D.J. Opperman
(1986)–J.C. Kannemeyer– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 13]
| |
I Natal
| |
[pagina 15]
| |
Hoofstuk I
| |
[pagina 16]
| |
op die vroeë ouderdom van een en veertig jaar, is Godlieb Christia(a)n oorlede. Die eerste geslag van die Opperman-familie in Suid-Afrika is Godlieb Rudolphus (1729-1781), burger van Drakenstein en later burger-kommandant. Uit sy twee huwelike is vier seuns en ses dogters gebore. Die oudste, Christiaan Rudolph, gebore in 1755, was 'n burger op Stellenbosch en is in 1775 met Maria Christina Koekemoer getroud. Hierdie Maria Christina se vader het die voornaam Diederik gehad en haar een broer was Diederik Johannes. Op dié wyse het die algemeen gebruikte Koekemoer-voorname in die Opperman-familie gekom, want Christiaan Rudolph en Maria Christina se seun, wat op 2 Februarie 1783 in Kaapstad gebore is en later in Graaff-Reinet gaan woon het, is Diederik Johannes gedoop, 'n naam wat vir die volgende vyf geslagte by die Oppermans voorkom - in die laaste vier geslagte elke keer die naam van die oudste seun. Hierdie Diederik Johannes se derde seun met dieselfde naam is op 2 Oktober 1809 gebore en hy was op sy beurt die vader van 'n seun wat op 29 April 1834 op Cradock die eerste lewenslig aanskou het. Van dié Opperman dra die familie vandag nog kennis, want op gevorderde leeftyd noem die digter in 'n onvoltooide lewenskets dat sy voorouers uit Cradock se wêreld na Natal getrek het, waarskynlik in die sewentigerjare van die negentiende eeu.Ga naar eind3 Hierdie Diederik Johannes was getroud met Jacoba Frederika Beatrix Marais en hulle was die eienaars van Geduld nr. 2 waar die digter later gebore is. Hulle is onderskeidelik in 1910 en 1912 oorlede en albei op die plaas begrawe. Hulle seun, Diederik Johannes, gebore op 28 November 1862, was die erfgenaam van Geduld nr. 2 en die grootvader van die digter. Die Opperman-voorsate wat in die Kaapkolonie gewoon en hulle later in Natal en Transvaal gevestig het, was vegters en pioniers, geweldige sterk mense wat berge kon versit. Onder hulle was daar 'n veldkornet wat betrokke was by die Slagtersnek-rebellie, 'n Voortrekker wat later in Pretoria gaan woon het, 'n Dorslandtrekker en 'n burger wat aan die oorlog teen Mapog en daarna aan die Eerste en Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem het. Christiaan Rudolph Opperman se agterkleinseun is die beroemde generaal Christiaan Rudolph de Wet, die held van die Anglo-Boereoorlog, terwyl Daniel Jacobus Opperman in 1896 help om Jameson te verdryf en aan gevegte by Modderfontein, Dundee en Spioenkop tydens die oorlog van 1899-1902 deelneem. ‘Rooi’ Daniel Opperman veg tydens die Rebellie van 1914 aan die rebelle se kant. Die Diederik Johannes wat in die sestigerjare uit die Kolonie getrek en hom op die plaas Geduld nr. 2 gaan vestig het, moes saam met sy seuns die wêreld van Noord-Natal help skoonmaak, want dit was in daardie stadium nog wilde, ongetemde gebied. Dit is dan ook nie te verwonder nie dat die digter later in ‘Nagwaak by die ou man’ in Negester oor Ninevé hierdie vegters en pioniers as ‘voorvaders met ruie baard’ beskryf en by die aanskoue van ‘die strenge blik/van voorgeslagte’ uit die ‘geel portrette’ voel dat | |
[pagina 17]
| |
die gloed
wat in hul oë brand, mag in my bloed,
mag in my lende nie sy einde vind,
moet verder veg teen tier, teen hierdie wind.
Onder die heldefigure wat in die familieherinnering hoë aansien geniet en selfs legendariese afmetings aangeneem het, is veggeneraal Jacobus Daniel Opperman, 'n grootoom van die digter. Tydens die Anglo-Boereoorlog was hy een van Louis Botha se manne en het hy aan gevegte by Colenso, Pietershoogte, Barberton, Vryheid en Piet Retief deelgeneem. By die slag van Itala is hy as een van die ‘bekwaamste offisiere’Ga naar eind4 en 'n voortreflike strateeg beskou. Later veg hy in Oos-Transvaal en sneuwel op 4 Januarie 1902 in die ouderdom van een en veertig jaar op die plaas Onverwacht naby Ermelo as 'n koeël hom in die voorkop tref. Onder familielede het die verhaal ontstaan dat die veggeneraal en die Britse offisier albei vooraan hulle linies gery en mekaar gelyktydig doodgeskiet het, maar daar is niks van waar nie. Tydens die oorlog skryf hy etlike briewe aan sy ouers, eggenote en broers en susters waaruit blyk dat hy, ten spyte van 'n gebrekkige skoolopleiding, 'n sekere woordgevoeligheid gehad het en selfs plek-plek 'n rym of twee in sy prosa kon inwerk. In 'n brief van 20 Augustus 1901, wat hy van Boschkrans af aan sy ouers en familie stuur, skryf hy oor al sy wedervaringe en verneem hy na hulle welstand: Verder die kinders schryf my dat u allen nu zoo arm is het gaat my niet anders ik heef nog 4 koejen En 2 paarden maar wat alles zal welrecht komt zeg ou Jan Brand ons heef nog mielies En met hom en Thys sal ons kakie wys Syn twak is nat om ons land te vat maar mielies is de ding waar voor ons God die meest moet love. In die in memoriam-kaartjie wat na sy dood gedruk is, verskyn die volgende aanhaling uit 'n brief wat hy in Augustus 1901 aan sy vrou geskryf het: ‘Ik hoop wij zullen elkaâr spoedig met liefde ontmoeten, doch aan opgeven valt niet te denken en wij moeten aanhouden.’ Onderaan die kaartjie verskyn die woorde: ‘Hij bleef zijn Land en Volk/Getrouw tot den Dood.’Ga naar eind5 Om 'n heeltemal ander rede het die herinnering aan 'n ander voorsaat in die familie bly voortleef. Die digter se grootvader Opperman was getroud met Louisa Petronella Cronjé, die dogter van Christiaan Jacobus Cronjé (1840-1893) en Anna Jacoba Davel (1846-1929). Hierdie oupagrootjie Cronjé het ongeveer 'n jaar voor sy dood 'n lang lyding gehad as gevolg van kanker van die tong. Omdat hy die laaste maande nie kon praat nie, moes hy 'n lei gebruik waarop hy geskryf het wat hy wou hê. Voedsel kon hy slegs met moeite inneem, maar hy het die lyding bewonderenswaardig deurstaan en was by almal bemind en geag, 'n vrome Christen wat lank as ouderling van die gemeente Newcastle | |
[pagina 18]
| |
gedien het. Die digter se vader was ongeveer drie jaar oud toe sy oupa dood is. In sy ongepubliseerde Eerste herinneringe vertel hy van die siekte. ‘Gedurende die tyd wat hy nie kon voedsel inneem nie,’ skryf hy, ‘het hy gedroom dat sy oorlede moeder hom gevoed het met vars brood en melk van die anderkant af. Hy het ook geskrywe van die heerlike Stad met strate van goud wat hy sien, van Jesus en Sy engele en hy het eindelik sy hele begrafnis gereel.’Ga naar eind6 Cronjé se dogters het baie van die sinne op die lei opgeteken voordat hulle uitgewis is en só vir die nageslag bewaar. As 'n mens hierdie merkwaardige ‘Nagelaten gespreken (sic!) van onzen dierbare vader’ lees, word jy getref deur die realiteit van die verskriklike lyding, maar ook deur die ootmoedigheid waarmee hy God loof en verheerlik. ‘Het is vreeslyk om van honger en dors te sterf,’ skryf hy. ‘(M)elk kreeg ik nog in met groote moeite en water is er geen kans voor om en te kryge.’ 'n Ander keer: ‘mijn ingewand sterf van honger en dors. O kon ik maar sluk.’ Soms klink hy half ylend, asof sy verstand aangetas is: ‘Myn lyden is zwaar maar geloof mij de allerzwaarste is dat ik tog geen woord kan spreek ja niet met een van myne vriende en de tweede is de zwaare dors heef gy de Engelen niet gezien ik is gedaan.’ Maar dan sien hy reikhalsend uit na God: ‘ik hoop binne kort myn spraak weder terug te krijgen als ik by myn verlosser aanlanden myn spraak is ge heel weg.’ Soms gaan dit oor 'n mistieke ekstase: ‘ziet gij ook de groote schoone straad op de eene en andere hoek van de straat de heerlyke vontein van de water des levens ziet gy dan niet de heelyke gezichte van Engelen rondom mij.’ En: ‘ik droom dat ik myn Moeder ziet en dat zij mij twee bord melk aanwees en zeg drink hier is van alles overvloed wat u nodig heef.’ In die gedig ‘Penwortel’ in Komas uit 'n bamboesstok sal sy agterkleinseun hom byna negentig jaar ná sy dood herdenk. | |
