D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 164]
| |
Hoofstuk 7
| |
[pagina 165]
| |
gewing aan plante en diere in Afrikaans (1941), twee studies waaraan Opperman met sy belangstelling in die vroeë Afrikaanse geskrifte en die natuurgevoel in die poësie veel gehad het. Daarby was Scholtz bekend as fyn kenner van die literatuur en die Afrikaanse taal, iemand vir wie Van Wyk Louw die hoogste respek gehad het. Aan die letterkunde-kant was die Departement vóór Opperman se koms daar minder goed aan toe. F.C.L. Bosman het weinig aanvoeling vir die literatuur gehad en hy het sy kollegas soms geïrriteer met sy verspotte optrede teenoor meisiestudente. Die sjarmante I.D. du Plessis was veral geïnteresseerd in die kultuur van die Maleier en nie primêr 'n literêre denker nie. In die Honneursjaar het hy kursusse oor die sonnet en die kortverhaal aangebied, maar sy voorlesings na ongeveer ses maande beëindig en die res van die jaar aan selfstudie oorgelaat; as die studente dan nog probleme gehad het of iets verder wou weet, was hy in sy kantoor vir raadpleging beskikbaar! Nog voor Opperman se koms het sowel Bosman as Du Plessis egter ander poste aanvaar. Bosman is na Pretoria om voltydse sekretaris van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te word, terwyl Du Plessis aangestel is as hoof van die Instituut vir Maleise Studies aan die Universiteit van Kaapstad en daarna as Kommissaris en later Sekretaris en Adviseur vir Kleurlingsake. Afgesien van Scholtz het die Departement met Opperman se diensaanvaarding bestaan uit Marie Bax-Botha en J.A. Verhage as lektore, en I.W. van der Merwe as senior lektor. Mev. Bax-Botha, wie se eggenoot professor was in Nederlandse Kultuurgeskiedenis, was veral verantwoordelik vir kursusse oor die Fonetiek en Historiese Grammatika. Aan die begin van 1958 is sy opgevolg deur L.R. Heiberg. Verhage, 'n Nederlander van geboorte, was ook geïnteresseerd in die Historiese Taalkunde en het in 1952 met 'n Sintakties-stilistiese studie van die Daghregister van Jan van Riebeeck gepromoveer. In die Departement het hy egter in hoofsaak die Nederlandse prosa gedoseer, 'n gebied wat hy deeglik geken het en waaroor hy met hartstog en liefde kon praat. Die letterkunde-dosent by wie Opperman die sterkste aansluiting gevind het, was Izak van der Merwe wat reeds in 1922 tot die Departement toegetree het. Van der Merwe was iemand wat alle nuwe publikasies in Afrikaans gelees het en ook goed op die hoogte was van die Nederlandse letterkunde. Hoewel hy feitlik nooit self kritiek beoefen het nie, het hy kennis geneem van die jongste publikasies op die gebied van die literatuurteorie, al het die metode - soos dié van die reeks stilistiese proefskrifte uit die vyftigerjare en Lulofs se Verkenning door varianten - hom meestal teleurgestel en geïrriteer. Sy werkopdrag was die hele gebied van die Afrikaanse poësie en die Nederlandse digkuns van Negentig tot hede. Sy groot vreugdes het hy gevind in die poësie van A. Roland Holst en J.C. Bloem, terwyl hy vol lof was vir die werk van Van Wyk Louw en Opperman - selfs trots op die feit dat hy hulle kollegas aan dieselfde universiteit kon noem. Op die gebied van die Afrikaanse prosa - wat hy ook by sy kursus in die tweede jaar ingesluit het - was hy afkerig van die geswolle werk | |
[pagina 166]
| |
van D.F. Malherbe en C.M. van den Heever en die literêre opportunisme van iemand soos W.A. de Klerk, terwyl hy waardering gehad het vir die sober prosa van Van Melle en M.E.R., asook Elise Muller se Die vrou op die skuit. Hy was iemand wat met groot oorgawe kon doseer, gedigte voortreflik kon voorlees en 'n liefde vir die letterkunde aan sy studente kon oordra. Hy was besonder gesteld op korrekte taalgebruik en hy het sowel skriftelik as mondeling 'n fyn beheer oor Afrikaans gehad. In sy gesprekke - en hy was 'n onderhoudende gespreksgenoot wat naas die boeiende verhale uit sy jeug op Boplaas en die ‘seressekaro’ 'n intense belangstelling in die literêre en politieke sake van die dag gehad het - kon hy telkens op taalsake konsentreer en die treffende of foutiewe gebruik van 'n woord pront uitwys. Saam met D.B. Bosman was hy die opsteller van die Tweetalige woordeboek, die beste Afrikaans-Engelse woordeboek wat daar beskikbaar was. Deur sy hartstog vir die literatuur maar ook deur sy integriteit as mens het daar gou 'n besondere verhouding tussen Van der Merwe en Opperman ontwikkel. Ten tyde van Opperman se diensaanvaarding was Van der Merwe 'n wewenaar, maar in 1956 is hy getroud met Fannie Jordaan wie se oorlede man hoof was van die Hoërskool Jan van Riebeeck. Haar dogter Helena was later student by Opperman en het met 'n studie oor M.E.R. die eerste M.A. onder hom as studieleier voltooi, terwyl haar seun Willem later as tipograaf en ontwerper 'n hele paar bundels van Opperman sou behartig. Die kantore en lesingsale van die Departement was in die Arts Block, een van die oorspronklike universiteitsgeboue wat met rankplante en klimop bedek was. In die herfs en later weer in die lente het Opperman dikwels van dié blare gepluk en vir sy oudste dogter huis toe geneem. Die Arts Block was gerieflik regoor die Jagger-Biblioteek met sy goeie versameling boeke op die gebied van Afrikaans en Nederlands. In die Nederlandse seminaarkamer in dié biblioteek is die Honneurslesings gehou. Opperman het tydens sy termyn as dosent baie boeke oor die Middeleeue en die Goue Eeu vir die biblioteek bestel en ook gesorg vir 'n besondere versameling van eerste drukke van die eksperimentele Nederlandse Vijftigers se digbundels. Die eerstejaarlesings vir Nederlands en Afrikaans was almal geskeduleer vir die eerste lesuur van 8.45 tot 9.30 vm. Aangesien sowel die tweede- as die derdejaarlesings van 10.35 tot 11.20 vm. geduur het, was al die dosente van die Departement vry tydens die tweede lesuur van 9.40 tot 10.25 vm. In dié lesuur het hulle gewoonlik verby die Jamesonsaal gestap na die Students' Union langsaan, om in die teekamer vir dosente te gaan sit en gesels. Soms het Marthinus Versfeld, A.H. Murray en later ook S.I.M. du Plessis van die Departement Filosofie en J.H.W. Rosteutscher van Duits by hulle aangesluit. Ook N.P. van Wyk Louw van die Fakulteit van Opvoedkunde het voor sy vertrek na Amsterdam in 1950 dikwels saam tee gedrink. In die winteroggende kon hulle op pad terug na die Arts Block Van Wyk Louw se ‘rookvaal bos en laan’ | |
[pagina 167]
| |
in die rigting van Rosebank voor die trap van die Jamesonsaal sien, die fyn strepie mis wat tot laat in die oggend bo die bome gehang het. Vanuit die vensters van die lesinglokale vir die tweede- en derdejaars was daar 'n pragtige uitsig oor Rosebank, Rondebosch en Nuweland. Aangesien Van der Merwe die Afrikaanse en moderne Nederlandse poësie gedoseer het, was Opperman se hoofopdrag die literatuur van die Middeleeue en die Goue Eeu, al het hy ook in 'n beperkte mate met die Afrikaanse letterkunde te make gehad. Twee oggende per week het hy die eerstejaars vir een lesuur gehad. Vir die groot groep wat slegs vir 'n eenjarige, afgeronde kursus in Afrikaans ingeskryf was, het hy die Geskiedenis van die Taalbewegings en die Literatuur voor 1900 aangebied. Die eerstejaarskursus in Nederlands en Afrikaans waarvoor Opperman verantwoordelik was, het bekend gestaan as 'n Inleiding tot die Studie van die Nederlandse Letterkunde. Hy het egter uitsluitlik gekonsentreer op die poësie deur 'n keuse van verteenwoordigende tekste uit die opeenvolgende tydvakke. Aangesien hy met 'n groot aantal Engelstalige studente te make gehad het, was dit sy gewoonte om aanvanklik elke teks woord vir woord te vertaal en eers daarna letterkundig te bekyk. In sy eerste jare as dosent het Opperman vir sy eerstejaarskursus Boshoff en Dekker se Van Maerlant tot Boutens I en II voorgeskryf, maar in latere jare het hy gereeld De Raaf en Griss se Een nieuwe bundel III, IV en V gebruik, 'n bloemlesing wat met sy wye keuse 'n goeie inleiding tot die Nederlandse letterkunde gee. Die bedoeling was dan dat die bestudering van dié bloemlesings in die verdere voorgraadse jare voortgesit sou word. As literatuurgeskiedenis het hy dieselfde skrywers se Stroomingen en gestalten voorgeskryf, 'n boek wat bestaan uit 'n historiese oorsig én 'n profilering van skrywersgestaltes. Opperman het sy tweedejaarskursus een keer per week aangebied en dit volledig gewy aan 'n bespreking van die Liriek van die Vroeg-Renaissance en die Goue Eeu. Hiervoor het hy tekste uit Een nieuwe bundel III met die studente behandel en hulle, naas die historiese oorsig in De Raaf en Griss se handleiding, verwys na die literatuurgeskiedenisse van Te Winkel, Kalff, Prinsen, Walch en Baur. Vir die derdejaarskursus, wat ook een keer per week aangebied is, het hy 'n inleiding tot die Middelnederlandse letterkunde en 'n kursus oor die drama van die sewentiende eeu aangebied. Vir die Middelnederlandse afdeling van die werk het hy aanvanklik epiese werke met die studente behandel. Aangesien dit egter sy kollega Marie Bax-Botha se gebruik was om dieselfde werke in haar kursus taalkundig te beskou, het hy besluit om ander tekste literêr onder die loep te neem en sodoende vir die studente die geleentheid te gee om meer tekste uit die Middeleeue intensief te leer ken. Daarom het hy betreklik gou uitsluitlik op Middeleeuse dramas gekonsentreer en die bestudering daarvan opgevolg met 'n bespreking van sewentiende-eeuse dramas van Bredero, Hooft en Von- | |
[pagina 168]
| |
del. Vir aanvullende leesstof het hy die studente verwys na dieselfde literatuurgeskiedkundige handleidings as in die tweede jaar, maar ook standaardwerke oor die Nederlandse drama en Balthazar Verhagen se Dramaturgie as teoretiese inleiding aanbeveel. Teen die einde van sy termyn as dosent in Kaapstad het W.A.P. Smit se driedelige Van Pascha tot Noah begin verskyn. Opperman het daarvan kennis geneem, maar was daar minder ingenome mee. Moontlik het die enigsins resepmatige behandeling en die apologetiese instelling teenoor Vondel hom gehinder, want vir Smit se deeglikheid en wetenskaplikheid moes hy kragtens sy hele instelling waardering gehad het. Na alle waarskynlikheid was sy belangstelling in Vondel in hierdie stadium reeds minder as vroeër. Die wysiging na 'n kursus uitsluitlik oor die drama het 'n groter eenheid aan die werk vir die derde jaar gegee en ook Opperman geprikkel tot 'n belangstelling in die probleme van die versdrama. Die herhaalde dosering van Vondel se Lucifer en Jeptha moes trouens 'n invloed op sy beoefening van die versdrama in die vyftigerjare gehad het. Nie alleen volg hy in sy eerste twee versdramas, Periandros van Korinthe (1954) en Vergelegen (1956), Vondel se paarrym na nie, maar maak hy ook gebruik van die vyfdelige bedryfsindeling en die Aristoteliaanse struktuur wat die Nederlandse dramaturg aanwend. Daarby is dit opvallend dat die verskil in versvorm tussen Periandros van Korinthe en Vergelegen ooreenstem met dié tussen Lucifer en Jeptha. In Jeptha vervang Vondel die aleksandryn met die korter vyfvoetige jambe wat met die wisselende sesuur en veelvuldige enjambemente vir 'n meer gevarieerde dialooghandeling sorg. Kritici van Opperman se eerste versdrama het gewys op die te gedrae stilering van die lang versreëls en die neiging tot distigering deurdat dieselfde karakter telkens die tweede rymwoord sê, iets wat 'n sekere geslotenheid en gebrek aan voortskryding in die versreëls tot gevolg het. In navolging van Jeptha vervang Opperman in Vergelegen die aleksandryn met 'n korter versreël. Daarby vermy hy die distigering deurdat 'n karakter sy spreekbeurt op die eerste skakel van die rym eindig en die volgende karakter gevolglik die klank oorneem en só vir kontinuïteit sorg. Die byeenkomste vir die Honneurskursus is onderling met die studente gereël en het gewoonlik soggens in een van die oop lesure plaasgevind. Vir die Honneursstudente het Opperman twee kursusse aangebied: die Middelnederlandse Letterkunde en die Geskiedenis van die Nederlandse en Afrikaanse Letterkundige Kritiek. Aan die begin van die kursus oor die Middelnederlandse Letterkunde het hy die studente gewoonlik aan die hand van D.C. Tinbergen se De Nederlandse literatuur in de Middeleeuwen die gebied laat verken, terwyl hulle ook met J. Huizinga se Herfsttij der Middeleeuwen as uitgangspunt kultuurhistories met die hele periode op die hoogte moes kom. Van die studente is verwag om 'n lys van die belangrikste Middelnederlandse werke op te stel, chronologies volgens genres 'n indeling te maak en terselfdertyd vas te stel waarop die indelings in die bestaande literatuurgeskiedenisse berus. Telkens | |
[pagina 169]
| |
was dit deel van Opperman se metode om by elke afdeling van die werk sy studente bekend te stel aan die belangrikste studies oor die verskillende aspekte en só die weg te baan vir selfstandige studie. Die eksamenvrae wat hy in sy jare as dosent van dié kursus gestel het, getuig daarvan dat hy sowel 'n oorsigtelike as indringende analitiese studie van sy studente geverg en hulle tot heelwat eie navorsing aangespoor het. Vir die kursus oor die Geskiedenis van die Nederlandse en Afrikaanse Letterkundige Kritiek het Opperman van sy studente verwag om hoofsaaklik self die bespreking in te lei. Hy het hulle bekend gestel aan oorsigtelike studies oor die geskiedenis van die kritiek, soos dié van Saintsbury en later ook Wellek, Wimsatt en Brooks, en Daiches, en dan agtereenvolgens die belangrikste tekste op dié gebied in Nederlands ter sprake gebring. Die kursus is afgesluit met 'n kursoriese oorsig oor die Afrikaanse literêre kritiek en 'n bespreking van enkele werke en figure. Die indeling van die werk in die Departement het op so 'n wyse geskied dat elke dosent een dag per week volkome vry was van doseerwerk. Naas sy lesings vir die voltydse studente, wat alles gerieflik in die oggend ingeruim is, was Opperman ook verantwoordelik vir die herhaling vir die deeltydse studente van enkele klasse wat in die laatmiddag by die Oranjestraat-kampus van die Universiteit gehou is. Vir die deeltydse studente is Afrikaans I jaarliks om 5.10-6.00 nm. aangebied, terwyl Nederlands en Afrikaans I en II elke derde jaar om dieselfde uur gealterneer het, sodat Opperman soms een laatmiddag per week en soms twee middae per week doseerverpligtinge gehad het. Daarnaas was hy ook verantwoordelik vir die letterkunde-lesings vir die Afrikaans Halwe Kursus wat op 'n Woensdagaand van 6.05-6.50 nm. plaasgevind het. Hierdie kursus was hoofsaaklik vir B. Comm.-studente bedoel wat dit saam met die Halwe Kursus in Engels vir graaddoeleindes kon volg. Gewoonlik was daar net sowat tien tot vyftien studente in die klas en het Opperman enkele gedigte, een roman of 'n bundel kortverhale en een drama (dikwels Die wildsboudjie van Fritz Steyn) met hulle behandel. 'n Laaste doseerverpligting van Opperman was twee kursusse wat hy vir die Departement Drama moes aanbied. Alle tweedejaarstudente van Drama en Toneel moes 'n kursus oor die geskiedenis van die Wes-Europese Drama volg waartoe die verskillende taaldepartemente elk 'n bydrae gelewer het. Die kursus is na 'n kort inleiding begin deur die Departement Klassieke Tale wat die Griekse en Romeinse drama behandel het. Daarna het Opperman oorgeneem vir 'n kursus van agt lesings wat hy in Engels oor die ‘Dutch Medieval Drama’ moes aanbied. Dit is gevolg deur die Departemente Engels, Frans en Duits wat oor die Elizabethaanse en Jakobynse drama, die Frans-Klassisisme en Schiller en Goethe onderskeidelik gepraat het, terwyl iemand van die Departement Engels vir 'n kursus oor Ibsen en Shaw verantwoordelik was. Die oorsig is afgesluit deur Opperman met 'n kursus van agt lesings oor die Afrikaanse | |
[pagina 170]
| |
drama. Albei kursusse het plaasgevind in die tweede lesuur wat van 9.40-10.25 vm. geduur het, sodat dit gemaklik by Opperman se ander werk kon inpas. Die getal studente in die Departement Nederlands en Afrikaans het gewissel van tussen 70 en 100 vir Afrikaans I, tussen 50 en 60 vir Nederlands en Afrikaans I, 20 vir Nederlands en Afrikaans II, tussen 5 en 12 vir Nederlands en Afrikaans III, tussen 2 en 4 vir die Honneursgraad en sporadiese kandidate vir die M.A.- en doktorsgraad. Aangesien daar geen assistente in die Departement was om met die sleurwerk te help nie, was elke dosent vir sy eie nasienwerk verantwoordelik. Veral vir die eerstejaarskursusse was dit 'n kwaai opgaaf, want elke dosent moes drie punte per jaar vir toetse of opstelle inlewer en daarnaas ook die halfjaarlikse en eindeksamens nasien. Vir Nederlands en Afrikaans II is gewoonlik twee langer werkstukke vir elke dosent ingelewer, terwyl Nederlands en Afrikaans III-studente vir elke dosent een omvattende taak moes voltooi. By die tweedejaars was daar ook die halfjaarlikse en eindeksamens, terwyl die derdejaars geen eksamen in die middel van die jaar gehad het nie maar wel die vraestelle aan die einde van die jaar moes skryf. Opperman het dus altesame tussen agt en nege lesings per week gehad wat op gerieflike tye geval het. Afgesien van die gereelde nasien van toetse en eksamens was sy verpligtinge verder twee beurte as opsiener tydens die eindeksamen, die bywoning van maksimaal vier Fakulteitsraadsvergaderings per jaar en een departementele vergadering per week wat Canis Scholtz in een van die oop lesure gereël het. Van tyd tot tyd moes hy ook aanbevelings vir biblioteekbestellings voorlê. Hy kon hom in 'n baie groot mate van verdere administratiewe verpligtinge en komiteewerk losmaak, sodat hy baie aandag aan sy eie navorsing en sy skeppende werk kon wy, 'n situasie wat vir hom ideaal was na die lang ure by Die Huisgenoot. Aangesien Izak van der Merwe nie belanggestel het in leiding vir magisteren doktorale kandidate nie, moes Opperman dié werk behartig vir studente wat in die letterkunde wou spesialiseer. Alhoewel meer studente ingeskryf was, het net drie tydens sy termyn as dosent aan die Universiteit van Kaapstad hulle M.A. onder hom voltooi, nl. Helena P. Jordaan met 'n studie oor M.E.R. as skryfster (1949), M.C. Calitz met 'n verhandeling oor J.F.W. Grosskopf, 'n Afrikaanse ‘Padbreker’ (1950) en Rialette Vogel met 'n Ondersoek na die hoofbeginsels in die vroeëre Afrikaanse poësiekritiek, met die bespreking van N.P. van Wyk Louw se poësie as uitgangspunt (1959). Helena Jordaan se verhandeling was die eerste omvattende studie oor M.E.R., 'n skryfster wat tot in daardie stadium deur die kritiek verwaarloos en deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir bekroning verbygegaan is. Jordaan se studie was in dié opsig 'n belangrike regstelling; 'n hoofstuk daaruit is in Standpunte, V:1, Oktober 1950 gepubliseer. Opperman was teleurgestel toe Jordaan, wat blyke van fyn aanvoeling en insig in haar verhandeling gee, nie met die doktorale studie wou voortgaan nie en later ook geen bydrae op die gebied van die kritiek | |
[pagina 171]
| |
gelewer het nie. Die studie oor Grosskopf is 'n bestekopname oor die werk van 'n dramaturg wat kort tevore oorlede is en wie se oeuvre gevolglik in sy geheel beskou kon word. Calitz was later as onderwyser aan die Hoërskool Jan van Riebeeck verbonde. Rialette Vogel het in die laat-vyftigerjare die eerste junior lektrise in die Departement geword met die opdrag om veral groepklasse by die eerstejaarstudente te behartig ten einde hulle taalvaardigheid te verbeter. Met haar deeglike verhandeling oor die vroeëre Afrikaanse poësiekritiek het sy verder gewerk in 'n rigting wat Opperman in sy eie M.A.-studie twintig jaar tevore verken en waarin hy steeds belanggestel het. Later het sy as Rialette Wiehahn aan die Universiteit van Suid-Afrika gedoseer en onder leiding van N.P. van Wyk Louw aan die Universiteit van die Witwatersrand gepromoveer met 'n voortreflike verhandeling oor Die Afrikaanse poësiekritiek (1965) wat wesentlik 'n voortsetting van haar M.A.-studie was. Ander studente uit Opperman se termyn wat bekendheid verwerf het as skrywers of navorsers op die gebied van die letterkunde, is Leon Rousseau, Roswitha Geggus (Schutte), Adam Small, Edith Raidt en Breyten Breytenbach. Die vraag ontstaan hoe geslaag Opperman as dosent aan die Universiteit van Kaapstad was. Terwyl Izak van der Merwe met groot geesdrif oor die literatuur kon gesels en by tye trane in sy oë kon kry van ontroering, het Opperman sy lesings en kursusse presies en sistematies beplan en 'n digterskap of 'n spesifieke vers rustig ontleed. Hy kon sy studente uitstekend inlei in 'n nuwe veld en hulle bekend stel aan die literatuur van en oor 'n bepaalde skrywer of tydvak, sodat hulle onder die indruk gekom het van sy absolute beheer oor sy vak en sy vermoë om die stof vir hulle te ontsluit. Wat telkens opgeval het, was die wyse waarop hy met enkele aanduidings kon deurdring tot die kern van 'n gedig of 'n digterskap. Hy het selde 'n gedig uitvoerig ontleed, maar sy opmerkinge was gewoonlik wegwysers wat die student kon opvolg en verder uitwerk. Telkens het hy dan ook die woorde ‘let op’ of ‘gaan na’ gebruik, want hy het van sy studente intelligente meelewing, konsentrasie en voortgesette werk verwag. Daarby was hulle daarvan bewus dat dit nie 'n droë wetenskaplike is wat voor hulle staan nie, maar dat hy 'n teks uit die gesigspunt van die digter of sy eie digterskap bekyk. In verband met Hooft se sonnette het hy byvoorbeeld sy studente aangeraai om na die rymwoorde te kyk, omdat die rymwoorde dikwels sleutels is waaraan 'n mens 'n goeie digter herken. Dikwels kon hy die ouer literatuur - wat vir die meeste studente 'n verwyderde gebied was waarin hulle minder belanggestel het - aktualiseer deur verrassende verbande na die moderne tyd te lê, soos die verwantskap wat hy tussen die Middeleeuse ‘expositor ludi’ en die verteller in Thornton Wilder se Our town, Arthur Miller se A view from the bridge en die aankondiger in Van Wyk Louw se Dias kon aantoon. In sy lesings het die aksent dikwels geval op die gevoeligheid waarmee 'n digter woorde en beelde gebruik, die vraag of daar 'n sekere gerigtheid in die vers is, of 'n mens van ontwikkeling en progressie kon praat, of die gedig homself voed | |
[pagina 172]
| |
en of daar voos kolle aanwesig is. In sy nasienwerk het hy noulettend aandag gegee aan taalgebruik en presiese formulering, en kon hy foutiewe taal en stilistiese hebbelikhede vir sy studente uitwys. Aanvanklik het Opperman slegs 'n tydelike lektoraat beklee. Aan die einde van 1949 met die benoeming van Canis Scholtz as hoogleraar en nuwe hoof van die Departement, het Scholtz se eie lektoraat vakant gekom en is Opperman vroeg in 1950 in dié pos aangestel. Soos gebruiklik aan die Universiteit van Kaapstad was elke aanstelling onderhewig aan 'n proefperiode van drie jaar. In Augustus 1952 het Opperman verneem dat hy permanent aangestel is. In Desember 1952, ná die voltooiing van sy D. Litt., is 'n navorsingsbeurs vir vyf jaar aan hom toegeken, 'n toekenning wat in Junie 1957 vir 'n verdere vyf jaar hernu is. In November 1954 is hy bevorder tot senior lektor. Hierdie aanstelling was op 'n ad hominem-basis, aangesien hy nie in 'n bestaande vakature benoem is nie en sy bevordering niks te make gehad het met die ‘fixed establishment’ in die Departement nie. Die doseerpos aan die Universiteit van Kaapstad was vir Opperman aanvanklik 'n sterk stimulus. Op 27 April 1949 skryf hy vir G.A. Watermeyer hoe hy die doseerwerk geniet. Hy ‘leef feitlik van lesing tot lesing: weer al die klassieke herlees en kolleges voorberei. Om op hierdie stadium weer opnuut rekenskap te gee, is 'n heerlike avontuur, 'n vreugde vir die gees.’ Dat hy hoofsaaklik tot die Middeleeue en sewentiende-eeuse Nederlandse letterkunde beperk was, het hom aanvanklik nie gehinder nie, aangesien hy graag weer - na sy intensiewe kursusse by G.S. Nienaber en J.J. le Roux oor dié gebiede - met die ouer literatuur op die hoogte wou kom. Daarby het hy - volgens 'n mededeling in sy brief aan G.A. Watermeyer - gereken dat die klassieke te veel ter wille van die ‘jongste’ en die ‘nuutste’ verwaarloos word. Vir Opperman se historiese bewussyn en wye verwysingsveld was die intense bestudering van die ouer literatuur van groot waarde. Dit het nie alleen in sy kritiese geskrifte neerslag gevind nie, maar ook in sy skeppende werk. 'n Mens kan met redelike sekerheid sê dat Opperman bepaalde gedigte nie sou geskryf het as hy die pos aan die Universiteit van Kaapstad met die opdrag om die ouer Nederlandse literatuur te doseer, nie aanvaar het nie. Afgesien van die bevrugtende invloed van Vondel op sy twee versdramas uit die vyftigerjare is daar talle gedigte wat op die een of ander wyse die invloed van sy doseerwerk verraai. Die eerste duidelike neerslag hiervan vind 'n mens in sy ‘Brandaan’-siklus wat in Standpunte, V:2, Desember 1950 verskyn en in Engel uit die klip opgeneem word en op sy kennismaking met De reis van Sente Brandane steun. Sy belangwekkende ‘Kroniek van Kristien’ in Blom en baaierd vloei voort uit sy studie van J.H. Bormans se uitgawe van Leven van Sinte Christina de Wonderbare. Hierdie uitgawe het in 1850 by C. Annoot-Braeckman in Gent verskyn. Opperman het daarin geslaag om 'n eksemplaar daarvan vir die Kaapstadse Universiteitsbiblioteek te verkry en vir eie gebruik 'n | |
[pagina 173]
| |
afdruk te laat maak in 'n tyd toe fotokopieë nie 'n algemene verskynsel was nie. Maar ook uit sy kursus oor die vroeë Hollandse en Afrikaanse tekste vir die eerstejaarstudente kon hy stof vir sy gedigte put. By geleentheid het Canis Scholtz sy aandag gevestig op Preller se uitgawe van Gideon Scheepers se Dagboek as een van die ontroerendste dokumente uit die Anglo-Boereoorlog. ‘'n Paar weke later’, so vertel Scholtz in Oor skilders en skrywers, bel Dirk my en stel voor dat ons 'n glas bier gaan drink in die Hotel Drommedaris op die hoek van Leeuwen- en Langstraat. Ek was vir so iets altyd te vinde. Toe die glase halfpad leeg was, haal Dirk 'n vel papier uit sy baadjiesak en gee dit aan my sonder om iets te sê. Dit was die gedig ‘Gebed om die Gebeente’, wat ek toe die eerste keer daar in die halfdonker kroeg gelees het. Elkeen wat dié aangrypende Scheepers-gedig ken, sal my verbasing en verrukking begryp. Toe dit as laaste vers in die bundel Engel uit die Klip verskyn, het Dirk op die titelblad van die gedig in die eksemplaar van die bundel wat hy aan my gegee het, geskryf: ‘C. Dankie vir die spoor wat jy my laat vat het. D.’Ga naar eind1 By 'n latere geleentheid het Scholtz Opperman ook attent gemaak op Preller se uitgawe van die Dagboek van Louis Trigardt. ‘Dirk het die dagboek gaan lees,’ vertel Scholtz verder, ‘en later - hoe lank daarna weet ek nie meer nie - met die sober maar treffende vers “Clat Boek” vorendag gekom: “Dit is al wat ek uit die Dagboek kon haal”, het hy aan my gesê.’Ga naar eind2 Later sou hy sy drama Voëlvry ook hierop baseer. Opperman het dus voorkeur gegee aan die universiteitspos bo die joernalistiek, omdat die soort lewe wat hy kon voer, hom in staat gestel het om veel meer tyd aan sy eie skeppende en kritiese aktiwiteit te bestee. In 'n brief van 25 Oktober 1948 skryf hy aan H.A. Mulder dat sy beroepsverandering 'n finansiële opoffering beteken omdat hy 'n beloofde verhoging by Die Huisgenoot en die voorgehoue redakteurskap prysgee, maar dat hy nou moet kies tussen sy siel en geld: ‘Ek wil meer tyd...tyd hê - vir skryf en lees en dink, ag! en net om mens te wees.’ Die eerste jare as dosent, van 1949 tot 1956, word dan ook van die vrugbaarste periodes in Opperman se lewe. In dié tydvak publiseer hy die epiese gedig Joernaal van Jorik (1949), die digbundels Engel uit die klip (1950) en Blom en baaierd (1956), die versdramas Periandros van Korinthe (1954) en Vergelegen (1956) en voltooi hy die samestelling van sy reeks verseboeke. Naas 'n voortsetting van sy kritiese opstelle wat eers later gebundel word, voltooi hy sy groots opgesette D.Litt.-proefskrif oor die Digters van Dertig (1953) en werk hy mee aan Wêreldletterkunde en Die skatkis. In die jare 1950-1955 behartig hy ook die sekretariaat van Standpunte en sorg hy deur sy redigering vir die hoë peil wat die blad handhaaf. As 'n mens in ag neem dat hierdie werk nie uit die mou geskud is nie, maar dat dit oneindig veel navorsing, noukeurige opbou van gehele en 'n deeglike siftingsproses ten grondslag het, is dit in die kort bestek van agt jaar een van die indrukwekkendste presta- | |
[pagina 174]
| |
sies van 'n Afrikaanse outeur. Daarby moet 'n mens onthou dat hierdie produksie gelewer is onderwyl Opperman in dié jare 'n volwaardige betrekking beklee en sy doseerwerk en ander verpligtinge nougeset nagekom het. Ten spyte van die sterk stimulus wat daar van die nuwe werkomstandighede uitgegaan en die vrye tyd wat hy nou tot sy beskikking gehad het, was daar tog betreklik gou 'n mate van teleurstelling en selfs ontnugtering. Opperman het die pos aan die Universiteit van Kaapstad aanvaar kort nadat die Nasionale Party die verrassende verkiesingsoorwinning van 1948 behaal het, 'n uitslag wat die ondersteuners van die Verenigde Party en die Engelstalige deel van die bevolking totaal onkant betrap het. Hulle het gevoel ‘we are the underdogs again’, geen geheim van hulle wrewel en frustrasie gemaak nie en geringskattend oor die Afrikaner gepraat. 'n Lys van Afrikaanse firmas wat geboikot moes word, is op die kampus rondgestuur. By geleentheid het een van die dosente in 'n vergadering van die Fakulteitsraad verwys na ‘the so-called Minister of Education’. A.H. Murray, hoogleraar in Filosofie en 'n gesiene Afrikaanstalige personeellid van die Universiteit, het protes aangeteken en daarop aangedring dat sy beswaar genotuleer moet word. Hoewel Opperman self aan die Engelstalige Natalse Universiteitskollege gestudeer het en dié soort houding teenoor die Afrikaners nie vir hom vreemd was nie, het hy as onderwyser by die skole in Pietermaritzburg en Johannesburg en veral as joernalis by die Nasionale Pers in volledige Afrikaanse werkkringe en gemeenskappe beweeg. By die Universiteit van Kaapstad moes hy - soos hy dit self 'n keer gestel het - opnuut aan 'n taalstryd deelneem wat vyf en twintig jaar tevore al afgehandel is. Een van die redes waarom hy destyds Pietermaritzburg verlaat het, was juis omdat die oorwegend Engelstalige gemeenskap te min stimuli vir sy skeppende werk gebied het en die negatiewe elemente ten opsigte van die Afrikaner en die Afrikaanse wêreld te sterk was. Alhoewel Opperman in Kaapstad met sy ruim Afrikaanse vriendekring en sy betrekkinge met die uitgewers en personeellede van die Afrikaanse dag- en weekblaaie in 'n totaal ander milieu as in Pietermaritzburg beweeg het, was hy tog bewus van die ergerlike anti-Afrikaanse gevoel by die Universiteit. Daar by het hy ná sy aanvanklike geesdrif teleurstellings beleef met die meeste van sy studente. Die Engelstaliges het min belangstelling getoon, terwyl die Afrikaanstaliges in 'n hoë mate verveeld was met die ouer Nederlandse literatuur. Izak van der Merwe was nie lus om van sy lesings oor die moderne letterkunde met sy kollega uit te ruil nie, met die gevolg dat Opperman noodgedwonge moes voortgaan. Soms het hy selfs die verveling as probleem aan die begin van 'n kursus gestel, juis om die studente te probeer motiveer! Hoewel hy steeds nougeset aandag aan sy doseerwerk bestee het, was die stimuli vir algehele oorgawe by tye te min, veral as hy - soos soms gebeur het - voor 'n Nederlands en Afrikaans III-klas van vyf moes staan van wie nie een 'n werklik goeie of selfs gemiddelde student was nie. In uiterste gevalle het hy verval in | |
[pagina 175]
| |
die metode om die studente rolle uit die sewentiende-eeuse dramas in die klas te laat voorlees, 'n werkwyse wat misluk het weens die vreemdheid van die Nederlands van die Goue Eeu en die hele wêreld van Vondel se Barokdramas. Die gebrek aan inspirasie van die studente se kant was ook verantwoordelik vir 'n mate van verstarring ná die aanvanklike wysigings wat hy in die kursusse aangebring het. Jare na mekaar is dieselfde werk behandel; en weinig nuwe gebiede of nuwe tekste is tot sy leerplanne toegevoeg. Daarby was hy soms traag om die laatmiddagklasse waar te neem. Met sy daaglikse roetine as nagwerker en middagslaper wou hy vyfuur in die middag in die bed wees en het dié klasse te vroeg vir hom begin. Tog het Scholtz veel aan Opperman as dosent in sy Departement gehad, aangesien hy sy werk sistematies beplan het en meestal goed kon klasgee. Aan die einde van die jaar was Opperman se hantering van vrae tydens die gereelde mondelinge eksamens vir die grensgevalle aanvanklik nie baie bevredigend nie, maar hy het later baie verbeter. Op 'n keer het mej. Vogel by Scholtz gekla dat sy nie genoeg leiding van Opperman ontvang nie. Dit was egter eerder 'n geval waar sy - volgens Opperman - 'n tydelike impasse bereik het waaruit sy self sonder hulp moes kom om vakkundig verder te ontwikkel. Dit was dus nie onwilligheid of laksheid aan die kant van die studieleier nie, maar fyn opvoedkundige insig waarby sy student alleen kon baat. Selfs met gevorderde nagraadse studente was daar soms teleurstellings. In 1950 het 'n Nederlandse uitruilstudent, mej. L.A. de Rot, op aanbeveling van N.P. van Wyk Louw - wat toe kort tevore as professor aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam benoem is - vir voortgesette studie na die Universiteit van Kaapstad gekom. In oorleg met Canis Scholtz het Opperman dit goedgedink om die student bekend te stel aan die skeppende en kritiese werk van H.A. Mulder wat die vorige jaar oorlede is. Opperman, wat self kort tevore 'n omvattende studie oor Mulder geskryf het, was goed op die hoogte van die gebied en dus bereid om haar te help met Mulder se private argief wat deur mev. Lien Mulder in bruikleen aan die Universiteit van Kaapstad beskikbaar gestel is. Dit was 'n uitstekende geleentheid om reg te laat geskied aan 'n belangrike Afrikaanse kritikus en 'n onderskatte Nederlandse digter. Mej. De Rot word egter vir Scholtz en Opperman 'n groot teleurstelling. Wat die vakgebied betref, openbaar sy - volgens 'n brief wat Opperman op 24 Oktober 1950 aan Van Wyk Louw skryf - eindelose hiate, 'n onvermoë, onkunde en onwilligheid: sy het nie werklike belangstelling en gevoeligheid vir die poësie nie; en sy skrik terug vir waardebepaling of onderskeiding in die letterkunde. Na 'n semester vra sy Scholtz, tot sy wrewel, dat hy 'n vorm moet onderteken wat haar vir die res van die akademiese jaar na die Universiteit van Pretoria oorgeplaas kon kry, 'n inrigting waar sy met die destydse kursusse en doseerbesetting akademies veel swakker daaraan toe sou wees. Ten spyte van hierdie teleurstellings het Opperman tog veel plesier aan sy | |
[pagina 176]
| |
studente en die samewerking met kollegas by die Universiteit van Kaapstad gehad. Izak van der Merwe was 'n besondere gespreksgenoot, lojale vriend en groot bewonderaar van Opperman se skeppende en kritiese werk, al was hy vakkundig enigsins anders ingestel. Aanvanklik het Opperman ook 'n baie goeie verhouding met Canis Scholtz gehad. Hy het Scholtz uit sy publikasies leer ken as 'n deeglike vakman op die gebied van die historiese taalkunde en een van die voortreflikste stiliste in Afrikaans, 'n man wat die taal in sy fynste nuanses geken en gebruik het. Hy was ook bewus van die jarelange vriendskap tussen Van Wyk Louw en Scholtz, die hoë agting wat Van Wyk Louw vir Scholtz se taalgevoel en literêre oordeel gehad het en die feit dat Scholtz die meeste van Van Wyk Louw se werke voor publikasie gelees het. Tydens sy termyn as dosent het Opperman dan ook by herhaling sy eie werk aan Scholtz voorgelê. Scholtz het die manuskripte van Joernaal van Jorik, Engel uit die klip en Blom en baaierd almal sorgvuldig nagegaan, terwyl hy as promotor vir Digters van Dertig uiteraard veel advies aan Opperman kon gee. 'n Mens kan ook aanneem dat Opperman sekere aspekte van die kritiese opstelle waaraan hy in dié jare gewerk het, met Scholtz sou bespreek het. In die voorwoord tot Groot verseboek bedank hy Scholtz onder andere vir sy samewerking en vir die aandeel wat hy aan die keuse uit sy eie werk gehad het. Na alle waarskynlikheid het Scholtz ook Opperman attent gemaak op Pulvermacher se ‘Dopper Joris en syn seiltjie’. Dié pragtige gedig voor 1900 was totaal vergete totdat Scholtz dit in 'n artikel van 29 April 1938 in Die HuisgenootGa naar eind3 uit die vergeelde bladsye van Het Volksblad opnuut onder die aandag gebring het. ‘'n Hele aantal jare,’ skryf Scholtz in 1962, ‘het dit gevaar geloop om weer vergeet te raak, al het I.W. van der Merwe dit graag aan sy studente in die eerste kursus aan die U.K. voorgelees by die behandeling van die vroegste Afrikaanse poësie. In 1951 is 'n wens wat ek in 1938 geuit het, mooi verwesenlik: D.J. Opperman het “Dopper Joris” opgeneem in die eerste druk van sy (nou baie bekende bloemlesing) Groot Verseboek.’Ga naar eind4 Opperman moes dus veel gehad het aan 'n vriend en departementshoof met wie hy vakkundig op 'n hoë vlak kon verkeer en aan 'n persoon wat sy manuskripte so sorgvuldig kon nagaan. Terwyl Fred le Roux gewoonlik 'n uitstekende oordeel oor die argitektoniese eenheid van 'n werk kon uitspreek, was Scholtz in staat om 'n vers met groot sorg woord vir woord te lees, die interpunksie, spelling en ander taalkundige aspekte na te gaan en by probleemgevalle kruisies in die teks te maak. Hy was iemand wat nie juis bekend was vir oorgeesdriftige loftuitinge nie. In die eksemplaar van Engel uit die klip, wat Opperman by die verskyning van die bundel aan Scholtz gee, bedank hy sy vriend vir die gesprekke oor die manuskrip en die lees daarvan. Aan die einde van die ‘Diereriem’-reeks skryf hy die kwatryn ‘Canis major’ by wat hy later as die eerste van die reeks ‘Bewakers’ in Blom en baaierd opneem: | |
[pagina 177]
| |
Jaloerse waghond van die hemelboë,
jy skat die hemelinge na vermoë
sodat hulle besorg kyk of die sterre
flikker uit jou tande of jou oë.Ga naar eind5
Tog was die verhouding nie altyd ewe goed nie. Canis Scholtz het, na 'n kort periode waarin hy Opperman gesien het as die Afrikaanse digter met die grootste potensiaal, altyd voorkeur gegee aan die poësie van Van Wyk Louw wie se taalgebruik vir hom fyner was as dié van Opperman. Tydens gesprekke soggens oor die tee het Scholtz knaend gepraat oor Van Wyk Louw se werk waarvoor hy sy bewondering nie weggesteek het nie, terwyl Opperman se poësie selde die onderwerp van bespreking was, Boerneef nooit ter sprake gekom het nie en na baie ander Afrikaanse skrywers met die grootste minagting verwys is. 'n Mens kan met redelike sekerheid aanneem dat hierdie ondubbelsinnige voorkeur vir Van Wyk Louw en die negering van sy eie en ander se werk oor die jare vir Opperman 'n onverteerbare aspek van die gereelde teesessies was, terwyl dit bepaald op die meer emosionele Van der Merwe se senuwees gewerk het. Scholtz self was klaarblyklik ongevoelig vir die reaksie wat sy gesprekke oor Van Wyk Louw by sy kollegas ontlok het. Daarby was hy in die wyse waarop hy kritiek op Opperman se manuskripte uitgespreek het, eerder 'n konsultant-ingenieur wat koel en wetenskaplik advies gegee het, nie 'n vriend soos Fred le Roux wat warm en met geesdrif kon reageer nie. Selde het hy gesê 'n reël of 'n gedig is goed, maar in hoofsaak gekonsentreer op aspekte van die werk waarmee hy fout kon vind. Aan die ander kant was hy daarop gesteld dat Opperman wel die manuskripte aan hom toon, veral om voor iemand anders insae daarin te kry. Sy vraag was dan ook telkens of hy die eerste is wat dit sien, iets wat Opperman soms verplig het om vir Van Wyk Louw en Fred le Roux te waarsku dat hulle nie met Scholtz moes praat voordat hy óók 'n manuskrip gelees het nie. By geleentheid was Scholtz daarvan bewus dat Fred le Roux 'n manuskrip vóór hom gelees het. ‘O, jy slyp jou aan sagter stene, nè?’ was sy opmerking teenoor Opperman.Ga naar eind6 Maar ook in die Departement was die verhoudinge nie altyd na wense nie. Alhoewel Izak van der Merwe lank voor Scholtz aan die Departement verbonde was en reeds in die veertigerjare tot senior lektor bevorder is, het hy in 1949 nie aansoek gedoen toe die professoraat en die hoofskap van die Departement vakant geraak het nie. Dit was sy oortuiging dat Scholtz as vakman sy meerdere is en die betrekking behoort te kry. Van der Merwe het gevoel dat hy na al die jare diens aan die Departement van sommige verpligtinge, soos doseerwerk vir Afrikaans Elementêr ('n kursus wat aangebied is vir studente vir wie Afrikaans 'n heeltemal vreemde taal was), losgemaak behoort te word. Blykbaar het dit nooit tot Scholtz deurgedring dat Van der Merwe op grond van sy senioriteit en die lojaliteit wat hy met die vakature teenoor Scholtz geopenbaar het, 'n | |
