| |
| |
| |
II.
‘En jy sê dat Welman meen dat die koring sal opgaan?’
‘Man, die kêrel het my so seker gelyk van die ding dat ek moes glo.’
‘Man, dit sal ons vreeslik help.’
Oom Tom en sy broer, Oom Frans, lê op die groenkweek en gesels. Oom Frans was op die dorp, en daar het hy verneem dat die prys van koring waarskynlik sal styg, want ‘oor die water’ sal baie koring nodig wees. Oeste het daar misluk. So word aan hom gesê...
‘Jy weet wat weet Welman my te vertel?’ sê Oom Frans, terwyl hy behaaglik suig aan sy pyp.
‘Nee, wat?’
‘Man, al die soort nonsens wat die mense nie aanvang om geld te maak nie! Hy sê dat hulle nou nie net meer mense verassureer nie - maar hulle sal selfs jou koring op die land teen hael verassureer. Verbeel jou! Mens sal seker meer moet betaal as die stukkie koring werd
| |
| |
is.’ Hy leun met sy hoof op sy hand. Die muggies maal fyn-singend om hulle rond, verskyn in donsige wolkies teen die verdwynende rooi in die weste en skiet weg in die skaduwees.
‘Dis pure bog, jong,’ sê Oom Frans lui, ‘daar sit iewers weer 'n kinkel in. As die hael jou koring afslaan, dan betaal hulle jou nooit. Dan is dit hier te kort en daar te lank, en oral is daar uitkruipplekke uit die gate van die wet.’
‘Dis net soos jy sê.’ Die twee lê nou 'n ruk stil in aangename aandstemming. Van die lang fonteinvoor en dam af kom die fris geur van water en gras. Nou en dan wyk dit vir die indringende lug wat van die lande af kom waar die koring ryp word. Die twee boere se harte is bly, want lanklaas het hulle so'n goeie jaar gehad. En die koring se prys gaan nog styg! Lomerig luister hulle na die tingerige deuntjie wat die muskiete sing en kort-kort dwaal hul oë oor die rondinge van die bulte wat nou donker afgelyn lê teen die wyd-oop skoonheid van die naderende aand. Altwee kyk, sonder om 'n woord te sê, na die helderte van die hemel wat ontsaglik hang oor die bultewêreld, waar die koring nou verdwyn in die skaduwees. In altwee se oë lê daar weemoed.
| |
| |
‘Jy weet, Frans,’ begin Oom Tom naderhand met dralende stem, ‘dit is darem maar snaaks. Hier saai ons koring, dit word groot, ons sny dit af, en so hou dit aan. En net so is ons mense ook. Ons groei op net soos die koring en netnou kom die dood en sny ons af en dan kry ons kinders weer 'n kans.’
‘Ja man, ek het al baie oor daardie ding gedink.’
‘Die lewe staan mos nooit stil nie. As die koring te ryp word, slaan dit uit. 'n Mens wat te oud word, deug nie. Hm. Maar jy weet, mens het darem maar lus om te bly lewe.’
‘Nie altemit nie.’
‘Ja, God het dit darem alte wonderlik bewerk. Of jy wil of nie, jy moet maar die pad gaan wat almal gaan.’ Dan is daar weer 'n ruk stilte.
‘Tom, jy weet ek voel nooit heeltemal gerus voor die koring nie van die land af is nie. Jy weet - die hael. Man, ek sal dit nooit vergeet hoe dit oorle pa se koring plat geslaan het nie. Onthou jy nog? Dit was mos somar so'n pikblou weer uit die westekant.’
‘Ja, dit was verskriklik. Pa was darem 'n gelowige ou man. Hy het nie 'n woord gesê nie, maar jy onthou nog hoe hy daardie aand gebid het. Ek glo nie ons geslag kan dit doen
| |
| |
nie. Ons het mos nie meer daardie geloof nie. Daardie ou mense was soos pale geplant in hulle geloof.’
‘Dis net soos jy sê.’
Weemoedige konsertinaklank kom aangesleep van die huis af en dan klink die vrolike gelag van Wynand daar bokant uit.
‘Wat se soort kêrel is hy?’ vra Oom Frans en beduie met sy plat duim na die huis se kant toe.
