plek waarheen hulle gereeld tydens vakansies kon gaan. Op aanbeveling van Jan Scannell, Opperman se vriend uit sy studentedae en intussen verbonde as uitgewer aan die Nasionale Boekhandel, besluit hulle om Paul de Villiers, advokaat in die Paarl, se huis op Franskraal te huur. Vir Scannell was Franskraal 'n ideale vakansieplek by die see, sowel wat swem en seelewe as visvang betref. By Uilkraalsmond was 'n stil en veilige swemplek, terwyl rots, sand en duin by Franskraal self vir 'n voortdurende afwisseling vir die oog gesorg het. Daarby was daar naas natuurlike grasbedding ook baie struike, bosse, melkhoutbome, bamboes en 'n pragtige uitsig op die hele baai. Die paar dae op Franskraal was so verfrissend dat die Oppermans dadelik besluit het om 'n standplaas te koop. In die verlede het hulle onder meer Mosselbaai as vakansieplek oorweeg, maar dit was te ver van Kaapstad vir 'n naweek se wegglip. Daarby het hulle gevind dat die klimaat, water en visvangs op Franskraal meer na hulle smaak was. By so 'n ruwe en afgeleë strandplek kon hulle volkome ontspan en selfs hulle ou klere na hartelus opdra. Ook Waenhuiskrans - waar Canis en Ena Scholtz dikwels gaan vakansie hou het - is oorweeg, maar vir Opperman was dit te ver en as strandoord te eenselwig. Daarby was Waenhuiskrans vir hom - soos hy dit later grappenderwys sou stel - deur Con de Villiers en Audrey Blignault ‘literêr te veel opgemors’! Die besluit het dus op Franskraal geval, ook omdat Opperman deur kostebe- | |
[pagina 298]
| |
rekenings vasgestel het dat 'n strandhuis baie goedkoper as die jaarlikse vakansies per motor sou uitwerk. Met die oog op die einde van die jaar wou hy so gou moontlik op 'n standplaas besluit en met die bouery begin. Nog voor sy vertrek terug na Kaapstad was hy in verbinding met Louis Fourie, onderwyser maar ook sommer tandedokter en eiendomsagent op Gansbaai. By Fourie neem hy 'n opsie op 'n erf. Op 20 Julie 1958 ontmoet hy vir Hannes van der Merwe op Gansbaai. In twee motors ry hulle na Franskraal, maar Hannes kies die verkeerde pad oor Kleinbaai en Opperman val vas in die sand! Met 'n groot gesukkel kry hulle die motor weer uit en laai hulle die vrouens en kinders by Uilkraalsmond af. Daarna ontmoet hy en Hannes vir Louis Fourie wat op grond van sy beroep as Louis Lat bekend gestaan het, 'n man wat na aan die grond en die see was en met sy groen hemp, effens opgerolde broek, kaal voete, bietjie regop hare en klein gloeiende ogies volkome tuis was in die wêreld van Franskraal. Opperman koop die erf waarop hy 'n opsie geneem het, vir die bedrag van £285 van Louis Lat. Die standplaas was met varklelies oortrek en teenoor die strand by Mooimeisiesbaai, soos hy en Hannes dit gedoop het, geleë. Van daar het hulle 'n onverstoorde uitsig oor die see gehad. Vir die bouwerk het Opperman deur bemiddeling van sy vriend Jack Theron geld by Saambou geleen en planne vir 'n houthuisie deur Hannes van der Merwe laat opstel. Die planne is voorgelê aan die Beheerders van Franskraalstrand en deur die Afdelingsraad goedgekeur. Elgin Timbers sou die bouery onderneem en het 'n kwotasie van £1163 vir al die werk ingedien. Hulle het 'n Welcome Dover No. 7-stoof vir die kombuis uitgesoek, want op Franskraal sou hulle geen elektriese krag of telefoon hê nie. Aan die begin van November 1958 was die uitgrawings flink aan die gang. Terwyl Opperman by die Universiteit eksamendiens doen en skrifte nasien, dink en leef hy voortdurend op Franskraal. Op 20 November