IIVan die vegters en pioniers onder die voorsate, die heldedade van veggeneraal Opperman en die lyding van oupagrootjie Cronjé moes die digter reeds in sy kinderjare gehoor het, maar hierdie mense is almal oorlede voor sy geboorte. Daarteenoor was sy oupa aan vaderskant 'n baie belangrike figuur in die jong seun se lewe, 'n patriarg met 'n sterk persoonlikheid en 'n merkwaardige verstand, ‘'n groot sterk man met 'n wit baard’.Ga naar eind7 Op hoë ouderdom het hy 'n ernstige beroerte-aanval gehad, in so 'n mate dat die familielede nagwake by hom moes hou. Omring van die wildsbokhorings en geel portrette van voorvaders teen die mure en karosse op die vloer het hy op die bed gelê, met sy lam arm in 'n slinger wat met 'n osriem aan een van die balke bo sy kop verbind was. Van die ooms en kleinkinders het juis in hierdie tyd 'n luislang in die veld gevang en - ten spyte van die perde se proteste - in 'n goiingsak huis toe gebring. In sy halfbeswyming en deur sy ylings heen het die nuus van die | |
[pagina 19]
| |
luislang tot die oupa deurgedring. In 'n hallusinasie het hy die osriem vir 'n boavel aangesien en daarop aangedring dat hulle die ‘slang’ bo sy bed onmiddellik moes doodmaak! In een van sy belangrikste en groot verse, ‘Nagwaak by die ou man’ in Negester oor Ninevé, skryf die digter na aanleiding van hierdie siekbed van sy oupa en noem hy die ‘boavel’ in strofe 2, al word dit by hom deel van die muurversierings. Die oupa is egter nie tydens dié siekte oorlede nie. Hy het nog jare lank met die verlamming geleef en met 'n kierietjie geloop; sy kleinseun Koos - die digter se jongste broer - moes altyd sy pyp stop. Hy is eers op tagtigjarige leeftyd op 15 April 1942 dood en op Vryheid begrawe, 'n besonder hoë ouderdom in 'n familie wat berug daarvoor is dat die manlike lede jonk sterf. In 'n onvoltooide vers uit die Negester oor Ninevé-fase gee sy kleinseun 'n beeld van hom op hoë ouderdom: Ek sien hom nog met kierie in die hand
uitsukkel in die laaste dae teen die rand,
om met sy wit baard skuinsgewaai
weer waar hy gekap het en gesaai
met verkleinde waterogies af te meet.
Aanvanklik het grootvader Opperman op die plaas Geduld nr. 2 naby Dannhauser in die distrik Dundee geboer, 'n omgewing waar 'n hele paar van sy swaers en ander lede van die Cronjé-familie ook plase gehad het. Sy vrou, Louisa Petronella Cronjé, was klein, blas en besonder kunssinnig. Haar naam Louisa is deur die kleinkinders omvorm tot Wiesa, en toe die digter sy verstand begin kry, was haar ‘hare wit soos brak’, soos hy later die ou vrou Wiesa in Joernaal van Jorik sou beskryf.Ga naar eind8 Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is grootvader Opperman deur die Engelse gevange geneem, net om dieselfde aand weer terug te keer omdat hulle nie sy naam op 'n register kon kry nie! Van sy familie is egter later na die konsentrasiekampe geneem en met die sporadiese besoeke van burgers het hy gereeld baie padkos en geld aan hulle gegee. Teen die einde van die oorlog het die Engelse, in ooreenstemming met die ‘verskroeide aarde’-beleid van Kitchener, Geduld nr. 2 met die opstal en landerye tot die grond afgebrand, sodat die hele plaas na afloop van die driejarige stryd van nuuts af opgebou moes word. Met sy deursettingsvermoë en dinamiese karakter het die grootvader, ten spyte van gebrek aan geld en middele, alles weer aan die gang gekry. As verstandige man het hy besef dat materiële opbou nie genoeg is nie, maar dat hy sy kinders in die geleentheid moet stel om 'n behoorlike skoolopleiding te ontvang. Juis in dié tyd verneem hy toevallig dat die Nederlander Omius van Oostrum - wat later 'n bekende opvoedkundige in Transvaal sou word en baie taalboeke sou skryf - kandidaat is vir 'n pos as hoof van 'n skool in Vryheid. Telegrafies vra Opperman hom om te wag met sy beslissing. In 'n brief daarna sê Opperman dat dit sy voorneme is om 'n skool in sy omgewing te begin en | |
[pagina 20]
| |
intussen £10 per maand met vry kos en inwoning vir 'n onderwyser kan aanbied. In April 1903 aanvaar Van Oostrum die pos op Geduld nr. 2. In sy Bestendige onbestendigheid: My Suid-Afrikaanse ervaringe, 'n boek wat hy in 1943 publiseer, skets hy die toestande waarin hy moes werk: Mnr. Opperman het vir my 'n kamertjie gehad en in die voorkamer van sy huis moes ek maar voorlopig skoolhou, solank as hy langsaan sy huis 'n skoolkamer bou. Die skool word bygewoon deur sy eie kinders, kinders uit die familie en van omwonende mense, altesame 'n 20-tal, van die grade tot St. IV. Oor die lewensomstandighede skryf hy: Die lewe was maar armoedig: die vernaamste kos was mieliepap, en groen mielies, tot in Junie toe 'n mens perdetande moes hê om dit te kou; verder brood, nou en dan aartappels, 'n bietjie groente, eiers en blikkiesvis; want die oorlog het alles uitgeroei en daar was behalwe 'n paar koeie, 'n span trekosse, 'n klompie skape en hoenders, 'n ryperd en 'n merrie wat ook gery word (ek het haar nog gery die aand voordat sy die volgende môre 'n vul kry), geen ander veediere nie, veel minder slagbeeste. Net op Sondae eet ons 'n stukkie vleis uit die slaghuis by die stasie.Ga naar eind9 Soos die meeste mense ná die Anglo-Boereoorlog was die Oppermans dus arm en lydend, maar met sy ondernemingsgees het die grootvader voortgegaan met die bou van die skoolkamer om dit vir die onderwyser en kinders geriefliker te maak. Die hoop op 'n skool is egter nie vervul nie, omdat die distrikte Utrecht en Vryheid - wat vroeër by Transvaal ingeskakel was - ná die Anglo-Boereoorlog deel van Natal geword het. Daarby het Van Oostrum na 'n bietjie meer as 'n jaar besluit om tog 'n betrekking by die skool op Vryheid te aanvaar. Met die hulp van familielede was die landerye op die plaas egter weer mooi bewerk en die diere aan die aanteel. Juis in dié stadium tref 'n verwoestende haelbui en sneeuval die gebied. Die koringoes op Geduld nr. 2 is platgeslaan en die Oppermans was oornag sonder die veestapel wat hulle met groot sorg en moeite weer opgebou het. ‘Eers is ons deur die Engelse vernietig en toe deur God’ is 'n uitspraak wat later in die familie bekendheid verwerf het, al kan dit moeilik aan die grootvader met sy streng (maar menslike) Calvinistiese oortuigings toegeskryf word. Waarskynlik is die kwatryn ‘Hael’ in Heilige beeste deur hierdie gebeurtenis ingegee: Wat baat gebede, arbeid en gesaai
waar groter stelsels oor die enkeling draai?