‘Man, ek kan nie eintlik uitmaak nie. Hy lyk my baie opgeruimd van geaardheid. Maar mens kan nie veel uit hom kry nie. Hy wil my voorkom soos 'n kêrel wat baie weet van die wêreld. Ek dink hy sal ons baie met die snyery kan help. Dink jy ons het genoeg snyers? Kom ons tel bietjie... wag, hier kom mense aan. Dis Basie en Faan. Naand!’ Basie en Fanie kom ook op die kweekgras sit, terwyl hul vrouens en kinders na die huis toe gaan.
‘Hoe maak julle koring?’ vra Oom Tom en hy kyk na sy swaer Basie.
‘Man, dit maak hier en daar geel kolle. Môre gaan ons inspring.’
‘Ja,’ sê Oom Faan, die kêrel wat die stuk grond van die een broer gekoop het wat na Johannesburg is, ‘dit sal miskien 'n goeie jaar wees - beter as baie ander. Maar die skuld! Ek wonder watter boer vandag nie skuld het
| |
| |
nie? Die geld kom by die een hand in en gaan weer by die ander uit.’ Hy kyk fynskerp deur die skemer-donker na Oom Frans se gesig, maar kan niks uitmaak nie. Skuld ja...
‘Ja,’ antwoord Oom Frans, ‘die ou-mense, wat die geld nog onder die kooi gebêre het, was beter af. Maar dinge was darem ook beter in hulle dae. Dit word vandag al moeiliker om 'n bestaan te maak. Die grond word al kleiner en kleiner. Ek vrees eintlik as ek moet dink aan wat eendag van my kinders gaan word. Mens moet jou ou grondjie hou, want as jy dié verloor, dan moet jy na Johannesburg of een van dié plekke toe. En as jy eers in die myne is, dan is dit netnou tering - jou bors fluit soos jy sukkel om asem te kry. Dis maar vastrap hier - dis al. Maar dit gaan broekskeur.’
Oom Faan trek aan sy snorbaard. Die vier lê 'n rukkie en kyk na die sterrehemel bo hulle, nou glansend en suiwer oor die aarde uitgeplavei. Die laaste rooi strepie het uit die weste verdwyn en die oneindigheid van die hemel, met die sagte skoonheid van die melkweg daarin, boei die oë van al vier boere, wat klein en nietig voel hier onder die majesteit van die somernag.
| |
| |
‘Dis miskien maar die beste,’ sê Oom Tom naderhand, ‘om soos hierdie Wynand te wees - julle weet die kêrel wat vir my sal help koring sny. Hy het nie kind of kraai nie, hy gaan van plaas tot plaas en bekommer hom nie oor die dag van môre nie.’
‘Dis ook maar 'n los soort lewe,’ sê Oom Faan, ‘as hy moet oud word, sal die wêreld hom begin vasvat. Dan merk mens eers wat jou familie vir jou werd is.’
‘Hm,’ kreun Oom Tom.
Van die huis se kant af kom nou 'n hele boel mense - Wynand op die voorpunt, met vrouens en kinders agter hom. Hulle lag en praat en Oom Faan se seun Hannes, 'n frisgeboude kêrel van twintig jaar, probeer net om in die omgewing van Linda te bly - die mooi dogter met haar blou oë en geel hare.
‘Ons bring waatlemoene,’ sê Wynand luidrugtig, ‘Oom Tom het rêrig gesorg dat hier vroeg waatlemoene is.’
Op die kweek gaan almal sit, en die mans haal hulle knipmesse uit en laat die waatlemoene, wat net van die land af kom, kraak as die lem deur die groen skil sny.
‘Wynand,’ sê Oom Tom, terwyl hy die pitte uit 'n groot skyf kap, ‘jy het nogal goed gepluk - almal ryp. Ek het nie gedag jy het kennis van waatlemoene nie.’
| |
| |
‘A ja, Oom Tom, hoe sal ek hulle nie ken nie? Hulle is mos net soos 'n mens: van buite lyk hulle groen, maar van binne is hulle ryp.’
‘Hm,’ sê Oom Tom, terwyl die ander lag, ‘dit klink nogal skrifgeleerd.’
