| |
| |
| |
IX.
Die perde het weer lelik verbygebars net toe hulle naby die kraal was en met eindelose gesukkel is hulle naderhand gevang. Oom Tom voel net vuurwarm toe hy en Oom Frans op die kar klim. Die vet, glimmende diere kry elkeen 'n stewige hou dat 'n vaal streep oor die hare bly lê en Oom Tom beduie met die peits: ‘Bars nou weer verby net soos julle by die kraal is, uitgevrete blikskottels! Frans, skuiwe jy tog bietjie die bankie terug.’ Die perde wat verskrik op 'n galop geslaan het, bedaar nou en begin gelykweg draf dat hul pote plesierig oor die pad klap en die draaghout ritmies speel op die disselboom. Oom Frans sit bleek en uitgeteer langs sy broer. Hy het vandag nie eers 'n trippens in sy sak nie, maar sy broer het hom omgepraat om saam te ry... Wat help dit om dorptoe te gaan sonder geld? Jy is orals soos 'n orige jukskei. Jy moet gedurig jou lyf smal hou... En tog, hoe hy ookal weglê, hy moet nou dorptoe om met die pro- | |
| |
kureur te praat. Dié het hom al twee, drie briewe geskrywe ... en daar is die bankmeester en winkelier. Hy het hom al gedink tot hy net 'n skaduwee is, maar al die dinkery het nie 'n gaatjie van die skuld toegemaak nie. Op die aarde, 'n man wat geen skuld het nie, weet nie wat bekommernis is nie...
‘Ja Frans, ons ou vader het darem hard gewerk hierlangs,’ beduie Oom Tom, ‘kyk daardie klipmuur, dis ure teperd aanmekaar wat dit loop. En dis snaaks dat hulle nie so diep in die skuld was as vandag se geslag is nie. Ek dink ons is bietjie te wild - wat sê jy?’ Om hulle vou die een vérgesig na die ander hom oop en uitgestrekte lande word sigbaar met die hoë miedens soos blanke bulte daarop. Hier en daar is boere besig om te trap. Hulle lyk soos klein swart stippeltjies op die oneindigheid van die land.
‘Ons te wild!’ roep Oom Frans uit nadat hy 'n rukkie stilgesit het, ‘ag nee, Tom man, nou praat jy somar deur jou nek! Wat se moeilikheid het die ou mense gehad? Hulle het swaar gekry teen die barbare, maar hulle kon net soveel grond vat as hulle wou hê. En hulle het mos geen uitgawe gehad nie. En dan die oorlog wat ons moes deurmaak ... Dis al 'n hele klompie jare dat dit verby is. Maar dit het ons verinneweer. Wat my so
| |
| |
hartseer maak, is dat dit niks help om vas te trap nie. Die wêreld rol onder jou uit - skoon.’
‘Hm. Ek dink darem ook ons is baie agterstevoor. Ek moet jou eerlik sê van ons twee laas gesels het, het dié ding van die marke my laat dink. Waarom val die pryse so vreeslik net soos ons iets wen?’
‘Moenie vir my vra nie! Maar ek sê vir jou ons boere werk vir ander. Ons moet nie alleen baklei teen die natuur nie, maar ook teen die draadtrekkers. Ek is te dom om uit te maak hoe die dinge in mekaar sit, maar ek voel so: al moet mens se oes partymaal misluk, dan moet jy darem altyd 'n prys kry as jy iets wen. Maar ons boere ry net die goed aan trein-toe en die mense met die safte handjies sê vir ons wat die pryse is. Ou broer, en so raak een na de ander van ons uit sy plaas en dit raak in vreemde hande. En ons ou snare wil mos nie in die stad aard nie! Maar wat wil jy doen: as jy van jou plaas af is, moet jy werk soek, en in die stad is jy soos 'n moer wat op geen bout wil pas nie.’
‘Ja, dis goed en wel,’ antwoord Oom Tom, ‘maar dit is darem baie ons skuld ook. Ek dink nou aan hierdie opskrywery by die winkel. Ons laat maar net op die boek sit, en hoeveel boere gaan mooi ná of alles korrek is.
| |
| |
Man, ek is darem so jammer dat ek vandag so'n ongeleerde kêrel is, anders het ek die ding fyn uitgepluis.’ Lekker draf die perde oor die pad en die peits hoef nie uit sy koker te kom nie. Sorgvuldig neem die twee broers die landskap op, hulle kyk na die miedens wat op die lande staan en skat in hulle gedagtes hoeveel die eienaars sal win...