[pagina 178]
| |
sekere aanspraak op so 'n geringe vergunning gehad het nie. Van der Merwe was ongelukkig hieroor en hy het sy gevoel teenoor Opperman nie weggesteek nie. Daarby was daar in Scholtz se optrede as hoof van die Departement sommige dinge wat verset en wrewel by sy kollegas uitgelok het. Tydens die weeklikse departementele vergaderings het dit Van der Merwe geïrriteer dat Scholtz sommige omsendbriewe van die administrasie eers tydens hulle byeenkoms oopmaak en só die reeds vervelige verrigtinge en die sleurwerk verder uitrek. Opperman moes daagliks die klagtes van Van der Merwe aanhoor. Alhoewel hy glimlaggend baie van dié dinge by hom kon laat verbygaan, het hy self ook die gevoel gehad dat Scholtz se hantering van sake vlotter kon verloop. By meer as een geleentheid het hy - wat van jongs af ondeund en onnutsig kon wees - met 'n gesteun by die departementele vergadering opgedaag en met gevoude arms en 'n verveelde uitdrukking gaan sit, iets wat Van der Merwe baie gou agtergekom en nageboots het. Scholtz was verplig om Opperman eenkant toe te roep en hom oor sy optrede oor die vingers te tik. Toe Opperman speels enige doelbewuste uittarting ontken, was Scholtz se woorde: ‘Nee, jy sit verveeld voor jou en uitstaar en jy steek Izak aan. Met julle twee wat só sit, kan ek die jong mense in die Departement nie meer beheer nie!’ Op 'n keer moes Scholtz taamlik dringend reëlings vir 'n hereksamen tref en belê hy 'n departementele vergadering op die dag voor Kersfees, nog iets wat die gramskap van Opperman en Van der Merwe gewek het. By geleentheid moes Opperman op 'n Saterdag 'n Standpunte-vergadering bywoon. Scholtz het 'n dag of wat tevore 'n departementele vergadering op dieselfde tyd aangekondig. Toe Opperman sy reeds afgesproke byeenkoms noem, het Scholtz hom soos 'n skoolkind op sy verpligtinge teenoor die Departement en die Universiteit gewys. Opperman was verplig om sy mederedaksielede mee te deel dat hy hulle vergadering nie op die presiese tyd sou kon bywoon nie. Dit was dus klein irritasietjies wat die verhoudinge in die Departement vertroebel het, al was dit gesamentlik nie van soveel belang om 'n openlike botsing tussen Van der Merwe en Scholtz of tussen Opperman en Scholtz uit te lok nie. Aan die einde van 1956 - kort voordat Opperman op 'n uitgebreide studiereis na Europa sou vertrek - het daar egter iets plaasgevind wat blywender skade sou aanrig. In Augustus 1956 het Scholtz vir Opperman meegedeel dat die komitee wat persoonlike bevorderings by die Universiteit behartig, binnekort sou vergader en dat dit sy voorneme is om Opperman vir 'n medeprofessoraat aan te beveel. Op die dag dat die vergadering sou plaasvind, het Opperman egter gesien dat Scholtz met Boplaas, Van my kontrei en 'n paar ander publikasies van Boerneef in die hand na die vergadering vertrek en het hy geweet hoe die wind waai. 'n Paar maande later is dan ook bekend gemaak dat Van der Merwe tot medeprofessor bevorder is - 'n benoeming wat hy op grond van sy jarelange diens aan | |
[pagina 179]
| |
die Universiteit dubbel en dwars verdien het, maar waarop hy in daardie stadium nie vir sy skeppende prosa of sekerlik nie vir sy wetenskaplike werk geregtig was nie, veral nie as Opperman op die een of ander wyse ook aanspraak kon maak nie. Opperman het besef dat Scholtz uiteindelik, toe paaltjie by puntjie kom, van sy oorspronklike voorneme afgesien en die bevordering tydens die komiteevergadering vir Van der Merwe bepleit het. In die weke ná die bekendmaking van Van der Merwe se bevordering en vóór Opperman se vertrek na Europa was Scholtz egter laks om dié belangrike aangeleentheid met Opperman te bespreek. Die boot sou egter op Vrydag, 7 Desember, vertrek, en Scholtz kon nie langer wag nie. Na afloop van 'n noenmaal by die Here XVII op Donderdag, 6 Desember, het Scholtz oor 'n drankie Opperman gewys op Van der Merwe se jarelange diens aan die Universiteit, sy begeesterende doseerwerk en sy bydrae tot die Afrikaanse prosa. Al hierdie dinge was vir Scholtz uiteindelik deurslaggewend om 'n aanbeveling ten gunste van Van der Merwe te maak, al het hy besef dat Opperman op grond van sy skeppende en wetenskaplike publikasies veel sterker staan. Opperman het die bevordering vir sy kollega en vriend van harte gegun en was saam met Van der Merwe verheug oor die medeprofessoraat, maar hy het Scholtz se optrede laakbaar gevind en dit ook sonder omhaal van woorde aan hom gesê. Met die aanvanklike belofte het Scholtz sekere verwagtinge geskep wat nie vervul kon word nie, en met die uitstellery om sy gewysigde plan van aksie en uiteindelike optrede in die komiteevergadering aan Opperman oor te dra, het hy 'n vertrouenskrisis geskep wat 'n sekere troebelheid in hulle verhouding bring. Daarby het Opperman gevoel dat Scholtz nou, op die vooraand van sy en Marié se vertrek na Europa, sy tyd met 'n afgehandelde saak mors en hom deur die aarselende mededelings en omslagtige aanbod meer laat drink het as wat hy wou. Met 'n bietjie venyn het hy verwys na die dag toe Scholtz en sy vrou in hulle motor geklim het om D.B. Bosman êrens in die Noordweste op te spoor om hom te herinner aan sy belofte om die pos as ambassadeur in Den Haag te aanvaar en só vir Scholtz die geleentheid vir die hoofskap van die Departement te skep. Scholtz was ontsteld dat Opperman van dié dinge weet. Uiteindelik is hulle sewe-uur die aand vriendskaplik uiteen, al het daar 'n krapperigheid by Opperman agtergebly. Tussen 1949 en 1956 het Opperman hard gewerk en baie vermag, maar die begeleidende spanninge het wel hulle tol geëis. Reeds in 1946 het die huisdokter hoë bloeddruk by Opperman gediagnoseer en was hy bekommerd oor sy gesondheid, al het hierdie simptome betreklik gou verdwyn.Ga naar eind7 Met die behandeling het dit aan die lig gekom dat kalmeermiddels 'n nadelige uitwerking op Opperman het. Om te ontspan, het hy toenemend meer alkohol begin gebruik, iets waarvoor hy nou met sy geriefliker dagprogram veel meer geleentheid gehad het. Dit was sy gewoonte om vroeg in die oggend wakker te word, om 5.45 vm. na die nuus oor Springbokradio te luister, die koerant te lees, ontbyt | |
[pagina 180]
| |
te nuttig en dikwels weer vir 'n kort tydjie te slaap. Dan het hy gebad, aangetrek, vir Izak van der Merwe opgelaai, die kinders by die skool besorg en - as hy die dag klasse gehad het - betyds vir die eerste lesing om 8.45 vm. by die Universiteit aangekom. Na die teesessie het hy dikwels nog 'n lesing gehad, administratiewe werk afgehandel of die biblioteek besoek. As sy werk so teen 11.30 vm. klaar was, het hy en Van der Merwe weer in die motor geklim. By die huis in Drieankerbaai en later Tamboerskloof was dit sy gewoonte om drankies te drink, 'n goeie maaltyd te geniet en dan - afhangende van laatmiddagklasse - tot vyfuur of sesuur te slaap. Daarna het hy selde weer gedrink, maar van omstreeks agtuur in die aand tot drie-uur soggens gewerk. Aanvanklik het Opperman hoofsaaklik bier gedrink. Omdat hy egter geneig was tot swaarlywigheid, het hy betreklik gou veral brandewyn - hoofsaaklik Oude Meester - en water verkies. Baie van sy vriende het ook alkohol geniet en die sosiale geleenthede van die Nasionale Pers en gesellighede by die huis is dikwels opgevrolik deur die gebruik van groot hoeveelhede drank. Opperman het feitlik nooit kroeë of ander openbare drinkplekke besoek nie, maar verkies om tuis te drink. Terwyl hy vroeër in Natal en in Johannesburg slegs sporadies gedrink het, veral bier omdat dit goedkoop was, het hy in die vyftigerjare 'n vaste gebruiker geword. Hy het stadig gedrink, gewoonlik 'n behoorlike maaltyd daarby genuttig en nooit sigbaar dronk of onverantwoordelik voorgekom nie. Marié was bekommerd oor sy drinkpatroon - veral omdat hy ook 'n strawwe roker was - en het dit by meer as een geleentheid met hom bespreek. Sy verweer was dat vreugdes en verdriete hom só skud dat hy 'n kalmeermiddel nodig het. Daarby het hy ná 'n sessie gekonsentreerde werk of 'n oggend se irritasies by die Universiteit die behoefte gevoel om te ontspan. Aangesien die gebruiklike kalmeermiddels vir hom taboe was, het hy drank verkies. Dit was vir hom aangenaam om gemoedelikheid deur alkohol te ervaar, en dit het hom laat ontspan. Daarby het dit hom gehelp om sy teruggetrokkenheid te oorkom en makliker met mense te kommunikeer. Hoewel hy soms drank as 'n prikkel vir sy skeppende werk gebruik het en miskien 'n enkele reël agterop sy dosie Stuyvesant sou neerkrabbel, was dit sy vaste gewoonte om nooit onder die invloed iets te skryf nie. Drank kon volgens hom miskien 'n ingewing verder stimuleer, maar dit was sy oortuiging dat die skrywer by sy volle positiewe moet wees as hy aan al die strukturele eise van 'n kunswerk wil voldoen. Daarom het hy nooit ná 'n dranksessie gaan werk nie, maar hom eers behoorlik uitgeslaap. In die vyftigerjare was Opperman dus reeds 'n gewoontedrinker. Aangesien hy 'n gestel so sterk soos 'n bees gehad het, kon hy dit absorbeer sonder om sy gesondheid merkbaar daaronder te laat ly. Daarby was hy toe kreatief só polsend dat sy skeppende werk alle ander aktiwiteite in dié jare op die agtergrond geskuif het. Hy was in die fleur van sy lewe en hy het 'n periode ervaar waarin hy self kon sien hoe hy as skeppende kunstenaar en literêre denker tot 'n meester ontwikkel. Dit was vir hom elke dag 'n vreugde om so voluit te leef. | |
[pagina 181]
| |
IIMet sy diensaanvaarding aan die Universiteit van Kaapstad in Maart 1949 het Opperman 'n hele aantal ongebundelde gedigte gereed gehad waarvan sommige in Standpunte, III:2, April 1948 gepubliseer is. Die impetus van sy werk as dosent en sy daaglikse kontak met kollegas was die aanleiding tot verdere werk. 'n Gedig soos ‘Ou non’ wat in die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring van 1950 verskyn, kan teruggevoer word na sy kennismaking met suster Sinte Josef, toe hy as elfjarige seun ernstig siek gelê het aan maagkoors in die Rooms-Katolieke Sanatorium in Pietermaritzburg. Tog steun dit ook regstreeks op sy bestudering van die mistieke Middeleeuse skryfster Hadewijch se werkGa naar eind8 wat hy in 1949 vir sy Honneurskursus moes voorberei. Die gedig oor ‘Jeroen Bosch’ wat in Standpunte, V:1, Oktober 1950 opgeneem word, vloei voort uit sy kennismaking met sy kollega Diek Bax wat in hierdie jare met 'n uitvoerige studie oor Bosch se ‘Tuin van aardse luste’ besig was. Vir ‘Gebed om die gebeente’ in dieselfde uitgawe het hy op Canis Scholtz se wenk Preller se uitgawe van Scheepers se Dagboek deurgewerk. In dié nommer verskyn ook ‘Draaikewers’, 'n gedig wat ingegee is nadat Opperman op 'n dag ná 'n rusie by die huis die kringelende waterhondjies in een van die sementdamme met waterplante naby die Nasionale Kunsmuseum in die Tuine dopgehou het, al kan dit ook steun op sy kennismaking as hoërskoolseun met Gezelle se ‘Het schrijverke’ wat hy nou ook met sy eerstejaarstudente moes behandel. Die ‘Brandaan’-siklus, wat in Standpunte, V:2, Desember 1950 verskyn, is ingegee deur sy studie van die Middeleeuse teks van De reis van Sente Brandane. As daar in Die Burger van 31 Julie 1950 'n berig verskyn oor 'n agtjarige swart meisie wat in die Ceres-distrik op 'n koue sneeunag verkluim, is dit vir Opperman só aangrypend dat hy die gedig ‘Klara Majola’ skryf. In 'n brief aan C.J.M. Nienaber op 31 Mei 1953 vertel hy dat hy ná voltooiing die gedig vir Izak van der Merwe oor die telefoon voorgelees het, ‘gedeeltelik as uitdaging, omdat dié voorval in sy wêreld plaasgevind het’.Ga naar eind9 'n Ruk daarna het Boerneef sy verhaal ‘Klara Mentoor’ geskryf wat in Standpunte, VI:1, Oktober 1951 verskyn en in 1956 in Teen die helling opgeneem word. Voordat hy hierdie verse bundel, werk Opperman egter in dié jare aan 'n ander gedig wat hy kort ná sy diensaanvaarding aan die Universiteit van Kaapstad voltooi en aan die einde van 1949 publiseer, naamlik die lang epiese vers Joernaal van Jorik. Die eerste ingewing vir dié gedig kry hy op Saterdagoggend, 22 Mei 1948, toe hy en Van Wyk Louw in die Kaapstadse Koffiehuis saamgekom het om 'n koppie koffie te drink, te gesels en gedagtes met mekaar te wissel.Ga naar eind10 Met die belangrike verkiesing oor vier dae as prikkel het die gesprek gegaan oor die houding van die Ossewa-Brandwag en sy leier, Hans van Rensburg. Opperman vertel van die Stormjaers en Gryshemde se ekstremistiese en | |
[pagina 182]
| |
gewelddadige optrede in Johannesburg en verwys na hulle aanvalle op die pers, beskadiging van kerke en pogings om die staatstelsel omver te werp.Ga naar eind11 As voorbeeld van die stryd in Pietermaritzburg wei hy uit oor sy kontak met die splintergroepe daar, en noem die geval van 'n ‘Duitse spioen’, Olaf Andresen, vir wie hy nie persoonlik geken het nie, maar uit wie se geheimsinnige aktiwiteite, nagtelike bewegings en die sporadiese, versluierde inligting van 'n Duitse onderwyseres oor haar bereisde ‘vriend’ se werk as agent hy gaandeweg vir homself die beeld van so 'n spioen in diens van die Nazi's opgebou het.Ga naar eind12 Onder die vertelling deur het Opperman in een flitsende oomblik besef dat hy hiermee die sleutel tot en omraming vir 'n lang vers het en die antwoord op baie dinge wat reeds 'n hele tyd in hom woel. Met die figuur van die spioen of verraaier kon hy die geweld en vergrype van minderheidsgroepe soos die Stormjaers, die reikhalsende verlange na 'n staatsgreep en die verwarring onder die Afrikaners in sy gedig verwerk. Hy kon ook steun op sy en sy familie se regstreekse ervaring van die stryd teen veronregting in Natal en aan die Rand terwyl hy in Pietermaritzburg onderwys gegee en tydens vakansies gereelde besoeke aan sy ouers in Johannesburg gebring het. Daarby kon hy ook met 'n figuur wat aan die Suid-Afrikaanse kus afgelaai word en die land moet verken, die sentrale problematiek van die kontinuïteit van die geslagte na Negester oor Ninevé verder uitwerk: die mens se opstyg uit die ‘oer-moeras’ en sy ontwikkeling deur verskillende evolusionêre fases heen wat volgens die opvattinge van Darwin deterministies bepaal is. Reeds in Negester oor Ninevé word die kontinuïteit van die geslagte egter ook in verband gebring met die woeste voorgeskiedenis van die talle strandings aan die Kaapse kus en die pioniers en vegters wat die ongetemde land help oopmaak het, terwyl die indiwidu die ‘strenge blik van voorgeslagte’ nie kan ontwyk nie en die taak het om soos hulle vóór hom verder voort te veg. Die wyse waarop Opperman die geskiedenis hanteer, hang ten nouste saam met die Jungiaanse opvatting dat elke mens die verlede as die groot ‘kollektiewe onbewuste’ van die bepaalde volk of stam én die hele mensdom as sodanig met hom saamdra. Verder leer Jung en die literatuur hom dat elke eeu as 't ware sy eie gestalte opbou waarin die essensie van 'n ganse geslag of meer beliggaam word en dat die gestalte van ons eie tyd dié van die verraaier, 'n moderne Judas, is. Met die Jorik-gestalte kon hy deur die biologiese en psigologiese ‘herkoms’ van sy hooffiguur sy verhaal terugvoer tot die aanvang van die mensheid, die Westerse beskawing en die volksplanting aan die Kaap. Met Jorik se verkenningsreise deur die land kon hy ook die volksgeskiedenis vanaf die vroeë pioniers tot die oorlogsjare en daarby die wisselende Suid-Afrikaanse landskap, die mengelmoes mense en hulle saambestaan in hierdie land op 'n boeiende wyse oproep. Daarmee kon hy verder 'n ander uitdaging bevredig wat hom sedert sy studentedae getart het. As nagraadse student maak hy kennis met Albert Verwey | |
[pagina 183]
| |
se uitspraak dat die poësie van Leipoldt, méér as dié van Celliers of Totius, die stem en die gewete van die Afrikaanse volk is en daarom ‘de dichterlijke inhoud van Zuid-Afrika’Ga naar eind13 vergestalt. Die vraag ontstaan by hom hoe hy in sy eie poësie ‘dichterlijke inhoud’ aan Suid-Afrika kan gee. Met die gestalte van die spioen of verraaier, só het Opperman tydens sy gesprek met Van Louw gedink, het hy die antwoord op al hierdie vrae en die stof vir 'n epiese vers. Deur so 'n gedig kan Darwin, Jung en Verwey met die Suid-Afrikaanse aktualiteit 'n verbinding aangaan en kan hy 'n ideaal van baie jare verwesenlik: 'n karakter wat die gestalte van ons tyd verteenwoordig, deterministies bepaal deur die spel van chromosome en die kollektiewe onbewuste van 'n hele volk en menseras. Met Joernaal van Jorik sou hy terselfdertyd ‘dichterlijke inhoud’ aan Suid-Afrika gee. Reeds tydens die gesprek met Van Wyk Louw het Opperman enkele aantekeninge op sy sigaretdosie gemaak. By die huis het hy dadelik vir Marié van die ingewing in die Koffiehuis vertel en begin met 'n eerste ruwe ontwerp vir die gedig. Alhoewel hy betreklik gou dele van die gedig stuk-stuk kon neerskryf, het hy met die verpligtinge by Die Huisgenoot nie die tyd gehad om hom volledig in lang sessies oor te gee nie. Tog was ‘Duikboot’ reeds in Augustus 1948 in sy eerste staat voltooi en kon hy met ‘Kamera’ begin. Die aanvaarding van die pos by die Universiteit van Kaapstad het die vordering met Joernaal van Jorik aanvanklik vertraag, maar tog kon hy geleidelik verder werk. Op 'n dag, waarskynlik in April of Mei 1949, was Van Wyk Louw by hom aan huis en het die gesprek gehandel oor nuwe verse waaraan hulle albei gewerk het. As voorbeeld wys Opperman hom 'n vroeë versie van ‘Jeroen Bosch’ waarmee hy toe pas klaar was. Van Wyk Louw was ingenome daarmee, maar het die versbeweging in die gedig te horterig gevind en gesê dat hy dié soort reël verkies wat sintakties wyd uitswaai. Opperman verdedig ‘Jeroen Bosch’, sê dat die korter versbeweging juis deel van sy effek in dié gedig is en gee dan 'n voorbeeld van die uitswaaiende tipe reëls uit 'n ander ongepubliseerde gedig: Maar hy wat ongeëer
in windsels van die suiderwaters slaap
en deur toorwinde daardie eerste keer
veilig gevoer is om die Stormkaap...
is groter nog: hy, Dias, wat die Kruis
tussen die pikkewyne op die eiland
Santa Cruz, waar robbe en seeluise
uit warmer strome kruip, die eerste plant (.)
So kom die gesprek op die Dias-figuur, en dit blyk dat Van Wyk Louw ook van plan is om die stof in verband met hierdie ‘oervader en oervaarder van Suid-Afrika’ (soos Opperman hom later in 'n radiopraatjie sou noem) te ge- | |
[pagina 184]
| |
bruik, maar dat hy nog nie verder gekom het as om die naam Dias op 'n manuskrip te skryf nie. Op 'n speelse wyse lei albei digters se belangstelling in dieselfde stof dan ook tot 'n uitdaging om iets oor Dias aan te pak. Van Wyk Louw was juis van plan om in die komende winter by Boesmansriviermond in sy skoonvader se huis te gaan bly waar hy die terrein van die Dias-kruis kon besigtig. Terwyl Van Wyk Louw met vakansie was, het Opperman voortgewerk aan Joernaal van Jorik. In die loop van Julie 1949 kon hy die gedig binne die bestek van tien dae tot by die tweede tikstadium voltooi. Vir die afhandeling van die manuskrip het hy, weg van ‘foon en vrou’ soos hy dit met sy liefde vir die alliteratiewe spel kon uitdruk, in die Hotel Olympic in Muizenberg gaan bly, 'n soort afsondering waarvan hy dikwels gebruik gemaak het as hy sonder onderbreking met 'n groot stuk werk wou vorder. As Van Wyk Louw van Boesmansriviermond terugkeer, gaan Opperman hom by die Kaapse stasie haal. Terwyl hulle dan in die woonstel in Drieankerbaai gesels, blyk dit dat Van Wyk Louw nie 'n enkele reël van Dias kon skryf nie, maar dat hy nuuskierig is of Opperman ná hulle uitdaging aan mekaar iets kon uitrig. Daarop gaan haal Opperman die voltooide Joernaal van Jorik en lees Van Wyk Louw die gedig met toenemende waardering en geesdrif. Toe hy klaar is, wens hy Opperman geluk en sê aan hom dat hy dit dadelik behoort te publiseer en nie nog moet wag nie. Hy maak die opmerking dat ons ouer digters nooit 'n vaste vorm vir die epos kon vind nie en dat selfs iemand soos Totius in Ragel en Trekkerswee 'n wisselende versvorm aanwend wat prosodies onrustig aandoen, terwyl Opperman hier die kwatryn op 'n soepel wyse hanteer; die enkele keer waar die vers met ‘Trippe, trappe, trone’ uit die geslote vorm tree, verhoog dit juis die spanning. Met dié gedig het Opperman iets bereik waarvan hy die gelyke in die wêreldletterkunde nie ken nie. As hulle láát in die nag na Clifton ry, herbevestig Van Wyk Louw sy waardering vir die gedig. Joernaal van Jorik sê iets oor ons land en sy mense, die strewe van die Afrikaner, Opperman se eie lewe en gee daarby nog 'n hele kunsteorie, alles in die vorm van 'n speurverhaal. En daarby kom nog die besondere beeldspraak en taalgebruik wat selfs die gewoonste, alledaagse woord (‘Gaat jou blikkies!’) kan insluit. Komende van die skrywer van Raka was hierdie lof vir Opperman 'n vreugdevolle en ontroerende ervaring. Hy deel sy vriend mee dat hy destyds in Pietermaritzburg ná sy eerste kennismaking met Raka in 1941 vir Marié gesê het dat hy nooit tot poësie van dié kwaliteit in staat sou wees nie. Dat juis Van Wyk Louw nou hierdie woorde sê, was vir hom 'n belangriker herbevestiging van sy eie digterskap as die lof van baie resensente. Intussen het Opperman ook getikte eksemplare van Joernaal van Jorik aan drie van sy ander vriende ter insae gegee. Izak van der Merwe het die gedig met groot geesdrif gelees, maar nie spesiale kommentaar op die geheel of spesifieke onderdele gelewer nie. Fred le Roux was ook besonder gunstig oor die gedig en | |
[pagina 185]
| |
het in sy eksemplaar van die getikte teks bepaalde strofes met 'n regmerkie aangestip en by enkele reëls taalveranderinge voorgestel. Canis Scholtz het die interpunksie, spelling en ander taalkundige aspekte noukeurig nagegaan en by probleemgevalle kruisies in sy afskrif van die teks gemaak.Ga naar eind14 In 'n artikel in Die Burger van 5 Desember 1973 wat hy later in sy bundel Oor skilders en skrywers opneem, gee hy 'n aanduiding van sy kommentaar op Joernaal van Jorik en advies aan Opperman: Ek het by die lees vernaamlik gelet op die taalgebruik - nie so danig om te oordeel of dit ‘korrek’ is nie maar eerder om te voel of elke woord en konstruksie deur sy betekenisnuansering, sy klankvorm en sy klemverdeling die juiste en die effektiefste werking in die reël, die strofe of selfs in die wyer verband van die gedig as geheel het: 'n gedig is tog in hoë mate 'n besondere vorm van taalgebruik. Afgesien van sy belangstelling in taalgebruik was Scholtz ook besonder geïnteresseerd in die ontstaan van 'n gedig. ‘Wanneer ek met 'n groot kunswerk van een van my vriende kennis gemaak het,’ sê hy in Oor skilders en skrywers, het ek altyd gewonder: hoe het dit ontstaan en hoe het dit gegroei tot wat dit uiteindelik geword het - m.a.w. ek was baie geïnteresseerd in die geskiedenis van die ‘zich vormende vorm’. Ek vra toe aan Dirk wat geword het van die verskillende stadia op papier van Joernaal van Jorik en sê hom hy moet tog niks vernietig nie. Enkele dae later kom gee hy my alles wat hy bymekaar kon maak - 'n hele groot bundel in 'n stywe omslag’.Ga naar eind16 Op dié wyse het die geskrewe manuskrip, ontwerp en eerste getikte vorme van die gedig in Scholtz se besit gekom. Aangemoedig deur die besonder gunstige kommentaar van sy literêre vriende lê Opperman die manuskrip vroeg in Augustus 1949 aan die Nasionale Pers voor. George Minnaar, nuwe hoof van Algemene Publikasies, vra Canis Scholtz se mening oor die gedig. Sonder om 'n verslag te skryf, beveel Scholtz dit geesdriftig aan as een van die sterkste werke op die gebied van die Afrikaanse poësie.Ga naar eind17 Op 26 Augustus word dit na die setters deurgestuur en op 16 November van dieselfde jaar verskyn Joernaal van Jorik in 'n oplaag van 960 eksemplare. Die aanvanklike verkoopprys was 9 sjielings per boek, vroeg in 1950 met 6 pennies verhoog. As hulle die eerste eksemplare by die uitgewery in ontvangs neem, ry Dirk en Marié Opperman onderweg terug na Drieankerbaai by die Doll's House in Mouillepunt aan om 'n vleispasteitjie te eet en 'n koppie koffie te drink. Destyds was dit nié die gebruik by uitgewers om by die verskyning van 'n belangrike werk 'n skemeronthaal of 'n dinee te reël nie. As 'n boek | |
[pagina 186]
| |
van hom gepubliseer is, het Opperman egter graag gaste oorgenooi en is daar feesgevier. By die verskyning van Joernaal van Jorik oorhandig hy tydens 'n geselligheid in hulle woonstel van die eerste eksemplare aan sy gewaardeerde vriende. As die reaksie op Opperman se eerste twee digbundels oorwegend geesdriftig was en daar reeds aarselend gepraat is van 'n digter wie se werk saam met dié van Van Wyk Louw die hoogtepunt van die Afrikaanse poësie vorm, was die kommentaar op Joernaal van Jorik oorweldigend. Die eerste resensie oor die gedig verskyn in Die Burger-byvoegsel van 24 Desember 1949 en is geskryf deur Van Wyk Louw, een van die weinige kere in sy lewe dat hy 'n bespreking oor 'n nuwe werk gelewer het. In sy resensie sê Van Wyk Louw dat Opperman met die verskyning van dié werk die groot belofte van sy eerste twee bundels vervul en daarmee homself met een slag in die voorste ry van Afrikaanse digters plaas. Hy praat van die ‘kragtig-gebonde eenheid’, die ‘meesterskap oor die tegniek wat aan elke onderdeel, elke geringste besonderheid byna sy sin en sy betekenisvolle plek in die geheel gee’ en die ‘vensters-op-die-werklikheid (wat) ágter die blote verhaal oopgaan...Die stroom van die verhaal sleep alles mee, bind alles tot 'n eenheid; en die eindelose flonkering van ander betekenisse agter die beeld en woord kom so vanself in die gees van die leser in asof dit deur die digter nie bedoeld was nie.’ Aan die slot praat hy van die ‘soewereine meesterskap wat so 'n rykdom so byna speel-speel kan saamvat en uitspreek in die gewoonste, mees alledaagse woorde. En nadat 'n mens jou lank in die werk verdiep het, weet jy nie wát jy die meeste moet bewonder nie: die groot greep van die konsepsie, of die kragtige bou van die geheel en elke onderdeel, die gaafheid van aparte beelde of die raakheid van enkele woorde nie.’Ga naar eind18 Uit Nederland, waarheen hy kort daarna vertrek om die Amsterdamse leerstoel te aanvaar, stuur Van Wyk Louw vir Opperman drie kleurryke doekskilderye met 'n besonderse patroon; agterop een van hulle skryf hy: ‘Iets vrolik/ vir Jorik/ as klein blyk/ van Wyk.’ Maar ook die ander resensente se kommentaar was ewe lofryk. G. Dekker se radiobespreking van 14 Februarie 1950 is in hoofsaak 'n opsomming van die verhaalinhoud, al noem hy dit 'n ‘belangrike digwerk waarin Opperman deur aan die toevallighede van die werklikheid te ontstyg hom besin op die misterie en diepere sin van volk-wees en mens-wees.’ Oor die Natalse sender lewer G.S. Nienaber op 15 Februarie 1950 'n resensie wat ook in hoofsaak op 'n weergawe van die inhoud neerkom. Aan die einde sê hy: Opperman se heldere, borende verstand skep en orden 'n eie ryk van beelde en simbole om die soms onsegbare te sê, soos oor die geboortewonder. Dit is die een groot wonder van Opperman se poësie dat hy aan sy gepassioneerde denke onder volkome selftug, hoewel skynbaar sonder inspanning, vorm kan gee deur middel van die mees alledaagse, tooilose taal wat 'n byna ergerlike direktheid besit, 'n | |
[pagina 187]
| |
taal, skerp, kantig en hard soos ysterklippe. Die ander nog groter wonder is hoe hy deur passing, voeging en skikking die uiterlike daadsake 'n dieper, 'n tweede betekenis laat aanneem, sodat dit in twee ruime resoneer en dubbelwêrelds tot en met jou praat. Dat die tyd my ontbreek om op die trotse tegniek en die vormkrag te kan heenwys, is iets wat ek betreur, maar miskien is hier al 'n aanduiding van die forse digterfiguur en die buitengewone talent van Opperman wat as voelende moderne mens die Afrikaanse letterskat ryk en monumentaal maak. Een van die belangrikste en insiggewendste reaksies op 'n werk van Opperman tot in daardie stadium is Ernst van Heerden se bespreking van Joernaal van Jorik wat in Die Huisgenoot verskyn en later in Rekenskap opgeneem word. In sy beskouing wys Van Heerden op die verband met vroeëre werk van Opperman, die primordiale inset van die gedig, Jorik as 'n moderne pelgrim, die tegniek van die ‘reisbrosjure’ in ‘Kamera’ en die ‘kaleidoskopiese flitse’ in ‘Granaat’, en die simboliese vlak van die gedig (byvoorbeeld die oersfeer van Genesis, die geslotenheid van die fetus, die kaart en koffer as ‘die oorgelewerde patrone van gedrag en godsdienssin’, en die twee antitetiese magte wat in ‘Duikboot’ deur Manuel en Dabor verteenwoordig word). Hy gaan verder Opperman se verspringende metode, tegniek van kontraswerking en gekonsentreerde beeldtegniek na en sluit af met die uitspraak dat Joernaal van Jorik ‘die ganse betekenis van Afrikaner-wees’ onder die soeklig stel, alles ‘geprojekteer teen 'n agtergrond van geskiedenis en gerealiseer op 'n moderne tydsvlak’. Opperman gee vir ons met hierdie gedig 'n beeld van verskillende nasionalismes en die suggestie is daar dat die Afrikaner homself dalk in nog ander lewens- en geestevorme kan en sal vind. Miskien sal latere geslagte eers die volle draagkrag van sy probleemstelling na waarde kan skat. Maar dit is seker dat ons poësie en ons letterkunde met 'n werk van monumentale grootsheid verryk is.Ga naar eind19 Die bespreking word opgeneem in Die Huisgenoot van 3 Februarie 1950, maar blykbaar moes Van Heerden reeds vroeër 'n kopie daarvan aan die digter gestuur het. Op 21 Desember 1949 bedank Opperman hom en waardeer hy die ‘onbevange en oorweë bespreking. Dit is fyn van aanvoeling, intelligent wat die vertolking betref en, sover as wat jy jou in hierdie opsig uitspreek, stem dit in hoofsaak ooreen met my bedoeling en belewing.’ Onder invloed van Van Heerden se siening skryf F.E.J. Malherbe in Ons Eie Boek, XVI:1, 1950 onder die opskrif ‘Die digter as gewete van 'n volk’ 'n uitvoerige beskouing oor Joernaal van Jorik waarin hy die botsende motiewe en verskuiwende vlakke nagaan en die gedig sien as ‘die mees fundamenteel nasionale werk van ons nuwere digkuns, so nie in ons hele literatuur nie, en tewens een van die grootste kunsskeppinge in ons taal’.Ga naar eind20 In Nieuwere Afrikaanse poëzie, 'n kompakte oorsig wat in 1950 in Amsterdam verskyn, skryf | |
[pagina 188]
| |
D. Bax 'n kort maar deeglike inleiding tot die gedig, terwyl Anthonie Donker 'n welwillende maar weinig insiggewende bespreking in Critisch Bulletin, jaargang 18 (1951) daaraan wy - die eerste twee besprekings van 'n Oppermanwerk in Nederland. Twee ander kritici wat ook later uitvoerig oor Opperman se poësie sou skryf, begin hulle studie van sy werk met resensies oor Joernaal van Jorik. In Trek van Januarie 1951 skryf 'n baie jeugdige Ernst Lindenberg 'n kernagtige bespreking in Engels, terwyl Rob Antonissen in Standpunte, VI:1, Oktober 1951 die motiewe, kriptiese woordgebruik, vers- en strofetegniek en die verhaalgang nagaan en die ‘verbysterende verskeidenheid van lewe soos dit konvergeer en reflekteer in 'n mensesiel’ waardeer. Twee reaksies in briewe uit dié tyd waaraan Opperman veel moes gehad het, is dié van S.J. Pretorius en M.E.R. Op 16 Maart 1950 skryf Pretorius aan Opperman dat hy die ‘verbasende skerp omlyning’ van die beelde in Joernaal van Jorik waardeer. Hy gaan voort: Soms in die lig is Joernaal van Jorik so skerp dat dit met 'n pynlike skok op die retina val. 'n Broeiende oer-skemering en geheimsinnige lewende skaduwees hang en roer verder oral en vervul mens altyd met huiwering. Soms is dit asof die figure mier-klein teen 'n ontsaglike grys verskiet van onafgebroke mistigheid beweeg en dan staan hulle weer opeens bronshard soos Manuel met sy blink littekens vlak voor jou, asof 'n soeklig hom skielik raakgevang het. In antwoord op 'n geskenkeksemplaar van die gedig ontvang Opperman 'n hartlike brief van M.E.R., 'n skryfster vir wie hy in dié jare groot waardering het en aan wie die Universiteit van Kaapstad later in 1951 deur sy, Scholtz en Izak van der Merwe se bemiddeling 'n eredoktoraat in die letterkunde toeken. Op 23 Maart 1950 skryf sy: So iets soos jou Jorik is vir my 'n hartversterking, en ou mense is baie bly oor hartversterkings. Jy wil graag dan verseker word dat die soektog na die bedoeling van die lewe wel by die mens bestaan, en as een, 'n digter gewoonlik, dié belig met wat in sy hart is, het dit vir jou groot betekenis. Een van die eerste reeks lesings wat Van Wyk Louw as professor in Amsterdam in die jare 1950 en 1951 aanbied, is 'n kursus oor Joernaal van Jorik.Ga naar eind21 Na 'n kensketsing (biografies, literêr, polities en kultureel) van Opperman se agtergrond en 'n inleiding tot sy vroeëre poësie staan hy stil by uitsprake oor Joernaal van Jorik. Daarna gaan hy - met Ingarden se onderskeid tussen die strata van die literêre kunswerk as uitgangspunt - die klanklaag, die semantiese laag, gedagtes, idees en emosies, en die metafisiese laag van die gedig na, om dan af te sluit met 'n sosiologiese kyk op Joernaal van Jorik. Wat die klanklaag | |
[pagina 189]
| |
betref, wys hy op die rymtegniek wat naas die ritme iets flikkerends, verrassends, onrustigs en dinamies aan sy styl gee en van Opperman die oorspronklikste, gedurfdste ‘rymer’ in Afrikaans maak. Sy woorde is geweldig gespanne, byna oorlaai met sin en tot hulle hoogste potensie opgevoer, sodat sy hele tegniek laat dink aan die advies wat Keats aan Shelley gegee het: ‘...load every rift...with ore.’ Hy maak die uitspraak dat by Opperman die visuele en intellektuele die musikale oorheers en dat 'n mens by hom veel sneller oorgange van een ritmiese figuur na 'n ander as in die ouer Afrikaanse poësie aantref. Hy toon verder aan hoe die tekstuur van die gedig algaande digter, meer gedronge en nagmerrieagtig raak totdat dit aan die begin van die vyfde afdeling in 'n ware heksedans, 'n ekstase ontwikkel. Hy sluit af met 'n analise van die bou en die verspreiding van die verskillende historiese tydvakke oor die eerste twee afdelings heen en vergelyk die gedig dan met die ander ‘epe’ in Afrikaans: Ragel, Trekkerswee, Martjie en Die timmerman. In 1953 promoveer T.T. Cloete aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam met 'n doktorale proefskrif oor Trekkerswee en Joernaal van Jorik, die eerste dissertasie wat onder Van Wyk Louw as promotor voltooi word en die eerste waarin 'n werk van Opperman onder die aandag kom. As 'n mens hierdie verhandeling met die analise van die prosodiese skemas, beskouing oor die historiese periodes en aanduiding van die samehang met Van Wyk Louw se klasaantekeninge vergelyk, is dit duidelik dat Cloete baie van die insigte en werkmetode van sy promotor oorneem en verder daarop voortbou. Hoewel Cloete wel die diepste in die gedig ingedring het, was Opperman tog nie baie ingenome met die studie nie en het hy heelparty metodologiese en ander besware. In 'n brief van 20 Februarie 1953 skryf hy aan Van Wyk Louw: Op sy (Cloete se - J.C.K.) steekproefmetode sou 'n mens kritiek kan uitoefen, op sy omslagtigheid en geleerddoenery, verder voel 'n mens dat hy dikwels Totius oorskat, met 'n te grote erns foefies ontleed, dat hy die twee gedigte tot 'n leweloosheid rubriseer, dat 'n duidelike samevattende waardebepalende vergelyking, hoewel soms fyn gesuggereer, ten slotte ontbreek...Dan nog: verwikkeldheid en breedheid is nog nie skoonheid nie, is nog geen waarborg vir poësie nie.Ga naar eind22 Naas hierdie waarderende en insiggewende beskouings oor Joernaal van Jorik het die stroom klagtes oor duisterheid waaraan Opperman teen hierdie tyd al gewoond was, nie uitgebly nie. In Die Transvaler van 11 Januarie 1950 sê Jannie Kruger dat die gedig as gevolg van 'n ‘vernuftig(e) geskuur en geslyp’ vertroebel word. Opperman se skerp verstand ‘kom die vorm, die sprankeling van sy poësie ten goede, maar verhelp nie die wegstekerigheid daarvan nie’. En hy sluit af met 'n rympie: Moet ons deur so 'n warreling gaan
van visreie, engtes en slymprikke,
| |
[pagina 190]
| |
voordat ons benaderend die sin verstaan
van die troebel digkuns se snikke?
In The Star van 13 Maart 1950 gee Abel J. Coetzee 'n opsomming van die inhoud, met iets van 'n interpretasie en sê dan die gedig is ‘a clever piece of work, polished in form, but one which left me strangely cold and unmoved’, hoofsaaklik as gevolg van ‘an almost deliberate use of obscureness. It is a kind of poetry which can be enjoyed only after a fierce intellectual struggle, and it tends to become poetry for the select few.’ Ongeveer in dieselfde trant skryf Gerhard J. Beukes in 1952 in Skrywers en rigtings dat die ‘strakke objektiwiteit’ veroorsaak dat die gedig, ‘ten spyte van die simboliek, op baie plekke te veel 'n serebrale opsomming van indrukke word. En die totaalindruk wat dit nalaat is dié van 'n donker, magtige standbeeld teen 'n winternaghemel, indrukwekkend en imposant, maar koud en onpersoonlik’.Ga naar eind23 Terwyl G.A. Watermeyer vroeër Opperman se poësie hoog gewaardeer en Heilige beeste as 'n modeldebuut beskou het, skryf hy - waarskynlik onder invloed van die groepie Johannesburgse skrywers rondom C.M. van den Heever - in die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring van 1950 na aanleiding van Joernaal van Jorik 'n negatiewe beskouing oor Opperman as verstandsdigter, iemand wat met sy verstand die illusie skep ‘dat hy bo die eng-aardse uitstyg tot geheime horisonne’, maar in werklikheid ‘die geniale maar aardsgebonde realis (is) wat skokkend blind bly vir die fynste en hoogste geestelike waardes van die mens’. Uit die tydskrifverse en gedigte wat nog in manuskripvorm was, maak Opperman in die tweede helfte van 1950 'n keuse wat as Engel uit die klip in Desember van daardie jaar gepubliseer word. Die manuskrip van hierdie bundel bestaan hoofsaaklik uit tikskrif met potloodwysiginge op los bladsye, nie 'n volledige ‘clat boek’ soos die manuskrip van Negester oor Ninevé nie.Ga naar eind24 In vergelyking met sy vorige bundel is daar veel minder gedigte wat hy ongepubliseer laat lê. Tussen die gedigte deur is daar orals aantekeninge vir Digters van Dertig en sy keuse vir die verseboeke, albei projekte waaraan hy in dié jare werk.Ga naar eind25 Ook op Engel uit die klip was die kommentaar van die kritici oorwegend gunstig. Van die kant van die Helikon-groep kom daar wel negatiewe reaksie op die bundel en op Opperman se ander literêre bedrywighede in die vyftigerjare, soos die twee artikels wat Watermeyer in Helikon, 11:10 en 11 oor ‘Die doodlooppad van Opperman se kuns’ skryf. Daar word smalend gepraat van die ‘brawe letterkundige manhaftigheid’ wat 'n digter in 'n vers soos ‘Jeroen Bosch’ daartoe verlei om ‘te verhaal hoe “God” die “swaeltjies deur 'n tregter ge-” het’Ga naar eind26 en teruggegryp na die ‘Shaka’-gedig uit Heilige beeste waarin die kwaggas vir Abel Coetzee sulke bekoorlike geluide gemaak het: ‘Daar draf 'n kwagga deur ons poësie/ met onverfynde onomatopee’.Ga naar eind27 Soms handel meer as die helfte van 'n uitgawe van Helikon in hierdie jare oor duisterheid of deka- | |
[pagina 191]
| |
densie in die nuwere poësie en verwys Opperman in gesprekke na die blad as sy persoonlike ‘telyforgaan’! Teenoor hierdie snedighede ontvang hy egter baie lof van vriende en kennisse. Nog voor die verskyning van die bundel wys Fred le Roux aan M.E.R. ‘Gebed om die gebeente’. In 'n brief van 9 Augustus 1950 skryf sy aan Marié Opperman dat die lees daarvan haar ‘so ter harte gegaan het.... Wonderlik dat hy die vrou se hart so kan verstaan, en dit aan ons wat vroue is.’ Op 9 Februarie 1951 skryf Van Wyk Louw uit Amsterdam aan Opperman, onder meer om hom te bedank vir die toesending van die bundel. Hy sê: Ons is almal opgetoë daaroor. Van die nuwe dinge: veral die Ou Non. Saam met die Draaikewers is dit vir my die mooiste, maar soveel moois is daar verder dat ek dit 'n groot bundel wil noem. Dis natuurlik nie die plek om in besonderhede in te gaan nie, en oor die meeste verse het ons al gepraat. Dan nog: My nôi is in 'n nartjie! Ek wens ek kon 'n goeie glas saam met jou daarop drink - en dan nie van die onvolvloekbare jenever nie. Mag ek vir jou een punt van kritiek noem? Pas op vir te veel alliterasie; hier en daar (ook in Jorik, waarmee ek my nou reeds lank intensief besig hou) vind ek dat dit te opsetlik word. As jy plekke wil genoem hê, sal ek dit later graag doen. Maar vanmôre nie. En in 'n brief van 1 Mei 1951 stuur S.J. Pretorius vir hom die kwatryn ‘Aan D.J. Opperman’: Diep uit die ingewande van die Klip
het ruisend uitgevou en losgeglip
'n Engel. Toe val daar van sy silwer vinger
'n soete druppel op my dorre lip.