My goedversorgde koringland word deur
die wit koeëls van 'n hemel afgemaai.
| |
[pagina 21]
| |
Die geweldige skade het grootvader Opperman laat besluit om sy plaas te verlaat, af te trek in die rigting van die Swartfoloos naby die warmwaterbronne en saam met sy ses seuns 'n nuwe plaas te begin. Geduld nr. 2 is verkoop aan sy swaer Chrisjan Cronjé wat met sy vrou, kinders en weduwee-moeder daar kom woon het. Sodoende het die plaas bekend en bemind in die familie gebly. Toe die digter se moeder met haar eersteling verwagtend geraak het, is dit gerade geag dat sy vir die bevalling na haar aangetroude oom op Geduld nr. 2 sou gaan, nader aan dokters en hospitale. Daarby was haar man en swaers ten tyde van haar swangerskap weg van die plaas. As Nataller het grootvader Opperman se simpatie tydens die Eerste Wêreldoorlog by Louis Botha en Smuts gelê en het hy van sy seuns verwag om die twee gewese Boeregeneraals met die inval in Duitswes-Afrika militêr te steun. So het dit dan gekom dat Diederik Johannes Opperman op 29 September 1914 op Geduld nr. 2 gebore is, 'n plaas wat ook later 'n genotvolle uitvlug en vakansieplek vir die Opperman-kinders sou bly. Van die digter se vroegste herinneringe was aan die ooms en tantes, oumagrootjie en neefs en niggies op Geduld, Dannhauser en Hattingspruit. Van sy oumagrootjie Anna Jacoba Cronjé kon hy die groot borde melktert in die rondawel onthou - sy ‘ouma in kaneel’ soos hy haar later in die gedig ‘Sproeireën’ in Engel uit die klip sou noem. In die ongepubliseerde biografiese skets herinner hy hom hoe haar kalkoene met skommelende plooilelle oor die werf van Geduld geloop en kloek het. 'n Keer toe hy alleen by sy grootoom-hulle gekuier het, was die verlange huis toe te groot en het die trane begin vloei. Die enigste reaksie van oom Chrisjan - 'n man wat nie met hom laat speel het nie - was om hom 'n pak slae te gee! Die plaas Stedham in die Swartfoloos-vallei, waarheen grootvader Opperman met sy vrou, ses seuns en ses dogters getrek het, was ongeveer vyftig kilometer suidoos van Vryheid naby die sendingstasie Glückstadt. Vandag is dit in KwaZulu. Anders as die omgewing van Geduld nr. 2 is die vallei besonder ryk aan plantegroei en diere. Langs die Swartfoloos, wat hier noordwaarts vloei, het 'n mens veral die maroela, wildevy en biesies aangetref, met die wag-'n-bietjie, noorsboom, haak-en-steek en kiepersol 'n bietjie verder weg van die rivier af. Tussen die bome het buffels, koedoes, sebras, waterbokke, ribbokke, duikers en steenbokkies rondbeweeg, terwyl die vleiloerie in die moerasse en die hadida en die boskraai, ‘wat soos 'n baba huil’,Ga naar eind10 in die ruigtes gehou het. Veral die hadida met sy onaardse geluid moet 'n groot indruk op die jong seun gemaak het, want die voël het allerlei assosiasies met die dood gewek. Oom Charl - een van die ooms op Stedham - het die kleintjies dikwels gewaarsku: ‘As julle 'n hadida uitkoggel of sy geluid namaak, sal julle bloedvinte op julle rug kry!’ Stedham was omring deur ander plase soos Doornhoek, Hollandia, Oudewerf, Kromplaats, Welgevonden en Uitkyk. Op die plaas Boschhoek, 'n bietjie | |
[pagina 22]
| |
noord van Stedham, kon die kinders die borrelende modderpap van die warmwaterbronne besoek, ‘gasse wat die modder stoot,/ laat opswel en plap/ en met die terugstoot van klei in klei/ in skoner lug ontsnap’ soos die digter dit later in ‘Borrel’ in Heilige beeste sou stel. Oor die een hoek van Stedham het die Thaka - 'n sytak van die Swartfoloos - gevloei, die plek waar die familie gereeld gaan piekniek hou het en waarvan die naam in die heel eerste gedig in Heilige beeste voorkom.Ga naar eind11 Alhoewel die plaas in die vallei lê, het die Oppermans op 'n hoogland gebly. Orlandia, 'n steil berg naby die plaas, moes uitgery word; van daar kon 'n mens afkyk op die rivier. Saans kon jy ‘die naguil en die dikkoppie aan die walle van die Swartfoloos of die Thaka hoor roep as die maan blinkwit oor Hlebe opkom.’Ga naar eind12 Grootvader Opperman het sy huis bo-op die berg gehad, terwyl sy seuns - wie se huise deur middel van voetpaadjies met dié van hulle vader verbind was - rondom in die laagte gewoon het. Tussen die verskillende gronde deur is 'n plaaspad aangelê wat die boere van die omgewing self moes maak en onderhou, want die provinsiale administrasie het nie geld daarvoor beskikbaar gestel nie. Die swak verbinding met die openbare paaie en die afsondering van die plase het meegebring dat die boere nie 'n behoorlike mark vir hulle produkte gehad het nie. Teen die tyd dat hulle hul vrugte in Durban of op Vryheid en ander plekke in Noord-Natal kon besorg, was die helfte van die vrag verlep of verrot. Finansieel was die Oppermans dus nie beter daaraan toe as op Geduld nr. 2 nie. Daarby was grootvader Opperman - ten spyte van sy deursettingsvermoë en sterk karakter - nie werklik 'n suksesvolle boer nie. Die poging om katoen te verbou, was byvoorbeeld 'n mislukking. Die nodige kennis het ontbreek en bolwurms het die oes vernietig. Tog was die lewe op Stedham vir die jong Opperman 'n avontuur in sy eerste lewensjare en ook later toe hy altyd vir vakansies na die gramadoelas - soos daardie stuk Natalse bosveld genoem is - teruggekeer het. Van sy ouma Louisa kon hy in later jare nog lekkernye onthou soos pampoenpap, doekpoeding en melksnysels met kaneelsuiker. Daar was drie keer per dag vleis op die tafel en hulle het 'n mooi groentetuin gehad. In die voorhuis het 'n groen pluiskleedjie die tafeltjie bedek waarop die familiebybel was, en saans het die gesin tydens die huisgodsdiens gesange en hallelujaliedere om die serafyntjie saamgesing. Die oupa het 'n groot medisynekis met homeopatiese middels gehad waarmee hy siek kleinkinders kon dokter.Ga naar eind13 Van die digter se vroegste herinneringe is hoe hy een aand, toe sy moeder saam met die ander ooms en tantes weg was, by sy oupa in die groot jas aan die slaap geraak het en voortdurend van die sweetreuk bewus was. Alhoewel sy oupa 'n sekere menslikheid, ruimheid en selfs vrysinnigheid besit het, was hy 'n streng Calvinis, ‘'n beoefenaar van 'n godsdiens gevorm tussen die berge en die Bybel’.Ga naar eind14 Tydens die skoolvakansies later, as hy op Stedham gekuier het - só vertel die digter in sy lesing ‘Kuns is boos!’ - | |
