| |
| |
| |
III.
In die vroeë môreskemer word daar gewerskaf in Oom Tom se huis; sekels word reggesit, daar word koffie gedrink en met vaak-lomerige stemme gepraat. Linda het vroeg opgestaan om koffie te maak, en in die stilte van die more, toe die eerste gekraai van 'n haan wyd oor die landskap geklink het, het sy, met 'n aangename droomstemming gevul, voor die vuur gesit en luister na die sagte, vredige gedreun van die vlamme om die ketel. Sy voel nou so bly in die verruimende môrekoelte. Haar gees is nog gedeeltelik versink in die beelde van haar drome, toe sy netnou nog rustig lê en slaap het. En met die droomsaligheid in haar, verinnig deur die vredestemming van die komende dag, gaan sy rond, skink koffie in en luister na Wynand se diep basstem, wat nou en dan 'n woord uit en dan weer swyg en die hele ruimte leeg laat.
‘Komaan, kêrels,’ klink dit opeens soos 'n bevel van Oom Tom se kant af; sekels kletter,
| |
| |
emmers klink, daar word met swaar môrestemme gegroet en die snyers vertrek na die land. Die wind wat oor die ontwakende wêreld trek, spoel 'n fris koelte teen hulle aan en laat die krag in die liggaam ontwaak, 'n krag wat begin dors na arbeid, na verowering. Dof klink hulle stappe oor die grond. Beeste wat luiherkouend gelê het, staan langsaam op - vreemde donker gedaantes wat stadig begin beweeg en dan weer gaan staan met die onbeweeglike kop na die groep donker snyers gedraai. Die sterre het ongemerk begin wegglans aan die bleker-wordende hemel en nou kom 'n breë, deurskynende ligstreep in die Ooste, wat uitdy en die skaduwees agter die bosse voor hom uitjaag. Met kragbewustheid stap die snyers die komende daeraad tegemoet en sien hoe die verre bultrondinge opgroei teen die stygende lig en hoe die koringlande helderder lyn begin aanneem uit die dynsigheid wat nog luier in holtes en duike. Langs hulle staan die koringhalms roerloos, met die deemoedige are soos in gebed voor die heerlikheid van die komende dag, miskien hul laaste dag. Tussen hulle huiwer die frisheid van die môre en lê kolle kolle donker, wat nou al onrustiger word en netnou saggies sal veryl voor die alles-oorweldigende lig.
‘Hier moet ons inval,’ sê Oom Tom en hy
| |
| |
kap sy sekel in die grond. Voor hulle lê die geel stuk koring, en die môrewind, wat met sagte vaarte kom, streel nou oor die koringvlak heen, daar gaan 'n rimpeling oor die oppervlakte, die are knik statig en dis weer stil, 'n stilte wat gevolg word deur weer 'n diepe gefluister van die halms, 'n fluistering van die somer wat die are ryp gemaak het, 'n fluistering van die more-aarde wat dankbaar is oor sy vrugte en wat die harte van die snyers rustigbly maak en hulle nooi tot die arbeid. Anderkant die kol koring wat so ryp is dat dit plekplek sal uitslaan as dit nie gesny word nie, lê 'n vak wat effens verkleur en verderweg nog 'n ander wat groen is en wat nog fris opgee in die daeraad-lig, want die Ooste het nou donker-rooi geword, met fyn fonkellyne oor die heuwelkante - teken dat die son straks sal verrys en die laaste skaduwees soos onwesenlike gedagtes sal laat vervlugtig.
