D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 272]
| |
Hoofstuk 8
| |
[pagina 273]
| |
skenkings aan die volk terug te gee. Die direksie sou binnekort vergader en dan sal hy die aangeleentheid aan hulle voorlê. Op 20 Februarie laat weet hy die direksie het die beurs amptelik goedgekeur. In 'n brief van 4 Maart aan Rupert sê Opperman dat hy die reis ‘soos 'n Sinte Brandane’ gaan aanpak. ‘Geestelik gaan so 'n reis vir my baie beteken: die hele loskom, die nuwe indrukke as ek teruggaan in die doolhof van die beskawings, die musea, galerye, teaters, konserte, mense, stede.’ In antwoord hierop skryf Rupert op 21 Maart dat Opperman die reis moet beskou ‘as 'n klein huldeblyk van 'n dankbare volk vir wat...(hy) reeds daargestel het’. Op 14 Julie neem Dirk en Marié Opperman, Meyer en Suna de Villiers, Duke en Hettie Erlank, Anna Uys en Hubert Rupert deel aan 'n spellesing van Vergelegen en besluit Opperman om die drama aan Rupert op te dra. As Vergelegen op 21 September verskyn, gee hy in die Here XVII vir Rupert 'n eksemplaar met 'n gepaste kwatryn as inskripsie: In die moderne wêreld van streng sake doen
styg stralend voor ons volk 'n grootse visioen,
soos by ons voorgeslagte van die Goue Eeu,
waar jy die boer, die handel en die kuns versoen.
Intussen het Opperman reeds ernstig begin met die voorbereiding van sy reis. Die amptelike reëlings met die Universiteit om die eerste semester van 1957 weg te wees, het vlot verloop, want Opperman was na 'n dienstermyn van agt jaar ruimskoots geregtig op studieverlof. Met Canis Scholtz het hy gereël dat Roswitha Geggus, 'n buitengewoon knap student in haar Honneursjaar, sy klasse tydens sy afwesigheid sou waarneem. In April het hy die eerste boeke vir die reis - onder meer Van der Meer se Atlas of Western civilization - aangeskaf en intensief moderne dramas en werke oor die toneel begin lees. Deur bemiddeling van die Rembrandt-amptenare is reëlings getref met al die ambassades in die lande wat hulle sou besoek en 'n lys van persoonlike kontakte opgestel. Van P.P. Breytenbach van die NTO het Opperman 'n voorstellingsbrief vir die bywoning van teaters in Europa ontvang. Aangesien hy graag, veral vir die kinders, sy indrukke van die reis wou vaslê, het hy 'n rolprentkamera aangeskaf. Die aanvanklike plan vir die reis was dat Opperman sou vooruitvlieg om met 'n toer deur die Bybellande te begin, terwyl Marié dan per skip sou volg en by hom in Europa sou aansluit. Daarna het hulle besluit om saam per skip te vertrek langs die Ooskus, en deur die Suez-kanaal te vaar, Egipte, Israel, Griekeland en Italië te besoek en dan langer in die stamlande te bly. Voordat hulle egter die besprekings kon doen, is die moontlikheid van 'n vaart langs die Ooskus na Europa vernietig weens die landing van Britse valskermtroepe in Suez, die gevaar van vyandelikhede tussen Egipte en Brittanje en die sluiting van die kanaal. Ten spyte van die gespanne internasionale toestand het hulle | |
[pagina 274]
| |
besluit om op 7 Desember met die Arundel Castle vanuit Kaapstad na Southampton te vertrek, 'n tyd in Nederland deur te bring, verskeie reise op die vasteland te onderneem en hulle verblyf met 'n toer deur Brittanje af te sluit. Die reise sou agter die teaterprogramme in Europa aan beweeg. Tot op die laaste oomblik kon hulle vertrek egter deur die mat val as die politieke spanninge vererger. In 'n onderhoud met Die Burger, wat op 22 November gepubliseer is, sê Opperman dat hulle elke dag die nuusberigte dophou: ‘Ons “barometer” is mej. Estelle Strijdom, die dogter van die Eerste Minister en mev. Strijdom. Haar oortog is op dieselfde skip bespreek. Solank sy mag gaan, het ons goeie hoop.’Ga naar eind2 'n Komiese noot tydens die gespanne afwagting was 'n brief wat G.A. Watermeyer aan Opperman skryf. Watermeyer was bekend vir sy periodieke gesigte en vir die sombere voorspellings oor die ondergang van die Weste wat hy in Atlantis or The crying of the waters (1954) gemaak het. In 'n brief van 9 November laat weet hy vir Opperman: ‘Man, my hart sal baie geruster voel as jy en Marié die besoek aan die buiteland met minstens 'n jaar vertraag. Ek het rede om te glo dat ons binne die bestek van 'n jaar - en dit kan binne 'n paar maande gebeur - in 'n veel groter en gruweliker oorlog as die afgelope wêreldkryg gedompel sal wees. Atoombomme mag heel waarskynlik al binne die eersvolgende vier maande op Brittanje gelos word - atlantis!’ Intussen het Dirk en Marié Opperman reëlings getref vir die kinders se verblyf in die tyd dat hulle weg sou wees. Diederi, daardie jaar in April gebore, sou deur 'n verpleegster in Nuweland versorg word, Heila sou by Gerda en Flippie van Zyl bly en Trienke by Hannes van der Merwe en sy vrou, al vier bure in Baaisiglaan. Van der Merwe sou ook Opperman se sake tydens sy afwesigheid behartig. Uiteindelik het die oomblik van afskeid aangebreek. Op 7 Desember was 'n groot aantal vriende - onder andere die Le Rouxs, die Scholtze, die Spiese, die Therons, die Van der Merwes, Heini Jaekel, Trienke en Heila - in die Kaapstadse hawe om afskeid te neem, die bont papierlinte as laaste bande vas te hou en te sien hoe die boot vertrek. ‘Tafelberg swaai en verfrommel tot klowe’, teken Opperman as 'n laaste waarneming van Kaapstad in sy dagboek aan. | |
IIOnmiddellik na die vertrek het die Oppermans drankies gedrink saam met Willem Kempen, Stellenbosse taalkundige, en sy vrou wat ook op die boot was. Aangesien Marié erg hoofpyn gehad het, was die eerste aand vir haar verlore. Opperman het die boot verken, tafelwyn en likeurs gedrink, gekyk hoe die pare op die dek dans terwyl ander brug speel, en beweeg tussen kroeg en kajuit waar Marié siek gelê het. Dat hy die volgende dag met 'n taamlike kater wakker geword het, lei 'n mens af uit die enkele dagboekaantekening van 8 Desember: | |
[pagina 275]
| |
‘Water...water...Rimbaud se dronk skip’ ('n toespeling op die Franse digter se ‘Bateau ivre’)! Afgesien van die Kempens was Eelco Boonstra - seun van die Oppermans se Wetenskap-onderwyser op Vryheid - ook op die boot. Wat die Oppermans besonder geniet het, was die ‘niksheid’ van alles, die niemandsland waarin hulle was. Op die dek kon hulle rondstap en sien hoe die jong mense rondlê in hulle bont rokkies en hemde en ‘amperklere’. Op die agterstewe het die matrose soms hulle eie jong musiek gemaak, in teenstelling tot die suf bootorkessie. Saam met ander passasiers besoek hulle die brug van die boot en geniet die son en die feestelikheid tydens die vaart oor die ewenaar. Vir dié geleentheid trek Marié haar man met krinkelpapier soos 'n vlieënde vis aan! Op die eerste Sondag lei 'n teologiese student die diens op die boot, maar vir Opperman ‘ontstig (hy) die ontroerende bewegings tussen son en see met cliché-taal oor geestelike sake’ en ‘maak hy glad nie gebruik van die geleentheid om toepaslik te praat nie’. Wanneer hulle nie eet of aan die georganiseerde verrigtinge deelneem nie, is Opperman besig om te lees, onder meer Hoornik se De bezoeker en Hemingway se The old man and the sea; in laasgenoemde word hy getref deur die eenvoud van die woord en deur die vermoë om progressief te bou en die verwagte te vermy. Op 17 Desember kom hulle aan by Las Palmas wat Marié 'n ‘mankolieke stadjie vol arm mense en bedelende kinders’ vind. Daar besoek hulle die katedraal en onderneem hulle 'n bustoer waartydens Opperman vir hom 'n hoed koop wat hy dwarsdeur die reis sou dra. Met die afskeid sien hulle die Spaanse danse op die dek. As hulle weer vaar, is die deining kwaai. In die Baai van Biskaje ondervind hulle 'n storm en raak Marié erg seesiek. Dit val Opperman op hoe baie dinge op die boot vermors word: broodrolletjies, toebroodjies en beskuitjies word oorboord gegooi en selfs messegoed en borde deur die patryspoorte gewerp. Op Vrydag, 21 Desember, kom die boot in Southampton aan. Met die boottrein gaan die Oppermans na Londen en van daar na Harwich waar hulle die nagboot oor die Engelse Kanaal na die Hoek van Holland neem. Die volgende dag reis hulle per trein na Amsterdam en word hulle onmiddellik getref deur die skoon, oop land en die ywerige mense. In Amsterdam gaan hulle tuis