[pagina 23]
| |
het ek 'n aantal romans en digbundels gehad wat ek, veral Sondae wanneer 'n mens feitlik niks op die plaas doen en mag doen nie, in die buitekamer gelê en lees het. Op 'n dag het my oupa onverwags by die deur verskyn en my gevra wat ek so lees, en toe ek antwoord dat dit 'n roman is, het hy gesê dat hy ook in sy jeug daardie soort boeke gelees het, maar dat storieboeke ydel, wêrelds en boos is. 'n Mens moet tot heil van jou siel net leersame en stigtelike boeke lees, nie sulke leuens en dinge wat uit die duim gesuig word nie.Ga naar eind15 Die streng Calvinisme het die jong seun egter nie daarvan weerhou om die lewe te geniet nie, en dit was veral die speletjies wat vir hom besonder aangenaam was. Dikwels het hy sonder broek op die werf rondgekruip en in aanraking gekom met baie ander kinders wat van die omliggende plase op Stedham ter wille van die skoolbywoning was. Dáár ervaar hy sy eerste reënboog, sprinkane en krappe en eet hy sy eerste geelperskes van die paar bome vlak by die plaashuis. Maar veral sy spel met die Zoeloe-seuns was 'n vreugdevolle ervaring. Saam met hulle het hy in die kleisloot gespeel, met kleilatte baklei, kleiosse en saktente gemaak en die voorvaderlike geeste by die moddergate aanbid. Later tydens die vakansies het hulle voëls en kleinwild gejag en erdwurms uitgegrawe om in die rivier mee vis te vang. Hy het graag geluister na hulle vertellings met die bekoorlike herhalings; saans het hy saam met hulle bly ‘waak, groenmielies gebraai, gesels en sterre soek’ soos hy dit later in ‘Vele woninge’ in Edms. Bpk. sou stel. Die verhouding met die Zoeloes was baie goed. Die huisbediendes was baie na aan die gesin en hulle het 'n belangrike rol in die opvoeding van die kinders gespeel, terwyl die kontak met die klein Zoeloetjies vir die kinders 'n praktiese leerskool was wat veld en dier betref.Ga naar eind16 Die digter se aangebore handvaardigheid en sy drang om met al sy sintuie die wêreld te ervaar, het hier 'n vroeë en vrye geleentheid gekry om te ontwikkel. | |
IIIDie finansiële nood en uitsigloosheid van die boerdery het die digter se vader - nóg minder van 'n boer as die oupa - uiteindelik laat besluit om 'n ander heenkome te soek, veral toe hy en sy vrou op 30 Maart 1916 'n tweede seun, Hermanus Lambertus (Maans), ryker word. In dié stadium het sy broer Chris reeds op die spoorweë in Ladysmith gewerk en vroeg in 1917 - nadat sy broer Abraham sy stuk grond op Stedham oorgeneem het - sluit hy met sy gesin by Chris in Ladysmith aan. Vader Opperman is gebore op 5 Junie 1891. Hy was ongetwyfeld 'n skrander man wat as gevolg van sy karige skoolopleiding - hy het net standerd VI geslaag - nie die geleentheid gehad het om sy moontlikhede ten volle te verwesenlik nie. In sy Eerste herinneringe gee hy 'n beeld van die leefwyse en ervaringswê- | |
[pagina 24]
| |
reld van die Afrikaner rondom die eeuwenteling: die rondtrekkende smouse; die runderpes; die Nagmaalvierings waarvoor daar met die ossewa, spaaider of kar en perde op pad gegaan is; die gewapende burgers tydens die Anglo-Boereoorlog en die ouma en tantes wat uit die konsentrasiekampe terugkeer. Van 'n rondtrekkende smous het sy vader vir hom sy eerste bontperdjie, Ruby, gekoop. Hy vertel: Ek was byna buite myself van blydskap toe ek my eerste eige perdjie kon he, maar my arme klomp tantes het waarlik gedenk daar was iets met my keel verkeerd om die wonderlike geluide wat ek maak, toe ek die aand verneem dat ek die volgende môre saam met my vader na 'n naburige plaas kon gaan, en dit nogal op my eië bontperd. In sy bundel Komas uit 'n bamboesstok skryf die digter oor hierdie voorval uit sy vader se lewe in ‘Pa se eerste perdjie’. Vader Opperman was 'n onrustige gees, 'n outodidak wat kennis verwerf het oor 'n verskeidenheid vakgebiede. Een van sy groot belangstellings was die ingenieurswese. Deur hom op die hoogte te stel van gevorderde wiskunde het hy in die dertigerjare 'n volledige ontwerp van 'n gasturbine-masjien gemaak wat rewolusionêr van die destyds aanvaarde modelle afgewyk het. Die ontwerp is aan 'n universiteit in die Verenigde State voorgelê en dit is gepatenteer. Hy het 'n sertifikaat daarvoor van die American Inventors' Association ontvang wat in die gang van sy huis gehang het. Ook in die sterrekunde was hy geïnteresseerd, maar naas die ingenieurswese het hy veral in die godsdiens en die wysbegeerte belanggestel. Alhoewel hy 'n kritiese ingesteldheid teen die blote vormgodsdiens gehad het en geen gereelde kerkganger was nie, blyk dit uit sy menigvuldige ongepubliseerde geskrifte dat hy baie diep oor religieuse sake nagedink en God as die Groot Argitek gesien het. Die geskrifte - wat in 'n pragtige handskrif en met 'n uitstekende beheer oor Afrikaans geskryf is, as 'n mens sy gebrekkige skoolopleiding in ag neem - handel oor sake soos die liefde, die Al-religie in die natuur en die Christelike Kerk, en konsentreer dan veral op lewe ná die dood, geesverskynings en boodskappe tydens séances. Hieruit blyk dat hy 'n oortuigde spiritis was. Hy het dan ook gereeld byeenkomste gehou waartydens mediums met afgestorwenes | |
[pagina 25]
| |
in kontak probeer kom het. In sy nagelate geskrifte doen hy verslag oor sy ervarings op dié gebied. In sy boekery was bekende spiritistiese werke, soos Arthur Findlay se The rock of truth, Carl A. Wickland se Thirty years among the dead, die tydskrif Psychic News en Raymond revised van sir Oliver Lodge.Ga naar eind18 Naas hierdie belangstellings was vader Opperman ook baie geïnteresseerd in die skilderkuns. Onder sy skilderye was daar 'n voorstelling van die Slag van Bloedrivier wat sy twee oudste seuns een oggend met trots aan die skoolhoof op Colenso moes gaan oorhandig. Later, in die vroeë veertigerjare, toe hy in Johannesburg woonagtig was, het hy skilderye gemaak van ‘Houghton Drive’ en die Voortrekkermonument waarvan die ontwerp toe reeds bekend was. Naby Dannhauser het hy op 'n keer 'n ontploffing in 'n steenkoolmyn beleef en dit in 'n skildery vasgelê. Jare later het hy dit vir sy seun beskryf en die motief opnuut voortgesit in 'n houtskooltekening waarin hy die mynontploffing met Plinius se beskrywing van die uitbarsting van Vesuvius in verband bring en ‘die bol/ swart as en vlam wat dit