Oom Tom kyk 'n slag na die Ooste en dan klink dit ‘daar's hy, kêrels’ en sy vingers gryp 'n koringstoel bymekaar, die sekel girts daardeur - die aanval het begin. Tien ander snyers sak ook weg, 'n ry gekromde rugge vorm 'n streep langs die koring af en vooruitskietende hande en sekels laat die koring verdwyn. Wat straks nog vorstelike stoele was, volle are, lenig gebalanseer op deursky- | |
| |
nende halms, lê nou magteloos op die kluiterige grond, sonder die eenheid-in-skoonheid van die natuur ... Girt! girt! vreet die sekels voort, swaar skoene trap duike in die stoppelgrond en gaan aan terwyl die hopies afgesnyde koring agterbly en blink begin glans in die vreugdestrale van die son, wat vorstelik verrys het en die koringare laat skitter, 'n lang veld van goue lewe wat rimpelend wag op die vernietiging van die sekel. 'n Gat lê daar al in die koring en in die gelyk muur van hoë halms beweeg die geboë gestaltes maar, 'n hand skiet vooruit, 'n sekel sny girtsend deur die saamgevatte strooihalms, wat neergesit word dat die are vir 'n oomblik bewend skud asof uit doodsangs, en so gaan dit voort... Al wat sigbaar is, is die roerende lywe en skuddende lyn van die koring waar die sekel wegvreet en die vallende koringhopies bly lê, glansende strokies op die stoppel-harde kluitgrond.
Die son klim hoër, en soos op ander somerdae groei die hitte vinnig aan. Die morekoelte is nou weg, en 'n broeiwarmte damp uit die aarde op, en 'n wolkie dynserigheid begin op die koring lê. Dit begin netnou effens beweeg, 'n bedrieglike lugspieëling wat tower in die ruimte. Vinke ruis in glansende, ritmiese swerms van die donker-groen tuin af oor die land, en kort-kort skreeu 'n snyer ‘Oe-a!’ om
| |
| |
hulle op te ja, want self die fladderige voëlverskrikkers oral op die land boesem geen vrees meer in by die gulsige korrelverslinders nie. Hulle vlie met 'n ruisende gedreun op en sak op 'n ander plek neer waar luidrugtige kaffertjies hulle dan weer verwilder met kleilatte.
En so groei die somerdag in geweld. Ver in die Weste verskyn donderwolke. Eers is die donserige punte net sigbaar anderkant die trillende wasigheid, maar dan groei die wit rondinge uit, kolom na kolom, tot die wêreldeinde omtroon is deur die spierwit bakens wat rustig heers oor die ruimte van die velde. En die snyers swoeg voort! Die hande, wat nog ongewénd is aan die baie vat, word rou-rooi, maar daar is geen kans om lank met jou hande in die moeë rug te druk nie. Die oë meet net vlugtig die end koring vorentoe, die broek word ingedagte opgetrek en dan span die hemp weer glad oor die warm blaaie, die sekel blits in die son en die sweet rol onder die hoed uit en drup oor die vuurwarm gesig. Oom Tom lyk of hy krom gebore is. Taai soos sening is die droë lyf, en die lang bobbejaan-arms skiet so afgemete-juis uit, werk so stelselmatig dat dit die ander snyers moedeloos maak; net die vat van die gebreide man, sy rustig-sekere gang, maak onervare snyers, wat onegalig bontval, onbewus boosaardig oor hul eie on- | |
| |
handigheid. Kort-kort veë hulle die sweet van hul gesigte en skiet dit weg oor die stoppels, dan volg 'n ‘Soe!’ 'n Oomblik word die bewende landskap opgeneem, gekyk of daar nog geen koffie van die huis af kom nie en dan is dit weer wegval met 'n traer lyf as netnou, want al ongenadiger word die son. As die wolke maar gou hoër wil klim, sug meer as een, maar stadig is die gang van die natuurdinge, sonder 'n wil om die swoegende mense hier te dien...
Naby Oom Tom sny Wynand. In die diep vore van die gesig gaan die sweet staan en loop tot op sy oop bors af. Netnou het dit gelyk of hy uitsak teen die instinktiewe reëlmaat van Oom Tom se snyery, maar nou, met die stygende son, terwyl die ander lomerig word en stadiger werk, begin sy meesterskap duideliker uitkom. Waar Oom Tom die sening-taaie snyer is wat, sonder links of regs te wyk, op sy doel af gaan, vak vir vak, daar is Wynand die kragtige arbeider wat op die duur meer sal versit, nie so sekuur-vas soos Oom Tom nie, maar met 'n swier, 'n veroweringskrag wat dit 'n lus maak om na hom te kyk. Netnou is dit ook duidelik dat hy by sy krag 'n vaardigheid van sy eie het, 'n vaardigheid wat toeneem hoe meer hy gewoon raak aan hierdie koringland.
