| |
| |
| |
V.
Dit is of die hele landskap verdrink lê in die neerwegende hitte van die somerdag. Daar is geen wolkie aan die lig-bewende blou hemel nie en die beweginkie wind wat daar nog was, het lui gaan insluimer op die ryp are van die koring, wat nou roerloos staan en opgee soos 'n glansende vlakte. Die snyers wat vanmôre voor sonop ingeval het, rus nou vir 'n rukkie ná middagete op plekkies waar daar 'n koeltetjie is. Ná die reën is dit of die son hom nou met alle geweld werp op die aarde om al die vogtigheid weer op te drink uit die klam oppervlakte en die arbeiders op die lande so bruin soos die grond self te brand. In die wind-stil somermiddag is dit of alles uitdor en verskrompel, of dit te swaar gaan om asem te haal, of die son en die verwarmde aarde alles wil doodbrand wat nog lewe. Dit lyk of die vlakte en lande in 'n groot oondvloer verander het, so bewe die gloed op na die warm hemel, waar die son genadeloos in staan en vlam dat
| |
| |
jy jou oë nie na boontoe kan ophef nie. Langs 'n mied lê die kleurlinge uitgestrek en slaap, April met 'n wyd-oop mond waaruit rukkerige keelklanke kom. Die hande wat netnou nog styf om die natgeswete handvatsel van die sekel geklem was, hang nou slap en willoos na die grond toe. As 'n lastige vlieg daarop kom sit, dan ruk die spiere en die slaper gee miskien 'n ligte kreun. Rondom hulle hol nou en dan 'n glansende kriek met onverwagte draai deur die harde stoppels. 'n Paar ramme staan 'n endjie van die mied af met hul koppe na mekaar toe terwyl die sye onrustig wieg. En die hitte van die son vlam maar genadeloos oor die land, asof soiets soos die koelte van die aand nou ver en onmoontlik is, en die geweld van die oomblik die enigste is wat daar bestaan. In die huise, met hul platdakkies van sink, is dit onuithoubaar, want die hitte slaan soos 'n wolk van bo af neer. Onder die bome in die tuin het sommige gaan skuiling soek. Daar lê die koel skaduwees van die wilkerbome, maar buite die koelte-kring is weer die glinsterende felle sonlig wat nydig voortbrand asof niks mag bly lewe nie en die geduldige aarde al sy vrugte moet sien vergaan.
Maar in die hitte-golwing is daar opeens lewe. Oom Tom se stem klink deur die lome stilte, en van verskillende plekke kom die snyers
| |
| |
nou skynbaar onwillig, met lustelose gang na die snyplek op die land. Daar is nie kans om lank te rus nie, want vak na vak koring word nou ryp, die are slaan uit en dit is nou kromstaan deur die hewigste hitte deur tot dit voel of die son jou gaar bak deur jou hemp. Die arms van die snyers is nou gebrand en hul blaaie voel styf-seer, en nou is dit al weer wegval! Eers onwillig vat aan die strooi van die koring, dan styf-styf die arm vooruitskiet totdat die bewegings losser word en die wemeling van halms voor jou wyk en wyk - en tog nooit 'n end kry nie! Die snyers is dof-loom in die liggaam, maar stadigaan kom daar meer krag as die bloed nuwe arbeidsdrang voel en dit duideliker word dat, as daar so gesny word, hulle miskien teen die aand se kant ál die koring sal kan af hê. Tussen Oom Tom en Wynand sny vanmiddag 'n vaardige werker: Hannes. Nadat sy pa se koring af is, het hy dit so bewerk om vir een dag by Oom Tom te kom help. Hy het die saak goed geplooi, patetiese verhale vertel van koring wat by Oom Tom in stroke uitslaan. Sy vader het nie vermoed wat in sy seun se hart omgaan nie, hoe die liefde sy dae vul met goue drome nie en hoe die jaloesie sy lewe versomber en hom stuurs en onaangenaam maak. In die middagloomheid praat niemand nie. Dit is net
| |
| |
die girt-girt van die sekels, die langsame versit van voete en die sagte geritsel van vallende halms. Die lang strook koring stryk goudgeel weg na die plek toe waar die hael 'n strepie gevang het, en nou en dan kyk van die swakste snyers verlangend oor die goue gelykte, waarop die son vonkelend neerbrand. Hulle meet wanneer die einde daar sal wees - nog net 'n paar handevol moet volg en die sekel dan in die gort gehaak kan word - klaar! Maar nou is dit rusteloos voortsny tot dit voel of die vreeslike middagson jou soos 'n dier in die nek wil doodbyt, tot die sweet jou oë donker maak en jou rug voel of dit nooit weer reguit sal kan buig nie. Die voetsole brand soos vuur, 'n duiseling styg kort-kort hoof toe, maar daar is geen genade nie. Die koring sal uitslaan! Geduldig staan die goue leër en wag om gevel te word en strook na strook val hulle en bly magteloos in hopies agter die snyers lê. Kort-kort kyk iemand in die rigting van die huis of die koffie nog nie kom nie.... Opeens is dit of 'n nuwe krag deur Hannes se loomheid tintel - want hy merk dat Linda langs die koring aankom met die koffie. Terwyl hy vinniger sny, kyk hy met arendsoë of Wynand haar nie sien nie, kyk hy skerp om te sien watter uitwerking sy op hom het. Maar rustig sny Wynand voort. Eers toe Oom
| |
| |
Tom se stem half-triomferend ‘koffie!’ skreeu, buig hy regop, veë die sweet uit sy oë en blaas hard op sy warm hande.
