D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 50]
| |
Hoofstuk 3
| |
[pagina 51]
| |
studente nie. In 1935 het die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg maar 'n skrale driehonderd studente gehad en onder hulle - die Afrikaanssprekendes ingesluit - was daar gevolglik 'n sterk samehorigheidsgevoel. Almal het mekaar geken en daar was geen skeiding tussen fakulteite, departemente of taalgroepe nie. Tog was die hele gees oorwegend Engels en die getal Afrikaanssprekendes baie klein. As Afrikaner moes jy òf Engels word òf tevrede wees met 'n redelike mate van isolasie. Vandaar dat Opperman - wat in elk geval daartoe geneig was om 'n alleenloper te wees - later kon getuig dat hy tydens sy eerste jaar aan die Universiteitskollege ‘ongelukkig gevoel het met die hele omgewing en omstandighede’.Ga naar eind1 Ten spyte van hierdie Engelse gees het die Engelstalige studente nie neergesien op die Afrikaners nie, al wou hulle dinge soos die gebeure in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog nie aanvaar nie en het twispunte oor die historiese verlede soms tot felle debatte gelei.Ga naar eind2 In so 'n mate is die Afrikaners egter deur die Engelstaliges aanvaar dat Johan Boshoff - later rektor van die Universiteit van die Noorde - voorsitter van die Studenteraad geword het, ten spyte van die feit dat hy 'n uitgesproke Malaniet was. In 1936, toe Opperman 'n tweedejaarstudent was, het hy en Boshoff in 'n brief aan The Natal Witness beswaar gemaak teen die rolprent Rhodes of Africa waarin Paul Kruger eensydig en belaglik voorgestel is. Die brief, wat in die uitgawe van 16 Junie 1936 verskyn, is 'n illustrasie van die logika en redeneervermoë waartoe die twee studente reeds in dié stadium in staat was. | |
IIIn 1935 het die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg uit slegs drie geboue bestaan. Daar was die Hoofgebou met sy toring wat die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte gehuisves het, 'n gebou vir Wetenskappe aan die westekant daarvan, en aan die oostekant die biblioteek met die Kunsdepartement op die boonste verdieping. Verder was daar 'n koshuis vir dames en die University Lodge vir manstudente in Durbanweg. In hierdie koshuis, wat drie en veertig mans kon huisves, het Dirk Opperman in sy eerste twee jaar teen die bedrag van £60 per jaar gewoon. Uit sy Matriekklas was Opperman die enigste wat regstreeks sy studie aan die Universiteitskollege sou voortsit. Die ‘ander Vryheidters’, so skryf hy in sy artikel ‘Twee bottels wyn’, soos Ben en Piet Pienaar, Rosie Roos, Flip Nel...en Gertjie van Rooyen is na die Opleidingskollege en sou eers in hulle tweede jaar vakke aan die Universiteit loop, onder meer Afrikaans-Nederlands I. Ek het hulle dus maar net af en toe gesien en betreklik eensaam gevoel. Van Utrecht het daar 'n groepie Afrikaners gekom met wie ek sou kennis maak.Ga naar eind3 | |
[pagina 52]
| |
Onder hierdie studente was Johan Boshoff wat reeds in 1934 in sy eerste jaar was, Jan Scannell wat later uitgewer in verskillende hoedanighede by die Nasionale Boekhandel-groep in Kaapstad sou word en van Opperman se publikasies sou behartig, Wessel van Niekerk, later inspekteur van skole in Natal, en Izak le Roux met wie Opperman gou 'n besonder noue vriendskap gesluit het en wat later direkteur van die Chrysler-maatskappy in Suid-Afrika sou word. Die Afrikaanse studente het 'n hegte groepie gevorm en dikwels dinge saamgedoen. Die spanninge in die Afrikanergeledere van die dertigerjare was nie juis voelbaar onder die studente nie, al was sommige van hulle uitgesproke V.P. - ondersteuners en ander weer sterk Nasionaalgesind. In hulle kulturele belewing was daar 'n eensgesindheid en het die verskille nie opgeval nie. Onder die ander Afrikaanstalige studente was daar Sokrates Jooste, Johannes van Wyk, Hermann Prozesky en M.J. Harris wat ook gedigte geskryf en later 'n hele paar boeke gepubliseer het. Later het bygekom Stoffel Nienaber, Sheila Cussons, Philip Grobler, Jan Breytenbach en Eddie de Beer. Omdat hulle 'n paar jaar jonger was as hy, sou Opperman die meeste van hulle eers as senior studente leer ken. University Lodge, waarin Opperman aan die begin van 1935 sy intrek geneem het, met Jack Freedman as kamermaat, was 'n ou, redelik donker baksteengebou met 'n mooierige ingang en 'n balkon. Aanvanklik het die studente nie gehou van die kos wat aan hulle voorgesit is nie. Een aand het hulle selfs sover gegaan om 'n eetstaking te organiseer, iets wat tot 'n verbetering in die gehalte gelei het. Tog was daar 'n aangename gees in die koshuis, veral omdat prof. Alan Hattersley, 'n oujongkêrel en hoof van die Departement Geskiedenis, die inwonende koshuisvader was. In ‘Twee bottels wyn’ skryf Opperman oor hom: Hy het Vrydagaande die kosgangers in klein groepies onthaal. Eers is daar gesels en dan het ons ‘monopoly’ gespeel. Ongeveer nege-uur het hy na 'n kamer langsaan gestap om die tee, koek en ander versnaperinge gereed te kry. Met die draai van sy rug het die vingers meteens uitgegryp na die groot houtdoos vol sigarette en elkeen het 'n handvol in sy sak gesteek. Prof. Hattersley was 'n sagsinnige man en het nooit moeilikheid gesoek nie! Saans moes ons gaan eet met donker pakke en togas aan. Die medaljehouers in 'n vak het dan om die beurt in Latyn gebid. So het ek ook na my eerste jaar ge-‘Benedic Domine nos’ - omdat ek saam met 'n buitemuurse student, M.J. Harris - ook 'n digter en skrywer - die medalje in Hollands I verwerf het.Ga naar eind4 Ongeveer negentig persent van alle studente wat in 1935 in Pietermaritzburg by die Universiteitskollege ingeskryf het, was mense wat as gevolg van die depressie met beurslenings van die Natalse Onderwysdepartement daartoe in staat gestel is. Die houer van so 'n beurslening was kontraktueel verplig om dieselfde aantal jare as wat sy studies geduur het, diens as onderwyser te lewer | |
[pagina 53]
| |
en daarnaas die lening saam met vyf persent rente deur maandelikse aftrekkings van sy salaris aan die Natalse Provinsiale Administrasie terug te betaal. Philip Nel, Jan Scannell, Wessel van Niekerk en Opperman was almal mense wat met behulp van provinsiale beurslenings gestudeer het en nie een van hulle het juis geld oorgehad vir enige luukshede nie. Dit was die dae van studentearmoede, en in die hele Universiteitskollege het net Stephanie Kemp en Des Clarence - later prinsipaal van die Universiteit van Natal - motors besit, laasgenoemde 'n klein vuurhoutjiedosie-Austin. In sy senior jare het die welgestelde Johan Boshoff 'n Opel vir die astronomiese bedrag van £120 gekoop. Dirk Opperman kon van sy derde jaar af 'n klein groenerige motorfiets bekostig wat hy vir £25 in die hande gekry het. As gevolg van die benarde finansiële situasie waarin die meeste studente hulle bevind het, was hulle sosiale bedrywighede baie beperk. Dikwels het hulle lekkers en vrugte gekoop en lang wandelinge onderneem na die middestad - meer as vier kilometer ver. Daar het hulle by The Creamery of Christie gaan tee drink of in die Grand, die King of die Excelsior gaan fliek waar die prys van 'n kaartjie sewe pennies was. Soms het hulle brug of snoeker gespeel, platesessies gehou, Saterdagmiddae rugby gaan kyk en enkele kere funksies saam met die dames bygewoon. Soos sy gewoonte op skool was, het Opperman dikwels sy medestudente geterg. By geleentheid het hy en 'n paar maats wilde uie en brandnetels in van die ander se slaapklere gesteek. Hy kon 'n hoenderhaan se kraai perfek namaak en tot groot vermaak van sy vriende het hane in die buurt begin saamkraai as hy die aand op sy stukke was. Hoewel Opperman 'n aansienlike jong man met golwende rooi hare was en sosiaal baie aangenaam en plesierig kon wees, het hy bekend gestaan as iemand wat sy eie koers loop en hom nie veel aan die studentelewe steur nie. Dit was reeds in hierdie stadium vir hom 'n uitgemaakte saak dat hy 'n digter wil word en hy het nougeset dié ideaal nagestreef. Hy was behep daarmee om skeppenderwys te lewe. Met sy natuurlike nuuskierigheid het hy ‘aaslustig’ in 'n groot verskeidenheid dinge belanggestel en besonder baie gelees, maar alles met die doel om dit op die een of ander wyse in sy digkuns te laat uitkristalliseer. Sy opvatting oor die ewige wisseling van vorme en gestaltes en die wesenloosheid van die kunstenaar, wat in hierdie stadium reeds deur die studie van Ovidius by hom gewek was, het skynbaar nog weinig tot uiting gekom. Aan fel politieke debatte het hy min deelgeneem en feitlik nooit gesprekke oor die bestaan van 'n Godheid gevoer nie. Hy was bekend as iemand wat selde kerk toe gegaan het en wat deur predikante se styl geïrriteer is.Ga naar eind5 In Pietermaritzburg was daar 'n ds. J.E. van Heerden wat met die onmoontlikste beeldspraak vorendag gekom het, soos ‘Die Heilige Gees is nes 'n broeis hen wat op haar eiers neerdaal en dit warm hou.’ Met sy ingesteldheid op korrekte taal- en beeldgebruik het Opperman 'n renons in sulke dinge gehad. Tog het hy nie as persoon die indruk van wesenloosheid gewek nie. Hy was | |