Maar ook die kommentaar van die ‘amptelike’ kritici was gunstig. In Die Huisgenoot van 9 Februarie 1951 wys A.P. Grové op die skeppingsbewussyn wat tot gevolg het dat 'n mens in die bundel nie ‘invalle en los stemminkies’ kry nie, maar 'n ‘hardnekkige drang’ om ‘telkens uit die wrange alledaagsheid 'n nuwe waarheid te laat opglans’, sodat ‘die digter die matelose ontdekker (word) wat met die wiggelroede van die woord en beeld die ewigheid in die tyd ontdek’. In sy insiggewende beskouing toon hy die ‘meesterlike tegniek’ van enkele gedigte kursories aan en staan hy langer stil by ‘Brandaan’ en ‘Gebed om die gebeente’. G. Dekker se radioresensie van 12 April 1951 is ewe teleurstellend as sy oppervlakkige bespreking van Joernaal van Jorik, maar hy formuleer 'n belangrike insig in die aksentverskuiwing wat Opperman se werk vir die kritiese aktiwiteit meebring: ‘Dit hoef wel geen betoog dat 'n bespreking van hierdie poësie vir 'n wyere leserskring nie slegs 'n karakteristiek en waardering kan wees nie maar veel meer as gewoonlik die geval is, ook deur verklaring die rol van middelaar tussen kunstenaar en publiek moet speel.’ In Ons Eie Boek, XVII:2, 1951Ga naar eind28 skryf F.E.J. Malherbe met veel meer insig en | |
[pagina 192]
| |
maak hy die uitspraak dat Opperman en Van Wyk Louw onder die belangrikste digters van die Dietse gemeenskap is, maar dat Opperman ‘in sy Afrikaansheid, oorspronklikheid en konkreetheid van rykgeskakeerde boeretaal’ 'n groter verwantskap met Leipoldt het. In Standpunte, VI:1, Oktober 1951 wys Rob Antonissen op die toenemende roepingsbesef en doelbewustheid by Opperman, ook op die taak van die geroepene en die ‘profeet-digter’ wat by hom so anders geformuleer word as wat Van Wyk Louw dit in Die halwe kring doen. Hy vind ‘Gebed om die gebeente’ die ‘glansryke hoogtepunt’ van 'n bundel waarin Opperman bewys lewer dat hy ook in staat is om die ‘kragtiggeboude en in alle onderdele pragtige lang gedig’ te kan skryf, 'n tipe gedig wat ‘'n volmaakte eenheid vorm danksy die ritmiese stuwing van die emosie’. In Nederland publiseer M. Luitingh, 'n kritikus wat ook later veel oor Opperman sal skryf, in Critisch Bulletin van September 1952 haar eerste beskouing oor dié poësie na aanleiding van Engel uit die klip. Dekker se opmerking dat Opperman se werk die kritikus dwing om veel meer as vroeër ‘deur verklaring die rol van middelaar tussen kunstenaar en publiek’ te speel, vind 'n mens reeds weerspieël in die wyse waarop die resensente van Engel uit die klip die bundel benader. Hierdie eksegetiese funksie is in die vyftigerjare in die besonder die kritiese praktyk van A.P. Grové wat in opstel na opstel Opperman se poësie aan streng ondersoeke onderwerp en teoretiese uitgangspunte aan die hand van sy verse nader toelig. Die nuwe gerigtheid op die teks, wat deur die kennis van veral die Amerikaanse en Engelse literêre teorie en 'n rigting soos die stilistiek op linguistiese grondslag by letterkundiges ontwikkel, word juis verder gestimuleer deur die werk van Opperman. In artikels in Die Huisgenoot, Theoria en Standpunte neem Grové sy voorbeelde by voorkeur uit Opperman, sodat 'n mens in 'n groot mate van hom as die ‘begeleidende’ kritikus van Veertig kan praat, soos Mulder dit van Dertig was. Wat Grové veral in Opperman tref, is sy simbole en metafore wat verskiete oopruk, sy aardsheid maar terselfdertyd sy vermoë om dinge met Midas-vingers aan te raak, en die verskeidenheid vorme wat hy hanteer. Opperman se poësie het vir die teksgerigte kritikus 'n dankbare arbeidsveld gebied. Jare later sal Grové dit as sy oortuiging formuleer ‘dat die besondere aard van Opperman se poësie, miskien meer as enige enkele ander faktor’, vir die duidelike wending in die Afrikaanse literêre kritiek verantwoordelik was, ‘ook bepalend... vir die rigting van die Afrikaanse kritiek sedert 1950’. Hy gaan voort: Met sy sterk intellektuele onderbou, sy verwysings, sy ontginning van bestaande tekste, sy boeiende struktuur was die Opperman-model 'n lokkende uitdaging vir almal wat hulleself wou meet, almal wat geïnteresseerd was in die bestaanswyse en gedrag van die gedig as gedig.... Bowendien kon die noulettende betragting van Opperman se werk nuwe perspektiewe open en boeiende ekskursies moontlik | |
[pagina 193]
| |
maak in die besinning op literatuurkundige vraagstukke van 'n meer algemene aard: die roeping van die digter, die aard van die literêre kunswerk, die probleem van die ‘selfgenoegsaamheid’ van die gedig, die spanning tussen digter en gemeenskap, tussen mens en digter, die literêre verwysing, die plek van die biografiese besonderheid e.d.m. Kortom, Opperman se skeppende werk het die Afrikaanse literêr-kritiese aktiwiteit op 'n wye front gestimuleer...Ga naar eind29 Ná publikasie van dié resensie oor Engel uit die klip skryf Opperman op 9 Februarie 1951 - dieselfde dag as wat die bespreking verskyn - aan Grové dat hy die stuk met plesier gelees het. Hy vind daarin ‘groot begrip en gevoeligheid’ en ‘'n besonder vlot en helder prosa’. Hy waardeer die aandag aan tegniese sake en die analises van ‘Brandaan’ en ‘Gebed om die gebeente’; met die Esegiël-verwysing het Grové sy ‘bedoeling summier gevolg’. As besware noem hy dat Grové nie wys op een van die sentrale botsings in die bundel nie, naamlik ‘die religieuse en estetiese wat langs mekaar loop’ in gedigte soos ‘Scriba van Egipte’ en ‘Brandende boek’, terwyl hy - met 'n verwysing na uitsprake van Poe en Eliot - ook nie insien dat die vereistes vir die langer vers anders is as dié vir die korter gedig nie. Die belangstelling in Opperman se poësie en die besondere wyse waarop hy krities daarteenoor ingestel was, lei Grové dus tot 'n intense studie. 'n Mens kan sê dat hy in die vyftigerjare 'n baie belangrike bydrae lewer om die besondere aard van dié oeuvre vir lesers te ontsluit. Kort na die verskyning van Engel uit die klip ontmoet Grové en Opperman mekaar persoonlik as Grové in Kaapstad op besoek is en Opperman hom by die groot horlosie op die ou stasie kom afhaal. Tussen die twee ontwikkel 'n persoonlike toegeneentheid en wedersydse respek. Opperman het groot waardering gehad vir die drif en kundigheid waarmee Grové met die poësie omgaan, terwyl Grové met die jare al hoe meer fasette van sy vriend leer ken het. By geleentheid was hy beïndruk en ontroerd toe Opperman oor sy skeppende werk en sy verpligtinge by die universiteit gesels, maar daarnaas ook laat blyk hoe geheg hy aan sy gesin is, die bekommernisse wat hy oor hulle het en hoe ná hulle welsyn hom aan die hart lê. In sy teoretiese inleiding tot die studie van die poësie wat hy in 1953 as Woord en wonder publiseer, maak Grové by herhaling gebruik van Opperman se werk as illustrasiemateriaal. By die verskyning van die tweede uitgawe stuur hy 'n eksemplaar aan Opperman met die inskripsie: ‘Aan Dirk, die verskaffer van goeie voorbeelde.’ As hy in 1958 die bundel Oordeel en vooroordeel - waarin talle insiggewende opstelle oor Opperman se werk opgeneem word - aan die Nasionale Boekhandel vir publikasie voorlê, vra hy Opperman se hulp met die tegniese versorging en die onderhandelinge met die uitgewers. Wanneer die boek verskyn,Ga naar eind30 stuur hy - as antwoord op die digterlike inskripsies wat hy van Opperman in bundels ontvang het - 'n eksemplaar aan die digter met 'n kwatryn voorin wat met sy rymskema die Opperman-‘model’ volg en waarin die ‘voelhoring’-beeld by die voorstelling van die Kaapse skiereiland in Vergelegen aansluit: | |
[pagina 194]
| |
Kritiek, log en met aanvaarde agterstand,
stuur ek met toegeneë hart en ope hand
aan Diederik wat nou los voor ry
op die fyn voelhoring van 'n trae Vasteland.
of anders: Aan Jorrie word hierdie boek opgedra
waar hy sit op die stuitjiebeen van Afrika.
| |
IIITeen 1949 was Opperman met onderbrekings reeds twee jaar lank met die samestelling van die reeks bloemlesings uit die Afrikaanse poësie aan die gang. Die projek is aanmerklik vertraag deur W.E.G. Louw wat as medesamesteller veel minder werk verrig en telkens nagelaat het om briewe te beantwoord. Aan die einde van 1948 het Louw egter teenoor Opperman en die verteenwoordigers van die Nasionale Pers onderneem om sy aandeel op die boot onderweg na Europa finaal af te handel en sy keuse so gou moontlik aan te stuur. Opperman ontvang egter geen enkele letter van Louw nie. Wanneer hy op die terugreis in Julie 1949 weer Kaapstad aandoen, onderneem Louw om nou dadelik alles finaal af te handel en om volgens afspraak voorstelle in verband met die keuse uit die poësie van die Eerste Beweging te stuur. Maar ook hierdie onderneming kom Louw nie na nie. In 'n brief van 27 Maart 1950 sê hy dat hy as gevolg van departementele probleme deur die dood van sy kollega Mulder en boedelsake van sy oorlede skoonvader die voorafgaande maande nie aan die bloemlesings kon werk nie. Teen dié tyd was Opperman se geduld en die Nasionale Pers s'n egter oor 'n periode van meer as twee jaar tot die uiterste beproef. Opperman moes nou vir die soveelste keer tussen vyf en ses maande op 'n antwoord van Louw wag, terwyl die Afrikaanse Pers-Boekhandel se soveelste bloemlesing reeds op pad was. Hy moes dus aanvaar dat hulle samewerking op 'n algehele mislukking uitgeloop het en hy het dit dan ook so aan George Minnaar meegedeel. Op 22 Maart 1950 skryf Minnaar aan Louw 'n brief waarin hy die verloop van die onderhandelinge vlugtig skets en die uitnodiging aan Louw om medesamesteller van die bloemlesings te wees, namens die Pers terugtrek. Om die saak in der minne te skik, bied hulle Louw £100 aan vir die werk wat hy reeds gedoen het. Hulle nooi Opperman uit om die bloemlesings alleen voort te sit, op voorwaarde dat hy £50 van die vergoeding aan Louw betaal. 'n Mens kan dus sê dat die werk aan die bloemlesings nog alles in 'n half voltooide staat was toe die Nasionale Pers die uitnodiging aan W.E.G. Louw teruggetrek het. Deur die samewerking was albei samestellers verplig om sekere toegewings te maak en tekste te aanvaar wat hulle nie sou gedoen het as hulle | |
[pagina 195]
| |
alleen vir die keuse verantwoordelik was nie. Met sy aanwysing as uitsluitlike samesteller van die drie bloemlesings het Opperman besluit om - selfs op die gevaar af van 'n verdere vertraging - alles weer sorgvuldig na te gaan, tekste uit te skakel waarmee hy nie genoeë kon neem nie en om eventueel op nuwe tekste te besluit. In die tweede helfte van 1950 laat hy alle ander werk sover moontlik links lê, gaan weer die hele gebied deur en vergelyk verskillende variante van die gedigte wat hy vir opname oorweeg. Behalwe Marie, in wie se oordeel hy groot vertroue gehad het en wat die terrein saam met hom verken, raadpleeg hy Fred le Roux, Canis Scholtz en Izak van der Merwe en dink hy terug aan die talle gesprekke wat hy met Van Wyk Louw oor bepaalde gedigte gehad het. Einde September 1950 is die groot bloemlesing amper voltooi, maar tog gaan feitlik al sy tyd en energie teen die einde van 1950 en begin 1951 in die verseboeke. In Desember begin hy werk aan die inleidings, karakteristiek by elke digter, opgawe van studiebronne en woordverklarings wat by elkeen van die skoolbloemlesings moet bykom. Op 27 Januarie 1951 gee hy die manuskripte aan die Nasionale Pers en daarna gaan hy na Voëlklip en Gordonsbaai om ‘twee weke lank net in die son (te) lê en braai, bier (te) drink en (te) slaap’.Ga naar eind31 Alhoewel Opperman 'n ruim keuse kon maak, het hy met die eerste uitgawe probleme gehad om toestemming vir alle gedigte te kry wat hy van Elisabeth Eybers, Eugène N. Marais, Toon van den Heever en A.G. Visser wou opneem. ‘Alles is nou feitlik agtermekaar,’ skryf hy op 20 Januarie 1951 aan Van Wyk Louw, ‘net Gerrit Bakker is bedons. Hy gee wel toestemming maar wil £4.4.0 per gedig (wat meestal 14 reëls is) vir Liesbet se werk hê by elke oplaag van 3 000. D.w.s. vir 10 gedigte die royalty wat 'n digter normaalweg vir 'n hele bundel nuwe verse kry!’ Junior, Senior en Groot verseboek verskyn in 1951, terwyl Opperman in 1954 die bloemlesing Lied van die land vir die vyftigste bestaansjaar van die firma HAUM versorg. Vir die Junior verseboek en die Senior verseboek het hy by die samestelling opvoedkundige faktore en die ontwikkelingspeil van die gemiddelde leerling in ag geneem. Lied van die land is 'n bloemlesing van gedigte waarin die skoonheid van Suid-Afrika besing word, 'n keuse voorafgegaan deur 'n inleiding waarin Opperman op die ou Hollandse reisjoernale en vroeë Nederlandse verse oor die Kaap wys. Dit is 'n inleiding wat steun op sy voorarbeid vir die onvoltooide Natalse doktorale dissertasie waaraan hy in die veertigerjare werk en wat met sy verwysing na Jan de Marre se Eerkroon voor de Caab de Goede Hoop vooruitwys na die ‘Grondstowwe by die siklus van seisoene’ wat hy in 1979 in Komas uit 'n bamboesstok opneem. Teenoor die opvoedkundige en tematiese oorwegings by dié bloemlesings was dit Opperman se vaste beginsel om - ook by latere uitgawes - vir Groot verseboek geen buiteliterêre faktor 'n rol te laat speel nie. Die hoofoorweging met die oog op insluiting was die intrinsieke gehalte van die tekste, maar daarnaas is - volgens die ‘Verantwoording’ in Groot verseboek - die gedigte só | |
[pagina 196]
| |
gekies en gerangskik dat die boek ‘'n beeld van die ontwikkeling van ons poësie gee’. Naas die estetiese het literêr-historiese oorwegings dus ook by die samestelling gegeld. In 'n brief wat hy op 18 November 1951 aan Van Wyk Louw skryf, wei Opperman verder uit oor sy redes vir insluiting. Die ‘groei’ en die ‘nuwe’ word vir hom óók bepaal deur die gehalte van die vers, sodat die estetiese oorwegings vir opname altyd primêr en die historiese sekondêr is. Daarby kan 'n vers of 'n hele digter sy betekenis verloor namate die literatuur verder groei. Hy sê: Op 'n keer was die ‘nuwe’ die bespieëlende verse van D.F. Malherbe, die liefdesverse van A.G. Visser, die ‘evolusie’-vers van C.M. van den Heever...ja, selfs die ‘Seepkissie’ was op 'n keer die nuwe - kyk maar na ou bloemlesings. Vandag sluit 'n mens nie meer hierdie ‘historiese’ verse in 'n bloemlesing in nie. Hy illustreer die hele uitgangspunt verder met W.E.G. Louw se poësie waaroor hy juis in dié tyd vir sy doktorale proefskrif skryf: Elke geslag stel...sy eie bloemlesing saam. As ek in 1936 'n bloemlesing saamgestel het, sou Glad. se belydenisverse (‘Belydenis’ en ‘Ondergang’) seker 'n besondere plek beklee het, maar vandag het hulle nog minder waarde as toentertyd vir my. Maar ook dit: die religieuse en erotiese bereik by Glad. eers later sy mooiste uiting, onder meer in Adam, en Adam is sy beste. Ek het probeer sy beste verse insluit, en ek dink daarin het ek geslaag. Naas die estetiese en historiese oorwegings by die opname van tekste het Opperman ook noulettend aandag gegee aan die korrekte chronologie van die outeurs. Hoewel Eugène Marais se gedigte eers in 1925 gebundel is, was die historiese prioriteit wat hy op grond van ‘Winternag’ geniet, vir Opperman genoegsame oorweging om hom vóór Celliers, Totius en Leipoldt te plaas. Daarteenoor sou 'n vroeë plasing van A.G. Visser op grond van sy laat-negentiende-eeuse publikasies onreg laat geskied teenoor A.D. Keet en Toon van den Heever wat 'n bepaalde tipe vers vóór Visser in Afrikaans beoefen. Die periodisering op grond van chronologiese oorwegings, wat uit die plasing van die digters in 'n bepaalde volgorde blyk, is dus terselfdertyd ook 'n aanduiding van geskiedkundige belangrikheid en berus op deeglike literêr-historiese navorsing. Daarby het Opperman die tekste wat hy opneem, noukeurig gekontroleer. Hoewel dit sy strewe was om die jongste tekste te gebruik wat die digter self versorg het, wyk hy betreklik vroeg in bepaalde gevalle hiervan af. In die eerste uitgawe van Groot verseboek herstel hy byvoorbeeld 'n steurende fout in ‘Die beste’ van C. Louis Leipoldt, en vanaf die tweede druk kies hy in ander verse van dieselfde digter variante uit vroeër drukke wat literêr meer verantwoord is as die finale geoutoriseerde teks. In die meeste bloemlesings wat tot die verskyning van Opperman se verseboeke algemeen gebruik is en talle her- | |
[pagina 197]
| |
drukke beleef het, is daar weinig sorg aan die opgenome tekste bestee en kry 'n mens die indruk dat die samestellers soms die keuse gemaak het uit enige druk wat byderhand was. Met die verskyning van Opperman se verseboeke begin 'n nuwe tradisie van deeglikheid en verantwoording wat die versorging van bloemlesings betref, iets wat ook blyk uit die talle toevoegings en weglatings in die opeenvolgende uitgawes wat die gewysigde waardering van 'n gedig of digter en die nuwe ‘stand’ van die literatuur reflekteer. Daarom dat 'n bloemlesing soos Groot verseboek by geleentheid ‘op sy manier 'n voortreflike literatuurgeskiedenis’Ga naar eind32 genoem is, 'n ‘gevoelige barometer’ van gehalte wat vir die jong Afrikaanse digter ‘die akkolade van erkenning’Ga naar eind33 geword het. Opperman se werk aan die reeks verseboeke is die belangrikste enkele faktor vir die vestiging van sy magsposisie by die Nasionale Pers, want die amptenare van die uitgewersafdeling het uit die wyse waarop hy die opdrag uitgevoer het, onder die indruk gekom van sy werkywer, noukeurigheid en wye kennis van die literatuur. Die feit dat hy aan 'n universiteit met 'n klein studentetal in die Departement Nederlands en Afrikaans verbonde was, nie in voorskryfkomitees gedien of enige kontak met onderwysmense gehad het nie en van die noordelike skrywers vyandiggesind teenoor hom was, het blykbaar nie as negatiewe oorwegings gegeld nie. Die Nasionale Pers-amptenare het geweet dat sulke deeglike publikasies die bestaande bloemlesings op die lange duur van die mark sou dwing. Daarby het hulle eerbied gehad vir Opperman op grond van sy skeppende werk en geweet dat hy en Van Wyk Louw, die ander groot digter van die Afrikaanse letterkunde, bymekaarstaan. Opperman se bloemlesings was dus 'n belegging vir die toekoms. Hierdie heldersiendheid is ryklik beloon, want betreklik gou was die verseboeke op skole en aan universiteite vanselfsprekende voorskryfmateriaal vir kursusse oor die Afrikaanse poësie. Uit die verseboeke is met die medewerking van J.A. Heyl, C.B. Linder, M.A. Basson en E. Strumpf die skool- en kinderbloemlesings Klankies vir kleuters (1959), Klankies vir die kleintjies (1959) Verseboek vir Standerd 6 (1959), Verseboek vir Standerd 7 en 8 (1959) en My Afrikaanse verseboek (1960) saamgestel. Die uitgawe van die verseboeke en die geweldige afset met die jare is een van die grootste suksesse wat 'n Afrikaanse uitgewer nog beleef het. Die publikasie van die bloemlesings en die mislukking van die medewerking tussen die twee oorspronklike samestellers het tot 'n verkilling in die verhouding tussen Opperman en W.E.G. Louw gelei. Opperman was geïrriteerd deur Louw se veelwoordigheid en presieuse manier van doen. Voor sy vertrek na Europa aan die einde van 1948 het hy vir Opperman 'n uitgebreide ‘Reisplan van prof. en mev. W.E.G. Louw’ gestuur met die name en adresse van al die hotelle waar hulle sou oorbly, maar nagelaat om 'n enkele steek werk aan die bloemlesings te verrig. As seun van 'n arm spoorwegwerker en iemand wat dit in daardie stadium self nie breed gehad het nie, was Opperman gesteur en | |
[pagina 198]
| |
waarskynlik selfs 'n bietjie afgunstig op Louw wat opnuut 'n oorsese reis in alle luukse aanpak terwyl hy self daarna gesmag het om geestelik deur 'n Europese verblyf verruim te word. Tog het die mislukking van hulle projek nie tot 'n absolute breuk gelei nie. In 1949 het daar egter iets anders gebeur wat die reeds bestaande spanning sou verhoog. Alhoewel Canis Scholtz aan die begin van dié jaar die hoofskap van die Departement Nederlands en Afrikaans oorgeneem en D.B. Bosman die pos as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Den Haag aanvaar het, moes die leerstoel volgens vaste gebruik van die Universiteit van Kaapstad geadverteer word. Opperman se aanstelling was tydelik en sou verval indien iemand anders die professoraat kry, aangesien Scholtz in so 'n geval na sy vaste betrekking as lektor sou terugkeer. Toe die advertensie vir die vakante leerstoel in die koerante verskyn, het W.E.G. Louw - wat in daardie stadium hoogleraar aan die Rhodes-Universiteitskollege was, maar hom ontuis op Grahamstad gevoel het - om die betrekking aansoek gedoen, ten spyte van die feit dat Scholtz ook kandidaat en 'n oud-dosent van hom was. Vir Opperman was Louw se kandidatuur 'n regstreekse bedreiging; indien dit suksesvol was, sou hy werkloos wees. Teen die agtergrond van die behoeftigheid wat hy as kind beleef het en die vrees vir armoede wat 'n deurlopende draad dwarsdeur sy lewe was en sy uiters versigtige hantering van geldsake sou bepaal, moes so 'n vooruitsig of selfs die gedagte daaraan vir hom iets skrikwekkends gewees het. Hoewel W.E.G. Louw die volste reg gehad het om aansoek te doen om enige betrekking van sy keuse, was Opperman hoogs ontsteld en het hy 'n heftige en selfs onredelike reaksie teen Louw begin opbou. Met Louw se aankoms vir die onderhoud in November 1949 het Van Wyk Louw sy broer op die Kaapstadse stasie ontmoet en hom reeds onderweg na Clifton probeer oorreed om - in die lig van Opperman en Scholtz se ontsteltenis en die negatiewe reaksie onder hulle Kaapse vriende - van die onderhoud af te sien en onmiddellik na Grahamstad terug te keer. Dit was hy nie bereid om te doen nie. Die aanstellingskomitee was egter bewus van die goeie diens wat Scholtz oor 'n lang periode aan die Departement gelewer het en het hom eenparig vir die leerstoel aanbeveel.Ga naar eind34 Die verslegtende verhouding tussen Opperman en W.E.G. Louw het nie 'n onmiddellike uitwerking op sy verhouding met Van Wyk Louw gehad nie. Hulle het mekaar feitlik daagliks gesien en mekaar se geselskap geniet. Van Wyk Louw was reeds lank lektor in die Fakulteit van Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad en het gevoel dat hy dié paadjie al byna agttien jaar lank loop. In die veertigerjare het hy aansoek gedoen om 'n soortgelyke pos by die Universiteit van Stellenbosch, maar dit nie gekry nie. Alhoewel hy met Standpunte besig was en enkele opstelle geskryf het, was daar in sy skeppende werk 'n element van stagnasie. Hy het gevoel hy was met Germanicus in 'n doodloopstraat en dat daar onder sy ongepubliseerde gedigte nie | |
[pagina 199]
| |
juis iets was wat op nuwe groei dui nie. Hy het uitgesien na 'n verandering. Ná die bewindsaanvaarding van die Nasionale regering in Mei 1948 is Otto du Plessis as nuwe Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland benoem. As gevolg van Du Plessis se Nazi-simpatieë tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy egter vir die Nederlandse regering onaanneemlik en is sy geloofsbriewe nie deur die koningin aanvaar nie. Van Wyk Louw het in hierdie diplomatieke dilemma 'n moontlikheid vir homself gesien en aan Opperman gesê dat hy daarin sou belangstel om ambassadeur in Den Haag te word. Opperman was geamuseerd maar tog ook 'n bietjie ontsteld oor dié onwyse stap wat Van Wyk Louw oorweeg. ‘Wil jy vir my sê,’ het hy sy vriend gevra, ‘dat jy jou die hele dag met foefies wil besig hou en dan laatmiddag by skemeronthale hoflik wil rondbeweeg en sjerries drink?’ Toe Van Wyk Louw opnuut kla oor die vooruitsigloosheid van sy betrekking by die Universiteit en sê dat hy na 'n verandering uitsien, onderneem Opperman om met dr. T.E. Dönges - lid van die Malan-kabinet en iemand met wie hy bevriend was - te gaan praat. Dönges was egter lugtig om 'n digter vir die pos te oorweeg, 'n tipe persoon - so het hy as onkundige oor die kunste gemeen - wat emosioneel kon optree en in die lig van die reeds gespanne verhoudinge tussen Suid-Afrika en Nederland 'n risikofaktor was. Hy het die bedaarder en ouer D.B. Bosman vir die aanstelling as ambassadeur verkies. Juis in hierdie tyd het 'n onverwagte en verrassende eer Van Wyk Louw te beurt geval. Die Rijksuniversiteit van Utrecht het 'n eredoktoraat vir sy literêre werk aan hom toegeken. Hy is, vergesel van sy vrou, na Nederland om die graad op 20 September 1948 in ontvangs te neem, enkele voorlesings te hou en verder in Europa rond te reis. Uit sy veelvuldige briewe in hierdie tyd vertel hy Opperman van die reis, die lesings, die literêre vriende wat hulle ontmoet het, hoe mooi hulle alles vind en wat sy indrukke van Nederland is. Die Europese verblyf het 'n stimulerende uitwerking op hom gehad en hy was by sy terugkeer 'n vreugdevolle mens. Nie lank daarna nie is hy uitgenooi om die leerstoel in Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam te beset en het hy besluit om dit te aanvaar. Kort voor Van Wyk Louw se vertrek is sy seun Peter gebore. Aangesien die baba nog klein was en geelsug gehad het, is besluit dat Van Wyk Louw alleen na Nederland sou reis en Truida en die kinders later sou volg. Opperman was peetvader van Peter en by die doopplegtigheid in Seagirt, die Louws se houthuisie op Clifton-strand, het Opperman in Van Wyk Louw se afwesigheid langs Truida gestaan. Tydens sy vriend se verblyf in Nederland sou Opperman die finansiële sake van Van Wyk Louw se twee ouer dogters, Ria en Nakkie, behartig, na hulle welsyn omsien en probleme hanteer wat daar mag opduik. Nakkie was in daardie stadium besig met die laaste hoërskooljare, terwyl Ria op die punt gestaan het om met haar studie by die Universiteit van Kaapstad te begin. | |
[pagina 200]
| |
Die feit dat Van Wyk Louw vir Opperman gevra het om feitlik as voog vir die dogters op te tree en ook sy finansiële sake in Suid-Afrika te behartig, getuig van sy vertroue in sy vriend en die hegte band wat daar tussen hulle was. Na Van Wyk Louw se vertrek het Opperman namens hom onderhoude met die Nasionale Pers oor die herdruk van Lojale verset gevoer, die strook- en bladsyproewe van Dias behartig en deur uitvoerige samesprekings daarvoor gesorg dat Van Wyk Louw die kans kry om sy rubriek ‘Die oop gesprek’ in Die Huisgenoot te begin, 'n geleentheid wat nie alleen vir hom finansieel geweldig gehelp het nie, maar wat ook in later jare tot die publikasie van 'n hele paar opstelbundels sou lei. Die wedywering tussen die twee, wat van die begin af in hulle verhouding aanwesig was, het 'n bestendige element gebly, maar nie hulle vriendskap nadelig beïnvloed nie. Opperman het 'n groot bewondering vir Van Wyk Louw gehad, maar kon hom soms geamuseerd uitlaat oor ondergeskikte aspekte van sy vriend se digterskap. Met verwysing na gedigte soos ‘In waansin het ek gevra’, ‘Die profeet’ en die begin van ‘Die hond van God’ het hy by geleentheid gesê: ‘Wyk is 'n groot bidder’! Nie lank na Van Wyk Louw se aankoms in Nederland nie het hy 'n persoonlike krisis belewe wat Opperman diep onthuts het en sy gevoel vir sy vriend treffend illustreer. Met Truida en die kinders nog in Kaapstad was Van Wyk Louw aanvanklik alleen in Amsterdam en het hy die geselskap van die groepie studente uit Suid-Afrika opgesoek. Onder hulle was Stoffel Nienaber en sy vrou Sheila Cussons, Opperman se studentevriende uit sy Pietermaritzburgse dae. Vroeg in 1950 moes Stoffel terug na Suid-Afrika om by die sterfbed van sy vader te wees en sy broers en ander familielede by te staan. Van Wyk Louw het Sheila gevra om saam met hom uit te gaan, soos hy ook van die ander Afrikaanse vriende en vriendinne gevra het - eers saam met ander, later alleen. Op dié wyse het daar 'n gevoel tussen hulle ontstaan wat tot 'n liefdesverhouding ontwikkel het. Die nuus oor die gebeure het die Kaapse kennisse van die Louws in die loop van Mei 1950 bereik en die reaksie was dié van ontsteltenis oor die situasie waarin hulle vriende hul bevind.Ga naar eind35 Jan Greshoff, wat 'n groot verering vir Van Wyk Louw gehad en sy Verzamelde gedichten aan hom opgedra het, was só geskok dat hy soos 'n kind in trane uitgebars het. Op Van Wyk Louw se verjaardag op 11 Junie 1950 skryf Opperman aan hom dat hy graag die stiltes wat daar tussen hulle gesak het, wil beëindig. ‘Graag sou ek nagte-lank met jou in een van Amsterdam se kroeë sit en gesels en gesels, want dit klink vir my asof daar intussen so baie gebeur het, asof daar 'n hele lewe al tussen ons verbygegaan het.’ Uit Van Wyk Louw se reaksie blyk dit in watter mate hy sy vriend se afwesigheid mis en hoe graag hy lank en uitvoerig met Opperman sou wou gesels. In 'n brief van 21 Junie 1950 aan Opperman wei hy uit oor die chaos wat sy lewe geword het en hoe daar ‘ingeloer word in sy lewe’. Die verhouding met Sheila, so gaan hy voort, is nie 'n ligte flirtasie nie, want hulle belewe albei | |
[pagina 201]
| |
‘dae en nagte hel’ daarvan. Uit die brief het Opperman afgelei dat sy vriende 'n krisis op meer as een vlak beleef en dat Van Wyk Louw self waarskynlik nie die omvang daarvan besef nie. Hy het albei vrouens, Sheila en Truida, goed geken en hy was oortuig daarvan dat Truida die beste vrou is wat Van Wyk Louw kon hê. ‘Sheila is soos sjampanje,’ het hy later gesê, ‘maar Truida is 'n beleë wyn.’ In sy brief van 29 Junie vra hy dan ook vir Van Wyk Louw of Sheila nie net ‘'n tydelike, baie aangename afwisseling’ is waarvan die ‘glans’ weldra sal verdwyn nie. Indien dit dieper gaan, moet Van Wyk Louw hom afvra of dit nou ‘'n finale wegbreek’ van die huwelik as lewensvorm is. Daarby kom die vraag in hoe 'n mate sy vriend rekening hou ‘met die selfondergrawing wat die digterskap aan (hom) as mens meebring’, 'n neiging waarteen hy moet stry. Van Wyk Louw se suiwerheid as mens is dus op die spel. Alhoewel hy hom nie met sy kinders wil ‘slaan’ nie, verwys hy in 'n oomblik van diepe menslikheid en ontsteltenis oor die situasie na Van Wyk Louw se brief: Jy het self in een van jou diepste en helderste oomblikke kon sê: ‘As Reinet net sou roep: “Kom terug, Pappa!” sal ek jou na die donder laat loop.’ Wyk, as daardie kind vandag alles kon verstaan en begryp wat aangaan, sou sy op haar knieë gaan en jou smeek om nie tot daardie stap oor te gaan nie. En Peter ook. En omdat hulle dit nie kan doen nie, doen ek dit vandag namens hulle. In 'n brief van 6 Augustus 1950 herbevestig Opperman die diep gevoel wat hy teenoor sy vriend het. Alhoewel dit altyd uiters moeilik is om oor emosies uit te wei, verseker hy Van Wyk Louw dat hy altyd kan optree ‘met die versekering en volle vertroue dat daar maar min dinge in hierdie ou wêreld is wat (sy) vriendskap vir (Van Wyk Louw) sal aantas.’ Hy gaan voort: Sowel my eerste as my tweede brief is geskryf uit hierdie ‘ethos’ van ons verhouding, wat ten spyte van alle ‘lotgevalle’ wat jou of my mag tref, hopelik altyd daar sal wees. Albei my vorige briewe wou opnuut hiervan getuig met my vrae en navrae en versoeke - dit was in sekere mate verpligtinge wat ek as gevolg van ons vriendskap gehad het.... Jy hoef nie met die minste aarseling of reservasies aan my te skryf nie. Die briewe wat Opperman oor die krisis in sy vriend se persoonlike lewe skryf, is 'n aanduiding van sy diep gevoel vir en hegte vriendskap met Van Wyk Louw. Dit openbaar terselfdertyd in hoe 'n mate hy deur die lotgevalle van iemand vir wie hy hoë waardering en verering gehad het, geroer kon word. Dit is een van die min gevalle in sy private korrespondensie en persoonlike dokumente waar hy - na sy Pietermaritzburgse studentedagboek met die optekening van sy liefdeservarings - sy gevoelens regstreeks openbaar. As digter was hy in dié stadium lank reeds bewus van Nijhoff se ‘fluit’ en Eliot se ‘objective | |
[pagina 202]
| |
correlative’ en het hy 'n ‘onpersoonlike’ tipe poësie beoefen. Dat hy hier dus sy emosies regstreeks op skrif stel, getuig in hoe 'n mate hy deur die gebeure in sy vriende se lewens getref is. | |
IVMet sy verskuiwing na die Universiteit van Kaapstad was die beletsel van die Nasionale Pers teen Opperman se openlike deelname aan Standpunte nie meer van krag nie. Daarom verskyn sy naam in die uitgawe van April 1949 vir die eerste keer by die lys van die redaksielede, al het hy teen hierdie tyd reeds in 'n aansienlike mate gehelp met die tegniese versorging, die keuring van bydraes en die finansies van die blad. Saam met Greshoff en Fred le Roux was hy verantwoordelik vir die redigering tydens Van Wyk Louw se Europese reis in 1948 en gedeeltelik ook wanneer W.E.G. Louw aan die einde van daardie jaar vir ses maande lank oorsee vertrek. In die uitgawe van Desember 1950 word Fred le Roux as tegniese redakteur benoem, 'n hoedanigheid waarin hy - volgens 'n redaksionele mededeling - reeds vanaf die eerste nommer van Standpunte opgetree het. Greshoff is dus volkome korrek as hy na Mulder se dood Van Wyk en W.E.G. Louw, Opperman, Le Roux en homself as die ‘kern van Standpunte’ sien en sê dat die tydskrif ‘het geestelijk eigendom is van de vijf menschen die het gemaakt hebben’.Ga naar eind36 Met die oprigting van die blad is die maatskappy ‘Standpunte Edms. Bpk.’ in 1946 gestig. Aangesien Mulder nie die vermoë gehad het om hom finansieel te verbind nie, het Van Wyk Louw en W.E.G. Louw aandele uitgeneem en direkteure van die maatskappy geword. Greshoff, Le Roux en Opperman was dus lede van die redaksie, maar nie direkteure van die maatskappy nie. As Van Wyk Louw in 1949 Grahamstad besoek, kom hy terug na Kaapstad met 'n gedagte van W.E.G. Louw dat hulle twee as stigterslede die winste van die blad moet verdeel. Die mislukte medewerking aan die verseboeke en die situasie in verband met die vakante Kaapstadse professoraat was reeds verantwoordelik vir die wrewel wat in Opperman teenoor W.E.G. Louw begin oplaai het. Met sy sensitiwiteit oor geldsake het hy gevoel dat hierdie jongste gedagte van W.E.G. Louw hom finansieel raak, aangesien hy sonder enige vergoeding baie van die redaksionele werk behartig het. Tydens 'n reis na Sutherland teen die einde van 1949 dring Opperman dan ook by Van Wyk Louw aan op gelyke beregtiging van aandele. In 'n brief van 22 Februarie 1950 aan W.E.G. Louw sê Greshoff die bestaande situasie impliseer dat Opperman, Le Roux en hy self in diens van die Louws is. Omdat Opperman met die opeenvolgende reeks ervarings, waarvan die voorstel oor die winsverdeling die laaste druppel was, 'n grief teen W.E.G. Louw opgebou en alle kontak met hom verbreek het, is dit veral Greshoff wat | |
[pagina 203]
| |
in 1950 namens die Kaapse groep briewe aan Louw skryf. Voor Van Wyk Louw se vertrek na Amsterdam om die professoraat te aanvaar, bereik die Kaapse redakteurs eenstemmigheid om Opperman as administratiewe amptenaar in die plek van Van Wyk Louw aan te stel en om Opperman, Greshoff en Le Roux as verdere direkteure te benoem.Ga naar eind37 Opperman het aanvanklik weens W.E.G. Louw se optrede in sake buitekant Standpunte nie lus gevoel om mee te doen nie en sy bedanking ingedien, maar op aandrang van Van Wyk Louw en Greshoff het hy ter wille van die voortbestaan van die blad besluit om dit terug te trek. Sy voorwaarde was egter dat die tydskrif op 'n gesonde sakebasis geplaas moes word en dat almal gelyk moes wees voor die oë van die wet. Na Van Wyk Louw se vertrek op 1 Februarie 1950 word die notule vir ondertekening aan W.E.G. Louw gestuur. Na heelwat vertraging maak Louw beswaar en kom hy met 'n teenvoorstel wat Opperman, Greshoff en Le Roux nog steeds in 'n ondergeskikte posisie plaas en vir hulle onaanvaarbaar is. Na samesprekinge met C.F. Albertyn en die prokureurs van die Nasionale Pers kom Opperman, in 'n brief van 2 Julie 1950 aan Van Wyk Louw, met die gedagte om 'n maatskappy sonder winsbejag te stig as een moontlike oplossing uit die impasse. Die rusie bring 'n vertraging in die verskyning van die Aprilnommer van 1950 en die blad staan vir nege maande heeltemal stil; in 'n brief aan A.P. Grové uit hierdie tyd herdoop Opperman die tydskrif na Stolpunte! W.E.G. Louw meen dat Greshoff ontaktvolle briewe skryf en op elke mededeling wat hy uit Kaapstad ontvang, reageer hy met alternatiewe wat die hele situasie oneindig verwikkel. Verdere onsekerheid ontstaan as Van Wyk Louw geen duidelike standpunt inneem nie. Uit sy briewe lei 'n mens af dat hy op 'n afstand van 10 000 kilometer nie gemoeid wil wees met iets wat hy as 'n kleinlike geskil beskou nie, veral nie onderwyl hy spanninge in sy persoonlike lewe ervaar wat vir hom in daardie stadium van kardinale belang is nie. In 'n bitter brief van 7 Junie 1950 aan Greshoff skryf hy dat hy aan sy broer die raad gegee het om uit te skei met die saak en Standpunte te laat verdwyn. Hy sê: Dit is vir my duidelik dat die stemming van so 'n aard is, dat geen samewerking verder moontlik is nie. Dit lyk my asof die briefwisseling tot ál hoe groter verwydering gelei het; en van 'n persoonlike ontmoeting skyn daar geen sprake te wees nie. Dit het ook vir my duidelik geword dat geen skrywery van my kant iets aan die saak kon verbeter nie. Die verskilpunte was van suiwer praktiese aard; en as hulle dán nie uit die weg geruim kan word nie, beteken dit alleen dat die wil om 'n oplossing of 'n kompromis te bereik, ontbreek. Ek sou in eindeloos lange briewe al die verskilpunte kon deurgeloop het: die maatskappy sonder winsbejag; die verdeling van die aandele; die wyse van keuring e.d.m.; ek sou kon gewys het daarop hoe alles 'n saak van gerieflikheid, gladde werking is, die voor en teen á la Germanicus opgenoem het; maar dan sou julle tog nog moes gekies het, en weens die stemming was 'n aanvaarbare kompromis uitgesluit. Wat vir my ellendig is - dit het ek ook aan Gl. geskrywe - is dat STPE nou gaan verdwyn om werklik | |
[pagina 204]
| |
beuselagtige redes, om redes wat met die literatuur niks te maak het nie; wat 'n mens eintlik skaam sou wees om te noem in 'n gesprek waar dit miskien om die betekenis van die blad sou gaan. Maar dit is waarskynlik tipies van die loop van sake in ons hele kultuur. Die persoonlike lewe en eie werk is miskien ál wat 'n mens jou mee besig moet hou. En STPE moet ons miskien maar as 'n taamlik roemlose onderbreking hiervan beskou. Op 7 Junie 1950 laat weet W.E.G. Louw per brief vir Greshoff dat hy besluit het om hom aan die redaksie te onttrek. Hy voel Standpunte as onderneming en uiting van die Afrikaanse geesteslewe is veel groter as hy of die ander redakteurs, en hy wil nie die verantwoordelikheid dra dat hy dit laat misluk het nie. In 'n brief van 20 Junie 1950 bedank Greshoff hom vir sy besluit, maar hoop dat hy nog sal saamwerk. Die blad word nou voortgesit deur die oorblywende redaksielede, met Opperman as redaksie-sekretaris, 'n posisie wat hy tot einde 1955 beklee. Opperman se eerste bydrae tot Standpunte was om die tydskrif te reorganiseer en te omskep in 'n maatskappy sonder winsbejag, met Van Wyk Louw, Greshoff, Le Roux en hy self as direkteure. Van die begin af het hy gevoel dat Standpunte naas Afrikaanse en Nederlandse bydraes ook die medewerking van Engelse skrywers en kritici moet verkry. Afgesien van toenemend meer werk van Engelse Suid-Afrikaanse kunstenaars in die blad word die Engelse digter Anthony Delius uitgenooi om tot die redaksie van Standpunte toe te tree, 'n benoeming wat hy vanaf Oktober 1952 aanvaar. Om Standpunte verder aktueel te maak, vra Opperman 'n aantal medewerkers om gereeld oorsigte oor die jongste publikasies in Afrikaans, Engels en Nederlands te skryf. Die belangrikste van dié kroniekskrywers is Rob Antonissen, 'n Vlaamse letterkundige wat ná die dood van H.A. Mulder as lektor aan die Rhodes-Universiteit aangestel word, maar reeds in daardie stadium bekendheid verwerf het met sy deeglike en omvangryke tweedelige Schets van den ontwikkelingsgang der Zuidafrikaansche letterkunde wat in 1946 in België gepubliseer is. Verder plaas hy die blad op 'n stewiger finansiële grondslag deur die intekengeld te verhoog en die Rembrandt- en Shell-maatskappye oor te haal om 'n ruim bedrag vir volbladadvertensies te betaal. As hy verneem dat C.M. van den Heever se Tydskrif vir Letterkunde, op grond van die blad se posisie as amptelike orgaan van die Afrikaanse Skrywerskring, 'n jaarlikse toekenning van £650 per jaar van die staat ontvang, doen hy namens Standpunte ook aansoek by die afdeling ‘Opvoeding vir Volwassenes’. In sy brief van 16 April 1951 aan hierdie afdeling voer hy aan dat die staat 'n kwartaalblad ondersteun wat met 'n bestaande tydskrif op dieselfde vakgebied meeding, dat Standpunte reeds vyf jaar lank deur die persoonlike opoffering van die redaksielede uitgegee word; dat die staat 'n besondere groep skrywers - hoofsaaklik die noordelikes - deur dié steun begunstig en dat daar meer skrywers buite die Skrywerskring is as daarbinne. In September 1951 ontvang Standpunte £360 van die | |
