D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 34]
| |
Hoofstuk 2
| |
[pagina 35]
| |
sterk opponerende politieke partye onder die Afrikaners, was die verlede 'n lewende folklore vir die jeug van Vryheid. Hoewel daar by vader Opperman van sy kinderjare af 'n groot vaderlandsliefde en gevoel vir die Afrikaanse taal aanwesig was, het hy in navolging van sy vader sy steun toegesê aan die party van generaal Smuts. Met die Smelting van 1933 het hy dan ook vir die Verenigde Party gestem en is die verkiesingsuitslag met groot gejuig in die Oppermanhuis begroet, al het die ontluikende digter - wat van vroeg af geïnteresseerd was in die politiek en reeds op laer skool 'n vers oor die Natte en die Sappe geskryf het - se simpatie by D.F. Malan en die Nasionaliste gelê. Met die woelinge in Afrikanergeledere in die dertiger- en veertigerjare het vader Opperman egter 'n ondersteuner van Malan geword, braaivleise gehou om geld vir die Nasionale Party in te samel en by die Gryshemde en later die Ossewa-Brandwag aangesluit, organisasies wat die anti-Britse gevoelens by sommige Afrikaners uitgebuit, 'n toenadering tot Duitsland en die Nasionaal-Sosialistiese ideologie gepropageer en selfs ondermynende aktiwiteite voorgestaan het. Met sy deelname aan die bewegings van dié jare het hy ander lede van sy gesin beïnvloed. Sy vrou was kommandant en sy dogter Liz sersant in die Ossewa-Brandwag, terwyl sy seun Maans by die aktivistiese Stormjaers - die militante vleuel van die Ossewa-Brandwag - betrokke was. Op die dorp het die plaaslike tandarts die ouer skoolseuns aangemoedig om by die Gryshemde aan te sluit en het almal Adolf Hitler se Mein Kampf en ander geskrifte oor die Nazi-ideologie gelees. Weer was dit die digter wat, ten spyte van sy intense belangstelling in en nuuskierigheid oor wat die mense alles aanvang, niks met een van die splintergroepe te make wou hê nie. Sy broer Maans was egter wel aktief met al hierdie strominge gemoeid. In die oorlogsjare wou hy nie die Rooi Eed (van getrouheid aan die Britse Kroon) aflê nie en is hy as gevolg daarvan nie bevorder in die lugmag waar hy as passer-en-draaier gewerk het nie. Toe Maans dit oorweeg om uit die lugmag te tree, het hy sy vader se advies gevra. Vader Opperman telegrafeer toe aan hom: ‘Wat jy wil doen, doen dit gou.’ 'n Paar dae later kom iemand van die Ossewa-Brandwag by vader Opperman en sê: ‘Oom Oppie, wat se telegram van jou lê daar by Marshallplein? Jy het vir jou seun 'n telegram gestuur en hulle probeer nou die kode ontsyfer’! Só aktief was vader Opperman betrokke by dié bewegings dat daar ná sy oorlyde die volgende doodsberig in Die Vaderland van 20 Mei 1943 verskyn het: Opperman - Die heengaan van ons geliefde kameraad, D.J. Opperman, word deur sy Leier en ander kamerade diep betreur. | |
[pagina 36]
| |
Naas die politieke aktiwiteite waarmee die Opperman-kinders op Vryheid in aanraking gekom het, kon hulle hier, veel meer as op hulle vroeëre woonplekke in spoorweghuise, die outydse leefwyse en gebruike van die Afrikaner ervaar. Die Geloftefees is gereeld elke jaar naby Stedham gehou en met die Nagmaalsvierings het die boere van die distrik nog met ossewaens dorp toe gekom en 'n paar dae lank op die kerkplein uitgespan. Frik van Reenen, prokureur, kultuurman, platjie en grapmaker van die dorp en toekomstige skoonvaderGa naar eind1 van Opperman, was stigterslid van die Nasionale Party in Natal en het ná Uniewording Vryheid in die Provinsiale Raad verteenwoordig. Hy was die eerste lid van dié raad wat in Afrikaans 'n toespraak gelewer het. In 1921 is hy aangewys as Volksraadskandidaat, maar hy het om persoonlike redes teruggestaan vir dr. E.G. Jansen - latere minister en Goewerneur-Generaal - wat die setel met 'n meerderheid van drie stemme vir die Nasionale Party verower het.Ga naar eind2 Frik was saam met sy vrou Tina, hulle twee dogters en seun woonagtig in Hlobanestraat 137 waar sy vrou in die depressiejare en na haar man se hartkwaal loseerders ingeneem het. Frik het op die voorstoep van hulle huis graag grappige verhale vertel vir die kinders van die buurt, wat baie lief vir hom was. Hy was ten nouste gemoeid met die debatsvereniging en kultuurvereniging op die dorp, organisasies wat van vroeg af 'n sterk aandeel gehad het in die Saamwerkunie se taaleksamens wat in 1917 ingestel is en die regstreekse aanleiding was tot die besluit van die Natalse Provinsiale Raad in Augustus 1920 om met die onderrig van Afrikaans in plaas van Nederlands in skole te begin.Ga naar eind3 Op geestelike gebied was ds. S.A.J. van der Merwe 'n vurige en inspirerende prediker wat ook veel vir die kultuurlewe op die dorp gedoen het. Met al hierdie prikkels het Opperman in sy nuwe omgewing dus nog gevoeliger geword vir die historiese verlede en die politieke strominge van sy tyd. In 1949, toe rapportryers landswyd uit al vier provinsies vir die inwyding van die Voortrekkermonument na Pretoria opgetrek het, skryf hy - toe reeds woonagtig in Kaapstad - 'n geleentheidsgedig vir die Feesprogram ter gedagtenis aan die besoek van die rapportryers aan Vryheid op 24 November 1949. Die gedig het die titel ‘Boodskap van Vryheid - uit die gewese Nuwe Republiek’ en betrek die leed van die Natalse Voortrekkers, die lewensverlies by Holkrans en die ruiters wat landswyd na Pretoria beweeg.Ga naar eind4 | |