[pagina 54]
| |
iemand met besliste oortuigings wat homself kon laat geld as dit nodig was, al het hy bekend gestaan as 'n beskeie persoon wat min oor homself gepraat het. Oor sy familie-agtergrond het hy nooit iets gesê nie; ook nie dat hy reeds op skool in Die Huisgenoot gepubliseer het nie. In die jare 1935-1938 het hy 'n dagboek gehou waarin hy, naas optekeninge van gesegdes, eienaardige gebruik van woorde, temas en belewenisse met meisies, gedagtes neergeskryf het oor die wese van die mens, sy herkoms en bestemming. By een geleentheid het hy hierin opgeteken dat ‘die mense...uit 'n vrees (aanbid)’ en dat hierdie vrees die oorsaaklike faktor vir die totstandkoming van die verskillende godsdienste is. By 'n ander geleentheid skryf hy: ‘Vir my is my eie hoogste belewing van godsdiens deur kuns,’ 'n uitspraak waaruit 'n mens kan aflei dat Opperman wel intens oor sy verhouding tot God nagedink het. So vroeg as 1935 skryf hy in sy dagboek die volgende aantekeninge: Ewigheid: Hierdie voorstelling van die ewigheid moes lank by hom nagewerk het, want jare later neem hy in Kuns-mis, 'n versameling gedigte wat in 1964 verskyn maar oor 'n groot aantal jare ontstaan het, die gedig ‘Aaispaai’ op waarin hy dié gegewens verwerk. Alhoewel Opperman met die meeste Afrikaanstalige studente bevriend was, het hy 'n besonder hegte verhouding opgebou met die intelligente en wakker Izak le Roux wat hy al sy gedigte voor publikasie laat lees het. Le Roux se moeder het gedweep met C.H. Welch se The dispensational truth, 'n boek ‘met simboliese voorstellings van die Profete en verklarings van die profesieë’Ga naar eind6 wat ook Opperman beïndruk het en wat tydig en ontydig in Le Roux se gesprekke as bewysmateriaal aangehaal is. Dikwels het die skraal, feitlik asketiese Le Roux en die gesette Opperman saam deur die strate gestap en is die twee vriende deur hulle maats, na aanleiding van die voorgeskrewe bloemlesing van Dekker uit die Nederlandse poësie, tot Maerlant en Boutens herdoop!Ga naar eind7 In hulle eerste twee jaar het Opperman en Le Roux in University Lodge ingewoon, maar in 1937 het hulle albei private kamers betrek by St. Patricklaan 106, die huis van Gert Nel, 'n rysige oubaas wat afslaer was en as voorsanger in die kerk opgetree het. Dit was toe lank reeds Opperman se gewoonte om snags tot die vroeë oggendure te werk en in die middag te slaap, 'n werk- en leefpa- | |
[pagina 55]
| |
troon wat hy vir die res van sy lewe sou volg. Juis weens hierdie middagslapery het hy een aand te laat vir ete opgedaag. 'n Hewige rusie met wedersydse verwyte tussen hom en sy hospita het ontstaan, en Opperman en Le Roux het besluit om onmiddellik van woonplek te verander. Hulle het hulle intrek geneem in die Green Cottage, 'n losieshuis langsaan die Victoriaanse huis van die medikus dr. C.J. Albertyn met wie hulle goed bevriend geraak het. Naby die Green Cottage was mev. Dientjie Harding se eenvoudige maar onberispelik netjiese huisie in Burgerstraat 287 in die hart van die stad. By haar het hulle geëet en dikwels saam met haar kinders croquet voor die huis gespeel. | |
IIIOpperman se dagboek uit die jare 1935-1938 gee, naas optekeninge van gedagtes, gesegdes en temas, veral 'n noukeurige verslag van sy liefdeslewe, in so 'n mate dat hy in 'n latere dagboek wat uit 1946 dateer, afkeurend daarna verwys as iets wat ontaard het in ‘'n optekening van verhoudinge met vroumense’. In die dagboek word die meisies net by wyse van 'n voorletter of 'n simbool aangedui en is daar 'n mate van opsetlike misleiding. As 'n mens vandag die identiteit van die betrokkenes wil vasstel, moet jy dus steun op inligting van persone met wie hy indertyd bevriend was. In sy eerste jaar het Opperman van tyd tot tyd sy skoolvriendin, Gertjie van Rooyen, uitgeneem wat toe student aan die Opleidingskollege was. In 1936 het Retha Meintjes van Utrecht in Pietermaritzburg kom studeer in 'n tyd, soos Opperman later sou getuig,Ga naar eind8 toe 'n Afrikaanse nooi iets skaars aan die Natalse Universiteitskollege was. Hy het haar heel gou begin uitneem. Op 19 Maart nooi hy haar saam na 'n debat en na afloop daarvan is daar 'n vrolike party by die rivier. Vir lesers van sy kompakte, kernagtige poësie, waarin elke woord 'n funksie het, is dit nogal vreemd om die verliefde Opperman in die styl van die week-romantiese prosa van die dertigerjare te ervaar! Hy skryf in sy dagboek: Die bootjie gly oor die stilte self al stroom af: die oorhangende wilgerstringe vee teen ons gesigte. Ons twee sit voor in die skuitjie. Die stille sterreflonkering wat wyd om ons uitstrek en diep lê in die koele klare waters. Die vorm van haar lyf in my arm, die wind deur die ligte hare, en die slap ooglede op die droomoë. 'n Opkomende gevoel wat hunker om in woorde vasgelê te word, het ek onderdruk...maar woorde is nie die enigste draer van 'n mens se gevoel nie. Die volgende aand om sewe-uur, net na aandete, gaan hy weer na die dameskoshuis toe: Ek het nog my toga aangehad want daar was nie tyd na ete om dit te bêre nie. Ingehak het ons gestap...stadig en die koel aandlug genietende. Sy wou weer | |
[pagina 56]
| |
om 7.45 terug wees om debat toe te gaan. Laag het die suiderkruis skuins in die nag gehang. En toe ons terug stap, het daardie weemoedige geluk weer by my opgekom, ek wou dit weer onderdruk maar toe ons in die smal paaidjie stap tussen die bome het ek my hart se heiligste aan haar ontvou...Ons diepste wesens het soos twee vlamme inmekaar ingesmelt en voortaan sou ons maats wees, waaragtige maats wat mekaar lei...Toe het ons op die bank onder die ou jakarandaboom gaan sit en op 'n toepaslike manier mekaar se erns verseker. Later het ek 'n sigaretjie gerook...en sy het nie debat toe gegaan daardie aand nie. Waarskynlik na aanleiding van dié ervaring skryf hy vir haar die volgende woorde: Ek het jou tot my tempel toegelaat
Om in die groen gedempte lig
Nie een geheim gedek te laat
Maar soos met my God met jou te praat.Ga naar eind9
Dikwels spreek uit die dagboek die onrustige emosies van die jong gemoed, die liefdesmisère, die onsekerheid of die liefde beantwoord word en ‘afwisselende stemminge van geluk en bitterheid’. As hulle op 7 April in die trein sit onderweg huis toe vir die April-vakansie van 1936, drink hulle 'n drankie: Aangenaam het ons gesels en 'n afskeidsvertedering het elke woord versag. Ek steek 'n sigaret op...die blou omkrullende rook sliertjies...Ek sien haar gesig aan die anderkant v/d tafel...tussen ons 'n pot geelblomme. Weer het ek my spyt vir die vorige aand herhaal. ‘Ag, moenie. Dit was my skuld netsowel as joue...’ Ons het nog 'n langruk in die gangetjie gesels en toe gegroet en gaan slaap. Tydens die vakansie leer Opperman sy Matriekmaat Jannie Theron se suster Marie beter ken, 'n swygsame meisie saam met wie hy die stilte van die veld geniet en oor wie se skryfpogings hulle gesels. In die Junie-Julie-vakansie sien hulle mekaar weer en dan vind Opperman uit dat iemand anders in haar belangstel en haar gevra het om met hom te trou. In daardie stadium het sy nog nie ernstig aan 'n huwelik gedink nie, al was haar ouers - veral haar moeder - baie gek na die man. Terug in Pietermaritzburg sien Opperman, wat sy liefde vir Marie Theron probeer demp het, van tyd tot tyd weer vir Retha Meintjes, maar hy besef dat die verhouding nie verder kan ontwikkel nie. As hy aan die einde van 1936 tydens die bloktyd terug is op Vryheid, gaan swem hy een Sondag saam met sy suster Liz en Jannie Theron op die nabygeleë | |
[pagina 57]
| |
Saaifontein. Dáár word hy bewus van 'n swakheid in hom, ‘'n soort vormlose innerlike’, en dit laat hom verlang ‘na 'n forse gees uit die skonere geslag wat (hom) sou kon vorm, (hom) sou stukrag gee’. Tydens die swemmery beseer Jannie sy been en op Vrydagaand, 11 November, besoek hy en Liz vir Jannie en gesels hy ook met Marie wat vir hom intussen mooier maar ook onbereikbaarder geword het. Met hulle besoek die volgende aand raak dit vir hom duidelik dat Marie onder groot druk van haar moeder verkeer om teen haar sin die huweliksaansoek te aanvaar. In die volgende dae verneem hy van floutes wat sowel Marie as haar moeder gehad het en belewe hy self een nag ylings en hallusinasies. Wanneer hy haar weer besoek, leen hy vir haar 'n versameling Duitse kortverhale waarin Theodor Storm se Immensee voorkom, die verhaal van twee mense wat vir mekaar bestem lyk. As Reinhard verder gaan studeer, trou Elisabeth egter met die ryk Erik, die heer van Immensee. Die rede word eers jare later duidelik as Reinhard Immensee besoek en uit sy versameling volksliedere voordra: ‘Meine Mutter hat's gewollt, / Den andern ich nehmen sollt.’ Só toepaslik is hierdie parallel op hulle eie situasie dat Marie by geleentheid vir hom sê dit lyk ‘asof hy vir ons geskryf is’. As Opperman deur Jannie van Marie se situasie en stryd verneem, stuur hy vir haar die volgende vers: O medesiel van my
Deur mense afgeskei
Hou in die stryd maar moed
Want in jou gees weet jy
Ons sal met kragte stry
Deur God gegee
Aan jou en my...
