D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 79]
| |
Hoofstuk 4
| |
[pagina 80]
| |
van liggaamlike geweld die man 'n behoorlike opstopper gegee. Soms was die gespanne politieke verhoudinge 'n vonk vir Opperman se bekende geestigheid. Op 'n middag, terwyl Jan Stander en Opperman op die trappies voor die skool aan die gesels was, kom 'n kollega verby oor wie se lojaliteit aan die Afrikanersaak daar bedenkinge was. Die kollega stap verby met 'n eksemplaar van Die Burger onder sy arm, 'n koerant waarop hy ingeteken was. Met 'n vonkel in sy oog merk Opperman teenoor Stander op: ‘Ja, daar loop hy nou met Die Burger onder sy arm, maar met die Cape Times in sy hart!’ Van die begin van sy dienstermyn aan die Voortrekkerskool het Opperman sy pligte met geesdrif uitgevoer en soos die meeste ander onderwysers 'n daadwerklike bydrae gelewer in die stryd vir Afrikaans en die Afrikaner. Aanvanklik was daar nie werk vir hom in die sekondêre afdeling nie en Stander het hom gevra om die standerd III-klas te neem. Opperman het later - by sy afskeid van die skool vyf en 'n half jaar daarna - gesê dat sy werk met die kleintjies hom ná die hoë vlug van sy M.A.-studie teruggebring het aarde toe. Van 1941 af is hy egter oorgeskuif na die hoër klasse en het hy Geskiedenis en veral Afrikaans gedoseer, terwyl hy ook vir Engels by sommige gevorderde groepe en 'n kort tydjie vir Rekenkunde by standerd VII verantwoordelik was. Opperman was 'n goeie onderwyser. Hy het nie 'n streng voorkoms gehad nie, maar met sy erns, doelgerigtheid, sterk persoonlikheid en flinke aanbieding van die stof kon hy dissipline handhaaf sonder om te dreig. Hoewel hy sy leerlinge hard laat werk het, was dit vir hulle ondenkbaar om sy werk af te skeep en die begaafdes het hulle met geesdrif en oorgawe aan die studie van Afrikaans gewy. Hy het hom nie tot die leerplan beperk nie en soms nuwe werk uit tydskrifte met hulle bespreek, soos byvoorbeeld ‘Renboot’ van N.P. van Wyk Louw wat in Die Huisgenoot van 13 Desember 1940 gepubliseer is. Vrydagmiddae, wanneer dit dikwels baie warm in Pietermaritzburg was, met die skoliere moeg na die week se werk, het hy sy lesure gebruik om buite die sillabus oor die letterkunde te gesels. Deur sy vertelling heen het hy soms toneel gespeel, en só oortuigend was hy dat 'n mens in die klas 'n speld kon hoor val. Die gevolg van sy doseerwerk was dat daar 'n herlewing in die senior klasse se belangstelling in letterkunde ontstaan het. Die leeslus by die skoliere was duidelik uit die groter aantal boeke wat uit die skoolbiblioteek geneem is en die verbetering in die resultate in die eindeksamen. Terwyl 'n A-predikaat vroeër seldsaam was, het dit gebeur dat die skool ná die aanstelling van Opperman 'n hele paar A's in Afrikaans op 'n slag ingeoes het. Volgens die getuienis van sy broer Koos, wat na die dood van vader Opperman in 1943 in Pietermaritzburg skoolgegaan het, was dit 'n besondere voorreg om Afrikaans by Opperman te neem. Alhoewel hy 'n gevoelige persoon was met 'n element van skroomvalligheid in sy verhouding tot ander mense, het hy sy kennis graag gegee en sy leerlinge aangemoedig en geïnspireer. Uit hierdie jare dateer ook die waarneming van baie van sy vriende dat Dirk Opperman hom met die volle oorgawe | |
[pagina 81]
| |
van sy hele persoonlikheid vir 'n ander se standpunt kon oopstel. Elke mens en kind was iets besonders in sy oë. Só intens was sy belangstelling in sy leerlinge dat hy hulle soms selfs afgeluister het! Later sou Denise Ferreira, een van sy oud-leerlinge, getuig dat Opperman ‘die bepalende belewenis in (haar) akademiese lewe’ was: die ‘atmosfeer in sy lesse was altyd sodanig dat 'n mens kon aanvoel dat iets aan die gebeur was’.Ga naar eind2 Sy herinner haar hoe hy op 'n oggend tydens 'n lesuur by herhaling uitgekyk het in die rigting van Clarendon waar bandiete by die steengroef besig was om die berg al kleiner te ‘kerf’. ‘Min wis ons toe,’ skryf sy, ‘dat “Sarkofaag”...daar in ons teenwoordigheid aan die uitkristalliseer was’,Ga naar eind3 'n gedig wat hy in Heilige beeste opneem. Afgesien van doseer- en nasienwerk het Opperman hom verder geïnteresseer in die buitemuurse aktiwiteite van die leerlinge. 'n Tyd lank het hy opgetree as breier van een van die rugbyspanne en sy span was altyd bekend vir die gesonde spangees onder die deelnemers. Verder was hy behulpsaam met die afrigting van atletiek en skyfskiet. Voor sy troue het hy in die skoolkoshuis ingewoon en daar die gewone koshuispligte behartig, terwyl hy dikwels smiddae in die houtwerkkamer gehelp het om skoolbanke te maak en só die tekort aan die nodige meubels te help verlig. Maar dit is veral die kulturele bedrywighede van die skool wat hom besonder geïnteresseer het. Die Voortrekkerskool het saam met baie ander skole meegeding om die Doliffe-beker vir welsprekendheid, en Opperman was medeverantwoordelik vir die afrigting van die leerlinge wat juis in hierdie jare besondere sukses behaal het. Om die verhoogde belangstelling in Afrikaanse boeke by sy leerlinge te bevredig, het hy - later saam met sy toekomstige vrou - baie ure daaraan bestee om die skoolbiblioteek in orde te kry en uit te bou. Verder het hy gehelp met die toneelvereniging en die C.J.V., terwyl hy in 'n breër verband die Saamwerk-Unie van Natalse Kultuurverenigings behulpsaam was as voorsitter van die kunswedstryd-kommissie. Van 1940 tot 1944 was hy hoofredakteur van die skooljaarblad wat in hierdie jare getik, afgerol en met krammetjies aanmekaar gebind is, alhoewel die omslag en advertensies binne-in soms geset is. In die jaarblad het Opperman besonder belanggestel, want met dié publikasie is sy leerlinge met skeppende talent die geleentheid gegee om iets van hulself in gedrukte vorm te sien verskyn. Van die begin van sy termyn as onderwyser was hy intens geïnteresseerd in die skeppende werk van sy leerlinge. Skoliere soos Willem Boonzaaier,Ga naar eind4 Stefanie Malan en J. Bothma het hy sover gekry om te skryf, mekaar se werk te bespreek en hulle stukke vir die jaarblad voor te lê. Van Bothma verskyn in 1941 'n opstel oor Raka en die jaar daarna, toe hy in Matriek was, 'n stuk oor Dostojewski. Hierdie belangstelling in en aanmoediging van leerlinge wat in skeppende werk belangstel, was die verre voorloper vir Opperman se instelling van 'n Letterkundige Laboratorium waarin hy studente aan die Universiteit van Stellenbosch behulpsaam sou wees met hulle kreatiewe pogings. 'n Opvallende eienskap van hom wat in hierdie | |
[pagina 82]
| |
jare na vore kom, is sy aanmoediging van ander en sy vreugde as iemand sukses behaal. Veral as sy leerlinge skeppende werk met belofte in die jaarblad gepubliseer het, was hy intens tevrede en opgewonde. Met die lede van die personeel, wat in hierdie jare uit twee en veertig leerkragte bestaan het, was sy verhouding besonder goed. Hy was 'n sjarmante sosiale mens, en met sy humoristiese opmerkings het die geselskap in die teekamer of tydens gesellighede in die aand dikwels om hom gesentreer. Afgesien van Jan Stander, die hoof, het die personeel onder andere bestaan uit P.K. le Roux (Duits), Theo Bresler (Landbou), Jan du Plessis (Wiskunde), J.A. du Plessis (Geskiedenis), Frans Zwiegers (Wiskunde en Natuur- en Skeikunde) en Marié van Reenen wat van 1941 af in die hoër klasse Rekenkunde gedoseer het. Sy skool- en vroeë universiteitsvriendin Gertjie van Rooyen was by die laer standerds betrokke. Die kursusse in Engels is behartig deur mejj. C. Hayter en W.N. Reid, terwyl A.F. Vosloo en Opperman se skool- en studentevriend Philip Nel saam met hom Afrikaans gedoseer het. Volgens die getuienis van A.F. Vosloo het Opperman daarvan gehou om in 'n gesprek altyd eers die ander persoon se mening uit te lok. As jy hom 'n vraag oor 'n bepaalde aangeleentheid gevra het, was sy eerste reaksie: ‘Wat is jou opinie?’ Eers as hy jou standpunt verneem het, was hy bereid om met sy knap en vinnige intellek sy eie siening van 'n saak helder en oortuigend te motiveer. Alhoewel daar geen twyfel oor sy lojaliteite was nie, het Opperman hom selde oor politieke aangeleenthede uitgelaat. Slegs by een geleentheid in die veertigerjare het hy saam met dr. Karl Bremer, later Minister van Gesondheid in die Malan-kabinet, by 'n Geloftedagviering by Makwassie opgetree. In later jare het hy meermale gesê dat hy verkies om sy bydrae tot die Afrikanersaak deur middel van sy skeppende werk eerder as deur openbare optrede te maak, al kon die feit dat hy nooit 'n vlot spreker was nie, by hierdie keuse 'n rol gespeel het. Reeds in die Natalse jare het hy soms aarselend, met 'n soort staccato-ritme en sprongsgewyse gepraat, dikwels sy sinne onvoltooid gelaat en die indruk geskep dat hy baie vinniger dink as wat hy kon formuleer. Geleenthede soos tradisionele volksfeeste het hom dus nie geïnteresseer nie, want deur sy skeppende werk kon hy veel beter sy nasionale psige bevredig én terselfdertyd deurdring tot die universele mens. Tog was hy groepsgebonde en het hy intens meegelewe met die stryd van die Afrikaner in Natal. Toe hy dan ook ongeveer 'n jaar nadat hy tot die personeel van die Voortrekkerskool toegetree het, uitgenooi is om by die Afrikaner-Broederbond aan te sluit, het hy nie een oomblik geaarsel nie. In die oorwegend Engelstalige Natal, waar Afrikaans en die Afrikaner soms gruwelik veronreg en verneder is, kon hy deur sy lidmaatskap van dié organisasie 'n bydrae tot 'n beter bedeling vir sy mense lewer. Met die ingebruikneming van die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek op 29 Oktober 1944 gee hy - wat in hierdie jare geen gereelde kerkganger meer was nie - in die Boomstraatse Ned. Geref. Kerk in Pietermaritzburg 'n lesing | |
[pagina 83]
| |
waarin hy veral oor die letterkundige gehalte van die psalms uitwei. In sy rede gee hy 'n historiese oriëntering ten opsigte van die oorspronklike psalms en die Nederlandse beryming om dan by Totius se besondere bydrae in die lig hiervan te kom. Terwyl ander sprekers by so 'n ingebruikneming die waarde van die beryming eensydig sou opgehemel en in die waan sou verkeer het dat hulle met retoriese frases ‘volksdiens’ verrig, sien Opperman dit as sy taak om die geleentheid te gebruik vir 'n deeglike historiese en literêre verkenning van die psalms en om deur sy vakkennis aan sy gehoor iets wesenliks omtrent Totius se werk oor te dra. 'n Besondere bydrae tot ‘volksdiens’ in die kleiner kring waarin hy gewerk het, lewer Opperman in 1944 as hy 'n skoollied vir Voortrekker skryf. In die Desember-Januarie-vakansie van 1943-1944 was hy en sy vrou by Umhlanga Rocks. Terwyl hy op 'n oggend op die strand was, het hy die sand gelyk gemaak en enkele reëls van die lied met 'n stokkie uitgekrap en die res in sy hotelkamer geskryf. Terug in Pietermaritzburg het hy Attie Badenhorst, private musiekonderwyser, gevra om die woorde te toonset. 'n Aantal dogters is in verskillende stemme afgerig en op 'n dag in Maart 1944 het Opperman vir Stander en 'n paar ander onderwysers genooi om na die kerksaal in Boomstraat te kom. Die koor sing toe die skoollied waarin die visdammetjie in die vorm van 'n Voortrekkerwawiel - wat in dieselfde jaar in die binneplein van die skool gebou is - as tema verskyn. Dit was vir Stander 'n oomblik van verrassing en ontroering, en om hom tyd te gee om te herstel, moes die koor dit nog 'n keer sing:Ga naar eind5 Ons kom van Bloukrans, Weenen, Bloedrivier,
Vanuit die stad en vlaktes alom hier.
Ons sluit uit alle oorde in een siel,
Soos in 'n naaf die speke van 'n wiel.
Refrein
Op Voortrekker leer ons een slagspreuk ken:
Aanhou wen, aanhou wen, aanhou wen!
In al ons spanne speel die lede saam
En oor Natal klink Voortrekker se naam;
Ons weet wie ywerig is met leer en sport
Sorg dat sy volk ook groter, sterker word.
Ons sal soos vad're Voortrekkers wees
Oor hooglande en dale van die gees,
Geen drif vir ons te diep, geen berg te steil
Want vir ons skool en volk het ons alles veil.
Vir elke daad waar U ons kragte verg,
Laat ons - soos 'n Retief op Drakensberg -
| |
[pagina 84]
| |
Eers met die hings se teuels ingetrek,
U seën vra op wat daar voor ons strek.Ga naar eind6
| |
IITydens die skoolvakansies het Opperman dikwels - as hy nie na Johannesburg is waar sy ouers intussen gevestig was nie - besoek afgelê op Vryheid waar Marié van Reenen ná voltooiing van haar studie in Pretoria onderwys gegee het. Die verhouding tussen hulle het ná die herontmoeting in 1938 bestendig ontwikkel en daar was geen twyfel by hulle dat hulle wel vir mekaar bestem was nie. In 1941 het Marié ook 'n betrekking by Voortrekker gekry en op 2 April 1942 is hulle in die konsistorie van ds. G. van Rooyen se kerk in Durban getroud, met Marié se moeder en haar suster Minnie aanwesig. Ná die troue het hulle by Min, wat toe in Durban woonagtig was, geëet en daarna vir 'n kort wittebrood tydens die Paasnaweek na Amanzimtoti vertrek waar Opperman die geluk en vreugde van die verbintenis in ‘Seesoom’ in Heilige beeste vasgelê het. Terug in Pietermaritzburg het die Oppermans hulle intrek geneem op die boonste verdieping van Murray Booysen, later Natalse Direkteur van Onderwys, se huis in Langmarkstraat 20 waar hulle met stokou meubels tevrede was. Voor die huis, wat naby die stasie en die Tegniese Kollege was, het die bos rooi poinsettias en palmbome van ‘Voorwinter’ in Heilige beeste gegroei, terwyl die pers bos petrea van ‘Nagedagtenis aan my vader’ (ook in sy eerste bundel) langsaan by die bure gestaan het. Van die lampe in die huis kon met 'n ketting hoër of laer getrek word, en dikwels kon die Oppermans hoor hoe die Booysens op die onderste verdieping met die drade besig is. Hierdie ervaring lei tot die hallusinasie in ‘Sinjale’ (in Heilige beeste) waar ‘iemand op die ondervloer .../ die drade van sy gloeilamp/ uit my rug en maag (katrol)’. Toe Dirk en Marié Opperman getroud is, was hulle gesamentlike studieskuld £1700 en het die land as gevolg van die oorlog ekonomies 'n moeilike fase beleef. Daarom het die skool 'n onthaal vir hulle gegee om hulle as jong getroude paar te verwelkom, want self kon hulle dit nie bekostig nie. Om ekstra geld te verdien, het Opperman van die nasienwerk van kandidate in Hollands aan die Natalse Universiteitskollege behartig en ook af en toe buitemuurse lesings waargeneem. Daar was die moontlikheid dat die Departement uitgebrei sou word en prof. Le Roux het met Opperman oor 'n aanstelling as lektor gepraat, maar weens sy studieskuld en verpligte dienstermyn by die Onderwysdepartement en die feit dat 'n lektor destyds 'n kleiner salaris as 'n onderwyser ontvang het, moes hy dit van die hand wys.Ga naar eind7 In die veertigerjare stel hy ook 'n reeks van vyf lesings op met die gesamentlike omvang van veertig bladsye vir die Rapid Results College. Daarin gee hy 'n historiese oorsig oor die Afrikaanse letter- | |
[pagina 85]
| |
kunde vanaf die Nederlandse koloniale literatuur, die vroegste geskrifte in Afrikaans en die geskiedenis en literatuur van die Eerste en Tweede Bewegings, met 'n opsomming en moontlike eksamenvrae aan die einde van elke lesing. As deeltydse lektor neem hy verder van die buitemuurse lesings by die Tegniese Kollege waar. Op 'n aand was die studente nie lus vir klas nie en het hulle van hul maats aangesê om met fietse om die lesingsaal te ry en lemoene by die vensters in te gooi. Toe die eerste lemoene deur die lug begin trek, vra Opperman dat die vensters toegemaak moet word. Een van die belhamels binne-in die saal probeer hom tart en Opperman gee hom dadelik 'n deeglike opstopper. In die stilte wat daarop volg, deel hy die klas mee dat hulle nou die volle reg het om hom te gaan verkla. As hy egter afgedank word, is daar niemand in Pietermaritzburg wat die werk kan behartig nie. Daarna gaan hy rustig voort om 'n lesing oor die selfstandige naamwoord te gee. Terwyl hy terugstap huis toe, loop twee van die ouer studente voor hom. Die een sê vir sy maat: ‘Man, maar hierdie selfstandige naamwoord is 'n wonderlike ding! Dat ek nou so oud moes word voordat ek van dié ding hoor!’ Ten spyte van die karige fondse was die jare as onderwysers in Pietermaritzburg 'n baie aangename tyd vir Dirk en Marié Opperman. Soos sy gewoonte op universiteit was, het Opperman tot laat in die nag gewerk en in die middag geslaap as hy maar enigsins kon. Saterdagoggende het hy al die koerante en tydskrifte in die biblioteek deurgewerk en daarna saam met Marié in The Creamery gaan koffie drink. Saterdagaande het hulle gewoonlik uitgegaan na mense of onthaal, maar selde die bioskoop besoek. Partykeer was hulle op 'n weeksaand na die byeenkomste van die debatsvereniging. Die naweke het hy aan sy skeppende werk en die lees van nuwe publikasies gewy. In die skilderkuns het hy 'n mate van belangstelling gehad en sporadies saam met sy vrou musiekkonserte bygewoon. Tog het hy - soos ook N.P. van Wyk Louw wat dit by meer as een geleentheid eksplisiet gestel het - nooit gepretendeer dat hy oor enige ander kunsvorm behalwe die letterkunde met gesag kan praat nie. ‘Ek kry swaar om die literatuur te beheer; ek kan my nie nog toelê op 'n ander kunsrigting nie,’ het hy meermale gesê. Afgesien van die personeellede van Voortrekker het die Oppermans 'n goeie verhouding gehad met die handjievol Afrikaners in Pietermaritzburg: G.S. Nienaber, J.J. le Roux, Stoffel Nienaber en Sheila Cussons, Michael Harris, Jan Breytenbach, Philip Grobler en teen die einde ook Jeanette Hanekom wat later Philip se vrou sou word. Reeds in hierdie stadium het Opperman sterk voorkeure gehad en sy vriende streng gekies. Veral aanstellery en oneerlikheid kon hy nie duld nie en op 'n keer het hy na 'n voortvarende jong persoon as 'n ‘intellectual upstart’ verwys. Soos vroeër met Olga Ardell het hy hom ook in hierdie jare aangetrokke gevoel tot mense wat enigsins van die normale afgewyk het. Van Cocky Haen, wat by die Departement van Onderwys gewerk het, kon hy later in sy bundel Komas uit 'n bamboesstok die deklamasies uit die | |
[pagina 86]
| |
Apokriewe boeke onthou: ‘Let us now praise famous men,/ and our fathers that begat us.’ In die eksamenafdeling van dieselfde Departement het M. Roks gewerk, 'n alleenloper en oujongkêrel van Nederlandse afkoms. Hy het belanggestel in fotografie, letterkunde, kuns en musiek en dikwels was Opperman by hom op besoek om in die enigsins week, fin de siècle-atmosfeer van sy woonplek na plate te luister, oor die literatuur te gesels en aan kelkies Old Brown Sherry te proe. By geleentheid het Roks 'n aantal waardevolle boeke spotgoedkoop aan hom afgestaan. Alhoewel Opperman in 'n mate meegevoer is deur die eksotiese aard van sy vriend en ontroer is deur iemand wat so alleen leef, kon dit nooit vir hom 'n werklik volledige verhouding word nie. ‘Ek het gevoel ek word in homoseksualiteit ingedryf,’ het hy op 'n keer gesê. Later, toe Roks in Kaapstad weer kontak wou maak, was Opperman - wat toe baie hard aan 'n verskeidenheid dinge gewerk het - teensinnig om die vriendskap te hervat. Tog het hy later, met 'n verwysing na die ‘eensame veelsydige’ alleenloper Leipoldt en 'n toespeling op die refrein in ‘Grysblou bulte’, in Komas uit 'n bamboesstok met deernis geskryf oor sy vriend: jy weer alleen in daardie reën
onder die swart sambreel deur stede heen,
deur swart stegies alleen, alleen -
jou as onder 'n parksooi weggespit.Ga naar eind8
Twee vriende wat hom literêr gestimuleer het, was Sheila Cussons en Stoffel Nienaber. Vir Sheila Cussons, wat reeds in hierdie jare met gedigte besig was, het hy die advies gegee om nie meer in Engels te skryf nie maar haar uitsluitlik op verse in Afrikaans toe te lê. Sy het haar werk aan hom voorgelê, maar hy het haar aangeraai om te wag met publikasie totdat sy ryper is. ‘Ek vind jou werk boeiend,’ het hy gesê, ‘maar dit is 'n ryke baaierd. Wag totdat jy verruim, want daar moet nog iets hieruit kristalliseer. As jy dan gaan publiseer, sal dit 'n beroering wek.’ Ook in Stoffel Nienaber se werk was hy baie geïnteresseerd. As Nienaber die manuskrip met illustrasies deur Sheila Cussons van wat destyds Keerweergestig genoem is, later aan hom voorlê, skryf hy 'n verslagGa naar eind9 om sy ingenomendheid met die werk te betuig. Sover vasgestel kon word, is dit die eerste keer dat Opperman sy oordeel oor 'n manuskrip op skrif stel en die voorloper van die talle verslae wat hy later vir uitgewers sou lewer, terwyl sy gesprekke met Sheila Cussons - ná dié met sy leerlinge op skool - die eerste voorbeeld is van advies aan 'n ander skrywer en eweneens die voorloper van die waardevolle werk wat hy later sal verrig. | |
[pagina 87]
| |
IIIReeds in 1938 het Opperman se ouers hulle in Johannesburg gevestig waar hulle in La Rochelleweg 33, Glenesk gewoon het, teenaan Turffontein waar die honderesies gereeld Saterdae gehou is. Nie lank na hulle aankoms nie het vader Opperman se hartmoeilikheid vererger en kon hy nie meer pal werk nie. In 1939 was Dirk Opperman 'n keer op besoek by Marié in Pretoria. Terwyl hulle op 'n dag naby die stasie loop, gaan hulle by 'n kafee in om tee te drink. Binne was daar 'n opskrif: ‘Teacups read here’, en met sy knaende nuuskierigheid stel Dirk voor dat hy en Marié hulle koppies moet laat lees. Die vrou sê toe vir hom dat 'n baie nabye familielid van hom ernstig siek is en dat daar binnekort 'n groot verantwoordelikheid op hom gaan rus. As hulle die teekamer verlaat, gaan Opperman dadelik na 'n telefoonhokkie en bel sy moeder om te verneem hoe dit met sy vader gaan en veral of die assuransie al betaal is. Toe hy hoor dat hulle nie geld vir die premie het nie, vra hy haar om besonderhede te stuur sodat hy die rekening onmiddellik kan vereffen. Dit het nie beter gegaan met vader Opperman nie. As gevolg van 'n lekkende klep het hy hartwater begin kry en later was sy bene dik geswel, omdat daar destyds nie sulke goeie waterdrywers bekend was nie.Ga naar eind10 In die hospitaal het hy egter 'n onverklaarbare veggees geopenbaar. Op versoek van die geneeshere en verpleegsters het Sannie Opperman die moeilike taak gehad om aan haar man te sê dat daar geen hoop is dat hy ooit weer sou opstaan nie. ‘Waarom het jy dit nie lankal al aan my gesê nie, want dan kon ek julle al die moeite gespaar het,’ was sy laaste woorde aan haar. Hy het op sy sy gedraai, was feitlik onmiddellik in 'n koma en is op 20 Mei 1943, op twee en vyftigjarige ouderdom, oorlede. Omtrent drie weke vroeër, toe hy reeds ernstig siek was, het Dirk hom besoek, maar weer na Pietermaritzburg teruggekeer. Na hulle die nuus van sy dood ontvang het, is Dirk en Marié albei vir die begrafnis per trein na Johannesburg. Ongeveer tien dae na die vader se dood, weer terug in Pietermaritzburg, gesels die Oppermans een aand oor die baie nagtelike gesprekke tussen Dirk en sy vader oor die spiritisme en die lewe na die dood, oor hulle afspraak om mekaar agterna 'n teken te probeer gee en om te kyk of kontak moontlik was. Omdat Marié gevoel het dat haar aanwesigheid 'n hindernis mag wees, gaan Dirk die aand alleen na 'n spiritistiese byeenkoms. Ná die preek begin die medium boodskappe deurgee. Hy kom voor Opperman en sê dat daar 'n man langs hom staan. Uit die noukeurige beskrywing wat die medium gee, was dit dadelik vir hom duidelik dat dit sy vader is. Die medium gaan voort en sê dat die man baie onlangs oorlede is, baie swak is na sy ernstige siekte en nog nie sy kragte terug het nie.Ga naar eind11 Hy kan nie veel meer vir sy seun sê nie as om sy besondere dank uit te spreek dat Dirk en Marié die groot onkoste aangegaan het om vir die begrafnis na Johannesburg te kom, terwyl hulle dit skaars kon bekostig. Hy | |
[pagina 88]
| |
stel dit baie hoog op prys. Toe Opperman uitloop, ontmoet hy vir Stoffel Nienaber en Sheila Cussons wat toevallig en uit blote nuuskierigheid ook die aand by die byeenkoms was. Op pad huis toe vertel 'n aangedane Opperman hulle van die boodskap.Ga naar eind12 Die gebeurtenis het hom lank bygebly, want daar was vir hom, wat daarvan gehou het om logiese helderheid oor sake te verkry, geen redelike verklaring moontlik nie. Aan Marié het hy gesê dat hy nou wel 'n boodskap ontvang het, maar dat hy nooit weer sal probeer om met sy vader kontak te maak nie.Ga naar eind13 By sy broer Maans in Johannesburg het Sannie Operman met haar seuns Chris, Louis en Koos ingewoon. Om dit vir hulle makliker te maak, het Dirk aangebied om Koos - wat toe in standerd VII was - se losies in die skoolkoshuis by die Voortrekkerskool te betaal en terselfdertyd 'n ogie oor hom te hou. So het dit dan gekom dat Koos van 1943 af tot met sy matrikulasie in 1946 in Pietermaritzburg op skool was. | |