IIOp Vryheid het vader Opperman op 'n kommissiebasis as 'n agent vir African Homes Trust gewerk. Die gesin het op die hoek van Mark- en Deputasiestraat gewoon in 'n huis op 'n dubbelerf. 'n Mens het binnegekom in 'n gang, met die voorkamer die eerste deur links en die ouers se slaapkamer die eerste regs. Dan was daar, afgesien van 'n kombuis en 'n badkamer, nog drie slaapkamers: een | |
[pagina 37]
| |
vir Boet en Maans, een vir Liz en Vi en een vir Louis, Chris en Koos wat in die gesin as die ‘kleintjies’ bekend gestaan het. Vader Opperman het in die gang horings van allerlei bokke teen die mure gehang. In die voorhuis het 'n groot swaard gepryk wat deur veggeneraal Opperman tydens die Anglo-Boereoorlog van 'n Britse generaal afgeneem is. Verder was daar assegaaie uit die grensoorloë, sannas uit die dae van die Voortrekkers, 'n sens van 'n Indiër, pyle van Boesmans en ou rewolwers en pistole uit Italië. Sannie Opperman het later beswaar gemaak teen die horings en al die gewelddadige instrumente. Op haar versoek is die goed verwyder en die gang netjies uitgeplak. By die kaggel in die voorkamer het een van vader Opperman se skilderye, 'n voorstelling van 'n waaiende peerboom, gehang. Alhoewel die Oppermans in hierdie depressiejare ook nog gesukkel het, is daar beslis nie op hulle neergesien nie en kon vader Opperman sy kinders betreklik goed onderhou. Sannie Opperman kon 'n swart huisbediende bekostig. Op Vryheid was vader Opperman betrokke by die debatsvereniging en het hy onenigheid met die predikant gehad oor die fondse van die organisasie. Hy was iemand wat prakties gesproke 'n geheelonthouer was. Slegs aan die einde van die jaar, soos tipies van die destydse Natallers, is 'n vaatjie soetwyn en 'n vaatjie bier vir die feesgeleenthede uit die Kaap laat kom. Daarvan het al die lede van die gesin en hulle vriende gedrink, en gewoonlik was dit genoeg om tot die volgende Kersfees te hou. Met sy neiging om die draak te steek, sy sin vir humor en sy innemende binnelaggie was hy 'n beminlike figuur en het daar 'n goeie verhouding tussen hom en sy oudste seun tot stand gekom. Sommige nagte het hulle twee dikwels tot vroegoggend gesels, want met albei se wye belangstellings kon hulle oor haas enige onderwerp onder die son gesprekke voer. Daarby het albei 'n voorkeur gehad om in die nag te werk en 'n gedeelte van die dag te slaap. Boet was intens geïnteresseerd in sy vader se geskrifte, skilderye en spiritistiese byeenkomste, al het hy 'n nugter oordeel oor baie van dié bedrywighede gehad en dikwels sy vader se kunswerke of aktiwiteite ‘gepoe-poe’ - 'n woord wat hy ook later by herhaling vir sy afkeer van dinge sou gebruik. Waarin hy 'n besliste renons gehad het, was die genadelose wyse waarop sy vader die ander kinders geslaan het. By een geleentheid is Louis só geweldig gestraf dat Boet en Maans moes ingryp en 'n rusie tussen hom en sy vader ontstaan het. Aan die een kant was daar by hom dus 'n waardering vir sy vader, maar aan die ander kant 'n sterk afkeer van die bruuske gewelddadigheid. Juis om hierdie rede het hy ook altyd vir sy moeder in die bresse getree. As die ‘kleintjies’ siek in die bed was en te veel na hulle moeder geroep het, was hy beskermend teenoor haar. Op 'n keer het hy hulle gewaarsku: ‘As julle nou weer roep, gaan ek die radio só stel dat hy net van die stasie af is en julle niks kan hoor nie’! Dikwels, as die ‘kleintjies’ te erg in die huis te kere gaan, het Boet teenoor haar gesê: ‘That's why big brothers leave home’, 'n opmerking wat sy as goeie maar tog besitlike moeder nooit kon verdra nie. | |
[pagina 38]
| |
IIIMet die verhuising na Vryheid het Boet en Maans weer hulle skoolopleiding hervat. Boet is aan die begin van 1931 na die hoër skool waar hy in standerd VII geplaas is. Deurdat hy twee jaar op Frere verloor het, was hy en Liz nou in dieselfde klas. Aangesien dit 'n dubbelmediumskool was, het hy vir die eerste keer onderrig in Afrikaans ontvang, 'n oorskakeling wat aanvanklik probleme opgelewer het, omdat hy tot in daardie stadium alles uitsluitlik in Engels moes leer. Sy hele lewe lank sou hy trouens hoofrekene altyd in Engels doen, iets wat later 'n amusante verskynsel vir sy Stellenbosse kollegas was as hulle aan die einde van die akademiese jaar die studente se predikate moes uitwerk. Die kinders moes die bedrag van £3 skoolgeld per kwartaal betaal, en van tyd tot tyd het dit gebeur dat vader Opperman nie die fondse beskikbaar gehad het nie. Een van die onderwysers wat die geld moes insamel, het die gebrek aan oordeelkundigheid openbaar om die kinders van wie nog niks ontvang is nie, in die klas te laat opstaan, en die vernedering het die Opperman-kinders elke keer laat voel of hulle in die aarde kon wegsink. Vi het geweier