by die Hotel Americain op die Leidse Plein waar hulle blomme van Jan en Aty Greshoff ontvang. Van Wyk Louw bel kort na hulle aankoms, daag die middag op saam met sy dogter Reinet en kuier die aand saam. Die volgende dag gaan hulle saam op 'n gragtevaart en wys Van Wyk Louw hulle die kafees - onder meer die Café Reynders waar die kunstenaars bymekaarkom - en die rooiligbuurt van die walletjies. In die volgende dae wys Van Wyk Louw waar die ou vismark was ‘met al sy reuk en lawaai en met die gekortwiekte ooievaars om hom skoon te hou’,Ga naar eind3 waar Bredero afgekyk het op 'n woelige, kleurryke toneel en waar Gysbreght van Aemstel voor die stadspoort uitgekom het om die vyand agterna te kyk. Oukersaand bring hulle weer saam met die Louws deur en op Kersdag besoek hulle die Rijksmuseum met die Nagwag, loop hulle deur die Vondel- | |
[pagina 276]
| |
park en sien hulle 'n opvoering van Shakespeare se Richard III. Op 26 Desember ervaar hulle hul eerste Europese sneeu en gesels Opperman en Van Wyk Louw tot laat in die Kafee Eijlders. Die volgende oggend vertrek hulle na Bremen om 'n nuwe Borgward Isabella vir die reis te gaan haal, 'n motor wat hulle reeds uit Suid-Afrika bespreek het. Deur die skilderagtige Duitse dorpies ry hulle na Groningen waar hulle by Hendrik de Vries eet. Opperman is ‘verras deur sy porseleinagtigheid, in teenstelling met die orkaanagtigheid van sy verse’. Nadat hulle in Leeuwarden oornag het, ry hulle deur Friesland en Groningen oor die afsluitdyk deur Edam terug na Amsterdam. Op 1 Januarie 1957 gaan hulle met die Louws na Vinkeveen en Schiphol en sien hulle die aand 'n opvoering van Vondel se Gijsbreght van Aemstel. Die volgende twee dae stap Opperman deur die boekwinkels, maar daar is niks wat hom trek nie, ‘veral nie die ou bundeltjies van die 'Amsterdamse School' van poësie nie’. Daarna wandel hulle deur Amsterdam - oor die Amstel en die Rembrandtplein na die Kalverstraat waar hulle Adriaan Morriën, Cees Nooteboom, Jan Vermeulen en Simon Vinkenoog ontmoet. Naas die bywoning van toneelopvoerings en gesprekke met Van Wyk Louw loop hulle deur die kafees waar ‘die paartjies...mekaar soos parakietjies (pik)’. Die klanke van die ‘draaiorrel vul die strate, sweef oor gragte, hang oor gewels van die herehuise’ en Opperman word bewus daarvan hoe die kuns eeu na eeu hier woeker. Saterdagaand, 5 Januarie, gesels hy en Van Wyk Louw weer en kom Opperman se proefskrif en die verwydering tussen hulle vir die eerste keer ter sprake. Opperman kry die indruk dat Van Wyk Louw nog ‘vol haat’ is. Elkeen verdedig sy standpunt en soms word dit onaangenaam en emosioneel. Van Wyk Louw wil Opperman daartoe dwing om ook regstreekse invloede in sy eie werk toe te gee en sê vir hom dat hulle verhouding voortaan dié van bul teen bul sal wees. Opperman laat nie op hom wag nie en met die oormoed van baie drank sê hy dat Van Wyk Louw slegs 'n Johannes die Doper maar hy self 'n Christus is! In die bieratmosfeer van 'n kafee met die neweldampe van baie sigarette gesels hulle voort tot half-een die oggend wanneer hulle - ten spyte van harde woorde - vriendskaplik uitmekaargaan. Die volgende oggend vertrek hulle na Den Haag waar hulle by De Pauwhof tuisgaan. Hier sien hulle heelwat toneel en ook 'n uitvoering van Nederlandse eksperimentele ballet. Vir Opperman bly ballet egter ‘'n problematiese kunsvorm met groot beperkings...hoewel hy fyn momente kan suggereer’. Onder meer besoek hulle die Mauritshuis met die Rembrandt-skilderye en ontmoet hulle Pierre Dubois. Op 13 Januarie keer hulle terug na Amsterdam waar hulle 'n Nederlandse opvoering van Arthur Miller se A view from the bridge sien, Ed. Hoornik ontmoet, weer lank en gesellig by die Louws kuier en A. Roland Holst - na hulle ontmoeting in Kaapstad in 1946 - weer sien. Na 'n besoek aan die Muiderslot en Hilversum gaan hulle op 20 Januarie na Utrecht waar Op- | |
[pagina 277]
| |
