| |
| |
| |
IV.
Die aand is swaar van geure ná die onweersbui van die middag en 'n bedwelmende frisheid damp uit die koringlande op. Hannes sit in sy buitekamer op die holmatbed met sy hand onder sy kin gestut. Die kersvlam rek kort-kort langer, brand dan weer stil en laat skaduwee-branders roei oor die gewitte mure. Hannes se gedagtes dwaal in die laaste tyd gedurig maar om Linda, en altyd verlang sy hart na haar aanwesigheid en sien hy haar glimlaggende oë en hoor hy die helder stem wat met vreemde bekoring in sy herinnering bly naklink. Hy kan gladnie uitmaak of sy hou van hom nie, en juis in die talmende onsekerheid lê 'n soetheid wat hom rondjaag, hom laat hunker na 'n antwoord en tog soms weemoedig-bly laat voel dat die tere geheim nog syne alleen is, dat niemand daarvan weet nie. As sy in sy oë kyk, ruk sy hart van ongekende vreugde, en hy wonder wat sy wil sê, of sy hou van hom en of sy hom net jammer kry .. Sy weet tog dat hy graag naby haar wil wees.
| |
| |
Maar haar houding teenoor hom word almeer 'n raaisel. Hou sy nie dalk van daardie vent Wynand meer as van hom nie? Dit word donker in sy siel van jaloesie. Waarom verhelder haar gesig altyd so as Wynand met sy ou lawwe grappe in 'n geselskap kom? Maar dis tog onmoontlik; hy is heelwat ouer as sy, en dis 'n rondloper wat hier en daar koringsny, en dan weer laat vat die wye wêreld in. Ag nee, dit is onmoontlik. Hy weet dat hy maar net jaloers is, onredelik jaloers is ... Maar die nare onsekerheid, dit verteer 'n mens. Hy dwaal gedurig rond met die drome aan haar in sy siel. Hy haat almal. Net in haar aanwesigheid is hy gelukkig. Daardie leegte wat sy altyd vul in sy lewe, die genot om te verneem dat sy in die nabyheid is - nog nooit het hy dié salige gevoel gehad nie, so verlang na 'n mens se aanwesigheid nie, en was hy so hulpeloos, so lomp in haar bysyn nie. Hy sit 'n kussing teen die muur, krul hom behaaglik op in die bed, sluit sy oë, en dan begin die eindelose stoete beelde in vreemde warreling, maar altyd oorheers sy alles met haar helderblou oë, die ligte geel hare en suiwer stem. Sy verbeelding vermooi nou die kleinste voorvalletjie waaraan sy verbonde is, dit spin sy verlange vaster en vaster om haar. Hy sit weer langs haar die aand toe hulle die waatlemoene op die groenkweek oopgesny het, hy skuiwe
| |
| |
nader tot hy langs haar leun en met heimelike plesier kan kyk na haar bewegings in die donker. Hy sien so duidelik die omgewing, met die lig van die opkomende maan wat stadigaan oor die bultelyn silwerig geskuiwe het, totdat die koringlande geheimsinnig verrys het, lang bleek stroke onder die ontsaglikheid van die naghemel. Ja, sy was goed vir hom daardie aand. Maar waarom kan hy nie so ver kom en net probeer om haar hand te vat en sy geheim te fluister nie? Telkens en telkens as hy kans het, deins hy terug. En dan sien hy weer die geselskap van nou die middag in Oom Tom se huis. Hy sien en voel hoe sy bevallig met die skinkbord koffie inkom, die kort moutjies stewig om die arms, die verleë trekkie om die mond wat vir hom altyd so mooi is. Hy het spesiaal die plekkie langs hom gehou, sodat sy daar kan kom sit, maar sy het ewe ernstig in 'n ander deel van die vertrek plek gaan sit asof hy gladnie bestaan nie! En toe Wynand binnekom, het haar oë geskitter van blyheid, sy het dadelik vir hom koffie gaan haal en naby hom gesit, met toegespitste aandag geluister na alles wat hy sê en uitbundig gelag vir elke ou snaakse dingetjie wat hy gesê het. O, as hy weet dat sy meer hou van Wynand as van hom, dan sal hy vreeslike dinge kan doen. Hy was so gelukkig hier voor dié grootprater gekom het, hy was seker
| |
| |
sy het al die tyd vir hom gevoel, en nou is dit alles stukkend, verniel. Nee, hy verbeel hom dit maar. Hoe kan sy verlief raak op dié kêrel, wat miskien somar 'n slegte rondloper is, 'n wie-weet-watse verleier! Om te dink hy is gedurig daar by haar in een huis en hy moet hier alleen in sy buitekamertjie sit en twyfel. Dit is onregverdig teenoor hom. Miskien is alles nie so erg as wat hy dink nie. Sal hy nie 'n briefie aan haar skrywe, vir haar alles sê wat hy voel nie? Dan druk hy dit in haar hand net soos hy van haar wil weggaan ... En sy kan dit dan lees, en as hy haar weer sien, sal haar oë straal as sy na hom kyk - en hy sal weet!
