| |
| |
| |
X.
Die gerwe word nou uit die mied gelig. Hulle is kleiner gedruk na hulle die dag daar ingepak is, nog vol lewe en met die krag van die grond in die glansende strooi en are. Nou kraak hulle droog in die hand en die are ritsel sag. Hulle moet versigtig hanteer word, sodat die korrels nie uitskud nie. Wynand troon hoog op 'n mied en gooi die gerwe aan en ratse hande vang hulle en pak hulle weer reg op die bokwa dat sy kante nie te sien is nie. So verdwyn die pragtige mied, en die opgewonde kinders staan gereed, want as die laaste, klammerige gerwe op die grond weggevat word, wip die veldmuise verskrik daaronder uit om genadeloos te sterwe onder stukkend spattende kluite. En dan beweeg die swaar bokwa oor die land, die dorre stoppels skuur onder die osse se pote en diep vore lê in die sagte grond .. By die dorsvloer hou die wa stil, die gerwe word van die wa gegooi en die strooi waarmee dit vasgebind was, so in die gooi met 'n mes
| |
| |
deurgeruk. En op die misgesmeerde vloer, met die leiklip langs die kante, werk die glansende gaffels deur die ruisende strooi; skuiwe die gelykweg oor die dorsvloer, en dan kom die perde wat die koringstrooi laat kraak en ruis onder die swaar hoewe. Om en om gaan dit, die wegskuiwende kante word ingewerk, en as die bros strooi tot kaf fyn getrap is, dan word die natgeswete perde uitgeja, die gaffels blits deur die kaf wat wegwaai en onordelik anderkant die leiklip gaan lê. Oor en oor word die hopies gewerk, die slegte are wat oorgebly het, uitgehark, die kaf weggewerk in hopies, en netnou reën die goud-rooi koring springend op die vloer neer, terwyl die onwillige somerwindjie die laaste kafwolkies daaruit wegblaas ... Die sakke word oopgehou, die houtskopgrawe en emmers laat die koring in goue strome ruis in die sakke ... en dan na die pakkamers toe. En die wa knok maar weer na ander miede toe, en die hele proses volg weer oor...
Op die dorsvloer werk Oom Tom met 'n ywer of hy weer 'n jong man geword het. Die koring skiet baie goed ... en hy leun 'n rukkie op die gaffels om uit te reken ... syfers dans deur sy kop. Og, as die koring tog net hoër was...
Faan kom by die vloer aangestap, kyk agter- | |
| |
dogtig na al die bedrywigheid en kom staan hande in die broeksak naas Oom Tom.
‘Man, maar jou koring is pragtig, yslike vet korrels,’ sê hy en weeg 'n klompie koring in sy hand, gooi dit dan in sy oop mond en kou daaraan, terwyl hy met sy hoof knik.
‘Ja,’ sê Oom Tom, sy oë op skrefies, want die glansende kaf is hinderlik, ‘ek kan nie kla nie. Hoe lyk dit met joune?’
‘Nee, ek sal nie veel wen nie,’ kom dit langsaam en met gewig, ‘'n deel van my koring het mos die roes gekry - o, dis 'n ellende in koring - ek is lus en saai in vervolg net roesproef.’
‘Hm, dis glo 'n goeie koring - die aar is bietjie klein. Man, jy praat van are, kyk bietjie hier,’ en Oom Tom haal 'n pragtige droë aar uit sy hemp se sak.
‘Ja, dis mooi,’ sê Oom Faan, nie te geesdriftig nie. Teen die man wat die grond gekoop het van een van die uitgeboerde broers - wat die wyk na die Johannesburgse myne geneem het - word 'n heimlike, half-onbewuste wrok gekoester deur die broers, en in hulle hart hoop hulle dat hulle hom nog sal kan uitkoop. Maar noudat die slag vir Oom Frans getref het, die koring so laag is, en Basie hom byna dood moet betaal aan doktersrekeninge vir sy siek- | |
| |
like vrou, nou lyk dinge nie te goed nie ... Uiterlik is daar egter die beste vriendskap.
‘Ja,’ begin Oom Faan weer en stap agter Oom Tom aan soos hy werk met 'n houtgraaf, die koring omhooggooi dat die korrels yl neerreën en die kaf in wolkies wegwaai, ‘ek hoor Basie se vrou is weer so siek. Ek wonder waarom gaan die kêrel nie na 'n slams toe nie. Daardie vrou is getoor - en ek wonder of een van die skelms, April of Stefaans, nie daar iets mee te doen het nie. Toe April mos by hom gewerk het, het Basie hom een aand so uitgelooi dat hy nie kon sit nie. En van hy daar weg is, het Ellie so erg siek begin word. Wat dink jy?’