perman boekwinkels en die Domkerk besigtig, S.J. Pretorius en sy vrou opsoek, met W.A.P. Smit gesels en twee van sy lesings - oor Van der Veen en Perk - bywoon. Op 23 Januarie besoek hulle Jan van Riebeeck se geboortehuis in Culemborg. 'n Besonder aangename ontmoeting is dié met Gerrit Achterberg en sy vrou Catrien op 24 Januarie. Kort na die Tweede Wêreldoorlog het Opperman 'n eksemplaar van sy opstel oor ‘Poësie as dolosstukke’ en sy eerste twee bundels aan Achterberg gestuur, tesame met 'n pakkie rosyntjies. Die Achterbergs het dit baie waardeer en vir Opperman laat weet dat hulle in die moeilike naoorlogse jare in Nederland die rosyntjies as 'n besondere lekkerny een vir een afgemeet en korrel vir korrel geëet het. Toe Opperman aan die Achterbergs se woning in Leusden klop, roep Catrien van bo: ‘Wie is daar?’ Opperman antwoord: ‘Dirk Opperman van Kaapstad.’ Hierop laat Catrien hoor: ‘Gerrit, hier is Opperman van de rozijnen’! Die gesprek tussen die twee digters was besonder aangenaam - ‘hy is oorspanne, het 'n vinnige verstand’, skryf Opperman die aand in sy dagboek. Die volgende paar dae kuier hulle by Jacob Kruidenier en sy vrou - skoonouers van Opperman se broer Chris - op hulle boerdery tussen Elst en Rhenen. Daar slaap hulle in 'n kamer waar hulle 'n jakkalsvel as vloermat het. Die rooi en wit van die spits gesiggie, die skerp lug van die boerdery, die geur van appels in die skuur en die bosse met swyne en herte - die enigste diere wat oorgebly het - inspireer hom tot die skryf van ‘Vloervelletjie’ wat hy later in Dolosse sal opneem. Van daar ry hulle deur Arnhem na Nijmegen waar hulle Anton van Duinkerken ontmoet, en Maastricht waar hulle by Pierre Kemp kuier. Op 28 Januarie vertrek die Oppermans na Duitsland waar hulle Keulen, Düsseldorf, Bonn en Darmstadt besoek en beïndruk word deur die wyse waarop 'n jonger geslag uit ‘die gate en murasies’ van die Tweede Wêreldoorlog gekruip en 'n nuwe land opgebou het. In Duitsland sien hulle weer baie toneelopvoerings, onder meer Karl Witlinger se Kennen Sie die Milchstrasse, Lessing se Nathan der Weise, O'Neill se Moon for the misbegotten en Shakespeare se Hamlet. Van daar ry hulle deur Luxemburg na België waar hulle op die spoor van Jacques Perk die grotte van Han bekyk en die ‘eerste tekens van die Vos Reynaerde gewaar’. Na 'n besoek aan Brussel waar hulle Hugo Claus ontmoet, gaan hulle na Antwerpen om Fred Engelen en sy vrou Tine Balder weer te sien en saam met hulle na die Rubens-skilderye te gaan kyk. Hulle besoek ook Karel Jonckheere wie se blinde sesjarige seuntjie vir hulle op die gehoor af klavier speel. Van Antwerpen reis hulle per trein na Mechelen en Brugge. In Gent sien hulle Jozef van Hoeck se Voorlopig vonnis onder regie van Engelen en ontmoet hulle die dramaturg na afloop van die opvoering. Onderweg na Den Haag doen hulle Middelburg aan waar hulle met Canis Scholtz se skoonmoeder en skoonsuster kennis maak. Op 26 Februarie kom hulle aan in Den Haag en gaan hulle weer tuis in De Pauwhof. Die volgende paar dae ry hulle in die omgewing rond | |
[pagina 278]
| |
in afwagting op Fred en Ria le Roux saam met wie hulle ses weke lank in Europa sal rondreis. | |
IIITydens die reis het die Oppermans gereeld van hulle kinders en vriende nuus verneem. Aangesien sy geweet het dat hulle bekommerd sou wees oor Diederi se welsyn, het Petro Spies - Johan se vrou - haar weekliks in Nuweland besoek, telkens 'n foto van die baba geneem en aan haar ouers gepos. Hannes van der Merwe het Trienke en Heila gereeld geneem om hulle sustertjie te sien en vir Dirk en Marié laat weet hoe dit tuis gaan. Tog was die Oppermans baie bly om Fred en Ria le Roux te ontmoet en regstreekse nuus uit Suid-Afrika te ontvang. Reeds op 1 Maart vertrek die Oppermans en die Le Rouxs per motor. Die eerste nag slaap hulle in Montabaur, daarna ry hulle langs die Ryn en die Neckar tot anderkant Heidelberg na München. Van daar gaan hulle drie dae lank na Salzburg waar hulle na musiek van Bach, Brahms, Schumann en Locatelli luister, die kasteel en berg besoek en in die nou straatjies rondstap. Daarna reis hulle oor die Brennerpas na Bressanona en daarvandaan na Verona en Venesië. Hier is die St. Markusplein vir hulle 'n ‘wonderbaarlike verrassing’. Op 