Die bedjie kraak toe hy opspring en op 'n kassie rondsoek na papier. Hy kry 'n stukkie en sit dit op sy knie. Langsaam begin hy met sy potlood skrywe, en dit gee hom 'n heimelike, diepe vreugde om dit daar te sien staan op papier, soos dit nog maar altyd in die geheimsinnige skoonheid van sy siel gelewe het: Liefste Linda... Ja, so moet dit wees. Dit is die waarheid. Hy sal vir haar sê hoe hy al die tyd om haar getreur het, allenig rondgedwaal het in die veld, want hy was bevrees om te bekén hoe lief hy haar het.
Maar hy het nog geen reël geskrywe nie of 'n gevoel van minderwaardigheid oorval hom, hy skeur die papier fyn en gooi dit weg. Sê
| |
| |
nou maar sy wys die brief aan ander, aan Wynand, en hulle lag hom helder uit! Die verliefde klein botterkop wat sulke dinge kan skrywe! Hy sug. Dan neem hy weer 'n stukkie papier en skrywe Hannes en Linda daarop. Hy begin letters doodtrek wat in altwee name ooreenslaan, kyk na die resultaat en verbrand die papier. Hy is laf. Hy wens hy kon anders wees, weer soos vroeër, maar haar oë lag alweer na hom toe of sy hom roep. ‘Hannes’; hy hoor so duidelik dat sy sy naam noem en 'n soet weemoed styg in hom op. Hy blaas sy kers dood, stap die kamer uit, en trek die deur agter hom toe. Buite is dit 'n helder somernag, skoon en rein na die donderweer, en skuimligte wolkies drywe yl oor die sterre, blinkend oor die sag-blou diepte van die hemel gestippel. 'n Gevoel van sy kleinheid oorweldig vir Hannes onder die stilswyende mag van die sterre, onder die ewigheid van honderde wêrelde wat op hulle gang gaan, geluidloos deur die nag - en hier is hy 'n klein mensie met sy verlange en liefde, met sy hoop en drome... Hy gaan kort-kort staan om na die oneindige nagskoonheid te kyk. Nog nooit was die wonder, die onbegrepe diepte van die Heelal met sy ewige beweging so na aan sy hart nie... Op die werf is alles stil. Sy ouers slaap seker al, want die lig is weg uit hulle kamervenster. Oral net die stilte van die nag,
| |
| |
en in die verte die helder gekwaak van paddas. Die gang van sy lewe is vir hom duister. Hy voel 'n groot wêreld van geheime wat wag, sy hart raak net daaraan, maar daar is vir hom geen helderheid nie.
Hy loop oor die slaap-dooie werf en 'n paar bloekombome ruis in hul drome oor hom en staan toe weer stil, hul takke donker teen die ligtende agtergrond van sterre. Hy wandel versigtig of hy wil tas aan die toekoms... en tog, alles is so onseker - so ook sy liefde. Rondom hom is die slapende koringlande, die oneindige donker land wat nou wyd-uit lê tot by die oewers van die sterre. Die onsekerheid! Gister het Oom Frans se koring nog hoog gestaan. Vanaand lê hulle plat in die modder, en van die pragtige koringland het net 'n stuk verwoesting oorgebly. Hy huiwer as hy so oor die donker aarde kyk, of onsigbare magte daarin skuil wat jou kan bespring en oorweldig... Hy dink weer aan die verwoeste koringland en aan sy liefde....
Linda... hoe heilig klink die naam nie in die helder somernag nie. Hy loop in die rigting van Oom Tom se huis. Daar is nog lig in die venster. Sou Linda en Wynand nie miskien sit en gesels by die kerslig nie? Weer die vreeslike jaloesie in sy hart... O, as dit waar moet wees, sal hy die kêrel kan vermoor. Watter vreeslike gedagtes ... vermoor. Maar
| |
| |
sy hart hang so aan die meisiekind met haar helder oë, die verleë trekkie om die mond en die fyn beweging van haar liggaam, soos hy dit nog by geen vrou gesien het nie. Hy moet weet of dit Linda en Wynand is wat gesels, al moet hy ook soos 'n dief nadersluip en by die venster gaan afluister wat hulle sê. Maar sê nou iemand moet hom betrap, watter vreeslike skande sal dit nie wees nie! Hy loop nader, maar onverwags struikel hy oor 'n kantien wat klinkend wegrol. Hy stap vinnig weg - hy kies die voetpad na die volk se stroois toe. As iemand hom gehoor het, sal hy maak asof hy 'n boodskap na die stroois toe moes gebring het. Oom Tom kom by die agterdeur uit en 'n stroom lig val oor die werf. Hy staan 'n rukkie en gaan toe weer na binne.