IVDeurdat navorsingswerk in Nederland as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog 'n saak van onmoontlikheid was, het Opperman besluit om sy studie onder leiding van dr. Nienaber voort te sit en die massa materiaal wat hy toe al besit het, in 'n doktorale verhandeling te verwerk. Toe hy die onderwerp aan die Universiteit van Suid-Afrika wou registreer, moes hy egter tot sy ontsteltenis hoor dat S.J. Venter reeds onder leiding van prof. G. Dekker van die Potchefstroomse Universiteitskollege oor dié onderwerp ingeskryf was. In 'n brief van 24 Mei 1940 skryf hy aan Dekker en gee hy 'n uiteensetting van die werk wat hy al gedoen het. Onder meer het hy 'n vakansie op Vryheid deurgebring om eerstehandse inligting van Schoonees te verkry, 'n hele paar weke in Pretoria gebly om Kritzinger en veral Preller persoonlik te ondervra en inligting in te win, in Johannesburg lang onderhoude gevoer met C.M. van den Heever en Abel Coetzee, en inligting oor Kamp se lewe en werksaamhede van sy vrou verkry. Verder noem hy dat die Patriotvereniging 'n studie van hom oor Preller se letterkundige kritiek vir publikasie oorweegGa naar eind14 en dat hy 'n paar artikels oor sy onderwerp aan die uitwerk is. Hy het talle jaargange van koerante en tydskrifte sorgvuldig deurgegaan en omsendbriewe aan alle vooraanstaande Afrikaanse kritici gestuur. In die lig van al hierdie voorarbeid vra hy Dekker of dit nie moontlik is dat Venter, wat klaarblyklik nog nie lank met sy studie besig is nie, ‘'n ander onderwerp kan kies nie, of miskien 'n aspek wat nie met die studie van my in botsing kom nie’. In 'n brief van 27 Mei 1940 antwoord Dekker dat hy in 'n persoonlike onderhoud vir Venter gevra het om vas te stel of die betrokke onderwerp nie al bespreek is nie. Die volgende wat hy verneem het, was dat die Raad van die | |
[pagina 89]
| |
Universiteit van Suid-Afrika hom aangestel het as Venter se promotor met die letterkundige kritiek as onderwerp. Dekker het in Maart 1940 die voorsitter van die betrokke komitee gevra of die onderwerp nie reeds vasgelê is nie, maar hy het die versekering ontvang dat die saak in orde is. Hy vind dit jammer dat dr. Nienaber nie die onderwerp bespreek het nie,Ga naar eind15 maar bied aan om Opperman se brief deur te stuur aan Venter. Hy skryf: ‘Dit sal my spyt as U na al U studie nie met hierdie onderwerp deur kan gaan nie. Mnr. Venter het egter deur die goedkeuring van die Raad die prioriteit, en, hoewel ek U saak by hom sal bepleit, vrees ek dat ek self geen seggenskap in die saak het nie.’ Blykbaar kon Dekker nie vir Venter sover kry om van die onderwerp af te sien nie, want in 'n brief van 30 Oktober 1940 aan die Registrateur van die Natalse Universiteitskollege vra Opperman dat die onderwerp Die invloed van die Nederlandse letterkunde op die Afrikaanse letterkunde met prof. J.J. le Roux as promotor vir die graad D. Litt. vir hom geregistreer word. In 1941 beveel sy twee dosente hom aan vir 'n beurs met die oog op verdere studie. Hulle noem sy omvangryke leeskennis, vermoë om maklik en helder te stileer, navorsingsywer, rypheid wat hom in staat gestel het om 'n magisterverhandeling met 'n hoë peil te lewer en sy ‘buitengewone aanleg en begaafdheid’.Ga naar eind16 'n Beurs is egter nie aan hom toegeken nie. Dat die geweldige omvangrykheid van hierdie onderwerp vir Opperman een of ander tyd voor 'n reeks struikelblokke sou gebring het, kon 'n mens reeds by voorbaat vermoed. Op 4 Januarie 1942 stel hy dan ook in 'n brief aan die registrateur van die Universiteit van Suid-Afrika as nuwe onderwerp Die ontwikkeling van die natuurgevoel in die Afrikaanse letterkunde voor.Ga naar eind17 Volgens die vier en vyftig bladsye aantekeninge wat Opperman met die oog hierop gemaak het, was dit sy plan om te begin met 'n sielkundige en historiese oriëntering van sy onderwerp, 'n bespreking van die eerste Suid-Afrikaanse Hollandse en Afrikaanse geskrifte en daarna 'n bespreking van die poësie en prosa uit die Eerste en Tweede Bewegings waarin die natuurgevoel tot uiting kom. Heelwat aantekeninge is uit die ou reisbeskrywings gemaak en dit is duidelik dat hy Besselaar en Elizabeth Conradie se publikasies deeglik geraadpleeg het. Soms skryf hy woorde soos ‘verwrikte kielen’ en ‘uithoek’ (as 'n verwysing na Kaap die Goeie Hoop) neer wat hy veel later in sy drama Vergelegen sal gebruik, terwyl die siening van die Stormkaap, die kwaai gees Adamastor en die pionier wat in die nuwe omgewing worstel, in gedigte uit Negester oor Ninevé en in Joernaal van Jorik terugkeer. Reeds in hierdie stadium neem hy kennis van Eercroon voor de Caab de Goede Hoop, 'n lang epies-beskrywende gedig waarin Jan de Marre in 1746 die swier en glorie van die Nederlandse kolonie besing. De Marre se verse bly lank by Opperman as naswewende beeld aanwesig. In sy inleiding tot die bloemlesing Lied van die land verwys hy later na hom en in ‘Grondstowwe by die siklus van seisoene’ uit Komas uit 'n bamboesstok gebruik hy De Marre se siening en verstegniek as basis. Verder lees hy heelparty | |
[pagina 90]
| |
Engelse en Nederlandse werke waarin die natuurgevoel behandel word, terwyl hy telkens na die oorspronklike literatuur in dié tale terugkeer. ‘Na 'n jaar of wat,’ sê Opperman in ‘Twee bottels wyn’, ‘het hierdie onderwerp...my begin verveel’Ga naar eind18 en het hy van die verhandeling afgesien. Tog was sy studie in dié jare nie vrugteloos nie, want vir sy skeppende werk was die kennis van die vroeë reisbeskrywings en seejoernale besonder verrykend, terwyl dit ook vir sy doseerwerk oor die ouer literatuur aan die Universiteit van Kaapstad van waarde was. Sy lewe lank het Opperman sy belangstelling in die ou reisjoernale behou. Hy was van vroeg af 'n lid van die Van Riebeeckvereniging en het die publikasies van dié organisasie met vreugde gelees en bestudeer. | |
VTerwyl Opperman in die dertigerjare oorwegend in Natalse blaaie publiseer, stuur hy sy gedigte en artikels later toenemend na Die Huisgenoot wat vir hom 'n groter en landswye leserskring kon bied. Deur hierdie bydraes maak hy per brief kennis met Fred le Roux, redaksielid van Die Huisgenoot, wat onder meer verantwoordelik was vir poësie en boekbesprekings. Deur die korrespondensie het 'n geneentheid begin groei en Le Roux, wat reeds in hierdie jare onder die indruk van Opperman se ontwikkelende digterskap was, vra hom gereeld om resensies oor nuwe publikasies te behartig. Omdat gevestigde kritici soos F.E.J. Malherbe, G. Dekker en H.A. Mulder die belangrikste digbundels gekry het om te resenseer, moes Opperman aanvanklik tevrede wees om werke van byvoorbeeld Marié Linde, Kootjie van den Heever en Mikro te bespreek, al het hy ook enkele kere betreklik belangrike publikasies soos Olga Kirsch se Die soeklig, H.A. Mulder se Rekenschap en die Hobsons se Vlam van die Bantomberge vir beoordeling gekry. Van 1944 af behartig hy ook resensies in F.E.J. Malherbe se kwartaalblad Ons Eie Boek, soos Jochem van Bruggen se Kranskop I - Oupa en Abel Coetzee se Waarheen, Vader? Reeds in hierdie stukke tree Opperman na vore as sensitiewe leser en knap kritikus. Wat in bespreking na bespreking opval, is sy wye verwysingsveld en die manier waarop hy 'n bepaalde roman of gedig literêr-histories ten opsigte van die Afrikaanse en buitelandse literatuur situeer en verrassende verbande tussen werke lê. Naas sy belangstelling in stilistiese, strukturele en tegniese aangeleenthede vind 'n mens hier reeds die maatstawe dat 'n literêre kunswerk beeldend moet meevoer en oortuig, nie in idee of ontwerp moet bly vassteek nie en dat eksplisiete beelding of simboliek meestal uit die bose is. Daarby boei hy die leser telkens met sy kompakte, kriptiese stelwyse en sy vermoë om by wyse van 'n beeld of 'n alliteratiewe spel verbande en interpretasies te aktiveer wat 'n verrassende lig op die kunswerk werp. | |
[pagina 91]
| |
