| |
| |
| |
VI.
In die huis is dit nog drukkend en bedompig, maar daarbuite damp 'n geurige frisheid uit die vleie en dam op asof die vernielde aarde in die nag weer verjong sal word tot nuwe skoonheid en nuwe lewe.
Oom Frans-hulle het net klaar met ete; hy het met skorre stem 'n stukkie uit die Bybel voorgelees, toe het 'n rustige psalm in die aandvrede opgeruis - en nou soek almal, wat nie werk te doen het in die huis nie, die helende van die aandlug, wat saggies aanspoel oor die donker lande.
Oom Tom het net lekker gaan sit, met die hitte nog in sy lyf, sy hande, arms en rug seer en styf, toe 'n seuntjie van Oom Frans oor die randjie aangekletter kom en vinnig ratel: ‘Oom, my ma vra of Oom nie gou bietjie daarheen kan kom nie.’
Almal luister verbaas.
‘Wat is dit?’ vra Oom Tom, effens nukkerig, want ná die verskriklike dag voel hy
| |
| |
nou nie eers lus om 'n paar treë te stap nie. Hy wil van die aandlug geniet.
‘Ek weet nie, Oom,’ kom die antwoord.
‘Nou goed, ek kom,’ en Oom Tom staan stram-stram op en dink: is dit nie miskien in verband met die bog Hannes nie? Maar wat sal Frans met 'n ander se kind te doen hê? Hm, die mense het altyd iets, veral as mens doodmoeg en gedaan is. Hy trek die aandlug diep in sy longe op... Hy voel nou sterker en kragtiger. In hom gloei nog die herinnering ná van die son-deurlaaide dag wat nou dood is, maar sy hart voel ook bly dat sy koring af is, dat die lug nie tekens van reën wys nie. Vooroor stap hy om die randjie.
‘Naand, sus Hester,’ sê hy vir die vrou wat hom op die drempel van haar agterdeur staan en inwag. ‘Tag, jy het my amper laat skrik. Ek dag daar is een baie ernstig siek by julle.’
‘Nee, Boet Tom, dis gelukkig nie so erg nie. Kom in, dan sal ek jou vertel.’ Oom Tom buk by die warm vertrek in en gaan in die klein spensie sit waar die slap vlam van 'n kers sy flikkerlig laat opbewe teen die mure.
‘En, sus Hester, wat is dit?’ begin Oom Tom somar dadelik. Sy bebaarde gesig lyk nou enigsins woes in die kerslig, sy oë is ver- | |
| |
lep en gedaan, maar hy luister tog met inspanning na wat aan hom vertel word.
‘Boet Tom, 'n ding hinder my nou al 'n rukkie,’ begin sy en die dikkerige vinger stryk gelykmatig die kleedjie voor haar weg, ‘jy sien, Frans is nie hier nie. Van daardie haelbui af wat ons koring platgeslaan het, het hy hom byna dood bekommer. Hy loop in die môre veld-toe en kom eers laat in die aand terug. Hy wil sy mond nie aan kos sit nie. Ek sit nou juis weer en wag vir hom. Vanmiddag ná ete is hy weg. Hy dwaal somar so rond in die lande en veld. Wat moet mens doen, Boet Tom?’ Haar stem het gaandeweg versag en haar laaste woorde klink byna soos 'n dringende smeking. Haar donker oë is op Oom Tom gerig, wat 'n hele ruk stilsit en dan stadig sê: ‘Ek het dit nooit geweet nie. Die werk op die lande het my so besiggehou dat ek nie kans gehad het om met Frans in die laaste tyd te gesels nie. Foei, foei, dat die arme ou broer hom die ding so aantrek.’
‘Ja Boet Tom, ek sê dit nou maar vir jou,’ en tant Hester veë 'n traan uit die oë weg, ‘die skuld maak hom so gedaan. Jy weet self hy het sy hande stukkend gewerk, daar is nie 'n lui haar op daardie man se kop nie, maar kyk nou! As die dag nog breek, is hy al uit, en so gaan dit tot sononder. Ons het ons hart
| |
| |
so op die korinkies gesit. En dit is nou net of die Here dié haelbui vir ons land bedoel het. Dis darem om hartseer te voel, Boet Tom.’ Sy sug en trane glans in haar oë.
