| |
| |
| |
XI.
Die koring staan opgestawel in die pakkamers en skure en die kaf glans blink in groot hope langs die dorsvloer. Dag-vir-dag was dit hard werk, sodat die arbeiders saans in die verfrissende slaap kon wegsink soos in 'n diep see... En so het die jaar soos 'n sandglas leeggeloop, en nou op Oujaarsaand is daar vreugde onder die plaasbewoners. Voor Oom Tom se deur staan 'n aantal karre. Gelag en opgewekte gepraat klink oor die werf, waar die skemering saggies verdiep en die hemel sagblou welf oor die donker land. Die sorge van die boerdery is vergete in hierdie feestelike stemming: die sekel, gaffel en dorsvloer rus, die laaste twee groot miedens lê aan die onderend van die land en wag op die gedreun van die swaar perdehoewe. In die harte van die boere is daar rus, want hierdie tyd van die jaar bring seën vir die vermoeide en gekwelde ... Altyd tog is die hoop daar dat met die nuwe jaar ook nuwe hoop sal kom - al weet baie
| |
| |
deur sware ervaring hoe wonderlik grillig die land is en hoe die mooiste drome maklik verydel word deur magte wat donker uit die grond opstaan en jou verbyster agterlaat, jou magteloos maak voor hierdie vreeslike onafwendbaarheid, so sterk soos die sekerheid van die dood self.
Die kerslig flikker in goue kolle deur Oom Tom se huisvensters, skaduwees verdonker die deur-opening en laat die lig dan weer vry stroom en iewers klink die deurmekaar getweng van ghitaarsnare wat gestem word. terwyl 'n konsertina met weemoedige wysie begin om dan weer te verstom. Deur die menigte beweeg daar 'n mooi meisiesfiguur .. Haar oë kyk vreemd en weemoedig na die mense en sy luister maar half na wat vir haar gesê word. Haar hart is so onrustig, so seer dat trane telkens na haar oë wil kom... Môre gaan Wynand weg. Hy het reeds sy goedjies reg gesit. Wat help dit alles of sy vir haar wil wysmaak dat hy maar 'n rondloper is, dat sy hom oor 'n dag of wat, ná sy vertrek, weer sal vergeet. Haar hart is so onseker... Sy kan nie daaraan dink dat hy moet vertrek nie. Die plaas sal daarna dood en eentonig wees. Al die klein vreugdes wat sy in die laaste tyd gehad het: koffie na die land of die dorsvloer bring, in die tuin gaan loop met die stille
| |
| |
hoop dat sy hom daar sal kry, vir hom sy kos aangee aan die tafel - dit sal alles weg wees, die plaas sal haar verveel, sy sal verlang ... en weet dat alles vergeefs is, dat sy hom nooit weer sal sien nie. Dit laat die gedagtes stroom deur haar, sy maak wilde, romantiese planne, maar yl en onwesenlik vervlugtig hulle in die werklikheid as haar skugterheid ontwaak... Sy kan nie haar jong hart verstaan nie. 'n Impulsiewe drang jaag haar voort, en dan is daar vir oomblikke so'n eindelose weemoed en teerheid in haar hart, dat sy teen Wynand se bors sal wil huil totdat sy getroos is. Môre moet hy weg! En môreaand, as almal nog in 'n feestelike stemming is, dan sal hy ver van die plaas af wees, en niemand sal weet in watter eensaamte haar hart woon nie ... nie eers hy sal dit weet nie! Want dit is wat haar so ontstemd laat rond dwaal: geen teken van sy kant dat hy die liefde in haar oë merk nie. Daardie middag in die tuin, toe hy haar om die lyf gegryp het en twee moerbeikolle op haar wange gedruk het, was dit of haar hele wese na hom toe oprys en het sy nie iets in die krag van sy greep gemerk nie, in sy verbouereerdheid? Maar sy het haar vergis, want daarna het hy geen teken openbaar van liefde nie; wel was hy baie goed en vriendelik ... maar daardie blik
| |
| |
wat meer is as vriendskap?... Het sy dit ooit by hom gemerk?
Die konsertina begin sag-weemoedig met 'n outydse wals en opeens strum-strum die ghitaar ritmies same. Voete begin skuur oor die vloer, tabberds skuiwe langs die gewitte mure langs en dobberende skaduwees krioel oor die mure, 'n fantastiese beweeglike spel van uitrekkende figure en aanswellende vorme. Oom Tom is self in die baan en met wye draaie en hoog-opgetelde voet maak hy en Tant Mieta kringe deur die vertrek, terwyl 'n glimlag van genoeë in sy baard lê.