word die fondamente gelê en vorder die huis vinnig. Die volgende dag word die dak opgesit en op 28 November trek die Oppermans met hulle meubels na Franskraal en bly hulle vir die naweek, die eerste keer dat hulle in die strandhuis kon oornag en die vreugde van 'n eie plekkie by die see kon ervaar. Nog voordat hul huis op Franskraal gebou was, het Opperman begin belangstel in visvang. Soos sy gebruik in ander sake was, het hy 'n deeglike studie van alle aspekte daarvan gemaak. By Johan Spies en ander vriende het hy navraag gedoen oor die verskillende soorte visgerei en watter tipe katrol vir sy doel die geskikste is. Eers na die opweeg van alle inligting het hy op 'n stok en hoeke besluit. Kort voor lank, so vertel Schalk Pienaar by geleentheid, het hy sy eie visvangplek by Mooimeisiesbaai voor sy houthuisie en by die Blou Sloep gehad en die stok ingegooi ‘asof sy oupa hom geleer het hoe’.Ga naar eind13 Aan die begin van 1959 trek hy vyf klipvisse en 'n galjoen uit, terwyl hy in die Julie-vakansie van dieselfde jaar nie minder nie as een en twintig visse vang, onder meer dassies, galjoene, Hotnotjies, harders en ook 'n biskop van ses pond. Op die rotse het | |
[pagina 299]
| |
die kinders krewels en alikruk uitgehaal. As die water begin sak, was Opperman lief daarvoor om na sentimentele liedjies te luister wat Heila met kitaarbegeleiding kon sing en het hy 'n eie sê-ding gehad: Alikruk alikrak
die water die sak.
Die ouvrou kom
met 'n hoepel en 'n sak.
Teen sononder het hy graag met 'n dop Oude Meester of 'n glasie rooiwyn in die voorhuis gesit en oor die baai uitgekyk. Soms het Marié-hulle saamgesit en Zoeloeliedjies vir die kinders geleer. 'n Zoeloeliedjie waarvoor Opperman baie lief was en wat hy van kleintyd geken het, lui in die Afrikaanse vertaling: ‘My pa is dood en my ma is dood en nou klop my hart dô dô dô dô.’ Op Franskraal kon Opperman volkome ontspan en het hy ‘inspuitings’ gekry vir die eise wat sy skeppende werk en pligte as dosent aan hom gestel het. Die vakansies was vir die hele gesin heerlik en sorgvry. In dié tyd het die kinders hulle vader ook beter leer ken en saam met hom gaan stap, vis gevang en seekos uitgehaal. Dit was sy gebruik om elke jaar aan die begin van die Desember-vakansie die huis met behulp van sy ‘vroumense’ deeglik skoon te maak, te verf en die hout opnuut te vernis. Aan die begin moes hy ook die werf deeglik skoonmaak, stompe uitkap en met die hulp van die dogters houtmeubels vir die huis maak, iets wat sy praktiese aanleg mooi illustreer. Terselfdertyd was die werk terapeuties. Hy was ook daarop gesteld dat die ongereptheid van Franskraal ongeskonde moes bly en hy het jaloers gehelp om die natuurlikheid van die omgewing te bewaar. As werkspanne opdaag om die bamboes vir bemesting op te tel en dan nog die strand bevuil, skryf hy in 1959 verskeie briewe aan die Caledonse Afdelingsraad en aan die Direksie van Franskraalstrand (Edms.) Bpk. om daaroor te kla. Deur die verwydering van die bamboes gaan die seeluisies weg wat die visse vreet en word die voëllewe ook aangetas, aangesien hulle weer van die visse vreet en die hele ekologie sodoende versteur word. Op Franskraal en Gansbaai het Opperman daarvan gehou om met die gewoonste vissers en werkers te gesels. Iemand wat gereeld 'n draai kom maak het, was Louis Lat. As hy reeds 'n dop of twee agter die blad gehad het, kon Louis Lat met sy brystem heerlik aan die sing raak: As oom Loewie so goed wil wees
so skenk vir ons 'n bietjie wyn.