om die marteling te deurstaan en besluit om die skool nog voor die aflegging van die Matriekeksamen te verlaat. Later is Boet bygestaan uit die E.G. Jansen-studiefonds wat vir leerlinge aan die hoër skool gestig is. Alhoewel Liz, soos trouens al die Opperman-kinders, se prestasies op skool puik was, het sy besluit om ná Matriek eerder te gaan werk en haar vader met die opleiding van die ‘kleintjies’ finansieel by te staan. Hierdie onbaatsugtige optrede van iemand wat dit met verdere studie ongetwyfeld ver sou gebring het, was vir haar oudste broer altyd iets bewonderenswaardig. Alhoewel hy self ook later die gesin sou help, kon hy met beurse en lenings sy studie voortsit, terwyl Liz daarvan afgesien het. Daarom kon Liz, aan wie hy sy lewe lank besonder geheg was, in sy oë niks verkeerd doen nie en was hy intens verheug toe sy op gevorderde ouderdom met haar Namibië-tonele erkenning as skilderes gekry het. Op hoër skool het Opperman baie hard gewerk en is die besondere deursettingsvermoë wat ook later so kenmerkend van hom was, verder ontwikkel. Sy daaglikse program ná skool was om smiddae sy huiswerk te doen en sportoefeninge by die skool by te woon, in die aand sy huiswerk af te handel en daarna dikwels tot bykans drie-uur in die oggend te lees. In sy vader se boekery het hy die beperkte Afrikaanse literatuur van dié jare leer ken en in aanraking gekom met 'n groot verskeidenheid uit die wêreldletterkunde. Hy was bekend as 'n buitengewoon begaafde kind en vir die hele duur van sy skoolloopbaan het hy eerste in sy klas gestaan. Hy het hard gewerk, maar sy studie met gesonde ontspanning afgewissel. Elke oggend voor skool het hy na die Magode-brug op pad na Scheepersnek en terug gedraf, altesaam agt kilometer. Op skool het hy aan atletiek deelgeneem en in die rugbyspan as senter en later as voorryman | |
[pagina 39]
| |
gespeel. Vir die debatsvereniging het hy gereeld stukke geskryf en 'n tyd lank was hy voorsitter. In hierdie hoedanigheid het hy in nouer aanraking gekom met Marié van Reenen - die dogter van Frik van Reenen - wat sekretaresse van die vereniging was en later sy vrou sou word, al was daar toe nie sprake van enigiets meer as vriendskap nie. Hy was ook redakteur van die skooljaarblad waarin van sy eerste gedigte gepubliseer is.Ga naar eind5 Die vier jaar wat Opperman op Vryheid skoolgegaan het, was 'n heerlike tydvak in sy lewe. Onder die skoliere het daar 'n hegte band bestaan en dikwels is daar partytjies gehou. By dié geleenthede het dit geblyk dat Opperman wat baie populêr was onder sy maats en dikwels die leiding geneem het, glad nie so ingetoë was as wat aanvanklik vermoed is nie. Onder sy beste maats op skool was ‘Smiles’ de Waal, Ben en Piet Pienaar, Jannie Theron, 'n Skandinawiese seun met die naam Norman Jensen en Philip Nel. Ben Pienaar was in Matriek die hoofseun en later hoofonderwyser op Vryheid, en Opperman het sy hele lewe lank kontak met hom behou, terwyl Jannie Theron apteker geword het en later met sy suster Liz getroud is. Philip Nel, later Direkteur van Onderwys in Natal, se ouers was boere naby die Swartfoloos. Omdat hy op die dorp moes loseer, het hy dikwels naweke by die Oppermans deurgebring. Daar het hy vir die eerste maal daarvan bewus geword dat sy vriend ‘versies maak’, al het die jong digter baie min daaroor gesels en sy skrywery in geheimsinnigheid gehul. Hierdie beginsel om nie juis oor sy eie werk te praat nie, het hy ook later in sy lewe konsekwent gehandhaaf. ‘'n Mens praat nie oor brood in die oond nie,’ het hy graag gesê. Ook oor sy persoonlike lewe was min bekend. Dit het byvoorbeeld lank geduur voordat Philip Nel sou uitvind dat Opperman aansienlik ouer was as hy en 'n tyd lank uit die skool geneem is om te boer. Opperman se nooi in dié tyd was Fie Schoonees, die skoolhoof se dogter, wat in dieselfde klas was as hy. In 'n hol boom by die skool het hulle briefies vir mekaar gelaat en van tyd tot tyd het Fie vir Liz kom kuier met die eintlike bedoeling om haar broer te sien, want haar vader was gekant teen die vriendskap, waarskynlik omdat vader Opperman se spiritistiese bedrywighede en gebrek aan tradisionele godsdienssin teen Schoonees se beginsels as getroue kerkman ingegaan het. 'n Ander vriendin op skool - en ook aanvanklik later aan die Pietermaritzburgse Universiteitskollege - was Gertjie van Rooyen vir wie hy sy Amandelogies genoem het. Op Vryheid het Opperman soos 'n spons al die kennis ingedrink wat hy deur die onderwys en sy eie leeswerk kon vergader. Vir die eerste helfte van die standerd VII-jaar was Jannie van der Merwe, 'n man wat sy lewe gewy het aan die doseer van Afrikaans aan die Hoërskool Vryheid, verantwoordelik vir die kursus in Afrikaans. Hy het sy leerlinge beïndruk met sy flink optrede, wakker styl en die wyse waarop veral die poësie met hulle behandel is. Ná die Junievakansie het die skoolhoof, dr. P.C. Schoonees, van sy verlofperiode uit Nederland teruggekeer. Omdat sy eie dogter, Fie, saam met Boet en Liz in dieself- | |
[pagina 40]
| |