In die tyd dat hy niks van Marie verneem nie, skryf hy die ontwerp vir 'n moontlike verhaal neer en verdiep hy hom in 'n sistematiese studie van die Tagtigers. Later hoor hy dat sy verloof is en 'n paar dae ná Kersfees 1936 ontvang hy 'n brief van haar waarin sy hom vra om haar te vergeet en te vergewe. Die hele situasie en die traumatiese ervaring lei tot die gedig ‘Onbeantwoorde liefde’ wat die invloed toon van die vrye verse van J.C. van Schagen, Marnix Gijsen en ander Vlaminge met wie se werk Opperman waarskynlik reeds in hierdie stadium - blykens 'n opmerking van G.S. Nienaber in die brief van 31 Mei 1953 - vertroud moet gewees het, al het Zoeloe-minnebriewe volgens sy getuienis ook 'n invloed gehad. Hierdie gedig is die boustof vir 'n verdere vers wat hy onder dieselfde titel in Opwaartse drif opneem. In Januarie 1937 werk Opperman, soos ook tydens ander universiteitsvakansies, as vragmotorbestuurder van die klipbrekers by die munisipale gruisgat op Vryheid. Dikwels ry sy oud-onderwyser Boonstra se seuntjie Rudi saam vir wie hy onderhoudend en met 'n besondere oopgesteldheid vir die kind se wêreld die pragtigste stories vertel. Aan die begin van die akademiese jaar keer hy | |
[pagina 58]
| |
terug na Pietermaritzburg vir sy derde jaar en die voltooiing van sy B.A. opleiding. In die loop van 1937 ontmoet hy vir Olga Ardell, 'n professionele model by die Kunsafdeling van die Universiteitskollege en 'n meisie wat 'n hele paar jaar ouer was as hy. Omdat niemand in Pietermaritzburg gevind kon word wat bereid was om naak vir die studente te poseer nie, is sy spesiaal deur die Kunsafdeling van Engeland af laat kom. As iemand wat van ‘vreemde seë’ kom, veel gereis het en daarop uit was om altyd nuwe horisonne te ontdek, het sy Opperman se nuuskierigheid en belangstelling in die ongewone en besondere geprikkel. Dit was haar voorneme om met die geld wat sy as model verdien, die wêreld te deurreis. Na afloop van haar termyn in Pietermaritzburg sou sy 'n tyd lank as model in Durban werk en van daar na Australië gaan. Aanvanklik het Opperman haar uitgenooi na 'n dans, toe bioskoop toe en daarna dikwels saam met haar gaan stap en by Christie gaan koffie drink. Die feit dat baie mense in die klein en betreklik konserwatiewe gemeenskap van Pietermaritzburg bedenkinge gehad het oor die morele waardes van iemand wat bereid was om naak te poseer en sou dink dat hy sy eie reputasie op die spel plaas, het hom glad nie afgeskrik nie maar eerder aangespoor. Dikwels het hy haar smiddae op die stoeptrappies van die Kunsgebou kom haal, styf by haar ingehaak en met 'n klein wandelstokkie in die hand en 'n enigsins uitdagende houding in die straat afgestap, amper asof hy wou sê: ‘Waag julle nou net om 'n aanmerking te maak’! Tog wonder hy in hierdie dae watter soort persoon sy werklik is. Hy vind dit moeilik om haar ‘as 'n versoenende geheel te sien’ en om ‘die feit dat sy kaal of halfkaal poseer (, te) versoen met die res van haar persoonlikheid’. In die loop van hulle verhouding, wat met ‘vlindersoene’ en ‘subtiele omhelsings’ begin maar algaande ernstiger en intenser word, leer Opperman 'n geesteshouding en - vryheid ken waarmee hy tevore nog nie in aanraking was nie, 'n vrou wat ekonomies en geestelik heeltemal onafhanklik van 'n man wil leef. Van tyd tot tyd luister hulle na musiek, gaan hulle saam eet, neem hy haar na World's View buitekant die stad of drink hulle ‘highballs’ in die Imperial Hotel. In hierdie tyd is Opperman gelaai met energie en werk hy aan 'n artikel vir Die Huisgenoot, sien hy eerstejaarsopstelle na en is hy besig met sy M.A.-studie, maar in die vroeë ure van die oggend ervaar hy ‘die sagte heimwee... om by haar te wees’, om ‘die teerheid van daardie stille nabysyn, daardie versagtende gevoel te belewe’. Saans sit hy by sy lamp en werk en wag ‘vir die sagte voetval op (die) systraatjie, die oopswaai van die hekkie, en die sagte klop aan die venster...’ Dan sitlê sy op die bed en lees terwyl hy opstelle nasien. In hierdie tyd raak hy oortuig daarvan dat die ‘liefde vir 'n man...net 'n gedeelte van sy lewe’ is, terwyl 'n vrou se hele lewe daardeur gevul word, 'n oortuiging wat later neerslag sal vind in Joernaal van Jorik in die siening van die man as | |
[pagina 59]
| |
'n Jupiter, 'n swaan in hoë vlug
wat af en toe terloops met moeë vlerk
vanuit 'n stil alleenreis deur die lug
sal neerstryk teen 'n Leda se wit lyf,
oornag...vir verder reis die krag weer vind
nog as sy oor die eier praat, en dryf
met seningvlerke op die ligste wind.Ga naar eind10
Ten spyte van die ontluikende liefde tussen hulle kom daar tog 'n verwydering, waarskynlik as gevolg van die verskil in agtergrond en die feit dat Opperman van die begin af geweet het dat sy net 'n kort tydjie in Pietermaritzburg sou wees. Van haar kant af was daar ook die besef dat 'n te intense verhouding vir hulle albei nadelig kan wees. 'n Te groot intimiteit, so sê sy vir hom kort voor haar vertrek in 1938, will leave an aftertaste to our friendship...and we will regret it, we will be doing each other wrong, perhaps I more to you. And when we are parted what are you going to do, what shall I do. Once the longing is in our blood...what will we do in the silences to follow...it would lead to our fall.Ga naar eind11 Opperman se belangstelling in Olga Ardell was hewig en intens en die verhouding was vir hom geestelik verruimend, maar in laaste instansie was sy 'n verbygaande fase in sy lewe. Kort na die afskeid van Olga Ardell ontvang Opperman 'n brief van Marié van Reenen vir wie hy reeds van skooldae geken het, sonder dat daar sprake van enige vriendskap of verhouding tussen hulle was. Die oudskolierebond van die Hoërskool Vryheid wou 'n reünie van leerlinge hou en Marié, wat in hierdie tyd 'n B.Sc.-kursus aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria gevolg het, moes as sekretaresse hieroor met Opperman as voorsitter in verbinding tree. Toevallig was Opperman juis in hierdie tyd besig met navorsingswerk vir sy M.A.-verhandeling en moes hy dokumente in verband met Gustav Preller in Pretoria gaan raadpleeg. Marié reël vir hom losies in een van die koshuise en sy kanselleer sommer 'n afspraak met haar vaste vriend om hom op sy aandrang 'n bietjie in die stad rond te neem. Die herontmoeting vind op 'n koue wintersaand in Mei 1938 plaas. Marié, 'n pragtige meisie met lang swart hare en bruin oë, het die aand 'n wit pelsbaadjie aan. Na al ‘die liefdes, al die verhoudings’ van die verlede, so skryf Opperman met 'n bietjie romantiese oordrywing in sy dagboek, kom hy met 'n ‘moeë hart’ na haar toe, 'n hart wat lank gelede na jou gevoel het maar alles as illusie weggeblaas het. 'n Moeë hart wat digby jou wou wees...En met 'n moeë hart het ek tussen die bome in die donker nag heengedwaal. | |
[pagina 60]
| |
Later sal hierdie emosies blywender gestalte vind in die gedig ‘Bede’ (Heilige beeste) wat hy vir Marié in Pretoria gee. Aanvanklik wek die nuwe vriendskap 'n vrees by Opperman, omdat hy jaloers is op sy jeug en meen dat Marié bloot uit simpatie in hom geïnteresseerd raak. Van die begin af is hulle vriendskap egter veel meer volwasse as dié van sy vroeëre verhoudings. Saam roep hulle jeugherinneringe op ‘wat...soos eggo's tussen kranse rol’ en hy ontleed hulle verhouding tot mekaar met veel meer insig as dié met ander meisies voorheen: Twee swart kranse. Teenoor mekaar staan hulle. Tussen hulle lê 'n ravyn waarin die mis rondval en optas tot hulle dromende kruine wat dink oor die dae toe hulle nog een was en daar geen skeiding was nie. En hulle het die weerklank gegooi na mekaar van 'n skreeuende stem wat tot ver in die donker grotte weggerol het...maar dit was te vergeefs. Hulle het geskeie gebly. Hierdie siening en die beeld van die ‘weerklank’ keer terug in die sekstet van ‘Echo en Narcissus’, een van die gedigte in sy debuutbundel wat deur sy studie van Ovidius gewek is: Dit was hul bitter lot dat sy van hom
afhanklik was soos weerklank in 'n kloof
is van 'n stem; dat hy deur late nagte
by lamp en boek bly sit en met sy hoof
gebuig oor eie beeld, net soos 'n blom
wegkwyn langs helder waters van gedagte.
Die wesentlike geskeidenheid wat hy aanvanklik beleef, is deels die gevolg van 'n nuwe beeld van haar waaraan hy gewoond moet raak. Aan die begin ervaar hy haar as ‘'n wit en koel marmerbeeld’, amper soos Keats se genadelose vrou: Jy was stil...daar was musiek in die kamer; musiek wat tussen vier donker smal mure vasgehou word, musiek wat wou losbars wat ruimte wou hê; maar jy was stil, jou hand het nie geantwoord nie, jou wange was sonder gloed, jou stem te vas...Madonna sans merci! Eers later, as hulle in die motor ry, kom daar 'n wedersydse begrip en as hy moet terugkeer na Pietermaritzburg, probeer hy haar behou: En ek moes weggaan van jou, die eise (van die) lewe en lewenstelsels het my weggeroep maar ek het gedurig jou probeer behou, na jou gegryp met telefoondrade en briewe... Dieselfde gedagte formuleer hy 'n bietjie later as volg: | |
[pagina 61]
| |
En ek is weggeskeur van jou...en briewe het ek na jou gelos soos wit duiwe...en treine het my na jou geneem...en blomme het ek vir jou gestuur...en ons harte het oopgegroei na mekaar...en nou staan ek nog in hierdie wonder wat om my oopgaan... Die gedig ‘Twee stede’, wat hy ook in Heilige beeste opneem, steun op hierdie skeiding wat Opperman ervaar as hy in Pietermaritzburg en Marié in Pretoria met hulle onderskeie studierigtings besig is, terwyl die telefoondrade, briewe en treine in die dagboek as beeldmateriaal in die gedig verwerk word: Onmagtig moes ek met gespanne drade
uitgryp oor die skeiding tussen my en jou,
gryp met die swart draf van pale
teen die heuwels uit,
die wit vlug
van briewe deur die lug
en treine wat deur tonnels fluit.
Uiteindelik is ons nouer aan mekaar verbonde,
maar tussen my en jou ruis altyd nog
riviere, stiltes en afgronde.