[pagina 205]
| |
staat, 'n toekenning wat in Augustus 1952 vir die laaste keer herhaal word. Op aanbeveling van Delius doen Opperman ook aansoek by die Kaapse Drie-Eeue-Stigting. In November 1952 ken die Stigting £500 toe en vul hulle dit later met nog £400 aan. Die finansiële steun stel die redaksie in staat om omvangryke en aantreklike nommers van die tydskrif uit te gee. In 1954 slaag Opperman daarin om 'n gunstige kontrak met die firma HAUM vir verdere uitgawes van die blad te sluit. Dit bring mee dat Standpunte van 1954 af ses keer per jaar verskyn met HAUM as uitgewer. 'n Nuwe reeks van die blad neem 'n aanvang met die verandering van uitgewer. Maar die waarde van 'n tydskrif word vanselfsprekend in die eerste plek bepaal deur die gehalte van die bydraes en die wyse van redigering. In die jare van Opperman se redaksie-sekretariaat verskyn uittreksels uit Dias en Germanicus van Van Wyk Louw, gedigte van Elisabeth Eybers, Ernst van Heerden, S.J. Pretorius en S.V. Petersen, die volledige vertaling van Lorca se Yerma deur Uys Krige, en kortverhale deur Boerneef, Eitemal en Henriette Grové. Van Opperman se eie werk uit hierdie jare word ook in Standpunte opgeneem, soos ‘Jeroen Bosch’, ‘Draaikewers’, ‘Gebed om die gebeente’, ‘Brandaan’, ‘Kaapse draaie’, ‘Kersliedjie’ en ‘Blom van die baaierd’ en die belangwekkende opstelle oor Roy Campbell en ‘Kuns is boos!’ Naas dokumentering uit die nalatenskappe van Gorter en Leipoldt maak hy ruim voorsiening om aan jong skeppende talent die geleentheid tot publikasie te gee, soos die volledige Moeder Hanna van Bartho Smit en gedigte van Ina Rousseau, A.J.J. Visser, Barend J. Toerien, H.W. Truter en Peter Blum. Onder die skuilnaam Etienne verskyn ook die eerste kortverhaal van Etienne Leroux wat in dié jare heelwat stukke aan Standpunte voorlê. Die opname van dié kortverhaal geskied egter op aandrang van Greshoff, aangesien Opperman self aanvanklik weinig of geen waardering vir die vroeë werk van Leroux het nie. Van die jonger kritici soos Merwe Scholtz, C.J.M. Nienaber, P. du P. Grobler en veral A.P. Grové dra met hulle opstelle by tot 'n meer verantwoorde beoefening van die literatuurwetenskap, terwyl Opperman se termyn as redaksie-sekretaris afgesluit word met 'n polemiek tussen Scholtz en F.I.J. van Rensburg oor die stilistiek op linguistiese grondslag. Daarby stuur die filosoof J.J. Degenaar en die historikus F.A. van Jaarsveld ook in die vyftigerjare gereeld hulle opstelle na Standpunte. Dit is egter veral Antonissen se kronieke wat in hierdie jare aan Standpunte sy besondere waarde gee en wat belangstellendes in die letterkunde met afwagting na elke nommer laat uitsien het. Antonissen se eerste kroniek verskyn in die uitgawe van Oktober 1952 onder die titel ‘Die styl is alles’. Sy kritiek hierin op die toekenning van die Hertzogprys vir Drama aan Gerhard J. Beukes en W.A. de Klerk lei tot 'n lang polemiek wat maande lank in Die Burger en Die Huisgenoot gevoer word en waaraan 'n hele aantal prominente letterkundiges deelneem. Terwyl dit in die beginjare van Standpunte, soos E. Linden- | |
[pagina 206]
| |
berg dit stel, ‘veral die nuwe skeppings van Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en D.J. Opperman (was) wat elke nuwe nommer 'n opwindende gebeurtenis gemaak het’, is dit in die vyftigerjare ‘veral die gereelde kronieke van die Afrikaanse letterkunde ... deur Rob Antonissen wat die groot aantrekkingskrag vorm’.Ga naar eind38 Die hoë peil van Standpunte in hierdie jare kon Opperman in die eerste plek alleen handhaaf omdat daar skeppende en kritiese talent was wat werk van waarde kon lewer. Daarnaas het hy egter sy medewerkers gestimuleer deur krities op hulle bydraes kommentaar te lewer, soms in die geval van gedigte skeppend in te gryp en reëlveranderinge voor te stel, skrywers uit te nooi om stukke by te dra en dikwels verse uit bundels op te neem wat reeds deur die Pers aanvaar is en binne afsienbare tyd sou verskyn. Met sy redaksionele aantekeninge het hy inligting oor bydraes en medewerkers verskaf en só as redakteur 'n samebindende funksie verrig. In ten minste twee gevalle neem hy die inisiatief vir besondere nommers. In die uitgawe van Desember 1953 vra hy 'n aantal persone om kommentaar te lewer oor die moontlikheid van wetgewing met die oog op binnelandse sensuur, terwyl hy by geleentheid van die vyf en twintigste bestaansjaar van die FAK een van die uitgawes van 1954 wy aan oorsigte oor die literatuur, toneel, musiek en skilder- en beeldhoukuns met onderskeidelik A.P. Grové, Hermien Dommisse, Anton Hartman en Matthys Bokhorst as medewerkers. By herhaling skryf hy aan medewerkers om sy oordeel oor hulle werk oor te dra en aan te moedig as hulle ongeregverdig kritiek ontvang. Wanneer Antonissen in Tydskrif vir Letterkunde, IV: 3 deur Abel Coetzee en F.P. van der Merwe gestriem word, reageer hy in 'n persoonlike brief van 27 Desember 1954: Dat jy ‘slap pannekoeksinne’ skryf en ‘cliché-taal’ gebruik - daarmee stem ek nie saam nie: wel dat jou sin soms moeisaam lees en dus stilisties kan verbeter. Ek sou sê probeer so eenvoudig moontlik skryf en die ‘vreemde’ woord vermy. Omdat ek gevoel het dat jy dit maklik sal kan doen, daarom my skrywe. Maar by Coetzee en Van der Merwe gaan dit nie eintlik oor jou ‘styl’ of ‘taal’ nie - hulle het dit teen jou hele kritiese gesindheid en in 'n poging om jou te ‘breek’, gryp hulle na alle moontlike en onmoontlike argumente en oordryf op 'n gewetenlose manier. Moet asb. nie dat hierdie mense jou enigsins laat wankel nie. Albei is gewonde partygangers - en slagoffers - van jou wakkere kritiek. Met die aanhalings uit jou kronieke waarmee V.d.M. jou wil verbrysel, bereik jy m.i. die teenoorgestelde, want ek stem oral met jou saam. Dan: moenie vergeet nie: jou kronieke as hulle lewe, moet bespreking en teenkanting uitlok. Hulle kla so, maar selfs jou ‘vyande’ wil altyd lees wat Antonissen sê. In 'n brief van 7 Desember van dieselfde jaar lewer hy kommentaar op die aard van Antonissen se kronieke: | |
[pagina 207]
| |
Ons het niemand wat hierdie werk (die kronieke - J.C.K.) beter kan verrig as jy nie: jou belesenheid, gevoeligheid, analitiese vermoë, gebalanseerdheid, uitgesprokenheid en les bes, jou werkkapasiteit. Maar soms is daar iets wat my hinder in jou kronieke ... ek sal dit 'n swaarwigtigheid, swaartillendheid noem: (1) dit is asof jy met te groot omhaal jou oorgee aan diepsinnige ideë-ontleding (vgl. bespreking van Ina Rousseau, Nuwe verse van Van Wyk en Periandros van Opperman). (2) Nie eenvoudig en helder genoeg skryf nie, maar voorkeur gee aan lang ingewikkelde sinne met verskeie bepalings en newebepalings, selfonderbrekende kommentaar en interpolasie wat jou sinne soms moeisaam en kunsmatig maak. (3) Die swaarwigtighede vind ek ook af en toe in jou ‘gespanne’ houding en 'n sekere betrokkenheid: jy sou dieselfde woorde soms maar speelser, geestiger, gemoedeliker, mensliker kan sê. Ek het groot waardering vir jou werk en daarom ook die vrymoedigheid om hierdie aspekte van jou kritiek (wat soms nogal deugde is!) onder jou aandag te bring. Opperman het dus sy taak as redaksie-sekretaris nougeset verrig, onder meer omdat hy hom ten volle met die tradisie en strewe van Standpunte kon vereenselwig. Selfs al kon hy nie altyd die bydraes kry wat hy graag wou hê nie, was die blad altyd daar - soos hy dit op 29 Junie 1952 in 'n brief aan Van Wyk Louw stel - ‘as 'n voortdurende bron van onrus, 'n prikkel, 'n aanklag ...’ Van Wyk Louw skryf in hierdie jare baie min vir Standpunte, terwyl W.E.G. Louw sy medewerking heeltemal onttrek. In 'n brief van 2 November 1952 verwyt Opperman vir Van Wyk Louw dat hy hom nie meer aan die blad steur nie. Die fragmente uit Germanicus en Dias is gepubliseer op aandrang van Opperman; uit sy eie stuur Van Wyk Louw geen gedigte nie. Sy argument dat hy iets nuuts wil hê vir 'n komende bundel, gaan vir Opperman nie op nie, aangesien poësieliefhebbers die bundel met ewe groot vreugde sal aanskaf. Buitendien het Opperman hom in presies dieselfde posisie bevind toe hy die manuskrip van Engel uit die klip voltooi het. Die meeste gedigte was reeds eerder in Standpunte, maar hy het gevoel hy is dit aan die blad verskuldig. Die gebrek aan medewerking van Van Wyk Louw se kant was vir Opperman 'n irriterende aangeleentheid, veral omdat hy vermoed het dat sy vriend dit doen uit lojaliteit teenoor W.E.G. Louw wat gemeen het dat hy tydens die redaksionele krisis onbillik deur die Kaapstadse groep behandel is. Ten spyte hiervan werk Opperman met veel vreugde aan die opeenvolgende nommers. So vroeg as 1950 skryf Greshoff aan hom uit Pretoria dat hy beïndruk is met die gehalte van Standpunte: ‘Jij bezit alle eigenschappen van een tijdschriftleider. De groote kunst is beginselvast en toch soepel te zijn, het peil te handhaven en tóch jongeren en beginners een kans te geven.’ Uit Nederland skryf hy op 7 Augustus 1951 oor die groot lof wat daar in die Lae Lande vir Standpunte is: ‘Geen Nederl.-tijdschrift is op het ogenblik in staat zulke nummers op te leveren!’ Tog het Opperman met die jare gevoel dat hy baie tyd en aandag aan Stand- | |
[pagina 208]
| |
punte moet bestee en dat hy graag meer tyd vir sy eie skeppende werk sou wou hê. Terselfdertyd was albei die Louws in die middel van die vyftigerjare bereid om hulle medewerking opnuut aan die blad te gee. Aanvanklik bied Opperman aan om heeltemal uit te tree, maar W.E.G. Louw dring aan dat hy as redaksielid aanbly. Opperman se voorwaarde vir sy voortgesette deelname aan die redaksie was dat hy nie onderhandelings met die uitgewers hoef te voer of proewe hoef te lees nie. Hy sal steeds bereid wees om in Standpunte te publiseer, te help met die beoordeling van grensgevalle, en persoonlike kennisse aan te moedig om bydraes aan die blad te stuur. Hy wil dus, soos hy dit self stel, 'n ‘sleeping partner’ wees. Op sy voorstel word die redaksie dan, naas die hertoetrede van W.E.G. Louw, uitgebrei deur uitnodigings te rig aan Antonissen en Guy Butler (in die plek van Delius wat permanent oorsee vertrek het). In antwoord op 'n vraag van Louw oor die keuse van 'n ‘noordelike’ redakteur stel Opperman telegrafies Merwe Scholtz bo Elisabeth Eybers, maar meen dat dit eintlik Grové toekom. In 'n brief van 7 Oktober 1955 verduidelik hy sy standpunt uitvoeriger. Terselfdertyd illustreer dit op watter beredeneerde wyse hy tot 'n gevolgtrekking kom: Ek sou graag Elisabeth wou ingesluit het, maar sy lewe literêr te eenkant. Daarom sou Merwe 'n beter keuse gewees het, maar dan dink ek (en Fred stem met my saam) kom Grové eerste in aanmerking. Hy staan langer én breër in die stryd, skakel met sowel die Engelse as die Afrikaners, beweeg gereeld tussen Pietermaritzburg, Durban, Potchefstroom, ens. ens. Hy sou ook van al die jongeres die grootste rede kon gehad het om sleg te voel as ons hom verby gegaan het. Ek is daarvan oortuig dat ons verder in hom 'n harde werker en waardige mederedaksielid sal vind. Aan die einde van 1955 tree Opperman dus uit as redaksie-sekretaris. In die uitgawe van Februarie/Maart 1956 spreek die nuwe tydskrifleier, W.E.G. Louw, namens die redaksie sy besondere dank en waardering aan Opperman uit ‘vir die bekwame en getroue wyse’ waarop hy vyf jaar lank die leiding van die blad waargeneem het. Opperman het die tydskrif sodanig uitgebou en gekonsolideer dat dit vandag baie stewig gevestig is en oor 'n groter leserskring as selfs baie buitelandse tydskrifte van spesifiek literêre aard in ou kultuurlande met baie groter bevolkings as Suid-Afrika beskik. Dat dit gedurende 'n uiters moeilike tyd van steeds stygende drukkoste kon gebeur, spreek baie vir sy gesonde leiding en inisiatief. Ook literêr - wil ons verwaand genoeg wees om te glo - het Standpunte die afgelope jare gewys waartoe hy in staat is en in die algemeen 'n standaard gestel wat in ooreenstemming is met die literêre ontwikkeling in Suid-Afrika. Ons wil dan ook die vertroue uitspreek dat waar dr. Opperman nou as redakteur van baie administratiewe sorge en laste ontslaan is, hy die tyd wat daarmee tot sy beskikking gekom het, aan steeds meer skeppende werk sal kan wy, en dat Standpunte ook uit dié omstandigheid voordeel sal trek. | |
[pagina 209]
| |
In haar voortreflike opstel oor sy aandeel aan Standpunte wys Louise Viljoen daarop hoe Opperman se medewerking en verantwoordelikheid ten opsigte van Standpunte vanaf 1946 geleidelik toeneem totdat hy in 1950 volledig die redaksionele leiding van die blad aanvaar. Sy skryf: As redaksie-sekretaris weer hy meer as een organisatoriese krisis, wat die blad se voortbestaan bedreig, af. By sy uittrede staan die blad se geldsake, organisasie en intekening op 'n baie gesonde voet. Onder sy leiding kry die blad ook effektief 'n breër kulturele grondslag en aanspraak deur die aanstel van 'n Engelse redaksielid, asook 'n sterk lewenskragtige en aktuele toon deur die instelling van kronieke en volgehoue aandag aan skeppende bydraes. Daarbenewens is sy organisatoriese en skeppende aandeel in die blad deurentyd aangevul deur sy bemoeienis daarmee as skeppende en kritiese gees.Ga naar eind39 | |
VSoos tydens sy jare by Die Huisgenoot het die redaksionele werk by Standpunte Opperman gelei tot persoonlike kennismaking en vriendskap met medewerkende outeurs en tot 'n hegte verhouding met die amptenare van die Nasionale Pers. In die laat-veertiger- en vyftigerjare tree hy gereeld op as uitgewerskeurder, gee hy privaat heelwat advies aan skrywers wat manuskripte aan hom voorlê en is hy ook sporadies een van die keurders wat oor literêre pryse moet besluit. Daarby het hy noue kontak met verskillende vertakkinge van die Pers wat sy eie publikasies in dié jare betref. In die jare 1949-1956 verskyn daar twee digbundels, twee versdramas en 'n lang epiese gedig van Opperman by die Nasionale Boekhandel (die filiaalmaatskappy wat in 1948 uit die Nasionale Pers tot stand kom), terwyl sy reeks verseboeke en sy doktorale verhandeling Digters van Dertig ook in dié tydvak by dié uitgewery die lig sien. Opperman het sorgvuldig aandag gegee aan die grafiese vormgewing van sy werke, dikwels die lettertipe, papier en linne self gekies en voorstelle gemaak in verband met die bandontwerp en algemene beplanning van 'n uitgawe. Vir die ontwerp het hy dikwels gebruik gemaak van die grafiese kunstenaar Piet Bijl. Onder die setters het hy veral vertroue gehad in Brand Coetzer wat beroemd was daarvoor dat hy Werda van E.C. Pienaar sonder 'n enkele fout geset het. Opperman was 'n groot ‘omkoper’ van mense en kon hulle só begeester dat hulle enigiets vir hom sou doen. Hy was dan ook van Coetzer se besondere prestasies en vermoëns bewus en het daarvoor gesorg dat sy bundels in dié setter se bekwame hande beland. Vir die uitgawe van Periandros van Korinthe het hy die lettertipe Mediaeval gekies en die buiteband met die afdruk van die gevlerkte hings deur Willem Jordaan laat ontwerp. Dit was die begin van 'n lang samewerking wat vir die hele duur van sy skrywersloopbaan sou bestaan, want hy het vertroue gehad in Jordaan se besondere | |
[pagina 210]
| |
smaak en kundigheid by die versorging van 'n boek. Daarby was hy ook goed bevriend met Jordaan se moeder, Fannie, wat in 1956 met sy vriend en kollega Izak van der Merwe in die huwelik sou tree. Vir die eerste uitgawe van Periandros van Korinthe is vyftig eksemplare op handgeskepte papier gedruk en deur die dramaturg onderteken - die eerste keer dat so 'n eer 'n Opperman-werk te beurt val. By die uitgewery was George Minnaar die hoof van Algemene Publikasies. Hy het die uitgawes van Joernaal van Jorik, Engel uit die klip en Periandros van Korinthe behartig, maar daar was weinig kontak tussen hom en Opperman. Dit was Opperman se vaste instelling dwarsdeur sy lewe om sy beste dienste te lewer, maar hy het dit dan ook as sy reg beskou om op 'n ruim vergoeding en alle moontlike finansiële voordele aanspraak te maak. Van tyd tot tyd het hy voorskotte by die Pers gevra, omdat hy dan slegs 6% in vergelyking met die bank se veel hoër rentekoers moes betaal. Vir Minnaar het Opperman te veel gelet op die pennies en hy het hom as 'n inhalige vent beskou. Aan die ander kant was Opperman nie onder die indruk van Minnaar se vermoëns as uitgewer nie. Minnaar het byvoorbeeld Eitemal se Jaffie en Elise Muller se Die vrou op die skuit afgekeur, sodat albei dié werke deur die ondernemende A.A. Balkema gepubliseer is. Vir Opperman was dit minder gelukkige besluite. Hy het veel meer vertroue gehad in Ben Olivier wat in dié jare veral by opvoedkundige publikasies betrokke was en die opeenvolgende herdrukke van die verseboeke behartig het. In die vroeë vyftigerjare was Olivier die amptenaar by die Pers met wie Opperman die meeste geskakel het. Hy was iemand, soos Opperman dit later sou stel, ‘wat met sy hele wese opgegaan het in die uitgewersbedryf. Medewerkers het intieme vriende geword, sy gulhartigheid leer ken - as daar slowende werk was, het hy laggend besiel, jou so begoël dat jy feitlik enigiets vir hom doen!’Ga naar eind40 Opperman was in die vyftigerjare letterlik die guru wat die Nasionale Boekhandel betref. Hy het besluit wat gepubliseer moet word en wat nie. Deur sy gereelde gesprekke met amptenare het hy 'n belangrike aandeel gehad in die beleidsbepaling en ontwikkelingsrigting van dié firma. Van Wyk Louw was in Amsterdam en kon om geografiese redes nie as keurder optree nie, terwyl W.E.G. Louw ook afgesonder op Grahamstad geleef het en deur sy koue, formele houding nie besonder gelief by die amptenare van die Pers was nie. Onder die Stellenbosse letterkundiges het Ernst van Heerden by Balkema gepubliseer, terwyl F.E.J. Malherbe se herhaalde oordeelsfoute en dikwels slordige werk nie vertroue in die geledere van die Nasionale Boekhandel ingeoes het nie. W.J. du P. Erlank, wat in 1950 as professor in die Nederlandse letterkunde aangestel is, het nooit 'n hegte verhouding met die Pers gehad nie en was as kritikus sonder enige noemenswaardige status. In dié omstandighede het Opperman dus hoë aansien by die mense van die Pers geniet. Ben Olivier het hom op grond van sy deursettingsvermoë, werkywer, kundigheid en vermoë | |
[pagina 211]
| |
om enorme hoeveelhede alkohol weg te slaan, die ‘bul van Basan’ genoem, 'n Bybelse verwysing wat assosiasies met krag, skoonheid en stoetvee van besondere kwaliteit oproep.Ga naar eind41 In die vyftigerjare het Opperman kennis gemaak met 'n ander persoon wat as jong man tot die uitgewerswêreld toegetree het en met wie hy lewenslank in 'n besondere verhouding sou staan, naamlik Koos Human. Voordat hy in 1954 by die Nasionale Boekhandel begin werk het, was Human student van C.M. van den Heever aan die Universiteit van die Witwatersrand. Met die oog op sy M.A.-verhandeling oor Die gewilde literêre werk het hy in 1952 Kaapstad besoek om gesprekke met skrywers te voer. In Drieankerbaai het hy Opperman besoek om aspekte van die ondersoek met hom te bespreek; van dié ontmoeting kon hy jare later nog die enorme hoeveelhede bier onthou wat Opperman tydens hulle gesprek weggeslaan het. Die volgende jaar het Human 'n eksemplaar van die voltooide studie aan hom gestuur. Opperman het dit vol belangstelling gelees, maar hy was teleurgesteld in die ‘geklets oor en vir die Regina Nesers!’Ga naar eind42 Human se ‘verweer was dat hy die Afrikaanse leserspubliek probeer peil het’.Ga naar eind43 Veel later, toe hy 'n huldigingsartikel by geleentheid van Human se vyftigste verjaardag in 1981 moes skryf, het Opperman weer na die verhandeling gekyk en dit heeltemal anders beoordeel. Dit was vir hom ‘die eerste en enigste studie by ons van 'n uitgewer wat ernstig oor sy taak en probleme nagedink het (en wat met 'n) wye erudisie (oor die) leserpubliek, die advertensies en die boekemark van daardie dae’Ga naar eind44 kon gesels. Aanvanklik was Human by die afdeling Skoolpublikasies van die Nasionale Boekhandel betrokke, maar reeds in dié tyd het hy ‘gedurig rondgesnuffel om meer te wete te kom van die aktiwiteite in die afdeling Algemene Publikasies’Ga naar eind45 en só reeds met die voorbereiding van Periandros van Korinthe te ‘belewe wat met die publikasie van 'n Opperman-werk gepaard gaan’.Ga naar eind46 Op 1 Januarie 1956 het Human hoof geword van Algemene Publikasies, en van toe af was daar gereelde kontak en het die ‘voordeurklokkie en telefoon (van Opperman se huis) flink gelui!’Ga naar eind47 Vir Opperman was - soos hy in sy huldigingsartikel getuig - dit ‘opwindend om met 'n uitgewer te gesels wat belese is, opgaan in die wêreld van die woord, die fyn tipografiese versorging van 'n boek - vir wie dié dinge feitlik 'n persoonlike hartstog is.’Ga naar eind48 Van tyd tot tyd het Human van die Nasionale Boekhandel se kantore in Parow uitgery na Tamboerskloof (waar die Oppermans sedert 1954 gewoon het) om oor nuwe publikasies te onderhandel. Omdat hy geweet het dat die aanvanklike samesprekings opgevolg sou word deur los gesprekke met die gebruik van heelwat Oude Meester, moes hy voorsorgmaatreëls tref vir sy maag en gestel om die toets te deurstaan! Daarom het hy dan ook dikwels onderweg na Tamboerskloof op die Kaapse Parade stilgehou om eers 'n vleispasteitjie by Micks te eet voordat hy die tog verder voortsit! Tydens sy termyn as hoof van Algemene Publikasies het Human die produk- | |
[pagina 212]
| |
sie van twee van Opperman se eie werke behartig: Blom en baaierd en Vergelegen, albei in 1956 gepubliseer. Vir Vergelegen was Opperman nie so besonder gesteld op die uiterlike versorging nie, maar hy het aangedring op groen bandlinne en gevra dat Willem Jordaan 'n druiwetros vir die voorplat moes ontwerp. Aan die grafiese voorkoms van Blom en baaierd het hy egter baie aandag bestee. Volgens Human het hy gevra vir die skerp teenstelling wit/swart op die band. Hy het ook die byna skril Bodoniletter vir die teks gekies uit verskeie soorte wat aan hom voorgelê is. Die volgorde van die gedigte en die verdeling van die bundel in afdelings was van groot betekenis. In Blom en baaierd is daar op drie plekke (tussen pp. 18 en 21, pp. 36 en 39, en pp. 56 en 59) blanko bladsye. Ek het hom gevra of ons nie die boek formeel in afdelings kan indeel met Romeinse of Arabiese nommers of hoe ook al gemerk nie. Hy wou nie. So skerp was die onderskeidinge tussen die verskillende afdelings nie, maar 'n sekere verdeling moes daar wees. Wie na Opperman se bundels as durchkomponierte eenhede kyk, het volkome gelyk.Ga naar eind49 Naas sy skeppende werk en bloemlesings is dit veral sy dienste as uitgewerskeurder wat Opperman se besondere posisie in hierdie jare by die Nasionale Boekhandel bepaal, want daar is - met uitsondering van die publikasies van Van Wyk Louw en W.E.G. Louw - nie 'n digbundel van dié uitgewery wat nie deur sy hande gegaan het nie. Daarby keur hy ook soms vir uitgewerye soos A.A. Balkema en HAUM, kanaliseer hy nuwe manuskripte deur sy redaksionele werk by Standpunte na die Nasionale Boekhandel en gee hy persoonlike advies aan skrywers wat om raad aanklop. Die eerste manuskrip wat Opperman in dié jare keur, is I.D. du Plessis se Ballade van die eensame seeman. Alhoewel hy dit uiteindelik geskik vind vir publikasie, aarsel hy op grond van die ‘nawerking’ van Coleridge and Mellville en die verwantskap wat die gedig met Watermeyer se ‘seggingstrant’ toon. Met die keuring van S.J. Pretorius se epiese gedig Grou mure doen hy weglatings en wysigings van reëls en verandering van woorde aan die hand en herskryf hy selfs hele passasies, in so 'n mate dat sy hersiening 'n indringende strukturele ingryp word. Aan Ernst van Heerden se epiese gedig Die bevryding het hy weinig gehad, maar heelwat advies gegee wat onderdele van Reisiger en Koraal van die dood betref, al was daar vir hom veral in die laaste bundel 'n fasiele en steriele element. Van Heerden was bewus van hierdie beswaar, want in Opperman se eksemplaar van Koraal van die dood skryf hy die volgende inskripsie: Ek hoop jy vind
die dodemis
nog redelik ryk
aan lewenslus!
| |
[pagina 213]
| |
Vir Reisiger het Opperman veel meer waardering gehad en by die verskyning van die bundel stel hy 'n heildronk daarop in en lewer hy 'n kort rede.Ga naar eind50 Uitgaande van die Blake-motto (‘The Traveller hasteth in the Evening’)Ga naar eind51 sien hy Van Heerden se reisiger as die Christelike pelgrim sonder die hemelse troos, die Middeleeuse ridder sonder die graal - 'n motief wat verbind word met die onrus, eensaamheid, verlange en doodsvrees van die romantikus. Dan gaan hy oor om die reismotief in die bundel te ontleed. Die spel met kronos bring in die eerste plek 'n sinchroniese houding mee waar die ek saam met die tyd in die hede beweeg: 'n reis per trein, vliegtuig of skip; reisindrukke van Suid-Afrika of Vlaandere; 'n beskrywing van 'n voorval of insident en inlewing in klein gestaltes. In die tweede plek is daar 'n diachroniese houding waar die ek teen die tyd in beweeg, teruggryp na die verlede. Dan kry 'n mens stemminge van die aand, see, bos, lente of skemering in verse wat iets stromends en weemoedigs het en aan Bloem of I.D. du Plessis laat dink. In die derde plek is daar 'n achroniese ingesteldheid. Die konsekwente tyd word verontagsaam, dit word 'n strewe na die bo-tydse; soms is verlede, hede en toekoms deurmekaar sodat ons 'n soort surrealistiese vers het. Baie van hierdie gedigte is ontledingsverse met die ‘peillood’ as sentrale beeld. Wat die achroniese houding betref, onderskei hy dié verse waarin Van Heerden doelbewus in sy tekening die tyd probeer ophef en 'n oomblik van tydloosheid wek (vroeër aan die slot van ‘Fusillade’, hier in ‘Vlieënde vis’) en dié waarin hy onbewustelik die strewe van alle digters bereik: om deur die geslaagdheid van die vers die ophef van die tyd en 'n oomblik van tydloosheid te belewe (‘Helikopter’). In die bundel as geheel is die verse vir Opperman oor die algemeen soberder en met minder invloede en gesogthede. Dit is veel beter as Die bevryding en sluit aan by Van Heerden se beste verse van vroeër. Die kort rede by die verskyning van Reisiger gee weer 'n aanduiding met watter nougesette aandag Opperman hom selfs vir so 'n klein geleentheid as die instel van 'n heildronk op 'n private geselligheid in 'n bundel ingeleef en met insigte gekom het waarop nie een van die resensente van die bundel destyds kon wys nie. Die verslae wat hy oor manuskripte in die vyftigerjare skryf, getuig ook telkens van sy volkome oorgawe en inlewing in sy skerp en gevoelige kritiese sintuig by die beoordeling van 'n werk. Abraham H. de Vries se Proegoed keur hy af, omdat dié tipe volkspoësie 'n mode word en die bundel as geheel te yl is. Ook die eerste bundel van George Louw, wat as Die leisel van die tyd aangebied word, vind hy minder goed, terwyl hy 'n lang verslag skryf oor 'n manuskrip van Vincent van der Westhuizen en heelparty wenke aan die hand doen - 'n jammerlike geval van 'n jong digter wat nie na wyse raad geluister het nie. W.E.G. Louw se beswaar dat Opperman in die vyftigerjare in Standpunte voorkeur gegee het aan dié tipe gedig wat sy eie poëtiese werkwyse volg, word geloënstraf deur sy negatiewe reaksie op 'n manuskrip van A.J.J. Visser, 'n digter wat in 'n groot mate as 'n Opperman-epigoon beskou kan word. Hy skryf: | |
[pagina 214]
| |
Visser se werk is in 'n groot mate deur die moderne Afrikaanse poësie gevorm en vervorm. Dit wil nie sê dat hy klakkeloos naskryf nie, maar 'n mens word telkens deur toon, tegniek en frasering só aan die werk van ander herinner dat sy eie skerp sienings daardeur verlore gaan. Die digter besit 'n sekere behendigheid met die hantering van allerlei versvorms, soos byvoorbeeld die sonnet, die kwatryn, die koeplet, die tersine, ens.; maar sy virtuositeit verlei hom om 'n digterlike speletjie te bedryf waarin hy van uiterlike kunsgrepe gebruik maak en die gedig 'n innerlike eenheid mis omdat die vers volgens toevallige, skerp waarnemings en toevallige rymwoorde aanslenter. Sy vers wil vonkel, krities en sinies wees, maar dit mis die meevoerende aksent, sodat dit dikwels kunsmatig aandoen. Aan die ander kant was 'n tipe vers wat losser staan van regstreekse invloede, nog nie vir hom ongekwalifiseerd beter nie. Alhoewel hy in die vroeë werk van W.F. Knobel die onafhanklikheid van die Afrikaanse literêre tradisie, die eksperimente met 'n vrye vers en nuwe beeld, die afwesigheid van interpunksie en die ‘moedige strewe na nugterheid’ waardeer, is die hoofindruk van dié poësie dié van ‘voorlopigheid, aantekeninge vir poësie en aantekeninge by die lees van poësie’. Die vormgewing mis vir hom oortuigingskrag en noodwendigheid en die vers is skraal. Hy gaan voort: Hinderlik word die eendersheid van uitbeelding - amper 'n soort inkantasie - oor die geslagtelike, die biologiese, die musiek, die drankies, die sigaret en die dy - deesdae eintlik 'n soort literêre mode. Al hierdie dinge bring iets ‘neulerigs’ in Knobel se werk. Aanvanklik is hy ook negatief teenoor Barend J. Toerien se Verse van twintig jaar, meesal in sangstyl (waaruit die bundel Gedigte van 1960 ontwikkel) en hy stel 'n kleiner keuse voor. ‘Byna al die gedigte in die bundel,’ sê hy in sy verslag besit 'n ‘ietsie’ wat boei: soms 'n woord, 'n beeld, verwerking van 'n invloed, 'n woord- of klankspel; maar hulle bly nie op peil nie, verloop, kry maklike oplossings, maak gebruik van ou digterlike uitdrukkings en verwring die sintaksis. Drie belangrike bundels uit die vyftigerjare waaraan Opperman baie aandag bestee het, is Die verlate tuin van Ina Rousseau, Uurglas van P.J. Philander en Steenbok tot poolsee van Peter Blum. Reeds in die veertigerjare het Ina Rousseau gedigte na Die Huisgenoot gestuur en Opperman só persoonlik ontmoet. Van dié gedigte het hy opgeneem in Stiebeuel en later voorleggings aan Die Huisgenoot in Standpunte gebruik, maar aanvanklik aanbeveel dat sy wag met 'n bundel. In 1953 het hy egter voorgestel dat sy 'n manuskrip vir die Reina Prinsen-Geerligsprys voorlê - die eerste keer dat Afrikaanse werke vir dié Nederlandse toekenning in aanmerking sou kom. Opperman het Die verlate tuin vir haar saamgestel, aan die hand gedoen watter gedigte sy moes weglaat en | |
[pagina 215]
| |
aan watter sy nog moes werk en ook die titel van die bundel verskaf. Sy het die manuskrip vir die prys ingestuur en eintlik daarvan vergeet, en was verras toe Opperman, wat self een van die keurders was, haar op 'n dag meedeel dat haar bundel bekroon is. By die oorhandiging het Opperman die commendatio gelewer. In sy rede het hy vertel van Ina Rousseau se vroeë verse en die verrassende ontwikkeling wat haar digkuns ondergaan het: In 1946 toe mnr. F.J. le Roux en ek besig was om 'n bloemlesing uit die poësie van jongeres saam te stel, het ek die eerste keer met mej. Rousseau se werk kennis gemaak. Ons het jong onbekende persone gevra om van hulle gedigte aan ons te stuur en om ook ander digtende jongeres wat hulle ken, daartoe aan te moedig. So het mnr. Jan Rabie gedigte aan ons gebring en gesê hy weet van 'n jong, skaam, teruggetrokke damestudent tussen die eike op Stellenbosch, maar hy het gereken hy sou haar kon aanpor om van haar verse aan ons voor te lê. Ek het 'n groot stapel gedigte ontvang en begin lees. Die digteres het haar graag in hierdie periode oorgegee aan lang sagmoedige stemminge oor die natuur, die skemering, die droogte, die jeug, eerste drome en die dood. Die versreëls het in mekaar vervloei, daar is eindeloos geënjambeer. Met 'n flou ritme en ontroering het die vers voortbeweeg en amper geen indruk nagelaat as dié van 'n eensoortige belydenisklag nie. In Stiebeuel het ons haar beste gedig van dié periode ingesluit, nl. ‘Gewaarwording in die herfs’. Hierdie eerste gedigte, waarvan ons nog 'n paar in die onderhawige bundel vind, het duidelike naklanke van Bloem, Holst, Buning, Elisabeth Eybers en W.E.G. Louw - in teenstelling met haar jongste gedigte waarin die invloede volkome verwerk is. Hy wys op voorbeelde en waardeer ‘die spel van teenstellings wat ... (in die gedigte) voorkom en opgelos word, 'n spel van skepping én vernietiging, van liefde én haat, dood én lewe, van berusting en opstand. Telkens sien ons gebou en bouval in mekaar’, soos in ‘Eden’. Die bundel ‘getuig van 'n eie stem en eie wêreld’ en is sterker as Die soeklig van Olga Kirsch en suiwerder as Elisabeth Eybers se Belydenis in die skemering, hoewel 'n gedig van die gehalte van ‘Maria’ nog ontbreek. Opperman het ook besondere moeite gedoen met P.J. Philander se werk. Philander het 'n manuskrip vir die Nasionale Boekhandel ingestuur. Daaruit het Opperman ‘Sonsverduistering’ en ‘Die oester’ gekies vir publikasie in Standpunte en die hoop uitgespreek dat dit as aanmoediging sou dien. Dit het die gewenste uitwerking gehad, want Philander het van tyd tot tyd in die vyfti- | |
[pagina 216]
| |
gerjare gedigte aan Standpunte voorgelê. Gewoonlik het Opperman teruggeskryf om mooi gedeeltes aan te dui, op insinkinge te wys en dikwels aanbeveel dat Philander sekere dele as kerne moet beskou, daarop moet konsentreer en dit probeer uitbou. Hy het selde fout gevind met Philander se woordgebruik, nooit ingewings probeer afdwing nie, maar tog daarop aangedring dat hy 'n kritiese ingesteldheid teenoor sy werk moet inneem. Wat langer verse (soos ‘Komeet’ en ‘Die slaaf’) betref, het hy aanbeveel dat Philander vooraf moet beplan, 'n skema moet uitwerk en nie sommer lukraak moet skryf nie. By geleentheid het Opperman en sy vrou hulle op Malmesbury sonder afspraak kom besoek. Philander was nie tuis nie, maar sy vrou het hulle ontvang. Hulle het tee gedrink en hy het gevra om haar man se versameling boeke te sien. Hy het die klein hangkassie met boeke sorgvuldig deurgegaan en 'n paar weke later 'n hele aantal bundels as geskenk gestuur: Roy Campbell se Adamastor, W.H. Auden se Selected poems, Gerrit Achterberg se Eurydice, J.C. Bloem se Sintels, Herman Gorter se Mei en dergelike meer. Hierdie gebaar het Philander besonder waardeer en hy het Opperman leer ken as 'n liewe mens wat graag ander wou help, aanmoedig en bystaan.Ga naar eind52 As Philander uiteindelik 'n bundel onder die titel Mymeringe in die water vir die Nasionale Boekhandel aanbied, stel Opperman die titel Uurglas voor. Hy doen 'n ander volgorde aan die hand, wys op gedigte wat weggelaat kan word en gee wenke vir teksveranderinge. ‘Komeet’ vind hy ‘effens omslagtig-anekdoties en daar is 'n willekeur in die bou.’ ‘Die slaaf’ wil 'n ‘groot greep uit die geskiedenis gee, het ook 'n skoonheid van 'n brokagtige en barokagtige kwaliteit’, maar 'n mens is bewus van hiate, en dit is nie orals ‘ewe oortuigend en meevoerend nie’. Tog vind hy genoeg kwaliteite in die manuskrip om dit vir publikasie aan te beveel.Ga naar eind53 'n Ander digter met wie Opperman in hierdie jare kennis maak, is Peter Blum. Blum se eerste gepubliseerde vers is die in Engels geskrewe balladeske ‘Skollysong’ wat in Standpunte, VI: 4, Julie 1952 verskyn. In die jare 1954-1955 verskyn nog verse van hom in Standpunte wat die kern van sy debuutbundel vorm en wat hy onder die titel Tussen steenbok en poolsee aan die Nasionale Boekhandel voorlê. Opperman was baie beïndruk met die bundel. Omdat hy vermoed het dat daar morele besware teen die publikasie uit sommige noordelike kringe mag kom, het hy 'n langer keurdersverslag as gewoonlik oor die manuskrip geskryf. Uitgaande van die titels wys hy op die Suid-Afrikaanse en Europese voedingsbodems van die bundel en die twee pole wat daardeur vir dié digterskap aangedui word, 'n spel van magte wat in die reeks ‘Wat die hart van vol is’ 'n hoogtepunt bereik. Wat hom in die bundel tref, is ‘die nuwe temas en onderwerpe en die eie segging van die digter’, die wyse waarop ‘die Afrikaanse digkuns hom weer aan die gewone spreektaal en die nie-poëtiese woordeskat’ hernu. Hy dui die literêre tradisie aan waarby Blum aansluit: die Afrikaanse wêreld van Leipoldt en Krige, die Franse wêreld van Baudelaire en Villon, en die digterlike procédé van Marvell en veral John Donne. Hoewel | |
[pagina 217]
| |
sommige verse 'n ‘gewaagde’ element het, waardeer hy die etimologiese spel en woordeksperiment (‘Woordafleiding’ en ‘Rooinekke op Hermanus’), die afwesigheid van cliché-taal, prikkelende sienings en beeldspraak, die ‘spot, ligte geestigheid en volkse toon’, en die uitbeelding van ‘'n liefdeservaring met groot erudisie, met erns en spot en die verbeeldingspel van 'n John Donne’. Hy doen aan die hand dat die woord ‘tussen’ in die titel weggelaat word, omdat dit ‘verswakkend’ werk en die blote Steenbok tot poolsee ‘klinkender’ is. Die afwisseling tussen ‘'n volkse en nie-poëtiese taal’ en woorde ‘wat literêr en hoog-digterlik’ aandoen, vind hy funksioneel en dit bereik vir hom 'n hoogtepunt in ‘Kaapse sonnette’. Hy wys op 'n aantal probleme in die woordgebruik en waarsku dat die digter ‘sal moet waak teen 'n soort “truuk” wat hy telkens gebruik om hom aan te help na die volgende rymklank: die parentetiese golf, die volmaak van reëls deur bystellings, enumerasie, byvoeglike of bywoordelike reekse en samestellings’. Hy sluit egter sy verslag af: dit moet reeds duidelik wees dat ek die digbundel Tussen Steenbok en Poolsee met vrymoedigheid vir publikasie kan aanbeveel. Dit is 'n belangrike digbundel - miskien nie altyd om wat dit reeds aan blywende skoonheid bereik het nie, maar dan sonder twyfel om die ryke en nuwe inset.Ga naar eind54 Opperman het van die begin af nie alleen 'n groot eerbied vir Blum se talent en virtuositeit gehad nie, maar ook vir sy belesenheid en intellek. Reeds voor die verskyning van Steenbok tot poolsee ontmoet hulle mekaar persoonlik en skryf Blum - wat in hierdie jare 'n feitlik maniese korrespondent is - baie briewe aan Opperman. Vir Standpunte lê hy ‘Gaffelwerk oftewel: Vlakke van exegese in die Knersvlakte’ voor, 'n satiriese stuk waarin hy die spot dryf met Van Wyk Louw ná die verskyning van Nuwe verse. Die openingsgedig in dié bundel parodieer as hy volg: Weereens sal ek na die poele
Van my ou Knersvlakte gaan,
Om in die sterlig, die teer-koele,
Blink-duister in die maan gaan staan (,)
terwyl hy die ‘Klipwerk’-afdeling onder meer in die volgende rympie hekel: O Boegoeberg se dam
is 'n doodlekker dam:
dis waar die meide
hul okselhare kam
Ek vlieg daar soos 'n wolbal rond,
my pere is van staal:
| |
[pagina 218]
| |
ek het my angel skerpgemaak
om jou heuning uit te haal.