de klas was, het hy besluit om van die senior groepe aan Van der Merwe af te staan en die standerd VII-klas van 1931 tot Matriek deur te neem. Dit was Schoonees wat Opperman Dirk begin noem het, 'n naam wat sy skoolmaats oorgeneem het en wat hy vir die res van sy lewe sou behou, al het sy ouers, broers en susters hom Boet bly noem. Só het dit dan gekom dat Dirk vir feitlik die volle duur van sy hoërskoolloopbaan onderrig kon ontvang van een van die mees gerekende Afrikaans-onder-wysers in die land. Schoonees was iemand wat met sy jarelange studie in Nederland 'n breë visie op die literatuur gehad het en wat met sy voortgesette navorsingswerk op die hoogte was van die jongste literêre strominge. Met sy Amsterdamse proefskrif oor Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging (1922) kon hy, ná Preller se herwaardering van Melt Brink en sy oordeel oor Johannes van Wyk, die eerste grondige Afrikaanse kritiek lewer waarin suiwer estetiese maatstawe konsekwent deurgevoer is. In die eerste druk van sy dissertasie gee hy 'n herwaardering van die Afrikaanse prosa aan die hand van Tagtigermaatstawe en spreek hy negatiewe oordele uit oor die werk van Von Wielligh, De Waal en Langenhoven. Hierdie uitsprake in Die Burger het 'n sterk reaksie van C.J. Langenhoven ontlok en tot 'n polemiek met letterkundige kollegas gelei. By herhaling was Schoonees verplig om sy standpunt duidelik te stel. Daarnaas het hy in verskeie bundels van die eerste literêr-kritiese essays in Afrikaans geskryf, sy analises van prosawerke in resensies en herdrukke van sy proefskrif aangevul en saam met J.R.L. van Bruggen die eerste behoorlike Inleiding tot die studie van die letterkunde (1925) in Afrikaans opgestel. Met sy Nederlandse agtergrond, sy wye kennis van die literatuur en sy kritiese bespreking van nuwe publikasies kon Schoonees sy leerlinge se wêreld verruim soos weinig ander onderwysers in Suid-Afrika. Vir Dirk Opperman se ontvanklike gemoed was Schoonees die spreekwoordelike regte man op die regte tyd. Betreklik gou het hy 'n persoonlike verhouding met hom opgebou, gereeld by hom aan huis gekom, lang gesprekke met hom gevoer en verlof verkry om boeke in sy ruim en omvattende biblioteek te raadpleeg. Daarby het Schoonees sy skoliere aangemoedig om nie net die stereotiepe opstel in te lewer nie, maar om te probeer verse maak, invallende gedagtes in 'n dagboek neer te pen en toneelstukkies of denkbeeldige briewe te skryf.Ga naar eind6 Met hierdie werkwyse het Schoonees meer stelwerk van Dirk ontvang as die res van die klas saam, want elke keer kon sy maats sien hoe sy boek teruggegee word! Jare later het Opperman in Die tweede verdieping 'n keur uit die beskouings van Schoonees saamgestel. In die voorwoord tot dié bundel bespreek hy Schoonees se belangrikheid as kritikus, sy stryd vir moedertaalonderrig en die opheffing van die Afrikaanse kind en sy afkeer van die onsuiwer kanseltaal. Daarna betuig hy sy en sy medeskoliere se persoonlike skatpligtigheid teenoor Schoonees: | |
[pagina 41]
| |
Hy het voortdurend by ons 'n gevoeligheid vir die juiste woord, vir die mooi boek, vir geestelike aangeleenthede en die Afrikaanse wêreld aangewakker. Daar-by was sy uitgebreide biblioteek tot my beskikking, en ek het heerlik gelees: Afrikaans, Nederlands, Engels, veral krities gelees, want orals in die boeke was Schoonees aanwesig met onderstrepings, vraagtekens, uitroepe en kommentaar. Ook het hy die kunstenaar in ons probeer uitlok: af en toe moes ons wel die gewone opstel pleeg, maar hy het selfontwikkeling beklemtoon en ons laat skryf wat en waaroor en wanneer ons wou: gedigte, verhale, sketse, boekresensies, aforismes e.d.m.Ga naar eind7Opperman het sy lewe lank erkentlik teenoor Schoonees gebly, selfs toe N.P. van Wyk Louw in Vernuwing in die prosa ernstige besware teen Schoonees as literator gehad het en hy self sterk van Schoonees verskil het wat die beoordeling van 'n roman soos Leroux se Sewe dae by die Silbersteins betref. Sy hulde blyk onder meer uit die feit dat hy gereeld eksemplare van sy bundels aan Schoonees gestuur het. Alhoewel Schoonees heelwat tyd aan stelwerk en taalkunde in sy kursusse afgestaan het, was die bestudering van die letterkunde sy hoofbelangstelling. In standerd VII en VIII het hy onder meer Hendrik Brand se Adriaan Hugo, E.B. Grosskopf se Patrys-hulle, W.G. van de Hulst se De roode vlek en Leipoldt se Uitgesoekte gedigte vir jong Suid-Afrika met Dirk en sy klasgenote behandel. Vir standerd IX en X was onder meer voorgeskryf Aleida Nijland se Bloemlezing uit Guido Gezelle's Gedichten, Marié Linde se Onder bevoorregte mense, Totius se Ragel, Frederik van Eeden se De kleine Johannes I en E.C. Pienaar se Digters uit Suid-Afrika.Ga naar eind8 Van die gedigte van Leipoldt en Gezelle het 'n groot indruk op Opperman gemaak en in sommige van sy skoolverse is hulle invloed te bespeur. Gezelle se gedig ‘Het schrijverke’ met sy beginreëls O krinklende winklende waterding,
met 't zwarte kabotseken aan,
wat zie ik toch geren uw kopke flink
al schrijven op 't waterke gaan!