Die ‘forse gees uit die skonere geslag’, na wie Opperman in 1936 tydens sy vriendskap met Marie Theron reikhalsend uitgesien het, vind vir hom persoonlike gestalte in die persoon van Marié van Reenen. Dit is opvallend dat die prosa in sy universiteitsdagboek van hierdie ontmoeting af soberder raak en die woordgebruik 'n groter tug verraai. Kort na die weersiens in Pretoria kom sy dagboek tot 'n einde, waarskynlik omdat hy sy gevoel teenoor haar in brieweGa naar eind12 vaslê en hy haar gereeld tydens die universiteitsvakansies op Vryheid sien. In 1940 gee Marié, wat op 19 November 1918 gebore is en dus amper vier jaar jonger is as haar toekomstige eggenoot, onderwys op haar geboortedorp en in 1941 kry sy 'n aanstelling aan die Voortrekkerskool in Pietermaritzburg, waaraan Opperman ná voltooiing van sy studies ook verbonde is. | |
IVIn sy eerste jaar aan die Natalse Universiteitskollege het Opperman Hollands - soos die vak Afrikaans en Nederlands indertyd bekend was - Geskiedenis, Engels, Chemie en Staatsleer geneem. In 1936 en 1937 het hy sy studie van Hollands en Geskiedenis voortgesit en daar by twee kursusse in Sielkunde en die spesiale kursus in Duits gevolg. Aangesien Sielkunde indertyd 'n tweejari- | |
[pagina 62]
| |
ge hoofvak was, het hy aan die einde van 1937 die graad B.A. met drie hoofvakke verwerf: Hollands, Geskiedenis en Sielkunde. Behalwe in Hollands, wat hy in sy eerste en derde jaar met lof geslaag en waarvoor hy in 1935 die klasmedalje met Wessel van Niekerk gedeel het, was Opperman se prestasies as student nie juis besonder goed nie. In Chemie en Staatsleer het hy onderskeidelik 43 persent en 41 persent behaal, terwyl sy punt vir Sielkunde gewissel het van 58 persent in sy tweede jaar tot 46 persent in sy derde jaar. Vir Geskiedenis was sy uitslae tussen 49 persent en 56 persent en vir Duits 64 persent. In sy eerste jaar het hy 70 persent in Hollands behaal - die hoogste punt in sy voorgraadse jare - en in sy tweede en derde jaar 62 persent en 66 persent onderskeidelik. 'n Mens moet egter onthou dat die slaagsyfer destyds 40 persent en die onderskeidingsyfer 66 persent was.Ga naar eind13 Daarby het Opperman 'n individuele aanslag en instelling as student gehad. Naas sy skeppende werk is sy tyd in beslag geneem deur 'n sistematiese en ruim verkenning van die literatuur en was hy nie in so 'n mate ingestel en gesteld op hoë punte in 'n vak nie. Hy het ander prioriteite gehad. Onder die dosente wat in Opperman se voorgraadse jare 'n besondere indruk gemaak het, was dr. G.P.J. Trümpelmann by wie hy in 1936 vir die spesiale kursus in Duits ingeskryf was. Met sy helder stem, oortuigende doseerwerk en aangename persoonlikheid het daar 'n mate van kontak ontstaan tussen hom en Opperman, wat voortgesit is toe hulle later saam kollegas aan die Universiteit van Stellenbosch was. Engels is aangebied deur onder andere prof. Bobby Waterhouse, maar Opperman het dié kursus net een jaar gevolg. In die Departement Sielkunde het die lewendige dr. Ella Pratt Yule Opperman in so 'n mate geïnspireer dat hy in 1938, die jaar toe hy tegelyk met die hoër Onderwysdiploma en sy M.A. besig was, 'n nagraadse kursus van haar sonder eksamenverpligting bygewoon het. In sy kritiese werk uit dié jare en ook later blyk sy deeglike kennis van die Sielkunde. Vir Geskiedenis het hy lesings ontvang van die later baie bekende dr. A.M. Keppel-Jones, maar dit is veral die fyn beskaafde prof. Alan Hattersley wat groot agting afgedwing en 'n kritiese sintuig by Opperman ontwikkel het. Hattersley was 'n sieklike man en het ouer gelyk as wat hy in werklikheid was, maar voor die klas het hy vertroue ingeboesem deur sy deeglike voorbereiding en wyse van aanbieding. As navorser het hy gekonsentreer op die geskiedenis van Natal, maar hy was ook die skrywer van A short history of Western civilisation (1926) en History teaching in schools (1935). Toe Opperman in sy tweede jaar by geleentheid 'n werkstuk vir hom moes inlewer en te veel van sy kennis van die poësie ten koste van die feitelike historiese basis ingewerk het, kon prof. Hattersley onderaan die opstel die opmerking maak: ‘History and poetry do not make good bedfellows’!Ga naar eind14 Dit is egter die kursusse in Hollands wat Opperman se belangstelling in die besonder gewek het. Prof. Gerrit Besselaar, skrywer van Zuid-Afrika in de letterkunde (1914) - 'n boek wat in nagraadse jare Opperman se belangstelling | |
[pagina 63]
| |
in die ouer literatuur in en oor Suid-Afrika sou prikkel - het by die totstandkoming van die Natalse Universiteitskollege Hollands, Frans, Duits en Geskiedenis gedoseer. ‘Eintlik was dit nie 'n leerstoel nie,’ sê hy in sy outobiografiese Sestig jaar belewenis van Dietse kultuur,Ga naar eind15 ‘maar soos ek geantwoord het aan 'n onderwysman op die Rand wat my een dag vra: What is your chair? - I have no chair. I got a settee.’ Met die ontwikkeling van die inrigting is die las van Frans en Geskiedenis egter van Besselaar weggeneem, maar Duits het tot einde 1934 onder Hollands geressorteer. Van 1925 af is bepaal dat ‘Hollands...sowel Afrikaans as Nederlands (omvat)’.Ga naar eind16 In 1932 het Besselaar bedank om 'n leerstoel in Amsterdam te aanvaar en het prof. J.J. le Roux - skrywer van die Utrechtse proefskrif Oor die Afrikaanse sintaksis (1923) - die hoofskap van die Departement oorgeneem, met as verdere dosent dr. G.S. Nienaber wat reeds van 1928 af aan die Universiteitskollege verbonde was. Nienaber was al in hierdie jare 'n aktiewe navorser en skrywer van Die Afrikaanse Beweging (1931) en Honderd jaar Hollands in Natal (1933). In 1933 het hy in Gent gepromoveer met 'n proefskrif Oor die Afrikaanse taal (1934). In die dertigerjare het die getal studente in die Departement Hollands gewissel van ongeveer eenhonderd in die eerstejaarskursus tot 'n gemiddelde van vyftien in die tweede en 'n gemiddelde van tien of minder in die derde jaar. Die gevolg hiervan was dat die studente van die tweede jaar af individuele aandag kon geniet en 'n persoonlike verhouding met hulle dosente kon opbou. Opperman se verhouding met albei die dosente was hartlik, al het hy van die begin af meer van die oper en spontaner dr. Nienaber as van prof. Le Roux gehou. Prof. Le Roux was nie juis 'n aansienlike man nie en met sy kuif, wat nooit in toom gehou kon word nie, het hy onder die studente die bynaam Satan verwerf. In die Natal University College Magazine van Junie 1935 verskyn 'n aangepaste en enigsins verwronge foto van hom met 'n aanhaling uit Vondel daarby, wat 'n aanduiding gee van hoe hy voor die klas daar moes uitgesien het: Wat treurt ghy, hooghgheleerde -
en fronst het voorhooft
van verdriet?
Tog was hy 'n baie aangename mens maar enigsins swaar van spraak, 'n man wat nie 'n natuurlike dosent was nie en klas gee 'n geweldige inspanning gevind het. In sy artikel ‘Twee bottels wyn’ sê Opperman van hom: Prof. Le Roux was groot van liggaamsbou, sy grys hare klein-krullerig; hy het stadig gepraat, amper asmaties, en kort-kort die sweet van sy voorkop afgevee. Ten spyte van 'n sterk stem het hy gedigte geteem: op 'n keer toe hy ‘Constantijntje, 't zaligh kijntje’ voordra, het die klas dit tot sy gramskap saggies nageteem. | |
[pagina 64]
| |
In teenstelling tot die gulle en gasvrye dr. Nienaber het prof. Le Roux sy menslikheid nie so maklik geopenbaar nie. Hy en mevrou Mien le Roux, 'n Nederlander en sangeres, het af en toe die tweedejaars en gevorderde studente in die Departement uitgenooi om maats saam te bring en gesellig by hulle aan huis te verkeer. Ons het dan op die stoep gedans (.) Dr. Nienaber en sy vrou het in 'n huis naby die Universiteitskollege gewoon en ons dikwels uitgenooi om Sondagaande by hulle na musiek te kom luister, veral opera. Hy het dan by elke stuk 'n inleiding en verduideliking gegee, en dit nooit nagelaat om waar hy kon, van onnutsighede kwyt te raak nie, soos met La Bohème en Faust. Verskeie studente het by hulle loseer, onder meer sy broer Stoffel, wat later sy opvolger en hoof van die Departement geword het. In vergelyking met prof. Le Roux was dr. Nienaber kleiner van bou, die hare groot golwend; hy het pal 'n dunraambril gedra, nadruklik en vinnig gepraat, meermale met handgebare en iets ondeunds in die oë en om die mond. In die begin het hy E.C. Pienaar se Digters uit Suid-Afrika met ons bespreek. Daar was min nuuts wat hy kon bring as gevolg van dié bepaalde boek. Tog het hy hom goed ingeleef en begeesterende lesings gegee. Baie gou het die verhouding met dr. Nienaber intiemer en gemoedeliker geword. Hy was redakteur van Die Saamwerk en het reeds vanaf my tweede jaar van my universiteitsopstelle daarin geplaas, ook gedigte, en my af en toe gevra om boeke te bespreek. Ek het al hoe meer 'n nagwerker geword, en een van sy lesings was om agtuur. Nou watter redelike skepsel staan saam met die hoenders op? Dit moes dr. Nienaber geïrriteer het dat ek meermale nie betyds opdaag nie. Op 'n oggend toe ek tien minute laat insluip na my sitplek, onderbreek hy sy lesing. Hy kyk spottend na my en sê: ‘Dit spyt my, mnr. Opperman, dat ek met die lesing begin het voordat u hier was.’ Ek staan onmiddellik op en antwoord: ‘Toe maar, dr. Nienaber, moet net nie dat dit weer gebeur nie!’ Die klas het gelag en hy het letterlik oopmond en kopskuddend na ons gekyk. 'n Mens kan verwag dat in so 'n verhouding die jongste van die twee nie die perke sal ken nie. Op 'n dag gesels ek en 'n ander student, Manie Fourie (seun van die Bybelvertaler), voor die lesingkamer. Dr. Nienaber kom haastig daar aan, kam sy vingers deur die hare en verduidelik hy moet dringend 'n saak gaan afhandel; hy sal dus effens laat wees. Ek en Fourie besluit toe om 'n grap te maak. Hy skryf op die bord: Daar sal vandag geen lesing wees nie. En ek het gesorg vir dr. Nienaber se handtekening, nogal betreklik getrou. Toe hy later opdaag, het hy verbaas, verdwaas, teleurgesteld gestaan en aan 'n student (mej. Valentine) gemompel: ‘Juffrou, hulle is weg.’ By nadenke het ons besef dat ons met dié grappie net te ver gegaan het, veral deur die vervalste | |
[pagina 65]
| |