Hulle kan mekaar net onderskei, want dit is taamlik donker hier op die kweek. In die Ooste is egter 'n flou strepie lig sigbaar - tekens dat die maan netnou sal opkom. Linda sit op haar knieë 'n end van Wynand af. Sy let op al sy bewegings, wat nie altyd maklik te volg is in die onseker lig nie. Sy voel so vreemd gelukkig en bly om net naby hom te wees, om sy diep stem te hoor, en hier onder die oneindigheid van die sterre, wat so vriendelik op haar neerglans, hier met die milde geur van die rypende koring wat hang in die aandlug, voel sy so gelukkig en bly dat sy lewe, voel sy hoe goed almal is, almal wat hier deelneem aan die waatlemoenfees, en is sy selfs meer toegeeflik teenoor Hannes, wat al nader na haar geskuiwe het en nou teen haar sit. Hy voel gelukkig oor haar opgeruimdheid, haar toegeneëntheid teenoor hom en sien duidelik daarin tekens van haar liefde...
‘Het julle dit gesien?’ vra Oom Frans, ‘weerlig na die Noordekant toe.’
‘Ja,’ sê Basie, ‘ek het netnou al soiets gemerk, maar ek was nie seker nie.’
| |
| |
Al die oë is nou na die noorde gerig, en toe opeens glans die bliksemlig agter die donker wêreldeinde uit, 'n bleek, wit vlam wat vinnig opskiet en weer verdwyn en die hemel donkerder agterlaat as voor sy verskyning.
‘Ja,’ sê Oom Tom en knip sy mes toe, ‘as dit nou moet reën, sal jy 'n boddery sien. Mens vrees eintlik dat dit dalk kan hael. Mog ons daarvoor bewaar bly. Maar net môre spring ons mos in, of hoe sê julle boere?’
‘Netso,’ klink dit vrolik.
‘Wynand,’ beveel Oom Tom byna, ‘speel dan vir ons bietjie konsertina, jong. Jy kielie die ding mos goed.’
‘Hier is hy,’ sê Hannes en gee die konsertina aan.
‘My vingers is styf,’ sê Wynand en voelvoel so bietjie aan die klawers en dan begin hy met 'n sagte, treurige wals wat weemoedig oor die werf klink.
‘Waar is laas Nuwejaar se dans?’ sê Hannes en kyk verlangend na Linda, maar sy merk dit skynbaar nie. Elkeen raak verdiep in eie gedagtes en kyk op na die sterre wat verweg lok, uit wêrelde wat hulle alleen maar kan aanvoel deur 'n verlange, skrynend en onnoembaar teer.
Nou speel Wynand 'n wals, dan 'n sities en 'n polka. Party voete speel mee met die maat en hier en daar klink 'n binnensmondse gesing
| |
| |
op, wat plotseling luider word as almal spontaan die slepend-weemoedige wysie volg .. En wanneer kom ons troudag, Gertjie, Gertjie ... Hoe is dit so stil met jou?’ Oor die werf klink die stemgeluid weg en kwyn heen oor die luisterende koringlande. Verweg speel die weerlig nou en dan uit.
Dit is vir Linda of alles saamsing: die velde rondom, die glansende sterre daarbo, die aarde ... alles ruis weemoedig saam in hierdie tere lied, wat haar verlangens dra, haar verlangens wat sy self nie kan noem nie, versluierd soos hulle lewe en net hunker in die deining van die lied, die lied wat aanswel en wegkwyn. Sy weet net dat daar iets heiligs in haar hart gebeur, en haar hart seën die wêreld omdat dit so mooi is vanaand ... Voor haar sien sy die lenige lyf van Wynand en die bewegende konsertina. Sy sien hoe sy kop vooroor hang in die naglig wat al helderder word. Hy lyk so groot, so beskermend in die stygende lig van die maan.
‘Kyk,’ sê Oom Tom opeens, ‘ons moet gaan lê. Môre moet ons vroeg opstaan. Daar is nie kans vir laat lê nie.’
Die musiek hou op en dit is vir Linda of alles weer terugvloei in nugterder vorm. Daar volg 'n luidrugtige groetery, en terwyl elke groepie sy rigting kies, kom die maan bokant
| |
| |
die bulte uit, en dit is of die koringvelde, bult aan bult, met die donker skaduweeslote tussenin, opeens oprys in sag-wit heerlikheid om hulde te bring aan die ongenaakbare heerser oor die naghemel... |
|