14 Maart reis hulle verder na Florence. Hulle besigtig die stad en word veral deur die Michelangelo-beelde geboei. Na 'n besoek aan Assisi gaan hulle na Rome waar Opperman onder meer die Sixtynse kapel van die Vatikaan met Michelangelo se plafonskilderye besigtig, 'n gegewe wat later in sy gedig ‘Carrara’ sal terugkeer. Ook die St. Pieterskerk, die Colosseum, die Katakombes en die Fonteine van Tivoli besoek hulle; by die fonteine word Opperman geboei deur die wyse waarop ‘in die kunstuin die waters wissel’, al is dit dan in laaste instansie 'n ‘beperkte spel’.Ga naar eind4 Op 26 Maart vlieg Dirk en Marié van Rome na Athene. Opperman word onmiddellik ‘bekoor deur (die) aankomende eilande, (die) kuslyn deur (die) wolke en die sagte sonlig oor die heuwels’ as hulle die stad binnery. Op 28 Maart vertrek hulle op 'n bustoer en by Elefsis sien hy die eerste ‘dolosse’: ‘'n hopie skewe bene/ van 'n seun van twaalf’ en 'n olieskraper waaroor hy die gedig ‘Gedagtes by 'n sarkofaag’ skryf. Die volgende dag is die besoek aan Epidaurus en Korinthe 'n ‘heerlike ondervinding’ en hy skryf daar briewe aan die kinders, Hannes van der Merwe en Anton Rupert. Wat hy veral interessant gevind het, is - soos hy dit later sou stel - ‘hoe klip en pilaar, oorblyfsels van die ou beskawings van Korinthe, met mekaar...(praat)’.Ga naar eind5 Van Periandros was daar haas niks oor nie. Korinthe is verwoes deur aardbewings en daarna deur die Turke en die Romeine, en van die ou bouwerke was daar nog net enkele reste. | |
[pagina 279]
| |
Op 31 Maart sluit hulle weer in Rome by die Le Rouxs aan. Op 1 April maak Pompeji 'n ‘besondere indruk’ op Opperman. Hierdie ervaring vind later neerslag in ‘Dennebol’, 'n gedig waarin - volgens 'n mededeling van Fred le Roux - selfs klein besonderhede soos die ‘tor’ en die ‘bruingespikkelde akkedis’ tydens die besoek waargeneem is. Daarna besigtig hulle die museum van Napels, ry deur Rome en swaai af na Bracciano langs die meer waar die Oppermans op 2 April die vyftiende herdenking van hulle huwelik feestelik vier. Van daar reis hulle na Bologna, Rheinfelden en Bern waar hulle op 9 Mei aankom en by die ambassade hoor dat Opperman die Hertzogprys vir Periandros van Korinthe gekry het. In Mühletal slaap hulle en vier die toekenning met forelle uit die plaaslike stroom en gestopte kalfsbors. Hulle reis verder na Clarens om die sterfhuis van Paul Kruger te besoek, Genève, Valence, Montpellier en Narbonne waar hulle oornag. Op 13 April reis hulle na Spanje waar hulle aanvanklik in Barcelona en later in Madrid bly en in albei stede stiergevegte sien, 'n skouspel wat Opperman uitvoerig op film vaslê en wat later die boustof verskaf vir sy gedig ‘Op die dood van Roy Campbell’ (wat tydens hulle toer oorlede is). Na besoeke aan die museums, markte en parke reis hulle deur die suide van Frankryk en kom hulle op 25 April in Parys aan waar hulle in die Hotel Pavilion tuisgaan, die bekende toeriste-attraksies besigtig en die musea deurloop. Tydens die reis tref dit Fred le Roux telkens hoe fyn Opperman kan waarneem en dinge feitlik fotografies kan onthou. Na 'n besoek aan 'n museum soos die Prado of die Louvre kon hy in die aand tydens die ete elke skildery wat hom getref het, tot in die kleinste detail beskryf. Op 30 April neem die Le Rouxs in Parys afskeid van hulle vriende en vertrek hulle per trein na Antwerpen. Vir die res van hulle Europese toer sou die Oppermans alleen reis. | |
IVNa die Le Rouxs se vertrek bly die Oppermans nog enkele dae in Parys waar hulle deur die strate en parke dwaal en geskenke vir vriende tuis koop. Alhoewel hulle nog veel van die reis geniet, kom 'n mens uit Opperman se dagboek agter dat daar 'n element van verveling begin intree en dat hy nie werklik 'n goeie toeris is nie. In die daaglikse inskrywings is daar 'n beheptheid met nuus van die huis af en teleurstelling as hulle by 'n nuwe adres aankom en geen briewe uit Suid-Afrika op hulle wag nie. Op 9 Mei skryf hy aan sy suster Liz: ‘(Die reis) is 'n ryk en wonderlike ervaring, maar ons verlang al baie na die kinders en 'n mens voel soms vermoeid, maar die vermoeidheid word telkens deur nuwe prikkels verdring!’ Gedeeltelik kan die element van verveling en onvergenoegdheid toegeskryf word aan Opperman se taalprobleme. Hy kon Duits en in 'n geringer mate Frans lees, maar het dié tale nie goed genoeg geken | |