Soveel daghe, soveel jaghe
sal ons denk aan 'n klein bietjie wyn.
In teenstelling tot sy gewoonte in Kaapstad waar hy selde 'n kroeg sou besoek, | |
[pagina 300]
| |
het hy soms op Gansbaai in die hotel gaan sit en met baie van die vissers bekend geraak. Hulle was aanvanklik onder die indruk dat hy 'n mediese dokter is. Hy het die skyn bewaar en boererate vir allerlei skete gegee. Op dié wyse het hy storietjies uit hulle gemelk en heelwat kennis oor die vis- en seelewe by hulle gekry. Alhoewel Franskraal vir Opperman 'n plek van afsondering en wegvlug van die stadslewe was, het hy daarvan gehou om besoekers te ontvang en met die ander vakansiegangers te gesels. Die vakansiehuis op Franskraal het hom in die geleentheid gestel om met mense van uiteenlopende beroepe en belangstellings kennis te maak en vriendskappe op te bou. Onder sy nuwe vriende was Roelou en Mollie Geldenhuys, boere van Caledon en van die vroegste ‘seebadmense’ op Franskraal. Verder was daar Eddie Mesk, 'n skoolsielkundige, die broers Frikkie en Kosie van Zyl, laasgenoemde later burgemeester van Kaapstad, Hein Basson, senator en vroeër organiserende sekretaris van die Nasionale Party in Kaapland, en Japie de Villiers, L.V. vir Caledon. Toe die Oppermans die houthuisie laat oprig het, was Hannes van der Merwe se huis nog nie klaar nie en het hy naweke in 'n grot kom oorbly! Daar het hulle vleis gebraai en is die eerste vergadering van die Franskraalse huiseienaarsvereniging gehou. Nog iemand wat deur die Oppermans op Franskraal gekom het, was Schalk Pienaar, in daardie stadium verbonde aan Die Burger en bekend as een van die bekwaamste politieke kommentators van die Afrikaanse joernalistiek. Schalk en Antoinette Pienaar het na 'n geskikte strand vir 'n vakansiehuis gesoek en op aanbeveling van Marié Opperman huur hulle Paul de Villiers se huis vir 'n hele vakansie. Franskraal het hulle só geval dat hulle, nes die Oppermans, besluit het om 'n erf te koop en 'n houthuisie te laat oprig. Hoewel hulle mekaar reeds vroeër skraps geken het, was daar nou die geleentheid vir Opperman en Pienaar om 'n hegte vriendskap te ontwikkel. Op Franskraal kon Opperman wegvlug van klasgee en die ‘literêre gedoente’, terwyl Pienaar daar kon wegkom van die koerant. Met die gebruik van 'n hele paar glase brandewyn het die tonge losgekom en het hulle, dikwels saam met Hein Basson en Japie de Villiers, prikkelende gesprekke gevoer oor die politiek of soms net lekker skinderstories sit en vertel. Opperman was lief daarvoor, so kon Hein Basson later onthou, om iemand se tong te skraap. Hy het begin deur in die bondel te gesels, dan 'n klip in die bos te gooi en daarna te geniet as die ander verder baklei. Soms kon die klomp Franskralers vuurwarm rusie maak en kwaad van mekaar wegstap, net om die volgende oggend vroeg weer bymekaar te kom en versoeningsdoppe te drink! Van een so 'n geleentheid vertel Schalk Pienaar in 'n artikel wat hy vir Opperman se sestigste verjaardag in die bundel Woord en wederwoord skryf: Onder my melkbome op Franskraal om 'n braaivleisvuur wat gestook word lank nadat alle vleis al verdwyn het, het die argument opgevlam. | |
[pagina 301]
| |