die lug instrooi’, sien as ‘'n fontein of 'n verkoolde kiepersol’ - soos die seun later dieselfde motief in ‘Dennebol’ in Dolosse sou uitwerk. Vader Opperman het baie geskilder en moes noodwendig sy kuns kommersialiseer en skilderye verkoop so gou as wat hy hulle voltooi het. Hieruit was sy inkomste baie goed en kon hy later vir sy oudste dogter 'n klavier koop. Na alle waarskynlikheid het die digter sy vader se skildersoog geërf, want met sy sterk visuele ingesteldheid kon hy in latere jare sy waarnemings in besonderhede onthou en op verbluffende wyse van hulle verslag doen. Afgesien van sy belangstelling in die godsdiens en wetenskap en sy beoefening van die skilderkuns was vader Opperman 'n besonder belese man vir iemand sonder universiteitsopleiding. Onder sy boekery was die bekende Afrikaanse literatuur van die tyd, 'n ensiklopedie en The international library of famous literature wat met Richard Garnett as hoofredakteur in twintig dele 'n ruim (alhoewel negentiende-eeus gesentreerde) bloemlesing uit die wêreldletterkunde gebied het - 'n ryk bron waarvan sy leesgierige oudste seun later goeie gebruik sou maak. Op elke dorp waar hy hom gevestig het, was hy 'n aktiewe lid van die debatsvereniging, of het hy een gestig as dit nie bestaan het nie. Soms het hy die regie van opvoerings behartig, soos dié van F.W. Boonzaier se Die spook van Verlatenfontein waarin van sy eie kinders gespeel het. Op 'n keer moes sy dogter Liz 'n gedig van hom, ‘Welkomsgroet aan Ladysmith’, voordra. Na aanleiding van ‘Die vertrek van die 3e beredene brigade’ op 27 Februarie 1915 na Duitswes-Afrika om die Suid-Afrikaanse magte te versterk, skryf hy op 5 April 1915 'n gedig in Swakopmund. Dit is plek-plek, ten spyte van die onsekerheid oor die korrekte skryfvorm, reeds Opperman-taal by uitstek.Ga naar eind19 In vergelyking met die dinamiese vader het die digter se moeder, wat self ook 'n intelligente en kunssinnige vrou was, aanvanklik 'n ondergeskikte rol in die | |
[pagina 26]
| |
huisgesin gespeel. Sy is op 13 November 1892 gebore as Heila Susanna Magdalena Botha, die dogter van Hermanus Lambertus Botha en Elizabeth Margrita Opperman. Hermanus Lambertus Botha en generaal Louis Botha se vaders het 'n gemeenskaplike oor-oorgrootvader gehad; hulle was dus agterkleinneefs. Heila Susanna Magdalena Botha se moeder was 'n niggie van haar man se vader, met die gevolg dat die ouers van die digter in werklikheid kleinneef en -niggie was. Hierdie tipe ondertrouery het dikwels in afgesonderde streke van Noord-Natal voorgekom en 'n hele paar Oppermans is met eie niggies getroud, iets waarop die gedig ‘Egipties’ in Komas uit 'n bamboesstok sinspeel. Tydens die Anglo-Boereoorlog was Sannie - soos sy in die wandel bekend gestaan het - saam met haar moeder en broertjie in die konsentrasiekamp by Merebank. Oupa Botha, ook 'n boer van beroep en iemand wat as stokperdjie pragtige perdekarre gebou het, was soos sy mede-Afrikaners sterk anti-Engels, maar hy het tog die hoflikheid gehad om 'n Britse polisie-offisier wat ná die anneksasie van Transvaal die plaas besoek het, 'n koppie koffie aan te bied. In die loop van die oorlog het die Bothas getrek en is die nuwe plaashuis op 'n dag deur die Engelse onder aanvoering van dieselfde offisier omsingel. Toe die Engelsman sien dat dit mev. Botha is wat met haar twee kinders in die voordeur staan, was hy baie ontsteld, maar as verantwoordelike offisier kon hy niks aan die situasie doen nie. ‘Mrs. Botha,’ het hy gesê, ‘I am terribly sorry, but I have to do my duty. I am afraid I'll have to take you to the camp.’ Terwyl ander mense egter net kans gehad het om 'n paar besittings bymekaar te skraap, het hy haar die geleentheid gegee om haar en haar kinders se klere rustig in te pak en meer as die toegestane proviand saam te neem. Volgens instruksies moes hy die landerye laat afbrand, maar hy het gereël dat die beeste op vendusie geplaas en die geld na haar in die kamp gestuur word. Op dié wyse kon sy kos en klere en ander artikels koop om haar lotgenote in die kamp te help. Later het mevrou Opperman baiekeer gesê dat die aanprysing van die Afrikanervrou as die wonderlike wese wat byvoorbeeld Leipoldt van haar wou maak, pure bog is - ‘romantiese leuens’Ga naar eind20 sou haar seun so iets later formuleer. In die kamp het sy gesien hoe baie van hulle kop in een mus met die Engelse was en hulle liggame tot die beskikking van die Kakies gestel het. Tog was die verhale oor die kamplewe saam met dié oor veggeneraal Opperman 'n bydraende faktor in die jong seun se historiese belangstelling. Sy intense gevoel van verbondenheid met die lot en bestemming van die Afrikanervolk, 'n motief wat sentraal in sy digkuns sou staan, hou direkte verband met die ervarings van sy eie familielede. Sannie Opperman was 'n lewenslustige, opgeruimde mens wat goed kon kos maak, heerlike boerebeskuit kon bak en besonder handvaardig was wat kunsnaaldwerk en die maak van leerhandsakke betref. Terwyl haar man by uitstek 'n dromer was wat nie oordeelkundig met geld kon werk nie, het sy met haar | |
[pagina 27]
| |
praktiese instelling spaarsaam gelewe en allerlei byverdienstes vir haar gesin besorg. Die gebrek aan geld en die vader se onvoorspelbaarheid met geldsake het soms tot ernstige onmin tussen die ouers gelei. By geleentheid het haar man opgewonde met 'n groot voorraad nuwe grammofoonplate by die huis aangekom, terwyl 'n hele stapel rekeninge onbetaal op die buffet in die eetkamer gelê het. Daarby was die aantreklike, flambojante vader Opperman openlik lief vir die meisies en nie altyd 'n getroue eggenoot nie. Op 'n keer het hy die verregaande versoek tot sy vrou gerig om 'n leerhandsak vir een van sy vriendinne te maak! Ter wille van haar gesin het Sannie nooit 'n egskeiding oorweeg nie, maar die kinders was ontstelde getuies van 'n stormagtige huwelik. In die nag kon hulle luister na die rusies van hulle ouers, hoe hulle stemme rys en val in die donker en hoe hulle soms selfs handgemeen raak. Jare later het die digter - wat sy hele lewe lank 'n baie sterk afkeer van liggaamlike geweld sou hê - in 'n ongepubliseerde gedig geskryf: Die rusies van my vader
het my laat wegkruip
laat haat en vrees
en laat besluit
as ek eendag trou
sal ek anders wees
teenoor my vrou.
