wagte wat 'n hele paar families boere bewaak hier in die rusplek aan die voet van die randjie. Dit moet seker koel en rustig in die aarde wees, diep weg onder die grond, waar selfs geen ster meer brand nie... Wag, wat makeer hy? Dit is lawwe gedagtes. Maar die donker nag suig sy hart vas, die nag wat soos 'n swart reus oor die wêreld kom en almal oorweldig .. die nag en die dood... Hy huiwer. Hy sluit die deur en kyk na die wande van sy buitekamer, met die spokende skaduwees skuiwend daar oor heen, na die kaal balke, na sy bed. Sy liggaam gloei of 'n koors in sy bloed aan nader is. Hy trek hom uit, maak die klein venstertjie van die vertrek wyd oop en gaan dan lê. Maar die bedompigheid hinder hom. Hy rol rond in sy bed.
En nou staan die hele dag weer in sy geheue op, 'n brokstuk verskriklike lewe, wat aan hewigheid win in hierdie stille naguur. Hy gaan na die koringland toe vroeg in die môre, hy is vol arbeidslus, vol hoop dat hy Linda sal sien en dat hy naby haar sal kan wees. Hy sien die groeiende lig wat die hele hemel verhelder en dan die laaiende somerdag wat nog deur sy liggaam heenbrand. Hy sien die koring voor hom ... en dan opeens die verskriklike oomblik toe hy met 'n skok bewus geword het van Linda se liefde vir die rond-