Twee boekbesprekings van Opperman wat in hierdie jare aandag trek, is dié oor werke van Anna Louize Conradie en G.S. Nienaber. In Die Huisgenoot van 1 Oktober 1943 resenseer hy Anna Louize Conradie - wat met haar debuut Laura baie lof ontvang het - se tweede roman Nuwe gebooie.Ga naar eind19 Op dié negatiewe bespreking volg 'n polemiek in Die Huisgenoot van 26 November 1943 waaraan Opperman ook deelneem. Aan die einde van 1941 stuur Fred le Roux aan Opperman die resensie-eksemplaar van G.S. Nienaber se Afrikaanse letterkundige kritiek wat toe pas in die Tweede Trek-reeks van die Nasionale Pers verskyn het. Dit was nie sonder 'n mate van moedswilligheid nie, want Le Roux het geweet dat Opperman onder Nienaber gewerk en sy M.A. met 'n studie oor die literêre kritiek verwerf het. Die lees van dié boek was vir Opperman 'n skok. Hy was oortuig daarvan dat Nienaber, wat materiaal en ordening betref, op sy verhandeling steun en sonder enige erkenning daaruit oorgeneem het. Tydens 'n besoek aan Nienaber het hy hierdie gebrek aan erkentlikheid pertinent genoem. Nienaber het dit stilswyend toegegee, maar op gevalle gewys waar hy in die verlede redelikerwyse erkenning van Opperman kon verwag het. Terwyl hy afskeid neem, haal Opperman die resensie-eksemplaar van Afrikaanse letterkundige kritiek uit sy jassak en sê dat hy die feite in verband met die aangeleentheid in sy bespreking in Die Huisgenoot gaan noem. Nienaber was ontsteld en het saam met Opperman tot by die bushalte gestap en hom probeer oorreed om van sy voorneme af te sien. Reeds in hierdie jare was Opperman egter 'n persoon wat lank sou wik en weeg voordat hy optree; as hy egter 'n besluit geneem het, was dit haas onmoontlik om hom daarvan te laat afsien. In Die Huisgenoot van 16 Januarie 1942 sê hy in sy resensie dan ook dat sy ongepubliseerde proefskrif 'n invloed op Nienaber gehad het. ‘Sy taak is uiters vergemaklik deur die naswewende beeld van hierdie studie waarin die massa stof reeds so georden is dat ooreenkomste in die verdeling, behandeling van vroeë figure en beklemtoning van dieselfde materiaal by hom aangetref word.’Ga naar eind20 Die publikasie van Afrikaanse letterkundige kritiek en die resensie lei tot ‘'n tydelike vervreemding’Ga naar eind21 tussen Nienaber en Opperman. Dit is waarskynlik nie toevallig dat die sluipskrywer van hierdie jare, Kees Konyn, in sy rubriek ‘Kanttekenings’ in Trek van 11 Februarie 1942 ook oor Afrikaanse letterkundige kritiek skryf nie. Alhoewel Jan Greshoff in hierdie jare die rubriek behartig het, is dit deur Le Roux in Afrikaans vertaal en het hy en Greshoff dikwels ruggespraak gehou oor onderwerpe vir die verskillende aflewerings. 'n Paar maande later - in Trek van 11 Mei 1942 - skryf Kees Konyn 'n skitterende boutade oor G.S. en P.J. Nienaber se bloemlesing Afrikaanse ballades waarin hy oor die herkoms van die ‘veelgebruikte werkwoord nienaber’ uitwei. Met sy belangstelling in die literêre skindernuus verslind Opperman in dié tyd Kees Konyn se rubriek en wag hy die verskyning van elke nuwe uitgawe van Trek gretig af, in so 'n mate dat hy sy bediende gereeld stasie toe stuur as die trein met die besending nuwe eksemplare inkom!Ga naar eind22 | |
[pagina 92]
| |
Aan die begin van 1940 het Opperman - naas die kwatrynreekse ‘Kronieke’ en ‘Dagboek’ - net twee gepubliseerde gedigte gehad wat hy later in sy debuutbundel opneem, naamlik ‘Bloedrivier, 1938’ en ‘Invocatio’ (wat as ‘Bede’ in Heilige beeste verskyn). In die jare 1940-1942 publiseer hy vier en twintig gedigte in Die Huisgenoot en twee in die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring; hiervan word negentien uiteindelik gebundel.Ga naar eind23 Terwyl die natuur, die liefde en die stad as temas in sy vroeë verse ingevoer word, is die aards-hemelse spanning en die verlossingsmotief sterker aanwesig in die gedigte wat hy in die veertigerjare publiseer. In vergelyking met sy skool- en universiteitsverse word die greep, wat struktuur en subtiele woordkeuse betref, ook gaandeweg vaster. Sy omvangrykste onderneming in dié jare is die lang epiese gedig ‘Shaka’ waarvoor hy - volgens 'n brief aan H.W. Truter in 1967 - A.T. Bryant se Older times in Zululand and Natal en die twee dele van Nathaniel Izaacs se Travels and adventures geraadpleeg het. Inligting is ook verstrek deur sy oom en deur Zoeloes van die Buthelezi-stam op Stedham, terwyl die prokureursklerk Ndholvu op Vryheid, wat 'n broer van die Zoeloekoning was, regstreekse besonderhede verskaf het. Op 9 Februarie 1943 stuur Opperman 'n manuskrip van sy gedigte onder die titel Grensgeveg vir publikasie aan die Nasionale Pers in Kaapstad. Hierin was die gedig ‘Verbond’, wat later in Heilige beeste verskyn, met sy stryd tussen die twee koedoes wat uiteindelik met ‘wedersydse mededoë’ sterf, 'n sleutelgedig wat regstreeks met die bundeltitel geskakel het. In sy antwoord van 16 Februarie sê W.J. Kruse, bestuurder van die Boekhandelafdeling, dat hulle ‘weens die skaarste van papier’ nie 'n uitgawe van die gedigte kan oorweeg nie. ‘Die kwota van papier wat deur die Kontroleur ons toegesê is, voldoen nie 'n kwart aan ons behoefte nie. Onder die omstandighede is ons verplig om u manuskrip terug te stuur.’ Na alle waarskynlikheid is hierdie beslissing, te oordeel na die vinnige reaksie op Opperman se brief, uitsluitlik en sonder raadpleging van andere deur Kruse self geneem, 'n man wat volgens alle getuienis nie juis 'n orgaan vir die poësie gehad het nie. Dit is opvallend dat van Opperman in 1943 geen gedigte in Die Huisgenoot gepubliseer word nie, alhoewel hy nog die besprekings behartig van Marié Linde se 'n Huis verdeeld, Kootjie van den Heever se Brakgrond en Anna Louize Conradie se Nuwe gebooie. Ná ontvangs van die resensie oor Nuwe gebooie skryf Fred le Roux op 14 Augustus 1943 aan hom en vra of daar nie nuwe verse vir publikasie in Die Huisgenoot gereed is nie. Hierop antwoord Opperman dat hy 'n bietjie suinig werk met sy gedigte, omdat hy voornemens is om te bundel en graag 'n aantal nuwes sou wil insluit. Hy skryf: ‘Wanneer daar eendag 'n bundel sal verskyn, weet ek nie; ek het 'n ruk gelede my ms. aan Nas. Pers., Kaapstad gestuur, maar het dit per kerende pos terugontvang met 'n briefie oor papierskaarste. Tot dusver het ek egter nog nie ander pogings aangewend nie.’ Le Roux het dadelik ná ontvangs van dié brief besef dat die uitgewersafde- | |
[pagina 93]
| |
ling - soos hy later in 'n brief aan Opperman sou sê - ‘'n lelike flater’ begaan het. Op grond van die gedigte in Die Huisgenoot was Opperman vir hom die belangrikste groeipunt na N.P. van Wyk Louw. In 'n gesprek met Markus Viljoen wys hy dan ook op die uitstekende gehalte van Opperman se poësie, baie beter as dié van die meeste digters wat in daardie stadium debuteer. Met die soort behandeling wat Opperman tans kry, gaan die Nasionale Pers 'n baie belowende digter verloor, en dit sal 'n ramp wees. In 'n brief van 15 Desember 1943 aan Opperman verwys Le Roux na sy gesprek met Viljoen, maar noem ook dat hy oor die hele aangeleentheid aan H.A. Mulder, keurder vir Van Schaik, geskryf het. Mulder was in verbinding met Van Schaik en Opperman sou waarskynlik ook van hulle verneem. Intussen het Viljoen geskakel met die uitgewersafdeling van die Nasionale Pers. Hulle het onderneem om Opperman om 'n manuskrip te nader. Nog voor ontvangs van Le Roux se brief kry Opperman 'n brief van Van Schaik (gedateer 9 Desember) waarin verwys word na sy gedigte in Die Huisgenoot wat veel beter is as die eerste manuskrip wat hy vir hulle in die dertigerjare aangebied het. As hy nou voldoende gedigte vir 'n bundel beskikbaar het, sal hulle graag 'n manuskrip ter insae wil ontvang. Die volgende dag skryf hy aan die redaksie van Die Huisgenoot. Daarin sê hy weer dat die manuskrip wat hy aan die Nasionale Pers voorgelê het, teruggestuur is met 'n briefie oor ‘papierskaarste’. Nou het 'n ander uitgewer hom genader om 'n bundel voor te lê. ‘Daar ek die Nas. Pers., Kaapstad, altyd eerste keuse wou gee, sal ek dit waardeer indien u vir my wil nagaan of die huidige papiertoestand u toelaat om my MSS te ontvang - dit sluit natuurlik goeie gehalte papier en omslag en smaakvolle versorging soos van u onlangse bundels in.’ Voordat hy hierop 'n reaksie kon kry, ontvang hy 'n brief van Kruse (gedateer 17 Desember) waarin weer op die papierskaarste gewys word, maar waarin hy Opperman uitnooi om 'n volledige manuskrip vir oorweging voor te lê. Op 23 Desember antwoord Viljoen op Opperman se brief aan die redaksie van Die Huisgenoot. Hy sê dat hy met die bestuurder van die Boekhandel in verbinding was. As gevolg van beperkte afsetmoontlikhede en papierskaarste is hulle nie gretig om die bundel vir hulle firma te verkry nie. ‘Ek is egter van mening dat U werk van so 'n gehalte is dat ons ten minste die uitgee daarvan moet oorweeg, en as U miskien nog nie 'n ander uitgewer genader het nie, sal ek bly wees as U dit aan ons firma wil voorlê. Ek sal dan onderneem om ons Boekhandel-bestuurder te vra om dit aan een van ons betroubaarste letterkundige kritici voor te lê.’ In 'n geskrewe naskrif voeg hy by: ‘As U die ms. aan my stuur, sal ek daarvoor sorg dat dit dadelik aandag geniet.’ Op 24 Desember skryf Opperman aan Fred le Roux dat hy gelyktydig met dié brief sy bundel aan die Nasionale Pers, Kaapstad pos. ‘Ek het dus van hulle gehoor maar ook van Van Schaik. Ek moet egter eerlik beken, al was ek bewus van die voordelige advertensiegeriewe van die Nas. P. en al het ek hulle onbe- | |