In die woorde van Lukophroon in Periandros van KorintheGa naar eind21 het hierdie jeugervaring ook 'n nawerking: Maar dan moet almal wat los van sedes is, ook sterf,
veral ook die getroude man wat aan sy huisgesin
deur sy losbandigheid pyn en ellende bring,
bring aan sy vrou wat wag, sy kind wat nie kan slaap
maar wakker lê en luister hoe sy ouers rusie maak.
As kind het die digter sy moeder gesien as die opofferende vrou wat die een baba na die ander in die wêreld bring en die huishouding met karige middele moet behartig, terwyl die vader die lewe geniet en hom in sy belangstellings verdiep. Daarom was hy baie geheg aan sy moeder en sy aan hom. Met sy rooi hare, vol wange en groen oë het hy op haar getrek. Die onverskilligheid van die vader ten opsigte van geldsake het 'n blywende indruk op die jong seun gemaak, want hy het telkens ineengekrimp as hy die klomp rekeninge en die bekommerde uitdrukking op sy moeder se gesig sien. In latere jare was die vrees vir armoede, selfs toe hy al 'n baie welgestelde man was, 'n steeds bestendige aanwesigheid en die direkte oorsaak vir sy hiperversigtige hantering van alles wat met geld te make gehad het. Van sy moeder het hy sy praktiese ingesteldheid en helder denke geërf, van sy vader die naspeur- | |
[pagina 28]
| |
sin en vermoë om alles in perspektief te sien en van albei die intellektuele vermoë en historiese bewussyn. In sy samestelling was daar dus 'n pragtige verbinding van droom en daad. | |
IVNadat hulle weg is van Stedham, het vader Opperman met sy gesin op Ladysmith in 'n huis langs die Kliprivier gewoon. Daar ervaar Maans en Boet - soos die jong Diederik Johannes deur sy ouers, broer, ooms en tantes genoem is - die eerste keer 'n trein, iets wat vir hom soos 'n houtskaaf gelyk het. Op 'n dag moes die twee seuntjies vir hulle vader kos in 'n blik en koffie in 'n emmertjie neem. Hy waarsku hulle dat as 'n trein aankom, hulle hul vingers in die ore moes druk sodat die lawaai nie hul oortrommels laat bars en doofheid veroorsaak nie. Toe die volgende trein sy verskyning maak, kies albei uit vrees die hasepad en beland hulle - tot die angs en woede van vader Opperman - amper onder die wiele. Op Ladysmith het die Oppermans nie lank bly woon nie, want in 1918 gaan hulle na Memel in die Oranje-Vrystaat, waar Sannie Opperman se mense gewoon het en waar vader Opperman as grofsmid begin werk. Daar word hulle eerste dogter, Elizabeth Margaretha (Liz), op 25 Junie 1918 gebore. Op Memel belewe die gesin die verskrikking van die wêreldwye griepepidemie. Baie van die vriende en bekendes rondom hulle sterf, maar die gesin self bly gespaar. In die onvoltooide gedig ‘Griepdorpie’, wat hy veel later skryf wanneer hy aan Komas uit 'n bamboesstok werk, gee die digter 'n beeld van die toestande tydens die epidemie. Van Memel af is vader Opperman in 1921 as stasievoorman na New Formosa, 'n klein spoorweghalte naby Estcourt, waar die gesin saam met die Adendorffs, Van Rooyens en Weldons in een van die skakelhuise van die spoorweë gevestig was. Hier, en op die ander plekke waar vader Opperman as spoorwegwerker diens moes doen, het die kinders 'n heerlike, avontuurlike lewe gehad, ten spyte van die knaende geldtekort wat steeds 'n wrede werklikheid was. Maans, Liz en Boet het met die koekepanne berg af gery en klappers op die spoor gesit wat afgegaan het as 'n trein daarop trap. Die naaste groot dorp was Estcourt waarheen die gesin gratis per trein gereis het as hulle wou inkopies doen. Op 'n dag het Boet en Maans op Estcourt moes wag op die trein en gemerk dat mense by die haarkapper ingaan om hulle hare te laat skeer. Hulle gaan toe ook sit, wag hulle beurt af, laat hulle hare skeer, sê baie dankie vir die vriendelike oom en vertrek. Toe hulle terugkom op New Formosa, was Sannie Opperman verslae en is haar man dadelik Estcourt toe om die haarkapper te gaan betaal. ‘O no, Mr. Opperman,’ was sy reaksie, ‘I found it so amusing; I could never charge you something for that!’ | |
[pagina 29]
| |
Op New Formosa het die Oppermans die skakelhuis gedeel met die Weldongesin. Hulle dogtertjie Rachel met haar een dik wenkbrou en ‘Engelse pofferbroekie’ (soos hy haar in ‘My appelliefie van Inchanga’ in Komas uit 'n bamboesstok sou beskryf) is op presies dieselfde dag, maand en jaar as Boet gebore en was die eerste nooientjie op wie hy verlief was en oor wie hy sy eerste Engelse rympie, ‘My Rose’, gekrabbel het. Saam met Rachel is Boet elke dag per trein na die nabygeleë Estcourt om die Engelstalige skool by te woon, want as lede van spoorwegfamilies kon die kinders gratis reis. Van die onderwysers wat hy in sy eerste skooljare gehad het, kon Opperman veral 'n juffrou Watson onthou. Al die kinders was gek na haar en het op haar staan en wag nadat hulle pouses met hulle toebroodjies klaar was. In sy eerste jaar op skool het die klein Boet op 'n dag sy broekie nat gemaak en die onderwyseres het voorgestel dat hy buite in die sonnetjie gaan sit sodat hy kon droog word. Terwyl hy skaam gesit en huil het, kom 'n prefekdogtertjie verby wat hom die advies gee om wydsbeen te sit sodat sy broekie gouer droog kon raak! Tydens die vakansies het die Opperman-kinders telkens per trein by die oumas, oupas, ooms en tantes op Geduld nr. 2 en Stedham gaan kuier.Ga naar eind22 Naby Geduld was Hattingspruit waar vader Opperman se neef Gerrie Spies gewoon het. Gerrie Spies was Boet se peetvader en tydens een van die vakansies het Boet en Maans albei op sy dogter Dassie, hulle kleinniggie, verlief geraak.Ga naar eind23 Op New Formosa het die Opperman-gesin 'n tragiese gebeurtenis beleef. Die tweede dogter in die gesin, Louisa Petronella, is in 1920 nog voor hulle vertrek van Memel gebore en in 1921 op Estcourt dood as gevolg van 'n kombinasie van kindersiektes, onder meer kinkhoes en masels. Terwyl sy sterwend was, het die ouers haar drie dae lank teruggebid uit die dood uit. Die kind het egter verskriklik gely en in 'n gesamentlike gebed het die ouers hulle berus en God versoek dat Sy wil moet geskied. Toe hulle ná die gebed opkyk, was sy dood. In een van sy herinneringe in die ongepubliseerde outobiografiese skets onthou die digter hoe hy, Maans en Liz 'n timmerman van hulle sussie se dood vertel, hoe die man 'n rukkie ophou met skaaf, luister en dan weer voortgaan met sy werk. Die kinders was nie by die begrafnis nie, maar Boet het later onthou hoe hy as gevolg van die gebeurtenis en sy verbeelding nie maklik aan die slaap kon raak nie. Op 12 Junie 1921 is nog 'n dogter, Violetta Susanna (Vi), vir die Oppermans gebore. Van New Formosa af is die gesin in 1922 na Hart's Hill naby Colenso. Daar het Boet en Maans met hulle Engelse vriende Brian en Budge die slagvelde van die Anglo-Boereoorlog gereeld besoek en bomskerwe en patroondoppies opgetel. Soms het hulle van die skerp patrone in 'n miershoop begrawe, 'n geweldige vuur gemaak en van ver agter kruiwaens en skuilings gekyk ‘hoe die verlede ontplof tot rooi stof.’Ga naar eind24 Van Hart's Hill is die Oppermans in 1923 na Colenso waar hulle aanvanklik | |