handtekening. Na beraadslaging besluit ons om hom om verskoning te gaan vra en hy was uiters kalm en menslik daaroor; in welke mate het ek eers jare later besef toe die akademiese wraakgodin my as senior lektor aan die Universiteit van Kaapstad en later as professor op Stellenbosch deur amper soortgelyke gevalle gestraf het. Wat die voorgraadse doseerwerk betref, het prof. Le Roux veral op die gebied van die taalkunde - in die besonder die sintaksis - gekonsentreer, maar ook die kursus oor die Tagtigers in die derde jaar en oor die sewentiende-eeuse Nederlandse letterkunde in die tweede jaar vir sy rekening geneem en in die eerste jaar die oorsig oor die Nederlandse letterkunde aan die hand van C.M. van den Heever en A.J. Coetzee se handboek behartig. Vir die kursus oor die Goue Eeu in die tweede jaar het hy op Vondel gekonsentreer en Lucifer, Adam in ballingschap en Leeuwendalers met sy studente bespreek, terwyl die tweede deel van Dekker se Van Maerlant tot Boutens, Verwey se Inleiding tot de nieuwe Nederlandse dichtkunst, Perk se Gedichten en Van Eeden se De kleine Johannes I vir die kursus oor die Tagtigers in die derde jaar voorgeskryf was. Dr. Nienaber moes die ses opstelle nasien wat die eerstejaars geskryf het en was verantwoordelik vir die fonetiek, Nederlandse taalkunde, Nederlandse prosa en Afrikaanse letterkunde. In die eerstejaar het hy E.C. Pienaar se Digters uit Suid-Afrika met sy studente behandel en Abr. H. Jonker se Die plaasverdeling en W.E.G. Louw se Die ryke dwaas as voorbeelde van die meer resente Afrikaanse literatuur bespreek. Vir die tweedejaarskursus, waar hy in die afdeling Afrikaanse letterkunde veral op die prosa gekonsentreer het, was Van Bruggen se eerste twee Ampies, Fichardt se Onder die olyfboom, Mikro se Toiings, Malherbe se Hans-die-skipper, Van den Heever se Droogte en Die nuwejaarsfees van Maré voorgeskryf, terwyl Schoonees se oorsig oor die prosa en Dekker se Afrikaanse literatuurgeskiedenis - waarvan die eerste druk pas die vorige jaar verskyn het - as handboeke aanbeveel is. Naas 'n studie van die Afrikaanse Bewegings is die derdejaarskursus in Afrikaans gewy aan die drama met voorbeelde uit Grosskopf en Fagan en aan die ouer en jonger Afrikaanse poësie: Celliers se Die vlakte en Die groot geheim, Malherbe se Die timmerman, Rivier en veld en Somerdae, Van den Heever se Deining en Eybers se Belydenis in die skemering.Ga naar eind17 Wat 'n mens in die keuse van voorgeskrewe werke opval, is hoe dr. Nienaber telkens van die destyds jongste publikasies op die gebied van die Afrikaanse letterkunde in sy kursusse betrek het. Onder sy studente was hy dan ook bekend as 'n knap en sistematiese dosent wat interessante lesings gelewer het. Soos met P.C. Schoonees het Opperman dit dus goed getref met Le Roux en Nienaber en het hy 'n reeks deeglike en gebalanseerde kursusse by hulle gevolg wat die grondslag vir 'n toekomstige akademiese loopbaan en instelling nog verder verstewig het. Van sy kant af het hy reeds met sy eerste werkopdragte sterk onder die aandag van sy dosente gekom, veral omdat hy voortreflik kon | |
[pagina 66]
| |
formuleer en met insig oor 'n kunswerk kon skryf. In die res van sy B.A.-jare het hulle hom leer ken as 'n gedissiplineerde student wat volledig in sy werk opgegaan het. Vandaar dan ook dat hy aan die einde van 1937 die B.A. met lof in Hollands kon behaal. | |
VBelangriker as sy akademiese werksaamheid en prestasies was egter vir Opperman sy skeppingsdrang en die behoefte om daaraan uiting te gee. In die jare as student in Pietermaritzburg was daar op 'n verskeidenheid vlakke en deur verskillende kanale vir hom ruimskoots die geleentheid hiervoor. In 1936, sy tweede jaar as student, het 'n paar van die Afrikaanstaliges 'n nuwe Afrikaanse Kultuurklub (later genoem die Afrikaanse Taal- en Kultuurklub) gestig.Ga naar eind18 In 1936 was Johan Boshoff voorsitter en Opperman sekretaris, terwyl Opperman in 1937 voorsitter en Jan Scannell sekretaris geword het. In 1936 het die klub sewe byeenkomste gehou met Nienaber, Trümpelmann en Le Roux as sprekers, terwyl die studente self oor D.F. Malherbe en C.M. van den Heever se werk gepraat het. Op die eerste vergadering in 1936 het Opperman en Izak le Roux gedebatteer oor Die ryke dwaas van W.E.G. Louw, wat toe 'n bietjie meer as 'n jaar tevore gepubliseer is. Opperman moes aantoon dat die bundel oorskat word, terwyl Le Roux die teenoorgestelde standpunt ingeneem het. Só oortuigend was Opperman se argumente dat hy met 'n oorweldigende meerderheid die stemming gewen het - tot die wrewel van Le Roux wat daarvan oortuig was dat Opperman op dié wyse die ‘Afrikaanse saak’Ga naar eind19 skade aandoen! Blykens die verslag oor die Afrikaanse Kultuurklub se aktiwiteite in die Natal University College Magazine van November 1936 - en 'n mens kan met redelike sekerheid aanneem dat dit deur die sekretaris opgestel is - het Opperman later enigsins anders gevoel. In die verslag word gepraat van die ‘propagandistiese bom’ wat hulle laat val het in die ‘argumente oor een van ons jongste digters’, maar tussen hakies word bygevoeg: ‘Hoe dwaas was ons nie om oor smaak en relatiewe kunswaardes te stry nie!’Ga naar eind20 Tog is dit vir die verdere ontwikkeling van Opperman as digter en kritikus belangrik om te weet dat hy reeds in hierdie jare, ten spyte van sy waardering vir die bundel,Ga naar eind21 sekere voorbehoude gehad het. As hy baie jare later aan sy studie oor Digters van Dertig werk, skryf Opperman in 'n brief van 18 November 1951 aan N.P. van Wyk Louw dat verse soos ‘Belydenis’ en ‘Ondergang’ van W.E.G. Louw hom minder bevredig. ‘Ek het destyds,’ sê hy, ‘in 'n debatsvergadering op N.U.K. in 1936 nog betoog dat hierdie belydenisverse oorskat word en ek bly nog vandag daarby.’ Afgesien van die Afrikaanse Taal- en Kultuurklub by die Universiteitskollege was daar in die stad ook 'n Afrikaanse Debatsvereniging waarheen die | |
[pagina 67]
| |
studente gegaan het. Nog meer as deur die verenigingslewe kon Opperman hom egter as skeppende kunstenaar uitlewe deur publikasies in die Natal University College Magazine. In die uitgawe van Junie 1935 verskyn sy skoolgedig ‘Seepbelle blaas’. In 'n nota op p. 32 van dieselfde uitgawe word gesê dat ‘Opperman's Afrikaans poem, “Seepbelle blaas” has been selected by Dr. Brews (destyds die Prinsipaal - J.C.K.) as the best fresher contribution in this issue, and in consequence receives the prize.’ In dieselfde uitgawe verskyn ook sy gedig ‘My boeke’.Ga naar eind22 In die uitgawe van Oktober 1935 publiseer hy ‘Daeraad’ waarin die bosveldwêreld van sy grootvader se plaas Stedham weer figureer. Deurdat Opperman die prys vir die beste bydrae deur 'n eerstejaarstudent ontvang het, was hy van sy tweede jaar af outomaties in die redaksie van die Natal University College Magazine.Ga naar eind23 In die uitgawe van Junie 1936 verskyn ‘Die sweet des aanskyns’ ‘Stadsaand’ en ‘Die vallei’; laasgenoemde gedig eindig met 'n verwysing na ‘Die Vallei/ Van Duisend Heuwels (wat) vou en vou en vou’ wat hy later in ‘Horison’ (Die Huisgenoot, 28 Junie 1940) en in ‘Die legende van die drie versoekinge’ in Negester oor Ninevé weer sal gebruik. In die uitgawe van November 1936 verskyn ‘Eros’ en ‘Somerreëns’. ‘Somerreëns’ publiseer hy onder die pseudoniem Barb á Rossa, 'n naam wat hy - volgens 'n mededeling van G.S. Nienaber - ontleen het aan 'n Duitse gedig met dieselfde titel deur Friedrich Rückert. In dié gedig word daar gepraat van keiser Barbarossa wie se rooi baard - ook die kleur van Opperman s'n - met verloop van tyd al om die tafel gegroei het.Ga naar eind24 In Die Huisgenoot van 21 April 1939 publiseer Opperman 'n variant van dié sonnet en wysig hy veral die sekstet, al het hy dit tog later ongeskik gevind vir opname in Heilige beeste. Daarteenoor is ‘Bacchanalieë’, wat hy in sy derde jaar skryf en in die uitgawe van Oktober 1937 verskyn, die boustof vir 'n gedig wat hy wel in Heilige beeste opneem. In Die Huisgenoot van 23 Mei 1941 word ‘Bacchanalieë’ verwerk tot ‘Stadsnag’ wat ongewysig in sy eerste bundel verskyn. ‘Bacchanalieë’ is die enigste gedig van Opperman wat in 1937 verskyn. Die enigste ander publikasie van dié jaar is 'n opstel oor ‘Die broers Karamazov: Dostojevski’ wat in die Natal University College Magazine van Oktober 1937 opgeneem en op 4 Julie 1938 in Die Natalse Afrikaner oorgedruk word. Opvallend in hierdie opstel, wat op Dirk Coster se beskouing oor Dostojewski steun,Ga naar eind25 is dat Opperman reeds in dié stadium van sy ontwikkeling voorkeur gee aan dié tipe kunswerk wat 'n verskeidenheid gegewens kernagtig saamvat, op meer as een vlak beweeg en 'n vertikale lyn vertoon. Die gebroeders Karamazov, sê Opperman, met sy grote opset en geestelike verskeidenheid sal persone bevredig van veruiteenlopende smaak en geaardheid; dit is die aksieveld van die mens se groot emosies; die ontspanningsleser sal hier vind: liefde, haat, moord en speurwerk; die psigoloog sal hier veel stof vir sy psigo-analitiese studies vind en die suiwere | |
[pagina 68]
| |
