| |
| |
| |
VIII.
Die dae skuiwe rustig voort, son-deurgloeide dae wanneer die donderwolke soos uitgemarmerde rose aan die blou van die hemel verrys en met hul groot rustig-wye skaduwees beweeg oor die land om dan onwesenlik te verdwyn; dae wat windstil is, met net die groei en rypwording van die vrugte, met die vol-sterke magte van die natuur wat werk deur die aarde en 'n nuwe daad van voortbrenging verrig, ongemerk maar met die onwrikbaarheid van 'n ewige wet. Waar is die dae nou toe die goue wolke saad uit die saaier se hand oor die omgeploegde land heen geruis het en waar is die uitbarstende voorjaarsblomme wat soos vlokke sneeu oor die bome gelê het? En waar is die skoonheid van lente-verwagting, van dade daardie tyd gedaan, van drome toe gedroom? In die hoofde van die boere is dit nou net herinneringe wat begrawe lê onder ander, soos die saad vir die somer.
| |
| |
Deur hul liggame, hul siele werk die natuur, werk dit in jaargetye, voel hulle die sagte ontwaking as die lente kom, die rypwording van die lewe op die lande, die huiwering van najaar deur die lug, en die skerpe koms van die winter wat alles verstol en die lewe laat slaap in rustige onwetendheid. So gaan hulle voort, telkens gehul in die steeds geheimsinnig wysigende atmosfeer van jaargety na jaargety en in hul oë dra hulle die weemoed van lewe wat kom en sterf, want hulle weet dat dit ook met hulle so gaan en dat ook hulle netnou na die donker aarde toe sal buig, en hul kinders weer sal saai en oes - en oor dit alles sal gaan die dae, die ligdraende dae in ewige reeks, voort in die oneindige van die tyd. So lewe hulle dag vir dag met hul klein bekommeringe, met angste en verwagtinge, maar in hul harte huis die donker wete van die lewe wat deur hulle werk die wete van die krag van die jaargetye wat gaan met onafwendbare sekerheid tot aan die einde van alle skeppingsdade ... en oor die doel van dit alles beskik God, tot wie hulle gereeld bid, die een geslag na die ander, om te bewaar en te seën ... want ken hulle nie die grillige noodlotsmag van die aarde onder hulle nie?
Wynand wandel oor die stoppels in die lande en peins oor dit alles. Sy skoene kraak
| |
| |
deur die verdorde strooi. Hy sien die groot miedens staan, en dit is so heerlik om diep asem te haal en te weet dat 'n groot arbeid agter die rug lê, en dat dit goed gedaan is. En nou is dit so mooi om oor die kaal lande te kyk en te dink aan die oes wat gegee is en om te weet dat volgende jaar die koring weer so sal staan soos die dag toe hy daar aangekom het - die goue oneindigheid van lewende are. En hy? Sy lewe? Hy loop met lang hale oor die land in die rigting van die tuin. Immer moet hy voort. In sy siel lewe baie herinneringe... Hy sien die bergevoue lê vanwaar hy gekom het na hierdie plaas. Daar was die mense veel ryker as hier - die wit, koele wonings met die druiweranke daarteen. Het die ryk ou oom, met sy deftige puntbaardjie, nie by hom aangehou nie: ‘Wynand bly hier. Ek sal jou voorman maak. Jy is 'n fluks kêrel, en as jy hier wil bly, dan hoef jy jou vir die dag van jou lewe nie meer te bekommer nie. Jy kan trou en ek sal vir jou 'n woning gee. Bly, man.’ Hy het amper uitgebars van die lag, maar dit sou te wreed, te onbeskof geklink het in die ou man se ore. ‘Baie dankie, Oom, maar ek moet voort,’ is al wat hy kon sê, en hoe die ou man ookal aangehou het, hy het by sy standpunt gebly. Ja, dit moet baie lekker wees om rustig
| |
| |
op daardie heerlike plaas te bly, om goed te vergaar en klaar te wees vir die ouderdom. Wat het hy oor van die geld wat hy verdien? Baie min. Ja, die jare, wat ons almal fyn maal! Langs die watervoor in die tuin gaan hy staan en kyk na die helder, bewegende stroom wat in fyn rimpeltjies naas die groen slyk aan die wilkerboomwortels verbyspoel. Môre is dit Kersfees... dit is al vyf jaar gelede... en waarom nog altyd die angs en pyn ... die onrus? Dit is die doem wat op hom rus ... die skaduwee wat lê oor sy lewe..