‘Tag, ou dogter, jy was seker nog nooit so welkom nie,’ sê Oom Tom en hy druk sy paphangende hemp onder sy broek in. ‘Vanaand moet die koring op die naat van sy rug lê. Wat sê jy, Wynand?’
‘Net so, Oom.’
‘Maar mens verbrand vandag tot in die grond,’ sê Oom Tom en drink gretig koffie. ‘Dit sal netnou beter word.’
Linda kry vir Hannes uit haar hart jammer. Hy is bloedrooi verbrand, tot sy oë is rooi, en sy lippe is wit en droog.
‘Hoe gaan dit, Hannes?’ Daar kom 'n blye vreugde in sy verwaarloosde gesig en dankbaar antwoord hy, ‘nee dit gaan, dankie, net die son is so verskriklik.’ Maar sy vreugde gaan gou weer oor in donker, dreigende jaloesie toe hy sien hoe Linda met sag-stralende oë koffie vir Wynand inskink en die duidelike tekens openbaar van liefdevolle toegeneëntheid teenoor hom. Dit gaan soos 'n skok deur Hannes en vir 'n oomblik word dit donker voor hom, sy neusvleuels roer en sy bors wieg vinnig op en neer. En tog doen hy niks. Net die beker in sy hande bewe saggies. In sy ge- | |
| |
dagtes is dit 'n woeste dwarreling. Nors stap hy saam met die ander na sy sekel toe...
‘Kyk, kêrels,’ sê Oom Tom, ‘dit lyk vir my as ons optel van nou af, dan kan ons teen sononder klaar wees. Ons kan die koring wat oor is, verdeel,’ en sekuur wys die vereelte voorvinger die vakke vir elkeen aan, terwyl twee kleurlinge gerwe moet bind en dit na die mied toe moet dra. En nou is dit wegval, elkeen aan sy vak, elkeen met die onuitgesproke gevoel van mededinging in sy hart - al is dit nie teen die snyers langs hom nie, dan is dit teen die koring wat hom uittart, wat hom lok om te kom, wat hom terg om te verower. Die son sak laer en die geweld van die son se hitte word minder, terwyl skugter skaduwees agter die snyers begin aanreis. Rustig en seker soos altyd sny Oom Tom, met die gelykmatig vooruitskietende arms, en langs hom is Hannes wat nou woes en vaarterig sny, terwyl hy kort-kort skelm loer na Wynand, wat met vaste gang voortgaan. Anderkant Wynand is die maer figure van Stefaans en April te sien. Noudat dit koeler word, raak hulle tonge weer los en die aanhoudende kompetisie-gees tussen die twee is skynbaar hewiger, noudat elkeen sy duidelik afgemete vak het om te sny.
‘Toe dan, April-man, toe dan platneus
| |
| |
Boesman, Katryn staan mos en kyk van die huis af. Hoe wikkel jou agterlyf vir my so soos 'n haas s'n wat 'n hou met 'n knopkierie gekry het,’ praat Stefaans terwyl sy vinnige hande seker werk, die gesig naby die grond.