Hannes loop tot by die stroois. Die vlamme van die volk se vuur speel krullend in die nag op en verlig die gesigte wat wyd in 'n kring daarom sit.
‘Hoe hou julle dit op so'n nag naby die vuur?’ vra Hannes terwyl sy stem nog die tekens van sy lewe-na-binne dra.
‘Nee baas,’ sê April, ‘ons braai maar somar bietjie mielies. Dit was 'n kwaai weer, nè baas.’
‘Vreeslik.’
‘Baas Tom was darem baie gelukkig. Toe die mieliepitte so dans daar na die land se kant
| |
| |
toe, toe dag ek die koring gaan somar nou-nou op hul knieë staan, ja my baas.’
‘Is julle moeg?’ vra Hannes en kyk na die kring gesigte, fantasties verhelder deur die vlamlig. Katryn sit tussen April en Stefaans.
‘Nie te erg nie, basie,’ sê April en krap met 'n stokkie in die vuur en steek dan sy kortsteel-pyp op, ‘dis net die jong uit die Boland wat vanaand sulke lang gape gaap. Ons is mos gewénd aan werk hier. Maar hulle lippe is mos daar in die Boland vasgegroei aan die vaatjies wyn.’
Dit is soos vet in die vuur. Stefaans draai hom met geweld na April toe asof hy hom met die plat hand 'n hou oor die mond wil gee. ‘As ek nie vir Katryn ontsien nie, Boesman, dan klap ek jou nou dat jy haak-en-kruk loop en speel oor die werf. Praat van werk! Basie, jy moes vanmiddag gesien het toe ons van die land kom, die ding se bene swik-swik soos hoepels. Maar waar stap die Bolandse jong nie toe nie - sy kniekoppe kielie-kielie somar hier so onder sy bors.’
‘Ag sies vir julle,’ sê Katryn en staan op, ‘ek hou my nie met sulke grootpraters op nie.’ Sy verdwyn in die stroois. Vir 'n rukkie is dit stil.
‘Basie, het Basie al gehoor hoe Oom Malooi met sy osse praat? Oom Malooi sê vir die kleinbaas waar hy 'n bokkie sal kry,’ sê April.
| |
| |
‘Watwo hy iets daarvan weet,’ sê Hannes ongelowig maar staan tog nader. Maar ou Malooi verroer hom nie. Soos 'n verdorde aap sit hy daar, 'n droë handjie om sy deurgebrande pyp.
‘Vertel, Oom Malooi,’ klink dit.
‘Hoe lyk dit, Outa,’ sê Hannes opeens baie vriendelik.
Nog 'n hele ruk sit die ou so roerloos; toe ruk hy 'n sak vorentoe, frommel daarin en opeens lê die dolosse in die lig van die vlamme. Die ou waai met sy droë handjie oor sy toorgoed, prewel iets. Toe kom die skor stem: ‘Die osse wil nie mooi praat nie. Hulle is kwaad. Hulle sê die Basie se hart staan só,’ en hy wys na die noordekant toe. ‘Die een os, julle sien hier, stoot die anner os. Die basie se hart wil baklei. Hy wil baklei teen die ander baas - maar die anner os is sterk. Kyk hoe staan hy.’ Hannes se hart klop onrustig. ‘Dankie, Outa. Dis genoeg. Nouja, nag volkies!’ Hy hoor hoe die antwoord agter hom aandreun. Hy weet dat die oorlams skepsels nou sal praat van sy vinnige vertrek. Dat hulle raai en grappe maak. Laat hulle loop!
Die een is sterker as die ander! Dit is somar kaf. Wie kan in die toekoms lees? Tog is die onrus hierbinne, die onsekerheid.
| |
| |
‘Linda,’ sag noem hy haar naam of sy hom kan hoor, maar dan is alles weer stil en die sterrehemel lê so blink en glansend oor die rustig-uitgestrekte donkerheid van die aarde. ‘Maar die anner os is sterk.’ Hy haal vinniger asem. So'n liefde het hy nog nie geken nie; Linda en sy lewe is vir hom eweveel werd. ‘Maar die ander os is sterk,’ klink 'n skor stem in sy verbeelding na. Met 'n onrustige gemoed gaan hy voor sy kamer staan en maak stadig die deur oop. Die onsekerheid.... |
|