Opperman waardeer die satire, maar meen dat daar ander skrywers is wat dié hekeling vóór Van Wyk Louw verdien. Daarby het hy gedink dat die publikasie van so 'n stuk in Standpunte sleg op homself mag reflekteer en die spanning wat daar intussen tussen hom en Van Wyk Louw ontstaan het, mag vererger. In 'n brief van 30 April 1955 formuleer Blum sy besware meer eksplisiet, 'n brief waaruit 'n mens kan aflei dat hy met sy hele digterlike instelling afkerig staan van Van Wyk Louw se grootse gebaar, 'n brief wat verklaar waarom hy later in ‘Die klok in die newel’ sy voorkeur vir Opperman se poësie met ‘emosies minder krampagtig’ onomwonde sal uitspreek. Hy meen dat Van Wyk Louw op die hande gedra word deur 'n kultus, soos Stefan George in Duitsland. Hy sê: En hoe meer ek Van Wyk se verse lees, hoe meer word ek bewus van hoe min hy eintlik sê, en hoe groots hy hom voordoen oor die gesegde. Ek sien die profetiese gebaar, maar ek hoor nie die boodskap nie. Blind, blink, duister, sterre, oë, waan, swart - 'n warreling van prikkelwoorde wat enigiets of niks kan aandui. En gesigte wat hy verdomp nie gesien het nie, anderste was hy vandag proffie in Valkenburg, nie Amsterdam nie. Waters wat diep lyk omdat hulle troebel is. Sterrebeelde op die plafon vasgespyker. Opperman het literêre skindernuus altyd baie geniet en 'n mens kan jou indink met hoeveel plesier hy Blum se briewe gelees het.Ga naar eind55 Op 30 April 1955 skryf Blum dat prof. W. Kempen, professor in taalkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, sy verse in Standpunte by die derdejaarsklas aangeprys het en dat studente hom nou elke dag vra wanneer sy bundel verskyn. Hy moedig hulle aan om - in afwagting van die bundel - eksemplare van die betrokke nommer van Standpunte te koop; sewe van hulle ‘het glo al gebyt’. Hy vra dat as Opperman 'n reël oor sy bundel in Standpunte wil byvoeg, hy tog asseblief moet vermeld dat Blum op Stellenbosch studeer. ‘Jy weet, ons proffies kan dit nie kleinkry dat Uys die enigste digter is wat hulle taalbewuste inrigting opgelewer het nie. Hulle sal my dus goedgunstig bejeën as ek vir hulle 'n bietjie 'shine' gee.’ Na die verskyning van die bundel is hy intens geïnteresseerd in die verkope. Hy stel vas dat agt en twintig eksemplare van Steenbok tot poolsee in die eerste week op Stellenbosch verkoop het; ‘sedertdien roes dit’. By Balkema se boekwinkel lê die eksemplare rond, en hy waag dit nie om by die Kaapse winkels te gaan vra nie. ‘My sg. vriende,’ so sê hy in 'n brief van 1 Desember 1955, het my natuurlik in die steek gelaat. In die publikasies van die Nasionale Pers het ek nog g'n enkele aankondiging of advertensie gesien nie. Wat makeer hulle? Om aandag aan te wakker het ek Eikestadnuus gevra om iets oor my te skryf; hulle vra | |
[pagina 219]
| |
toe vir Oosterhof (indertyd professor in Frans aan die Universiteit van Stellenbosch - J.C.K.) om dit te resenseer. Ek moes so wrintie 'n komplimentêre eksemplaar vir hom stuur. As mense soos hy dit nie koop nie, wie sal? Oosterhof gaan oorsee en sal die resensie van die skip af aanstuur. Ek glo amper nie dit sal klop nie. Aanstuur hoe? per seemeeu? Dit nog kastig vir hulle laaste nommer van die jaar - 16de Desember. Nadat enkele negatiewe resensies oor Steenbok tot poolsee verskyn het, verdedig Van Wyk Louw die poësie van Blum in 'n radiopraatjie wat op 12 September 1956 deur Radio Hilversum Wereldomroep uitgesaai word en waarvan 'n verslag in Die Burger van 18 Oktober 1956 verskyn. Van Wyk Louw se praatjie is ook 'n reaksie op die morele besware van die noordelike skrywers, wat Opperman voorsien het. Ná die verskyning van die bundel vind Pieter Graavesand (pseudoniem van C.M. van den Heever) in Die Brandwag van 23 Maart 1945 sommige van die verse ‘dekadent’ en 'n nuwe soort ‘sensasiekuns’, terwyl D.F. Malherbe in 'n artikel in Tydskrif vir Letterkunde, VII:1, Maart 1957 van 'n ‘maaierkultus’ en die verval van ons verskuns praat. Die Afrikaanse Skrywerskring van C.M. van den Heever en S. Ign. Mocke (wat in Helikon teen die bundel te velde trek) beywer hulle op grond van morele besware daarvoor dat die hele oplaag van Steenbok tot poolsee deur die Nasionale Boekhandel aan verspreiding onttrek moet word, terwyl Anna Neethling-Pohl ook haar misnoeë oor die bundel uitspreek en aanvanklik weier om gedigte daaruit in haar radioprogram Verse op versoek voor te lees. In 'n persoonlike brief van 24 Desember 1955 aan ‘Hooggeagte dr. Opperman’ maak J. Nel van der Merwe, onderwyser aan die Helpmekaar Hoër Seunskool in Johannesburg en 'n teleurgestelde digter, ook beswaar teen die bundel. Blum se ‘geheelbeeld’ is vir hom ‘onwaar’, dit het ‘überhaupt niks met die skoonheid te make nie’. Hy gaan voort: Hierdie B.A.-student, wat vir my 'n wild-vreemdeling is en wie miskien 'n dood interessante mens is, het hom nie - verantwoord wat hy alles daar sê nie. Hoekom? Wel, dis sý drif, sy raptus.... As u my geken het, sou u weet dat om hierdie brief só te skryf aan u, 'n uiterste seldsaamheid is. Maar, hoe outyds dit ook mag klink: dis 'n gewetensaak. 'n Nie-Christen kan diep religieuse verse skryf. Blum besit volgens my, nie 'n greintjie religie nie, nie 'n gryntjie ‘Beauty’ nie. Inteendeel, die boekie vul my met weersin. Ek is bibliotekaris van Helpmekaar: dis die eerste boek deur die Nasionale Pers uitgegee wat ek op die verbode lys gaan plaas. Nou gaan dit te ver.Ga naar eind56 Alhoewel Opperman Blum se bundel nie in die openbaar verdedig nie, het hy agter die skerms heelwat gedoen om die amptenare van die Nasionale Boekhandel gerus te stel en om die aksie van die Afrikaanse Skrywerskring te ontkrag. Hy was ook sterk ten gunste daarvan dat Blum se bundel met die W.A. Hofmeyrprys bekroon moet word, maar daarvoor het die Boekhandel-mense | |
[pagina 220]
| |
in die lig van die negatiewe resensies en die morele besware nie kans gesien nie! As hy in 1956 weer as keurder vir die Reina Prinsen-Geerligsprys optree, beveel Opperman Steenbok tot poolsee baie sterk vir die toekenning aan. In sy verslag sê hy: Hy (Steenbok tot poolsee - J.C.K.) staan ver bo al die ander werk uit en neem in die Afrikaanse liriek 'n besondere plek in: eintlik verteenwoordig hierdie verse die jongste groei in ons digkuns. Ek het hoë waardering vir die sobere woordgebruik, die inspan van die volkswoord, die praatkwaliteite van die vers, die wisselende ritmiese spannings, die spel van die verbeelding, die gebruik van die rymwoord, die nuwe vorms en temas...Soms steek die vers nog in die eksperimentele vas, maar oor die algemeen het Blum daarin geslaag om vir ons iets moois en nuuts in Afrikaans te gee. Met sy werk as uitgewerskeurder lewer Opperman dus nie alleen 'n bydrae tot die Nasionale Boekhandel en die Afrikaanse letterkunde as sodanig nie, maar kom hy ook in aanraking met jong skeppende kunstenaars wat hom stimuleer en verruim. Die oorgawe waarmee Opperman hierdie werk onderneem en die trefseker oordele wat hy kon uitspreek, het aan hom 'n baie hoë aansien by die amptenare van die Pers besorg. Terselfdertyd het dit daartoe gelei dat hy voortdurend sy vinger op die pols van die jongste Afrikaanse letterkunde kon hê en met die nuutste ontwikkelinge van dag tot dag kon meeleef. | |
VIIn die loop van 1949 was Dirk en Marié Opperman, vergesel van Van Wyk en Truida Louw, Izak van der Merwe, Canis en Ena Scholtz en hulle seun Jan, op 'n uitstappie na Paternoster waar hulle vleis gebraai het. Opperman was toe 'n paar maande verbonde aan die Universiteit van Kaapstad en het ernstig daaraan gedink om sy studie met die oog op 'n doktorsgraad voort te sit. Die natuurgevoel in die Afrikaanse letterkunde, waaraan hy in sy jare as onderwyser in Pietermaritzburg begin werk het, was nie meer vir hom boeiend nie. Ook het hy nie veel erg meer gehad aan 'n voortsetting van sy M.A.-studie oor die literêre kritiek nie. Tydens die besoek aan Paternoster het Van Wyk Louw dit onomwonde as sy standpunt gestel dat Afrikaners liewers hulle eie literatuur moet ondersoek en nie oor Nederlandse onderwerpe moet skryf nie. Dit kan gebeur dat fyn nuanses in 'n Nederlandse gedig of roman vir die Afrikaner verlore gaan weens die distansiëring van Nederland en die onvertroudheid met die verwysingswêreld, terwyl die Afrikaanse terrein vir ondersoekers nog braak lê. In die loop van hulle gesprek het die gedagte by Opperman ontstaan om 'n omvattende studie te maak van die geslag digters wat in die dertigerjare gedebuteer en 'n groot | |
[pagina 221]
| |
vernuwing in die Afrikaanse poësie gebring het. Met Van Wyk Louw as intieme vriend, sy kontak met al die ander digters van dié generasie en met sy kennismaking met feitlik almal wat dié vernuwing regstreeks beleef het, was 'n ondersoek van hierdie digters se werk vir Opperman die vanselfsprekende onderwerp van ondersoek. Daarby sou hy Canis Scholtz as promotor hê, iemand wat die belangrikste gebeurtenisse self meegemaak het. Met so 'n studie sou hy trouens die werk voortsit wat hy in 1938 met sy agttal artikels oor die ‘gebrokenheid’ en die digters van die dertigerjare in Die Natalse Afrikaner begin het. Opperman het onmiddellik weggeval met die studie. Aangesien hy reeds as kritikus en skeppende kunstenaar heelwat gepubliseer en bekronings ontvang het, is hy toegelaat om vir die D. Litt. in te skryf, 'n seldsame graad wat - anders as die gewone Ph.D. - aan die Engelstalige universiteite net toegeken word vir hoogs oorspronklike navorsingswerk en aan kandidate met ander publikasies op hulle naam. Voor Van Wyk Louw se vertrek na Amsterdam het Opperman baie met hom oor die agtergrond van gedigte gesels, plakboeke deurgewerk en aantekeninge van sy onderhoude in 'n klein groen boekie gemaak. Saam met hom en Greshoff besoek Opperman van 16 tot 18 Desember 1949 Van Wyk Louw se geboortedorp Sutherland en doen hy regstreekse kennis op van sy vriend se jeugmilieu. So indringend was Opperman se ondervraery dat Van Wyk Louw later ongemaklik begin word en teenoor Canis Scholtz daaroor gekla het: ‘Ek sit dán op die een boud, dán op die ander, maar Dirk hou nie op met vra nie’.Ga naar eind57 Ná Van Wyk Louw se vertrek op 1 Februarie 1950 moes Opperman feitlik al sy aandag aan die voorbereiding van die verseboeke bestee en kon hy maande lank nie by die proefskrif uitkom nie. In 1951 sit hy egter knaend in die Suid-Afrikaanse Biblioteek om die jaargange van De Goede Hoop, Die Boervrou, Die Brandwag, Die Nuwe Brandwag, Die Huisgenoot, Umpa en die Kwartaalblad van die Uniwersiteit van Kaapstad, ens. deur te gaan. Só deeglik het hy byvoorbeeld die Kwartaalblad verken dat hy later in gesprekke met Meyer de Villiers presies kon uitwys watter geskrifte onder skuilname van De Villiers self is! Die feitelike navorsing, kontrole en ordening het baie tyd in beslag geneem. In September 1951 gaan hy na Johannesburg, hoofsaaklik om met C.M. van den Heever, Elisabeth Eybers en Hettie Smit onderhoude te voer en om hulle ongepubliseerde werke en manuskripte deur te gaan. Hettie Smit het hom meegedeel dat Sy kom met die sekelmaan - waarin W.E.G. Louw as die ‘dear imaginary friend’ figureer - vir haar die boek van die liefde was. Sy het die begeerte om nog eendag die boek van die háát te skryf, maar sy waag haar nie meer aan die literatuur nie. Intussen kon Opperman begin met die sistematisering van sy materiaal en begin skryf. Op 18 November 1951 laat weet hy vir Van Wyk Louw dat sy studie al sy tyd vreet. Aan die een kant is hy vies daaroor, want hy beskou die kritiek as 'n ‘'betreklike' speletjie, wat met die eerste ordentlike Suidoos ver- | |
[pagina 222]
| |
waai’. Daarom maak hy die studie sterk histories en vermy hy oor die algemeen enige teoretisering. As hy met die hoofstuk oor W.E.G. Louw besig is, wei hy in 'n brief aan Van Wyk Louw uit oor wat vir hom die positiewe bydrae van dié digter is. Die ‘nuwe’ wat W.E.G. Louw bring, is die kort liriese stemmingsverse (soos ‘Vaalvalk’), die ‘lieflike gestaltes’ (soos ‘Ou Flenterkatiera’), die ‘intieme, beskeie liefdesverse’ (soos ‘Stil aand’), en dan ‘in 'n mate sy belydenisse oor die godsdiens en die liefde, maar wat eers in sy tweede en veral sy laaste bundel (Adam en ander gedigte - J.C.K.) die peil van die ander verse bereik’. Verse soos ‘Belydenis’ en ‘Ondergang’ vind hy net in onderdele bevredigend. In briewe van 2 Januarie en weer van 7 Junie 1952 reageer Van Wyk Louw op navrae oor die prioriteit van sekere verse van hom en W.E.G. Louw. Hieruit kan 'n mens aflei dat Opperman die hele veld van ondersoek deeglik en uitgebreid verken en nie 'n enkele agterhaalbare feit verwaarloos het nie. In November 1951 is Opperman al ver gevorder met die proefskrif. In dié stadium moet hy nog die afdeling oor Elisabeth Eybers en die inleidende en slothoofstukke skryf. In Februarie 1952 laat hy Van Wyk Louw weet dat hy dag en nag met die studie aan die gang is en dat hy Junie 1952 wil klaarmaak. In Junie lewer hy dan ook die voorlopige manuskrip by Scholtz in.Ga naar eind58 ‘Die proefskrif is klaar,’ sê hy aan A.P. Grové. ‘Canis is nou net besig om hier en daar aan 'n sinnetjie te klop.’ Aan Van Wyk Louw skryf hy op 29 Junie 1952 dat 'n tikster besig is met die finale teks. Hy sê: Ek het nie probeer ‘splash’ of ‘smash’ nie, maar ongesog deur die blote oorgawe aan die gegewe, tog hier en daar nuwe feite versamel, nuwe sienings en oordele gebring. Oor die algemeen laat ek meer reg teenoor die digters wedervaar as wat dit nog die geval in die verlede was; maar om begryplike redes sal die digters self hier en daar nie met my saamstem nie. In elk geval, ek is bly die ding is klaar en verby, en op die oomblik voel ek daardeur hopeloos opgedons - ek ly aan literêre senuwees. Op 30 Oktober 1952 vergader die raad van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte van die Universiteit van Kaapstad. Punt 4 van die agenda is die rapporte van die eksaminatore oor die verhandeling Die vernuwing van Dertig in die Afrikaanse poësie deur ‘D. Litt.-kandidaat D.J. Opperman’. In sy verslag gee Scholtz as promotor 'n aanduiding van die inhoud en beskryf die studie as ‘tegelyk literêr-histories en literêr-krities van opset’. Hy het waardering vir die ‘komposisie’ van die geheel, die streng ordening van die omvangryke materiaal en die ‘gekonsentreerdheid en rykheid van inhoud’; daarnaas ook vir die ‘snuffelwerk’ en ‘speursin’ waardeur belangrike materiaal aan die lig gebring word. Die verhandeling getuig van 'n intieme kennis van die hele Afrikaanse poësie en 'n ‘wye belesenheid en parate kennis’ van ander literature. Hy sluit af: | |
[pagina 223]
| |
Afgesien van sy betekenis as selfstandige literêr-historiese en kritiese studie het hierdie werk ook die waarde dat dit by sy verskyning in boekvorm op talryke punte tot verdere ondersoek van 'n uiters interessante en belangrike fase van die Afrikaanse letterkundige ontwikkeling sal prikkel. As eksterne eksaminatore het Scholtz besluit om D.B. Bosman en W.A.P. Smit te vra. Dit was 'n daad van erkentlikheid en lojaliteit van Scholtz om Bosman, sy voorganger, te nader, want as taalhistorikus het hy nie regstreeks met die literatuur te make gehad nie. W.A.P. Smit - hoogleraar aan die Rijksuniversiteit van Utrecht - was kort tevore besoekende professor aan die Universiteit van Pretoria en was naas sy deeglike studies oor die sewentiendeeeuse Nederlandse letterkunde bekend vir sy belangstelling in die Afrikaanse literatuur. Daarby, so het Scholtz gereken, sou dit goed wees om 'n eksaminator te hê wat die Afrikaanse literatuur as buitestaander van 'n afstand kon oorskou. In sy verslag gee D.B. Bosman 'n oorsig oor die verhandeling en wys hy op die literêre bronne en die ‘kundig afgestemde taal’ wat die promovendus gebruik. Dit is 'n studie ‘wat beloof om 'n standaardwerk oor die periode te word’. W.A.P. Smit waardeer die verwerking van ‘een indrukwekkende hoeveelheid materiaal’ en die belesenheid van die kandidaat. Opperman ‘blijft op deze wijze de besproken dichters in comparatistisch verband zien, wat hem bij het formuleren van zijn aesthetisch oordeel een bovennationale norm doet aanleggen, zodat hij ook in dit opzicht aan het gevaar van overschatting ontkomt’. As beswaar noem hy dat die verhandeling nie voldoende die verskil tussen verwantskap en beïnvloeding laat uitkom nie. Hy sluit egter af: De rijk-gedocumenteerde inhoud, de uitstekende compositie en de boeiende betoogtrant doen mij zonder aarzeling tot de conclusie komen, dat dit proefschrift de toekenning van de graad D. Litt. aan de heer D.J. Opperman ten volle rechtvaardigt. Na die finale afhandeling van die proefskrif en die eksamenwerk van die jaar het Opperman sy studeerkamer skoon geskrop en opnuut uitgeverf in 'n poging - soos hy dit in 'n brief van 2 November 1952 aan Van Wyk Louw stel - om hom ‘te ontkool na die proefskrif’. Hy, Marié en die kinders gaan kuier 'n tydjie by Keurboomstrand en Jeffreysbaai waar hulle volkome ontspan: die hele dag ‘net in die son gelê, bier gedrink, geëet, skulpe opgetel en bier gedrink’. Op 12 Desember vind die gradeplegtigheid van die Universiteit van Kaapstad plaas en ontvang Opperman die D. Litt. Vir die besondere geleentheid in sy lewe het sy moeder van Sabie af gekom om die verrigtinge by te woon en by hulle te kuier. Na afloop van die gradeplegtigheid het hy en Marié die | |
[pagina 224]
| |
amptelike ete van die Universiteit bygewoon. Die aand was daar 'n ‘losser samekoms’ by hulle aan huis. Een van die eerste persone wat Opperman skriftelik met die verkryging van sy doktorsgraad gelukgewens het, was P.C. Schoonees, sy skoolhoof uit die dae op Vryheid en in daardie stadium hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse taal op Stellenbosch. In 'n brief van 14 Desember 1952 spreek Schoonees sy vreugde uit oor sy oud-skolier se prestasies: My gedagtes het vanmore teruggegaan na 193? (watter jaar was jy in st. VII?) toe ek julle aangemoedig het om nie net die stereotiepe opstel volgens 'n voorgehoude ‘raamwerk’ te skrywe nie, maar om te probeer of julle nie verse, 'n dagboek, los invalle, ens. kan skrywe nie. Ek kan my herinner dat jy toe al begin het met verse, en as jy die skrifte nog besit, moet daar rooipotloodaantekeninge van my by wees. Kort na die finale afhandeling van die proefskrif en lank voor die gradeplegtigheid lewer Opperman die manuskrip vir publikasie by die Nasionale Boekhandel in, want op 15 September 1952 teken hy die kontrak. Reeds in Januarie 1953 ontvang hy die eerste eksemplare en gee hy een aan Scholtz met die volgende inskripsie: Ek dank u dat ek van u kon baat
toe ons dikwels snags tot laat
brandewyn gedrink het en oor
die Dertigers kon praat.
Met die oog op publikasie het Opperman besluit om nie die akademiese titel van die verhandeling te gebruik nie, maar die klinkender, korter, alliteratiewe Digters van Dertig. Hy stuur eksemplare van die proefskrif aan al die digters oor wie hy geskryf het, aan ander persone wat inligting verskaf het of hom op die een of ander wyse behulpsaam was en aan vriende wat na aan hom gestaan het. Op 20 Februarie skryf hy aan Van Wyk Louw dat hy aan die begin van die week 'n kopie aan hom gepos het en hy vra hom om aantekeninge in die kantlyn te maak en die eksemplaar aan hom terug te besorg. Hy vertel dat hy tien dae in die binneland was: ‘...oral in die veld vleis gebraai, soms onder die blote sterrehemel geslaap...tot in Sabie. Daarna 16 uur van Pretoria na Kaapstad!’ Die eerste reaksies op Digters van Dertig was van persoonlike vriende en digters wie se werk bespreek is. In 'n brief van 17 Februarie 1953 spreek Jan Greshoff sy waardering uit vir die studie wat vir hom veel meer as 'n handboek of 'n wetenskaplike verhandeling is. ‘Het is creatief werk, dat alléén zoo geschreven kan worden door iemand die een levende synthese is van schrijver en geleerde.’ Hy sê dat hy baie skrywers en letterkundiges leer ken het, maar nog nooit het hy so 'n gelukkige harmoniese verbinding tussen gevoel en intellek as by Opperman teengekom nie. ‘Jij bent het klassieke voorbeeld van een Zon- | |
[pagina 225]
| |
dagskind: gezegend met een sterk, oorspronkelijk talent èn met de wil en het karakter dat talent volledig tot ontplooiing te brengen.’ C.M. van den Heever, wat in die hoofstuk oor hom baie kritiek van Opperman moes verduur, meen tog dat die behandeling van sy poësie billik is. ‘U het baie moeite gedoen,’ skryf hy in 'n brief van 6 Maart 1953, ‘en veral wat Aardse Vlam betref, darem meer daarin gesien as die gewone stukkies in handboeke.’ Op 16 April skryf hy dat hy nou die hele boek deurgelees het. Hy verskil op party punte met Opperman, maar wil eerder daaroor gesels as korrespondeer, omdat briewe in argiewe beland en 'n mens versigtig moet wees wat jy skryf! Alhoewel Uys Krige nie regstreeks sy besware gelug het nie, was hy ongelukkig oor die hoofstuk oor hom en het hy gevoel dat Opperman onsimpatiek staan teenoor sy werk. Rob Antonissen was baie hooggestem oor die waarde van die proefskrif, en op 24 Maart laat weet hy vir Opperman: ‘...na hierdie studie van jou moet die geskiedenis v.d. Afrikaanse letterkunde opnuut geskryf word!’ Uit Durban was sy studentevriend P. du P. Grobler, wat intussen dosent aan die Universiteit van Natal geword het en in daardie stadium met sy sensitiewe opstelle besig was om in 'n kritikus van formaat te ontwikkel, ook baie geesdriftig. Hy waardeer die deeglikheid en erudisie en meen dat Opperman ‘'n nuwe standaard van akademiese navorsing en kritiek in die literatuur gestel (het)’. Met 'n versweë verwysing na die dissertasies van Merwe Scholtz en (moontlik ook) T.T. Cloete sê hy dat Opperman se taal vir hom dwarsdeur Afrikaans is, ‘met volle inagneming van die moontlikhede tot verryking wat ander tale veral ten opsigte van tegniese terminologie kan bied, sonder die ballas van terminologiese slimmighede wat my so hinder in proefskrifte met jarelange opleiding in die vak oorsee (veral Holland)’. Wat die verbinding van die literêr-historiese en literêr-kritiese benadering betref, meen hy dat Opperman in die hoofstuk oor C.M. van den Heever om historiese oorwegings toegewings doen wat miskien suiwer esteties nie geregverdig is nie. ‘Ek besef volkome,’ sê hy, ‘dat daar altyd, of mens nou daarvan hou of nie, 'n spanning bestaan tussen die estetiese en die historiese, en in 'n groot mate gaan die bekoring van jou werk vir my gevoel juis uit van die balans tussen die twee.’ Hiermee wys Grobler op 'n baie belangrike kwaliteit van Digters van Dertig wat, as jy die resensies van destyds in retrospeksie sien, nie deur een kritikus raak gesien en behoorlik beoordeel is nie. 'n Mens kan redelikerwyse verwag dat 'n boek soos Digters van Dertig by sy verskyning opspraak sou verwek en verskillende reaksies in verskillende kringe sou uitlok. Daar is dan ook aanduidings dat die proefskrif druk bespreek is. In 'n brief van 27 April 1953 aan Lien Mulder - weduwee van H.A. Mulder - sê Opperman dat daar só baie polemiese sake, persoonlikhede, waarderings en herwaarderings in die boek aangeraak word dat die meeste letterkundiges en selfs party van die digters op die oomblik ‘sit en “sulk”’. | |
[pagina 226]
| |
Van die objektiefste resensies oor Digters van Dertig word geskryf deur persone wat in mindere of meerdere mate ‘buitestaanders’ is wat die stryd van die Afrikaanse letterkunde betref. In sy bespreking in The Cape Times van 6 Mei 1953 sê Guy Butler dat Digters van Dertig die kultuurgeskiedenis van die dekade en sy skrywers gee, maar ook 'n kritiese evaluering van hulle werk. Hy sê: Not only has...(Opperman) studied every line these poets have ever written, and almost every line that they have read, noting every possible influence and echo; but he has also interviewed them all, corresponded with them, got access to much unpublished material, and drawn on his own first-hand experience of their environment and personalities: so much so that, whether it becomes a critical classic or not, his book is likely to be an indispensable quarry for future researches in this field. In sy bespreking in Standpunte, VII: 4, Junie 1953Ga naar eind59 het Rob Antonissen hoë lof vir die boek. Die waarde van Digters van Dertig lê vir hom in ‘die aard en omvang van die verwerkte materiaal’, die ‘duiding’ van die werk van die Dertigers binne die groter verband van die Suid-Afrikaanse en Westerse letterkunde, en ‘die skerpsinnige interpretasie van die materiaal, die wel haas feillose waardebepaling van literêre tekste, die karakteristiek in raak-treffende bewoording’. As beswaar noem hy dat die ‘waardebepaling en die karakterisering van gedigte en digbundels se ideële inhoud, van hul gedagtelike en emosionele struktuur’ en die agtergronde van gedigte prioriteit geniet bo die ‘analitiese verantwoording van die waardebepaling en...die beskrywing van die formele struktuur’. Die boek is dus ‘'n voortreflike “Empfindungs- und Geistesgeschichte” van Dertig,’ maar gee nie 'n gelykwaardige beeld van Dertig se ‘Gestaltungsgeschichte’ nie. In De Nieuwe Taalgids, 46, 1953 formuleer W.A.P. Smit sy standpunt vollediger as in sy aanvanklike verslag vir die Fakulteitsraad van die Universiteit van Kaapstad. Oor die algemeen, sê hy, is dit 'n haglike taak om die geskiedenis van 'n kontemporêre literêre beweging te skryf wat nog nie ‘geschiedenis’ geword het nie. ‘Men kan zich zelfs afvragen,’ gaan hy voort, ‘of dit a priori wel mogelijk is, althans in de wetenschappelijke zin die Opperman bedoelde. In het algemeen ben ik geneigd deze vraag ontkennend te beantwoorden, maar dan moet ik tegelijkertijd dit boek aanduiden als de uitzondering die de regel bevestigt.’ Die welslae van hierdie uitsondering skryf hy dan toe aan die feit dat die nadruk by Opperman meer op die literêre as die literêr-historie- | |
[pagina 227]
| |
se aspek val ('n uitspraak waarmee hy dus lynreg die teenoorgestelde beweer as Antonissen!), dat die skrywer by die versameling van sy materiaal die volledige medewerking van die betrokke digters gehad het en dat Opperman by die formulering van sy oordeel ook ten aansien van nog lewende persone nie terugskrik vir gevolgtrekkings wat vir hulle ‘onaangenaam’ mag wees nie. Die beswaar teen Opperman se gebrekkige onderskeid tussen ooreenkomste of verwantskappe en beïnvloeding formuleer hy nou vollediger. Te weinig, meen hy, hou Opperman daarmee rekening dat overeenkomsten en verwantschappen - zelfs opvallende - kunnen voorkomen zonder dat er van rechtstreekse of indirecte beïnvloeding sprake behoeft te zijn. Daardoor laat hij niet voldoende uitkomen, dat de door hem aangewezen rapprochementen soms wellicht meer kenmerkend zijn voor een bepaalde sfeer dan voor werkelijke invloed: zijn vele vondsten verleiden hem op dit terrein tot een te schematische generalisering - die overigens niets afdoet aan de waarde van het ons ter beschikking gestelde vergelijkingsmateriaal. Die kritiek was egter nie in alle gevalle so waarderend nie. Een van die redes waarom Digters van Dertig by sy eerste verskyning nie altyd die waardering gekry het wat dit verdien nie, is waarskynlik toe te skryf aan die feit dat die klimaat vir die publikasie van so 'n boek ongunstig was. In 1950 verskyn H. van der Merwe Scholtz se Sistematiese verslag van 'n stilistiese analise: Eugène Marais: Die towenares, die eerste demonstrasie van die metode van die stilistiek op linguistiese grondslag wat ‘taalvormen doen in een bepaalde situatie en in hun betrokken zijn op die situatie’.Ga naar eind60 Met die invloed van die Amerikaanse ‘close reading’, wat met sy uitsluitlike toespitsing op die enkele teks in die vyftigerjare in Suid-Afrika bekend begin raak, het Afrikaanse kritici vir die eerste keer deeglik bewus geword van die teoretiese grondslae wat by die beskouing oor 'n kunswerk 'n rol speel. Binne die konteks van die Afrikaanse letterkunde was die aktiwiteit van jonger kritici 'n reaksie op ouer skrywers wat die literatuur oorwegend impressionisties en histories bekyk het. Daarby het Van Wyk Louw in heelparty opstelle in sy rubriek ‘Die oop gesprek’ in Die Huisgenoot standpunt ingeneem teen die invloede-jag in die kritiek, en in die reeks ‘Die “mens” agter die boek’ veral te velde getrek teen die psigologistiese literatuurbeskouing en die metode om biografiese besonderhede in verband met die outeur by die studie van sy tekste ter sprake te bring. As Digters van Dertig met sy gebruik van biografiese gegewens en die naspeur van agtergronde en invloede juis in hierdie tyd verskyn, is dit te begrype dat baie kommentators sou vaskyk op wat hulle as Opperman se negering van die outonomiteit van die teks sou beskou. Vir baie sou die studie 'n blote voortsetting van die ou historiese ondersoeke wees, terwyl hulle die feit sou verontagsaam dat Opperman met sy deeglike dokumentering en die besondere siste- | |
[pagina 228]
| |
matisering van die stof in baie opsigte 'n nuwe inset vir die Afrikaanse literêre geskiedskrywing bring. 'n Kritikus wat met sy belangstelling in die struktuurondersoeke van die ‘New Criticism’ in hierdie tyd minder ontvanklik was vir literêr-historiese studie, was A.P. Grové. In sy radiobespreking en resensie in Die Huisgenoot van 24 April 1953, later opgeneem in die eerste druk van Oordeel en vooroordeel (1958), wys Grové daarop dat Opperman hom nie net met die voltooide werk besig hou nie, maar ook met die voorstadia, die persoonlikheid van die kunstenaar, die tydsomstandighede en die literêre invloede. Hy wys op die ‘ontsaglike belesenheid’, die ‘onverdrote ywer’ en ‘die vermoë om 'n magdom feitelike gegewens in 'n sinryke patroon te laat ingaan, kortom, erudisie en konstruksievermoë’. Sy besware teen die boek word genuanseerd geformuleer, maar hy sê tog dat Opperman in sy poging om 'n kultuurbeeld daar te stel baie dinge aanroer wat op die oog slegs sydelings met die literatuur te make het, dat hy te veel in sy program insluit en dat hy gevolglik sy ondersoek nie tot die logiese konsekwensie kón deurvoer nie, dat hy in die beklemtoning van die digterpersoonlikheid die gedig verwaarloos, dat hy in sy belangstelling in die loog die kristal uit die oog verloor en nalaat om altyd op oortuigende wyse aan te toon waarom 'n gedig 'n gedig is. As hierdie kritiek nog versigtig geformuleer word, is dit beslis nie meer die geval in die brief wat Grové op 12 April 1953 aan Van Wyk Louw skryf nie. Grové sê dat hy die proefskrif met teësin gelees het en dat die geheel vir hom teleurstellend was, al het hy sy besware in sy bespreking probeer demp. Die proefskrif van T.T. Cloete is vir hom veel beter. Wat hom hinder by Opperman, is die psigologistiese instelling en die feit dat hy by herhaling letterkundige uitsprake op nie-literêre gronde baseer. As voorbeeld van laasgenoemde noem hy Opperman se bespreking van ‘Die hond van God’ waar die uitspraak dat dit die grootste monoloog in ons taal is, nie uit die betoog voortvloei nie. Dit hang saam met die tweeslagtige opset van die boek as literatuurgeskiedenis en kritiek. Ook teen die invloedejag het hy dit; 'n mens kry die gevoel dat figure soos W.E.G. Louw, Dekker en F.E.J. Malherbe negatief behandel word omdat Opperman 'n aksie teen hulle het. Ook die hele struktuur van die boek vind hy onbevredigend omdat die figure patroonmatig behandel word. By die lees van hierdie verdere uitsprake staan 'n mens verstom dat Grové in sy resensie nog só gunstig kon wees as sy werklike oordeel inderdaad so negatief was. Sy kommentaar oor die lomp struktuur van die boek is trouens in volkome logiese teenspraak met die waardering vir Opperman se ‘konstruksievermoë’ in die resensie. Persoonlike faktore speel ook 'n rol in S. Ign. Mocke se onbekookte en negatiewe bespreking in Helikon, II: 11, maar hieraan was Opperman teen dié tyd reeds gewoond. 'n Verdere resensie waarin daar persoonlik gereageer en sekere | |
[pagina 229]
| |
feite wat Opperman verstrek, in twyfel getrek word, is dié van F.E.J. Malherbe in Ons Eie Boek, XIX: 3. In Digters van Dertig beweer Opperman dat Van Wyk Louw in 1931 uit sy werk van die voorafgaande nege jaar 'n eerste bundel saamgestel het en dit ‘met die oog op publikasie...aan prof. dr. F.E.J. Malherbe voorgelê (het), wat bekend was as die briljante jong literator en keurder vir die Nasionale Pers’. Toe hy dit ná 'n paar maande nog nie teruggekry het nie, het Van Wyk Louw weer om sy bundel gevra en dit ‘sonder kommentaar’ ontvang. By 'n toevallige ontmoeting op 4 Julie 1931 ‘het Malherbe om verskoning gevra dat hy nie die gedigte gelees het nie en Louw tot sy wrewel aangeraai om na Holland te gaan’.Ga naar eind61 As Van Wyk Louw se debuut Alleenspraak uiteindelik in 1935 verskyn, is dit egter op aanbeveling van Malherbe!Ga naar eind62 In sy bespreking sê Malherbe dat hy hom van die gebeure uit 1931, soos deur Opperman weergegee, ‘hoegenaamd niks’ kan herinner nie en vra of Opperman hom nie met iemand anders verwar nie. Volgens dokumente in sy besit het hy op 26 November 1934 privaat die manuskrip van W.E.G. Louw ontvang wat dit namens sy broer gestuur het. In die begeleidende brief sê W.E.G. Louw:Ga naar eind63 ‘Al wat ek u vra is om die verse te lees, en, indien u met my saamstem, u invloed te gebruik om hulle uitgegee te kry...Ek wou nie 'n uitgewer nader voor ek nie gewapen is met die aanbeveling van iemand wat bevoeg is om objektief maar ook suiwer te oordeel.’ Malherbe werk die manuskrip deur en op 19 Januarie 1935 stuur hy dit aan die Nasionale Pers met 'n warm aanbeveling vir publikasie. Malherbe sê verder dat hy die bewysstukke aan Opperman kan voorlê. Hierop reageer Opperman in Standpunte, VIII: 1, September 1953 deur te sê dat Van Wyk Louw sy bron is vir die weergawe van die feite. Hy noem dat die ‘toevallige ontmoeting’ tussen Van Wyk Louw en Malherbe by 'n huweliksonthaal in Kaapstad plaasgevind het en hy verwys hom na Die Burger van 6 Julie 1931 waar van die aanwesiges genoem word. Dat Malherbe hom dit nie kan herinner nie, is ‘heeltemal begryplik en aanneemlik’, want vir ‘Van Wyk Louw was hierdie voorval indertyd van betekenis, vir prof. Malherbe nie’. Malherbe reageer nie op hierdie reaksie van Opperman nie en publiseer ook nie die ‘bewysstukke’ waarvan hy in sy resensie praat nie.Ga naar eind64 Opperman was egter veral geïnteresseerd in die reaksie van Van Wyk Louw aan wie hy op 20 Februarie 1953 'n eksemplaar van Digters van Dertig gepos het en wie se oordeel oor sy werk vir hom van meer betekenis was as dié van die meeste resensente. Dit het Opperman seergemaak dat hy met sy promosie geen gelukwense van Van Wyk Louw ontvang het nie. Daarby was daar by hom 'n mate van krapperigheid omdat Van Wyk Louw geen bydraes vir Standpunte stuur nie. Ten spyte hiervan het hy sy vriend se kommentaar gretig afgewag. Eers op 15 Junie 1953, byna vier maande ná die versending van die geskenkeksemplaar, skryf Van Wyk Louw aan Opperman. Hy begin deur te sê dat hy ‘onbehoorlik lank’ uitgestel het met dié brief, hoofsaaklik as gevolg van die | |
[pagina 230]
| |
‘moeilike probleem van hoe...(hy)...oor die proefskrif moes skrywe’. Hy bedank Opperman vir die toestuur en sê dat hy dit baie noukeurig gelees het. Hy gaan voort: ‘...as ek jou lof toeswaai vir die enorme hoeveelheid werkkrag wat in die boek ingegaan het, dan weet ek dat dit eerder na afhaal sal klink: jy sal voel dat lof vir dié soort ding aan ander soorte mense as aan jou gegee moet word.’ Wat ‘die metode en die hele opset’ van die boek betref, is hy gekant ‘teen die hele manier om kunswerke vanuit die biografie en die agtergrond te interpreteer’. Hy sê dat toe die eksemplaar van Digters van Dertig hom bereik het, hy juis in die middel was van sy reeks oor ‘Die “mens” agter die boek’ (wat van 16 Januarie tot 24 April 1953 in Die Huisgenoot verskyn het, in 1956 by geleentheid van die digter se vyftigste verjaardag in 'n spesiale uitgawe gepubliseer is en in 1958 in die bundel Swaarte- en ligpunte opgeneem is). Daardie stukke stel hom nou ‘vry van die plig om met...(Opperman) oor dié aspek van...(sy) metode te moet redeneer’. Die ‘sien-vanuit-die-agtergronde’ bepaal die struktuur van die boek ten volle en staan derhalwe lynreg teen die wyse waarop Van Wyk Louw tans dinge sien. ‘Miskien,’ sê hy, ‘moet ons, digters, hulle nie met sulke sake inlaat nie waar ons ander en beter werk kan doen; miskien sal later geoordeel word dat ek met my eindelose geteoretiseer ook nie ordentlike werk gelewer het nie.’ Die biografiese en ander agtergronde van selfs één mens is ‘te groot en te onbepaald om so skematies...behandel’ te word; wanneer die mens opgroei, word die ‘“agtergrond” eenvoudig vormloos van wydheid’. Verder meen hy dat Opperman vir W.E.G. Louw ‘onbillik’ behandel. Die ryke dwaas was vir hulle almal ‘die begin van die nuwe, (die)...begin van 'n geestesbeweging...(wat) in mense se geeste of koppe (sit)’. By die verskyning van C.M. van den Heever se Deining, wat Opperman nou as die begin van Dertig sien, was hulle reaksie indertyd dat dit 'n bundel is wat ‘terugkyk..., nie vorentoe nie’. Alhoewel W.E.G. Louw se debuut dikwels oorskat is, meen hy dat Opperman dit nou weer onderskat, ‘sowel in die historiese invloed as in die estetiese betekenis’. Daarby het hy dit ook teen Opperman se ‘metode van beïnvloeding nagaan en waardeer’. Baie van die parallelle wat Opperman noem, is vir hom eenvoudig nie parallel nie en die metode moet noodgedwonge subjektief bly. Die studie is ‘so intens psigologies gesentreer op Hoe het Groeide, dat...(Opperman) soms bladsye lank oor werkies skrywe wat deur die digters selfs as so minderwaardig gevoel is dat hulle dit nie wou laat druk of laat herdruk nie’. Wanneer Opperman dan ‘by die eintlike werk kom, dan behandel...(hy) 'n hele gedig in 'n paragraaf of met een woordjie soos “stralend”’. Hy gaan voort en sê dat hy begin het met kantaantekeninge, maar gou gesien het dat wat hy oor die boek te sê het, nie net in dié smal ruimtetjies gesê kan word nie. Daar is wel plekke waar Opperman volgens hom iets fyns gesien, goed geanaliseer of mooi gestel het, maar daar is ook gedeeltes waaroor hy krapperig en knorrig voel. Hy hoop dat Opperman ‘binne nie te lank nie’ na Amsterdam sal kom en dat hulle dan breedvoerig oor | |
[pagina 231]
| |
al die verskilpunte sal kan praat. Intussen sal hy soms dinge uit die boek gebruik ‘om literêre sake in...(sy) praatjies te verduidelik’. As hy daaroor polemiseer, moet Opperman dit beskou ‘as die soort praat wat...(hulle) sal hê wanneer...(hulle) saam sit’. Van Wyk Louw se brief en sy sterk negatiewe reaksie op Digters van Dertig was vir Opperman 'n onaangename belewenis. Alhoewel hy bewus was van die ontwikkelende uitsluitlike teksgerigtheid in sy vriend se literatuurkundige opvattinge, het hy gehoop dat Van Wyk Louw ontvanklik genoeg sou wees om ruimte te laat vir 'n studie wat naas tekstuele ondersoek ook op die agtergronde, invloede en tendensies konsentreer en wat oorwegend sinteties van aard is. Uit hulle veelvuldige gesprekke voor sy vertrek na Nederland en uit die tipe navrae per brief, so het Opperman gemeen, het Van Wyk Louw presies geweet watter vorm die dissertasie sou aanneem. Dat sy vriend dus nou op prinsipiële besware stuit, die studie as geheel teoreties onhoudbaar vind en sy waardering tot minimale en terloopse opmerkinge beperk, was vir hom - wat die enorme werk van drie jaar nog vars in sy geheue gehad en aan sy lyf gevoel het - 'n onverteerbare aangeleentheid. Daarom reageer Opperman dan ook nie onmiddellik op Van Wyk Louw se brief nie, maar laat hy twee maande verloop voordat hy terugskryf, iets wat ongewoon was vir sy stiptelike afhandeling van korrespondensie. Op 10 Augustus 1953 skryf hy aan Van Wyk Louw dat hy wel ‘min of meer’ so 'n reaksie van hom te wagte was. Hy het egter gesloer met die beantwoording, omdat hy hom ‘nie wou laat uitlok tot 'n selfregverdiging, 'n geteoretiseer oor letterkundige beginsels en sake nie’. Hy het, gedagtig aan die jare van sy M.A.-studie en die jaarlikse kursus wat hy oor die geskiedenis van die kritiek en teorie by die Universiteit van Kaapstad aanbied, hom ‘lank en intensief genoeg...daarmee bemoei’. Tans is sy belangstelling elders. Hy het hom vroeër besig gehou met die teorie en geskiedenis van die letterkundige kritiek en wou in die jare 1939-1942 selfs daaroor gepromoveer het, ‘maar gelukkig om verskeie redes het...(hy) dit laat vaar’. Vir Van Wyk Louw ‘moes die vraag of een van die vrae gewees het...hoekom...(hy) wat...(hom) summier met die teks kan besig hou, of behoort te kan besig hou, hoekom...(hy) by wie...(Van Wyk Louw) 'n kennis of beter kennis van die “teorie”, “strukture”, “dissiplines” kon verwag het, dan gewillig was om hierdie “sondes” te pleeg’. Die suiwer tekskritiek het twintig of dertig jaar tevore in Europa gekom ‘as 'n welkome reaksie op die toenmalige literatuurbedryf’ en miskien regverdig die literatuurbedryf by ons in Suid-Afrika so 'n reaksie van Van Wyk Louw. Die felste voorstanders van die suiwer tekskritiek swaai egter al weer, en Opperman wil nie hê ons moet Europa sonder meer navolg nie. Dan weet hy ook ‘as literator (om nie eers van die mens, digter en kritikus te praat nie) dat die teks wel hoofsaak is, maar dat daar ook ander dinge van belang is’. Verder voel hy dat ‘Die “mens” agter die boek’ geskryf is | |