‘Wat is dit met Hannes van Faan?’ begin Oom Tom weer. ‘Die kêrel was nou die anderdag so wys daar by die snyery, hy het die arme Wynand beledig - en is kop-onderstebo daar weg. Dit was mos anders nie 'n slegte kêrel nie.’
‘Ja, nugter weet. Faan wou hom glo nou die dag somar deurloop. Hy het sy goed klaar gehad en wou met die trein Johannesburg-toe. Dis mos al woord wat hulle ken, as hulle lui of bevoeter word: Johannesburg. Die arme ding sien dalk ook geen toekoms op die plaas nie.’
‘Dis miskien so. Faan moet hom maar nie met 'n te harde stang ry nie. Sulke jong kêrels het baie harde koppe.’
Dit is warm in die kar; sweetkolle begin op die perde uitslaan en die twee broers is bly toe die dorpie eindelik by 'n randjie se punt om loer. Die perde kry 'n paar fyn rapsies en hulle buig netjies met hul sierlike blink nekke
| |
| |
en glansende maanhare toe die kar drillend oor die hobbelrige straat skuiwe.
Die mense kuier al reeds aan in die rigting van die stadsaal, waar die vergadering gehou sal word, en nadat die kar in die agterplaas van die handelaar uitgespan is, gaan die twee broers ook deelneem aan die protes teen die ontnugterende prysskommelinge... Dit is bedompig in die saaltjie toe Oom Tom en Oom Frans agterlangs plek neem en nuuskierig oor die plaat koppe heen kyk. Hier en daar groet iemand hulle. Die gesoem van stemme word stiller en 'n paar hande word geklap en voete op die vloer gestamp toe die voorsitter en twee sprekers op die verhoog gaan sit. Nadat die voorsitter die doel van de vergadering verduidelik het, staan mnr. Wessels, die eerste spreker, op. Hy is self 'n boer en het al 'n paar teenslae gehad in prowinsiale verkiesings. Sy dik snôr hang soos twee swawelvlerke oor sy mond, en dit lyk vir Oom Tom te koddig as die baard so op- en afgalop as die kêrel driftig beduie. Hy praat vir die twee broers bietjie deurmekaar. Twee woorde bly terugkom en dis ‘koöperasie’ en ‘parasiete’ ... Oom Tom buk naderhand na Oom Frans toe en vra: ‘Jong, wat is die 'parasiete' waaroor die kêrel so spook?’ En Oom Frans antwoord gewigtig: ‘Dit lyk vir my dis die safte- | |
| |
handjies. Dis glo maar 'n hoë Engelse woord wat hy al tussenin koppel.’ Nou en dan bars daar 'n klein toejuiging los, en toe mnr. Wessels gaan sit en die sweetkrale van sy voorkop veë, staan die ander spreker, mnr. Tewie Niemand, ook 'n boer, alreeds en beduie met 'n spelende voorvinger. ‘Dié kêrel praat tog duidelik,’ sê Oom Tom, ‘maar die arme Gabrie Wessels versmoor gedurig in sy eie woorde. Die man verstaan self gladnie die hoë woorde wat hy gebruik nie. Altyd oorerg!’ Mnr. Niemand verduidelik langsaam en versigtig hoe nodig dit vir die boere is om saam te staan, koöperasies te vorm, eerder voorskotte van die koöperasies
te ontvang as om hul koring half verniet weg te gee, en om, langs bestudeerde weg, die markpryse te beïnvloed en die bokkespronge daarvan te kontroleer. ‘Kyk na julle hande, hoe is dié gewerk? Van die môre tot die aand het julle bekommernis oor skuld.’ Oom Tom gee 'n groot sluk en luister met groot oë. ‘Dit is nie nodig nie. Elke boer het die reg om ordentlik en gelukkig te lewe, maar vandag werk julle julle krom en die middelman gaan met die groot profyt heen. So lank as ons nie soos broers saamstaan nie, sal ons daardie mag nooit breek nie! Ons sal maar gedurig vir hulle in die kombuis bly werk. Laat ons saamstaan!’ besluit hy.
| |
| |
‘Daardie man praat,’ sê Oom Tom en sy twee groot hande klap in mekaar.
‘Jy kan kop of stert uitmaak van wat hy sê,’ meen Oom Frans, ‘maar die arme Gabrie! Kyk hoe sit die ou nou met sy swaelsterte.’ Mense uit die gehoor kry nou 'n kans. Voor Oom Tom en Oom Frans het 'n kêrel met krom skof roerloos gesit, terwyl sy vinger gespeel het met sy bokbaardjie. Hy vlie nou onverwags op en in 'n opgewonde stem ratel hy: ‘Mnr. die Voorsitter, het dié kopperasie iets te doen met die kullery wat die anderdag hier aan die gang was? Ek het tien pond betaal, en dis foe! dis weg,’ en sy hand gly oor sy lippe. Die voorsitter lyk verbyster, maar naderhand is dit vir hom duidelik.