mens sal hier meer kry as hulle almal te saam. Jy sal afsak tot daardie dieptes van waardering waartoe die ballas, die gewig van jou eie siel, in staat is om jou te neem. En hy gaan voort: Coster, in 'n antwoord op dr. B. de Haan, maak twee onderskeidings in die kunsterrein: die een is vol verwarring van die emosionele ervaring, die wêreld nie georden nie, maar gesien as 'n reusagtige tuin van menslike gewasse, monsterlike en wonderskone naas mekaar volgens toeval van die natuur, maar alles werd om in die naam van die lewe afgebeeld te word, sonder dat daar in die afgebeelde lewe 'n sedelike en redelike ordening gebring word - dit alles geld met treffende sekerheid vir een van die grootste, so nie die grootste van die Westerse kunstenaars nie, die grootste van die aanskouers, die grootste kunstenaar kortom van die horisontale lyn. Dit is Shakespeare. En sou daar nou daarenteen 'n kunstenaar genoem moet word wat van hierdie formules die verste verwyderd staan - dan sou dit niemand anders dan...Dostoevski kan wees nie; die grootste kunstenaar van die vertikale, die Gotiese lyn, wat orden by uitnemendheid, wie se ganse mensewêreld in sy uiterste verskeidenheid en volheid waarneembaar bly ‘als een omhooggaand scala van menschlijkheid’, 'n gestadige dring, val en styg. By dié soort ordenende kunstenaar waarvan Dostojewski 'n voorbeeld is, sal Opperman later met baie van sy werke, onder meer met Joernaal van Jorik, aansluit. In 1938, as hy met die Hoër Onderwysdiploma en die eerste jaar van sy M.A. besig is, word Opperman hoofredakteur van die Natal University College Magazine wat in Oktober van dié jaar gepubliseer word.Ga naar eind26 In dié uitgawe verskyn nog twee gedigte van hom, nl. ‘Drif’ en ‘In die tuin’; eersgenoemde is die voorloper van die gedig met dieselfde titel in Heilige beeste, terwyl laasgenoemde met slegs tipografiese wysigings in Die Huisgenoot van 7 Julie 1939 opgeneem word. Aangesien dit die jaar van die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria en die simboliese ossewatrek was en medestudente soos Wessel van Niekerk en Stoffel Nienaber met lang Voortrekkerbaarde rondgeloop het, wou Opperman die feesgeleentheid op die een of ander wyse in sy blad laat neerslag vind. In sy briljante inleidingsartikel ‘A new nationalism’ is die Voortrekkergedenkfees sy vertrekpunt, maar aan die hand van Taine se teorieë en 'n historiese verdieping verbreed hy die problematiek in sy opstel tot 'n besinning oor die Afrikanervolk se literatuur wat nog in hoofsaak op die lokale en die koloniale toegespits is en waarin die universele menslike emosies in hoë mate ontbreek. Dit is gedagtes waarvan die oorsprong na N.P. van Wyk Louw se ‘Die rigting van die Afrikaanse letterkunde’ en ‘Die strewe van die jonger Afrikaanse poësie’ uit Berigte te velde (1938) teruggevoer kan word en wat Opperman in dié stadium uit tydskrifpublikasies (die eerste opstel | |
[pagina 69]
| |
het in Die Huisgenoot van 5 Junie 1936 verskyn) kon geken het, al gee hy aan dié idees iets heeltemal eie. Só boeiend het die redakteur van The Natal Witness, C.H. Calpin, dié artikel en andere oor dieselfde onderwerp gevind dat hy in 'n hoofartikel van 28 Oktober 1938 die uitgawe sterk by sy lesers aanbeveel: We congratulate the editor, Mr. D.J. Opperman, on his enterprise in a centenary year in collecting these opinions of his colleagues, and in recommending the journal to the public it is the belief that such enterprise will find a response in stimulating discussion as provocative as the articles deserve.Ga naar eind27 Hoewel Opperman sy redakteurskap van die Natal University College Magazine en sy deelname aan die Afrikaanse Taal- en Kultuurklub en verwante organisasies aangenaam gevind het, was hy - soos ook later in sy lewe - nie juis gesteld op bepaalde posisies in die verenigingslewe nie. Veel meer het hy dit geniet om met 'n enkele persoon of 'n paar vriende oor die literatuur te gesels. In Pietermaritzburg was daar 'n hele paar studente wat geskryf en mekaar se gedigte voorgelees en bespreek het. Dikwels is ook diskussies oor die werk van Eliot, Yeats en Roy Campbell gehou.Ga naar eind28 In 1938 stel hy saam met 'n ander student 'n klein bloemlesinkie saam uit studenteverse - 'n voorloper van die latere Stiebeuel waarin hy en Fred le Roux jong digters se werk sou bundel. Sy eintlike gespreksgenoot in dié jare was egter G.S. Nienaber. Terwyl Schoonees op skool vir Opperman kon lei in sy leeswerk en kommentaar op sy skoolgedigte kon lewer, het Nienaber vanaf 1935 die persoon geword in wie hy 'n groot vertroue ontwikkel het en met wie hy openhartig kon gesels. Só intiem het hulle verhouding later geword dat hulle oor die letterkunde, vrouens, godsdiens, politiek en alles en nog wat kon gesels. Soms was Opperman by die Nienabers tuis as hy na sy besoeke aan Johannesburg (waar sy ouers intussen gevestig was) met die jongste literêre skindernuus van die Rand af teruggekom het.Ga naar eind29 Aangesien hulle net elf jaar van mekaar verskil het, was hulle verhouding iets van 'n broerskap. Reeds kort na die aanvang van die akademiese jaar 1935 het Opperman besluit Nienaber is 'n genaakbare man en dat hy graag van hom kommentaar op sy gedigte sou wou ontvang. Dit was ‘'n sweetwarm Dinsdagmiddag, 9 April 1935’Ga naar eind30 toe hy ‘as ouerige, radelose eerstejaarstudent’Ga naar eind31 die manuskrip van sy skoolverse na dr. Nienaber geneem het. In ‘Twee bottels wyn’ vertel Opperman van hierdie en die daaropvolgende besoek die volgende: Nienaber sou graag daarna kyk; ons het tee gedrink, 'n paar plate gespeel en hy het effens in die bundel geblaai. Op Vryheid was daar langs die matriekklaskamer 'n jakarandaboom waaroor ek 'n gedig geskryf het. Dr. Nienaber het opgestaan, 'n ander manuskrip-bundel uitgehaal, sy vrou Marmion s'n. Sy was van huis uit Engelssprekend, en toe lees hy vir my haar gedig oor dieselfde onderwerp - Pietermaritzburg is 'n stad van jakarandas. Die aand van 11 April het ek die bus gehaal, | |
[pagina 70]
| |
weer op pad na dr. Nienaber. Hy het sy vrou en hulle enigste kind, Seun, wat reeds in sy bedjie was, aan my voorgestel. Dr. Nienaber het die gedigte simpatiek bespreek en my aangemoedig om voort te gaan en weer aan hom voor te lê. Toe gee hy my 'n boekie present: Alice Nahon en haar Gedichten, Keur uit haar Werk, Besproken in het Verband van een Karakterschets door Dr. C. Tazelaar, vermeerderde Uitgawe, A.W. Sijthoff's Uitgevers Mij N.V. Leiden, De Nederlandsche Boekhandel - Antwerpen, 1932, en voorin het hy geskryf: ‘Aan D.J. Opperman. Met hulde van G.S.N.’ Ek het nie veel van die bundel gehou nie, maar wel die menslike gebaar waardeer. Dit was duidelik sy bedoeling, want hy het oor dié digteres en Vlaandere met gevoel uitgewei.Ga naar eind32 Die skoolbundel wat Opperman in 1935 aan Nienaber voorgelê het, is nie by die dokumente in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek nie en het verlore gegaan. Die beste van hierdie verse het egter behoue gebly in die restant van 'n bundel wat hy aan die einde van 1936 en die begin van 1937 saamgestel het. Dié bundel is aanvanklik Verwaarloosde wingerd en later Sorgelose rapsodie genoem, maar uiteindelik het Opperman op die titel Opwaartse drif besluit.Ga naar eind33 Dr. Nienaber het die manuskrip in Maart 1937 gelees en vir Opperman aangeraai om dit aan die firma J.L. van Schaik vir publikasie voor te lê, maar dit is ‘met 'n kort kritiek’Ga naar eind34 - waarskynlik deur H.A. Mulder - afgekeur. Van die beste gedigte uit hierdie bundel is oorgeneem vir 'n volgende bundel wat Opperman in Desember 1938 en Januarie 1939 voorberei het. Op advies van Nienaber is die manuskrip gestuur aan dr. F.C.L. Bosman, indertyd dosent aan die Universiteit van Kaapstad, van wie Opperman kort tevore 'n reaksie ontvang het na publikasie van 'n artikel oor die oorsprong van die Afrikaanse letterkunde in Die Huisgenoot. Bosman het die bundel aan sy kollegas I.W. van der Merwe (Boerneef), J. du P. Scholtz en D.B. Bosman getoon, maar F.C.L. Bosman se oordeel was die gunstigste. N.P. van Wyk Louw moet dit egter ook gesien het, want - soos Opperman in 'n brief van 31 Mei 1953 aan Nienaber skryf - ‘toe ons bevriend geraak het, het hy vaagweg onthou dat hy 'n bundel van my gelees het en my daarna gevra - hy moet dit van Canis gekry het; hulle het gedink dit was vir die V.V.B. bedoel!’Ga naar eind35 Intussen het Nienaber Opperman se medewerking verkry vir Die Saamwerk waarvan hy die redakteur was. In die uitgawe van Mei 1936 verskyn van hom 'n opstel oor ‘Letterkundige kritiek’ waaruit sy kennis van die teorieë van Lessing, Stendhal, Taine en Sainte-Beuve blyk, hy vaste kodes en reseppies vir die kritiek afkeur omdat elke kunswerk sy eie indiwiduele standaarde stel, en hy 'n voëlvlugoorsig oor die ontwikkeling van die Afrikaanse kritiek gee - alles tesame 'n voorstudie wat later tot sy M.A.-verhandeling sou uitgroei. In Die Saamwerk van September 1936 verskyn van hom boekaankondigings van nuwe werke deur D.P. du Toit, Karl Kielblock, Dirk Mostert en D'Arbez en 'n uitvoeriger beskouing oor Leipoldt se Slampamperliedjies. In die uitgawe van Maart 1936 word die gedigte ‘Op die rivier’ en ‘Gemis’ opgeneem, | |
[pagina 71]
| |
terwyl die nommer van Junie 1936 ‘Soekend’ onder die skuilnaam Soeker bevat. ‘Soekend’ is in 1935 met die prys van die Saamwerk-Unie bekroon en is volgens Opperman in sy brief van 31 Mei 1953 aan Nienaber iets tussen die psalmdigter se klag en die swewings van Van Eeden se Windekind. Naas die publikasiemoontlikheid in Die Saamwerk het Nienaber ook sy student betrek by die Natalse radio-omroep. Hiervoor het Opperman boekbesprekings waargeneem en soms ook aan verskeie ander programme deelgeneem. Op 'n aand het hy die teks van 'n program só omgewerk dat hy 'n heildronk kon instel op Marié van Reenen, ‘die nooi in Pretoria’.Ga naar eind36 G.S. Nienaber was dus vir Opperman nie alleen dosent nie, maar raadgewer, gespreksgenoot en vriend in 'n baie ontvanklike tyd van sy lewe. Daarom dat hy op 2 Augustus 1938 in 'n brief sy dank uitspreek vir wat Nienaber alles vir hom beteken het: Ek moet u ook nog bedank vir die heerlike dae en aande wat ons saam deurgedroom het, vir die lesings wat nie 40 min. was maar heeldag en altyd, hulle was ook nie lesings nie maar intense gesprekke, ernstige kletspraat en letterkundige skindery. Dan ook die musiekaande wat ons tot bo-aardse verswewinge vervoer het, en daardie aande as ons twee alleen sit in die lig van die studeerkamer met 'n kelkie wyn en kunsdronk, daardie agtermuurse fluisteringe oor die meesters, daardie aanvoeling soms asof ons mekaar verstaan net vir 'n bits oomblik wat verby flikker om ons weer in ons menslike gestaltes te laat - in onder-materiële ontmoeting, dit alles sal heuglike momente in my lewe bly waarvoor ek u dankbaar is.Ga naar eind37 | |