‘Ja sus, die Here se weë is wonderlik. Mens verstaan darem partymaal gladnie waarom dinge so moet loop nie.’ En toe bly hy stil, asof hy geen raad het nie. Daarbuite blaf 'n hond weemoedig in die aandstilte. Toe klink daar voetstappe buite, 'n keel word skoongemaak en Oom Frans kom binne.
‘O jy is hier. Naand, Tom.’ Oom Tom is verbaas om te sien hoe vervalle sy broer se gesig is. In sy hart wel 'n innige vertedering op om te help, om te keer dat sy broer nie afgly na ondergang nie.
‘Naand, Frans.’ Toe is daar stilte vir 'n oomblik.
‘Kom ons gaan sit buite,’ sê Oom Frans met onsekere stem. ‘In die huis is dit so bedompig. Dankie, vrou, ek wil nie eet nie. My maag voel in die laaste tyd nie lekker nie,’ volg dit ontwykend. Op die stoep is dit koel. Voor hulle doem die nagvorm van die randjie op en daaragter tril die sterre met 'n helderheid soos alleen die somernagte ken.
‘Dit was 'n vreeslike dag,’ begin Oom Tom.
‘Ja man, dit lyk of alles verskrompel en
| |
| |
verskroei moet word. Die hele spul lyk my in die laaste tyd agterstevoor.’ Oom Frans se woorde kom skerp en bitsig, of hy alles wat hy sê, helder deurdink het en alle moed laat vaar het om nog enige sin of orde in die gang van die ou wêreld te ontdek. Tant Hester, wat net vir 'n rukkie buite kom staan het, gaan moedeloos na binne; sy ken hierdie manier van praat van haar man in die laaste tyd. Sy laat die twee broers alleen. Miskien kan Tom iets met hom uitrig. Die Here alleen weet....
‘Ja, dit was 'n hete dag,’ sê Oom Tom weer, hy voel-voel so na die rigting wat sy broer dink. Hy hou nie van die toon waarin hy nou pas gepraat het nie. ‘My koring is vandag af. Dit het ook maar broekskeur gegaan om dit so ver te kry, want stroke stroke het begin uitslaan.’ En nou druk hy deur met wat hy wil sê: ‘Dit was darem alte jammer dat dit haelbui juis jou land moes vang.’
‘Maar, man, daar is niks snaaks aan nie,’ en Oom Tom voel met 'n ligte skok die nuwe manier van praat by sy broer. Daar klink 'n roekelose, uitdagende klank in wat hom onthuts laat voel. Stoterig kom die woorde: ‘Alles is mos agterstevoor gereël. Jy en ek werk ons half kapot, ons kry die saad in die grond, en as die koring net mooi groen in die pyp staan, dan kom die sprinkane. Jy onthou
| |
| |
hoe hulle voor verlede jaar elke groenigheidjie op die land weggevreet het. Ons het gekeer wat ons kon, maar dit was mos wolke en wolke. Jy kon net sowel vir die son sê hy moet nie opgaan nie. Hulle was skaars weg om te gaan broei, om later weer klaar te wees vir ons, toe reën dit dat alles wegspoel, jy onthou waar hierdie spruit gelê het en hoe ons damme gebreek het. En toe kom 'n gunstige tydjie. Kyk, hoe pragtig was die koring. Myne was nog nooit so mooi nie. En net toe ek moet begin, kom die hael en slaan mooi alles tot op die grond plat. Ek vra jou nou: is dit nie alles agterstevoor nie?’ Hy hou op met dieselfde tartende klank in sy stem, en toe kom die stilte weer en die verruimende frisheid van die somernag - en altwee kyk nou en dan op na die sterre, glansend soos diepe geheime van lewe en ewigheid.