was byvoorbeeld vir hom besonder aantreklik, en so laat as 1950 vind dit 'n nawerking in die voorstelling van ‘Draaikewers’ in Engel uit die klip. Ragel, baie simpatiek deur Schoonees behandel, was vir Opperman die inleiding tot 'n blywende belangstelling en waardering vir Totius, terwyl De kleine Johannes I met sy allegoriese figure hom lank sou bybly. As hy in die sestigerjare Sewe dae by die Silbersteins met sy Stellenbosse studente behandel, bring hy die Wistik- en Pluizer-figure in hierdie roman - in een van sy verrassende verbandleggings en as voorbeeld van sy teleskoperende benadering van die literêre tradisie - in verband met dr. Johns, regter O'Hara en Jock Silberstein in Leroux se werk. Afgesien van die amptelike lys voorgeskrewe werke het | |
[pagina 42]
| |
Schoonees ook Inleiding tot die studie van die letterkunde met sy leerlinge bespreek en hulle op dié wyse 'n basis vir die behoorlike analise van literêre kunswerke gegee. Ook Ampie het hy spesiaal met hulle bespreek, want Jochem van Bruggen was juis in hierdie tyd op 'n landsreis met die toneelverwerking van sy roman en het ook Vryheid aangedoen. Schoonees het gereël dat Dirk en Philip Nel kaartjies vir die opvoering help verkoop, en hulle aan Van Bruggen voorgestel. Die ontmoeting was egter teleurstellend, want as gevolg van die skrywer se ernstige spraakgebrek kon hulle skaars 'n woord verstaan van wat hy sê. ‘Hy kry swaar om woorde uit te kry, maar hy kan darem skryf,’ was Dirk se kommentaar na dié ontmoeting. Naas die twee amptelike tale het Dirk Wiskunde, Wetenskap, Geskiedenis en Latyn as vakke gehad. Hartman Ries was sy Geskiedenis-onderwyser en het - naas die belangstelling in die verlede, wat reeds deur die ervarings van sy voorsate en familielede geprikkel is - die grondslag vir 'n diepgaande historiese belangstelling by hom gelê. As Schoonees die literêr-romantiese pool in Opperman se samestelling sou stimuleer, het Gerard (Koos) Boonstra, die Wetenskap-onderwyser, met sy kritiese kyk op die kerk, sy afsydigheid teenoor religieuse aangeleenthede en sy opstandige gesindheid teenoor die Hertzog-Smuts-regering, vir die ontwikkeling van Opperman se meer wetenskaplike en rasionele pool gesorg. Met sy uitgesproke Darwinistiese oortuiging het hy verder Dirk se belangstelling gestimuleer in die deterministiese denke van die ewolusieleer wat later in sy poësie neerslag sou vind. Boonstra het die skrander rooikopseun tot Blits herdoop, 'n bynaam wat hy vir die hele duur van sy hoërskoolloopbaan sou behou. Boonstra was 'n belese man, 'n lid van die Gryshemde en later die Ossewa-Brandwag en het as 'n baie goeie onderwyser bekend gestaan. In sy optrede was hy nonchalant en in sy onderrigmetodes het hy van die konvensionele afgewyk en nie geaarsel om van tyd tot tyd 'n kragwoord voor sy skoliere te gebruik nie. Alles wat hy teoreties aan sy leerlinge oorgedra het, is in die laboratorium met behulp van eksperimente geïllustreer. Vir die geologiese afdeling van die werk het hy die seuns na Pongola geneem en saam met hulle opgrawings in die Ubombo-berge gedoen, 'n ervaring wat later neerslag vind in Opperman se gedig ‘Vakansiebrief’ in Heilige beeste. Die Engels- en Latyn-kursusse is behartig deur Alec Levine, eweneens 'n uitstekende onderwyser wat sy werk deeglik geken het en dit met oortuiging kon oordra. Onder meer het hy Trollope se Barchester towers en Shakespeare se A midsummer night's dream met hulle behandel. Uit hierdie Shakespeare-drama sou die woorde van Theseus oor die taak van die digter, wat die filosofiesverylende as boustof afwys en voorkeur gee aan die tasbare en sigbare, later 'n steeds bestendige rigsnoer wees vir Opperman se poëtiese praktyk en vir die advies wat hy as dosent op Stellenbosch aan jong digters en studente in die digkunde sou gee: | |
[pagina 43]
| |
And as imagination bodies forth
the forms of things unknown, the poet's pen
Turns them to shapes, and gives to airy nothing
A local habitation and a name.