onthou nie. Maar dit was tussen Dirk Opperman en sy argitek-vriend Hannes van der Merwe. Nog voor hulle huis op Franskraal voltooi was, het die Oppermans besluit om 'n soort logboekGa naar eind15 van die lewe daar te hou. Aanvanklik het Opperman self aantekeninge gemaak oor hulle keuse van 'n strand en besonderhede verskaf oor die koop- en bouplanne, die eerste besoekers en lyste opgestel van die visse wat gevang is en deur wie. Daarna het die kinders hulle indrukke en ervarings begin opteken en het Trienke van haar rympies oor die see neergeskryf, terwyl besoekers ook die geleentheid gegee is om iets daarin neer te pen. Onder die eerste besoekers wat nie self huise op Franskraal gehad het nie, was Jack en Retha Theron, Dik-David de Villiers en sy gesin, Koos Human, Meyer en Suna de Villiers en Duke en Hettie Erlank. Wanneer van dié vriende op besoek kom, het Marié heerlike seegeregte voorberei en het die wyn onder die gesellige pratery gevloei. By geleentheid teken Erlank aan dat Marié 'n gasvrou is ‘soos die Voorsienigheid, onsigbaar en alomteenwoordig’. Die eerste aantekening in die logboek van 'n ‘buitestaander’ is dié van Fred le Roux wat in die styl van die ou skeepsjoernale en dagregisters uit die Hollandse periode aan die Kaap oor sy besoek aan Franskraal tydens die jaarwisseling van 1958-1959 rapport doen: Op die laaste dag van Desember Ao 1958, na lang trek deur barre streke vol benouenisse, aangekom te Franskraal aan die mond van die Uilenkraalrivier by die strandstaning van Diederik Johannes Opperman. Woon met die myne in die boesem van sy gesin vir vier nagte en twee en anderhalfdag. Gespysig met vrugte | |
[pagina 302]
| |
van die see, die vettigheid van die land, verkwik in die gees, gesterk deur die sterkte van die vriendskap, vertrek ons bemoedig die onbekende in hede vandag 4e Januarie Ao 1959. (Uit die Dagverhaal van F.J. le Roux.) | |
VIIReeds in die vyftigerjare het Opperman heelparty mense van Stellenbosch, soos die Ruperts, die De Villiers's, die Erlanks en Ernst van Heerden, goed geken en oor en weer besoek. Só intiem was hy byvoorbeeld met Meyer en Suna de Villiers bevriend dat hy tydens sy besoeke aan hulle in die middag 'n tydjie gaan slaap het om hom dan later weer by die geselskap aan te sluit. Alhoewel hy vroeër manuskripte van Stellenbosse studente soos Ina Rousseau en Peter Blum moes beoordeel en ook bevriend was met Hennie Truter wat aan sy doktorale studie onder F.E.J. Malherbe gewerk het, was hy nie verder in direkte aanraking met studente van dié universiteit nie. Op 14 September 1957 was hy en Marié die eregaste by die jaarlikse dinee van die redaksie van Prisma, indertyd die prestigeblad vir kuns en literatuur van die Stellenbosse studente. By dié geleentheid het die program en spyskaart allerlei toespelings op Opperman se werk bevat en is jong skrywers soos Abraham de Vries en Wilhelm Knobel, wie se eerste werk reeds in daardie stadium begin verskyn het, aan hom voorgestel. Veel verder as 'n eerste kennismaking het dit egter nie gekom nie. Aan die einde van 1959 sou F.E.J. Malherbe as professor in die Afrikaanse Letterkunde aftree en die betrekking dus vakant wees. In die vyftigerjare het Ernst van Heerden, in daardie stadium lektor in Afrikaans aan die Fakulteit van Opvoedkunde, by herhaling vir Malherbe en Erlank waargeneem wanneer hulle met groot verlof in Nederland of België was, en op Stellenbosch het almal derhalwe verwag dat hy vir Malherbe sou opvolg. Erlank het by meer as een geleentheid te kenne gegee dat hy Van Heerden se kandidatuur sou steun as die pos vakant kom. In 1959 was Van Heerden op 'n uitgebreide reis in die Verenigde State om 'n studie van die moderne Amerikaanse letterkunde te maak. Die gedagte was dan dat