VINadat hy aan die einde van 1937 die B.A. met lof in Hollands verwerf het, is Opperman in die jare 1938-1939 besonder aktief op 'n verskeidenheid gebiede. Uit sy produksie kom 'n mens onder die indruk van die besondere werkkrag en werkdrif wat ook in later jare so kenmerkend van hom sal wees. Naas sy skeppende werk en sy redakteurskap van die Natal University College Magazine is Opperman in 1938 ingeskryf vir sowel die Hoër Onderwysdiploma as die M.A. in Hollands. Finansieel is hy hiertoe in staat gestel deur sy moeder wat voortgegaan het om met kunsnaaldwerk vir sy sakgeld te sorg, terwyl sy oud-onderwyser Boonstra self £10 gegee en sewe ander persone op Vryheid oorgehaal het om ook elk £10 vir Opperman te bewillig. Op dié wyse is die £80 gevind wat hom in die geleentheid gestel het om sy studies voort te sit. Die inskrywingsgeld vir die M.A.-kursus was £29 en die res was - saam met byverdienstes - genoeg om sy losies te betaal. Vir die proeflesse in die vakke Geskiedenis en Afrikaans, wat hy van tyd tot tyd moes aanbied, kry hy uitstekende rapporte en is dit duidelik dat hy beson- | |
[pagina 72]
| |
der suksesvol voor 'n klas optree. Aan die einde van 1938 verwerf hy dan ook die Hoër Onderwysdiploma met onderskeiding. Vir die eksamengedeelte van die M.A. - vandag bekend as die Honneurs-B.A. - moes Opperman ses kursusse volg. By prof. Le Roux het hy Goties, Middelnederlands en kursusse oor Vondel en Tagtig geloop, en in later jare kon Opperman nog onthou hoe sy dosent se ‘taalkundige ogies’Ga naar eind38 by die doseer van die eerste twee van hierdie vakke gevonkel het! Vir die Vondel-kursus moes die studente Albert Verwey se uitgawe van die Volledige dichtwerken en oorspronkelijke proza, wat pas die vorige jaar gepubliseer is, deurwerk. Op dié wyse het hy vroeg in sy lewe 'n deeglike kennis van Vondel verwerf, 'n kennis wat later in sy eie beoefening van die versdrama neerslag vind en wat vir hom in sy doseerwerk oor die sewentiende-eeuse Nederlandse literatuur aan die Universiteit van Kaapstad van onskatbare waarde was. By dr. Nienaber het hy die Afrikaanse poësie en 'n kursus in die Letterkundige Estetika gevolg. Vir laasgenoemde kursus moes die studente verskillende boeke oor die kritiek en literêre teorie opsom en in die klas voordra, o.m. Spoerrie se Präludium zur Poesie. Aangesien Opperman in hierdie jare baie geïnteresseerd was in prinsipiële sake in verband met die literatuur, het hy veel wyer gelees as wat van hom verwag is. So het hy o.m. die kritiese werk van I.A. Richards, T.S. Eliot, F.O. Matthiessen, C. Day Lewis en W.H. Auden leer ken, maar ook die klassieke tekste van Aristoteles, Horatius en Sidney. As 'n mens sy aantekeninge nagaan, is dit opvallend dat hy dikwels treffende aanhalings neergeskryf het waarin die digterskap ter sprake kom of waarin die verhouding tussen kritikus en kunstenaar ontleed word. So bv. haal hy aan uit Eliot se The use of poetry and the use of criticism: ‘... when the critics are themselves poets, it may be suspected that they have formed their critical statements with a view to justifying their poetic practice’, 'n uitspraak wat in 'n groot mate ook waar is vir die kritiese opstelle wat Opperman later sou skryf. Van die begin af was die kwessie van aansluiting by ander digters en 'n literêre tradisie vir Opperman 'n kardinale aangeleentheid. Uit Eliot skryf hy neer: ‘Immature poets imitate; mature poets steal’; uit een van Hopkins se briewe teken hy aan: ‘The effect of studying masterpieces is to make me admire and do otherwise ...’; en uit sy M.A.-kursus leer hy die ‘Aenleidinge ter Nederduitsche dichtkunste’ ken waarin Vondel dit as sy beginsel formuleer dat 'n digter behendig moet steel. Reeds in hierdie jare is Opperman ook besonder geïnteresseerd in alle aspekte van beeldspraak en teken hy uitsprake aan waarin daar oor die kriptiese, kortsluitende vergelyking en metafoor uitgewei word. Uit Lewis haal hy aan oor die ‘short-circuiting of the poetic current which has results in the use of image rather than allegory, metaphor rather than simile’ en in dié skrywer se karakterisering van Donne en die ‘metaphysicals’ in A hope for poetry word hy veral getref deur die tegniek van ‘the concentration of images and the juxtaposition of paradoxical | |
[pagina 73]
| |
ideas’ wat vir die leser ‘a series of intellectual shocks’ verskaf. Uit A poet's notebook van Edith Sitwell haal hy aan: ‘Continual writing is really a bad form of dissipation; it draws away the very marrow of the brain.’ Gedagtig aan bekende oorproduksies in die Afrikaanse literatuur in die laat-dertigerjare skryf Opperman met 'n vraagteken die name van C.M. van den Heever en I.D. du Plessis hierby neer! As voortsetting van sy eie selfstandige studie van die Tagtigers, waaraan hy in die universiteitsvakansie aan die einde van sy tweede en begin van sy derde jaar baie tyd bestee het, skryf hy vir die kursus oor die Letterkundige Estetiek 'n uitvoerige opstel van sewe en vyftig bladsye met die titel ‘'n Vergelyking tussen die kritiek van 1830-1880 en dié ná 1880, telkens met een kritikus as middelpunt’. In sy lesings het dr. Nienaber onder meer die kwessie van die gerigtheid in die kunswerk op 'n bepaalde publiek ter sprake gebring. Opperman was baie geïnteresseerd in dié aangeleentheid en het aan Nienaber gesê dat hy graag hierdie gedagte verder sal wil uitwerk, iets wat hy inderdaad gedoen het in sy lesing ‘Invloed van die Afrikaanse publiek op die Afrikaanse skryfkuns’ wat hy in 1955 voor die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad hou en later in Naaldekoker opneem. 'n Prikkel wat hy ook by dr. Nienaber gekry het, en waaraan hy onmiddellik werk, is die artikel ‘Wanneer begin die Afrikaanse letterkunde?’ Dit verskyn in Die Natalse Afrikaner van 1 en 8 Augustus 1938 en daarna in effens verkorte vorm in Die Huisgenoot van 3 Februarie 1939.Ga naar eind39 Hierdie artikel sluit aan by 'n polemiek wat ontstaan het na die verskyning van Elizabeth J.M. Conradie se Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Wat logiese bewysvoering en formulering betref, is dit Opperman se belangrikste publikasie in die dertigerjare. In 1974 bundel hy dit in Naaldekoker. Aan die einde van 1938 slaag Opperman die eksamengedeelte van die M.A. met onderskeiding en in 1939 werk hy onder leiding van dr. Nienaber aan 'n verhandeling oor die Afrikaanse letterkundige kritiek tot 1922. Deur sy besondere prestasies vir die Onderwysdiploma en M.A.-eksamen word die Victoriabeurs einde 1938 aan hom toegeken. Hierdie beurs sou hom in staat stel om sy studie in Nederland voort te sit. Dit was sy voorneme om in September 1939 te vertrek sodat hy betyds kon wees vir die Europese universiteitsjaar. Aanvanklik was dit sy gedagte om in sy M.A.-verhandeling die Afrikaanse kritiek tot 1939 te dek, maar hy het gou besef dat die materiaal te veel is. Daarom besluit hy om die gebied vir sy M.A. tot 1922 te beperk en die periode 1922 tot (die destydse) hede in Nederland vir 'n doktorale proefskrif voort te sit. Opperman het gereelde onderhoude met sy studieleier gehad en uit hierdie tyd dateer sy gebruik om twee bottels soetwyn te koop en dan op 'n aand dr. Nienaber te besoek. Een van die bottels het hy dan voor Nienaber neergesit en een voor homself. Hy skryf: | |
[pagina 74]
| |
As die wyn nog hier by die skouertjie van die bottel is, het ek die onderwerp van die gesprek effens aangeroer, maar hy was dan nog 'n bietjie toe, en eers as die wyn bo aan die etiket raak, het hy op dreef gekom en ek het my potlood en aantekeningboek rustig uitgehaal en geskryf. As ons verby die etiket stoot, was die volle waarheid daar, en wanneer ons die nagdop skink, het ons op my briljante idees gedrink!Ga naar eind40 Nienaber se boekery was tot sy student se beskikking en hy het hom ook in aanraking gebring met lewende kritici soos C.M. van den Heever, G. Dekker en M.S.B. Kritzinger by wie Opperman besoek afgelê het toe hy in 1938 in Pretoria vir navorsingswerk was. Vir sy verhandeling het Opperman baie tydskrifte en alle publikasies van kritici deurgewerk. Die verhandeling,Ga naar eind41 wat tagtig bladsye in omvang is, word verdeel in 'n inleiding, gevolg deur drie hoofstukke wat agtereenvolgens ‘Vroeë voortekens’, ‘Ontwakende kritiek’ en ‘Eerste proefskrifte’ as titels het. In die inleiding baken hy sy gebied af en noem hy die kriteria waarmee hy meet, terwyl hy in die eerste hoofstuk aandui hoe die eerste kritiek uit die nasionale bewuswording van die Afrikaner in die negentiende eeu voortkom, en die nasionale, godsdienstige en praktiese waarde van publikasies derhalwe suiwer literêre sake verdring. Waar literêre aangeleenthede wel ter sprake kom, is dit bloot eksterne sake in verband met die digkuns, soos maat en rym. Die ontwakende kritiek wat hy in tydskrifte en koerante nagaan, sien hy raak in die werk van J.H.H. de Waal, J. Kamp, J.J. Smith en veral Gustav Preller. Saam met die kritiese aktiwiteite van skeppende kunstenaars soos Celliers en Marais is dit die boustof vir hoofstuk II, terwyl die eerste proefskrifte - dié van Besselaar, Lydia van Niekerk, E.C. Pienaar en P.C. Schoonees - in die derde hoofstuk behandel word. Wat 'n mens in Opperman se verhandeling opval, is die logiese bou, die katalogus-effek deur die opstapeling van oorwegings of redes, die vermoë om saam te vat, te sintetiseer en te kontrasteer, en by tye die verrassende formulerings. In verband met Preller, Kamp en N.P. van Wyk Louw sê hy byvoorbeeld: Waar Preller telkens die historiese waarheid van 'n kunswerk toets, wil Kamp sy sedelike element peil maar dit slegs na die estetiese. Sy insigte oor 'n nasionale letterkunde en kritiek vind die volledigste aansluiting by 'n N.P. van Wyk Louw; by hom kry ons dan ook, al is dit nie orals suiwer toegepas nie, die versoening van die kultuur-historiese en die estetiese. Oor die blote teorie van 'n nasionale estetiek is Preller die saad, Kamp die ontkieming en Louw die rypwording. Aan die einde van 1939 ontvang Opperman die graad M.A. met lof. Afgesien van dr. Nienaber as studieleier was sy eksaminatore prof. Le Roux en prof. H. van der Merwe Scholtz van die Vrystaatse Universiteitskollege. Prof. Le Roux het intussen agtergekom dat daar iets aan die gang is tussen sy student en die | |
[pagina 75]
| |