Hy hoor hoe klappers knetter in die verte, hy hoor mensestemme by die wonings en hy dwaal die vrugteboord in. Die rooiwangperskes laat die takke grond-toe weeg, en hy pluk daarvan, skil hulle met sy knipmes af en gaan aan die kant van die dam, onder die wilkertakke, lê en kyk na die wolkskaduwees wat koel oor die grassaadtoppe kom om dan te verdwyn oor die bome. Hy is weer 'n seun op sy pa se plaas en met sy rekker stap hy langs die watervoor en bekruip die glansgroen paddas wat soos skatryk ou ooms op die kant van die water sit en mymer... Hy kon lank langs die watervoor lê en met 'n takkie speel in die helder, rimpelende water, na die malende gruisies op die bodem kyk om dan weer die wolke daarin te sien, haelwit en suiwer in die
| |
| |
stroom. En die jare tussen-in? Almal van ons het ons ongerepte kinderdrome, en dan word ons uit daardie paradys gedrywe ... Die vloek wat op hom rus... Hy pluk 'n lang grasstengel af en speel daarmee in die water voor hom. Hy maal die grassaad daarin en sy gedagtes drywe dan so ver weg, na 'n lewe wat helder in sy verbeelding verrys... Hy sien nie hoe 'n meisie met liggeel hare sy aandag probeer trek nie. Sy wandel in die perskeboord agter hom, breek opsetlik hard takke af. Maar hy droom voort. Tot sy dit waag om 'n klip op te tel en dit te laat neerplons 'n end voor hom. Hy wip soos hy skrik en sy skater van die lag, haar gesig rooi van opgewondenheid. Hy het opgespring, en toe hy haar nader en die stralende oë sien, haar skaambly gesig, toe bruis daar 'n onweerstaanbare drang deur hom om haar vas te druk teen hom. Dit is 'n woeste begeerte wat hom oorweldig hier in die vreedsaamheid van die tuin. Maar dit is maar vir 'n oomblik; dan sê hy opgewek: ‘Maar hoe het jy my laat skrik!’
‘Ja, jy sit daar so diep en dink net of jy 'n honderd sondes het om te onthou,’ lag sy, tog onseker in sy geselskap.
Hulle loop in die koelte van die bome, en toe hulle by die moerbeiboom verbygaan, kan hy hom nie bedwing om 'n kwajongstreek
| |
| |
uit te haal nie. Hy pluk 'n sappige, swart moerbei af, en voor Linda wis wat gaande was, het hy haar om die arms beetgepak en maak 'n rooi kol op elke wang. En terwyl hy haar so teen hom hou, word hy opeens bewus van die diepe hunkering in haar oë ... en hy los haar enigsins verward. Sy stem bewe lig toe hy sê: ‘Jy het dit darem nie verwag nie!’ Haar gesig is vuurrooi en met moeilik verbloemde opgewondenheid in haar stem, sê sy: ‘Ja, jy het my lelik laat skrik. Hoe sal ek nou die rooi kolle afkry?’ Hy antwoord nie. Wat het daar tog gebeur? Hy het haar net vir 'n oomblik in sy arms gehad en 'n nuwe verhouding het onverwags ontstaan, die atmosfeer wat daar tussen hulle is, is anders ... Hulle loop vir 'n rukkie in stilte voort, albei enigsins ongemaklik ... Het daardie onbewuste, hunkerende blik in haar oë nie alles verander nie? Hy begin onnatuurlik hard gesels: ‘Vandag is darem koeler as gister. Het julle baie koek gebak?’