‘Kyk tog vir Oom Tom!’ skree een van die jongkêrels opgewek, ‘die ou groot koringboer dans vanaand so fyn of hy op 'n lyn loop.’ Oom Tom lag net onderlangs. 'n Opwelling van teerheid kom in die laaste tyd by hom op as hy sy dogter Linda sien. Dis of sy vaderhart intuïtief aanvoel dat sy ly, dat hy haar moet beskerm. Daarom dans hy, ná die wals verby is, 'n sities met haar en onhandig, sonder dat hy presies weet wat om te sê, fluister hy vir haar: ‘Linda jy moet maar opgewek wees op Oujaarsdagaand. Mens is net eenmaal jonk!’
‘Ja pa,’ sê sy gedwee, en haar blou, weemoedige oë ontroer die vader. Maar die gedagte agter daardie oë vat hy nie... net
| |
| |
eenmaal jonk! En so moet die enigste liefde wat sy nog gehad het, ondergaan sonder dat iemand dit sal weet. So sal dit moet sterwe soos dit gebore is. En wie gee om? 'n Drang om wild en roekeloos te wees, kom in haar bloed op, maar dan weer dou die vreemde heimwee neer as die konsertina so ween, die voete so skuiwe, en sy weet dat hierdie stuk van haar lewe môre afgesluit sal wees. Sy hou vir Wynand dop soos hy daar voor die venster sit en konsertina speel, vooroorbuig en die instrument dan oplig en hom dan stadig toedruk, met sy groot hoof langs die instrument...
‘Komaan dan, Wynand,’ roep iemand, ‘môre is jy weg. Jy moet verlaas nog dans, jong! Skep Oom Tom se blou-oog-dogter.’ En sonder die minste aarseling doen hy dit, en sag gly hulle oor die vloer weg. Haar hart is lig en swewend. Die las, die bekommernis is in hierdie oomblik vergete, en haar liefde laat haar ritmies gaan, met oorgegewe genot aan die laaste aand van saamwees... Laat hom maar merk wat sy voel, laat al die mense dit merk en maar klets, bokant alles is die drang en opregtheid van haar liefde... Hannes wat ook aanwesig is, teen die begeerte van sy pa, het eers buite rondgedwaal. Maar die musiek lok hom nader. Dae van kwelling en
| |
| |
liefdesverlange het die wilde begeerte in hom wakker gemaak om vir haar vanaand alles te sê: hoe hy om haar gely het, hoe sy dae en nagte met haar wese gevul is, hoe hy nie langer sonder haar kan bestaan nie... En as daardie rondloper tussen-in kom, sal hy hom te lyf gaan, dit voel of hy soos 'n tier kan baklei. Sy pa en ma kan nou trap met hulle skinderpraatjies van Linda. Al wat hy weet, is dat sy hele hart na haar toe dwing - onweerstaanbaar. Hy loop 'n end van die huis weg, afkerig van die lawwe praatjies van die jong kêrels. Toe hy sien, is hy naby die stroois. Ook die volk vermaak hulle in 'n dans buite en die voete dreun swaar in die somernag op. Dit is 'n wilde beweging in die dansende lig van die vlamme; 'n gewoer-woer van klere meng met nouliks hoorbare klanke van die mondfluitjie.
‘Ai, Katryn,’ skreeu Stefaans hees, ‘vanaand stap die Hotnot somar losweg hiervandaan na die predikant! Somar losweg, en moenie praat hoe sit sy snyerspak nie, en sy ken lê somar met altwee arms op die wit boordjie. Ag jou lekker Stefaans, wie wil nie vanaand met hom graag dans!’ Maar spottend kom dit van Katryn af, wat stadig-weg wals met April, ‘Sie! die ding verwurg in sy boordjie! Wag, laat my los!’