‘Ho-ha!’ skreeu Oom Tom, die snyers pik
| |
| |
hulle sekels in die warm grond vas en stap met vaste treë na Linda toe, waar sy met 'n groot emmer koffie staan.
‘Hoe lyk dit, ou sus?’ sê Wynand terwyl hy met sy groot hoed probeer om sy gesig koeler te waai, ‘werk ons darem fluks?’ Sy lag net skaam. ‘Ek weet rêrig nie hoe julle dit in hierdie hitte hou nie,’ sê sy en vrywe 'n koringaar in haar hand uit. Vet en geel glim die sagte korrels bymekaar as sy die wolke fyngemaalde strooi wegblaas.
‘Kyk vir Frans-hulle doer teen daardie bult,’ sê Oom Tom wat met 'n arm in die sy, sy koffie gretig staan en drink. ‘En daar na ondertoe kan mens vir Basie en Fanie sien met hulle span. Soe, die boere is omgekrap vanjaar!’ Drie van die seuns wat help sny, is van 'n naburige plaas. Hulle staan met ruvoorbarige oë na Linda en kyk, sodat sy haar naderhand vererg. Die ander snyers is kleurlinge, wat nou oorlams opsy staan en gesels oor die snyery sover.
‘Soe, maar die droë baas met sy orangoetang-arms stap somar baie saf oor 'n akker - jy sien net die groot hand en die sekel, die groot hand en die sekel - dis al wat jy sien. Ai, waar is die Bolandse dae toe ons die volk gewerk het dat hulle wegsteier en soos jong osse neerslaan op die land! Waar is dié dae,
| |
| |
vra ek julle?’ sê Stefaans uitdagend, met sy matrasagtige hare hier en daar onder sy klein flenterhoedjie uit.
‘Wat praat jy, Boesman van die Boland!’ tart April met 'n hoonlag, ‘toe julle volke nog daar albaster gespeel het, toe staan ons al lankal so kop-tussen-die-bene die koring hier en aanja die land af. Julle kan mos gan sny nie? Drink, ja!’
‘Hoor bietjie so'n windmaker-bossie-Hotnot! Hy wat nog nie eers oor hierdie randjies behoorlik was nie. Hoor bietjie! Ag nee wat, April man, jy praat skoon soos 'n man wat in sy eet-en-drink getrap moet word. Julle hoor: daar in die Boland as die son só sit,’ en die vlies-oë korrel na die vlam van die son, ‘dan was hierdie ou stukkie koring lankal af - lankal. Ons het daar 'n baas gehad met so'n hoepel-heup. Jy sien hierdie voskop Baas Wynand, wat vir hom wie hou, ag wat! hierdie tyd was hy lankal kaiings en die hoepelheup het nog so stil-stil weggeweie in die koring, somar so stil-stil - Aik jou Boland, lekker land, almal se land!’ roep hy jolig uit en klap met sy skoene dat die rook so staan op die grond.
‘Mens moet die grootmond met sy bawerbek somer so'n vinnige een in sy wind gee! Hy vererg my alte veel. Ons volke hou ons
| |
| |
nie hier op met sulke opskepskottels nie!’ sê April gemaak-boos en sit sy beker neer.
‘Kyk,’ dreun Oom Tom se stem opeens, ‘dinge lyk nie vir my mooi nie. Wat is dit daardie?’ en hy wys na die donderwolke wat hoër gekom het en hulle skaduwees nou diep en koel oor die koringlande jaag - groot, breë kolle, wat geheimsinnig reis soos vervlugtigende boodskappers van komende onheil.