‘Meneer, u dink aan die aandele wat hier verkoop is vir 'n wie-weet-watse maatskappy. Ons boere laat ons te maklik kul!’ Maar daarmee is die kêrel nie tevrede nie, hy beduie woes en dreig met die polisie, en toe die voorsitter hom wil stilmaak, stap hy uit en dreig verlaas nog met 'n gebalde vuis na die verhoog: ‘Hierdie spul gaan net so'n kullery afgee!’ Party lag en ander is verontwaardig. Die voorsitter beduie ernstig met 'n hand in die lug: ‘Vriende, dít is die soort ding daardie wat ons volk ondermyn: agterdog! Ons stel ons nie op hoogte van feite nie, dan word ons
| |
| |
in valgate gelei deur skelms en naderhand wantrou ons ons eie mense. In Gods naam laat ons boere tog vertroue hê in mekaar.’
‘Dis maar weer die ou ding,’ fluister Oom Frans vir Oom Tom, ‘ons is 'n klomp harde koppe! Ons wil nie na raad luister nie, en as ons met die gebakte pampoen sit, dan verwyt ons mekaar. Pure draadwerk!’
‘Hm,’ en Oom Tom staan onverwags op om met onseker stem iets te sê: ‘Mnr. die Voorsitter, ons boere het nou al so baie bymekaar gekom, ons neem besluite en daarby bly dit. En intussen bly die koring se prys net soos die hoë menere hom werk. Ons boere is te dwarskoppig, die een trek soos 'n skilpad teen die ander. Ons kan gerus nog maar 'n klomp besluite neem, maar as dit so gaan ...’ hy is half sy gedagteloop kwyt, ‘dan sal ons turf bly sit.’ Bloedrooi sak hy in sy stoel terug.
Daar gaan 'n gemompel op van: ‘gaan nie ons kop in die halter steek nie! Dis weer net vir 'n paar se voordeel,’ en in wanorde word 'n voorstel vir koöperatiewe samewerking deurgedruk, maar 'n klomp bondel alreeds by die deur uit. Buite is daar 'n driftige beduiery en 'n kort, gesette kêrel sluit hom by Oom Tom-hulle aan en sy wange dril soos hy praat: ‘Ek ken vir Gabrie Wessels! Dis somar weer
| |
| |
'n possie-soekery hierdie. Ek ry na 'n winkel en verkoop my goed soos ek wil. Ek staan onder gan kopperasie of watse possiesoekery nie. Ek het somar geweet waarheen die spul loop. Kry een van die ekstra--strongs, kêrels. Magtig ek is baster hees van al die praat. Nou ek sien julle weer!’
‘Daar het jy dit,’ sê Oom Frans mistroostig, terwyl hy met sy hande agter sy rug loop: ‘dwarskoppe! Nooit kry jy hulle saam in die juk nie. Geen wonder dat ons 'n spot is in die oë van die groot menere nie! Tom, terwyl jy jou goedjies koop, stryk ek bietjie hier by die prokureur in.’
Oom Frans voel hoe dof dit hier by sy slape klop toe hy die ‘kom binne!’ van die prokureur hoor, en dit suis deur sy gedagte: ‘Om geld te skuld, is om hond te wees.’ Hy neem beskeie plek net so op die kant van die stoel, voor die prokureur se lessenaar, terwyl sy hoed aan sy regterhand se vingers hang.
‘Oom Frans, jy het my lank laat wag. Was Oom siek?’ vra die prokureur en sy blou oë kyk skerp in Oom-Frans s'n.
‘Ja, ek is self skaam, mnr. Venter, maar ek het 'n harde slag gehad.’ Hy slaan sy oë neer en sy lippe bewe effens, ‘die hael het al my koring platgeslaan.’
| |
| |
‘Maar dis vreeslik, Oom Frans!’ sê die prokureur met verbasing, ‘en die rente op die vyfhonderd pond?’
‘Die Here weet, mnr. Venter, maar ek kan nie. Kyk my hande. Hulle is kliphard gewerk, en vanjaar wat ek 'n groot oes sou kry, kom dié vreeslike ding oor my. Soos ek hier sit, het ek nie 'n pennie en my sak nie.’
‘Ja, ek is jammer,’ sê die prokureur en sy vingers speel op die tafelblad, ‘maar hoe sal ons maak? Die rente tog... Ek het Oom baie uitstel gegee, Oom kan rêrig nie kla oor slegte behandeling nie.’