hy sou terugkeer om die professoraat te aanvaar. Reeds lank voor Malherbe se aftrede het Meyer de Villiers egter met Opperman gepraat oor die vakature wat aan die kom is en gevra of hy in die betrekking sou belangstel.Ga naar eind16 Opperman het in daardie stadium ontuis gevoel by die Universiteit van Kaapstad en was teleurgesteld met sy oorwegend Engelstalige studentemateriaal en die onbegrip vir die Afrikaanse wêreld. Op Stellenbosch sou hy die geleentheid hê om binne 'n Afrikaanse gemeenskap te werk met 'n studentekorps wat 'n veel groter potensiaal vir skeppende en kritiese talent ingehou het. Hy het dus onmiddellik aan Meyer de Villiers te kenne gegee dat hy baie in die betrekking belangstel. | |
[pagina 303]
| |
Vroeg in 1959 het die vier professore van die Stellenbosse Departement Afrikaans-Nederlands - Malherbe, Erlank, Kempen en De Villiers - byeengekom om oor die komende vakature te gesels. Aanvanklik is gemeen dat hulle slegs 'n senior lektor sou benoem en dat Van Heerden dan gevra sou word om die pos te vul. Toe Meyer de Villiers egter die moontlikheid van Opperman noem, was die ander drie professore - óók Erlank - onmiddellik ingenome met die gedagte. Op 'n gesamentlike vergadering van die vier professore en die aanstellingskomitee is die naam van Opperman voorgelê. Die vergadering het besluit om die pos nie te adverteer nie, maar vir Opperman aan te bied. Nog voordat die Senaat die aanstelling kon bekragtig, het Kempen in sy hoedanigheid as voorsitter van die Departement, en in daardie stadium ook Dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, die ongewone en gewaagde stap gedoen om Opperman te bel en hom die betrekking as opvolger van F.E.J. Malherbe met ingang 1960 aan te bied. Opperman het dit onmiddellik en met groot geesdrif aanvaar. Toe die Senaat daarna byeenkom, het Kempen die vergadering meegedeel dat die Departement en die aanstellingskomitee gesamentlik vir Opperman die pos aangebied het en dat dit rééds deur hom aanvaar is. Die Senaat was dus gekonfronteer met 'n voldonge feit en 'n besluit wat reeds vir hom, as die hoogste akademiese liggaam van die Universiteit, deur een van sy komitees geneem is!Ga naar eind17 Die prosedure wat met die aanstelling gevolg is, was dus hoogs ongewoon, en 'n mens kon redelikerwys verwag dat dit reperkussies sou hê. Senaatslede soos P.F.D. Weiss, professor in Semitiese Tale, was ongelukkig oor die benoeming en oor die feit dat Van Heerden verbygegaan is. Op die vergadering het Finus M.P. Oosterhof, professor in Frans, gesê dat hy heelhartig met die keuse van Opperman akkoord gaan, maar dat die aangeleentheid verkeerd gehanteer is. Die koeël was egter deur die kerk. In 'n brief van 1 Julie 1959 bied die registrateur van die Universiteit van Stellenbosch Opperman die professoraat in Afrikaanse Letterkunde aan. Die aanstelling sou geld vanaf 1 Januarie 1960 teen 'n aanvangsalaris van £2070 per jaar wat sou oploop tot £2400 per jaar. Op 23 Julie 1959 maak Die Burger bekend dat Opperman op Stellenbosch aangestel is en die pos aan die begin van 1960 sal aanvaar. Kort ná die amptelike bekendmaking het die Oppermans begin soek na 'n huis op Stellenbosch. Een van die beskikbare huise was dié van mev. Pienaar, weduwee van wyle prof. E.C. Pienaar. Die huis het Opperman egter nie geval nie weens die wankelrige vloer van die studeerkamer. Daarby het hy getwyfel of hy ooit geestelik tuis sou voel in 'n huis wat deur E.C. Pienaar, met sy minagting vir die digkuns van Dertig en later, bewoon is! Intussen het Meyer en Suna de Villiers te hore gekom dat prof. J.J. Strassheim se woning in Mostertsdrift te koop is. Hulle het dadelik gevoel dat dit die ideale huis vir hulle vriende is. Nog vóór die Oppermans dit self kon besigtig, het Meyer de Villiers die huis gaan wys vir Hannes van der Merwe wat toevallig vir 'n gesel- | |