[pagina 30]
| |
in 'n tydelike sinkplaatwoning van die spoorweë gewoon het totdat hulle splinternuwe huis van rooi bakstene klaar was. Op 23 Januarie 1923 is Louis Petrus, die sesde kind, gebore. Op die toegegroeide grasperk agter die sinkhuis het die kinders winkel-winkel gespeel met gebreekte koppieskerwe as geld en afgebedelde kardoesies suiker, lekkers en kondensmelk as negosieware. Soms was dit skool-skool, soms het hulle om 'n tafel gesit en sing en met lepels gekap, soms is Liz en Vi op 'n kruiwa rondgetrek met Boet en Maans as die twee karperde. Vader Opperman het uit hout pragtige speelgoed vir hulle gemaak, want vir winkelspeelgoed was daar nie geld nie; die kinders is wel by geleentheid 'n vertoning van Pagel se sirkus gegun. Agterna het hulle dit met hulle eie ‘hoenders, katte, duiwe, honde’ en met ‘'n orkes van blikke en potdeksels’Ga naar eind25 nageboots. In al die speletjies het Boet hom laat geld as oudste en leier: hy was die winkelier, die onderwyser, die koorleier. Alleen as hulle speletjies die dag kerkkerk was, het Maans oorgeneem, op 'n kissie geklim, sy stem dik gemaak en soos 'n regte predikant gepreek. Toe hulle groter was, het Boet partykeer, as die ouers saans uit was, vir die ander heerlike ‘coconut-ice’ gemaak, van vader Opperman se plate voorgespeel en hulle gevra om te probeer sê watter assosiasies die musiek by hulle oproep. Die versameling het gewissel van ligte tot klassieke werke - selfs 'n liedjie soos ‘When I die, pickle my bones with alcohol’ was daarby! Soms het Boet 'n konsert gereël en dan het van die vriende en buurkinders na die voorstelling kom kyk. In die agterplaas van die groot erf op Colenso het die Opperman-kinders op 'n dag 'n ‘ontdekkingsreis’ onderneem op soek na 'n skat. As gevolg van die baie duwweltjies het Boet twee sinkplate gebruik: op die een kon hulle met hulle kaal voete trap, terwyl die ander een verskuif is om die reis voort te sit. By die hoek van die erf grawe Boet vir 'n skat en ontdek werklikwaar 'n vuurhoutjiedosie met mansjetknope wat met goud oorgeblaas is. Boet het inderdaad 'n skat gevind! Ná die verskyning van Komas uit 'n bamboesstok skryf Liz - sy het haar ook van tyd tot tyd aan die digkuns gewaag - vir haar broer die vers ‘Nog reise, Marco Polo?’ wat op dié gebeurtenis slaan: Maar Boet, jy het tog nie vergeet
van óns reise oor duwweltjies op Colenso?
Toe jy en Maans en Vi en ek -
(jy skipper van twee sinkplate) -
kaalvoet gereis het op soek na 'n skat...
En jy in die hoek van die erf op 'n ou ashoop
gegrawe het tot by 'n boksie goldplated stetse,
wat seker behoort het aan 'n vorige voorman van die S.A.S. & H...
En hoe ons later gevorder het tot
stelte van leë jam blikke en
elkeen
alleen
verder
| |
[pagina 31]
| |
kon
reis
op All Gold.
Op Colenso het Boet en Maans in 'n buitekamer geslaap en moes hulle hard werk om te help met die uitleg van die nuwe tuin. Die erf was taamlik groot, sodat vader Opperman 'n paar koeie aangehou het. Dit was die seuns se taak om die koeie te versorg. Aanvanklik was Maans en Boet - wat sesuur smôrens moes opstaan om te melk - taamlik onhandig met die koeie, maar hulle Indiër-tuinier het die slag gehad om in sy eie taal met 'n koei te praat en sonder spantou te melk. Dieselfde Indiër het met sy gebrekkige gevoelswaarde vir die Engelse woord op 'n dag vir Boet gesê dat hy tydelik teruggaan Indië toe, want ‘the hand that rocked the cradle, kicked the bucket’, 'n uitspraak wat baie jare lank groot vermaak in die gesin besorg het. Met die Indiërs as tuiniers en huishulp kon Boet - soos ook deur sy aanraking met die Zoeloes - 'n ander kultuur en leefwyse leer ken. Die rooi rissies, vrugtemandjies aan bamboese, grondboontjies, piesangs en lemoene wat die Indiërs saam met rolle rooi en pers lap as offer vir die gode in die Tugela gewerp het, kon hy later goed onthou. Op universiteit sou hy met belangstelling na die vertonings van die vuurlopers gaan kyk. Maar in sy jeug het Boet nie alleen met Zoeloes, Indiërs en Engelse te make gehad nie. Van tyd tot tyd het 'n bruin tuinman uit die Kaap gepraat oor Drakenstein en die Paarl, die ballasmandjies druiwe in die wingerde, die kuns om visse met nette uit te trek en vir die kinders stories oor Jakkals en Wolf vertel. Op die dorp kon die kafee-Griek Massopolous, altyd aan die knoffel kou en gereeld saam met vader Opperman op jag, boeiende verhale uit sy land vertel. Met die Joodse kinders - al die Katze van die winkel - het hulle saamgespeel. Nuuskierig het hulle gekyk na die vreemde kosse - spaghetti bolognaise en macaroni - van die Italiaanse Cantamezza-gesin en die kruistekens wat dié Katolieke geslaan het. Uit 'n onvoltooide vers - eintlik meer voorlopige aantekeninge as werklike teks - geskryf in die Komas-fase, praat die digter van homself en sy maats as ‘die klein kosmopoliete van 'n vasteland, /... kinders in één land van wondere, verhale en verlange/ klein swart, bruin, wit burgers van 'n Republiek’. Reeds met die verskuiwing na Hart's Hill is Dirk en die ander Oppermankinders van Estcourt af oorgeplaas na die skool op Colenso. Die skool het uit ongeveer tweehonderd leerlinge bestaan en die medium van onderrig was, soos op Estcourt, uitsluitlik Engels. Mitchell, die skoolhoof, soldaat in die 1914-oorlog, het soggens voor die skooldeur met die bevel ‘Attention!’ die skoliere tot orde geroep en hulle kordaat laat inmarsjeer. Wills het Engels gedoseer met behulp van die High Road Readers-reeks, wat later in ‘High Roads' Robbery’ in Komas uit 'n bamboesstok figureer. Toe Opperman in die veertigerjare ter | |