Oom Tom hark 'n paar swak are behoedsaam uit 'n hopie. ‘Jong, jy sal my nou verskoon, maar ek moet jou somar eerlik sê: aan daardie toordery-nonsens glo ek niks. Ek was nou die dag op die dorp by daardie vergadering, en ná daardie tyd het ek baie gedink. Ons volk moet hulle nonsens laat staan: hul dwarskoppigheid, al die ou bygelowe ... ons moet binnekant gesond word. Man kyk, wat kan jy met koring maak wat roes het? Niks. Nou ons volk moet al daardie ou kwale en verwyte uitwerk en soos een man saamstaan, dan sal ons iets regkry. Soos dit nou gaan, grou die een die ander se wortels uit. Dankie
| |
| |
Linda. Tag, koffie is nou lekker. Gooi vir Oom Faan nog 'n koppie in.’ Oom Tom kyk met trots na sy mooi dogter, maar verbeel hy hom dit: die kind het maer geword en haar oë lyk so onnatuurlik groot.
‘Linda, maar jy lyk nie te gesond nie.’
‘Ek voel goed, pa,’ sê sy, en Oom Tom kry sy dogter wonderlik lief, die sagsinnige kind, uit wie se mond nooit 'n harde woord kom nie.
‘Ja,’ gaan Oom Faan weer aan nadat hulle koffie gedrink het, ‘my koring is nou vanjaar nie so goed nie. Maar ek het nou van oorlede skoonvader iets geërwe - maar tweeduisend pond - dit help darem,’ sê hy geveins.
‘Tag, maar jy is gelukkig man,’ sê Oom Tom en buig regop, ‘in hierdie tyd is dit baie geld. As ek dit maar nou gehad het. Jy gaan seker meer grond koop?’
‘Wel, ek weet nie. Ek sou graag grond aan myne wou koop, maar dié is nie nou te kry nie. Mens moet maar wag en kyk.’ Dit is of Oom Tom 'n onverwagte hou gekry het: die knaap weet natuurlik in watter knyp Frans sit, en hy wag sy kans af. Dat Driefontein so in vreemde hande moet raak! En hy is so magteloos om te help. Miskien moet hy nog sy grond ook verloor! Wat kan jy maak teen 'n kêrel wat so maklik tweeduisend pond
| |
| |
erwe? Wat kan jy maak as die ou natuur teen jou gaan?
‘Nou,’ sê Oom Tom half bitter, ‘ek wens jy kry 'n goeie stuk grond. Die deel wat jy daar het, is goed, maar nie die beste van Driefontein nie. Mens weet ook nooit, die ou natuur spring so snaaks rond: vandag is jy bo, en môre lê jy op die naat van jou rug. Kyk na die arme Frans! Sy koring staan pragtig, en daar kom die haelbui en die man ly alles skade. Maar hy sal weer bokom,’ klink dit opsetlik hoopvol.
‘Ja, ja - Soe, maar dis warm!’ Dan werk Oom Tom 'n rukkie in stilte. Sy hart is seer, en dan voel hy weer 'n onredelike wrok teen dié windbroek wat tweeduisend pond geërwe het en hier nou so fyn-fyn staan en dreig. Ag, as die koring se prys tog net kan opgaan, en as Frans tog net sy grond kan behou...
‘Ja, Neef Tom, ek wou nog met jou oor iets gepraat het. Ek het te hore gekom dat Hannes die ander dag met julle so wys was in die land. Die kêrel laat my rêrig skaam kry. Ek weet nie waar kom hy aan die duiwelstreke nie. Hy is in die laaste tyd met my net so verkeerd. Maar jy weet hoe die kinders is. Mens kry grys hare van hulle.’
‘Ag, ek het dit alles vergeet. Maar ek was darem baie jammer dat hy sulke vreeslike dinge
| |
| |
vir Wynand gesê het. Hannes is anders so'n gawe seun.’ Oom Tom bly 'n ruk staan en veeg die sweet en fyn kafstoffies van sy gesig.
‘Ja man, dis jammer. Maar noudat jy daarvan praat, dié Wynand-kêrel. Ek kan nie bra uitmaak wat 'n mens aan hom het nie. Is dit waar dat hy so drink?’
Oom Tom word nog rooier as wat die son hom gebrand het: ‘Man, dis die eerste woord wat ek daarvan hoor.’
‘Nee,’ sê Oom Faans geveins-ontwykend, ‘ek sê natuurlik niks. Iemand - ek weet nou nie meer wie - het my gesê dat hy nou die dag, toe julle dorptoe was, so na die drank geruik het. Maar jy weet die mense praat maar baie.’
Oom Tom wil oorkook. Die ou meid! Gedurig met sy ou klomp praatjies. Maar hy bly 'n ruk stil en sê net bitsig: ‘Ja man, daar is mense wat niks te doen het nie en gedurig net loop en kwaad steek. Hulle kry die lekkerste as hulle 'n ander kan swart smeer.’