Pretoriase meisie. Met die gradeplegtigheid het hy Marié van Reenen genooi om by hulle tuis te gaan en daarna vir 'n feestelike byeenkoms gesorg waarop ‘'n eg Bolandse gees met die wit wyne geskep’Ga naar eind42 is. Afgesien van sy redakteurskap van die Natal University College Magazine behartig Opperman in die jare 1938-1939 'n vaste rubriek oor boeke en kuns in Die Natalse Afrikaner. Na analogie van die Nederlandse kritikus N.A. Donkersloot wie se skeppende werk onder die pseudoniem Anthonie Donker gepubliseer is, het hy op die skuilnaam Arnold Benadi besluit. Uitgewers is versoek om boeke ter resensie te stuur, en naas ontspanningsleesstof het hy beskouinge geskryf oor C.M. van den Heever se Kromburg, Aardse vlam en Kruispad, Die siel van Suid-Afrika deur D.F. Malherbe, Boerneef se Van my kontrei, Holmer Johanssen se Gety en Gedigte deur Theo Wassenaar. 'n Besondere bespreking is dié van sy universiteitsvriend M.J. Harris se debuut Bruisende waters wat hy as 'n ‘Ope brief aan ('n) jong Natalse skrywer’ aanbied. Naas stukke oor Nederlandse skrywers soos Leopold en Boutens en 'n artikel by die dood van Willem Kloos publiseer hy verder 'n reeks oor ‘Gebrokenheid’ waarin hy die begrip histories en psigologies verken en dan die jongste Afrikaanse digkuns van W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, I.D. du Plessis, Uys Krige, Elisabeth Eybers en S. Ign. Mocke in die lig hiervan bespreek. 'n Prikkelende artikel in dié reeks is dié waarin hy allerlei juiste en onjuiste verbande tussen W.E.G. Louw se Die ryke dwaas en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan trek. Dit dui daarop dat hy wel op die hoogte was van sekere biografiese gegewens oor dié twee skrywers, maar in dié stadium nog nie heeltemal geweet het hoe sake inmekaarsteek nie! Deur F.E.J. Malherbe se veelvuldige en onnoukeurige gebruik daarvan het die begrip ‘gebrokenheid’ gou in onguns verval by die Dertigers. Toe Van Wyk Louw later van sy plakboeke aan Opperman leen, was die reeks uit Die Natalse Afrikaner netjies daarin geplak. Opperman het egter nooit vir Van Wyk Louw vertel wie Arnold Benadi is nie!Ga naar eind43 Die rubriek van Opperman is indertyd verslind deur die Natallers wat in die letterkunde geïnteresseerd was. Daarby het sy vriende in Pietermaritzburg geweet dat Opperman ingelig was oor nuwe publikasies en wat nog in 'n bepaalde jaar sou verskyn. Om op die hoogte te bly, het hulle hulle dus telkens tot hom gewend. Naas sy gereelde rubriek het Opperman verder by geleentheid die hoofartikels geskryf. Die Natalse Afrikaner was egter 'n orgaan van die Verenigde Party en Opperman was sterk Nasionaalvoelend. ‘Ek moes,’ so vertel hy in ‘Twee bottels wyn’, dus versigtig te werk gaan, maar kort-kort was daar moeilikheid. Die direksie wou meer weet van die ‘Republiek’ waaroor ek so skryf. Ek het verduidelik dit is sommer dié van 'n Griekse wysgeer, Plato. Oor 'n ander onderwerp het die Sinode beswaar gemaak: dit was my waarskuwing teen die Afrikaanse drie P's: pers, politiek en predikante.Ga naar eind44 | |
[pagina 76]
| |
Ook van sy skeppende werk het van tyd tot tyd in Die Natalse Afrikaner verskyn. In 1938 publiseer hy die gedigte ‘Plantasie-lied’, ‘Die maan oor die see’ en ‘Na-doodse gebed’; laasgenoemde gedig verskyn ook in Die Huisgenoot van 7 Julie 1939 as ‘Gevange geeste’. Al drie hierdie gedigte getuig van 'n vaster greep as die meeste van vroeër. In ‘Plantasie-lied’, wat in die uitgawe van 16 Mei 1938 opgeneem word, is die aards-hemelse spanning, bonkige woordgebruik en ekonomiese segging van sy latere poësie reeds aanwesig. Die sonnet ‘Die maan oor die see’ (20 Junie 1938) is nogmaals 'n illustrasie van sy sterk beeldende vermoë, terwyl ‘Gevange geeste’ (as ‘Na-doodse gebed’ in Die Natalse Afrikaner van 17 Oktober 1938) beheers word deur die spanning aarde - hemel. Met hierdie verse voel 'n mens dat daar 'n raker woord- en beeldgebruik by Opperman kom, terwyl die verse oor die algemeen deur hewiger spanninge aan trefkrag wen. Daarteenoor publiseer hy in ligter luim in die uitgawe van 21 Februarie 1939 'n aankondiging dat lesers interessante boeregrappe, snaakse taalgebruik, spookvoorvalle, bygelowe, 'n onderhoudende gesprek en dergelike meer kan instuur vir 'n weeklikse prysgeld van vyf sjielings. Self dra hy in die uitgawe van 6 Maart 1939 'n reeks onder die titel ‘Digters se teeparty’ by en loof vyf sjielings uit vir die persoon wat die geparodieerde digters kan uitwys. Terwyl die reeks oor die ‘Gebrokenheid’ as die verre voorloper van die latere Digters van Dertig gesien kan word, is ‘Digters se teeparty’ die voorafskaduwing van die ‘Met apologie’-reeks wat in 1948 in Standpunte verskyn en later in Kuns-mis opgeneem word. In Die Natalse Afrikaner publiseer Opperman verder twee prosastukke. In die uitgawe van 10 Julie 1939 verskyn die kortverhaal ‘Die maalklip’ wat, soos die skoolverhaal ‘Die reënoffer’, die Zoeloe-wêreld as agtergrond het en oor 'n jong Zoeloemeisie handel wie se liefdeslewe deur 'n oorheersende vader vernietig word. Die uitgawe van 25 Julie 1939 bevat die transkripsie van 'n aantal minnebriewe van Zoeloes. Een van die briewe lui as volg: My Dear, Die verwysing na die graaf in hierdie brief vind later neerslag in die gedig ‘Dank’ in sy eerste bundel: | |
[pagina 77]
| |
sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my
en val die geil reëns van die berge sonder doel (,)
hoewel W.E.G. Louw se ‘Belydenis’ uit Die ryke dwaas van 1934 literêrhistories gesien die voorloper van dié reëls is: Sonder jou liefde bestaan geen God vir my,
en waai die winde oor die dorsvloer van my hart.Ga naar eind45
In sy kommentaar op die minnebriewe wys Opperman op die eenvoudige siening en segging en veral die beelde wat uit die onmiddellike vertroude natuurwêreld geput word. Die ‘groot gevoelens van die lewe’, sê hy, ‘word aan primêre en permanente voorwerpe geanker wat altyd daar sal wees as oeragtergrond van die mens.... Alle ware en groot poësie gryp oor beskawing en kultuur terug na die groot agtergrond, die natuur.’ Dit is opvallend dat Opperman hierdie kunsbeginsel so vroeg in sy loopbaan formuleer. In sy poëtiese praktyk was hy altyd oopgestel vir die sintuie en die wêreld van sy ervaring. As geografies beperkte koerant in die oorwegend Engelstalige Natal het Die Natalse Afrikaner egter vir Opperman slegs 'n klein leserspubliek gebied. Daarom het hy toenemend teen die einde van die dertigerjare sy gedigte aan Die Huisgenoot gestuur wat as prestige-weekblad van die Nasionale Pers landswyd versprei is. Reeds in 1934 het Markus Viljoen as redakteur van die blad Opperman se skoolverhaal ‘Die reënoffer’ aanvaar, en sedert Desember 1937 was Fred le Roux, wat later baie goed met Opperman bevriend sou raak, aan die redaksie van dié blad verbonde met die verantwoordelikheid om die poësie-bydraes te behartig. In die uitgawe van 16 Junie 1939 verskyn ‘Bloedrivier, 1938’ wat reeds eerder in Die Natalse Afrikaner van 12 Desember 1938 gepubliseer is en wat Opperman in 1945 in Heilige beeste opneem. In die daaropvolgende jaar verskyn, afgesien van ‘Somerreëns’ wat 'n verwerking van 'n gedig uit 1936 is en ‘Afskeid’ wat in 1938 in die Natal University College Magazine opgeneem word, twee gedigte wat Opperman nie later bundel nie. ‘Weerlig’ (24 Maart 1939) het in die derde strofe iets van N.P. van Wyk Louw se ‘Grense’. Ook ‘Laaste reëns’ (15 Desember 1939) wat beeldend in die tweede strofe op die aardse steun, is as geheel nog sterk in die belydende trant van die vroeë Dertig. Daarteenoor verskyn in 1939 in Die Huisgenoot, afgesien van ‘Bloedrivier, 1938’, drie bydraes wat Opperman later in Heilige beeste opneem. ‘Invocatio’ in die uitgawe van 4 Augustus 1939 verskyn as ‘Bede’ in sy debuutbundel, terwyl die kwatrynsiklusse ‘Dagboek’ en ‘Kronieke’ uit Heilige beeste as ‘Kelkies wyn’ (5 Mei 1939) en ‘Veldvure van die nag’ (4 Augustus 1939) gepubliseer word. In die ‘Dagboek’-reeks het die kwatryn ‘Kunstenaars’ die titel ‘Adel’. In ‘Kronieke’ in Heilige beeste word ‘Massa’ bygevoeg wat nie in Die Huisgenoot-publikasie voorkom nie. ‘Veld- | |
[pagina 78]
| |
vure van die nag’ bevat daarenteen die kwatryn ‘Armblanke’ wat op ‘Kinders van vyande’ volg, maar in die bundel weggelaat is: Omdat ek bloot eenvoudig maar
Wat vaders mooi geag het wou bewaar,
Word ek vandag agter die rug gespot,
Staande wat're, bywoner, bedelaar.
Afgesien daarvan dat ‘Staande wat're’ in hierdie konteks enigsins onduidelik is, bevat ‘wat're’ die soort digterlike vryheid waaraan die ouer Afrikaanse digters hulle veelvuldig skuldig gemaak het en wat nog periodiek in die Louws se eerste bundels voorkom. In Heilige beeste is dit opvallend dat Opperman dié soort verskynsel vermy, terwyl hy 'n gevoeligheid vir die waarde van die rymwoord in sy besondere sleutelposisie openbaar. Waarskynlik is dit 'n verdere rede waarom hy dié kwatryn met die onbeduidende woord ‘maar’ as rymwoord in die eerste reël uit die bundel weggelaat het. Die res van die twee kwatrynreekse gee egter reeds oorvloedige bewys van Opperman se digterlike vermoëns. Terwyl dit die algemene patroon by die redaksie van Die Huisgenoot in die dertigerjare was om gedigte as ‘stoppers’ of ‘vullers’ te gebruik, het Fred le Roux besluit om in bepaalde gevalle liewer een bladsy aan die poësie te wy. Reeds in hierdie vroeë stadium het Le Roux onder die indruk gekom van die beeldende vermoë en woordkrag van Opperman se poësie en besef dat hy hier met 'n potensieel groot digter te make het. Daarom dat Opperman een van die eerste digters was aan wie hy met die publikasie van ‘Kelkies wyn’ en ‘Veldvure van die nag’ volle bladsye afgestaan het. Omdat Opperman reeds aan die einde van 1938 die Victoria-beurs gekry het, was dit sy plan om in September 1939, ná afhandeling van sy M.A.-verhandeling, vir verdere studie na Nederland te vertrek. Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 het egter alle moontlikhede van Europese studie binne die afsienbare toekoms uitgewis. Met studieskuld, wat nog nie afbetaal was nie, het hy gevoel dat dit beter sou wees as hy 'n onderwysbetrekking aanvaar en sy verdere studie in Suid-Afrika voortsit. Gelukkig vir hom was daar 'n vakature by die Voortrekkerskool in Pietermaritzburg wat hom die geleentheid sou gee om sy doktorale studie te begin onder dosente wat aan hom bekend was. Aan die begin van 1940 word Opperman dan onderwyser. |
|