[pagina 304]
| |
ligheid op Stellenbosch was. Toe hy in Tamboerskloof tuiskom, het Van der Merwe dadelik oorgestap na Opperman en gesê: ‘Dirk, jy het jou huis op Stellenbosch. Prof. Strassheim se woning is die ideale plek vir jou.’ Die Oppermans het gaan kyk en Opperman was onmiddellik ingenome met die studeerkamer en dus ook die huis en sy ligging in Thibaultstraat 3, naby die De Villiers's en vlakby die Ruperts wat in dieselfde straat gewoon het. Opperman het die huis vir £6418 kontant gekoop en die koopakte op 13 Augustus 1959 op Stellenbosh geteken. Op sy versoek het Hannes van der Merwe weer die naam van die huis uitgeteken, sodat hy dit op 'n koperplaat kon laat graveer. Hierdie keer het Opperman die huis Kiepersol genoem, 'n boomsoort wat hy van sy jeugjare af geken het en 'n woord wat hy reeds in die eerste gedig in Heilige beeste gebruik en wat daarna telkens weer in sy poësie sy verskyning maak. Aangesien Opperman volgens sy kontrak ses maande kennis moes gee van diensopsegging, het hy in Julie 1959 sy bedanking as senior lektor by die Universiteit van Kaapstad ingedien. Vir Scholtz was dit 'n gevoelige slag, want hy het, ten spyte van verskille, veel aan Opperman as kollega gehad en het geweet dat aan die letterkundige kant van die Departement 'n hiaat kom wat hy nie maklik sou kon vul nie. Aangesien die senior lektoraat 'n persoonlike bevordering van Opperman was, sou dit met sy bedanking verval en sou die pos volgens die ‘fixed establishment’ van die Departement as 'n lektoraat geadverteer word. Hy was dus bevrees dat hy nie 'n goeie aanstelling sou kon maak nie.Ga naar eind18 Tog het Scholtz die bevordering aan Opperman gegun, al was hy skepties oor die vraag of 'n skeppende kunstenaar in die klein, knus Stellenbosse gemeenskap werk van formaat kon lewer. Scholtz (en ook Izak van der Merwe en sommige mense van die Nasionale Pers) het 'n bietjie neergesien op Stellenbosch wat - afgesien van Uys Krige (oor wie se werk hulle ook maar hulle bedenkinge gehad het) - geen werklike groot skrywer voortgebring het nie, terwyl die Universiteit van Kaapstad kon roem met prominente digters as oudstudente. Daarby het die gepubliseerde navorsingswerk van Stellenbosse doktorale kandidate yl vertoon naas dié van Kaapstad, ten spyte van die feit dat Stellenbosch potensieel 'n veel groter getal nagraadse studente gehad het. Mense van Scholtz se geslag het die Departement op Stellenbosch geassosieer met E.C. Pienaar en F.E.J. Malherbe, literatore wat volgens hulle knutselwerk verrig het en as vakkundiges van twyfelagtige status was. Die tyd vir Opperman se vertrek het nader gekom en hy het Scholtz meegedeel dat hy op 28 November 1959 op Stellenbosch sou intrek waar hy telefonies maklik bereikbaar sou wees indien daar iets met die afhandeling van sy universiteitswerk sou opduik. Blykbaar het dié datum nie by Scholtz geregistreer nie, want op 'n aand bel hy Izak van der Merwe om reëlings te tref in verband met 'n afskeidsgeselligheid vir die Oppermans. Toe hy 'n moontlike datum voorstel, sê Van der Merwe aan hom dat die Oppermans dan reeds op Stellenbosch sal wees. | |