[pagina 280]
| |
om vlot te praat nie. Die gevolg was dat Marié meestal die praatwerk in winkels moes doen, want Opperman het 'n onvermoë gehad om hom met 'n klein woordeskat en gebare verstaanbaar te maak. Daarom was hy bly om Parys op 5 Mei te verlaat en weer in Amsterdam te wees. In hierdie dae koop hulle presente, besoek die Keukenhof en Alkmaar se kaasmark, en woon 'n opvoering van Macbeth by. Op Dinsdagaand 7 Mei gaan hy na Van Wyk Louw se huis om vrae van studente oor sy werk te beantwoord. Van Wyk Louw verwelkom hom, wens hom geluk met die Hertzogprys vir Drama, bedank hom dat hy na 'n lang en vermoeiende reis bereid was om op te tree en sê dat die kollege die vorm sal aanneem van 'n informele gesprek oor die poësie en die versdrama. Volgens Van Wyk Louw se aantekeninge oor dié byeenkoms het hy self begin om oor die presiese betekenis van woorde soos ‘judasklip’, ‘worsvlag’ en ‘kokar’ uit Joernaal van Jorik, ‘riethakkers’, ‘houthakkers’ en ‘vlinders’ uit Blom en baaierd en ‘die manlike skaar’ uit Periandros van Korinthe helderheid te verkry. Verder het hy gevra of die ‘Liid fan di diamant’ in ‘Blom van die baaierd’ selfgemaak of 'n bestaande teks is, waar ‘Neo-Baäl’ geleë is, waar die ‘twaalf simbole van die ritueel’ in ‘Scriba van die Carbonari’ vandaan kom en wat die simboliek van die koffer en kaart in Joernaal van Jorik en die koringkis en Kuupselos se koutjie in Periandros van Korinthe beteken. Ander sake wat ter sprake gekom het, was die vraag wat die stilistiek op linguistiese grondslag tot die insig in die letterkunde bydra, of daar grense aan die ‘verwysing’ na ander literatuur en historiese data is en hoe Opperman die beoefening van die versdrama sien. Op Woensdagaand, 8 Mei kom Opperman, Van Wyk Louw en Wytze Hellinga - professor in Nederlandse Taalwetenskap aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam - bymekaar om oor hulle benadering van die literatuur te gesels. Van Wyk Louw lei die gesprek in en sê dat hy besware het teen 'n te diep simboliese interpretasie van 'n kunswerk. As hy na 'n skildery kyk, is hy nie geïnteresseerd daarin of bepaalde kleure wat die kunstenaar gebruik, 'n dieper betekenis het nie, maar bloot in watter verhouding die kleure tot mekaar staan en watter kontraste daarmee bereik word. Teen hierdie standpunt dat ‘alle diepte moet bedrieg’, neem Opperman stelling in deur te sê dat hy wel die kleurespel boeiend vind, maar dat daar vir hom 'n dimensie bykom as hy weet dat die kleure 'n dieper simboliese betekenis het. Hellinga gaan egter nog verder. As daar in 'n skildery byvoorbeeld 'n voorstelling is van 'n man wat sy hand op 'n vrou se maag plaas, is dit die taak van die ondersoeker om die geskiedenis van gebare na te gaan en vas te stel dat die hand op die maag in werklikheid beteken dat die man die vrou as bruid wil hê. Daarmee staan die twee figure in 'n besondere verhouding tot mekaar en het die skildery uiteindelik 'n dieper betekenis as wat die blote kleurkontraste laat vermoed. Op 12 Mei drink die Oppermans tee saam met Donkersloot en sy vrou. Die volgende dag loop hulle Fred en Ria le Roux raak as hulle pos gaan afhaal. | |
[pagina 281]
| |
Toevallig stap Van Wyk Louw ook verby en saam gaan eet hulle rystafel ter afskeid. Op 14 Mei besoek die Oppermans Delft en gaan daarna na Den Haag waar hulle nog by die miniatuurdorpie Madurodam aandoen. Dieselfde aand kom hulle aan by die Hoek van Holland vir die oortog oor die Kanaal en skryf Opperman as afskeid van Nederland een van sy min regstreekse reisgedigte, ‘Konsertina-poskaart’, 'n vers wat hy later in Kuns-mis opneem. Met hulle aankoms in Londen op 15 Mei soek hulle lank na 'n blyplek voordat hulle tevrede is. By Suid-Afrika-huis die volgende dag ontmoet Opperman vir Roy Macnab. In die volgende dae