‘Ek dink darem.’ sê Oom Tom naderhand, ‘jy praat darem te maklik van 'agterstevoor.' As 'n mens baie swaar kry, dan lyk dit vir jou so, maar die weë van die Here loop snaaks, Frans. Ek stry nie: vandag het ek dit gelukkig getref, maar môre kry jy weer 'n kans. As ek so na die ou natuur kyk party dae, dan word dit vir my al duideliker: dit is alles op en af. Ons saai die koring, die saad sterwe in die grond en dan kom daar nuwe lewe. Die
| |
| |
son verskroei alles, daar is bedompigheid, maar dis maar net die voorloper van reën. Vandag wil die ou aarde jou skoon afskud, dit lyk of hy jou nie verdra nie, en jou met jou familie en al wil verdelg, en môre is alles weer mooi, en net wat jy plant, groei. Dit is vir my te wonderlik as ek daaroor dink. Die ou aarde is vir my skoon soos 'n mens: hy het sy nukke en buie - en mens kan daar niks aan doen nie.’
‘Ja, Tom, jy kan maklik praat, jy sit met al jou koring. As 'n mens dit goed tref, dan kan jy alles mooi insien. Maar as jy vanaand in my plek is, sal jy anders voel. Daar is niks wat 'n mens se hele lewe so opvreet as skuld nie. As jy op die dorp kom, moet jy gedurig met jou kop op jou bors loop, bang dat die winkelier of prokureur jou sal roep en sê dat, as jy nie nou betaal nie, dan gaan hy jou opskraap. Ek wil jou nou net mooi vertel; jy dink ek is te erg met pratery,’ klink dit sagter en met weemoed in die stem, ‘ek kan jou wys: hier in die huis lê 'n paar rekeninge wat jou sal laat skrik. Dit is honderd pond hier, twee honderd daar en so tot hulle jou toegegooi het in 'n graf waaruit jy nooit weer sal kan kom nie. Ek het dit alles mooi uitgereken gehad. As ek hierdie jaar se koring kon geoes het en die prys het so gebly, dan het ek
| |
| |
die ergste skuld doodgevee en ek kon met 'n lekker en 'n geruste hart die nuwe jaar ingaan. Maar hoe nou? Ek en my familie moet wapad-toe. Dis al. Wat help dit my nou dat ek my hande deurgewerk het? Nee wat, jong, ek bly daarby: alles is agterstevoor. Wag maar eers tot die ou wêreld jou afsmyt dat jy daar lê, dan sal jy voel wat ek nou sê?’ Oom Frans gee 'n lang sug en sit toe weer roerloos in gedagtes versink.
‘Frans, jy moet my nie verkeerd verstaan nie,’ en Oom Tom rek hom effens uit, ‘tag, maar my lyf is seer van die koringsny en son. Ja, wat ek wil sê is: ek sit nie hier vir jou en preek nie. Jy weet met my gaan dit ook maar hard - die borsketting trek styf. Maar wat ek meen, is dat mens nie moedeloos en roekeloos moet word nie. Jy weet hoe dit gaan. Jy raak naderhand heeltemal jou vertroue kwyt en jou familie ly daaronder. Onthou jy vir Tys Rooikraal? Toe sy skape daardie tyd so dood is aan die geilsiek en die sprinkane al sy gesaaide opgevreet het, het hy mos begin drink. En waar is Tys vandag? Hy ry klippe aan op die dorp. Man, ek sê vir jou, mens moet maar lelik vastrap in die lewe, want gly jy eers, dan beland jy netnou daar onder, en terugklim is dan verniet. Dan bly dit somar afdraende.’ Oom Tom wil so graag sy broer
| |
| |
oortuig. In sy bloed voel hy hier onder die sagte somernag-hemel hoe goed en ryk dit is om te lewe, hoe die aarde nie diegene sal afskop wat hom vertrou nie... Maar hy voel ook dat die saad van sy goeie bedoelinge op klipharde gruisgrond val, en dit wond hom, want seker en onwrikbaar volg Oom Frans se woorde:
‘Ja, Tom jong, die lippetaal is baie lekker, maar sê my hoe 'n mens jou skuld moet betaal, as die wolwe net klaar staan om op jou te spring? Daar lê die knoop.’ Die beweging wat daar nog in die huis was, is nou stil, die goue skynsel van kersligte verdwyn uit die vensters, soos moeë werkers hulle oorgee aan die rus van die kort somernagslaap, en oor die doodstil land rus daar nou 'n sagte nagvrede, wyd tot waar eensame sterre hulle lampe aan die wande van die duister hemel gehang het. Oom Tom voel dat hy sy broer moet help. Môre, as die laaiende son weer soos 'n ontsaglike oondvuur oor die wêreld gaan, dan sal hy dalk weer anders voel, baie meer selfsugtig, maar in hierdie heilige somernag het die goedheid van sy wese oopgegaan soos die suiwer kelk van 'n nagblom...