[pagina 94]
| |
langstellende optrede in Februarie vergeet, sou ek net na aanleiding van die gretigheid in die onderskeie briewe geopenbaar, dit aan Van Schaik moes gestuur het, al wou ek dit liewer in die hande van die Nas. P. sien!’ Op 2 Januarie 1944 beantwoord hy Viljoen se brief en sê hy dat die bundel reeds in die bestuurder se hande is. Hy noem dat Van Schaik gretig is om die bundel te ontvang, maar hy stuur dit aan die Nasionale Pers ‘omdat ek die Nasionale Pers as die beste uitgewers beskou.... As u nou egter, soos u aangebied het, wil sorg dat die MS aan 'n betroubare kritikus voorgelê word, sal ek dit hoog op prys stel.’ Op 5 Januarie reageer Viljoen en sê hy dat die manuskrip na 'n baie betroubare beoordelaar gestuur is. ‘Ek is bly dat ek betyds kon voorkom dat u manuskrip na 'n “verkeerde” uitgewer gestuur is, want ek het genoeg vertroue in U om graag te wil hê dat U vanaf die begin van u skrywersloopbaan aan ons firma verbonde moet wees.’ Alhoewel Opperman in sy brief aan Fred le Roux sê dat hy die Nasionale Pers se optrede in Februarie 1943 vergeet het, kan 'n mens tog uit sy formulering aflei dat daar 'n mate van wrewel by hom was. In 1941 het die Nasionale Pers J. Nel van der Merwe se Van mens tot mens en in 1942 Ernst van Heerden se Weerlose uur gepubliseer, terwyl by Van Schaik in 1943 S.J. Pretorius se Vonke verskyn het - almal debuutbundels met veel minder gedigte van intrinsieke literêre gehalte as waaroor Opperman op daardie oomblik beskik het. As hy dan ook na meer as twee maande se wag niks verneem nie, vra hy in 'n brief van 29 Februarie met 'n bietjie ergernis of dit ‘onredelik van my (is) om nou...te verneem wanneer u die verslag van u letterkundige adviseur verwag’. Op 14 Maart ontvang hy 'n brief van C.F. Albertyn wat intussen bestuurder van die uitgewersafdeling geword het en met veel groter kundigheid en professionaliteit met Opperman onderhandel. Albertyn skryf dat hulle die verslag oor Grensgeveg ontvang het en dit aanstuur. Die keurder het 'n ernstige studie van die werk gemaak en hulle sal dit waardeer as Opperman die aanbevelings sal oorweeg. Hy sluit af: ‘Laat ons asseblief weet wat u besluit het, want ons koester die hoop dat u ons die eer sal aandoen om die eventuele uitgewers van u werk te word. Ons verseker u ten alle tye van ons beste dienste.’ Hierdie welwillendheid was vir Opperman, na die ‘onbelangstellende optrede’ van vroeër, waarskynlik 'n riem onder die hart, want die enigsins negatiewe reaksie van die keurder, waaruit hy met sy kennis van die literêre kritiek en fyn ontwikkelde speursin tereg dadelik die stem en metode van Dekker herken het,Ga naar eind24 was ongetwyfeld vir hom 'n skok. In sy verslag sê Dekker dat hy, ten spyte van geslaagde gedigte, tot die slotsom gekom het dat die manuskrip ‘nie 'n duidelike beeld van die digterpersoonlikheid (gee) nie’. Hy skryf dit aan die volgende oorsake toe: ‘1. Die digter is nie 'n sterk liriese temperament nie, maar meer beskouend van aard. Hy is ook nie sterk visueel- of akoestiesbeeldend nie. 2. Verskillende gedigte doen nog aan as eksperimente. 3. Die digter moet nog meer selfkritiek uitoefen en heelwat skrap. 4. Die rangskikking | |
[pagina 95]
| |
lyk baie willekeurig en gee aan die afsonderlike gedigte nie die relief wat hulle by strenger selfkritiek en natuurliker plasing sou kan kry nie.’ Hy weet nie wat die basis van rangskikking is nie, terwyl ook die titel vir hom onduidelik bly. Na detailkritiek op indiwiduele gedigte sê Dekker ‘in die huidige toestand sou (hy)...nie kan aanbeveel dat die Ms. gepubliseer word nie. Dit sou vir die digter self ook jammer wees. Ek sou aan die hand wil gee dat die digter self sy gedigte weer deeglik nagaan. Ek dink hy sal dit met my eens wees dat daar heelwat is wat geskrap moet word. Uit wat oorbly kan hy nog genoeg oorhou om 'n bundel saam te stel. Maar dan nóg sou ek hom wil aanraai om nie te haastig te wees nie. So menige gedig wat 'n goeie kern bevat en skone verse en beelde, kan by dieper belewing sterker en suiwerder word. En die digter van “Stad in die Mis”, die beste kwatryne, “Nagbloei”, “Eilandgroep”, “In die Landskap”, “Kind van die Aarde”, “Gestorwene”, “Nagskip langs Afrika” en van dele van “Shaka” behoort tog in hom die sekerheid te dra van 'n digterskap wat nog maar pas ontluik en wat die geduld kan hê om die verdere groei wat daarmee ingesit het, nog 'n bietjie te laat vorder. Ek glo dat hy daar ryklik voor beloon sal word. Wil die digter egter nie langer wag nie, dan dink ek dat hy 'n bundeltjie sal kan saamstel soos deur my aangedui, wat verdien om uitgegee te word. Hoewel ek geen basis het om chronologies die groei in hierdie gedigte na te gaan nie, sien ek die beste werk aan vir die rypste, en dit sou my spyt as Mnr. Opperman nie nog maar eers 'n tydjie bly werk nie.’ As 'n mens Dekker se detailkommentaar op die gedigte nagaan, is dit opvallend dat Opperman hierdie kritiek dadelik opgevolg het deur interpunksie te verbeter en woordveranderinge aan te bring. So beveel hy 'n komma aan die einde van die tweede reël van ‘Stadsnag’ aan en wys daarop dat ‘ontroof’ aan die einde van reël 4 verkeerd gebruik is. In ‘Stad in die mis’ waardeer hy die ‘eie siening’, maar ‘bloedbeskote’ moet liewer ‘bloedbelope’ word, terwyl ‘gra’ in plaas van ‘ingrawe’ in ‘Sarkofaag’ hinder, soos ook ‘verbroue’ in plaas van ‘verbroude’ in ‘Invocatio’ (wat in Heilige beeste ‘Bede’ word). Verdienstelike gedigte vind hy ‘Bouquet’, ‘Drif’, ‘Hooft’, ‘Bloedrivier, 1938’, ‘Boer’ en ‘Sinjale’ naas dié wat hy aan die einde van sy verslag noem, maar moeilik, soos ‘Mijn herte met luste ghevaen’ en ‘Water-engel’, terwyl hy besware het teen ‘Valse afspraak’, ‘Nagvoël’ (vgl. later ‘Ballade van die grysland’), ‘Sekonde’, ‘Besoek’ en ‘Messias’. Hierdie laaste vyf gedigte laat Opperman uiteindelik weg. In 'n brief van 21 Maart aan Albertyn bedank hy hom vir die belangstelling en vra hy dat sy waardering ook aan die keurder oorgedra word. Hy wys egter daarop dat die kritiek in hoofsaak die rangskikking en die titel raak en dat Dekker ‘uit die 54 gedigte, 48 direk of indirek goedkeur, sommige met klein wysiginkies, net 6 ten dele of as geheel verwerp, en selfs die twee grootste afdelings vir publikasie aanbeveel.’ Hy gaan voort: ‘Ek waardeer die leser se raad. Trouens, pas na die bundel drie maande gelede aan u gepos is, het ek elke gedig weer begin keur. Eksperimente en die paar | |
[pagina 96]
| |