‘Ja-a, ons het hard gewerk. Vanmiddag sal dit seker 'n gebaljaardery wees van die ander wêreld. En wat vroetel pa hier so in die groentetuin?’ sê sy vir Oom Tom wat in 'n blikskottel ertappels uithaal. Sorgvuldig slaan hy die kluite fyn en haal die wit ertappeltjies uit.
| |
| |
‘Jou ma is haastig,’ sê die ou man en kom regop. ‘Ek wil net gou die ertappels hier by die windpomp afspoel. Hm, Linda jou wange is vol moerbei,’ sê hy agterdogtig en knyp sy oë nouer.
Sy word net rooier en sê: ‘Wag, ek moet nou vir ma gaan help. Ma wag seker al.’
‘Wanneer wil Oom die koring laat trap?’ vra Wynand en drink van die helder water wat in die geut van die windpomp stroom.
‘Man, voor Nuwejaar moet een trapsel klaar wees en daar teen middel Januarie moet alles klaar wees.’
‘Oom, het seker gehoor dat hier 'n masjien in die nabyheid is. Hoekom kry Oom hom nie?’
‘Nee jong,’ antwoord Oom Tom en vat die skotteltjie skoongewaste ertappels onder die sjorrende stroom uit, ‘ek hou my maar by die perde. Dit kos minder - ja, om die waarheid te sê, ek het nou somar 'n teësinnigheid in die masjien-gedoente. Nee wat, al die jare gebruik ons die dorsvloere en dit gaan goed. Ek hou my nou maar daarby. Maar wag jong, kom ons drink bietjie gemmerbier. Jy is so vroeg uit. Jy het nog niks gehad nie.’ Hulle stap aan en in die klein sitvertrek ontvang hulle die koel glase bier, en klinkers word aangebied. Verbeel hy hom dit, dink Wynand,
| |
| |
of merk hy werklik 'n stroewe houding by die gemoedelike Tant Mieta? Sy kyk half oor sy skouer toe sy die klinkers voor hom hou. Dis snaaks... dalk oor Linda alleen by hom in die tuin was ... ja, en die rooi kolle op haar wange!
‘Kom Schalk-hulle vanmiddag?’ vra Oom Tom, alhoewel hy seker weet dat hulle daar sal wees.
‘Ja,’ sê tant Mieta, ‘hulle is al seker op die pad,’ en sy kyk by die voordeur uit na die lang streep van die grootpad. Maar daarop is niks sigbaar nie.
Wynand verdwyn in sy kamer, en hy is pas weg, of Tant Mieta se spelende voorvinger beduie vir Oom Tom om kombuis-toe te kom.
‘Tom, ons moet wakker loop. Ons het 'n groot dogter in die huis.’ Haar hande rus in haar sye.
‘Hm.’
‘Jy het gesien die moerbeikolle op Linda se wange.’
‘Ek het so'n ietsie gemerk.’
‘Nou ek sê jou ons moet wakker wees. Linda is 'n snuiter; die Wynand is wel 'n goeie kêrel, maar hy is môre-oormôre weg. Jy kan mos sien dis 'n man wat nie aan trou dink nie; die wapad is sy woning.’
| |
| |
‘Hm. Twee moerbeikolle is nie erg nie. Maar ek sal my oë oophou. Of mens nie genoeg moeilikheid het nie!’ en die groot hand van Oom Tom neem nog 'n klinker, en terwyl sy oë die bewerige wapad dophou, kou hy die koekie aandagtig fyn.
Op die bed lê Wynand vir 'n rukkie. Ja, hy moet weg. As die koring in die sakke is, dan moet hy weer die wapad kies na die verte. Alleen die verte en oneindige kan die roepstem van die hart stiller maak. Maar dan die herinneringe, die dinge wat gedaan is en wat ewig weer lewe in jou verbeelding wanneer jy dit die minste verwag... Hy buk en haal sy bondel goed onder die bed uit. Hy knoop dit sorgvuldig los. Ou, vergeelde briewe bewe in sy hande. Hy begin lees, byt op sy lippe en sy oë word dof... So sit hy vir 'n uur lank, inmekaargesak op die bed...