sien hulle baie opvoerings - onder meer van Noël Coward, Tennessee Williams, Jean Anouilh, John Osborne en Ionesco - maar die meeste vind Opperman onbevredigend. Die hele tegniek van The chairs van Ionesco is vir hom ‘'n “verouderde” maniërisme’! Opperman besoek die boekwinkels en saam besigtig hulle die Londense parke, Westminsterabdy, die Tate-galery en die Toring van Londen en onderneem 'n vaart op die Teems. Die eerste werklike teenspoed van die reis tref hulle as Marié op 27 Mei met pampoentjies in 'n afsonderingshospitaal opgeneem word. Dieselfde dag daag Fred en Ria le Roux uit Nederland op en eet Opperman saam met Bartho Smit en Dawid Engela, terwyl Dawie Couzyn uit Wenen opdaag om in die Albert Hall te sing. Op 30 Mei het Opperman 'n onderhoud met die BBC en kies hy boeke by Foyle. Die volgende dag besoek hy die Britse Museum en in die aand gaan hy saam met die Le Rouxs na die Old Vic waar Richard III opgevoer word. Elke dag besoek hy Marié in die hospitaal. Die babas in die kindersaal daar laat hom baie na Diederi verlang, ‘in (die) besonder die een vriendelike kaalkop’. Op 6 Junie kom Marié uit die hospitaal en saam reis hulle op 8 Junie deur Bath, Wallis wat hy lieflik maar 'n ‘miniatuurlandjie’ vind, en die Meerdistrikte wat vir hom te toeristies is. In Suid-Afrika is daar vir hom ‘treffender streke’, iets wat 'n mens telkens in Europa besef en so 'n reis iets van 'n ‘korrektief’ maak. Skotland is vir hulle aantrekliker: die ‘klein huisies (is) baie skoner as in Engeland’ en die mense ‘hartstogteliker en nadrukliker’. Die kos vind hy verbeeldingloos en hy teken in sy dagboek aan dat 'n mens ‘Brittanje nie (moet) besoek nadat jy op die vasteland was nie’, 'n duidelike aanduiding dat hy teen hierdie tyd baie verveeld was met die reis. Op 12 Junie kom hulle aan in Edinburg, besoek hulle die kasteel en is hy ‘'n geduldige pakperd’ vir al die presente wat Marié in die winkels koop. Die verveling duur voort. ‘Dat 'n vakansie soos tandpyn kan word,’ skryf hy op 12 Junie in sy dagboek. As hy die eerste tekens van pampoentjies op 13 Junie by homself bespeur, keer hulle dadelik terug na Londen. Alhoewel die dokter vasstel dat Opperman se speekselkliere geswel is, kon hy nie met sekerheid sê of dit wel pampoentjies is nie. Die volgende dae bly Opperman egter tuis terwyl Marié inkopies in die stad doen. Hoewel die siekte nie erg ontwikkel het nie, was sy lus vir verdere reis en verkenning verby. Op 25 Junie vertrek hulle na Southamp- | |
[pagina 282]
| |
ton. Die volgende dag handel hulle die laaste inkopies af. In sy dagboek skryf Opperman kripties: ‘Hele teruggaan lyk onwerklik - wag gespanne om kinders weer te sien’. En op 27 Junie teken hy aan: ‘Uiteindelik het dié dag aangebreek. Vol opgewondenheid huurmotor gehaal, deur doeane na skip Athlone Castle.’ | |
VMet die vertrek vaar die boot aanvanklik in digte mis sodat die mishoring kortkort moet blaas. Aangesien Marié siek in die kajuit lê en die passasiers hom nog nie boei nie, lees Opperman Simenon en The creative process, 'n versameling opstelle wat onder redaksie van Brewster Ghiselin die ‘genius at work’ nagaan en wat later een van die verwysingsbronne vir sy Stellenbosse digkunde-lesings sal wees. Op 1 Julie doen hulle Las Palmas aan en daarna vaar hulle langs Dakar waar hulle tornyne, seevoëls en vlieënde visse begin sien. In die broeiende hitte van die trope en die swoel benoude nagte slaap Opperman tot drie-uur op die dek; op 4 Julie stuur hy 'n kabelbrief aan die kinders en Hannes van der Merwe-hulle: ‘Twee kraaie by die ewenaar gaap/ maar vlieg vinnig nader na die Kaap.’ Op 9 Julie ontvang hulle 'n kabel van Hannes-hulle: ‘Oos Wes tuis bes/ twee kleintjies piep by die nes/ Ons ses.’ Dit is 'n boodskap wat vir Opperman kostelik is en hom amper tot trane ontroer, want hy ly in hierdie tyd 'n bietjie aan slaaploosheid, verlang baie na die kinders en sien uit na die tuiskoms. Op 10 Julie sien hulle albatrosse. Op 11 Julie staan hulle om vyfuur op, gewaar die liggies van die Kaap, kyk hoe die sleepboot nader kom en die immigrasiebeamptes aan boord gaan, en die boot begin vasmeer in die motreën. Op die kaai is Hannes van der Merwe, Trienke en Heila. Van die passasiers is die Oppermans, volgens die dagboek, ‘die eerste deur die doeane’ en die ontmoeting met die kinders en hulle vriende is ontroerend. In Hannes se motor en met al hulle bagasie ry hulle huis toe waar die Spiese met Diederi op hulle wag en hulle verder verwelkom word met blomme, telegramme en telefoonoproepe. Opperman moet terug hawe toe om reëlings in verband met die motor te tref en daarna woon hy 'n Standpunte-vergadering saam met W.E.G. Louw, Jaekel en Fred le Roux by. Na afloop daarvan is hy en Marié gaste by 'n noenmaal in die Here XVII, staan hy onderhoude toe aan Die Burger en The Cape Times en bring hy die aand gesellig saam met die Van der Merwes en Spiese tuis deur. Die volgende dag bel hy Izak van der Merwe en Canis Scholtz, gee hy sy aandag aan die kinders terwyl hulle uitpak en sy kop ‘dreun van al die vrae’. Die aand daag vriende op wat hulle eie kos saambring. Anton en Hubert Rupert kom ook en Opperman gee aan hom 'n komboloi present. Dit is 'n beskeie geskenkie in vergelyking met wat hy van Rupert ontvang het, maar - so teken | |
[pagina 283]
| |
Opperman in sy dagboek aan - dit is iets wat die antieke en moderne tye verbind en waarmee arm én ryk kan speel. Op 19 Julie doen Opperman aan Rupert skriftelik verslag van sy reis. In Europa het hy by die vyftig teatervoorstellings bygewoon, spelers en regisseurs ontmoet, kunsmusea, katedrale en plekke van historiese belang besoek, met Nederlandse letterkundiges en skrywers kennis gemaak en boeke aangeskaf. Per motor het hulle 8 915 myl afgelê, per vliegtuig 1 500 myl en per trein 730 myl. ‘Voor my vertrek,’ skryf hy, ‘het ek gevoel dat ek 'n eindpunt bereik het, dat ek nuwe prikkels nodig het.’ Die reis het hom in staat gestel om nuwe dinge te ervaar wat hy in die toekoms kon verwerk. Tydens die reis het hy 'n dagboek gehou, aantekeninge gemaak en soms selfs ontwerpe vir voorgenome stukke neergeskryf. As 'n mens Opperman se gepubliseerde skeppende werk ná die Europese toer in oënskou neem, val dit op dat belangrike gedigte soos ‘Vloervelletjie’, ‘By die dood van Roy Campbell’, ‘Carrara’, ‘Fonteine van Tivoli’ en ‘Dennebol’ uit Dolosse op dié ervaring steun en die reis dus wel bevrugtend op hom ingewerk het. Ook in sy laaste bundel, Komas uit 'n bamboesstok, kom hy op die reis terug. Tog kan 'n mens nie van die gedagte loskom dat die Europese ervaring na verhouding min neerslag in sy werk vind en dat hy baie van die ‘Europese’ gedigte in Dolosse gemaklik sonder regstreekse kennis sou kon geskryf het. Gedeeltelik hang dit saam met Opperman se hele digterskap wat ten spyte van 'n katolieke oopgesteldheid so intens verstrengeld is met Afrika en Suid-Afrika. Hy was nie geïnteresseerd daarin om 'n soort toeristiese poësie met indrukke van plekke te skryf nie; gedigte soos ‘Konsertina-poskaart’ wat in blote beskrywing of ‘notisies’ vassteek, het hy as afvalprodukte beskou wat hoogstens in Kuns-mis onderdak kon vind. By geleentheid, toe André P. Brink se Sempre diritto gepubliseer is, het hy (met 'n bietjie oormoed) gesê dat hy so 'n reisverhaal met dagboekaantekeninge, flardes en flitse en optekening van episodes in 'n naweek uit sy mou kan skud, maar dat dit hom nie interesseer nie. Sy kuns was van so 'n aard dat hy by die oppervlakkige indruk en ervaring verby na iets meer wesentliks gesoek het. Die Afrika-gerigtheid van sy kuns is waarskynlik ook een van die redes waarom hy nooit weer die behoefte gevoel het om in Europa te reis nie. By herhaling het hy in gesprekke gesê dat hy bloot na sy rolprente hoef te kyk om dit alles vir hom op te roep. Terwyl daar by mense soos Canis Scholtz en W.E.G. Louw 'n Europese aanhanklikheid was wat hulle telkens opnuut by die oerbronne laat drink het, was Opperman tevrede om Europa deur sy leeswerk te ervaar en die gegewe in sy kuns na Suid-Afrikaanse situasies te transponeer. Tog was die Europese reis vir hom 'n verfrissende ervaring en 'n opskerping van sy sintuie. |
|