Deur die Latyn-kursus het Dirk in aanraking gekom met 'n werk wat 'n baie belangrike invloed op hom sou hê en vir sy besondere opvatting van die digterskap van kardinale belang sou wees. Een van die voorgeskrewe boeke vir die Matriek-kursus was Ovidius se Metamorphoses: A selection, geredigeer deur W. Rollo en Oscar J.S. Satchel en in 1931 gepubliseer deur Juta & Kie. Die volledige werk van Ovidius bestaan uit 12 000 reëls, geskryf in heksameters en verdeel in vyftien boeke. Dit het as boustof 'n ryk verskeidenheid verhale wat almal met transformasies van die een of ander aard te make het: chaos wat georden word, diere wat in klippe verander en mense wat die gestaltes van bome, diere of sterre aanneem, dikwels as gevolg van die hartstog van een van die gode vir 'n mens. In sy eerste bundel, wat elf jaar later verskyn, steun die gedigte ‘Echo en Narcissus’, ‘Phoenix’ en ‘Daphne en Apollo’ op boustof waarmee hy reeds in die skoolbloemlesing uit Ovidius kennis gemaak het. In ‘Daphne en Apollo’ praat hy van die twee figure wat ‘elkeen tot 'n stroewe boom verwring/ met takke na mekaar, verstar en naak’, 'n voorstelling wat die gedaantewisseling van die figure sentraal stel. Later verbind hy hierdie gegewe met sy opvatting oor die taak van die digter wat die ewige wisseling van vorme en gestaltes noukeurig moet waarneem, sy eie self moet onteien en moet opgaan in ander figure. Dié opvatting kom voor in baie van Opperman se heel belangrikste verse uit verskillende stadia van sy digterlike loopbaan en bereik 'n hoogtepunt in die grootse siklus ‘Kroniek van Kristien’ uit die bundel Blom en baaierd. In drie gevalle waarin hy die metamorfose poëties gestalte laat vind, verwys hy regstreeks na Ovidius. In die dramatiese monoloog ‘Scriba van die Carbonari’ uit Engel uit die klip sê die sprekende ek: Ons digters, en Ovidius veral,
het die omskepping van die gees besing
met Daphne en NiobeGa naar eind9 in kristal,
in klippe of in bome vasgewring;
en sien hy dit as sy taak om ‘in volstrekte/ vereenselwiging met alles om my heen: bloeisels, Alpe en viswyf,.../ deur die gedig die engel uit die steen’ te verlos. Edms. Bpk., Opperman se bundel van 1970, steun op 'n motto wat bepalend is vir die gang van die bundel en die sleutel vorm tot die motief van gedaantewisseling wat telkens verder uitgewerk word. Hierdie motto lui: | |
[pagina 44]
| |
Mij lust t' ontvouwen
hoe de vormen aller dingen
In nieuwe lichamen verkeerden (.)
Dit is die eerste reëls van Vondel se vertaling van Ovidius se Metamorfoses wat begin met die woorde: In nova fert animus mutatas dicere formas
corpora (.)
In sy laaste bundel, Komas uit 'n bamboesstok (1979), is daar by herhaling sprake van ‘'n wisseling van lywe’ en in die gedig ‘Ovidius praat mooi met Rooiaas op Franskraal’ verwys die sprekende digter regstreeks na Opperman se studie op skool. Die ‘wisseling van lywe’ - soos Opperman dit interpreteer - lei daartoe dat die digter basies iets ‘wesenloos’ in homself het en nooit 'n partygenoot kan wees nie. Na alle waarskynlikheid was hierdie insig, wat later so sentraal in Opperman se hele siening van die kunstenaarskap gestaan het, in dié stadium van sy lewe nog skaars genuanseerd of bewustelik by hom aanwesig, maar dit is tog veelseggend dat hy - in teenstelling tot sy ouers, sy broer Maans en sy suster Liz - nie deelgeneem het aan die ekstremistiese politieke aktiwiteite van die dertiger- en veertigerjare nie, maar eerder as buitestaander hulle deelname ontledend waargeneem het. ‘In die werk van die waaragtige kunstenaar,’ skryf hy in 1953 in sy belangwekkende opstel ‘Kuns is boos!’, sal ons vind dat hy nie kant kies nie. In sy wese is hy eintlik wesenloos, soos mis of water vloei hy van holte tot holte. In dié opsig gee Keats - 'n digter wat myns insiens soms 'n diep insig gehad het in die aard en taak van die kunstenaar en sy werk - 'n juiste samevatting: ‘As to the poetical character itself...it is not itself - it has no self. It is everything, and nothing - it has no character. It enjoys light, and shade. It lives in gusto, be it foul or fair, high or low, rich or poor, mean or elevated - it has as much delight in conceiving an Iago as an Imogen. What shocks the virtuous philosopher delights the chameleon poet.’ Die werklike kunstenaar is 'n verkleurmannetjie, hy neem die kleur van sy omgewing aan, word een daarmee, word die groen blaar en ook die droë takkie. Met ewe groot oorgawe en wyding is hy sowel die protagonis as die antagonis, sowel die held as die skurk, hy is ewe partydig vir almal, of eerder geheel en al onpartydig, in 'n groot mate dus amoreel deur sy onpartydigheid. Aan die een kant is hy die kuise Josef, aan die ander kant met 'n ewe groot noodsaak die wellustige vrou van Potifar.Ga naar eind10 Maar ook 'n ander boek sou 'n ingrypende invloed op Opperman hê. In 1933, as hy in standerd IX is en besig om vir aanneming as lidmaat van die Ned. Geref. Kerk te katkiseer, gee Levine, as blyk van waardering vir Opperman se uitsonderlike prestasies in Latyn, vir hom 'n eksemplaar van The martyrdom of man deur Winwood Reade. Hierdie boek, wat vir die eerste keer | |
[pagina 45]
| |