gedigte wat hy noem, is geskrap, verbeteringe is en word aangebring, ook 'n herrangskikking. Die detailkritiek sal my help. Ek stuur dus later weer my Ms. aan u.’ Dit is ongetwyfeld so dat Dekker op besliste tekortkominge in Grensgeveg gewys het, maar 'n mens vra jou af of dit verstandig en billik was om in die lig van die groot aantal goeie gedigte waarop hy self wys, aan te beveel dat die manuskrip nie ‘in die huidige toestand’ gepubliseer kan word nie, soos die keuse van die woord ‘bundeltjie’ aan die einde op sy sagste ongelukkig was. 'n Mens voel dat Dekker met hierdie formulerings die aksente verkeerd gelê het. Dat Opperman wel veel aan Dekker se kritiek gehad het, is onteenseglik die geval. In die maande sedert ontvangs van die verslag gee hy hom weer oor aan die bundel en skryf hy nuwe gedigte by. Op 7 Augustus 1944 stuur hy die manuskrip opnuut aan die Nasionale Pers, nou onder die titel Heilige beeste. Albertyn erken per kerende pos die ontvangs, en op 27 September stuur hy die keurdersverslag aan Opperman. Aangesien Dekker dié keer minder wysigings voorstel, vra Albertyn of hy instruksies omtrent moontlike veranderinge kan verstrek. Hy sê: ‘Onder die huidige moeilike omstandighede is dit onmoontlik om presies vas te stel wanneer ons die bundel kan publiseer, maar indien u gewillig is om dit in ons hande te laat, sal ons die nodige dokumente aan u ter ondertekening stuur.’ In sy tweede verslag stel Dekker nog enkele wysigings in verband met interpunksie en woordkeuse voor en beveel hy aan dat sekere gedigte weggelaat word. Opperman verwerk hierdie kritiek, maar aanvaar veel minder daarvan as wat die geval met die eerste verslag was. Die enigste twee gedigte wat hy uitlaat, is ‘Stam’ en ‘Messias’, maar hy behou ‘Vyfuur’ ten spyte van Dekker se beswaar teen ‘malvas lig’, ‘Stasie’ wat vir Dekker nie veel bevat wat oortuig nie en ‘Phoenix’ wat ‘tot meer klaarheid moet besink’. Dekker beveel nou wel publikasie aan, maar vind ‘dit nog kennelik 'n eerstelingbundel...en menige gedig (gee) die indruk van eksperiment’. Om ‘Heilige beeste’ as titelgedig te plaas, kom vir hom ‘'n bietjie te gewild voor’, want hy vra of ‘dit wel die bindende eenheid van die hele bundel’ is. Alhoewel dit nêrens uit sy skriftelike reaksie blyk nie, kan 'n mens met redelike sekerheid aanneem dat veral hierdie tweede verslag van Dekker Opperman se gramskap moet gewek het. Enkele opmerkings, soos dié oor ‘malvas lig’ en die funksie van die titelgedig, laat blyk dat baie dinge selfs na die tweede deeglike bestudering van die bundel by Dekker verbygegaan het. As hy later in die 1948-uitgawe van sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis skryf dat 'n mens in Ernst van Heerden se Weerlose uur en Opperman se Heilige beeste die ‘dampkring van die geslag van 1935’ aanvoel, is dit duidelik dat hy vir die vernuwing wat Opperman ná Dertig met sy debuutbundel bring, hoegenaamd geen begrip het nie. Ook sy opmerking dat ‘hier die gedigte, met hulle allure van krag en diepte, nog nie tot essensieelste menslikheid deurleef is nie’,Ga naar eind25 gee 'n aanduiding | |
[pagina 97]
| |
dat hy die werk nie na waarde skat nie. Alhoewel Opperman waardering gehad het vir Dekker se detailkritiek, kan sy wantroue in dié hoog aangeskrewe kritikus se oordeel teruggevoer word na sy ervaring met die manuskrip van sy debuutbundel. Later sou hierdie wantroue bevestig word deur Dekker se vergissing met Elisabeth Eybers se Die helder halfjaar en Peter Blum se Steenbok tot poolsee wat hy albei onderwaardeer. Dekker moes egter betreklik gou sy fout ingesien het, want later, as hy in 1959 'n referaat oor die ‘stylaard en kunstenaarskap by D.J. Opperman’ lewer, skryf hy met groot waardering oor baie gedigte in Heilige beeste.Ga naar eind26 As Opperman se Negester oor Ninevé verskyn, publiseer Dekker in Die Ruiter van 21 November 1947 'n baie gunstige en indringende resensie.Ga naar eind27 Waarskynlik kan Opperman se uitspraak dat ‘Dekker by uitstek die kritikus is van 'n tweede bundel’,Ga naar eind28 na sy persoonlike ervaring teruggevoer word. Uit Opperman se brief van 9 Oktober aan Albertyn blyk egter niks van 'n moontlike gramskap oor Dekker se verslag nie. Hy sê dat hy die ontvangs van die dokumente vir ondertekening afwag en vra dat die letter, papier en omslag aan hom voorgelê word, aangesien hy ‘natuurlik graag die versekering wil hê dat ook...(sy) bundel die keurige versorging’ van onlangse publikasies van die Nasionale Pers sal geniet - 'n navraag waaruit reeds blyk dat Opperman van die begin af intens in die tipografiese versorging van sy bundels geïnteresseerd was. Verder vra hy 'n aanduiding van die publikasiedatum en of hy self die drukproewe mag nagaan. Aangesien hy ‘met vrug’ van die rapport gebruik kon maak, vra hy dat die ingeslote brief aan die beoordelaar gestuur word. Nadat hy Dekker hierin hartlik bedank vir die sorgvuldige bestudering van die manuskrip, beantwoord hy sekere vrae wat gestel is. Die titel Heilige beeste ‘wil slegs 'n versamelnaam met 'n toespeling op die tiperende wees. Die G.G.D. van die gedigte is m.i. “drif”, ja wel “'n opwaartse drif”’, 'n formulering wat 'n mens laat terugdink aan die titel van sy studentebundel uit die dertigerjare. Wat die indeling betref, sê hy dat ‘met 'n sekere inagneme van die chronologie...“natuurlike” plasing (verwantskap) die uitgangspunt (was). Groep I: “arbeid” (stad, boer, volk) teen groter verband. Groep III: na liefdesverstrikking, die greep van die aardse en Groep IV die verdere “opwaartse drif”. Die laaste twee groepe hoort bymekaar. Sien die afdelings ook in die lig van “heilige beeste”.’ In die brief van 9 Oktober vra Opperman dat 'n dertiental veranderinge aan die manuskrip aangebring moet word. Dat hy egter so gou ná ontvangs van Albertyn se brief (gedateer 27 September) en Dekker se tweede verslag reageer, is 'n aanduiding dat veel minder dinge hom nou hinder en dat hy Heilige beeste grotendeels as afgehandelde werk beskou. By ontvangs van Opperman se finale wysigings is die manuskrip dan ook deurgestuur vir set. Op 4 Februarie 1945 berig Opperman aan Albertyn dat hy die bladsyproewe nagesien het en dat hy 'n harde rooi boekband met ingedrukte swart letters sal verkies. | |
[pagina 98]
| |
Intussen het Opperman se vriende in Pietermaritzburg te hore gekom dat daar 'n bundel van hom gaan verskyn. 'n Paar vriende het besluit om 'n partytjie in die Hotel Ansonia in Langmarkstraat te hou en om die Nasionale Pers te versoek om 'n eksemplaar van Heilige beeste aan te stuur wat hulle dan as 'n verrassing aan Opperman op die betrokke aand kon oorhandig. Stoffel Nienaber het Opperman en sy vrou genooi om Saterdagaand, 17 Mei 1945 na die Hotel Ansonia te kom onder die voorwendsel dat dit Sheila Cussons se verjaardag is. By dié geleentheid was onder andere Stander, Gawie en Stoffel Nienaber, J.J. le Roux, Izak le Roux, Jan Breytenbach, Jan Scannell en Philip Grobler aanwesig. Oor die geselligheid en wat dit voorafgegaan het, skryf Opperman in ‘Twee bottels wyn’: Op 'n dag kom Stoffel na my. (Hy was met Sheila Cussons getroud, en op sy aandrang het ek haar gedigte gelees. Van hulle het in Die Huisgenoot en die Jaarboek van die Skrywerskring verskyn.) Hy sê dit is Sheila se verjaarsdag en hulle het 'n klompie vriende uitgenooi na die Hotel Ansonia om dit te vier. Hulle wou graag hê ek en Marié moet ook kom. Die middag is ek na hulle kamer om vir Sheila 'n Engelse digbundel present te gee, want ek twyfel of ons sal kom. Hy was besig om tee te maak, die ketel het gekook en ewe verbouereerd stort hy van die water op sy voet. Hy het deurmekaar gepraat, sy voet gedokter. Goed, ons kom dan net vir 'n rukkie. Volgens baie mense se getuienis later het die verskyning van Heilige beeste 'n opskudding in Pietermaritzburg veroorsaak, want hier was vir die eerste keer 'n Afrikaanse digter wat met 'n Natalse verwysingsveld gewerk het. Die bundel is gretig gelees en die atmosfeer het gevibreer, want vir baie was beeldspraak soos ‘kuttels van 'n bok’ en die ‘berg se donker lies’ met die aardse inslag iets nuuts in die Afrikaanse poësie. Alhoewel die gedagte van die wiegie vir Opperman onpeilbaar was, het hy die verrassingspartytjie en die welwillendheid van sy vriende baie gewaardeer. In Stoffel en Sheila Nienaber se eksemplaar van Heilige beeste skryf hy dan ook: ‘Ek sal julle mooi-menslike gebaar van 17.V.1945 altyd onthou.’ | |
[pagina 99]
| |