‘Eers gerwe bind!’ skreeu Oom Tom en die werkers spring dadelik aan die werk. Dit is lang strooihalms uitsoek, 'n handige knoop daarin gee, dit slaan om die lyf van bymekaargeraapte halms wat onder by die afgesnyde plek gelyk gestamp word op die grond, weer 'n handige deurtrek-knoop gee, en die gerf staan met sy skuddende are regop. So verrys hulle een na die ander, soos klein goue tentjies op die ruimte. Linda volg Wynand se bewegings of elkeen vir haar 'n wonder is. Sy sien die sterk bruin arms wat die koring regskud, die vinnige hande wat knoop en loslaat, die knie wat druk op die gerf, en dit is vir haar of sy nou vir die eerste keer merk hoe mooi hierdie werk van gerwe-bind is, hoe pragtig die koringland lyk, met die regopstaande gerwe daarop en verderweg: die trekkende wolkskaduwees oor die see van halms. En nou word die gerwe aangedra na 'n plek toe waar Oom
| |
| |
Tom en Wynand die mied begin pak, terwyl die ander die swaar gerwe aangee.
‘Ag, maar so'n taaibos-Hotnot is linnelam,’ skreeu Stefaans uitdagend vir April, ‘die litjies lyk nie verniet soos spaansriet en die kop soos 'n slonspampoen nie! Die dagga het hom teen die grond geskop! Maar kyk tog waar stap hierdie Bolandse jong met sy breë poubors - ai Katryn, liefde en asyn, môre aand sal ek daar syn! Wag, laat my lê, wat laat staan julle my nie?’ Met handige hale skiet hy die gerwe na die twee pakkers toe op en kyk met 'n lag om sy mond na April, wat parmantig antwoord: ‘Jy dra nog vanaand 'n sluier oor daardie rosyntjie-oë van jou. Die volke van hierdie wêreld spook met twee appels dat 'n Bolandse ding somar sterre helder oordag sien. Dis somar net hu! dan rol hy soos 'n klomp afval deurmekaar. Jy moet vir Katryn laat staan! Nog voor jy jou kom kry, dan maak ek 'n besem van jou maer lyf en vee die werf skoon voor haar oë.’ Die ander volk lag net vir dié grootpratery, terwyl Stefaans, so in die wegdraf met die gerwe, skreeu: ‘Katryn sal tog 'n ding met 'n makou-bors aankyk. Hoor hoe fluit sy asem noual. Maar die Bolandse Hotnot stap nog doodstil weg, jy sien net die blaaie roer - vang daarbo, grootbase, die jong uit die Boland is vandag omge- | |
| |
krap; wat sal hy hom laat pla deur hierdie kortsnoet-Boesman, wat noual wil gaan lê en slaap op die gerwe - bolyf, beeslyf - vat die gerwe somar styf!’ en hy bokspring dat Linda moet uitbars van die lag. Wynand kyk bo van die mied af en dis haar heerlikste beloning as sy oë, wat anders so stroef kan kyk, bly glimlag in hare. 'n Warmte sprei oor haar gesig en impulsief neem sy die emmer en bekers en stryk haastig na die huis toe.
‘Ek het vir julle gesê,’ beduie Oom Tom bo-op die mied, wat netjies gepak die stoppelkant soos 'n gelyk muur na buite wys, ‘kyk daar!’ Sy vinger wys na die lug. Die wolke wat netnou nog soos spierwit domme die lugeinder verheerlik het, het oopgesprei en saamgesluit tot 'n onegalige sluier wat hoër en hoër skuiwe. En vér oor die lande drywe die wolkskaduwees, met hier en daar 'n sonkol tussenin, 'n bewegende skoonheid oor die land, met die are wat nou en dan opglans as 'n strook sonlig dit vang.