‘Jy moet die ding nou nie te erg opvat nie, Neef,’ klink dit vredeliewend, ‘jy weet mense is nou eenmaal so: hulle praat graag. Dis nou maar ons ou natuur. Maar, as vriend, wil ek jou darem iets vertel. Ja, soos ek sê: die mense hou daarvan om van ander te praat, en partymaal is dit nodig om jou vriende te waarsku,
| |
| |
want môre-oormôre is daar praatjies, en dan is mens in die ding.’ Oom Tom se gaffel hou op met werk en hy kyk vir Oom Faan skerp aan. Wat wil die kêrel? Hy staan nou al die hele middag op dit en dat en sinspeel en dit maak mens bietjie ongeduldig. Die son bak genadeloos op die dorsvloer neer, en dit is net die asempie wind wat nou en dan verkoeling bring. Oom Faan haal sy hoed af en skud die groot sweetdruppels van sy bleskop af. Sy duim buig in die rigting van die wa: ‘Jy sien hoe Wynand daar met Linda staan en gesels. Praatjies is praatjies. Niemand keer hulle nie. Maar wat ek wil sê, is dat die praatjies rondlê dat Wynand en Linda alleen in die tuin rondstap. Nou, ou neef, nie oor ek vandag vir diaken genommer is nie, maar ek dink so: ek sal jou net waarsku. Jou kind se naam lê een van die dae in die as, ordentlike kêrels sal wegbly, en wie is dié Wynand-kêrel eintlik? Oor hom loop daar ook snaakse praatjies rond - ek kan jou somar sê: baie snaaks...’ Maar Oom Faan moet ophou, want die dreigende oë van Oom Tom gebied hom om stil te bly en die woorde kom nou ferm en vyandig:
‘Kyk hier, Faan, of jy nou al vir diaken genommer is of nie, dit kan my bitter weinig skeel, maar ek wil dit nou net vir jou reguit sê: hou jou neus uit my besigheid uit. Ek
| |
| |
lol nie met jou sake nie. Ek het ook 'n paar oë om te kyk. Ek het vir geen mens gesê hoe Hannes hier loop en witvoetjie soek by Linda nie! Dink jy ek is blind dat ek nie kon sien waarom hy so wys was die dag in die land nie en waarom hy vir Wynand so uitgeskel het? En nou wil jy my hier met ouvrou-stories kom bangmaak. Waarom sê jy nie reguit wat jy dink nie? Waarom sê jy nie jou plan is om Frans se grond in te palm, jou seun met my dogter te laat trou, sodat hierdie grond wat al die jare aan ons familie behoort het, in jou hande kan kom nie? Ek sê vir jou, mannetjie,’ en Oom Tom se wysvinger bewe, ‘jy moet oppas. Loop vee maar eers voor jou deur, en moenie vergeet hoe jy jou skoonfamilie uit hul erfporsie geknoei het nie - jy met jou tweeduisend pond en al ...’ Die gort is gaar. Oom Tom het die bewerasie van woede. Die rustige atmosfeer is skoon weg en altwee boere is tot die uiterste gespanne. Oom Faan skreeu half, terwyl sy mondhoeke trek asof hy wil beroerte kry:
‘Dit sal jy my bewys! Dit sal jy my bewys! My kind agter jou dogter aanloop - sy met haar ou rondloper! Nou sal ek jou wys: ek koop julle hele boksemdaais uit, en dan sal ons sien wie is die grootmonde!’ En terwyl hy met groot treë wegstap, ratel dit
| |
| |
nog: ‘Ons sal sien aan wie Driefontein oor twee jaar behoort ...’
‘Loop!’ beduie Oom Tom net, ‘gaan maar verder met jou ouvrou-stories. Daar pas jy die beste voor.’ Maar terwyl sy verwoede buurman wegstap, bedaar Oom Tom se drif. Hy het hom baie swak gedra om so kwaad te word en so te kere te gaan. Hy moes dit nie gedoen het nie. Hy is maar net so swak as Faan... Maar die kêrel het hom so ongenadig kom uittart ... Driefontein in sy hande, Driefontein wat aan een familie sedert die Voortrek behoort het. Sy oog gaan oor die omgewing, hy sien die donkergroen tuin, die bewende bulte, die wêreld waar sy oupa, pa, hy en sy broers so gearbei het... Al breek ek my van nou af, mompel hy, maar ek moet help dat Frans sy grond behou ... die plaas moet in ons hande bly. Vir 'n rukkie werk hy hartseer. Sy ou dogtertjie Linda ... dat hulle haar in hulle skindermodder wil sleep. Hy slag die hele spul lewendig af as hulle sy kind ongelukkig maak ... as sy tog net nie iets gehoor het wat die skinderbek gesê het nie ... 'n donker skaduwee val oor die hopie koring voor hom. Hy kyk op.
‘Oom,’ sê Wynand, ‘kyk môre is Oujaarsdag ... ek sal Oom nog help tot dan, maar Nuwejaarsdagmôre dan wil ek gaan. Oom
| |
| |
het nog net hierdie twee groot miedens by die punt van die land oor... Oom sal seker regkom.’
Hm, die kêrel het alles gehoor. Miskien maar die beste...
‘Goed, Wynand, jy het my baie gehelp, man baie,’ sê hy met 'n sug.
‘Dankie, Oom,’ en die groot figuur gaan na 'n ander end van die dorsvloer.
'n Rukkie leun Oom Tom op sy gaffel en 'n trek van pyn kom op sy gesig ... sê nou maar ou Lindatjie het rêrig vir Wynand lief? |
|