‘Nee, dis so, mnr. Venter, maar die ou natuur was teen my.’ Oom Frans se oë is vogtig.
‘Ek sal Oom nog drie maande uitstel gee, maar rêrig nie langer nie. Oom verstaan self.’
‘Dankie, mnr. Venter. Nou dag ...’ en die groot hand skiet oor die lessenaar se blad. Die krom skof van Oom Frans verdwyn by die deur uit en die prokureur skud sy kop. Die arme boere...
Oom Frans het nou geen moed om nog na die bankbestuurder te gaan nie. Hy wil vlug en iewers wegkruip waar hy alleen met sy vernedering kan wees. Hy ontmoet vir Oom Tom voor Welman se winkel, en al wat hy sê is: ‘Nee, Tom jong, deurkom is min; die strop
| |
| |
wurg nou.’ Toe loop hulle in die rigting van die vrugtewinkeltjie, elkeen in sy gedagtes verdiep.
‘Het hy jou uitstel gegee,’ vra Oom Tom naderhand.
‘Vir drie maande. Maar wat help dit?’ klink dit wanhopig.
‘Mastig, Wynand, en met wie het jy saamgekom?’ vra Oom Tom toe Wynand by die hoek om kom.
‘Met Basie, Oom. Hy het gevra of ek wil saamry.’ Aan Wynand se houding kan hulle sien dat hy buitengewoon doen. ‘Kan ek nie nou saam met Oom-hulle terugry nie? Ek sal vir Basie sê.’
‘Seker man, ons ry nou-nou. Is jy klaar? Dit lyk vir my die weer steek op.’
Oor 'n rukkie is die kar ingespan, en in die warm middagson tok-tok dit eentonig oor die stowwerige pad, tot by 'n hoogte, waar Wynand 'n bottel wyn uithaal.
‘Dis tussen Krismis en Nuwejaar, kom ons drink!’ sê hy asof hy reeds 'n paar snapse weg het. Die bottel is gou leeg, en 'n tweede word netnou klinkend teen 'n hekmuur stukkend gegooi. Die punte van Oom Frans se ore is nou vuurwarm, en toe hy hul plaas se bome oor die randjie sien uitsteek, dreun dit soos hy gesels: ‘Nee, broer Tommie, my
| |
| |
grondjie kry hulle nie! Nooit nie! Ag. maar die rente oor drie maande! Die haelstorm ... amper sê ek 'n groot woord. Wynand, jy het vandag geen sorge nie, jong! Dit moet lekker wees. Maak tog nooit skuld nie - en boer nooit. Mastig Tommie, maar die kêrel het vanmôre gespook met die kopperasie en para .. tag, wat se parra was dit ook weer? Tom jong, as ek daardie populierbome van ons ou plaas so sien, dan word my hart somar klein. En oor 'n jaar of wat sal ek hulle nie meer sien nie. Dan sit ek miskien onder in die myne - en julle hoor nooit weer van my nie. Wynand, ken jy vir Johannesburg?’ Oom Frans se droë plooivel is nou bloedrooi. Kort-kort vee hy die sweet van sy voorkop af.
‘Ja, Oom Frans,’ klink dit opgewek, maar daaronder tril die weemoed en opgekropte ellende, ‘ek ken hom baie goed, Oom. Hou maar Oom se grond. Bly weg daar. Oom moet nie Oom se wortels hier uittrek nie.’
‘Ja, jong dis lekker praat. Nie wortels uittrek nie? Ek sal wortels en uie en al moet uittrek. Ag ja!’ sug hy.
‘Kêrels, ons moet nou darem stil-stil die werf inkom dat die vrouens nie te veel agterkom nie,’ maan Oom Tom.
Die drank laat Wynand se bloed warm word, dit dein nou om hom, maar hy hou
| |
| |
hom sterk... Ag, dat hy weer moes toegee om op dié manier sy ellende te doof, klink die stem van sy gewete deur sy wargang van gedagtes. Die jare wat nog voorlê, die las wat gedra moet word ... hoe sal hy dit ooit regkry? ... en nou hierdie blou-oog meisiekind..
‘Goed, Oom Tom,’ sê hy en blaas van die hitte, ‘ag die jare is so lank! Hoe kan mens vergeet?’ lug hy onverwags sy gevoel, ‘een jaar is so lank!’
‘Nee jong, hy is nie te lank as dit net goed gaan nie,’ sê Oom Frans wysgerig, terwyl 'n groot sweetdruppel in sy baard afrol. |
|