[pagina 232]
| |
nie slegs met 'n terloopse gedagte aan D.v.D. nie maar met die medewete van die inhoud, strekking en die feit dat die boek kort daarna sou verskyn - ‘timing’ en alles was goed bereken! Jy het vooraf reeds geweet hoedat ek die werk gaan aanpak, bv. jy het biografiese en ander besonderhede aan my verskaf; ons het dikwels die ‘beweging’ bespreek; in briewe het ek dikwels sake genoem waaraan ek werk...Ek het die reeks dus as 'n voorbrand beskou. Opperman meen voorts dat Van Wyk Louw die betekenis van C.M. van den Heever onderskat ‘in 'n poging om reg aan Gladstone te laat geskied’, maar dat hy ‘dan weer Gladstone oorskat’. Van Wyk Louw wek selfs ‘die indruk dat...(hy) alles wil sien as 'n Louw-beweging’ en Opperman vra hom om ook die ander 'n ‘aandeel’ te ‘gun’. Daar is baie getuies wat indertyd iets nuuts in Van den Heever se werk gesien het, terwyl iemand soos Mulder lank voor Opperman beïnvloeding by W.E.G. Louw bespeur het.Ga naar eind65 Uit Opperman se plek-plek heftige brief kan 'n mens reeds aflei dat hy vermoed het dat Van Wyk Louw se negatiewe reaksie deur veel meer as net teoretiese besware ingegee is. Dit neem Van Wyk Louw - waarskynlik weer tot Opperman se ergernis - meer as drie maande voordat hy op 30 November 1953Ga naar eind66 terugskryf. In teenstelling tot sy eerste brief waarin die besware teen Digters van Dertig op 'n suiwer prinsipiële vlak gehou is, noem hy nou die persoonlike sake wat hom grief. Hy voel gekrenk omdat Opperman ‘soos die tradisionele bul in die “china shop” in...(sy) persoonlikheid rondgerapGa naar eind67 het en dinge op die mark aangebied het wat nie vir verkoop uitgestal was nie’. Hulle verskil het 'n persoonlike en wetenskaplike kant en hy wil graag 'n voorbeeld ‘gee van dinge wat...(hom) ontevrede gemaak het’. Die bewering dat hy vroeg in sy ouerhuis sy geloof verloor het, is waar, maar hy vra hom af of Opperman 'n oomblik gedink het aan die gevoelens van sy bejaarde moeder ‘wat met 'n patetiese belangstelling twee eksemplare van...(Digters van Dertig) gaan koop het’. Dit is 'n ‘menslike erekode’ om sekere dinge eers te noem wanneer die betrokke persone dood is. Daarby is daar - sonder dat hy na spesifieke voorbeelde verwys - sekere dinge wat hy intiem genoem het en ‘nie as “wetenskaplike” materiaal aan die algemene kennis blootgegooi mag word nie’, terwyl sekere vroeëre verse ‘ongepubliseer’ moes gebly en ‘aan 'n sekere reserwe onderhewig moes gewees het’. Hy wys verder op sekere afleidings wat Opperman uit ‘Kinderfantasie’ maak en die verband wat hy lê tussen Raka en die horings in Matjesfontein se hotel - kommentaar wat te ‘meganies’ en ‘kousaal’ is en na 'n blote ‘rekonstruksie’ lyk. Die tekskritiek of 'n ander benadering is vir hom nie 'n saak van mode soos Opperman dit sien nie. Die vraag moet wees watter soort bewering in die literatuurwetenskap ‘saaklik’ en ‘ter sake’ is. Wat die ‘timing’ van ‘Die “mens” agter die boek’ betref, ontken Van Wyk Louw dat sulke oorwegings by hom op die spel was. Terwyl Opperman met hom in Kaapstad oor die proefskrif gesels het, was sy kommentaar | |
[pagina 233]
| |
telkens as hy hom oor die agtergronde en biografiese besonderhede sien notas maak: ‘Maar Dirk, sulke dinge gaan tog nie in 'n proefskrif nie!’ By herhaling het Opperman, volgens Van Wyk Louw, geantwoord: ‘Nee, ek wil alleen alles as agtergrond weet; teen hierdie agtergrond wil ek dan die eintlike proefskrif skrywe.’ Van Wyk Louw meen dus dat hy nie geweet het watter vorm die dissertasie uiteindelik gaan aanneem nie. Opperman se ‘bewering oor die “berekening” van die “timing” is dus 'n stukkie haatlikheid waarmee 'n vriend nie die goeie trou van 'n vriend in twyfel moes getrek het nie’. Hy voel dat sy reaksie per brief noodgedwonge baie onvolledig moes bly. Wat hy oor die teoretiese kant wil sê, staan reeds in sy artikels in Die Huisgenoot. Oor die persoonlike sake sê hy ten slotte: ‘Ek het altyd so 'n volkome vertroue gehad; 'n bietjie te “rojaal in my hemp” voor vriende gestaan. Aan die ander kant het ek altyd 'n afsku daarteen gehad om voor die publiek te “perform”; om die grynsende gemeen toe te laat om in my voor- en slaapkamer in te kom en kyk.’ Dat daar dus persoonlike sake was wat in Van Wyk Louw se heftige reaksie teen Digters van Dertig meegespeel het, word bevestig uit sy tweede brief aan Opperman. Die voorstelling dat hy nou in sy ‘hemp’ voor sy vriende staan en altyd 'n afsku daarin gehad het om die publiek in sy voor- en slaapkamer te laat inkyk, vind neerslag in ‘Waarom durf alles by my inkyk’ en ‘Man in frokkie’ uit die bundel Tristia. Die vraag oor watter indruk die mededeling dat Van Wyk Louw vroeg in sy ouerhuis sy geloof verloor het, op sy bejaarde moeder sou maak, het Opperman laat vermoed dat ook ander ‘onthullings’ - sy Nazisimpatieë tydens die Tweede Wêreldoorlog en sy egskeiding - vir Van Wyk Louw onaangenaam moet gewees het in 'n stadium terwyl hy geïsoleerd van Suid-Afrikaanse vriende staan en deur sy verhouding met Sheila Cussons nuwe krisisse in sy persoonlike lewe ervaar. Ook Opperman se negatiewe oordeel oor W.E.G. Louw het 'n rol gespeel. Hoewel hy ook kritiek op sy broer gehad het en nie altyd met al sy doen en late gediend was nie, het Van Wyk Louw by herhaling in sy lewe 'n beskermende houding ingeneem as die kritiek op W.E.G. Louw te erg word. By geleentheid, ná die verskyning van Digters van Dertig, het hy in gesprek met Canis Scholtz gesê dat die verbuigings-e's in die byvoeglike naamwoorde, wat Opperman as 'n irriterende aspek van W.E.G. Louw se digterskap aanwys, almal funksioneel en op hulle plek is, terwyl die invloede op sy poësie nie só ingrypend is as wat Opperman te kenne wil gee nie. Alhoewel Van Wyk Louw in 1949 saam met die Kaapse vriende sy broer kwalik geneem het dat hy kandidaat vir die Kaapstadse professoraat was, het hy 'n neutrale standpunt ingeneem oor die spanning wat met die aanvanklike samewerking aan die verseboeke ontstaan het. Ook wat die spanninge in die Standpunte-geledere betref, het hy geen definitiewe mening uitgespreek nie, alhoewel Opperman die feit dat hy geen bydraes meer gestuur het nie, as 'n onvriendelike daad en 'n versweë simpatie met W.E.G. Louw beskou het. Uit Van Wyk Louw se tweede brief het Opperman dus afgelei dat die meto- | |
[pagina 234]
| |
dologiese besware teen Digters van Dertig slegs 'n rookskerm was vir dieperliggende persoonlike sake. Hy het dit vir Van Wyk Louw kwalik geneem dat hy - wat deur sy jarelange doseerwerk by die Universiteit van Kaapstad juis op die hoogte was van die Wysbegeerte - so ‘onfilosofies’ kon wees om die hele Digters van Dertig op grond van teoretiese besware summier te verwerp en nie die proefskrif fenomenologies te sien vir wat dit in werklikheid is nie. Kort nadat Opperman die tweede brief van Van Wyk Louw ontvang het, is Canis Scholtz na Amsterdam. Op 15 Januarie 1954 skryf hy aan Opperman dat hy met Van Wyk Louw gesels het oor die hele situasie en spanning wat daar nou aan die ontwikkel was. Scholtz het vir Van Wyk Louw gesê dat Opperman die eerste brief oor die proefskrif aan hom voorgelees het en dat daar by Opperman ‘geen sweem van boosheid of selfs ontevredenheid...daaroor was nie, al het die brief niks as kritiek bevat nie’. Hy gaan voort: Ek het hom ook gesê dat ek self verwag het dat daar in sy brief waardering sou wees vir wat jy van uit jou standpunt gedoen het, al verskil jul prinsipieel ook hoe. Maar dit lyk my hy wil nie eintlik van waardering weet nie. Ek praat toe oor sy tweede brief, dat die toon daarvan heeltemal anders was as dié in die eerste, dat jy nie anders as gekrenk kan voel oor baie dinge wat hy daarin sê nie. Hy sê toe: Maar, my God, dis net soos ek met Dirk sou praat, en ook dat dit 'n antwoord was op 'n brief van jou waaroor hy reg het om ontevrede te voel. Toe ek sê dat ek daaroor nie kan oordeel nie, het hy stukke uit jou brief aan my voorgelees. Hy meen jy beskuldig hom daarvan dat hy, vandat hy in Holland gekom het - die buiteland - wat die literatuurbeskouing betref - begin navolg het op 'n afstand van dertig jaar, en dat jy hom steke onderlangs gee in verband met sy stukke in Die Huisgenoot. Van Wyk voel hom maar nog soos altyd gou gekrenk, ook beskroomd teenoor vreemdelinge, en hy het die indruk soos ek dit verstaan, dat jy hom in jou proefskrif as 't ware in sy hemp voor die publiek gestel het. Ek het hom dit uit sy kop probeer praat, gesê hy vat party dinge glad te swaar op (bv. die sin oor sy losraak oor die geloof en die indruk wat dit op die ou dame in die Seepuntse hotelGa naar eind68 kon maak), waarop hy sy skouers opgetrek het en gesê het dit kan wees. Van Wyk het 'n paar keer gesê: Here, ek wens Dirk kan hier wees! Hy het 'n groot bewondering vir jou as digter, 'n baie sterk geloof in jou toekoms as digter en 'n diep gevoel vir jou as vriend. Scholtz voel ten slotte dat die wrywing tussen die twee vriende teen die agtergrond van groter dinge tot iets nietigs gereduseer sal word en heeltemal vergeet behoort te word. Uit Opperman se reaksie op hierdie brief word dit vir 'n mens duidelik dat daar ook aan sy kant ander faktore as bloot die negatiewe kommentaar op die proefskrif op die spel was. Op 28 Januarie 1954 skryf hy aan Scholtz dat hy Van Wyk Louw se tweede brief probeer vergeet, maar dit onmoontlik vind. ‘Ek moet,’ sê hy, ‘of 'n wurm of 'n renoster wees as dit my nie raak nie; en ongelukkig is ek nou iets tussen die twee, nl. 'n mens.’ Dit gaan vir hom basies om | |
[pagina 235]
| |
'n menslike verhouding. ‘Wyk,’ gaan hy voort, ‘hoef absoluut geen waardering vir sy proefskrif te hê nie - letterkundige verskille en debatte kan daar wees. Maar hy het keer op keer in sy brief uit sy pad gegaan om my doelbewus te beledig, om die wedersydse menslike vertroue en waardigheid te skok en te skend.’ Dan gaan hy oor om die ander sake te noem waardeur Van Wyk Louw volgens hom hulle vriendskap geskaad het. Hy word gevra om die strook- en bladsyproewe van Dias na te sien, maar moet nie 'n eksemplaar van die hoorspel of dank verwag nie; hy het verskeie onderhoude met die Nasionale Pers om die herdruk van Lojale verset te reël, maar dit is alles niks in Van Wyk Louw se oë nie; hy promoveer, maar Van Wyk Louw stuur nie eers 'n gelukwensing nie;Ga naar eind69 hy koop vir Van Wyk Louw 'n kraalversierde danskierie en stuur dit met 'n ‘rympie’ met W.A.P. Smit saam, maar ontvang geen bedanking nie; hy kry vir Van Wyk Louw die geleentheid om ‘Die oop gesprek’ in Die Huisgenoot te publiseer, ‘en die dank daarvoor is dat hy niks vir Standpunte doen nie. Hy het 'n bundel twee keer so groot as 'n gewone bundel, maar wil niks afstaan vir Standpunte nie.’ In die brief aan Scholtz gee Opperman dus te kenne dat die verwydering nie basies oor letterkundige verskille gaan nie, maar dat Van Wyk Louw in sy tweede brief beledigende dinge gesê het en dat hy oor jare heen deur nalatigheid en laksheid hulle persoonlike verhouding ondergrawe het. Hoe gekwets Opperman oor die hele aangeleentheid was, blyk uit twee gebeurtenisse wat kort daarna plaasvind en wat terselfdertyd illustreer hoe onredelik hy by tye kon optree. In 1954 was Nakkie, Van Wyk Louw se dogter, in die Nederlands en Afrikaans III-klas by die Universiteit van Kaapstad. Aan die begin van die lente het die klas, wat uit net vyf studente bestaan het, 'n ‘general bunk’ gereël. Nakkie was die voorbok en die studente het almal in die Student's Union gaan koffie drink in plaas daarvan om 'n lesing van mev. Bax-Botha by te woon. Kort daarna was dit weer 'n mooi lentedag en die studente het, wéér op aandrang van Nakkie, besluit om ook 'n lesing van Opperman nie by te woon nie. Toe hulle die volgende week in die klas kom, tref hulle 'n woedende Opperman aan. Hy het begin deur te vra wie die instigator was. Toe Nakkie opstaan, het hy gesê dat nie een lid van die klas 'n genie is nie, dat hulle eintlik baie gemiddelde studente is en nie kan bekostig om lesings nie by te woon nie. Nakkie, het hy voortgegaan, moet nie dink sy kan enigiets doen net omdat sy Van Wyk Louw se dogter is nie. Hy verwag van elke lid van die klas om 'n brief aan hom te skryf waarin apologie teenoor hom aangeteken word en hy versoek mej. Louw om hom te kom spreek. In sy kantoor het hy Nakkie daarvan beskuldig dat sy opsetlik die wegblyery van die klas gereël het omdat sy bewus was van die spanning wat daar tussen hom en haar vader bestaan sedert die verskyning van Digters van Dertig. Nakkie, wat totaal onkundig was oor die hele spanning, was verbysterd oor die onredelike optrede en het in trane uitgebars. Kort ná hierdie gebeurtenis ontvang Opperman 'n brief van Elize Lindes | |
[pagina 236]
| |
wat in daardie stadium besig was met doktorale studie onder leiding van Van Wyk Louw. Vir haar dissertasie was sy besig met 'n ondersoek na die eenheidsprobleem in die literatuurwetenskap en het sy Opperman se gedig ‘Sprokie van die spikkelkoei’ as voorbeeld geneem. In haar brief van 8 Februarie 1955 spreek sy die vermoede uit dat die gedig op 'n spesifieke sprokie steun en sy vra hom of hy 'n bestaande gegewe in gedagte gehad het. Op dié brief reageer Opperman nie en op 25 Maart van dieselfde jaar skryf Elize Lindes weer aan hom en herhaal sy haar versoek. Hierop antwoord Opperman in 'n kort, ongedateerde nota dat hy wel die eerste brief ontvang het, maar geaarsel het om te antwoord. ‘Vir my,’ sê hy ‘is daar iets teenstrydigs in die feit dat u my om hierdie inligting nader terwyl die metode wat u voorstaan en wat veral deur u hoogleraar nadruklik bepleit word, so iets afkeur.’Ga naar eind70 Die spanning tussen Van Wyk Louw en Opperman oor Digters van Dertig lei tot 'n breuk in hulle vriendskap. Op Van Wyk Louw se brief van 30 November 1953 reageer Opperman nie en hulle korrespondensie word daarmee abrup beëindig. Dit sou tot begin 1957 duur voordat hulle mekaar weer persoonlik ontmoet. Alhoewel hulle tydens die Oppermans se verblyf in Amsterdam mekaar baie gesien en uitvoerig oor hulle verskille gesels het, was die ou spontaneïteit in hulle vriendskap daarmee heen. Ook later, ná Van Wyk Louw se terugkeer na Suid-Afrika, was daar sporadiese besoeke wanneer Opperman in Johannesburg was of die Louws in die Kaap gekuier het. Daar was egter 'n element van gewapende vrede in hulle verhouding, al het Opperman altyd groot waardering vir Van Wyk Louw se werk gehad en dit later met groot geesdrif en insig met sy studente op Stellenbosch behandel. | |
VIIMet sy aanvaarding van die lektoraat in 1949 het die oorweging dat Opperman met resensies potensiële medewerkers van Die Huisgenoot kon vervreem, nie meer gegeld nie. Daarom kon hy in 1949 en 1950 enkele boekbesprekings skryf. In Die Huisgenoot van 13 Mei 1949 verskyn van hom 'n beskouing oor Mein van Hessen se In my eensame hof,Ga naar eind71 'n swak bundel wat hy dan ook negatief resenseer. In dieselfde jaar, op 7 Oktober, skryf hy, ook in Die Huisgenoot, 'n resensie oor Hart sonder haweGa naar eind72 waarin hy die lang, uitgesponne verse van Uys Krige vergelyk met ‘brode wat oor die pan gerys het’. In Die Huisgenoot van 27 Oktober 1950 verskyn verder van hom 'n bespreking van P.H. Langenhoven se Visser-studie Sanger van die Suikerbosrand. Tog was die skryf van resensies vir Opperman 'n onbevredigende en irriterende bedrywigheid. Hy wou sy beskikbare vrye tyd liefs aan sy eie skeppende werk en sy groot ondernemings by die Pers wy. Indien daar nog tyd oor was, het hy verkies om opstelle van groter omvang en verwikkelde struktuur te | |
[pagina 237]
| |
skryf, eerder as efemere boekbesprekings wat weens die beperkte ruimte van verbygaande aard was. Soms was hy wel bereid om geleentheidstukke te lewer of vir Standpunte aantekeninge te skryf oor dinge waarop hy toevallig afgekom het. By die dood van Markus Viljoen lewer hy op 19 Oktober 1949 'n radioredeGa naar eind73 waarin hy die joernalistieke bydrae van sy vroeëre kollega by Die Huisgenoot kernagtig saamvat. As hy besig is met die samestelling van Groot verseboek, dokumenteer hy in Standpunte, IV: 3, Oktober 1949 voorbeelde van die negentiende-eeuse Afrikaanse poësie wat in daardie stadium betreklik onbekend was: ‘Die bruin perd’, ‘Hier sit ek’, ‘Dopper Joris’ en ‘Op Hartebeesfontein’. In Standpunte, VII: 3, Desember 1952 skryf hy 'n aanvulling by sy vroeëre opstel oor die kritiek van G.S. Preller. As hy op 'n dag die saak van Juta binnestap, kry hy op 'n uitverkoping die tegnies pragtig versorgde bundel Bloemen in het Kaapland geplukt van H.S. Elffers en skryf hy 'n kort artikel daaroor in Standpunte, VII: 2, Desember 1952.Ga naar eind74 Die mooi tipografie en afwerking, so toon hy aan, kan egter niks aan Elffers se digterlike saligheid doen nie. Hy het dood gelê in sy ‘praalgraf’, 'n voorbeeld van die ‘Nederlandse digterlike diksie’ wat vir die Afrikaans-Nederlandse digter soos ‘perdesiekte...(en) dood in die mis’ was. Opvallend is die feit dat Opperman in die loop van die artikel verwys na die talle versreëls in die Afrikaanse poësie vóór 1905 wat ‘vonkelend en tekenend is en soms reeds die peil van wêreldpoësie bereik’, soos waar 'n diamant gesien word as ‘'n Blom fan di bajert, ferberg in di nag’. In sy gedig ‘Blom van die baaierd’ sou hy later op dié gegewe steun. Naas die omvangryke Digters van Dertig is Opperman se bydrae as kritikus in hierdie jare vyf opstelle waarin hy die sintetiese kyk, groot konstruksies, verrassende formulerings en helder insigte van sy stukke oor N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever, A. Roland Holst, Gerrit Achterberg, Totius, Jan Greshoff en G.A. Watermeyer voortsit. Hierdie opstelle begin met 'n studie oor ‘Die digter W. Hessels’ wat by die dood van H.A. Mulder verskyn en in Standpunte, IV: 3, Oktober 1949 opgeneem word.Ga naar eind75 In hierdie artikel, wat 'n analise van Hessels se versamelbundel Con sordino is, formuleer Opperman sy basiese wantroue in die kritiese werksaamheid. ‘Die kritiek,’ so stel hy dit, ‘sal met elke -isme waarmee dit uit die wysbegeerte gewapen kom, telkens sy onmag ondervind om die perlemoerkleurespel van betekenisse in 'n gedig suiwer weer te gee.’Ga naar eind76 Hy gaan voort om Hessels as 'n mistieke digter te karakteriseer. Sowel die mistiek as die poësie vereis vereenselwiging en identifikasie, begrippe wat reeds vroeër in Opperman se beskouinge voorkom en fundamenteel vir sy hele siening van die skeppingsproses is. In teenstelling tot die mistiek vereis die poësie egter ná die inlewing ook objektivering, iets wat 'n sekere teenstrydigheid tot gevolg het. ‘Die mistikus en kunstenaar,’ so sien hy dit, staan eintlik in 'n stryd teenoor mekaar. Waar die mistikus verskille en grense | |
[pagina 238]
| |
uitwis, sy ‘Al’ en ‘Niets’ dieselfde word, daar mag die gedig nooit 'n sinledige geruis van afgetrokke selfstandige naamwoorde met hoofletters word nie - die kunswerk differensieer, begrens en vergestalt, wek met verantwoorde konkrete voorstellings die gevoel.Ga naar eind77 Met hierdie uitspraak formuleer Opperman weer eens sy voorkeur vir die aardse of sintuiglike poësie en die gestaltevers. Hy sluit hiermee aan by gedagtes wat W.H. Beuken in sy Ruusbroec en de Middeleeuwse mystiekGa naar eind78 uitspreek, nog 'n voorbeeld van hoe Opperman se doseerwerk oor die ouer Nederlandse letterkunde sy kritiese opvattinge beïnvloed het. Die ander vier opstelle waarmee Opperman 'n belangrike bydrae tot die kritiek lewer en wat in baie opsigte sentraal staan wat sy eie opvattinge as kritikus en skeppende kunstenaar betref, word almal in die vyftigerjare as lesings gelewer. In Februarie 1955 lewer hy by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad 'n voordrag oor ‘Invloed van die Afrikaanse publiek op die Afrikaanse skryfkuns’.Ga naar eind79 Hierin werk hy die gedagte van die gerigtheid in 'n vers verder uit, 'n prikkel wat hy in die dertigerjare in die klaslesings van G.S. Nienaber gekry het. Verder gaan hy die verskille tussen die liriek en epiek na en beantwoord hy die vraag wie die eintlike publiek van Afrikaanse literêre werk is.Ga naar eind80 Op 12 Oktober 1956 hou hy 'n lesing op uitnodiging van die Kaapse Drie-Eeue-Stigting van wie hy 'n toekenning vir sy versdrama Periandros van Korinthe ontvang het.Ga naar eind81 As tema kies hy ‘Probleme van die versdrama’, 'n onderwerp wat hom in staat stel om sy eie praktyk - plek-plek selfs soos 'n advocatus diabolicus! - te verantwoord en versweë 'n standpunt in te neem teen die kritiek wat op sy drama uitgespreek is. Met verwysing na uitsprake van T.S. Eliot gaan hy die verhouding tussen vers en drama na, toon hy die verskille tussen die lirikus en versdramaturg aan en wys hy daarop dat dit ‘onregverdig (is) om die eise van die liriek aan die versdrama te gaan opdring’. Vervolgens bespreek hy die spanning tussen digter en dramaturg wat soms ‘'n basiese tweespalt’ tot gevolg het. Daarna stel hy die vraag of die rymende of rymlose vers die mees ideale in die drama is en gaan hy die voordele van die rym na. Die belangrikste van hierdie lesings hou Opperman as hy in 1953 deur G.S. Nienaber uitgenooi word om voor die Universiteit van Natal op te tree. Vir die eerste keer sedert 1945 besoek hy weer sy ou provinsie. Vergesel van Marié en sy dogters Trienke en Heila vertrek hy op Maandag, 4 Mei 1953 met die Oranjetrein uit Kaapstad. Die gesin arriveer op Woensdagoggend, 6 Mei, in Pietermaritzburg waar hulle by G.S. Nienaber tuisgaan en hy die aand die eerste lesing, ‘Kuns is boos!’, lewer. Op Donderdag, 7 Mei, om 11.00 hou hy 'n lesing voor die tweede- en derdejaarstudente waarin hy oor die manuskripte van ‘Die hond van God’ en sy eie ‘Klara Majola’ praat.Ga naar eind82 Die volgende middag vertrek hulle na Durban waar hy dieselfde aand 'n lesing oor ‘Roy Campbell en die Afrikaanse letterkunde’ hou. Die naweek ontspan die gesin in | |
[pagina 239]
| |
Durban en op Dinsdag, 12 Mei gaan hulle terug na Pietermaritzburg om rustiger daar te kuier. Op Vrydag, 15 Mei reis hulle met die Oranjetrein na Kaapstad terug, weer in 'n koepee en (om onkoste te spaar) tweedeklas soos hulle gekom het. In sy lesing oor Roy CampbellGa naar eind83 praat Opperman van Durban as ‘hierdie half tropiese stad waar Ooste en Weste en Afrika saamkom’Ga naar eind84 en waaroor Campbell minder vleiende dinge geskryf het. Dan toon hy die ‘oorlading van beelde’ en die ‘klankmomentum’ in Campbell se poësie aan, vergelyk dit met dié van I.D. du Plessis en Uys Krige, en kom ten slotte tot die gevolgtrekking dat Van Wyk Louw wel ‘beperkter as Roy Campbell is, maar dat hy in sy beperktheid dieper en groter as Campbell is’.Ga naar eind85 Die belangrikste enkele opstel waarin Opperman sy opvattinge oor die digterskap die helderste uiteensit, in so 'n mate dat dit as sy ‘ars poetica’ beskou kan word, is ‘Kuns is boos!’ In hierdie opstel wys hy op gevalle waar iemand buite die literatuur - sy oupa, die lesers van S.J. du Toit se Di koningin fan Skeba of Brandaan - die kunswerk as iets boos kan beskou.Ga naar eind86 Dan gaan hy daartoe oor om die spanning in die kunstenaar self tussen ‘reveal’ en ‘conceal’, tussen onthul en verhul aan te dui, iets wat lei tot die gebruik van die ‘mask’ (Yeats), die fluitjie (Nijhoff) en die ‘objective correlative’ (Eliot). Aan die hand van Marcellus EmantsGa naar eind87 vind hy die duiwel geskikter boustof vir die literatuur as die engel: die engel lei tot passiwiteit, deug en berusting, terwyl die duiwel die moontlikheid skep van handeling, stryd, hartstogte - 'n uitbeelding van die mens ná die sondeval. Wat die vormgewing betref, is daar ook 'n bose element aanwesig, want die waaragtige kunstenaar is basies wesenloos. Hierdie opvatting, wat reeds vroeër by Opperman voorkom, word nou aan die hand van John Keats se brief aan ‘My dear Woodhouse’ (27 Oktober 1918) verder uitgewerk tot die opvatting dat die werklike kunstenaar in sy wese 'n verkleurmannetjie is: Met ewe groot oorgawe en wyding is hy sowel die protagonis as die antagonis, sowel die held as die skurk, hy is partydig vir almal, of eerder geheel en al onpartydig, in 'n groot mate dus amoreel deur sy onpartydigheid.Ga naar eind88 Vervolgens wys hy op die digter se wegswaai van abstraksies en voorkeur vir die konkrete, sintuiglike en die sinnelike. Dit is ook iets wat as boos geïnterpreteer kan word en in die verlede by digters gelei het tot 'n spanning tussen sinne en gees, tot die Brandaan-daad by Camphuysen, Herbert en Hopkins om hulle verse te verbrand. 'n Oplossing vir hierdie spanning vind sommige kunstenaars in die didaktiek (regstreeks of verdoeseld),Ga naar eind89 'n eensydige kuns of 'n kleinkuns en 'n belydenispoësie. Terwyl die eensydige en beperkte kleinkuns in die Afrikaanse letterkunde ‘in sy Afrikaansheid’Ga naar eind90 vassteek, word die belydeniskuns van Dertig beperk deurdat dit ‘in sy eie menswees’Ga naar eind91 verstrik bly. ‘Vir jou belydenisdigter,’ sê Opperman, | |
[pagina 240]
| |
is die digter self die belangrikste indien nie die enigste persoon wat ons Liewe Here geskape het, en ander mense en verskynings van die skepping bestaan nie of word nie in hulle eie reg gesien of erken nie. Die werklike kunstenaar sal eerlik, sonder eiebelang, die volle werklikheid probeer erken (al kan hy dit nie alles ervaar nie, sal die stukkie ‘werklikheid’ wat hy gee van perspektief getuig) en alles in sy eie reg volwaardig probeer teken.Ga naar eind92 Ten slotte erken hy dat die mens en die kunstenaar voortdurend in stryd met mekaar is: Oorwin die mens oor die kunstenaar, dan kry ons eensydige kuns en didaktiek; oorwin die kunstenaar oor die mens, dan kry ons 'n estetiese speletjie. In die gelyke stryd tussen die mens en die kunstenaar kom daar verhouding en ewewig in 'n kunswerk: tussen onthulling en verhulling, tussen abstraksie en aardsheid, tussen die goeie en die bose.Ga naar eind93 Soos in die opstel oor G.A. Watermeyer is dit opvallend hoe daar telkens in Opperman se opstelle uit die laat-veertiger- en vyftigerjare uitsprake voorkom wat met sy skeppende werk verband hou. Die digter wat ‘sowel skurk as held, lam as tier, God en duiwel, piesangskil as aap’Ga naar eind94 kan wees, keer terug in ‘Scriba van Egipte’ en ‘Nuwe Jerusalem’ in Engel uit die klip. ‘Scriba van Egipte’ spreek ook mee in 'n uitspraak wat hy in ‘Kuns is boos!’ maak: ‘Aan die een kant is...(die kunstenaar) die kuise Josef, aan die ander kant met 'n ewe groot noodsaak die wellustige vrou van Potifar.’Ga naar eind95 Die vrees van die kunstenaar vir ‘die digterlike woestyndood, die Kalahari wit papier’Ga naar eind96 waarvan hy in ‘Kuns is boos!’ praat, keer terug in ‘Oud-digter’ uit Blom en baaierd. Waar hy dit as eis aan die digter stel om ‘elke verskyning en verskynsel volwaardig, na sy wese peilend’Ga naar eind97 uit te beeld, klink dit na die advies wat die hoofkarakter aan die einde van Periandros van Korinthe vir sy mededigter Arioon gee: Moenie so baie bieg hoe jy jou stryd teen God besleg,
teken eerder elke ding van God volkome in sy eie reg.Ga naar eind98
En die uitspraak dat die digter wat die ‘werklikheid (uit) die waarheid’ haal en die ‘essensiële, die “inscape”, die goddelike, die “logos”’Ga naar eind99 soek, vind sy neerslag in Adam Tas se woorde aan W.A. van der Stel in Vergelegen: Ek is geen spieël, ek haal vanuit die stryd
die binnebeeld...die waarheid uit die werklikheid.Ga naar eind100
Ook die hele opvatting van die wesenloosheid van die kunstenaar en die karakterisering van hom as verkleurmannetjie keer terug in Van der Stel se beskrywing van Tas se ‘trapsoetjiesiel’.Ga naar eind101 Met hierdie vyf groot opstelle sit Opperman sy vroeëre werk as kritikus | |
[pagina 241]
| |
voort en skryf hy van die insiggewendste kritiek in Afrikaans, sowel wat die kommentaar oor die bespreekte werk as die insig in die kuns en die kunstenaarskap as sodanig betref. Met ‘Kuns is boos!’ lewer hy trouens 'n modelopstel wat as sleutel tot sy eie opvattinge oor die literatuur 'n mylpaal is. Dit is egter opvallend dat Opperman se laaste omvangryke opstel dié oor ‘Probleme van die versdrama’ is. Ná 1956 sal hy - 'n enkele uitsondering daar gelate - nie weer kritiek van dieselfde omvang beoefen nie. Daar kan verskillende redes hiervoor wees. Een oorweging wat ongetwyfeld 'n rol by hom gespeel het, is sy siening van die kritiek as iets betrekliks. Hy wou veel liewer sy beskikbare tyd aan skeppende werk wy. In later jare was hy by tye ongeduldig as sy kritiese werk bygehaal word om sy poësie te verklaar. As sy oud-student D.J. Hugo in 1979 'n M.A.-verhandeling aan die Universiteit van Pretoria oor ‘Brandaan’ van D.J. Opperman as verwerking van 'n Middelnederlandse teks voltooi, reageer hy in 'n brief van 8 September van dieselfde jaar negatief op die gebruik van ‘Kuns is boos!’ by die interpretasie. Hy sê ‘“Kuns is boos!” was 'n elementêre uiteensetting vir hoofsaaklik Engelssprekende studente aan die Universiteit van Natal. (Dit lyk my 'n digter moet net dig en nooit oor sy vak gesels nie!)’ In watter mate 'n opstel soos ‘Kuns is boos!’ by die interpretasie van sy eie werk betrek moet word, is 'n debatteerbare aangeleentheid, al is dit só dat Opperman deur sy stelwyse, die regstreekse verwysing na ‘Brandaan’ en die verwantskap tussen die opstel en sy eie poësie self aanleiding hiertoe gegee het. In elk geval kan 'n mens sy redusering van ‘Kuns is boos!’ as 'n ‘elementêre uiteensetting’ vir Engelstalige studente glimlaggend as die luukse geringskatting van die kritiek beskou, want ‘Kuns is boos!’ - soos trouens ook sy ander opstelle uit dié jare - sê, soos min ander kritiese werk in Afrikaans, iets wesentliks oor die bespreekte poësie en die digkuns as sodanig. | |
VIIIIn die woonstel in Drieankerbaai waarin die gesin begin 1947 hulle intrek geneem het, kon Opperman ten spyte van die beknopte woonomstandighede 'n enorme hoeveelheid werk verrig. Die afwerking van Negester oor Ninevé is daar gedoen, terwyl hy ook die volledige bundels Joernaal van Jorik en Engel uit die klip, sy eerste versdrama, Periandros van Korinthe, en gedeeltes van Blom en baaierd daar geskryf het. Verder het hy die reeks verseboeke daar saamgestel en Digters van Dertig voltooi. Tussen sy werk deur het Opperman dikwels tyd probeer vind vir sy gesin. Van tyd tot tyd het Trienke saam met hom wakker gebly om van die woonstelmuise te vang of gehelp as hy vir haar en Heila malvalekkers in die kaggel braai. By Houtbaai het hulle soms gaan piekniek hou en in Drieankerbaai en Groen- | |
[pagina 242]
| |
punt het hulle dikwels by die see gaan stap. Op 'n dag het hulle die ‘muggievissies in kantwaters (sien) wei’ en ‘betowerd’ gevolg hoe hulle ‘kruisend/ flikker-draai en spekig in die see terugsprei’, 'n siening wat aan die einde van die ‘Kamera’-afdeling in Joernaal van JorikGa naar eind102 terugkeer. Die hoeveelheid werk was egter daarvoor verantwoordelik dat die twee dogters betreklik min van hulle vader gesien het. Die Oppermans kon en wou dus nie 'n druk sosiale lewe lei nie en het meestal slegs oor naweke besoekers ontvang. Iemand wat gereeld 'n draai gemaak het, was Uys Krige. Opperman, wat sy lewe lank 'n geestige element in sy samestelling gehad het en mense soms goedig kon spot, het by geleentheid vir die jong Trienke 'n rympie geleer waarin Krige se ‘monotone ouditiewe spel’Ga naar eind103 en veelwoordigheid geparodieer word. Toe Krige op 'n dag weer opdaag, het Opperman haar aangehits om die rympie op te sê: Die reën
aaneen
aaneen
aaneen
die reën!
Tog het die gesin op die lange duur die woonstel baie beknop gevind. Hulle studieskuld was teen dié tyd nader aan afbetaal, maar hulle moes die meubels vervang wat in Augustus 1946 verbrand het. Deur die welwillendheid van Jack Theron kon Opperman egter deur spekulasie 'n eerste bedrag geld teen rente belê, terwyl die inkomste uit sy skeppende werk en veral die verseboeke hom spoedig in staat gestel het om 'n eie woonhuis te besit. Hulle het dus begin rondkyk na eiendomme. Hannes van der Merwe, in daardie stadium 'n jong, ondernemende argitek in Kaapstad, het deur sy vrou wat saam met Marié by die SAUK met vryskutwerk besig was, hiervan te hore gekom. Sy buurman in Tamboerskloof, prof. Harold Baldry van die Departement Klassieke Tale aan die Universiteit van Kaapstad, moes as gevolg van vermeende ondergrondse politieke bedrywighede sy pos laat vaar en die land verlaat, en sy huis was derhalwe in die mark. Van der Merwe het dadelik vermoed dat die woning besonder geskik vir die Oppermans sou wees en het met hulle in verbinding getree. Met die eerste besigtiging was hulle dan ook baie ingenome daarmee. Opperman het met sy vriend Jack Theron geskakel om na die huis te kom kyk. Theron het aanbeveel dat hy 'n aanbod van £3 000 moet maak, ongeveer £1 000 minder as waarvoor dit in die mark was. Dié aanbod is aanvaar en met sy spaargeld en 'n lening kon Opperman die woning koop. Die huis waarin die gesin op 16 Julie 1954 ingetrek het, was geleë in Baaisiglaan 10, Tamboerskloof.Ga naar eind104 Dirk en Marié Opperman het dit mettertyd in 'n gesellige woning vir hulle en die dogters omskep. Dit het bestaan uit twee verdiepings. Op straathoogte het 'n mens langs die motorhuis met 'n portaal binnegekom na 'n ruim studeerkamer en woonvertrek met balkon, die kombuis | |
[pagina 243]
| |
en bad- en toiletgeriewe. Onder was daar drie slaapkamers en 'n bediendekamer. Vanuit die woonkamer en studeerkamer was daar 'n uitsig oor die hawe met die skepe, die hele middestad en - op 'n helder dag - die Stellenbosse berge. In die nag kon hulle afkyk op ‘ons korf van soet en goue ligte’,Ga naar eind105 'n beskrywing wat reeds in Periandros van Korinthe voorkom. Vanweë die ligging en die uitsig op Tafelbaai het Opperman, wat teen hierdie tyd reeds 'n gedugte verskaffer van titels was en by die Pers as ‘Dirk die Doper’Ga naar eind106 bekend gestaan het, die huis Kraaines gedoop. Dit is 'n woord wat hy in ‘Vigiti magna’ in Negester oor Ninevé gebruik en wat treffend die posisie van die inwoners ten opsigte van stad en see aandui. Hannes van der Merwe is gevra om die naam mooi uit te teken sodat hulle dit op 'n koperplaat kon laat uitbrand. In later jare het Opperman 'n klopper in die vorm van 'n kraai wat afduik teen die voordeur laat aanbring. Met die vestiging in Baaisiglaan het die Oppermans vir die eerste keer 'n eie woning besit in 'n buurt wat ideaal geleë was ten opsigte van die Jan van Riebeeck-skole, die middestad en die vryheid en ontspanningsgeleenthede wat Tafelberg en Vlaeberg bied. Soms op 'n Saterdagoggend het Opperman Trienke en Heila en 'n paar kinders van die buurt saamgeroep om teen Vlaeberg uit te stap, die sjeik se graf te besoek en water te drink uit die Spaanse wynsak wat hy graag by so 'n geleentheid vir die dors word saamgedra het. Hulp met die skoolwerk het hy meestal aan sy vrou oorgelaat. Die dogters het hy aan tafel aangemoedig om self raaisels en rympies te bedink. By geleentheid het hy Langenhoven se Brolloks en Bittergal vir hulle voorgelees en by die bangmaakepisodes aan sy diep stem 'n ekstra skor klank toegevoeg. Terwyl hy met die Kleuterverseboek en Klein verseboek besig was, het hy van tyd tot tyd die twee dogters en hulle maatjies se advies gevra oor die insluiting van gedigte en soms die indruk gewek dat hulle - en nie hy nie - die bloemlesings saamstel. Op dié wyse kon die kinders deel in hulle vader se werk. Omdat hulle nie broers gehad het nie, het Dirk en Marié Opperman besluit dat hulle op 'n natuurlike wyse die teenoorgestelde geslag moes leer ken deur hulle in die badkamer by hom toe te laat. Lyfstraf het hy by die hoogste uitsondering toegedien, want hy het fisieke geweld verafsku. Sover moontlik het hy met sukses sy sielkundige insigte by die opvoeding ingespan. Ten spyte van Opperman se lang werkdag was dit dus 'n gesin wat gesellig kon verkeer en dinge saam gedoen het. Van tyd tot tyd in die vakansies het hy die kinders saam met hom na die Universiteit van Kaapstad geneem of met hulle in die Tuine rondgestap en die museum besoek. Vakansietye het die gesin enkele lang motorreise onderneem. Toe hulle nog in die woonstel gebly het, kort nadat hy sy eerste motor gekoop het, is hulle op 'n reis deur die Suidkaap waartydens hulle die Kangogrotte en 'n volstruisplaas op Oudtshoorn, die meerlandskap van Knysna en op die terugrit Stilbaai met sy mooi ‘witgekalkte vissershuisies’Ga naar eind107 besoek het. Afgesien van 'n paar vakansies op Sabie en die | |
[pagina 244]
| |
1953-besoek aan Durban en Pietermaritzburg was die hele gesin vir 'n deel van die wintervakansie van 1955 op Umhlanga Rocks waar hulle in die huis van Opperman se skoolvriend, Ben Pienaar, tuisgegaan het. By dié geleentheid kon die twee dogters vir die eerste keer van hulle Natalse familie ontmoet en kon hulle ouers ook vir hulle op Vryheid rondwys. Alhoewel Opperman nie 'n kerkganger was nie, het hy waarde geheg aan die ordelikheid wat 'n vaste geloof aan 'n mens se lewe kon gee. Daarom het hy gereeld voor ete 'n tafelgebed gedoen en vir die kinders geleidelik ingelei in wat hy as die sin van Afrikanerwees en menswees beskou het. In later jare kon Heila - in 'n brief van 18 Julie 1968 - haar ouers bedank vir die kwaliteit ‘van die waardes wat ons van kleins af as erfenis van julle ontvang het’. In 1955 het Marié op die leeftyd van sewe en dertig jaar weer swanger geraak. Op 10 April 1956 is 'n derde dogter vir hulle gebore. Aangesien hulle gevoel het drie kinders is genoeg en die moontlikheid van 'n seun dus uitgesluit was, het Dirk en Marié besluit om haar Diederi Joanne te noem, 'n vervrouliking van Opperman se twee voorname.Ga naar eind108 Met die verskuiwing na Tamboerskloof het Opperman nuwe vriende gemaak. Iemand wat hy nou intiem leer ken het, was sy buurman Hannes van der Merwe. Van der Merwe het in sy vrye tyd 'n bietjie toneel gespeel; hy het Opperman se gedigte - waarvoor hy 'n groot bewondering gehad het - graag voorgelees. Op sy veelvuldige oorsese reise was sy eksemplaar van Engel uit die klip, die Opperman-bundel waarvoor hy die liefste was, altyd 'n bestendige en troue metgesel. Daarby het Van der Merwe se kontakte in die sakewêreld en die politiek ook dié sy van Opperman se belangstelling gevoed en kon hulle oor en weer kuier, heerlik gesels en oor 'n drankie rustig verkeer. Soms in die laataande het hy, as die ander lede van die gesin reeds in die bed was, by Opperman se studeerkamer opgedaag. Dan het hulle na 'n drankie of twee op die ingewing van die oomblik besluit om uit te ry na Seepunt om by die Doll's House 'n worsbroodjie te gaan eet en koffie te drink, want Opperman was nie 'n man wat graag in die kombuis iets aanmekaargeslaan het nie. In dié tyd het Opperman ook kennis gemaak met Anton Rupert, die besturende direkteur van die Rembrandt-maatskappy, wie se vrou as sekretaresse verbonde was aan die Helpmekaar Hoërskool toe hy in Johannesburg onderwys gegee het. Die Ruperts het in die Kaap huisvriende van die Oppermans geword, sonder om mekaar se drumpels uit te trap. Dikwels was dit 'n uitreiking na mekaar, want Rupert het waardering gehad vir Opperman as digter en die verbinding van kunstenaarskap en logies-analitiese vermoë in sy samestelling. Van tyd tot tyd het hy Opperman om advies gevra. Só beïndruk was Rupert met Opperman se besondere hoedanighede dat hy hom as kopieskrywer in diens wou neem, 'n aanbod wat Opperman glimlaggend maar beslis van die hand gewys het. By geleentheid in 1956 het die Ruperts in die groot skuur op die plaas Nooitgedacht 'n onthaal gereël vir Mimi Coertse wat toe wêreld- | |
[pagina 245]
| |
roem as operasangeres in Wenen begin verwerf het. Op versoek van Rupert het Opperman die kwatryn ‘Mimi Coer-tse’ vir die geleentheid geskryf: Waar baie ons vandag vervloek as Boer,
voel ons dubbeltrots dat jy ontroer,
jou mildelike tortelklanke uit
die hoogste kruine oor die wêreld koer.