‘Aha, my ou pappa, waar stap so'n vaal Hotnot nie lekker aan met die koring nie! Hy hoor net hoe die Bolandse plathakskene hier blaas-blaas langs hom. Hei jong, hierdie wêreld se volke het nie 'n blaasbalk in die bors nie! Dis somar lekker stilweg sny dat Katryn moet sê: maar kyk, hoe kon die wye-neusgate uit die Boland ooit soos 'n hanslam agter my aanstap? Die ding se wind is dan somar vroeg in die middag al uit! Maar kyk vir ou Aprillie - ag, maar so'n Hotnot sny vir my te dierbaar!’ Linda wat in die koelte van 'n mied gaan sit het om na die werkery te kyk, moet uitbars van die lag vir die lawwe kompeteerdery. Dan volg haar oë weer vir Wynand en Hannes. Waarom sou Hannes skielik so nukkerig geword het?... Haar hart is by daardie groot figuur wat vir haar die kragtigste, die aangenaamste werker is wat sy ooit ontmoet het. Sy diep stem, sy seker manier van praat en die sagte, beskermende weemoed in sy oë. Sy hele lewe is vir haar onpeilbaar, sy sielelewe 'n nooit uitgesproke geheim. Soms sien sy dat, as hulle kerslig al lankal uit is, dan brand
| |
| |
syne nog. Sy wonder wat hy doen. Sy het al aan haar klein broertjie, Bennie, gevra wat die oom altyd doen in sy kamer, maar Bennie, wat gereeld by Wynand in die kamer was, het net gesê dat hy deur papiere blaai en dan weer lees. Sy het al 'n onkeerbare nuuskierigheid in haar voel opwel om deur sy goed te snuffel as hy op die land is, om uit te vind of hy portrette, briewe van 'n meisie by hom het. Maar sy was te skugter. As iemand haar daar moes vang! Selfs haar ma... Sy kan nie daaraan dink nie. Sou Wynand iets van haar geheim weet? Nog nooit het hy die minste teken gegee dat hy die liefde in haar oë gemerk het nie. Maar sy was ook te skugter, te bang om vir hom iets te laat merk. As sy alleen is, besluit sy telkens om vir hom iets te wys van haar gevoel, maar wanneer sy by hom is, dan oorweldig 'n afwerende skugterheid haar. Sy is magteloos. Sy kan nie daaraan dink dat hy ooit moet weggaan nie. Haar lewe sal een leegte wees. O, hy moet weet wat sy voel, voordat hy vertrek ... hy moet weet ... Uit haar dromery skrik sy plotseling op toe sy die hewige wedywering sien wat daar op die land aan die gang is. Die son is nou taamlik laag en 'n fris windjie, die voorloper van die aand, huiwer reeds deur die koringare. Al sy kragte span Hannes in om nie uit te sak nie, want 'n
| |
| |
wilde, opswepende jaloesie kook daar in sy hart om hierdie rondloper te verneder voor Linda, om vir haar te wys wie die baas-werker is, om eens en vir altyd soos 'n koning te heers oor die hele boel en die akelige gevoel van minderwaardigheid vir goed van hom af te smyt. Maar sy bene bewe onseker onder hom en hy voel 'n magtelose wrok na sy harsings styg, as hy die rustige onversetlikheid van Wynand sien, hoe hy sny asof hy nie moeg kan word nie, hoe hy nie opkyk nie, maar net koring agter hom laat en sy vak kleiner en kleiner laat krimp. Hy besef dat hy agterbly, want Wynand het ongemerk sy vaart versnel asof hy hom wil uittart. So'n rondloper! Vaarterig skiet Hannes vooruit, maar doodsekuur besef hy hoedat hy verloor, hoedat Wynand hom agterlaat, want Wynand is al wat hy sien, die enigste wat sy hele wese beheers... Hy begin sleg sny, koringhalms bly nog regop agter hom staan, ander buig onder sy voete plat. 'n Onbeheersde drang kom impulsief in hom op om die vent by te loop en sy sekel in sy nek weg te pik... Vreeslike wraakgedagtes vervul hom. En toe gebeur die onverwagte. Wynand kyk deur sy sweet-omrande oë op en sê vriendelik: ‘Hannes, jy sny darem nou lelik - kyk hoe staan die koring nog agter jou.’ Dit is soos 'n donderslag wat op die
| |
| |
seun se gespanne gestel val. Linda het seker dié vernedering gehoor. Hannes gaan regop staan, sy gesig bloedrooi van son en van woede, en onsamehangend koggel dit oor sy skurwe lippe: ‘Laat my staan, jou ou rondloper. Ek klap jou somar nou in jou smoel, jou ou lae verleier.’ Wynand buig regop, onaangenaam verskrik deur die woestheid van die seun. ‘Wat sê jy daar?’ vra hy ferm, ‘wat bedoel jy daarmee?’ Wat weet die seun? flits dit deur hom.
‘Wat bedoel ek daarmee?’ huil-skreeu die seun byna, ‘jy is somar 'n rondloper, 'n ou smeerlap. Wie is jy om vir my te beveel?’ Al die sekels het opgehou om te sny. So'n wending het niemand verwag nie. Maar Oom Tom se besliste stem dreun deur die spanning: ‘Hannes, hoe kan jy so 'n ding sê vir Wynand? Kan jy bewys wat jy sê? Is jy skoon van jou positiewe af? Jy moet om verskoning vra.’