[pagina 305]
| |
Scholtz was ontsteld oor die aangeleentheid, omdat hy nie van Opperman se planne bewus was nie. Toe hy daarop Opperman bel, deel hy hom mee dat hy niks van die vertrekdatum weet nie en dat Opperman in elk geval as dosent van die Universiteit van Kaapstad nie die reg het om voor die einde van Desember van woonplek te verander nie. In die woordewisseling wat daarop ontstaan, sê Opperman dat hy Scholtz wel deeglik oor sy bewegings ingelig het en vanuit Stellenbosch net so maklik as vanuit Tamboerskloof sy verpligtinge by die Universiteit van Kaapstad - waar alle doseer- en eksamenwerk reeds afgelope was - sou kon nakom. Toe Scholtz herhaal dat hy nooit oor die vertrekdatum ingelig is nie en die taktiese flater begaan om vir Opperman te vra of hy hom tot 'n leuenaar maak, was Opperman se antwoord: ‘Ek hét jou ingelig. As jy dit ontken, is jy 'n leuenaar.’ Daarmee was die gesprek beëindig en het Scholtz en Opperman waarskynlik ongeveer gelyktydig die telefoon neergegooi. As 'n mens die onmiddellike aanleiding tot hierdie finale breuk in die vriendskap tussen Opperman en Scholtz in isolasie bekyk, moet 'n mens tot die gevolgtrekking kom dat dit van albei kante af 'n kleinlike aangeleentheid was. In 'n artikel wat hy in 1973 oor sy verhouding met Opperman skryf, sê Scholtz dan ook dat daar aan die einde van 1959 aan hulle ‘saamdink en saampraat oor alles wat vir...(hulle) van belang was, 'n simpel einde gekom het’.Ga naar eind19 Opperman se optrede en sy heftige reaksie was egter die laaste druppel in 'n reeks klein irritasies wat hy moes verduur en waaraan Scholtz se uitgesproke bewondering vir Van Wyk Louw tydens die oggendtee geen geringe aandeel gehad het nie. Om oor Scholtz se ‘voorskrifte’ in verband met die woonplek van dosente helderheid te verkry, het Opperman 'n afspraak met die registrateur van die Universiteit van Kaapstad gemaak. Hy is meegedeel dat die Universiteit hoegenaamd nie bepalings het wat die residensie van personeel betref nie. ‘You can live in Timbuktu as far as we are concerned, as long as you fulfil your duties,’ was mnr. Benfield se woorde aan hom. In 'n brief van 26 November 1959 stel Opperman Scholtz dan ook in kennis van sy Stellenbosse adres vanaf 28 November en voeg hy by: ‘Die registrateur verseker my dat die Universiteit van Kaapstad hoegenaamd nie voorskryf waar enige van sy dosente moet woon nie.’ Dit was die laaste skriftelike mededeling van Opperman aan Scholtz, maar die brief word nog hoflikheidshalwe met ‘Beste Canis’ aangehef en behoorlik afgesluit. Scholtz was egter in die onbenydenswaardige posisie dat hy en Opperman die beoordelaars was vir 'n Letterkundige Prysvraag by die Universiteit van Kaapstad en dat hy noodgedwonge met Opperman in verbinding moes tree. Op 24 November en weer op 1 Desember stuur Scholtz abrupte mededelings aan Opperman met opdragte dat van die manuskripte per geregistreerde pos aan hom teruggestuur moet word. Die mededelings word egter nie voorafgegaan deur die gebruiklike hoflike aanhef nie. Die breuk wat daar hiermee in hulle verhouding gekom het, sou nooit weer | |
[pagina 306]
| |