In die vyftigerjare het Opperman verder kennis gemaak met David de Villiers, latere hoof van SASOL, en P.J. Cillié, in daardie stadium hoofredakteur van Die Burger, beter leer ken. Rupert wou hê dat hy, Cillié en Opperman 'n driemanskap moet vorm wat op politieke en intellektuele gebied leiding kan neem, maar hulle was al drie waarskynlik veels te onafhanklik en koppig om so 'n plan suksesvol deur te voer. Vir Opperman was Cillié een van die skitterendste breine wat 'n mens kon kry, terwyl hulle, wat temperament en speelsheid betref, mekaar se gelyke was. Tog het hulle kennismaking nie tot 'n hegte vriendskap gegroei nie, hoogstens tot 'n affiniteit. Die feit dat hy vriendskappe met uiteenlopende mense kon opbou, illustreer Opperman se wye belangstelling en oopgesteldheid. Al was sy taak as kunstenaar vir hom altyd sentraal, het hy in dié kennismakings die moontlikheid van 'n verruiming van sy kuns gesien. In die vyftigerjare het hy ook steeds sy belangstelling in die Abnormale Sielkunde behou. As hy die tyd kon inruim, het hy graag in geselskap van mediese kennisse gestigte besoek of operasies bygewoon, want hy was geïnteresseerd daarin om die mens in sy abnormaliteit te sien: as sy liggaam versny of sy gees aangetas is. Uit hierdie jare dateer ook sy sistematiese en wetenskaplike kennismaking met die wynbou en die wynkultuur. Dikwels het hy saam met amptenare van die KWV rondgereis om wyne te proe en die wingerdbou te leer ken. Teenoor die Kerk het hy afsydig gestaan en hom los gehou van godsdienstige verpligtinge, al was hy basies 'n mens met vaste beginsels. Ook na die politiek het sy belangstelling uitgegaan. Hy was 'n teensinnige volgeling van D.F. Malan wat vir hom veels te stadig, ondramaties en sonder vuurwerk voorgekom het. Vir J.G. Strijdom as mens het hy waardering gehad, maar min gedink van sy visie as staatsman. Hy was ligtelik geamuseerd toe Canis Scholtz ná Strijdom se Premierwording by Die Burger daarop aandring om meer foto's van die Eerste Minister te publiseer. Aanvanklik het hy H.F. Verwoerd as kragfiguur bewonder, maar skepties gestaan teenoor sy oormoed, groot ambisie en die feit dat die reeks diskriminerende wette van die vyftigerjare in 'n groot mate sy maaksels was. Tog was Opperman gewortel in sy Afrikanerskap. Hy het sterk verontwaardig gevoel oor die Britte se rol in die geskiedenis van Suid-Afrika, maar simpatie gehad met die Zoeloes wat hy as kind leer ken het. | |
[pagina 246]
| |
Die lojaliteit teenoor sy Afrikanerskap het egter by tye tot 'n spanning met die groter lojaliteit teenoor sy kunstenaarskap gelei, want Opperman kon die beperkinge van die Afrikanernasionalisme nie altyd versoen met die drang tot vereenselwiging en wesenloosheid wat die kuns van hom geëis het nie. In die vyftigerjare lei hierdie basiese tweespalt saam met die diskrepansie tussen droom en daad, kuns en roetine tot 'n spanning waarmee hy daagliks moet saamleef en wat hy gedeeltelik in sy twee versdramas Periandros van Korinthe en Vergelegen vergestalt. Heelwat later sou hy by geleentheid aan sy dogter Heila sê dat die spanning tussen impuls en verantwoordelikheid in die Oppermans altyd baie sterk en tot die uiterste toe gespan is. In dié tydperk kry 'n mens ook die eerste aanduidings van 'n reaksie wat later toenemend by hom sal voorkom, naamlik 'n neiging om hom aan situasies te onttrek en 'n siniese gelatenheid te openbaar teenoor probleme wat hy as onoplosbaar beskou het. Hy het weinig belanggestel daarin om 'n rol in openbare liggame of organisasies te speel. In 1951 word hy uitgenooi tot lidmaatskap van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. As hy in 1950 deur W.J. du P. Erlank voorgedra word as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, misluk die poging - tot skande van die Akademie - en ten spyte van die feit dat hy in daardie stadium reeds met die Hertzogprys, die hoogste literêre eerbewys van dié liggaam, bekroon is. In 'n brief van 22 Junie 1951 herhaal Erlank sy aanbeveling, met byvoeging van 'n addendum, aan die Akademie-sekretaris en in April 1952 word Opperman verkies tot lid. Volgens die brief waarin hy uitgenooi word, moet dit dien as 'n blyk ‘van die hoë waardering wat die Akademie koester vir...(sy) besondere prestasies op gebied van digkuns en kritiek’. Opperman laat hom hierdie lidmaatskap welgeval, maar verkies om eerder 'n passiewe naloper as 'n aktiewe lid van die Akademie te bly. Naas die verhoudinge wat sy visie op die wêreld verruim het, was daar in Opperman se kring vriende en kennisse die mense van die Nasionale Pers, die Kaapse en Stellenbosse letterkundiges en skrywers, en die werknemers van die SAUK. Onder die radiomense was Ken Swart, broer van Audrey Blignault, wat ook literêre werk geresenseer het. Olivier Burgers, vir wie Opperman reeds in Johannesburg leer ken het, was hoof van die SAUK in Kaapstad en verantwoordelik vir poësieprogramme waarin hy Opperman se werk bekend gestel het met voordragte deur Fred en Ria le Roux, Gideon Horn en Opperman self. Onder die meer literêre vriende het Opperman en Greshoff gereeld bymekaargekom om oor Standpunte en nuwe publikasies te gesels. Greshoff se parate kennis van die Nederlandse literatuur, selfs van die jongste ontwikkelinge én tydskrifpublikasies, het bevrugtend op Opperman ingewerk. Van tyd tot tyd het Meyer en Suna de Villiers van Stellenbosch af oorgekom, of het die Oppermans na hulle toe oorgery. In 1953, toe die De Villiers's op Waenhuiskrans met vakansie was, het die Oppermans kom kuier en het Opperman een aand en nag vir hulle die volledige teks van Periandros van Korinthe voorgelees. In die veld | |
[pagina 247]
| |
of oor die duine kon hulle ure lank loop en gesels. Meyer de Villiers het 'n groot waardering vir sy vriend se digterskap gehad, maar kon hom soms onomwonde uitspreek as hy nie van iets gehou het nie. Hy was nie beïndruk met die klankeffekte in ‘Staking op die suikerplantasie’ nie, maar het gou agtergekom dat Opperman gevoelig is vir kritiek en nie juis daarvan hou nie. Vir Fred le Roux, wat ook gereeld by hom gekom het, was Opperman een van die trouste vriende, 'n mens wat hom kon oopstel vir 'n verskeidenheid mense, van die eenvoudigste visser tot die mees belese literator. Hy was bereid om na almal te luister en elkeen werklik raak te sien. As hy by iemand was, het hy sy felle, volle aandag aan hom gegee, en met sy hele wese in die ander persoon opgegaan. Iemand met wie hy steeds van tyd tot tyd gesels het, was Johan Spies, in die vyftigerjare redakteur van Die Huisgenoot. Dit het vir Spies en baie ander vriende opgeval dat Opperman nooit krag- of onkiese woorde gebruik nie, maar wel sekere geliefkoosde uitdrukkings het. So kon hy byvoorbeeld van tyd tot tyd die woord ‘bulle’ in die sin van gedugte kêrels gebruik (‘D.F. Malherbe is een van die ou bulle’), die uitroep ‘Griet’ aanwend as hy verbaas was oor iets (‘Griet, jong, waar kom jy daaraan?’) en knaend die woorde ‘ek hoor nie’ of ‘sê weer’ gebruik as iets nie goed tot hom deurgedring het nie. As hy oor die telefoon gesels het, was dit sy gebruik om by die afskeid 'n langgerekte ‘tôt...’ pleks van ‘tot siens’ te sê. Wat die literatuur en sy eie werk betref, was dit vir Spies opmerklik dat Opperman baie spesifieke opvattinge het. Opperman kon die uitskakeling van die ‘mens’ agter die boek nie wettig nie, al het hy in gesprekke oor dergelike sake in antwoord op redes dikwels net 'n gebaar gemaak en selde tot 'n prinsipiële uiteensetting oorgegaan. Hy het dikwels oor die waarde van rym in die poësie gepraat, maar gesê dat 'n taal maar 'n beperkte aantal rymwoorde het en 'n digter hulle naderhand uitput. Tog was hy in hierdie verband van sy eie vermoëns bewus. Toe iemand een aand in 'n ligsinnige bui na hom as rymelaar verwys, was sy antwoord dadelik: ‘Bring my iemand wat in Afrikaans beter kan rym as ek’! By geleentheid het hulle saam na 'n radio-uitsending van Joernaal van Jorik geluister. Na afloop daarvan vra Spies hom of hy soms by 'n reeds gepubliseerde werk voel dat daar dinge in voorkom wat hy vandag anders sou stel. Opperman se antwoord was onmiddellik: ‘Nee, nooit.’ Terwyl hy aan 'n ding gewerk het, was sy aandag en volle menswees daarby. Hy het nie blindelings besluite geneem nie, maar met die ‘dom geduld’ van die silwersmidGa naar eind109 'n stuk werk perfeksionisties voltooi. As hy egter daarna daarin glo en vir publikasie vrystel, was sy aandeel verby en het hy feitlik nooit veranderinge aangebring nie. Dit verklaar die feit dat daar haas geen teksveranderinge in sy werk voorkom nie. Dit was feitlik onmoontlik om hom van 'n standpunt af te kry as hy eenmaal 'n besluit geneem het. Dit was ook sy oortuiging dat 'n gepubliseerde letterkundige werk sy eie weg | |
[pagina 248]
| |
moet vind en dat dit onvanpas van 'n skrywer is om daaroor chaperon te speel en in die openbaar te verdedig. Daarom het hy dan ook nooit op kritiek oor sy werk gereageer nie, selfs nie teen die giftigste of kleinlikste aanvalle van die noordelike groep in die vyftigerjare nie. Hy het 'n hekel gehad aan letterkundige groeperinge en 'n bietjie neergesien op die mindere ligte wat byeenkom en dan praat asof die hele Suid-Afrika moet gaan stilstaan om te luister. As hy ernstig gesels het oor die literatuur, was dit oor dinge wat sy kuns kon voed. Hy het nie gehou van 'n eindelose gepraat en tekstuele analises soos dié van die stilistici op linguistiese grondslag wat nêrens heen lei nie. Sulke mense was vir hom soos ‘brommers om 'n kring’, akademici wat ‘'n kuipvol proefskrifte...(wil) pars uit 'n een-tros-letterkunde’,Ga naar eind110 'n uitspraak van Peter Blum waaraan hy veel plesier gehad het. Van skindernuus het hy gehou, want stories was vir hom amusant en hy het soms 'n speels diaboliese genot geput uit al die vermaaklikheid in die ‘republiek der letteren’, die ‘vuil bedryf / al óm die kuns’.Ga naar eind111 Daarteenoor was hy wel intens geïnteresseerd in die werk van letterkundiges in wie se oordeel hy vertroue gehad het en in skrywers wie se werk vir hom van waarde was. In 'n brief van 15 Junie 1956 wens hy Elisabeth Eybers geluk met Die helder halfjaar en noem hy wat vir hom die beste gedigte is. In teenstelling tot die Louws het hy nie 'n renons gehad in C.M. van den Heever nie, maar hom as mens en sy beste gedigte gewaardeer. By die verskyning van Honderd sonnette skryf hy aan Van den Heever 'n brief waarin hy kritiek uitspreek, maar ook die gedigte noem wat tot hom gespreek het. As hy in 1957 op die boot terug van Europa van Van den Heever se dood verneem, is hy baie ontroerd. By sy terugkeer het hy dit Die Burger erg kwalik geneem dat hulle nie 'n hoofartikel oor Van den Heever gehad het nie; as hy op daardie tydstip in Kaapstad was, só het hy gesê, sou hy dit self geskryf het. In die vyftigerjare, word die eerste studies oor sy werk voltooi. Op Stellenbosch skryf Elizabeth Lindes haar M.A. oor Die poësie van D.J. Opperman met verwysing na verwantskappe met T.S. Eliot (1952), terwyl sy - soos vroeër Cloete met Trekkerswee en Joernaal van Jorik (1953) - in Amsterdam promoveer met Veelheid en binding (1956), 'n studie wat aan sy werk gewy word. Aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi Ernst Lindenberg in 1956 die Ph.D.-studie Struktuur en waardeoordeel waarin hy 'n hele paar gedigte uit Negester oor Ninevé intensief ontleed. Naas die waardering wat hy gehad het vir die werk van Grové, was Opperman geïnteresseerd in die opstelle van sy Natalse vriende C.J.M. Nienaber en P. du P. Grobler, Miep Luitingh se Woordkuns en veral die Standpunte-kronieke van Rob Antonissen. Vir die firma HAUM, beveel hy Antonissen aan as skrywer van 'n nuwe geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. As die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1952 die Hertzogprys vir Drama aan Gerhard J. Beukes en W.A. de Klerk toeken, is hy - ten spyte van die feit dat hy kort tevore lid van dié liggaam geword het - bereid om saam met | |
[pagina 249]
| |
Antonissen, W.E.G. Louw en later ook Meyer de Villiers, I.W. van der Merwe en J. du P. Scholtz standpunt in te neem teen F.C.L. Bosman en Hermien Dommisse in een van die omvangrykste en felste polemieke wat nog oor 'n letterkundige aangeleentheid in Suid-Afrika plaasgevind het. In 'n brief van 18 November 1952 aan Die Burger verdedig Opperman vir Antonissen teen Bosman se insinuasie dat dié kritikus se Vlaamse herkoms hom onbevoeg maak om 'n mening oor Afrikaanse literêre sake uit te spreek. In 'n brief van 20 November aan dieselfde koerant onthul hy dat De Klerk onder die skuilnaam ‘Die Waarheid lê Tussenin’ self aan die debat begin deelneem het en aarsel hy nie om skerp te formuleer nie: In 'n literêre debat kan 'n mens onpersoonlik en suiwer wees sonder om 'n skuilnaam te gebruik. Hoe ook al, 'n jakkals verander van hare maar nie van snare nie - jy herken stylgewoontes en -gebreke én dieselfde eina-klank in hierdie naamlose stukkies van die afgelope week. En nag het die wond gebring! As De Klerk self hierop onder sy eie naam antwoord en maak asof hy van niks weet nie, beantwoord Opperman hom in Die Burger van 22 November met 'n rympie waarin die vanselfsprekende rym op ‘vlerk’ berekend verswyg word: Jou antwoord is so lig
en wil verwarring stig,
maar aardjie na sy vaartjie -
ék sal 'n duister rympie dig:
Ek ken 'n bantampie se streke
as iemand wys op sy gebreke,
en daarom kon ek effens mik
en na hom korrel met my klip,
en weet nog voor die wondjie in sy vlerk
wie anders sou dan kekkel as...‘Die Waarheid lê Tussenin’.
As Hermien Dommisse - regisseuse van De Klerk se drama Die jaar van die vuuros - ook daarna tot die stryd toetree, vermoed Opperman dat De Klerk agter ‘die rokke van sy regisseuse’ wegkruip maar dat ‘'n mens sy kroontjie nog so effens-effens sien uitsteek!’ Hierop antwoord sowel Dommisse as De Klerk. In 'n laaste brief aan Die Burger, gedateer 28 November 1952, waardeer Opperman dit dat De Klerk nou sy skuilnaam afgeskud het. Teenoor Dommisse se aksentuering van die ‘speelbaarheid en toneelmatigheid’ as hoogste maatstaf by die drama sal sý sonde waarskynlik wees dat hy ‘as letterkundige te veel die letterkundige waarde van 'n drama deurslaggewend ag’, maar hy beskou dit as 'n ‘sonde’ wat vir ons letterkunde ‘heilsamer’ is. En, met 'n verwysing na 'n hoofartikel wat Die Transvaler aan die polemiek wy, sê hy dat | |
[pagina 250]
| |
dié blad in ons kritiese geskiedenis ‘onsterflikheid verwerf (het) deur 'n nuwe maatstaf in ons kritiek in te voer: die glimlag van die land se Eerste Minister (by die opvoering van een van Beukes se blyspele), en by implikasie, vir die Engelse letterkunde hier te lande die norsheid van mnr. Strauss, leier van die Opposisie’.Ga naar eind112 Ernstige polemiese aangeleenthede het Opperman dus wel deeglik geïnteresseer, maar hy het verkies om die grootste deel van sy beskikbare tyd aan sy skeppende en literêr-wetenskaplike werk te wy. Sy hele lewe was gevolglik hierop ingestel. As hy in sy studeerkamer aan die werk was, het hy verkies om in die somer 'n kortbroek en hemp aan te hê, en in die winter slaapklere met kamerjas en pantoffels. Hoewel hy baie konsensieus was en gesteld op die stiptelike, sistematiese afhandeling van sy sake, het sy studeertafel met al die boeke, lêers en papiere vir die buitestaander baie deurmekaar uitgesien. Tog het hy presies geweet waar elke papiertjie is. Na die afhandeling van 'n projek was dit sy gewoonte om op te ruim, iets wat hom gewoonlik twee dae of langer geneem het. In sy letterkundige lewe en werk was Marié vir hom van groot en deurslaggewende belang. Sy het vir hom 'n aangename huislike atmosfeer geskep om in te werk en het in die middag die moeilike taak gehad om die kinders rustig te hou terwyl hy slaap. In die huis was sy werk hoofsaak en sy het lastige mense op 'n mooi, geduldige maar besliste manier van hom weggehou. Hy het nie van onverwagte invalle gehou nie en Marié het hom nie maklik vir 'n telefoonoproep of onverwagte besoeker wakker gemaak nie. Daarby was sy met haar goeie letterkundige insig, aanvoeling en kennis vir hom 'n belangrike eerste kritikus en klankbord, die ideale eggenote vir iemand wat só volledig in sy werk opgegaan het. Alhoewel hy dwarsdeur sy lewe 'n vrees vir armoede gehad het, was hy nooit vrekkerig nie. Daar was altyd 'n oorvloed drank en kos in die huis en hulle het goed en selfs rojaal geleef. By die gepaste geleentheid het hy dan ook daarvan gehou om in sy huis te onthaal. Dan was hy 'n opmerksame gasheer en het hy - wat altyd belanggestel het in die avontuur van die lewe en basies 'n vreugde uit die lewe kon put - die geselligheid saam met sy vriende geniet. As mens was hy gemaklik en sonder aanstellery. Hy was nie iemand wat graag oor sy probleme wou gesels nie en het ook nie daarvan gehou as iemand anders met 'n gekla by hom aankom nie. As G.A. Watermeyer vir hom by geleentheid oor allerlei probleme skryf, antwoord hy op 24 Julie 1951 ongeduldig: Jy praat van jou moeilikhede; man, myne wil ek nie eers noem nie. By jou is daar ten minste die vooruitsig van 'n huis. Ek het meer as 'n jaar laas 'n enkele reël poësie geskryf. My studieskuld, e.d.m. was veel hoër; ek het 'n paar jaar gelede alles wat ek besit het (my boeke uitgesonderd) in 'n brand verloor, ens. Maar hoekom sal ons nou dambord speel met mekaar se verdriete? | |
[pagina 251]
| |
Met die groot hoeveelheid werk wat hy in die vyftigerjare gehad het, was dit onvermydelik dat Opperman losser sou raak van sy moeder, broers en susters. Tog was hy enkele kere by Liz en Jannie Theron op Sabie met vakansie en het hy en sy broer Maans, wat hom feitlik aanbid het, lang ure oor die telefoon gesels. Toe Liz in die vyftigerjare kunsklasse gaan loop en selfs begin skilder, was hy baie geïnteresseerd. Hy het haar egter gemaan om nie haastig te wees nie en haar laat belowe dat sy nooit sal uitstal voordat sy nie absoluut tevrede met al die skilderye is nie. Sannie Opperman was einde 1952 in Kaapstad vir haar seun se promosie en het weer in 1955 vir hulle kom kuier toe Periandros van Korinthe opgevoer is. Alhoewel Dirk as kind baie aan haar geheg was, het hy die besoeke van sy moeder irriterend gevind. Hy was in die fleur van sy lewe en wou dag en nag werk, terwyl sy net die hele dag oor koeitjies en kalfies wou gesels. Op die derde dag van so 'n besoek was hy dan ook soos 'n buffel wat in 'n kamp staan en nie weet waar om uit te spring nie. Sy was 'n dominerende vrou wat beheer oor haar kinders wou behou lank nadat hulle selfstandigheid bereik en hulle eie lewe begin lei het. Dit was dus vir hom telkens 'n verligting as sy weer vertrek het. In die vyftigerjare het Liz en Jannie Theron hulle saak op Sabie verkoop en met 'n apteek op Reitz begin. Sannie Opperman het eers saam met haar seun Koos op Sabie voortgegaan, maar later by haar kinders rondgebly. Terwyl sy in 1956 by haar dogter Vi op Witbank was, het sy 'n massiewe koronêre trombose gekry. Sy het dit egter oorleef en drie maande later haar seun Maans besoek. Tydens 'n vakansie aan die Suidkus van Natal saam met hom en sy gesin het sy begin sleg voel en is sy in die hospitaal opgeneem. Na 'n paar dae het sy egter self verkies om na Liz en Jannie op Reitz te gaan. Daar was sy net 'n paar dae voordat sy op 27 Augustus 1956 teen die namiddag in die ouderdom van vier en sestig jaar oorlede is. Dirk is per trein na Bloemfontein waar Maans en Koos hom kom haal het. Die middag met sy aankoms het hy die lyk gesien, 'n ervaring wat jare later in die treffende lykdig ‘Mev. H.S.M. Opperman’ uit Edms. Bpk. - die teenhanger van ‘Nagedagtenis aan my vader’ uit Heilige beeste - gestalte vind. | |
IXMet sy werk aan die proefskrif aan die einde van 1952 afgehandel, het Opperman daarin belanggestel om ook 'n ander gebied te betree wat hom naas die poësie en die kritiek reeds jare lank geïnteresseer het, nl. die drama. Met sy opvattinge oor die wisselende wese van die kunstenaar, die opgaan in ander gestaltes en die dramatisering van die gedig was die drama eintlik 'n vanselfsprekende genre waarby hy die een of ander tyd sou moes uitkom. Hy | |
[pagina 252]
| |
het derhalwe begin soek na geskikte boustof wat hy dramaties kon verwerk. In die loop van 1953 was Marié Opperman besig met 'n reeks radiopraatjies en Huisgenoot-artikels oor digteresse. Vir haar voorbereiding het sy die Griekse digteres Sappho se lewe nagegaan en só afgekom op die geskiedenis van Periandros, die alleenheerser oor die stad Korinthe in die sesde eeu voor Christus. Sy het dadelik gevoel dat in hierdie lewensloop sterk dramatiese moontlikhede skuil en dit aan haar man genoem. Toe hy die Periandros-figuur dieselfde dag begin verken, was hy só begeesterd deur die pakkende gegewe dat hy eintlik 'n bietjie jaloers was dat Marié, en nie hy self nie, op die boustof afgekom het! Terwyl die klassieke mites en geskiedenis meestal by herhaling in die verlede gebruik is en in die proses verliteratuurd geraak het, was daar vir Opperman hier 'n stuk boustof en figuur wat nog nie tevore behandel is nie. Daarby was die bronne oor Periandros verdeeld. Vir een groep klassici en historici was hy een van die Sewe Wyse Manne van Hellas en 'n ontwikkelde mens, terwyl 'n ander groep hom as 'n despoot beskou het. Die uiteenlopende reaksies maak van Periandros 'n omstrede figuur wat sy dramatiese moontlikhede verhoog. In 'n drama oor dié gegewe, so het Opperman gemeen, kon hy buitendien heelparty eietydse probleme van sy land versluierd inwerk en só die antieke stof tot 'n nuwe aktualiteit dwing.Ga naar eind113 Met die oog op 'n drama oor Periandros het Opperman die belangrikste bronne oor dié figuur begin deurwerk en aanteken. Aanvanklik was die eerste dialoog sonder rym met 'n neiging tot prosa, maar betreklik gou het hy - in navolging van die klassieke en Vondel, wie se werk hy in dié jare gedoseer het - op 'n drama in vyf bedrywe van drie tonele elk en die paarrymvorm besluit.Ga naar eind114 Die manuskrip is geskryf in eksamenboeke van die Universiteit van Kaapstad, 'n tipe papier wat hy in die vyftigerjare vir sy gedigte ideaal gevind en wat ook Van Wyk Louw voor sy vertrek na Amsterdam gebruik het. Die eerste probeerslae is met potlood, daarna met ink en later met balpunt geskryf. Van die getikte teks is daar drie kopieë, telkens met wysigings met potlood en ink. Periandros van Korinthe was reeds teen die einde van 1953 byna voltooi. Op 28 Januarie 1954 skryf Opperman aan Canis Scholtz, in daardie stadium in Amsterdam, hoe baie hy die skryf van die drama geniet het. Dit is klaar en hy is besig om dit rustig te hersien. Hy vertel Scholtz dat hy by geleentheid, toe hy nog met die drama besig was, vir Jan Greshoff van die werk vertel het, onder meer dat hy Periandros se muntstuk met die gevleuelde perd as sentrale simbool vir die aards-hemelse konflik gebruik. Greshoff het opgestaan, na 'n laai gestap en vir Opperman 'n munt uit Ambrakia, een van die kolonies van Korinthe, gaan haal, 'n geskenk wat hy in 1943 ontvang het van 'n amptenaar verbonde aan die Nederlandse ambassade in New York. ‘Ek kan amper nie die gewaarwording vir jou beskryf nie,’ sê Opperman in sy brief aan Scholtz. ‘Mens hou jou besig met 'n droom wat jy probeer lewe gee en dan kry jy skielik 'n konkrete hings (6de eeu v.C.) uit jou droom uit!’ Op 23 April 1954 skryf hy aan | |
[pagina 253]
| |
Scholtz dat hy die strookproewe van die drama reeds gelees het en 'n stel daarvan aan hom stuur. Op Saterdag, 31 Julie 1954, teken Opperman die eerste eksemplare van Periandros van Korinthe by die winkel van die Nasionale Boekhandel in die wandelgang van die Groote Kerk-gebou. In Die Burger van dieselfde datum verskyn pensketse van hom en Van Wyk Louw, wie se Nuwe verse ook op dié dag gepubliseer is. Opperman moes egter reeds vroeër 'n klein voorraad van die drama ontvang het, want op 16 Julie gee hy aan Fred en Ria le Roux 'n eksemplaar met die volgende inskripsie: ‘Met innige waardering vir verskeie wenke - verder met die wens dat julle dit nog sal opvoer!’ Die eerste reaksies op Periandros van Korinthe was dié van persoonlike vriende. Nog voor publikasie leen Meyer de Villiers die strookproewe by J.P.J. van Rensburg, professor in Grieks aan die Universiteit van Stellenbosch, wat die spelling van die Griekse name vir Opperman moes kontroleer en vir Die Burger 'n resensie oor die drama sou skryf. In 'n brief van 3 April 1954 spreek De Villiers sy oortuiging uit dat Opperman in twee dinge geslaag het: ‘om 'n ou verhaal te laat leef, en om iets aktueels te skryf’. Hy gaan voort: Dit is verbasend hoe mens onwillekeurig aan mense en dinge van ons land herinner word; eintlik nog sterker: dat mens voel Griekeland en die Griekse name is net maskers vir Afrikaners en Suid-Afrika. Kort na ontvangs van sy eksemplaar skryf Rob Antonissen in 'n brief van 7 Augustus aan Opperman: Dis...te vroeg om jou my gedetailleerde indrukke mee te deel. Maar ek kan jou wel dit sê: dit het 'n diep indruk nagelaat, my na voltooide lektuur laat bly sit met 'n gevoel van verslae kalmte.Ga naar eind115 Die eerste bespreking van Periandros van Korinthe is dié van J.P.J. van Rensburg in Die Burger van 31 Julie 1954. Hy wys daarop hoe getrou Opperman aan die bronne is, maar dat hy tog terselfdertyd 'n drama geskryf het wat deur en deur Afrikaans is. In Die Huisgenoot van 10 September 1954Ga naar eind116 wys A.P. Grové op Opperman se ‘argitektoniese gawes’ en sy gebruik van simbole, ‘“musikale” temas wat deur die drama beweeg om telkens, in gewysigde verband, die veranderde stand van sake te vergesel’. Hy kom tot die slotsom dat dit ‘'n ontroerende spel (is) wat van briljante intellektuele en strukturele gawes getuig(,)...'n diepsinnige en ryk stuk werk wat op talle vlakke tot die leser en toeskouer sal spreek’. Na 'n aanduiding van die voordele en funksie van die volgehoue paarrym wys hy daarop dat die skrywer die gevaar trotseer ‘om in sy dialoog die illusie van die gewone spreektaal prys te gee’. Meer as een keer moet 'n reël ‘“gevul” word deur persone wat praat met die oog op die rymwoord gevestig’. Daarby is die rym ‘'n gelykmakende faktor, (en) bring dit mee dat daar van 'n duidelike spraakdifferensiasie tussen figure nie genoeg | |
[pagina 254]
| |
tereg kom nie’. By hierdie beswaar sluit Uys Krige in die Cape Times van 4 Augustus 1954 aan. Die paarrym word by Opperman ‘an unsubtle, obvious medium, now tending towards monotony, then again - since it forces the poet to rhyme certain words that are intrinsically incompatible - beating on the ear like a tyre gone flat’. In sy radiobespreking, wat op 29 November 1954 uitgesaai word, sê G. Dekker dat Periandros van Korinthe vir hom 'n teleurstelling is. Die ‘prikkelende konsepsies...is nie dramaties-psigologies volgroei’ nie, maar het te veel ‘beligtingsflitse’ gebly, terwyl die ‘spanningslose verse’ vir hom te maklik verval in dreunrym. Ook Ernst Lindenberg het in Tydskrif vir Letterkunde, V:1, Maart 1955 beswaar teen die ‘toutologiese konstruksies, stoplappe en lukrake woordgebruik’ in die drama. In teenstelling tot hierdie resensies wy Rob Antonissen in sy bespreking in Standpunte, IX:4, Januarie-Februarie 1955Ga naar eind117 veel meer tyd aan die bou en simbole. Daarby gaan hy dieper in op die tweespalt tussen droom en daad in die hooffiguur en die presiese aard van die tragiek in die drama. As besware noem hy die ‘poëtiese motiewe-weefsel’ wat buitekant die persoonlike en daarom die handelingsaspekte staan en die feit dat die teenspelers onafhanklik van mekaar optree en nie een ‘antagonistiese rol...end-uit en ononderbroke volgehou (is) nie’. Soos Grové staan hy ook stil by die aard van die poësie in die drama. Hy wys op die ‘neiging tot distigering’, die enjambement wat ‘meer as wenslik’ ontbreek, die ‘aksentverspringing’ en die rym wat soms te ‘opsigtelik’ is. Ten spyte hiervan is Periandros van Korinthe vir hom ‘'n gróót werk’ waaroor hy nouliks die ‘eerste woord’ kon sê. Iets ‘meer indrukwekkends’ as die slotmonoloog ‘is daar in Afrikaans’ vir hom nog nie geskryf nie; alleen ‘Die hond van God’ sal 'n mens ‘ewe diep beroer’. Opperman moet hierdie bespreking as redaksie-sekretaris van Standpunte reeds einde November of vroeg in Desember 1954 ontvang het, want in 'n brief van 7 Desember reageer hy op Antonissen se stuk. Hy mis daarin iets oor die ‘aktualiteit’ en die ‘satiriese’ (die kritiese afrekening met die Dertigers). Hy is bly dat Antonissen nie die eise van sy liriese verse aan Periandros van Korinthe stel nie. Dekker sien die stuk as 'n ‘insinking’, maar vir Opperman kan dit geen insinking wees nie omdat dit nie 'n voortsetting van sy vorige verse is nie. Dit is 'n nuwe begin met 'n verssoort wat vir voordrabaarheid en spel heeltemal ander eienskappe en eise verg. Trouens, die vers het ek al sprekend en spelend in my kamer of soms met die voorlees aan 'n groepie sy finale vorm laat vind - die reël uitgestoot of ingekrimp sodat dit op die sprekende tong maklik kan lê. Die sintaksis van die verspaar word veral gebruik by reparteé of die aforistiese. By vrot lees of spel sal enige vers tot 'n dreun verander. Dat Opperman in sy brief aan Antonissen so uitvoerig by hierdie saak stilstaan, is 'n aanduiding van sy gevoeligheid oor die negatiewe kommentaar van | |
[pagina 255]
| |
Grové, Krige, Dekker (en later ook Lindenberg) oor dié aspek van sy drama en wat vir hom op 'n onbegrip vir die besondere soort vers van die versdrama berus. In sy lesing oor die ‘Probleme van die versdrama’, wat hy in 1956 hou, sal hy later uitvoerig hierby stilstaan en die uitspraak maak dat dit ‘onregverdig (is) om die eise van die liriek aan die versdrama te gaan opdring’. Die lesing is egter veral 'n reaksie op uitsprake van T.T. Cloete en Canis Scholtz. In Ons Eie Boek, XX:4 van 1954 verskyn 'n besonder negatiewe resensie van Cloete oor Periandros van Korinthe waarin hy die struktuur en dramatiese gang feitlik nie aanraak nie, maar haas uitsluitlik konsentreer op die verstekstuur. Sy uitgangspunt is dan ook om die vers van Periandros van Korinthe vergelykenderwys naas dié in ander bundels van Opperman te stel en die besondere karakter van die vers in 'n versdrama te ignoreer. ‘Dit is moeilik om die strenge werker Opperman,’ begin hy sy bespreking, ‘in hierdie gedig te herken. Die gedig is 'n groot teleurstelling, veral ná Joernaal van Jorik’ (my kursivering). Daarna gaan hy oor om die gebruik van woorde soos net, toe, glo en dergelike meer in die versreëls na te gaan en voorbeelde aan te toon wat vir hom na rymdwang en versvullings lyk. Vir Scholtz was die lees van die drama ‘'n groot teleurstelling’, omdat hy - soos hy dit in 'n brief van 5 Junie 1955 aan Van Wyk Louw stel - dit ‘onverklaarbaar (vind) dat 'n digter van Dirk se gehalte so iets kon produseer’. In 'n gesprek met Opperman het hy die dinge genoem wat hom hinder. Hy vind, so skryf Scholtz aan Van Wyk Louw, dat hy feitlik met alles wat Cloete sê, kan saamstem. Toe Cloete die resensie aan Ons Eie Boek gepos het, was die redakteur, F.E.J. Malherbe, met groot verlof in Europa en het Ina Rousseau die redaksionele werk behartig. Ina Rousseau was bewus van die spanning wat daar tussen Malherbe en Opperman bestaan het ná die verskyning van Digters van Dertig en was daar oortuig van dat die publikasie van Cloete se resensie dié spanning sou vererger. Tog het sy gehuiwer om die resensie summier te weier. In 'n terloopse gesprek het die uitgewer A.A. Balkema aanbeveel dat sy 'n tweede resensie laat verskyn waarin die drama as drama beoordeel word, 'n gedagte wat gesteun is deur Meyer de Villiers, die persoon wat sy op Malherbe se instruksies by probleemgevalle moes raadpleeg. Aanvanklik het sy Antonissen genader om die aanvullende resensie te skryf, maar hy het reeds onderneem om die drama vir Standpunte te bespreek. Daarom vra sy W.J. du P. Erlank om 'n verdere beskouing oor die stuk as drama te skryf, iets wat hy bereid was om te doen op voorwaarde dat sy 'n verklarende nota byvoeg. Erlank se resensie verskyn dan ook saam met dié van Cloete in dieselfde uitgawe van Ons Eie Boek, voorafgegaan deur die volgende redaksionele nota: Ons het dit nodig gevind om, by die deurtastende vers-tegniese ontleding van dr. Cloete, 'n aanvullende beskouing van prof. Erlank te plaas, wat meer bepaald die dramatiese karakter van Periandros van Korinthe sou beklemtoon. | |
[pagina 256]
| |
In sy beskouing konsentreer Erlank op die ‘stutsimbole’ in die drama en die verhoudings waarin die hooffiguur staan. Met Periandros van Korinthe het Opperman die Afrikaanse ‘toneelkuns onmiddellik opgestoot uit die sfeer van die melodrama, uit die sfeer van meer of minder ernstige patetiek, na die hoër sfeer van waaragtige tragiek’. Hy wys op voorbeelde waar die streng versvorm te hoë eise gestel en rym- en metriese dwang in die hand gewerk het, maar noem ook voorbeelde van ‘dialogiese slaankrag’ en ‘digterlike beeldingskrag’. In 'n brief aan F.E.J. Malherbe het Ina Rousseau die omstandighede van die twee resensies verduidelik en het hy laat weet dat hy met haar optrede akkoord gaan. Opperman was nie daarvan bewus dat Malherbe met verlof was nie en in 'n brief van 21 Januarie 1955 spreek hy sy ‘opregte waardering’ uit vir die ‘grootmoedige daad om naas Cloete se bespreking van Periandros, wat klaarblyklik as eensydig beskou is, 'n tweede bespreking (nl. dié van Erlank) te geplaas het, wat die ewewig moes herstel’. Blykbaar moet Opperman dieselfde dag gehoor het dat dit eintlik Ina Rousseau was wat die saak bemiddel het, want in 'n brief aan haar, wat dieselfde datum dra, spreek hy sy dank teenoor haar uit. Later het Cloete waarskynlik self gevoel dat sy resensie eensydig is, want in 'n opstel oor Periandros van Korinthe wat hy veel later - in Klasgids, IV:2, November 1968 - publiseer, konsentreer hy op die bou en die aard van die hoofkarakter en toon hy groot waardering vir dié aspekte van die drama. In sy bundel Kaneel van 1970 verbind hy sy twee beskouinge onder die titel ‘Onvoorspelbare handeling in 'n meer voorspelbare vers’. Die oorgrote meerderheid resensente van Periandros van Korinthe het dus besware gehad teen die verstekstuur en die vraag het ontstaan of 'n opvoering van die drama 'n sukses sou wees. Aanvanklik was Fred en Ria le Roux die enigste wat gesê het dat die vers wel gesê kan word en dat 'n produksie met die regte spelers 'n groot sukses kon wees. Die eerste opvoering van die stuk was vir die radio en is op 29 Oktober 1954 uitgesaai. Vir dié uitsending moes Opperman die teks verkort en vermeende ‘aanstootlikhede’ - onder meer die sirkulerende ‘oond’-beeld - weglaat.Ga naar eind118 Ken Swart was die regisseur en het 'n aantal prominente spelers gekry om aan die produksie deel te neem. Fred le Roux het die veeleisende rol van Periandros gespeel, Suzanne van Wyk dié van Melissa, Paul Malherbe dié van Kuupselos en Izak van Niekerk dié van Lukophroon, terwyl die rol van Hermionee deur Babs Laker, dié van Prokles deur M.P.O. Burgers en dié van Ganguloon deur Robert Mohr vertolk is. Vir die radioverwerking het Hubert du Plessis spesiaal musiek gekomponeer. Die uitsending het meer as voldoende die bewys gelewer dat die vers inderdaad gesê kan word. Veral Fred le Roux het uitmuntend daarin geslaag om met aksentverleggings die gevaar van rymdreun in die voordrag te vermy. Tog sou die grootste toets vir die drama 'n opvoering op die verhoog wees. Ongeveer gelyktydig met die verskyning van Periandros van Korinthe moes | |
[pagina 257]
| |
W.J. du P. Erlank na Pretoria gaan om as lid van die NTO-beheerraad oor die opvoering van 'n Afrikaanse stuk te help besluit. Op die vergadering pleit hy dat die beheerraad Opperman se stuk moet kies. Uit die meningswisseling oor die aangeleentheid was dit egter duidelik dat van die ander lede reeds op Theo Wassenaar se vertaling van Sophokles se Koning Oidipus besluit het, dat die vertaler reeds in die aangeleentheid geken is en dat die koeël derhalwe deur die kerk was. Eers veel later het Erlank te hore gekom dat André Huguenet, die literêre adviseur van die NTO en een van die mense wat die besluit moes neem, aan Opperman geskryf het om die alleenreg vir die opvoering van Periandros van Korinthe te verkry! In daardie stadium het Opperman egter reeds ander planne gehad. Hy het nie veel vertroue in André Huguenet as speler of regisseur gehad nie en wou baie graag hê dat sy vriende Fred en Ria le Roux die opvoering van die stuk moes onderneem. Le Roux was van mening dat hulle dit met die hulp van die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging (die KAT) in die Klein Teater van die Universiteit van Kaapstad kon doen. Opperman het reeds in daardie stadium 'n eksemplaar van Periandros van Korinthe aan prof. T.B. Davie, prinsipaal en vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad, gestuur. In 'n gesprek met prof. Donald Inskip, kontroleur van die Klein Teater, het Opperman gesê dat dit hom as dosent toekom om van die Universiteit se toneelgeriewe gebruik te maak, 'n standpunt wat Inskip volkome gesteun het. Hy was dan ook bereid om feitlik ‘carte blanche’ aan die opvoerders te gee. Vir die produksie sou Ria Olivier (le Roux) as regisseuse optree, terwyl Stephen de Villiers met die hulp van Gretel Mills die kostuums sou maak. Aanvanklik wou Ria vir Lydia Lindeque in die rol van Melissa hê, maar sy het nie haar weg oopgesien om gratis te speel nie en die NTO wou haar ook nie toelaat as sy geen betaling kry nie. Daarna het Ria vir Babs Laker genader. Sy wou dit graag doen, maar was in daardie stadium verwagtend en bang vir die val oor die koringkis aan die einde van die tweede toneel van die tweede bedryf. Hermien Dommisse en Suzanne van Wyk het albei hiervan te hore gekom en hard probeer om die rol te kry. Ter wille van die vrede het Ria egter besluit om self die karakter van Melissa te vertolk. Na weke se repetisie is Periandros van Korinthe van 21 tot 29 Mei 1955 in die Klein Teater opgevoer en op 31 Mei en 1 Junie 1955 na die Bothasaal op Stellenbosch geneem. In Kaapstad is die gordyn telkens tussen die tonele laat sak, omdat Fred le Roux in die rol van Periandros nie kans gesien het om die hele tyd op die verhoog te wees nie. Op Stellenbosch was die opvoering egter aaneenlopend. Vir die Kaapstadse opvoering is die verhoog in trappe verdeel en die dekor het 'n strak, feitlik ingetoë indruk gemaak. Die aksent tydens die produksie het op die sê geval, nie op uiterlike parafernalia en bykomstighede nie. Naas Fred en Ria le Roux in die rolle van Periandros en Melissa is die medewerking van 'n hele aantal beroeps- en amateurspelers vir die opvoering verkry. Lukophroon is ge- | |
[pagina 258]
| |
speel deur Paul Malherbe, Hermionee deur Helena Louw, Kuupselos deur Danie Marais, Arioon deur Gideon Horn, Anacharsis deur Hannes van der Merwe, Ganguloon deur Pieter Bredenkamp, Sappho deur Nerina Ferreira, Prokles deur Kobus van der Colff en Barakos deur Albertus Basson. Die vers het dan ook geleef en die kritiek van die letterkundiges oor die sêbaarheid van die drama ontsenu, iets waarop die toneelresensente gewys het. In Die Burger van 23 Mei 1955 sê L.W. Hiemstra dat die vraag voor die opvoering was of Periandros van Korinthe opgevoer sou kon word of slegs 'n leesdrama sou bly. Ná die radio-uitsending bring die verhoogproduksie ‘die skitterende bevestiging ...: die stuk is in die hoogste mate speelbaar, dit pak van die eerste woorde af en dit laat die gehoor nooit los nie, tot aan die magtige slot waar “die wildevark” sy eie spoorlose uitwissing van die aardbodem af reël.’ Met hierdie opvoering kom die Afrikaanse toneel volgens hom ‘op 'n peil wat dit nog selde indien ooit bereik het, waar verantwoorde vertolking gepaar word aan oorspronklike digterskap’. In The Argus van 23 Mei 1955 sê die kritikus M.G.: ‘Dr. Opperman's sonorous rhymed couplets seemed admirably fitted to the grim story of Periandros, the Corinthian ruler ruled by his own dark passions.’ Na die Stellenbosse opvoering sonder W.J. du P. Erlank in Eikestadnuus van 3 Junie 1955 Fred le Roux se spel uit vir spesiale vermelding: ‘Die volgehoue, stadigaan verdiepende tragiek, wat hy met 'n beheerste soberheid van gebaar dwarsdeur gedra het tot op daardie laaste afskeidsmoment, was 'n kragtoer wat mens nie maklik vergeet nie.’ Maar afgesien van die gepubliseerde resensies het Ria en Fred le Roux baie waardering van vriende en belangstellendes ontvang. Terwyl Canis Scholtz aanvanklik die mening toegedaan was dat die woorde nie gesê kan word nie, was hy na die opvoering verstom en het hy gevra: ‘Fred, hoe het jy dit reggekry?’Ga naar eind119 In 'n ongedateerde briefGa naar eind120 ná die bywoning van die première skryf Izak van der Merwe aan hulle: my hartlikste gelukwens met innige dank vir Melissa & Periandros & die res. Jy't pragtig gelyk, Ria, & nog pragtiger gespeel, en Fred, ons beider vriend Louis Hiemstra het reg geskryf in verlede Maandag se Burger: Jy't die rol van jou lewe gespeel. Julle het vir my soveel gegee - & ek is seker vir baie ander ook - waaraan ek nog jare lank sal dink & wat my meermale so saggies alleen-alleen sal laat praat: Dit was baie mooi...uitstekend...onvergeetlik. In sy waarderende, ongedateerde brief noem Erlank die skitterende ontplooiing van beeldhoukunstige groepe op die verhoog, met sy kulminasie telkemale in 'n aangrypende alleenstaan van die hooffiguur. Hierdie lynbeweging is, sonder uiterlike stilering, volgehou dwarsdeur die drama, sodat mens dit byna choreografies sou kan beskryf. Dit het meegebring dat ook die leë ruimtes van die verhoog psigologies gevul is met betekenis. | |
[pagina 259]
| |
In 'n brief van 1 Junie 1955, wat getuig van fyn aanvoeling en insig, sê Retha Theron: Vir my lê die wonder van die aand hierin: vir eenmaal is die ideale toestand bereik dat dramaturg, regisseuse en hoofspelers soveel liefde vir mekaar se saak gehad het en so opgegaan het in mekaar se belange dat die bes moontlike aangebied kon geword het. Julle twee het voorwaar die beste uit Periandros gehaal en alle kritiek wat 'n sweem van twyfel bevat het, die kop ingeslaan.... Baie het getwyfel oor die opvoerbaarheid van Periandros. (Ek glo nóg dat min volkome daarin sal slaag want 'n toegewydheid is essensieel.) Baie het saam met A.P. Grové gewonder of die ‘dialoog nie die illusie van die gewone spreektaal ontneem sal word as gevolg van die rym nie’. Dit was vir my een van die hoogtepunte van die aand om na daardie verse te luister wat soos vloeiende prosa absoluut gerol het uit julle monde. Dit was pragtig - en julle kom die lof toe. Ook Rykie van Reenen bring die kwessie van die rym ter sprake in 'n brief van 4 Junie 1955: As ek geweet het hoe om te beduie hoeveel ek dit geniet het, het ek al lankal geskryf. Dit was vir my 'n meevoerende en pragtige stuk toneel.... Mens het natuurlik eintlik uit nuuskierigheid gegaan, eenkant, om te sien of so 'n blikslaer soos Periandros geloofwaardig gemaak kan word; en om te gaan kyk hoe vaar dit met die rymery en die oondjie. Ek het nie verwag om so knop-keel te wees soos wat daardie laaste tonele mens gelaat het nie. Regtig, Fred, ek het altyd gedink ou Donald Wolfit in Tamburlaine is my toneel-‘tops’, maar jy as die ou man het my nog meer ontroer. Ek weet net nie hoe jy tussen die oefen deur nog met die eenhand Sarie-vervolgverhale ook kon gehanteer het nie! Ook Meyer de Villiers skryf in 'n ongedateerde brief dat die ‘skitterende voordrag’ baie van die kritiek op die vers ‘ontsenu’ het. Daaroor verheug hy hom, ‘want die kleinlike gepeuter oor die vers en die taal het baie mense verblind vir die geweld van die verhaal en die held’. En op 23 Mei 1955 skryf hy aan Opperman: Dit was een (van) die groot ondervindinge van my lewe. Ek voel so dankbaar dat ek jou nooit alles kan sê wat ek wil uitdruk nie.... Wat Van Wyk soms as 'n visioen gesien het van 'n hoë skoonheid, het Saterdagaand werklikheid geword: 'n Afrikaanse drama, die Afrikaanse taal as 'n openbaring van die grootheid en tragiek van die mens.... Fred het werklik pragtig gespeel en die hele span het saamgespeel. Nie mooi oomblikke en flikkeringe nie, maar vuur. Oor die sêbaarheid van die vers spreek Fred le Roux homself uit in 'n brief van 23 Junie 1955 aan W.E.G. Louw wat ook getwyfel het daaraan of 'n opvoering van die drama kan slaag. Hy sê: | |
[pagina 260]
| |
Sonder om ydel te wees, dink ek tog dat ek jou die ‘aleksandryne’ sou laat sluk het - afgesien nou daarvan of jy van my spel sou gehou het of nie.... dit is 'n spreekvers met gewone spraakaksente wat selde op die rymwoord val, maar - en dit was by die instudering vir my telkens weer by 'n ‘moeilike’ reël 'n openbaring - inderdaad op die woord wat dramaties die klem vereis. Al het die opvoering niks anders bereik nie, het dit m.i. bewys, soos baie mense wat erg skepties daarna kom kyk het ook geesdriftig daarna moes toegee, dat stuk en vers albei in die hoogste mate speel- en sê-baar is en 'n gehoor binne die eerste kwartier verower en meevoer tot aan die einde. Ria het, vir sover ek mag oordeel, werklik eer van die onderneming. En meer as ooit is ek oortuig daarvan dat die stuk 'n groot werk is, in die ware sin van die woord 'n nuwe begin van die drama in Afrikaans. Na afloop van die Kaapstadse speelvak betuig Opperman sy dank, waardering en toegeneentheid teenoor Ria le Roux in 'n treffende gebaar. Namens al die spelers oorhandig hy aan haar 'n ring en 'n kwatryn, wat hy spesiaal vir die geleentheid geskryf het, gevolg deur die handtekeninge van al die spelers met tussen hakies die rolle wat deur hulle vertolk is: Ria, ons spelers gee as 'n herinnering
aan jou as regisseuse hierdie ring.