Maar die seun is een en al weerbarstige uittarting. Hy haak sy sekel in sy gord, trek sy broek hoër en skreeu: ‘Loop julle almal na die hoenders - julle,’ en hy kyk verwoed skuinsweg na Linda, wat beangs nader gekom het, ‘met julle rondloper en al!’ Toe stap hy vinnig weg deur die koring, die ongelukkigste mens op die hele plaas. Almal kyk hom ag- | |
| |
terna, Wynand nie met wraaksugtige oë nie, maar met medelye...
‘Hm,’ sê Oom Tom, ‘nogal astrant né, en vol skelwoorde. Ek sal bietjie met sy pa gesels. Natuurlik kwaad oor hy nie kan byhou nie. Wie die duiwel het gesê hy moet by kom! Moet jou nie steur aan die seun nie, Wynand, ek sal met sy pa praat.’
‘Dis goed, Oom,’ sê Wynand sag en half hees.
‘Dis 'n botterkop wat te groot is vir sy skoene,’ praat Oom Tom, en almal val weer weg. Maar vir 'n ruk is die arbeidstemming bederwe. Linda loop hartseer huistoe.
Laag oor die bulte hang die son nou, en soos 'n oneindige seëning sink die koelte oor die land ná die hete somerdag wat so lank en swaar was. Stefaans merk duidelik dat April begin uitsak en in die taaie werkerslyf, wat so rietskraal lyk, ontwaak 'n sataniese spotlus, 'n onweerstaanbare uittart-begeerte: ‘Komaan, April man, of sal ons vir jou 'n gerf bring om op te gaan slaap? En dan wou jy met my saamsny, agge nee, foeitog! Dis nog nooit waar nie! Vanaand, as ek en Katryn al uitgesels het, dan slinger die ding met sy pottoe-oë eers op die werf in. Ag, maar Stefaans, jy ken jou mos al uit die Bolandse dae - lank van lyf
| |
| |
met die wolhaar kyf! Sies tog, vir die platkop-Boesman.’
Of die verskriklike hitte van die dag weinig aan hom gedoen het, swewe die Bolandse jong nou letterlik voor April uit, vinnig en sekuur sny hy, dat self Oom Tom vir 'n oomblik moet kyk na hierdie meester van die sekel. April se oë draai wit rond soos hy beur; hy kan nouliks nog bitsig uitblaas: ‘Ek klap nog jou pannekoek-lippe toe - jou rondloper.’ Maar hy voel sy magteloosheid en vernedering, en skaam-skaam bly hy nou agter, vol jaloesie, omdat hy weet hoe die volk hom vanaand by die strooise sal spot. Dit gaan nou end toe, en op die voorpunt sny Wynand en Stefaans. Hoe swierig die Bolandse jong ookal vat, sny en neersit, Wynand skiet vooruit met sy rustige gang, sy kragtige en sekere vat wat almeer versnel sonder dat hy halwe werk doen. Die stoele voor hom, waardeur die aandson goudgeel skyn, word minder, nog drie, twee - hy buig regop en kyk om na Stefaans wat met snorkerige vaart aankom, oor 'n rukkie sy laaste handvol neersit en toe uitdagend omkyk, spring dat die stof langs sy flenterbroek opdwarrel en skreeu: ‘Vanaand gaan die Bolandse jong somar breed sit langs Katryn! Die knopkop sal dan seker nog skilpad-speel met die koring.’
| |
| |
April snork van woede en kan geen woord uitkry nie.
Oor 'n ruk het elkeen sy vak af, die laaste gerwe word in die mied weggepak en moeg, maar bly dat die koring af is, stap Oom Tom en Wynand om in die dam te gaan swem voor hulle huistoe gaan.
‘Dit was 'n vreeslike warm dag,’ sê Oom Tom toe hulle 'n end in stilte voortgestap het.
‘Ja'k,’ sê Wynand, ‘noudat die koring af is, wil ek vort. Dis mos reg, nè Oom.’
‘Ag nee, man, help my nou eers trap. Bly tot ná Nuwejaar.’
‘Het Oom my baie nodig?’
‘Baie man, ek weet nie hoe ek sonder jou sal klaarkom nie.’
‘Nou dan sal ek bly, Oom.’
‘Dankie.’
Voor hulle strek die koeligheid van die winddam se water uit en oor die moeë, tamgebrande aarde kom die aand met die rus en vrede van 'n droom ná die werklikheid van die harde daad vergete is. |
|