[pagina 32]
| |
wille van 'n ekstra inkomste by die Pietermaritzburgse Tegniese Kollege aandklasse in Afrikaans aangebied het, was Wills een van sy studente. Boet was elf jaar oud toe hy by die skool siek geword en huis toe gestuur is. By die huis het hy bloed begin opgooi en die dokter het maagkoors gediagnoseer, 'n baie ernstige siekte vir daardie dae en een waarvan weinig pasiënte herstel het. Sannie Opperman het haar seun na die Rooms-Katolieke Hospitaal in Pietermaritzburg geneem, en is dadelik weer per trein terug om die huishouding te versorg. Boet was dodelik siek. Geleidelik, met die hulp van die verpleegsters, veral suster Sinte Josef, het hy begin herstel. Sy ouers het hom gereeld een keer per week per trein besoek, ‘comics’ soos Bubbles en Tiger Tim vir hom gebring en ook sy Halleluja-boekie aangestuur om uit te sing as hy huis toe verlang. Vroeg soggens het hy uit die kapel die kore van die nonne gehoor. Hoewel hy reeds eerder deur die Cantamezza-gesin van die Rooms-Katolisisme bewus geword het, kon hy dit nou van naderby ervaar. Sy gesonde nuuskierigheid het hom vrae aan suster Sinte Josef laat stel: wanneer eet 'n non, het sy hare op haar kop, wat beteken die kruisie aan die gordel? Die suster het sy vrae beantwoord, saam met hom gekniel, vir hom gebid en hom 'n rosekrans present gegee. Geleidelik het hy gesond geword en uiteindelik, na maande, kon sy vader en moeder hom weer kom haal. Terwyl hy reeds op skool geneig was tot gesetheid en deur sy skoolmaats ‘fatty’ genoem is, was hy by sy ontslag uit die hospitaal net vel en been. Sy ouers was dankbaar oor die herstel en veral oor die besondere aandag en liefde van suster Sinte Josef. As iemand uit 'n Calvinistiese huis vir wie die gewoontes en gebruike van die Rooms-Katolisisme vreemd was, het Sannie Opperman egter die rosekrans tuis ongemerk laat verdwyn. Toe hy getroud was en in Pietermaritzburg woon, het hy sy vrou Marié gaan voorstel aan suster Sinte Josef wat intussen tot moeder-owerste bevorder is. ‘Hy was so maer en het soos 'n tjalie oor my arms gelê,’ het sy die klein, weggeteerde seuntjie aan Marié Opperman beskryf. Deur sy studie van die Middelnederlandse letterkunde het die digter later in aanraking gekom met die mistieke skryfster Hadewijch wie se visioene in die gedig ‘Ou non’ uit Engel uit die klip figureer, hoewel sy kennismaking met suster Sinte Josef en die besondere verhouding wat hy tydens sy siekte met haar opgebou het, die eintlike prikkel tot die ontstaan van die gedig was. In ‘Drie juwele’ in Komas uit 'n bamboesstok skryf hy oor die drie vroue - suster Sinte Josef, sy moeder en sy vrou Marié - en hulle botsende aansprake op hom.Ga naar eind26 Reeds in sy veertigerjare het vader Opperman 'n hartkwaal opgedoen, moontlik vererger deur die moeilike sinjaalwisselings. Hy was verplig om sy werk by die spoorweë op te sê met die verlies van 'n aansienlike deel van sy pensioen. Die huis op Colenso is verkoop, en in 1926 is die gesin na Estcourt waar die vader as assuransie-agent begin werk het. By hulle aankoms op die stasie moes hulle stap na die huis waar hulle sou intrek. Die kinders het hulle verwonder aan die grootte van Estcourt met al sy winkels, maar vader Opper- | |
[pagina 33]
| |
man het hulle beveel om reg voor hulle uit te kyk en nie te maak of hulle nog nooit op 'n groot dorp was nie! Hier het die gesin naby die kondensmelkfabriek gewoon en kon hulle soms gratis melk kry. Die kinders kon ook die uitskot van pere, appelkose en pruime van die Jones-inmaakfabriek eet. Die kondensmelkblikkies het 'n los plaatjie aangehad wat maklik vir 'n sikspens kon deurgaan, en die Opperman-kinders - altyd bedag op geldmaak - het groot pret gehad om die Zoeloes daarmee te mislei. Op Estcourt het Boet plantfossiele uitgegrawe, en in die dorpsaal sy eerste bioskoopvertoning gesien, 'n film waarvan hy later net die eindelose gespin van syrolle kon onthou. Dikwels het die Oppermankinders ‘pieces’ gaan koop by die plaaslike hamfabriek. Op Estcourt is nog 'n broer, Christiaan Christoffel (Chris), op 24 Mei 1926 gebore. Boet het hom en Louis dikwels geneem om na die motorfietse te kyk as hulle tydens die resies tussen Johannesburg en Durban op die grootpad verbykom. Van Estcourt is die gesin in 1929 na Frere waar vader Opperman met sy assuransiewerk voortgegaan het. Daar koop hy die weduwee Holmes se groot kliphuis wat hy moes opknap en ombou in 'n stadium toe hy dit allermins kon bekostig. Maans en Boet, pas uit standerd VI, is uit die skool gehaal om daarmee te help, maar veral ook om 'n boerderytjie buite op 'n hoewe te behartig. Met 'n paar koeie en hoenders en 'n bietjie groente het die twee seuns voortgesukkel, al was hulle veels te onervare en onvolwasse om daarvan 'n sukses te maak. Tog het Boet allerlei geldmaakmetodes bedink. Hoenders is geslag, met pietersielie netjies agter tussen die boudjies gegarneer en dan Durban toe gestuur om verkoop te word. Hy het snuif in groot maat gekoop en dit tydens sy besoeke aan Stedham voordelig aan die plaaswerkers van die hand gesit. Vir Maans was die hele boerdery en huisbouery 'n groot grap, maar Boet was ontsteld oor al die rondvallery, die oorweldigende armoede wat Sannie Opperman soms genoop het om drie keer per dag pap te skep en die feit dat hy as ywerige en presterende leerling summier twee jaar lank sy skoolopleiding moes onderbreek. In die kwatryn ‘Kleinboer’ uit Heilige beeste het die ervarings uit hierdie tyd 'n nawerking: Vroeg Saterdag as die koekoekhaan kraai,
sing ek bo-op my karretjie gelaai
met wortels en koolkoppe; maar swyg
met bitter haat as ek saans huis toe draai.
Tydens hulle verblyf op Frere is die agtste en laaste kind van die gesin, Jacobus Abraham (Koos), op 28 Februarie 1930 op Estcourt gebore. Met die voordelige verkoop van die kliphuis aan die einde van 1930 aan die polisie het daar 'n verbetering in die Oppermans se geldsake ingetree. Vader Opperman het besluit om sy assuransiewerk voort te sit op Vryheid in Noord-Natal, waar hy ook nader aan sy vader en broers op Stedham sou wees. Aan die einde van 1930 het die gesin Frere verlaat en hulle op Vryheid gevestig. |
|