bly in die vertrek agter. Die ander het verdwyn. En saggies fluister die moeder dit nou. met diepe ontroering in haar stem: ‘Hannes, my kind, hier is Linda. Sy wil hê jy moet lewe,’ klink dit smekend.
Die lippe roer weer, die oë gaan effens oop, en die vader fluister: ‘Hannes, hier is Linda.’ Die dogter bewe van ontstemdheid. Nog nooit in haar eenvoudige lewe het sy so 'n magtige oomblik geken nie. Sy voel nou wat die mag van die dood is... en dit dryf haar tot langs die seun se hoof en sag-liefderik fluister sy: ‘Hannes, dis Linda.. Ken jy nie my stem nie?’ En toe gaan die flou oë oop en bly 'n rukkie so, maar in daardie oomblikkie wat hulle diep in Linda s'n kyk, sê hulle vir haar alles wat hy om haar gely het, hoe diep sy liefde was, hoe sy altyd in sy gedagte gebly het tot hierdie laaste oomblik toe... Sy lippe roer vinniger, maar daar kom geen klank nie, en met sy blik nog in hare, sak die ooglede neer, 'n rilling gaan deur sy lyf, en die seun sterwe. Die vader en moeder kerm hulpeloos langs die bed. Mense kom binne.
Eers 'n kwartier later kon hulle vir Linda verwyder kry van die dode...