| |
| |
Hannes sien in die lig van die vlamme die ou dolosgooier gehurk sit en 'n skok gaan deur hom. ‘Die ander os is baie sterk.’ Hy huiwer en loop terug, vreemd-allenig in die wye somernag. Dat mens so moet ly in die onsekerheid! As hy maar weg gegaan het, soos sy plan was. Maar die blou oë en die skugter trek om haar mond sou altyd in sy gedagte gewees het, en dit sou hom teruggebring het na die plaas toe - net soos hy vanaand weer hierheen gekom het, alhoewel hy hooghartig besluit het dat hulle hom nooit weer sal sien nie. Vanaand sal hy vir haar alles sê. Waarom moet hy soos 'n kranksinnige buite in die veld ronddwaal terwyl die ander dans? Hy sal daardie rondloper wys... en vinnig stap hy in die rigting van die huis. In die voordeur gaan hy langs Oom Frans staan, wat vir hom sê: ‘En toe Hannes, hoe is jy vanaand so stadig? Hulle wei al die veld voor jou af, jong.’ Maar hy antwoord nie eers daarop nie, want sy oë dwaal deur die vertrek. Sy en die rondloper! 'n Vlaag van wraak kom in hom op. Hy wil haar somar van hom af gaan weggryp. Onrustig dein sy bors. As die musiek ophou, loop hy reguit na haar en vra opgewonde: ‘Hoe lyk dit vir die volgende een, Linda?’ Hy kan nie alles mooi begryp nie, al wat hy hoor is iets van ‘Wynand belowe,’ en daar
| |
| |
stroom die musiek al weer en, met haar mooi, blou oë in Wynand s'n, skuiwe hulle van hom af weg. In die eerste opwelling van vreeslike jaloesie wil hy hom op hulle werp ... maar half-kranksinnig gaan hy na buite en stap sonder om om te kyk die veld in. So, hy is nie goed genoeg nie! Die rondloper is alles. Hy kon dit dink! Hy stap en stap... Sy is ook maar niks beter werd as die rondloper nie, bruis dit toornig in hom op. Toe hy kyk, is hy by die groot mied van Oom Tom wat op die onderend van die land staan. Hy kyk om. Helder glans die lig deur die venster; dit val by die deur uit in 'n groenerige goue streep oor die kweekgras. Wat beteken hy? Hy gaan langs die mied sit. Hy haal sy pyp uit en byt dit stewig tussen sy tande vas. So sit hy 'n hele ruk. Gaan jy en jou rondloper na die maan! Dat ek nagte oor jou moes wakker lê! Watter gek was ek nie! Môre spring ek met die trein hier weg, en julle sien my nooit weer nie! Die vuurhoutjie girts oor die dosie, die vlam spring blou aan. Hy steek sy pyp op en gooi die brandende vuurhoutjie langs hom. Hy sien hoe die vlammetjie 'n bondeltjie gras laat oplaai en hoe die koringstrooi begin brand, en hy dink roekeloos: laat die hele spul afbrand, wat traak dit my! Maar dan, onverwags, gryp die vlam met 'n wilde vaart die
| |
| |
kant van die mied, die nagwind druk dit voort dat die vlamme dreun, en voor Hannes kon besef wat hy met sy roekelose daad gedaan het, laai die een end van die mied vlammend in die nag op, 'n rooi gat vreet langs die uitstaande stoppels in en 'n rand van dansende vlammetjies flap oor die grond. Sy daad staan nou met brandende helderheid in Hannes! Woes spring hy op die mied toe om die onbeskadigde gerwe uit te gooi... Wynand is die eerste wat 'n gloed deur die venster sien ... Met groot hale hardloop hy na die mied, en die hele string mense tou agter hom aan. Hoog in die donkerblou van die somernag laai die dansende vlamme springend op en die goue tonge bewe skitterend bokant die inmekaarsakkende, gloeiende strooi. Die seun werk wild, onbeheersd, en as hy weer 'n gerf uitruk, tuimel die hele brandende massa op hom neer met 'n gekraak van strooi en wappering van vlamme ... maar Wynand is by ... die vuur verskroei sy arms, hande en gesig ... die smeulende gerwe waai weg uit sy verbrande vingers soos hy probeer om vir Hannes uit te haal. Toe die ander bykom, struikel 'n potswart figuur uit die smeulende rook met die slaphangende Hannes oor sy skouer. Daar gaan net een kreet van die verbaasde mense op: ‘Here!’ Die verbrande seun word huistoe
| |
| |
gedra en Wynand, wat totaal blind voel, steier-steier aan die arm van iemand wat hom lei. Aan die mied is niks te doen nie. Die vuur kan gelukkig nie die lang gras en ander mied bykom nie. Die vlamme verteer vinnig die droë strooi, die wind dryf hulle aan dat hulle soos 'n goue, vlammende draak opklim in die donker nag en die mied tot 'n smeulende massa laat vergaan, waaruit vlammetjies nog flappend opskrik en weer verdwyn ... En terwyl Oom Tom sy handewerk so sien vergaan, vee hy die sweet, sweet van angs, van sy voorkop af en kreun verbysterd, terwyl hy omdraai van dié swart smeulende hoop wat sy redding moes gewees het: ‘Wie het dit ooit kon dink? ... maar van hierdie ou lewe moet jy altyd die ergste verwag! Hoe jammer tog..’ En krom-krom stap hy aan, terwyl die nagloed van die brand rosig voor sy voete oor die donker aarde skyn... |
|