‘Ek sal jou sê, Frans, ek sal jou probeer deurhelp. My skuld is baie, maar die een mens is daar om die ander te help. As alles
| |
| |
goed gaan, dan sal ek by die duisend sakke koring wen. As ek dan 'n pond per mud kry, dan betaal ek al my winkelskuld af, ek maak nog 'n goeie gat in die eerste verband wat ek op my grond het, ek laat staan eers die wa en nuwe tuie wat ek wou koop, en ek probeer jou 'n klompie leen.’
Vir 'n rukkie word net die swaar asemhaling van Oom Frans gehoor, dan klink dit bewoë: ‘Baie dankie, Tom ... tag kyk daar ver slaan weerlig uit ... ai, die weerlig net soos die aand toe ons by jou daar op die kweek gelê het ... ja, baie dankie, man, maar dink maar eers aan jou huis. Jy weet dit seker nie, maar vandag kry ek vir Tjaart langs die pad. Hy sê my toe dat koring tot op twaalf sjielings geval het. Almal wen glo vanjaar. Daar is te veel. Ek sê jou mos: met die boer is daar altyd iets verkeerd.’ Die berig tref vir Oom Tom soos 'n slag wat hy uit die donker kry, en vinnig kom dit: ‘Man, Tjaart het seker verkeerd verneem. Dis ontmoontlik!’
‘Nee man, jy weet Tjaart is 'n kêrel wat lankal met die marke werk. Hy sê dat hy vas glo dat daar 'n skelmstuk agter sit. As daar te veel koring die jaar gewen word, hoef pryse nie so te sak nie. Daar is groot menere wat die toutjies trek. Ons werk ons hande kliphard, en agter die skerm sit die menere en hulle
| |
| |
laat die pryse van ons koring val net soos hulle wil. Aan die een kant is die natuur teen jou, en wen jy nog iets, dan werk jy vir ander wat met die vet-vet profyte bly sit. Ek vra jou nou: watter kant toe?’ Oom Tom is botstil. Netnou nog was hy bly en het in sy gedagte die skoonheid gelê van 'n ryke oes wat wag, die vooruitsig van sy skuld wat kan betaal kom, van hulp wat hy aan sy arme broer wil gee... Nou het 'n skok alles deurmekaar laat dwarrel, en hy voel hartseer en ontnugter. Sy gedagte het nou eenmaal vasgeanker aan die een prys: koring is nou 'n pond 'n sak. Snaaks dat 'n ding so vas in 'n mens se kop kan groei, somar sonder 'n goeie rede. En nou? Dit klink alles so waar wat Frans daar sê dat hy al sy berekeninge weer sal moet oorbegin. Dit word warm langs sy voorkop en hy bars driftig los:
‘Maar as die pryse dan so kan val net soos daardie groot menere wil, dan moet die Regering 'n stang in hulle bek sit en ry die duiwels bloots! Is ons dan volk wat ons moet doodwerk vir die safte-handjies wat net heeldag tjeks tyken?’