‘April, gaan haal jy vir ons die bokseil,’ sê Oom Tom, ‘en dan trek julle volk hom mooi oor die mied. Ons staan maar solank huis se kant-toe. Het julle daardie bliksemlig gesien? Hm, dit lyk nie goed nie.’ En terwyl die blanke snyers huistoe stap, word die weer blouer. Bliksemstrale speel daarin en die
| |
| |
donder rommel verweg in die onheildraende stilte. Die koring ruis kort-kort in 'n vlaag van die wind, en dan staan hulle weer skugter en ootmoedig en wag op die storm, weerloos en tog so trots, so hoog-gehalm... 'n koelerige wind het ontwaak en in snye en vore speel dit deur die koringlande aan dat dit 'n bewegende see word wat dein en in kolle lewe en swaai.
‘Ek hou nie van hierdie wind nie - dis glad te koud,’ sê Oom Tom en trek sy skouers op. Wynand kyk op na die blou weer. Die wind laat sy hoed neerflap in sy oë en blaas sy hemp tot 'n wit bol. Verweg kan hulle die reëntoue nou al sien, hier en daar yl uitgestrek, maar op ander plekke word dit donkerder, 'n vaal-blou geriffelde kolom wat die uitsig op die verte heeltemal vernewel. 'n Bliksemlig sny verblindend oor die lande en soos 'n verdoemenis val 'n donderslag, gevolg deur 'n skeurende gekraak, en dan is dit stil, net die geruis van die koring, soos 'n groot skare wat bid voordat die geweld van 'n veldslag losdreun.
Toe hulle in die huis stap, sê Tant Mieta bang: ‘Tom, maar dis vreeslik! As die Here tog maar net gee dat dit nie hael is nie. Dan word ons brood uit ons mond gevat.’ Oom Tom sê niks. Maar hy is bleek. Hy dink aan Frans, aan Basie en Faan... Dit is of hy
| |
| |
hulle nou baie nodig het - en of hy hulle moet gaan help. Maar bokant hom voel hy die geweld van die storm, hy besef die mens se magteloosheid, en hy kan nouliks deur die venster kyk na die koring, so bang en seer voel hy. Soos trillende vlamme kom en gaan die bliksems oor die venster, en dan die donderslae wat val, geweldig soos kanonvuur wat losknetter. Die storm gaan losbreek! En die arme koring, weerloos onder die geweld van die hemel! Oom Tom krimp byna inmekaar, maar in sy hart bid hy: ‘Here, moet tog nie dat hierdie groot beproewing oor ons kom nie.’ Hy kan nie mooi samehangend dink nie, maar voel net hoe die storm hom met lyflike angs vervul vir die vol, rypende are daar op die land. Die eerste groot druppels spat stukkend op die dak, en soos vinnige pyle uit die hemel straal dit nou grond toe dat dit ruis oor die aarde. Dankie Here, dis reën! word gesug. Oom Tom voel eindeloos verlig, maar die swaar weer vul hom met vreemde beklemming. Die volk is seker in hul struise. Elke oomblik kan die dood nou kom, 'n bliksemstraal - en dis verby! Maar wat is dit? ‘Dis hael!’ klink dit uit 'n paar monde. Die reën het verminder, maar eers in enkele stene spring die hael op die dak, plets springend op die grond neer, en dan volg dit al vinniger, dit dreun oor die dak en buitekant galop die wit
| |
| |
korrels, sommige so groot as ertjies, maar ander soos voël-eiers. Soos 'n leër wit vernielers spring hulle op die koringland toe, op die rypende are - Oom Tom sit sy hande voor sy oë. Binne in hom breek daar 'n duiwelse, magtelose woede los. Sy hart vloek. Wat help dit om te bid? Onkeerbaar kom die haelstorm en die werk van 'n jaar, al jou hoop, jou hele bestaan, word platgeslaan! Hy voel 'n vreeslike, goddelose drang in hom opkom om uit te hol en met sy vuis na die wolke te dreig en te raas en tekere te gaan... Maar daar neem die geruis op die dak opeens af. 'n Haelkorrel tik nog hier en daar. Oom Tom en Wynand storm albei deur-toe. Soos 'n verwyderende kommando woestaards ruis en dreun dit weg in die rigting van Oom Frans se lande, en die donder rommel ná soos 'n magtige veldheer se stem wat opsweep tot die stryd. Oom Tom kan nie verstaan wat aangaan nie....