VIKort na die verskyning van Heilige beeste is die eerste resensies oor die bundel gepubliseer. Die eerste bespreking was dié van Ernst van Heerden wat in Die Burger van 9 Junie 1945 verskyn. Van Heerden het in 1942 sewe maande lank (van Maart tot September) vir J.J. le Roux waargeneem en sy debuutbundel Weerlose uur is gepubliseer terwyl hy in Pietermaritzburg was. In dié periode het hy deur Philip Grobler vir Opperman ontmoet, al het hy hom nie goed leer ken nie. In sy bespreking sê Van Heerden dat Opperman in sy eerste bundel onmiddellik uitstaan ‘as 'n digterpersoonlikheid met 'n rype verbeeldingsvermoë en 'n rustige beheer oor sy taalinstrument wat sy werk die stempel gee van egte poësie’. Van Heerden stuur 'n knipsel van sy resensie aan Opperman. In 'n brief van 14 Junie 1945 bedank Opperman hom en skryf: ‘Jou bespreking wek 'n baie aangename gevoel - die entoesiasme, die sorgvuldige verantwoording en die mooi karakteristiek wat ongetwyfeld na aan die kern is.’ Hy wys op sake wat Van Heerden nie aanraak nie, maar sluit af: ‘Maar dit is alles heel terloops; eintlik het jou bespreking die nodige warmte en intellektuele versekering wat onontbeerlik is vir voortsetting.’ Die verhouding tussen Van Heerden en Opperman word later voortgesit as hulle mekaar beter leer ken, terwyl Van Heerden se bespreking van Heilige beeste die begin is van 'n diepgaande belangstelling in sy tydgenoot se werk waaroor hy in die komende dekade indringend sal skryf. In sy bundel kritiese opstelle Rekenskap van 1963 neem Van Heerden sy bespreking van Heilige beeste saam met dié oor ander bundels van Opperman in 'n aparte rubriek op. Ook die ander resensente, onder wie van die leidende kritici van die dag, was gunstig oor Heilige beeste. In sy radiobespreking van 21 Junie 1945 waardeer F.E.J. Malherbe Opperman se ‘oorspronklikheid, konkreetheid, objektiwiteit, visioenêre verbeelding en vormkrag (wat) hom hoog in die ry van ons digters (plaas)’.Ga naar eind31 Onder die skuilnaam Vulpen waardeer G.S. Nienaber in Die Taalgenoot van Julie 1945 die spaarsame gebruik van ‘harde, kantige woorde’, die ‘beheersing’ en ‘die selfstandigheid in 'n tydperk van epigonisme’. In vergelyking met sy twee keurdersverslae skryf G. Dekker gunstiger in Die Huisgenoot van 27 Julie 1945Ga naar eind32 en sien hy in die bundel ‘eienskappe wat onmisbaar is vir verdere groei: eerlikheid, soberheid, 'n aan die tydgees ontsprote saaklikheid van segging en skerpheid van waarneming’. In New Era van 13 September 1945 waardeer W.J. du P. Erlank, wat later sy kollega op Stellenbosch sou word, die nuwe in Heilige beeste: ‘After having read these poems, one is left with the impression that here is a personality, young, fresh, vigorous, militant, averse to the sentimental approach to life, averse also to the easy and ready acceptance of things at their face value. Opperman has with a penetrating glance seen things his own way; with his quick emotional reaction, which is | |
[pagina 100]
| |
tinged with just a touch of irony, he has felt them his own way; and in the granular terseness of his diction he has said them his own way.’ In 'n brief van 5 Oktober 1945 aan N.P. van Wyk Louw noem H.A. Mulder Heilige beeste ‘een van die beste dinge, altans van die mees oorspronklike, vir jare’ en oor die Johannesburgse Afrikaanse sender van die SAUK waardeer hy op 23 Oktober 1945 die ‘heftige drif’ in die verse: ‘Veel van sy gedigte laat aan towerformules dink waarin die digter sy ervarings tot bopersoonlike uitsprake saamgepers het. Hul harde plastiek besit dikwels 'n geheimsinnige gloed soos van vuurkewers in die donker.’Ga naar eind33 En in Die Brandwag van 14 Desember 1945 noem M.P.O. Burgers in 'n uitvoerige bespreking van Heilige beeste Opperman, ‘sover ek kan oordeel, die belangrikste figuur tot dusver in wat ons die vierde fase in ons poësie kan noem, die fase wat volg op dié waarin N.P. van Wyk Louw die grootste rol gespeel het.’Ga naar eind34 Maar gelyktydig met die publikasie van sy eerste bundel het die besware teen die duisterheid in Opperman se poësie en die ‘bedenklike sedelike en godsdienstige strekking’ ook opgeklink. Onder die titel ‘Die duistere kus op die voorhoof’ vra Jannie Kruger in Die Volksblad van 20 Junie 1945: ‘Wat bedui die onversaadbare delwing in dieptes van eie sielsvertroebeling en aardse raaisels, die versterwing van die singende klaarte van vroeër dae se groot digwerk, by ons sowel as elders in hierdie tyd? Het die mens teenswoordig die moontlikhede van aanvaarding uitgeput en 'n ewig opgejaagde voortvlugtige geword, 'n tevergeefs worstelende slagoffer van die onontwarbaarheid van die tye?’ In Die Transvaler van 7 Julie 1945 praat 'n ongenoemde resensent van ‘'n newelagtige inhoud’ en neiging ‘om diepsinnig te wil skyn’. Vir E.A. Venter in Die Kerkbode van 25 Julie 1945 is die bundel 'n openbaring van ‘die bedenklike verval wat al hoe meer in die Afrikaanse literatuur tot uitdrukking kom’ - die humanistiese lewensbeskouing, sterk panteïstiese inslag en ligsinnige gebruik van die naam van God. ‘Dit word tyd dat daar van bevoegde sy geprotesteer sal word teen hierdie doelbewuste propagering van heidense begrippe in ons letterkunde. Ons voer nie die pleit vir die sieldodende “motiewe-kuns” nie. Ons weet dat die kuns geen patriotiese of godsdienstige betoog is nie. Maar die kunstenaar moet tog minstens ook voor hierdie één eis buig: diepe lewensverantwoordelikheid. Die “vryheid van die kuns” mag nooit ontaard in die vryheid van die kunstenaar om in heilige onaantasbaarheid te skrywe wat hy wil nie. Insover as wat ook die poësie weerkaatsing is van die lewensbeskouing van die digter, is dit vir my duidelik dat ons besig is om die vrugte te pluk van ons liberalistiese universiteitsopleiding.’ In sy rubriek ‘Perskommentaar’ in Die Kerkblad van 17 Augustus 1945 neem S. du Toit, seun van Totius en professor aan die Gereformeerde Teologiese Kweekskool aan die Potchefstroomse Universiteitskollege, die kommentaar van Venter goedkeurend oor. Hy voeg by: ‘Niemand kan natuurlik 'n uitgewer belet om werk van hierdie aard die lig te laat sien nie, maar dit is die plig van diegene wat die jeug van ons volk graag op | |
[pagina 101]
| |
die “ou paaie” wil sien wandel om daarteen te waak dat hulle nie stelselmatig deurdring word van hierdie soort van lewensbeskouing nie.’ E.C. Pienaar, bejaarde Stellenbosse professor wat bekend was vir sy onvoorwaardelike afkeer van die moderne Afrikaanse poësie, se uitspraak oor die bundel was meer abrup. In 'n dagboek wat Opperman in 1946 hou, haal hy aan dat Ernst van Heerden hom vertel het: Net na my bundel verskyn het, het hy (Ernst van Heerden - J.C.K.) by E.C. Pienaar gekom. Die oubaas wou weet of hy 'n digbundel wil present hê - ‘Nou vat daardie - ek het dit net oopgemaak, want as iemand oor God in terme van gramadoelas praat, lees ek nie verder nie.’ Die besware teen duisterheid en die moreel-godsdienstige strekking van sy poësie sal etikette wees wat Opperman vir ten minste die volgende dekade of wat met hom sal moet saamdra. Naas die waarderende en insiggewende kritiek is dit in die kommentaar op sy werk voorlopig 'n bestendige aanwesigheid. | |
VIIIn Junie 1945 aanvaar Opperman 'n betrekking by die Helpmekaar Hoërskool in Johannesburg, wat vir hom 'n jaarlikse verhoging van £107.10.0 beteken. Afgesien van die finansies was daar ander oorwegings wat Opperman laat besluit het om die pos te aanvaar. Sy weduwee-moeder en ander familielede was - soos hy dit in sy bedankingsbrief van 21 Junie 1945 aan die Natalse Direkteur van Onderwys stel - in Johannesburg woonagtig en hy moes begin dink aan 'n eie huis na 'n getroude lewe van drie jaar. 'n Versweë maar waarskynlik deurslaggewende rede was die feit dat die oorwegend Engelstalige Pietermaritzburg te min stimuli gebied het vir sy skeppende werk en dat die negatiewe elemente ten opsigte van die Afrikaner en die Afrikaanse wêreld te sterk was. Aangesien die pos vanaf 31 Julie 1945 gegeld het, vra hy dat die Natalse Onderwysdepartement nie moet aandring op die gebruiklike kennisgewing van drie maande nie, maar veertig dae as voldoende sal beskou. Hoewel dit vir Dirk en Marié Opperman moeilik was om die vertroude sfeer van Pietermaritzburg en die provinsie Natal te verlaat, was hulle albei - na die suksesvolle afsluiting van die Natalse fase in hulle lewe met die publikasie van Heilige beeste - vol geesdrif oor die nuwe vooruitsigte en geestesprikkeling. In Julie 1945 vertrek hulle permanent uit Natal. |
|