Mag jy ons saamspeel in Periandros
sien binne dié ametis se warm fonkeling.
As die derde druk van Periandros van Korinthe in 1956 verskyn, dra Opperman dit op aan Fred le Roux. In 'n geskenkeksemplaar skryf hy: ‘Aan Ria en Fred wat my woord laat vlees word het - wat my woord geregverdig het.’ Afgesien van die Kaapse opvoering het Opperman ook van ander instansies en persone waardering vir Periandros van Korinthe ontvang. Reeds aan die einde van 1955 word hy bekroon met die Nasionale Pers se Hofmeyrprys vir Drama, 'n toekenning wat hy met 'n ‘digterlike dankie’ aanvaar: Menere,
Ek dank u vir die eerbewys
aan my deur die toekenning van die Hofmeyrprys,
want al sing ons digters dikwels teen die geld
open dit vir ons 'n aardse paradys.
(en daarmee ons brandewyn en ys!)
Verder word die drama bekroon met 'n spesiale prys van die Kaapse Drie-Eeue-Stigting ter waarde van £350. Van 17-19 Mei 1956 voer C.J.M. Nienaber dit in Pietermaritzburg (en later ook in Durban) op met John van Biljon as Periandros en Eelco Boonstra - seun van Opperman se Wetenskap-onderwyser op Vryheid - as die Segsman van die Matrose. Van 3-9 Oktober en van 11-13 Oktober 1956 voer die NTO die stuk onderskeidelik in die Tegniese | |
[pagina 261]
| |
Kollege-Teater in Johannesburg en die SATU-saal in Pretoria op. Opperman reis na Johannesburg om die première daarvan by te woon. Vir dié produksie, wat onder spelleiding van Anna Neethling-Pohl staan, speel Jan Schutte die rol van Periandros, die regisseuse die rol van Melissa, terwyl bekende spelers die ander karakters vertolk: Kuupselos (Jannie Gildenhuys), Lukophroon (Eghard van der Hoven), Hermionee (Iris Coertze), Prokles (Siegfried Mynhardt), Ganguloon (Pieter Geldenhuys), Arioon (Cobus Rossouw), Anacharsis (Kobus van Staden) en Barakos (Billy Pretorius). Anna Neethling-Pohl het te kampe met groot vyandigheid teen die opvoering, waarskynlik omdat 'n suidelike skrywer se werk vir 'n prestige-produksie in Transvaal gekies is. Reeds in Helikon, IV:19, Maart 1955 skryf S. Ignatius Mocke 'n negatiewe artikel oor Periandros van Korinthe. Tydens die opvoering spreek Dirk Richard kritiek uit in Die Vaderland. Vir hom is die hooffiguur te staties, die moord op Lukophroon nie gemotiveer nie en die ryme hinderlik. By dié besware sluit Rud. P. Visser in Die Transvaler aan, terwyl André Huguenet die stuk in Die Vaderland van 19 Oktober 1956 verdedig ‘as die eerste en enigste vrug van betekenis wat ons taalboord tot dusver opgelewer het’. In 'n brief van 15 Oktober 1956 bedank Opperman Anna Neethling-Pohl vir haar spel en regie. Sy het die gebreke van die stuk in deugde omskep en hy het onder die indruk gekom van die spel van Jan Schutte wat al die drade tot aan die einde vasgehou het. In 'n verdere brief van 17 November 1956 aan haar sê hy dat die Transvaalse opvoering heelwat van die Kaapse produksie verskil het. Die Transvalers, sê hy, ‘wou veral effek bereik deur dit groots en realisties aan te pak en nadruklik te speel’. Die Kaapse opvoering was vir hom ‘meer gestileerd’, die spel ‘meer ingetoë en 'n meer ontroerende geheel’, terwyl die Transvaalse ‘priestertoneel en die abdikasietoneel’ dié van die Kaap oortref het.Ga naar eind121 Hoewel die literêre ontvangs van Periandros van Korinthe plek-plek negatief was, het die radio-uitsending en die Kaapse opvoering vir Opperman meer as genoeg bevestiging gegee dat die paarrym as sodanig nie 'n beletsel by 'n produksie was nie, al kon hy sy tegniek in dié verband verder verfyn. Reeds op 23 April 1954, terwyl hy met die strookproewe van Periandros van Korinthe besig is, skryf hy aan Canis Scholtz in Amsterdam dat hy besig is met 'n tweede drama, maar dat hy as gevolg van sy ‘digterlike bygeloof’ om oor ‘koring op die land’ te swyg, nie verder daaroor wil uitwei nie. Vir hierdie tweede drama het Opperman aanvanklik verskeie ontwerpe gehad wat onder meer op die geskiedenis van Hertzog, die bewind van Savanarola en die wêreld van die diereryk en sprokie as boustof steun, terwyl hy ook met die gedagte gespeel het om die lewe van Boer, Brit en Bantoe (Die boek van die drie B's) in hierdie land in die epies-dramatiese briefvorm te verwerk. Hoewel W.A. van der Stel en sy bewind aan die Kaap al by herhaling as agtergrond vir romanskrywers en dramaturge gedien het, was hierdie omstrede figuur aan die begin van die blanke beskawing in Suid-Afrika uiteindelik tog vir hom die | |
[pagina 262]
| |
boeiendste moontlikheid. Daarby was daar groot ooreenkomste tussen Van der Stel en Periandros. Albei staan aan die ingang tot 'n nuwe periode in die beskawing, albei het 'n groot droom en ideaal, by albei is daar 'n inherente karakterswakheid wat tot grootdoenerigheid en vertoonsug lei en wat na 'n minderwaardigheidsgevoel oor hulle verlede teruggevoer kan word. Soos in die geval van Periandros is die geskiedskrywers ook verdeeld oor Van der Stel se belangrikheid as historiese figuur. In die loop van 1954 het Opperman Leo Fouché se uitgawe van Het Dagboek van Adam Tas en die ander belangrike werke oor W.A. van der Stel deurgewerk, aantekeninge in 'n klein notaboekie gemaak en stukkies dialoog begin neerskryf. Verdere aantekeninge is in eksamenboeke van die Universiteit van Kaapstad gemaak en daarna het die teks met potlood en ink gevolg. Van die getikte teks is daar by die manuskripafdeling in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek verskillende weergawes, sommige met veranderinge met potlood of ink aangebring. Terwyl hy aan die manuskrip gewerk het, is uitgrawings vir die fondamente van die nuwe Kaapstadse poskantoor gedoen en het een van die argitekte vir Opperman 'n muntstuk uit die tyd van Van der Stel gegee. In Februarie 1955 was die eerste weergawe van Vergelegen klaar en lees hy dit op 'n aand vir Fred en Ria le Roux in hulle Milnertonse huis voor. Die Le Rouxs was egter nie baie ingenome met die stuk nie. Vir hulle was wat Opperman geskryf het, totaal onopvoerbaar en geen volwaardige drama nie.Ga naar eind122 Nadat hy dit aanvanklik 'n ruk laat lê en ander werk afgehandel het, het hy weer sy volle aandag aan die drama gegee. Die hele omvang van Vergelegen is geweldig uitgebrei en die neiging tot distigering en geslotenheid vermy deurdat die karakters veel meer as in Periandros van Korinthe slegs die eerste lid van die paarrym uitspreek en met die klankoordrag na 'n volgende karakter 'n groter kontinuïteit en innerlike stuwing bereik. Verder het hy deeglik rekening gehou met Grové en ander se kritiek dat die karakters in Periandros van Korinthe almal dieselfde taal praat en doelbewus probeer om 'n sekere spraakvariasie te bereik. Tydens die hersiening kon hy ook baat by die Kaapse opvoering van Periandros van Korinthe en hinderlikhede wat hy tydens die produksie bespeur het, in sy nuwe drama uitskakel. As hy vroeg in 1956 die manuskrip aan Koos Human van Nasionale Boekhandel gee, skryf hy voorin: ‘Beste Koos, Hiermee Vergelegen. Mag jy dit spoedig naby geleë bring.’ Die Nasionale Boekhandel het vinnig aan die werk gespring en tydens die April-vakansie van 1956 kon Opperman die proewe nasien. Daarvoor is hy en sy gesin twee weke lank na Spatsels, die huis van Jack en Retha Theron op Onrus. Uit dankbaarheid vir die geleentheid om die werk daar te doen en terselfdertyd heerlik by die see vakansie te hou, skryf Opperman vir hulle 'n gedig, een van sy mees geslaagde geleentheidsverse. Die Therons laat 'n Kerskaartjie daarvan in Opperman se handskrif maak. Later het hulle die holograaf in koper laat uitgraveer en teen een van die sitkamermure | |
[pagina 263]
| |
opgehang. Die teks van die gedig, wat Opperman ‘Spatsels’ noem, lui as volg: Raak mens oorspanne deur die stad miskien,
by Onrus is 'n woning op die rots
waar jy deur groot glasruite sien
hoe golwe breek en spatsels uit jou klots.
Son, sand en see - daarna koel bekers bier,
kinders jaag mekaar of speel ping-pong.
Snags maanlig oor die rotse, skuim en wier,
en soggens soutlug diep in elke long.
Dan ná die stiltes word jy meer bewus
van 'n skoonheid wat oor alles huiwer,
en jy keer terug stad toe met jou onrus
deur die onrus van die see gesuiwer.
Op 21 September 1956 ontvang Opperman die eerste eksemplare van Vergelegen tydens 'n geselligheid in die Here XVII. Canis Scholtz was nog ongunstiger oor Vergelegen as oor Periandros van Korinthe en het dit onomwonde aan Opperman gesê. Ook Van Wyk Louw was negatief oor die drama, al het hy sy mening weens die beëindiging van hulle korrespondensie na Digters van Dertig nie regstreeks aan Opperman oorgedra nie. 'n Mens kan egter aanneem dat sy oordeel Opperman op die een of ander wyse sou bereik het. In 'n brief van 28 Julie 1957 skryf Van Wyk Louw aan sy broer: Ek het ook aan Rob my mening oor Vergelegen geskrywe; ek onthou dat jy indertyd gesê het dis nie onaardig nie en dat die verssoort & taalgebruik hier beter pas as by Periandros; ook weet ek dat Rob dit nie heeltemal misluk vind nie. En tóg moet ek sê: vir my is dit werklik niks, nog as poësie, nog as drama. Ek glo nie ek is bevooroordeel of jaloers nie. Ek waardeer Dirk se poësie te hoog; en in Peri. (met al my baie voorbehoude t.o.v. styl en heelwat plathede) vind ek tog genoeg om te waardeer. Maar hier in Vergel. niks! Truida en ek het dit saam hardop, tydsaam, geduldig, ál besprekend, deurgelees; en ek glo haar mening is ook: nog as toneel, nog as poësie! Dit kan 'n ‘blind spot’ in my wees; dit kan 'n E.C. Pienaaronvermoë wees om ook die nuwe e/d gans-andere te waardeer. Maar ‘there you have it’. Oor die algemeen was die gepubliseerde kritiek op Vergelegen gunstig, al het die meeste kommentators gevoel dat die kleiner statuur van die tragiese held en die beperkter wêreld van Vergelegen die drama aan die grootsheid van Periandros van Korinthe laat inboet. In sy bespreking in Die Burger van 30 November 1956 sê W.J. du P. Erlank dat W.A. van der Stel se afstroping in die slotbedryf minder aangrypend is as dié van Van der Heiden in die vierde bedryf. In | |
[pagina 264]
| |
Die Huisgenoot van 3 Desember 1956Ga naar eind123 waardeer A.P. Grové die verskeidenheid in die taalgebruik, ‘die raketspel van woord en weerwoord’ en die vers ‘waarin daar vir die ontroerendste gebed plek is sowel as vir die ligsinnigste kwinkslag’. Ook vir hom bereik Van der Stel nie die grootsheid van Van der Heiden nie, met die gevolg dat sy ondergang minder ontstellend aandoen. Rob Antonissen vind in sy beskouing in Standpunte, XI:3, Desember 1956-Januarie 1957Ga naar eind124 dat Opperman nou 'n beter beheer oor die dramavers het. Hy skryf: Woordomsettings slegs ter wille van een of ander rymposisie is nog meermale 'n storende verskynsel, soos ook die gebruik van partikels nog nie voldoende besnoei is nie. Maar oor die geheel is die dramatiese vers stukke beter as in Periandros. Danksy 'n korter, vinniger, aksentryker versvorm, meer wisselende caesurering en veelvuldiger enjambemente, is die distigon-aforistiek en die daarmee saamhangende oorbetoning van die rym grotendeels uitgeskakel, en word die toeskouer-leser meegevoer in 'n losser, lewendiger, meer gevarieerde dialooghandeling wat tewens ryker moontlikhede bied vir die individuele selfkarakterisering van die dramatis personae. Opperman wou natuurlik graag sien dat 'n opvoering van Vergelegen so gou moontlik moet plaasvind. Robert Mohr, in daardie stadium lektor in Drama aan die Universiteit van Stellenbosch, het in die regie belanggestel. Dit was egter 'n probleem om die groot aantal manlike spelers (teenoor die enkele vrou) in Kaapstad en Stellenbosch in die hande te kry. Hy het wel daarin geslaag om twee weke lank spellesings te hou, maar weens die tekort aan goeie spelers daarvan afgesien om met die produksie voort te gaan. In 'n stadium was Fred Engelen - toe nog in België woonagtig maar op gereelde besoeke aan Suid-Afrika - ook geïnteresseerd in 'n produksie, maar uiteindelik het hy gevoel dat die problematiek vir hom as buitelander te vreemd is om aan die drama reg te laat geskied. Voorlopig sou 'n opvoering van Vergelegen dus agterweë bly. | |
XTerwyl hy met die twee versdramas besig was, het Opperman ook aan gedigte gewerk. Kort ná die verskyning van Engel uit die klip in 1950 - en nog voordat hy met die werk aan Periandros van Korinthe begin - skryf hy die reeks ‘Kaapse draaie’ wat gedeeltelik in Standpunte, VI:2, Desember 1951 gepubliseer word. In die manuskrip is ook ‘Landskipper’ wat hy nie in die reeks opneem nie: Vanaf die rantjie sien hy geelstert streep
en op sy vlag en fluitjie gaan ons skeep;
hy swaai en vloek en let
| |
[pagina 265]
| |
hoe boepens span die net
wat brood en bottels uit die see uitsleep.
'n Jaar later, in Standpunte, VII:2, Desember 1952, verskyn ‘Kersliedjie’. Blykbaar het Opperman hierdie gedig lank voor publikasie voltooi maar dit eers agterweë gehou, al het hy dit betreklik vroeg reeds aan sy broer Koos gewys wat baie ingenome daarmee was. In Standpunte, VIII:1, September 1956 verskyn ‘Blom van die baaierd’, 'n gedig waaraan Opperman - te oordeel aan die baie variante - lank gewerk het. Vir dié gedig steun hy op 'n verhaal wat Fritz Steyn hom vertel het toe hy in 1945 aan die Helpmekaar Hoër Seunskool in Johannesburg verbonde was. As prokureur het Steyn kontak gehad met speurders van die diamantafdeling en van baie dramatiese voorvalle in verband met diamantsmokkel verneem, onder andere van 'n geestelike by die staatsdelwerye by Alexanderbaai wat uit hoofde van sy werk vryelik tot die afgekampte terrein toegelaat is. Een van sy vriende was finansieel nie goed daaraan toe nie, en deur onwettige diamanthandel het die geestelike persoonlik na dié man se welsyn omgesien en sy posisie só verbeter dat hy 'n behoorlike lewe kon voer. Die speurders van die diamanttak het hiervan te hore gekom en die begunstigde persoon as lokvink gebruik! In die proses is die geestelike deur die polisie doodgeskiet. Steyn - wat teen die valstrikmetode gekant was - het dit 'n interessante verhaal gevind, omdat dit die uiterste verwording van die mens treffend illustreer: iemand wat deur die geestelike se onwettige optrede bevoordeel is, maar tog bereid was om sy weldoener te verraai.Ga naar eind125 Vir Steyn was verraad die gruwelikste van alle misdade en meer as een keer in sy gesprekke met Opperman in dié jare het hy dié oortuiging uitgespreek. Terwyl misdade soos diefstal en moord vir hom meestal simplisties na 'n enkele motief herlei kon word, is verraad die toppunt van amoraliteit en immoraliteit. Opperman, wat juis in hierdie tyd met die skuldprobleem gepreokkupeer was en aan ‘Ballade van die grysland’ gewerk het, was baie geïnteresseerd in Steyn se verhaal en sy siening van verraad as iets gruweliks. Voor voltooiing van ‘Blom van die baaierd’ sou hy juis in die Jorik-figuur die verraaier voorstel as by uitstek dié figuur waarin die essensie van ons eie tyd beliggaam word en daarmee die eeue-oue kollektiewe simbool van Judas met 'n nuwe aktualiteit laai. Twee maande na die verskyning van ‘Blom van die baaierd’ publiseer Opperman in Die Huisgenoot van 27 November 1953 'n aantal ‘Jongste verse’: ‘Ringdans van die hamerkoppe’, ‘Naskrif’, ‘Ou vrouens van die markplein’, ‘Rooi oog’ en ‘Kitaarspeler’ uit ‘Kaapse draaie’ en ‘Draaiboek’. Vir ‘Draaiboek’ steun hy, soos vroeër met ‘Klara Majola’, op 'n berig uit Die Burger van 7 Oktober 1946Ga naar eind126 oor 'n seun wat selfmoord gepleeg het omdat hy as gevolg van sy donker vel 'n Kleurlingskool moes bywoon terwyl sy broers en susters almal by skole vir blankes was. Onder die manuskripmateriaal in die | |
[pagina 266]
| |
Stellenbosse Universiteitsbiblioteek is daar ook 'n gedrukte teks van ‘Ouddigter’ wat radikaal van die finale gedig in die bundel verskil. Dié teks is in dieselfde letter geset as die reeks ‘Jongste verse’ in Die Huisgenoot van 27 November 1953 en het dus waarskynlik deel daarvan uitgemaak. Dit het egter nooit verskyn nie en 'n mens moet derhalwe aanneem dat die gedrukte teks by die manuskripmateriaal as proef na Opperman gestuur is en dat hy dit voor publikasie teruggetrek het. In vergelyking met sy vroeëre bundels is dit opvallend dat veel minder gedigte uit Blom en baaierd voor die finale publikasie in tydskrifte verskyn. 'n Mens kan redelikerwys aanneem dat Van Wyk Louw se standpunt oor terughouding van verse sodat 'n bundel by sy verskyning 'n ‘fris’ indruk kan maak, ook vir Opperman 'n oorweging begin word het. Daarby is dit uit die manuskripmateriaal duidelik dat hy baie aan die gedigte in die bundel gewerk het en dat daar met verloop van jare soms radikale wysigings aangebring is. 'n Gedig wat in sy oorspronklike vorm heeltemal anders daar uitgesien het, is ‘Staking op die suikerplantasie’. In die afdeling ‘Sondvuur’ uit die eerste versie is die verband met die finale gedig as gevolg van die ingrypende veranderinge nouliks te herken. ‘Draaiboek’ is oorspronklik ‘Geregtelike ondersoek’ en later ‘Dambord’ genoem, terwyl ‘Kersliedjie’ se titel aanvanklik ‘Kruisster’ en later ‘Stille wag’ was en heelwat veranderinge ondergaan het. Naas die reeks ‘Kaapse draaie’ het Opperman oorspronklik ook 'n reeks kwatryne met die titel ‘Suur druiwe’ oorweeg waarin hy persone en gebruike hekel. Omdat hulle nie in die bundelgeheel sou inpas nie, het hy die reeks weggelaat, maar enkeles van hulle later op pp. 16, 34, 36 en 37 van Kuns-mis opgeneem. 'n Kwatryn uit dié reeks wat hy nooit publiseer nie, is ‘Druiwefees’: Ek het nie in Sy wingerd mis gestrooi
of kluite na die witborskraai gegooi
maar toe die trosse Februarie swaarsoet hang
het Hy my na Sy/die wingerd uitgenooi.
By die reeks ‘Bewakers’, oorspronklik ‘Kaartjies’ genoem, is daar sowel in die holograaf as die tikskrif die kwatryn ‘Van Wyk Louw by sy vertrek na Europa’ wat Opperman nie in die bundel insluit nie: Wanneer jy vlieënd van dié land vertrek,
los dit soos 'n voël in vlug sy drek;
maar weet selfs op 'n ghwano-eiland
vul geen voël 'n ander voël se plek.
In die oorspronklike versie van ‘Nagwag’, wat ‘Konka’ heet, speel Opperman aanvanklik met Jan F.E. Celliers se ‘Eensaamheid’ as verwysende teks, 'n gegewe waaruit 'n mens kan aflei dat Grové waarskynlik vir sy artikel | |
[pagina 267]
| |
‘Maaier en ster in Opperman se “Nagwag”-gedig’Ga naar eind127 waarin Celliers se gedig ook ter sprake kom, inligting van die digter gekry het. Na die eerste voorstadia volg die gedig ‘Beseerde nagwag’ waaruit die finale teks uiteindelik groei. Na ‘Nagwag’ volg in die manuskripboek 'n reeks van tien kwatryne (‘Afrika’, ‘Vierendeel’, ‘Suid-Afrika’, ‘Toeris’, ‘Krisis’, ‘Doringpleister’, ‘Vakansie’, ‘Skyn’, ‘Hoe kan ek ooit...’ en ‘Raaisel’) wat hy ook nie in die bundel opneem nie, maar waarvan enkele beelde later in sy bundel Dolosse sal verskyn. Van ‘Kroniek van Kristien’ is gedigte soos ‘Klippe’ en ‘Boom’ die verre voorstadia.Ga naar eind128 Die siklus ontwikkel deur 'n langsame proses van variante tot die uiteindelike voltooide produk. Oorspronklik het Opperman oorweeg om drie ‘dagboek’-gedigte (‘Van 'n Trekker’, ‘Van 'n Kleurling’ en ‘Van 'n Naturel’) te skryf. Al drie is in 'n gevorderde staat, maar uiteindelik het Opperman net ‘Clat boek’ - gebaseer op Trigardt se dagboek - in die bundel opgeneem. Van die ongepubliseerde gedigte is ‘Rooi kransies’, ‘Spookure’, ‘Vakansieganger en haai’, ‘Nat straat’, ‘Dronk man en hond’ en ‘Vissersvrou, Stilbaai’ in mindere of meerdere mate afgewerk; van die laaste drie is die tekste in getikte vorm. Blom en baaierd verskyn einde Mei 1956 in 'n eerste oplaag van 1 300 eksemplare en word in dieselfde jaar met die Hofmeyrprys bekroon. Die eerste resensie van die bundel is dié van Ernst Lindenberg wat in Die Burger van 28 Mei 1956 verskyn, die eerste omvangryke bespreking wat dié kritikus ná sy vroeë stuk oor Joernaal van Jorik aan 'n Opperman-bundel wy. Lindenberg wys op die polêre spanning in die titel van die bundel en staan dan stil by die drie epiese gedigte van groter omvang. Wat die korter gedigte betref, waardeer hy die ‘suggestiewe notisie-styl’ van ‘Clat boek’, die ‘visioenêre grootsheid’ van ‘Nagwag’ en die wyse waarop een basiese beeld in al sy vertakkinge in ‘Paddas’ uitgewerk word. Hy loof ten slotte die verskeidenheid van motiewe in hierdie ‘ryke’ bundel waarvan die verskyning ‘ongetwyfeld 'n belangrike gebeurtenis in die Afrikaanse poësie’ is. In Die Huisgenoot van 11 Junie 1956Ga naar eind129 wys Ernst van Heerden daarop dat Opperman in hierdie bundel die resultaat gee ‘van 'n jarelange meelewe met en bepeinsing van ons volksprobleme en dat die digter as gewete van sy volk hier dringender en roerender as ooit tot ons spreek’. Terwyl hy in Joernaal van Jorik die geskiedenis van die Afrikaner in Suid-Afrika ‘teen die mosaïek van 'n ganse verlede en hede in ons volkswording’ geprojekteer het, kom daar in Blom en baaierd ‘swaarder, somberder instrumente in die orkestrasie by’: die ‘swart mens van Afrika, in sy opbruisende nasionalisme, gooi sy donker skaduwee oor menige bladsye van hierdie boek’. Teen hierdie agtergrond bespreek Van Heerden dan ‘Staking op die suikerplantasie’ en die aantal kort gedigte wat daarop volg. In die analise van ‘Nagwag’ wys hy daarop dat die rassespanning nou nie meer ‘in terme van blanke teenoor nie-blanke gesien (word) nie’ en dat daar 'n ‘opvallende verskuiwing na die algemeen-mens- | |
[pagina 268]
| |
like’ intree. In ‘Kaapse draaie’ is dit feitlik ‘speelse vingeroefeninge’ vir die digter se ‘rymlus en virtuose taalbeheer’. ‘Bewakers’ word 'n reeks kwatryne oor ‘stryders teen die chaos’, terwyl ‘Opperman se bekende tegniek van die deureenskuiwing van tydsvlakke, met simboliese en feite-inhoude onontwarbaar verstrengel’, treffend neerslag vind in ‘Kroniek van Kristien’, 'n reeks waarin ‘ras en kleur...met godsdiens en menslike hartstog’ vermeng word. ‘Blom van die baaierd’ vind Van Heerden die ‘logiese voortsetting van die Jorik-rigting’ in Opperman se werk: die wêreld na die sondeval en die hunkering na 'n verlore paradys. Hy sluit af: Soos by geen ander digter in Afrikaans nie, skryf...(Opperman) ‘vanselfsprekende’ poësie, wat beteken dat die nugterste, elementêrste woord, ding of situasie poëtiese gloed kry as hy die fosfor van sy vinger daaroor stryk. Die ‘aardse’ element wat so 'n opvallende kenmerk van sy heel eerste bundel was het hier dieper en voller geword, maar miskien is dit ook nou intiemer en vaster verbind met die ‘hemelse’. Die digtertaak om die engel uit die klip los te kap, het ruimer geword, het die magtige kompleksiteit van ons veelledige rasseprobleem ingesluit, om óók hieruit die Godsbegrip te ‘verlos’. Maar 'n ‘oplossing’ bied hy nie aan nie, miskien die suggestie van vele oplossinge, en veral 'n ondersoek van eie hart. Ewe hoë lof kry Opperman van Rob Antonissen in sy bespreking in Standpunte, XI:3, Desember 1956-Januarie 1957.Ga naar eind130 Antonissen wys daarop dat 'n mens Opperman se digkuns paradoksaal kan karakteriseer as ‘'n volkome aan die aktualiteit onttoë aktualiteitspoësie’. Alhoewel die Suid-Afrikaanse aktualiteit wel deeglik in sy werk aanwesig is, swaai hy telkens weg van regstreekse aktualiteitspoësie deurdat sy verse op meer as een ‘vlak’ beweeg. Die slot van sy vorige bundel, waarin daar sprake was van die ‘wit en bruin en swart foelie’, vorm die sleutel tot die kleurvraagstuk wat in Blom en baaierd ter sprake kom. Dit beteken nie dat Opperman 'n ‘boodskap’ bring nie. Wat hy gee, is ‘'n eindelose diversiteit van verskynsels’, 'n voortdurende ‘“onteiening” van die Self, om duisend ander gestaltes te word, deur duisend ander gestaltes in besit geneem te word’. Die eerste gedeelte van die bundel ‘staan primêr in die teken van die Suid-Afrikaanse “kleur”-aktualiteit’. In die middel van die bundel staan ‘Oud-digter’ waarin die ‘kleur’-tematiek van die eerste deel verbind word met die tweede, ‘waar poëties-mistieke motiewe so 'n belangrike aandeel het in die belewing van die spanning “blom-baaierd”’. Die inleiding hiertoe is die reeks ‘Bewakers’, maar dit bereik sy hoogtepunt in die ‘selfonteiening’ in die ‘Kroniek van Kristien’-siklus: ‘Kristien se bereidskap om elke ding te wórd is juis dit wat Opperman as allereerste en -noodsaaklikste bereidskap van die digter beskou.’ Opperman se idees oor die boosheid en goddelikheid van die kuns vind ‘die volledigste verdigting’ in ‘Blom van die baaierd’. Die digter bly in homself verdeeld. As hy sy saak as mens verloor het, | |
[pagina 269]
| |
sien hy nog steeds die wisseling van plek en spelers en die herhaling van die ‘spel’. Antonissen kom aan die einde tot die slotsom dat Blom en baaierd, hoewel dit nie 'n enkele gedig bevat wat so hewig ontroer as ‘Gebed om die gebeente’ nie, Opperman se grootste werk is. Hy sê: As bundel, as sinvolle, tegelyk panoramiese en perspektiwiese ‘gebou’ van talryke uitmuntende kort gedigte én van 'n aantal langer poëmata wat ewesovele beknopter ‘Joernale’ is, is Blom en baaierd beslis sy gróótste bundel tot dusver; en 'n bundel wat dieper as een van die voriges na die gewete tas. A.P. Grové lewer nie 'n resensie oor die bundel nie, maar in die eerste uitgawe van sy bundel Oordeel en vooroordeel van 1958 neem hy 'n uitvoerige bespreking daaroor op. Hoewel die bundel oënskynlik na 'n stilstand in Opperman se werk lyk, is dit ‘in breedte en diepte 'n groot vooruitgang op die digter se vroeëre werk’. Dit sien Grové in die groot verskeidenheid strofevorme en rymskemas, die verder gevoerde eksperiment met die gewone woord en die klanksuggestie. Alhoewel daar hier van 'n tematiese verruiming sprake is en Opperman hom met aktuele sake besig hou, streef hy daarna ‘om die aktualiteit in sy essensiële gedaante...op te teken’ sodat digter wees in laaste instansie die hooftema is: ‘...die herskepper wat die hele mankolieke wêreld wil dwing om onophoudelik uit te reik na die volmaakte wat God is’. Aan die hand van die slotgedig ‘Paddas’ bereik hierdie ‘herskeppingsfunksie’ van die digter 'n hoogtepunt. Dit laat by ons die vermoede van 'n hele skepping wat tot verlossing gedwing word. Daar is sprake van ‘berg en ster’ wat vanuit die slym opgeroep word, en die lied wat klein en aarselend begin, groei met die eeue tot 'n magtige loflied op God. Wat al vier resensente van Blom en baaierd implisiet of eksplisiet aandui, is dat Opperman met hierdie bundel 'n hoogtepunt in sy gepubliseerde werk tot 1956 bereik, 'n hoogtepunt wat ook uit die indringende aard en gehalte van die kritiek blyk. 'n Mens kan trouens die uitspraak maak dat Van Heerden, Antonissen en Grové se beskouinge oor die bundel hoogtepunte in die Oppermankritiek tot 1956 verteenwoordig: Van Heerden deur die poëtiese sfeer en fyn aanvoeling, Antonissen deur die konstruktiewe opset en analise van die bundel as geheel, en Grové deur die aanduiding van bepaalde lyne en die konsentrasie op spesifieke gedigte. In die jare ná die verskyning van Blom en baaierd sal kritici soos Grové, Merwe Scholtz, Lindenberg, Cloete, C.J.M. Nienaber en M. Nienaber-Luitingh hulle studie van die bundel voortsit en oor spesifieke gedigte of bepaalde aspekte belangwekkende opstelle skryf. Die morele besware wat by herhaling sedert sy debuut oor werke van Opperman uitgespreek is, word na die verskyning van Blom en baaierd weer geopper. In Tydskrif vir Letterkunde, VII:1, Maart 1957 sien D.F. Malherbe strofe 10 | |
[pagina 270]
| |
van ‘Nagwag’ as ‘geloofsondermynend’ en ‘'n degradering van die sterrehemel’, en stel hy sy eie woorde in Spel van blank en swart daarteenoor ‘om te wys hoe die Gees van die lig vir die Gees van die nag bedui wat die regte houding van die Groot Gees is’. Hy bring die reël ‘wit maaiers aan die lies en pens’ in verband met Peter Blum se vertaling van ‘'n Kadawer’ van Baudelaire waarin daar van 'n verwante beeld gebruik gemaak word. Dit laat hom die vraag stel: ‘Moet daar nou 'n soort maaierkultus ontstaan? Met sulke dinge is ons verskuns aan verval.’ Op hierdie beskouing reageer Grové in Standpunte, XII:4, April 1959 (opgeneem in Fyn net van die woord, 1965) met 'n voortreflike analise van die ‘Nagwag’-gedig. Teen die gedig ‘Kersliedjie’ word vroeg in 1958 in Die Transvaler en Die Huisgenoot 'n polemiek gevoer waarin Opperman bestook word met terme soos ‘Godslasterlik’, ‘skokkend’, ‘spot’ en ‘vulgêr’ en waar veral teen die frase ‘God se klong’ beswaar gemaak word.Ga naar eind131 In 'n reeks radiopraatjies wat hy vroeg in die sestigerjare lewer, kom Van Wyk Louw op die hele aangeleentheid terug en verdedig hy die gedig en Opperman se woordgebruik. | |
XIMet die publikasie van Blom en baaierd en Vergelegen in 1956 bereik Opperman se skeppingsvaart van die vyftigerjare 'n hoogtepunt maar ook 'n voorlopige eindpunt. 'n Mens het feitlik die gevoel dat hy met sy twee versdramas, twee digbundels, proefskrif, kritiese opstelle, bloemlesings en redigering van Standpunte 'n uitbarstende vulkaan was wat nie gekeer kon word nie. Dit was 'n roekelose drif waaraan hy vryelik uiting gegee het. En tog was die vreugde van die skeppingsvaart nie sonder gevaartekens nie. Uit sy skeppende werk in hierdie jare word 'n mens daarvan bewus dat die politieke woelinge van die tyd - soos die reeks wette wat die herstrukturering van die rasse- en sosiale verhoudings in die land as doel gehad het, veral die plasing van die Kleurlinge op 'n aparte kieserslys - vir hom as denkende Afrikaner bekommernisse besorg het. Toenemend het die allesoorheersende en usurperende lojaliteit teenoor die kuns in botsing gekom met sy lojaliteit as Afrikaner en die verpligtinge wat hy as verantwoordelike burger binne die maatskappy vir sy rekening aanvaar het. Aan die ander kant het die anti-Afrikaanse gesindheid by die Universiteit van Kaapstad hom voortdurend bewus gehou van sy Afrikaneridentiteit. Daarnaas was daar ook die ontevredenheid met sy posisie as dosent vir oorwegend Engelstalige studente en die groeiende spanning tussen hom en Canis Scholtz. Terwyl hy, soos Periandros en W.A. van der Stel, vir sy doseerwerk, sy eie menswees en uiteindelik ook vir sy kuns en volk, 'n ‘grootse droom’ gehad het, was daar allerlei faktore wat die verwesenliking van sy ideale aangetas of probeer verydel het. ‘Hoe klein/en vals die | |
[pagina 271]
| |
wêreld wat ek daeliks moet duld’,Ga naar eind132 Van der Stel se woorde aan sy vrou, is ook tekenend van die situasie waarin Opperman hom bevind het. Sy reaksie op al hierdie inwerkende spanninge was 'n neiging tot onttrekking van probleme, 'n sinisme en 'n toevlug tot die euforie wat alkohol kon bied. Te midde van die geweldige produktiwiteit en oorgawe aan sy kuns was daar 'n ander bekommernis wat - paradoksaal soos dit mag klink - alle ander probleme oorheers en in die niet laat verdwyn het. Dit was die vrees vir stagnasie en 'n vroeë poëtiese dood. Reeds in 1953 skryf hy in ‘Kuns is boos!’ dat die kunstenaar voortdurend ‘aaslustig’ nuwe ondervindings ter wille van sy kuns opdoen, want ‘as daar een ding is wat die kunstenaar vrees, is dit die digterlike woestyndood, die Kalahari wit papier’.Ga naar eind133 Hierdie woorde kom beeldend terug in die gedig ‘Oud-digter’ wat Opperman in die belangrike sentrale posisie van Blom en baaierd plaas: die digter wat sy vermoë ‘'n rukkie net verloor’ het, ‘intussen van die enkel reël’ leef, in plaas van vure net winde kan wek en uiteindelik slegs opgeefsels oor sy ‘wit papier’ gewaar. Die digter is egter - soos hy dit in ‘Kitaarspeler’ stel - iemand wat ‘alles (sal) doen en selfs verraai/ net dat 'n nuwe deuntjie in (hom) draai’.Ga naar eind134 Daarom is die ouer wordende kunstenaar soos Periandros ‘radeloos gevange in 'n soek na prikkels/ dat (hy) as digter...verder kan ontwikkel’.Ga naar eind135 Die gevoel het by Opperman begin posvat dat hy ten spyte van die geweldige produksie 'n sekere plato bereik het. Hy moes ten alle koste nuwe dinge ervaar wat sy kuns kon voed. In hierdie situasie waarin hy homself bevind het, was daar iets nuuts waarna hy jare lank reeds reikhalsend uitgesien het. Dit was die moontlikheid van 'n uitgebreide Europese reis en verblyf wat nou binne sig was. Die verryking en verruiming wat so 'n ervaring aan hom as mens sou kon bied, sou terselfdertyd - so het hy gemeen - in sy kuns neerslag vind. |
|