Ná ete is dit een en al bedrywigheid op die plaas. Die mense groep saam, daar word jukskei gegooi, gemmerbier en lemoenstroop gedrink, handtertjies en soetkoekies aangebied, en kort-kort gaan 'n uitbundige gelag op soos grappe gemaak word. By die randjie se punt om kom 'n span volk en hulle sing dat al die blankes daarheen moet kyk. Voor Oom Tom se deur bly hulle staan en dit is baie duidelik dat die meeste goed aangeklam is. April het
| |
| |
'n pou-veer skuins in sy matrasagtige hare gesteek, die sweet staan blink op sy gesig en uitbundig klink dit, terwyl hy 'n paar draaie maak:
‘Ag, maar so'n jong is lekker gebraai! Hy kan nie gaarder nie. So waar as wat padda hemp dra, vanaand moet die meid ja sê, of die Hotnot skep die wapad, en as hulle weer van hom hoor, dan dra hy swaar met 'n draagstok water daar bo in Transvaal. Waar is jy Stefaans, jou Bolandse aanbrandsel! Waar is jou mond nou?’
Stefaans wil 'n paar woorde sê, hy struikel vorentoe, maar soos 'n bees wat 'n koeël kry, val hy in mekaar - pootuit van die drinkery.
‘O jé,’ skreeu Katryn, ‘die Bolandse ding is klaar. Ek hou my nie op met sulke spaansriet-bene nie!’ Stefaans word plegtig na die koelte van die stal gedra, waar hy roggelend lê en snork. En nou sing die volk weer opgewek:
En vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny
En vanaand gaan die volkies koring sny ... tot hulle anderkant die skaapskraal verdwyn het.
‘Koring se prys is af,’ sê Schalk, wat die middag aangekom het, aan Oom Tom toe hulle in die koelte gaan sit.
| |
| |
‘Man, maar dit is darem 'n groot slag,’ sug die ou man en sny met sy harde hande houtjies.
‘Nie altemit nie. Maar volgende week gaan die boere 'n vergadering op die dorp hou. Oom moet kom. Ons moet saamstaan. Dis volgende Saterdag - tienuur die môre.’
‘Ek sal sien. Maar ek deug mos nie op sulke plekke nie.’
Wynand stap voor hulle verby land-toe.
‘Hoe lank is die kêrel al by Oom?’ vra Schalk en kyk skerp na Oom Tom.
‘'n Rukkie,’ kom die antwoord, ‘'n voorslag by die werk man - en 'n reguit kêrel.’
‘So?’
‘Hoe lyk dit dan of jy my nie bra glo nie?’
‘Nee Oom, so moet Oom dit nou nie beskou nie. Ek het net maar die anderdag met 'n kêrel uit Johannesburg gesels.’
‘En wat sê dié?’
‘Nee, ek kon nie veel uit hom kry nie. Hy het net gesê dat hy dié kêrel ken, maar aan sy gesig kon jy somar uitmaak dat dinge nie pluis is nie.’ Schalk versit sy bene. Hy sou graag meer vertel het, maar het te min uitgevind. Maar dit verskaf darem innerlik genoeë om so'n bietjie rond te krap in 'n ander se verlede en agterdog te verwek.
‘Ek glo nie dis erg nie,’ sê Oom Tom, ‘ek hou baie van die man - stil en op sy plek.
| |
| |
Jy weet die ou mens is maar alte lief om 'n ander swart te smeer. Dis eintlik of dit hom plesier gee, en sê mens net iets van hom en hy kom dit agter, dan word hy blou in die gesig van boosheid. Hm, dis glo maar die ou Satan wat so woel met ons. Kom ons staan huis se kant toe.’ Schalk voel half nukkerig. Die ou kêrel is soms 'n baster predikantjie.
‘Oom ek staan tuin se kant-toe. Die moerbei is mos nou ryp.’
‘Goed, jong.’
En so gaan die lang somermiddag om, en die son verdwyn weer in rosige wolkspelonke en 'n fyn ligstrook lewe nog ná as die eerste sterre reeds deur die aandonkering van die aand hul ligte laat ophelder. As die ete verby is en die meeste mense in feestelike stemming verkeer en op die groenkweek weemoedige volksliedere sing, sien Linda tot haar verdriet hoe Wynand hom stil-stil van die mense verwyder en eensaam wandel in die rigting van die Ooste, waar verre vreugdevure 'n goue gloed agter die helder lyn van die heuwels laat opbewe... |
|