ten volle herstel nie. Jare lank het hulle geen kontak met mekaar gehad nie en mekaar geïgnoreer op gesellighede van die Nasionale Pers waar hulle toevallig albei gaste was. By geleentheid het Edith Raidt, wat 'n oud-student van sowel Opperman as Scholtz was, 'n versoening probeer bewerkstellig en daarvoor van Kaapstad na Stellenbosch oorgery. Alhoewel Opperman haar hoflik ontvang het en bereid was om die saak te bespreek, het hy haar goed laat verstaan dat daar niks aan te doen is nie. Scholtz het wel pogings aangewend om die breuk te herstel. Met die verskyning van sy Taalhistoriese opstelle in 1963 het hy 'n eksemplaar van die boek aan Opperman gestuur met die inskripsie: ‘For old times' sake.’ Opperman was egter nie geïnteresseerd in 'n voortsetting van die verhouding nie. As antwoord het hy 'n eksemplaar van Dolosse aan Scholtz gepos en voorin geskryf: ‘Dankie vir Taalhistoriese opstelle en die ou dae.’ Toe Opperman in 1969 die Hertzogprys vir Voëlvry in Pretoria moes ontvang, was Scholtz ook aanwesig om 'n toekenning vir sy navorsing op die gebied van die kunsgeskiedenis te kry. By dié geleentheid het daar vir die eerste keer weer 'n gesprek tussen die twee plaasgevind. In 1979, met die verskyning van Die galeie van Jorik by geleentheid van Opperman se vyf en sestigste verjaardag, was Scholtz ook op die geselligheid en was daar 'n hartlike gesprek tussen hulle, al het 'n ‘amptelike’ herstel van die vriendskap nooit plaasgevind nie. Met die naderende vertrek na Stellenbosch het die opgewondenheid by Opperman toegeneem en het hy begin uitsien na die nuwe woonplek, die prikkels van Afrikaanstalige studente en nuwe kollegas. As Matthie Taljaard, professor in Geologie in Stellenbosch en iemand wat 'n groot belangstelling in die letterkunde gehad het, in Oktober 1959 in die Stellenbosse Sanatorium opgeneem word as gevolg van 'n kol op die long, stuur Opperman vir hom op sy versoek 'n eksemplaar van Joernaal van Jorik met die volgende inskripsie: Mag u weer binnekort agter die wiel
opnuut - ná die gedwonge rus - besiel
oor berge en die vlaktes soek...en tolk
wat spreek uit ertse, strata en fossiel.
Van sy nuwe kollega Erlank ontvang Opperman 'n bladsy van 'n antwoordskrif wat 'n power derdejaarstudent in die Novembereksamen van 1959 vir F.E.J. Malherbe geskryf het. Malherbe se vraag was: ‘Belig een of meer aspekte van D.J. Opperman se digkuns met verwysing na bepaalde gedigte.’ Na aanleiding van ‘Vakansiebrief’ skryf die kandidaat: ‘Hier kry ons 'n moontlike sinspeling op homself: Hy dink ook terug aan die tyd toe hy self nog nie steriel was nie en geboorte kon wek.’ Malherbe teken daarby aan: ‘Arme Opperman!’ Erlank, wat sy lewe lank 'n jeukerigheid vir rympies gehad het,Ga naar eind20 kon hom nie daarvan weerhou om die bladsy uit te skeur en onderaan 'n gewaagdheid te skryf nie: | |
[pagina 307]
| |
In memoriam Opper-man
Dirk Opperman is nou steriel,
Daartoe't die digkuns hom gebring;
Wat eenkeer was sy seksepiel
Is nou nog net sy piepieding.
Op 28 November verlaat die Oppermans Baaisiglaan 10 in Tamboerskloof en trek hulle na Thibaultstraat 3, Mostertsdrift. Dieselfde aand skink Opperman sy eerste bier in sy nuwe Stellenbosse woning Kiepersol. Kort daarna ontvang hy 'n rekening van die verhuisingsfirma vir die belaglike bedrag van £22.0.0, wat duidelik 'n vergissing was. Opperman het die rekening onmiddellik betaal en daarmee die moontlikheid van 'n latere korreksie uitgeskakel! Vir 'n gedeelte van Desember is hulle na Franskraal om te ontspan en uit te rus, maar Opperman wou vroeg in Januarie terug wees op Stellenbosch om sy lesings te beplan en met sy werksaamhede vir die jaar te begin. Hy het oorgeloop van geesdrif vir sy nuwe betrekking. |
|