‘Kyk, Oom,’ sê Wynand, ‘hier is die weer skoon, die bui trek soontoe!’ En waarlik, oor 'n rukkie is dit stil op die dak. Net in die verte rommel die weer weg. Soos 'n aap spring en plas Oom Tom deur die hael en water. Hy moet sien wat gebeur het by die land! Wynand en die seuns volg.
Oom Tom voel of 'n groot las van hom afsak toe hy by die kant van sy land kom. Dis
| |
| |
vir hom byna ongelooflik, maar die hael het net op die rand van die land langs getrek; hier lê 'n klomp koringstoele plat - maar verder, geen skade nie! Sy hart juig. Hy voel skaam oor sy heidense woede gedurende die storm. Die Here was tog genadig vir hom!
‘Mastig, Oom, dis 'n geluk - mens kan dit byna nie glo nie,’ sê Wynand opgetoë.
‘Ja, man, so het ek dit nog selde gesien. Hm, ek kan my oë amper nie glo nie.’
‘Maar ek dink dit lyk treurig by Oom Frans,’ sê Wynand en wys met sy vinger in die rigting wat die blou weer trek.
‘Die arme ou broer,’ is al wat Oom Tom sê, en toe pyl hy somar in die rigting van Oom Frans se lande. Die ander kyk hom met medelyde agterna. Die nat skoene van Oom Tom spat deur die kuile water soos hy stap. Die bui het nou oor die bultrondinge verdwyn, maar lê nog soos 'n blou rif na die Ooste toe, en kort-kort kom nog 'n flou gedreun deur die skoon lug. En die son kom agter die flenters syige wolke uit en breed skiet sy milde glans oor die land en laat 'n wemeling van druppels aan die are en halms fonkel, kostelik en fyn soos sierade wat die donderstorm nagelaat het. 'n Hond van Oom Frans kom met sy nat lyf en styf omhoogstaande stert oor die nat grond aangedraf, en agter hom kom sy
| |
| |
baas, haastig en verwilderd, met 'n nare voorgevoel dat die vreeslikste gebeur het.
‘Middag, Frans.’
‘Middag, Tom.’
Tot by die kant van die land loop die twee broers sonder om 'n woord te sê. Altwee is oorweldig. Of jy 'n groot trop beeste deur die koring geja het, lê die stoele deurmekaar, platgeslaan, in nare wanorde. Die regop halms met die glansende baard van die koring, die dik korrels en sagte deurskynende strooi, wat so koninklik oor die grond geheers het en so buigsaam, so sierlik gespeel het in die wind, lê akelig, bemodderd en stukkend op die haelbedekte grond - pappery en strooihalms deurmekaar, met die wit kolle hael tussen-in.
Oom Frans sluk en sluk. Hy byt op sy lip en sy oë dwaal oor sy hele land. Net op een punt staan 'n klein strokie, so fris en sterk naas die akelige verwoesting langsaan. Hy veë met sy hand oor sy oë. Sy broer Tom weet nie wat om vir hom te sê nie. Hulle loop nog 'n end langs die land af, sonder om 'n woord te praat. Dan sê Oom Tom eerbiedig: ‘Die hael se kant het my koring gevang, maar baie min skade gedoen. Kyk, dit het ook verby Basie en Faan se lande getrek. Net jou koring het in die slag gebly.’
‘Ja.’
| |
| |
Hulle klei verder deur die nat grond, met hul oë voor hulle gerig.
‘Wat gaan jy nou maak, Frans?’
‘Ek weet nie.’ Oom Frans se oë kyk vir 'n oomblik vas na die onweer wat nou soos 'n ring ver anderkant die bulte opblou.
‘Ons moet jou probeer help,’ sê Oom Tom gedemp.
Maar daar is geen antwoord nie.
En so stap die twee broers terug in die helder son wat nou weer vol oor die blinkende aarde skyn asof die donderbui nooit sy heerskappy versteur het nie. |
|