in 1872 verskyn en daarna talle herdrukke beleef, is 'n interpretasie van die groot periodes in die beskawingsgeskiedenis van die mens vanaf die Egiptiese oudheid, deur die Grieke, Romeine en die Israeliete tot by die Middeleeue en die moderne periodes. Met sy oorrompelende Keatsiaanse styl en sy Wellsiaanse erudisie verdeel Reade hierdie geskiedenis in vier hoofafdelings wat hy agtereenvolgens ‘War’, ‘Religion’, ‘Liberty’ en ‘Intellect’ noem en relativeer hy Christus tot 'n geskiedkundige figuur wat ontdaan is van sy goddelikheid en almag. ‘No book of the kind,’ sê John M. Robertson in sy inleiding, ‘had ever so forcibly and concretely negated the ordinary religious beliefs.’Ga naar eind11 Oor Christus in sy verhouding tot die Skrifgeleerdes en sy eie dissipels skryf Reade: He called the learned doctors a generation of vipers, whited sepulchres, and serpents; he declared that they should not escape the damnation of hell. Because they had made the washing of hands before dinner a religious ablution, Jesus, with equal bigotry, would not wash his hands at all, though people eat with the hand in the East, and dip their hands in the same dish. He told his disciples that if a man called another a fool he would be in danger of hell-fire; and whoever spoke against the holy Ghost, it would not be forgiven him ‘neither in this world nor in the world to come’. He said that if a man had done anything wrong with his hand or his eye, it were better for him to cut off his guilty hand, or to pluck out his guilty eye, rather than to go with his whole body into hell. He cursed a fig-tree because it bore no fruit, although it was not the season of fruit - an action as rational as that of Xerxes, who flogged the sea. He retorted to those who accused him of breaking the Sabbath that he was above the Sabbath.Ga naar eind12 Alhoewel hy in 'n ruim denkende huis met 'n betreklik vrysinnige vader grootgeword het, was die kennismaking met Reade se boek vir die jong en gevoelige Opperman 'n traumatiese ervaring wat tot 'n persoonlike en religieuse stryd gelei het, veral omdat hy in dié stadium besig was met katkisasie. Daarom het hy The martyrdom of man aan Levine teruggegee met die woorde dat sy Calvinistiese geloofsoortuiging dit nie vir hom moontlik maak om so 'n boek te besit nie. Levine se reaksie was: ‘Nee, goed, ek sal die boek hou. Maar jy is te intelligent om die vrae en kwellinge wat Reade by jou gewek het, onbeantwoord te laat. Oor 'n jaar sal jy hierdie boek van my terugvra.’ Levine se voorspelling is bewaarheid. Nog voor die eindeksamen in Matriek het Opperman The martyrdom of man weer by hom kom haal en is die religieuse spanninge by hom op 'n vroeë leeftyd tot 'n betreklike eindpunt gevoer. Die kennismaking met Reade se boek is, ten minste gedeeltelik, verantwoordelik vir die afwesigheid van die geding-met-God wat in die eerste bundels van N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw voorkom maar ontbreek in Opperman se vroeë ongepubliseerde verse en sy eerste bundel. Later, in die gedig ‘Uit: Die dagboek van 'n seun’ uit Komas uit 'n bamboesstok, lewer Opperman verslag oor die invloed wat The martyrdom of man op hom as jong seun gehad het. | |
[pagina 46]
| |
IVAlhoewel hy reeds op laer skool gedigte geskryf het - oorwegend in Engels - was die verskuiwing na Vryheid en die studie onder inspirerende onderwysers vir Opperman die prikkel tot 'n hartstogtelike belangstelling in die letterkunde. In 'n plakboek het hy artikels bewaar oor die literatuur en verwante aangeleenthede wat in Die Huisgenoot en ander tydskrifte gepubliseer is. Deur die welwillendheid van Schoonees kon hy hom nou ook begin verdiep in die Nederlandse literatuur. Die gedigte wat in hierdie jare ontstaan het, is netjies in 'n oefeningboek oorgeskryf. Hieruit het Opperman nog voor die einde van sy Matriekjaar 'n bundel saamgestel wat hy die volgende jaar aan een van sy dosente aan die Pietermaritzburgse Universiteitskollege sou voorlê. Die skoolbundel het verlore gegaan, maar die beste verse daarin is bewaar in die restant van 'n tweede bundel wat hy tydens sy universiteitsjare geskryf het. Een van die vroegste gedigte wat behoue gebly het en waarskynlik uit 1932 dateer, is ‘Die klossie’. Volgens 'n mededeling van Opperman self in 'n brief van 31 Mei 1953 aan G.S. NienaberGa naar eind13 het dit ontstaan na die lees van Leipoldt se voorgeskrewe Uitgesoekte gedigte vir jong Suid-Afrika: Ou jakaranda-klossie,
As ek nou sterf wat sal dan van my word?
Die klossie beef...
Toe val hy na die grond.
Uit 1932 of 1933 dateer ook ‘Die jakaranda’, 'n beskrywing van 'n boom wat voor die Hoërskool Vryheid gestaan het. Die gedigte wat uit Opperman se jare in standerd IX en X bewaar gebly het, is talryker en toon ook plek-plek in die sinsbou iets van sy latere woordekonomie. ‘Ouderdom’, sy eerste sonnet, toon - soos hy trouens in die brief aan Nienaber noem - 'n verwantskap met Eugène N. Marais se ‘Mahlo-a-Naledi’Ga naar eind14 waarin daar sprake is van 'n jonggestorwe dogtertjie wie se ‘reine onskuld op die vreeslik' pynbank’ uitgerek is. In ‘Dik reën-geswelde wolke’ word 'n mens getref deur die waarneming van wat indertyd Opperman se onmiddellike omgewing moet gewees het. Ook ‘Die dromertjie’ getuig van besonder fyn waarneming. Nog 'n gedig wat hoofsaaklik op natuurwaarneming berus, is ‘O lente-son, ek het jou lief’ waarin daar 'n sekere verwantskap met Gezelle voorkom. In twee gedigte is daar sprake van 'n liefdesverhouding. In ‘Gesterk’ vra hy 'n ‘teken’ van die geliefde, terwyl ‘Gevoelens nie’ met sy ‘hoë liefde’ reeds aan die vroeë Dertig herinner, al kon Opperman in dié stadium die werk van N.P. van Wyk en W.E.G. Louw alleen uit sporadiese | |
[pagina 47]
| |
tydskrifpublikasies geken het. 'n Laaste skoolgedig wat bewaar gebly het omdat dit in Opperman se eerste jaar aan die Natalse Universiteitskollege in die College Magazine (jaargang 31, Junie 1935) gepubliseer is, het die titel ‘Seepbelle blaas’: Seepbelle blaas! Seepbelle blaas!