Maar lakoniek kom die antwoord net: ‘Die Regering is kop in een mus met die groot menere.’
Oom Tom voel of hy wil redeneer en uit- | |
| |
mekaar skeur, maar hy is magteloos in sy onredelikheid, want hy beskik oor geen feite nie. Hy of sy broer het nog nooit 'n markprys bestudeer nie, en gaan maar altyd op hoor-sê af. Al wat hy nou voel, is dat daar 'n groot onreg aan hom gedaan word, en dit verbitter hom dat hy so magteloos is en dat sy oorbruisende gedagtes so vasstoot teen sy onkunde. Die twee broers praat 'n lang ruk niks. Dan sê Oom Tom of hy met homself praat:
‘Die lae prys is maar net vir 'n rukkie. Ek gaan oor 'n dag of wat na die dorp om te verneem wat aangaan. Ons boere kan darem gerus nou saamstaan en skoffel al die geknoeiery met die goedjies wat ons wen uit.’ Maar Oom Frans antwoord nie. Oor 'n rukkie klink dit:
‘Kyk die weerlig daar - het jy gesien? Mog God die arme boere bewaar wie se koring nog op die lande is. Ja, Tom man, die ou wêreld het darem verander. Toe oorlede pa hierdie groot plaas gekoop het, was die grond nog spotgoedkoop. Toe kon jy met amper niks boer nie. Maar die gronde word kleiner. Ons het gesit en slaap - ek sê jou reguit - ons het nie gesien wat aangaan nie. Een vir een sal ons waai van die plase af. In die dorpe en stede word ons die houthakkers en
| |
| |
waterdraers. Die grond van ons vadere verval in vreemde hande,’ sê hy met weemoed, ‘en ons word opdrifsel. Wragtig, Tom,’ klink dit opeens driftig, ‘ek het vasgetrap soos 'n man kon vastrap, en ek sê jou my ou grondjie gaan... Driefontein sal in vreemde hande raak. Ek hoop die Here help jou dat jy jou stukkie kan behou.’
‘Ai, jy laat 'n man diep dink. Maar dis soos jy daar sê, dit lyk vir my die grond verskuiwe onder ons en ons kan nie mooi kleinkry wat aangaan nie. Maar Frans, hou nog bietjie moed, ek wil uitvind hoe sake staan. Ek wil bietjie uitreken. Driefontein mag nie gaan nie. Pa en oupa lê hier begrawe. Hulle het net soos ons gesweet op hierdie plaas. Laat ons maar probeer vastrap.’ Daar is geen antwoord nie. Oom Tom staan op, want dit is al laat en hy voel nou opeens die vermoeidheid in sy lyf, die nuwe bekommernis wat hom swygsamer sal maak in die dae wat voorlê. Die arme ou mens met sy moeilikhede ... Hoe kan hy vir Frans so'n bietjie opbeur?
‘Nou, Frans man, slaap nou maar vannag, jong. Ek sal jou help dink. Twee koppe kry makliker 'n plan as een.’
Oom Frans staan na die sterre en kyk. Hy antwoord nie op wat Oom Tom daar gesels nie, maar sê: ‘Tom, dit is darem wonderlik as
| |
| |
mens so na die sterre opkyk en jy dink aan jou ou klein lewetjie. Nou spook jy om 'n bestaan te maak op die grond en netnou lê jy daaronder, en die ou wêreld gaan maar weer sy gang. Nou ja, naand Tom. Nou begin die stroom van gedagtes weer.’
‘Hou op met die bekommernis, man; dit help mens niks. Nag, Frans.’
‘Nag, Tom.’
Daar kraak 'n deur en Oom Frans verdwyn. Oom Tom loop in die rigting van sy eie huis. Hy staan stil en kyk lank na die majesteit van die ster-bestrooide hemel, so ontsaglik en vreemd-lokkend in hierdie uur. Hy skud saggies sy kop en stap dan mymerend voort. Sy voetstappe klink swaar oor die donker aarde. |
|