In die tere morewaas.
Met die moremis om my
En hier en daar 'n goue plas,
Kyk ek na die belle as
Hul deur die missies gly.
Toe nog een uit d' pypie swel
En opstyg in die skemerglans
In 'n ligte seepbeldans,
Het ek ook saamgesnel.
In die blou het ek gesweef,
Waar alles goue lokkies kry
Van die ryke kleur-gety,
Wat binne in my leef.
Die bel se tere tintjies
Kom almal van die morerooi,
Wat sy kleure sprietend gooi
In die goue splintjies.
Die son, wat nie wou verstaan
Het gou my seepbel deurgesteek
En die kleureprag gebreek -
Die bel val soos 'n traan.
More in die skemering
Kan jy jou wange weer laat swel;
Blaas opnuut 'n tere bel
Wat weer die kleure bring.
Seepbelle blaas...
Afgesien van gedigte het Opperman op skool gebruik gemaak van Schoonees se ope uitnodiging om stelwerk in te lewer en ook resensies oor nuwe boeke te skryf. Op 'n keer het hy 'n fantasie oor piramides op hulle erf ingelewer, maar Schoonees het daar niks van gehou nie. In standerd IX skryf hy 'n kortverhaal met die titel ‘Die reënoffer’ waaruit sy diepgaande kennis van die Zoeloe | |
[pagina 48]
| |
duidelik blyk. Die verhaal is gesitueer in die wêreld van sy grootvader se plaas Stedham, onder meer met die verwysing na die kokende moddergate waarin die ‘swaweldampe en ander verstikkende gasse wat hier uitwalm en dralend opkrul,...klein blasies op die papperige modder (veroorsaak), wat dan een vir een stukkend plop en die opgeslote gas vrylaat’. Dié siening berus op die waarneming van die warmwaterbronne noord van Stedham, 'n gegewe wat Opperman ook in die gedig ‘Borrel’ in sy eerste bundel sal gebruik. Schoonees het soveel van die verhaal gehou dat Opperman in 1934 besluit het om dit vir moontlike publikasie aan 'n tydskrif voor te lê. Liz het ‘Die reënoffer’ oorgetik en dit is na Die Huisgenoot gestuur. In 'n brief van 20 Augustus 1934 aanvaar Markus Viljoen, indertyd die knap en ondernemende redakteur van Die Huisgenoot, die verhaal en sê hy: ‘Meer verhale van daardie gehalte sal altyd welkom wees...Die netjiese manuskrip was 'n verkwikking!’ Op 7 September 1934 verskyn ‘Die reënoffer’, na die gedigte in die skooljaarblaaie, die eerste gepubliseerde stuk van Opperman waarmee terselfdertyd 'n lang verbintenis met Die Huisgenoot begin. | |
VIn sy Matriekjaar het Dirk Opperman al sy kragte ingespan om sy skoolloopbaan suksesvol af te sluit. Tydens die September-eksamen, wat as 'n oefenlopie vir die einde van die jaar beskou is, was hy egter só oorwerk dat hy die kluts kwytgeraak het. Toe hy die laaste vak moes skryf, het hy in die eksamenlokaal net 'n oomblik na die vraestel gekyk, na die toesighoudende onderwyser gestap, die vraestel voor hom neergegooi en gesê: ‘Jy kan dit sélf skryf.’ Gelukkig het die onderwyser dadelik die snaakse uitdrukking in die seun se oë gesien en hom na die hoof geneem. Schoonees het besef dat Dirk nie kon skryf nie en hom aangeraai om 'n bietjie in die veld te gaan stap totdat hy beter voel. Daar het sy maag onklaar begin raak en het hy begin opgooi. Terug by die huis wou sy moeder hom dadelik dokter toe neem en het sy hom gevra om sy baadjie aan te trek. Tot haar ontsteltenis was hy só deurmekaar dat hy, toe sy weer kyk, probeer het om in een van die ‘kleintjies’ se skoolbaadjies in te kom. Die dokter se bevinding was dat hy heeltemal ooreis is; hy sou 'n tydjie moes uitrus. Volgens die regulasies van die Natalse Onderwysdepartement vir so 'n geval is die gemiddelde punt van die klas aan hom vir dié vak toegeken, maar ten spyte daarvan het hy nog steeds sy eerste posisie gehandhaaf. Aan die einde van 1934 het Dirk die Matrikulasie-eksamen van die Universiteit van Suid-Afrika afgelê en die besondere prestasie verwerf om die beste uitslag in die Hoër Taalbondeksamen te behaal. Met hierdie prestasie het hy 'n onderwysbeurslening ontvang om van die begin van 1935 af by die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg te studeer. | |
[pagina 49]
| |
Alhoewel die beurslening sy studie- en losiesgelde sou dek, het dit nie voorsiening gemaak vir sakgeld en allerlei ekstra uitgawes nie. Daarom was vader Opperman aanvanklik nie baie entoesiasties oor die voorgenome studie nie en het hy - meer uit desperaatheid oor hoe hy Dirk in sy swak finansiële posisie kon help as uit werklike verset teen universitêre opleiding - sy seun probeer afraai om na Pietermaritzburg te gaan. Dirk was egter gretig om onmiddellik met sy studie te begin en Sannie Opperman was bereid om ekstra naaldwerk te onderneem om vir hom sakgeld te kan gee. Aan die begin van 1935 het hy Vryheid verlaat vir sy eerste jaar as student in Pietermaritzburg. |
|